top of page

Paasfees 2022 – Die Seder fees!

Updated: Jan 28, 2023


Sondag, 10 April 2022


EXODUS 6:5-6 AFR53

“Daarom, sê aan die kinders van Israel: Ek is die Here, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, en Ek sal julle verlos deur ‘n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte; en Ek sal julle as my volk aanneem en vir julle ‘n God wees. En julle sal erken dat Ek die Here julle God is wat julle uitlei onder die harde arbeid van die Egiptenaars uit.”


Die Seder fees is ‘n fees wat jaarliks gedurende Paasfees deur elke Joodse familie gevier word. Die hoofdoel van hierdie fees is om te onthou! Om te onthou en vir die kinders te leer, hoe die God van Abraham, Isak en Jakob, die Israeliete uit Egipteland uit die slawehuis uitgelei het.


Hoekom sal ‘n Christen enige belangstelling in hierdie Joodse fees wil toon? Die uittog uit Egipte is ‘n kleedrepitisie vir die Paasfees, ‘n skadubeeld vir Jesus se kruisiging en elke gedeelte van die fees beeld iets van Jesus se kruisiging uit.


Seder beteken orde, en die handleiding vir die fees word ‘n Hagaddah genoem en dit beteken ‘om te vertel’ en dit is presies wat ons hierdie week gaan doen. Ek gaan twee verhale vertel. Ons gaan terug gaan in die geskiedenies, 3500 jaar gelede, en onthou wat ons geleer het toe ons nog in Sondagskool was. Ons gaan in die Ou Testament kyk hoe God Sy volk uit Egipte uitgelei het weg van hul slawerny. Die tweede verhaal is in die Nuwe Testament, en dit is die verhaal van Jesus se kruisiging & dood. Ek gaan die twee verhale bymekaar bring en vir julle wys dat die NT in die OT versteek is en die OT in die NT openbaar word.


Ons is in Israel in die noordelike halfrond, en dit is lente. Paasfees is altyd in die Joodse maand Nisan (ons Maart / April) en wel op die 14de Nisan, en word bepaal volgens die volmaan. As julle hierdie week in die naglug opkyk, sal julle sien dat dit volmaan is. Onthou ook dat die Joodse dag met sononder begin en nie 12 uur middernag soos ons dit doen nie.

Voor die fees is daar eers ‘n groot huis skoonmaak ritueel. Dit is waar die woord ‘Spring Cleaning’ vandaan kom. Daar moet veral gelet word om alle suurdeeg / yeast uit die huis te kry. Suurdeeg is die bestanddeel wat brooddeeg laat rys en suurdeeg in die Bybel is ‘n prentjie van sonde.


Die aand van die Paasfees net na sononder, vat die pa die kinders (onthou, hierdie is ‘n familie fees) en hulle gaan soek die broodkrummels of die sondes, wat vooraf weggesteek is. Hy het ‘n paar items om hom te help. Hulle steek ‘n kers aan om lig te maak, en vee dan die krummels met ‘n veer op ‘n houtlepel. Dan word die houtlepel met krummels in ‘n linnelap toegedraai, buitekant toe gevat, en verbrand.


Wat op aarde is hierdie ‘n prentjie van? Kom ons kyk. Die huis wat skoongemaak word is ons liggaam wat ‘n tempel is van God. Die lig is Jesus wat ‘n lamp is vir ons voete. Die veer is die Heilige Gees, ons Helper, wat ons help om ons sondes (broodkrummels) te vind en op die houtlepel te vee – Jesus se kruis. Die toedraai van die houtlepel en krummels is Jesus wat dood is en in linne toegedraai word. Dan word ons sondes in die vuur verbrand – Jesus het na die hel neergedaal vir my en jou sondes. Wow! En ons het nog nie formeel begin nie – is dit nie ‘n mooi prentjie nie!


Die familie sit nou aan by ‘n mooi gedekte tafel en die ma se taak is om ‘n kers aan te steek. Ons het reeds gesien dat die kers ‘n voorstelling is van Jesus, die lig vir die wereld. Die ma stel Maria voor wie se belangrike taak was om Jesus in die wêreld in te bring.


Elkeen kry ‘n wynglas of wynbeker wat deur die loop van die aand 4 keer gebruik word.


Die 4 bekers wat deur die loop van die aand gebruik gaan word is die 4 beloftes wat God vir die Israeliete gegee het voor hul uittog uit Egipte.


1. Ek sal julle uitlei uit Egipte – die beker van heiligmaking

2. Ek sal julle red van jul slawerny – die beker van vrymaking

3. Ek sal julle verlos met ‘n uitgestrekte arm – die beker van verlossing of danksegging

4. Ek sal julle as My volk aanneem – die beker van aanneming


 

Maandag, 11 April 2022


GÉNESIS 22:10-11 AFR53

“Toe steek Abraham sy hand uit en neem die mes om sy seun te slag. Maar die Engel van die Here het na hom van die hemel af geroep en gesê: Abraham, Abraham! En hy antwoord: Hier is ek!”


