top of page

Paasfees 2019!

Updated: Jan 28, 2023

1 April 2019:


Ons gaan vir ‘n klein rukkie afstap van die Bybelstudie oor Salomo se tempel, en tot en met Paasfees weer kyk hoekom die fees vir ons as Christene belangrik is.


Paasfees 2019 word gevier van Vrydag 19 April tot Maandag 22 April. God het vir Moses in Levitikus 23 sewe feeste gegee wat jaarliks gevier moet word.


Die eerste drie van die feeste word gedurende Paasnaweek gevier as volg:

  1. Paasfees / Passover

  2. Fees van Ongesuurde brode / Feast of Unleavened bread

  3. Opstanding / Fees van Eerste Vrugte / Feast of First Fruits

“Verder het die Here met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê vir hulle: Die feestye van die Here wat julle moet uitroep as heilige samekomste — dit is my feestye.” LEVÍTIKUS 23:1-2 AFR53


 

2 April 2019:


Paasfees was en is vir die Israeliete ‘n gedenkfees om jaarliks te onthou hoe God hulle uitgelei het uit die land van Egipte, en hoe God hul gered het van slawerny. Vir Christene is paasfees ‘n gedenkfees om ons te herinner dat Jesus vir ons sondes aan die kruis gesterf het.

“Daarom, sê aan die kinders van Israel: Ek is die Here, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, en Ek sal julle verlos deur 'n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte; en Ek sal julle as my volk aanneem en vir julle 'n God wees. En julle sal erken dat Ek die Here julle God is wat julle uitlei onder die harde arbeid van die Egiptenaars uit. En Ek sal julle bring in die land waaromtrent Ek my hand opgehef het, om dit aan Abraham, aan Isak en aan Jakob te gee; en Ek sal dit aan julle as 'n besitting gee, Ek, die Here.” EXODUS 6:5-7 AFR53


 

3 April 2019:


Paasfees begin altyd sononder op die 14de dag van Nisan.


Paas Vrydag is 19 April 2019, so in Joodse terme sal die dag begin Donderdag, 18 April teen sononder.


Onthou dat hierdie Joodse feeste is en om die feeste te verstaan moet ons Noordelike halfrond dink. Maart / April is lente in die Noordelike halfrond en die Joodse dag begin ongeveer 6 uur die aand.


“In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die Here; en op die vyftiende dag van hierdie maand is die fees van die ongesuurde brode van die Here; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet.” LEVÍTIKUS 23:5-6 AFR53

 

4 April 2019:


Die paaslam word aan die priester voorgestel vir inspeksie. Op die 10de dag van Nisan moet elke familie ‘n lam uitsoek. ‘n Lam vir elke huisgesin. Die dag, die 10 de Nisan staan bekend as ‘lamb selection day’.


Jesus, ons Paaslam, stel Homself voor vir inspeksie op die 10de dag van Nisan met wat ons ken as ‘Die intog in Jerusalem’, en vervul so die profesie van Sagaria 9:9 en die Daniel 9:25.


“Spreek tot die hele vergadering van Israel en sê: Op die tiende van hierdie maand moet hulle elkeen 'n lam neem volgens die families, 'n lam vir 'n huisgesin. Maar as 'n huisgesin te klein is vir 'n lam, dan moet hy en sy buurman wat die naaste aan sy huis is, dit neem volgens die sieletal; na wat elkeen gewoond is om te eet, moet julle die getal op die lam bereken.” EXODUS 12:3-4 AFR53


“En toe Hy naby Bétfagé en Betánië kom, by die berg wat die Olyfberg genoem word, het Hy twee van sy dissipels uitgestuur en gesê: Gaan in die dorp reg voor julle; en as julle daar inkom, sal julle ‘n esels vul vind wat vasgemaak is, waar geen mens ooit op gesit het nie. Maak hom los en bring hom. En as iemand julle vra: Waarom maak julle hom los? — moet julle so vir hom sê: Die Here het hom nodig. En die wat gestuur was, gaan toe en vind dit soos Hy aan hulle gesê het. En terwyl hulle die vul losmaak, sê die eienaars aan hulle: Waarom maak julle die vul los? En hulle antwoord: Die Here het hom nodig. Toe bring hulle hom na Jesus toe, en hulle lê hul klere op die vul en laat Jesus daarop sit. En terwyl Hy voortgaan, gooi hulle hul klere oop op die pad. En toe Hy al naby die afdraand van die Olyfberg kom, begin die hele menigte dissipels God met blydskap te prys met ‘n groot stem oor al die kragtige dade wat hulle gesien het, terwyl hulle sê: Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here, vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele! En sommige van die Fariseërs uit die skare sê vir Hom: Meester, bestraf u dissipels! En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep.” LUKAS 19:29-40 AFR53

 

5 April 2019:


Die lam moet van die 10de tot die 14de dag van Nisan in die gesin se huis in bewaring gehou word. Jesus het na die inttog in Jerusalem op 10 Nisan tot en met 14 Nisan die mense by die tempel geleer en hulle kon geen fout met Hom vind nie.


