top of page
  • Regina Torre

Openbaring: Hoofstuk 3

Updated: Jan 30, 2023



19 Februarie 2020


OPENBARING 3:1a AFR53

“En skryf aan die engel van die gemeente in Sardis: Dít sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: ……….


1. Naam van gemeente: Sardis – beteken ‘n klein groep wat oorbly of in engels remnant.

Sardis was die hoofstad van die provinsie Lydia en word vandag Sart genoem. Die stad het bestaan uit 2 dele: ‘n Versterkte stad bo-op ‘n heuwel met onklimbare kranse en ‘n handelstad met landbouprodukte & verwante industrieë op ‘n gelyk terrein. Sardis was die dorp wat ontdek het hoe om wol te kleur.


In 546 BC word Sardis ingeval deur Persië. Terwyl die Persiese soldate die dorp (op die kranse) omsingel en keer dat niemand in of uit kan gaan nie, sien een van die mans hoe ‘n soldaat van Sardis se helmet teen die krans afval. Hy sien vêrder hoe die man teen die kranse afklim en sy helmet gaan haal, en so word die pad boontoe vir Persië gewys, en Sardis word deur Persië oorgeneem.


Argeologiese opgrawings is in 1910 in Sardis begin, maar die stad self is eers in 1958 opgegrawe. Al wat van die stad oorgebly het is ruines wat vandag deur toeriste besoek word.


2. Jesus se titel

Jesus gebruik die volgende omskrywings van Homself uit hoofstuk 1:

……. en van die sewe Geeste wat voor sy troon is,” OPENBARING 1:4b AFR53


“En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, …….. OPENBARING 1: 16a AFR53


Die sewe Geeste van God is die Ou Testament se manier om die Heilige Gees te beskryf. Hoekom gebruik Jesus die titel? Heel moontlik omdat dié kerk soos baie van vandag se kerke ongemaklik is met die werkinge van die Heilige Gees, en dit is een van die groot oorsake van skeuring in ons kerke.

 

20 Februarie 2020


OPENBARING 3:1b AFR53

……….Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood.”


3. Goeie werke

Geen


4. Slegte werke

Christene word geken aan die vrugte wat hul dra. Wat is die vrugte? Dit is ons werke! As ons self bekeer is en dan niks vêrder doen om vrugte te dra nie, het ons net die titel van Christen maar is vêrder dood. Wat sê Jesus hiervan in Mattheus.


“Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte.


‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.” MATTHÉÜS 7:15-20 AFR53

 

21 Februarie 2020


OPENBARING 3:2-4 AFR53

“Wees wakker en versterk die wat oorbly, wat op die punt staan om te sterwe, want Ek het jou werke nie volkome voor God gevind nie. Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou; as jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos ‘n dief, en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie. Maar jy het enkele persone ook in Sardis wat hulle klere nie besoedel het nie, en hulle sal saam met My in wit klere wandel, omdat hulle dit waardig is.”


5. Aanbevelings

Word wakker en gee aandag aan die mense rondom jou wat nog nie vir Jesus ken nie, veral die wat op die punt staan om te sterwe. Onthou jy nog die eerste keer toe jy die goeie boodskap gehoor en ontvang het? Bewaar die oomblik in jou hart sodat Jesus se terugkeer jou nie onverwags tref soos ‘n dief in die nag nie! Wakker volgers van Jesus sal Sy koms erken en nie onverhoeds betrap word nie!


Daar is altyd ‘n klein groep mense wat Jesus bly volg (die remnant) en hulle sal saam met Jesus in wit klere wandel! Wit is altyd ‘n simbool van verlossing

 

22 Februarie 2020

OPENBARING 3:5 AFR53

“Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.”


6. Belofte aan die oorwinnaar

Die oorwinnaar is elkeen wat wedergebore is – “Want alles wat uit God gebore is, oorwin die wêreld; en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof.” I JOHANNES 5:4 AFR53


Almal wat gered is se name is in die boek van die lewe geskryf.

 

23 Februarie 2020


OPENBARING 3:6 AFR53

“Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”


7. Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê

Die verwysing na Jesus se tweede koms in dié brief vind ons in vers 3 – as jy nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos ‘n dief.


“Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou; as jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos ‘n dief, en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie.” OPENBARING 3:3 AFR53

 

24 Februarie 2020


Profetiese tydlyn:


Denominasie / Reformasie kerk van 1517 tot 1648 NC

Martin Luther lees in die Bybel dat nie werke nie, maar slegs geloof jou kan red. Op 31/10/1517 slaan hy sy 95 Stellings teen die Wittenberg Kerk vas, en so begin die typerk van reformasie.


“Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof. Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet.” ROMEINE 3:27-28 AFR53


Martin Luther het die Bybel in Duits vertaal en was so afgesit van werke dat hy die Bybelboek van Jakobus, wat sê dat geloof sonder werke dood is, uit die Nuwe Testament uitgehaal het en net as ‘n bylaag ingevoeg het.


Die negatiewe gevolg van die reformasie was dat mense opgehou het om werke te doen.


Baie minder liefdadigheidswerke is gedoen en kerke het opgehou met evangelisasie.


Die Heilige Gees is nie in die denominasie kerke nie, die kerke is finansieel sterk, invloedryk en voorspoedig, en uiterlik skep hul die indruk dat dit goed gaan, maar innerlik was die kerk besig om stadig dood te gaan.


‘n Klein groep gelowiges het gelukkig die vuur van die Evangelie brandend gehou, en so gaan ons die volgende tydperk in.


 


25 Februarie 2020

OPENBARING 3:7 AFR53


“En skryf aan die engel van die gemeente in Filadelfía: Dít sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en niemand maak oop nie:”


1. Naam van gemeente: Filadelfia – beteken broederlike liefde.

Filadelfia is gestig omstreeks 150 BC deur koning Attallus van Pergamus, wie se bynaam Filadelfia was, en wat broederliefde beteken. Hierdie man was bekend vir die bewondering en liefde vir sy broer, Eumenes, en hy het hierdie stad na hom vernoem.


Die moderne naam van Filadelfia is Alasehir. Die stad was bekend as die Imperiale posroete tussen Asië en Europa, en met vrugbare vulkaniese grond en baie wingerde het die gebied bekend gestaan as ‘n wynboustreek met goeie wyn.


‘n Groot aardbewing verwoes die stad in 17 BC en die mense begin om buite die stad te bly omdat hulle bang is vir nog aardbewings. Hulle was veral bang dat die pilare wat die geboue ondersteun op hul sou val.


2. Jesus se titel

Jesus gebruik nie hier weer ‘n beskrywing uit hoofstuk 1 nie, maar hy stel Homself voor as die Heilige en Ware God wat verwys na Jesaja 22:22.


Die gedeelte verwys na die Millenium wanneer koning Dawid onder Jesus gaan regeer. Jesus self het die sleutel van Dawid wat toon dat Jesus die hoogste gesag het.


“Aan hom sal Ek die sleutels van die koning se huis gee; wat hý oopsluit, sal niemand toesluit nie, wat hý toesluit, sal niemand oopsluit nie.” JESAJA 22:22 AFR83


Daar is net een pad na God en dit is deur Jesus. Jesus hou nog die deur oop vir die wat Hom as Verlosser wil aanneem. Moet nie soos die onverstandigde maagde wees wat nie genoeg olie vir hul lampe gehad het nie. Vir hulle is die deur gesluit!


“Terwyl die onverstandiges olie gaan koop het, het die bruidegom gekom. Dié wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof toe, en die deur is gesluit. “Later kom die ander meisies ook daar aan en roep: ‘Meneer, Meneer, maak vir ons oop!’ Maar die bruidegom antwoord: ‘Ek sê vir julle: Ek ken julle nie!’ “Waak dan, omdat julle nie weet op watter dag en uur dit sal gebeur nie.” MATTEUS 25:10-13 AFR83

 

26 Februarie 2020


OPENBARING 3:8-10 AFR53

“Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie. Kyk, Ek gee jou uit die sinagoge van die Satan, van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar lieg — Ek sal maak dat hulle kom en voor jou voete neerbuig en erken dat Ek jou liefgehad het. Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel.”


