top of page
  • Regina Torre

Openbaring 22

Updated: Jan 29, 2023


 

19 Maart 2021


OPENBARING 22:1 AFR53

“En hy het my getoon ‘n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van God en van die Lam.


Die engel is nog steeds ‘n toergids en wys vir Johannes nou die besienswaardighede van die Nuwe Hemel en die Nuwe Aarde.


Johannes sien die suiwer rivier van die water van die lewe. Die water is kristalhelder, en dit stroom uit die troon van God en van die Lam.


Ons het al geleer van die water van die lewe in verskillende Bybel verse.


“maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” JOHANNES 4:14 AFR53


“O Here, Verwagting van Israel! almal wat U verlaat, sal beskaamd staan; wie van My afwyk, sal op die aarde geskryf word; want hulle het die Here, die fontein van lewende water, verlaat.” JEREMIA 17:13 AFR53

 

20 Maart 2021


OPENBARING 22:2 AFR53

In die middel van sy straat en weerskante van die rivier was die boom van die lewe wat twaalf maal vrugte dra en elke maand sy vrugte gee, en die blare van die boom is tot genesing van die nasies.


Johannes sien nou ‘n straat en in die middel van die straat en aan weerskante van die rivier is die boom van die lewe. Die laaste keer wat ons die boom van die lewe gesien het was in Genesis in die tuin van Eden, eers voor die sondeval…..


“Ook het die Here God ‘n tuin geplant in Eden, in die Ooste, en daar aan die mens wat Hy geformeer het, ‘n plek gegee. En die Here God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.” GÉNESIS 2:8-9 AFR53


…… en toe na die sondeval, toe Adam en Evan uit die tuin verban is, en gerubs met swaarde as wagte geplaas is om toegang tot die boom te beskerm.


“Toe sê die Here God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie! Toe stuur die Here God hom weg uit die tuin van Eden om die grond te bewerk waaruit hy geneem is. So het Hy dan die mens weggedrywe en gérubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.” GÉNESIS 3:22-24 AFR53


God het verhoed dat Adam en Evan as sondige mense van die boom van die lewe eet, en dan in die toestand vir ewig lewe en verdoem sou wees. Maar, noudat ons in die hemel is, kan ons van die boom van die lewe eet om sodoende vir ewig te lewe.


Die boom dra vêrder maandeliks vrugte wat as ‘n tydmeganisme dien in die Nuwe Hemel en die Nuwe Aarde. Die tyd gaan verby en word gemeet, maar dit word slegs gemeet in maande, nie jare nie.

 

21 Maart 2021


OPENBARING 22:3 AFR53

En daar sal geen enkele vervloeking meer wees nie, en die troon van God en van die Lam sal daarin wees, en sy diensknegte sal Hom dien.


Die aarde is in Genesis vervloek omdat die mens gesondig het.


“En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie — vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.” GÉNESIS 3:17 AFR53


Maar nou is die vervloeking verby. Die vers gee vir ons die bevestiging – daar sal geen enkele vervloeking meer wees nie.


Wat daar wel gaan wees is die troon van God en van die Lam, en al die diensknegte gaan God en die Lam dien.

 

22 Maart 2021


OPENBARING 22:4 AFR53

En hulle sal sy aangesig sien, en sy Naam sal op hulle voorhoofde wees.


Vir die eerste keer ooit sal mense God se aangesig kan sien, en God se Naam sal op almal se voorhoofde wees. Mattheus vertel vir ons dat die wat rein van hart is, God sal sien.


“Salig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien.” MATTHÉÜS 5:8 AFR53

 

23 Maart 2021


OPENBARING 22:5 AFR53

En nag sal daar nie wees nie; en hulle het geen lamp of sonlig nodig nie, omdat die Here God hulle verlig; en hulle sal as konings regeer tot in alle ewigheid.


Hier is weer bevestiging soos in die vorige hoofstuk dat daar nooit weer nag sal wees nie.


Geen lamp of sonlig is nodig nie want God self is die lig wat ewigdeur skyn.


En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp. OPENBARING 21:23 AFR53


Vêrdere bevestiging word gegee dat ons saam met God en die Lam as konings gaan regeer.


