7 Junie 2020
OPENBARING 8:1 AFR53
“En toe Hy die sewende seël oopgemaak het, kom daar stilte in die hemel omtrent ‘n halfuur lank.
Die sewende en laaste seël word deur Jesus oopgemaak en die hemel word stil vir ‘n halfuur.
Die vorige keer dat ‘n spreekwoordelike ‘stilte voor die storm’ gebeur het was in die Ou Testament toe Joshua die stad Jerigo ingeval het.
Vir ses dae lank loop die krygsmanne van Israel elke dag een keer om die stad Jerigo. Op die sewende dag stap hul sewe keer om die stad en in stilte. Al wat gehoor kan word is die priesters wat op hul basuine blaas. Sewe priesters met sewe ramshorings stap voor die ark.
Na die sewende keer om die stad verander die geluid van die ramshorings. Lang geluide word geblaas en dit is die teken vir die krygsmanne om te skree! ……. en die stadsmure val net daar in die grond in.
“Toe het die Here vir Josua gesê: Kyk, Ek gee Jérigo met sy koning en dapper helde in jou hand. Julle moet dan om die stad trek, al die krygsmanne; trek die stad een maal om; so moet jy doen ses dae lank. En sewe priesters moet sewe ramshorings voor die ark dra; maar op die sewende dag moet julle die stad sewe maal omtrek; en die priesters moet op die horings blaas; en as hulle lang geluide op die ramshoring blaas, as julle die geluid van die horing hoor, moet die hele volk ‘n groot krygsgeskreeu aanhef: dan sal die stadsmuur op sy plek inval; en die volk moet inklim, elkeen reg voor hom uit.” JOSUA 6:2-5 AFR53
Duidelik het die krygsmanne nie hier geveg nie maar die Here van die leerskare!
8 Junie 2020
OPENBARING 8:2 AFR53
En ek het die sewe engele gesien wat voor God staan, en sewe basuine is aan hulle gegee.
Die sewende seël is nie net een ramp soos elkeen van die vorige seëls nie, die sewende seël gee vir ons sewe nuwe rampe wat deur elkeen van die sewe basuine voorgestel word.
Johannes sien sewe engele wat voor God staan en elkeen van die engele kry ‘n basuin.
Net vir interessantheid: Die Apokriewe boeke gee name aan die sewe engele: (Die name is in engels, ek gaan nie poog om hulle te vertaal nie.) Uriel, Raphael, Raguel, Michael, Sarakiel, Grabriel, and Phanuel.
Apokrief volgens die woordeboek beteken twyfelagtig of verdag – dit is hoekom ons die boeke nie in die Bybel het nie.
9 Junie 2020
OPENBARING 8:3 AFR53
En ‘n ander engel het gekom en met ‘n goue wierookbak by die altaar gaan staan, en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die heiliges op die goue altaar voor die troon te lê;
Johannes sien ‘n ander engel. Dié woord ander in Grieks is ‘allos’ wat beteken ‘van dieselfde soort’. Dus, ‘n engel van dieselfde soort as die sewe engele wat die sewe basuine gekry het – dit is dus nie Jesus nie.
Die engel wat Johannes in die hemel sien, staan met ‘n goue wierookbak by die altaar en baie reukwerk word aan hom gegee. Die gebede van al die heiliges – almal, niemand word oorgesien nie – word saam met die reukwerk in die goue bak geplaas.
Die mengsel van gebede en reukwerk word voorberei om op die goue altaar voor die troon geplaas te word.
10 Junie 2020
OPENBARING 8:4 AFR53
en die rook van die reukwerk het met die gebede van die heiliges uit die hand van die engel opgegaan voor God.
Die rook van die reukwerk saam met die gebede van die heiliges (of die Christene op aarde) gaan as ‘n voortdurende reukwerk op voor die aangesig van God.
In Moses se tabernakel het ons drie items in die Heilige plek gesien. Die menorah of lampstaander, die tafel van toonbrode, en die wierookaltaar. Aaron, die hoë priester, het elke oggend en elke aand die lampe reggemaak en daarna die reukwerk van speserye op die altaar aangesteek met die kole van die brandofferaltaar.
