top of page
  • Regina Torre

Openbaring: Hoofstuk 2

Updated: Jan 30, 2023



23 Januarie 2020


Inleiding


“Skryf die dinge op wat jy gesien het, die wat is sowel as die wat gaan gebeur;” – OPENBARING 1:19 AFR53


Ons het geleer dat die vers vir ons ‘n tydlyn van die boek Openbaring gee.

  1. wat jy gesien het – Hoofstuk 1

  2. wat is – Hoofstukke 2 en 3

  3. wat gaan gebeur – Hoofstukke 4 tot 22

Ons gaan in die volgende weke die sewe briewe aan die sewe kerke in Openbaring hoofstukke 2 en 3 bestudeer en na die volgende aspekte kyk.


A) Die struktuur van elke brief wat as volg opgestel is:

  1. Naam van die gemeente

  2. Titel wat Jesus Christus gekies het

  3. Goeie werke

  4. Slegte werke

  5. Aanbevelings

  6. Belofte aan die oorwinnaar

  7. Wie ‘n oor het

B) Die profetiese tydperk wat elk van die sewe gemeentes voorstel.


24 Januarie 2020


Alhoewel Jerusalem en Rome vêr van mekaar is, wys Paulus se sendingreise vir ons dat dit nie ‘n probleem was om in die gebied te reis nie. So ook dan is briewe van die een plek na die ander gestuur om gelees te word.


Dus nie snaaks dat die apostel Johannes briewe kon skryf aan die sewe gemeentes in Asië vir voorlesing nie. Kerke daardie tyd was nie in groot geboue soos ons vandag ken nie, maar in mekaar se huise.


Die sewe briewe span ‘n tydperk van die begin van die kerk (die boek Handelinge) tot vandag en vêrder in die toekoms in, tot en met die Wegraping. Hierdie kerktydperke wat ons nou gaan bestudeer is ook die tydperk tussen die 69ste en 70ste week van Daniel 9.


Die sewe gemeentes is geleë in Klein Asië wat in huidige tye suidwes Turkeie is. As ons op ‘n kaart kyk, is die volgorde van die briewe in ‘n klokgewyse patroon. Die patroon dui dan ook vir ons ‘n tydlyn aan. Die profetiese tydlyn sal aan die einde van elke brief verduidelik word.



25 Januarie 2020


OPENBARING 2:1 AFR53

“Skryf aan die engel van die gemeente in Éfese: Dít sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou, wat wandel tussen die sewe goue kandelaars:”


1. Naam van gemeente: Efese – beteken beminde!

Efese was ‘n belangrike hawestad in die Middelandse See, en het die westelike en oostelike uiteindes van die Romeinse Ryk verbind. Die geweldige vloei van goedere deur hierdie hawe het die stad baie ryk gemaak. Hawens bring skepe en skepe bring matrose en reisigers, en hulle het hierdie stad en sy baie tempels wat aan die Romeinse gode gewy was, besoek. Die grootste hiervan was die tempel van Diana wat gevul was met prostitute.


Te midde van hierdie besige stad met al sy heidense invloede kry ons ook een van die invloedrykste kerke van die eerste eeu. Paulus, Johannes en Timótheüs het deur die jare onder sy leiers getel, en die stad is prominent in die boek Handelinge en die briewe van die Apostels.


2. Jesus se titel

Jesus gebruik hier dieselfde beskrywing as in Openbaring 1 verse 13 en 16. Jesus sê hiermee dat Hy die sterre of engele of boodskappers in die palm van Sy hand vashou en dat Hy teenwoordig is in die sewe gemeentes.


“En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, ……… OPENBARING 1:16 AFR53

“en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens …..OPENBARING 1:13 AFR53

 

26 Januarie 2020


OPENBARING 2:2-3 + 6 AFR53

2 en 3 – “Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het; en dat jy verdra het en lydsaamheid besit, en ter wille van my Naam gearbei en nie moeg geword het nie.”

6 – “Maar dit het jy, dat jy die werke van die Nikolaïete haat, wat Ek ook haat.”


