top of page
  • Regina Torre

Wat gebeur tussen Openbaring 3 en 4!

Updated: Jan 30, 2023



8 Maart 2020


OPENBARING 4:1 AFR53

“Na hierdie dinge het ek gesien — kyk, ‘n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ‘n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur.”


Openbaring 1:19 se tydlyn word in drie dele opgedeel:


1. Die verlede tyd – wat jy gesien het – Hoofstuk 1

2. Die huidige tyd – wat is – Hoofstukke 2 en 3

3. Die toekoms – wat gaan gebeur – Hoofstuk 4 tot 22


“Skryf die dinge op wat jy gesien het, die wat is sowel as die wat gaan gebeur;” – OPENBARING 1:19 AFR53


Hoofstukke 2 en 3 wys vir ons die kerktydperk wat begin in die boek Handelinge met die uitstorting van die Heilige Gees en gaan eindig met die Wegraping – dit is die huidige tyd!


Hoofstuk 4 begin met ‘na hierdie dinge’ met ander woorde, na hoofstuk 2 en 3 of die kerktydperk. Vêrder is daar ‘n woordspeling van die wegraping met ‘Kom op hierheen’.


Dan sê Jesus vir Johannes – en Ek sal toon wat ná hierdie dinge moet gebeur – weereens na die kerktydperk – dus die toekoms!


Hierdie vers wys vir ons waar in Openbaring die wegraping gaan plaasvind en wanneer die Groot Verdrukking tydperk gaan begin, maar indiepte inligting oor dié onderwerpe kry ons in die Ou Testament en ander Nuwe Testament boeke. So ons volgende klompie lesse gaan nie in Openbaring wees nie, maar ons gaan bietjie delf in die res van Bybel om beter te verstaan wat hier gebeur!

 

9 Maart 2020


LUKAS 21:24 AFR53

“En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is.”

“And they shall fall by the edge of the sword, and shall be led away captive into all nations: and Jerusalem shall be trodden down of the Gentiles, until the times of the Gentiles be fulfilled.” Luke 21:24 KJV


Jesus vertel hier in Lukas dat die Joodse volk verban sal word uit Jerusalem en as krygsgevangenes na al die nasies geneem sal word en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies. In die KJV word die nasies vertaal as Gentiles wat beteken almal wat nie Jode is nie.


Tot wanneer sal al die goed plaasvind? Tot en met die ‘tye van die nasies vervul is’, of in engels the ‘times of the Gentiles are fulfilled’


Wat is die tye van die nasies? Die antwoord kry ons in die Openbaring van die Ou Testament, naamlik die boek Daniel. Die boek Daniel kan gesien word as ‘n inleiding tot die boek Openbaring. Geen studie van die eindtye sal volledig wees as ons nie na altwee die boeke kyk nie!

 

10 Maart 2020


DANIËL 2:16-23 AFR53

“Daarop het Daniël ingegaan en die koning versoek dat hy hom tyd moes gee om die uitlegging aan die koning te kenne te gee. Toe gaan Daniël na sy huis en maak aan Hanánja, Mísael en Asárja, sy metgeselle, die saak bekend, en dat hulle barmhartigheid van die God van die hemel moes afsmeek oor hierdie geheim, sodat hulle Daniël en sy metgeselle saam met die orige wyse manne van Babel nie sou ombring nie. Daarop is in ‘n naggesig die geheim aan Daniël geopenbaar. Toe het Daniël die God van die hemel geloof. Daniël het toe gespreek en gesê: Mag die Naam van God geprys word van ewigheid tot ewigheid, want die wysheid en die krag is syne. Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het; Hy openbaar ondeurgrondelike en verborge dinge; Hy weet wat in die duister is, en die lig woon by Hom. U, God van my vaders, loof en prys ek, want U het my wysheid en krag verleen, en nou het U my bekend gemaak wat ons van U afgesmeek het, want die saak van die koning het U ons bekend gemaak.”


Ons ken almal die verhaal van Daniel en sy drie vriende wat as gevangenes uit Jerusalem na Babilon gebring is om as hofdienaars onder koning Nebukadneser te dien.


