top of page
  • Regina Torre

Openbaring 6

Updated: Jan 30, 2023


7 Mei 2020 – Daniel se 70ste week en die 7 jaar Verdrukking


Daniel se 70ste week word in twee gelyke dele opgedeel, en die Bybel gee vir ons drie verskillende maniere om die tydperke uit te werk.


Onthou dat ‘n jaar in die Bybelse tyd 360 dae was.


1. Tyd, tye en halwe tyd

= 1 + 2 + 0,5 = 3,5 jaar


“En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ‘n tyd en tye en die helfte van ‘n tyd.” DANIËL 7:25 AFR53


“Toe hoor ek die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivierj was, en hy het sy regterhand en sy linkerhand na die hemel opgehef en gesweer by die Ewig-Lewende: ‘n Tyd, tye en ‘n halwe tyd, en as hulle die mag van die heilige volk geheel verstrooi het, sal al hierdie dinge vervul word.” DANIËL 12:7 AFR53


“maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ‘n tyd en tye en ‘n halwe tyd.” OPENBARING 12:14 AFR53


2. Twee-en-veertig maande = 12 mnde + 12 mnde + 12 mnde + 6 mnde = 3,5 jaar


“Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap.” OPENBARING 11:2 AFR53


“En ‘n mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek, en aan hom is mag gegee om dit twee-en-veertig maande lank te doen.” OPENBARING 13:5 AFR53


3. Duisend-tweehonderd-en-sestig dae = 360 + 360 + 360 + 180 = 1,260 dae = 3,5 jaar


“En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank sal profeteer.” OPENBARING 11:3 AFR53

“En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy ‘n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank.” OPENBARING 12:6 AFR53

 

8 Mei 2020


OPENBARING 6:1 AFR53

“En ek het gesien toe die Lam een van die seëls oopmaak; en ek het een van die vier lewende wesens hoor sê, soos die geluid van ‘n donderslag: Kom kyk!”


Johannes sien hoe die Lam een van die seëls oopmaak, want soos ons in hoofstuk 5 gesien het, is die Lam die enigste een wat gemagtig is om die seëls oop te maak.


Belangrik om te weet dat die Lam, en nie Satan of ‘n mens die seëls oopmaak. Die wraak en toorn wat gaan volg is die wraak en toorn van Jesus en nie Satan nie.


Johannes hoor een van die lewende wesens wat aankondig met die geluid van ‘n donderslag.


Dis nie ‘n sagte geluid om jou gerus te stel nie, nee dis ‘n donderslag, ‘n bevel wat aandag soek, ‘Kom kyk!’


Met hierdie bevel begin Daniel se 70ste week of die sewe jaar Verdrukking tydperk.

 

9 Mei 2020


OPENBARING 6:2 AFR53

“En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n wit perd. En hy wat daarop sit, het ‘n boog; en aan hom is ‘n kroon gegee, en hy het uitgegaan as ‘n oorwinnaar en om te oorwin.”


Johannes sien ‘n wit perd.


Wit sal gewoonlik vereenselwig word met die woorde geregtigheid, heiligheid en reinheid.


Woorde wat Jesus beskryf, rein en sonder sonde. MAAR, in die geval is dit glad nie die regte betekenis nie.


Hoekom ‘n perd? Perde was die mees gebruikte diere in die geskiedenis van oorlogvoering.


Die een wat op die perd sit het ‘n boog, maar geen pyle vir die boog – is die persoon ‘n vredemaker?


Die persoon op die perd kry selfs ‘n kroon. Die kroon is nie die kroon van ‘n koning nie (dit word gebêre vir Jesus), maar die kroon wat jy kry wanneer jy iets wen soos ‘n resies in die olimpiese spele.


Uitgaan as oorwinnaar – om wat te oorwin – die wêreld vir die volgende sewe jaar!


Jesus waarsku in Mattheus 24 dat ons nie mislei moet word nie –


“En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.” MATTHÉÜS 24:4-5 AFR53


En Daniel het ons geleer dat die Antichris ‘n verbond met baie gaan sluit.


