top of page
  • Regina Torre

Openbaring 21

Updated: Jan 29, 2023

23 Februarie 2021


OPENBARING 21:1 AFR53

En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.


Johannes sien ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan. Die eerste verskil tussen die oue en die nuwe, is dat die nuwe nie ‘n see het nie.


Ons is gewaarsku dat die aarde soos ons dit ken sal vergaan.


“en: U, o Here, het in die begin die aarde gegrondves en die hemele is werke van u hande. Hulle sal vergaan, maar U bly; en hulle sal almal soos ‘n kleed verslyt,” HEBREËRS 1:10-11 AFR53


“Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.” MATTHÉÜS 24:35 AFR53


“Want kyk, Ek skep nuwe hemele en ‘n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie.” JESAJA 65:17 AFR53

 

24 Februarie 2021


OPENBARING 21:2 AFR53

En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.


Johannes sien die heilige stad, die nuwe Jerusalem wat van God uit die hemel neerdaal.


“Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.


Maar nou verlang hulle na ‘n beter een, dit is ‘n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ‘n stad berei.” HEBREËRS 11:10, 16 AFR53


Almal op aarde sal die klaargeboude stad sien neerdaal uit die hemel. Net soos ‘n bruidegom vir die eerste keer sy bruid sien afstap in die kerk, so sal die mense die stad sien wat uit die hemel neerdaal.

 

25 Februarie 2021


OPENBARING 21:3 AFR53

En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.


‘n Stem sê vir Johannes dat die tabernakel van God by die mense is, en God sal by hulle woon.


Dit verduidelik vir ons die tabernakel en die tempels wat deur die eeue heen gebou is.


God met ons!


Omdat sonde die mens van God geskei het, het God die tempel gebruik om by Sy mense te woon.


Kom ons kyk na die tempels deur die geskiedenis terug en in die toekoms.


Moses se tabernakel: God self is teenwoordig in die tabernakel deur die wolkkolom bedags en die vuurkolom snags vir die veertig jaar wat die Israeliete in die woestyn getrek het.


Die 1ste tempel (Salomo se tempel): Die heerlikheid van God het die tempel gevul op die dag wat die tempel ingehuldig is.


Die 2de tempel (Herodus se tempel): Die heerlikheid van God was nooit in die tempel teenwoordig nie, maar Jesus self het Sy lewe lank ‘n nou verbintenis met die tempel gehad.


Ek is ‘n tempel van God: Jesus het vir Sy dissipels gesê hulle moet wag vir die Helper. Tien dae na Jesus se hemelvaart kom die Helper, die Heilige Gees en vul Jesus se volgelinge. Die heerlikheid van God is dus in elkeen van ons wat Jesus as Verlosser aanvaar!


Die 3de tempel (Groot Verdrukking tempel): Ek weet nie of die heerlikheid van God in die tempel gaan wees nie. Indien die verbondsark gevind word, is dit moontlik dat die heerlikheid van God vir die eerste 3,5 jaar wel teenwoordig sal wees. Wat ons wel weet is dat Satan in die helfte van die sewe jaar Verdrukking homself in die tempel as god gaan verklaar.


Millenium tempel: Die heerlikheid van God kom deur die poort aan die oostekant van die tempel in en klink soos die geruis van baie waters. Esegiël staan in die voorhof van die tempel en sien hoe die heerlikheid van die Here die tempel vul.

 

26 Februarie 2021


OPENBARING 21:4 AFR53

En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.


Die nuwe aarde is gereinig van sonde en al die gevolge van die sonde – alles is nou in ‘n perfekte toestand herstel.


Al die negatiewe gevolge van Adam se sonde en die gevolglike vloeke is nou reggestel. Daar is nou geen trane, geen dood, geen rou, geen huil, geen pyn … alles wat bestaan ​​het as gevolg van sonde was nie deel van God se perfekte skepping nie.

