top of page
Regina Torre

Openbaring 13

Updated: Jan 29, 2023


26 Augustus 2020


OPENBARING 13:1 AFR53

En ek het ‘n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe ‘n naam van godslastering.


In hoofstuk 12 het ons kennis gemaak met die groot vuurrooi draak wat sewe koppe, tien horings en sewe krone het. Dit het ons geleer is die Satan met tien konings onder sy mag en dat hy drie van die tien konings doodmaak, wat ons bring by sewe krone. Hierdie is ook die vierde koninkryk (Roomse koninkryk verlede en toekoms) in Daniel se drome.


En ‘n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was ‘n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone; OPENBARING 12:3 AFR53


Johannes staan nou op die sand van die see (Openbaring 12:18) en hy sien ‘n dier wat uit die see opkom met dieselfde eienskappe van die draak, net met tien konings. Die see is ‘n uitbeelding van die mensdom soos in ‘n see van mense. In hoofstuk 12 is Satan uit die hemel verban en op die aarde vasgekeer. Hier is nou die Antichris wat as mens op die toneel verskyn reg in die middel van die Verdrukking met tien konings en tien koninkryke onder sy mag.

 

27 Augustus 2020


OPENBARING 13:2 AFR53

En die dier wat ek gesien het, was soos ‘n luiperd, en sy pote soos dié van ‘n beer, en sy bek soos die bek van ‘n leeu; en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag.


Johannes omskryf die dier met die beeldspraak van Daniel se drome.


Die dier is soos ‘n luiperd ( Alexander die Grote se Griekse koninkryk), het pote soos ‘n beer (


Die koninkryke van die Mede en Perse), en die bek van ‘n leeu (Nebukadneser se koninkryk, Babilon).


Die persoon wat Johannes sien sal heel moontlik uit Europa sy verskyning maak. Daniel 9:26 vertel dat die Antichris van dieselfde omgewing sal kom as die mense wat die tempel in 70 AD verwoes het – die Romeinse Ryk (die volk van ‘n vors wat sal kom)


“En ná die twee-en-sestig sewetalle sal ‘n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van ‘n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met ‘n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings.” DANIËL 9:26 AFR53


Die draak (Satan) gee die mens (die Antichris) wat hom verteenwoordig, sy krag en sy troon en groot mag.

 

28 Augustus 2020


OPENBARING 13:3 AFR53

En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was, en sy dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan.


Een van die dier se koppe is gewond. Hoofstuk 17 gaan ons in detail leer wie en wat die koppe is, vir nou sal ek net sê dat die sewende kop die Antichris self voorstel.


Johannes sien een van die koppe ‘net of dit dodelik gewond was’, en toe is die dodelike wond genees. Johannes sê nie dit was definitief dodelik gewond nie, nee, hy sê net of dit dodelik gewond was. So almal op aarde gaan dink dat die Antichris doodgemaak is, en toe uit die dood uit opgestaan het. Die groot na-aper wil homself voordoen as Jesus wat uit die dood uit opstaan.


Die hele wêreld gaan val vir die vertoning en in verwondering agter die dier aangaan.

 

29 Augustus 2020


OPENBARING 13:4 AFR53

En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?


Satan soek nie net mag en krag nie, hy wil ook aanbid word soos God drie-enig aanbid word.


Hier in die helfte van die Groot Verdrukking gaan sy wens bewaarheid word.


Die vers gee vir ons die inligting. Hulle het die draak (Satan) aanbid wat die dier (die Antichris) mag gegee het! Die bewondering vir die draak en die dier is so soet soos stroop.


Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer? Die wêreld hang aan die lippe van die draak en die dier.

 

30 Augustus 2020


OPENBARING 13:5 AFR53

En ‘n mond is aan hom gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek, en aan hom is mag gegee om dit twee-en-veertig maande lank te doen.


Die dier (die Antichris) gaan deur die draak (Satan) die gawe ontvang om te praat, die vers verduidelik dat ‘n mond aan hom gegee is om groot woorde te praat. Selfs Daniel het gesien dat die Antichris ‘n mond het wat groot dinge spreek teen die Allerhoogste.


