14 April 2020
OPENBARING 4:1 AFR53
“Na hierdie dinge het ek gesien — kyk, ‘n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ‘n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur.”
Hersiening – Kronologiese volgorde van die Wegraping!
Die Wegraping gaan begin met Jesus wat neerdaal van die hemel. Sy koms sal aangekondig word deur die aartsengel en die geklank van die basuin van God.
“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.” I THESSALONICENSE 4:16 AFR53
Jesus kom om ons na Hom toe te neem sodat ons kan wees waar Hy is.
“En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” JOHANNES 14:3 AFR53
Die oomblik wat Jesus in die wolke verskyn, verander ons almal hier op aarde in ‘n oogwink – die wat reeds gesterf het en die wat lewe.
“Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.” I KORINTHIËRS 15:51-52 AFR53
Die Christene wat reeds gesterf het gaan eerste weggeraap word.
“Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie.” I THESSALONICENSE 4:15 AFR53
Dan word die Christene wat nog op daardie stadium op aarde lewe weggeraap. Die gedeelte eindig met – dan sal ons ALTYD by die Here wees!
“Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.” I THESSALONICENSE 4:17 AFR53
15 April 2020
OPENBARING 4:2 AFR53
“En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan ‘n troon in die hemel en Een sit op die troon.”
Johannes is in die Gees en hy kry ‘n toer van die hemel. Hy sien eerste ‘n troon en Een wat op die troon sit. Jesaja en Daniel het ook die Here op ‘n troon sien sit.
“In die sterfjaar van koning Ussía het ek die Here sien sit op ‘n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het.” JESAJA 6:1 AFR53
“Ek het bly kyk totdat trone reggesit is en ‘n Oue van dae gaan sit het; …….. DANIËL 7:9a AFR53
16 April 2020
OPENBARING 4:3 AFR53
“En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was ‘n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos ‘n smarag.”
Daniel sien die Oue van dae met sneeuwit klere en hare skoon soos wol. God se troon soos vuurvlamme en wiele van brandende vuur.
“Ek het bly kyk totdat trone reggesit is en ‘n Oue van dae gaan sit het; sy kleed was wit soos sneeu en die hare van sy hoof soos skoon wol; sy troon was vuurvlamme, die wiele daarvan ‘n brandende vuur;”. DANIËL 7:9 AFR53
Esegiël sien ‘n groot wolk met ‘n onophoudelike vuur, skitterende blinkende metaal en ‘n reënboog wat soos ‘n glans rondom God skyn.
“Toe het ek gekyk — en daar het ‘n stormwind uit die noorde gekom, ‘n groot wolk met onophoudelike vuur; en ‘n glans was rondom die wolk, en daaruit, uit die vuur, het iets soos blinkende metaal geskitter.” ESÉGIËL 1:4 AFR53
“Soos die gedaante van die boog wat in die wolk is op ‘n reëndag, so het die glans rondom gelyk. So het die verskyning van die heerlikheid van die Here gelyk. En toe ek dit sien, het ek op my aangesig geval en die stem gehoor van Een wat spreek.” ESÉGIËL 1:28 AFR53
Johannes beskryf God se voorkoms met die kleure van edelstene en ‘n reënboog rondom die troon. Die kleure van die stene is nie aan ons bekend nie, maar ons kan aanneem dat dit ‘n wonderlike, kleurvolle en helder gesig is om te sien.
17 April 2020
OPENBARING 4:4 AFR53
“En rondom die troon was daar vier-en-twintig trone, en op die trone het ek die vier-en-twintig ouderlinge sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad.”
Ons het hier vier verwysings na die sewe briewe van Openbaring 2 & 3:
Rondom die troon was 24 trone – Laodicea: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon….OPENBARING 3:21
Bekleed met wit klere – Sardis: “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere….OPENBARING 3:5
Goue krone op hul hoofde – Smirna: …….Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.” OPENBARING 2:10 AFR53
Iemand met ‘n kroon, wat op ‘n troon sit, is iemand wat regeer – Thiatire: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ‘n ysterstaf;
Ouderlinge verwys na mense, of meer spesifiek, leiers van die kerk. Hierdie is die eerste keer dat mense in die teenwoordigheid van God se troonkamer is.
18 April 2020
OPENBARING 4:5 AFR53
“En daar het weerligte en donderslae en stemme uit die troon uitgegaan, en sewe vuurfakkels wat die sewe Geeste van God is, het voor die troon gebrand;”
Toe Moses die volk na die berg Sinai gebring het om God te ontmoet, was daar ook donderslae en blitse en die geluid van ‘n sterk basuin.
“En op die derde dag toe dit môre word, was daar donderslae en blitse en ‘n swaar wolk op die berg en die geluid van ‘n baie sterk basuin, sodat die hele volk wat in die laer was, gebeef het.” EXODUS 19:16 AFR53
Openbaring 1 leer vir ons dat die sewe goue kandelaars die sewe gemeentes van hoofstukke 2 & 3 is. Die sewe kandelaars of vuurfakkels soos dit nou genoem word is ALMAL in die hemel.