Die eerste beker!


Die eerste beker is die beker van heiligmaking. Heiligmaking beteken om eenkant gesit te word. Julle sit hierdie week eenkant om meer van hierdie fees te leer. Die eerste beker word nou geneem en die pa spreek die volgende seën uit, waarna daar van die beker gedrink word – ‘Geseënd is U, o Here onse God, Koning van die heelal wat ons uit Egipte uitgelei het.’

Hande was seremonie!


God het Aaron beveel om sy hande en voete te was voordat hy na die altaar van die Here gegaan het. Almal aan tafel was nou seremonieël hul hande. Die ma loop om die tafel met die bak water sodat elkeen ‘n beurt kry om hande te was.


Hierdie is ‘n teken aan God dat ons ‘n skoon lewe wil lei. – Die aand wat Jesus Sy laaste ete met die dissipels gehad het, het Hy ‘n bak met water geneem en elkeen se voete gewas.

Ongesuurde brood of Matza!


Drie ongesuurde brode word nou in ‘n wit sakkie gesit. Die wit sakkie het drie verskillende kompartemente waar elkeen van die ongesuurde brode gesit word. Vir die Jode stel die 3 matza’s vir Abraham, Isak & Jakob voor, die 3 aartsvaders. Vir ons as Christene stel die 3 brode die Drie-enige God voor – Vader, Seun & Heilige Gees. Nou word die middelste matza uitgehaal en in 2 breek. Die kleinste gedeelte gaan terug in die sak, en groot gedeelte, die afikomen word in doeke toegedraai en begrawe tot later. Afikomen is ‘n Griekse woord wat beteken – dit wat later kom.


Die vrae! – Die kinders aan tafel vra nou ‘n klompie vrae.

1. Hoekom verskil hierdie nag van alle ander nagte?

2. Alle ander aande eet ons gesuurde en ongesuurde brood. Waarom eet ons vanaand net ongesuurde brood?

3. Alle ander aande eet ons baie verskilende kruie. Waarom eet ons vanaand net bitter kruie?

4. Alle ander aande doop ons nie ons kos nie. Hoekom doop ons dit vanaand twee keer?

5. Alle ander aande sit ons regop as ons eet. Hoekom lê ons vanaand skuins in ons stoele?


Die laaste vraag antwoord ek sommer voor ons aangaan. Slawe het regop gesit en gou geëet want daar was nie tyd vir teruglê en rus nie. As hulle nie gewerk het nie het hulle geslaap om te rus vir die volgende dag se werk. As vry mense het ons nie haas nie, en kan ons lê in ons stoele en die aand geniet.



Die Paasfees verhaal!

Hierdie Paasfees maal eet ons sodat ons kan onthou hoe God die Israeliete uit Egipte uitgelei het, en om die verhaal vir ons kinders te vertel. Ons begin ‘n bietjie vêrder terug met God wat ‘n verbond met Abraham sluit, ‘n ewige verbond wat nie verbreek kan word nie.

Die verbond is vandag nog in stand. Met die verbond belowe God vir Abraham ‘n nageslag so groot soos die getal sterre in die hemel, en grondgebied.


Abraham en Sarah kry vir Isak, en toe hy ongeveer 30 jaar oud was gee God vir Abraham opdrag om sy seun te offer. Sy enigste seun vir wie hy baie lief is. Hierdie was ‘n toets vir Abraham wat hy inderdaad geslaag het. Toe Isak en Abraham naby die plek is om die offer te bring, vra Isak vir hom. Ons het die vuur en hout, maar waar is die lam vir die brandoffer? En Abraham antwoord vir Isak, “God sal vir Homself die lam vir ‘n brandoffer voorsien, my seun.Toe Abraham gereed was om Isak te offer en die mes optel, kom ‘n stem uit die hemel wat wat sê.


“En Hy sê: Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.”GÉNESIS 22:12 AFR53


Jesus was 1500 jaar later die onskuldige lam, God se enigste Seun vir wie Hy baie lief is, wat vir ons sondes aan die kruis gesterf het.


 

Dinsdag, 12 April 2022


EXODUS 2:3 AFR53

“Maar toe sy hom nie langer verborge kon hou nie, het sy vir hom ‘n mandjie van biesies geneem en dit met lymgrond en pik bestryk; en sy het die seuntjie daarin neergelê en dit in die riete aan die kant van die Nyl gesit.”


Die geslagsregister vanaf Abraham: – Abraham kry vir Isak, Isak kry vir Jakob, en Jakob se seuns stel die 12 stamme van Israel voor. Jakob se liefling seun Josef, word deur sy broers wat nie van hom hou nie, in ‘n put gegooi en hulle sê vir hul pa dat Josef dood is.


