top of page
  • Regina Torre

want so lief ….. deel 2

Updated: Sep 7, 2023



19 Augustus 2023


MATTHÉÜS 27:59-60 AFR53

“En Josef het die liggaam geneem en dit met skoon linne toegedraai en dit in sy nuwe graf gelê wat hy in die rots uitgekap het; en nadat hy 'n groot steen teen die opening van die graf gerol het, het hy weggegaan.”

Josef van Arimathéa kry Jesus se liggaam, draai dit in skoon linne toe en lê Hom in die nuwe graf neer wat hy in die rots uitgekap het. Daarna maak hy die graf toe deur ‘n groot steen teen die opening van die graf te rol, en gaan weg, en so eindig 14 Nisan.


Die fees van Ongesuurde Brode is 7 dae lank en is ‘n aparte fees van Paasfees. Die fees het ‘n voorbereidingsdag wat begin op 14 Nisan want saam met Paasfees moet daar ongesuurde brode geëet word. Die fees van Ongesuurde Brode begin op 15 Nisan en eindig op 21 Nisan en altwee dae is heilige samekomste. Op die dae mag geen werk gedoen word nie. Dis nie noodwendig ‘n Sabbat dag of Saterdag nie, maar moet as ‘n Sabbat dag geheilig word.


“en op die vyftiende dag van hierdie maand is die fees van die ongesuurde brode van die Here; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet.” LEVÍTIKUS 23:6 AFR53


Elke gesin moet hul lam braai oor ‘n vuur en als moet in dieselfde nag geëet word saam met ongesuurde brode en bitter kruie.


“En hulle moet die vleis in dieselfde nag eet, oor die vuur gebraai; saam met ongesuurde brode moet hulle dit met bitter kruie eet.” EXODUS 12:8 AFR53


Suurdeeg is ‘n voorstelling van sonde. Hoekom? ‘n Klein bietjie suurdeeg laat n hele baksel deeg reis. Die brood wat geëet word, gebak sonder suurdeeg, stel Jesus se liggaam voor, met ander woorde, sonder sonde. Interessant om te weet dat Betlehem beteken ‘huis van brood’.


Jesus, die brood van die lewe, is gebore in die huis van brood.


“En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.” JOHANNES 6:35 AFR53

“Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.” JOHANNES 6:51 AFR53

“Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” JESAJA 53:5 AFR53


 

20 Augustus 2023


MATTHÉÜS 27:62 AFR53

“Die volgende dag — dit is die dag ná die voorbereiding — kom die owerpriesters en die Fariseërs by Pilatus saam”


Die dag na die voorbereiding is soos ons reeds gesien het 15 Nisan en die begin van die fees van Ongesuurde Brode. Hierdie dag is altyd ‘n Sabbat dag, maak nie saak op watter dag van die week dit val nie. Dit sal dus ongewoon wees vir die Joodse leiers om op die dag met Pilatus te gaan praat.


Jerusalem se godsdienstige leiers is egter bekommerd dat Jesus se dissipels gaan aanhou om vir mense te sê Hy is die Messias.


Al is Jesus dood, onthou hulle dat Jesus gesê het dat Hy na drie dae uit die dood gaan opstaan. Hulle bekommernis is dat Sy volgelinge Jesus se liggaam sal steel en dan vir almal sal vertel dat Hy lewe. Die priesters en skrifgeleerdes hou vol dat sulke bedrog selfs meer probleme sal veroorsaak as 'n nog-lewende Jesus.


Die Fariseërs en priesters weet dit is onmoontlik om iemand wat reeds dood is te kruisig. Dit is nie moontlik om 'n persoon wat net in die gedagtes van Sy volgelinge bestaan, te vervolg nie. Hulle kan nie 'n spook openbaar as 'n bedrieër nie. Hoe kan hulle met 'n valse opstanding stry as daar geen liggaam is nie? Daarom dat hulle die Romeinse regering vra om die graf amptelik te verseël en te bewaak. Dit sal dit veilig maak teen enige gepeuter en Jesus se liggaam behou as bewys dat Hy vals was.


“en sê: My heer, ons herinner ons dat dié verleier, toe hy in die lewe was, gesê het: Oor drie dae staan ek op. Gee dan bevel dat die graf verseker word tot die derde dag toe, dat sy dissipels nie miskien in die nag kom en Hom steel nie, en vir die volk sê: Hy het opgestaan uit die dode. En die laaste dwaling sal erger wees as die eerste.”   MATTHÉÜS 27:63-64 AFR53


Alhoewel Pilatus nie in godsdienstige twiste belangstel nie, erken hy die gevaar en stem in om 'n wag voor die graf te plaas.


’n Romeinse wag was saamgestel uit vier tot sestien soldate. In 'n geveg sou hulle 'n vierkant vorm, en kon hulle 'n veel groter mag weerhou.


“Daarop sê Pilatus vir hulle: Julle sal 'n wag kry; gaan verseker dit soos julle dit verstaan. En hulle het gegaan en die graf verseker deur die steen te verseël in teenwoordigheid van die wag.”   MATTHÉÜS 27:65-66 AFR53


Die Joodse owerhede het toe die graf verseël in die teenwoordigheid van die wag. Hulle is nou gerus dat niemand Jesus se liggaam sal kan steel nie.


“En hulle het gegaan en die graf verseker deur die steen te verseël in teenwoordigheid van die wag.”   MATTHÉÜS 27:66 AFR53


 

21 Augustus 2023


MATTHÉÜS 28:1 AFR53

“En laat ná die sabbat toe dit begin lig word, teen die eerste dag van die week, kom Maria Magdaléna en die ander Maria om na die graf te gaan kyk.”


Twee Marias en Salóme is vroegoggend, op die eerste dag van die week, oppad na die graf om Jesus se liggaam met speserye te salf.


“En baie vroeg in die môre, op die eerste dag van die week, het hulle en ander saam met hulle by die graf gekom en die speserye gebring wat deur hulle toeberei was.”   LUKAS 24:1 AFR53


“En toe die sabbat verby was, het Maria Magdaléna en Maria, die moeder van Jakobus, en Salóme speserye gekoop om Hom te gaan salf. En baie vroeg op die eerste dag van die week, net ná sonop, kom hulle by die graf.”   MARKUS 16:1-2 AFR53


Voor die vroue by die graf opdaag, daal ‘n engel van die Here uit die hemel neer, veroorsaak ‘n groot aardbewing, en rol die steen van die opening weg. Daarna gaan sit hy op die steen en sy gedaante was soos weerlig en sy klere wit soos sneeu.


