top of page
  • Regina Torre

Openbaring 18

Updated: Jan 29, 2023


17 November 2020


OPENBARING 18:1 AFR53

“En ná hierdie dinge het ek ‘n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid.


En na hierdie dinge – watter dinge? Na die sewe skale van hoofstuk 16.


Die vorige hoofstuk (17) was ‘n tussenpose om vir ons ‘n oorsig te gee van die vals godsdienste wat deur al die tydperke en veral die Groot Verdrukking tydperk die mense van die aarde in haar mag het.


Na hierdie dinge (die sewe skale) sien Johannes ‘n engel wat neerdaal uit die hemel en die aarde verlig met sy heerlikheid.

 

18 November 2020


OPENBARING 18:2 AFR53

En hy het met ‘n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ‘n woonplek van duiwels en ‘n versamelplek van allerhande onreine geeste en ‘n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls,


Babel of Babilon, die hoofstad van Satan, het sy onstaan in Genesis 10 en 11 en die eerste heerser van die ryk was Nimrod.


“Hy was ‘n geweldige jagter voor die aangesig van die Here. Daarom sê hulle: Soos Nimrod, ‘n geweldige jagter voor die aangesig van die Here. En die begin van sy ryk was Babel en Ereg en Akkad en Kalne in die land Sínear.” GÉNESIS 10:9-10 AFR53


Nimrod was koning van die eerste eenwêreld koninkryk, en die hele aarde het dieselfde taal gepraat.


“En die Here sê: Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie.” GÉNESIS 11:6 AFR53


Nou, in die vers aan die einde van die Verdrukking tydperk, word Satan se hoofstad Babilon vernietig soos vele profete deur die loop van die Bybel geprofeteer het.


“So sal dan Babel, die sieraad van die koninkryke, die trotse pronkstuk van die Chaldeërs, wees soos toe God Sodom en Gomorra omgekeer het.” JESAJA 13:19 AFR53

 

19 November 2020


OPENBARING 18:3 AFR53

omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid.


Hierdie vers gee vir ons drie aanklagtes teen die stad Babilon,


Die stad het ‘n korrupte invloed op die wêreld van daardie dag … spesifiek die wêreld se aanbidding van die dier.


Babilon is die setel van mag van al die korrupte konings wat op die stadium heers.


Die handelaars van die wêreld trek ook voordeel uit die Antichris se heerskappy in Babilon want die Antichris reguleer alle handel volgens die merk van die dier. Sy materiële rykdom en finansiële beheer word ‘n ander manier om mense te onderdruk en te beheer.

 

20 November 2020


OPENBARING 18:4 AFR53

En ek het ‘n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.


Daar is ‘n beginsel in die Bybel dat wanneer God Sy oordeel uitstort, Hy diegene wat aan Hom behoort, beskerm.


“die Here weet om die godsaliges uit versoeking te verlos en die onregverdiges te bewaar vir die dag van oordeel om gestraf te word;” II PETRUS 2:9 AFR53


Nou hoor Johannes ‘n stem in die hemel wat ‘n waarskuwing gee aan God se volk wat in die stad Babilon is. Gaan uit haar uit, sodat julle nie deel is van die stad se sondes nie, en dan ook nie die stad se straf ontvang nie.


Hierdie waarskuwing laat ons dink aan God se waarskuwing vir aan Lot en sy vrou en kinders.


“En toe die dag begin breek, het die engele by Lot aangedring en gesê: Maak jou klaar, neem jou vrou en jou twee dogters wat by jou is, dat jy weens die ongeregtigheid van die stad nie omkom nie.” GÉNESIS 19:15 AFR53

 

21 November 2020


OPENBARING 18:5 AFR53

Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou.


Genesis 11 vertel die verhaal van die toring van Babel waar die mense bakstene uit grond en klei gemaak het uit protes teen God se vloed, om ‘n toring te bou wat tot aan die hemel sou reik.


“En hulle sê: Kom, laat ons vir ons ‘n stad bou en ‘n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ‘n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie.” GÉNESIS 11:4 AFR53


Net soos die toring se spits in Genesis tot aan die hemel sou reik, so reik die mense se sondes tot aan die hemel in Openbaring.


Die vers sê vir ons dat God haar of Babilon se sondes onthou, dus die opgehoopte sondes vanaf Genesis regdeur tot en met die eindtye waar Babilon nou finaal deur God vernietig word.

 

22 November 2020


OPENBARING 18:6 AFR53

Vergeld haar soos sy ook julle vergeld het, en verdubbel dit vir haar volgens haar werke. Skink vir haar dubbel in die beker waarin sy geskink het.