“Toe neem hulle Josef se rok, en hulle slag ‘n bok en steek die rok in die bloed, en hulle stuur die lang rok weg en laat dit na hulle vader bring met die woorde: Dit het ons gevind. Kyk tog goed of dit die rok van u seun is of nie. En hy het dit herken en gesê: Die rok van my seun! ‘n Wilde dier het hom opgeëet. Verskeur, verskeur is Josef!” GÉNESIS 37:31-33 AFR53


Josef is nie dood nie, maar hy is verkoop en beland in Egipte in die tronk. Na ‘n paar jaar soek die Farao iemand om sy drome uit te lê en die skinker onthou skielik weer dat toe hy lank terug in die tronk was, Josef sy droom vir hom uitgelê het. Josef word geroep en lê die Farao se droom uit. Hy vertel vir die Farao dat daar 7 goeie jare voorlê wat opgevolg gaan word deur 7 jare van erge droogte. Die Farao sit vir Josef in beheer van die droogte program.

Jakob en sy hele familie word ook deur die droogte getref, hulle word weer met Josef herenig, en hulle almal trek na Egipte om die droogte te oorleef. Josef gee vir hulle die beste stuk grond in Egipte, die land Gosen, en daar bly hulle en hul nageslag vir die volgende 430 jaar.


“En Josef het gesterwe, en al sy broers en daardie hele geslag. Maar die kinders van Israel was vrugbaar en het baie geword, en hulle het vermeerder en buitengewoon magtig geword, sodat die land vol was van hulle. Toe staan daar ‘n nuwe koning oor Egipte op wat niks van Josef geweet het nie. Dié het aan sy volk gesê: Kyk, die volk van die kinders van Israel is meer en magtiger as ons. Kom, laat ons ‘n slim plan teen hulle beraam, sodat hulle nie kan vermeerder nie, en as ons in oorlog geraak, hulle ook nie by ons vyande aansluit en teen ons veg en uit die land optrek nie. Daar is toe opsigters van dwangarbeid oor hulle aangestel om hulle met harde arbeid te verdruk. En hulle het vir Farao die voorraadstede Pitom en Raämses gebou.” EXODUS 1:6-11 AFR53


Die lewe van die Israeliete as slawe was bitter en swaar. Die koning het selfs besluit om al die Joodse seuns wat gebore word dood te maak. Die dooie seuntjies is deur die soldate op waens gegooi en as die waens vol was, is dit na die Nyl geneem om die dooie babas vir die krokodille gevoer.


Eet die bitter kruie!


Elkeen breek nou ‘n stuk van die matza af en skep ‘n wit smeer daarop. Die wit smeer is ‘n bitter krui – peperwortel of horseradish. Die bitter wat hulle proe is die bitterheid wat die Israeliete in hul slawerny beleef het.


Moses se geskiedenis!


“En sy suster het op ‘n afstand gaan staan om te wete te kom wat met hom sou gebeur. En Farao se dogter het na die Nyl afgegaan om ‘n bad te neem, terwyl haar diensmeisies aan die kant van die Nyl heen en weer geloop het. Toe sien sy die mandjie tussen die riete en stuur haar slavin en laat dit haal. Nadat sy dit oopgemaak het, sien sy die kind, en kyk, dit was ‘n seuntjie wat huil! En sy het hom jammer gekry en gesê: Dit is een van die kinders van die Hebreërs. Toe sê sy suster aan die dogter van Farao: Sal ek vir u ‘n pleegmoeder uit die Hebreeuse vroue gaan roep, dat sy vir u die seuntjie kan soog? En Farao se dogter antwoord haar: Ja. En die jongmeisie het geloop en die seuntjie se moeder geroep. Daarop sê Farao se dogter vir haar: Neem hierdie seuntjie en soog hom vir my, en ek sal jou loon gee. En die vrou het die seuntjie geneem en hom gesoog.” EXODUS 2:4-9 AFR53


 

Woensdag, 13 April 2022


HANDELINGE 7:22-23 AFR53

“En Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars en was magtig in woorde en dade. En nadat hy die ouderdom van veertig jaar bereik het, het dit in sy hart opgekom om sy broers, die kinders van Israel, te besoek;”


Wie was al in ‘n woestyn? Nie een van sandduine nie, maar ‘n emosionele een waar jy is as dit swaargaan met jou. Dis die slegste plek om te wees maar ook die beste plek om te wees, want dis hier waar God met jou werk soos die pottebakker met sy klei. Wat sê die liedjie wat ons lank terug geleer het – vorm my en maak my net soos U wil, op U slegs wag ek, nederig en stil.


Moses maak ‘n Egiptenare dood en moet vlug na ‘n woestyn waar hy vir die volgende veertig jaar gaan woon.