“En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, …… DANIËL 9:27a AFR53

Die hooftema in die vers is nabootser, om voor te gee iets wat nie is nie. Die Antichris wat homself voorgee as ‘n wêreld vredemaker op ‘n wit perd, gaan nou met die Joodse volk ‘n verbond sluit en hul toestemming gee om hul tempel in Jerusalem te bou!

Let the games begin………

 

10 Mei 2020


OPENBARING 6:3 AFR53

“En toe Hy die tweede seël oopgemaak het, hoor ek die tweede lewende wese sê: Kom kyk!”


Hy, hoofletter H, met ander woorde, Jesus, open die tweede seël. Hoekom Jesus? Want ons het geleer in hoofstuk 5 dat Hy die enigste een is wat gemagtig is om die seëls oop te maak.


Die wraak en toorn wat op die aarde uitgestort gaan word is Jesus se wraak en toorn!


Nádat Jesus die tweede seël oopmaak uiter die tweede lewende wese ‘n opdrag:


Kom Kyk! En met die uitvoering van die tweede seël is die vals vrede op aarde daarmee heen.


“Maar oor die tye en geleenthede, broeders, het julle nie nodig dat aan julle geskryf word nie; want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos ‘n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid — dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.”

I THESSALONICENSE 5:1-3 AFR53

 

11 Mei 2020


OPENBARING 6:4 AFR53

“En ‘n ander perd, ‘n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en ‘n groot swaard is aan hom gegee.”


Net toe die wêreld gerus raak en dink dat alles nou tot ‘n nuwe normaal gaan terugkeer na die Wegraping omdat ‘n nuwe wêreldleier vrede verkondig, bars alle hel orals in die wêreld los.


Mattheus 24 en Openbaring 6 praat van dieselfde tydperk. In Mattheus het ons Jesus wat Sy dissipels se vraag antwoord oor die eindtye en in Openbaring vertel Johannes wat hy sien gaan gebeur. Mattheus 24:6 tot 7a gee ook vir ons die tweede seël.


“En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; MATTHÉÜS 24:6-7a AFR53


Die kleur rooi is ‘n voorstelling van terreur, vrees, dood en vernietiging. Dit word beklemtoon deur die ruiter wat die mag kry om vrede van die aarde weg te neem met die swaard wat hy in sy hand het. Daar word nie hier gepraat van een land in oorlog met ‘n ander land nie, maar wêreldoorlog – die hele aarde.


Die tema van die seël is dus wêreldwye oorlog en moord en doodslag. Vrede word van die aarde weggeneem en koninkryk staan op teen koninkryk en mense maak mekaar dood. Wie is die mense? ALMAL wat agtergebly het na die Wegraping! ALMAL wat nie vir Jesus as Verlosser en Saligmaker aanvaar het nie!


Die tweede seël met die wêreldwye oorloë wys vir ons dat die eerste deel of eertse 3,5 jaar van die Verdrukking nie speletjies gaan wees nie. Dit gaan werklik ‘n tydperk van verdrukking wees.

 

12 Mei 2020


OPENBARING 6:5 AFR53

“En toe Hy die derde seël oopgemaak het, hoor ek die derde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n swart perd; en hy wat daarop sit, het ‘n skaal in sy hand.”


Die derde seël word weereens deur Jesus oopgemaak met die derde lewende wese wat beveel, ‘Kom kyk!’


Die keer het ons ‘n swart perd, en die ruiter het ‘n skaal in sy hand. As ons na Jesus se woorde in Mattheus luister wat sê dat hierdie dinge geboortepyne is (AFR83) of die begin van smarte (AFR53), hoe erg gaan dit word? Want ons weet dat geboortepyne erger word met elke pyn, en die tydperk tussen die pyne word al hoe korter……


“………. daar sal op baie plekke hongersnode en aardbewings wees. Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.” MATTEUS 24:7b-8 AFR83


“………. en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte.” MATTHÉÜS 24:7b-8 AFR53


Ignoreer vir nou eers die pessiektes en aardbewings!