“Julle moet 'n lam hê sonder gebrek, 'n jaaroud rammetjie. Van die skape of van die bokke kan julle dit neem. En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand; ...... EXODUS 12:5-6a AFR53


“En elke dag was Hy besig om in die tempel te leer; en die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die vernaamstes van die volk het probeer om Hom om te bring; en hulle het niks gevind wat hulle kon doen nie, want die hele volk het Hom aangehang en na Hom geluister.” LUKAS 19:47-48 AFR53

 

6 April 2019:


Die lam moet op 14 Nisan teen die aand geslag word. Jesus is die oggend 9:00 (3de uur) aan die kruis opgehang en Hy sterf 15:00 (9de uur) – dieselfde tyd wat al die lammers geslag word.


“.......... en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand.” EXODUS 12:6a AFR53


“En dit was die derde uur toe hulle Hom gekruisig het.” MARKUS 15:25 AFR53


“En toe dit die sesde uur was, kom daar duisternis oor die hele aarde tot die negende uur toe. En die negende uur het Jesus met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Eloï, Eloï, lamma sabagtáni? wat, as dit vertaal word, beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?” “En sommige van die wat daar staan, hoor dit en sê: Kyk, Hy roep na Elía. Toe hardloop een en maak ‘n spons vol asyn en sit dit op ‘n riet en laat Hom drink; en hy sê: Wag, laat ons sien of Elía kom om Hom af te haal. Maar Jesus het met ‘n groot stem geroep en die laaste asem uitgeblaas.” MARKUS 15:33-37 AFR53

 

7 April 2019:


Nadat die lam geslag is moet die bloed aan die kante en die bodrumpel van elke gesin se huisdeur aangestryk word om so Jesus se kruis voor te stel as dit verbind word.


“En hulle moet van die bloed neem en dit stryk aan die twee deurposte en aan die bo-drumpel, aan die huise waarin hulle dit eet.” EXODUS 12:7 AFR53


“En toe hulle op die plek kom wat Hoofskedel genoem word, het hulle Hom daar gekruisig, en die kwaaddoeners, een aan die regter- en een aan die linkerkant.”

LUKAS 23:33 AFR53






 

8 April 2019:


Moses gee die volk opdrag dat geen been van die geslagte lam gebreek mag word nie. Ons sien hier die uitbeelding van ‘n toekomstige profesie. Nie een been van Jesus se liggaam is gebreek nie, want Hy was reeds dood toe die soldate by Sy kruis opdaag.


“In een huis moet dit geëet word; jy mag niks van die vleis uit die huis buitentoe bring nie; en julle mag geen been daarvan breek nie.” EXODUS 12:46 AFR53


“maar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy al dood was, het hulle sy bene nie gebreek nie. Maar een van die soldate het met ‘n spies in sy sy gesteek, en dadelik het daar bloed en water uitgekom. En hy wat dit gesien het, het dit getuig, en sy getuienis is waaragtig; en hy weet dat hy die waarheid spreek, sodat julle kan glo. Want hierdie dinge het gebeur, dat die Skrif vervul sou word: Geen been van Hom sal gebreek word nie.” JOHANNES 19:33-36 AFR53

 

9 April 2019:


Die Jode hou tydens Paasfees ‘n Sederfees. Die doel van die fees is om te onthou hoe God die Israeliete uit Egipte uitgelei het. Tydens die fees word vier bekers wyn gedrink, en elke beker is ‘n voorstelling van God se beloftes aan die Israeliete voor die uittog.



  1. Ek sal julle uitlei uit Egipte – die beker van heiligmaking

  2. Ek sal julle red van jul slawerny – die beker van vrymaking

  3. Ek sal julle verlos met ‘n uitgestrekte arm – die beker van verlossing of danksegging

  4. Ek sal julle as My volk aanneem – die beker van aanneming

“Daarom, sê aan die kinders van Israel: Ek is die Here, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, en Ek sal julle verlos deur ‘n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte; en Ek sal julle as my volk aanneem en vir julle ‘n God wees. En julle sal erken dat Ek die Here julle God is wat julle uitlei onder die harde arbeid van die Egiptenaars uit.” EXODUS 6:5-6 AFR53

 

10 April 2019:

Die 3de beker word in die Sederfees na ete gedrink en dui op die 3de belofte – ‘Ek sal julle verlos met ‘n uitgestrekte arm.’ Hierdie is ‘n prentjie van Jesus aan die kruis wat vir jou en my van ons sondes verlos. Tydens Jesus se laaste nagmaal saam met Sy dissipels, drink Jesus na ete die 3de beker wyn en sit Homself so binne die nagmaal wat ons as ‘n sakrament gebruik.


“Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes.” MATTHÉÜS 26:27-28 AFR53



 

11 April 2019:

Die fees van ongesuurde brode is 7 dae lank en is ‘n aparte fees van paasfees. Die fees het ‘n voorbereidingsdag wat begin op 14 Nisan want saam met Paasfees moet daar ongesuurde brode geëet word. Die Fees van ongesuurde brode begin op 15 Nisan en eindig op 21 Nisan en altwee die dae is heilige samekomste. Op die dae mag geen werk gedoen word nie. Dis nie noodwendig ‘n sabbat dag of Saterdag nie, maar moet as ‘n sabbat dag geheilig word.

“en op die vyftiende dag van hierdie maand is die fees van die ongesuurde brode van die Here; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet. Op die eerste dag moet daar vir julle 'n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie. Maar julle moet sewe dae lank aan die Here 'n vuuroffer bring. Op die sewende dag moet daar 'n heilige vierdag wees; géén beroepswerk mag julle doen nie.” LEVÍTIKUS 23:6-8 AFR53

 

12 April 2019:


Wat is ongesuurde brood en waarom is dit belangrik? Suurdeeg is in die Bybel ‘n voorstelling van sonde. Hoekom? ‘n Klein bietjie suurdeeg laat n hele baksel deeg reis. Die brood wat geëet word, die brood gebak sonder suurdeeg, stel Jesus se liggaam voor, sonder sonde.


“Julle roem is nie mooi nie. Weet julle nie dat 'n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle 'n nuwe deeg kan wees — soos julle inderdaad ongesuurd is — want ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid.” I KORINTHIËRS 5:6-8 AFR53

 

13 April 2019:


Hoe lyk die Joodse ongesuurde brode. Die brood is oortrek met strepe en gate. Die strepe stel voor die houe wat Jesus verduur het, en die gate die spykers wat in Sy hande en voete deurboor is, en die doringkroon op Sy hoof. Die brode word op ‘n draadrak gebak, vandaar die strepe, en daar word gate in die deeg gedruk sodat dit glad nie moet reis nie.


“Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” JESAJA 53:5 AFR53





 

14 April 2019:


By die nagmaal word nie net wyn gedrink nie, maar ook brood geëet. Jesaja sê vir ons dat Jesus se gebreekte liggaam, vir ons gebreekte liggame genesing bring! Jesus sit Homself met Sy laaste nagmaal IN die sakrament. Jesus se liggaam is die brood wat gebreek word. So wanneer jy weer nagmaal hou en jou brood eet, eet jy Jesus se genesing.


“En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.” MATTHÉÜS 26:26 AFR53













 

15 April 2019:

Jesus is op paasfees gekruisig. Hy sterf laatmiddag op Nisan 14. Sy liggaam word opgeeis deur Josef van Arimathea, op die dag van voorbereiding, en word begrawe net voor 6 uur, amper die einde van die dag Nisan 14. Net voor die dag wat soos ‘n sabbat gehou moet word. Onthou, op die sabbat mag geen werk gedoen word nie!


“En daar was 'n man met die naam van Josef, 'n lid van die Raad, 'n goeie en regverdige man — hy het nie met hulle raad en handelwyse saamgestem nie — van Arimathéa, 'n stad van die Jode, wat ook self die koninkryk van God verwag het. Hy het na Pilatus gegaan en die liggaam van Jesus gevra en dit afgehaal en in linne toegedraai en dit neergelê in 'n graf wat uit 'n rots gekap was, waar nog nooit iemand in gelê het nie. En dit was die dag van voorbereiding, en die sabbat wou aanbreek. En die vroue wat saam met Hom van Galiléa gekom het, het ook gevolg en die graf gesien en hoe sy liggaam neergelê was. Daarop het hulle teruggegaan en speserye en salf berei en op die sabbat gerus volgens die gebod.” LUKAS 23:50-56 AFR53

 

16 April 2019:


Die fees wat ons op Paas Maandag vier met Jesus se opstanding is die Fees van Eerste Vrugte, en is vir die eerste keer gevier toe Joshua die volk deur die Jordaan rivier in die Beloofde Land ingelei het.


