top of page
  • Regina Torre

Openbaring 16

Updated: Jan 29, 2023


11 Oktober 2020


OPENBARING 16:1 AFR53

“En ek het ‘n groot stem uit die tempel aan die sewe engele hoor sê: Gaan gooi die skale van die grimmigheid van God op die aarde uit.


Ons het in die vorige hoofstuk gesien dat sewe engele met sewe plae uit die tempel uitgekom het, en die vier lewende wesens het vir elke engel ‘n skaal gegee met die grimmigheid van God. Vêrder het ons gesien dat die tempel gevul is met rook van die heerlikheid van God, en van hier af kan niemand in die tempel ingaan totdat die sewe plae voltooi is nie.


Die groot stem wat Johannes nou hoor wat uit die tempel uitkom is dus die stem van God. Die stem gee ‘n bevel aan die engele – gooi die skale van die grimmigheid van God op die aarde uit!

 

12 Oktober 2020


OPENBARING 16:2 AFR53

Toe gaan die eerste een weg en gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het.


Die eerste engel gooi sy skaal op die aarde uit en die mense wat die teiken van die plae is, is die mense wat die merk van die dier het en sy beeld aanbid. Hulle slaan uit met kwaai en bose swere.


Ons sien dieselfde plaag in Exodus teen Farao en sy mense.


“Verder het die Here aan Moses en Aäron gesê: Neem julle twee hande vol roet uit die oond, en laat Moses dit na die hemel uitstrooi voor die oë van Farao; en dit sal fyn stof word oor die hele Egipteland en aan mense en diere swere veroorsaak wat in blare uitbreek, in die hele Egipteland.” EXODUS 9:8-9 AFR53


‘n Onvervulde profesie in Deuternomium vertel ook wat gaan gebeur met diegene wat nie luister na die stem van die Here nie.


“Maar as jy nie luister na die stem van die Here jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal.


Die Here sal jou swaar tref met swere van Egipte en met geswelle en skurfte en uitslag waarvan jy nie kan gesond word nie.” DEUTERONÓMIUM 28:15, 27 AFR53

 

13 Oktober 2020


OPENBARING 16:3 AFR53

En die tweede engel het sy skaal op die see uitgegooi, en dit het bloed geword soos van ‘n dooie, en al die lewende wesens in die see het gesterwe.


Die tweede engel gooi sy skaal op die see uit en die see word soos die bloed van ‘n dooie, wat tot gevolg het dat als wat lewe in die see sterf.


Hierdie plaag neem ons terug na Exodus na die eerste plaag wat die Egiptenare getref het –

Moses slaan die water van die Nyl en dit verander in bloed sodat die visse in die rivier sterf almal.


“Moses en Aäron het toe so gedoen soos die Here beveel het — hy het die staf opgehef en die water wat in die Nyl was, geslaan voor die oë van Farao en voor die oë van sy dienaars; en al die water in die Nyl is in bloed verander. En die visse wat in die Nyl was, het doodgegaan; en die Nyl het gestink, sodat die Egiptenaars die water uit die Nyl nie kon drink nie. En daar was bloed in die hele Egipteland.” EXODUS 7:20-21 AFR53

 

14 Oktober 2020


OPENBARING 16:4 AFR53

En die derde engel het sy skaal uitgegooi op die riviere en op die waterfonteine, en dit het bloed geword.


Die derde engel gooi sy skaal op die vars water van die aarde uit en die riviere en waterfonteine word bloed. Nou is al die water ondrinkbaar – die see water en die vars water.


Hierdie oordeel is een van die talle aanduidings dat die sewe skale wat uitgegooi word aan die einde van die sewe jaar Verdrukking plaasvind.


Hoe lank kan iemand oorleef sonder om water te drink? Slegs ‘n paar dae!


Die wêreld sal ‘n tyd lank kan oorleef op watervoorrade wat opgegaar is, maar beslis nie vir jare nie, so hier kom moeilikheid.

 

15 Oktober 2020


OPENBARING 16:5 AFR53

En ek het die engel van die waters hoor sê: Regverdig, Here, is U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel uitgevoer het;


Johannes hoor die engel van die waters se woorde. Die engel begin met lofprysing soos ons geleer is om te bid. God die alomteenwoordige wat is en wat was. Hy begin met die woord regverdig, dus beklemtoon hy dat die oordele oor die wat die dier en sy beeld aanbid regverdig uitgevoer word.

