9 Augustus 2020
OPENBARING 12:1 AFR53
En ‘n groot teken het in die hemel verskyn: ‘n vrou wat met die son bekleed was, en die maan was onder haar voete, en op haar hoof ‘n kroon van twaalf sterre;
Hoofstuk 12 begin met twee tekens, en ons weet dit is tekens want Johannes vertel dit so vir ons. Tekens is handige instrumente wat ons iets leer oor dit wat hulle voorstel. Die betekenis van die vrou, son, maan en twaalf sterre kry ons nie in Openbaring nie maar ver terug in Genesis met Josef se verhaal.
Josef se drome sê dat sy pa (son), ma (maan) en broers (elf sterre, Josef uitgesluit) voor hom gaan neerbuig.
“Ook het Josef ‘n droom gehad wat hy aan sy broers vertel het. Daaroor het hulle hom nog meer gehaat. Hy het naamlik vir hulle gesê: Hoor tog hierdie droom wat ek gehad het. Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan en ook regop blý staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf neerbuig. Toe sê sy broers aan hom: Wil jy miskien oor ons regeer? of wil jy miskien oor ons heers? En hulle het hom nog meer gehaat oor sy drome en oor sy woorde. Daarna het hy nog ‘n ander droom gehad en dit aan sy broers vertel en gesê: Kyk, ek het nog ‘n droom gehad — die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig. Toe hy dit aan sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom hard bestraf en aan hom gesê: Wat is dit vir ‘n droom wat jy gehad het? Moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig?” GÉNESIS 37:5-10 AFR53
Die vrou bekleed met die son, maan en twaalf sterre is dus ‘n voorstelling van die nasie Israel. Die twaalf stamme van Israel wat voortspruit uit Jakob, een van die aartsvaders.
10 Augustus 2020
OPENBARING 12:2 AFR53
en sy was swanger en het uitgeroep in haar weë en barensnood.
Die vrou is hoog swanger en roep uit vanwee haar geboortepyne. ‘n Swanger vrou kan nie die kerk voorstel nie, want die kerk word uitgedruk as die maagdelike bruid van Jesus.
“Want ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel.” II KORINTHIËRS 11:2 AFR53
Israel daarteen word deurgans in die Bybel as ‘n vrou voorgestel, en wel ook die vrou van God.
“Maar soos ‘n vrou troueloos skei van haar minnaar, so het julle troueloos teen My gehandel, o huis van Israel, spreek die Here.” JEREMIA 3:20 AFR53
11 Augustus 2020
OPENBARING 12:3 AFR53
En ‘n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was ‘n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone;
Die tweede teken wat in die hemel verskyn is ‘n groot vuurrooi draak met sewe koppe en sewe krone op die koppe, en tien horings. Die draak se betekenis kry ons sommer gou in hierdie hoofstuk en wel in vers 9. Die draak is niemand anders as die ou slang van die tuin van Eden, wat ons noem die duiwel of Satan.
“En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, ……..” OPENBARING 12:9 AFR53
Waar het ons die sewe koppe, sewe krone op die koppe en tien horings gesien? Daniel 7 vertel ons van die vierde dier wat die laaste heiden koninkryk op aarde voorstel. Die vierde koninkryk sal deur tien konings regeer word – voorgestel deur die 10 tone van die standbeeld in Daniel 2, en die tien horings van die verskriklike dier in Daniel 7. Daniel vertel dat drie van die tien horings ontwortel word, wat sewe konings laat oorbly wat oor die bestaande tien koninkryke regeer.
“Daarna het ek in die naggesigte gesien, en kyk, daar was ‘n vierde dier, vreeslik en skrikwekkend en baie sterk, en dit het groot ystertande gehad; dit het verslind en vermorsel en die oorskot met sy pote vertrap; en dit was verskillend van al die diere wat voor hom gewees het, en dit het tien horings gehad. Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar ‘n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, in hierdie horing was oë soos mens-oë, en ‘n mond wat groot dinge spreek.” DANIËL 7:7-8 AFR53
“Só het hy gesê: Die vierde dier — die vierde koninkryk sal op die aarde wees, wat verskil van al die koninkryke en die hele aarde sal verslind en dit sal vertrap en dit verbrysel. En die tien horings — uit daardie koninkryk sal tien konings opstaan, en ‘n ander een sal ná hulle opstaan, en hý sal verskillend wees van die voriges en drie konings neerwerp. En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorgegee word gedurende ‘n tyd en tye en die helfte van ‘n tyd.” DANIËL 7:23-25 AFR53
12 Augustus 2020
OPENBARING 12:4 AFR53
en sy stert het die derde van die sterre van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi. En die draak het gestaan voor die vrou wat op die punt was om te baar, sodat hy haar kind sou verslind sodra sy gebaar het.
Sterre het ons reeds gesien verteenwoordig engele, en sterre wat val verteenwoordig demoniese of gevalle engele en die leier van die groep is Satan.
Satan het ‘n derde van die engele saam met hom geneem in sy rebellie teen God, en hul bestemming is die aarde.
