top of page
  • Regina Torre

want so lief …..

Updated: Aug 19, 2023


3 Julie 2023


JOHANNES 12:1 AFR53

“En Jesus het ses dae voor die pasga na Betánië gekom waar Lasarus was, wat dood gewees het en wat Hy uit die dode opgewek het.”


Ons volgende Bybelstudie behels Jesus se laaste week tot en met Sy hemelvaart.


8 Nisan - ses dae voor Paasfees. Jesus is in Betanië waar Lasarus was, en is oppad na Jerusalem.


Die Pasga is een van die drie feeste waar elke weerbare man deur die Wet vereis was om na Jerusalem te gaan.


“Drie maal in die jaar moet al jou manne voor die aangesig van die Here jou God verskyn op die plek wat Hy sal uitkies; op die fees van die ongesuurde brode en op die fees van die weke en op die huttefees; en hulle mag nie met leë hande voor die aangesig van die Here verskyn nie;”   DEUTERONÓMIUM 16:16 AFR53


Hierdie was ‘n seisoen van vreugde vir die Jode, maar van spanning vir die Romeine. Duisende toegewyde Jode van regoor die wêreld het in die Heilige Stad byeengekom, gevul met opgewondenheid en nasionalistiese ywer.


Die bevolking in Jerusalem het meer as verdriedubbel, en die Romeinse weermag is paraat vir enige gebeurlikheid. Sommige geleerdes skat dat meer as 'n miljoen mense die stad moontlik besoek het. Josephus teken aan dat in 65 n.C. meer as 255,000 lammers geoffer is - as daar tien offeraars vir elke lam was, sou daar meer as 2,5 miljoen feesvierders in Jerusalem wees.


Ongeëwenaarde spanning was in die lug; onluste of opstande kan 'n hele Romeinse loopbaan verwoes...


Jesus is ongeveer 33 jaar oud en hierdie Paasfees gaan Sy volgelinge se lewens radikaal verander.


‘n Pond egte nardussalf - ‘n duur essensiële olie met vele gebruike. Onder andere om wyn te geur en blykbaar ook gebruik om hul dooies te begrawe. Omdat nardus as 'n olie en/of salf vervaardig is, sou dit meer poeieragtige stowwe soos mirre aan die liggaam laat kleef in die balsem proses.


Maria gebruik duur nardus olie om Jesus se voete te salf in voorbereiding van Sy dood.


“En Maria het 'n pond egte, baie kosbare nardussalf geneem en die voete van Jesus gesalf en sy voete afgedroog met haar hare. En die huis is vervul met die reuk van die salf.”   JOHANNES 12:3 AFR53


Judas word nou in die prentjie ingebring en word uitgewys as: die een wat Hom (Jesus) sou verraai. Sy ware kleure as ‘n dief en verraaier word hier blootgestel, maar niemand let op nie!


“Toe sê een van sy dissipels, Judas Iskáriot, die seun van Simon, wat Hom sou verraai: Waarom is hierdie salf nie vir driehonderd pennings verkoop en die geld aan die armes gegee nie? En dit het hy gesê, nie omdat hy oor die armes besorg was nie, maar omdat hy 'n dief was en die beurs gehad het en die bydraes geneem het.”   JOHANNES 12:4-6 AFR53


Jesus vertel Judas om Maria uit te los, want sy het die olie bewaar vir Sy begrafnis. Nog steeds besef niemand wat daar is, wat Jesus sê nie.


“Toe sê Jesus: Laat haar staan; sy het dit bewaar vir die dag van my begrafnis. Want die armes het julle altyd by julle, maar My het julle nie altyd nie.”   JOHANNES 12:7-8 AFR53


 

4 Julie 2023


SAGARÍA 9:9 AFR53

“Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en 'n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op 'n esel — op 'n jong esel, die vul van 'n eselin.”


Sagaria gee ‘n bemoedigende profesie aan God se volk - hul Messias en Koning kom na hulle toe!


Die engel Gabriel gee vir Daniel die presiese tyd wanneer Jesus soos in Sagaria se profesie, Jerusalem as Koning sal ingaan.


“Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op 'n Gesalfde, 'n Vors, is sewe sewetalle; en twee-en-sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid.”   DANIËL 9:25 AFR53


Van die dag dat Kores die bevel gee om Jerusalem te herbou tot op ‘n gesalfde, of die dag wat Jesus in Jerusalem ingaan as ‘n koning, is 7 sewetalle + 62 sewetalle.


Dit is vir doeleindes van hierdie studie nie nodig om die presiese dae uit te werk nie. Ons kan net daarop staatmaak dat Jesus wel geweet het van watter dag Daniel gepraat het, en Jesus het beplan om op die spesifieke dag Jerusalem in te gaan op ‘n esel.


Vroeër tydens Jesus se bediening het hulle probeer om Hom te voor te keer en hom as koning voor te stel, maar Hy het weggegaan.


“En toe Jesus merk dat hulle wou kom en Hom met geweld neem om Hom koning te maak, het Hy weer weggegaan na die berg, Hy alleen.”   JOHANNES 6:15 AFR53


Kajafas wat die jaar die hoëpriester was, profeteer ook dat Jesus sou sterf.


“En een van hulle, Kájafas, wat daardie jaar hoëpriester was, sê vir hulle: Julle weet niks nie en dink nie daaraan dat dit vir ons voordelig is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie omkom nie. En dit het hy nie uit homself gesê nie; maar omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die volk sou sterwe.”   JOHANNES 11:49-51 AFR53


Die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge van die volk het beplan om Jesus gevange te neem en dood te maak maar nie op 'n feesdag nie. Hulle wou nie he die volk moes in oproer kom nie.


“Toe kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge van die volk bymekaar in die paleis van die hoëpriester wat Kájafas genoem word, en hou saam raad om Jesus met lis gevange te neem en om die lewe te bring. Maar hulle het gesê: Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie.”   MATTHÉÜS 26:3-5 AFR53


Dan, een spesifieke dag, laat Jesus dit nie net toe nie - hy reël dit! Jesus het die tydsberekening beheer.


 

5 Julie 2023


MARKUS 11:1 AFR53

“En toe hulle naby Jerusalem kom, by Bétfagé en Betánië, aan die Olyfberg, stuur Hy twee van sy dissipels uit”


10 Nisan - vier dae voor Paasfees. Jesus is buite Jerusalem en Hy stuur twee van Sy dissipels uit om ‘n eselvul wat vasgemaak is, vir Hom te gaan haal. Toe die omstaanders vra wat hulle doen, sê hulle dat Jesus die esel nodig het, en hulle word toegelaat om die esel vir Jesus te neem. So asof daar vooraf reëlings getref is!


“En hulle het gegaan en die vul by die deur, buite op die straat, vasgemaak gevind en hom losgemaak. Daarop sê sommige van die wat daar staan, vir hulle: Wat maak julle dat julle die vul losmaak? En hulle antwoord hul soos Jesus beveel het. Toe laat hulle hul begaan.”   MARKUS 11:4-6 AFR53


Net soos elke Joodse familie op 10 Nisan ‘n paaslam moet uitsoek vir inspeksie deur die priester, so gaan Jesus op 10 Nisan Homself voorstel as ons Paaslam en Hy sal ook vir vier dae onder inspeksie wees. Jesus gaan Homself voorstel as die Messias en Koning, ooreenkomstig die Ou Testament profesieë van Sagaria en Daniel.


Die dissipels sit hul hul klere op die esel, en Jesus ry Jerusalem binne met wat ons ken as die inttog in Jerusalem


“En hulle het die vul na Jesus gebring en hulle klere daarop gelê, en Hy het op hom gaan sit.”   MARKUS 11:7 AFR53


Die omstaanders sien wat gebeur en gee vir Jesus ‘n koninklike verwelkoming eg aan die gewoonte van daardie tyd. Hulle gooi hul klere op die pad en ander sit palm takke op die pad.


“Toe gooi baie mense hulle klere op die pad oop, en ander kap takke van die bome af en strooi dit op die pad.”   MARKUS 11:8 AFR53


Die mense wat voor geloop het begin sing en hulle roep uit: Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!


“En die wat voor geloop en die wat gevolg het, het uitgeroep en gesê: Hosanna! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Geseënd is die koninkryk wat kom in die Naam van die Here, die koninkryk van ons vader Dawid! Hosanna in die hoogste hemele!”   MARKUS 11:9-10 AFR53


Enige tyd wat ons, as nie-Jode, die volle betekenis van 'n gebeurtenis mis, blyk dit dat die Fariseërs tot ons redding kom! Wanneer hulle erg ontsteld is oor iets, moet ons gaan ondersoek instel oor hoekom hulle ontsteld is!


Die Fariseërs besef ook dat Jesus profesie vervul, maar hulle erken nie vir Jesus as die Messias nie, daarom dat hulle omgekrap is. Hulle vra Jesus om Sy disippels te bestraf, maar Jesus weier. Jesus antwoord dat as Sy dissipels sou swyg, die klippe wel sou uitroep!


“En sommige van die Fariseërs uit die skare sê vir Hom: Meester, bestraf u dissipels! En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep.”   LUKAS 19:39-40 AFR53


Na ‘n lang en gebeurtenisvolle dag in Jerusalem gaan Jesus en Sy disippels terug na Betanië vir die aand.


“En Jesus het in Jerusalem gekom en in die tempel. En nadat Hy alles rondom bekyk het, en omdat dit al aand was, het Hy met die twaalf uitgegaan na Betánië.”   MARKUS 11:11 AFR53


 

6 Julie 2023


MARKUS 11:12 AFR53

“En die volgende dag, onderwyl hulle uit Betánië gaan, het Hy honger gehad;”


11 Nisan - drie dae voor Paasfees. Die volgende dag vertrek Jesus en Sy dissipels uit Betanië terug na Jerusalem. Jesus is honger en Hy sien op ‘n afstand ‘n vyeboom se blare en loop soontoe in afwagting om vye te pluk.


Die vrugte van die vyeboom verskyn oor die algemeen voor die blare, en omdat die vrugte groen is, kamoefleer dit met die groen blare totdat dit amper ryp is. Toe Jesus en Sy dissipels op 'n afstand sien dat die boom blare het, het hulle verwag dat dit ook vrugte sou hê. Die boom dra egter geen vrugte nie en Jesus vervloek die boom sodat niemand ooit van hom sal eet nie.


“en toe Hy op 'n afstand 'n vyeboom met blare sien, het Hy daarheen gegaan in die hoop om iets daaraan te vind; en toe Hy daarby kom, vind Hy niks as blare nie, want dit was nie die tyd van vye nie. En Jesus spreek en sê vir hom: Laat niemand ooit in der ewigheid van jou 'n vrug eet nie! En sy dissipels het dit gehoor.”   MARKUS 11:13-14 AFR53


Om te aanvaar dat Jesus die vyeboom vervloek het omdat Hy ‘hangry’ is, sou tot gevolg he dat die profetiese boodskap in hierdie teks gemis word.

Die werklikheid was dat hierdie vloek wat op die vyeboom geplaas is, 'n profesie was van God se naderende oordeel oor Israel wat ten volle in 70 n.C. gerealiseer sou word waar die tempel afgebrand en Jerusalem deur die Romeinse soldate oorgeneem is.


Dit laat 'n groter vraag ontstaan: Waarom die vyeboom vervloek en nie 'n ander boom nie? Wat was die betekenis van die vyeboom? Die vyeboom is ‘n prentjie van Israel. Die vrugte wat die boom nie gedra het nie, was ‘n prentjie van die geestelike agteruitgang van God se volk.


Aangekom in Jerusalem, loop Jesus direk na die tempel en Hy begin om die wat in die tempel koop en verkoop uit te jaag. Hy keer die geldwisselaars se tafels om en gooi die duiweverkopers se stoele om.


“En hulle het in Jerusalem gekom; en toe Jesus in die tempel ingaan, begin Hy om die wat in die tempel verkoop en koop, uit te jaag; en die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers het Hy omgegooi; en Hy het niemand toegelaat om enige voorwerp deur die tempel te dra nie.”   MARKUS 11:15-16 AFR53


Wat was die doel van die geldwisselaars en duiweverkopers?

Elke persoon twintig jaar of ouer moes volgens Joodse wet ‘n halfsikkel offergawe gee aan die tempel tydens hul besoek. Met groot feeste soos Paasfees sou Jode van oral af kom om die fees by te woon. Die besoekers moes hul geldeenheid omruil vir Joodse geld en dit is waar die geldwisselaars ingekom het. Natuurlik teen enorme fooie omdat die aanvraag groot was.


Die duiwe en ander verkopers het dieslefde benadering gevolg. Besoekers wat nie hul eie offerdiere kon saambring nie, moes by die tempelverkopers gaan koop.

Die vereiste vir diereoffers was dat die diere vir enige gebreke en letsels ondersoek moes word.

As vlekke bespeur is, is die dier afgekeur en dan moes jy 'n behoorlike offer van die verkopers koop. Die diere is natuurlik ook teen ‘n goeie wins aan die tempelgangers verkoop.


Jesus het die mense geleer dat die tempel ‘n huis van gebed is en nie ‘n rowerspelonk nie. Die skrifgeleerdes en owerpriesters was nie gelukkig nie, en het planne beraam om Jesus dood te maak. Jesus het toe dit laat word uitgegaan buite die die stad.


“En Hy het geleer en vir hulle gesê: Is daar nie geskrywe: My huis moet 'n huis van gebed genoem word vir al die nasies nie? Maar julle het dit 'n rowerspelonk gemaak. En die skrifgeleerdes en die owerpriesters het dit gehoor en gesoek hoe hulle Hom kon ombring; want hulle was bang vir Hom, omdat die hele skare verslae was oor sy leer. En toe dit laat word, het Hy uitgegaan buitekant die stad.”   MARKUS 11:17-19 AFR53


 

7 Julie 2023


MARKUS 11:20 AFR53

“En toe hulle vroeg in die môre verbygaan, sien hulle die vyeboom, verdroog van die wortels af.”


12 Nisan - twee dae voor Paasfees. Jesus en Sy disippels loop weer die oggend verby die vyeboom wat Jesus die vorige dag vervloek het. Petrus merk op dat die boom presies gedoen het wat Jesus dit beveel het om te doen. Jesus het met die wortels van die vyeboom wat opgedroog het, Israel se geestelike verval aan Sy disippels gedemonstreer.


“En Petrus het onthou en vir Hom gesê: Rabbi, kyk, die vyeboom wat U vervloek het, is verdroog.”   MARKUS 11:21 AFR53


Jesus is weer in Jerusalem en Hy is in die tempel besig om die mense te leer en die strikvrae van die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge te beantwoord.


Die debatte wat in die volgende verse opgeteken is, het almal op hierdie een besige dag plaasgevind.


1) Die bron van Jesus se gesag

2) Die gelykenis van die landbouers

3) Die vraag oor belasting

4) Die opstanding

5) Die grootste gebod

6) Die Christus, seun van Dawid

7) Die aalmoes van die arm weduwee


1) Die bron van Jesus se gesag


“en sê vir Hom: Deur watter gesag doen U hierdie dinge, en wie het U dié gesag gegee om dit te doen?”   MARKUS 11:28 AFR53


Die amptenare het verwys na Jesus se reiniging van die tempel die vorige dag. Daar is gesê dat die tempel slegs deur die Sanhedrin, deur 'n profeet of deur die Messias gereinig kan word. As amptelike voogde van die Wet het die lede van die Sanhedrin beide die reg en die verantwoordelikheid gehad om enigiemand te ondersoek wat beweer dat hulle deur God gestuur is, maar hulle het nie suiwer motiewe gehad nie, hulle het redes gesoek om Jesus te vernietig.


Jesus antwoord hulle vraag met ‘n teenvraag wat hulle nie wil antwoord nie.


“En Jesus antwoord en sê vir hulle: Ek sal julle ook een ding vra, en antwoord julle My, dan sal Ek julle vertel deur watter gesag Ek hierdie dinge doen. Die doop van Johannes, was dit uit die hemel of uit mense? Antwoord My. En hulle het by hulleself geredeneer en gesê: As ons sê: Uit die hemel — sal Hy sê: Waarom het julle hom dan nie geglo nie? Maar as ons sê: Uit mense — dan was hulle vir die volk bang, want almal het gedink dat Johannes werklik 'n profeet was. En hulle antwoord en sê vir Jesus: Ons weet nie. En Jesus antwoord en sê vir hulle: Dan vertel Ek julle ook nie deur watter gesag Ek hierdie dinge doen nie.”   MARKUS 11:29-33 AFR53


Jesus weier nie om hulle vraag te beantwoord nie, Hy het net geweier om hul skynheiligheid te aanvaar en te onderskryf.


 

8 Julie 2023


MARKUS 12:6-9 AFR53

“Hy het toe nog een seun gehad, sy geliefde, en hom die laaste na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien. Maar daardie landbouers het by hulleself gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak, en die erfdeel sal ons s’n wees. En hulle het hom geneem en doodgemaak en buitekant die wingerd uitgewerp. Wat sal die eienaar van die wingerd dan doen? Hy sal kom en die landbouers ombring en die wingerd aan ander gee.”