 

16 Oktober 2020


OPENBARING 16:6-7AFR53

want hulle het die bloed van heiliges en profete vergiet, en U het aan hulle bloed gegee om te drink, want hulle het dit verdien. En ek het ‘n ander een uit die altaar hoor sê: Ja, Here God, Almagtige, waaragtig en regverdig is u oordele.


Die engel verduidelik dat die bloed van hierdie oordele ‘n vergoeding is vir die wêreld wat die bloed van die heiliges vergiet het en daarom verklaar die engel dat die wêreld verdien om sonder water te wees.


Die wêreld wat die heiliges en profete doodgemartel het, verdien dit om bloed, en nie water nie, te drink.


‘n Ander engel praat uit die altaar en sê met lofprysing aan God dat die oordele waaragtig en regverdig is.

 

17 Oktober 2020


OPENBARING 16:8 AFR53

En die vierde engel het sy skaal op die son uitgegooi, en daaraan is dit gegee om die mense met vuur te skroei.


Die vierde engel gooi sy skaal op die son uit en dit het tot gevolg dat die hitte van die son so warm word dat die mense deur die son geskroei word.


Die mense wat die dier se merk het en sy beeld aanbid loop nou rond met kwaai en bose swere. Wanneer hulle krane oopmaak om water te drink of die swere te wil ontsmet, kom daar net bloed uit, en nou skroei die son se strale so erg dit voel soos vuur. Klink nie soos ‘n plek waar enige persoon wil opeindig nie!

 

18 Oktober 2020


OPENBARING 16:9 AFR53

En die mense is geskroei met ‘n groot hitte, en hulle het die Naam van God gelaster wat mag het oor hierdie plae, en hulle het hul nie bekeer om Hom heerlikheid te gee nie.


Hoe erger die oordele word, hoe verder beweeg die mense wat deur die plae getref word van God af weg.


Net soos Farao van ouds verhard die mense hul harte, laster die Naam van God en weier om hulself te bekeer en aan God heerlikheid te gee.


Ongelooflik om te dink dat alhoewel almal op aarde teen die tyd 100% weet en besef dat die plae van God self kom, hulle nog steeds hul rug op Hom draai en eerder kies om hel toe te gaan!

 

19 Oktober 2020


OPENBARING 16:10 AFR53

En die vyfde engel het sy skaal uitgegooi op die troon van die dier, en sy koninkryk is verduister, en hulle het hul tonge gekou van pyn;


Die teiken van die oordele beweeg nou van die mense na die dier of die Antichris self, en die spesifieke teiken is die dier se troon of anders gestel sy hoofkwartiere.


In hoofstuk 13 word die vraag gevra – Wie kan teen die draak oorlog voer?


“En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” OPENBARING 13:4 AFR53


Die vraag word hier geantwoord met die vyfde skaal wat op die dier se troon uitgegooi word en sy koninkryk so verduister dat die mense hul tonge kou van pyn. Die dier se koninkryk wat verduister is, is op hierdie stadium die hele wêreld behalwe die gebied van Petra waar die Joodse volk nou skuiling vind.


Dit laat ons terug dink aan die negende plaag oor Egipteland naamlik, drie dae se duisternis. Die duisternis was oor die hele Egipteland, maar die kinders van Israel het lig in hul woonplekke gehad.


“Toe Moses sy hand uitsteek na die hemel, kom daar ‘n dik duisternis in die hele Egipteland, drie dae lank. Die een het die ander nie gesien nie, en niemand het van sy plek opgestaan nie, drie dae lank. Maar al die kinders van Israel het lig in hulle woonplekke gehad.” EXODUS 10:22-23 AFR53

 

20 Oktober 2020


OPENBARING 16:11 AFR53

en hulle het die God van die hemel gelaster oor hulle pyne en oor hulle swere, en het hulle nie bekeer van hul werke nie.


Hier is weereens bevestiging dat die mense hulle nie bekeer van hul werke nie. Die mense wat die dier aanbid hou aan om die God van die hemel te laster want hulle weet hul pyne en swere word deur God veroorsaak.


