top of page
  • Regina Torre

Openbaring 15

Updated: Jan 29, 2023


3 Oktober 2020


OPENBARING 15:1 AFR53

“En ek het ‘n ander teken in die hemel gesien, groot en wonderlik: sewe engele met die sewe laaste plae, want daarmee is die grimmigheid van God voleindig.


Openbaring 14 het geeindig met die slag van Armaggedon, maar in hierdie hoofstuk stap Johannes bietjie terug in tyd om vir ons die landskap voor God se algehele oordeel te beskryf.


Johannes sien nou hoe die einde gaan afspeel. Hy sien sewe engele met die sewe laaste plae vol van God se grimmigheid.


Die idee van plae wat volg na ongehoorsaamheid is ‘n deurlopende tema in die Bybel. Enigste verskil hier in Openbaring is dat die sewe skale die sewe finale plae is voor Satan vir ewig oorwin gaan word, en Jesus vir ewig as koning gaan regeer.


“En as julle jul teen My versit en na My nie wil luister nie, sal Ek meer plae op julle lê, sewevoudig volgens julle sondes.” LEVÍTIKUS 26:21 AFR53

 

4 Oktober 2020


OPENBARING 15:2 AFR53

En ek het gesien iets soos ‘n see van glas, gemeng met vuur. En die oorwinnaars oor die dier en oor sy beeld en oor sy teken, oor die getal van sy naam, het ek by die see van glas sien staan, met siters van God.


Die tempel van God is prominent in die hoofstuk. Ons het in Openbaring 4 ook die see van glas raakgeloop en dit beskryf as die waskom van die tempel. Die see van glas in die troonkamer is van kristal, want niemand hoef meer skoon te was nie!


“en voor die troon was daar ‘n see van glas soos kristal, ….. OPENBARING 4:6a AFR53


Die koperwaskom en die brandofferaltaar was bymekaar in die buitehof van die tempel. In hierdie vers is die see van glas, gemeng met vuur ‘n prentjie van die buitehof van die tempel. Jesus het as ‘n Lam sonder gebrek aan die kruis gesterf vir my en jou sondes (die brandofferaltaar) en elkeen van ons is skoongewas van ons sondes (die koperwaskom).


Johannes sien die oorwinnaars oor die dier, en oor sy beeld en oor sy teken en oor die getal van sy naam by die see van glas – dit is almal wat in die Verdrukking Jesus as Verlosser aanvaar het en in die proses geweier het om die dier te aanbid. Hy sien die mense by die see van glas gemeng met vuur want hulle het Jesus as Verlosser aanvaar en is skoongewas van hul sondes.

 

5 Oktober 2020


OPENBARING 15:3 AFR53

En hulle het die lied gesing van Moses, die dienskneg van God, en die lied van die Lam, en gesê: Groot en wonderlik is u werke, Here God, Almagtige; regverdig en waaragtig is u weë, o Koning van die heiliges!


Die oorwinnaars oor die dier het ook ‘n lied wat hul sing tot eer van God. Hulle sing die lied van Moses wat in Exodus 15:1-21 aangeteken word. ‘n Dankseggingslied na die uittog uit Egipte en daarna die trek deur die Rooi See wat na links en regs oopgemaak het sodat die Israeliete kon deurloop.


Die lied van die Lam is opgeteken in Openbaring 5:9-12. Hier word gesing dat Jesus waardig is om die seëls oop te maak, en as geslagte Lam is Jesus waardig om al die lof en eer en heerlikheid te ontvang.


Al die liedere wat gesing word is tot eer en verheerliking van God die Almagtige!

 

6 Oktober 2020


OPENBARING 15:4 AFR53

Wie sal U nie vrees nie, Here, en u Naam nie verheerlik nie? Want U alleen is heilig; want al die nasies sal kom en voor U aanbid, omdat u regverdige dade openbaar geword het.


Wat beteken dit om God te vrees?


Vir die ongelowige beteken vrees vir God die vrees vir God se oordeel en die ewige dood, wat ‘n ewige skeiding met God is.


“maar Ek sal julle wys wie julle moet vrees: vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, by magte is om in die hel te werp; ja, Ek sê vir julle, vrees Hom!” LUKAS 12:5 AFR53


Vir die gelowige is die vrees vir God iets heeltemal anders. Die gelowige se vrees is eerbied en ontsag vir God.


“Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is ‘n verterende vuur.” HEBREËRS 12:28-29 AFR53


Ons kan net uitsien na die tyd wanneer al die nasies God gaan vrees en God gaan aanbid.

