top of page
  • Regina Torre

Openbaring 5

Updated: Jan 30, 2023


23 April 2020


OPENBARING 5:1 AFR53

“En ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, ‘n boek gesien, van binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël.”


God het in Sy regterhand ‘n boek waarop aan die binne en buitekant geskryf is, en wat verseël is met sewe seëls.


Boeke in Jesus se tyd was papirusrolle. Daar is gewoonlik aan die gladde of binnekant van die papirusrol geskryf en dan is dit opgerol om gebêre te word. ‘n Boekrol met skrif aan beide kante wat geseël is lyk soos ‘n amptelike dokument, ‘n titelakte. Romeinse reg het vereis dat ‘n testament verseël moes word met sewe seëls.


Instruksies vir die oopmaak van die dokument en/of ‘n opsomming van die inhoud is gewoonlik aan die buitekant geskryf.

 

24 April 2020


OPENBARING 5:2 AFR53

“En ek het ‘n sterk engel gesien wat met ‘n groot stem uitroep: Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek?”


Die engel roep uit met ‘n stem en vra wie is waardig om die boek oop te maak en die seëls te breek. Hoekom sal die engel dit vra? Watter grond is van toepassing vir die titelakte?


Al die koninkryke van die wêreld is hier van toepassing want dit behoort tans aan Satan.

Ons sien dit in Mattheus waar Jesus deur Satan versoek word en die koninkryke van die wêreld aangebied word indien Jesus hom sou aanbid. Jesus sê net jy moet God alleen aanbid, Hy sê nie dat Satan ‘n foutiewe stelling maak nie.


“Weer neem die duiwel Hom saam na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid, en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid. Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. Daarna het die duiwel Hom laat staan, en daar het engele gekom en Hom gedien.” MATTHÉÜS 4:8-11 AFR53


Hier is ‘n voorbeeld van Jesus wat Homself distansieer van die koninkryke van die wêreld en ook Paulus wat sê dat ons burgers van die hemel is.


“Jesus antwoord: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.” JOHANNES 18:36 AFR53


“Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus,” FILIPPENSE 3:20 AFR53

 

25 April 2020


OPENBARING 5:3 AFR53

“En niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon die boek oopmaak of daarin kyk nie.”


Die sterk engel soek na iemand wat gemagtig is om die seëls van die boekrol oop te breek sodat die inhoud daarvan gelees en uitgevoer kan word.


Maar daar is ‘n probleem! Daar word orals gesoek, (1) in die hemel, (2) op die aarde en (3) onder die aarde, maar niemand kan gevind word wat die magte het om die boekrol oop te maak of daarin te kyk nie!


‘n Man word gesoek, ‘n famielielid van Adam, iemand wat kan kwalifiseer om as losser op te tree.


Wat of wie is ‘n losser?


‘n Losser is ‘n manlike familielid wat volgens die verskillende wette van die Pentateug (penta = 5, dus die eerste vyf boeke van die Bybel) die voorreg of verantwoordelikheid gehad het om namens ‘n familielid wat in finansiële moeilikheid was en onder andere sy grond verloor het, dit terug te koop.


“Die grond moet ook nie vir altyd verkoop word nie; want die land is myne, omdat julle vreemdelinge en bywoners by My is. Daarom moet julle, in die hele land van julle besitting, lossing van die grond toelaat. As jou broer verarm en van sy besitting verkoop, moet sy losser wat sy nabestaande is, kom en hy moet los wat sy broer verkoop het.” LEVÍTIKUS 25:23-25 AFR53

 

26 April 2020


OPENBARING 5:4 AFR53

“En ek het baie geween, omdat daar niemand waardig bevind is om die boek oop te maak en te lees of daarin te kyk nie.”


Johannes huil want niemand wat waardig is kan gevind word om die boekrol oop te maak nie. Hy huil want as niemand die boekrol kan oopmaak nie, dan bly die aarde so sondig soos dit vandag is en Satan bly in beheer!


In die Ou Testament boek van Rut kry ons ‘n mooi prentjie van die losser konsep en dit het ook in die geval ‘n profetiese betekenis.


Die Losser – Moet kwalifiseer, moet gewillig wees, en moet alle verantwoordelikhede aanvaar.


Lossings grondwet – Familielid koop grond terug vir naasbestaande wat a.g.v. moeilikheid sy grond verloor het.