“Dit is ‘n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het, sal ons ook met Hom lewe. As ons verdra, sal ons met Hom regeer. As ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën.” II TIMÓTHEÜS 2:11-12 AFR53


“en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen.” OPENBARING 1:6 AFR53

 

24 Maart 2021


OPENBARING 22:6 AFR53

En hy het vir my gesê: Hierdie woorde is betroubaar en waaragtig; en die Here, die God van die heilige profete, het sy engel gestuur om sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur.


Die engel sê vir Johannes soos ook God in die vorige hoofstuk, dat hierdie woorde betroubaar en waaragtig is.


“En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.”OPENBARING 21:5 AFR53


Watter woorde is waar? Die hele profesie van Openbaring wat ons deurgewerk het. Die vers sê dat die Here, die God van die heilige profete, Sy engel gestuur het om aan Sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur. Hierdie woorde het ons aan die begin van Openbaring gelees.

“Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het,” OPENBARING 1:1 AFR53

 

25 Maart 2021


OPENBARING 22:7 AFR53

Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar.


God self sê: kyk, Ek kom gou! Die sin word drie keer herhaal in die hoofstuk. Hierdie vers, en verse 12 en 20.


Salig of geseënd is hy (elkeen wat hier lees) wat die profesie van hierdie boek bewaar. Weereens bevestiging soos in hoofstuk een, dat die studie van die boek Openbaring en die bewaring van die woorde in jou hart, ‘n seëning vir sy leser belowe.


“Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.” OPENBARING 1:3 AFR53

 

26 Maart 2021


OPENBARING 22:8-9 AFR53

En dit is ek, Johannes, wat dit gesien en gehoor het; en toe ek dit gehoor en gesien het, het ek neergeval om te aanbid voor die voete van die engel wat my hierdie dinge getoon het. Toe sê hy vir my: Moenie! want ek is ‘n mededienskneg van jou en van jou broeders, die profete, en van hulle wat die woorde van hierdie boek bewaar. Aanbid God.


Johannes vertel vir ons dat hy die een is wat die woorde van die profesie van Openbaring ontvang het, en dat hy voor die voete van die engel wat hom die dinge getoon het, neergeval het.


“En ek het voor sy voete neergeval om hom te aanbid; maar hy het vir my gesê: Moenie! Ek is ‘n mededienskneg van jou en van jou broeders wat die getuienis van Jesus het. Aanbid God. Want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie.” OPENBARING 19:10 AFR53


Ek is nie seker of Johannes net terugdink, en of hy weer voor die engel neergeval het nie, maar die uiteinde is: Moenie! Aanbid God alleen.

 

27 Maart 2021


OPENBARING 22:10 AFR53

En hy het vir my gesê: Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie, want die tyd is naby.


Johannes moet nie die woorde van die boek Openbaring verseël nie, want die tyd is naby.


Hierdie is ‘n totaal ander boodskap as wat Daniel in die Ou Testment gekry het, toe hy die woorde van sy profesie wel moés verseël. Daniel se profesie was nog in die verre toekoms.


“En die gesig van die aande en die môres waarvan gespreek is, dit is waarheid; en jý, hou die gesig geheim, want dit sien op ‘n verre toekoms.” DANIËL 8:26 AFR53


“En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder.


En hy het gesê: Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe.” DANIËL 12:4, 9 AFR53

 

28 Maart 2021


OPENBARING 22:11 AFR53

Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word.


Johannes word daaraan herinner dat, die feit dat hierdie boek in ons tyd verstaan ​​kan word, nie beteken dat ongelowiges daaruit voordeel sal trek nie.


Inteendeel, die engel sê dat ongelowiges sal voortgaan om hul sondige weë te volg.


Slegs wanneer en as die Gees daardie weg onderbreek deur vir hulle reddende geloof te bring, sal dit verander.


Intussen sal diegene wat die waarheid het, tot die einde toe in Christus se hand bly.

 

29 Maart 2021


OPENBARING 22:12 AFR53

En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.


Ek kom gou! Die tweede keer in die hoofstuk wat die woorde uitgespreek word.


Jesus praat met ons, die gelowiges en sê Sy koms is gou en Hy bring Sy beloning vir elkeen om te ontvang volgens ons werke. Ons kan dus nie lui raak omdat ons weet Jesus se koms is naby nie, ons moet soos Paulus wees. Stry die goeie stryd, voltooi die wedloop, en behou jou geloof!


“Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.” II TIMÓTHEÜS 4:7 AFR53

 

30 Maart 2021


OPENBARING 22:13 AFR53

Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste.


