top of page

Kersfees 2022

Updated: Jan 24, 2023

1 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

WAAROM VIER ONS KERSFEES OP 25 DESEMBER?

Is 25 Desember werklik die geboortedag van Jesus of kom dit uit die heidendom soos sommiges beweer?  Die antwoord op beide die vrae is nee. 

25 Desember is nie die werklike geboortedag van Jesus nie, en die dag kom nie uit die heidendom nie.   

Wat wel waar is, is dat 25 Desember sedert die vierde eeu n.C. die Christelike kerk se feesdag is waarop Jesus se geboorte gevier word. Let wel: Jesus se geboorte en nie Sy geboortedag nie!

Uit ou geskrifte is dit duidelik dat Kersfees nie in die vroeë kerk gevier was nie. Dit het eers in 386 n.C. ’n vaste datum in die kerk geword, nadat keiser Konstantein die Christelike geloof gewettig het.

Die presiese datum van Jesus se geboorte maak nie regtig saak nie. Wat wel belangrik is, is die wondergebeure van dié dag waarvan die teksvers melding maak. “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het….” (Joh.3:16). 

Kersfees is ‘n geleentheid om wêreldwyd te getuig van Jesus se geboorte, en daarom bly Christene dit vier. 

Ek gaan tot en met Kersfees elke dag kyk na ‘n profesie van Jesus se geboorte en die vervulling daarvan. 

2 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  GÉNESIS 3:15 AFR53
“En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt.”

Hierdie vers staan ​​bekend as die moederbelofte (protoevangelium) - die eerste evangelie. Die vers stel twee elemente voor wat voorheen onbekend was in die Tuin van Eden, elemente wat die basis van Christenskap is. 
1. Die vloek op die mensdom as gevolg van Adam se sonde en
2. God se voorsiening van 'n Verlosser van sonde, wat die vloek op Homself sou neem.

Vervulling:  Haar saad – die eerste profesie van die maagdelike geboorte.

“Toe sê Maria vir die engel: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie? En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.”   LUKAS 1:34-35 AFR53

“Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou, gebore onder die wet,”   GALÁSIËRS 4:4 AFR53

3 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  GÉNESIS 12:1-3 AFR53
“En die Here het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”

VERVULLING:  Jesus is ‘n afstammeling van Abraham

‘n Profetiese belofte word hier vir Abraham en sy nageslagte gegee. Met tyd word meer detail deurgegee, en ons kom tot die besef dat Jesus se geboorte deel is van God se seëning aan Abraham.

“Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham:”   MATTHÉÜS 1:1 AFR53

Selfs Paulus bevestig dat Jesus van Abraham afstam.

“Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.”   GALÁSIËRS 3:16 AFR53
4 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  GÉNESIS 26:1-5 AFR53
“En daar was hongersnood in die land, buiten die eerste hongersnood wat in die dae van Abraham gewees het. Daarom het Isak getrek na Abiméleg, die koning van die Filistyne, na Gerar. En die Here het aan hom verskyn en gesê: Moenie aftrek na Egipte nie; woon in die land wat Ek jou sal aanwys. Vertoef as vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën; want aan jou en jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee: Ek sal die eed bevestig wat Ek vir jou vader Abraham gesweer het. En Ek sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word; omdat Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het.”

VERVULLING:  Jesus is ‘n afstammeling van Isak

Abraham het meer as een seun gehad, maar die vers vertel vir ons dat die seëninge vir die nageslag van Abraham deur sy seun Isak sal vloei, wat weereens vir Jesus insluit.

“Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham: Abraham was die vader van Isak, ………….   MATTHÉÜS 1:1-2 AFR53

5 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  GÉNESIS 28:12-14 AFR53
“En hy het gedroom — daar is ’n leer op die aarde opgerig waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het. En kyk, die Here het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die Here, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee; en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word.”

VERVULLING:  Jesus is ‘n afstammeling van Jakob

Hier het ons weereens bevestiging dat die seëninge van Abraham sal vloei deur sy seun Isak en daarna deur sy kleinseun Jakob. 

“Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham: Abraham was die vader van Isak, en Isak die vader van Jakob, ………..   MATTHÉÜS 1:1-2 AFR5

Jakob, wie se naam later na Israel verander is, het die vader geword van die patriarge van die twaalf stamme van Israel. Jakob het ongeveer 4000 jaar gelede geleef, wat ongeveer 2000 jaar voor Jesus se geboorte is.

6 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  GÉNESIS 49:10 AFR53
“Die septer sal van Juda nie wyk nie, nòg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees.”

VERVULLING:  Jesus is gebore uit die stam van Juda en die geslagsregister in Mattheus is bewys daarvan. 

“Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham: Abraham was die vader van Isak, en Isak die vader van Jakob, en Jakob die vader van Juda en sy broers; en Juda was die vader van Peres en Serag by Tamar, en Peres was die vader van Hesron, en Hesron die vader van Ram,”   MATTHÉÜS 1:1-3 AFR53

Die septer sal van Juda nie wyk nie, beteken dat die stam Juda sonder einde oor Israel sal regeer.
Die staf wat nie wyk tussen sy voete nie, is 'n beeld van 'n regter wat uit 'n regterstoel regeer.
Die woord Silo is 'n interessante Hebreeuse woord en kan vertaal word as "Hy wie se reg dit is".

Die gedeelte beteken dus dat die stam van Juda oor Israel sal regeer totdat die Een wie se reg dit is om te regeer, die troon sal opneem. Hierdie is natuurlik ‘n verwysing na die Messias se koms om te regeer.
Die stam van Juda sal van geslag tot geslag die heerskappy oor Israel hou, maar sodra die Messias kom, sal daar geen opeenvolging van heerskappy meer wees nie. Jesus sal die heerskappy vir ewig vashou en Hy sal oor alle volke heers, Jood en nie-Jood. Dit is nog in ons toekoms ook!
7 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  JESAJA 11:1 AFR53
“Maar daar sal ’n takkie uitspruit uit die stomp van Ísai, en ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra; 

VERVULLING:  Jesus is ‘n afstammeling van Isai

Wie was Isai? Isai was die vader van koning Dawid.
“en Ísai die vader van koning Dawid, en koning Dawid die vader van Salomo by die vrou van Uría,”   MATTHÉÜS 1:6 AFR53

Die stamboom in Mattheus wys vir ons dat Jesus ‘n afstammeling is van Abraham en Dawid deur sy aardse vader Josef.

“en Jakob die vader van Josef, die man van Maria uit wie gebore is Jesus wat Christus genoem word.”   MATTHÉÜS 1:16 AFR53
8 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  JEREMIA 23:5 AFR53
“Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek vir Dawid ’n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land.”

VERVULLING:  Jesus is ‘n afstammeling van koning Dawid

“die seun van Meléas, die seun van Mainan, die seun van Máttata, die seun van Natan, die seun van Dawid, die seun van Ísai, die seun van Obed, die seun van Boas, die seun van Salmon, die seun van Nagson,”   LUKAS 3:31-32 AFR53

Die stamboom in Lukas wys vir ons dat Jesus ‘n afstammeling was van Dawid deur sy moeder, Maria.

Maria se herkoms, soos opgeteken in Lukas, noem Maria nie by haar naam nie, maar dit is te verwagte — die insluiting van vrouens in geslagsregisters was nie standaardpraktyk nie.  Lukas se geslagsregister begin met Jesus, die seun van Josef, die seun van Eli.

“En Hy, Jesus, was omtrent dertig jaar oud toe Hy begin leer het; en Hy was, soos hulle gemeen het, die seun van Josef, die seun van Eli,”   LUKAS 3:23 AFR53

Hierdie opmerking bevestig die waarheid van Jesus se maagdelike geboorte. Josef was 'n ‘seun’ van Eli uit hoofde van sy huwelik met Maria, Eli se dogter.
9 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  DANIËL 9:25 AFR53
“Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ’n Gesalfde, ’n Vors, is sewe sewetalle; en twee-en-sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid.”

VERVULLING:  Jesus se eerste koms sal plaasvind nadat die tweede tempel herbou is.

Die engel Gabriel gee vir Daniel tydmerkers sodat hy en ons kan verstaan wanneer die tempel gebou sou word en wanneer ‘n Gesalfde (Jesus) sou verskyn. Die typerk se beginpunt is wanneer koning Kores (Cyrus) ‘n bevel uitreik om Jerusalem te herstel en op te bou.  