Daniel gebruik ook die aanspreekvorm van God soos ons in die vers sien – die God van die hemel!


“en dat hulle barmhartigheid van die God van die hemel moes afsmeek oor hierdie geheim, sodat hulle Daniël en sy metgeselle saam met die orige wyse manne van Babel nie sou ombring nie. Daarop is in ‘n naggesig die geheim aan Daniël geopenbaar. Toe het Daniël die God van die hemel geloof.” DANIËL 2:18-19 AFR53

 

21 Oktober 2020


OPENBARING 16:12 AFR53

En die sesde engel het sy skaal uitgegooi op die groot rivier, die Eufraat, en sy water het opgedroog, sodat die pad van die konings wat van die ooste af kom, reggemaak kon word.


Die sesde engel gooi sy skaal op die Eufraat uit en dié groot rivier droog in geheel op om ‘n maklike pad voor te berei vir die konings van die Ooste. Hierdie is die sewe konings waarvan Daniel ons vertel het en wat saam met die Antichris gaan beplan om teen God te veg.

Die Eufraat rivier is met die verbond wat God met Abraham gesluit het gekenmerk as die oostelike grens van Israel, maar Israel het tot en met vandag nog nie die grond in besit geneem om die grens hul eie te maak nie.


“Op dié dag het die Here met Abram ‘n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier:”. GÉNESIS 15:18 AFR53


Wikepedia gee die volgende inligting: Die Eufraat is ongeveer 2 736 km lank en ontspring in die Taurus-berge van Oos-Turkye en vloei meestal in ‘n suidoostelike rigting totdat dit naby Al-Kurna in Suid-Irak by die Tigris aansluit. Die twee riviere vorm saam die Sjatt al-Arab-waterweg, wat in die Persiese Golf uitmond.

 

22 Oktober 2020


OPENBARING 16:13 AFR53

En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom.


Johannes sien nou die onheilige drie-eenheid in werking. Satan die groot nabootser werk nou in al sy glorie asof hy God drie-enig is. Die draak, die dier en die valse profeet werk nou al drie onverpoos want hulle maak gereed vir die grootste oorlog van hul bestaan – die finale oorlog teen God Almagtig!


Uit die bek van die draak, en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet kom daar drie onreine geeste wat lyk soos paddas. Dit neem ons terug na die tweede plaag oor Egipte, naamlik paddas.


“Verder het die Here met Moses gespreek: Sê aan Aäron: Steek jou hand uit met jou staf oor die strome en oor die kanale en oor die waterkuile, en laat die paddas opkom oor Egipteland.” EXODUS 8:5 AFR53

 

23 Oktober 2020


OPENBARING 16:14 AFR53

Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God.


Die geeste van duiwels doen nou tekens, en hulle gaan uit na die konings van die aarde en na die hele wêreld want hulle wil almal versamel vir die groot oorlog wat teen God gevoer gaan word.


Dit is belangrik om te onthou dat God al die gebeure beplan en met die Eufraat rivier wat opgedroog het maak God die pad oop vir die Antichris en sy volgelinge van die Ooste om na Israel op te trek.

 

24 Oktober 2020


OPENBARING 16:15 AFR53

Kyk, Ek kom soos ‘n dief. Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie.


Salig of geseënd is die mense wat nieteenstaande hul haglike omstandighede van die tydperk leef in die lig en nie in die duisternis nie.


Hierdie vers verwys na die waarskuwing wat Paulus in sy tyd aan die Christene gegee het.


Wees waaksaam sodat die koms van Jesus nie onverwags en soos ‘n dief in die nag jou sou oorval nie.


“Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ‘n dief sou oorval nie.” I THESSALONICENSE 5:4 AFR53


Die dier se volgelinge leef wel in die duisternis, so Jesus se koms gaan vir hulle onverwags wees.

 

25 Oktober 2020


OPENBARING 16:16 AFR53

En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon.


Die woord Armageddon is vertaal uit Hebreeus en beteken die heuwel of stad van Megiddo.


Armageddon is die plek waar die konings van die dier hul leërs gaan versamel ter voorbereiding van die groot oorlog wat hulle teen God gaan voer.


Menige profete van die Ou Testament het geprofeteer oor die oorlog wat aan die einde van tyd gaan plaasvind.