 

27 Februarie 2021


OPENBARING 21:5 AFR53

En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.


Hy wat op die troon sit praat met Johannes. Die Hy wat praat is Jesus, en Hy sê vir Johannes om die woorde neer te skryf want die woorde is waaragtig en betroubaar.


Die Engelse KJV vertaal die woorde waaragtig en betroubaar as: true and faithful.

Waaragtig – die volle waarheid.

Betroubaar – kan vertrou daarop.


Jesus bevestig hier dat Hy alles nuut maak. Uit met die ou en in met die nuut, en dit is die waarheid waarop ons kan vertrou!

 

28 Februarie 2021


OPENBARING 21:6 AFR53

En Hy het vir my gesê: Dit is verby! Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde. Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet.


Jesus sê vêrder vir Johannes: Dit is verby!

– die sonde van die wêreld is verby

– die strawwe van Openbaring is verby

– hartseer, verdriet, pyn is verby………


Jesus bevestig weer soos in Openbaring hoofstuk 1 dat Hy die Alfa en die Omega is, wat beteken die begin en die einde! In hoofstuk 1 moes Johannes skryf wat hy gaan sien, en nou bevestig Jesus dat dit wat hy gesien het, verby is.


“Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.” OPENBARING 1:8 AFR53


“wat sê: Ek is die Alfa en die Oméga, die eerste en die laaste, en skryf wat jy sien in ‘n boek en stuur dit na die sewe gemeentes wat in Asië is: na Éfese en Smirna en Pérgamus en Thiatíre en Sardis en Filadelfía en Laodicéa.” OPENBARING 1:11 AFR53


Jesus bevestig vêrder wat Hy deur Sy lewe op aarde vir ons geleer het. Hy gee vir die wat dors het, water uit die fontein van die water van die lewe, en dit wat Hy gee is gratis en verniet.


“maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.” JOHANNES 4:14 AFR53

 

1 Maart 2021


OPENBARING 21:7 AFR53

Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ‘n God wees, en hy sal vir My ‘n seun wees.


Oorwinnaars, die wat Jesus as Verlosser aanvaar het, sal ALLES erf, en God sal met hulle wees en hulle sal seuns van God wees! In die begin van Openbaring kry elkeen van die kerke se oorwinnaars ook ‘n beloning.


Efese: ……. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne-in die paradys van God is.” OPENBARING 2:7 AFR53


Smirna: …….. Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.” OPENBARING 2:11 AFR53


Pergamus: …….. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die verborge manna, en Ek sal hom gee ‘n wit keursteen, en op dié steen ‘n nuwe naam geskrywe wat niemand ken nie, behalwe hy wat dit ontvang.” OPENBARING 2:17 AFR53


Thiatire: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee,” OPENBARING 2:26 AFR53


Sardis: “Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.” OPENBARING 3:5 AFR53


Filadelfia: “Wie oorwin, Ek sal hom ‘n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal daar nooit weer uitgaan nie; en Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, van die nuwe Jerusalem, wat uit die hemel van my God neerdaal, en my nuwe Naam.” OPENBARING 3:12 AFR53


Laodicea: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.” OPENBARING 3:21 AFR53

 

2 Maart 2021


OPENBARING 21:8 AFR53

Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars — hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.


Maar, die verloorders, die wat Jesus verwerp het, hulle beloning is die poel van vuur om te brand met vuur en swawel. God is nie met hulle nie, en hulle is nie seuns van God nie, nee – hulle is vir ewig geskei van God – dit is die tweede dood!


Die verloorders word hier gelys:

  1. vreesagtiges

  2. ongelowiges

  3. gruwelikes

  4. moordenaars

  5. hoereerders

  6. towenaars

  7. afgodedienaars

  8. leuenaars

 

3 Maart 2021


OPENBARING 21:9 AFR53

En een van die sewe engele wat die sewe skale gehad het, vol van die sewe laaste plae, het na my gekom en met my gespreek en gesê: Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam.


