top of page
  • Regina Torre

Openbaring: Hoofstuk 4 – Die Wegraping

Updated: Jan 30, 2023



31 Maart 2020


OPENBARING 4:1 AFR53

“Na hierdie dinge het ek gesien — kyk, ‘n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ‘n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur.”


Na hierdie dinge – dus, na die gebeure van die vorige twee hoofstukke, m.a.w. die kerktydperk.


‘n Geopende deur in die hemel – omdat ons oopgemaak het toe Jesus geklop het, is die deur in die hemel nou oop vir ons.


Die belofte aan die kerk van Laodicea: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.” OPENBARING 3:20 AFR53


‘n Stem wat spreek soos ‘n basuin – “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.” I THESSALONICENSE 4:16 AFR53


Kom op hierheen – die Wegraping?

 

1 April 2020

Wat is die Wegraping, is dit Bybels, en as dit is, waar in die Bybel word ons daarvan geleer.


Ek gaan ‘n paar dae vat om te verduidelik – so ‘buckle up’!


Kom die woord Wegraping of Rapture in die Bybel voor?


Afrikaans Weggeruk, weggeneem, opgevaar

Engels Caught up

Grieks Harpazo

Latyn (Vulgate) Rapturo


Betekenis – To seize or to snatch, soos wanneer jy ‘n kind voor ‘n aankomende motor wegruk.


Rapture word ook in die volgende gevalle gebruik en na verwys.


Paulus in Arabië “Ek weet van ‘n man in Christus, veertien jaar gelede — of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit — dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel. En ek weet van so ‘n man — of dit in die liggaam of buite die liggaam was, weet ek nie, God weet dit — dat hy weggeruk is in die Paradys en onuitspreeklike woorde gehoor het wat ‘n mens nie mag uitspreek nie.” II KORINTHIËRS 12:2-4 AFR53


Henog / Enoch “En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem.” GÉNESIS 5:24 AFR53

“Deur die geloof is Henog weggeneem om die dood nie te sien nie; en hy is nie gevind nie, omdat God hom weggeneem het; want voor sy wegneming het hy getuienis ontvang dat hy God behaag het.” HEBREËRS 11:5 AFR53


Elia / Elijah “En terwyl hulle aldeur loop en spreek, kom daar meteens ‘n wa van vuur met perde van vuur wat skeiding tussen hulle twee maak; en Elía het in die storm na die hemel opgevaar.” II KONINGS 2:11 AFR53


Jesus “En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.” HANDELINGE 1:9 AFR53

“En sy het ‘n manlike kind gebaar, wat al die nasies met ‘n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon.” OPENBARING 12:5 AFR53

 

2 April 2020


Paulus leer vir ons dat die Joodse feeste nie net ‘n herdenking is nie, maar ook ‘n profetiese betekenis het – ‘n skaduwee van toekomstige dinge! Elke jaar word die feeste op ‘n bepaalde tyd gehou. Die feeste is ‘n kleedrepetisie vir toekomstige gebeurtenisse.


“Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.” KOLOSSENSE 2:16-17 AFR53


So ook is die Joodse huwelik ‘n kleedrepetisie vir die wegraping. Ek gaan begin deur eers ‘n opgemaakte storie te vertel en dan met die Skrif te bevestig.


Die huwelik word gereël


Storie: Hendrik se pa en ma het ‘n vriend gekry om vir hom ‘n vrou te soek. Saartjie, ‘n hubare meisie op een van die naburige plase is toe voorgestel as Hendrik se toekomstige vrou. Hendrik se pa is nogals tevrede met die keuse want hy ken die familie al vir jare, en hy weet dat Saartjie ‘n aanwins vir sy familie sal wees.


Bybel: Huwelike in die Bybelse tyd was deur die ouers gereël. Die pa sou iemand kry om vir sy seun ‘n vrou te soek. Dit is ook wat die Bybel sê wat Jesus vir ons gedoen het.


“Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitvoerkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.” JOHANNES 15:16 AFR53


“Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie.” JOHANNES 6:37 AFR53


“Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” JOHANNES 6:44 AFR53


“vir wie julle, al het julle Hom nie gesien nie, tog liefhet; in wie julle, al sien julle Hom nou nie, tog glo en julle verbly met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap,”. I PETRUS 1:8 AFR53

 

3 April 2020


Betaling van die koopprys


Storie: Die twee (Hendrik en sy pa) neem ‘n bottel wyn en ‘n beker en ry op hul donkiekar na Saartjie se huis. Saartjie se ma is besig om skottelgoed te was toe sy Hendrik en sy pa sien aankom, en sy sien dat Hendrik ‘n bottel wyn en ‘n beker in sy hand het. Haar hart begin vinniger klop want sy weet wat nou gaan volg. Sy roep haar man en Saartjie opgewonde, wys vir hulle wie aankom en die huis is in rep en roer.


Pa gaan alleen uit na buite en die twee pa’s loop die veld in om te gesels en oor die transaksie te onderhandel. Daar moet besluit word op ‘n bruidsprys vir Saartjie – labolla! Soms kan die prys BAIE hoog wees. Die twee mans skud blad en gaan terug huis toe.


Bybel: die koopprys wat Jesus vir ons betaal het was BAIE duur – Jesus het Sy lewe gegee aan die kruis!


“Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.” I KORINTHIËRS 6:19-20 AFR53


“omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,” I PETRUS 1:18-19 AFR53

 

4 April 2020


Drink van ‘n beker wyn as simbool van hul verlowing / verbond


Storie: Hendrik gooi wyn in die beker en bied die beker vir Saartjie aan wat dit aanvaar en die wyn drink. Hiermee is ‘n kontrak gesluit, en die twee is verloof. Saartjie het die keuse gehad om die beker te weier en NEE te sê vir die bruidegom.


Bybel: Elkeen van ons staan op ‘n stadium in ons lewe voor ‘n keuse – aanvaar ons of verwerp ons vir Jesus. Vir die wat Jesus aanvaar – elke keer as jy met nagmaal die beker wyn drink, bevestig jy die feit dat jy Jesus aanvaar het.


En die kontrak wat gesluit is? Die Nuwe Testament is die kontrak wat Jesus met elkeen van ons gesluit het, met Sy bloed aan die kruis op Golgota!


“Net so ook die beker ná die ete, met die woorde: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed; doen dit, so dikwels as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.” I KORINTHIËRS 11:25 AFR53

 

5 April 2020


Afgesonder van mekaar


Bybel: Jesus het vir Sy disippels voor Sy hemevaart gesê dat Hy gaan om ‘n plek voor te berei, en as die plek reg is, kom Hy weer terug om ons na Hom te neem.


Storie: Volgens tradisie gaan Hendrik nou terug na sy vader se huis om ‘n kamer vir hom en Saartjie te bou. Saartjie weet nie wanneer die bouwerk klaar gaan wees nie, en sy wag op haar bruidegom.


“Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” JOHANNES 14:1-3 AFR53


 

6 April 2020


Die bruidegom se terugkeer


Storie: Hendrik neem ook nie die besluit om te bepaal of die kamer goed genoeg is nie, sy vader doen inspeksie en sal afteken op die bouwerk wanneer hy tevrede is. Intussen wag die bruid geduldig op haar bruidegom tot hy onverwags met ‘n trompetgeklank haar kom haal. Die strooijonker is die een wat die trompet blaas, terwyl die bruidegom sy aanstaande gaan haal.


Bybel: Die bruidegom (Jesus) kan enige tyd terugkom, en die bruid (Christene) moet gereed wees. Daar is geen voorvereistes vir sy terugkeer nie, behalwe dat die nuwe huis klaar moet wees.


Die bruidegom se aankoms word voorafgegaan deur ‘n luid geroep.


“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.”

I THESSALONICENSE 4:16-17 AFR53


En so is die Joodse huwelik ‘n skaduwee of prentjie van die Wegraping.


 

7 April 2020


I KORINTHIËRS 15:51-53 AFR53


“Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word.”


