25 Mei 2020
OPENBARING 7:1 AFR53
En ná hierdie dinge het ek vier engele op die vier hoeke van die aarde sien staan, en hulle het die vier winde van die aarde vasgehou, sodat geen wind sou waai op die aarde of op die see of teen enige boom nie.
Vier engele word hier aan ons bekend gestel, elkeen staan op die vier hoeke van die aarde: noord, suid, oos en wes. Hul werk is om die vier winde van die aarde vas te hou sodat GEEN wind sal waai op die aarde of op die see of in die lug teen die bome nie.
Hoofstuk ses het geëindig met die sesde seël en erge verwoesting op die aarde, so hier waar die winde van die wêreld nou stilstaan gaan ons tydsgewys terugbeweeg na die begin van Verdrukking tydperk.
Die wêreld se weer en water siklus word deur die winde bepaal, en met die winde wat ophou waai sal die wêreld droogte en hongersnood beleef. As die droogte al begin met die wit perd, bevestig dit die hongersnood van die swart perd.
26 Mei 2020
OPENBARING 7:2 AFR53
En ek het ‘n ander engel sien opkom van die opgang van die son, met die seël van die lewende God; en hy het met ‘n groot stem geroep na die vier engele aan wie dit gegee is om die aarde en die see te beskadig
Johannes sien ‘n vyfde engel wat van die oostekant kom, die kant waar die son opkom. Ons weet nie wie die engel is nie, maar hy het ‘n magsposisie want hy gee opdragte met ‘n groot stem aan die vier engele wat die winde vashou.
Die engel het die seël of die embleem van die lewende God en hy roep met ‘n groot stem na die ander vier engele wie se werk dit gaan wees om die aarde en die see te beskadig.
Die hemelruim raak nou ‘n besige plek met die engele wat hard werk om elke opdrag uit te voer met presiese detail.
27 Mei 2020
OPENBARING 7:3 AFR53
en gesê: Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie.
Die opdrag aan die vier engele is dat hulle nie die aarde of die see of die bome mag beskadig nie. Nie nou nie, hulle moet eers wag dat die diensknegte van God op hul voorhoofde verseël is.
Die diensknegte van God is uiteraard persone wat in Jesus Christus glo, maar die mense het ‘n spesiale missie. Ons gaan sien dat die Evangelie wel uitgedra gaan word in die Verdrukking. Openbaring is nie net ‘doom & gloom’ nie, daar gaan ook ‘n groot Christen herlewing wees.
Die diensknegte word op hul voorhoofde verseël om hul deur die Verdrukking te help, en nie van die Verdrukking te hou nie.
Die mense wat Jesus in die Verdrukking tydperk aanvaar as Saligmaker en Verlosser deur die werke van die diensknegte, sal soos ons gesien het in die vorige hoofstuk gemartel en gedood word vir hul geloof. Die spesiale diensknegte wat die Woord verkondig sal vir ‘n tyd beskerm word om nie gemartel te word nie, maar die Woord vêrder uit te dra.
28 Mei 2020
OPENBARING 7:4 AFR53
En ek het die getal van die verseëldes gehoor: honderd-vier-en-veertigduisend verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel —
Die verseëlde persone word spesifiek deur God gekies vir die werk wat hulle moet doen om die Woord te verkondig. Die verseëldes word hier duidelik geidentifiseer, en hul geloof in Jesus moet bonatuurlik wees.
Honderd-vier-en-veertig duisend verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel! Die verseëldes kan net van Joodse afkoms wees, want hulle is die kinders van die stamme van Israel.
Openbaring 2 en 3 gee vir ons die Christen kerk se geskiedenis van die uitstorting van die Heilige Gees tot en met die Wegraping. Van Openbaring hoofstuk 4 word die klem gelê op die Joodse volk en hulle geskiedenis.
Die skrywer van die boek Romeine vertel van ‘n verborgenheid, iets wat nie voorheen bekend was nie, dat die verharding van Israel teenoor Jesus net gaan duur totdat die volheid van die heidene (gentiles / nie-Jode) ingegaan het. Heidene moet meer akkuraat hier gelees word as nie-Jode wat ons as Christene insluit. Die volheid van die nie-Jode vind plaas wanneer die laaste persoon wat Jesus gaan aanvaar gebeur en die Wegraping net daarna plaasvind.
“Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend;” ROMEINE 11:25-26 AFR53
29 Mei 2020
OPENBARING 7:5-8 AFR53
uit die stam van Juda twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Ruben twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Gad twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Aser twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Náftali twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Manasse twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Símeon twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Levi twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Íssaskar twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Sébulon twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Josef twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Benjamin twaalfduisend verseëldes.
Deur die eeue heen is baie bespiegel oor wie die 144,000 verseëldes is, maar ons hoef net die Bybel te lees om presies te sien wie dit is.
Die aartsvaders van die Joodse volk is Abraham, Isak en Jakob. Jakob se naam word verander na Israel en sy twaalf seuns verteenwoordig die twaalf stamme van Israel. Dit is die twaalf stamme in die vers genoem waaruit elk van die twaalfduisend verseëldes gekies gaan word.
Die verseëldes is Joodse mans wat maagdelik rein is, en die eerstes wat in Jesus glo gedurende die Verdrukking.
“Dit is hulle wat hulself met vroue nie besoedel het nie, want hulle is maagdelik rein; dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan; dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam.” OPENBARING 14:4 AFR53
Joodse mans – kom uit een van die twaalf Joodse stamme.
Maagdelik rein – Openbaring 14:4 sê dat hulle hulself nie met vroue besoedel het nie.
Eerstes wat glo – gekoop uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam, en wat die Lam volg.
Honderd vier en veertig duisend – Twaalfduisend verseëldes uit elk van die twaalf stamme van Israel = 12,000 x 12 = 144,000.
30 Mei 2020
OPENBARING 7:9 AFR53
“Na hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande;
Na hierdie dinge – na die dinge van die 144,000 sien Johannes ‘n nuwe groep mense. ‘n Groot menigte wat niemand kan tel nie.
Ons het duidelik twee groepe mense in die hoofstuk:
1. Die 144,000 Joodse mans uit die twaalf stamme van Israel, en
2. ‘n Ontelbare menigte uit elke nasie en stam en volk en taal.
Die ontelbare menigte is in die hemel voor die troon en voor die Lam, en hulle het wit klere aan en palmtakke in hul hande – beslis ‘n groep mense wat Jesus as hul Verlosser aanvaar het.
Wie is hulle en waar kom hulle vandaan? Die volgende verse sal meer inligting gee.
31 Mei 2020
OPENBARING 7:10 AFR53
en hulle het met ‘n groot stem geroep en gesê: Heil aan onse God wat op die troon sit, en aan die Lam!
Die ontelbare menigte is nie skaam en skugter nie. Hulle roep lofprysing met ‘n groot stem uit.
Hulle roep sê: Heil aan onse God wat op die troon sit en aan die Lam.
Soos Dawid van ouds, loof en prys die groep mense ook vir God.
“Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. By die Here skuil ek. Hoe kan julle dan vir my sê: Vlug na julle berg soos ‘n voël! Want kyk, die goddelose span die boog; hulle het hul pyl op die snaar reggesit om in die donker te skiet na die opregtes van hart. As die fondamente omgegooi word, wat kan die regverdige doen? Die Here is in sy heilige paleis; die troon van die Here is in die hemel; sy oë sien, sy ooglede toets die mensekinders. Die Here toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet. Hy sal op die goddelose vangnette, vuur en swawel laat reën; en ‘n gloeiende wind sal die deel van hulle beker wees. Want die Here is regverdig; Hy het geregtighede lief; die opregtes sal sy aangesig sien.” PSALMS 11:1-7 AFR53
1 Junie 2020
OPENBARING 7:11 AFR53
En al die engele het rondom die troon en die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan, en hulle het voor die troon op hulle aangesig neergeval en God aanbid.
Saam met die vorige verse het ons nou ‘n opsomming van die mense in die hemel wat voor die troon van God aanbid, lofprys en uitroep:
– die 144,000
– die ontelbare menigte uit elke nasie en stam en volk en taal
– al die engele
– die ouderlinge
– vier lewende wesens
2 Junie 2020
OPENBARING 7:12 AFR53
en gesê: Amen! Die lof en die heerlikheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte aan onse God tot in alle ewigheid! Amen.