Satan (die draak) staan voor die nasie Israel (die vrou) en wil Jesus (die kind) verslind. Dit vat ons terug na Genesis 3:15 wat bekend staan as die proto-evangelium of die eerste Evangelie – God stel vyandskap tussen Jesus (die vrou se saad) en Satan (die slang se saad).
“En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.” GÉNESIS 3:15 AFR53
Jesus word met Sy kruisiging ‘in die hakskeen gebyt’ maar aan die einde van die duisendjarige vrederyk sal Jesus Satan se kop vermorsel deur hom in die poel van swawel en vuur te werp waar hy sal wees tot in ewigheid.
“En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.” OPENBARING 20:10 AFR53
13 Augustus 2020
OPENBARING 12:5 AFR53
En sy het ‘n manlike kind gebaar, wat al die nasies met ‘n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon.
Die manlike kind wat die vrou baar is Jesus wat uit die volk Israel gebore word. Die Jesus waarna hier verwys word is nie die baba wat in Betlehem gebore is nie, maar die Koning wat die nasies met ‘n ystersepter gaan regeer .
“U sal hulle verpletter met ‘n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ‘n erdepot.” PSALMS 2:9 AFR53
Jesus is die leeu uit die stam van Juda, ‘n afstammeling van koning Dawid, en Hy gaan eendag regeer met ‘n ysterstaf.
“Die septer sal van Juda nie wyk nie, nòg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.” GÉNESIS 49:10 AFR53
“Maar daar sal ‘n takkie uitspruit uit die stomp van Ísai, en ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra;” JESAJA 11:1 AFR53
“Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek.” OPENBARING 5:5 AFR53
Haar kind is weggeruk na God se troon – Jesus se hemelvaart.
“Nadat die Here dan met hulle gespreek het, is Hy opgeneem in die hemel en het gaan sit aan die regterhand van God.” MARKUS 16:19 AFR53
14 Augustus 2020
OPENBARING 12:6 AFR53
En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy ‘n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank.
Ons weet nou dat die vrou ‘n voorstelling is van die volk Israel. Hier vlug die Israeliete die woestyn in na ‘n plek wat God vir hulle gereed gemaak het om hulle te onderhou vir 1,260 dae.
Hierdie tydperk van 1,260 dae of 3,5 jaar verwys na die tweede helfte van die Verdrukking.
15 Augustus 2020
OPENBARING 12:7 AFR53
En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer;
Ons weet wat oorlog beteken, sommiges beleef dit self en ander sien dit in die stories op tv.
Die engel Migael en sy engele (God se verteenwoordigers) voer oorlog teen die draak en sy engele (Satan en sy verteenwoordigers), en die oorlog speel in die hemele af.
Oorlog in die hemel het al in Genesis begin, maar tot vandag toe nog het Satan toegang tot die hemel. Ons kry die inligting in Job, en Satan se werk is om ons gedurigdeur voor God te veroordeel.
“En op ‘n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die Here te stel, het die Satan ook onder hulle gekom. Toe vra die Here vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die Here en sê: Van ‘n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het.” JOB 1:6-7 AFR53
16 Augustus 2020
OPENBARING 12:8-9 AFR53
en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp.
Hierdie oorlog tussen die engele in die hemelruim kom tot ‘n hoogtepunt in die middel van die Verdrukking tydperk. Satan en sy trawante kon nie vir die engel Migael en sy weermag verder teenstaan nie, en die uiteinde is dat Satan en sy demone nie meer ‘n plek in die hemel het nie.
Waar Satan tot op die stadium nog toegang tot die hemel gehad het om Christene te veroordeel, is die toegang nou iets van die verlede. Die groot draak, die ou slang, wat die hele wêreld verlei en wat ons noem duiwel en Satan word nou halfpad deur die Verdrukking neergewerp op die aarde, en sy engele saam met hom.
Daniel gee ook ‘n toekomsblik oor Satan en sy engele wat uit die hemel uitgegooi word.
“En uit een van dié het ‘n horing, eers klein, uitgekom, maar dit het baie groot geword na die suide en na die ooste en na die Pragtige Land toe. En dit het groot geword tot by die leër van die hemel en het sommige van die leër, naamlik van die sterre, op die aarde laat val en hulle vertrap.” DANIËL 8:9-10 AFR53
17 Augustus 2020
OPENBARING 12:10 AFR53
Toe hoor ek ‘n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag.
Johannes hoor ‘n groot stem in die hemel wat sê dat die heil en die krag en die koningskap die eindom van God is. Dit waarmee ons die Onse Vader gebed eindig, word nou bevestig – want aan U behoort die koninkryk, en die krag, en die heerlikheid, tot in ewigheid, Amen!
Die hemele juig omdat Satan uit die hemel uit verban is. Satan, wat elkeen van ons dag en nag aankla voor God, hy word uit die hemel uitgegooi. Dit gebeur halfpad deur die sewe jaar Verdrukking.
Dink daaraan dat elke keer as ons sondig, gee ons vir Satan amunisie om ons voor God aan te kla. Dit stop in die middel van die Verdrukking, Satan is uit die hemel!