2) Die gelykenis van die landbouers


Aardse verhaal


Jesus vertel ‘n gelykenis van ‘n eienaar wat sy wingerd aan landbouers verhuur. Jesus konsentreer op sy seun wat doodgemaak word en wat die eienaar van die wingerd daarna doen. Die eienaar maak die landbouers dood en gee die wingerd aan ander.


Hemelse betekenis


Die eienaar is God; die landbouers is die Joodse leierskap; die seun is Jesus; en die ander mense is die ‘gentiles’, die nie-Jode of vandag se kerk. Die eienaar wat sy geliefde seun stuur is uiteraard ‘n verwysing na God wat Sy geliefde Seun Jesus stuur.


Die landbouers wat die seun wil doodmaak beskryf die komplot van die Joodse leierskap om Jesus dood te maak. Jesus vra die vraag: Wat sal die eienaar van die wingerd dan doen? Die antwoord: Hy sal kom en die landbouers ombring en die wingerd aan ander gee.”


Die profesie waar die landbouers omgebring word is vervul in 70 AD toe die tempel en Jerusalem vernietig is. Die Jode is uit Jerusalem verban en die diaspora begin met die Jode wat oral in die wêreld behalwe in hul eie land woon. Alle tempel offerhandes en aktiwiteite is gestaak, want die tempel is verwoes en sonder ‘n tempel kan daar nie offerhandes wees nie.


Die wingerd aan ander gegee – dit is die koninkryk van God wat vir ‘n wyle van die Joodse volk weggeneem is en aan die ‘gentiles’ gegee is sodat hulle kan vrugte dra.


Dit is vir my baie belangrik om uit te wys dat ons as Christene nie die Joodse volk as uitverkore volk van God vervang nie. Vervangings teologie of in engels Replacement theology, is ‘n valse leëring wat vir ons voorgehou word. God het ‘n ewige verbond, ‘n onverbreekbare verbond, met Abraham gesluit waarin Hy aan Abraham ‘n groot nageslag (waar Christene ingesluit word) en grond belowe het.


“En dít is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.”    EFESIËRS 3:6 AFR83


Die Joodse leierskap wou Jesus doodmaak, maar hulle was bang vir die skare. Hulle het besef dat die gelykenis op hulle gerig was, en het Jesus verlaat en weggegaan.


“En hulle het probeer om Hom in die hande te kry, maar was bang vir die skare, want hulle het begryp dat Hy die gelykenis met die oog op hulle uitgespreek het. Daarop het hulle Hom verlaat en weggegaan.”   MARKUS 12:12 AFR53


 

9 Julie 2023


MARKUS 12:14 AFR53

“En hulle kom en sê vir Hom: Meester, ons weet dat U waaragtig is en U aan niemand steur nie; want U sien nie die persoon van mense aan nie, maar U leer die weg van God in waarheid. Is dit geoorloof om aan die keiser belasting te betaal of nie? Moet ons betaal of moet ons nie betaal nie?”


3) Die vraag oor belasting


Die vrae wat gevra word klink so eerbaar en stroperig, maar die vorige vers wys wie dit vra en hul motiewe. Die Fariseers en die Herodiane is gestuur om Jesus vas te vra.


“Toe stuur hulle na Hom sommige van die Fariseërs en van die Herodiane om Hom op 'n woord te betrap.”   MARKUS 12:13 AFR53


Die Herodiane het die Herodes familie ondersteun en ook die Romeine wat aan hulle die mag gegee het om te regeer.


Die Fariseërs het die Herodes-familie beskou as bose oortreders van die troon van Dawid, hulle het nie van mekaar gehou nie.


Die Fariseërs het die belasting wat die Romeine aan Judea opgelê het teengestaan ​​en die teenwoordigheid van die Romeine in hul land het hulle gegrief.


Hier egter besluit die twee groepe om saam te staan om vir Jesus ‘n strik te stel. Hulle was seker dat Jesus se antwoord aanstoot sou gee aan óf die Joodse bevolking óf die Romeinse leierskap!


Maar Jesus laat nie met Hom gespeel word nie en daag hulle uit.


“Maar Hy het hulle geveinsdheid geken en vir hulle gesê: Waarom versoek julle My? Bring vir My 'n penning, dat Ek dit kan sien.”   MARKUS 12:15 AFR53


Jesus antwoord Sy teenstaanders briljant. Betaal aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom! Jesus se teenstaanders was stom van verbasing - hulle komplot het misluk.


“En hulle het dit gebring. En Hy sê vir hulle: Wie se beeld en opskrif is dit? En hulle antwoord Hom: Die keiser s'n. Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Betaal aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom. En hulle was verwonderd oor Hom.”   MARKUS 12:16-17 AFR53


 

10 Julie 2023


MARKUS 12:18 AFR53

“Toe kom daar Sadduseërs na Hom, die wat sê dat daar geen opstanding is nie, en hulle vra Hom en sê:”


4) Die opstanding


Die Sadduseërs het nie geglo in die bestaan ​​van die siel, lewe na die dood, die opstanding, finale oordeel, engele of demone nie. Hulle het egter die Torah, die boeke van Moses, aanvaar.


“Want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding is nie, ook geen engel of gees nie; maar die Fariseërs bely albei.”   HANDELINGE 23:8 AFR53


Hulle vra nou vir Jesus ‘n hipotetise vraag gebaseer op die levitiese wet rakende die huwelik van ‘n weduwee met die broer van haar oorlede man.


“Meester, Moses het ons voorgeskrywe: As iemand se broer sterwe en 'n vrou agterlaat en geen kinders nalaat nie, moet sy broer sy vrou neem en kinders vir sy broer verwek.”   MARKUS 12:19 AFR53


Hierdie was ‘n gebruik wat beoefen is in die antieke Joodse samelewing.


“As broers bymekaar woon en een van hulle sterwe sonder dat hy 'n seun het, dan mag die vrou van die oorledene nie daarbuite 'n vreemde man s'n word nie; haar swaer moet by haar ingaan en haar as sy vrou neem en die swaershuwelik met haar sluit; en die eersgeborene wat sy baar, moet staan op naam van sy oorlede broer, dat sy naam nie uit Israel uitgedelg word nie.”   DEUTERONÓMIUM 25:5-6 AFR53


Die Sadduseërs se moeilikheid het geheel en al ontstaan ​​uit 'n vleeslike idee dat die verhoudings van hierdie lewe in 'n ander voortgesit moet word.


“Nou was daar sewe broers, en die eerste het 'n vrou geneem en gesterwe sonder om kinders na te laat. En die tweede het haar geneem en gesterwe, en hy het ook geen kinders nagelaat nie; en die derde net so. En al sewe het haar geneem en geen kinders nagelaat nie. Laaste van almal het die vrou ook gesterwe. In die opstanding dan, wanneer hulle opstaan, wie van hulle se vrou sal sy wees? — want al sewe het haar as vrou gehad.”   MARKUS 12:20-23 AFR53


Jesus berispe die Sadduseërs en sê dat hulle dwaal omdat hulle die Skrifte en God se krag nie ken nie. God se krag word nie deur die dood beperk nie, na die dood is die mens soos engele en engele trou nie. Jesus toon aan die Sadduseërs dat die opstanding uit die dood wel gaan gebeur, en dat engele beslis bestaan.


“En Jesus antwoord en sê vir hulle: Is dit nie daarom dat julle dwaal dat julle die Skrifte en ook die krag van God nie ken nie? Want wanneer hulle uit die dode opstaan, trou hulle nie en word hulle nie in die huwelik uitgegee nie, maar is soos engele wat in die hemele is.”   MARKUS 12:24-25 AFR53


Jesus gaan ook terug na Moses soos die Sadduseërs. God het by die doringbos vir Moses gesê Hy is (en nie was nie) die God van Abraham en Isak en Jakob. Hulle lewe dus (na die dood) want God is nie 'n God van dooies nie, maar 'n God van lewendes.


“En wat die dode betref, dat hulle opstaan — het julle nie gelees in die boek van Moses, in die gedeelte oor die doringbos, hoe God vir hom gesê het: Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob nie? God is nie 'n God van dooies nie, maar 'n God van lewendes. Julle dwaal dus grootliks.”   MARKUS 12:26-27 AFR53


 

11 Julie 2023


MARKUS 12:28 AFR53

“En toe een van die skrifgeleerdes wat bygekom het, hulle hoor redetwis, en wis dat Hy hulle goed geantwoord het, vra hy vir Hom: Wat is die eerste gebod van almal?”


5) Die grootste gebod


‘n Skrifgeleerde wat daar aankom het gehoor dat Jesus die vorige vraag goed geantwoord het, en hy vra ook ‘n vraag: Wat is die eerste gebod van almal?


“En Jesus antwoord hom: Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is 'n enige Here; en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod.”   MARKUS 12:29-30 AFR53


Jesus gee nie net enige antwoord nie, Hy haal die Skrif aan uit Deuteronomium.


“Hoor, Israel, die Here onse God is 'n enige Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.”   DEUTERONÓMIUM 6:4-5 AFR53


Jesus stop nie daar nie, Hy sê ook wat die tweede gebod is, wat gelyk staan aan die eerste.


“En die tweede, hieraan gelyk, is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as dié nie.”   MARKUS 12:31 AFR53


Hierdie keer gebruik Jesus ‘n aangaling uit Levitikus.


“Jy mag nie wraakgierig of haatdraend teenoor die kinders van jou volk wees nie, maar jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.”   LEVÍTIKUS 19:18 AFR53


Die skrifgeleerde het die kern van Jesus se lering onderskei en erken dat liefde vir God en liefde vir ander baie belangriker is as brandoffers en slagoffers.


“En die skrifgeleerde sê vir Hom: Goed, Meester, U het met waarheid gesê dat God een is en daar geen ander is as Hy nie; en om Hom lief te hê uit die hele hart en uit die hele verstand en uit die hele siel en uit die hele krag, en om die naaste lief te hê soos jouself, is meer as al die brandoffers en die slagoffers.”   MARKUS 12:32-33 AFR53


Toe Jesus sy antwoord hoor, prys Hy die skrifgeleerde vir sy wysheid en sê vir hom: Jy is nie ver van die koninkryk van God nie.


“Toe Jesus sien dat hy verstandig geantwoord het, sê Hy vir hom: Jy is nie ver van die koninkryk van God nie. En niemand het dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie.”   MARKUS 12:34 AFR53


Nie ver nie, maar ook nie naby nie. Die enigste ding wat hy nodig gehad het om amptelik in die koninkryk van God in te gaan, was om Jesus te volg.


Daar is dalk baie mense in hierdie wêreld wat ‘nie ver van die koninkryk van God af is nie’. Maar, totdat gelowiges die evangelie aan hulle verkondig en sulke mense help om hul geloof in Jesus te plaas, kan hierdie individue nie deel van die koninkryk van God wees nie.


 

12 Julie 2023


MARKUS 12:35 AFR53

“En terwyl Jesus in die tempel leer, antwoord Hy en sê: Hoe sê die skrifgeleerdes dat die Christus die seun van Dawid is?”


6) Die Christus, seun van Dawid


Jesus vra die mense ‘n vraag: Wat dink julle van Christus? Wie se seun is Hy?


Die skrifgeleerdes is gou om te antwoord: die Christus is Dawid se seun!


“en sê: Wat dink julle van die Christus? Wie se seun is Hy? Hulle antwoord Hom: Dawid s'n.”   MATTHÉÜS 22:42 AFR53


Die Jode het geglo dat die Messias 'n fisiese afstammeling van Dawid moes wees.


“As jou dae vol is en jy met jou vaders ontslaap het, sal Ek jou nakomeling wat uit jou liggaam sal voortkom, laat optree en sy koningskap bevestig.”   II SAMUEL 7:12 AFR53


“Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek vir Dawid 'n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land.”   JEREMIA 23:5 AFR53


Jesus het geglo in die inspirasie en akkuraatheid van die Ou Testamentiese Skrifte, want Hy het gesê dat Dawid hierdie woorde deur die Heilige Gees gespreek het.


“Want Dawid self het deur die Heilige Gees gesê: Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het 'n voetbank van u voete.”   MARKUS 12:36 AFR53


Jesus haal Psalm 110, ‘n psalm van Dawid aan. Elke Joodse geleerde het hierdie gedeelte vertolk dat dit na die Messias verwys, want net die Messias kon aan die regterhand van God sit.


“Van Dawid. 'n Psalm. Die Here het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak 'n voetbank vir u voete.”   PSALMS 110:1 AFR53


As God is die Messias Dawid se Here; as mens is Hy Dawid se Seun.


“Dawid self noem Hom dus Here; waarvandaan is Hy dan sy seun? En die groot menigte het graag na Hom geluister.”   MARKUS 12:37 AFR53


Jesus is beide die wortel en die nageslag van Dawid.


“Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.”   OPENBARING 22:16 AFR53


 

13 Julie 2023


MARKUS 12:38 AFR53

“En Hy het aan hulle in sy onderrig gesê: Pas op vir die skrifgeleerdes wat graag in lang klere rondloop en van begroetinge op die markte hou”


Die einde van hierdie hoofstuk bring Jesus se openbare bediening tot ‘n einde. Jesus is gedurende hierdie oggend intens deur die godsdienstige leiers van Israel ondervra, getoets en geinspekteer. Hul toetsing van die Lam in die tempel was uitsluitlik daarop gemik om Jesus, Sy Persoon en Sy bediening te diskrediteer. Jesus het egter amptelik aan hierdie manne bewys dat Hy Israel se vlekkelose Lam is, die Offer wat gegee moet word vir diegene wat geloof in Hom stel.


Nou, amper 48 uur van Sy komende dood af, sluit Jesus Sy openbare bediening af deur ‘n oordeel oor Israel se leiers aan te kondig.


Jesus kontrasteer die skynheilige skrifgeleerdes vir wie status en roem alles is, met hul gierige en onderduimsheid deur agteraf die weduwees in te doen.


“en van die voorste banke in die sinagoges en die voorste plekke by die maaltye — hulle wat die huise van die weduwees opeet en vir die skyn lang gebede doen. Hulle sal 'n swaarder oordeel ontvang.”   MARKUS 12:39-40 AFR53


Jesus gee vir die dissipels vyf kenmerke waaraan die skrifgeleerdes uitgeken kan word:


1. Hulle wat in lang togas rondloop om hul status vir almal te wys.

2. Hulle wat daarvan hou om in die openbaar herken te word.

3. Hulle wat altyd in die ere sitplekke heel voor in die sinagoges sit.

4. Hulle wat altyd tydens publieke funksies in die belangrikste plekke gaan sit.

5. Hulle wat agteraf die weduwees indoen i.p.v. om hulle by te staan.


Nou word Jesus se laaste debat in die tempel aangeteken.


7) Die aalmoes van die arm weduwee


Jesus gaan sit in die voorhof van die vroue by die skatkis en kyk hoe die skare hul geld daarin gooi. Die rykes was glad nie skaam om baie te gee nie. In teenstelling met die rykes het ‘n arm weduwee twee geldstukkies ingegooi. Haar bydrae was gelyk aan haar dagloon.


“En Jesus het reg voor die skatkis gaan sit en gekyk hoe die skare geld in die skatkis gooi. En baie rykes het veel ingegooi. En daar kom een arm weduwee en gooi twee geldstukkies in, dit is 'n oortjie.”   MARKUS 12:41-42 AFR53


Jesus roep Sy disspels nader en wys vir hulle wat gebeur het. Jesus merk op dat die arm weduwee meer gegee het as die rykes, want die rykes het uit hul oorvloed gegee, maar die weduwee het alles gegee wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud.


“Toe roep Hy sy dissipels na Hom en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkis gegooi het. Want hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi; maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het, haar hele lewensonderhoud.”   MARKUS 12:43-44 AFR53


Die weduwee het als gegee en vertrou dat God vir haar sal sorg; die rykes het baie gegee maar genoeg teruggehou om vir hulself te sorg.


 

14 Julie 2023


MARKUS 13:1 AFR53

“En toe Hy uit die tempel uitgaan, sê een van sy dissipels vir Hom: Meester, kyk watter klippe en watter geboue!”


Jesus verlaat die tempel deur die oostelike poort en loop na die Olyfberg. Soos hulle stap, bewonder een van die dissipels die indrukwekkende tempel.


Die tempel is beskou as een van die mees argitektoniese wonders van die antieke wêreld. Dit is deur Herodes gebou om die guns van die Joodse volk te wen, en ook om in die geskiedenis opgeskryf te word. Hierdie was die langste bouprojek wat Herodes ooit aangepak het en is nie in sy leeftyd voltooi nie.


“En die Jode sê: Ses-en-veertig jaar lank is aan hierdie tempel gebou, en U, sal U dit in drie dae oprig?”   JOHANNES 2:20 AFR53


Josephus dokumenteer in sy skrywe dat die tempel met groot wit klippe gebou is wat met goud geaksentueerd was. Dit word duidelik hoekom die dissipels so verstom was oor hierdie gebou – dit was die middelpunt, as jy wil, van die Joodse samelewing.


Jesus ignoreer die dissipels se verwondering van die tempel en konsentreer op dit wat Hy weet in die toekoms met die tempel gaan gebeur. Jesus vertel vir die dissipels dat die tempel wat hulle so bewonder afgebreek gaan word sodat nie een klip op die ander gelaat sal word nie.