Babilon het die suidelike koninkryk van Juda ingeval en Jerusalem in 600 vC verower. Jerusalem is drie keer aangeval en Daniel en sy vriende is in die eerste aanval as bannelinge na Babilon geneem.


In die tyd kry Nebukadneser ‘n droom wat hom verskriklik ontstel en hy beveel sy geleerdes, besweerdes en towenaars om vir hom sy droom te vertel en dit uit te lê. Natuurlik kan nie een van die ‘belangrike’ groep mense vir Nebukadneser sy droom oorvertel, nie te praat van uitlê nie. Dit het Nebukadneser woedend gemaak en hy gee bevel dat al die mense doodgemaak moet word – en onder die groep mense het ook Daniel en sy vriende getel. Toe Daniel hiervan te hore kom vra hy vir die owerste van die koning se lyfwag om hom na Nebukadneser te neem.


Daniel vra vir Nebukadneser om vir hom tyd te gee om sy droom en uitlegging daarvan te gee. Daardie aand bid Daniel en sy vriende ernstig tot God om die geheim aan hul bekend te maak en dank onmiddelik vir God vir die openbaring.


Die mooiste vers hier vir my is: Hy sit konings af en stel konings aan – God is in beheer, altyd!

 

11 Maart 2020


DANIËL 2:28-30 AFR53

“Maar daar is ‘n God in die hemel wat geheime openbaar, en Hy het koning Nebukadnésar bekend gemaak wat aan die einde van die dae sal gebeur. U droom en die gesigte van u hoof op u bed was dit: Wat u betref, o koning, u gedagtes op u bed het opgestyg oor wat hierna sal gebeur, en die Openbaarder van die geheime het u bekend gemaak wat sal gebeur. En wat my betref, hierdie geheim is my geopenbaar, nie deur ‘n wysheid wat in my sou wees meer as in al die lewendes nie, maar met die bedoeling dat die uitlegging aan die koning bekend gemaak sal word en u die gedagtes van u hart kan ken.”


Dit is baie belangrik vir ons om te sien dat Daniel nie die eer vat vir die uitlegging van die droom nie. Daniel sê vir Nebukadneser dat daar ‘n God in die hemel is wat geheime openbaar, en God gaan aan Nebukadneser wys wat aan die einde van die dae sal gebeur.


Daniel sê uitdruklik dat hy die middelman is tussen God en Nebukadneser om vir hom sy droom bekend te maak.

 

12 Maart 2020


DANIËL 2:31-36 AFR53

“U, o koning, het ‘n gesig gehad — kyk, daar was ‘n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik. Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei. U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mense hande ‘n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ‘n groot rots geword wat die hele aarde gevul het. Dit is die droom; sy uitlegging sal ons nou voor die koning sê:”


Die droom gee vir ons ‘n standbeeld wat uit verskillende dele aanmekaar gesit is. Die materiaal van die standbeeld wissel van goud na silwer na koper na yster en dan ‘n mengsel van yster en klei. Daniel beskryf die standbeeld van kop tot tone, en dan beskryf hy wat die standbeeld tot ‘n einde bring.


‘n Klip wat sonder toedoen van mensehande losraak tref die standbeeld se voete, soos ‘n meteoriet wat uit die hemel neerval, en vernietig die hele standbeeld. Die klip het egter gebly en gegroei tot ‘n reuse berg wat die hele aarde gevul het.


Dit is die droom, en ondanks sy eenvoud kon niemand die betekenis daarvan uitlê, bloot deur die beskrywing te hoor nie. Dit kan byna enigeiets beteken, maar dit het ‘n spesifieke betekenis wat God vir Daniel gegee het.


Dus, tensy ons die interpretasie van die Here ken en aanvaar, sal ons nie die regte uitleg hê nie, en daarom het dit vereis dat God die uitleg vir die droom moes voorsien.

 

13 Maart 2020


DANIËL 2:37-38 AFR53

“U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het, en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere van die veld en die voëls van die hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het — ú is die hoof van goud.”


