top of page
Regina Torre

Openbaring 11

Updated: Jan 29, 2023


22 Julie 2020


OPENBARING 11:1 AFR53

“En ‘n riet soos ‘n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid.

Ons begin die hoofstuk met die wete dat Israel se derde tempel gebou is, met mense wat daar aanbid en ‘n altaar vir offerhandes wat in gebruik is. Johannes kry ‘n riet wat soos ‘n stok lyk en hy moet die tempel se afmetings neem.


Hoekom is dit belangrik om te weet dat ‘n werkende tempel weer gebou gaan word?



Ons het in Daniel 9:27 geleer dat die Antichris vir een week (7 jaar) ‘n verbond met die Jode gaan sluit en in die helfte van die week (na eerste 3,5 jaar) gaan die offerhandes gestaak word.


“En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.” DANIËL 9:27 AFR53


Is jy bewus dat huidiglik in Jerusalem die Jode alles in gereedheid het om hul derde tempel te bou? In my boek ‘Die tempel van God’ bespreek ek die derde tempel in detail en hier is ‘n lys van ‘n paar van die items wat huidiglik gereed is vir die derde tempel.

  1. ‘n Joodse Raad is in 2004 gekies (Eerste Joodse Raad na die tempel in 70 AD vernietig is)

  2. Rabbie Baruch Kahane, is in 2018 verkies as die hoë priester tydens die Hanukkah seremonie.

  3. ‘n Rooi koei of red heifer is in Jerusalem gebore

  4. Die priesters se kleredrag is alles klaar gemaak

  5. Die tempelmeubels is klaar gemaak (brandofferaltaar, koperwaskom, menorah, tafel van toonbrode en reukofferaltaar)

 

23 Julie 2020


OPENBARING 11:2 AFR53

Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap.

Johannes word vertel om die voorhof van die tempel nie te meet nie. Waar is die voorhof?


Die tempel bestaan uit die tempelgebou en ‘n voorhof wat omring is deur ‘n muur. Die muur het net een ingang wat aan die oostekant geleë is.

So die tempel bestaan uit die volgende:

Voorhof binne die tempelmuur

  1. brandofferaltaar

  2. koperwaskom

Tempelgebou – Kamer 1: Heilige plek

  1. menorah

  2. tafel van toonbrode

  3. reukofferaltaar

Tempelgebou – Kamer 2: Allerheiligste plek

  1. Tot en met Salomo se tempel is die verbondsark hier gehuisves.

  2. Huidiglik weet niemand waar die verbondsark is nie!

Die tempel se voorhof buite die tempel waarna die vers verwys is net buite die tempel ingang en in Herodus se tempel is dit die vrouehof genoem. Dit is die naaste wat Joodse vrouens aan die tempel ingang kon kom, en in die toekoms sal die gedeelte aan die heidene gegee word.


Die heilige stad is natuurlik Jerusalem en dit is waar die tempel weer gebou gaan word. Die heidene sal vir 42 maande die voorhof buite die tempelmuur in Jerusalem vertrap, of anders gestel hulle sal toegang tot die gedeelte he. 42 Maande = 1,260 dae = 3,5 jaar = die eerste helfte van Daniel se sewe jaar.

 

24 Julie 2020


OPENBARING 11:3 AFR53

En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank sal profeteer.


Twee spesiale mans wat hier getuies genoem word het ‘n spesifieke taak wat deur God self aan hulle gegee word.


Die twee getuies gaan vir 1,260 dae profeteer, en soos ons gister gesien het is dié tydperk dieselfde as die 42 maande wat die heidene die tempel se voorhof gaan vertrap. Altwee die gebeurtenisse gebeur gelyktydig gedurende die eerste helfte van Daniel se sewe jaar wat ons nou ken as die Verdrukking tydperk.


‘n Getuie is ‘n persoon wat getuig oor die waarheid van ‘n spesifieke gebeurtenis. Die Ou Testament leer ons dat slegs op die verklaring van twee of meer getuies sal ‘n saak van krag wees.


“Een getuie mag nie teen iemand optree insake enige misdaad of enige sonde, by enige misstap wat hy begaan nie; op die verklaring van twee getuies of op die verklaring van drie getuies sal ‘n saak van krag wees.” DEUTERONÓMIUM 19:15 AFR53


Die twee mans gaan getuig oor die sondes van die mense op aarde, sodat hulle of hulself bekeer of verewig hul harte teen God verhard.


Met sakke bekleed of anders gestel in sak en as! Die klere wat profete van ouds gedra het wanneer hul gerou het, of hartseer was. Die getuienis wat die twee mans lewer is nie ‘n blye boodskap nie.

 

25 Julie 2020


OPENBARING 11:4 AFR53

Hulle is die twee olyfbome en die twee kandelaars wat voor die God van die aarde staan.