“So sê Kores, die koning van Persië: Al die koninkryke van die aarde het die Here, die God van die hemel, aan my gegee, en Hý het my opgedra om vir Hom 'n huis te bou in Jerusalem wat in Juda is. Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort — mag die Here sy God met hom wees, en laat hom optrek!”   II KRONIEKE 36:23 AFR53

Jerusalem se herstel het begin in die boek Esra met die bou van die tempel, en is voltooi met die bou van die muur in die boek Nehemia. Die tempel se bou het lank gevat as gevolg van vele teenkanting en in tye van benoudheid, maar die muur is in 52 dae voltooi. 

Jerusalem se herstel het volgens Daniel se profesie sewe sewetalle geneem, dus 7 x 7 jare = 49 jaar. Die tydperk vandat die muur voltooi is totdat Jesus Jerusalem inry (die intog van Jesus in Jerusalem) op ‘n donkie om as ‘n Vors gesalf te word is volgens Daniel se profesie twee-en-sestig sewetalle, dus 62 x 7 = 434 jare. 
10 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  DANIËL 9:26 AFR53 
“En ná die twee-en-sestig sewetalle sal ’n Gesalfde uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van ’n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met ’n oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings.”

VERVULLING:  Jesus se eerste koms sal wees voor die Romeine die tweede tempel en Jerusalem vernietig.

Geskiedenis leer ons dat Jerusalem en die tempel in 70 AD verwoes is. Jesus is gebore na die 2de tempel gebou is en is dood in ongeveer 33 AD voor die 2de tempel verwoes is. 

Die vers in Daniel verduidelik dat Jesus gaan sterf ná die twee-en-sestig sewetalle. Jesus, die Gesalfde, se intog in Jerusalem was vyf dae voor Hy gekruisig is.
Jerusalem (die stad) en die tempel (die heiligdom) is na Jesus se kruisiging in 70 AD verwoes deur die Romeine (volk van ‘n vors wat sal kom) wat daardie tyd aan bewind was. Al die gebeurtenisse is ná die twee-en-sestig sewetalle. Die woord oorstroming is ‘n aanduiding van die mag waarmee als vernietig is.
11 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  DEUTERONÓMIUM 18:17-19 AFR53
“Toe het die Here vir my gesê: Dit is goed wat hulle gespreek het. ’n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel. En die man wat nie luister na my woorde wat Hy in my Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap afeis.”

VERVULLING:  God sal ‘n profeet soos Moses stuur

Die verwysing na ’n profeet kon vervul word deur enige van die profete wat God na die nasie sou stuur.  Maar, die verwagting van die mense was egter duidelik dat God een spesifieke profeet sou stuur en hulle het daarna uitgesien.  Toe Johannes die Doper kom, het die mense hom gevra of hy die profeet is.  

“Toe vra hulle hom: Wat dan? Is u Elía? En hy sê: Ek is nie. Is u die profeet? En hy antwoord: Nee.”   JOHANNES 1:21 AFR53

Johannes het verduidelik dat hy nie die profeet was nie. Die Een wat Johannes aangekondig het, was die Messias, die profeet vir wie die mense gewag het.

“Johannes antwoord hulle en sê: Ek doop met water, maar onder julle staan Hy vir wie julle nie ken nie — dit is Hy wat ná my kom, wat voor my geword het, wie se skoenriem ek nie waardig is om los te maak nie. Dit het gebeur in Betábara, oorkant die Jordaan, waar Johannes besig was om te doop. Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem! Dit is Hy van wie ek gesê het: Ná my kom 'n man wat voor my geword het, want Hy was eerder as ek.”   JOHANNES 1:26-30 AFR53

Petrus het die rol van Messias met daardie profeet verbind en bevestig dat Jesus die Verwagte Een was.

“en Hy Hom mag stuur wat vooraf aan julle verkondig is, naamlik Jesus Christus, Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete. Want Moses het tot die vaders gespreek: Die Here julle God sal vir julle 'n Profeet verwek uit julle broeders net soos ek is; na Hom moet julle luister volgens alles wat Hy met julle sal spreek.”   HANDELINGE 3:20-22 AFR53
12 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  MALEÁGI 3:1 AFR53
“Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle ’n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die Here van die leërskare.”

