top of page
  • Regina Torre

Openbaring 20

Updated: Jan 29, 2023


30 Januarie 2021


OPENBARING 20:1 AFR53

En ek het ‘n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ‘n groot ketting in sy hand.


Johannes sien ‘n engel wat uit die hemel neerdaal, en die engel het ‘n sleutel en ‘n groot ketting in sy hand. Hierdie sleutel is vir die slot van die afgrond of in Engels ‘the bottomless pit’ en in Grieks ‘abyssos’.


Hierdie afgrond is nie die hel of die doderyk nie, hoewel dit soortgelyk is. Dit is ‘n plek in die dieptes van die aarde waar God die demone gevange hou tot en met die dag van hul oordeel.


Op ‘n toekomstige punt sal die afgrond leeggemaak word en alle demone sal hul finale oordeel in die poel van vuur kry.

 

31 Januarie 2021


OPENBARING 20:2 AFR53

En hy het die draak gegryp — die ou slang wat die duiwel en die Satan is — en hy het hom gebind duisend jaar lank,


In die vorige hoofstuk is die dier en die valse profeet lewend in die vuurpoel gegooi waar hul tot in alle ewigheid met swawel verbrand en gepynig gaan word.


Nou gaan ons sien wat gebeur met die draak, of die ou slang van die tuin van Eden, of anders gestel die Satan wat die derde entiteit van die onheilige drie-enigheid is.


Die vers vertel vir ons dat Satan gebind gaan word vir een duisend jaar, en hierdie is ‘n letterlike 1000 jaar.

 

1 Februarie 2021


OPENBARING 20:3 AFR53

en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word.


Die Satan word bietjie anders hanteer as die dier en die valse profeet, want daar is nog ‘n taak wat op hom wag na die duidend jaar wat hy gebind was.


Maar, vir eers word hy in die afgrond gewerp, of in die ‘bottomless pit’ ingegooi, en dan word die afgrond toegesluit en verseël sodat hy nie kan ontsnap om die nasies te verlei nie.


Met die Satan wat nou vir ‘n duidend jaar gebind is, gaan ons weereens wegstap van Openbaring en kyk wat die res van die Bybel vir ons leer oor hierdie letterlike duisend jaar tydperk.


Millenium se betekenis: mille – latyn vir duisend; annum – latyn vir jaar; dus duisend jaar!


Die millenium is ‘n letterlike periode van ‘n duisend jaar wat geskeduleer is vir die toekoms, na Jesus se tweede koms aan die einde van ons geskiedenis om Sy ewige koninkryk op te rig.

 

2 Februarie 2021


JESAJA 9:5-6 AFR53 

“Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors — tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen.”


Jesaja 9 gee vir ons ‘n profesie wat met Jesus se eerste en tweede koms vervul word.


Die eerste vervulling (blou gemerk) is ons Kersfees verhaal – ‘n Kind is vir ons gebore!


Die tweede vervulling (rooi gemerk) gaan vir ons ‘n Koning gee wat vir ewig oor Sy koninkryk, die ganse wêreld gaan regeer! Die Seun Jesus wat ook genoem word Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors!



 

3 Februarie 2021


SAGARÍA 14:10 AFR53

“Die hele land sal soos die Vlakte word, van Geba tot by Rimmon, suid van Jerusalem; maar Jerusalem self sal hoog wees en woon op sy plek, van die poort van Benjamin af tot by die plek van die vorige poort, tot by die Hoekpoort, en van die toring Hanáneël tot by die parskuipe van die koning.”


Ons het reeds gesien dat ‘n aarbewing plaasvind met Jesus se tweede koms wat die topografie van Jerusalem radikaal gaan verander.


Sagaria gee meer detail van hoe dit na die aardbewing gaan lyk – die hele land suid van Jerusalem gaan soos ‘n vlakte word, maar Jerusalem self sal hoog wees.

 

4 Februarie 2021


JESAJA 2:1-2 AFR53

“Die woord wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem. En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom.”


Jesaja vertel dat die huis van die Here of die tempel aan die einde van dae sal vasstaan op die berg in Jerusalem. ‘n Berg hoër as al die ander berge en heuwels en al die nasies sal daarheen stroom.

 

5 Februarie 2021


JESAJA 11:9-10 AFR53

“Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek. En in dié dag sal die nasies vra na die wortel van Ísai, wat daar staan as ‘n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees.”


Die nasies sal vra na koning Jesus (die wortel van Isai) en niemand sal die tempel wat op die berg staan kwaad aandoen of vernietig nie, en die aarde sal vol wees van die kennis van die Here net soos die waters die seebodem oordek.