“en toe hy sien dat iemand onreg aangedoen word, het hy hom verdedig en die man wat mishandel was, gewreek deur die Egiptenaar te verslaan. En hy het gedink dat sy broers sou verstaan dat God hulle deur sy hand redding sou gee; maar hulle het dit nie verstaan nie. En die volgende dag het hy by hulle verskyn terwyl hulle besig was om te veg, en hy het by hulle aangedring om vrede te maak en gesê: Manne, julle is broers; waarom doen julle mekaar onreg aan? Maar hy wat sy naaste onreg aangedoen het, het hom afgestoot en gesê: Wie het jou as ‘n owerste en regter oor ons aangestel? Jy wil my tog nie doodmaak soos jy gister die Egiptenaar doodgemaak het nie? En Moses het op hierdie woord gevlug en ‘n bywoner geword in die land Mídian, waar hy die vader van twee seuns geword het. En toe veertig jaar verby was, het ‘n Engel van die Here aan hom verskyn in die woestyn van die berg Sinai, in die vuurvlam van ‘n doringbos.” HANDELINGE 7:24-30 AFR53


n Stem kom uit die brande doringbos wat vir hom sê: Moenie nader kom nie en trek jou skoene uit want die grond waarop jy staan is heilige grond. God praat met Moses en vertel vir hom dat hy gekies is om die Israeliete uit Egipteland uit te lei, en hulle van hul slawerny te red. Moses skrik hom boeglam en sê vir God dat hy nie kan praat nie en hoekom sal Farao of die Israeliete na hom luister. God sê vir hom dat Aaron hom kan help praat en dat God by hom sal wees.


Moses was 80 jaar oud toe hy deur God geroep is om die Israeliete uit Egipte uit te ly. Ek skat ouderdom is nie vir God ‘n probleem nie. Moses roep die Israeliete byeen, praat met hulle en sê dat God hulle gaan help, en dat God die volgende vier beloftes aan hulle maak.


1. Ek sal julle uitlei uit Egipte uit

2. Ek sal julle red van die slawerny

3. Ek sal julle verlos met uitgestrekte arms

4. Ek sal julle as My volk aanneem


“Daarom, sê aan die kinders van Israel: Ek is die Here, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, en Ek sal julle verlos deur ‘n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte; en Ek sal julle as my volk aanneem en vir julle ‘n God wees. En julle sal erken dat Ek die Here julle God is wat julle uitlei onder die harde arbeid van die Egiptenaars uit.” EXODUS 6:5-6 AFR53


Die volk luister vir Moses maar murmureer onder mekaar, want vir hulle is hierdie storie wat Moses vertel net mors van tyd.


Hoe het die Israeliete vir God op die stadium gesien? Vir die laaste 400 jaar was hulle in slawerny en God het hulle nie gehelp nie. Wat hul wel gesien het was hoe goed dit met die Egiptenare gaan. Dit het gelyk of die Egiptiese gode baie goed na hul mense gekyk het.


Terwyl die Israeliete herkou aan die inlgting wat Moses vir hulle gegee het, praat Moses met Farao en sê vir hom dat God wil he dat hy die Israeliete moet laat gaan sodat hulle vir God ‘n fees kan hou in die woestyn.


 

Donderdag, 14 April 2022


EXODUS 5:10-11 AFR53

“Toe het die drywers van die volk en die opsigters uitgegaan en tot die volk gespreek en gesê: So spreek Farao: Ek gee julle geen strooi nie. Loop haal self vir julle strooi waar julle dit kan kry; maar van julle werk word niks verminder nie.”


Breek nou 2 stukke matza (ongesuurde brood) af, skep die appelmengsel op een matza en maak ‘n toebrooedjie met die ander matza. Die appelmengsel tussen die matza’s is ‘n prentjie van sement tussen 2 stene.


Moses praat met God en vra waarom dit so moeilik moet wees!


“Toe gaan Moses weer na die Here en sê: Here, waarom het U hierdie volk kwaad aangedoen? Waarom het U my tog gestuur? Want vandat ek na Farao gegaan het om in u Naam te spreek, het hy hierdie volk mishandel, en U het u volk glad nie verlos nie.” EXODUS 5:22-23 AFR53


Maar, God het natuurlik ‘n plan en antwoord Moses.

“Daarop het die Here Moses geantwoord: Nou sal jy sien wat Ek Farao sal aandoen. Want deur ‘n sterke hand sal hy hulle laat trek, ja, deur ‘n sterke hand gedwing, sal hy hulle uit sy land uitdrywe.” EXODUS 5:24 AFR53


Die hoof van die huis noem nou elkeen van die tien plae terwyl almal aan tafel ‘n druppel rooi wyn drup in hul borde vir elkeen van die tien plae.

  1. Water in bloed

  2. Paddas

  3. Luise

  4. Steekvliee

  5. Pes onder die diere

  6. Bose swere

  7. Hael

  8. Springkane

  9. Duisternis

  10. Dood van die eers geborenes

Voor die 10de plaag gee God vir Moses en Aaron die volgende opdrag wat hulle aan die volk oordra. Ek gaan ook met elke opdrag vir julle wys wat met Jesus gebeur het voor en tydens


Sy kruisiging. Hierdie opdrag voor die 10de plaag is ‘n profesie van wat met Jesus gebeur het.