VERVULLING:  ‘n Boodskapper sal Jesus voorafgaan.

Johannes die Doper was die laaste van die Ou Testament profete en het gepreek dat mense moet bekeer van hul sonde en terugdraai na God.

“In daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judéa gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.”   MATTHÉÜS 3:1-2 AFR53

Paulus verduidelik vir ‘n klompie dissipels in Efese dat Johannes verwys het na Jesus.

“Daarop sê Paulus: Johannes het met die doop van bekering gedoop en aan die volk gesê dat hulle moes glo in die Een wat ná hom kom, dit is in Christus Jesus.”   HANDELINGE 19:4 AFR53

Johannes het Jesus gedoop, waartydens beide die Vader en die Heilige Gees bewyse gegee het dat Jesus inderdaad die Christus was.  

“En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos 'n duif neerdaal en op Hom kom. En daar kom 'n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het.”   MATTHÉÜS 3:16-17 AFR53

As God se boodskapper om die weg vir Jesus voor te berei, was Johannes getrou aan sy roeping en het hy een van die grootste profete geword.

“Want Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, is daar geen profeet groter as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van God is groter as hy.”   LUKAS 7:28 AFR53
13 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  LUKAS 1:11-13 AFR53
Toe verskyn daar aan hom ’n engel van die Here, wat aan die regterkant van die reukofferaltaar staan. En toe Sagaria hom sien, was hy ontsteld, en vrees het hom oorval. Maar die engel sê vir hom: Moenie vrees nie, Sagaría, want jou gebed is verhoor, en jou vrou Elisabet sal vir jou ’n seun baar, en jy moet hom Johannes noem.

VERVULLING:  Sagaria en Elisabet sal ‘n seun kry wat hulle Johannes moet noem - die Johannes wat Jesus se weg sou voorberei.

Die boodskapper wat Jesus sou voorafgaan se ouers was kinderloos tot op ‘n laat ouderdom. Die engel wat aan Sagaria verskyn terwyl hy tempeldiens doen, sê vir hom dat sy vrou ‘n seun sal baar en sy naam moet Johannes wees. Die engel gee verder vir hom ‘n beskrywing van die seun se karakter. 

“En hy sal blydskap en verheuging vir jou wees, en baie sal oor sy geboorte bly wees; want hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af. En hy sal baie van die kinders van Israel bekeer tot die Here hulle God. En hy sal voor Hom uit gaan in die gees en die krag van Elía, om die harte van die vaders terug te bring tot die kinders en die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges, om vir die Here 'n toegeruste volk te berei.”   LUKAS 1:14-17 AFR53
14 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  LUKAS 1:26-31 AFR53
“En in die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na ’n stad in Galiléa met die naam van Násaret, na ’n maagd wat verloof was aan ’n man met die naam van Josef, uit die huis van Dawid; en die naam van die maagd was Maria. En die engel het by haar binnegekom en gesê: Wees gegroet, begenadigde! Die Here is met jou; geseënd is jy onder die vroue. En toe sy hom sien, was sy baie ontsteld oor sy woord, en sy het daaroor nagedink wat hierdie groet tog kon beteken. En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. En kyk, jy sal swanger word en ’n Seun baar,  en jy moet Hom Jesus noem.”
 
VERVULLING:  ‘n Engel verskyn aan Maria en kondig Jesus se geboorte aan.

Die engel Gabriël verskyn aan Maria en kondig aan dat sy sal swanger word. Die verse gee ook vir ons haar presiese omstandighede en herkoms wat as bevestiging herhaal word in hoofstuk 2, wat as vervulling van die gedeelte dien.

- Maria (‘n maagd) was swanger en verloof aan Josef.
- Maria en Josef het gewoon in die stad Nasaret in Galilea.
- Albei was van die stam van Dawid en was oppad na Betlehem vir die volkstelling.