 

6 Februarie 2021


JEREMIA 30:9 AFR53

“Maar hulle sal die Here hulle God dien en hulle koning Dawid wat Ek vir hulle sal verwek.”


Israel sal God alleen dien en Dawid sal sy plek as koning van Israel inneem.


“En Ek sal een enkele herder oor hulle verwek, en hy sal hulle laat wei, naamlik my kneg Dawid; hy sal hulle laat wei, en hy sal vir hulle ‘n herder wees. En Ek, die Here, Ek sal vir hulle ‘n God wees, en my kneg Dawid ‘n vors in hulle midde. Ek, die Here, het dit gespreek.” ESÉGIËL 34:23-24 AFR53

 

7 Februarie 2021


JESAJA 2:3 – 4 AFR53

“En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”


Jerusalem is die hoofstad waar die regsbank van God gesetel is, want van daar sal die wet en die Woord van God uitgaan, en die volke sal daarheen gaan om die weë van God te leer.


Daar sal geen oorlog meer wees nie, nasies sal in vrede met mekaar leef. Swaarde sal in pikke verander en spiese in snoeimesse.

 

8 Februarie 2021


JESAJA 65:20 AFR53

“Daarvandaan sal nie meer kom ‘n suigling van ‘n paar dae of ‘n grysaard wat sy dae nie vol uitlewe nie; want ‘n seun sal sterwe honderd jaar oud, en wie sondig, sal, honderd jaar oud, deur die vloek getref word.”


Ouderdomme vir die persone in hul menslike liggame gaan nie meer gemeet word soos ons dit nou ken nie. Honderd jaar word as jonk gesien, so mense wat gebore word ( van persone in hul menslike liggame) in die millenium kan honderde jare oud word.


Daar is ongelukkig nog steeds mense wat sondig in die millenium en op die jong leeftyd van 100 jaar sal hul deur die vloek getref word.


Vier groepe mense sal in die millenium teenwoordig wees.


A: Persone wat in hul verheerlikte liggame teenwoordig gaan wees.

1. Die Ou Testament gelowiges.

2. Die Christene wat voor die Groot Verdukking weggeraap is – die wat reeds dood is en die wat op daardie stadium gelewe het.

3. Martelare wat gedurende die Groot Verdukking gesterf het.


B: Persone wat in hul menslike liggame teenwoordig gaan wees.

4. Persone wat Jesus as Verlosser aanvaar het tydens die Groot Verdrukkig en wat nog lewe met Jesus se tweede koms.

 

9 Februarie 2021


JESAJA 65:21-22, 25 AFR53

“En hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat ‘n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ‘n ander dit eet nie; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet.”

“Die wolf en die lam sal saam wei, en die leeu sal strooi eet soos ‘n bees, en stof sal die voedsel van die slang wees; hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie, sê die Here.”


Die mense sal elk hul eie huise bou en bewoon, en hul eie wingerde plant en hul eie vrugte eet, hulle gaan nie plant dat ander kan eet nie.


Diere sal in vrede met mekaar leef, en nie meer mekaar eet nie. Die wolf en die lam sal saam wei en selfs die kinders sal die leeus en vetgemaakte vee saam aanjaag.


“Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ‘n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os;” JESAJA 11:6-7 AFR53


“en die suigling speel by die gat van ‘n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ‘n basilisk.” JESAJA 11:8 AFR53

 

10 Februarie 2021


MATTHÉÜS 6:9-10 AFR53

“Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde;”.


“Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan —”. DANIËL 2:44 AFR53


Wanneer ons die Onse Vader bid, dan vra ons dat Jesus se koninkryk moet kom – dit is die koninkryk wat in die millenium begin en dan vir ewig voortduur!


Daniel vertel vir Nebukadneser wat sy droom beteken – die laaste deel van die droom se uitleg wys dat God ‘n koninkryk gaan oprig wat nooit vernietig gaan word nie. Die koninkryk sal nie deur ‘n ander vervang word nie, en sal vir altyd bestaan. Dié koninkryk begin die millenium tydperk.

 

11 Februarie 2021


OPENBARING 20:4 AFR53

En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.


Johannes sien trone en hulle sit daarop, en aan hulle is die oordeel gegee. Wie is die ‘hulle’ wat op die trone sit. Hierdie is dieselfde siele wat Johannes in Openbaring 6 onder die altaar gesien het, wat nou voltallig is, en hulle het die volgende kenmerke:


– die siele is onthoof oor hul getuienis van Jesus en oor die Woord van God,

– hulle het die dier en sy beeld nie aanbid nie, en

– hulle het NIE die dier se merk op hul voorhof of op hul hand ontvang NIE.