Die mag om te praat sal hy he vir twee en veertig maande, dus drie en ‘n halwe jaar – die tweede helfte van die Groot Verdrukking. Daniel gee die tydperk as ‘n tyd, tye en die helfte van tyd.


“Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar ‘n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, in hierdie horing was oë soos mens-oë, en ‘n mond wat groot dinge spreek.


En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ‘n tyd en tye en die helfte van ‘n tyd.” DANIËL 7:8, 25 AFR53

 

31 Augustus 2020


OPENBARING 13:6 AFR53

En hy het sy mond oopgemaak om te laster teen God, om sy Naam en sy tabernakel en die wat in die hemel woon, te laster.


Paulus het ons ook voorberei op die Antichris wat teen God gaan laster, hy noem hom die teënstaander wat hom verhef bo al wat God genoem word. Paulus en Daniel sê verder dat die Antichris in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.


Die Antichris laster hier teen God, teen God se tabernakel en teen die wat in die hemel woon.


“die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.” II THESSALONICENSE 2:4 AFR53


“En die koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god, en teen die God van die gode sal hy wonderbaarlike dinge spreek; en hy sal voorspoedig wees, totdat die grimmigheid ten einde is; want wat vas besluit is, sal uitgevoer word.” DANIËL 11:36 AFR53

 

1 September 2020


OPENBARING 13:7 AFR53

Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie.


Ons het in hoofstuk 12 geleer dat Satan en sy engele uit die hemel uit verban is en nou vasgekeer is op die aarde. Hulle maak nou oorlog teen die Jode en die Christene – die heiliges – en hulle gaan oorwin. Hoe werk dit nou? Onthou dat die Jode wat Jesus aanvaar gedurende die eerste helfte van die Verdrukking is op die stadium in Petra in veilige bewaring.


“Ek het gesien dat hierdie horing oorlog voer met die heiliges en hulle oorwin,” DANIËL 7:21 AFR53


“En sy krag sal sterk word, maar nie deur sy krag nie; en hy sal buitengewoon Baie kwaad aanrig en dit voorspoedig uitvoer; en hy sal magtiges vernietig en ook die volk van die heiliges.” DANIËL 8:24 AFR53


Satan maak oorlog teen die hele aarde wat op die stadium nog bestaan. Elke stam en taal en nasie, almal wat dit waag om Jesus as Verlosser te aanvaar.

 

2 September 2020


OPENBARING 13:8 AFR53

En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie.


Diegene wat in die boek van die lewe van die Lam opgeneem is, verwys na die uitverkorenes van God, die mense wat gered is deur Sy genade. Kyk mooi wat hierdie vers verduidelik – die mense wat die dier begin aanbid, sal nooit gered word nie.


Elke mens staan voor ‘n keuse: Jesus of Satan – moet nie verkeerd kies nie!


“Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie. Want alles wat in die wêreld is — die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe — is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld. En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” I JOHANNES 2:15-17 AFR53

 

3 September 2020


OPENBARING 13:9 AFR53


As iemand ‘n oor het, laat hom hoor.


Ons het ore gekry om te hoor – geloof gebeur wanneer die Woord van God gehoor word – luister mooi!


“Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.” ROMEINE 10:17 AFR53


“So then faith cometh by hearing, and hearing by the word of God.” Romans 10:17 KJV

 

4 September 2020


OPENBARING 13:10 AFR53

As iemand krygsgevangenes maak, gaan hy in krygsgevangenskap; as iemand met die swaard doodmaak, moet hy met die swaard doodgemaak word. Hier is die lydsaamheid en die geloof van die heiliges.


Die Afr83 verduidelik die somber realiteit van die tweede helfte van die Verdrukking ‘n bietjie beter. Diegene wat Jesus as Verlosser aanvaar gaan heel moontlik ‘n martelaar wees vir Jesus deur gevange geneem te word of met die swaard doodgemaak te word.


Gelowiges op die stadium moet weet dat die Antichris hulle gaan soek om dood te maak, hulle moet volhard in hul geloof en nie bang wees vir dit wat voorlê nie.