“En Josef het ook opgegaan van Galiléa, uit die stad Násaret, na Judéa, na die stad van Dawid, wat Betlehem genoem word, omdat hy uit die huis en geslag van Dawid was, om hom te laat inskrywe saam met Maria, die vrou aan wie hy hom verloof het, wat swanger was.”   LUKAS 2:4-5 AFR53
15 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  MATTHÉÜS 1:19-21 AFR53
“En Josef, haar man, omdat hy regverdig was en onwillig om haar openbaar te maak, het hom voorgeneem om in die geheim van haar te skei. Maar terwyl hy dit in die gedagte gehad het, verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan hom en sê: Josef, seun van Dawid, wees nie bevrees om Maria, jou vrou, by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees; en sy sal ’n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”

VERVULLING:  ’n Engel verskyn aan Josef en sê vir Hom dat hy Maria nie moet los nie

“En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons. En toe Josef uit die slaap wakker word, het hy gedoen soos die engel van die Here hom beveel het en sy vrou by hom geneem; en hy het haar nie beken totdat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie; en hy het Hom Jesus genoem.”   MATTHÉÜS 1:22-25 AFR53
 
Terwyl Lukas se weergawe van die verhaal van Jesus se geboorte meer op Maria se ervaring fokus, beskryf Matteus dit vanuit Josef se perspektief. Maria en Josef was volgens Joodse tradisie aan mekaar belowe om te trou, iets heelwat meer formeel as 'n moderne verlowing. Dit het waarskynlik beteken dat Josef 'n ooreenkoms met Maria se pa gemaak het, miskien jare tevore, om Maria as sy vrou te neem. So ‘n ooreenkoms was bindend en wetlik en hulle was so goed soos getroud, behalwe vir die huwelikseremonie en die fisiese voltooiing van die huwelik.

Al wat Josef geweet het, was dat sy verloofde swanger was, met 'n kind wat nie syne is nie. Hy het besluit dat die beste uit vir hom was om in die geheim die verlowing met Maria te verbreek. Maar, ‘n engel van die Here het aan hom verskyn en hom ingelig dat die Heilige Gees hier gewerk het en dat hy Maria beslis nie moet los nie. Josef was gehoorsaam en het na die engel geluister. 
16 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  NÚMERI 24:17 AFR53
“Ek sien hom, maar nie nou nie, ek aanskou hom, maar nie naby nie: ’n ster kom te voorskyn uit Jakob, en ’n septer kom uit Israel op, en hy verbrysel die slape van die hoof van Moab en werp al die oorlogsugtiges omver.”

VERVULLING:  ‘n Ster verskyn in die hemel wat Jesus se geboorte aankondig.

Daniel die profeet, wat ses eeue voor Jesus se geboorte gelewe het, het ‘n ongelooflike aantal Messiaanse profesieë teboek gestel. Nie net het hy vir ons die wêreldgeskiedenis se tydlyn gegee nie, maar die engel Gabriël het vir hom die presiese dag gegee wat Jesus Homself as Koning in Jerusalem sou voorstel (die inttog in Jerusalem). 

Een van Daniel se titels onder die heerskappy van Nebukadneser was ‘owerste van die geleerdes’, dus hoof van die ‘wyse manne’.

“Béltsasar, owerste van die geleerdes, van wie ek weet dat die gees van die heilige gode in jou is en dat geen enkele geheim jou kwel nie, vertel my die droomgesigte wat ek gesien het, naamlik die uitlegging daarvan.”   DANIËL 4:9 AFR53

Daniel en die ander Ou Testament profete se profesieë is nie net in die Bybel geboekstaaf nie, maar was ook onder Daniel se leierskap beskikbaar vir die wyses van die Persiese Ryk. Die wyse manne uit die Ooste het ook die profesieë geken en geweet wat die ster beteken wat hulle in die hemel gesien het. Interessant dat húlle deur God gebruik was om die ster te volg om hulde te kom bewys aan die Koning van die Jode wat gebore is!

“En toe Jesus te Betlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is? Want ons het sy ster in die Ooste gesien en gekom om Hom hulde te bewys.”   MATTHÉÜS 2:1-2 AFR53
17 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  PSALMS 72:10-11 AFR53
“Die konings van Tarsis en van die eilande sal geskenke aanbied, die konings van Skeba en Seba belasting aanbring. Ja, al die konings sal hulle voor hom buig, al die nasies sal hom dien.”

VERVULLING:  Konings sal vir Hom geskenke bring en voor Hom buig - ‘n tweeledige profesie van Jesus se eerste en tweede koms.