“En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. En hulle het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie? En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog ‘n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees.” OPENBARING 6:9-11 AFR53


Hierdie siele, die mense wat in die Verdrukking gedood is, leef en regeer as konings (daarom die trone) saam met Christus vir een duisend jaar.

 

12 Februarie 2021


OPENBARING 20:5 AFR53

En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding.


Johannes sien in die vorige vers die siele wat in die Verdrukking gesterf het, en nou in die vers sê Johannes die ander dode herlewe eers aan die einde van die millenium.


Deur ‘n proses van eliminasie verwys die “ander dode” slegs na die ongelowiges. Die ongelowiges se opstanding is dus eers aan die einde van die millenium.


“En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.” DANIËL 12:2 AFR53


Die ‘eerste opstanding’ sluit diegene in wat tydens die wegraping opgewek word tesame met hierdie Verdrukking gelowiges, tot die ewige lewe. Diegene wat deel uitmaak van die ‘tweede opstanding’ of die ‘ander dode’ soos die vers vertel, het slegs oordeel wat wag.

 

13 Februarie 2021


OPENBARING 20:6 AFR53

Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.


Die vers sê salig of geseënd en heilig is hulle wat deel het aan die eerste opstanding, want hulle sal almal saam met Jesus regeer as konings vir ‘n duisend jaar en hulle sal ook priesters van God en van Christus wees.


Die tweede dood het nie mag oor hulle wat in die eerste opstanding is nie.


Die eerste dood gebeur met almal, hetsy gelowig of ongelowig. Die fisiese dood verteenwoordig die skeiding van liggaam en siel. Die tweede dood is egter net vir die ongelowiges en is ‘n geestelike dood waar jou siel vir ewig van God geskei word. Die tweede dood gebeur aan die einde van die duisend jaar tydperk.


anastasei: “om op te staan”; ‘n liggaamlike opstanding. Die trone is letterlik; die martelare is letterlik; Jesus is letterlik; die opstanding is letterlik; die duisend jaar is letterlik.


“Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.” JOHANNES 5:28-29 AFR53


“en ‘n hoop op God het, ‘n hoop wat hulle self ook verwag, dat daar ‘n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges.” HANDELINGE 24:15 AFR53

 

14 Februarie 2021


OPENBARING 20:7 AFR53

En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word;


Aan die einde van die millenium of aan die einde van die duisend jaar van vrede, gaan die Satan uit sy gevangenis losgelaat word.


Hoekom? Sy vrylating is nie bedoel om te sien of tronkstraf hom hervorm het nie, want dit kan nie gebeur nie. Satan se vrylating word gedoen om te sien of die mense wat gedurende die millennium gebore word, hul harte ten volle vir Jesus gee.


Die millennium is ‘n tydperk van vrede en oorvloed, maar dit maak nie dat mense nou sommer hul harte vir koning Jesus gaan gee nie. ‘n Volmaakte omgewing waarborg nie ‘n perfekte verhouding met God nie, ons het dit gesien met Adam en Eva wat in ‘n perfekte omgewing gewoon het en nog steeds gesondig het.

 

15 Februarie 2021


OPENBARING 20:8 AFR53

en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see.


Satan se hoofdoel, selfs aan die einde van die millenium, bly om die nasies te verlei en hy gaan uit na die vier hoeke van die aarde om mense te versamel vir sy finale oorlog.


Die Gog en Magog hier moet nie verwar word met Ezegiel 38-39 se oorlog wat van die noorde af kom en voor Jesus se tweede koms plaasvind nie.


Ongelukkig is daar selfs in die millenium baie mense wat hul rug op God draai, want die getal mense wat die Satan versamel is so baie soos die sand van die see.

 

16 Februarie 2021


OPENBARING 20:9 AFR53

En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind.


Die duisende mense wat so veel is as die sand van die see kom in hul massas op oor die breedte van die aarde. Hul hoofdoel is om die laer van die heiliges en die geliefde stad (Jerusalem) te omsingel vir hul oorlog.


En ‘n oorlog is presies wat hulle kry, maar nie soos hulle dit voorgestel het nie. Die oorlog wis Satan se navolgers uit in die tweede helfte van ‘n kort sin met die woorde: die vuur van God daal uit die hemel neer en verslind hulle – net so!

 

17 Februarie 2021


OPENBARING 20:10 AFR53

En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.


Die duiwel, of die Satan wat al die mense verlei het, wat gebeur met hom nadat al sy navolgers met vuur verslind is?


Hy word in die poel van vuur en swawel gewerp waar sy twee vriende die dier en die valse profeet op hom wag. Nou is al drie entiteite van die onheilige drie-enigheid waar hul moet wees, naamlik in die poel van vuur en swawel. In Engels noem hulle die plek: the lake of fire!


