top of page
  • Regina Torre

Paasfees 2024

Updated: Apr 2


27 Maart 2024


LEVÍTIKUS 23:1-2 AFR53

Verder het die Here met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Die feestye van die Here wat julle moet uitroep as heilige samekomste — dit is my feestye.


Ons vier Paasfees hierdie jaar van Vrydag 29 Maart tot Maandag 1 April. Ek gaan in hierdie kort Bybelstudie terug na Levitikus 23 en kyk na die feeste wat God vir Moses gegee het om jaarliks te herdenk.


Die eerste drie van die feeste word gedurende die Paasnaweek gevier as volg:

  • Paasfees / Passover

  • Fees van Ongesuurde brode / Feast of Unleavened bread

  • Fees van Eerste Vrugte / Feast of First Fruits


Paasfees is een van die mooiste voorbeelde van God se profesieë wat letterlik vervul word, en ek verduidelik in die volgende paar dae wat ek bedoel.


Paasfees was en is vir die Israeliete ‘n gedenkfees om jaarliks te onthou hoe God hulle uitgelei het uit die land van Egipte, en hoe God hul gered het van slawerny.


Daarom, sê aan die kinders van Israel: Ek is die Here, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, en Ek sal julle verlos deur 'n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte; en Ek sal julle as my volk aanneem en vir julle 'n God wees. En julle sal erken dat Ek die Here julle God is wat julle uitlei onder die harde arbeid van die Egiptenaars uit. En Ek sal julle bring in die land waaromtrent Ek my hand opgehef het, om dit aan Abraham, aan Isak en aan Jakob te gee; en Ek sal dit aan julle as 'n besitting gee, Ek, die Here.   EXODUS 6:5-7 AFR53


Vir Christene is Paasfees ‘n gedenkfees om ons te herinner dat Jesus vir ons sondes aan die kruis gesterf het.


Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte; en dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf. Daarna het Hy verskyn aan oor die vyfhonderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het. Daarna het Hy verskyn aan Jakobus; daarna aan al die apostels; en laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene.   I KORINTHIËRS 15:3-8 AFR53


 

28 Maart 2024


EXODUS 12:3 AFR53

Spreek tot die hele vergadering van Israel en sê: Op die tiende van hierdie maand moet hulle elkeen 'n lam neem volgens die families, 'n lam vir 'n huisgesin.


Die paaslam word aan die priester voorgestel vir inspeksie.  Op die 10de dag van Nisan moet elke familie ‘n lam uitsoek. ‘n Lam vir elke huisgesin. Die dag, die 10de Nisan staan bekend as ‘lamb selection day’.


Jesus, ons Paaslam, stel Homself voor vir inspeksie op die 10de dag van Nisan met wat ons ken as ‘Die intog in Jerusalem’, en vervul so die profesie van Sagaria 9:9 en die Daniel 9:25.


En toe Hy naby Bétfagé en Betánië kom, by die berg wat die Olyfberg genoem word, het Hy twee van sy dissipels uitgestuur en gesê: Gaan in die dorp reg voor julle; en as julle daar inkom, sal julle 'n esels vul vind wat vasgemaak is, waar geen mens ooit op gesit het nie. Maak hom los en bring hom. En as iemand julle vra: Waarom maak julle hom los? — moet julle so vir hom sê: Die Here het hom nodig. En die wat gestuur was, gaan toe en vind dit soos Hy aan hulle gesê het. En terwyl hulle die vul losmaak, sê die eienaars aan hulle: Waarom maak julle die vul los? En hulle antwoord: Die Here het hom nodig. Toe bring hulle hom na Jesus toe, en hulle lê hul klere op die vul en laat Jesus daarop sit. En terwyl Hy voortgaan, gooi hulle hul klere oop op die pad. En toe Hy al naby die afdraand van die Olyfberg kom, begin die hele menigte dissipels God met blydskap te prys met 'n groot stem oor al die kragtige dade wat hulle gesien het, terwyl hulle sê: Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here, vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele! En sommige van die Fariseërs uit die skare sê vir Hom: Meester, bestraf u dissipels! En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep.   LUKAS 19:29-40 AFR53


Die lam moet van die 10de tot die 14de dag van Nisan in die gesin se huis in bewaring gehou word.


En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand;.......

EXODUS 12:6a AFR53


Jesus het na die inttog in Jerusalem op 10 Nisan tot en met 14 Nisan die mense by die tempel geleer en hulle kon geen fout met Hom vind nie.