Die Romeine sou dit 38 jaar later in 70 n.C. in 'n letterlike vervulling vernietig.


“En Jesus antwoord en sê vir hom: Sien jy hierdie groot geboue? Daar sal sekerlik nie een klip op die ander gelaat word wat nie afgebreek sal word nie!”   MARKUS 13:2 AFR53


Jesus en vier dissipels, Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas gaan sit op die Olyfberg, regoor die tempel. Hierdie vier disippels kry ‘n vertroulike inligtingsessie van Jesus wat ook in Mattheus 24-25 opgeteken is.


Die vier disippels vra vir Jesus twee vrae:


1) wanneer sal hierdie dinge wees, en

2) wat is die teken wanneer al hierdie dinge volbring sal wees.


“En toe Hy gaan sit het op die Olyfberg, regoor die tempel, vra Petrus en Jakobus en Johannes en Andréas Hom afsonderlik: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken wanneer al hierdie dinge volbring word?”   MARKUS 13:3-4 AFR53


 

15 Julie 2023


MARKUS 13:5 AFR53

“En Jesus antwoord hulle en begin te sê: Pas op dat niemand julle mislei nie.”


Jesus se antwoord begin met ‘n waarskuwing: Pas op dat niemand julle mislei nie!


Hoe word ons mislei en hoe moet ons oppas om nie mislei te word nie. Kom ons kyk wat sê die Woord van God. Ek het die Afr83 weergawe gebruik, want dit lees net makliker en gebruik ook die woord ‘mislei’ in plaas van ‘n alternatief.


“So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Moenie dat die profete en waarsêers daar by julle julle mislei nie. Moenie ag slaan op daardie drome wat julle so graag droom nie. Daardie mense tree sonder opdrag op as profete in my Naam. Ek het hulle nie gestuur nie, sê die Here.”   JEREMIA 29:8-9 AFR83


“Moenie dat iemand julle met allerlei onwaarhede mislei nie, want daardeur kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. Met sulke mense moet julle niks te doen hê nie. Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is.”   EFESIËRS 5:6-9 AFR83


“Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.”   1 KORINTIËRS 6:9-10 AFR83


“Moet julle nie langer laat mislei nie: “Slegte geselskap bederf goeie sedes.” Kom tot besinning en moenie langer sonde doen nie. Party van julle is sonder kennis van God. Dit sê ek tot julle skande.”   1 KORINTIËRS 15:33-34 AFR83


“Moenie julleself mislei nie: God laat nie met Hom spot nie. Wat 'n mens saai, dit sal hy ook oes. Wie op die akker van sy sondige natuur saai, sal van die sondige natuur dood en verderf oes. Maar wie op die akker van die Gees saai, sal van die Gees die ewige lewe oes. Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges.”   GALASIËRS 6:7-10 AFR83


“Pas op dat niemand julle van Hom af wegvoer deur teorieë en argumente wat misleidend is nie. Dit is dinge wat berus op die oorlewering van mense, op wettiese godsdienstige reëls en nie op Christus nie.”   KOLOSSENSE 2:8 AFR83


“Laat niemand julle op watter manier ook al mislei nie. Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die laaste afvalligheid gekom het en die wettelose mens wat vir die verderf bestem is, sy verskyning gemaak het nie. Hy sal hom verset teen al wat God genoem word of wat as heilig vereer word, en hy sal hom bo hulle verhef. Hy sal selfs in die tempel van God gaan sit en voorgee dat hy God is.”   2 TESSALONISENSE 2:3-4 AFR83


“Liewe kinders, moenie dat iemand julle mislei nie: wie regverdig lewe, is regverdig soos Hy regverdig is; wie aanhou sonde doen, behoort aan die duiwel, want die duiwel hou van die begin af aan met sondig. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak. Iemand wat 'n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly; en hy kan nie meer sondig nie, omdat hy uit God gebore is. Hiéraan is dit duidelik wie kinders van God en wie kinders van die duiwel is: iemand wat nie regverdig lewe nie en nie sy broer liefhet nie, behoort nie aan God nie.”   1 JOHANNES 3:7-10 AFR83


 

16 Julie 2023


MARKUS 13:6 AFR53

“Want baie sal onder my Naam kom en sê: Dit is ek! En hulle sal baie mense mislei.”


Moet nie enige persoon glo wat sê dat hulle Jesus is nie! Moet nie mislei word nie!


As jy nie die Woord van God bestudeer en Jesus en Sy werke ken nie, kan jy heel moontlik mislei word. Hosea waarsku in die Ou Testament dat sy volk ten gronde gaan weens ‘n gebrek aan kennis!


“My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jý die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.”   HOSÉA 4:6 AFR53


Oorloë en gerugte van oorloë - daar was en is geen gebrek aan oorloë nie, maar dit is nog nie die einde nie.


“Maar wanneer julle hoor van oorloë en gerugte van oorloë, moet julle nie verskrik word nie, want dit moet kom. Maar dit is nog nie die einde nie.”   MARKUS 13:7 AFR53


Vers 8 gee nou vir ons tekens wat in intensiteit gaan vermeerder soos geboortepyne. Waarom sal ek so ‘n aanname maak. Kom ons lees eers die vers en dan kyk ons na wat die woorde in die oorspronklike Grieks beteken.


“Want die een nasie sal teen die ander opstaan, en die een koninkryk teen die ander; en daar sal aardbewings wees op verskillende plekke, en daar sal hongersnode wees en beroeringe. Hierdie dinge is 'n begin van die smarte.”   MARKUS 13:8 AFR53


1) Begin van smarte - die Grieks vir smarte is ōdin wat die volgende beteken: die pyn van bevalling, barensnood of geboortepyne.


2) Nasie opstaan teen nasie - die Grieks vir nasie is ethnos wat stam, nasie of mensegroep

beteken. Dus, opstande tussen stamme of mensegroepe.


3) Een koninkryk teen die ander - die Grieks vir koninkryk is basileia. Die woord moet nie verwar word met 'n werklike koninkryk nie, maar eerder die reg of gesag om oor 'n koninkryk te heers. Koninkryk in die Nuwe Testament word gebruik om te verwys na die heerskappy van die Messias.

Kan dit dan beteken Jesus se Koninkryk teen Satan se koninkryk? Die stadige en sistematiese uitwissing van ons Bybelse beginsels is deel hiervan.


4) Aardbewings op verskillende plekke - die Grieks hier is seismos en beteken skudding.


5) Hongersnode - die Grieks vir hongersnood is limos en beteken skaarste aan oes, hongersnood.


6) Beroeringe - die Grieks hier is tarachē en beteken: steurnis, rumoer, oproering van gepeupel soos in onluste, onruste, oproer.


Dit is nie nodig om verder te verduidelik nie aangesien ons net tv nuus moet kyk om ieder en elk van die bogenoemde punte amper daagliks te sien gebeur. Nou moet ons net wag en kyk wanneer die intensiteit van elk vermeerder.


 

17 Julie 2023


MARKUS 13:9 AFR53

“Maar wees julle vir julleself op die hoede, want hulle sal julle oorlewer aan regbanke, en in sinagoges sal julle geslaan word en voor goewerneurs en konings gebring word om My ontwil, vir hulle tot 'n getuienis.”


Jesus gee ‘n waarskuwing en raad aan Sy dissipels - pas julleself op!


Hulle moet hulself bewapen met geduld en volharding, sodat hulle in staat sal wees om hul plig te vervul te midde van al die teëstand en vervolging wat hulle gaan teëkom. Hul vyande sal enige en elke geleentheid teen hulle soek en hulle oorlewer aan die owerhede.


Ons sien uit die Skrif en Joodse skrywers dat die sweep een van die strawwe was wat die Jode in hul sinagoges gebruik het. Paulus het bevestig dat hy Christene dikwels in die sinagoge geslaan het. Dit was gebruiklik om beide hul wyse manne en hul dissipels in die sinagoges te slaan.


“En in al die sinagoges het ek hulle dikwels gestraf en gedwing om te laster; en ek het uitermate teen hulle gewoed en hulle vervolg, selfs tot in die buitelandse stede.”   HANDELINGE 26:11 AFR53


“En ek het gesê: Here, hulle weet self dat ek besig was om die wat in U glo, in die gevangenis te werp en in die sinagoges te slaan;”   HANDELINGE 22:19 AFR53


Petrus en Johannes is voor die hof geroep. Die twee se gedrag het uiteindelik gedien as getuienis vir die mense voor wie hulle verkyn het.


“Die volgende dag kom toe hulle owerstes en ouderlinge en skrifgeleerdes in Jerusalem bymekaar, ook Annas, die hoëpriester, en Kájafas en Johannes en Alexander en almal wat van die hoëpriesterlike familie was; En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken.”   HANDELINGE 4:5-6, 13 AFR53


Jakobus is deur Herodes doodgemaak en Petrus is deur Herodes in hegtenis geneem.


“En omtrent daardie tyd het koning Herodes sy hande geslaan aan sommige uit die gemeente om hulle kwaad aan te doen. En hy het Jakobus, die broer van Johannes, met die swaard omgebring. En toe hy sien dat dit die Jode welgevallig was, het hy verder ook Petrus in hegtenis geneem. En dit was die dae van die ongesuurde brode.”   HANDELINGE 12:1-3 AFR53


Paulus is gedurig aangekla en het voor verskeie owerhede verskyn.


“En vyf dae daarna het die hoëpriester Ananías met die ouderlinge en 'n sekere advokaat Tertúllus afgekom en Paulus by die goewerneur aangeklaag.”   HANDELINGE 24:1 AFR53


“Festus het dan in die provinsie gekom en ná drie dae van Cesaréa opgegaan na Jerusalem. En die hoëpriester en die vernaamstes van die Jode het Paulus by hom aangeklaag”.  HANDELINGE 25:1-2 AFR53


“En ná verloop van enkele dae het koning Agríppa en Berníce in Cesaréa aangekom om Festus te begroet. En toe hulle daar verskeie dae deurgebring het, het Festus die saak van Paulus aan die koning voorgelê en gesê: Hier is 'n man deur Felix as gevangene agtergelaat, teen wie die owerpriesters en die ouderlinge van die Jode, toe ek in Jerusalem was, 'n klag ingedien en vonnis teen hom gevra het.”   HANDELINGE 25:13-15 AFR53


 

18 Julie 2023


MARKUS 13:10 AFR53

“En die evangelie moet eers aan al die nasies verkondig word.”


Nogtans, ten spyte daarvan dat die dissipels vervolg gaan word, moet die evangelie aan al die nasies verkondig word.


Jesus bemoedig sy dissipels verder. Wanneer hulle gearresteer en oorgelewer word moet hulle nie bekommerd wees oor wat hulle moet sê nie, want die Heilige Gees sal daar wees om te help met wat hulle moet spreek.


“En wanneer hulle jul weglei om julle oor te lewer, moenie julle vooraf kwel oor wat julle sal spreek nie, en moenie daaroor dink nie; maar wat julle in dié uur gegee word, dit moet julle spreek; want dit is nie julle wat spreek nie, maar die Heilige Gees.”   MARKUS 13:11 AFR53


Jesus vertel vir sy dissipels dat die uitbreiding van die evangelie uiteindelik tot martelaarskap sal lei. Histories het dit begin by die dissipels waar meeste van hulle ter wille van die Evangelie doodgemaak is.


Deur die eeue heen was daar vele mense wat gemartel is omdat hulle die Evangelie verkondig het, en dit sal voortduur tot in die Verdrukking tydperk.


“En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. En hulle het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie? En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog 'n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees.”   OPENBARING 6:9-11 AFR53


Jesus skilder dan ‘n somber prentjie van families wat teen mekaar draai.


“En die een broer sal die ander tot die dood oorlewer, en die vader sy kind, en die kinders sal teen hulle ouers opstaan en hulle doodmaak.”   MARKUS 13:12 AFR53


Ons het tot dusver lekker gewoon in plekke waar dit aanvaarbaar is om ‘n Christen te wees en het nog net gelees van mense wat vir hulle geloof gemartel word. Hierdie posisie is stadig maar seker besig om te verander. Ons moet nou ook luister na die raad wat Jesus vir Sy disippels gegee het.


Jesus vertel vir ons dat tye gaan verander en wat ons moet doen.


“En julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.”   MARKUS 13:13 AFR53


 

19 Julie 2023


MARKUS 13:14 AFR53

“En wanneer julle die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan waar dit nie behoort nie — laat hom wat lees, oplet — dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug;”


…gruwel van die verwoesting - hierdie tegniese Joodse term is die sleutel tot eindtyd profesie.


…waarvan gespreek is deur die profeet Daniel - Jesus bevestig hier die outeurskap en betroubaarheid van Daniël en Hy verwys na die volgende verse waar die engel Gabriel vir Daniel insig gegee het.


“Sewentig sewetalle is oor jou volk en jou heilige stad bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf. Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op 'n Gesalfde, 'n Vors, is sewe sewetalle; en twee-en-sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid. En ná die twee-en-sestig sewetalle sal 'n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van 'n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met 'n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings. En hy sal een week lank met baie 'n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar 'n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.”   DANIËL 9:24-27 AFR53


Gruwel is 'n term vir afgodery -  “Maar hy het gewandel in die weg van die konings van Israel; ja, hy het selfs sy seun deur die vuur laat deurgaan volgens die gruwels van die nasies wat die Here voor die kinders van Israel uit verdryf het.”   II KONINGS 16:3 AFR53


Die gruwel van verwoesting is die finale belediging. Om 'n afgod op die heiligste plek op die planeet te plaas: in Jerusalem, in die Tempel, en in die Allerheiligste vertrek!


Histories, in 167 v.C. het Antiochus IV (Epifanes) die gruwel van verwoesting gepleeg, wat ‘n prentjie is van wat nog in ons toekoms gaan gebeur. Hy het die besnydenis verbied (1 Makkabeërs 1:60); die lees van die Tora as 'n hoofmisdaad aangekondig; hy het 'n vark op die heilige altaar geslag, en 'n standbeeld vir Zeus in die Allerheiligste vertrek opgerig - dit alles het die Makkabese opstand begin, wat uiteindelik die juk van die Seleusidiese ryk afgewerp het. Dit is ook deur Daniël geprofeteer.


“En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel.”   DANIËL 11:31 AFR53


Markus sê: laat hom wat lees, oplet! Hierdie is ‘n oproep aan elkeen wat hier lees om Daniel se profesie oor die gruwel van verwoesting te bestudeer en te verstaan. Ek en jy dus ingesluit!


Dit is interessant dat dit nooit (weer) in die geskiedenis (...tot dusver!) gebeur het nie.


Dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug - die fokus is op dié wat in Judea is: Die profesie gaan uitgevoer word in Jerusalem, in die tempel en in die Allerheiligste.


 

20 Julie 2023


MARKUS 13:15 AFR53

“en wie op die dak is, moet nie afkom in die huis en ook nie ingaan om iets uit sy huis weg te neem nie;”


Die gruwel van verwoestig gebeur in die middel van die sewe jaar Verdrukking, en dit is nou hierdie tyd waarvan Jesus praat. Die einde van die vorige vers het gesê dat die wat in Judea is na die berge moet vlug.


Jesus sê nou vêrder - die wat op hul huis se dak is moet nie eens daaraan dink om iets in die huis te gaan haal nie. Vlug na die berge met slegs die klere aan jou lyf.


Hierdie is ‘n ernstige oproep. Jesus gaan voort met sy waarskuwing - vlug! die wat op die lande werk, vlug! Wee die swanger vrou wat haar baba nog borsvoed - vlug! Jesus bid dat die vlug nie in die winter sal plaasvind nie.


“en wie op die land is, moet nie omdraai na wat agter is om sy kleed weg te neem nie. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae! En bid dat julle vlug nie in die winter mag plaasvind nie.”   MARKUS 13:16-18 AFR53


Israel het twee uiterlike seisoene: ‘n warm, droë somer en ‘n reënerige, koue winter. Sneeuval is redelik algemeen in sekere dele van Israel, insluitend in Jerusalem.


Die laaste helfte van die 70ste week (van jare) van Daniel, word in Openbaring beskryf as die toorn van God. Dit verwys na die tydperk wat die Ou Testament die ‘tyd van die benoudheid vir Jakob’ noem.


“Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is 'n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word.”   JEREMIA 30:7 AFR53


‘n Verdrukking wat daar nie was van die begin van die skepping af nie - hier word van ‘n verdrukking gepraat wat die wêreld nog nie tot dusver beleef het nie, self tot vandag toe nie.


“Want daardie dae sal daar 'n verdrukking wees soos daar nie gewees het van die begin van die skepping af wat God geskape het tot nou toe, en ook nooit sal wees nie. En as die Here dié dae nie verkort het nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes wat Hy uitverkies het, het Hy dié dae verkort.”   MARKUS 13:19-20 AFR53


Hier is Christus, kyk die tekens en wonders………..! Moet nie mislei word nie, selfs die uitverkorenes in daardie tyd moet oppas. Moet nie alles glo wat jy sien en hoor nie - ken die Skrif! Word enige van die in die Naam van Jesus gedoen!