 

7 Oktober 2020


OPENBARING 15:5 AFR53

En ná hierdie dinge het ek gesien, en kyk, die tempel van die tent van die getuienis in die hemel is geopen.


Die tempel word 15 keer genoem in die boek Openbaring, maar eers vanaf hoofstuk 4 nadat die kerk weggeraap is. Vanaf hoofstuk 4 vorentoe werk God met die Joodse volk, Sy volk vir wie die tempel belangrik is.


Moses het die eerste tempel gebou en die planne vir die tempel het hy op die berg gekry. God het vir Moses ‘n voorbeeld gewys van die tempel in die hemel.


“En kyk dat jy dit maak volgens die voorbeeld daarvan wat jou op die berg getoon is.” EXODUS 25:40 AFR53


“Dit was dus nodig dat die afbeeldinge van die dinge in die hemele deur hierdie offers gereinig moes word, maar die hemelse dinge self deur beter offers as hierdie. Want Christus het nie ingegaan in ‘n heiligdom met hande gemaak, ‘n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn;” HEBREËRS 9:23-24 AFR53

 

8 Oktober 2020


OPENBARING 15:6 AFR53

En die sewe engele met die sewe plae het uit die tempel uitgekom, bekleed met rein, blink linne, en om die bors omgord met goue gordels.


Die sewe engele se sewe plae verteenwoordig God se oordeel. Die engele kom van die teenwoordigheid en troon van God wat in die tempel is.


Die Ou Testament hoëpriester se werk was om op die Versoeningsdag of Jom Kippur die bloed van ‘n dier sonder gebrek op die versoendeksel van die verbondsark in die Allerheilgste vertrek te sprinkel om sodoende die sondes van die volk vir die jaar vorentoe te bedek.


Die sewe engele met rein of wit klere en goue gordels, lyk baie soos die hoë priester wat ook wit klere aangetrek het om op die Versoeningsdag voor God te verskyn.


Die mense wat God se wraak gaan ontvang aan die einde van die Verdrukking het nie meer die voorreg om met bloed bedek te word nie, die voorreg is vir ewig verbeur toe hulle die dier se merk geneem het om hom te aanbid.

 

9 Oktober 2020


OPENBARING 15:7 AFR53

En een van die vier lewende wesens het aan die sewe engele sewe goue skale gegee, vol van die grimmigheid van God wat leef tot in alle ewigheid.


Die vier lewende wesens gee vir elkeen van die engele sewe goue skale. Die woord skale is misleidend in die Afrikaanse vertaling want ons weeg nie hier die inhoud nie, dis eerder die houer self – breë vlak bak of diep piering – waarna hier verwys word.


Die inhoud van die bakke is die grimmigheid van God. Romeine beskryf die grimmigheid van God as toorn wat ongelowiges gaan ontvang wanneer elkeen van hulle geoordeel sal word

volgens hul werke.


“Maar ooreenkomstig jou verhardheid en onbekeerlike hart vergader jy vir jou toorn as ‘n skat in die dag van die toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God wat elkeen sal vergeld na sy werke:” ROMEINE 2:5-6 AFR53

 

10 Oktober 2020


OPENBARING 15:8 AFR53

En die tempel het vol rook geword uit die heerlikheid van God en uit sy krag, en niemand kon ingaan in die tempel voordat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie.”


In die Ou Testament het Aaron op die Versoeningsdag ‘n vuurpan met gloeiende kole geneem en op die reukofferaltaar in die Heilige vertrek van die tempel geplaas. Daarna moes hy reukwerk van speserye op die kole strooi sodat ‘n dik wolk in die Heilige en Allerheilgste vertrekke gehang het. Die rook het veroorsaak dat hy God nie kon sien nie, en het so nie gesterwe nie.


“en die vuurpan vol gloeiende kole van die altaar voor die aangesig van die Here wegneem; daarby twee handevol fyngestampte reukwerk van speserye en dit binnekant die voorhangsel bring. En hy moet die reukwerk op die vuur lê voor die aangesig van die Here, dat die wolk van die reukwerk die versoendeksel wat op die Getuienis is, kan oordek, sodat hy nie sterwe nie.” LEVÍTIKUS 16:12-13 AFR53


God se teenwoordigheid gekenmerk deur die rook vul weereens die tempel in die hemel en niemand mag ingaan voordat die sewe plae van die sewe engele nie voltooi is nie.

13 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page