20 Junie 2020
OPENBARING 9:1 AFR53
“En toe die vyfde engel blaas, sien ek ‘n ster wat uit die hemel op die aarde geval het, en aan hom is die sleutel van die put van die afgrond gegee.
Die vyfde engel blaas die vyfde basuin.
Johannes sien nog ‘n ster wat uit die hemel op die aarde val. Die keer is die ster nie ‘n meteoriet of asteroide nie, maar ‘n ‘persoon’ of engel want daar word na die ster verwys as ‘hom’.
Die engel wat aarde toe val is ‘n gevalle engel of ‘n demoon wat ‘n sleutel ontvang. Hy is nie die draer of eienaar van die sleutel nie, dit moet aan hom gegee word. Die sleutel sluit die put van die afgrond oop.
Die put van die afgrond word ook genoem die hel of die onderwêreld. Die Nuwe Testament sê ook vir ons dat hierdie ‘n spesiale gevangenis is waar die siele van ongehoorsame engele gehou word.
“Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word;”. II PETRUS 2:4 AFR53
Nie alle demone word na die onderwêreld veban nie, van hulle is nog baie aktief en aan die werk hier op die aarde.
“Daarop vra Jesus hom en sê: Wat is jou naam? En hy antwoord: Legio — want baie duiwels het in hom ingevaar. En hulle het Hom gesmeek dat Hy hulle nie sou beveel om in die onderwêreld af te vaar nie.” LUKAS 8:30-31 AFR53
Die onderwêreld het in die Ou Testament (OT) uit twee plekke bestaan. Een gedeelte vir die siele van die OT gelowiges, en die ander gedeelte vir die siele van die OT ongelowiges. Ons sien hierdie beskrywing mooi in Lukas 16 met die gelykenis van die ryk man en Lasarus.
God het voor Jesus, elkeen wat gesterf het na die onderwêreld geneem – gelowiges in troos en ongelowiges in pyniging. Met Jesus se opstanding is die siele van die gelowiges verwyder en hulle het Jesus na die hemel vergesel, maar die siele van ongelowiges het gebly en is vandag nog in die onderwêreld of put van die afgrond.
21 Junie 2020
OPENBARING 9:2 AFR53
En hy het die put van die afgrond oopgemaak, en daar het rook opgekom uit die put soos rook van ‘n groot oond, en die son en die lug is deur die rook van die put verduister.
Die demoon wat Satan homself kan wees of een van sy hoofgesante, maak die put van die afgrond oop.
Met die oopmaak van die put is daar onmiddelik bolle rook wat uitkom, soos rook wat mens kry van ‘n groot oond. Hierdie is bevestiging dat die hel ‘n warm plek is en ook dat die hel onder ons voete, vêr onder die aarde is.
Die rook is so erg dat die son en die lug deur die rook van die put verduister word.
22 Junie 2020
OPENBARING 9:3 AFR53
En uit die rook het daar sprinkane uitgekom op die aarde, en aan hulle is mag gegee soos die skerpioene van die aarde mag het.
Johannes sien sprinkane wat saam met die bolle rook uitkom uit die bodemlose put. Latere verse gaan meer beskrywend wees en wys dat die wesens wat hy sien soos insekte lyk.
Die agste plaag was sprinkane en het die hele Egipteland bedek.
“die sprinkane het opgekom oor die hele Egipteland en in die hele gebied van Egipte gaan sit, ‘n baie groot menigte — tevore was daar so ‘n sprinkaanswerm nie gewees nie, en daarna sal so iets nie weer voorkom nie. En hulle het die oppervlakte van die hele land bedek, sodat die land swart was; …….. EXODUS 10:14-15a AFR53
Die sprinkane wat Johannes gesien het, was egter baie anders as die gewone soort. Die vers vertel dat hulle ‘mag ontvang soos die mag van skerpioene’. Die skerpioen se mag is in sy angel en die pyn van so ‘n steek kan dae duur. Die mag aan die sprinkane kan net van God af kom, net soos God die sleutel gegee het om die put oop te maak.
23 Junie 2020
OPENBARING 9:4 AFR53
En aan hulle is gesê dat hulle nie die gras van die aarde of enige groenigheid of enige boom moet beskadig nie, maar net alleen die mense wat die seël van God nie op hulle voorhoofde het nie.
Die sprinkane se mag kom met spesifieke instruksies en beperkings. Hulle word beveel om nie die gras of enige groenigheid of enige bome te beskadig nie. Die sprinkane moet dus teen hul natuur optree en niks groen eet nie – ‘n aanduiding dat die ‘insekte’ geen gewone sprinkaan is nie.