Die engel praat nog steeds hier en hy sê dat Babilon vergeld moet word soos sy Israel vergeld het. Verdubbel haar straf volgens haar werke!


Hier word nie meer gespeel nie, Babilon se straf word dubbel geskink in die beker van wraak.


Romeine leer vir ons dat die beloning vir sonde die dood is, en dit is presies wat Babilon nou hier ondervind, net in ‘n dubbel dosis.


“Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.” ROMEINE 6:23 AFR53

 

23 November 2020


OPENBARING 18:7 AFR53


Namate sy haarself verheerlik het en weelderig geleef het, na dié mate moet julle haar pyniging en droefheid aandoen. Omdat sy in haar hart sê: Ek sit as koningin en is geen weduwee nie, en droefheid sal ek nooit sien nie —


Die engel beskryf nog steeds hier hoe Babilon gestraf moet word. Daar moet gekyk word hoe die stad haarself verheerlik het en hoe weelderig sy geleef het en in dieselfde mate van haar weelde en haar verheerliking moet die stad gepynig word en droefheid aangedoen word.


Babilon se hoogmoed ken geen perke nie. Sy sit as koningin en nie as ‘n weduwee nie, sy sê dat sy nie droefheid sal sien nie. Die Bybel leer egter dat dit nie so werk nie, hoogmoed word altyd gevolg deur ondergang!


“Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val.” SPREUKE 16:18 AFR83

 

24 November 2020


OPENBARING 18:8 AFR53

daarom sal haar plae op een dag kom: dood en droefheid en honger; en met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel.


Hier leer ons hoe God die stad gaan vernietig. Babilon se val gaan vinnig gebeur – haar plae sal op een dag kom.


Dood, droefheid, honger en met vuur verbrand – so sal Babilon se oordeel wees, want sterk is die Here God wat haar oordeel!


Hierdie is nie die eerste stad wat God verwoes nie, ons lees in Genesis van Sodom en Gomorra wat ook met vuur verwoes is.


“Toe het die Here swael en vuur van Hom af, uit die hemel uit, laat reën op Sodom en Gomorra. En God het die stede en die hele vlakte verwoes en al hulle inwoners om die lewe gebring; selfs die plante in die omgewing is uitgeroei.” GENESIS 19:24-25 AFR83

 

25 November 2020


OPENBARING 18:9-10AFR53

En die konings van die aarde wat met haar gehoereer en weelderig geleef het, sal oor haar ween en oor haar weeklaag wanneer hulle die rook van haar verbranding sien, terwyl hulle ver weg staan uit vrees vir haar pyniging, en sê: Wee, wee jou, o groot stad Babilon, o sterk stad, want in een uur het jou oordeel gekom!


Die konings is die eerste van drie groepe mense wat ween en weeklaag oor die stad Babilon wat verwoes is. Die verwysing na ‘konings van die aarde’ dui op heersers wêreldwyd: konings, presidente, eerste ministers en diktators.


Hierdie politieke heersers het dit finansieel voordelig gevind om met Babilon saam te werk en die stad se ondergang veroorsaak ook hul eie finansiële ondergang.


Die konings is die eerste om te bevestig dat Babilon in een uur verwoes word.

 

26 November 2020


OPENBARING 18:11-14 AFR53

En die handelaars van die aarde sal ween en rou bedrywe oor haar, omdat niemand hulle koopware meer koop nie, koopware van goud en silwer en edelgesteente en pêrels en fyn linne en purper en sy en skarlaken; en allerhande geurige hout en allerhande voorwerpe van ivoor en allerhande voorwerpe van die kosbaarste hout en van koper en yster en marmer en kaneel en reukwerk en salf en wierook en wyn en olyfolie en fynmeel en koring en grootvee en skape; en van perde en waens en slawe en mensesiele. En die vrugte wat jou siel begeer, het van jou gewyk, en al die blinkende en die skitterende dinge het van jou gewyk, en jy sal dit nooit weer kry nie.


Die handelaars van die aarde is die tweede van die drie groepe mense wat ween en rou oor die stad se ondergang, want hul eie finansiële welstand word beinvloed. Niemand koop meer hul produkte nie. Wat is die mooi afrikaanse spreekwoord? As die armoede by die voordeur inkom, dan loop die liefde by die agterdeur uit – die handelaars voel die pyn!