“die verborgenheid van die sewe sterre wat jy in my regterhand gesien het, en die sewe goue kandelaars: die sewe sterre is die engele van die sewe gemeentes, en die sewe kandelaars wat jy gesien het, is die sewe gemeentes.” OPENBARING 1:20 AFR53
Jesaja leer vir ons in die Ou Testament van die 7 Geeste van God.
“en op Hom sal die Gees van die (1) Here rus, die Gees van (2) wysheid en (3) verstand, die Gees van (4) raad en (5) sterkte, die Gees van (6) kennis en van die (7) vrees van die Here. JESAJA 11:2 AFR53
Sewe is ook die volmaaktheid getal. So as die sewe Geeste van God in die hemel is dan is die HELE Heilige Gees in die hemel en nie meer op die aarde nie.
Ons weet dat elke persoon wat Jesus as Verlosser aanvaar, gevul word met die Heilige Gees.
“En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.” HANDELINGE 2:4 AFR53
“julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.
En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.” ROMEINE 8:9, 11 AFR53
Dus, as die HELE Heilige Gees in die troonkamer van God is, dan is almal wat gevul is met die Heilige Gees ook in die troonkamer van God en nie meer op die aarde nie.
Die wegraping bevestig!
19 April 2020
OPENBARING 4:6 AFR53
“en voor die troon was daar ‘n see van glas soos kristal, en in die middel van die troon en rondom die troon vier lewende wesens vol oë van voor en van agter.”
Die waskom in die tempel was ook ‘n ‘see’ genoem soos ons sien met Salomo se tempel – dit was waar die priesters moes was elke keer voor hul by die brandofferaltaar offerhandes doen of by die tempel ingegaan het.
“Hy het ook die see gemaak van gietwerk; van rand tot rand was tien el, heeltemal rond; en die hoogte daarvan was vyf el, en ‘n lyn van dertig el kon dit rondom omspan.” II KRONIEKE 4:2 AFR53
Die see van glas in die troonkamer is kristal, want niemand hoef meer skoon te was nie!
Die vier lewende wesend word in die volgende vers bespreek.
20 April 2020
OPENBARING 4:7 AFR53
“En die eerste lewende wese was soos ‘n leeu, en die tweede lewende wese was soos ‘n kalf, en die derde lewende wese het ‘n gesig gehad soos ‘n mens, en die vierde lewende wese was soos ‘n arend wat vlieg.”
In die Ou Testament boek Numeri word die stamme van Israel getel, in vier groepe opgedeel, en spesifieke plekke aangewys waar hul kamp moet opslaan rondom die tempel. As jy ‘n lugfoto van die kamp sou neem, sou dit lyk soos ‘n kruis soos in die prentjie hierby.
Volgens Joodse tradisie het elk van die vier groepe ‘n leier stam en dan ook ‘n embleem wat dieselfde is as die vier lewende wesens in God se troonkamer.
Juda – leeu (1ste lewende wese)
Efraim – kalf (2de lewende wese)
Reuben – mens (3de lewende wese)
Dan – arend (4de lewende wese)
Die stamme van Juda en Efraim se ‘embleme’ word in die Bybel omskryf.
Dan en Reuben se ‘embleme’ kry ons van Joodse tradisie.
“Juda is ‘n jong leeu; van die roof af het jy opgeklim, my seun. Hy buig hom, hy gaan lê soos ‘n leeu en soos ‘n leeuin; wie sal hom opjaag?” GÉNESIS 49:9 AFR53
“Sy eersgebore stier — heerlikheid is syne, en sy horings is buffelhorings; daarmee sal hy die volke stoot, die eindes van die aarde almal saam. En dit is die tienduisende van Efraim, en dit is die duisende van Manasse!” DEUTERONÓMIUM 33:17 AFR53
21 April 2020
OPENBARING 4:8 AFR53
“En die vier lewende wesens het elkeen vir homself ses vlerke gehad, en hulle was rondom en van binne vol oë; en hulle het sonder ophou dag en nag gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here God, die Almagtige, wat was en wat is en wat kom!”
Jesaja sien ook dieselfde wesens met ses vlerke wat God loof en prys met: Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare
“Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg. En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!” JESAJA 6:2-3 AFR53
Hierdie is die twee kere wat die frase ‘Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare’ in die Bybel gebruik word. Een in die Ou Testament en een in die Nuwe Testament en elke keer is dit engele wat God loof en prys.
Hierdie wys vir ons dat die God van die Ou Testament en die God van die Nuwe Testament dieselfde was, en is, en sal wees – van die begin tot in alle ewigheid!
22 April 2020
OPENBARING 4:9-11 AFR53
“En elke keer as die lewende wesens heerlikheid en eer en danksegging gee aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, val die vier-en-twintig ouderlinge neer voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe, en werp hulle krone voor die troon en sê: U is waardig, o Here, om te ontvang die heerlikheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.”
Die lewende wesens begin elke keer die lofprysing aan Hom wat op die troon sit, wat dan gevolg word deur die 24 ouderlinge wat God aanbid en hul krone voor Sy troon plaas.
Die lewende wesens gee heerlikheid, eer en danksegging aan God en die ouderlinge sê dat God waardig is om die eer en heerlikheid te ontvang en gee erkenning dat God alles geskape het!
Wanneer ons die Onse Vader bid, eindig ons met – want aan U behoort die koninkryk, en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid, Amen.
Comentarios