Die springkane moet wel AL die mense wat NIE die seël van God op hul voorhoofde het NIE beskadig. Ons weet tot dusvêr dat die 144,000 Joodse evangeliste elkeen die seël van God op hul voorhoofde ontvang het.
Ons weet ook dat duisende mense Jesus as hul Verlosser gaan aanvaar deur die evangelisasie veldtog van die 144,000. Daar word nie vêrdere detail gegee nie, maar ons kan aanneem dat elke gelowige ook God se merk moet he, want soos Timotheus in die vers hieronder vir ons leer – die Here ken wat syne is!
“Ewenwel, die fondament van God staan vas met hierdie seël: Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.” II TIMÓTHEÜS 2:19 AFR53
24 Junie 2020
OPENBARING 9:5 AFR53
En dit is aan hulle gegee, nie om hulle dood te maak nie, maar dat hulle vyf maande lank gepynig sou word; en hulle pyniging was soos die pyniging van ‘n skerpioen wanneer hy ‘n mens steek.
Die sprinkane se instruksie is om ongelowiges te pynig vir vyf maande lank, maar hulle mag die mense nie dood maak nie. Die pyniging voel soos ‘n skerpioensteek.
‘n Skerpioensteek brand glo normaalweg soos die warmste kool in ‘n vuur en die simptome daarvan kan die volgende insluit: ongemak, sweet, verhoogde bloeddruk, kwyling, mislikheid, braking, allergiese reaksies en stuiptrekkings.
Die enigste ander gebeurtenis in die Bybel wat vyf maande geduur het was tydens die vloed met Noag in die ark. Vyf maande x 30 dae = 150 dae.
“En die waters het die oorhand behou oor die aarde honderd-en-vyftig dae lank.” GÉNESIS 7:24 AFR53
25 Junie 2020
OPENBARING 9:6 AFR53
En in dié dae sal die mense die dood soek en dit nie vind nie; en hulle sal verlang om te sterwe, en die dood sal vir hulle wegvlug.
In dié dae – die 150 dae of vyf maande van pyniging – sal die mense wens hulle is eerder dood. Maar, hulle sal nie kan doodgaan nie. Vir vyf maande lank sal niemand doodgaan nie!
Niemand sal kan selfmoord pleeg nie, en mense sal mekaar ook nie kan doodmaak nie.
Vir vyf maande van onophoudelike pyn sal die mensdom ‘n voorsmakie kry van hoe dit eendag in die hel gaan wees. ‘n Genade tydperk om te besluit om eerder Jesus te volg. Die getal 5 beteken genade in die Bybel.
Martin Luther het die volgende gesê: Twee geboortes = een dood. Een geboorte = twee dode. Hoe werk dit?
Jesus verduidelik – die eerste geboorte is fisies, en met die tweede geboorte aanvaar ons Jesus as Verlosser. Dan sterf ons net eenmaal hier op aarde en ons gees leef vir ewig saam met Hom.
“Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.” JOHANNES 3:3-5 AFR53
Fisiese dood is die eerste dood en die skeiding van gees en siel van die liggaam, maar die tweede dood is die skeiding van gees en siel van God.
“Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars — hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.” OPENBARING 21:8 AFR53
26 Junie 2020
OPENBARING 9:7 AFR53
En die voorkoms van die sprinkane was soos dié van perde wat vir die oorlog toegerus is, en op hulle koppe was iets soos krone wat net soos goud gelyk het, en hulle gesigte was soos die gesigte van mense.
Die vers begin om vir ons te verduidelik hoe die demoniese sprinkane wat uit die bodemlose put vrygelaat is gaan lyk.
Soos perde wat toegerus is vir oorlog – om die mensdom te pynig is inderdaad om oorlog te voer en ‘n sprinkaan se kop lyk natuurlik ‘n bietjie soos ‘n perd se kop.
Op hul koppe iets soos krone wat soos goud lyk – dié krone is in Grieks stephanos wat die kroon was wat jy by ‘n olimpiese spele gewen het, dus iets waarvoor jy moes werk. Die demone het gewerk om in die spesifieke regiment te wees.
Gesigte soos gesigte van mense – spreek vanself.
27 Junie 2020
OPENBARING 9:8 AFR53
En hulle het hare gehad soos vrouehare, en hulle tande was soos dié van leeus.
Hare soos vrouehare kan maanhare van perde wees omdat Johannes in die vorige vers gesê het dat die sprinkane soos oorlogsperde lyk.
Tande soos die van leeus – ‘n voorkoms wat jou moet bang maak. Joël het ook ‘n gesig van ‘n sprinkaan weermag met leeutande gesien.