Die geskenke van goud, wierook en mirre was ook profeties, en stel Jesus se ampte van koning, priester en verlosser voor. Goud praat van Sy koningskap, wierook was 'n spesery wat in die priesterlike ampte gebruik is, en mirre was 'n balsemsalf wat Sy dood voorgestel het. 

En hulle het in die huis gegaan en die Kindjie by Maria, sy moeder, gevind en neergeval en Hom hulde bewys. Daarop maak hulle hul skatte oop en bring vir Hom geskenke: goud en wierook en mirre.”   MATTHÉÜS 2:11 AFR53

In die millennium sal Jesus ook geskenke van goud en wierook ontvang, maar geen mirre nie. Sy dood was eens en vir altyd.  

“ 'n Menigte kamele sal jou oordek, die jong kamele van Mídian en Efa; hulle sal almal uit Skeba kom; hulle bring goud en wierook en verkondig met blydskap die roemryke dade van die Here.”   JESAJA 60:6 AFR53
18 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  LUKAS 2:8-12 AFR53 
“En daar was herders in dieselfde landstreek, wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. En meteens staan daar ’n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn en groot vrees het hulle oorweldig. En die engel sê vir hulle: Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is. En dit is vir julle die teken: julle sal ’n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê.”

VERVULLING:  Die engele kondig Jesus se geboorte aan

Die herders wat die skape opgepas het, wat uiteindelik vir die slagting bedoel was, het 'n goddelike boodskap ontvang oor die Lam wat die sondes van die wêreld sou wegneem deur Sy dood en opstanding.

“En toe die engele van hulle weggegaan het na die hemel, sê die herders vir mekaar: Laat ons dan na Betlehem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat die Here aan ons bekend gemaak het. En hulle het met haas gegaan en Maria en Josef gevind en die kindjie wat in die krip lê. En toe hulle dit gesien het, het hulle oral die woord bekend gemaak wat aan hulle van dié Kindjie vertel is.”   LUKAS 2:15-17 AFR53

Jesus is inderdaad die Lam van God wat gekom het om die sondes van die wêreld weg te neem deur die vergieting van Sy bloed. Terwyl die herders bloot verheug was oor die feit dat hulle Jesus gesien het, sien God die uiteindelike einde van Jesus se koms na die aarde:

“Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hý sal hulle skuld dra.”   JESAJA 53:11 AFR53
19 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  JESAJA 9:1-2 AFR53
“Die volk wat in duisternis wandel, het ’n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het ’n lig geskyn. U het die nasie vermenigvuldig, hulle vreugde groot gemaak; hulle is vrolik voor u aangesig soos iemand vrolik is in die oestyd, soos iemand juig as die buit verdeel word.”

VERVULLING:  Jesus, ‘n lig wat skyn in die duisternis.

Hierdie woorde van die profeet Jesaja het vertel van die komende Vredevors, en van die lig en lewe wat Hy sou bring.

“In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.”   JOHANNES 1:4-5 AFR53

“’n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel.”   LUKAS 2:32 AFR53
20 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  LUKAS 1:31 AFR53
“En kyk, jy sal swanger word en ’n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem.”

VERVULLING:  Maria moet haar Baba, Jesus noem.

“Die geboorte van Jesus Christus was dan só: Toe sy moeder Maria verloof was aan Josef, voordat hulle saamgekom het, is sy swanger bevind uit die Heilige Gees.”   MATTHÉÜS 1:18 AFR53

“En Hy, Jesus, was omtrent dertig jaar oud toe Hy begin leer het; en Hy was, soos hulle gemeen het, die seun van Josef, die seun van Eli,”   LUKAS 3:23 AFR53
21 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  MIGA 5:1-2 AFR53 
“En jy, Betlehem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Juda, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ’n Heerser in Israel sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid. Daarom sal Hy hulle prysgee tot op die tyd dat ’n barende gebaar het. Dan sal die oorblyfsel van sy broers saam met die kinders van Israel terugkeer.”

VERVULLING:  Jesus is gebore in die dorp Betlehem Efrata.

Tydens Jesus se geboorte was daar twee dorpe in Israel met die naam Betlehem. Die een was naby Nasaret in die Noorde van die land en die ander een naby Jerusalem in Juda. Betlehem naby Jerusalem is vroeër Efrata genoem en dit is waar Jesus  gebore is, net soos die profesie voorspel het. 