‘n Lys van die produkte wat die handelaars nie meer kan verkoop nie word in groepe hier gelys:

  1. Goud, silwer, edelgesteentes en pêrels,

  2. Fyn linne en purper en sy en skarlaken,

  3. Hout, ivoor, koper, yster en marmer,

  4. Kaneel, reukwerk, salf en wierook,

  5. Wyn, olyfolie, fynmeel en koring,

  6. Groot vee, skape, perde en waens,

  7. Slawe en mensesiele,

  8. Vrugte wat jou siel begeer en

  9. Blinkende en skitterende dinge.

 

27 November 2020


OPENBARING 18:15-16 AFR53

Die handelaars in hierdie dinge, wat van haar ryk geword het, sal ver weg staan uit vrees vir haar pyniging, terwyl hulle ween en rou bedrywe en sê: Wee, wee die groot stad wat bekleed was met fyn linne en purper en skarlaken en versierd met goud en edelgesteente en pêrels, omdat in een uur soveel rykdom verwoes is!


Die handelaars van al die verskillende produkte staan ver weg uit vrees vir die stad se pyniging, terwyl hulle ween en rou! Die rouproses is nie net vir die stad nie, maar ook vir hul eie finansies wat daarmee heen is.


Die handelaars bevestig nou vir die tweede keer dat die stad in een uur verwoes word.


Hulle kyk met heimwee na die stad wat bekleed was met fyn linne, purper, skarlaken, goud, edelgesteentes en pêrels. Wee, wee die groot stad, omdat in een uur soveel rykdom en ook hul eie rykdom verwoes is!

 

28 November 2020


OPENBARING 18:17-19 AFR53

En elke stuurman en die hele menigte op die skepe, en die matrose en almal wat die see bevaar, het ver weg gaan staan en het uitgeroep toe hulle die rook van haar verbranding sien, en gesê: Watter stad is soos die groot stad?

En hulle het stof op hul hoofde gegooi en onder geween en weeklag uitgeroep en gesê: Wee, wee die groot stad waarin almal wat skepe op die see het, deur haar kostelike skatte ryk geword het; want dit is in een uur verwoes!


Die stuurmanne van die skepe, die matrose en almal wat die see bevaar is die derde groep mense wat ween en uitroep omdat Babilon verwoes word. Hulle staan almal ver weg en kyk na die rook wat opstyg uit die verbrande stad.


Hierdie groep het ook ryk geword deur haar kostelike skatte. Hulle gooi nou stof op hul hoofde omdat hul rou en ween want hul rydom word saam met die stad verwoes.

Die seevaarders bevestig vir die derde keer dat die stad in een uur verwoes word.

 

29 November 2020


OPENBARING 18:20-23aAFR53

Verbly jou oor haar, o hemel, en o heilige apostels en profete, omdat God julle oordeel aan haar voltrek het! En een sterk engel het ‘n klip opgetel soos ‘n groot meulsteen en dit in die see gegooi en gesê: So, met ‘n vaart, sal Babilon, die groot stad, neergegooi word en nooit meer gevind word nie. En die stem van siterspelers en sangers en fluitspelers en basuinblasers sal nooit meer in jou gehoor word nie, en geen kunstenaar van enige kuns sal ooit weer in jou gevind word nie, en die geluid van die meul sal nooit meer in jou gehoor word nie. En die lig van ‘n lamp sal nooit meer in jou skyn nie, en die stem van bruidegom en bruid sal nooit meer in jou gehoor word nie;


Vir die eerste keer in die boek Openbaring word daar aangesê om verheug te wees. Verbly jou oor Babilon want God het julle oordeel aan haar voltrek! 


‘n Sterk engel gooi ‘n klip so groot soos ‘n meulsteen met ‘n vaart in die see en sê: So, met ‘n vaart, sal Babilon die groot stad neergegooi word en nooit meer gevind word nie.


Nou gee die engel ‘n lys van goed wat nie meer in die stad gaan plaasvind nie:

– Die stem van siterspelers en sangers en fluitspelers en basuinspelers sal nooit meer gehoor word nie, – geen kunstenaar van enige kuns sal gevind word nie, – die geluid van die meul sal nooit meer gehoor word nie, –  die lig van ‘n lamp sal nie weer skyn nie – die stem van ‘n bruidegom en bruid sal nooit weer gehoor word nie

 

30 November 2020


OPENBARING 18:23b-24 AFR53

want jou handelaars was die grotes van die aarde; want deur jou towery is al die nasies verlei. En die bloed van profete en heiliges is in haar gevind, en van almal wat op die aarde gedood is.


Babilon die stad wat Satan se hoofstad was, is finaal vernietig.


Die stad wat die grootste handelaars gehad het is vernietig.


Die stad wat al die nasies van wêreld met towery verlei het is vernietig.


Die stad wat gevul was met die bloed van profete en heiliges en van almal wat op die aarde gedood is, is vernietig.


Geval, geval het die groot Babilon!

8 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page