Daniel begin met die uitleg van die droom. Die kop van die standbeeld wat van goud gemaak is verteenwoordig Nebukadneser as heerser van Babilon. Daniël vertel vir die koning dat sy mag om die nasies van die wêreld te verower ‘n direkte gevolg was van God hulle in sy hand gegee het.


Die besluit van die Here was selfs meer omvattend as wat die koning hom voorgestel het. Volgens God se bevel het Nebukadnesar oor elke gedeelte van die fisiese aarde geheers. Jeremia bevestig Daniël se woorde:


“Ek het die aarde, die mens en die diere wat op die aarde is, gemaak deur my grote krag en deur my uitgestrekte arm, en Ek gee dit aan wie dit reg is in my oë. En nou het Ék al hierdie lande gegee in die hand van Nebukadnésar, die koning van Babel, my dienaar; ja, selfs die wilde diere van die veld het Ek aan hom gegee om hom te dien. En al die nasies sal hom dien en sy seun en sy seun se seun, totdat die tyd van sý land ook kom, dat dit diensbaar gemaak sal word deur magtige nasies en groot konings.” JEREMIA 27:5-7 AFR53


Ons het reeds gesien dat God konings aanstel en afstel, en op ‘n dag deur God voorsien, sou die bewind van Nebukadnesar eindig, en dan, in ‘n tyd wat deur die Here opgedra is, sou ‘n ander mag opstaan ​​en neem wat Babilon gehad het.


 

14 Maart 2020


DANIËL 2:39 AFR53

“En ná u sal daar ‘n ander koninkryk opstaan, geringer as dié van u; daarna ‘n ander, ‘n derde koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers;”


Daniel verduidelik hier dat elkeen van die verskillende metale, verskillende koninkryke verteenwoordig. Die hoof van goud was die koninkryk van Babilon, die tweede koninkryk wat na die van Babilon heers is van silwer, en dan die derde van koper. Die standbeeld verteenwoordig dus koninkryke wat op mekaar volg, ‘n tydlyn van die geskiedenis van kop tot tone.


Geen twee dele kan terselfdertyd bestaan ​​nie, want die een deel moet eindig voordat die volgende deel begin. Dus is die standbeeld ‘n tydlyn van die era wat Jesus die ‘tye van die nasies’ of ‘time of the gentiles’ genoem het, en dit begin met Nebukadneser. Elke koninkryk na Babilon sal geringer wees as die vorige een, wat ook dan so deur die metale voorgestel word. Silwer is minder werd as goud, en koper minder werd as silwer.


Die tweede koninkryk was die Mede en die Perse, voorgestel deur die bors en twee arms van silwer, en die derde koninkryk was die Griekse koninkryk van Alexander die Grote, voorgestel deur die buik en lendene (bobene) van koper. Die bobene wat in twee deel is die vier generaals wat oorneem by Alexander die Grote na sy dood. Twee generaals in die Ooste en twee in die Weste wat ‘n politieke kloof tussen die Ooste en die Weste geskep het wat vandag nog bestaan. Net soos die bene nooit weer by die standbeeld aansluit nie, so sal hierdie Oos-Wes-skeiding tot die einde van die era bly.

 

15 Maart 2020


DANIËL 2:40-42 AFR53

“en die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis. En dat die voete en die tone, soos u gesien het, deels van pottebakkersklei en deels van yster was — dit sal ‘n verdeelde koninkryk wees, en van die hardheid van die yster sal daarin wees, omdat u die yster met kleigrond gemeng gesien het. En dat die tone van die voete deels van yster en deels van klei is — ‘n gedeelte van die koninkryk sal hard en ‘n gedeelte sal bros wees.”


Die vierde koninkryk, die Romeinse Ryk wat voorgestel word deur die yster bene (Ooste en Weste) het die Griekse Ryk verpletter. Dit was ‘n formidabele Ryk wat regeer het van 68 BC tot ongeveer 476 AD.


Die Romeinse Ryk is nooit verower deur ‘n nuwe moontheid nie, maar het opgebreek in verskillende lande om ‘n verdeelde koninkryk te vorm. Die wêreld soos ons dit vandag ken is die verdeelde koninkryk en die standbeeld se voete van yster en pottebakkersklei.