“En toe Jesus te Betlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom”.  MATTHÉÜS 2:1 AFR53
 
22 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  PSALMS 2:7 AFR53
“Ek wil vertel van die besluit: Die Here het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer.”

VERVULLING:  Jesus, die Seun van God!

“En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.”   LUKAS 1:35 AFR53

“Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer? en weer: Ek sal vir Hom ’n Vader wees, en Hy sal vir My ’n Seun wees?”   HEBREËRS 1:5 AFR53

“want Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe hierdie stem uit die luisterryke heerlikheid tot Hom gekom het: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het.”   II PETRUS 1:17 AFR53
23 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  JESAJA 7:13-14 AFR53
“Toe sê hy: Luister tog, o huis van Dawid! Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei, dat julle my God ook vermoei nie? Daarom sal die Here self aan julle ’n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en ’n seun baar en hom Immánuel noem.”

VERVULLING:  Jesus se ma sou ‘n maagd wees by Sy geboorte.

Toe die engel aan Maria verskyn het, het sy spesifiek verstaan ​​wat 'n wonderbaarlike gebeurtenis dit sou wees as sy swanger kon word, want soos sy uitgewys het, sy was nog nooit by ‘n man nie.  Sy het getuig dat sy 'n maagd was, en dit het verseker dat haar swangerskap 'n presiese vervulling van Jesaja se profesie sou word.

“En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. En kyk, jy sal swanger word en 'n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. 
Toe sê Maria vir die engel: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie?”   LUKAS 1:30-31, 34 AFR53
 
Die Afr83 vertaling verduidelik beter..

“Maar Maria sê vir die engel: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met 'n man gehad het nie?””   LUKAS 1:34 AFR83
24 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  JESAJA 59:20 AFR53
“Maar vir Sion kom Hy as Verlosser en vir die wat in Jakob hulle bekeer van oortreding, spreek die Here.”

VERVULLING:  Jesus, die beloofde Verlosser.

“Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.”   GALÁSIËRS 4:4-5 AFR53

“terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself ’n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.”   TITUS 2:13-14 AFR53
25 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  JESAJA 9:5 AFR53 
“Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors —”

Slegs die eerste gedeelte van die vers is reeds vervul met Jesus se geboorte. Die tweede gedeelte moet nog vervul word met Jesus se tweede koms.

VERVULLING: ‘n Kind vir ons gebore

“dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.”   LUKAS 2:11 AFR53

Geseënde Kersfees aan al my lesers!
26 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  JEREMIA 31:15 AFR53
“So sê die Here: ’n Stem word gehoor in Rama, geklaag, bitter geween; Ragel ween oor haar kinders; sy weier om getroos te word oor haar kinders, omdat hulle daar nie is nie.”

Vervulling:  Kindermoord om Jesus dood te maak.

Nadat koning Herodes gehoor het van hierdie nuwe koning wat in Betlehem gebore is, het hy die baba as 'n bedreiging vir sy eie heerskappy gesien. Herodes het twee van sy eie seuns laat vermoor omdat hy gedink het dat hulle sy beheer sou bedreig. En so het hy beveel dat al die kinders van twee jaar en jonger in die omgewing van Bethlehem doodgemaak moet word.  Maar, Josef is in 'n droom gewaarsku, en daarom het hy Maria en Jesus geneem, en na Egipte gevlug.

“Toe Herodes sien dat hy deur die wyse manne mislei was, het hy baie woedend geword en gestuur en in Betlehem en in al die omstreke daarvan al die seuntjies van twee jaar en daaronder laat ombring, ooreenkomstig die tyd wat hy van die wyse manne uitgevra het. Toe is vervul wat deur Jeremia, die profeet, gespreek is toe hy gesê het: ’n Stem is in Rama gehoor: rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie.”   MATTHÉÜS 2:16-18 AFR53
27 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  HOSÉA 11:1 AFR53
“Toe Israel ’n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.”

Vervulling:  Jesus vertrek uit Egipte na Israel.