3. Goeie werke

Hulle het God se woord bewaar en nie Sy Naam verloën nie.


Oop deur – God maak deure oop om die werk van die evangelie en sending te bevorder en effektief te maak. Orals waar God deure vir Sy werkers oopmaak om die evangelie te verkondig, daar seën Hy hulle werk.


Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom – Wegraping?


4. Slegte werke

Geen

 

27 Februarie 2020


OPENBARING 3:11 AFR53

“Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie.”


5. Aanbevelings

Jesus sê hier uitdruklik dat Hy weer kom soos Hy vir ons sê in Johannes 14:3.


“En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” JOHANNES 14:3 AFR53


Jesus sê hier vir die gelowiges om vas te hou aan die kroon wat hul reeds het.


Die kroon is in Grieks – stephanos. Stephanos is ‘n kroon wat gewen is in die olimpiese spele as jy gewen het. In dié geval die ewige saligheid wat gegee sal word as prys aan die opregte diensknegte van God.

 

28 Februarie 2020


OPENBARING 3:12 AFR53

“Wie oorwin, Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam.”


6. Belofte aan die oorwinnaar

In ‘n stad met soveel aardbewings, is pilare as versterking gebruik vir die geboue. Die mense van Filadelfia was bang dat die pilare tydens ‘n aardbewing op hul sal val en daarom het hul buite die stad gewoon. Jesus sê dat gelowiges nie meer bang hoef te wees vir die pilare nie, ons sal elk ‘n pilaar kry in die tempel van God waar ons vir ewig gaan woon, en elkeen van ons sal as God se eiendom gemerk word.


Die nuwe Jerusalem wat uit die hemel neerdaal verwys na die ewigheid wat volg na die millenium en ons lees daarvan in Openbaring 21.


“En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.” OPENBARING 21:1-3 AFR53

 

29 Februarie 2020


OPENBARING 3:13 AFR53

“Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”


7. Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.

Die verwysing na Jesus se tweede koms in die brief vind ons in verse 10-11.


…… sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. Kyk, Ek kom gou! …… OPENBARING 3:10-11 AFR53

 

1 Maart 2020


Profetiese tydlyn: Sending kerk van 1648 tot 1900 NC

Vir die eerste eeu na die Reformasie kerk was daar geen sendingwerk nie. Elke groot Europese land het besluit om of die Protestante of die Katolieke kerk te volg. Elke kind wat gebore is, is gedoop in hul kerk en almal was gesien as Christene. Die Duitsers was in die Lutherse kerk, die Engelse in die Anglikaanse kerk, die Skotte in die Presbiteriaanse kerk, ens. So, daar was nie ‘n nodigheid om te evangeliseer nie.


Evangeliesasie kerke het wel begin vorm in teenstand met die staatskerke, maar die kerke is deur die staat vervolg. In so mate dat die mense gevlug het uit Europa na die nuwe wêreld wat ons vandag ken as: Noord Amerika, Suid Amerika, Australia, Suid Afrika ens. Onthou bv. die Franse Hugenote wat na Suid Afrika gevlug het.


In die volgende 300 jaar het die kerk vinniger versprei as enige tydperk gedurende die eerste eeu. Natuurlik het Jesus die deure vir die evangeliste oopgemaak. Alhoewel die Evangelisasie kerke nooit ‘n groot staatskerk geword het nie, het hul groot sukses onder die mense behaal. Daar was selfs ‘n klein groep Jode wat Jesus begin volg het.


Vir ‘n tydperk het Filadelfia die ware, uiterlike getuieniskerk wat Jesus vir die wêreld bedoel het, weer gevestig. Die kerk het ‘n groot impak gehad deur vas te hou aan wat heilig en waar was.


As ‘n seën sê Jesus dat Hy dié kerk sal bewaar van die uur van beproewing wat die hele wêreld gaan tref.