3. Goeie werke

Daar is ‘n hele paar goed wat die gemeente goed gedoen het:

  1. Verdra nie slegte mense nie.

  2. Stel die wat hul apostels noem op die proef, en wys hul uit as leuenaars indien nodig.

  3. Is verdraagsaam

  4. En lydsaam

  5. Werk ter wille van Jesus se Naam en word nie moeg nie

  6. Haat wat Jesus haat – die werke van die Nikolaiete.

  7. Nika, nicau – om te oorkom, te oorwin, te regeer

  8. Lao, laos – mense

  9. Gebruik hul geestelike statuur of posisie om oor die mense te heers

 

27 Januarie 2020


OPENBARING 2:4 AFR53

“Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het.”


4. Slegte werke:

So besig met die werke van die Koning dat daar nie tyd is vir die Koning nie.

 

28 Januarie 2020


OPENBARING 2:5 AFR53

“Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie.”


5. Aanbevelings

Onthou die passie waarmee die gemeente begin is. Bekeer julself en doen die werke wat jul in die begin gedoen het met Jesus as die middelpunt, anders sal Jesus jul kandelaar of gemeente verwyder.


Efese wat eens een van die belangrikste hawestede van sy tyd was en een van die sewe wonders van die antieke wêreld, is vandag 9.6 km van die see af en met net ruines wat besigtig kan word. Die gemeente van Efese het duidelik hul eerste liefde bly verlaat en hul kandelaar is van sy plek verwyder.

 

29 Januarie 2020


OPENBARING 2:7 AFR53

“Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne-in die paradys van God is.”


6. Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê

Die sin word in elke brief gevind. In die eerste drie briewe is die sin voor die belofte aan die oorwinnaar. Elkeen van ons met ore moet hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.


7. Belofte aan oorwinnaar

Die belofte wat aan die einde van elke brief kom bemoedig gelowiges. Oorwinnars sal in die ewige toekoms eet van die boom van die lewe wat in die paradys is.

 

30 Januarie 2020


Profetiese tydlyn: Apostoliese kerk, 30 – 100 NC


Die gemeente in Efese verteenwoordig die Apostoliese kerk – so genoem omdat die apostels die kerkleiers van die tydperk was. Die tydperk begin met die uitstorting van die Heilige Gees in die boek Handelinge en eindig met die dood van die laaste apostel Johannes, wat die boek Openbaring geskryf het.


Die kerk is nou vir die eerste keer sonder apostoliese leierskap, maar hul het iets belangriker en kragtiger om die kerk te lei: die Woord van God.

 

31 Januarie 2020


OPENBARING 2:8 AFR53

“En skryf aan die engel van die gemeente in Smirna: Dít sê die eerste en die laaste, wat dood was en lewend geword het:”


1. Naam van gemeente

Smirna – beteken Mirre, soos in baba Jesus se geskenke van goud, mirre en wierook.

Mirre is ‘n natuurlik boomgom van die omgewing, was ‘n belangrike bestandeel in die balsem proses en word geassosieer met die dood, wat die hooftema van die brief is.


Smirna, vandag Izmir, is die 3de grootste stad in Turkeie en is noord van Efese met ‘n bevoling van 2,947,000 (2018). Die stad was strategies geplaas vir handel tussen Europa en Asië met uitvoer produkte soos tabak, druiwe, vye, katoen, olywe & olyfolie.


Smirna was in Johannes se tyd net nog ‘n Romeinse stad vol heidense tempels, en die grootste tempel was die een vir keiser Tiberias. Dit het hierdie stad die hart gemaak van keiseraanbidding in Klein-Asië, en as sodanig het dit ‘n vroeë vervolger van Christene geword.


Onder die Romeinse Keisers het geweldige en verskrikle vervolgings plaasgevind. Die Christene is in die arenas tot vermaak van die keiser en sy volgelinge vir die leeus gevoer & hulle moes met wilde diere veg tot die dood toe.


2. Jesus se titel

Jesus adresseer elke kerk met ‘n gedeelte van Johannes se beskrywing oor Homself in hoofstuk een, wat ook hul eienskappe uitlig. Jesus weet hoe dit is om as mens te sterf, maar


Hy het ook die krag om die dode te oorwin en vir ewig te lewe.


“wat sê: Ek is die Alfa en die Oméga, die eerste en die laaste, ……… OPENBARING 1:11 AFR53


……………. Ek is die eerste en die laaste en die lewende; en Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid. Amen. ……………. OPENBARING 1:17-18 AFR53

 

1 Februarie 2020


OPENBARING 2:9 AFR53

“Ek ken jou werke en verdrukking en armoede — maar jy is ryk — en die lastering van die wat sê dat hulle Jode is en dit nie is nie, maar ‘n sinagoge van die Satan.”