“As iemand bestem is vir gevangenskap, gaan hy in gevangenskap; as iemand bestem is om met ‘n swaard doodgemaak te word, word hy met ‘n swaard doodgemaak. Hier het die gelowiges volharding en geloof nodig.” DIE OPENBARING 13:10 AFR83

 

5 September 2020


OPENBARING 13:11 AFR53

En uit die aarde het ek ‘n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ‘n lam en het gepraat soos ‘n draak.


Johannes sien ‘n tweede dier wat die keer uit die aarde opkom, en hierdie dier is ‘n kombinasie van ‘n lam en ‘n draak. Die horings van die lam is beeldspraak vir heerskappy en gesag, en die lam verwys na ‘n profeet soos Jesus. Die dier praat soos ‘n draak wat vir ons sê dat die persoon namens Satan praat.


Hierdie dier is dus ‘n profeet van Satan wat namens Satan praat, en van hier af sal die dier of persoon bekend wees as die Vals Profeet.

 

6 September 2020


OPENBARING 13:12 AFR53

En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is.


Die tweede dier (Vals Profeet) oefen al die mag van eerste dier (Antichris) namens hom uit.


Die eerste en tweede diere het hul mag en krag en heerskappy van die draak (Satan) gekry.


Ons het hier die groot Nabootser (Satan) wat die Drie-enige God probeer naboots.

Vader – Satan

Seun – Antichris

Heilige Gees – Vals Profeet


Die Vals Profeet maak dat die aarde en die mense wat daarop woon, die Antichris aanbid, die persoon wie se dodelike wond genees is. Die Antichris wat hom voordoen as Jesus!


Jesus het gedurende Sy tyd op aarde vir die mense gesê dat Hy in die Naam van Sy Vader gekom het en Hy is nie aanvaar nie, maar dat in die toekoms iemand anders in sy eie naam sal kom wat aanvaar sal word. Dit is die Antichris waarvan Jesus gepraat het wat nou aanvaar gaan word.


“Ek het in die Naam van my Vader gekom, en tog aanvaar julle My nie. As iemand anders in sy eie naam kom, sal julle hom aanvaar.” JOHANNES 5:43 AFR83

 

7 September 2020


OPENBARING 13:13 AFR53

Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense.


Die Vals Profeet doen ook groot tekens! Moet nie vir een oomblik dink dat Satan en sy trawante nie ook tekens kan doen nie. Ons hoef net terug te gaan na Moses wat voor die Farao sy staf neergooi sodat dit in ‘n slang kan verander. Farao kry toe sy eie mense of towenaars om dieselfde te doen.


“Die farao roep toe ook sy manne bymekaar wat dié soort ding ken, sy goëlaars. Dié Egiptiese towenaars doen toe met hulle towerkunste presies dieselfde: soos elkeen sy kierie neergooi, verander dit in ‘n groot slang. Maar toe sluk Aäron s’n hulle s’n in!” EKSODUS 7:11-12 AFR83


Die Vals Profeet gaan vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde terwyl die wêreld hom in verwondering aanskou.

 

8 September 2020


OPENBARING 13:14 AFR53

En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ‘n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het.


Satan verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat die Vals Profeet uitvoer. Indien jy Jesus nie al op die stadium aanvaar het nie, gaan dit moeilik wees om te glo dat die Vals Profeet ‘n handlanger van Satan is.


“Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan.” DANIËL 12:10 AFR53


Die Vals Profeet gee die bewoners van die aarde bevel om ‘n standbeeld te maak van die Antichris wat gewond was en weer lewendig geword het.


Weereens kan ons net na Moses en Aaron en die volk Israel gaan kyk. Terwyl Moses op die berg met God praat, vergeet die volk van hul wonderbaarlike ontvlugting uit Egipte, en die see wat soos ‘n berg links en regs oopgemaak sodat hulle kon deurloop. Hulle soek iets om te aanbid en Aaron maak vir hulle ‘n goue kalf.


“Toe die volk sien dat Moses vertoef om van die berg af te kom, het die volk rondom Aäron versamel en vir hom gesê: Kom, maak vir ons gode wat voor ons uit trek; want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie.” EXODUS 32:1 AFR53

 

9 September 2020


OPENBARING 13:15 AFR53

En dit is hom gegee om ‘n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie.


