top of page
  • Regina Torre

Openbaring 17

Updated: Jan 29, 2023



30 Oktober 2020 


OPENBARING 17:1 AFR53

“En een van die sewe engele met die sewe skale het gekom en met my gespreek en vir my gesê: Kom hierheen, ek sal jou toon die oordeel van die groot hoer wat op die baie waters sit,


Een van die sewe engele wat die sewe skale op die aarde uitgegooi het praat met Johannes en sê vir hom dat hy nog iets vir Johannes wil wys. Na die vreeslike vinnige pas van die sewe skale en hul uitwerking, staan ons nou weer terug vir ‘n geskiedenis les en ‘n ‘big picture’ verduideliking.


Die AFR53 vertaling kom kras voor met die gebruik van die woord ‘hoer’ in teenstelling met die AFR83 vertaling wat die woord ‘sedelose vrou’ gebruik. ‘n Beter op die oor woord is moontlik ‘prostituut’, maar al die woorde beteken nog steeds dieselfde: ‘n vrou wat seksueel losbandig is!


Die engel praat van die groot hoer – dus ‘n beskrywing in die oortreffende trap wat spreek vanself.


Die waters waarop sy sit word verder in die hoofstuk in vers 15 verduidelik – volke en menigtes en nasies en tale, dus al die bewoners van die wêreld.

 

31 Oktober 2020


OPENBARING 17:2 AFR53

met wie die konings van die aarde gehoereer het, en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery.


Die losbandige vrou in die hoofstuk is ‘n voorstelling van die nuwe wêreld godsdiens wat in die Verdrukking tydperk deur die vals profeet beoefen en afgedwing word.


Die wêreld godsdiens waar die dier aanbid word, word beoefen deur almal wat die dier en later sy merk aanneem.


Die konings van die aarde koop in om die dier te aanbid, en die bewoners van die aarde hou nie terug nie. Wêreldwyd aanvaar die mense die vals profeet se nuwe vals wêreld godsdiens met so ‘n oorgawe dat dit vergelyk word met mense wat dronk word van wyn.

In die Ou Testament word die mense wat ontrou word aan God vergelyk met ‘n vrou wat ‘n prostituut is.


“Hoerery en wyn en mos neem die hart weg. My volk raadpleeg sy hout, en sy staf moet hom die inligting gee; want ‘n gees van hoerery het hulle verlei, en deur hulle hoerery het hulle van hul God afvallig geword.” HOSÉA 4:11-12 AFR53

 

1 November 2020


OPENBARING 17:3 AFR53

En hy het my in die gees weggevoer na ‘n woestyn, en ek het ‘n vrou sien sit op ‘n skarlakenrooi dier, vol godslasterlike name, met sewe koppe en tien horings.


Johannes word deur die engel in die gees weggevoer na ‘n woestyn waar hy die volgende gesig sien. Hy sien ‘n vrou (die nuwe vals wêreld godsdiens) wat sit op ‘n skarlakenrooi dier (die Antichris) en natuurlik het die dier godslasterlike name.


“O die vrou wat owerspel bedrywe! Terwyl sy onder haar man staan, het sy vreemdes aangeneem.” ESÉGIËL 16:32 AFR53


Die dier het sewe koppe en tien horings. Die sewe koppe is sewe geskiedenis en toekoms tydperke en die tien horings is tien konings soos Daniel ons gewys het. Ons leer meer hiervan in die volgende verse.


Let op dat die vrou óp die dier sit. Die vrou of die nuwe vals wêreld godsdiens is dus op die stadium op die voorgrond en nie die dier of die Antichris nie.

 

2 November 2020


OPENBARING 17:4 AFR53

En die vrou was bekleed met purper en skarlaken en versierd met goud en kosbare stene en pêrels, en sy het in haar hand ‘n goue beker gehad, vol gruwels en die onreinheid van haar hoerery;


Die rol van die vrou in ‘n huweliks opset gee vir ons ‘n mooi uitbeelding van die simboliek in die hoofstuk. Net soos die bruid van Jesus ‘n simbool is van die Nuwe Testament kerk, en die vrou van God ‘n simbool is van die nasie Israel, so is die prostituut ’n simbool van die vals wêreld godsdiens van diegene wat wegdraai van God.