Almal in die hemel loof en prys vir God sonder ophou. As lofprysing in die hemel so belangrik is, dan moet ons vandag en elke dag seker dieselfde doen. Wat presies sing hulle? Hulle almal sing dat die volgende eienskappe God toekom:
1. Lof
2. Heerlikheid
3. Wysheid
4. Danksegging
5. Eer
6. Krag
7. Sterkte
Lees wat Jesaja van God gesê het om Hom te loof en prys.
“Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ‘n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie. Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.” JESAJA 40:28-31 AFR53
3 Junie 2020
OPENBARING 7:13 AFR53
Toe het een van die ouderlinge gespreek en vir my gesê: Hulle wat bekleed is met die wit klere, wie is hulle en waarvandaan het hulle gekom?
Een van die ouderlinge praat nou met Johannes en vra hom ‘n vraag. Die oudelinge wil weet wie die mense in hul wit klere is en waarvandaan kom hulle.
Ons het in hoofstuk 4 geleer dat die ouderlinge die leiers van die kerk is en die Christene voorstel wat weggeraap is. Die ouderlinge het wit klere aan met goue krone op hul hoofde.
“En rondom die troon was daar vier-en-twintig trone, en op die trone het ek die vier-en-twintig ouderlinge sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad.”OPENBARING 4:4 AFR53
Die ‘nuwe’ groep met wit klere is nie die ouderlinge nie, want die ouderlinge vra vir Johannes wie hulle is. Hulle het nie krone op hul hoofde nie maar palmtakke in hul hande soos ons in vers 9 gesien het.
4 Junie 2020
OPENBARING 7:14 AFR53
En ek sê vir hom: My heer, u weet dit. En hy sê vir my: Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam.
Johannes antwoord soos ‘n politikus met ‘n teenvraag. My heer, u weet dit!
Die ouderling antwoord hom – dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, hulle het hul klere wit gemaak met die bloed van die Lam. Fantasties, dit is dus moontlik om gedurende die groot verdrukking vir Jesus as Verlosser te aanvaar. Maar, dit kom met ‘n prys, die mense sal gemartel word. Dit is dus beter om Jesus NOU te aanvaar!
Die vers bevestig dat daar evangelisasie sal wees deur die hele verdrukking tydperk en die mense sal kom uit elke nasie, stam, volk en taal soos gesien in vers 9 – dus uit die hele wêreld.
Die evangelisasie is natuurlik die werk van die 144,000 Joodse evangeliste en dan ook sal die familie en vriende van die wat weggeraap is hul Bybels en ander boeke begin lees, want hul sal onthou hoe knaend ons was met ons boodskap!
5 Junie 2020
OPENBARING 7:15-16 AFR53
Daarom is hulle voor die troon van God en dien Hom dag en nag in sy tempel; en Hy wat op die troon sit, sal sy tent oor hulle oopspan. Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie, en nooit sal die son of enige hitte op hulle val nie;
Die groep martelare met hul wit klere en palmtakke in hul hande wat gedurende die groot verdrukking gemartel is vir hul geloof in Jesus, is voor die troon van God en hulle dien Hom dag en nag.
Nou word ons na die millenium geneem soos ons ook lees in Openbaring 21 en 22 hieronder aangehaal. Daar sal nie meer honger of dors wees nie en die son of enige ander hitte sal nooit weer op hul skyn nie want God gaan Sy tent oor hulle span en beskerm.
“En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin. En bedags — want nag sal daar nie meer wees nie — sal sy poorte nooit gesluit word nie;” OPENBARING 21:23-25 AFR53
“En nag sal daar nie wees nie; en hulle het geen lamp of sonlig nodig nie, omdat die Here God hulle verlig; en hulle sal as konings regeer tot in alle ewigheid.” OPENBARING 22:5 AFR53
6 June 2020
OPENBARING 7:17 AFR53
want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee.”
Die laaste vers in die hoofstuk is nog steed in die millenium (duisendjarige vrederyk) wat vir ons ‘n voorsmakie gee van wat kom.
Dit dien ook as bemoediging vir die mense wat in die verdrukkingtydperk die deel in die Bybel gaan lees. Hoofstuk 21 vertel van God wat by Sy mense gaan woon en al die trane gaan afvee en bevestig vers 17.
“En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.” OPENBARING 21:3-4 AFR53
Kommentare