Die engel het natuurlik nie die steen weggerol vir Jesus om uit te kom nie, want Jesus was lank nie meer daar nie. Hy het die steen weggerol vir die mense om in te kan kom en te sien dat die graf leeg was.


“En daar kom 'n groot aardbewing, want 'n engel van die Here het uit die hemel neergedaal en gekom en die steen van die opening weggerol en daarop gaan sit. En sy gedaante was soos weerlig en sy kleding wit soos sneeu.”   MATTHÉÜS 28:2-3 AFR53


Maria Magdalena is eerste by die graf, nog voor die son opkom, en sy sien dat die steen van die graf weggerol is.


“En op die eerste dag van die week kom Maria Magdaléna vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was.”   JOHANNES 20:1 AFR53


“En hulle het die steen van die graf afgerol gevind.”   LUKAS 24:2 AFR53


“En hulle sê vir mekaar: Wie sal vir ons die steen voor die opening van die graf wegrol? En toe hulle opkyk, sien hulle dat die steen weggerol was, want dit was baie groot.”   MARKUS 16:3-4 AFR53


Die Romeinse soldate wat gewoond was aan verskriking in die gevegsveld, manne van moed en vreesloos vir gevaar, was paniekbevange, en het met vrees gebewe by die aanskoue van die engel.


“En uit vrees vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword.”   MATTHÉÜS 28:4 AFR53


 

22 Augustus 2023


MATTHÉÜS 28:5 AFR53

“Maar die engel antwoord en sê vir die vroue: Moenie vrees nie, want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is.”


Die vroue gaan by die graf in, maar Jesus is nie daar nie. Daar is egter twee manne in blink klere wat daar staan, en natuurlik skrik die vrouens hulle boeglam.


“En toe hulle ingaan, het hulle nie die liggaam van die Here Jesus gekry nie. En terwyl hulle hieroor in verleentheid was, staan daar twee manne by hulle in blink klere.”   LUKAS 24:3-4 AFR53


“En toe hulle in die graf ingegaan het, sien hulle 'n jongman, met 'n lang wit kleed om, aan die regterkant sit, en hulle het baie geskrik.”   MARKUS 16:5 AFR53


Een van die twee mans (engele) praat met die vroue en sê hulle moet nie bang wees nie, Hulle sê dat hulle weet die vrouens is daar vir Jesus, maar Hy is nie meer daar nie, want Hy het opgestaan.


“Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het;”   MATTHÉÜS 28:6 AFR53


“En hy sê vir hulle: Moenie verskrik wees nie. Julle soek Jesus die Nasaréner wat gekruisig is. Hy het opgestaan. Hy is nie hier nie. Dáár is die plek waar hulle Hom neergelê het.”   MARKUS 16:6 AFR53


Die manne vra hoekom hulle die Lewende tussen die dooies soek, en herinner hulle aan wat Jesus vir hulle geleer het. Die Seun van die mens moet oorgelewer word in die hande van die sondiges, en gekruisig word, en op die derde dag opstaan. Hulle het die woorde onthou.


“En toe hulle baie bevrees word en met hulle aangesigte na die aarde buig, sê die manne vir hulle: Waarom soek julle die Lewende by die dooies? Hy is nie hier nie, maar Hy het opgestaan. Onthou hoe Hy vir julle gesê het toe Hy nog in Galiléa was: Die Seun van die mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense en gekruisig word en op die derde dag opstaan. En hulle het sy woorde onthou.” LUKAS 24:5-8 AFR53


Die manne sê vir die vrouens om te gaan en vir die dissipels te vertel dat Jesus uit die dood opgestaan het. Vertel vêrder vir hulle dat julle Jesus in Galilea sal sien.


“en gaan haastig, sê vir sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode en gaan voor julle uit na Galiléa. Daar sal julle Hom sien. Kyk, ek het julle dit gesê.”   MATTHÉÜS 28:7 AFR53


“Maar gaan sê vir sy dissipels en vir Petrus dat Hy voor julle uit gaan na Galiléa. Daar sal julle Hom sien soos Hy vir julle gesê het.”   MARKUS 16:7 AFR53


Daar was die oggend baie gehardloop. Die vroue het haastig van die graf weggegaan, na die dissippels, om hulle alles te vertel.


“En hulle het haastig weggegaan van die graf met vrees en groot blydskap, en gehardloop om dit aan sy dissipels te vertel.”   MATTHÉÜS 28:8 AFR53


“Toe gaan hulle haastig uit en vlug van die graf af weg. En bewing en ontsetting het hulle aangegryp. En hulle het vir niemand iets gesê nie, want hulle het gevrees.”   MARKUS 16:8 AFR53


“Hulle gaan toe terug van die graf en vertel dit alles aan die elf en aan al die ander.”   LUKAS 24:9 AFR53


 

23 Augustus 2023


MATTHÉÜS 28:9 AFR53

“En terwyl hulle op weg was om dit aan sy dissipels te vertel, kom Jesus hulle meteens teë en sê: Wees gegroet! Toe kom hulle nader en gryp sy voete en aanbid Hom. ”


Die vroue is oppad na die dissipels met die goeie nuus toe Jesus skielik voor hulle staan en hulle groet. Hulle kom toe nader en gryp Sy voete en aanbid Hom. Jesus herhaal wat die engele vir die vroue gesê het. Vertel vir die dissipels dat hulle Jesus in Galilea sal sien.


“En Jesus sê vir hulle: Moenie vrees nie. Gaan heen en vertel my broeders dat hulle na Galiléa moet gaan; en daar sal hulle My sien.”   MATTHÉÜS 28:10 AFR53


Die vroue het toe onmiddelik na die elf gegaan en hulle vertel van hul oggend tot dusver.


“Hulle gaan toe terug van die graf en vertel dit alles aan die elf en aan al die ander. En dit was Maria Magdaléna en Johanna en Maria, die moeder van Jakobus, en die ander vroue saam met hulle wat dit aan die apostels vertel het.”   LUKAS 24:9-10 AFR53


Vir die dissipels was die vroue se woorde net onsinnige praatjies, en hulle het hul nie geglo nie.


“En hul woorde het vir hulle na onsinnige praatjies gelyk, en hulle het hul nie geglo nie.”   LUKAS 24:11 AFR53


“Sy hardloop toe en kom by Simon Petrus en by die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het, en sê vir hulle: Hulle het die Here uit die graf weggeneem, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.”   JOHANNES 20:2 AFR53


Albei, Petrus en Johannes, het die linne gesien waarin die liggaam van Jesus toegedraai was, maar die liggaam was weg. Dit bewys dat Jesus se liggaam nie gesteel is nie, maar dat Hy deur die grafklere opgestaan ​​het en dit agtergelaat het as getuienis van 'n wonderwerk.