Die vrou is bekleed in die koninklike kleure van purper en skarlaken en is versier met duur goud en kosbare stene en pêrels. ‘n Vertoon van rykdom en mag!


Die goue beker blyk kosbaar te wees en aangenaam om te aanskou. Die goue beker is ook in gebruik as gereedskap in God se tempel. Hierdie een is egter ‘n namaaksel, gevul met afskuwelike dinge.


“Babel was in die hand van die Here ‘n goue beker wat die hele aarde dronk gemaak het; die nasies het van sy wyn gedrink; daarom het die nasies rasend geword.” JEREMIA 51:7 AFR53

 

3 November 2020


OPENBARING 17:5 AFR53

en op haar voorhoof was ‘n naam geskrywe: Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde.


Hier volg ‘n paar eienskappe van die vrou wat op die dier sit.


‘n Bybelse verborgenheid in die Nuwe Testament is iets wat vir die Ou Testament mense versteek was, maar in die Nuwe Testament geopenbaar word.


Babilon is van die vroegste tye al die hoofkwartiere van Satan – ons ken almal die verhaal van die toring van Babel!


Die moeder van die hoere toon dat sy nie alleen is nie, sy het kinders – ‘n nageslag. Sy kom van eeue terug en haar hoofdoel was en is om mense weg te draai van God.

 

4 November 2020


OPENBARING 17:6 AFR53

En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien.


Die vals kerk van die Verdrukking tydperk gaan help, of nee, gaan in beheer wees van die marteling van die gelowiges. Ons het geleer in vorige hoofstukke dat diegene wat Jesus gaan aanvaar in die Verdrukking tydperk gemartel gaan word en Johannes sien dit nou voor hom afspeel.


“Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.” OPENBARING 2:10 AFR53


“En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het.” OPENBARING 6:9 AFR53


“En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog ‘n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees.” OPENBARING 6:11 AFR53

 

5 November 2020


OPENBARING 17:7 AFR53

Toe sê die engel vir my: Waarom het jy jou verwonder? Ek sal jou die verborgenheid van die vrou vertel en van die dier met die sewe koppe en die tien horings, wat haar dra.


Die engel vra vir Johannes hoekom hy hom verwonder en vertel verder vir Johannes dat hy nou ‘n verduideliking gaan gee oor wat al die simbole en tekens van hierdie hoofstuk beteken.


Johannes gaan nou meer insig kry oor die verborgenheid van die volgende:

– die vrou, en – die dier met die sewe koppe en die tien horings.

 

6 November 2020


OPENBARING 17:8 AFR53

Die dier wat jy gesien het, was en is nie en sal uit die afgrond opkom en na die verderf vaar; en die bewoners van die aarde wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe geskryf is nie, sal hulle verwonder as hulle die dier sien wat was en nie is nie, alhoewel hy is.


Die dier wat jy gesien het – hierdie is die Antichris waarvan ons nou praat. Onthou in hoofstuk 13 het ons geleer dat een van die dier se koppe dodelik gewond was, en die wond is genees.


“En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was, en sy dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan. En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” OPENBARING 13:3-4 AFR53


Hierdie vers gee nou dieselfde feite net anders gestel.

– Wat was (lewendig)

– en is nie (dodelik gewond),

– alhoewel hy is (word genees)!


Die mense, die wie se name NIE in die boek van die lewe is NIE, bly verwonderd oor die dier.

 

7 November 2020


OPENBARING 17:9 AFR53

Hier kom die verstand wat wysheid het, te pas. Die sewe koppe is sewe berge waar die vrou op sit.


Die sewe koppe van die dier is sewe berge. Hierdie is regerings wat oor die hele wêreld van hul tyd geregeer het en word as volg geidentifiseer.