1. Op die 10de dag van die 1ste maand moet elke huisgesin ‘n jaaroud lam uitkies, sonder gebrek. Hierdie dag staan bekend as ‘lamb selection day’


– Wat het Jesus op 10 Nisan gedoen net voor Sy kruisiging (op lamb selection day)? Jesus het op ‘n donkie in Jerusalem ingekom (die inttog in Jerusalem) en die volk het hul klere en palm takke op die grond gegooi en Jesus geloof en geprys. Die fariseers het woedend geword en vir Jesus gesê om vir die mense te sê dat hulle moet ophou. Maar, Jesus antwoord toe dat as hulle sou ophou, die klippe die lofsange sou uitskreeu. Wat het hier gebeur? Jesus het Homself aan die mense voorgestel as die onskuldige lam, deur God gekies, wat nie geslag sou word nie, maar wat vir ons sondes aan die kruis sou sterf.


2. Hou die lam in jul huise vir 4 dae om seker te maak dat die lam geen gebreke het nie.


– Wat het Jesus gedoen in die 4 dae voor Sy kruisiging? Nadat Hy met die intog in Jerusalem Homself aangebied het as die onskuldige Lam, het Jesus na die tempel gegaan en die tafels van die geldskieters wat daar gekoop en verkoop het, omgegooi. Hy het Sy Vader se huis skoongemaak. Net soos ons in die begin gesien het hoe die Jode hul huise voor Paasfees skoonmaak van alle suurdeeg. Vir die vlg vier dae het Jesus die mense geleer en hulle was verwonderd oor wat Hy gesê het. Geen fout kon met Jesus gevind word in hierdie vier dae nie.


 

Vrydag, 15 April 2022 – 14 Nisan 5782 – Paasfees en volmaan!


JOHANNES 19:17-19 AFR53

“En Hy het sy kruis gedra en uitgegaan na die sogenaamde Hoofskedelplek, in Hebreeus Gólgota, waar hulle Hom gekruisig het en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, en Jesus in die middel. En Pilatus het ook ‘n opskrif geskrywe en dit op die kruis gesit; en daar was geskrywe: JESUS, DIE NASARÉNER, DIE KONING VAN DIE JODE.”


Vandag is 14 Nisan, die dag wat Jesus gekruisig is. Op die 14de dag van die 1ste maand moet almal hul lammers slag teen die aand (ongeveer 3 uur die middag). Jesus was op die 14de dag van die 1ste maand teen 9h00 die oggend al gekruisig. Die middag 15h00 toe die lammers geslag is, het Jesus Sy laaste asem uitgeblaas.


Terug in Egipte kry die volk die volgende opdrag. Neem ‘n bossie hissop en steek dit in die bloed en stryk dit aan die 2 deurposte en aan die bodrumpel van die huis waar julle die lam gaan eet. Niemand van julle mag uit jul huis gaan tot die more toe nie. Sonder dat hulle dit besef, stel die rooi bloed ‘n kruis voor en elkeen onder die bloed word beskerm van die dood.


– Ons is gered deur Jesus se offer aan die kruis, eens en vir altyd. Ons word beskerm deur die bloed van Jesus.


“En middernag het die Here al die eersgeborenes in Egipteland getref, van die eersgeborene van Farao af wat op sy troon gesit het, tot die eersgeborene van die gevangene toe wat in die gevangenis was, en al die eersgeborenes van die diere. Toe staan Farao in die nag op, hy en al sy dienaars en al die Egiptenaars, en daar was ‘n groot gejammer in Egipte, want daar was geen huis waar geen dooie in was nie.” EXODUS 12:29-30 AFR53


Dit is dié nag van die Here om plegtig onderhou te word by al die kinders van Israel in hulle geslagte.


Die Israeliete slaan laer op by die rooi see en kom agter dat Farao hulle agtervolg, en hulle word baie bang. Die vyand is agter hulle en die see is voor hulle, waarnatoe nou. Moses sê vir die volk:


“Maar Moses het aan die volk gesê: Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die Here wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie.” EXODUS 14:13 AFR53


Moses neem toe sy staf, en steek dit uit oor die see, en see beweeg na links en na regs sodat hulle op droe grond deurloop. Toe die laaste van die mense se voete op die ander kant van die wal raak, steek Moses weer sy staf uit oor die droeë grond en die see maak toe bo-oor die Egiptenare wat hul agtervolg.


Doop en eet die pietersielie!


Almal aan tafel neem nou ‘n stukkie pietersielie, doop dit twee keer in die bakkie sout water, doop en eet dit. Die eerste doop was vir die Israeliete wat deur die see geloop het, en die 2de doop is die see wat toegemaak het oor die Egiptenare. Die soutwater is trane van hartseer van die Israeliete wat gevloei het oor hul swaar omstandighede tydens hul slawerny.