3. Goeie werke

Verdrukking hier is die Christene wat vervolg word. Om te werk moes jy aan ‘n unie behoort, en elke unie het ‘n sekere god aanbid. Deel van die aanbidding was verpligte offerhandes om jou aliansie tot die gode te bewys. As jy geweier het om die gode te aanbid, was jy nie ‘n lid van die unie nie en het jy nie werk gekry nie, vandaar hul armoede. Daarom dat Jesus sê Hy ken hul werke en armoede en Hy weet van hul verdrukking.


– maar jy is ryk – hulle was beslis nie ryk aan aardse besittings nie, maar ryk in Christelike deugde en ewige besittings.


Sinagoge van Satan – Ongelowige Jode wat die Christene vervolg het.


4. Slegte werke

Geen

 

02 / 02 / 2020 (Moes net die mooi datum so skryf! 😄)


OPENBARING 2:10 AFR53

“Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.”


5. Aanbevelings

Verdrukking was vir die Christene ‘n gegewe! Beslis nie ‘n uitkyk wat enige van ons met ons gemaklike lewens vandag verstaan nie. Jesus sê vir dié gemeente dat verdrukking beslis gaan plaasvind en dat hulle nie daarvoor moet vrees nie. Jesus se aanbeveling is dat hul getrou moet wees tot die dood toe, want in die ewige lewe sal hul die kroon van die lewe kry!


Selfs in Mattheus sê Jesus dat die wat vervolg word geseënd sal wees.


“Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” MATTHÉÜS 5:10 AFR53


Die Romeine het nie gevangenis vir lang tydperke in hul tronke gehou nie. Tien dae klink kort genoeg om ‘n vonnis te voltrek en die gevangene na die amfiteater te vervoer waar hulle met die wilde diere tot die dood toe geveg het.

 

3 Februarie 2020


OPENBARING 2:11 AFR53

“Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.”


6. Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê

Let op dat die belofte aan die oorwinnar weer na die sin ‘wie ‘n oor het’ gegee word.


7. Belofte aan oorwinnaar

Die belofte wat aan die einde van elke brief kom bemoedig gelowiges. Die wat oorwin sal slegs een dood sterf, naamlik die liggaamlike dood op aarde. Die tweede dood is slegs vir diegene wat Jesus verwerp het en aan die einde van die millenium in die poel van vuur gewerp gaan word.

 

4 Februarie 2020


Profetiese tydlyn: Vervolgde kerk tydperk, van 54 tot 313 NC

Die tydperk verteenwoordig ongeveer 250 jaar van Christen vervolging. Hier is ‘n lys van tien van die Romeinse keisers wat Christene vervolg het. Die 10 dae in Openbaring 2:10 kan ook na die tien skrikbewind keisers verwys.

  1. 54-68 Nero

  2. 95-96 Domitian

  3. 104-117 Trajan

  4. 161-180 Marcus Aurelius

  5. 200-211 Septimus Severus

  6. 235-237 Maximinus

  7. 249-251 Decius

  8. 257-260 Valerian

  9. 270-275 Aurelian

  10. 303-313 Diocletian

 


5 Februarie 2020


OPENBARING 2:12 AFR53

“En skryf aan die engel van die gemeente in Pérgamus: Dít sê Hy wat die skerp tweesnydende swaard het:”


1. Naam van gemeente:

Pergamus – Pergos beteken kragtige vesting en gamos beteken huwelik, dus ‘n huwelik met ‘n magtige instelling.


Pergamus was vir baie eeue ‘n magtige stad en die hoofstad van dié Romeinse provinsie. Die goewerneur van Asië het in hierdie stad gewoon en as goewerneur het hy die gesag gehad om oor lewe en dood te beslis.


Pergamus se biblioteek kon meeding met Alexandria in Egipte en het sowat 200,000 perkamentrolle gehuisves.


Die stad was die woonplek van heidense tempels, monumente en kultusse wat heidense gode aanbid het. Onder bekende besienswaardighede was die altaar van Zeus die Griekse god van lug en donderweer asook ‘n Asklepieion mediese skool wat die middelpunt was van ‘n satanistiese kult.