“En as iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Kyk, daar! — moet dit nie glo nie. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.”   MARKUS 13:21-22 AFR53


Jesus waarsku weer…. wees op jul hoede! Hy het gespreek!!


“Maar julle moet op jul hoede wees. Kyk, Ek het alles vir julle vooruit gesê.”   MARKUS 13:23 AFR53


 

21 Julie 2023


MARKUS 13:24-25 AFR53

“Maar in daardie dae, ná dié verdrukking, sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre van die hemel sal val, en die kragte wat in die hemele is, sal geskud word.”


Na die sewe jaar Verdrukking, sal die son duister wees, die maan sal geen glans meer gee nie en die sterre van die hemel sal val, die hemele sal geskud word. In kort word hier ‘n prentjie geskilder van hoe donker en sleg die hemel sal lyk nadat God se toorn uitgespreek is.


Dan sien ons nou die kontras tussen die koms van die vals messias met vals tekens en wonders waar die uiteinde ‘n hemel en aarde is wat totaal vernietig word, en die ware Messias wat op die wolke sal kom met groot krag en heerlikheid en almal sal Hom sien.


“En dan sal hulle die Seun van die mens op die wolke sien kom met groot krag en heerlikheid. En dan sal Hy sy engele uitstuur, en Hy sal sy uitverkorenes uit die vier windstreke versamel, van die einde van die aarde af tot by die einde van die hemel.”   MARKUS 13:26-27 AFR53


Gelykenis van die vyeboom:


“En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is.”   MARKUS 13:28 AFR53


Aardse verhaal: wanneer die vyeboom se takke sag word en die blare uitbot, dan weet julle die somer is naby - dit is ‘n gegewe.


Hemelse betekenis: wanneer julle ‘al hierdie dinge wat hier bespreek is’ sien gebeur, weet dat die tyd van die einde naby is.


“So weet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, dat dit naby is, voor die deur.”   MARKUS 13:29 AFR53


Dit is asof Jesus die illustrasie van die vyeboom gebruik as 'n tydhorlosie vir die ontvouing van die einde van die eeu en Sy wederkoms. Die Joodse gelowiges wat in daardie dag leef, moet bewus wees van die tekens van die tye. Hulle moet beter voorbereid wees om die tekens te herken as toe hulle was met Jesus se eerste koms.


“Maar Hy antwoord en sê vir hulle: In die aand sê julle: Mooi weer, want die lug is rooi. En in die môre: Stormweer vandag, want die lug is donkerrooi. Geveinsdes, julle weet wel om die voorkoms van die lug te onderskei, en kan julle nie die tekens van die tye onderskei nie?”   MATTHÉÜS 16:2-3 AFR53


Dit is een van die redes hoekom ons die profesieë in die Bybel bestudeer. Ons het geleer dat al die Bybelse profesieë rakende Jesus se eerste koms 100% letterlik vervul is. Ons kan dus daarop staatmaak dat elke profesie aangaande Jesus se tweede koms ook 100% letterlik vervul sal word.


Hoe gaan ons die tekens waarvan Jesus ons geleer het herken as ons nie die Skrif oopmaak en alles leer wat ons kan nie. Ons kan ook die voorkoms van die lug onderskei en bepaal wanneer dit gaan reën en wanneer droogte oppad is. So, ons moet beter weet en leer hoe om die tekens van die tye te onderskei. Moet nie alles wat ek julle leer vir soetkoek opeet nie. Doen jou eie studie en bevestig of ek reg of verkeerd is.


“En hierdie mense was edelmoediger as dié in Thessaloníka; hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was.”   HANDELINGE 17:11 AFR53


 

22 Julie 2023


MARKUS 13:30 AFR53

“Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.”


Wie is ‘hierdie geslag’ ? Ek weet nie, maar dit is die geslag wat al hierdie tekens sal sien gebeur, met die klem op ‘al’.


Jesus sê verder dat die hemel en die aarde sal verbygaan, maar Sy woorde sal nooit verbygaan nie. Jesus, die Woord, was daar in die begin en sal daar wees tot in alle ewigheid.


“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.”   JOHANNES 1:1 AFR53


Jesus gee vir ons ‘n tydlyn en tekens waarvoor ons moet uitkyk, maar niemand weet die dag of die uur van Jesus se tweede koms nie, ook nie die engele, of die Seun nie, net die Vader weet.


“Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie. Maar van daardie dag en dié uur weet niemand nie, ook nie die engele in die hemel of die Seun nie, maar net die Vader.”   MARKUS 13:31-32 AFR53


So, omdat niemand weet wanneer Jesus kom nie, moet ons heeltyd paraat wees. Jesus self waarsku: Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie!


“Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie.”   MARKUS 13:33 AFR53


Ons sien hier ‘n sinspeling op die Joodse huwelik. Na die ketubah, die verlowing, maar voor die huppah, die formele seremonie, het die bruidegom vertrek om vir sy bruid ‘n nuwe huis voor te berei, gewoonlik 'n toevoeging tot sy vader se huis.


“Dit is soos 'n man wat op reis is, wat sy huis agtergelaat en sy diensknegte volmag gegee het, en vir elkeen sy werk, en aan die deurwagter bevel gegee het om te waak.”   MARKUS 13:34 AFR53


Die bruid weet nie wanneer haar bruidegom terugkeer nie, so sy is in afwagting vir sy koms. Hy sou dikwels in die nag kom, as ‘n verrassing. Die huppah of die huwelikseremonie, word dan gevolg deur ‘n sewe dag viering.


“Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie; dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie.”   MARKUS 13:35-36 AFR53


Bly dus waaksaam, op jou hoede!


“En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!”   MARKUS 13:37 AFR53


 

23 Julie 2023


MARKUS 14:1 AFR53

“En die pasga en die fees van die ongesuurde brode sou oor twee dae wees; en die owerpriesters en die skrifgeleerdes het gesoek hoe hulle Hom met lis gevange kon neem en doodmaak.”


Ek wil net stilstaan en ‘n opsomming van Jesus se laaste dae tydlyn tot hier doen. Onthou dat die Joodse dag met sononder begin en nie middernag soos ons gewoond is nie. Ons sien dit in Genesis toe God die aarde geskep het.


“en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.”   GÉNESIS 1:5 AFR53


8 Nisan

- Jesus word gesalf en Judas word uitgewys as die een wat Hom sal verraai


10 Nisan

- intog in Jerusalem / elke gesin kies ‘n paaslam


11 Nisan

- Jesus vervloek die vyeboom en reinig die tempel


12 Nisan

- Jesus leer die mense in die tempel en antwoord die Skrifgeleerdes se vrae

- daarna het Jesus en 4 dissipels ‘n inligtingsessie oor die eindtye op die Olyfberg

- twee dae voor paasfees en die skrifgeleerdes en owerpriester konkel om Jesus te vang en dood te maak, maar net nie oor die feestyd nie.


“Maar hulle het gesê: Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien 'n oproer onder die volk kom nie.”   MARKUS 14:2 AFR53


“Toe kom die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge van die volk bymekaar in die paleis van die hoëpriester wat Kájafas genoem word, en hou saam raad om Jesus met lis gevange te neem en om die lewe te bring. Maar hulle het gesê: Nie op die fees nie, sodat daar nie miskien oproer onder die volk kom nie.”   MATTHÉÜS 26:3-5 AFR53


13 Nisan (na sononder)

- Markus vertel van ‘n vrou wat, twee dae voor die pasga, Jesus salf deur nardussalf op Sy hoof uit te gooi.


Ons het hierdie studie begin met Johannes wat ons vertel het van Maria wat ses dae voor die pasga, Jesus se voete met nardussalf salf.


“En Jesus het ses dae voor die pasga na Betánië gekom waar Lasarus was, wat dood gewees het en wat Hy uit die dode opgewek het.”   JOHANNES 12:1 AFR53


“En Maria het 'n pond egte, baie kosbare nardussalf geneem en die voete van Jesus gesalf en sy voete afgedroog met haar hare. En die huis is vervul met die reuk van die salf.”  JOHANNES 12:3 AFR53


Ek kan nie uit die kommentare agterkom of hierdie van dieselfde of van verskillende insidente praat nie. Maak nie regtig saak nie. Jesus is met kosbare nardussalf gesalf om Hom voor te berei vir Sy dood en begrafnis.


“En toe Hy in Betánië was, in die huis van Simon, die melaatse, terwyl Hy aan tafel was, kom daar 'n vrou met 'n albaste fles met egte, baie kosbare nardussalf; en sy breek die albaste fles en gooi dit op sy hoof uit.”   MARKUS 14:3 AFR53


 

24 Julie 2023


MARKUS 14:12 AFR53

“En op die eerste dag van die ongesuurde brode, wanneer hulle gewoonlik die pasga geslag het, sê sy dissipels vir Hom: Waar wil U hê moet ons gaan klaarmaak, dat U die pasga kan eet?”


Die eerste dag van die ongesuurde brode is ‘n voorbereidings dag (‘n ekstra dag) en is op dieselfde dag as Paasfees - 14 Nisan. Die pasga word op 14 Nisan, laat middag en net voor sononder, geslag. Die ete vind plaas na sononder wat dan 15 Nisan is.


14 Nisan begin egter die vorige aand teen sononder, en dit is nou waar die dissipels vir Jesus vra waar hulle die pasga gereed moet maak.


Jesus het weereens als vooruit beplan en Hy gee die volgende instruksies.


“En Hy stuur twee van sy dissipels en sê vir hulle: Gaan na die stad toe; en 'n man wat 'n kruik water dra, sal julle tegemoetkom. Volg hom, en waar hy ook mag ingaan, moet julle vir die eienaar van die huis sê: Die Meester laat weet: Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die pasga kan eet? En hy sal julle 'n groot bovertrek wys, in gereedheid gebring. Daar moet julle vir ons klaarmaak. En sy dissipels het gegaan en in die stad gekom en dit gevind soos Hy vir hulle gesê het; en hulle het die pasga toeberei.”   MARKUS 14:13-16 AFR53


Dit is aand en Jesus sit met die twaalf dissipels aan tafel en eet.


“En toe dit aand geword het, kom Hy met die twaalf. En terwyl hulle aan tafel was en eet, sê Jesus: Voorwaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai, een wat saam met My eet.”   MARKUS 14:17-18 AFR53


Johannes vertel vir ons wie Jesus gaan verraai.


“Jesus antwoord: Dit is die een aan wie Ek die stukkie sal gee as Ek dit ingedoop het. En toe Hy die stukkie ingedoop het, gee Hy dit aan Judas Iskáriot, die seun van Simon. En nadat hy die stukkie geneem het, het die Satan in hom ingevaar. En Jesus sê vir hom: Wat jy doen, doen dit haastig.”   JOHANNES 13:26-27 AFR53


Jesus bepaal nog steeds die tydlyn van Sy einde en sê vir Judas om dit wat hy wil doen, haastig te doen. Judas verskoon homself en die laaste Pasga word verder geëet sonder Judas se teenwoordigheid.


Daar word nie vertel presies wat geëet is nie, maar die paaslam is nog nie op die stadium geslag nie. Dit gebeur eers die volgende dag 15:00. Wat ons wel weet is dat ongesuurde brood geëet is en wyn gedrink is. Jesus het nagmaal gehou met Sy dissipels.


“En terwyl hulle eet, neem Jesus brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Neem, eet, dit is my liggaam. Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle, en hulle het almal daaruit gedrink. En Hy sê vir hulle: Dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word.”   MARKUS 14:22-24 AFR53


 

25 Julie 2023


MARKUS 14:27 AFR53

“Toe sê Jesus vir hulle: Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My; want daar is geskrywe: Ek sal die herder slaan, en die skape sal verstrooi word.”


Net na die nagmaal wat Jesus met Sy disippels gehou het, gee Hy vir hulle die volgende skokkende nuus.


Julle sal almal vannaand aanstoot neem aan My. Dit beteken dat hulle Jesus in die steek gaan laat en van Hom gaan wegdraai of afvallig word van Hom.


Jesus voorspel dat hierdie elf manne gaan probeer vlug en wegkruip wanneer Sy dood en lyding begin om sodoende dieselfde behandeling te vermy as wat hulle Messias sal verduur. Hulle gaan nie net die aanstoot van Sy lyding probeer vermy nie, maar hulle gaan hulself ook heeltemal van Hom losmaak en Hom verlaat asof hulle Hom nooit geken het nie. Dit sal wees asof hul lojaliteit tydelik ineen gaan stort.


Jesus haal dan ‘n profesie van Sagaria aan - Ek sal die herder slaan, en die skape sal verstrooi word.


“Ontwaak, o swaard, teen my herder, en teen die man wat my metgesel is! spreek die Here van die leërskare. Slaan die herder, sodat die skape verstrooi word; en Ek sal my hand weer uitstrek oor die geringes.”   SAGARÍA 13:7 AFR53


Let op dat God die een is wat die herder of die Messias slaan/doodmaak. Die skape is Jesus se volgelinge wat die dissipels insluit.


Dit is interessant hoe gereeld Jesus in die Evangelies, Sy dissipels oor Sy dood gewaarsku het. Hy het herhaaldelik vir hulle gesê dat Hy gaan sterf, en dan weer sou opstaan.


“Maar nadat Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uit na Galiléa gaan.”   MARKUS 14:28 AFR53


Hulle het verwag dat Jesus sou kom as die oorwinnende Koning, die Messias wat Israel van die Romeinse heerskappy sou bevry en Sy posisie op die troon van Dawid sou inneem.


Dit is wat hulle verwag het, en hierdie hele besigheid van opoffering en dood het net nie vir hulle sin gemaak nie. Dit was eers na Sy dood dat hulle uiteindelik die legkaart bymekaar gesit het en onthou het dat Jesus al hierdie dinge vooruit gesê het.


“En Petrus sê vir Hom: Al sal almal ook aanstoot neem, dan tog nie ek nie. Daarop sê Jesus vir hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag, in hierdie nag, voordat die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën. Maar hy het nog baie meer aangehou en gesê: Al moes ek saam met U sterwe, ek sal U nooit verloën nie! En net so het almal ook gesê.”   MARKUS 14:29-31 AFR53


Dit is duidelik dat Petrus nie die brutale erns van wat Jesus so pas vir hulle gesê het, verstaan nie. Ons kan sien dat hy nie eintlik glo dat Sy Herder geslaan sal word nie, want binne net 'n paar uur sal hy selfs ontken dat hy vir Jesus ken.


 

26 Julie 2023


MARKUS 14:32 AFR53

“Toe kom hulle in 'n plek waarvan die naam Getsémané was. En Hy sê vir sy dissipels: Sit hier onderwyl Ek gaan bid.”


Jesus vertrek die aand ná die nagmaal, soos gewoonlik, na die Olyfberg en spesifiek na die Tuin van Getsemane wat Sy spesiale plek was om te bid. Jesus vra vir die dissipels om by die ingang te sit terwyl Hy gaan bid.


Jesus neem Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom en vra hulle om saam met Hom wakker te bly want Hy weet wat vir Hom wag. Jesus is ontsteld en Sy siel is diep bedroef tot die dood toe.


“En Hy neem Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom en begin ontsteld en benoud te word. En Hy sê vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak.”   MARKUS 14:33-34 AFR53


Jesus loop ‘n klein entjie verder om alleen te bid. Hy val op die grond en bid tot die Vader dat as dit enigsins moontlik was, dat die uur nie moet gebeur nie - maar nogtans nie wat Ek wil nie maar U wil!


“En toe Hy 'n bietjie verder gegaan het, val Hy op die grond en bid dat, as dit moontlik was, dié uur by Hom sou verbygaan. En Hy sê: Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik; neem hierdie beker van My weg; nogtans nie wat Ek wil nie, maar wat U wil.”   MARKUS 14:35-36 AFR53


Lukas wat ‘n dokter was beskryf vir ons dat Jesus letterlik bloed gesweet het. Soveel so dat ‘n engel uit die hemel aan Hom verskyn het om Hom te versterk.


“En 'n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. En toe Hy in 'n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val.”   LUKAS 22:43-44 AFR53


Jesus neem ‘n ruskans en stap na die drie dissipels wat saam met Hom is, net om hulle aan die slaap te vind. Jesus sê dat hulle moet waak en bid dat hulle nie in versoeking kom nie. Jesus besef ook dat die gees gewillig is, maar die vlees swak is.


“En Hy kom en vind hulle aan die slaap en sê vir Petrus: Simon, slaap jy? Was jy nie in staat om een uur te waak nie? Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.”   MARKUS 14:37-38 AFR53


Jesus het nog twee keer gebid en twee keer Sy dissipels aan die slaap gevind. Interessant dat die dissipels nie hul oë kon oophou nie, maar Jesus se vyande het glad nie geslaap nie. Hulle was gereed om Hom te vang.


Jesus se gebede het Hom versterk en Hy is reg vir wat kom.


“Staan op, laat ons gaan; kyk, hy is naby wat My verraai.”   MARKUS 14:42 AFR53


 

27 Julie 2023


MARKUS 14:43 AFR53

“En dadelik, terwyl Hy nog spreek, verskyn Judas wat een van die twaalf was, en saam met hom 'n groot menigte met swaarde en stokke, gestuur deur die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die ouderlinge.”