Die laaste deel van die standbeeld is tien tone, maar ons het nie hier ‘n verduideliking nie, dit sal ons in Daniel 7 kry.

 

16 Maart 2020


DANIËL 2:43 AFR53

“Dat u die yster gemeng met kleigrond gesien het — hulle sal deur menslike gemeenskap onder mekaar vermeng raak, maar hulle sal nie aanmekaar vasklewe nie, net soos yster nie met klei meng nie.”

Daniel 2:43 KJV

“And whereas thou sawest iron mixed with miry clay, they shall mingle themselves with the seed of men: but they shall not cleave one to another, even as iron is not mixed with clay.”


Jesus gee in Mattheus die volgende waarskuwing:


“En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.” MATTHÉÜS 24:37 AFR53


Hoe was dit in die dae van Noag?


Wie is die hulle in Daniel 2:43 wat deur menslike gemeenskap vermeng sal raak. Die engels maak dit bietjie duideliker. They shall mingle themselves with the seed of men. Duidelik meng ‘iemand’ met mense se saad om ‘hulle’ voort te plant.


Genesis 6: 1-2 verduidelik hoe dit was in die dae van Noag.


“Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het.”


Die ‘seuns van God’ het gesien dat die ‘dogters van die mense’ mooi was. Die seuns van God is engele wat hul eie woning verlaat het en kinders gekry het met mense dogters – die kombinasie is die reuse waarvan die Bybel praat wat ses tone en ses vingers gehad het.


“En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar;” JUDAS 1:6 AFR53


“En daar was weer oorlog in Gat; en daar was ‘n baie lang man, met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet, vier-en-twintig in getal, en hy was ook ‘n afstammeling van die Refaïete.” II SAMUEL 21:20 AFR53

 

17 Maart 2020


DANIËL 2:44-45 AFR53

“Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan — net soos u gesien het dat sonder toedoen van mense hande ‘n klip van die berg af losgeraak het wat die yster, die koper, die klei, die silwer en die goud verbrysel het. Die grote God het aan die koning bekend gemaak wat hierna sal gebeur; en die droom is waar en sy uitlegging betroubaar.”


Daniel vertel dat die klip wat sonder toedoen van mense hande van die berg losraak die yster, koper, klei, silwer en goud gaan verbrysel en ‘n einde maak aan al die koninkryke. God gaan dan ‘n nuwe koninkryk vestig wat nooit vernietig sal word nie.


Die droom van Nebukadneser gee ons dus ‘n tydlyn van die moonthede wat op aarde heers van Nebukadneser se tyd tot en met Jesus se tweede koms. Dit vat nie veel om te sien dat ons in die tydperk van die voete leef wat ons naby aan die eindtyd bring.


Ons moet nog leer wat die tone voorstel, en dit word duideliker in Daniel hoofstuk 7.

 

18 Maart 2020


Droom – DANIËL 7:2-3 AFR53

“Daniël het gespreek en gesê: Ek het in die nag in my gesig gesien, en kyk, die vier winde van die hemel het die groot see in beroering gebring; en vier groot diere het uit die see opgeklim, die een verskillend van die ander.”


Uitleg – DANIËL 7:15-16 AFR53

“Die gees van my, Daniël, is in sy omhulsel verontrus, en die gesigte van my hoof het my verskrik. Ek het nader gekom na een van die wat daar gestaan het, en van hom sekerheid gevra oor dit alles; en hy het dit vir my gesê en die uitlegging van die dinge aan my bekend gemaak:


Ons is in die eerste jaar van koning Belsasar in 553 BC. Daniel is 67 jaar oud en Nebukadneser is nege jaar tevore oorlede. Daniel droom en in ‘n visioen sien hy vier groot diere wat uit die see opklim, elkeen verskillend van die ander. Hy weet nie wat dit beteken nie en is verontrus oor wat hy gesien het. Daniel vra vir die man in sy droom om vir hom te verduidelik wat die droom beteken.