“Daarom, verwag My, spreek die Here, op die dag wat Ek My gereed maak vir die buit; want dit is my strafoordeel om nasies te versamel, koninkryke te vergader om my grimmigheid oor hulle uit te stort, al die gloed van my toorn. Want die ganse aarde sal deur die vuur van my ywer verteer word!” SEFÁNJA 3:8 AFR53


“In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem, soos die rouklag van Hadad-Rimmon in die laagte van Megíddo.” SAGARÍA 12:11 AFR53

 

26 Oktober 2020


OPENBARING 16:17 AFR53

En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en ‘n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het: Dit is verby!


Die sewende engel gooi die sewende en laaste skaal uit in die lug. Die lug is die laaste sfeer van Satan se invloed – die owerste van die mag van die lug.


“waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk,” EFÉSIËRS 2:2 AFR53


“Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” EFÉSIËRS 6:12 AFR53


Die groot stem van God wat op die troon in die hemel sit, sê: Dit is verby!

Met die sewende skaal is God se wraak uitgevoer en voltooi!

 

27 Oktober 2020


OPENBARING 16:18 AFR53

En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ‘n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie — so ‘n geweldige groot aardbewing.


Die sewende skaal wat in die lug uitgegooi word gaan gepaard met stemme en donderslae en bliksemstrale – ‘n geweldige en vreeslike geraas!


En dan volg dié grootste en geweldigste aardbewing – die vers verduidelik die aardbewing se uitwerking – een soos wat die wêreld nog nooit gesien het nie.


Die Israeliete het in die Ou Testament net voor God vir Moses die tien gebooie gegee het, ‘n klein voorsmakie gekry van hoe dit voel en klink in God se teenwoordigheid. Donderslae, blitse, ‘n swaar wolk, en die geluid van ‘n sterk basuin was so erg dat die volk gebeef het.


“En op die derde dag toe dit môre word, was daar donderslae en blitse en ‘n swaar wolk op die berg en die geluid van ‘n baie sterk basuin, sodat die hele volk wat in die laer was, gebeef het. Daarop het Moses die volk uit die laer gelei om God te ontmoet, en hulle het gaan staan by die voet van die berg. En die hele berg Sinai het gerook, omdat die Here in ‘n vuur daarop neergedaal het. En sy rook het opgetrek soos die rook van ‘n oond, en die hele berg het vreeslik gebewe.” EXODUS 19:16-18 AFR53

 

28 Oktober 2020


OPENBARING 16:19 AFR53

En die groot stad is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het geval. En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn.


Die groot stad waarna hier verwys word is moontlik die stad Babilon wat met die groot aardbewing in drie gedeel gaan word. Gewoonlik is die groot stad ‘n verwysing na Jerusalem maar omdat die stad in dieselfde vers genoem word as Babilon wat in God se gedagtenis is, dink ek die verwysing is eerder Babilon.


Die nasies is ‘n verwysing na die ‘Gentiles’ wat al die nasies behalwe die Joodse volk insluit. So al die stede van die wêreld (behalwe Israel en natuurlik Jerusalem) het geval in die groot aardbewing.


“Want so sê die Here van die leërskare: ‘n Rukkie nog, ‘n kort tydjie, dan sal Ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond laat bewe.” HAGGAI 2:6 AFR53


“So sal dan Babel, die sieraad van die koninkryke, die trotse pronkstuk van die Chaldeërs, wees soos toe God Sodom en Gomorra omgekeer het.” JESAJA 13:19 AFR53

 

29 Oktober 2020


OPENBARING 16:20-21 AFR53

En alle eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie; en groot hael, omtrent ‘n talent swaar, het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was.”


Die laaste twee verse van die hoofstuk beskryf hoe die sewende skaal eindig. Die aardbewings is so erg dat die eilande en die berge almal nie meer is nie.


Dan, asof dit nie genoeg is dat die hele aarde rondeskud word en verander word nie, val daar hael op die aarde neer. Nie haelkorrels nie, nee haelstene wat elk ongeveer 50 kg weeg en die hael val op die mense.


Die mense wat die aardbewing en die hael oorleef het, laster God nog steeds omdat die plaag so groot was.

8 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page