Ons het uit die vorige verse gelees dat Judas die een was wat Jesus sou verraai. Hy het saam met die ander dissipels vir drie jaar lank saam met Jesus gewerk, en hy ken al Jesus se gewoontes. Hy weet dus ook dat Jesus in die Tuin van Getsemane sou wees, want dit was die plek waar Jesus gewoonlik gaan bid het.


“En Judas, sy verraaier, het ook die plek geken, omdat Jesus daar dikwels met sy dissipels saamgekom het. En Judas het die afdeling soldate en die dienaars van die owerpriesters en die Fariseërs geneem en daar gekom met fakkels en lampe en wapens.”   JOHANNES 18:2-3 AFR53


Die Grieks vir ‘afdeling’ soldate is ‘speira’ en beteken ‘n tiende van ‘n legioen of ‘n groep van 400 tot 600 soldate. Dit is interessant dat ongeveer 600 soldate by Herodes se Antonia-vesting gestasioneer was, so daardie groep kon dalk uitgestuur gewees het, maar dit is duidelik dat die tempelpolisie ook teenwoordig is.


Hierdie is nie 'n klein groepie wat uitgestuur is om Jesus te arresteer nie. Tog, die enigste rede waarom hulle Jesus kan arresteer, is omdat Hy van plan is om saam met hulle te gaan.


“En omdat Jesus alles geweet het wat oor Hom sou kom, het Hy uit die tuin gegaan en vir hulle gesê: Wie soek julle? Hulle antwoord Hom: Jesus, die Nasaréner. Jesus sê vir hulle: Dit is Ek. En ook Judas, sy verraaier, het by hulle gestaan. Toe Hy dan vir hulle sê: Dit is Ek, het hulle agteruitgegaan en op die grond geval.”   JOHANNES 18:4-6 AFR53


Dis ongelooflik. Jesus sê: Dit is Ek, en hulle val almal agteroor op die grond. As ons Jesus se woorde direk uit die Grieks sou vertaal se Hy eintlik: Ek is! En toe val almal agteroor.


Hierdie herinner ons aan Jesus se woorde aan die Fariseërs.


“Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek.”   JOHANNES 8:58 AFR53


Ons mis die betekenis van klein tonele soos hierdie, maar die Joodse leiers kom ons altyd te hulp deur rotse te gryp om Jesus aan te val. Hulle wou Jesus stenig in Johannes 8 omdat Hy Homself by die naam van die God van Israel genoem het, nl: Ek is!


“Hulle het toe klippe opgetel om Hom te stenig; maar Jesus het stilletjies uit die tempel gegaan en tussen hulle deurgeloop; en so het Hy vertrek.”   JOHANNES 8:59 AFR53


Jesus verbind Homself hiermee met die stem in die brandende bos.


“En God sê vir Moses: Ek is wat Ek is. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: Ek is het my na julle gestuur.”   EXODUS 3:14 AFR53


 

28 Julie 2023


JOHANNES 18:7 AFR53

“Hy vra hulle toe weer: Wie soek julle? En hulle sê: Jesus, die Nasaréner.”


Judas het 'n hele groep van 400-600 mans na die tuin gelei om Jesus met ‘n kus te verraai en in hegtenis te neem.


“En sy verraaier het 'n teken met hulle afgespreek en gesê: Die een wat ek sal soen — dit is Hy; gryp Hom en neem Hom met sekerheid weg. En toe hy kom, gaan hy dadelik na Hom en sê: Rabbi, Rabbi! en soen Hom.”   MARKUS 14:44-45 AFR53


Die groot groep soldate toon dat hulle nie net vir Jesus nie, maar ook die dissipels in hegtenis wou neem. Jesus sê vir die soldate om Sy dissipels te laat gaan, en hulle doen so. Jesus is steeds in beheer en die goeie Herder wat na Sy skape omsien.


“Jesus antwoord: Ek het vir julle gesê dat dit Ek is. As julle My dan soek, laat hierdie manne weggaan — sodat die woord vervul sou word wat Hy gespreek het: Uit die wat U My gegee het, het Ek niemand verloor nie.”   JOHANNES 18:8-9 AFR53


Let op dat Jesus gewoonlik vertroostende woorde gespreek het wanneer mense voor Hom neerval.


Nadat Petrus, Jakobus en Johannes 'n groot aantal visse gevang het, het Petrus voor die voete van Jesus geval, en Jesus het vir hom gesê om nie bang te wees nie.


“En toe Simon Petrus dit sien, val hy neer aan die knieë van Jesus en sê: Gaan weg van my, Here, want ek is 'n sondige man! Want verbaasdheid het hom aangegryp en almal wat by hom was, oor die vangs van visse wat hulle gemaak het; en net so ook vir Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedéüs, wat Simon se maats was. En Jesus sê vir Simon: Moenie vrees nie; van nou af sal jy mense vang.”   LUKAS 5:8-10 AFR53


Op die Berg van Verheerliking het die dissipels geval toe hulle die Vader se stem hoor, maar Jesus het vir hulle gesê om nie bang te wees nie.


“Terwyl hy nog spreek, oordek 'n helderligte wolk hulle meteens en daar sê 'n stem uit die wolk: Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het. Luister na Hom! En toe die dissipels dit hoor, het hulle op hul aangesig geval en was baie bevrees. En Jesus het nader gekom en hulle aangeraak en gesê: Staan op en moenie vrees nie.”   MATTHÉÜS 17:5-7 AFR53


Hier in Getsemane sê Jesus nie vir die soldate om nie te vrees nie. Dit is hulle tyd om bang te wees en aandag te gee.


 

29 Julie 2023


JOHANNES 18:10 AFR53

“En Simon Petrus wat 'n swaard gehad het, het dit uitgetrek en die dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy regteroor afgekap. En die naam van die dienskneg was Malchus.”


Petrus doen altyd dinge onderstebo en agterstevoor. Hier is hy moedig waar hy eerder kalm en rustig moet wees, maar later is hy lafhartig as hy moedig moet wees.


Lukas vertel vir ons dat daar twee swaarde tussen die groep dissipels was toe hulle na die Tuin van Getsemane gestap het.


“Hulle sê vir Hom: Here, kyk hier is twee swaarde. En Hy antwoord hulle: Dit is genoeg.”   LUKAS 22:38 AFR53


Jesus stop Petrus se poging om te veg, en Hy herinner Petrus aan wat Hy vroeër daardie aand vir hulle gesê het. Hy het 'n missie van Sy Vader om hier te voltooi.


“Toe sê Jesus vir Petrus: Steek jou swaard in die skede. Die beker wat die Vader My gegee het, sal Ek dit dan nie drink nie?”   JOHANNES 18:11 AFR53


Jesus is besig om Petrus se lewe te red. Johannes sê dit nie vir ons nie, maar ons lees in Lukas dat Jesus Malchus se oor genees het voordat hulle Hom weggeneem het.


“Maar Jesus het geantwoord en gesê: Hou op, dit is genoeg! En Hy het sy oor aangeraak en hom gesond gemaak.”   LUKAS 22:51 AFR53


Het jy opgelet dat niemand ooit in Jesus se teenwoordigheid sterf nie? Die vrou wat vir owerspel betrap is, is nie gestenig nie. Niemand het in die boot in die storms omgekom nie. Petrus het nie verdrink toe hy op water probeer loop het nie. In plaas daarvan is diegene wat gesterf het uit die dood opgewek, soos Lasarus en die dogter van Jaïrus. Niemand sterf ooit wanneer Jesus daar is nie – totdat Jesus self uit eie wil doodgemaak word.


Ons vind hier die begin van 'n reeks onwettige dade wat daardie dag teen Jesus gepleeg is. Hy het nie Sy arrestasie teengestaan ​​nie, maar hulle het Hom in elk geval geboei. Dit was onwettig om 'n gevangene voor veroordeling te boei, maar hulle het dit in elk geval gedoen. Dit was net die begin van die ongeregtighede.


“En die afdeling en die owerste oor duisend en die dienaars van die Jode het Jesus gevange geneem en Hom geboei;”   JOHANNES 18:12 AFR53


Daar was ses verhore daardie aand, of twee verhore in drie dele elk.


Eerstens is Jesus deur die Jode verhoor. Hy het om die beurt voor Annas, Kajafas en toe die Sanhedrin verskyn.


Daarna is Jesus deur die Romeine verhoor. Hy is na Pilatus geneem, toe Herodes, en toe weer Pilatus.


Elkeen van die verhore het omtrent elke geregtelike beginsel van daardie tyd geskend, en ons gaan dit nou bestudeer.


 

30 Julie 2023


JOHANNES 18:13 AFR53

“en hulle het Hom weggelei, eers na Annas; want Hy was die skoonvader van Kájafas wat daardie jaar hoëpriester was.”


Nadat Jesus inhegtenis geneem is, is Hy eerste na Annas geneem. Annas was die hoëpriester van 6-15 n.C. en, al het die Romeine vir Annas na 15 n.C. as afgesit beskou, het hy onder die Joodse leiers steeds sy gesag behou. Die pos van hoëpriester het in Annas se familie gebly aangesien sy seuns na hom aangestel is, en daarom dat die leierskap na Annas opgekyk het.


Annas se skoonseun Kajafas is tegnies die hoëpriester tydens Jesus se inhegtenisname, maar die Joodse leiers gaan eerste na Annas. Kort hierna stuur Annas vir Jesus – geboei – om Kajafas te sien.


Johannes herinner ons daaraan dat Kajafas vroeër verklaar het dat dit raadsaam was dat een man vir die mense sterf, sodat die hele nasie nie omkom nie. Maar dit is onwaarskynlik dat hy enige benul gehad het hoe profeties sy woorde was.


“En dit was Kájafas wat aan die Jode die raad gegee het dat dit voordelig is dat een man vir die volk sterwe.”   JOHANNES 18:14 AFR53


Die Sinoptiese Evangelies, Matteus, Markus en Lukas, fokus op Kajafas tydens hierdie beproewinge, maar Johannes het daardie oggend elke tree van Jesus gevolg, en hy verduidelik dat dit Annas was na wie die Joodse leiers Jesus die eerste keer gebring het. Annas was steeds baie invloedryk, en hy het dalk as president van die Sanhedrin opgetree.


Die tempelkompleks was snags gesluit, en vir die Joodse Raad om die nag daar te vergader was dus heeltemal onwettig. Annas het ook in ‘n afdeling van die tempelkompleks gebly. Die Hoëpriesters van die tweede tempel het ‘n slegte reputasie onder die volk gehad as mense wat deur omkoopgeskenke van die Romeinse regering aangestel is, en met lis en geweld hul wil op die priesters en die volk afgedruk het.


Petrus en ‘n ander dissipel word by die hoëpriesterkompleks in die binnehof ingebring.


“En Simon Petrus en 'n ander dissipel het Jesus gevolg; en daardie dissipel was met die hoëpriester bekend en het saam met Jesus ingegaan in die binneplaas van die hoëpriester se paleis. Maar Petrus het buitekant by die deur bly staan. En die ander dissipel wat bekend was met die hoëpriester, het uitgegaan en met die deurwagster gepraat en Petrus ingebring.”   JOHANNES 18:15-16 AFR53


Die diensmeisie wat ook die deurwagter is, herken vir Petrus en vra: jy is tog nie ook een van die dissipels nie? Petrus se swakkeling antwoord is, ek is nie, wat duidelik in kontras is met Jesus wat Homself vroeër geidentifiseer het as Ek Is!


“Toe sê die diensmeisie, die deurwagster, vir Petrus: Jy is tog nie ook een van die dissipels van hierdie mens nie? Hy sê: Ek is nie.”   JOHANNES 18:17 AFR53


Petrus verloën Jesus vir die eerste keer, en draai weg van die diensmeise na die koolvuur van die dienaars en die diensknegte van die tempel om homself warm te maak.


“En die diensknegte en die dienaars het by 'n koolvuur gestaan wat hulle gemaak het — want dit was koud — en hulle het hul warm gemaak. En Petrus het by hulle gestaan en hom warm gemaak.”   JOHANNES 18:18 AFR53


 

31 Julie 2023


JOHANNES 18:19 AFR53

“Die hoëpriester ondervra Jesus toe oor sy dissipels en oor sy leer.”


Annas wyk af van die gewone Joodse hofprosedure waar twee of drie getuies iemand beskuldig, en as hulle saamstem word die man veroordeel, sonder dat hy homself kan verdedig.


“Op die verklaring van twee getuies of drie getuies moet die veroordeelde gedood word; hy mag nie gedood word op die verklaring van een getuie nie.”   DEUTERONÓMIUM 17:6 AFR53


Jesus speel nie hulle speletjies nie. Hy gaan nie rekenskap van Homself aan die hoëpriester gee nie. Die dinge wat Hy geleer en gedoen het, is 'n oop rekord.


“Jesus antwoord hom: Ek het ronduit tot die wêreld gespreek; Ek het altyd in die sinagoge geleer en in die tempel waar die Jode van alle kante vergader; en in die geheim het Ek niks gespreek nie.”   JOHANNES 18:20 AFR53


Hy het openlik gepraat en nie in die geheim, soos hierdie onwettige voor-dagbreek verhoor nie. Dit word geprofeteer in Jesaja.


“Ek het in die geheim nie gespreek nie — op 'n plek van die donker land; Ek het aan die geslag van Jakob nie gesê: Soek My tevergeefs nie. Ek is die Here wat geregtigheid spreek, wat regte dinge verkondig.”   JESAJA 45:19 AFR53


Daarom dat Jesus nou ook vir die hoëpriester vra waarom Hy ondervra word. Jesus sê vir Annas om die mense te ondervra wat Hom gehoor het en hiermee sê Jesus dat Annas getuies moet roep soos veronderstel is om te gebeur.


“Wat ondervra u My? Ondervra hulle wat gehoor het wat Ek tot hulle gespreek het; hulle weet tog wat Ek gesê het.”   JOHANNES 18:21 AFR53


Een van die dienaars meen hy moet die hoëpriester se eer beskerm deur Jesus deur die gesig te slaan. Selfs eenvoudige handelings soos hierdie was in stryd met die Joodse Raad se reëls. Dit beklemtoon die lafhartige metodes wat gebruik is deur persone wat veronderstel was om die mense geestelik te lei. Die regters moes Jesus se regte beskerm het, maar dit is juis húlle wat Hom dood wil hê.


“En toe Hy dit sê, het een van die dienaars wat daar staan, Jesus in die aangesig geslaan en gesê: Antwoord U die hoëpriester so?   JOHANNES 18:22 AFR53


Jesus verdedig die reg - as Ek verkeerd gepraat het, lê getuienis af voor die hof van die boosheid daarvan, maar as dit reg is, waarom slaan jy My?


Jesus antwoord hom: As Ek verkeerd gespreek het, getuig van die verkeerdheid; maar as Ek reg gespreek het, waarom slaan jy My?”   JOHANNES 18:23 AFR53


 

1 Augustus 2023


JOHANNES 18:24 AFR53

“En Annas het Hom geboeid na Kájafas, die hoëpriester, gestuur.”


Annas sien hy kan geen bewyse vind of selfs eer verkry uit hierdie Jesus nie, en stuur Hom geboeid na Kajafas, die hoëpriester.


“En die wat Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kájafas, die hoëpriester, waar die skrifgeleerdes en die ouderlinge vergader het.”   MATTHÉÜS 26:57 AFR53


Kajafas was die hoëpriester in Jesus se tyd en naas die Romeinse goewerneur was hy die magtigste leier in Judea.


Die hoëpriester het gedien as die Joodse volk se verteenwoordiger by God. Dit was sy werk om een maal per jaar by die Allerheiligste van die tempel in te gaan en eerste vir homself en dan vir die volk as geheel versoening te doen.


Kajafas was in beheer van die tempelskatkis, hy het die tempelpolisie en laergeplaaste priesters en bediendes beheer en oor die Sanhedrin regeer.


Die verhore wat nou in die laat aand van 14 Nisan plaasvind is ‘n totale klug en ook onwettig. Die leiers van die volk, die owerpriesters en die ouderlinge en die hele Raad, soek valse getuies teen Jesus om Hom dood te maak.


‘Vals getuienis gesoek’ impliseer ‘n voortgesette proses van soek. Die wet van Moses het ten minste twee getuies vereis maar dan moes hulle natuurlik dieselfde getuig.


“En die owerpriesters en die hele Raad het getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak, en hulle het niks gevind nie; want baie het vals teen Hom getuig en die getuienisse was nie eenders nie.”   MARKUS 14:55-56 AFR53


Daar was duidelik nie ‘n tekort aan mense wat graag een of ander valse getuienis wou gee nie.


“En sommige het opgestaan en vals teen Hom getuig en gesê: Ons het Hom hoor sê: Ek sal hierdie tempel wat met hande gemaak is, afbreek en in drie dae 'n ander een opbou wat nie met hande gemaak is nie. En selfs so was hulle getuienis nie eenders nie.”   MARKUS 14:57-59 AFR53


Kajafas is geïrriteerd omdat Jesus Homself nie inkrimineer nie en net stilbly. Hy staan op om Jesus heel moontlik te intimideer en vra uitdagend: Antwoord U niks nie? Wat getuig hierdie manne teen U?