“Maar Petrus het opgestaan en na die graf gehardloop; en toe hy neerbuk, sien hy die doeke alleen lê. En hy het weggegaan huis toe, vol verwondering oor wat gebeur het.”   LUKAS 24:12 AFR53


Enigiemand wat die lyk sou wou steel, sou dit in die grafklere geneem het. Tog is die leë grafklere op 'n ordelike wyse in die graf gelos. Dit was glad nie die toneel van 'n grafroof nie. Selfs die doek wat om Sy gesig gedraai was, is eenkant afsonderlik opgerol.


“Toe gaan Petrus en die ander dissipel uit en kom by die graf. En die twee het saam gehardloop, en die ander dissipel het vooruit gehardloop, vinniger as Petrus, en eerste by die graf gekom. En terwyl hy neerbuk, sien hy die doeke lê; maar hy het nie ingegaan nie. Toe kom Simon Petrus agter hom aan en gaan in die graf en sien die doeke lê; en die doek wat op sy hoof was, sien hy nie by die doeke lê nie, maar opgerol op een plek afsonderlik. Daarop het ook die ander dissipel wat eerste by die graf gekom het, ingegaan, en hy het gesien en geglo.”   JOHANNES 20:3-8 AFR53


Tot hiertoe het die disippels nie verstaan wat die Ou Testament profesieë bedoel het met die opstanding nie, maar na die ooggetuies van Jesus se opstanding het dit duidelik geword.


“Want hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Hy uit die dode moes opstaan nie. En die dissipels het weer huis toe gegaan.”   JOHANNES 20:9-10 AFR53


 

24 Augustus 2023


LEVÍTIKUS 23:11 AFR53

“En hy moet die gerf voor die aangesig van die Here beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die sabbat moet die priester dit beweeg.”


God het in Levitikus 23 sewe feeste ingestel wat Sy volk jaarliks moet vier. Die eerste drie feeste vind plaas in een week wat begin op 14 Nisan.


1ste fees, 14 Nisan - die Pasga van die Here.

- Die paaslam word geslag en die Jode dink terug aan die tyd toe die bloed van die lam aan die deurposte geverf is om almal in die huis van die doodsengel te beskerm.

- Jesus word gekruisig en Christene dink terug aan Jesus se bloed wat vir ons sondes gevloei het.


2de fees, 15 tot 21 Nisan - Fees van Ongesuurde Brode

- Vir sewe dae het die volk slegs ongesuurde brood geëet vir padkos, totdat Moses hulle deur die Rooi See gebring het. - “En hulle het van die deeg wat hulle uit Egipte gebring het, ongesuurde koeke gebak; want dit was nie ingesuur nie, omdat hulle uit Egipte uitgedryf is, sodat hulle nie kon vertoef nie en ook geen padkos vir hulle klaargemaak het nie.”   EXODUS 12:39 AFR53

- vir die Christen is Jesus die brood van die lewe - “En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.”   JOHANNES 6:35 AFR53


3de fees, 1ste dag van die week gedurende die 7 dae van Ongesuurde Brode - Fees van Eerste vrugte

- Die eersteling gerf van die oes word na die priester gebring wat dit as ‘n beweegoffer voor God bring.

- Christene herdenk Jesus se opstanding uit die dood.



Wat is die Fees van Eerste Vrugte en hoe werk dit?


Die eersteling gerf van die oes moet voor die priester gebring word - die eersteling gerf verteenwoordig die hele oes.  Watter oes word hiervan gepraat. Gort (barley) is die graan wat eerste ryp is om geoes te word.


Gedurende die fees van ongesuurde brode, aan die einde van die Sabbat, word ‘n paar mense afgevaardig om net na sononder in verskillende gort velde in te gaan met ‘n sekel en ‘n monster (sample) van elke oes in te bring. Die verskillende monsters word saam in ‘n gerf gebind en na die voorhof van die tempel gebring.


Die volgende oggend vroeg word wierook op die gerf gesprinkel en dan waai die priester die gerf in al vier windrigtings in ‘n beweegoffer voor die Here. ‘n Deel van die gerf word hierna op die vuur van die altaar gegooi. Wanneer die beweegoffer aanvaar is, word die res van die oes geag aanvaar te wees voor God.


Nou kan die mense die gort van die veld afhaal en dit eet. Voor die offer aanvaar is, mag niks van die oes geëet word nie. Genoeg van die vorige jaar se gort word bewaar om hierdie jaar se ongesuurde brode vir Paasfees en die Fees van Ongesuurde Brode te maak.


Die gerf wat die oes verteenwoordig, is ‘n voorstelling van Jesus (‘n gerf) wat al die Christene as ‘n groep (die oes) verteenwoordig.


Die fees is altyd op die dag na die sabbat. Dis sabbat is op ‘n Saterdag, so die dag daarna sal altyd ‘n Sondag wees. Aangesien die Fees van Ongesuurde Brode 7 dae lank is, sal een van die dae in die 7 dae ‘n Sondag wees, en die Sondag sal die Fees van Eerstevrugte wees.


 

25 Augustus 2023


JOHANNES 20:17 AFR53

“Jesus sê vir haar: Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God.”


Kom ons kyk wat met Jesus gebeur het, na Sy kruisiging en dood, op die eerste dag van die week. Onthou Sondag begin die vorige aand (Saterdag aand) na sononder. Die twee Maria’s besoek Jesus se graf vroeg die Sondag oggend, net toe dit begin lig word.


Vroeg die oggend toe die rook opgaan van die beweegoffer wat op die altaar gegooi word, het die vrouens ontdek dat Jesus nie meer in Sy graf is nie.


Die twee engele sê vir die vroue dat Jesus nie daar is nie, want Hy het opgestaan! Wat ‘n kragtige getuienis. Jesus, wat die oes verteenwoordig van die wat gaan opstaan, het eerste opgestaan.


Paulus verduidelik die beginsel vir ons mooi!


“Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. Want aangesien die dood deur 'n mens is, is die opstanding van die dode ook deur 'n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.”   I KORINTHIËRS 15:20-23 AFR53


As Jesus die eersteling is van die wat ontslaap het, dan impliseer dit dat daar ‘n 2de, 3de, 4de ens. mense is wat moet opstaan uit die dode.