Johannes hoor ‘n bekende stem wat met hom praat. Een van die sewe engele wat die sewe skale gehad het, vol van die sewe laaste plae. Die engel sê vir Johannes – kom hierheen sodat ek vir jou die bruid kan wys, die vrou van die Lam.


Hierdie engel is moontlik dieselfde engel wat vir Johannes die vrou getoon het wat op ‘n skarlakenrooi dier sit.


“En een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en vir my gesê: Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit, met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery. En hy het my in die gees weggevoer na ‘n woestyn, en ek het ‘n vrou sien sit op ‘n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings. OPENBARING 17:1-3 AFR53


Die eerste vrou het Babilon, die stad van die dier verteenwoordig. Die vrou in Openbaring 21 verteenwoordig God se stad, die Nuwe Jerusalem.


Ons sien hier die kontras tussen ongeregtigheid en geregtigheid, onreinheid en reinheid, kwaad en goed, wat vir vernietiging gemerk is en wat vir ewig bly.

 

4 Maart 2021


OPENBARING 21:10 AFR53

En hy het my in die gees weggevoer op ‘n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal;


Johannes word in die gees weggevoer na ‘n groot en hoë berg, en die engel wys vir Johannes die groot stad, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal.


Abraham het vêr terug in die Ou Testament die stad waarvan God die boumeester is verwag.


“Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom. Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ‘n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.” HEBREËRS 11:8-10 AFR53

 

5 Maart 2021


OPENBARING 21:11 AFR53

en dit het die heerlikheid van God gehad, en sy lig was soos ‘n baie kosbare steen, soos die kristalhelder jaspissteen.


Die heerlikheid van God vul die heilige stad Jerusalem en dit skyn kristalhelder soos ‘n kosbare edelsteen. Die heerlikheid van God is God se teenwoordigheid in die stad, net soos God teenwoordig was in Moses se tabernakel en Salomo se tempel.


“Toe het die wolk die tent van samekoms oordek, en die heerlikheid van die Here het die tabernakel vervul, sodat Moses nie in die tent van samekoms kon ingaan nie, omdat die wolk daarop gerus en die heerlikheid van die Here die tabernakel vervul het.” EXODUS 40:34-35 AFR53


“En net toe Salomo sy gebed voleindig het, het die vuur uit die hemel neergedaal en die brandoffer en die slagoffers verteer, en die heerlikheid van die Here het die huis vervul; en die priesters kon nie in die huis van die Here ingaan nie, want die heerlikheid van die Here het die huis van die Here vervul.” II KRONIEKE 7:1-2 AFR53

 

6 Maart 2021


OPENBARING 21:12 AFR53

En dit het ‘n groot en hoë muur met twaalf poorte gehad, en by die poorte twaalf engele, en name daarop geskrywe, naamlik dié van die twaalf stamme van die kinders van Israel.


Die stad word nou vir ons in detail beskryf.


Die stad het ‘n groot en hoë muur met twaalf poorte of ingange. Voor elk van die twaalf poorte of ingange is daar ‘n engel, dus is daar twaalf engele om die stad.


Elke poort het ook ‘n naam wat op die poort geskryf is, en die name is die twaalf stamme van die kinders van Israel wat die Ou Testament verteenwoordig.

 

7 Maart 2021


OPENBARING 21:13 AFR53

Aan die oostekant was daar drie poorte, aan die noordekant drie poorte, aan die suidekant drie poorte, aan die westekant drie poorte.


Die poorte van die stad se ligging word nou gegee, en hier het ons die eerste indikasie dat die stad vierkantig is.

  1. Drie poorte aan die oostekant

  2. Drie poorte aan die noordekant

  3. Drie poorte aan die suidekant

  4. Drie poorte aan die westekant

 

8 Maart 2021


OPENBARING 21:14 AFR53

En die muur van die stad het twaalf fondamente gehad, en daarop was die name van die twaalf apostels van die Lam.