Die drie word van hier af tot in alle ewigheid dag en nag gepynig !!!

 

18 Februarie 2021


OPENBARING 20:11 AFR53

En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.


Johannes sien ‘n groot wit troon met Jesus wat daarop sit. Jesus is deur Sy Vader aangestel om die oordeel uit te voer.


“Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee,”JOHANNES 5:22 AFR53


“En Hy het ons bevel gegee om aan die volk te verkondig en met krag te betuig dat dit Hy is wat deur God bestem is as Regter van lewende en dode.” HANDELINGE 10:42 AFR53


Die groot wit troon moet nie verwar word met die Regterstoel van Christus nie.


“Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.” II KORINTHIËRS 5:10 AFR53


Gelowiges word beoordeel na die Wegraping, gedurende die sewe jaar Verdrukking en voor die Millenium. Elke gelowige sal belonings ontvang volgens wat hy of sy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit goed was of kwaad.


“Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees.” ROMEINE 8:1 AFR5

 

19 Februarie 2021


OPENBARING 20:12 AFR53

En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.


Johannes sien die dode, klein en groot, voor God staan. Alle ongelowiges, klein en groot, van die begin tot die einde van tyd, staan nou voor God. Johannes sien ook die boeke (meervoud) wat geopen is en hy noem spesifiek die boek van die lewe. Dit is die boek waar al die gelowiges se name ingeskryf is.


“Ja, ek vra jou ook, getroue medewerker, wees hierdie vroue behulpsaam. Hulle het saam met my die stryd gevoer in diens van die evangelie, net soos Klemens ook en my ander medewerkers, wie se name in die boek van die lewe staan.” FILIPPENSE 4:3 AFR83


‘n Christen word nie op sy werke geoordeel nie. Die Bybel leer ons: uit genade is ons gered, deur geloof, die redding is ‘n gawe van God. Ons werke gaan slegs vir ons verskillende krone beteken wanneer ons reeds in die hemel is.


“Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God.” EFESIËRS 2:8 AFR83


Ongelowiges aan die ander kant kry nie Jesus se genade nie, maar hulle word geoordeel volgens hul werke wat in die boeke opgeskryf is.

 

20 Februarie 2021


OPENBARING 20:13 AFR53

En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke.


Waar kom al die dode vandaan wat Johannes sien? Waar was hul al die tyd? Eers moet ons kyk wat gebeur wanneer ‘n persoon sterf. ‘n Mens bestaan uit ‘n gees, ‘n siel en ‘n liggaam.


Ons gees en siel leef vir ewig, terwyl ons liggaam tydelik en sterflik is. Wanneer ons sterf, sterf ons liggaam en keer na stof terug, maar ons siel en gees leef voort in een van twee toestande.


Vir heiliges is die bestemming van ons siel troos, en die presiese ligging wissel afhangende van wanneer ons in die geskiedenis gesterf het. Voor Christus het gelowiges na Abraham se Boesem gegaan om op die Messias se koms te wag. Nadat Christus gesterf het en die gevangenes vrygelaat het, gaan die siel van ‘n gelowige direk hemel toe om by Jesus te wees.


In die eerste opstanding ontvang gelowiges van alle tye nuwe liggame en is hulle vir ewig by Jesus, maar vir ongelowiges was en is die bestemming van hul siel nog altyd dieselfde plek: marteling in die doderyk (of die hel), gevolg deur die poel van vuur.


In vers 13 kry ons die plekke waar hierdie dooies opgewek sal word. Die dood en die doderyk gee hul dode wat elke ongelowige persoon sedert Kain se tyd verteenwoordig.


Die see gee ook sy dooies op, en dit is die plek (die afgrond) waar die demone of goddelose engele opgesluit word. Die afgrond is vir demone gereserveer, maar die dood en die doderyk is gereserveer vir mense.


Elkeen van die dode word geoordel, elkeen volgens sy werke.

 

21 Februarie 2021


OPENBARING 20:14 AFR53

En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.


Nadat die dode wat van die dood en doderyk kom geoordeel is, word elkeen in die poel van vuur gewerp om vir ewig saam met die Satan, die dier en valse profeet gepynig te word.


Dit is die tweede dood, wanneer jou siel van God geskei word!

 

22 Februarie 2021


OPENBARING 20:15 AFR53

En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.


Die mense wie se name nie in die boek van die lewe is nie, hulle eindbestemming is die poel van vuur.


“Laat hulle uitgedelg word uit die boek van die lewe en nie saam met die regverdiges opgeskrywe word nie.” PSALMS 69:29 AFR53


“Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie. En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.” JOHANNES 3:18-19 AFR53

88 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page