As ons in orde uit die dood opstaan, dan het elkeen van ons ‘n nommer. Jesus was die eerste vrug wat permanent opgestaan het, nommer 1.  Nader na ons toe, jou grootouers se nommers is voor jou ouers, en jou ouers voor jou, ens.....  ons gaan almal eendag permanent opstaan.


“Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”   I THESSALONICENSE 4:14-18 AFR53


Hoe maklik verstaan ons nie die beginsels wanneer ons die feeste begin verstaan nie. Die wat reeds dood is sal voor die opstaan wat steeds lewe, elkeen in orde.


 

26 Augustus 2023


MATTHÉÜS 28:11 AFR53

“En terwyl hulle op weg was, kom daar sommige van die wag in die stad en vertel die owerpriesters alles wat gebeur het.”


Terwyl die vroue aan die dissipels gaan vertel wat hulle beleef en gesien het, kom die wagte wat die graf opgepas het die stad in, en vertel vir die owerpriesters alles wat gebeur het.


Hulle verslag sou insluit die aardbewing, die engele, die wegrol van die klip en ten slotte die feit dat Jesus werklik uit die dood opgestaan ​​het.


Nie juis die verslag wat die owerpriesters en ouderlinge wou hoor nie, en beslis ook nie inligting wat hulle die wêreld in wil stuur nie. Die Joodse Raad saam met die owerpriesters en die ouderlinge hou ‘n vergadering en besluit om die wagte met baie geld om te koop


“En nadat hulle saam met die ouderlinge vergader en raad gehou het, het hulle die soldate baie geld gegee”   MATTHÉÜS 28:12 AFR53


Die storie wat die wagte aangesê is om te vertel, was op die oog af teenstrydig. Hoe kon hulle weet, as hulle geslaap het, wie die lyk gesteel het? Al wat hulle kon weet, was dat hulle aan die slaap geraak het, en toe hulle wakker word, was die graf oop en leeg.


“en gesê: Julle moet sê: Sy dissipels het in die nag gekom en Hom gesteel terwyl ons aan die slaap was.”   MATTHÉÜS 28:13 AFR53


Die soldate moes die Joodse owerhede ten volle vetrou het, want indien die storie by Pilatus sou uitkom, was die doodstraf hul voorland.


“En as dit by die goewerneur gehoor word, sal ons hom tevrede stel en maak dat julle sonder sorg is.”   MATTHÉÜS 28:14 AFR53


Die soldate het die geld geneem en gedoen soos hulle beveel was.


Hierdie verhaal van die diefstal van die liggaam van Jesus deur die dissipels, word algemeen vertel onder die Jode tot vandag toe. Dit was waar toe Mattheus dit geskryf het, en dit is waar in ons huidige tyd.


“Hulle het toe die geld geneem en gedoen soos hulle geleer was. En hierdie verhaal is versprei onder die Jode, tot vandag toe.”   MATTHÉÜS 28:15 AFR53


Die gedeelte is ‘n bewys van Jesus se opstanding. As Jesus se liggaam gesteel was, dan kon dit net deur of Sy vriende óf Sy vyande gedoen wees.


Sy vriende kon dit nie gedoen het nie aangesien hulle die toneel verlaat het en oortuig was dat Jesus dood was. Sy vyande sou nie Sy liggaam steel nie, want geloof in Sy opstanding was wat hulle probeer verhoed het.


Hulle sou hulle eie doel verhinder het as hulle Sy liggaam verwyder het. En, as hulle dit geneem het, hoekom het hulle dit nie as bewys voorgelê om die getuienis van die vroeë kerk stil te maak nie?


 

27 Augustus 2023


MARKUS 16:12 AFR53

“En hierna het Hy in 'n ander gedaante verskyn aan twee van hulle terwyl hulle loop, op pad in die veld.”


Na ‘n besige Sondag oggend verskyn Jesus die middag aan twee wat ons ken as die Emmaüsgangers. Net soos met die vrouens, het niemand die twee geglo nie.


“Hulle het ook gegaan en dit aan die ander vertel, maar dié het hulle ook nie geglo nie.”   MARKUS 16:13 AFR53


Lukas gee meer inligting. Twee persone is oppad na Emmaüs, ‘n dorp net buite Jerusalem. Terwyl hulle stap en gesels oor die gebeure wat gedurende die feestydperk plaasgevind het, begin Jesus saam met hulle stap. Hulle herken Hom glad nie en is net verbaas toe Hy hulle vra waaroor hulle gesels en waarom hulle so bedroef is.


“En twee van hulle was dieselfde dag op pad na 'n dorp wat agt myl van Jerusalem af was, met die naam van Émmaüs. En hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat voorgeval het. En terwyl hulle praat en mekaar ondervra, kom Jesus self nader en loop met hulle saam. Maar hulle oë is weerhou, sodat hulle Hom nie kon herken nie. En Hy sê vir hulle: Watter woorde is dit wat julle met mekaar loop en wissel, en waarom is julle bedroef?”   LUKAS 24:13-17 AFR53


Kleopas vra vir Jesus: Is U ‘n vreemdeling in Jerusalem. Nou weet ons waar die spreekwoord vandaan kom  😊.


“En die een wie se naam Kléopas was, antwoord en sê vir Hom: Is U alleen 'n vreemdeling in Jerusalem en weet U nie van die dinge wat in hierdie dae daarin gebeur het nie?”   LUKAS 24:18 AFR53


Jesus hou Homself dom en vra watter dinge het gebeur, waarop hulle Hom opdatum bring.


“En Hy sê vir hulle: Watter dinge? En hulle antwoord Hom: Die dinge aangaande Jesus, die Nasaréner, wat 'n profeet was, kragtig in werk en woord voor God en die hele volk; en hoe ons owerpriesters en owerstes Hom oorgelewer het tot die doodstraf en Hom gekruisig het. En ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos; maar nou is dit vandag, met dit alles, die derde dag vandat dit plaasgevind het. Maar sommige vroue uit ons het ons ook ontstel nadat hulle vroeg by die graf was; en toe hulle sy liggaam nie kry nie, het hulle gekom en gesê dat hulle ook 'n gesig gesien het van engele wat sê dat Hy lewe. En sommige van die wat saam met ons was, het na die graf gegaan en dit net so gevind soos die vroue ook gesê het; maar Hom het hulle nie gesien nie.” LUKAS 24:19-24 AFR53


Jesus gee toe vir die twee ‘n privaat lesing van die Skrifte wat begin by Moses en al die profete se profesieë rakende Hom. Wat sou enige van ons gee om die lesing by te woon!