2. Jesus se titel

‘n Tweesnydende swaard was in antieke tye ‘n algemene uitdrukking vir die swaard wat gebruik is om misdadigers tereg te stel. Jesus gebruik die omskrywing van Homself om vir die gemeente van Pergamos hul foute uit te wys en hul daarvoor aanspreeklik te hou.


Jesus gebruik die beskrywing van hoofstuk 1 – ………….. en ‘n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, ……… OPENBARING 1:16b AFR53

 

7 Februarie 2020


OPENBARING 2:13 AFR53

“Ek ken jou werke en die plek waar jy woon, waar die troon van die Satan is. En jy hou vas aan my Naam en het die geloof in My nie verloën nie, selfs in die dae waarin Ántipas my getroue getuie was, wat gedood is by julle waar die Satan woon.”


3. Goeie werke

Pergamus was oorwegend ‘n plek van satanistiese aanbidding wat die stad geestelik ‘n besonderse bose plek gemaak het, veral vir Christene. Jesus gee hier erkenning aan hul goeie werke en weet dat hul vashou aan Sy Naam, en hul geloof in Jesus nie verloën nie.


Duidelik was daar nog steeds Christene wat vervolg was en tot die dood getrou gebly het aan Jesus, soos Antipas wat in die vers as voorbeeld gebruik word.

 

8 Februarie 2020


OPENBARING 2:14-15 AFR53

“Maar Ek het enkele dinge teen jou: dat jy daar mense het wat vashou aan die leer van Bíleam wat Balak geleer het om ‘n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer. So het jy ook mense wat vashou aan die leer van die Nikolaïete, wat Ek haat.”


4. Slegte werke

Onthou jy die verhaal Bileam en sy donkie? Bileam was ‘n profeet van God, maar hy was korrup en gulsig. ‘n Persoon wat vashou aan die leer van Bileam, is ‘n persoon wat struikelblokke voor God se kinders plaas. Die ‘Bileams’ van Pergamus het die kerk geleer dat daar niks verkeerd was om afgodsoffers te eet of om te hoereer in die afgodstempels nie.


Dus, gelowiges wat vals leering bevorder het.

 

9 Februarie 2020


OPENBARING 2:16 AFR53

“Bekeer jou; anders kom Ek gou na jou toe en sal teen hulle oorlog voer met die swaard van my mond.”


5. Aanbevelings

Twee woorde – bekeer jou! Draai weg van dit wat jy weet verkeerd is en keer terug na Jesus toe. Die swaard van Sy mond is die Woord van God en verwys hier na ‘n teregstelling of om van die kerk afgesny te word. Meer spesifiek die leiers van die kerk wat hul gemeentes vals leeringe leer.

 

10 Februarie 2020


OPENBARING 2:17 AFR53

“Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna, en Ek sal hom gee ‘n wit keursteen, en op dié steen ‘n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang.”


6. Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê

Let op dat die belofte aan die oorwinnar weer na die sin ‘wie ‘n oor het’ gegee word.


7. Belofte aan oorwinnaar

Verborge manna – kos van God in teenstelling met kos wat aan gode geoffer is.


Wit steen in Perganum se tyd – die Asklepieion mediese skool in Perganum met hul satanistiese gebruike het ook genesings gedoen. Wanneer ‘n persoon wat die skool besoek het genees is van hul kwaal, het hul by die uitgang ‘n wit klip geneem, hul naam opgeskryf en die kwaal waarvan hul genees is. Dit het gedien as monumente vir die vals gode en hul genesings. Ja, die duiwel kan ook genees – daarom belangrik om te weet in wie se naam die genesing plaasvind!!


Wit steen met naam op wat niemand ken nie – soos ‘n kaartjie wat jy koop (wat net jy kan gebruik) na ‘n opvoering met beperkte toegang. Daar is net een pad na die Vader, en dit is deur Jesus!


“Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” JOHANNES 14:6 AFR53

 

11 Februarie 2020


Profetiese tydlyn: Getroude kerk, van 313 NC tot 600 NC

In 313 NC sien keiser Konstantyn ‘n visioen op die slagveld en verklaar dat almal in die Romeinse Ryk Christene moet wees. Hier is die kerk getroud met ‘n magtige instelling naamlik die Romeinse Ryk, vandaar die betekenis van Pergamus.