18 Augustus 2020
OPENBARING 12:11 AFR53
En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie.
Hulle, naamlik die gelowiges, het Satan oorwin deur:
Die bloed van die Lam.
“omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van
Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,” I PETRUS 1:18-19 AFR53
Die woord van hulle getuienis, want geloof gebeur wanneer mense die Woord van God hoor.
“Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.” ROMEINE 10:17 AFR53
Die gelowiges het ook tot die dood toe, nie hul lewens liefgehad nie. Dit beteken hulle is gewillige martelare vir Jesus.
19 August 2020
OPENBARING 12:12 AFR53
Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.
Die hemele en die wat daarin woon is verheug, want Satan is nie meer daar nie!
Maar, wee die bewoners van die aarde en die see! Dit klink nie goed nie. Die hemele juig maar die aarde is in stres want die duiwel wat nie meer hemel toe kan gaan nie, is nou op die aarde losgelaat en vasgekeer. Satan se woede is groot want hy weet sy tyd is min en hy wil maksimum skade en verwoesting veroorsaak.
Sy eerste slagoffer is natuurlik die volk Israel, want Israel is God se volk van keuse, en dit is hoekom God vir Israel spesiale beskerming gaan gee.
20 Augustus 2020
OPENBARING 12:13 AFR53
En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het;
Toe die draak (Satan) sien dat hy neergeserp is op die aarde, het hy die vrou (Israel) vervolg.
Die vrou wat die seuntjie gebaar het. Die nasie Israel uit wie Jesus gebore is, word nou deur Satan vervolg. Hierdie tweede helfte van die Verdrukking staan bekend as die tyd van benoudheid, of die benoudheid van Jakob. In Engels het julle al gehoor van ‘the time of Jacob’s trouble.’ Jakob is weereens ‘n voorstelling van die nasie Israel.
“En in dié tyd sal Mígael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.” DANIËL 12:1 AFR53
“Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word.” JEREMIA 30:7 AFR53
21 Augustus 2020
OPENBARING 12:14 AFR53
maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ‘n tyd en tye en ‘n halwe tyd.
Weereens kom God tot Sy volk se redding.
………. maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.” DANIËL 12:1b AFR53
Net soos die Israeliete van ouds wat uit Egipteland uit die slawehuis uitgetrek het en in die woestyn geskuil het terwyl God gesorg het vir manna uit die hemel, so gaan God weer Sy volk op arendsvlerke na die woestyn bring om vir hulle te sorg.
“Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het.” EXODUS 19:4 AFR53
God gaan Sy volk in die woestyn bewaar en onderhou, uit die gesig van die slang vir ‘n tydperk van tyd, tye en ‘n halwe tyd – drie en ‘n halwe jaar.
Die plek waar God se volk gaan skuil is die dorp Petra in die suide van Jordanië. Ons kry die inligting van die profeet Miga.
“Ek sal julle almal bymekaarmaak, Jakob, Ek sal dié vergader wat van Israel oorgebly het, Ek sal hulle bymekaarbring soos skape in ‘n kraal, soos ‘n groot kudde in die weiveld, die wêreld sal dreun van mense.” MIGA 2:12 AFR83
Skaap kraal is die Hebreeuse woord Botzra wat ook anders gestel die dorp Petra is.
22 Augustus 2020
OPENBARING 12:15 AFR53
En die slang het uit sy bek water soos ‘n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier.
Ondanks die beskerming van God, doen die vyand alles in sy vermoë om Israel te vernietig. Die draak gebruik selfs water om Israel in ‘n vloed te laat verdrink.
Petra het al meer as een keer in die verlede vloede ondervind wanneer dit baie reen.
‘n Vloed soos in die vers uitgebeeld deur die strate van Petra in die toekoms is dus nie uitgesluit nie.
23 Augustus 2020
OPENBARING 12:16 AFR53
En die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier opgesluk, wat die draak uit sy bek uitgegooi het.
God is egter byderhand om Sy volk te beskerm teen die aanslae van die duiwel. Die aarde maak sy mond oop om die water in te sluk en die land op te droog. ‘n Aardbewing veroorsaak dus ‘n skeur om die water af te keer.
24 Augustus 2020
OPENBARING 12:17 AFR53
En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.
Die Satan is woedend omdat die volk uit sy greep weggekom het. Nou gaan hy sy woede en toorn maar moet uithaal op die res van die mense op aarde. Hulle is 1) die ongelowige Jode wat die nakomelinge is wat God se gebooie bewaar en 2) die gelowige ander mense wat wel vir Jesus volg.
Ons bereik nou hier die begin van die tweede helfte van die Verdrukking wat Jesus in Mattheus aan Sy dissipels verduidelik.
“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom — laat hy wat lees, oplet — dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug;
Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.” MATTHÉÜS 24:15-16, 21 AFR53
25 Augustus 2020
OPENBARING 12:18 AFR53
En ek het op die sand van die see gaan staan.”
Johannes staan nou op die sand van die see om die volgende gebeure wat gaan plaasvind te sien.
Opmerkingen