“Want ‘n sterk en ontelbare nasie het opgetrek oor my land; sy tande is leeutande, en dit kan byt soos ‘n leeuin.” JOËL 1:6 AFR53
28 Junie 2020
OPENBARING 9:9 AFR53
En hulle het borsharnasse gehad soos van yster, en die gedruis van hulle vlerke was soos die gedruis van baie strydwaens met perde wat opruk na die oorlog.
Die sprinkane se borsstuk (kop, borsstuk en agterlyf) het gelyk of dit met iets soos yster beskerm is. Soos soldate wat hul wapenrusting aantrek. Sterk en reg vir oorlog.
Die sprinkaan weermag het vreesaanjaend gelyk, maar die effek is vererger deur die gedruis van hul vlerke. Dit het geklink soos baie strydwaens met perde wat opruk na ‘n oorlog.
29 Junie 2020
OPENBARING 9:10 AFR53
En hulle het sterte gehad soos dié van skerpioene, en daar was angels in hulle sterte, en hulle mag was om die mense vyf maande lank skade aan te doen.
Die demone se sterte was soos die van skerpioene, en daar was angels in hul sterte. Die mag van die demone was om vyf maande lank skade te doen aan die ongelowige mense.
Die vers beklemtoon wat ons tot dusvêr geleer het. Moet nie onder enige wanindruk verkeer nie, dit gaan ‘n baie moeilike tydperk wees.
30 Junie 2020
OPENBARING 9:11 AFR53
En hulle het as koning oor hulle die engel van die afgrond; sy naam in Hebreeus is Abáddon, en in Grieks het hy die naam van Apóllion.
Die sprinkane het ‘n koning wat oor hul regeer. Die koning van die afgrond se naam is Abaddon (Hebreeus) of Apollion (Grieks) en die naam beteken Verwoester. Die Ou Testament boek Spreuke leer ons dat gewone sprinkane nie ‘n koning het nie, so hierdie sprinkaanagtige gedrogge kan net demone wees.
“sprinkane het nie ‘n koning nie en tog trek die hele swerm in formasie;” SPREUKE 30:27 AFR83
Hoe vêrder ons in die Verdrukking tydperk inbeweeg hoe meer interaksie gaan daar tussen die fisiese en geestelike wêrelde wees. Wat vir ons vandag ondenkbaar is, gaan in die Verdrukking tydperk algemeen word.
1 Julie 2020
OPENBARING 9:12 AFR53
Die een wee het verbygegaan; hierna kom daar nog twee weë.
Die pyniging van die eerste wee of die vyfde basuin is nou verby.
Hierdie gedeelte bevestig dat die weë op mekaar volg en nie gelyktydig gebeur nie. Dink jou in hoe verlig die mense moet wees dat die pyniging uiteindelik verby is, maar hou vas want daar kom nog twee weë.
2 Julie 2020
OPENBARING 9:13 AFR53
En die sesde engel het geblaas, en ek het ‘n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is,
Die sesde engel blaas die sesde basuin!
Johannes hoor ‘n stem wat kom van die goue altaar wat voor God is. Hierdie is weer die wierookaltaar in die tempel, in die hemel, waar die martelaars se gebede geplaas is.
Die opdrag kom direk van God en ons sal sien dat bonatuurlike wesens God se opdrag moet uitvoer. Die gebeure wat volg gaan dus van bonatuurlike en nie natuurlike aard wees nie.
3 Julie 2020
OPENBARING 9:14 AFR53
en dié het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat.
God gee die volgende opdrag aan die sesde engel met die sesde basuin.
Die vier engele wat gebind is by die Eufraatrivier moet losgemaak word. Engele wat gebind is, of in ander woorde, in gevangenis is, verwys na gevalle engele of demone wat ook beklemtoon word deur die feit dat hulle nie in die hemel nie, maar onder op die aarde is.
Die Eufraatrivier is die oostelike grens van Israel (Gen 15:18). Sonde het hier begin toe Eva die vrug geëet het (Gen 3:6), Nimrod het sy koninkryk Babel hier gestig (Gen 10:10) en die toring van Babel is hier gebou (Gen11:4). Dus, die gepaste hoofkwartiere van heidense aanbidding.
4 Julie 2020
OPENBARING 9:15 AFR53
Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en maand en jaar, om ‘n derde van die mense dood te maak.
Die vier engele het ‘n spesifieke taak vooruit beplan deur God wat die einde van die begin af ken. Dié gevalle engele is gereed gehou vir ‘n spesifieke uur en dag en maand en jaar!
“wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;” JESAJA 46:10 AFR53
Die engele se hooftaak is om ‘n derde van die mense wat op die stadium nog lewe, dood te maak.
5 Julie 2020
OPENBARING 9:16 AFR53
En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tienduisend maal tienduisend; en ek het hulle getal gehoor.