Die muur van die stad het twaalf fondamente, en elke fondament is vernoem na een van die twaalf apostels van die Lam. Die fondamente verteenwoordig die Nuwe Testament.


“gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.” EFÉSIËRS 2:20-22 AFR53

 

9 Maart 2021


OPENBARING 21:15 AFR53

En hy wat met my gespreek het, het ‘n goue meetroede gehad, om die stad en sy poorte en sy muur te meet.


Die engel wat met Johannes praat het ‘n goue maatstaf waarmee hy die stad, sy poorte en sy muur meet. Johannes het vroeër self die afmetings van die Verdrukking tempel gemeet.


“En ‘n riet soos ‘n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid.” OPENBARING 11:1 AFR53


God is ‘n God van orde, en die feit dat die engel hier in hoofstuk 21 ‘n maatstaf het om die stad, sy poorte en die mure te meet, toon dat die Nuwe Jerusalem ‘n letterlike stad is en nie ‘n mistieke stad nie. As dit ‘n suiwer simboliese idee was, of slegs ‘n metafoor, sou dit onmoontlik wees om dit te meet.

 

10 Maart 2021


OPENBARING 21:16 AFR53

En die stad het vierkantig gelê, en sy lengte was net so groot as sy breedte. En hy het die stad met die meetroede gemeet op duisend-vyfhonderd myl; sy lengte en breedte en hoogte was gelyk.

Die engel gee vir Johannesdie afnetings van die stad. Die stad is vierkantig met die lengte, breedte en hoogte wat dieselfde is - elk 2,414 km.


Die Allerheiligste vertrek, die vertrek waar God se heerlikheid teenwoordig is, was nog altyd ‘n volmaakte kubus. ‘n Kubus is ‘n vierkant waar die lengte, breedte en hoogte dieselfde afmetings het.




Die afmetings van die verskillende tempels se Allerheilgste vertrek:

  1. Moses se tabernakel: 5 x 5 x 5 meter

  2. Salomo se tempel: 10 x 10 x 10 meter

  3. Herodus se tempel: 10 x 10 x 10 meter

  4. 3de tempel: ons weet nie

  5. Millenium tempel: 10 x 10 x 10 meter

Die nuwe Jerusalem se afmetings is ook die van ‘n volmaakte kubus, maar dis nie ‘n klein vertrek van 10 x 10 x 10 meter nie, dis ‘n enorme konstruksie van 2,414 km x 2,414 km x 2,414 km.


In die ewigheid waar ons nie meer sonde het nie, kan ons saam met God woon in die gebou waar Sy heerlikheid teenwoordig is.


Haleluja – dit is iets om na uit te sien!

 

11 Maart 2021


OPENBARING 21:17 AFR53

En hy het sy muur gemeet op honderd-vier-en-veertig el, volgens ‘n mens se maat, wat die maat van ‘n engel is.


In die vorige vers het ons die stad se lengte, breedte en hoogte gekry, en nou in die vers gee die engel die muur se dikte en dit is 144 el of 65.83 meter.


Ons het in vers 14 gelees dat die stad se muur twaalf fondamente het.


En die muur van die stad het twaalf fondamente gehad, en daarop was die name van die twaalf apostels van die Lam. OPENBARING 21:14 AFR53

 

12 Maart 2021


OPENBARING 21:18-20 AFR53

En die boustof van sy muur was jaspis, en die stad was suiwer goud soos suiwer glas.En die fondamente van die muur van die stad was versierd met allerhande edelgesteentes. Die eerste fondament was jaspis, die tweede saffier, die derde chalcedoon, die vierde smarag; die vyfde sardoniks, die sesde sardius, die sewende chrisoliet, die agtste beril, die negende topaas, die tiende chrísopraas, die elfde hiasint, die twaalfde ametis.