Swart word geassosieer met donker slegte tye, verdoemenis en oordeel. Hongersnood val beslis onder die definisie van die kleur swart.


Die ruiter het ‘n skaal in sy hand. Kombineer Mattheus 24:7b waar Jesus praat van hongersnood en die skaal wat die ruiter vashou in Openbaring 6:5 en nou het ons bevestiging van die swart perd se doel – wêreldwye hongersnood wat die gevolg is van die wêreldwye oorlog in die vorige seël.

 

13 Mei 2020


OPENBARING 6:6 AFR53

“En ek het ‘n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: ‘n Rantsoen koring vir ‘n penning en drie rantsoene gars vir ‘n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie.”

“Toe het ek iets soos ‘n stem by die vier lewende wesens hoor sê: “Net een skeppie koring vir ‘n dagloon en net drie skeppies gars vir ‘n dagloon. Maar moenie die olyfolie en die wyn bederf nie.” DIE OPENBARING 6:6 AFR83


Johannes hoor ‘n stem tussen die vier lewende wesens. Wie sit in die middel van die vier lewende wesens? Dit is natuurlik God wat op Sy troon sit, en wie se stem Johannes hier hoor.


Die stem gee vir ons wat elke persoon, elke dag kan eet. Die AFR53 vertaling sê ‘n rantsoen koring vir ‘n penning – weet nie van jou nie, maar dit beteken nie veel vir my nie want ek verstaan nie die afmetings nie.


Die AFR83 vertaling maak die afmetings meer verstaanbaar.


1 Skeppie koring vir ‘n dagloon en 3 skeppies koring vir ‘n dagloon. So as in ‘n huisgesin die ma en pa werk, kan hul elke dag 1 skeppie koring en 3 skeppies gars huis toe vat. Dis nou as altwee werk het, en elke dag werk, ‘best case scenario!’


Klink vir my of daar ‘n tekort aan voedsel gaan wees wat in lyn is met wat Jesus in Mattheus 24:7b gesê het en deur die skaal voorgestel word wat die swart ruiter in sy hand vashou. Na die wêreldoorlog kom daar wêreldwye hongersnood. Die geboortepyne word erger en nader aan mekaar!


Wat is dit met die olyfolie en wyn wat nie beskadig moet word nie? Kan wees dat as jy geld het, dat jy luukshede sal kan koop, waar die armer mense gaan sukkel. Niks anders as wat ons nou beleef nie – net in die oortreffende trap.

 

14 Mei 2020


Oorsig en vergelyking van Openbaring, Mattheus en Daniel!


Ek dink dit is belangrik om op die stadium net terug te staan en ‘n prentjie te sien van wat ons tot op die stadium geleer het. Gaan lees die verse in die Bybel en vergelyk met mekaar!


Onthou dat Daniel se 70ste week in twee dele opgedeel word.

– 1ste 3,5 jaar = Verdrukking

– 2de 3,5 jaar = Groot Verdrukking

 

15 Mei 2020


OPENBARING 6:7 AFR53

“En toe Hy die vierde seël oopgemaak het, hoor ek die stem van die vierde lewende wese sê: Kom kyk!”


Die vierde seël word oopgemaak deur Jesus, met die vierde lewende wese wat beveel, ‘Kom kyk!’


Weereens die herhalende woorde om ons aandag te vestig op die volgende seël wat oopgemaak word. Elke seël se gevolge is soos geboortepyne. Elke keer word die pyne erger en die tydperk tussen die pyne word korter.


Ons sal in die volgende vers sien dat ons nou pessiektes by die rampe gaan byvoeg soos Jesus in Mattheus 24 weergegee het. Ignoreer nog die aardbewings.


“………. en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte.” MATTHÉÜS 24:7b-8 AFR53

 

16 Mei 2020


OPENBARING 6:8 AFR53

“En ek het gesien, en kyk, daar was ‘n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde.”