Johannes word vertel wie die twee mans is. Die twee olyfbome en kandelaars is ‘n profesie wat deur Sagaria uitgespreek is en hier in Openbaring is nou die vervulling daarvan.

“En hy het vir my gesê: Wat sien jy? Toe antwoord ek: Ek sien daar ‘n kandelaar, heeltemal van goud, en sy oliekan bo-oor hom en sy sewe lampe op hom; telkens sewe aanvoerpype loop na die lampe wat bo-oor hom is. Ook twee olyfbome langs hom, een aan die regterkant van die oliekan en een aan die linkerkant daarvan.” SAGARÍA 4:2-3 AFR53


Olie vir die lampe is ‘n prentjie van die Heilige Gees. Die olyfbome word gedurigdeur gevul met die olie van die Heilige Gees.

Die twee olyfbome is die twee geslafdes wat by die Here van die ganse aarde staan. Dit beteken dat die twee getuies se bediening ‘n wêreldwye invloed gaan he.



“Daarop het ek begin spreek en aan hom gesê: Wat beteken hierdie twee olyfbome aan die regterkant van die kandelaar en aan die linkerkant daarvan? En hy sê: Dit is die twee gesalfdes wat by die Here van die ganse aarde staan.” SAGARÍA 4:11, 14 AFR53

 

26 Julie 2020


OPENBARING 11:5 AFR53

En as iemand hulle wil beskadig, gaan daar vuur uit hulle mond en verslind hulle vyande; en as iemand hulle wil beskadig, moet hy op dieselfde manier gedood word.


Die twee profete gaan ‘super powers’ he. Niemand sal hulle kan skade aandoen gedurende die 3,5 jaar wat hulle gaan profeteer nie. Die oningeligtes wat die twee gaan probeer doodmaak sal met vuur 🔥 gespoeg word. Die vers sê dat vuur uit hul monde sal uitgaan om hul vyande te verslind.


Daar is ‘n paar bespiegelinge oor wie die twee getuies kan wees. Die eerste goeie kandidaat is die profeet Elia wat nooit gesterf het nie maar lewendig opgeneem is hemel toe. Die profeet Maleagi het ook geprofeteer dat Elia gestuur gaan word voor die groot en vreeslike dag van die Here. Ons weet nou al dat dit verwys na die Verdrukking tydperk.


“En terwyl hulle aldeur loop en spreek, kom daar meteens ‘n wa van vuur met perde van vuur wat skeiding tussen hulle twee maak; en Elía het in die storm na die hemel opgevaar.” II KONINGS 2:11 AFR53


“Kyk, Ek stuur julle die profeet Elía voordat die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek.” MALEÁGI 4:5 AFR53


Die tweede kandidaat kan of Moses of Henog wees. Moses omdat hy saam met Elia ‘n ‘kantoor vergadering’ gehad het (geleen van wyle Chuck Missler) met Jesus op ‘n hoë berg. Henog omdat hy nooit gesterf het nie maar deur God weggeneem of weggeraap is.


“En Hy het voor hulle van gedaante verander, en sy aangesig het geblink soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig. En kyk, daar verskyn aan hulle Moses en Elía in gesprek met Hom.” MATTHÉÜS 17:2-3 AFR53


“En Henog het met God gewandel; en hy was daar nie meer nie, want God het hom weggeneem.” GÉNESIS 5:24 AFR53

 

27 Julie 2020


OPENBARING 11:6 AFR53

Hulle het mag om die hemel te sluit, sodat daar in die dae van hulle profesie geen reën val nie; en hulle het mag oor die waters, om dit in bloed te verander en om die aarde te tref met allerhande plae so dikwels as hulle wil.


Die twee getuies het die mag om die volgende te veroorsaak terwyl die sewe seëls en die eerste ses basuine die aarde tref.

– die hemel te sluit, sodat geen reën val nie (die gevolg is droogte)

– mag oor die water om dit in bloed te verander

– om die aarde met allerhande plae te tref

– spoeg vuur om hulself te beskerm


Geen wonder die twee het die beskerming van God nodig nie. Kom ons hersien wat als gebeur in die eerste 3,5 jaar van die Verdrukking terwyl die getuies hulle magte uitvoer en profeteer oor wat en waarom als besig is om te gebeur.


Die sewe seëls: Antichris, oorlog, hongersnood, dood, martelare, tekens in die lug.


Dan kom die eerste ses basuine: hael, vuur en bloed, 1/3 van see word bloed, 1/3 van water word bitter, 1/3 van son, maan en sterre word donker, demoon sprinkane pynig mense vir 5 maande, 200 miljoen demoon perde en ruiters maak 1/3 van mense dood.