Paulus deel hier met ons ‘n verborgenheid of soos die engelse vertaling sê – a mystary. Die griekse woord mysterion beteken hier dat iets geopenbaar gaan word wat tevore verborge was. Ons gaan nie almal ontslaap of doodgaan nie, maar ons sal almal verander word.

Wanneer gaan dit gebeur – in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin.


Elke persoon wat tydens die kerktydperk (van Jesus se hemelvaart tot en met die Wegraping) sy lewe vir Jesus Christus gegee het sal in ‘n oogwing verander word wanneer die laaste basuin blaas. Die dode sal opgewek word en die wat nog lewe sal verander word.


 

8 April 2020


I THESSALONISENSE 4:13-18 AFR53

“Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.”


In detail wat nêrens anders in die Nuwe Testament gekry kan word nie, skets Paulus vir ons die gebeure van die Wegraping van die kerk. Alle gelowiges, hetsy dood in Christus of lewendig, gaan wanneer die basuin weerklink, in ‘n oogwink in die wolke weggevoer (raptured) word en Jesus in die lug ontmoet, en sal so altyd by die Here wees.


Net soos die bruidegom sy bruid kom haal in die Joodse tradisie met die blaas van die trompet, so gaan Jesus sy bruid (die kerk) kom haal wanneer die basuin klink.


Paulus leer ook vir die gemeente in Thessalonika dat hulle nie moet kommer oor hul mense wat reeds dood is, soos mense wat geen hoop het nie. As ons glo dat Jesus gesterf het en opgestaan het sal God ook die Christene wat dood is saam met Hom bring.


 

9 April 2020


II THESSALONISENSE 2:1-4 AFR53

“Maar ons vra julle, broeders, met die oog op die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom, om nie gou julle verstand te verloor of verskrik te word nie — deur gees of deur woord of deur brief wat van ons afkomstig sou wees — asof die dag van Christus al daar is. “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.”


‘Die wederkoms van Jesus en ons vereniging met Hom’ – Paulus praat met die gemeente in Thessalonika om vir hulle te verduidelik dat hulle nie die Wegraping gemis het nie, want dit het nog nie gebeur nie.


Hy vertel ook dat hulle nie van stryk gebring moet word as iemand vir hulle vertel dat ‘die dag van Christus’ of ‘die dag van die Here’ al hier is nie. Die ‘dag van die Here’ verwys na die Groot Verdrukking wat gaan plaasvind na die Wegraping.


Die ‘dag van die Here’ of die Groot Verdrukking sal eers aanbreek na ‘n groot afvalligheid van die geloof plaasvind en wanneer die antichris sy verskyning maak.


Die wettelose mens of die teëstander of die antichris gaan selfs in die tempel van God sit, en voorgee dat hy God is. Dit is hier waar ons leer dat daar weer ‘n tempel gaan wees, en dat die tempel tydens die tydperk van die Groot Verdrukking gaan wees.

Opsomming


OPENBARING 4:1 AFR53

“Na hierdie dinge het ek gesien — kyk, ‘n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ‘n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur.”


Hersiening – Kronologiese volgorde van die Wegraping!


Die Wegraping gaan begin met Jesus wat neerdaal van die hemel. Sy koms sal aangekondig word deur die aartsengel en die geklank van die basuin van God.


“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.” I THESSALONICENSE 4:16 AFR53


Jesus kom om ons na Hom toe te neem sodat ons kan wees waar Hy is.


“En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” JOHANNES 14:3 AFR53


Die oomblik wat Jesus in die wolke verskyn, verander ons almal hier op aarde in ‘n oogwink – die wat reeds gesterf het en die wat lewe.


“Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.” I KORINTHIËRS 15:51-52 AFR53


Die Christene wat reeds gesterf het gaan eerste weggeraap word.


“Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie.” I THESSALONICENSE 4:15 AFR53


Dan word die Christene wat nog op daardie stadium op aarde lewe weggeraap. Die gedeelte eindig met – dan sal ons ALTYD by die Here wees!


“Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.” I THESSALONICENSE 4:17 AFR53

18 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page