“En Hy sê vir hulle: o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie? En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.”   LUKAS 24:25-27 AFR53


 

28 Augustus 2023


LUKAS 24:28 AFR53

“Daarop kom hulle naby die dorp waarheen hulle op reis was, en Hy het gemaak of Hy verder wou gaan;”


Kleopas en die ander persoon wat saam met Jesus geloop en geleer het, dring daarop aan dat die vreemde Geleerde saam met hulle oornag.


“maar hulle het by Hom aangedring en gesê: Bly by ons, want dit is amper aand en die dag het gedaal; en Hy het ingegaan om by hulle te bly.”   LUKAS 24:29 AFR53


Toe hulle aansit om te eet, neem Jesus die brood, vra die seën, breek die brood en gee dit vir hulle om te eet. Die twee wat saam met Jesus geloop het en nou brood eet wat Hy gebreek het, moet ernstig begin wonder wie hierdie Vreemdeling is.


“En toe Hy met hulle aan tafel was, neem Hy die brood en dank; en Hy breek dit en gee dit aan hulle.”   LUKAS 24:30 AFR53


En toe skielik is hul oë geopen en alles maak sin. Die vreemdeling is al die tyd Jesus, en net toe hulle dit begryp verdwyn Jesus voor hul oë.


Die opgestane Jesus was fisies, tasbaar en het saam met hulle verkeer, tog was Hy in staat om voor hul oë te verdwyn!


“Toe is hulle oë geopen en hulle het Hom herken, en Hy het uit hulle gesig verdwyn.”   LUKAS 24:31 AFR53


Opgewonde besluit die twee om terug te gaan na Jerusalem, en vind die elf en ook ander wat besef dat Jesus wel opgestaan het.


“En hulle sê vir mekaar: Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie? Toe staan hulle in dieselfde uur op en gaan na Jerusalem terug en vind die elf en die wat saam met hulle bymekaar was, wat sê: Die Here het waarlik opgestaan en het aan Simon verskyn.”   LUKAS 24:32-34 AFR53


Die twee kan hulself nie inhou nie en vertel vir almal wat met hulle gebeur het. Hulle vertel dat hulle besef het die Geleerde was Jesus toe Hy die brood gebreek het.


“Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het en hoe Hy aan hulle bekend geword het by die breking van die brood.”   LUKAS 24:35 AFR53


 

29 Augustus 2023


LUKAS 24:36 AFR53

“En terwyl hulle hieroor praat, staan Jesus self in hul midde en sê vir hulle: Vrede vir julle!”


Die twee saam met die tien (Thomas was afwesig) en ander praat nog oor elkeen se verhaal van Jesus wat opgestaan het, toe Jesus sommer so in hul midde staan en met hulle praat en sê: Vrede vir julle!


Hulle is boeglam geskrik en dink hulle sien ‘n spook, want hulle begryp nie wat hier gebeur nie. Jesus praat vêrder asof niks fout is nie en vra waarom hulle so ontsteld is en waarom hulle twyfel!


“Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle 'n gees sien. En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op?”   LUKAS 24:37-38 AFR53


Jesus begin om vir hulle bewyse te gee van Sy opstanding en dat dit werklik Hy is. Hy wys en sê hulle moet kyk na Sy hande en voete. Hy moedig hulle aan om aan Hom te vat en te voel dat Hy daar is - ‘n gees het nie vel en been nie.


“Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want 'n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie. En terwyl Hy dit sê, wys Hy hulle sy hande en sy voete.”   LUKAS 24:39-40 AFR53


Hulle sukkel om te glo en hul emosies wissel van ongeloof na blydskap en na verwondering. Jesus vra of hulle iets het om te eet, en toe eet Hy gebraaide vis en heuningkoek voor hul oë.


“En toe hulle van blydskap nog nie kon glo nie en hulle verwonder, sê Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet? Daarop gee hulle Hom 'n stuk gebraaide vis en 'n stuk heuningkoek. En Hy het dit geneem en voor hulle oë geëet.”   LUKAS 24:41-43 AFR53


Jesus leer vir hulle wat Hy vir die twee Emmausgangers geleer het. Hy beklemtoon dat Hy reeds alles vir hulle geleer het toe Hy nog gelewe het. Alles wat die wet van Moses en die profete en die psalms oor Hom geskryf het moes vervul word. Jesus open toe hul verstand om die Skrifte te verstaan.


“En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word. Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.”   LUKAS 24:44-45 AFR53


Wat geskryf is het gebeur. Die Christus moes ly en sterf en op die derde dag opstaan uit die dode.


“En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan,”   LUKAS 24:46 AFR53


Bekering en vergewing van sondes in die Naam van Jesus moet aan al die nasies verkondig word.


“en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder.”   LUKAS 24:47 AFR53


Jesus sê dat almal wat by Hom is getuies is van wat gebeur het, en dat hulle in Jerusalem moet bly totdat hulle toegerus word met krag uit die hoogte.


“En julle is getuies van hierdie dinge. En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte.”   LUKAS 24:48-49 AFR53


 

30 Augustus 2023


JOHANNES 20:19 AFR53

“En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle!”


Johannes gee ook sy perspektief. Toe dit aand was, op daardie eerste dag van die week wat Jesus eers aan die vrouens verskyn het, was die dissipels almal saam, en uit vrees vir die Jode, was hul deure almal gesluit.


Skielik is Jesus in hul midde en Hy sê: Vrede vir julle! Beslis moes Jesus deur die muur / geslote deur ingekom het. Sy nuwe liggaam wat vlees en been is, het tog verander want Jesus kan deur mure beweeg.


Jesus wys toe vir almal Sy hande en sy as bewys dat dit Hy is, en almal is bly om hul Here te sien.


“En nadat Hy dit gesê het, wys Hy hulle sy hande en sy sy. En die dissipels was bly toe hulle die Here sien.”   JOHANNES 20:20 AFR53


Jesus gee hier ‘n opdrag met die gesag van ‘n ambassadeur wat ‘n buitelandse regering verteenwoordig.


“Jesus sê toe weer vir hulle: Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees.”   JOHANNES 20:21-22 AFR53


Die Griekse woord ‘blaas’ wat hier gebruik word, word nêrens anders in die Nuwe Testament gebruik nie, maar is juis die een wat in Gen 2:7 gebruik word.


“En die Here God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens 'n lewende siel geword.”   GÉNESIS 2:7 AFR53


Die mens se oorspronklike skepping is voltooi deur hierdie daad van God.


“So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het 'n lewende siel geword; die laaste Adam 'n lewendmakende Gees.”   I KORINTHIËRS 15:45 AFR53


Die eerste Adam het deur sy ongehoorsaamheid 'n blote lewende siel geword, en van hom erf ons daardie natuur. Die tweede Adam het deur Sy gehoorsaamheid 'n lewendmakende gees geword, en van Hom erf ons die geestelike natuur in ons.