 


2 Maart 2020


OPENBARING 3:14 AFR53

“En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God:”


1. Naam van gemeente: Laodicense – beteken, die mense regeer in teenstelling met God wat regeer!


Die Romeine verower Laodicense in 133 BC en maak dit hul administratiewe en regsprekende hoofstad. Die stad was die welvarendste van al sewe stede en wyd bekend vir die geldhandel van sy bankiers. Hulle het geboer met ‘n spesiale skaap wat fyn sagte swart wol gehad het.

Laodicense was ook beroemd vir hul mediese skool wat onder meer ‘n salf vir swak oë gemaak het.


Die stad is ook deur twee groot aarbewings getref. Met die tweede aardbewing wys hul hulp van Rome om die stad te herbou van die hand en herbou die stad self. Die stad wys dat hul niemand nodig het nie, hulle het genoeg geld om als self te doen.


Al wat die dorp nie gehad het nie was water wat hul met waterkanale (aquaducks) van die naby geleë dorpe aangelê het. Die enigste probleem was dat wanneer die water in die dorp uitgekom het was dit nie warm of koud nie, maar lou!


2. Jesus se titel

Jesus gebruik die volgende beskrywings van Homself uit hoofstuk 1.


“en van Jesus Christus, die getroue getuie, ………. OPENBARING 1:5a AFR53


Die begin van die skepping van God word in die volgende verse weerspieël – “Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.” OPENBARING 1:8 AFR53

 

3 Maart 2020


OPENBARING 3:15-17 AFR53

“Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie.”


3. Goeie werke

Geen


4. Slegte werke

Jesus ken die stad se werke, niks is verborge vir God se oë nie. Hulle is nie warm of koud nie, maar lou! Jesus sê dat hy hul sal uitspoeg (of ‘opgooi’ is ‘n beter vertaling) omdat hul lou is, soos ‘n mens lou water uitspoeg omdat dit so sleg is. Net genoeg godsdiens om die gewete te sus, nie om siele te red nie! Kies ‘n kant, moet nie lou wees nie!


“En Elía het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na! Maar die volk het hom niks geantwoord nie.” I KONINGS 18:21 AFR53


“mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.” II TIMÓTHEÜS 3:5 AFR53


God waarsku altyd die rykes. Plaas dit in kontras met die gemeente in Smirna wat arm was, maar ryk! Waak teen welgestelde tevredenheid en geestelike selfvoldaanheid wat daaruit kan vloei. Die kerk is geestelik arm!


“en die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar.” MARKUS 4:19 AFR53

 

4 Maart 2020


OPENBARING 3:18-20 AFR53

“Ek raai jou aan om van My te koop goud wat deur vuur gelouter is, sodat jy kan ryk word; en wit klere, dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie; en salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien. Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou. Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.”


5. Aanbevelings

Koop goud by God wat deur vuur gelouter is, sodat jy ryk word, nie met aardse besitting nie, maar met geloof in God vir die ewige lewe.


Wit klere om jou sonde te verberg, in teenstelling met die swart wol van die skape.


Salf op jou oë sodat jy jou verkeerde lewe kan sien & bekeer.


God klop aan jou deur – Gaan jy oopmaak?

 

5 Maart 2020


OPENBARING 3:21 AFR53

“Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.”


6. Belofte aan die oorwinnaar

Die ‘oorwinnaar’ verwys na die gelowiges, en die belofte is dat ons saam met Jesus in die toekomstige koninkryk sal wees.

 

6 Maart 2020


OPENBARING 3:22 AFR53

“Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”


7. Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê

Die verwysing na Jesus se tweede koms in die brief vind ons in vers 20.


“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. OPENBARING 3:20 AFR53

 

7 Maart 2020


Profetiese tydlyn: Afvallige kerk van 1900 tot ?

Laodicense is profeties ‘n prentjie van die kerk in die eindtye. Dit is hartseer om te dink dat Jesus buite Sy eie kerke staan en klop, en die vraag moet wees of dit ‘n prentjie van ons is.

Het ons Jesus uit ons vergaderplekke gestoot? Word die ware Woord van God van ons preekstoele gepreek? Is ons so besig met planne maak en die aanbied van programme dat ons nie opmerk dat Jesus uit die kerk uitgeskuif is nie?


As Jesus aan die deur van jou hart klop – maak die deur oop!

6 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page