Die 2de beker!


Neem die 2de beker wyn – die beker van verlossing. Daar word nou teruggedink aan die verlossing van slawerny en ‘n seëning vir die 2de beker word uitgespreek.


Geseënd is U, o Here onse God, Koning van die heelal wat ons van slawerny gered het.


Die tweede beker word gedrink en die gesin geniet die feesmaal wat voorberei is.


Geseënde Paasfees vir elkeen van my Bybelstudie lede

– dit is vir my ‘n voorreg om die Woord van God elke dag met julle te deel! 🙏


 

Saterdag, 16 April 2022 – 15 Nisan 5782 – Fees van Ongesuurde Brode


LEVÍTIKUS 23:6 AFR53

“en op die vyftiende dag van hierdie maand is die fees van die ongesuurde brode van die Here; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet.”


Nadat ‘n feesmaal genuttig is, word die Seder fees voortgesit. Ons gaan nou na die nagmaal kyk en almal aan tafel moet seker maak hulle het nog ongesuurde brood om ‘n happie te eet en wyn vir die 3de beker.


Die fees van Ongesuurde Brode is 7 dae lank. Dit begin sononder 15 Nisan en eindig op 21 Nisan. Die 1ste dag en die 7de dag van die fees moet ‘n heilige vierdag wees. Geen werk mag op die dae gedoen word nie, behalwe om kos te maak.


Jesus het Sy laaste asem uitgeblaas op 14 Nisan, 15h00 die middag. Die lammers van al die families is tussen 15h00 en 17h00 die middag van 14 Nisan geslag. Hierdie dag staan ook bekend as die voorbereidings dag. Teen sonder, wat die tyd van die jaar in Jerusalem glo ongeveer 17h00 is, is die lammers gereed om gebraai te word vir aandete. Na sononder is ons op die volgende dag nl: 15 Nisan.


So nou is Paasfees verby en die Fees van Ongesuurde Brode begin. Farao het die Israeliete na middernag, na almal se eergeborenes dood is, beveel om in die vroeë oggend ure Egipte te verlaat om hul God te gaan aanbid. Dit was 15 Nisan en hulle het onder andere die ongesuurde deeg in hul bakskottels saamgeneem. Dit was hul kos vir die volgende 7 dae tot hul deur die Skelf See is.


Die afikomen wat begrawe is!


Ek het vroeer vanaand toe ons begin het hierdie sakkie uitgehaal en 3 ongesuurde brode in elk van die 3 kompartemente gesit. Ek het die middelste een uitgehaal, dit gebreek, dit in doeke toegedraai en weggesteek of begrawe. Die ongesuurde brood word die afikomen genoem en beteken – dit wat later kom.


Die afikomen word nou uitgehaal waar dit begrawe was, die doeke word afgehaal, want hierdie stel Jesus voor wat opgestaan het uit die dood. Ek het in die begin gese dat die 3 Ongesuurde brode, die Vader, Seun & Heilige Gees voorstel. Die deel wat Jesus voorstel is die deel wat gebreek, in doeke toegedraai, begrawe is, en weer opgestaan het uit die dood.

Kom ons kyk nou hoe die Matza brood ‘n prentjie is van Jesus in die maak daarvan en hoe dit lyk.


Matza word gemaak sonder enige suurdeeg. Suurdeeg is ‘n prentjie van sonde in die Bybel, so Matza’s is brood sonder sonde – soos Jesus sonder sonde was. Matza is oortrek met strepe & gate. Ons lees in Jesaja 53 – deur Sy wonde is ons genees. Die Engels stel dit beter.


By His stripes we were healed. Watter tipe wond is ‘n ‘stripe’. Dit is die sweep houe wat Jesus moes verduur wat bloed strepe op Sy rug gemaak het. Die gate is gemaak deur die doringkroon op Jesus se hoof, die spykers in Sy hande en voete, en die swaard wat in Sy sy ingedruk is.


Kom ons kyk nou weer na Jesaja se woorde – deur Sy wonde is ons genees. Jesaja sê hier dat Jesus se gebreekte liggaam, vir ons gebreekte liggame genesing bring! So wanneer jy vanaand jou brood eet, eet jy Jesus se genesing.


In Matteus 26 lees ons die volgende.


“En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.” MATTHÉÜS 26:26 AFR53


Jesus sit Homself hier IN die sakrament. Jesus se liggaam is die brood wat gebreek word, en wat die disippels moet eet. ‘n Seëning word uitgespreek vir die eet van die brood – Geseënd is U, o Here onse God, Koning van die heelal, wat brood voortbring uit die aarde


Jesus is begrawe, maar Hy het weer later gekom, dit is wat afikomen beteken. Die brood wat voortgebring word uit die aarde, is ‘n prentjie van Jesus wat uit die dood opgestaan het.

Neem nou jul brood, eet dit, want dit is Jesus se liggaam wat vir jou gebreek is.