1. Egipte

Die eerste groot regering van die Ou Testament is die Egiptenare wat God se volk vir 400 jaar onderdruk het – “Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vierhonderd jaar lank.” GÉNESIS 15:13 AFR53


2. Assirië

Die Noordelike koninkryk van Israel regeer van 931 BC tot 722 BC. In al die tyd het die mense hul rug op God gekeer en as straf is hulle in twee sarsies deur Assirië aangeval en as krygsgevangenes wegvoer – “In die negende jaar van Hoséa het die koning van Assirië Samaría ingeneem en Israel in ballingskap weggevoer na Assirië en hulle laat woon in Halag en aan die Habor, die rivier van Gosan, en in die stede van Medië.” II KONINGS 17:6 AFR53

Daniel moet Nebukadneser se droom uitlê en wat hy sien is die verskillende koninkryke wat van hier af gaan heers tot en met die einde van tyd. Ons begin met die eerste drie tydperke:


3. Babilon – hoof van goud


4. Mede & Perse – bors en arms van silwer


5. Grieke – lendene van koper

“Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper,”. DANIËL 2:32 AFR53

Die Romeinse Ryk was aan bewind toe Jesus op aarde was en is nooit deur ‘n ander regeerder oorwin nie. Die Romeinse Ryk het stil stil verdwyn maar gaan weer aan die einde van tyd ‘n gedeelde heerskappy voer (yster en klei) met die groot doel om teen God te veg by Armageddon.


6. Rome 1 (verlede, bene van yster)


7. Rome 2 (toekoms, voete gedeeltelik yster en gedeeltelik klei)

“sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei.” DANIËL 2:33 AFR53

 

8 November 2020


OPENBARING 17:10 AFR53

En hulle is sewe konings: vyf het geval en een is; die ander een het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy ‘n kort tydjie bly.


Nou volg ‘n raaisel en die antwoord word gevind in die lys van regerings in die vorige vers. Ek lys die regerings weer om dit maklik te maak.


1) Egipte,

2) Assirië,

3) Babilon,

4) Mede & Perse,

5) Grieke,

6) Rome Verlede,

7) Rome Toekoms


Sewe Konings : Egipte tot Rome Toekoms (1 – 7)


Vyf het geval : Egipte tot Grieke (1 – 5)


Die een is : Rome verlede – Verlede vir ons, huidige tyd vir Johannes (6)


Die ander het nog nie gekom nie: Rome toekoms, ons wag ook nog (7)


Wanneer hy kom, kom hy vir ‘n kort tyd : Die sewe jaar Verdrukking tydperk!

 

9 November 2020


OPENBARING 17:11 AFR53

En die dier wat was en nie is nie, is self ook die agtste, en hy behoort by die sewe en gaan na die verderf.


Ons weet nou dat die dier wat was en nie is nie, dit is die Antichris homself. Hy behoort by die sewe, so hy het dieselfde eienskappe as die sewe en word hier die agtste genoem. In lyn met die raaisel van tevore is hy dus die agtste wêreld regering. Dit is dus die een wêreld regering waarvan jy al gehoor het wat gedurende die Verdrukking tydperk gaan regeer.


Daniel het ook die dier gesien in sy drome – hy verwys na hom as die vierde koninkryk.

Daniel se droom begin by Nebukadneser (Daniel se huidige tyd) en die vierde dier is Rome verlede en toekoms in een.


“Toe wou ek sekerheid verkry oor die vierde dier wat van al die ander verskillend was, buitengewoon vreeslik, met ystertande en met koperkloue, wat verslind, vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap het, DANIËL 7:19 AFR53


Só het hy gesê: Die vierde dier — die vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat verskil van al die koninkryke en die hele aarde sal verslind en dit sal vertrap en dit verbrysel. DANIËL 7:23 AFR53


En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ‘n tyd en tye en die helfte van ‘n tyd.” DANIËL 7:25 AFR53

 

10 November 2020


OPENBARING 17:12 AFR53

En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier.


Die tien horings is tien toekomstige regeerders want hulle het nog nie hul koningskap ontvang nie. Die konings was toekomstig vir Johannes en hulle is toekomstig vir ons ook.


Dit gaan of die wêreld wees wat in tien verskillende streke opgedeel gaan word, of tien persone wat elkeen vir ‘n tydperk gaan regeer, of iets heeltemal anders – ons weet nie!