“Toe staan die hoëpriester in hul midde op en vra Jesus en sê: Antwoord U niks nie? Wat getuig hierdie manne teen U? Maar Hy het stilgebly en geen antwoord gegee nie. MARKUS 14:60-61a AFR53


Jesus se stilte is vervulling van Jesaja se profesie.


“Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos 'n lam wat na die slagplek gelei word en soos 'n skaap wat stom is voor sy skeerders — ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.”   JESAJA 53:7 AFR53


 

2 Augustus 2023


MARKUS 14:61b-62 AFR53

Weer stel die hoëpriester Hom die vraag en sê vir Hom: Is U die Christus, die Seun van die geseënde God? En Jesus sê: Ek is. En u almal sal die Seun van die mens aan die regterhand van die krag van God sien sit en kom met die wolke van die hemel.”   


Kajafas plaas Jesus nou onder eed en daarom is Jesus deur die wet verplig om te antwoord.


Jesus gee nie net sommer enige antwoord nie, Hy verwys spesifiek na Daniël 7, waar Een ‘soos die Seun van die mens’, 'n ewige koninkryk gegee word.


“Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van 'n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is 'n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.”   DANIËL 7:13-14 AFR53


Jesus bevestig wat die hoëpriester gesê het, en dit is presies waarvoor hulle gewag het. Jesus maak dit duidelik dat Hy inderdaad daardie Seun van die mens, die Messias is.


Die hoëpriester skeur sy klere in verontwaardiging, en hy beskuldig Jesus van godslastering. Mens sou dink dat die hoëpriester kon stilstaan ​​en die moontlikheid oorweeg dat Jesus, wat onder eed was, die waarheid gepraat het, en dat Hy dus waarlik die Messias was, God se eie Seun. Dit was egter duidelik dat die nasie se leierskap bestaan ​​uit manne wat meer omgee vir mag en posisie as om God met hul hele hart te dien.


“Toe skeur die hoëpriester sy klere en sê: Wat het ons nog getuies nodig!”   MARKUS 14:63 AFR53

  

Die hoëpriester wat sy eie klere skeur was 'n algemene gedrag van regters wat godslastering gehoor het. Die Wet het egter die gesalfde hoëpriester verbied om sy heilige klere te skeur, en Kajafas het dus die Wet van Moses verontagsaam.


“En die priester wat die hoogste onder sy broers is, op wie se hoof die salfolie uitgegiet is en wat as priester aangestel is om die klere aan te trek — hy mag sy hare nie laat loshang en geen skeure in sy klere maak nie.”   LEVÍTIKUS 21:10 AFR53


Kajafas besef sekerlik nie dat sy handeling profeties is in belangrikheid nie. Hy het sy eie gesag geskeur - en die era van die Joodse priesterskap was simbolies verby. Jesus Christus het daardie dag die uiteindelike Priester geword en die uiteindelike Paaslam is vir alle tye geoffer.


Die tempelvoorhangsel, die voorhangsel wat die mense van die Allerheiligste geskei het, sou in die middel afbreek wanneer Jesus sterf, wat die einde van 'n era verteenwoordig. Soos Jesus die dissipels belowe het, was dit tyd vir die Nuwe Verbond wat deur Jeremia 31 voorspel is, wanneer ons sondes vergewe sal word en ons almal in staat sal wees om ‘n persoonlike verhouding met God te hê.


“Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda 'n nuwe verbond sal sluit; En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.”   JEREMIA 31:31, 34 AFR53


 

3 Augustus 2023


MARKUS 14:64 AFR53

“Julle het die godslastering gehoor; wat dink julle? En hulle het almal Hom veroordeel dat Hy die dood skuldig was.”


Dit alles vind vroegoggend plaas terwyl dit nog donker is. 14 Nisan het die vorige aand teen sononder begin, toe die dissipels aandete saam met Jesus geëet het. Hulle het onmiddellik na ete na die tuin gegaan waar Jesus gebid het totdat Judas met die soldate opgedaag het. Jesus is in hierdie nag verhoor - eers voor Annas, toe Kajafas, en toe die Sanhedrin.


Jesus is op gespoeg, Hy is geblinddoek en met die vuis en stokke geslaan. Ander het geskree, profeteer en sê wie het Jou geslaan het.


“En sommige het begin om op Hom te spuug en sy aangesig toe te maak en Hom met die vuis te slaan en vir Hom te sê: Profeteer! En die dienaars het Hom met stokke geslaan.”   MARKUS 14:65 AFR53


Intussen is Petrus nog in die binneplaas. Terwyl Annas Jesus ondervra het, het ‘n diensmeisie Petrus herken en gevra of hy nie een van Jesus se disippels was nie, en hy het nee geantwoord.


“Toe sê die diensmeisie, die deurwagster, vir Petrus: Jy is tog nie ook een van die dissipels van hierdie mens nie? Hy sê: Ek is nie.”   JOHANNES 18:17 AFR53


Toe Jesus van Annas na Kajafas gestuur is, was Petrus nog steeds by die vuurtjie om homself warm te hou. Vir ‘n tweede keer vra iemand hom of hy nie een van Jesus se disippels is nie, en vir ‘n tweede keer sê hy nee.


“En Annas het Hom geboeid na Kájafas, die hoëpriester, gestuur. En Simon Petrus het hom staan en warm maak. En hulle sê vir hom: Jy is tog nie ook een van sy dissipels nie? Toe ontken hy dit en sê: Ek is nie.”   JOHANNES 18:24-25 AFR53


‘n Familielid van Malchas, die man wie se oor Petrus afgekap het, herken Petrus van die tuin en hy word vir ‘n derde keer gevra of hy nie saam met Jesus gesien was nie. ‘n Derde keer ontken Petrus dat hy vir Jesus ken, en onmiddelik kraai die haan soos Jesus hom gewaarsku het.


“Een van die hoëpriester se diensknegte wat familie was van die man wie se oor Petrus afgekap het, sê: Het ek jou nie in die tuin by Hom gesien nie? En Petrus het dit weer ontken; en dadelik het die haan gekraai.”   JOHANNES 18:26-27 AFR53


Petrus verwens homself en terwyl hy praat kraai die haan weer, en Petrus onthou met skok Jesus se woorde.


“Toe begin hy homself te verwens en te sweer: Ek ken nie daardie man van wie julle praat nie. En vir die tweede keer het die haan gekraai; en Petrus het die woord onthou wat Jesus vir hom gesê het: Voor die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën. En hy het in trane uitgebars.”   MARKUS 14:71-72 AFR53


 

4 Augustus 2023


MARKUS 15:1 AFR53

“En dadelik, vroeg in die môre, het die owerpriesters saam met die ouderlinge en skrifgeleerdes en die hele Raad 'n besluit geneem; en nadat hulle Jesus geboei het, het hulle Hom weggelei en aan Pilatus oorgelewer.”


‘...die hele Raad’ m.a.w. die Joodse raad – die Sanhedrin – het 'n basiese probleem gehad. Hulle het nie die gesag gehad om ‘n doodsvonnis uit te spreek nie.


Daarom word Jesus vroeg die more, teen dagbreek na Pontius Pilutus se paleis geneem


“Toe neem hulle Jesus van Kájafas na die goewerneur se paleis. En dit was vroeg in die môre; en hulle het self nie in die paleis ingegaan nie, dat hulle hul nie sou verontreinig nie, maar dat hulle die pasga kon eet.”   JOHANNES 18:28 AFR53


Pilatus het gedien as die Romeinse goewerneur verantwoordelik vir Judea van 26 tot 36 n.C.  Tydens Jesus se verhoor het Pilatus probeer om die vrede in Jerusalem te bewaar en ook 'n goeie verhouding met Rome te behou.


Die owerpriesters was hoogs polities en gewillig om politieke gunste te koop, daarom was hulle seker dat Pilatus die ‘regte’ besluit rakende Jesus sou neem.


Dit is interessant dat die Jode nie self in 'n nie-Joodse huis ingaan nie, sodat hulle nie onrein word vir die fees nie. Hulle behou hierdie klein waarnemings terwyl hulle die groot, belangrike dinge ignoreer. Hulle het pas blatant Jesus se verhoorregte geskend, maar tog bly hulle buite die heidense woning totdat Pilatus uitkom om met hulle te praat.


Dit is dieselfde tipe skynheiligheid waarvoor Jesus hulle veroordeel het in Mattheus.


“Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.”   MATTHÉÜS 23:23 AFR53


Intussen probeer Judas om die 30 silwerstukke terug te gee, maar die owerpriester en ouderlinge het egter geen saak met hom nie. Judas gooi toe die geld in die tempel neer, loop weg en hang homself.


“Daarna het Judas, sy verraaier, toe hy sien dat Hy veroordeel was, berou gekry en die dertig silwerstukke teruggebring na die owerpriesters en die ouderlinge en gesê: Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai. Maar hulle sê: Wat gaan dit ons aan? Jy kan toesien! En hy het die silwerstukke in die tempel neergegooi en weggeloop en homself gaan ophang.”   MATTHÉÜS 27:3-5 AFR53


Die owerpriesters was bereid om hul eie Messias op die Pasga tereg te stel, maar hulle wil nie die 30 silwerstukke in die tempelskatkis sit nie. Hulle het duidelik hul prioriteite misplaas.


“En die owerpriesters het die silwerstukke geneem en gesê: Dit is nie geoorloof om dit in die skatkis te stort nie, omdat dit bloedgeld is. En nadat hulle saam raad gehou het, het hulle die stuk grond van die pottebakker daarmee gekoop as 'n begraafplaas vir vreemdelinge. Daarom is dié stuk grond genoem Bloedgrond, tot vandag toe.”   MATTHÉÜS 27:6-8 AFR53


 

5 Augustus 2023


JOHANNES 18:29 AFR53

“En Pilatus het na hulle uitgekom en gesê: Watter beskuldiging bring julle teen hierdie man in?”


Die Jode het oor die algemeen op die geskrewe Torah sowel as hul mondelinge tradisie staat gemaak. Met die betrokkenheid van Pilatus moet hulle nou Romeinse reëls ook in ag neem, en die Romeinse reg het drie vereistes gehad. Daar moes 'n spesifieke aanklag wees, die beskuldigde het 'n reg gehad om die wat hom aankla in die gesig te staar, en hy het 'n reg gehad om vir homself te antwoord.


Die Joodse leiers wat Jesus na Pilatus gebring het, wou hê dat die Romeinse goewerneur net hulle woord moes aanvaar sonder om deur die Romeinse regsproses te gaan. Pilatus speel egter nie saam nie. Hy sê vir hulle om Jesus self te oordeel en volgens hulle eie wet. Die Jode herinner hom dadelik aan hul penarie -  as Romeinse onderdane word hulle nie toegelaat om ‘n doodsvonnis uit te spreek nie.


Dit blyk dat Pilatus nie vir Jesus wil doodmaak nie, en hy probeer op ses verskillende geleenthede om Hom vry te laat. Hierdie was die eerste keer.


“En Pilatus sê vir hulle: Neem julle Hom en oordeel Hom volgens julle wet. En die Jode sê vir hom: Dit is ons nie geoorloof om iemand dood te maak nie —”   JOHANNES 18:31 AFR53


Die volgende vyf geleenthede is in die volgende verse.


2. Pilatus vind geen skuld in Jesus nie.

“Pilatus sê vir Hom: Wat is waarheid? En toe hy dit gesê het, gaan hy weer uit na die Jode en sê vir hulle: Ek vind geen skuld in Hom nie.”   JOHANNES 18:38 AFR53


3. Hy bied aan om Jesus vry te laat, maar die skare kies Barabbas

“Maar julle het 'n gewoonte dat ek vir julle op die pasga iemand moet loslaat; wil julle dan hê dat ek vir julle die Koning van die Jode moet loslaat?”   JOHANNES 18:39 AFR53


4. Jesus word gegesel, verneder en gemartel en Pilatus gaan terug na die skare en sê weer dat Hy geen skuld in Jesus vind nie.

“Toe neem Pilatus dan vir Jesus en laat Hom gésel. En die soldate het 'n kroon van dorings gevleg en dit op sy hoof gesit, en 'n purper kleed om Hom gewerp en gesê: Wees gegroet, Koning van die Jode! En hulle het Hom in die aangesig geslaan. Pilatus gaan toe weer buitentoe en sê vir hulle: Kyk, ek bring Hom vir julle uit buitentoe, sodat julle kan weet dat ek in Hom geen skuld vind nie.”   JOHANNES 19:1-4 AFR53


5. Pilatus sê vir die owerpriesters en dienaars hy vind geen skuld nie, en hulle moet Jesus kruisig.

“En Jesus het uitgekom buitentoe en die doringkroon en die purperkleed gedra. En Pilatus sê vir hulle: Dáár is die mens! En toe die owerpriesters en die dienaars Hom sien, skreeu hulle en sê: Kruisig, kruisig Hom! Pilatus sê vir hulle: Neem julle Hom en kruisig Hom, want ek vind geen skuld in Hom nie.”   JOHANNES 19:5-6 AFR53


6. Pilatus probeer ‘n laaste keer om Jesus los te laat, maar die skare raak net meer oproerig.

“Hierop het Pilatus probeer om Hom los te laat, maar die Jode het geskreeu en gesê: As u Hom loslaat, is u nie die keiser se vriend nie. Elkeen wat homself koning maak, kom in verset teen die keiser. En toe Pilatus hierdie woord hoor, het hy Jesus buitentoe gebring en op die regterstoel gaan sit in die plek wat Plaveisel genoem word, en in Hebreeus Gábbata.”   JOHANNES 19:12-13 AFR53


 

6 Augustus 2023


JOHANNES 18:33 AFR53

“Pilatus gaan toe weer in die goewerneur se paleis en roep Jesus en sê vir Hom: Is U die Koning van die Jode?”


Pilatus se woordkeuse is interessant. Hy, as die verteenwoordiger van die wêreldmag van daardie tyd, is besig om bloot te stel dat Israel hul Koning verwerp.


“Jesus antwoord hom: Sê u dit uit uself, of het ander u dit van My gesê? Pilatus antwoord: Is ek dan 'n Jood? U volk en die owerpriesters het U aan my oorgelewer. Wat het U gedoen?”   JOHANNES 18:34-35 AFR53


As Romeinse goewerneur in Judea was dit Pilatus se primêre verantwoordelikheid om vrede en orde te handhaaf. Kajafas (die hoëpriester) het Jesus daarvan beskuldig dat Hy beweer dat Hy 'n Koning is en daarmee geïnsinueer dat Jesus instaat was om ‘n rebellie te loods en oproerigheid te veroorsaak. Kajafas het gehoop dat Pilatus sou besluit om Jesus dood te maak om 'n rebellie te vermy.


Toe Jesus antwoord dat Sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie, het Hy in wese vir Pilatus gesê dat Hy geen aardse verdediging nodig het nie, want Sy koninkryk was nie van die wêreld nie. Jesus het erken dat Hy die hoof was van 'n ryk, maar nie een wat Rome as 'n politieke mededinger hoef te vrees nie. As Sy koninkryk van hierdie wêreld was, sou Sy dienaars geveg het om Hom te verdedig.


“Jesus antwoord: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.”   JOHANNES 18:36 AFR53


Pilatus het besef dat Jesus geen belang daarin gehad het om 'n rebellie aan te wakker nie en het geen bedreiging vir Rome ingehou nie.


“Pilatus sê toe vir Hom: Is U dan tog 'n koning? Jesus antwoord: U sê dat Ek 'n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.”   JOHANNES 18:37 AFR53


Na aanleiding van hierdie gesprek het Pilatus vir die Joodse leiers gesê hy vind geen grondslag vir 'n aanklag teen Jesus nie.


“Pilatus sê vir Hom: Wat is waarheid? En toe hy dit gesê het, gaan hy weer uit na die Jode en sê vir hulle: Ek vind geen skuld in Hom nie.”   JOHANNES 18:38 AFR53


Pilatus probeer om vir Jesus Sy vryheid te gee met die jaarlikse gewoonte om een ​​man van die Joodse volk vry te laat. Die godsdienstige leiers kies egter vir Barabbas bo Jesus, ‘n rower en ‘n moordenaar.


“Maar julle het 'n gewoonte dat ek vir julle op die pasga iemand moet loslaat; wil julle dan hê dat ek vir julle die Koning van die Jode moet loslaat? Toe skreeu hulle almal weer en sê: Nie vir Hom nie, maar Barábbas! En Barábbas was 'n rower.”   JOHANNES 18:39-40 AFR53


 

7 Augustus 2023


LUKAS 23:4-5 AFR53

“En Pilatus sê vir die owerpriesters en die skare: Ek vind geen skuld in hierdie man nie. Maar hulle het aangehou en gesê: Hy maak die volk oproerig met sy leer die hele Judéa deur, vandat Hy in Galiléa begin het tot hiertoe.”


Galilea is hier die uitkoms waarvoor Pilatus gewag het. Galilea is Herodus se magsgebied, so Pilatus hoef nie verder met die Jesus probleem opgeskeep te sit nie.


Herodus was ook in Jerusalem, en Pilatus stuur Jesus onverwyld soontoe.