Al die kerke moes onmiddelik hul deure vir die heidene met hul gewoontes en bygelowe oopmaak. Dit het tot gevolg gehad dat almal se vakansiedae gekombineer is en dat hul heidense gebruike soos tempelpriesters, beelde van afgode, kinderdoop en mistieke invloede die kerk geinfiltreer het.


Jesus het egter gesê Hy kom met die swaard van die mond om dit als te eindig. Die kerk is nie tot niet nie, maar God het wel die val van die Romeinse Ryk bewerkstellig wat in ongeveer 600 NC plaasgevind het.

 


12 Februarie 2020


OPENBARING 2:18 AFR53

“En skryf aan die engel van die gemeente in Thiatíre: Dít sê die Seun van God wat oë het soos ‘n vuurvlam, en sy voete is soos blink koper:”


1. Naam van gemeente:

Thiatire – beteken ewigdurende offerhandes.


Thiatire was ‘n belangrike stad op die handelsroete tussen Pergamus en Sardis en die stad het ook meer vakbonde gehad as enige van die ander stede in die omgewing. Elke vakbond het sy eie god aanbid en tydens die gereelde vakbond vergaderings is vleis aan die gode geoffer. Die geofferde vleis was dan ook hul ete vir die aand, gepaard met orgies wat normale praktyk was in die vergaderings. Persone wat geweier het om deel te wees hiervan is verban van die vakbond wat beteken het dat hul nie kon werk en geld verdien nie.


Thiatire was ook ‘n militêre stad wat onstaan het in 300 BC. Die stad is geleë in ‘n vallei met geen natuurlike beskerming nie, daarom was die stadsmure versterk en het hul ‘n permanente garnisoen hier gevestig, vir hul eie beskerming en vir die beskerming van die hoofstad Pergamus.


2. Jesus se titel

Die beskrywing wat Jesus uit hoofstuk een van Homself neem beklemtoon Sy oë van vuur en voete van koper. Oë wat deurboor en alles sien wat ons doen. Koper is altyd ‘n voorstelling van oordeel.


Hoofstuk 1 – ………. en sy oë soos ‘n vuurvlam, en sy voete soos blink koper ………. OPENBARING 1:14b-15a AFR53

 

13 Februarie 2020


OPENBARING 2:19 AFR53

“Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof en jou lydsaamheid en jou werke, en dat die laaste meer is as die eerste.”


3. Goeie werke

Jesus gee weereens erkenning aan die kerk se goeie werke. Hul goeie werke het toegeneem, hulle was georganiseerd en aktief in hul diensbaarheid, lydsaamheid en liefde.

Meer mense is gevoed, gehuisves, geleer, en meer mense het goeie werke ontvang. Dit wil voorkom of die mense vroom en hard gewerk het.


Jesus is beslis ‘n voorstander van Sy kerk wat goeie werke doen, maar goeie werke kan nie die kerk se kern missie oorheers nie, nl: evangelisasie – om siele vir Jesus te wen.

Die redding van siele deur die verkondiging van die Evangelie is die uiteindelike en beste maatstaf van die kerk se gehoorsaamheid aan Jesus.

 

14 Februarie 2020


OPENBARING 2:20-23 AFR53

“Maar Ek het enkele dinge teen jou; dat jy die vrou Isébel, wat haarself ‘n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet. En Ek het haar tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer, en sy het haar nie bekeer nie. Kyk, Ek werp haar neer op ‘n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in ‘n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie. En haar kinders sal Ek sekerlik doodmaak, en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke.”


4. Slegte werke

Jesus gebruik die profetes Isebel van die Ou Testament as ‘n voorbeeld om te verduidelik wat die kerk verkeerd doen. Sy verlei die mense om te hoereer en afgodsoffers te eet. Lees in 1 Konings 16 wie Isebel was – Koning Agab trou met Isebel en hy begin om Baäl se afgode te dien.