 

19 Maart 2020


Droom – DANIËL 7:4-6 AFR53

“Die eerste was soos ‘n leeu, en hy het vlerke van ‘n arend gehad; ek het bly kyk totdat sy vlerke uitgeruk is en dit van die grond af opgehef en soos ‘n mens op twee voete neergesit is en daaraan ‘n mensehart gegee is.


En kyk, ‘n ander dier, ‘n tweede, het gelyk soos ‘n beer, en is aan die een kant opgerig; en drie ribbes was in sy bek tussen sy tande; en só het hulle vir hom gesê: Staan op, eet baie vleis.


Daarna het ek gesien, en kyk, daar was ‘n ander een soos ‘n luiperd, en dit het vier vlerke van ‘n voël op sy rug gehad; ook het die dier vier koppe gehad, en aan hom is heerskappy gegee.”


Uitleg – DANIËL 7:17 AFR53

“Hierdie groot diere wat vier is — vier konings sal uit die aarde opstaan;”


Die uitlegging van die droom is dieselfde as Nebukadneser se droom – vier koninkryke sal op aarde heers. Hier het ons weer die ‘Tye van die nasies’ of the ‘Age of the Gentiles’.


1. Nebukadneser se koninkryk – die leeu met vlerke was die nasionale simbool van antieke Babilon. Die mens op twee voete is Nebukadneser.


2. Die Mede en Perse – Persië was die sterker mag wat aan die een kant van die beer opgerig is. Drie lande is deur die mag oorwin nl: Babilon, Lydia en Egipte – die drie ribbes in sy bek.


3. Die Grieke onder leiding van Alexander die Grote het so vinnig soos ‘n luiperd die wêreld oorwin – in net onder vier jaar en toe is Alexander dood. Sy vier generaals het na sy dood by hom oorgeneem, voorgestel deur die vier vlerke en vier koppe.

 

20 Maart 2020


Droom – DANIËL 7:7 AFR53

“Daarna het ek in die naggesigte gesien, en kyk, daar was ‘n vierde dier, vreeslik en skrikwekkend en baie sterk, en dit het groot ystertande gehad; dit het verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap; en dit was verskillend van al die diere wat voor hom gewees het, en dit het tien horings gehad.”


DANIËL 7:19 AFR53

“Toe wou ek sekerheid verkry oor die vierde dier wat van al die ander verskillend was, buitengewoon vreeslik, met ystertande en met koperkloue, wat verslind, vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap het,”


Uitleg – DANIËL 7:23 AFR53

“Só het hy gesê: Die vierde dier — die vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat verskil van al die koninkryke en die hele aarde sal verslind en dit sal vertrap en dit verbrysel.”


Die vierde koninkryk het begin met die Romeinse Ryk wat die Grieke oorwin het, en versplinter het in verskillende lande en regerings soos ons die wêreld vandag ken. Daniel verwys na die eerste drie koninkryke as diere wat herkenbaar is met eienskappe wat vergelyk met die moonthede wat regeer het.


Die vierde Ryk egter het geen vergelyking nie, die dier word slegs beskryf as vreeslik en skrikwekkend en baie sterk met ystertande wat verslind, vermorsel en vertrap.


Die dier verskil ook van die ander want die het tien horings gehad.

 

21 Maart 2020


Droom – DANIËL 7:8 AFR53

“Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar ‘n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, in hierdie horing was oë soos mens-oë, en ‘n mond wat groot dinge spreek.”


DANIËL 7:20-21 AFR53

“en oor die tien horings wat op sy kop was, en die ander een wat opgekom het en waarvoor drie geval het, naamlik hierdie horing wat oë en ‘n mond gehad het wat groot dinge gespreek het, terwyl sy gestalte groter was as van die ander. Ek het gesien dat hierdie horing oorlog voer met die heiliges en hulle oorwin,”


Uitleg – DANIËL 7:24-25 AFR53

“En die tien horings — uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan, en ‘n ander een sal ná hulle opstaan, en hý sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp. En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ‘n tyd en tye en die helfte van ‘n tyd.”


Daniel is bekommerd oor die tien horings van die dier. Hierdie is dieselfde as die tien tone van Nebukadneser se standbeeld. Die tien tone en tien horings verteenwoordig die einde van die ‘tye van die Nasies’ of the ‘times of the Gentiles’.