Die perd se kleur is vaal. Die griekse woord vir vaal is chloros wat groen of vaal geel beteken, eintlik ‘n aaklige dooie groen. Die kleur van dood!


Die ruiter se naam is dood en die doderyk het hom gevolg, twee metgeselle. Dood eis die liggaam, en die doderyk eis die siel.


Aan hulle (meervoud), dood en die doderyk, is mag gegee om ‘n kwart van die wêreld dood te maak. Wie gee vir die twee die mag om dood te maak? Jesus natuurlik wat die seëls oopmaak, niks hier gebeur sonder Jesus se toestemming nie! As ons terugkyk in Openbaring 1 sien ons dat Jesus vir Johannes sê dat Hy die sleutels van die dood en die doderyk het. Jesus is in beheer!



“Toe ek Hom sien, het ek by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. Hy het toe met sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: “Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.” DIE OPENBARING 1:17-18 AFR83


Vier metodes word gebruik om die mense dood te maak en dit is ook in die Ou Testament tyd deur God gebruik om sy volk te straf: 1. Swaard = oorlog, 2. hongersnood, 3. pes en 4. wilde diere van aarde.


“En as hulle jou vra: Waar moet ons heengaan? sê dan vir hulle: So spreek die Here: Wie vir die pes bestem is, na die pes; en wie vir die swaard, na die swaard; en wie vir die hongersnood, na die hongersnood; en wie vir die gevangenskap, na die gevangenskap. En Ek sal oor hulle vier soorte besoekinge doen, spreek die Here: die swaard om dood te maak en die honde om weg te sleep en die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde om op te eet en te vernietig.” JEREMIA 15:2-3 AFR53


“Want so sê die Here Here: Hoeveel te meer as Ek my vier kwaai gerigte, swaard en hongersnood en wilde diere en pes, op Jerusalem afstuur om daaruit mens en dier uit te roei!” ESÉGIËL 14:21 AFR53


Wêrelwye verwoestinging en dood – wie dink nog dat die eerste helfte van die Verdrukking nie so erg gaan wees nie!

 

17 Mei 2020


OPENBARING 6:9 AFR53

“En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het.”


Hy, weereens Jesus, maak die vyfde seël oop en die eerste wat Johannes sien is ‘n altaar.


Die altaar was die eerste item wat jy gesien het wanneer jy by die buitehof van die tempel ingestap het. Die priesters se offerhandes ter vergewing van sondes is opgedra aan God.


Die altaar in die aardse tempel is ‘n prentjie van Jesus wat as ‘n Lam sonder gebrek vir my en jou sondes geoffer is. In die hemel sien ons die altaar met mense se siele gedood ter wille van die Woord van God, met ander woorde geoffer en opgedra aan God.


Die skrywer van Romeine sê dat ons ons liggame stel as welgevallige offer vir God – die Christene in die Verdrukking voer die opdrag letterlik uit deur as martelare vir Jesus te sterf.


“Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer — dit is julle redelike godsdiens.” ROMEINE 12:1 AFR53


Baie mense gaan gedurende die Verdrukking tot dieselfde besef kom as die soldate by Jesus se kruisiging wat na Sy dood gesê het:


“En toe die hoofman oor honderd en die wat saam met hom Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat daar gebeur, het hulle baie bevrees geword en gesê: Waarlik, Hy was die Seun van God.” MATTHÉÜS 27:54 AFR53


In Mattheus 24 vertel Jesus vir Sy dissipels dat die wat in Hom glo gemartel gaan word.


“Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.” MATTHÉÜS 24:9 AFR53

 

18 Mei 2020


OPENBARING 6:10 AFR53

“En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie?”


Die martelare praat nie, hulle roep uit met ‘n groot stem. Soos om oor ‘n harde luidspreker te roep. Hulle roep uit na die heilige en waaragtige Heerser en erken hiermee dat God die heerser is oor alles en almal, selfs oor die bewoners van die aarde wat die siele doodgemaak het.