“En toe Pilatus van Galiléa hoor, vra hy of die man 'n Galiléër is. En nadat hy verneem het dat Hy uit die magsgebied van Herodes was, stuur hy Hom na Herodes wat self ook in daardie dae in Jerusalem was.”   LUKAS 23:6-7 AFR53


Herodus stel nie belang in Jesus se leerstellings nie en wil Hom glad nie volg nie, hy wil net iets opwindends sien. Hy wil graag een van Jesus se wonderwerkek sien waarvan hy soveel gehoor het.


“En toe Herodes Jesus sien, was hy baie bly, want hy was al geruime tyd begerig om Hom te sien, omdat hy veel van Hom gehoor het; en hy het gehoop om een of ander teken te sien wat deur Hom gedoen sou word.”   LUKAS 23:8 AFR53


Jesus stel egter nie belang in Herodes se vermaak nie. Die volgende wonder wat Jesus gaan verrig, sal later plaasvind, en dit sal die belangrikste wonderwerk van alle tye wees.


Herodes hanteer Jesus met veragting maar dink ook nie dat Jesus doodgemaak moet word nie. Tog laat hy Jesus ook nie vry nie. Hy draai net die tafels om en stuur Jesus terug na Pilatus toe wat beteken dat Pilatus die uiteindelike besluit moet neem oor Jesus se toekoms.   


“En hy het Hom met baie woorde uitgevra, maar Hy het hom niks geantwoord nie. En die owerpriesters en die skrifgeleerdes het Hom heftig staan en beskuldig. En nadat Herodes saam met sy soldate Hom met veragting behandel en bespot het, werp hy Hom 'n blink kleed om en stuur Hom terug na Pilatus.”   LUKAS 23:9-11 AFR53


Pilatus moet iets doen, maar hy wil Jesus steeds nie doodmaak nie. Hy besluit om iets anders te probeer, en Jesus word gegesel. Dit beteken dat hulle Jesus met ‘n sweep geslaan het.


“Toe neem Pilatus dan vir Jesus en laat Hom gésel.”   JOHANNES 19:1 AFR53


Wettiglik moes Pilatus vir Jesus vrygelaat het, maar hy is in 'n hoek vasgekeer. Dit is terloops onwettig om Jesus te gesel, want Jesus is aan niks skuldig bevind nie en is nie amptelik gevonnis nie. Pilatus wil egter keer om 'n onskuldige man dood te maak.


Volgens Deuteronomium was veertig die maksimum slae met ‘n gesel straf. Die Romeine het egter nie so 'n beperking gehad nie. Ons het geen idee hoeveel slae Jesus onder die Romeine ontvang het nie, maar ons vermoed dit was 'n verskriklike straf. As Pilatus simpatie vir Jesus wou werf, moes die geseling wreed wees. Ons weet wel Jesus is so erg geslaan dat Hy nie sy eie kruis kon dra nie.


“as dan die skuldige slae verdien, moet die regter hom laat lê en hom in sy teenwoordigheid met 'n aantal slae laat slaan ooreenkomstig sy skuld; veertig slae mag hy hom laat gee, nie meer nie, dat hy hom nie verder met baie slae bo dié laat slaan en jou broer voor jou oë veragtelik gemaak word nie.”   DEUTERONÓMIUM 25:2-3 AFR53


 

8 Augustus 2023


JOHANNES 19:2-3 AFR53

“En die soldate het 'n kroon van dorings gevleg en dit op sy hoof gesit, en 'n purper kleed om Hom gewerp en gesê: Wees gegroet, Koning van die Jode! En hulle het Hom in die aangesig geslaan.”


Sterk professionele soldate werp ‘n pers kleed om Jesus om Sy posisie as Koning te bespot en hulle druk 'n doringkroon op Sy kop neer en slaan Hom in die gesig.


Matteus, Markus en Johannes vertel almal hierdie vind plaas nadat Jesus gegesel is. Dit is hier waar ons enige sin verloor van hoe Jesus oorspronklik gelyk het.


‘n Riet word dan in Jesus se hand geplaas as ‘n skyn septer en hulle buig spottend voor Hom neer. Toe spoeg hulle op Hom en ruk die riet uit Sy hand om Hom daarmee op die kop te slaan.


“En hulle slaan Hom met 'n riet op die hoof en spuug op Hom en val op die knieë en bring Hom hulde.”   MARKUS 15:19 AFR53


“en hulle vleg 'n kroon van dorings en sit dit op sy hoof, en 'n riet in sy regterhand; en hulle val op hul knieë voor Hom en bespot Hom en sê: Wees gegroet, Koning van die Jode! En hulle spuug op Hom en neem die riet en slaan Hom op sy hoof.”   MATTHÉÜS 27:29-30 AFR53


Ons kan ons voorstel hoe die skerp dorings Jesus se kop deurboor het, maar dit is moeilik om 'n ware waardering te kry vir die wreedheid wat Jesus ervaar het sonder die hulp van die Ou Testament.


Hulle het hom met die vuis geslaan en op hom gespoeg. Miga vertel dat hulle hom met 'n stok in die gesig geslaan het,


“Nou sal jy by hope bymekaar moet kom, o dogter van krygsbendes; die vyand het 'n wal teen ons opgegooi; met 'n stok slaan hulle die regeerder van Israel op die kakebeen.”   MIGA 4:14 AFR53


en Jesaja vertel dat hulle selfs Sy baard uitgeskeur het.


“Ek het my rug gegee vir die wat slaan, en my wange vir die wat die hare uitpluk; my aangesig het Ek nie verberg vir smaadhede en bespuwing nie.”   JESAJA 50:6 AFR53


Jesaja se beskrywing help ons om die omvang van die skade wat Jesus daardie dag aangedoen is, te verstaan.


“Soos baie hulle oor U verstom het — so misvormd was sy voorkoms, geen mens meer nie, en sy gestalte was nie soos dié van 'n mensekind nie —”   JESAJA 52:14 AFR53


Met ander woorde, Hy het skaars soos ‘n mens gelyk nadat hulle klaar met Hom was. Dit kan verklaar waarom Jesus se eie dissipels Hom na die Opstanding nie herken het nie.


 

9 Augustus 2023


JESAJA 53:3 AFR53

“Hy was verag en deur die mense verlaat, 'n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie 'n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.”


Jesaja profeteer lank voor dit gebeur hoe erg Jesus se marteling sou wees en waarom Hy die lyding verduur het.


“Nogtans het Hý óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte — dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.”   JESAJA 53:4 AFR53


Jesus neem die straf vir ons sondes op Hom deur gewond, gekneus en geslaan te word.

“Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”   JESAJA 53:5 AFR53


Jesus het stilgebly tydens Sy verdrukking.

“Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos 'n lam wat na die slagplek gelei word en soos 'n skaap wat stom is voor sy skeerders — ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.”   JESAJA 53:7 AFR53


Hy was geassosieer met beide die goddelose en die rykes.

“En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by 'n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie.”   JESAJA 53:9 AFR53


Dawid het Psalm 22 byna 1000 jaar voor Jesus se dood geskryf, tog beskryf hy met grafiese detail die gebeure wat rondom Jesus plaasgevind het tydens Sy kruisiging. Die psalm begin met Jesus se desperate uitroep vanaf die kruis.


“My God, my God, waarom het U my verlaat, ver van my hulp, van die woorde van my gebrul?”   PSALMS 22:2 AFR53


Hulle spot Hom en lag vir Hom terwyl Hy sterwend aan die kruis hang.

“Almal wat my sien, spot met my; hulle steek die lip uit, hulle skud die hoof en sê:”   PSALMS 22:8 AFR53


Sy bene is uit gewrig, Sy krag is weg, en Sy mond is verskriklik droog. Sy hart is nie net gebreek nie, dit is heeltemal weggesmelt.

“Ek is uitgestort soos water; al my beendere raak los; my hart het soos was geword; dit het gesmelt binne-in my ingewande. My krag is verdroog soos 'n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; en U lê my neer in die stof van die dood.”   PSALMS 22:15-16 AFR53


Hy is omring deur vyande wat na Hom staar. Hulle het Sy hande en voete deurboor, en al Sy bene is sigbaar onder Sy vel.

“Want honde het my omsingel; 'n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe. Al my beendere kan ek tel; húlle kyk, hulle sien met welgevalle op my neer!”   PSALMS 22:17-18 AFR53


 

10 Augustus 2023


JOHANNES 19:5 AFR53

“En Jesus het uitgekom buitentoe en die doringkroon en die purperkleed gedra. En Pilatus sê vir hulle: Dáár is die mens!”


Pilatus bring Jesus uit voor die skare nadat hulle hom geslaan, gespoeg, vermink en verneder het.

Hy hoop dat Jesus se vyande simpatie sal toon met die verminkte en vernederde vorm wat aan hulle voorgehou word.


Pilatus sê die rede hoekom hy Jesus vir die skare uitbring is om vir hulle te laat weet dat Hy geen skuld in Hom vind nie.


“Pilatus gaan toe weer buitentoe en sê vir hulle: Kyk, ek bring Hom vir julle uit buitentoe, sodat julle kan weet dat ek in Hom geen skuld vind nie.”   JOHANNES 19:4 AFR53


Die Jode gaan nie in die gebou in nie. Pilatus moet uitgaan na hulle toe en Jesus buite aan hulle voorhou. Pilatus kon dit as 'n verskoning gebruik het om Jesus vry te laat, aangesien geen formele aanklagte voorgelê is nie, maar hy doen dit nie. Hy verklaar Jesus onskuldig, maar Hy laat Hom nie los nie.


Sewe keer word Jesus tydens hierdie verrigtinge onskuldig verklaar. Sewe keer.


Judas sê hy het onskuldige bloed verraai.

1. “en gesê: Ek het gesondig deur onskuldige bloed te verraai. Maar hulle sê: Wat gaan dit ons aan? Jy kan toesien!”   MATTHÉÜS 27:4 AFR53


Pilatus se vrou waarsku hom.

2. “En terwyl hy op die regbank sit, het sy vrou na hom gestuur en gesê: Moet tog niks te doen hê met dié regverdige man nie, want ek het vandag in 'n droom baie gely om sy ontwil.”   MATTHÉÜS 27:19 AFR53


Pilatus verklaar twee keer dat Jesus onskuldig is.

3. “Pilatus sê vir Hom: Wat is waarheid? En toe hy dit gesê het, gaan hy weer uit na die Jode en sê vir hulle: Ek vind geen skuld in Hom nie.”   JOHANNES 18:38 AFR53


4. “En toe die owerpriesters en die dienaars Hom sien, skreeu hulle en sê: Kruisig, kruisig Hom! Pilatus sê vir hulle: Neem julle Hom en kruisig Hom, want ek vind geen skuld in Hom nie.   JOHANNES 19:6 AFR53


Pilatus wys daarop dat Herodes ook niks in Jesus gevind het wat Sy dood regverdig het nie.

5. “ja, ook Herodes nie, want ek het julle na hom gestuur; en daar is deur Hom niks gedoen wat die dood verdien nie.”   LUKAS 23:15 AFR53


Pilatus was sy hande oor die saak en verklaar.

6. “En toe Pilatus sien dat niks help nie, maar dat daar eerder 'n oproer kom, het hy water geneem en sy hande voor die skare gewas en gesê: Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie regverdige man; julle kan toesien!”   MATTHÉÜS 27:24 AFR53


Die Romeinse hoofman oor honderd wat Jesus sien sterf het gesê.

7. “En toe die hoofman oor honderd sien wat daar gebeur, het hy God verheerlik en gesê: Waarlik, hierdie man was regverdig.”   LUKAS 23:47 AFR53


Die een na die ander erken dat Jesus onskuldig is, dat Hy 'n regverdige man is wat uit afguns gearresteer is. Hulle weet almal dat Jesus niks verkeerd gedoen het nie, maar niemand dring daarop aan dat Pilatus Hom vry laat gaan nie. Pilatus wil Jesus vrylaat, maar hy doen dit nie. Hy kapituleer, en hy laat uiteindelik toe dat 'n onskuldige man deur Sy vyande doodgemaak word.


 

11 Augustus 2023


JOHANNES 19:6 AFR53

“En toe die owerpriesters en die dienaars Hom sien, skreeu hulle en sê: Kruisig, kruisig Hom! Pilatus sê vir hulle: Neem julle Hom en kruisig Hom, want ek vind geen skuld in Hom nie.”


Die godsdiensleiers se hoof probleem met Jesus is dat Hy Homself die Seun van God noem.


“Die Jode antwoord hom: Ons het 'n wet en volgens ons wet moet Hy sterf, omdat Hy Homself die Seun van God gemaak het.”   JOHANNES 19:7 AFR53


Tot nou toe het Pilatus probeer wegkom van hierdie irriterende situasie waarin die godsdiensleiers hom laat beland het. Wanneer hulle egter sê dat Jesus Homself die Seun van God noem, word Pilatus opreg bang.


“En toe Pilatus hierdie woord hoor, het hy nog meer bevrees geword”.  JOHANNES 19:8 AFR53


Ons mag dalk dink dat hierdie bewering nie gewig sal dra by 'n Romeinse administrateur nie, maar ons moet onthou dat die Romeine nie soos die Jode gedink het nie. Vir 'n heidense leier was die god-mens situasie ‘n moontlikheid wat ondersoek moes word.


Griekse en Romeinse mitologie was gevul met verslae van gode wat onder mense woon, en Pilatus het rede gehad om te vrees dat hierdie bewering deur Jesus waar kan wees! Indien wel, is hy in groot moeilikheid, daarom praat hy weer met Jesus oor hierdie nuwe aanklag.


“en weer in die paleis ingegaan en vir Jesus gesê: Van waar is U? Maar Jesus het hom geen antwoord gegee nie. En Pilatus sê vir Hom: Praat U nie met my nie? Weet U nie dat ek mag het om U te kruisig en mag het om U los te laat nie? Jesus antwoord: U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde.”   JOHANNES 19:9-11 AFR53


Hierdie was Jesus se laaste amptelike getuienis voor hy gekruisig is. Jesus smeek nie vir Sy lewe nie. Hy blyk nie bekommerd te wees dat Hy in doodsgevaar is nie. Terwyl Hy daar staan behou Hy Sy kalme vertroue en gesag. Jesus verontskuldig nie vir Pilatus nie, Hy verklaar net dat Pilatus se sonde minder is as dié wat Hom oorgegee het. Dit maak Pilatus bang, en hy gaan voort om elke manier te soek om Jesus te bevry sonder om 'n oproer te veroorsaak.


“Hierop het Pilatus probeer om Hom los te laat, maar die Jode het geskreeu en gesê: As u Hom loslaat, is u nie die keiser se vriend nie. Elkeen wat homself koning maak, kom in verset teen die keiser.”   JOHANNES 19:12 AFR53


Die Jode speel op Pilatus se gevoel en skree dat as hy vir Jesus loslaat is hy nie die keiser se vriend nie, en so daag hulle Pilatus se persoonlike lojaliteit teenoor die keiser uit.


Pilatus huiwer nie meer oor wat hom te doen staan nie. Sy eie posisie en sy lewe kan in gevaar wees, en hy maak hom dus gereed om die finale vonnis uit te spreek, wat noodwendig vanuit die openbare regterstoel buite die paleis gedoen moet word.


“En toe Pilatus hierdie woord hoor, het hy Jesus buitentoe gebring en op die regterstoel gaan sit in die plek wat Plaveisel genoem word, en in Hebreeus Gábbata.”   JOHANNES 19:13 AFR53


 

12 Augustus 2023


JOHANNES 19:16 AFR53

“Toe het hy Hom dan aan hulle oorgegee om gekruisig te word. En hulle het Jesus geneem en Hom weggelei.”


Jesus en die ander twee misdadigers word gelei na Golgota, wat skedel beteken, daarom ook genoem Hoofskedelplek.


“En Hy het sy kruis gedra en uitgegaan na die sogenaamde Hoofskedelplek, in Hebreeus Gólgota, waar hulle Hom gekruisig het en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, en Jesus in die middel.”   JOHANNES 19:17-18 AFR53


Simon van Sirene, ‘n onbekende persoon, word in Jesus se storie ingeskryf as die persoon wat Jesus se kruis vir Hom gedra het.


“En hulle het 'n sekere Simon van Ciréne wat van die veld af gekom het, die vader van Alexander en Rufus, gedwing om sy kruis te dra.”   MARKUS 15:21 AFR53


Chuck Missler sê hy is oortuig dat hierdie plek, buite die stad Jerusalem, die presiese plek is waar Abraham vir Isak 2000 jaar vroeër as 'n offer aangebied het. Abraham het geweet wat hy daardie dag doen. Hy het geweet dat hy besig was om profesie uit te voer, want hy het die plek genoem: Die Here sal voorsien!


“En Abraham het dié plek genoem: Die Here sal voorsien! Sodat vandag nog gesê word: Op die berg van die Here sal dit voorsien word.”   GÉNESIS 22:14 AFR53


Tweeduisend jaar later het God voorsien. Terwyl God vir Abraham 'n ram voorsien het as 'n plaasvervanger vir Isak, het 'n Vader twee millenium later wel Sy Seun geoffer as 'n plaasvervanger vir die hele wêreld.