Lossings huwelik – Wanneer ‘n man sonder ‘n kind gesterf het, was dit gereël dat die man se ongetroude broer of ‘n familielid met die weduwee trou om ‘n erfgenaam vir die oorledene te gee. Die eerste seun gebore sou as die wettige afstammeling van haar oorlede man beskou word.


Naomi (Israel) word verban uit haar land en verloor haar grond. Naomie se man en twee seuns sterf almal. Boas is die manlike familielid (die Losser) wat haar grond vir haar terugkoop en Rut is ‘n heiden of ‘gentile’ bruid (die kerk) wat met Boas (die Losser/ Jesus) trou.

 

27 April 2020


OPENBARING 5:5 AFR53

“Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek.”


Die Losser wat die grond kan terugkoop en die mag het om die seëls oop te maak is gevind!


Die Losser kwalifiseer, is gewillig en aanvaar al die verantwoordelikhede.


Dit is die Leeu wat kom uit die stam van Juda, die wortel van Dawid.


Wie is die leeu uit die stam van Juda?


“Juda, jy is dit! Jou sal jou broers loof. Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; voor jou sal die seuns van jou vader hulle neerbuig. Juda is ‘n jong leeu; van die roof af het jy opgeklim, my seun. Hy buig hom, hy gaan lê soos ‘n leeu en soos ‘n leeuin; wie sal hom opjaag? Die septer sal van Juda nie wyk nie, nòg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.” GÉNESIS 49:8-10 AFR53


En wie is die wortel van Dawid?


“Maar daar sal ‘n takkie uitspruit uit die stomp van Ísai, en ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra;”. JESAJA 11:1 AFR53


“Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham:”. MATTHÉÜS 1:1 AFR53

 

28 April 2020


OPENBARING 5:6 AFR53

“En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar ‘n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde.”


Nou sien Johannes in die middel van die troon ‘n Lam asof Hy geslag is. Wie kan dit wees?


“Spreek tot die hele vergadering van Israel en sê: Op die tiende van hierdie maand moet hulle elkeen ‘n lam neem volgens die families, ‘n lam vir ‘n huisgesin.” EXODUS 12:3 AFR53


“Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders — ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.” JESAJA 53:7 AFR53


“En die gedeelte van die Skrif wat hy besig was om te lees, was dít: Soos ‘n skaap is Hy gelei om geslag te word, en soos ‘n lam wat stom is voor die een wat hom skeer, so maak Hy sy mond nie oop nie.” HANDELINGE 8:32 AFR53


“maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,”. I PETRUS 1:19 AFR53

 

29 April 2020


OPENBARING 5:7 AFR53

“Hy het gekom en die boek geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit;


Die Leeu uit die stam van Juda, die wortel van Dawid en die Lam asof Hy geslag is neem die boek uit die regterhand van Hom wat op die troon sit.


Ons ondersoek in die vorige verse dui duidelik daarop aan dat Hy wat die boek neem sonder enige twyfel Jesus Christus is. Jesus wat aan die kruis vir ons sondes gesterf het, drie dae later uit die dood opgestaan het en 40 dae later opgevaar het na die hemel en wat sit aan die regterhand van God.


“Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.” ROMEINE 8:34 AFR53

 

30 April 2020


OPENBARING 5:8 AFR53

en toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is.”


Ons weet dat Jesus die Lam is en dit word bevestig deur die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge wat voor Hom neerbuig in aanbidding. Slegs God drie-enig mag aanbid word.


Die reukwerk is die gebede van die heiliges soos dié vers en Psalms 141:2 vir ons verduidelik.


Dit laat ‘n mens terugdink aan die reukofferaltaar in die tempel waar Aaron soggens en saans die reukwerk en speserye aan die brand moes steek as ‘n voordurende reukwerk voor die aangesig van die Here.


“Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan, die opheffing van my hande soos die aandoffer.” PSALMS 141:2 AFR53


“En Aäron moet daarop reukwerk van speserye aan die brand steek; elke môre as hy die lampe regmaak, moet hy dit aan die brand steek. En as Aäron teen die aand die lampe opsteek, moet hy dit aan die brand steek as ‘n voortdurende reukwerk voor die aangesig van die Here in julle geslagte.” EXODUS 30:7-8 AFR53

 

1 Mei 2020


OPENBARING 5:9 AFR53

“Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie,”


Die ouderlinge, wat praat namens die kerk wat nou in die hemel is, bevestig dat Jesus met Sy bloed aan die kruis betaal het vir die koninkryke van die wêreld wat ook in Openbaring 11 bevestig word.


