top of page
Regina Torre

Openbaring 10

Updated: Jan 29, 2023


11 Julie 2020


OPENBARING 10:1 AFR53

“En ek het ‘n ander sterk engel uit die hemel sien neerdaal, bekleed met ‘n wolk, en ‘n reënboog was oor sy hoof, en sy aangesig was soos die son, en sy voete soos pilare van vuur;


Johannes sien ‘n ander engel wat uit die hemel neerdaal. Die beskrywing van die engel gee vir ons die volgende detail wat beskryf dat die engel ‘n belangrike plek in die hemel moet he.

  1. sterk engel

  2. bekleed met ‘n wolk

  3. ‘n reënboog oor sy hoof

  4. sy aangesig soos die son

  5. sy voete soos pilare van vuur

Hierdie is die derde verskyning van ‘n ander tipe engel. Die eerste was in Openbaring 7:2 waar die engel opdrag gegee het aan vier engele om te wag voor hul die aarde beskadig.


“En ek het ‘n ander engel sien opkom van die opgang van die son, met die seël van die lewende God; en hy het met ‘n groot stem geroep na die vier engele aan wie dit gegee is om die aarde en die see te beskadig” OPENBARING 7:2 AFR53


Die tweede engel was in Openbaring 8:3 wat met die gebede van die martelaars voor die altaar gestaan het.


“En ‘n ander engel het gekom en met ‘n goue wierookbak by die altaar gaan staan, en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die heiliges op die goue altaar voor die troon te lê;” OPENBARING 8:3 AFR53

 

12 Julie 2020


OPENBARING 10:2 AFR53

en in sy hand het hy ‘n geopende boekie gehad, en hy het sy regtervoet op die see gesit en sy linkervoet op die land;


‘n Aanduiding van engel se identiteit word gevind in iets wat hy dra: ‘n boekie. Die woord vir boek in Grieks is biblaridion, en die verkleinwoord is biblos, of klein boekrol. Die klein boekrol 📜 is wat die engel hier dra.


Die engel self is vêr van klein. Sy regtervoet is op die see, en sy linkervoet is op die land – reusagtig in voorkoms! Let ook op dat sy voet op die see en nie in die see is nie.

 

13 Julie 2020


OPENBARING 10:3 AFR53

en hy het met ‘n groot stem uitgeroep soos ‘n leeu wat brul, en toe hy uitgeroep het, het die sewe donderslae hulle stemme laat hoor.


Die engel roep uit met groot stem wat klink soos die geweldige brul van ‘n leeu. In antwoord tot die geweldige stem hoor Johannes die sewe donderslae wat hul stemme laat hoor.


Stemme wat klink soos donderslae is gewoonlik God se stem soos die vers hieronder bevestig.


“En die Here het in die hemel gedonder, en die Allerhoogste het sy stem laat hoor; hael en gloeiende kole.” PSALMS 18:14 AFR53

 

14 Julie 2020


OPENBARING 10:4 AFR53

En toe die sewe donderslae hulle stemme laat hoor het, wou ek skrywe; maar ek het ‘n stem uit die hemel vir my hoor sê: Verseël wat die sewe donderslae gespreek het, en skryf dit nie op nie.


Johannes wil soos hy tot nou toe gedoen het neerskryf wat hy hoor. Die sewe donderslae vertel hul gedeelte van die profesie en Johannes se eerste reaksie is om te skryf. Maar, ‘n stem uit die hemel sê vir Johannes hy moet nie skryf wat hy gehoor het nie, hy moet dit wat die donderslae gespreek het verseël. Hierdie is die enigste gedeelte in die hele boek Openbaring wat verseël is.


Iemand in die Ou Testament het ook ‘n profesie gehoor wat hy moes verseel. Dit is natuurlik Daniel – kom ons lees die gedeelte.


“En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder.” DANIËL 12:4 AFR53

 

15 Julie 2020


OPENBARING 10:5 AFR53

En die engel wat ek op die see en op die land sien staan het, het sy hand na die hemel opgehef,


Johannes kyk nog steeds vir die engel wat met sy een voet op die see en sy ander voet op die land staan. Die engel hef sy hand op na die hemel.


Daniel het ‘n soortgelyke gesig gehad.


“En ek, Daniël, het gesien, en kyk daar het twee ander gestaan, die een duskant op die wal van die rivier en die ander oorkant op die wal van die rivier. En een het aan die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivier was, gesê: Hoe lank sal die einde van die wonderbaarlike dinge uitbly? Toe hoor ek die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivier was, en hy het sy regterhand en sy linkerhand na die hemel opgehef …….. DANIËL 12:5-7a AFR53

 

16 Julie 2020


OPENBARING 10:6 AFR53

en hy het gesweer by Hom wat tot in alle ewigheid lewe, wat die hemel geskape het en wat daarin is, en die aarde en wat daarin is, en die see en wat daarin is, dat daar geen tyd meer sal wees nie;


Die engel wat sy hand na die hemel ophef sweer by Hom wat:

  1. tot in alle ewigheid lewe,

  2. die hemel geskape het en wat daarin is,

  3. die aarde geskape het en wat daarin is en

  4. die see geskape het en wat daarin is.

So die engel sweer by God wat die hemel en die aarde geskape het.