Jesus is besig om Sy dissipels voor te berei vir wanneer Hy die aarde fisies gaan verlaat, tot en met die Heilige Gees in hul sal woon. Terwyl hulle die evangelie verkondig het, kon hulle eerlik vir mense wat in daardie boodskap geglo het vertel dat hulle sondes vergewe is, en hulle kon eerlik vir mense wat nie in die boodskap geglo het nie sê dat hulle sondes nie vergewe is nie en dat hulle veroordeel is in God se oë.


“As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou.”   JOHANNES 20:23 AFR53


 

31 Augustus 2023


JOHANNES 20:24 AFR53

“En Thomas wat genoem word Dídimus, een van die twaalf, was nie saam met hulle toe Jesus gekom het nie.”


Johannes bevestig ook dat Thomas nie teenwoordig was toe Jesus die eerste keer, op die eerste dag van die week, aan die disippels verskyn het nie.


Toe die disippels wel vir Thomas sien, vertel hulle opgewonde vir hom dat Jesus lewe en dat hulle Hom gesien het. Thomas egter sê dat hy eers sal glo as hy die merke van die spykers in Jesus se hande en sy sien, en die gate voel.


“Die ander dissipels sê toe vir hom: Ons het die Here gesien! Maar hy het vir hulle gesê: As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.”   JOHANNES 20:25 AFR53


Agt dae later verras Jesus die klomp weer. Hy verskyn deur die muur van ‘n geslote vertrek.


“En agt dae daarna was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. En Jesus het gekom terwyl die deure gesluit was, en het in hul midde gestaan en gesê: Vrede vir julle!”   JOHANNES 20:26 AFR53


Jesus praat die keer direk met Thomas en sê dat hy sy hande in Jesus se sy en hande moet steek. Thomas se antwoord is: My Here en my God!


“Daarna sê Hy vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig. En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!”   JOHANNES 20:27-28 AFR53


Salig is hulle wat glo sonder om te sien!


“Jesus sê vir hom: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.”   JOHANNES 20:29 AFR53


Johannes vertel dat dit vir hom onmoontlik was om al die tekens wat Jesus gedurende Sy lewe gedoen het op te skryf. Maar, dit wat hy wel neergeskryf het, moet genoegsaam wees vir elkeen wat lees om te kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God.


“Nog baie ander tekens het Jesus voor sy dissipels gedoen wat in hierdie boek nie beskrywe is nie; maar hierdie is beskrywe, dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam.”   JOHANNES 20:30-31 AFR53


 

1 September 2023


JOHANNES 21:1 AFR53

“Na hierdie dinge het Jesus weer aan sy dissipels verskyn by die see van Tibérias, en Hy het só verskyn:”


Die see van Tiberias word ook genoem die see van Galilea - soos ons in Johannes 6 sien.


“Hierna het Jesus na die oorkant van die See van Galilea toe gegaan, wat ook die See van Tiberias genoem word.”   JOHANNES 6:1 AFR83


Jesus het vir die vrouens aan wie Hy verskyn het na Sy opstanding gesê: Sê vir die disippels om na Galilea te gaan, hulle sal My daar kry, en dit is presies waar Jesus hulle nou gaan sien.


“en gaan haastig, sê vir sy dissipels: Hy het opgestaan uit die dode en gaan voor julle uit na Galiléa. Daar sal julle Hom sien. Kyk, ek het julle dit gesê.”    MATTHÉÜS 28:7 AFR53


Die klomp disippels wat bymekaar is besluit om vis te gaan vang op die see van Tiberias, maar daardie nag vang hulle niks nie.


“Daar was bymekaar Simon Petrus en Thomas wat Dídimus genoem word, en Natánael van Kana in Galiléa en die seuns van Sebedéüs en twee ander van sy dissipels. Simon Petrus sê vir hulle: Ek gaan visvang. Hulle sê vir hom: Ons gaan ook saam met jou. En hulle het uitgegaan en dadelik in die skuit geklim, en in daardie nag het hulle niks gevang nie.”   JOHANNES 21:2-3 AFR53


Dit word dag en ‘n man op die strand vra vir die klomp in die skuit of hulle enige vis gevang het, waarop hulle negatief antwoord. Hulle besef nie dat die man eintlik Jesus is nie. Jesus sê hulle moet die net aan die regterkant van die skuit uitgooi om die visse te vang. Hulle vang toe so baie vis dat hulle nie in staat was om die net in te trek nie. Voorwaar ‘n wonderwerk!


“En toe dit al dag geword het, staan Jesus op die strand; maar die dissipels het nie geweet dat dit Jesus was nie. En Jesus sê vir hulle: My kinders, het julle nie iets om te eet nie? Hulle antwoord Hom: Nee. En Hy sê vir hulle: Gooi die net aan die regterkant van die skuit, en julle sal kry. Hulle het toe gegooi en deur die menigte van visse was hulle nie meer in staat om dit te trek nie.”   JOHANNES 21:4-6 AFR53


Die disippels besef dat Jesus met hulle praat en hulle gaan haastig na Hom toe.


“Daarop sê die dissipel — die een vir wie Jesus liefgehad het — aan Petrus: Dit is die Here! En toe Simon Petrus hoor dat dit die Here is, gord hy sy bo-kleed om — want hy was naak — en werp homself in die see. Maar die ander dissipels het met die skuitjie gekom en die net met die visse gesleep; want hulle was nie ver van die land nie, maar omtrent tweehonderd el.”   JOHANNES 21:7-8 AFR53


 

2 September 2023


JOHANNES 21:9 AFR53

“En toe hulle geland het, sien hulle 'n koolvuur op die grond en vis daarop lê, en brood.”


Vis en brood vir ontbyt. Laat ons terug dink aan Jesus se wonderwerk toe hy die skares gevoed het met vyf brode en twee vissies. Daar was hierdie oggend ‘n hele paar wonderwerke wat Jesus stil stil vir die disippels gedoen het.


“Jesus sê vir hulle: Bring van die visse wat julle nou gevang het. Simon Petrus het in die skuit geklim en die net op die land getrek, vol groot visse, honderd-drie-en-vyftig in getal; en alhoewel daar so baie was, het die net nie geskeur nie.”   JOHANNES 21:10-11 AFR53


Petrus word wonderbaarlike krag gegee om die net vol groot visse op die land te trek. Dieselfde net vol visse wat almal op die skuit in vers 6 nie in staat was om te trek nie. Die vangs was ook net groot visse, waar ‘n normale vangs sou bestaan uit groot en klein visse.