“En Agab, die seun van Omri, het gedoen wat kwaad is in die oë van die Here, meer as al sy voorgangers. En dit was nog die minste dat hy in die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, gewandel het: hy het Isébel, die dogter van Et-Baäl, die koning van die Sidoniërs, as vrou geneem, en Baäl gaan dien en voor hom neergebuig, en vir Baäl ‘n altaar opgerig in die huis van Baäl wat hy in Samaría gebou het.” I KONINGS 16:30-32 AFR53


Iemand wat ‘n profeet is gee voor dat hul van God hoor. Duidelik is die Isebel ‘n profeet met ‘n valse boodskap wat die kerk verlei, ‘n ongelowige met ‘n bose hart wat die wil van die vyand wou doen. Die groot sonde van die kerk in Thiatire is hul onvermoeë of onwilligheid om nie die valse boodskap van die profeet teen te staan nie.


Ons het hier die eerste vermelding van die Groot Verdrukking waar mense hulself sal bevind as hul nie eers bekeer nie.


Jesus haal Jeremia aan en sê dat elkeen se hart deursoek sal word en elkeen sal regverdig geoordeel word volgens hul vrugte of werke.


“Ek, die Here, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, volgens die vrug van sy handelinge.” JEREMIA 17:10 AFR53

 

15 Februarie 2020


OPENBARING 2:24-25 AFR53

“En ek sê vir julle en die ander wat in Thiatíre is, almal wat hierdie leer nie het nie, en die wat die dieptes van die Satan, soos hulle dit noem, nie leer ken het nie: Ek sal op julle geen ander las lê nie. Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom.”


5. Aanbevelings

In Pergamus het ons gelowiges gekry wat vals leeringe bevorder het, en hier in Thiatire het ons nie-gelowiges wat in beheer is van die kerk. Die kerk het hier beweeg na ‘n punt waar hul leeringe verkondig wat duidelik deur die vyand of Satan aanvaar word.

Jesus sê nou vir dié wat nie deel is van die valse leer nie dat Hy geen ander las op hul sal lê nie.


Jesus sluit af met ‘n verwysing na Sy tweede koms – Hou vas wat julle het, totdat Ek kom! Die laaste vier briewe het elk ‘n verwysing na die tweede koms van Jesus.

 

16 Februarie 2020


OPENBARING 2:26-28 AFR53

“En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het. En Ek sal hom die môrester gee.


6. Belofte aan die oorwinnaar

Die belofte aan die oorwinnar is die volgende: 1) mag oor die nasies om hul te regeer, 2) oorwinning oor alle vyande, en 3) die môrester.


Hierdie môrester is Jesus self, soos Openbaring 22:16 onthul. Jesus sal Homself aan sy kerk gee, en hulle sal ewig saam gemeenskap hê.


“Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.” OPENBARING 22:16 AFR53

 

17 Februarie 2020


OPENBARING 2:29 AFR53

Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.”


7. Wie ’n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê

Hierdie frase word van hier af geplaas na die belofte aan die oorwinnaar, so die sewe gemeentes kan in twee groepe opgedeel word. Die eerste drie gemeentes en die laaste vier gemeentes. Die laaste vier het elk ‘n verwysing na Jesus se tweede koms wat kan aandui dat gedeeltes van die kerke nog vandag teenwoordig is en deel gaan uitmaak van die eindtye.

 

18 Februarie 2020


Profetiese tydlyn: Rooms Katolieke kerk van 600 tot 1517 NC

Die brief verteenwoordig die tydperk in die geskiedenis toe die Rooms Katolieke instansie die kerk oorheers het en die Isebel van die tydperk was wat vals leeringe in die kerk verkondig het.


Hierdie tydperk was gekenmerk deur die Katolieke inkwisisies waar Christene op brandstapels verbrand is en op heelwat ander ondenkbare maniere doodgemartel is.


Jesus waarsku in Openbaring 2:22-23 van ‘n ernstige siekbied wat doodmaak as die mense nie bekeer nie. Hierdie kan verwys na die swart plaag wat Europa getref het (1347 – 1351) waar ‘n derde van die bevolking in Europa en Asië dood is.


Die swart plaag het ook die Katolieke kerk ernstig getref. Die priesters en nonne wat die siek pasiente verpleeg het, het nie die plaag vrygespring nie. Gemeentelede wat bang was om siek te word het nie meer kerk toe gegaan nie, wat tot gevolg gehad het dat die kerk se fondse ‘n ernstige knou gekry het. So het die Katolieke kerk se mag begin kleiner word en plek gemaak vir vrye denkers soos Martin Luther wat ‘n groot rol gespeel het in die volgende tydperk.

125 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page