“En toe hulle teruggegaan het, verskyn daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef en sê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder en vlug na Egipte, en bly daar totdat ek jou sê; want Herodes gaan die Kindjie soek om Hom dood te maak. Hy het toe opgestaan, die Kindjie en sy moeder in die nag geneem en na Egipte vertrek. En hy was daar tot die dood van Herodes, sodat die woord vervul sou word wat die Here gespreek het deur die profeet: Uit Egipte het Ek my Seun geroep.”   MATTHÉÜS 2:13-15 AFR53

“En ná die dood van Herodes het daar ’n engel van die Here in ’n droom aan Josef in Egipte verskyn en gesê: Staan op, neem die Kindjie en sy moeder, en gaan na die land van Israel; want hulle is dood wat die lewe van die Kindjie gesoek het. En hy het opgestaan, die Kindjie en sy moeder geneem en in die land van Israel gekom.”   MATTHÉÜS 2:19-21 AFR53
28 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  JESAJA 55:5 AFR53
“ Kyk, nasies wat jy nie geken het nie, sal jy roep; en nasies wat jou nie geken het nie, sal na jou hardloop, ter wille van die Here jou God en van die Heilige van Israel, omdat Hy jou verheerlik het.”

VERVULLING:  Roep hulle wat nie Sy volk is nie.

“ons naamlik wat Hy geroep het, nie alleen uit die Jode nie, maar ook uit die heidene? Soos Hy ook in Hoséa sê: Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem; en haar wat nie bemin is nie, beminde; en in die plek waar aan hulle gesê is: Julle is nie my volk nie! — daar sal hulle genoem word kinders van die lewende God.”   ROMEINE 9:24-26 AFR53
29 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  JESAJA 11:2 AFR53
“en op Hom sal die Gees van die Here rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here.”

VERVULLING: Die Gees van God sal op Jesus rus.

“En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos 'n duif neerdaal en op Hom kom.”   MATTHÉÜS 3:16 AFR53

“En in daardie dae het Jesus van Násaret in Galiléa gekom en is deur Johannes in die Jordaan gedoop. En dadelik toe Hy opklim uit die water, sien Hy die hemele skeur en die Gees soos 'n duif op Hom neerdaal.”   MARKUS 1:9-10 AFR53

“met betrekking tot Jesus van Násaret, hoe God Hom gesalf het met die Heilige Gees en met krag. Hy het die land deurgegaan, goed gedoen en almal genees wat onder die mag van die duiwel was, omdat God met Hom was.”   HANDELINGE 10:38 AFR53
30 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  JESAJA 29:18 AFR53 
“En in dié dag sal die dowes Skrifwoorde hoor, en uit donkerheid en duisternis sal die oë van die blindes sien.”

VERVULLING:  Dowes sal hoor en blindes sal sien.

“En Jesus het geantwoord en vir hulle gesê: Gaan vertel aan Johannes wat julle hoor en sien: blindes sien weer en kreupeles loop, melaatses word gereinig en dowes hoor, dooies word opgewek en aan armes word die evangelie verkondig.”   MATTHÉÜS 11:4-5 AFR53

“En hulle was uitermate verslae en het gesê: Hy het alles goed gedoen: die dowes laat Hy hoor en die stommes praat.”   MARKUS 7:37 AFR53
31 Desember 2022 - Vervulde Bybelprofesië oor Jesus!

PROFESIE:  JESAJA 61:1-2 AFR53
“Die Gees van die Here Here is op My, omdat die Here My gesalf het om ’n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ’n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep ’n jaar van die welbehae van die Here en ’n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos;”

VERVULLING:  Jesus se bediening is deur die profeet Jesaja gesien.

Jesus lees in die Sinagoge dié gedeelte uit Jesaja om vir die luisteraars te vertel wat Sy bediening gaan behels en vervul so die woorde van Jesaja. Hy maak egter die boek toe net voor die laaste sin wat sê: en ’n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos; – hierdie gedeelte is onvervuld en wag vir Jesus se tweede koms.

Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig. En nadat Hy die boek toegemaak en aan die dienaar teruggegee het, gaan Hy sit, en die oë van almal in die sinagoge was op Hom gevestig.”   LUKAS 4:16-20 AFR53

“Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul. En almal het vir Hom getuienis gegee en was verwonderd oor die aangename woorde wat uit sy mond kom; en hulle sê: Is Hy nie die seun van Josef nie?”   LUKAS 4:21-22 AFR53
83 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page