Die vraag wat hul uitroep is: Hoe lank nog voor U die bewoners van die aarde gaan oordeel en ons bloed wreek! Hulle erken dat die wraak hul nie toekom nie, maar dat die wraak Jesus toekom en hulle wil weet wanneer dit gaan gebeur.


“Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here.” ROMEINE 12:19 AFR53

 

19 Mei 2020


OPENBARING 6:11 AFR53

“En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog ‘n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees.”


Elkeen van die martelare ontvang hul wit klere en hul vraag word beantwoord. Wag nog ‘n bietjie want al jul medediensknegte is nog nie doodgemaak nie. Eers wanneer die wat doodgemaak moet word voltallig is, dan sal Jesus se vergelding plaasvind.


As ons vooruit kyk in die boek Openbaring, sien ons dat die vergelding sal gebeur aan die einde met Jesus se tweede koms.


“En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.” OPENBARING 19:15 AFR53

 

20 Mei 2020


OPENBARING 6:12 AFR53

“En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ‘n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ‘n harige sak, en die maan het geword soos bloed;”


Johannes sien hoe Jesus die sesde seël oopmaak en dit het ‘n groot aardbewing tot gevolg.


Hier het ons nou die aardbewings waarvan Jesus in Mattheus 24:7-8 gepraat het.


Hoe gaan dit lyk as die hele wêreld ‘n aardbewing beleef? Elke groot stad word geruk en pluk, geboue krummel ineen met mense wat onder die puinhope vasgevang word, brue breek in stukke met karre wat val, damwalle breek en die water oorstroom als wat in die pad is, groot kraters skeur in die grond…………..


“Die een nasie sal teen die ander te staan kom en die een koninkryk teen die ander; daar sal op baie plekke hongersnode en aardbewings wees. Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.” MATTEUS 24:7-8 AFR83


Maar dis nie al nie, die son word swart soos ‘n harige sak, met ander woorde die son se lekker warm strale word ‘toegemaak’. Die harige sak was gewoonlik van swart bokhare gemaak en was oor jou klere gedrapeer soos ‘n kombers en gedra wanneer jy gerou het na iemand se dood. Die son wat swart word kan deur vulkane veroorsaak word wat ook ‘n gevolg is van die aardbewings.


En die maan word soos bloed – nog ‘n newe effek van die wêreldwye vulkaan uitbarstings.


Jesus self het in Mattheus die son en maan en sterre se ontwrigting uitgewys.


“Kort na die verdrukking van daardie tyd sal die son verduister word, en die maan sal nie skyn nie; die sterre sal uit die ruimte val, en die kragte van die hemelruim sal ontwrig word.” MATTEUS 24:29 AFR83


Die gevolg van die son wat swart is, of die son se strale wat nie meer skyn nie, is duisternis en koue. Hoe soek jy jou mense wat onder puinhope lê in die donker. Het jy warm genoeg klere aan om jou te beskerm in die tyd. Is daar nog elektrisiteit om lig te maak? Het jy nog ‘n huis om in te bly of is dit verwoes? Is daar nog lopende water? Hoe bang is jy met al die aardbewings se naskokke? Dis net ‘n voorsmaak van hoe dit op die stadium kan lyk!

 

21 Mei 2020


OPENBARING 6:13 AFR53

“en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ‘n vyeboom wat deur ‘n groot wind geskud word, sy navye laat afval;”


Die sterre van die hemel val op die aarde soos vye wat van ‘n boom afval as jy die boom sou skud.


Wie onthou die meteoriet wat op 15/02/2013 in Rusland geval het. Hier is ‘n youtube link om net gou weer te kyk hoe dit gelyk het: https://youtu.be/aAHFew_ptjY


Volgens die internet: ‘n Asteroïde is ‘n rotsagtige voorwerp wat om die son wentel. ‘n Meteoriet is wat gebeur as ‘n klein stuk van ‘n asteroïde afbreek en brand wanneer dit die aarde se atmosfeer binnekom.