 

28 Julie 2020


OPENBARING 11:7 AFR53

En wanneer hulle hul getuienis voleindig het, sal die dier wat uit die afgrond opkom, teen hulle oorlog voer en hulle oorwin en hulle doodmaak;


Ons word hier vertel dat die twee mans wat in sak en as gekleed is se getuienis gaan eindig, en ons weet dit gebeur 1,260 dae vandat hulle begin profeteer het. Hoe gaan hul einde kom?


Die dier wat uit die afgrond opkom gaan oorlog voer teen hulle en hulle doodmaak.


Die put van die afgrond is die hel of die onderwêreld en dit is die plek waar die Here die ongehoorsame engele-wêreld ingeperk het. Die dier van die afgrond kom van hier af.


Die verloop van die gebeure is als vooruitbepaal deur God wat die einde van die begin af ken!

 

29 Julie 2020


OPENBARING 11:8 AFR53

en hulle lyke sal lê op die straat van die groot stad wat geestelik genoem word Sodom en Egipte, waar ook onse Here gekruisig is.


Die twee getuies se lyke gaan op die straat lê, geen begrafnis word vir hulle gehou nie. Hul lyke gaan in die stad Jerusalem wees, dieselfde stad waar Jesus gekruisig is, ook die stad waar hulle die hele tyd geprofeteer het.


Die stad word geestelik Sodom en Egipte genoem, wat verwys na die geestelike verval van die mense in die stad.

 

30 Julie 2020


OPENBARING 11:9 AFR53

En mense uit die volke en stamme en tale en nasies sal hulle lyke drie en ‘n halwe dag lank sien en nie toelaat dat hulle lyke in die graf gelê word nie.


Al die mense van die wêreld sal die lyke sien wat op die straat in Jerusalem lê. Hoekom al die mense van die wêreld? Want die teks sê weereens, ‘en mense uit die volke, en stamme en tale en nasies.


Die mense sal drie en ‘n halwe dag lank na die lyke kyk en nie toelaat dat hulle begrawe word nie. Dit is hier waar vandag se tegnologie kan saamspeel sodat almal op hul tv’s kan kyk na die 24 uur tv dekking van die gebeure wat in Jerusalem se strate afspeel.

 

31 Julie 2020


OPENBARING 11:10 AFR53

Die bewoners van die aarde sal bly en verheug wees oor hulle en sal vir mekaar geskenke stuur, omdat dié twee profete die bewoners van die aarde gepynig het.


Die bewoners van die aarde is verheug oor die dood van die twee profete wat hulle gepynig het. Hulle dink moontlik dat al die slegte goed wat tot dusver gebeur het, met die dood van die twee getuies ook tot ‘n einde gaan kom. Hulle is so bly dat hulle vir mekaar persente koop om die jeugelike tyding te vier.


Is dit moontlik dat die bewoners van die aarde die gebeure van die seëls en die basuine aan die twee getuies toeskryf, want wie anders kon nou die rampe veroorsaak het ……..?

 

1 Augustus 2020


OPENBARING 11:11 AFR53

En ná die drie en ‘n halwe dag het ‘n gees van die lewe uit God in hulle ingegaan, en hulle het op hul voete gaan staan, en ‘n groot vrees het geval op die wat hulle aanskou het.


God vestig die wêreld se aandag 100% op sy twee gesalfdes en nou gaan hulle sien hoe wonderwerke verrig word. Nadat die twee getuies vir drie en ‘n halwe dae dood gelê het op ‘n straat in Jerusalem, word hulle uit die dood uit opgewek deur ‘n gees van die lewe wat uit God in hul ingaan.


‘n Groot vrees val op die toeskouers toe hulle sien hoe die twee getuies begin beweeg en op hul voete staan. Hulle moet op die stadium tog besef dat daar wel ‘n God is en dat hul straf nog nie verby is nie.

 

2 Augustus 2020


OPENBARING 11:12 AFR53

En hulle het ‘n groot stem uit die hemel vir hulle hoor sê: Kom op hierheen! En hulle het opgevaar na die hemel in die wolk, en hul vyande het hulle aanskou.


Kom op hierheen! Ons het hierdie woorde laas in Openbaring 4:1 gelees met wat ons aandui as die kerk se wegraping.


“Na hierdie dinge het ek gesien — kyk, ‘n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ‘n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur.” OPENBARING 4:1 AFR53


Hierdie keer is dit die twee getuies se beurt. God het hulle uit die dood uit opgewek, en nou vaar hulle op hemel toe in ‘n wolk terwyl hul vyande hulle aanskou.

 

3 Augustus 2020


OPENBARING 11:13 AFR53

En in dié uur het daar ‘n groot aardbewing gekom, en ‘n tiende van die stad het geval, en seweduisend mense het in die aardbewing omgekom, en die ander het bevrees geword en aan die God van die hemel heerlikheid toegebring.


Gedurende die uur wat die twee getuies opvaar hemel toe tref ‘n groot aardbewing die stad Jerusalem. Die aardbewing is so erg dat ‘n tiende van die stad val en seweduisend mense sterf.