Die gevalle engele word ‘n bietjie hulp toegestaan deur leërs van perderuiters. Die getal van die perderuiters word vir ons gegee, en hier moet ons weer wiskunde kan doen, of ons optelmasjiene se hulp inroep. Die getal is wat Johannes gehoor het, en dit word vir ons gegee.
Twee maal tienduisend maal tienduisend = 2 (10,000 x 10,000) = 2 (100,000,000) = 200,000,000.
In woorde is die antwoord = twee honderd miljoen.
6 Julie 2020
OPENBARING 9:17 AFR53
En só het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan.
Hier beskryf Johannes wat hy sien, die perde en hul ruiters. Ons het hier met ‘n heel ander regement van demone te doen. Die vyfde basuin se demone het goue krone gedra wat hul ‘embleem’ kon wees.
Die sesde basuin se twee honderd miljoen ruiters word gekenmerk aan die kleure van hul borsharnasse. Die kleure is vuurrooi, blou en swawelgeel.
Die perde het ‘n bonatuurlike voorkoms met koppe soos leeukoppe, en uit hul bekke het vuur en rook en swawel gegaan. Dit wat die perde uitspoeg spieëlbeeld die kleure van die borsharnasse.
Vuur (rooi), rook (blou), swawel (geel).
7 Julie 2020
OPENBARING 9:18 AFR53
Deur hierdie drie plae is ‘n derde van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het;
Hierdie leër wat tweehonderd miljoen ( 200,000,000 ) sterk is maak een derde van die mense wat op die stadium nog lewe dood. Vuur, rook en swawel word uit die bekke van die perde gespoeg om die mense dood te maak.
Hoeveel mense is tot op datum van hierdie tyd in die Verdrukking dood. As ons ‘n rowwe som maak en die Wegraping buiterekening hou is die helfte van die mense op aarde teen die tyd dood. Tans is daar 7,8 biljoen mense en die helfte daarvan is 3,9 biljoen.
Mense tans op aarde (Junie 2020 – 7,8 biljoen) 7,800,000,000
Seël 4 (Vaal perd) dood 1/4 van aarde – 1,950,000,000
Seël 5 Martelare gedood (getal onbekend) – 500,000
Basuin 6 Demoon perderuiters 1/3 aarde – 1,949,833,333
Totaal mense wat nog lewe (skatting) 3,890,666,667
8 Julie 2020
OPENBARING 9:19 AFR53
want hulle mag is in hulle bek en in hulle sterte; want hulle sterte is soos slange en het koppe, en daarmee rig hulle skade aan.
Die mag van die perde is in twee plekke – bek en stert. Die stert het ook mag want die stert is soos ‘n slang met ‘n kop en daarmee word ook skade aangerig.
Dit lyk nie of die derde wat doodgemaak word op een gedeelte van die aarde gesentreer is nie, eerder dat die 200,000 demoonperde die hele wêreld aanval. As daar dus drie mense in ‘n gesin of vriendekring is, sal een van hulle nie meer wees nie. Dié dood raak op dié stadium almal op aarde, direk of indirek.
9 Julie 2020
OPENBARING 9:20 AFR53
En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie.
Die orige mense wat nie deur die plae doodgemaak is nie, met ander woorde die ongelowiges wat nog lewe op die stadium – hulle weier nog steed om Jesus as hul Verlosser te aanvaar.
Die vers sê: hulle bekeer hulle nie van die werke van hul hande nie. Wat is die werke van hul hande? Die vers verduidelik vir ons: om duiwels en afgode te aanbid. Afgode gemaak van goud, silwer, koper, klip en hout – dus gode wat nie kan sien of hoor of loop nie.
Duiwels aan die anderkant is werklik – maar ‘n Christen word verbied om hulle te aanbid.
“Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie. Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van die duiwels nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie.” I KORINTHIËRS 10:20-21 AFR53
10 Julie 2020
OPENBARING 9:21 AFR53
En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul diefstalle nie.”
Hierdie vers brei uit oor die sondes waarvan die ongelowiges hul nie bekeer nie – moord, towery, hoerery (onsedelikheid) en diefstal.
Moord – onthou dat aborsie ook tel onder moord.
Towery – die Grieks vir die woord is pharmakeia wat meer as een betekenis het, nl: die gebruik of toediening van medisyne – ook dwelm gebruik, vergiftiging en towery of towerkunste
Onsedelikheid – ‘n Refleksie van vandag se kultuur
Diefstal – spreek vanself
Die boek Galasiers leer ons ook van die verkeerde werke van die vlees!
“En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie.” GALÁSIËRS 5:19-21 AFR53
Comments