En elke dag was Hy besig om in die tempel te leer; en die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die vernaamstes van die volk het probeer om Hom om te bring; en hulle het niks gevind wat hulle kon doen nie, want die hele volk het Hom aangehang en na Hom geluister.   LUKAS 19:47-48 AFR53


 

29 Maart 2024


LEVÍTIKUS 23:5 AFR53

In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die Here;

Paasfees begin altyd sononder op die 14de dag van Nisan. Paas Vrydag is vandag 29 Maart 2024, so in Joodse terme het die dag gister begin -  Donderdag, 28 Maart teen sononder.

Onthou dat hierdie Joodse feeste is en om die feeste te verstaan moet ons Noordelike halfrond dink. Maart / April is lente in die Noordelike halfrond en die Joodse dag begin ongeveer 6 uur die aand.


Die lam moet op 14 Nisan teen die aand geslag word.


.......... en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand.    EXODUS 12:6a AFR53


Jesus is die oggend 9:00 (3de uur) aan die kruis opgehang en Hy sterf 15:00 (9de uur) - dieselfde tyd wat al die lammers geslag word.


En dit was die derde uur toe hulle Hom gekruisig het.   MARKUS 15:25 AFR53


En toe dit die sesde uur was, kom daar duisternis oor die hele aarde tot die negende uur toe. En die negende uur het Jesus met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Eloï, Eloï, lamma sabagtáni? wat, as dit vertaal word, beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?

En sommige van die wat daar staan, hoor dit en sê: Kyk, Hy roep na Elía. Toe hardloop een en maak 'n spons vol asyn en sit dit op 'n riet en laat Hom drink; en hy sê: Wag, laat ons sien of Elía kom om Hom af te haal. Maar Jesus het met 'n groot stem geroep en die laaste asem uitgeblaas.   MARKUS 15:33-37 AFR53


Nadat die lam geslag is moet die bloed aan die kante en die bodrumpel van elke gesin se huisdeur aangestryk word - die huis waarin hulle die lam eet en vir die aand gaan vertoef.


En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel, aan die huise waarin hulle dit eet.”   EXODUS 12:7 AFR53


Ons kan terugkyk en verstaan dat die bloed aan die deur, Jesus se kruis voorstel as dit verbind sou word.


En toe hulle op die plek kom wat Hoofskedel genoem word, het hulle Hom daar gekruisig, en die kwaaddoeners, een aan die regter- en een aan die linkerkant.   LUKAS 23:33 AFR53


 

30 Maart 2024


EXODUS 12:46 AFR53

In een huis moet dit geëet word; jy mag niks van die vleis uit die huis buitentoe bring nie; en julle mag geen been daarvan breek nie.


Moses gee die volk opdrag dat geen been van die geslagte lam gebreek mag word nie. Ons sien hier die uitbeelding van ‘n toekomstige profesie. Nie een been van Jesus se liggaam is gebreek nie, want Hy was reeds dood toe die soldate by Sy kruis opdaag.


“maar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy al dood was, het hulle sy bene nie gebreek nie. Maar een van die soldate het met 'n spies in sy sy gesteek, en dadelik het daar bloed en water uitgekom. En hy wat dit gesien het, het dit getuig, en sy getuienis is waaragtig; en hy weet dat hy die waarheid spreek, sodat julle kan glo. Want hierdie dinge het gebeur, dat die Skrif vervul sou word: Geen been van Hom sal gebreek word nie.”   JOHANNES 19:33-36 AFR53


Die fees van ongesuurde brode is 7 dae lank en is ‘n aparte fees van paasfees. Die fees het ‘n voorbereidingsdag wat begin op 14 Nisan want saam met Paasfees moet daar ongesuurde brode geëet word. Die Fees van ongesuurde brode begin op 15 Nisan en eindig op 21 Nisan en altwee die dae is heilige samekomste. Op die dae mag geen werk gedoen word nie. Dit is nie noodwendig ‘n sabbat dag of Saterdag nie, maar moet as ‘n sabbat dag geheilig word.


“en op die vyftiende dag van hierdie maand is die fees van die ongesuurde brode van die Here; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet. Op die eerste dag moet daar vir julle 'n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. Maar julle moet sewe dae lank aan die Here 'n vuuroffer bring. Op die sewende dag moet daar 'n  heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.”   LEVÍTIKUS 23:6-8 AFR53


Wat is ongesuurde brood en waarom is dit belangrik? Suurdeeg is in die Bybel ‘n voorstelling van sonde. Hoekom? ‘n Klein bietjie suurdeeg laat n hele baksel deeg reis. Die brood wat geëet word, die brood gebak sonder suurdeeg, stel Jesus se liggaam voor, sonder sonde.


Hoe lyk die Joodse ongesuurde brode. Die brood is oortrek met strepe en gate. Die strepe stel voor die houe wat Jesus verduur het, en die gate die spykers wat in Sy hande en voete deurboor is, en die doringkroon op Sy hoof. Die brode word op ‘n draadrak gebak, vandaar die strepe, en daar word gate in die deeg gedruk sodat dit glad nie moet reis nie.


“Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.”   JESAJA 53:5 AFR5


 

31 Maart 2024 - Nagmaal


MATTHÉÜS 26:26 AFR53

En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.


Die brood


Ons het gister geleer dat suurdeeg ‘n prentjie is van sonde. Matza brood of ongesuurde brood is dus ‘n prentjie van Jesus - brood sonder sonde.

Matza is oortrek met strepe & gate en ons lees in Jesaja 53 – deur Sy wonde is ons genees. Die Engels stel dit beter - by His stripes we were healed.

Jesaja sê hier dat Jesus se gebreekte liggaam, vir ons gebreekte liggame genesing bring!

So wanneer jy met nagmaal jou brood eet, eet jy Jesus se genesing.


Jesus sit Homself hier IN die sakrament. Jesus se liggaam is die brood wat gebreek word,


Neem nou jul brood, eet dit, want dit is Jesus se liggaam wat vir jou gebreek is.


MATTHÉÜS 26:27-28 AFR53

Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.


Die wyn


Jesus is ons bruidegom wat aarde toe gekom het met ‘n huweliks aanbod vir ons. Jesus sluit met ons, die kerk, ‘n kontrak, en die kontrak is die Nuwe Testament.

Daar is ook ‘n BAIE DUUR prys betaal vir die kontrak – Jesus is gekruisig.


Die beker wat ons drink met nagmaal herinner ons aan die prys wat Jesus betaal het vir ons, Sy bruid en dat die Nuwe Testament die kontrak is wat in die transaksie gesluit is.


Elke keer wanneer ons met nagmaal die beker kry om die wyn te drink kom ons voor ‘n keuse. Aanvaar ons die huweliksaanbod, ons wys ons dit weg.


Weereens sit Jesus Homself in die sakrament – die wyn is Jesus se bloed wat gedrink  word.


Drink nou jul wyn - dit is Jesus se bloed wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.


 

1 April 2024


LEVÍTIKUS 23:11 AFR53

En hy moet die gerf voor die aangesig van die Here beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die sabbat moet die priester dit beweeg.


Die fees wat die Joodse volk op Paas Maandag vier met Jesus se opstanding is die Fees van Eerste Vrugte, en is vir die eerste keer gevier toe Joshua die volk deur die Jordaan rivier in die Beloofde Land ingelei het.


Vroeg die oggend van die fees van eerste vrugte word wierook op die eersteling gerf gesprinkel en dan waai die priester die gerf in al vier windrigtings in ‘n beweegoffer voor die Here. ‘n Deel van die gerf word hierna op die vuur van die altaar gegooi. Die rook wat dan van die altaar opgaan is ‘n lieflike geur vir God en wanneer die beweegoffer aanvaar is, word die res van die oes geag aanvaar te wees voor God.


Vroeg die oggend, toe die rook van die beweegoffer in die tempel opgaan, het die vrouens ontdek dat Jesus reeds opgestaan het uit die dood. Die twee engele sê vir die vroue dat Jesus nie daar is nie, maar Hy het opgestaan! Wat ‘n kragtige getuienis. Jesus, wat die oes verteenwoordig van die wat gaan opstaan, het eerste opgestaan. Paulus verduidelik die beginsel vir ons mooi!


Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. Want aangesien die dood deur 'n mens is, is die opstanding van die dode ook deur 'n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.   I KORINTHIËRS 15:20-23 AFR53


Hy het opgestaan! Ja, Hy het waarlik opgestaan!


Toe kom Simon Petrus agter hom aan en gaan in die graf en sien die doeke lê; en die doek wat op sy hoof was, sien hy nie by die doeke lê nie, maar opgerol op een plek afsonderlik. Daarop het ook die ander dissipel wat eerste by die graf gekom het, ingegaan, en hy het gesien en geglo. Want hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Hy uit die dode moes opstaan nie.   JOHANNES 20:6-9 AFR53


Nadat Jesus aan die mense verskyn het en Homself aan hulle bekend gestel het, het die woord van Sy opstanding vinnig versprei onder al die Christene.

Die eerste drie feeste wat ons na gekyk het is die lente feeste en Jesus vervul die feeste tot op die letter.

Op Paasfees bedek Jesus ons met Sy bloed sodat ons nie God se wraak sal sien nie. Hy word gekruisig op die presiese dag wat die onskuldige lam geslag word, op 14 Nisan. Hy sterf net voor die Fees van Ongesuurde Brode, om op te staan op die Fees van Eerste Vrugte.

Reg op tyd!

Die Fees van Eerste Vrugte is die laaste fees wat Jesus persoonlik tot vervulling bring.


 

31 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page