In Daniel se visioen het die engel ook gesweer by die Ewig-Lewende, so die engele wat Johannes en Daniel sien doen dieselfde.


“Toe hoor ek die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivier was, en hy het sy regterhand en sy linkerhand na die hemel opgehef en gesweer by die Ewig-Lewende: ‘n Tyd, tye en ‘n halwe tyd, en as hulle die mag van die heilige volk geheel verstrooi het, sal al hierdie dinge vervul word.” DANIËL 12:7 AFR53


Johannes se engel sweer dat daar geen tyd meer sal wees nie. Ons het nou die halfpad merk bereik en daar is nou drie en ‘n half jare oor, die Groot Verdrukking. Daniel se visioen vertel ook van die laaste 3,5 jare of tyd, tye en ‘n halwe tyd wat oor is voor al hierdie dinge vervul is.

 

17 Julie 2020


OPENBARING 10:7 AFR53

maar in die dae van die stem van die sewende engel, wanneer hy met die basuin sal blaas, dan is die verborgenheid van God volbring, soos Hy die blye tyding verkondig het aan sy diensknegte, die profete.


Die verborgenheid van God sal volbring wees wanneer die sewende engel die sewende basuin gaan blaas. God het in die Ou en Nuwe Testamente verborgenhede aan sy profete verkondig, en al die verborgenhede sal vervul word wanneer die laaste basuin blaas.


‘n Verborgenheid is in engels ‘n mystery en volg ‘n lys van ‘n paar mysteries.


Die koninkryk van God – “Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.”   MATTHÉÜS 13:11 AFR53


Die tydelike verharding van Israel – “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het;” ROMEINE 11:25 AFR53


Die wegraping – “Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.”   I KORINTHIËRS 15:51-52 AFR53


Die vrou en die dier – “Toe sê die engel vir my: Waarom het jy jou verwonder? Ek sal jou die verborgenheid van die vrou vertel en van die dier met die sewe koppe en die tien horings, wat haar dra.”    OPENBARING 17:7 AFR53

 

18 Julie 2020


OPENBARING 10:8 AFR53

En die stem wat ek uit die hemel gehoor het, het weer tot my gespreek en gesê: Gaan, neem die geopende boekie in die hand van die engel wat op die see en op die land staan.


Die stem wat Johannes uit die hemel gehoor het, praat weer met hom. Die stem gee ‘n opdrag om die boekie wat in die engel se hand is te gaan haal. Die is ‘n oop boek en dit is moontlik dat hierdie boek die verseëlde boek van Openbaring 5 kan wees.


Die boek in Openbaring 5 se sewe seëls is hier al oopgemaak. Die sewende seël het vir ons die sewe basuine gegee waarvan die eerste ses al geblaas het. Al wat uitstaande is, is die sewende seël wat geblaas moet word, en die vorige vers sê dan sal God se verborgenheid volbring wees.

 

19 Julie 2020


OPENBARING 10:9 AFR53

En ek het na die engel gegaan en aan hom gesê: Gee my die boekie. Toe sê hy vir my: Neem en eet dit op, en dit sal jou maag bitter maak, maar in jou mond sal dit soet wees soos heuning.


God se Woord word gereeld in die Bybel met kos vergelyk.


Brood – “Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” MATTHÉÜS 4:4 AFR53


Melk – “en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei,” I PETRUS 2:2 AFR53


Vaste kos (vleis) – “Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste kos nie, want julle kon dit nog nie verteer nie. En julle kan dit ook nou nog nie verteer nie,” 1 KORINTIËRS 3:2 AFR83


Heuning – “Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond.” PSALMS 119:103 AFR83


Om te sien, om in te neem, en om te weet … is nie genoeg nie. Dit is eers na die verwerking van die boek se inligting dat Johannes in staat is om ‘weer te profeteer’.

 

20 Julie 2020


OPENBARING 10:10 AFR53

Toe neem ek die boekie uit die hand van die engel en eet dit op, en in my mond was dit soet soos heuning; maar toe ek dit geëet het, het my maag bitter geword.


Die profesie wat Johannes lees het ‘n bittersoet uitwerking op hom. Hy neem die boek uit die hand van die engel en eet dit op. Hy het dus alles wat in die boek geskryf is sy eie gemaak en daar is ‘n soetheid aan die eindtyd inligting wat hy ontvang, maar soos die inligting verwerk word maak dit sy maag egter bitter.


Ek skat die profesie het dieselfde uitwerking ook op ons. Dit is lekker om te lees dat God op die einde oorwin en dat ons vir ewig en ewig saam met ons Verlosser gaan woon. Maar, as ons dink aan die vriende en familie wat ons ken wat nie vir Jesus kies nie, word ons maag ook bitter want hulle sal vir ewig en altyd van God geskei wees.

 

21 Julie 2020


OPENBARING 10:11 AFR53

En hy het vir my gesê: Jy moet weer profeteer oor baie volke en nasies en tale en konings.”


Johannes het hier met die oop boek verdere inligting gekry wat hy moes verteer aangaande die profesie van die eindtye. Hy word aangesê om nou weer vêrder te profeteer oor almal op die aarde. Almal op die aarde want ons word vertel – baie volke en nasies en tale en konings!

Hoofstukke 11-19 wat volg is die profesie wat Johannes aangesê is om met ons te deel.

6 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page