In Elia (moontlik een van die getuis) se tyd toe hy gedink het hy is die enigste persoon wat nog vir God is, het God hom laat sien dat daar nog ‘n verdere seweduisend mense is wat nie die knieë vir Baäl gebuig het nie.


“Maar Ek sal seweduisend in Israel laat oorbly, al die knieë wat nie voor Baäl gekniel en elke mond wat hom nie gesoen het nie.” I KONINGS 19:18 AFR53


Daar is tog ‘n ander hoeveelheid wat bevrees word en heerlikheid aan die God van die hemel gee!

 

4 Augustus 2020


OPENBARING 11:14 AFR53

Die tweede wee het verbygegaan; kyk, die derde kom gou.


Ons weet dat daar drie wee is en dan sal die Verdrukking verby wees. Die eerste wee was die demoon sprinkane, en die tweede wee was die 200 miljoen demoon weermag wat ‘n derde van die wêreld doodgemaak het. Die eerste twee wee het ons tot by die middelpunt van die Verdrukking gebring. Die derde wee word vertel kom gou!


Die twee getuies het duidelik gedurende die eerste drie en ‘n half jaar van die Verdrukking geprofeteer en is dood gedurende die middel van die sewe jaar Verdrukking.

 

5 Augustus 2020


OPENBARING 11:15 AFR53

En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.


Die sewende engel blaas die sewende basuin!


Ons kry nou ‘n toekomsblik oor wat gaan gebeur as die sewe skale van wraak (die sewende basuin) klaar uitgegooi is. Die koninkryke van die wêreld is nie meer die eiendom van Satan nie, maar die eiendom van Jesus Christus, en Jesus gaan as Koning heers tot in alle ewigheid.


Aan die begin van Jesus se bediening terwyl Hy gevas het vir veertig dae en veertig nagte het Satan ‘n kortpad opsie aan Hom gebied om die koninkryke van die wêreld te bekom.


Jesus het die Satan egter weggejaag en die lang pad gevolg wat vooraf vir Hom beplan was.


“Weer neem die duiwel Hom saam na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid, en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid. Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” MATTHÉÜS 4:8-10 AFR53

 

6 Augustus 2020


OPENBARING 11:16-17 AFR53

En die vier-en-twintig ouderlinge wat voor God op hulle trone sit, het op hulle aangesig geval en God aanbid en gesê: Ons dank U, Here God, Almagtige, wat is en wat was en wat kom, dat U u groot mag aangeneem en as koning geheers het.


Met die blaas van die sewende engel se basuin, val die vier en twintig ouderlinge wat in die hemel is op hulle aangesigte neer en prys God omdat al die beloftes van die Bybel tot vervulling gekom het. Hulle prys God met danksegging, die God wat is, wat was en wat kom.

 

7 Augustus 2020


OPENBARING 11:18 AFR53

En die nasies was vertoornd, en u toorn het gekom en die tyd van die dode om geoordeel te word en om die loon te gee aan u diensknegte, die profete, en aan die heiliges en aan die wat u Naam vrees, klein en groot, en om die verderwers van die aarde te verderf.


Die ouderlinge gee ‘n vinnige oorsig oor die gebeure aan die einde van die Verdrukking.

Die nasies was woedend, en God se toorn het oor hulle gekom. Die dode word tydens die laaste oordeel voor die groot wit troon geoordeel en hul eindbestemming is die poel van vuur.


“En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.” OPENBARING 20:11 AFR53


Maar, die loon word gegee aan God se diensknegte, profete, heiliges en die wat God se Naam vrees, klein en groot. So duidelik is hier ‘n prys (loon) wat vir Christene gegee word.


“En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees.”

OPENBARING 22:12 AFR53

 

8 Augustus 2020


OPENBARING 11:19 AFR53

En die tempel van God het in die hemel oopgegaan, en sy verbondsark is in sy tempel gesien, en daar was weerligte en stemme en donderslae en aardbewing en groot hael.”


Johannes sien die tempel van God wat in die hemel oopgaan en binne die tempel sien hy die verbondsark. Hierdie is ons as Christene se eindbestemming, om in die tempel by God te woon.


In Openbaring 21 sien Johannes ‘n soortgelyke gesig. Hy sien die heilige stad, die nuwe Jerusalem wat van God uit die hemel neerdaal.


‘n Stem sê vir hom die tabernakel van God is by sy mense en God sal by hul woon. Dit verduidelik vir ons die tabernakel en die tempels wat deur die eeue heen gebou is.

God met ons! Omdat sonde die mens van God geskei het, het God die tempel gebruik om by sy mense te woon. 


“En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.” OPENBARING 21:2-3 AFR53”

124 views0 comments

Recent Posts

See All

Comentarios


bottom of page