“En Hy sê vir hulle: Gooi die net aan die regterkant van die skuit, en julle sal kry. Hulle het toe gegooi en deur die menigte van visse was hulle nie meer in staat om dit te trek nie.”   JOHANNES 21:6 AFR53


Die volgende wonderwerk was die feit dat die net nie geskeur het toe Petrus dit vol met die visse op die land getrek het nie.


“Jesus sê vir hulle: Kom eet! En niemand van die dissipels het gewaag om Hom te vra: Wie is U nie? omdat hulle wis dat dit die Here was.”   JOHANNES 21:12 AFR53


Jesus nooi die disippels om saam met Hom te eet. Hulle ‘weet’ dit is Jesus as gevolg van die wonderwerke wat hulle beleef het die oggend, maar hulle durf nie vir Hom vra om dit te bevestig nie.


Die woord ‘koolvuur’ word net hier en in Johannes 18:18 gebruik waar Petrus vir Jesus verloën het.

“En die diensknegte en die dienaars het by 'n koolvuur gestaan wat hulle gemaak het — want dit was koud — en hulle het hul warm gemaak. En Petrus het by hulle gestaan en hom warm gemaak.”   JOHANNES 18:18 AFR53


Die hele toneel is ontwerp om Petrus se gewete wakker te maak en sy oë oop te maak. Die visvangs sou hom herinner aan sy vorige besluit om alles te verlaat en Christus te volg. Die kole vuur sou hom terugvoer na sy ontkenning van Jesus. Die ligging – die See van Galilea – sou hom herinner aan sy verskeie vorige ervarings met Jesus: om die 5,000 te voed, op die water te loop,  die storm wat stilgemaak is, ens.


Hulle is bang om nader te kom, daarom kom Jesus na hulle toe. Natuurlik is dit nie die vis wat pas gevang is nie, en niks word vir ons vertel oor hoe dit voorsien is nie. Die kos is 'n geskenk van die Here aan sy dissipels.


“En Jesus het gekom en die brood geneem en dit aan hulle gegee, en so ook die vis.”   JOHANNES 21:13 AFR53


Volgens Johannes was hierdie die derde keer dat Jesus aan die dissipels verskyn het.


“Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy opgestaan het uit die dode.”   JOHANNES 21:14 AFR53


 

3 September 2023


JOHANNES 21:15 AFR53

“Toe hulle dan klaar was met die môre-ete, vra Jesus vir Simon Petrus: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Laat my lammers wei.”


Jesus vra vir Petrus ‘n vraag en spreek hom aan as Simon Petrus, sy naam voor hy Jesus begin volg het.


“En hy het hom na Jesus gelei. Toe kyk Jesus hom aan en sê: Jy is Simon, die seun van Jona; jy sal genoem word Céfas, wat vertaal word Petrus.”   JOHANNES 1:43 AFR53


Jesus vra hom: Het jy My waarlik lief?

- Jesus gebruik agapao wat beteken om innig lief te he.


Petrus antwoord: Ja Here, U weet dat ek U lief het.

- Petrus gebruik phileo wat beteken vriendskaplike liefde.


Jesus sê dan: Laat My lammers wei - wat beteken dat Petrus Jesus se volgelinge moet versorg. Lammers dui volgelinge aan wat nuut in die geloof is en dus kwesbaar is en versorging nodig het.



Vir ‘n tweede keer vra Jesus dieselfde vraag.


“Hy vra hom weer die tweede maal: Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief? Hy antwoord Hom: Ja, Here, U weet dat ek U liefhet. Hy sê vir hom: Pas my skape op.”   JOHANNES 21:16 AFR53


Jesus vra hom: Het jy My waarlik lief?

- Jesus gebruik weer agapao wat beteken om innig lief te he.


Petrus antwoord: Ja Here, U weet dat ek U lief het.

- Petrus gebruik ook weer phileo wat beteken vriendskaplike liefde.


Jesus sê dan: Pas My skape op - wat beteken dat Petrus Jesus se volgelinge moet oppas as ‘n toesighouer. ‘n Herder vir God se kudde wat onder sy sorg is.



Vir ‘n derde keer vra Jesus dieselfde vraag.


“Hy vra hom die derde maal: Simon, seun van Jona, het jy My lief? Petrus het bedroef geword, omdat Hy hom die derde maal vra: Het jy My lief? En hy antwoord Hom: Here, U weet alles, U weet dat ek U liefhet. Jesus sê vir hom: Laat my skape wei.”   JOHANNES 21:17 AFR53


Jesus vra hom: Het jy My waarlik lief?

- Jesus gebruik die keer ook phileo, net soos Petrus.


Petrus antwoord: Ja Here, U weet dat ek U lief het.

- Petrus antwoord weer phileo wat beteken vriendskaplike liefde.


Jesus sê dan: Laat My skape wei - wat beteken dat Petrus Jesus se volgelinge moet oppas, versorg en van geestelike voedsel voorsien. Van die jongste lammers tot die volgroeide skape, in voortdurende aksie om hulle siele te voed en te versorg, en hulle in die volheid van geestelike volwassenheid te bring.


 

4 September 2023


JOHANNES 21:18 AFR53

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, toe jy jonger was, het jy jouself gegord en rondgegaan waar jy wou; maar wanneer jy oud geword het, sal jy jou hande uitsteek, en 'n ander een sal jou gord en bring waar jy nie wil wees nie.”


Dit is Jesus wat hier praat en sê voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou.

Die vers word as volg uiteengesit.


Toe jy jonger was - maar, wanneer jy oud geword het

Het jy jouself gegord - sal jy jou hande uitsteek, en ‘n ander sal jou gord

en rondgegaan waar jy wou - jou bring waar jy nie wil wees nie


Jesus gee vir Petrus ‘n profesie wat beide aaklig en vertroostend is. Die beskrywing van geklee en gebring word, met uitgestrekte hande, is 'n beskrywing van ‘n kruisiging. Die volgende vers bevestig dit.


“En dit het Hy gesê om aan te dui deur hoedanige dood hy God sou verheerlik; en toe Hy dit gespreek het, sê Hy vir hom: Volg My.”   JOHANNES 21:19 AFR53


Kerktradisie dui aan dat Petrus wel gekruisig is en dat hy gevra het om onderstebo gehang te word uit respek vir Jesus se soortgelyke dood.