Jesus beklemtoon weereens wie Hy is: die Alfa en die Omega, die begin en die einde, die eerste en die laaste. Hierdie woorde is op drie ander geleenthede in Openbaring geuiter.


“Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.” OPENBARING 1:8 AFR53


“wat sê: Ek is die Alfa en die Oméga, die eerste en die laaste, en skryf wat jy sien in ‘n boek en stuur dit na die sewe gemeentes wat in Asië is: na Éfese en Smirna en Pérgamus en Thiatíre en Sardis en Filadelfía en Laodicéa.” OPENBARING 1:11 AFR53


“En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.” OPENBARING 21:6 AFR53

 

31 Maart 2021


OPENBARING 22:14 AFR53

Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad.


Geseënd is die wat God se gebooie doen! Dié mense het die reg om te eet van die boom van die lewe, en kan ingaan deur die poorte in die stad.


Daar is sewe saligspreuke in die boek Openbaring, en hierdie een is die sewende. Hiermee ‘n lys van die ander ses saligspreuke.


“Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.” OPENBARING 1:3 AFR53


“En ek het ‘n stem uit die hemel aan my hoor sê: Skryf — salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle.” OPENBARING 14:13 AFR53


“Kyk, Ek kom soos ‘n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie.” OPENBARING 16:15 AFR53


“Toe sê hy vir my: Skryf — salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God.” OPENBARING 19:9 AFR53


“Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.” OPENBARING 20:6 AFR53


“Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar.” OPENBARING 22:7 AFR53

 

1 April 2021


OPENBARING 22:15 AFR53

Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.


Maar buite…… buite God se wil, dus die wat nie soos in die vorige vers God se gebooie doen nie, is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.


“Let op die honde; let op die slegte arbeiders; let op die versnyding.” FILIPPENSE 3:2 AFR53

 

2 April 2021


OPENBARING 22:16 AFR53

Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.


Jesus gee bevestiging van dit wat ons reeds geleer het. Jesus het Sy engel gestuur om al die dinge van die profesie in Openbaring aan die gemeentes te betuig.


“Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het,” OPENBARING 1:1 AFR53


Dan vêrder gee Jesus vir ons Sy geslagsregister, Hy is die wortel en van die geslag van Dawid.


“Maar daar sal ‘n takkie uitspruit uit die stomp van Ísai, en ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra;”. JESAJA 11:1 AFR53


“Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham:”. MATTHÉÜS 1:1 AFR53

 

3 April 2021


OPENBARING 22:17 AFR53

En die Gees en die bruid sê: Kom! En laat hom wat hoor, sê: Kom! En laat hom wat dors het, kom; en laat hom wat wil, die water van die lewe neem, verniet.


Die Gees en die bruid nooi die wat hoor, en die wat dors het, en die wat wil, om verniet die water van die lewe te neem.


Hierdie is ‘n finale uitnodiging aan almal om Jesus as Verlosser te aanvaar!


“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” EFÉSIËRS 2:8-9 AFR53

 

4 April 2021


OPENBARING 22:18 AFR53

Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is.


Johannes praat nou met almal wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor, dus die boek Openbaring. Die waarskuwing wat gegee word is baie duidelik.


As iemand by hierdie dinge iets byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in Openbaring geskryf is.


Moses het in Deuternomium dieselfde waarskuwing aan die Israeliete gegee.


“Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van die Here julle God mag onderhou, wat ek julle beveel.” DEUTERONÓMIUM 4:2 AFR53

 

5 April 2021


OPENBARING 22:19 AFR53

En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.


In aansluiting met die vorige vers word die waarskuwing uitgebrei. As iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God die persoon se deel wegneem uit:

  1. die boek van die lewe, en

  2. die heilige stad, en

  3. die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.

So dit is baie duidelik: Moet nie iets byvoeg of wegneem van die profesie wat hier gegee is nie, want daar wag slegte gevolge op die persoon wat nie luister nie.

 

6 April 2021


OPENBARING 22:20 AFR53

Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!


Jesus getuig finaal dat Hy weer terugkom met: Ja, Ek kom gou.


En Johannes antwoord daarop: Amen, ja kom, Here Jesus!

 

7 April 2021


OPENBARING 22:21 AFR53

Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.”


Johannes spreek ‘n finale seën uit oor sy lesers:


‘Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.’ 🙏


Baie dankie aan almal wat die reis deur Openbaring met my meegemaak het.

Groete in Christus, Regina Torre!

43 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page