“En die Here het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrings oes, moet julle die eerstelingsgerf van julle oes na die priester bring. En hy moet die gerf voor die aangesig van die Here beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die sabbat moet die priester dit beweeg. Julle moet ook op die dag as julle die gerf beweeg, 'n jaaroud lam sonder gebrek as brandoffer aan die Here berei, en die spysoffer wat daarby behoort, twee-tiendes van 'n efa fynmeel met olie gemeng as vuuroffer aan die Here, 'n lieflike geur, en daarby die drankoffer van wyn, 'n kwart hin. En julle mag geen brood of gebraaide koring of vars graan eet tot daardie selfde dag toe nie, totdat julle die offer van julle God bring. Dit is 'n ewige insetting vir julle geslagte in al julle woonplekke.” LEVÍTIKUS 23:9-14 AFR53

 

17 April 2019:


Wat beteken Eerste Vrugte? Twee mans bring ‘n offer aan God. Die een offer kom van die vrugte van die aarde, die ander offer kom van die eersgebore van sy kudde. God aanvaar die een offer, en verwerp die ander een, hoekom? Ons lees in Genesis 4 dat Abel ‘n veeboer en Kain ‘n saaiboer was.


Abel het die eersteling uit sy kudde geoffer, maar Kain het met verloop van tyd sy opbrengs geoffer. Kain het dus op sy voorwaardes met verloop van tyd, van die vrugte van sy oes bymekaar gemaak om te offer. God het Abel se offer aanvaar want dit was die eersteling van sy kudde, Kain se offer is verwerp want dit was nie van die eersteling van sy oes.


“En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die Here ‘n offer gebring. En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die Here het Abel en sy offer genadig aangesien, maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang.” GÉNESIS 4:3-5 AFR53

 

18 April 2019:


Vanaand teen sononder is dit Paasfees of beter gestel in engels ‘Passover’. Die aand wat die eersgeborenes gesterf het in die huise waar die bloed nie aan die deure geverf was nie! Ek het verlede jaar in Gold Coast Australia ‘n Sederfees aangebied.


“En as julle kinders julle vra: Wat beteken die diens daar? dan moet julle sê: Dit is 'n paasoffer aan die Here, wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het, toe Hy die Egiptenaars getref maar ons huise gered het. Toe het die volk in aanbidding neergebuig.” EXODUS 12:26-27 AFR53










 

19 April 2019: Vandag is dit Paasfees! Christene dink vandag terug hoe Jesus vir elkeen van ons sondes, eens en vir altyd, aan die kruis gesterf het.


“wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het.” HEBREËRS 7:27 AFR53


“Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring — Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees;”

I PETRUS 3:18 AFR53


 

20 April 2019:

Vroeg die oggend van die fees van eerste vrugte word wierook op die eersteling gerf gesprinkel en dan waai die priester die gerf in al vier windrigtings in ‘n beweegoffer voor die Here.




‘n Deel van die gerf word hierna op die vuur van die altaar gegooi. Die rook wat dan van die altaar opgaan is ‘n lieflike geur vir God en wanneer die beweegoffer aanvaar is, word die res van die oes geag aanvaar te wees voor God.




“En hy moet die gerf voor die aangesig van die Here beweeg, julle welgevallig kan wees; die dag ná die sabbat moet die priester dit beweeg.” LEVÍTIKUS 23:11 AFR53

 

21 April 2019:  

Vroeg die oggend, toe die rook van die beweegoffer opgaan, het die vrouens ontdek dat Jesus reeds opgestaan het uit die dood.


Die twee engele sê vir die vroue dat Jesus nie daar is nie, maar Hy het opgestaan! Wat ‘n kragtige getuienis. Jesus, wat die oes verteenwoordig van die wat gaan opstaan, het eerste opgestaan. Paulus verduidelik die beginsel vir ons mooi!


“Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. Want aangesien die dood deur ‘n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ‘n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.” I KORINTHIËRS 15:20-23 AFR53

 

22 April 2019:  Hy het opgestaan! Ja, Hy het waarlik opgestaan!


Nadat Jesus aan die mense verskyn het en Homself aan hulle bekend gestel het, het die woord van Sy opstanding vinnig versprei onder al die Christene. Die eerste drie feeste wat ons na gekyk het is die lente feeste en Jesus vervul die feeste tot op die letter.

Op Paasfees bedek Jesus ons met Sy bloed sodat ons nie God se wraak sal sien nie.

Hy word gekruisig op die presiese dag wat die onskuldige lam geslag word, op 14 Nisan.

Hy sterf net voor die Fees van Ongesuurde Brode, om op te staan op die Fees van Eerste Vrugte.

Reg op tyd!


Die Fees van Eerste Vrugte is die laaste fees wat Jesus persoonlik tot vervulling bring.


“Toe kom Simon Petrus agter hom aan en gaan in die graf en sien die doeke lê; en die doek wat op sy hoof was, sien hy nie by die doeke lê nie, maar opgerol op een plek afsonderlik. Daarop het ook die ander dissipel wat eerste by die graf gekom het, ingegaan, en hy het gesien en geglo. Want hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Hy uit die dode moes opstaan nie.” JOHANNES 20:6-9 AFR53

 

8 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page