“En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.” OPENBARING 11:15 AFR53


Let ook op dat die ouderlinge sê: U is geslag en het ONS met u bloed gekoop. Die ouderlinge is in die hemel vóór die seëls van die boekrol oopgemaak word – dus voor Daniël se 70ste week!


Die kerk of die Christene as ‘n groep is in die hemel voor die seëls oopgemaak word, die Wegraping weereens bevestig!

 

2 Mei 2020


OPENBARING 5:10 AFR53

“en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.”


In die Ou Testament was die ampte van koning en priester altyd deur twee verskillende mense vervul. Een persoon kon nie gelyktydig ‘n koning en priester wees nie.


Die enigste mense wat gelyktydig konings en priesters was, is: Melgisedek, Jesus en ons as Christene.


Die sin is nog deel van die vorige vers en die ouderlinge verwys nog steeds na ONS wat konings en priesters vir God is. Die ons is nog steeds die Christene as ‘n groep wat nou in die hemel is.


Johannes bevestig met die seën wat hy uitspreek in Openbaring 1:6 dat die kerk as groep konings en priesters is.


“Johannes aan die sewe gemeentes in Asië: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is, en van Jesus Christus, die getroue getuie, die eersgeborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde! Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.” OPENBARING 1:4-6 AFR53

 

3 Mei 2020


OPENBARING 5:11 AFR53

“Toe sien ek, en ek hoor ‘n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tienduisende van tienduisende en duisende van duisende;”


Johannes sien en hoor duisende en tienduisende engele, die lewende wesens en die ouderlinge. Drie verskillende groepe wat Jesus aanbid vir wie Hy is, en waar Hy is – nie in ‘n krip in Jerusalem nie, nie op die kruis in Golgota nie en ook nie in ‘n graf nie, maar in die hemel!

 

4 Mei 2020


OPENBARING 5:12 AFR53

“en met ‘n groot stem het hulle gesê: Die Lam wat geslag is, is waardig om te ontvang die krag en rykdom en wysheid en sterkte en eer en heerlikheid en lof.”


Die Lam wat geslag is, is waardig om die volgende sewe eienskappe te ontvang:


1. Krag – “en lei ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” MATTHÉÜS 6:13 AFR53


2. Rykdom – “Want julle ken die genade van onse Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word.” II KORINTHIËRS 8:9 AFR53


3. Wysheid – “maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Grieke: Christus, die krag van God en die wysheid van God.” I KORINTHIËRS 1:24 AFR53


4. Sterkte – “Wie is tog die Erekoning? Die Here, sterk en geweldig, die Here geweldig in die stryd.” PSALMS 24:8 AFR53


5. Eer – “maar ons sien Hom, naamlik Jesus, wat vir ‘n kort tydjie minder as die engele gemaak is, vanweë die lyde van die dood met heerlikheid en eer gekroon, sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak.” HEBREËRS 2:9 AFR53


6. Heerlikheid – “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon — en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom — vol van genade en waarheid.” JOHANNES 1:14 AFR53


7. Lof – “’n Psalm van Dawid. Loof die Here, o my siel, en alles wat binne-in my is, sy heilige Naam! Loof die Here, o my siel, en vergeet geeneen van sy weldade nie!” PSALMS 103:1-2 AFR53

 

5 Mei 2020


OPENBARING 5:13 AFR53

“En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!”


“Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely. So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.” ROMEINE 14:11-12 AFR53


“Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,” FILIPPENSE 2:9-10 AFR53

 

6 Mei 2020


OPENBARING 5:14 AFR53

“En die vier lewende wesens het gesê: Amen! En die vier-en-twintig ouderlinge het neergeval en Hom aanbid wat lewe tot in alle ewigheid.”


Die lewende wesens en die oudelinge bevestig die lof en eer wat Hom wat op die troon sit toekom!


Ons kan saam met die Psalm skrywer ook lof bring aan God!


“Kom, laat ons jubel tot eer van die Here, laat ons juig ter ere van die rots van ons heil! Laat ons sy aangesig tegemoetgaan met lof, met lofsange Hom toejuig! Want die Here is ‘n grote God, ja, ‘n groot Koning bo al die gode.” PSALMS 95:1-3 AFR53

71 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page