Die boustof van die muur en die eerste fondament is dieselfde, naamlik Jaspis. In vers 11 het ons ook gesien dit is die kleur van God se heerlikheid.


“en dit het die heerlikheid van God gehad, en sy lig was soos ‘n baie kosbare steen, soos die kristalhelder jaspissteen.” OPENBARING 21:11 AFR53


Die res van die fondamente is elk van verskillende kleure edelgesteentes wat sekerlik ‘n pragtige gesig gaan wees om te aanskou.

 

13 Maart 2021


OPENBARING 21:21 AFR53

En die twaalf poorte was twaalf pêrels; elkeen van die poorte was uit een pêrel, en die straat van die stad was suiwer goud soos deurskynende glas.


Elkeen van die nuwe stad Jerusalem se ingange of poorte is ‘n pêrel. Dus, twaalf pêrel poorte om die stad. Dit is waar die spreekwoordelike ‘pearly gates’ vandaan kom.


Die straat van die stad is van suiwer goud, soos deurskynende glas. Duidelik gaan die kleure en die prag en praal van hierdie stad nie van hierdie wêreld wees nie.

 

14 Maart 2021


OPENBARING 21:22 AFR53

En ‘n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam.


Die heerlikheid van God is oor die stad en Sy lig is soos ‘n kosbare edelsteen. Dit beteken God met ons soos Hy was met Moses se tabernakel, Salomo se tempel, in elkeen van ons as Christene vandag en die Millenium tempel van die toekoms. Dus is daar geen nut vir ‘n tempel in die ewigheid nie, en Johannes sê ook vir ons dat hy nie ‘n tempel sien nie.


“en dit het die heerlikheid van God gehad, en sy lig was soos ‘n baie kosbare steen, soos die kristalhelder jaspissteen.” OPENBARING 21:11 AFR53

 

15 Maart 2021


OPENBARING 21:23 AFR53

En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.


In die begin in Genesis toe God die wêreld geskape het, was die wêreled woes en leeg en in duisternis gehul, en God het gesê laat daar lig wees, en daar was lig.


“In die begin het God die hemel en die aarde geskape. En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.” GÉNESIS 1:1-3 AFR53


Hierdie lig was teenwoordig nog voordat God die son, maan en sterre geskape het. Hier in die boek Openbaring aan die einde van tyd keer ons weer terug na God se lig wat God se heerlikheid is en nie ‘n son, maan en sterre nodig het om lig te maak nie.

 

16 Maart 2021


OPENBARING 21:24 AFR53

En die nasies van die wat gered word, sal in die lig daarvan wandel, en die konings van die aarde bring hulle heerlikheid en eer daarin.


Die nasies wat gered is woon buite die stad en wandel ook in God se lig.


Die konings van die aarde bring ook hul heerlikheid en eer in die lig wat beteken dat die konings ook aan God onderdanig is.

 

17 Maart 2021


OPENBARING 21:25-26 AFR53

En bedags — want nag sal daar nie meer wees nie — sal sy poorte nooit gesluit word nie; en hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies daarin bring.


Nag is daar nie meer nie, net dag want God se lig hou nie op om te skyn nie.


Omdat daar nie nag is nie, hoef die poorte nie gesluit te word nie. Daar is nie meer enige gevaar nie, so die poorte kan oop bly. Al wat nou in die stad inkom is die heerlikheid en eer van die nasies.

 

18 Maart 2021


OPENBARING 21:27 AFR53

En daarin sal nie inkom iets wat verontreinig en gruwelikheid en leuens doen nie; maar net die wat geskrywe is in die boek van die lewe van die Lam.


Niks wat die stad verontreinig of enige gruwelikheid of leuen kan ooit weer in die stad inkom nie.


Net die wat in die boek van die lewe van die Lam ingeskryf is, net hulle sal in die stad kan inkom!

11 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page