top of page
  • Regina Torre

Openbaring 19

Updated: Jan 29, 2023


1 Januarie 2021


OPENBARING 19:1 AFR53

“En ná hierdie dinge het ek iets soos ‘n groot stem van ‘n groot menigte in die hemel gehoor wat sê: Halleluja, die heil en die heerlikheid en die eer en die krag aan die Here onse God!


En na hierdie dinge – na die val van die een wêreld geloof, en die val van Babilon – hoor Johannes ‘n groot stem van ‘n groot menigte in die hemel. Nie net een stem nie maar die stem van ‘n groot menigte wat in die hemel is.


Halleluja! Hierdie hoofstuk open met vier halleluja’s in teenstelling met die trane van die vorige hoofstuk omdat die groot stad Babilon vernietig is. Die woord halleluja verskyn 24 keer in die Ou Testament boek Psalms, maar verskyn net 4 keer in die Nuwe Testament, en al vier die kere is in hierdie hoofstuk.


Halleluja bestaan in Hebreeus uit twee woorde.

Hallel = Loof, prys;

uja is die verkorting van Yahweh = Here.

Dus, die betekenis van halleluja = Loof die Here!


Loof die Here, want die heil en die heerlikheid en die eer en die krag behoort aan die Here onse God!

 

2 Januarie 2021


OPENBARING 19:2 AFR53

Want sy oordele is waaragtig en regverdig; want Hy het die groot hoer geoordeel wat die aarde met haar hoerery verderf het, en Hy het die bloed van sy diensknegte op haar gewreek.


Hoekom? Hoekom moet ons die Here loof?

1. Want Sy oordele is waaragtig en regverdig!

2. Die Here het die groot hoer wat die aarde met haar hoerery verderf het, geoordeel; en

3. Die Here het die bloed van sy diensknegte op haar (die groot hoer) gewreek!

 

3 Januarie 2021


OPENBARING 19:3 AFR53

En vir die tweede maal het hulle gesê: Halleluja! En haar rook gaan op tot in alle ewigheid.


Die tweede halleluja word uitgeroep omdat Babilon vernietig is. Die rook wat opgaan uit die stad beklemtoon dat die stad totaal vernietig is.


Babilon was dwaas, en haar dwaasheid het gelei tot haar oordeel. Kyk na die twee waarskuwings van Jesus.


“En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.” LUKAS 12:15 AFR53


“Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees? So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.” LUKAS 12:20-21 AFR53

 

4 Januarie 2021


OPENBARING 19:4 AFR53

En die vier-en-twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het neergeval en God aanbid wat op die troon sit, en gesê: Amen, Halleluja!


Die derde halleluja word deur twee groepe uitgeroep, en ons het hulle in hoofstuk 4 ontmoet.

– Die vier en twintig ouderlinge, en

– Die vier lewende wesens.


Hulle almal val neer en aanbid God wat op die troon sit, en sê: Halleluja

 

5 Januarie 2021


OPENBARING 19:5 AFR53

En ‘n stem het uit die troon uitgegaan en gesê: Prys onse God, al sy diensknegte, en julle wat Hom vrees, klein en groot!


Die stem wat uit die troon uitgaan gee ‘n bevel. Al die diensknegte van God, en almal wat God vrees, klein en groot, moet God prys! Die klem hier is op ALMAL!


Die woord dienskneg in die vers is die Griekse woord douloi en beteken soos die vers hieronder verduidelik, slawe (vrywillige slawe) van Christus. Hierdie is ‘n omskrywing van ons as Christene, en net nog ‘n bewys dat ons reeds in die hemel is saam met Jesus en voor Jesus se tweede koms.


“Want die slaaf wat in die Here geroep is, is ‘n vrygemaakte van die Here; so is ook hy wat as vryman geroep is, ‘n slaaf van Christus.” I KORINTHIËRS 7:22 AFR53

 

6 Januarie 2021


OPENBARING 19:6 AFR53

En ek het iets gehoor soos die stem van ‘n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar.


Johannes hoor stemme en geluide in die hemel met die vierde halleluja en dit klink soos:

– die stem van ‘n groot menigte,

– die geluid van baie waters, en

– die geluid van sterk donderslae!