Jesus is na Golgota gelei, wat buite die poort van die stad was. Die skrywer van Hebreërs verduidelik en sê:


“want die diere waarvan die bloed vir die sonde deur die hoëpriester in die heiligdom ingedra word — hulle liggame word buitekant die laer verbrand. Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely.”   HEBREËRS 13:11-12 AFR53


Om gekruisig te word is een van die wreedste maniere om te sterf. Daar word beweer dat sommige mense nege dae geneem het om te sterf. Dit was 'n stadige, pynlike dood waar die gekruisigde versmoor het.


Die hande (of polse) is uitgestrek en aan die dwarsbalk van die kruis vasgespyker, en die voete is aan die vertikale paal vasgespyker. Die arms wat gehang het, het vernouing van die longe veroorsaak, wat beteken het dat die slagoffer op sy genaelde voete moes druk om asem te haal.


Jy kan jouself voorstel dat die proses pynlik was. Trouens, die woord ‘uitputtend’ kom van die Latynse woord vir marteling, cruciatus, wat kom van die Latynse woord crux, vir kruis.


 

13 Augustus 2023


JOHANNES 19:19 AFR53

“En Pilatus het ook 'n opskrif geskrywe en dit op die kruis gesit; en daar was geskrywe: JESUS, DIE NASARÉNER, DIE KONING VAN DIE JODE.”


Pilatus se opskrif op Jesus se kruis was soos ‘n kennisgewing vir almal om te lees, en baie Jode het dit gelees want Jesus is naby die stad gekruisig.


“Hierdie opskrif dan het baie van die Jode gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was; en dit was geskrywe in Hebreeus en Grieks en Latyn.”   JOHANNES 19:20 AFR53


Pilatus het gedurende die beproewinge gefokus op Jesus se posisie as die Christus, die Koning. Nou maak hy dit amptelik deur 'n plakkaat bo Jesus se kop te hang, en hy skryf dit in Hebreeus, Grieks en Latyn. Latyn was die amptelike taal van die Romeinse Ryk, en Grieks was destyds die internasionale taal van die wêreld.


Wat hy egter in Hebreeus geskryf het, is verstommend. Ons mis dit, want meeste van ons lees nie Hebreeus nie, maar Pilatus se bewoording skok die Jode wat dit lees. Die owerpriesters sê vir Pilatus om die titel te verander, maar Pilatus weier.


“En die owerpriesters van die Jode het vir Pilatus gesê: Moenie skrywe: Die Koning van die Jode nie; maar dat Hy gesê het: Ek is die Koning van die Jode. Pilatus het geantwoord: Wat ek geskryf het, het ek geskrywe.”   JOHANNES 19:21-22 AFR53


Jesus van Nasaret, Koning van die Jode - wanneer hierdie in Hebreeus geskryf word, spel die eerste letter van elk van die vier woorde YHWH – Yahweh, die onuitspreeklike Naam van God.


Pilatus stel die Fariseërs doelbewus in die verleentheid deur 'n akroniem van Jesus se titel te maak. Dit beteken nie noodwendig dat Pilatus geglo het dat Jesus, Yahweh is nie, maar dit is interessant dat hy dit so neerskryf. Hy moes weet dit sou die Joodse leierskap wat sy dag bederf het, ontstel.


Aan die ander kant het Pilatus dalk baie meer insig gehad as waarvoor ons hom krediet gee. Hy het immers persoonlik met Jesus gesels. 'n Dag of twee na die kruisiging kom die Fariseers en Owerpriesters na Pilatus om die volgende te vra.


“en sê: My heer, ons herinner ons dat dié verleier, toe hy in die lewe was, gesê het: Oor drie dae staan ek op. Gee dan bevel dat die graf verseker word tot die derde dag toe, dat sy dissipels nie miskien in die nag kom en Hom steel nie, en vir die volk sê: Hy het opgestaan uit die dode. En die laaste dwaling sal erger wees as die eerste.”   MATTHÉÜS 27:63-64 AFR53


Pilatus antwoord dat hulle so seker moet maak as wat moontlik is. Mens kry die indruk dat Pilatus nie verbaas is wanneer Jesus die derde dag opstaan ​​nie. Miskien het Pilatus tog geweet wie Jesus werklik was….


“Daarop sê Pilatus vir hulle: Julle sal 'n wag kry; gaan verseker dit soos julle dit verstaan. En hulle het gegaan en die graf verseker deur die steen te verseël in teenwoordigheid van die wag.”   MATTHÉÜS 27:65-66 AFR53


 

14 Augustus 2023


JOHANNES 19:23 AFR53

“En toe die soldate Jesus gekruisig het, neem hulle sy klere en maak vier dele, vir elke soldaat 'n deel, en die onderkleed; maar die onderkleed was sonder naat, van bo af in een stuk gewewe.”


Johannes is die enigste Evangelieskrywer wat die detail gee oor hoekom hulle oor Jesus se klere die lot gewerp of gedobbel het - want die onderkleed was geweef sonder ‘n naat.


“En hulle het vir mekaar gesê: Laat ons dit nie skeur nie, maar laat ons die lot daaroor werp, wie s'n dit sal wees — sodat die Skrif vervul sou word wat sê: Hulle het my klere onder mekaar verdeel en oor my gewaad het hulle die lot gewerp. Dit het die soldate dan gedoen.”   JOHANNES 19:24 AFR53


Die Skrif wat vervul word is vers 19 van Psalm 22.


“Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad.”   PSALMS 22:19 AFR53


14 Nisan wat die vorige aand begin het, was ‘n lang aand met genoeg gebeure om dit in ‘n week in te pas. Alles wat ons egter gelees het, het gebeur van sononder tot 9:00 die volgende oggend.


Jesus en Sy disippels het sononder van 14 Nisan begin om nagmaal te hou en in die proses vir Judas van die verrigtinge te verskoon om sy slinkse gekonkel uit te voer.


Daarna is Jesus na die Tuin van Getsemane om te bid waarna 600 soldate saam met Judas opgedaag het om Hom in hegtenis te neem.


Deur die nag verskyn Jesus eers voor sy eie mense - Annas, Kajafas en toe die Joodse Raad.

Teen sonsopkoms verskyn Jesus voor die Romeinse gesag - Pilatus, Herodes en weer Pilatus.


Intussen is Jesus gegesel, op gespoeg, in die gesig geslaan, Sy baard is uitgeruk en ‘n doringkroon op Sy hoof gedruk - so misvorm dat Hy nie meer soos ‘n mens gelyk het nie.


Jesus stap na Golgota met Sy kruis en word tussen twee boewe opgehang.


Dit is nou volgens Markus die derde uur of soos ons tyd ken, 9:00 die oggend van 14 Nisan.


“En dit was die derde uur toe hulle Hom gekruisig het.”   MARKUS 15:25 AFR53


Die sesde uur of 12:00 die middag kom daar ‘n duisternis oor die hele aarde tot die negende uur of 15:00 die middag, toe Jesus uitroep: My God, my God, waarom het U My verlaat?


“En die negende uur het Jesus met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Eloï, Eloï, lamma sabagtáni? wat, as dit vertaal word, beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?”   MARKUS 15:34 AFR53


Die negende uur, 15:00 die middag van 14 Nisan, dieselfde tyd wat die priesters die lammers begin slag vir die Pasga, blaas Jesus Sy laaste asem uit.


“Maar Jesus het met 'n groot stem geroep en die laaste asem uitgeblaas.”   MARKUS 15:37 AFR53


 

15 Augustus 2023


MATTHÉÜS 27:50 AFR53

“Daarop het Jesus weer met 'n groot stem geroep en die gees gegee.”


Jesus se laaste woorde op die kruis is vir ons geleer as die sewe kruiswoorde.


1. Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!


“En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie. En hulle het sy klere verdeel en die lot daaroor gewerp.”   LUKAS 23:34 AFR53


2. Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.


“En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.”   LUKAS 23:43 AFR53


3. Vrou, daar is jou seun; Seun, daar is jou moeder.


“En toe Jesus sy moeder sien en die dissipel wat Hy liefgehad het, by haar staan, sê Hy vir sy moeder: Vrou, dáár is u seun! Daarop sê Hy vir die dissipel: Dáár is jou moeder! En van daardie uur af het die dissipel haar in sy huis geneem.”   JOHANNES 19:26-27 AFR53


4. My God, my God, waarom het U My verlaat!


“en omtrent die negende uur het Jesus met 'n groot stem geroep en gesê: Eli, Eli, lama sabagtáni? Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?”   MATTHÉÜS 27:46 AFR53


5. Ek het dors.


“Hierna, omdat Hy geweet het dat alles al volbring was — sodat die Skrif vervul sou word — het Jesus gesê: Ek het dors!”   JOHANNES 19:28 AFR53


6. Dit is volbring.


“En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.”   JOHANNES 19:30 AFR53


7. Vader, in u hande gee Ek my gees oor!


“En Jesus het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Vader, in u hande gee Ek my gees oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.”   LUKAS 23:46 AFR53


 

16 Augustus 2023


MATTHÉÜS 27:51 AFR53

“En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur;”


Die voorhangsel (‘n swaar gordyn) van die tempel het die Allerheiligste van die res van die tempel geskei. Die heiligste kamer in Israel, waarin die hoëpriester een keer per jaar op Yom Kippur ingegaan het om bloed op die versoendeksel van die Verbondsark te sprinkel. Die hoëpriester alleen is toegelaat om verby die voorhangsel by die Allerheiligste in te gaan.


Maar, toe Jesus sterf, het die swaar lapdoek, die voorhangsel, van die plafon tot op die vloer geskeur, wat beteken dat die nuwe verbond nou ingestel is. Jesus het sy bloed vir eens en vir altyd aangebied, soos Hebreërs verduidelik.


“Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en 'n ewige verlossing teweeggebring.” HEBREËRS 9:11-12 AFR53

Die voorhangsel van die tempel het geskeur. Daar was aardbewings, en die son het donker geword. Mattheus vertel verder dat grafte oopgegaan het en baie wat dood was het weer lewendig geword en begin rondloop en met mense gepraat. Hierdie dinge was opmerklik vir al die aanwesiges.


“en die grafte het oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan. En ná sy opstanding het hulle uit die grafte uitgegaan en in die heilige stad ingekom en aan baie verskyn.” MATTHÉÜS 27:52-53 AFR53

Die hoofman oor honderd en die wat saam met hom was was bevrees en verwonderd met als wat gebeur.

“En toe die hoofman oor honderd en die wat saam met hom Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat daar gebeur, het hulle baie bevrees geword en gesê: Waarlik, Hy was die Seun van God.” MATTHÉÜS 27:54 AFR53

Die Romeinse soldate volg nie hul gewone instruksies nie. Wanneer hulle vind dat Jesus reeds dood is, spaar hulle Sy gebeente.

“Die soldate het toe gekom en die bene van die eerste een gebreek en van die ander een wat saam met Hom gekruisig was; maar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy al dood was, het hulle sy bene nie gebreek nie.” JOHANNES 19:32-33 AFR53


En so word nog profesieë vervul soos Johannes uitwys.


“Want hierdie dinge het gebeur, dat die Skrif vervul sou word: Geen been van Hom sal gebreek word nie.” JOHANNES 19:36 AFR53


Interessant hoeveel profetiese Psalms Dawid geskryf het.

“Sjin. Hy bewaar al sy bene: nie een daarvan word gebreek nie.” PSALMS 34:21 AFR53


Die Israeliete in Egipte word net voor hul uittog beveel om nie die bene van die lam te breek nie.


“In een huis moet dit geëet word; jy mag niks van die vleis uit die huis buitentoe bring nie; en julle mag geen been daarvan breek nie.” EXODUS 12:46 AFR53


 

17 Augustus 2023


JOHANNES 19:34 AFR53

“Maar een van die soldate het met 'n spies in sy sy gesteek, en dadelik het daar bloed en water uitgekom.”


Die Jode meng tot vandag toe tydens Pasga hul wyn met warm water, en hulle weet nie hoekom nie. In die Talmoed lees ons dat die Jode van ouds drie dele water met een deel wyn sou meng en daar is slegs spekulasie oor hoekom hulle dit sou doen. Dit kan wees dat vandag se kernvers daarmee verband hou met die bloed en water wat uit Jesus se liggaam uitgevloei het toe een van die soldate ‘n spies in Sy sy ingesteek het.


“En hy wat dit gesien het, het dit getuig, en sy getuienis is waaragtig; en hy weet dat hy die waarheid spreek, sodat julle kan glo. Want hierdie dinge het gebeur, dat die Skrif vervul sou word: Geen been van Hom sal gebreek word nie. En weer sê 'n ander Skrif: Hulle sal sien in wie hulle gesteek het.”   JOHANNES 19:35-37 AFR53


Johannes verwys na 'n Messiaanse profesie van Sagaria oor die eindtyd, wanneer God sy Gees op die mense van Jerusalem sal uitstort. Wanneer Jesus na Sy mense terugkeer, sal Hy Homself aan hulle openbaar, en hulle sal bitterlik ween oor Hom wat hulle deurboor het..


“Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos 'n mens rouklaag oor 'n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos 'n mens bitterlik ween oor 'n eersgebore kind.”   SAGARÍA 12:10 AFR53


Josef van Arimatea moes ‘n belangrike persoon wees, want nie enige persoon sou veral in dié besige tyd, toegang tot die Goewerneur van Rome kon kry nie. Hy was 'n ryk en magtige man en dit blyk dat hy ook ‘n naasbestaande van Jesus moes wees. Beide die Romeinse en Hebreeuse wette het vereis dat slegs naasbestaandes begrafnisse moes hanteer, selfs wanneer die oorledene 'n misdadiger was.


“En ná hierdie dinge het Josef van Arimathéa, wat 'n dissipel van Jesus was, maar in die geheim, uit vrees vir die Jode, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag wegneem. En Pilatus het dit toegelaat. Hy het toe gegaan en die liggaam van Jesus weggeneem.”   JOHANNES 19:38 AFR53


Josef neem versigtig Jesus se gekneusde en gebroke liggaam en saam met Nikodemus, draai hulle Sy liggaam in doeke toe saam met speserye soos hulle gewoonte was.


“En Nikodémus, wat die eerste maal in die nag na Jesus gegaan het, het ook gekom met 'n mengsel van mirre en alewee van omtrent honderd pond gewig. En hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit in doeke toegedraai saam met die speserye, soos die gewoonte van die Jode is om te begrawe.”   JOHANNES 19:39-40 AFR53


Josef begrawe Jesus in 'n privaat, nuutgesnyde graf in 'n nabygeleë tuin.


“En daar was op die plek waar Hy gekruisig is, 'n tuin, en in die tuin 'n nuwe graf waar nog nooit iemand in neergelê was nie.”   JOHANNES 19:41 AFR53


Jesus was saam met die diewe aan die kruis in Sy dood, en Hy is in 'n ryk man se graf begrawe, ter vervulling van Jesaja 53:9.


“En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by 'n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie.”   JESAJA 53:9 AFR53


 

18 Augustus 2023


JOHANNES 19:42 AFR53

“Daar het hulle Jesus toe neergelê weens die voorbereiding van die Jode, omdat die graf naby was.”


Die Jode vier jaarliks Paasfees om te herdenk hoe God hulle uit Egipteland uit die slawehuis uitgelei het. Christine vier Paasfees om te herdenk hoe Jesus vir ons sondes aan die kruis gesterf het. Waar het hierdie profetiese feeste hulle ontstaan gehad?


Kom ons kyk terug na waar God vir Moses en Aäron instruksies gegee het voor die uittog uit Egipte.


Op die 10de van die maand moet elke familie ‘n lam neem vir hul huisgesin.

- Jesus het met Sy inttog in Jerusalem op 10 Nisan Homself as ons Lam voorgestel.


“Spreek tot die hele vergadering van Israel en sê: Op die tiende van hierdie maand moet hulle elkeen 'n lam neem volgens die families, 'n lam vir 'n huisgesin.”   EXODUS 12:3 AFR53


‘n Lam sonder gebrek wat in bewaring gehou moet word tot die 14 de dag.

- Jesus is vir vier dae ondersoek deur die Skrifgeleerdes en Fariseërs en geen fout kon met Hom gevind word nie.


“Julle moet 'n lam hê sonder gebrek, 'n jaaroud rammetjie. Van die skape of van die bokke kan julle dit neem. En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand;”   EXODUS 12:5 -6a AFR53


Slag die lam teen die aand.

- Jesus sterf aan die kruis 15:00 die middag toe al die lammers geslag word.


“en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand.”   EXODUS 12:6 AFR53


Smeer die bloed van die lam op die deurposte en aan die bodrumpel van die huis waarin julle eet.

- Jesus se bloed op die kruis betaal vir ons sondes


“En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel, aan die huise waarin hulle dit eet.”   EXODUS 12:7 AFR53


Na die uittog uit Egipte gee God vir Moses opdrag om sekere feeste in te stel.


“Verder het die Here met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Die feestye van die Here wat julle moet uitroep as heilige samekomste — dit is my feestye.”   LEVÍTIKUS 23:1-2 AFR53


Die eerste fees moet op die veertiende dag van die eerste maand herdenk word.


“Dit is die feestye van die Here, die heilige vierdae wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd. In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die Here;”   LEVÍTIKUS 23:4-5 AFR53


 

14 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page