Die standbeeld van die Antichris gaan staan in Jerusalem in die tempel van God, soos Daniel 9:27 vir ons geleer het.


Gedurende die helfte van die week is presies in die middel van die Verdrukking tydperk van sewe jaar. Ons weet daar is ‘n tempel want dit is waar die Joodse volk hul offerhandes gaan doen. Daniel vertel dat die slagoffer en spyspffer sal ophou, en wat gebeur dan?

Op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees – dit beteken dat die Antichris se standbeeld in die tempel, in die Allerheiligste vertrek waar die Verbondsark se plek gewoonlik is, gaan staan.


“En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.” DANIËL 9:27 AFR53


Openbaring gee nou vir ons meer inligting oor die standbeeld. Die Vals Profeet gaan ‘n gees aan die Antichris se beeld gee sodat die beeld gaan praat, en almal gaan die beeld aanbid.


Die wat dit waag om nie die beeld te aanbid nie, sal gedood word.

 

10 September 2020


OPENBARING 13:16 AFR53

En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word;


Hoe gaan die Antichris seker maak dat almal op aarde hom aanbid. Die vers sê duidelik – hy maak dat almal, klein en groot, ryk en arm, slawe en vrymense ‘n merk moet kry.


Die merk wat elkeen kry sal op hul regterhand en op hul voorhoofde gegee word, en dit sal ‘n teken wees vir die Antichris of jy vir hom of teen hom is.


Hier in die middel van die Groot Verdrukking kom ons by die laaste skeidingslyn. Wat elke persoon hier kies, het ‘n ewige uitwerking.


Neem die merk van die dier en jy behoort vir ewig aan Satan, weier die merk van die dier en jy behoort vir ewig aan Jesus!

 

11 September 2020


OPENBARING 13:17 AFR53

sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het.


Nie net word almal gemerk nie, maar die merk bepaal of jy kan voortgaan met jou lewe soos jy dit ken, om te koop en te verkoop. Anders gestel,

  1. het jy ‘n plek om te bly of slaap jy in die veld,

  2. het jy kos om te eet of skreeu jou maag van hongerpyne,

  3. kan jy vrylik rondbeweeg of moet jy gedurig uitkyk vir kameras en ‘drones’, ens…………

Die merk gaan beslis ‘n groot finansiële impak he op die mensdom van daardie tyd.


‘n Negatiewe impak vir Christene en ‘n positiewe impak vir Satan se navolgers.


Onthou net dat op die stadium van die geveg is daar drie en ‘n half jaar oor voor Jesus terugkom en Satan vir ewig gaan oorwin.

 

12 September 2020


OPENBARING 13:18 AFR53

Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van ‘n mens; en sy getal is seshonderd-ses-en-sestig.”


Die merk van die dier – 666!


Vra vir enige persoon, gelowig of ongelowig, of hy al van die merk van die dier gehoor het en meeste sal ‘n storie hé om te beskryf wat hulle dink dit beteken.


In hoofstuk 7 het ons geleer dat God die 144,000 Joodse evangeliste op hul voorgoofde verseël het sodat hulle die evangelie kon uitdra na die hele wêreld.


“en gesê: Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie.” OPENBARING 7:3 AFR53


Satan, die groot na-aper van God, wil sy navolgers ook verseël en daarom het hy ‘n merk wat elkeen van hulle op hul voorhoofde en regterhande moet kry.


‘n Paar ‘fun facts’ rakende die getal 6:

  1. 6 is die getal van die mens,

  2. 666 = mens mens mens, en verteenwoordig mens sonder God,

  3. Adam was geskape op die 6de dag,

  4. 6 dae in die week moet ons (mense) werk,

  5. Die 6de gebod – jy mag nie doodslaan nie

  6. 6 beteken onvolmaaktheid

Tot op die stadium weet ons nie hoe die merk gaan lyk nie, ons kan net spekuleer, maar wat ons wel weet is dat ‘n Christen beslis nie die merk moet kry nie.

130 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page