In die hemel word verklaar dat die Here God, die Almagtige, Sy koninskap aanvaar!


Hiermee word die profesieë vervul wat deur die Ou Testament profete uitgespreek is, en waar an hier twee voorbeelde is:


“Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land. In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.” JEREMIA 23:5-6 AFR53


“Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors —”. JESAJA 9:5 AFR53

 

7 Januarie 2021


OPENBARING 19:7 AFR53

Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.


Ons word vertel om bly te wees, om ons te verheug en aan Hom, Jesus, heerlikheid te gee.


Ons, die kerk, was weggerraap as die bruid van die bruidegom Jesus, maar nou word ons gereed gemaak as die vrou van die Lam.


Om te verstaan wat hier gebeur kyk ons weer na die Joodse huwelik.

  • Bruidegom reis na gewenste bruid se huis – Mense leer van Jesus en Sy verlossing

  • Huweliksaanbod word aanvaar of verwerp – Mense aanvaar of verwerp Jesus se verlossing.

  • Betaal ‘n duur prys vir die bruid – Jesus sterf aan die kruis vir ons sondes.

  • Huwelikskontrak / wettig afdwingbare kontrak – Wanneer ons Jesus aanvaar word ons die kerk of anders gestel die bruid van Jesus. Die Nuwe Testament is die kontrak.

  • Bruidegom keer terug na sy vader se huis om sy eie huis te bou – Jesus vaar op na die hemel na Sy Vader se huis om vir ons ‘n plek voor te berei.

  • Vader stuur seun terug om bruid te kry wanneer die huis gereed is – God alleen weet wanneer Hy Jesus gaan terugstuur om ons te kom haal.

  • Die strooijonker kondig die bruidegom se koms aan – Die stem van die aartsengel en die klank van die basuin

  • Die bruid word onmiddelik deur die bruidegom weggevoer na die huis wat hy gebou het – Die kerk / bruid van Jesus word Weggeraap na die plek wat Jesus voorberei het by Sy Vader se huis.

  • Die bruidspaar is vir sewe dae in die bruidskamer – Die kerk is in die hemel gedurende die sewe jaar Verdrukking

  • Die bruilofsmaal van die Lam vind plaas aan die einde van die sewe dae – Die kerk is teenwoordig vir die bruilof en die bruilofsmaal van die Lam na die sewe jaar Verdrukking.

 

8 Januarie 2021


OPENBARING 19:8 AFR53

En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.


Aan haar, die vrou van die Lam, is gegee klere van rein en blink fyn linne, en die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.


Wat is regverdige dade? Dit is die goeie werke wat ons op aarde gedoen het. Die werke het ons nie in die hemel gekry nie, nee, net geloof in Jesus kan dit doen.


“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” EFÉSIËRS 2:8-10 AFR53


Die wat in Jesus glo, is geskape om goeie werke te doen, en dié werke gaan beoordeel word.


“Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.” II KORINTHIËRS 5:10 AFR53


“Verbly en verheug julle omdat julle loon groot is in die hemele; want so het hulle die profete vervolg wat voor julle gewees het.” MATTHÉÜS 5:12 AFR53

 

9 Januarie 2021


OPENBARING 19:9 AFR53

Toe sê hy vir my: Skryf — salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God.


Die engel sê vir Johannes om die waaragtige woorde van God neer te skryf.


Salig of geseënd is die mense wat uitgenooi is na die bruilofsmaal. Ons het reeds bepaal dat die kerk, die bruid is by die bruilofsmaal, so wie is die gaste wat genooi is?


Die gaste, die ander mense wat in die hemel is, maar wat nie die kerk is nie, moet die volgende groepe wees. Die Ou Testament heiliges van Adam tot Johannes die Doper, en die Heiliges wat uit die Verdrukking tydperk kom. Die twee groepe het nog nie hul verheerlikte liggame ontvang nie.

 

10 Januarie 2021


OPENBARING 19:10 AFR53

En ek het voor sy voete neergeval om hom te aanbid; maar hy het vir my gesê: Moenie! Ek is ‘n mededienskneg van jou en van jou broeders wat die getuienis van Jesus het. Aanbid God. Want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie.