Die meteoriet wat in Rusland geval het was die grote van ‘n ses verdieping gebou – dis nou die ‘klein’ gedeelte wat van die asteroide afgebreek het.


Verbeel jouself die volgende: Dis donker want die son skyn nie meer nie. Dis chaos om jou want alles is deur die aardbewings vernietig. Al wat jy kan sien deur die rook van die vulkaan is die bloedrooi maan! Ewe skielik word die hemelruim opgehelder deur ‘ligte’ wat orals in die atmosfeer inkom – brandende meteoriete. Oppas! Waar kan ons wegkruip? Help………

 

22 Mei 2020


OPENBARING 6:14 AFR53

“en die hemel het weggewyk soos ‘n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit;”


Dit is vir ons ondenkbaar dat die hemel soos ‘n boekrol toegerol kan word, maar dit is wat gaan gebeur. Selfs die profeet Jesaja het daarvan geskryf.


“Kom nader, nasies, luister! Gee aandag, volke! Die aarde met alles daarop moet hoor, die wêreld en alles wat hy voortbring. Die toorn van die Here is teen al die nasies gerig, sy woede teen al hulle leërmagte. Hy gaan hulle heeltemal uitroei, hulle prysgee om doodgemaak te word. Hulle dooies sal net so bly lê, hulle lyke sal stink, en die berge sal van hulle bloed deurdrenk word. Al die hemelliggame sal wegsmelt; die hemel sal soos ‘n boekrol toegerol word en al die sterre sal hulle glans verloor soos die blare van ‘n wingerdstok of van ‘n vyeboom wat verdroog.” JESAJA 34:1-4 AFR83


AL die berge en eilande word uit hul plekke versit – nie net een of ‘n paar nie, nee AL die berge en eilande van die wêreld. Op die stadium vind net ‘n skuiwing plaas, die berge en eilande is nog daar, hulle verdwyn nie – dit gebeur aan die einde.


Het jy al vir Jesus as jou Verlosser aanvaar? Indien wel, dan is jy nie hier om die chaos te beleef nie, wat die Wegraping het al gebeur! Hierdie is die omstandighede wat wag vir die wat Jesus verwerp!

 

23 Mei 2020


OPENBARING 6:15 AFR53

“en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge,”


Almal kruip op die stadium weg in spelonke en in die rotse van die berge.


Wie is die almal?

1. konings van die aarde

2. die grotes en

3. die rykes

4. die owerstes oor duisend

5. die magtiges

6. die slawe

7. die res, al die vrymense


Weereens het die profeet Jesaja ook geskryf van almal wat gaan wegkruip in die gate van die grond vanweë die skrik van die Here.


“En hulle sal gaan in die spelonke van die rotse en in die gate van die grond vanweë die skrik van die Here en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil, as Hy Hom gereed maak om die aarde te verskrik. In dié dag sal die mens sy silwerafgode en sy goue afgode wat hy vir hom gemaak het om voor neer te buig, weggooi vir die molle en die vlermuise; om te gaan in die skeure van die rotse en in die klowe van die kranse vanweë die skrik van die Here en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil, as Hy Hom gereed maak om die aarde te verskrik. Laat staan tog die mens wie se asem in sy neus is; want hoe min is hy werd!” JESAJA 2:19-22 AFR53

 

24 Mei 2020


OPENBARING 6:16-17AFR53

“en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?”


Ons lees in Lukas waar Jesus vertel hoe angsbevange die mensdom gaan wees. Woorde wat gebruik word is: benoudheid, radeloosheid, harte beswyk van vrees!


“En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word.” LUKAS 21:25-26 AFR53


Mens sou dink die ooglopende gevolg sou wees dat mense bekeer en Jesus vra om hul sondes te vergewe. Nie wat hier gebeur nie, die mense verberg hul aangesig van God en kruip weg.


Net soos Farao sy hard verhard het en tien plae op homself gebring het, net so verhard die mense hul harte en bring God se wraak op hul neer.


Wie kan bestaan? Die volgende hoofstuk sal die vraag vir ons antwoord!

4 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page