Die tien horings is tien konings wat gaan regeer. ‘n Elfde koning wat verskillend is van die ander tien konings sal aan bewind kom, verskillend wees van die voriges, en drie van die tien verslaan.


Die koning gaan TEEN God spreek, gelowiges mishandel en sal uiteindelik oor die hele wêreld regeer, want die gedeelte sê – hulle sal in sy hand oorgegee word. Die een wêrerld regering wat gaan regeer vir tyd, tye en die helfte van tyd.


Hoe lank is die tydperk? tyd/ jaar + tye/ 2 jaar + helfte van tyd/halwe jaar = 3,5 jaar


Detail hiervan sal later meer duidelik word.

 

22 Maart 2020


DANIËL 7:11-14 AFR53

“Ek het toe bly kyk vanweë die stem van die groot woorde wat die horing gespreek het; ek het bly kyk totdat die dier gedood en sy liggaam vernietig en aan die verbranding deur vuur oorgegee is. Ook aan die ander diere is hulle heerskappy ontneem, en verlenging van die lewe is aan hulle gegee tot op tyd en uur.

Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap;

en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.”


Die gedeelte moet ons gerusstel. Satan het in die einde van dae vir ‘n tydperk baie mag en hy gaan groot skade aanrig, maar ons ken die einde! Die dier word gedood en in die vuur gewerp!


Die tye van die nasies kom tot ‘n einde met Satan se einde wanneer ‘n engel uit die hemel kom om hom vir ‘n duisend jaar met kettings vas te bind en in die dieptes in te gooi.

Jesus kom weer terug soos Hy gegaan het, op die wolke, met mag en krag om vir ewig te regeer!

 

23 Maart 2020


MATTHÉÜS 24:15-16 AFR53

“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom — laat hy wat lees, oplet — dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug;”


Jesus beklemtoon hierdie gedeelte in Daniël as die sleutel tot profesie in Matteus 24:15. Hy bevestig Daniel as ‘n profeet en die skrywer van die boek! Jesus hou ons ook verantwoordelik om hierdie gedeelte te verstaan.


So ons gaan nou die gedeelte in Daniel 9 ondersoek.

 

24 Maart 2020


DANIËL 9:1-3 AFR53

“In die eerste jaar van Daríus, die seun van Ahasvéros, uit die geslag van die Meders, wat koning gemaak was oor die koninkryk van die Chaldeërs, in die eerste jaar van sy regering het ek, Daniël, in die boeke gemerk dat die getal jare waaroor die woord van die Here tot die profeet Jeremia gekom het met betrekking tot die puinhope van Jerusalem, sewentig volle jare was. En ek het my aangesig tot die Here God gerig om met vas, en in roukleed en as, my aan gebed en smekinge te wy.”


Daniel lees in die profeet Jeremia se boeke dat hul sewentig jaar in ballingskap gaan wees, en hy werk uit dat sy volk se tyd van ballingskap amper verby is. Daniel doen ook wat ons almal moet doen as ons nie die Skrif verstaan nie. Hy bid ernstig tot God vir ‘n verklaring van dit wat hy gelees het.


In Levitikus 25 sê God vir Moses dat die volk ses jaar lank hul lande mag saai en oes, maar die sewende jaar moet die land rus. Israel het vir 490 jaar nie hul sabbatsjare gehou nie, en God het besluit om Sy sabbatsjare te vat soos die vers in 2 KRONIEKE 36:21 vir ons gee.


“So is die woord van die Here vervul wat deur middel van Jeremia gekom het. Die ballingskap het aangehou totdat die land vir sy sabbatsjare vergoed is. Die hele tyd dat die land woes gelê het, het dit ‘n sabbatsrus geniet, ‘n volle sewentig jaar.”


Sewentig (sabbatsjare) x sewe (elke 7 jaar) = 490 jaar wat Israel nie hul sabbatsjare gehou het nie.