Johannes is so oorweldig deur wat hy sien dat hy neerval voor die engel wat met hom praat om hom te aanbid. Die engel is egter baie gou om Johannes reg te help. Moenie, sê die engel, ek is ‘n mededienskneg van jou en van jou broeders, en het ook die getuienis van Jesus.


Aanbid God !!!


Jesus deur Sy gees is die bron van die openbaring en die engel is slegs die boodskapper.

 

11 Januarie 2021


OPENBARING 19:11 AFR53

Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.


Johannes sien hoe die hemel oopmaak, en Jesus vertel in Mattheus al vir ons wat die mense op aarde gaan sien. Die aarde gaan donker wees want die son word verduister, die maan het geen glans en die sterre val en dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn.


“En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.” MATTHÉÜS 24:29-30 AFR53


Vêrder sien Johannes ‘n wit perd. Die tweede wit perd van die boek Openbaring wat vir ons aandui dat die wit perd simbolies is van ‘n regeerder. In die begin van die boek was dit Satan, maar nou is dit Hy wat genoem word Getrou en Waaragtig.


Jesaja het in die Ou Testament al geprofeteer oor Jesus se doel met Sy eerste en tweede koms.


Jesus se eerste koms was om ‘n blye boodskap te bring, die gebrokenes van hart te help en die gevangenes vry te laat, maar Jesus se tweede koms het heeltemal ‘n ander doelwit. Jesus se tweede koms word beskryf as die dag van wraak van onse God om al die treurendes te troos.


“Die Gees van die Here Here is op My, omdat die Here My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van die Here

en ‘n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos;”. JESAJA 61:1-2 AFR53

 

12 Januarie 2021


OPENBARING 19:12 AFR53

En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self.


Johannes gebruik dieselfde omskrywing van Jesus as wat ons in Openbaring 1 gesien het, met Jesus se oë wat lyk soos ‘n vuurvlam.


“Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ‘n vuurvlam,” OPENBARING 1:14 AFR53


Op Jesus se hoof was baie krone. Die krone is diadems (koninklike gesag) en nie stephanos (wedstryd wen) krone nie.


“En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.” MATTHÉÜS 28:18 AFR53


Jesus se Naam ken net Hyself, ons word vertel dat niemand die naam ken nie.

 

13 Januarie 2021


OPENBARING 16:12 AFR53

“En die sesde engel het sy skaal uitgegooi op die groot rivier, die Eufraat, en sy water het opgedroog, sodat die pad van die konings wat van die ooste af kom, reggemaak kon word.”


Openbaring 19 gee vir ons Jesus se tweede koms uit ‘n hemelse oogpunt. Ek wil net meer inligting gee en kyk wat gebeur terselfdetyd op die aarde. So ons gaan ‘n ompad loop deur die boeke van die Bybel en later terugkom na Openbaring hoofstuk 19.


Die sesde skaal droog die Eufraatrivier op en sodoende lok God die Antichris en sy magte om van Babilon in die Ooste, na Jerusalem in die Weste te beweeg, tot by die laagte van Jisreël. Hierdie laagte staan ook bekend as die vallei van Megiddo wat ons nou ken as Armageddon.



Hierdie is die eerste fase van die oorlog van Armageddon

 

14 Januarie 2021


OPENBARING 18:21 AFR53

“En een sterk engel het ‘n klip opgetel soos ‘n groot meulsteen en dit in die see gegooi en gesê: So, met ‘n vaart, sal Babilon, die groot stad, neergegooi word en nooit meer gevind word nie.”


Terwyl hulle, die Antichris en sy magte, in die Jisreëlvallei versamel is, begin die tweede fase van die oorlog van Armageddon in die stad Babilon.


Na die inval, bring die Here die laaste oordeel oor die stad, en verminder dit tot as en vernietig die indringers. Met die geliefde stad van die Antichris nou in puin, het hy geen ander keuse as om voort te gaan om Jerusalem in te val nie – presies volgens God plan!

 

15 Januarie 2021


DANIËL 11:41 AFR53

“Hy sal ook kom in die Pragtige Land, en baie sal struikel; maar hierdie volke sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon.”