 

Sondag, 17 April 2022 – 16 Nisan 5782


MATTHÉÜS 26:27-28 AFR53

“Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.”


Die 3de beker wyn!


Voor die 3de beker wyn gedrink word wil ek eers agtergrond gee oor hoe ‘n Joodse huweliks aanbod in die OT plaasgevind het. Ek doen dit deur ‘n opgemaakte storie te vertel.

J

ako praat met sy pa en se vir om dat hy reg is om met Ragel te trou. Sy pa is nogals tevrede met sy keuse want hy ken die familie al vir jare, en hy weet dat Ragel ‘n aanwins vir sy familie sal wees. Die twee neem ‘n bottel wyn en ‘n beker en ry op hul donkiekar na Ragel se huis.


Ragel se ma is besig om skottelgoed te was toe sy Jako en sy pa sien aankom, en sy sien dat Jako ‘n bottel wyn en ‘n beker in sy hand het. Haar hart begin vinnig klop want sy weet wat nou gaan volg. Sy roep haar man en Ragel opgewonde, wys vir hulle wie aankom en die huis is in rep en roer.


Pa gaan alleen uit na buite en die twee pa’s loop die veld in om te gesels en oor die transaksie te onderhandel. Daar moet besluit word op ‘n bruidsprys vir Ragel – labolla! Soms kan die prys BAIE hoog wees. Die 2 mans skud blad en gaan terug huis toe.


Jako gooi wyn in die beker en bied die beker vir Ragel aan wat dit aanvaar en die wyn drink. Hiermee is ‘n kontrak gesluit, en die twee is verloof. Ragel het die keuse gehad om die beker te weier en NEE te sê vir die bruidegom.


Volgens tradisie gaan Jako nou terug na sy vader se huis om ‘n kamer vir hom en Ragel te bou. Ragel weet nie wanneer die bouwerk klaar gaan wees nie, en sy wag op haar bruidegom. Jako neem ook nie die besluit om te bepaal of die kamer goed genoeg is, sy vader doen inspeksie en sal afteken op die bouwerk wanneer hy tevrede is. So, die bruid wag op haar bruidegom tot hy onverwags met ‘n trompet geklank haar kom haal.


Kom ons bring die storie na die beker wyn wat ons met nagmaal drink. Jesus is ons bruidegom wat aarde toe gekom het met ‘n huweliksaanbod vir ons. Hy sluit met ons, die kerk, ‘n kontrak, en die kontrak is die Nuwe Testament. Daar is ook ‘n BAIE DUUR prys betaal vir die kontrak – Jesus is gekruisig. Die beker wat ons drink met nagmaal herinner ons aan die prys wat Jesus betaal het vir ons, Sy bruid en dat die Nuwe Testament die kontrak is wat in die transaksie gesluit is.


Jesus neem die beker na ete, so ons weet dit is die 3de beker van die vier bekers of beloftes. Wat was die 3de belofte nou weer? Ek sal julle verlos met ‘n uitgestrekte arm. ‘n Prentjie van Jesus aan die kruis!


Elke keer wanneer ons met nagmaal die beker kry om die wyn te drink kom ons voor ‘n keuse. Aanvaar ons die huweliksaanbod, ons wys ons dit weg. Kom ons kyk na Jesus se woorde met Sy laaste Pasga.


“Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.” MATTHÉÜS 26:27-28 AFR53


Weereens sit Jesus Homself in die sakrament – die wyn is Jesus se bloed wat gedrink moet word.


‘n Seëning word uitgespreek vir die drink van die wyn – Geseënd is U, o Here onse God, Koning van die heelal, Skepper van die vrug van die wingerdstok.


Neem jul bekers en staan! Jesus het gese: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.


Die Israeliete hoef nie meer terug te dink aan die uittog uit Egipte wanneer die beker gedrink word nie. Nou dink ons terug aan wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het.


4de Beker wyn!


Hierdie is die beker van aanneming, God het die Jode as ‘n volk aangeneem, en hy het ons as Christene ook aangeneem.


“Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.” MATTHÉÜS 26:29 AFR53


Wat gaan gebeur in die koninkryk van Jesus se Vader

 

“Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.” OPENBARING 19:7 AFR53


Ons is nog nie saam met Jesus in die koninkryk van die Vader nie. Dit gebeur nog in die toekoms met Jesus se tweede koms. Kom ons gaan nou terug na ons Seder Fees en kyk wat die Jode op die stadium doen.


Die Jode wag nog vir Elia om terug te kom, om Jesus aan die volk te bied. Ons lees in Maleagi, die laaste boek en laaste hoofstuk van die Ou Testament.


 “Dink aan die wet van Moses, my kneg, wat Ek hom beveel het op Horeb vir die hele Israel — insettinge en verordeninge. Kyk, Ek stuur julle die profeet Elía voordat die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek.” MALEÁGI 4:4-5 AFR53


Ons weet dat hierdie gedeelte vorentoe wys na Jesus se 2de koms, en dit het nog nie gebeur nie.