 

25 Maart 2020


DANIËL 9:21-23 AFR53

“terwyl ek nog spreek in die gebed, het die man Gabriël wat ek, uitgeput van vermoeienis, ‘n vorige keer in die gesig gesien het, na my gekom omtrent die tyd van die aandspysoffer. En hy het my onderrig en met my gespreek en gesê: Daniël, nou het ek heengegaan om jou insig te gee. By die begin van jou smekinge het ‘n woord uitgegaan, en ek het gekom om dit mee te deel, want jy is ‘n geliefde man; gee dan ag op die woord en verstaan die gesig.”


Die engel Gabriël kom persoonlik na Daniel in ‘n gesig, om vir hom die korrekte uitleg van die Skrif te gee op antwoord van sy gebed. Hy sê vir Daniel om ag te gee en mooi te luister sodat hy kan verstaan.


Daniel was korrek met sy navorsing oor die 70 jaar wat amper verby is, maar God het die engel Gabriël na hom gestuur om vir hom ‘n ander betekenis te gee. Die betekenis gaan een wees wat vêr in Daniel se toekoms gaan afspeel.


Hierdie is net een voorbeeld van ‘n profesie wat ‘n naby en vêr betekenis het. (Naby en vêr – tyd gewys)

 

26 Maart 2020


DANIËL 9:24 AFR53 “Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, …….

DANIËL 9:24a AFR83. “Daar is sewentig tydperke vir jou volk en vir jou heilige stad vasgestel. …………..


Al die profesië wat Daniel tot dusvêr uitgelê het, het te doen gehad met die ‘Gentiles’ of die nie-Jode. Ons het nou ‘n klemverskuiwing omdat hier van die Joodse volk en die stad Jerusalem gepraat word.


Wat is die sewetalle of tydperke? ‘n Week is ‘n sewetal of tydperk van sewe dae. In die profesie werk ons nie met dae nie maar met jare, dus ‘n sewetal van jare = 7 jaar. Dis soos ‘n storiesom wat ons op skool moes uitwerk. Sewentig sewetalle = 70 x 7 jaar = 490 jaar wat bepaal is vir die Joodse volk (Daniel se volk) en Jerusalem (die heilige stad).


Onthou ook dat ons as Christene nie die Joodse volk as uitverkore volk van God vervang nie.


Vervangings teologie of in engels Replacement theology, is ‘n vals leëring wat vir ons voorgehou word. God het ‘n ewige verbond, ‘n onverbreekbare verbond met Abraham gesluit waarin Hy aan Abraham ‘n groot nageslag (waar Christene ingesluit word) en grond belowe het.

 

27 Maart 2020


DANIËL 9:24b AFR83

“…………. In dié tyd sal daar

  1. aan die goddeloosheid en die sondes ‘n einde gemaak word en

  2. sal daar versoening gedoen word vir die oortredinge.

  3. Dit is die tyd waarin ‘n blywende geregtigheid tot stand gebring sal word,

  4. waarin die profesie en die visioen tot vervulling sal kom en

  5. die tempel heringewy sal word.”

Vir die tweede gedeelte van die vers het ek die AFR83 vertaling gebruik want dis makliker om te verstaan. In die tyd sal die volgende plaasvind.


1. ‘n Einde aan die goddeloosheid en sonde,

2. Versoening vir oortredinge (Uit ‘n Christen oogpunt het Jesus reeds vir ons sondes gesterf, maar uit ‘n Joodse oogpunt moet die Messias nog kom!)

3. Blywende geregtigheid sal die orde van die dag wees.

4. Alle profesië sal vervul wees.

5. Die derde tempel sal ingewy wees.


Is enige van die boonste stellings al waar in ons tyd vandag? Punt 2 is waar vir Christene, maar hier word met die Jode gepraat. So, nee, al die bogenoemde moet nog gebeur!

 

28 Maart 2020


DANIËL 9:25 AFR53

“Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors, is sewe sewetalle; en twee-en-sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid.”


Die engel Gabriel gee nou vir Daniel tydmerkers sodat hy en ons kan verstaan wanneer die 490 jaar gaan begin, en wat daarna gaan volg. Die typerk se beginpunt is wanneer koning Kores (Cyrus) ‘n bevel uitreik om Jerusalem te herstel en op te bou. In 2 Kronieke 36:23 sê koning Kores van Persië dat die God van die hemel al die koninkryke van die aarde aan hom gegee het, en dat sy opdrag van God is om vir Hom ‘n huis te bou in Jerusalem.