Die volgende fase van Armageddon vind plaas in Israel en Daniël bevestig dat die Antichris die Pragtige Land inval en baie struikel. Ons lees vêrder dat drie volke uit sy hande gered sal word: Edom, Moab en Ammon.


Hierdie is die antieke name vir ongeveer dieselfde streek, die hedendaagse Jordanië, ‘n strook grond oos van die Jordaanrivier wat ook die streek Bosra insluit.


Ons het in Openbaring 12 geleer dat die Jode wat Jesus as Verlosser aanvaar het, beskerming kry gedurende die tweede helfte van die Verdrukking en wel in Bosra, of soos ons dit vandag ken as Petra.


“maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ‘n tyd en tye en ‘n halwe tyd.” OPENBARING 12:14 AFR53

 

16 Januarie 2021


SAGARÍA 13:8-9 AFR53

“En in die ganse land, spreek die Here — twee-derdes sal daarin uitgeroei word, sal sterwe, maar een-derde daarin oorbly. Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos ‘n mens silwer smelt en hulle toets soos ‘n mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die Here, my God!”


Die laaste van die ongelowige Jode op aarde is in Jerusalem, en met die Antichris se inval in Jerusalem, word twee derdes van die Joodse volk uitgeroei. Hierdie is die tyd wat genoem word die benoudheid vir Jakob of in engels ‘the time of Jacob’s trouble’


“Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word.” JEREMIA 30:7 AFR53


Die derde van die volk wat oorbly word deur God getoets soos ‘n mens goud toets en hulle aanvaar Jesus, elkeen individueel en almal as ‘n nasie, net soos Sagaria in die Ou Testament geprofeteer het.


“Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind.” SAGARÍA 12:10 AFR53

 

17 Januarie 2021


ROMEINE 11:25-27 AFR53

“Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem.”


Paulus leer vir ons in die vers ‘n verborgenheid of ‘n geheim wat nie voorheen bekend was nie. Hy leer dit vir ons sodat ons nie eiewys mag wees nie. Israel se verharding om Jesus nie as Verlosser te aanvaar nie, is net daar vir ‘n tydperk. Die tydperk kom tot ‘n einde wanneer die volheid van die heidene ingegaan het.


Wat sou dit beteken? Tien dae na Jesus opgevaar het na die hemel is die Heilige Gees uitgestort en ‘n nuwe groep mense het uit die heidene ontstaan, naamlik die Christene of die kerk. Die kerk is dus die ‘heidene’ waarvan Paulus hier praat – in Engels klink dit beter want daar word na ons verwys as Gentiles.


Die volheid van die heidene gebeur wanner die laaste heiden persoon op aarde Jesus as Verlosser aanvaar, en ons dan weggeraap word. Dan sal die hele Israel gered word. Wanneer Israel as ‘n nasie dus Jesus as Verlosser aanvaar, dan sal Jesus vir die tweede keer terugkom en die goddelooshede van Jakob afwend, of anders gestel Sy volk Israel kom red.

 

18 Januarie 2021


MIGA 2:12-13 AFR53

“Gewis sal Ek jou geheel en al versamel, o Jakob! Gewis sal Ek vergader die oorblyfsel van Israel; almal bymekaarbring soos skape in ‘n kraal, soos ‘n kudde in sy weiveld; en dit sal dreun van mense. Die deurbreker sal optrek voor hulle uit: hulle sal deurbreek en deur die poort intrek en daardeur uittrek; en hulle koning sal voor hulle uit gaan, en die Here heeltemal vooraan.”


Net soos die Israeliete van ouds wat uit Egipteland uit die slawehuis uitgetrek het en in die woestyn geskuil het terwyl God gesorg het vir manna uit die hemel, so gaan God weer Sy volk op arendsvlerke na die woestyn bring om vir hulle te sorg vir ‘n tydperk van tyd, tye en ‘n halwe tyd.


Ons weet nou die plek waar God se volk gaan skuil is die dorp Petra (Bosra) in die suide van Jordanië.


Miga vers 13 gee nou vir ons wat gebeur met die gelowige Jode aan die einde van die Verdrukking. Die deurbreker (Jesus) sal voor hulle optrek en deur die poort (van Petra), eers intrek (in die middel van die Verdrukking) en dan daardeur trek met Jesus se tweede koms.