“En Aäron moet daarop reukwerk van speserye aan die brand steek; elke môre as hy die lampe regmaak, moet hy dit aan die brand steek.” EXODUS 30:7 AFR53
11 Junie 2020
OPENBARING 8:5 AFR53
En die engel het die wierookbak geneem en dit met vuur van die altaar volgemaak en dit op die aarde gegooi; en daar het stemme gekom en donderslae en weerligte en aardbewing.
Die engel maak die wierookbak vol met die vuur van die altaar en gooi die mengsel van speserye, gebede en brandende vuur op die aarde uit.
Hierdie aksie is ‘n voorskou van dit wat kom en die mense op aarde hoor stemme en donderslae, sien weerligte en beleef nog ‘n aardbewing!
Die rampe wat die seëls meegebring het, het almal natuurlik in hul aard gelyk. Nou gaan die wêreld sien dat die rampe wat volg van God kom, en dit gaan uit die hemel neerdaal na die aarde.
12 Junie 2020
OPENBARING 8:6 AFR53
En die sewe engele met die sewe basuine het hulle gereed gemaak om te blaas.
Die sewe engele staan gereed soos atlete voor ‘n aflos wedren. Elkeen van die engele het ‘n basuin wat geblaas moet word, die een na die ander.
Wanneer die eerste engel sy basuin blaas gaan toestande op aarde verander van sleg na baie erg in ‘n kort tydperk. Soos die aflos gehardloop word en die een engel na die ander sy basuin blaas vererger die toestande op aarde!
13 Junie 2020
OPENBARING 8:7 AFR53
En die eerste engel het geblaas, en daar het hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi. En ‘n derde van die bome het verbrand, en al die groen gras het verbrand.
‘n Engel blaas die eerste basuin! Hael en vuur gemeng met bloed word op die aarde gegooi. Een derde van die bome verbrand en al die groen gras verbrand. Hierdie bonatuurlike ramp laat ons terugdink aan die plae in Egipte.
Die sewende plaag was hael en vuur wat op die aarde uitgeskiet het. Daar is ‘n ooreenkoms tussen die basuine wat geblaas word en van die plae in Egipte.
“En Moses het sy staf na die hemel uitgesteek, en die Here het donder en hael gegee, en vuur het na die aarde uitgeskiet; en die Here het hael op Egipteland laat reën. En daar was hael en onophoudelike vuur binne-in die hael, baie swaar, soos in die hele Egipteland nooit gewees het vandat dit aan ‘n volk behoort het nie.” EXODUS 9:23-24 AFR53
14 Junie 2020
OPENBARING 8:8 AFR53
En die tweede engel het geblaas, en iets soos ‘n groot berg wat brand met vuur, is in die see gegooi. En ‘n derde van die see het bloed geword,
Die tweede engel blaas sy basuin.
Iets soos ‘n groot berg – die objek is moontlik ‘n asteroide as dit so groot soos ‘n berg is.
Die ‘berg’ brand met vuur – die vuur gebeur wanneer die objek die atmosfeer van die aarde binnekom.
‘n Derde van die see het bloed geword – die ‘berg’ se teiken is die see, en vernietig ‘n derde van die see wat in die vers bloed word.
Die water wat bloed word herinner ons aan die eerste plaag in Egipte.
“Moses en Aäron het toe so gedoen soos die Here beveel het — hy het die staf opgehef en die water wat in die Nyl was, geslaan voor die oë van Farao en voor die oë van sy dienaars; en al die water in die Nyl is in bloed verander.” EXODUS 7:20 AFR53
15 Junie 2020
OPENBARING 8:9 AFR53
en ‘n derde van die lewende skepsele in die see het gesterwe, en ‘n derde van die skepe het vergaan.
Meer as driekwart van die aarde se oppervlakte is see, en die Atlantiese oseaan is ongeveer een derde van die see oppervlakte. Net om die derde wat vernietig word in perspektief te sit. Ons weet nie watter derde vernietig gaan word nie.
Die vers sê vir ons dat ‘n derde van die mense in die see sterf en ‘n derde van die skepe op die see vergaan.
Die prentjie hierby wys ‘n ‘snapshot’ van die hoeveelheid skepe tans op die see in die Atlantiese oseaan.
16 Junie 2020
OPENBARING 8:10 AFR53
En die derde engel het geblaas, en ‘n groot ster wat soos ‘n fakkel brand, het uit die hemel geval, en dit het geval op ‘n derde van die riviere en op die waterfonteine.