Wat ons wel weet is dat hul saam met die dier gaan regeer.

 

11 November 2020


OPENBARING 17:13 AFR53

Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier.


Die tien regeerders het een gesindheid, hulle dink dus almal dieselfde en het dieselfde doel voor oë. Hulle sal hul mag en krag aan die dier oorgee nadat hulle elkeen hul beurt gehad het om te regeer. Daniel het ook die Antichris met die tien regeerders gesien.


“Daarna het ek in die naggesigte gesien, en kyk, daar was ‘n vierde dier, vreeslik en skrikwekkend en baie sterk, en dit het groot ystertande gehad; dit het verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap; en dit was verskillend van al die diere wat voor hom gewees het, en dit het tien horings gehad.” DANIËL 7:7 AFR53

 

12 November 2020


OPENBARING 17:14 AFR53

Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin — want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings — en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou.


Hierdie vers is so positief vir elke Christen, want ons wen die oorlog en wie wil nie aan die wenkant wees nie.


Die Antichris en sy konings voer oorlog teen die Lam, en die Lam sal hulle oorwin!


Hoekom? Want, Jesus is die Here van die here en die Koning van die konings!!


Ons wat saam met Jesus is, oorwin ook. Ons wat die voorreg het om geroep te wees, uitverkore is en getrou gebly het aan God.

 

13 November 2020


OPENBARING 17:15 AFR53

En hy sê vir my: Die waters wat jy gesien het, waar die hoer op sit, is volke en menigtes en nasies en tale.


Vers 1 van die hoofstuk het gesê dat die engel ons gaan vertel van die oordeel van die groot hoer wat op baie waters sit. Die waters word hier verduidelik as volke, menigtes en nasies en tale.


Dan verder sit die hoer ook op ‘n dier. Die dier gee vir ons die ‘gentile’ tydperke van Egipte tot die Groot Verdrukking.


As ons die hoofstuk vinnig opsom, dan sien ons dat die hoer ‘n voorstelling is van die vals gelowe van die wêreld van Egipte se tyd tot die Groot Verdrukking tydperk wat die mensdom in haar mag het.

 

14 November 2020


OPENBARING 17:16 AFR53

En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand.


Die tien horings van die dier, of die tien konings van die Antichris gaan die hoer of die wêreld se godsdienstige organisasies tot niet maak.


Verlate maak – die priesters van hul preekstoele verwyder

Naak maak – stroop die organisasies van hul rykdom

Haar vlees eet – godsdienstige praktyke en leringe uitroei

Haar met vuur verbrand – brand hul ‘kerke’


Ons bereik nou die middel van die Verdrukking tydperk waar die Antichris self in beheer gaan wees, waar almal sy merk moet neem en sy beeld moet aanbid.

 

15 November 2020


OPENBARING 17:17 AFR53

Want God het dit in hulle harte gegee om sy bedoeling uit te voer en een bedoeling uit te voer, en hulle heerskappy aan die dier te gee totdat die woorde van God volbring is.


God het dit in die harte van die tien konings gegee om Sy bedoelings uit te voer. Die tien konings het almal een bedoeling om uit te voer, en dit is om hul heerskappy aan die dier te gee.


Daniel verduidelik vir ons hoe God werk. God stel konings aan en Hy stel hulle af. God besluit wie regeer om Sy planne tot vervulling te bring.


“Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het;” DANIËL 2:21 AFR53


God maak dit moontlik vir die dier om aan die einde van tyd in die Verdrukking tydperk te regeer, sodat God se planne tot vervulling kan kom.

 

16 November 2020


OPENBARING 17:18 AFR53

En die vrou wat jy gesien het, is die groot stad wat heerskappy voer oor die konings van die aarde.”


Die vrou wat Johannes gesien het is ook ‘n stad of die hoofkwartiere van die vals wêreld geloof.


Net soos Mecca die hoofkwartiere van die Muslims is, en Rome die hoofkwartiere van die Katolieke is, net so gaan ‘n toekomstige stad die hoofkwartiere van die wêreld geloof wees.

5 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page