Op elke Seder tafel is daar ‘n plek gedek het wat nie gebruik is nie – die plek is vir Elia.


n Familielid sal gewoonlik na die voordeur stap om te kyk of Elia daar is. Wanneer hy nie by die deur is nie, word die verrigtinge afgesluit met die woorde –   tot volgende jaar in Jerusalem.


Ek sluit die Sederfees af met die volgende seëngroet!


“Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.” OPENBARING 22:21 AFR53


 

Maandag, 18 April 2022


LUKAS 24:19 AFR53

“En Hy sê vir hulle: Watter dinge? En hulle antwoord Hom: Die dinge aangaande Jesus, die Nasaréner, wat ‘n profeet was, kragtig in werk en woord voor God en die hele volk;”


Kom ons kyk aan wie Jesus verskyn het na Sy opstanding.


Sondag oggend – Jesus verskyn aan Maria


“Maar Maria het buitekant by die graf gestaan en ween; en terwyl sy ween, buk sy na die graf toe en sien twee engele daar sit met wit klere aan, een by die hoof en een by die voete waar die liggaam van Jesus gelê het. En hulle sê vir haar: Vrou, waarom ween jy? Sy antwoord hulle: Omdat hulle my Here weggeneem het, en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie. En toe sy dit gesê het, draai sy haar om agtertoe en sien Jesus staan, en sy het nie geweet dat dit Jesus was nie. Jesus sê vir haar: Vrou, waarom ween jy? Wie soek jy? Sy het gedink dat dit die tuinier was en antwoord hom: Meneer, as u Hom weggedra het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem. Jesus sê vir haar: Maria! Sy draai haar om en sê vir Hom: Rabboeni! dit beteken Meester. Jesus sê vir haar: Raak My nie aan nie, want Ek het nog nie opgevaar na my Vader nie; maar gaan na my broeders en sê vir hulle: Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God. Maria Magdaléna het aan die dissipels gaan vertel dat sy die Here gesien het en dat Hy dit vir haar gesê het.” JOHANNES 20:11-18 AFR53


Sondag middag – Jesus verskyn aan die Emmaüsgangers


“En twee van hulle was dieselfde dag op pad na ‘n dorp wat agt myl van Jerusalem af was, met die naam van Émmaüs. En hulle was in gesprek met mekaar oor al hierdie dinge wat voorgeval het. En terwyl hulle praat en mekaar ondervra, kom Jesus self nader en loop met hulle saam. Maar hulle oë is weerhou, sodat hulle Hom nie kon herken nie. En Hy sê vir hulle: Watter woorde is dit wat julle met mekaar loop en wissel, en waarom is julle bedroef? En die een wie se naam Kléopas was, antwoord en sê vir Hom: Is U alleen ‘n vreemdeling in Jerusalem en weet U nie van die dinge wat in hierdie dae daarin gebeur het nie?” LUKAS 24:13-18 AFR53


Sondag aand – Jesus verskyn aan die apostels

Toe vertel hulle wat op die pad gebeur het en hoe Hy aan hulle bekend geword het by die breking van die brood. EN terwyl hulle hieroor praat, staan Jesus self in hul midde en sê vir hulle: Vrede vir julle! Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle ‘n gees sien. En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op? Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie. En terwyl Hy dit sê, wys Hy hulle sy hande en sy voete. En toe hulle van blydskap nog nie kon glo nie en hulle verwonder, sê Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet? Daarop gee hulle Hom ‘n stuk gebraaide vis en ‘n stuk heuningkoek. En Hy het dit geneem en voor hulle oë geëet.” LUKAS 24:35-43 AFR53


Ons weet nie hoekom niemand Jesus herken het nie, maar hier is moontlike oplossings.


“Ek het my rug gegee vir die wat slaan, en my wange vir die wat die hare uitpluk; my aangesig het Ek nie verberg vir smaadhede en bespuwing nie.” JESAJA 50:6 AFR53


Ons lees hier dat hulle Jesus se baard uitgepluk het. Sonder Sy baard en met die wonde aan Sy gesig sou hulle Hom beslis nie herken het nie. Nadat Jesus aan die mense verskyn het en Homself aan hulle bekend gestel het, het die woord van Sy opstanding vinnig versprei onder al die Christene.


Die eerste drie feeste wat ons na gekyk het is die lente feeste en Jesus vervul die feeste tot op die letter. Op Paasfees bedek Jesus ons met Sy bloed sodat ons nie God se wraak sal sien nie. Hy word gekruisig op die presiese dag wat die onskuldige lam geslag word, op 14 Nisan.


Hy sterf net voor die fees van ongesuurde brode, om op te staan op die fees van eerste vrugte. Reg op tyd!


Die fees van eerste vrugte is die laaste fees wat Jesus persoonlik tot vervulling bring.


Hy het opgestaan, ja Hy het waarlik opgestaan!

 

95 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page