Die derde engel blaas sy basuin.
‘n Groot ster brand soos ‘n fakkel en val uit die hemel uit – Nog ‘n asteroide wat uit die hemel kom om die aarde te tref.
Waar die vorige asteroide die see geteiken het, is een derde van die aarde se vars water nou die teiken.
Die groot brandende ster val op ‘n derde van die aarde se riviere en waterfonteine
17 Junie 2020
OPENBARING 8:11 AFR53
En die naam van die ster word genoem Alsem; en ‘n derde van die waters het als geword, en baie mense het gesterwe van die water, omdat dit bitter geword het.
Die ster het ‘n naam en word Alsem genoem. Die Engelse vertaling is Wormwood en daar word baie bespiegel oor die naam van die ster, met die klem op bespiegel.
Die Griekse woord vir alsem is ‘apsinthion’ en beteken bitter of giftige plant. Absinth of bitters is vandag ‘n bestandeel vir alkoholiese drankies, en die alsem plant se blare is in antieke tye as medisyne gebruik om dermwurms te genees.
Die vers sê dat baie mense gesterf het van die water so ons kan aanvaar dat die water nie net bitter nie, maar ook giftig is.
Die eerste drie basuine rig die volgende skade aan:
– Voorskou: Vuur van altaar veroorsaak donderslae, weerligte en aardbewing.
– Basuin 1: 1/3 van die wêreld se bome en al die gras is gebrand.
– Basuin 2: 1/3 van die wêreld se see is bloed en in die derde is die skepe vernietig en die mense sterf.
– Basuin 3: 1/3 van die wêreld se vars water is bitter en vergiftig, wat mense doodmaak wat dit drink.
18 Junie 2020
OPENBARING 8:12 AFR53
En die vierde engel het geblaas, en ‘n derde van die son is getref en ‘n derde van die maan en ‘n derde van die sterre, sodat ‘n derde van hulle donker sou word en die dag vir sy derde deel nie lig sou gee nie, en die nag net so.
Die vierde engel blaas sy basuin.
Die teiken van die vierde basuin is die son, maan en sterre. ‘n Derde van die son, maan en sterre word donker. Vir 1/3 van 24 uur, dus 8 ure sal die son aan die een kant en die maan en sterre aan die anderkant van die wêreld ophou skyn. Die dag word agt ure korter en die nag word agt ure langer.
Hierdie laat ons weer terugdink aan die negende plaag wat duisternis oor Egipteland was.
“Verder het die Here vir Moses gesê: Steek jou hand na die hemel uit, en daar sal duisternis oor Egipteland kom, sodat ‘n mens die duisternis kan gryp. Toe Moses sy hand uitsteek na die hemel, kom daar ‘n dik duisternis in die hele Egipteland, drie dae lank.” EXODUS 10:21-22 AFR53
19 Junie 2020
OPENBARING 8:13 AFR53
En ek het gesien en gehoor ‘n engel wat in die middel van die hemel vlieg, wat met ‘n groot stem sê: Wee, wee, wee hulle wat op die aarde woon, vanweë die orige geluide van die basuin van die drie engele wat nog sal blaas!”
Johannes sien en hoor na die eerste vier basuine ‘n engel wat in die middel van die hemel vlieg en praat met ‘n groot stem.
Waar is die middel van die hemel? Paulus vertel in die boek Korinthiers dat hy die derde hemel gesien het.
“Ek weet van ‘n man in Christus, veertien jaar gelede — of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit — dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel.” II KORINTHIËRS 12:2 AFR53
Die hemel is in die Joodse tradisie in drie dele verdeel. Die eerste hemel is waar die voëls vlieg, die tweede hemel is waar die sterre en planete is, en die derde hemel is waar God woon. Die middel van die hemel is dus die tweede hemel waar die sterre en planete is en dit is waar Johannes die engel sien vlieg het.
Die engel waarsku die mense op aarde met ‘n groot stem. Dit moet ‘n GROOT stem wees as die mense dit kan hoor vanuit die buitenste ruim. Wee, wee, wee! Die waarskuwing word drie keer gegee om die mense voor te berei dat daar nog drie basuine moet blaas!
Comments