Jerusalem se herstel het begin in die boek Esra met die bou van die tempel, en is voltooi met die bou van die muur in die boek Nehemia. Die tempel se bou het lank gevat as gevolg van vele teenkanting en in tye van benoudheid, maar die muur is in 52 dae voltooi. Jerusalem se herstel het volgens Daniel se profesie sewe sewetalle geneem,

dus 7 x 7 jare = 49 jaar.


Die tydperk vandat die muur voltooi is totdat Jesus Jerusalem inry op ‘n donkie om as ‘n Vors gesalf te word is volgens Daniel se profesie twee-en-sestig sewetalle, dus 62 x 7 = 434 jare.


Die intog van Jesus in Jerusalem word in Mattheus 21:6-9 vir ons gegee.


“En die dissipels het gegaan en gedoen soos Jesus hulle beveel het; hulle het die esel en die vul gebring en hulle klere daarop gelê, en Hy het daarop gaan sit. En die grootste deel van die skare het hulle klere op die pad oopgegooi, en ander het takke van die bome afgekap en op die pad gestrooi. En die skare wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hosanna vir die Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste hemele!” MATTHÉÜS 21:6-9 AFR53

 

29 Maart 2020


DANIËL 9:26 AFR53

“En ná die twee-en-sestig sewetalle sal ‘n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van ‘n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met ‘n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings.”


Hierdie vers verduidelik dat Jesus gaan sterf ná die twee-en-sestig sewetalle. Jesus, die Gesalfde, se intog in Jerusalem was vyf dae voor Hy gekruisig is.


Jerusalem (die stad) en die tempel (die heiligdom) is na Jesus se kruisiging in 70 AD verwoes deur die Romeine (volk van ‘n vors wat sal kom) wat daardie tyd aan bewind was. Al die gebeurtenisse is ná die twee-en-sestig sewetalle. Die woord oorstroming is ‘n aanduiding van die mag waarmee als vernietig is.


Die vers gee net vir ons ’n beginpunt nl. ná die twee-en-sestigsewetalle, maar koppel nie die verwoesting van die tempel en Jerusalem aan ‘n sewetalle tydperk nie.


Daniel se profesie het begin deur te verduidelik dat ons na 490 jaar se gebeure moet kyk.


Tot dusver het ons 49 + 434 = 483 jaar. Ons kort nog 7 jaar om die 490 jare vol te maak.


Daniel se profesie gaan vir ons wys dat daar ‘n tussenpose is tussen Jesus se kruisiging en die sewe jaar wat nog moet gebeur. Die tussenpose is die tydperk waarin ons nou leef, die kerk tydperk.

 

30 Maart 2020


DANIËL 9:27 AFR53

“En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.”


Ons lees nou van die finale sewe jaar tydperk – En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit. Die vors wat sal kom, die antichris, gaan vir een week of 7 jaar ‘n verbond met die Joodse volk sluit om die 3de tempel te bou. Sodra die verbond geteken is, is die Kerk tydperk voltooi.


Hierdie gedeelte gee vir ons die tydlyn van die Groot Verdrukking = 7 jaar!


Na drie en ‘n half jaar (helfte van die week) gaan die antichris die verbond verbreek deur die offerhandes (slagoffer en spysoffer) te staak. Die offerhandes en spysoffer dui op die Joodse volk wat in hul tempel God gaan dien en offerhandes gaan offer.


En op die vleuel van gruwels sal ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde. Die antichris gaan homself opstel in die tempel as god en wel tot die einde – tot Jesus terug kom om hom te verwoes.


Jesus praat in Mattheus 24:15-16 met die dissipels en sê dat wanneer hulle die gruwel van verwoesting sien staan in die heiligdom of anders gestel, die tempel – soos deur Daniel voorspel – dan moet hulle vlug. Hier bevestig Jesus dus Daniel se profesie rakende die derde tempel en alles wat gaan gebeur.

46 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page