Hulle koning (Jesus) sal voor hulle uitgaan, en die Here heeltemal vooraan.

 

19 Januarie 2021


OPENBARING 19:13 AFR53

En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God.


Jesus is bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop is. Hierdie is nie die bloed van Jesus se kruis nie, nee, hierdie is die bloed van Jesus se vyande. Jesaja verduidelik vir ons in hoofstuk 63 wat gebeur. Met Jesus se tweede koms is Sy eerste stop in Bosra (Petra) waar Sy volk (die Joodse volk) beskerm word, en Jesus se oordeel begin hier. Van hier af is Jesus se volgende stop, Jerusalem.


“Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag? Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos. Waarom is u gewaad so rooi, en u klere soos dié van een wat die wynpers trap? Ek het die pers alleen getrap, en van die volke was niemand by My nie; en Ek het hulle getrap in my toorn en hulle vertrap in my grimmigheid, sodat hulle lewensap op my klere gespat en Ek my hele gewaad bevlek het. Want die dag van wraak was in my hart, en die jaar van my verlossing het gekom. ” JESAJA 63:1-4 AFR53


Alhoewel Jesus ‘n nuwe naam kry wat niemand ken nie, sal Hy nog steeds genoem word:

Die Woord van God.

 

20 Januarie 2021


OPENBARING 19:14 AFR53

En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne.


Die leërs in die hemel bekleed met wit en rein fyn linne, volg Jesus op wit perde. Wie is die weermag wat bekleed is met wit en fyn linne. Ons het in vers 8 gesien dat die vrou van Jesus wat vir die bruilofsmaal gereed gemaak is die wit en rein fyn linne dra. Vêrder het ons bepaal dat dié groep die kerk is wat weggeraap is.


Hier dus kom Jesus, nie in die lug om Sy mense te kom haal nie, maar Jesus kom terug aarde toe gevolg deur Sy leër, om Sy vyande te oorwin.


Ons vergesel ons Verlosser en Koning in sy triomfantelike terugkeer om te regeer, en hoewel ons ‘n leër genoem word, neem ons nie deel aan die geveg nie.

 

21 Januarie 2021


OPENBARING 19:15 AFR53

En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.


Jesus kom terug aarde toe, voorbereid vir die geveg en om as Koning te regeer. Heeltemal die teenoorgestelde van Sy eerste koms waar Sy doelwit was om redding te verkondig en om barmhartigheid en vergifnis te betoon. Jesus se wederkoms sal wees om te oordeel en om te regeer.


“…………. maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak.” JESAJA 11:4b AFR53


“en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak,” II THESSALONICENSE 2:8 AFR53


“U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot.” PSALMS 2:9 AFR53

 

22 Januarie 2021


OPENBARING 19:16 AFR53

En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.


Jesaja gee vir ons ‘n profesie wat begin by Jesus se geboorte en eindig by Jesus se Koningskap, alles vervat in een klein sin.


“Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors —”. JESAJA 9:5 AFR53


Niemand op die aarde of in die hemel sal ooit weer Jesus se heerskappy betwis nie, want alle gesag sal voor Hom neerbuig.


“Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.” FILIPPENSE 2:9-11 AFR53


Jesus sit op Sy wit perd, en almal sien Hom in die geopende hemel, en vêrder sien hulle die woorde op Sy klere: Koning van konings en die Here van die here!

 

23 Januarie 2021


SAGARÍA 14:2-3 AFR53

“Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie. En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog.”


Hierdie vers gee vir ons ‘n beknopte opsomming om die groot prentjie te sien uit Jerusalem se oogpunt.

– Die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem.

– die stad (Jerusalem) word ingeneem, die huise word geplunder, en die vroue word onteer.

– die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap (die gelowige Jode wat in Petra skuil)

– die orige gedeelte van die bevolking sal nie uitgeroei word nie (die ongelowige Jode wat agterbly)


Die orige gedeelte of anders gestel, die hele Israel, aanvaar Jesus as Verlosser en roep uit na Jesus om hulle te kom red!