Alhoewel dit na 'n verskriklike lot lyk, impliseer dit iets wat Petrus bemoedigend sal vind - sy geloof sal hom nooit weer in die steek laat nie. Dit beteken nie dat Petrus perfek sou wees nie, maar dat sy passievolle begeerte om Jesus te dien die res van sy lewe sou bepaal.


Petrus draai om en sien Johannes - die dissipel wat Jesus liefgehad het - en hy vra vir Jesus. Wat van hom, hoe gaan hy sterf?


“En Petrus het hom omgedraai en die dissipel sien volg vir wie Jesus liefgehad het, die een wat by die maaltyd op sy bors geval en gesê het: Here, wie is u verraaier? Toe Petrus hom sien, vra hy vir Jesus: Here, maar wat van hom?”   JOHANNES 21:20-21 AFR53


Jesus sê dit gaan Petrus nie aan wat met ander gebeur nie, al wat hy op moet konsentreer is om Jesus te volg.


“Jesus antwoord hom: As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan? Volg jy My. Hierdie woord het toe onder die broeders uitgegaan dat daardie dissipel nie sou sterwe nie; en Jesus het nie vir hom gesê dat hy nie sou sterwe nie, maar: As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan?”   JOHANNES 21:22-23 AFR53


En so sluit Johannes sy Evangelie af. Hy noem dat hy nog baie meer sou kon skryf, maar as hy alles moes opskryf wat Jesus gedoen het sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke he nie.


“Dit is daardie dissipel wat van hierdie dinge getuig en hierdie dinge geskryf het, en ons weet dat sy getuienis waar is. En daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie. Amen.”   JOHANNES 21:24-25 AFR53


 

5 September 2023


MATTHÉÜS 28:16 AFR53

“En die elf dissipels het na Galiléa gegaan, na die berg waar Jesus hulle bestel het.”


Mattheus vertel ook dat die elf na Galilea gegaan het soos Jesus hulle deur die vrouens beveel het. Hulle het na ‘n spesifieke berg gegaan in Galilea waar Jesus hulle bestel het. Hulle het Hom gesien en Hom aanbid, alhoewel sommiges nog getwyfel het.


“En toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid; maar sommige het getwyfel.”   MATTHÉÜS 28:17 AFR53


Jesus berispe tog die wat nog ongelowig is. Hulle het Hom na Sy opstanding gesien en nog steeds is hul ongelowig? Hulle moes van beter geweet het!


“Later het Hy aan die elf self verskyn toe hulle aan tafel was, en Hy het hulle hul ongeloof en hardheid van hart verwyt, omdat hulle die wat Hom ná sy opstanding gesien het, nie geglo het nie.”   MARKUS 16:14 AFR53


Die hele Mattheus-evangelie beklemtoon die gesag van Jesus Christus. Daar was gesag in Sy lering, Hy het gesag uitgeoefen in genesing, en selfs in die vergewing van sondes. Hy het gesag oor Satan gehad, en Hy het daardie gesag aan Sy Apostels gedelegeer. Aan die einde van sy Evangelie het Mattheus dit duidelik gemaak dat Jesus ALLE gesag het.


“En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.”   MATTHÉÜS 28:18 AFR53


Jesus gee vir Sy disippels ‘n laaste opdrag, die Groot Opdrag aan elkeen van ons ook. Beweeg uit en maak disippels van al die nasies. Doop hulle in die Naam van die Vader, en die Seun, en die Heilige Gees. Leer elkeen van die mense om alles te onderhou wat Ek julle geleer het!


“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”   MATTHÉÜS 28:19 AFR53


Markus gee meer inlingting. Vir die wat glo sal hierdie tekens volg: In die Naam van Jesus sal hulle duiwels uitdryf, in nuwe tale spreek, ‘n slang byt of gif sal hulle geen kwaad aandoen nie en siekes sal gesond word.


“En vir die wat geglo het, sal hierdie tekens volg: in my Naam sal hulle duiwels uitdryf, met nuwe tale sal hulle spreek, slange sal hulle opneem; en as hulle iets dodeliks drink, sal dit hulle geen kwaad doen nie; op siekes sal hulle die hande lê, en hulle sal gesond word.”   MARKUS 16:17-18 AFR53


Jesus sê dat Hy met elkeen is tot aan die voleinding van die wêreld. Dit is dus met elkeen van ons ook.


“En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen.”   MATTHÉÜS 28:20 AFR53


 

6 September 2023


LUKAS 24:50 AFR53

“En Hy het hulle uitgelei tot by Betánië. En Hy het sy hande opgehef en hulle geseën.”


Ons eindig hierdie Bybelstudie waar ons begin het - in Betanië, naby die Olyfberg.


“En toe hulle naby Jerusalem kom, by Bétfagé en Betánië, aan die Olyfberg, stuur Hy twee van sy dissipels uit”.  MARKUS 11:1 AFR53


Veertig dae na Sy opstanding het Jesus Sy elf dissipels bymekaargemaak om vir hulle hul finale instruksies te gee voordat Hy die aarde verlaat het. Hy het hulle na die Olyfberg geneem, in die omgewing van Betanië, waar Hy hulle geseën het.


“En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle geskei en is in die hemel opgeneem.”   LUKAS 24:51 AFR53


“Nadat die Here dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die regterhand van God.”   MARKUS 16:19 AFR53


Die dissipels keer terug na Jerusalem met groot blydskap. Hulle was hierna gedurig in die tempel om God te prys.


“En hulle het Hom aanbid en na Jerusalem teruggegaan met groot blydskap. En hulle was gedurig in die tempel en het God geprys en gedank. Amen.”   LUKAS 24:52-53 AFR53


Hulle het geluister, en dit wat Jesus hulle geleer het oral verkondig, met tekens wat hul woorde bevestig het.


“Maar hulle het uitgegaan en oral gepreek, en die Here het saamgewerk en die woord bevestig deur die tekens wat daarop gevolg het. Amen.”   MARKUS 16:20 AFR53


Sagaria het 'n opwindende toekoms vir Betánië geprofeteer.


“En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot 'n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide.”   SAGARÍA 14:4 AFR53


Wanneer Jesus terugkeer om Sy koninkryk op te rig, sal dit na die einste plek wees wat Hy verlaat het - die Olyfberg naby Betanië. Al was die antieke dorpie Betanië dalk klein en oënskynlik onbeduidend, sal dit die toneel wees van ’n wêreldveranderende gebeurtenis: die glorieryke wederkoms van Jesus Christus as Koning van die Konings en Here van die Here.


“Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was 'n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos 'n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het 'n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met 'n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar 'n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.”   OPENBARING 19:11-16 AFR53


 

18 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page