“en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend;”. ROMEINE 11:26 AFR53


Nadat Jesus in Petra die gelowige Jode versamel het, is Sy volgende stop Jerusalem om die stryd te voer teen die nasies – die dag van die oorlog het aangebreek!

 

24 Januarie 2021


SAGARÍA 14:4-5 AFR53

“En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide.


En julle sal vlug in die dal van my berge — want die dal van die berge sal loop tot by Asal — en julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussía, die koning van Juda. Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!”


Jesus arriveer in Jerusalem saam met al die heiliges en staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê. Ons het nou vir Jesus aan die ooste, die Antichris aan die weste en Jerusalem in die middel tussen hulle.


Jesus verander nou die landskap met ‘n aardbewing en die Olyfberg skeur middeldeur, die een helfte noorwaards en die ander helfte suidwaarts met ‘n dal wat tussenin vorm.


Dan sal die Jode in Jerusalem vlug in die dal wat gevorm is in die rigting van Jesus in die ooste. Hierdie laat ons terugdink aan Moses toe hy die water gekloof het om na links en na regs oop te maak sodat die Israeliete veilig kon deurbeweeg.

 

25 Januarie 2021


OPENBARING 19:17 AFR53

En ek het een engel sien staan in die son; en hy het met ‘n groot stem uitgeroep en vir al die voëls gesê wat in die middel van die lug vlieg: Kom hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God,


Johannes sien ‘n engel wat in die son staan. Uit ‘n hemelse oogpunt kyk ons nou af op wat op die aarde gebeur. Die engel roep al die voëls in die middel van die lug om hulle te versamel.


Hulle moet versamel want daar wag ‘n groot maaltyd vir hulle, ‘n maaltyd wat deur God voorberei gaan word.


Esegiel het ook die maaltyd vooruit gesien.


“En jy, mensekind, so spreek die Here Here: Sê vir die voëls van allerhande vere en vir al die wilde diere van die veld: Kom bymekaar en kom aan, versamel julle van alle kante by my slagoffer wat Ek vir julle slag, ‘n groot slagoffer op die berge van Israel; en eet vlees en drink bloed! Vlees van die helde sal julle eet en bloed van die vorste van die aarde drink — ramme, lammers en bokke en stiere, vetgemaakte diere van Basan almal saam — vet sal julle eet totdat julle versadig is, en bloed drink totdat julle dronk is, van my slagoffer wat Ek vir julle geslag het.” ESÉGIËL 39:17-19 AFR53

 

26 Januarie 2021


OPENBARING 19:18 AFR53

dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot.


Die maaltyd se spyskaart word mooi uiteengesit.


Die voëls se maaltyd bestaan uit die vlees van die volgende:

– konings

– owerstes oor duisend

– sterkes

– perde en die wat daarop sit

– almal, vrymense sowel as slawe

– klein sowel as groot.

 

27 Januarie 2021


OPENBARING 19:19 AFR53

En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër.


Die mense wie se vlees deel gaan uitmaak van die voëls se spyskaart is almal versamel om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit en teen Sy leër.


Johannes sien die dier, die konings van die aarde en hulle leërs wat gereed is om oorlog te voer teen Jesus en Sy leërs.

 

28 Januarie 2021


OPENBARING 19:20 AFR53

En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand.


Die dier en die valse profeet, twee van die onheilige drie-enigheid, word gevange geneem.


Die valse profeet is die een wat tekens in die teenwoordigheid van die dier gedoen het. Hierdie tekens het die mense wat die dier se merk gekry het verlei en die mense daartoe gelei om die dier se beeld te aanbid.


Die dier en die valse profeet se beloning vir hul onheilige werk is om lewend in die vuurpoel gegooi te word waar hul tot in alle ewigheid met swawel verbrand en gepynig gaan word.


“En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.” OPENBARING 20:10 AFR53

 

29 Januarie 2021


OPENBARING 19:21 AFR53

En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees.”


Die ander, die wat saam kom oorlog voer het, is gedood met die swaard wat uit Jesus se mond uitgaan, en die voëls is versadig geët aan hul vlees.


“Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.” HEBREËRS 4:12 AFR53


“en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen” II THESSALONICENSE 2:8-9 AFR53

11 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page