top of page
  • Regina Torre

Jesus se woorde – Mattheus 24

Updated: Jan 28, 2023


25 Maart 2022


MATTHÉÜS 24:1 AFR53

“En Jesus het uitgegaan en van die tempel vertrek, en sy dissipels het nader gekom om Hom die geboue van die tempel te wys.”


Nadat Jesus die verwoesting van die tempel voorspel het, verlaat Hy die tempel. Hy het nie net vir daardie dag daaruit gegaan nie, maar Hy het Sy laaste afskeid van die tempel geneem, om nooit weer daarna terug te keer nie.


Die dissipels wat die uiterlike prag en wêreldse grootsheid van die tempel ingeneem het, was besorg dat so ‘n pragtige gebou vernietig sou word. Hulle het na Jesus gegaan wat uit die tempel uitgegaan het om net weer vir Hom die geboue te wys.


In Markus se weergawe lees ons dat een van die dissipels met Jesus gepraat het en met verwondering gewys na die klippe en die geboue.


“En toe Hy uit die tempel uitgaan, sê een van sy dissipels vir Hom: Meester, kyk watter klippe en watter geboue!” MARKUS 13:1 AFR53


Jesus sê egter vir die dissipels. Sien julle al hierdie dinge? Daar sal sekerlik nie een klip op die ander gelaat word wat nie afgebreek sal word nie.


“En Jesus sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.” MATTHÉÜS 24:2 AFR53


Jesus en vier van Sy dissipels gaan sit op die Olyfberg regoor die tempel. Die vier dissipels – Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas – is alleen saam met Jesus en hulle gaan vir Hom ‘n klomp vrae vra.


“En toe Hy gaan sit het op die Olyfberg, regoor die tempel, vra Petrus en Jakobus en Johannes en Andréas Hom afsonderlik:” MARKUS 13:3 AFR53


Verskillende groepe het na Jesus geluister.

– Eerstens die skares wat Hom oral heen gevolg het om Sy wonderwerke te sien en te beleef.

– Tweedens leer Lukas ons van sewentig ander dissipels wat Jesus aangestel het en twee-twee voor Hom uitgestuur het.


“En ná hierdie dinge het die Here weer sewentig ander aangestel, en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke stad en plek waar Hy sou kom.” LUKAS 10:1 AFR53

– Dan is daar die twaalf dissipels wat Jesus gekies het om saam met Hom te werk, en

– En ten laaste kry ons die binnekring van die dissipels, en dit is die vier wat hier op die Olyfberg saam met Jesus gesels.

 

26 Maart 2022


MATTHÉÜS 24:3 AFR53

“En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?”


Die dissipels en Jesus sit alleen op die Olyfberg en hulle vra vir Jesus die volgende.

1. Wanneer sal hierdie dinge wees (die vernietiging van die tempel),

2. Wat is die teken van U koms, en

3. Wat is die teken van die voleinding van die wêreld.


Jesus gaan al hierdie vrae en nog meer beantwoord. Jesus begin deur ‘n bykomende vraag te antwoord wat die dissipels nie aan gedink het nie – wat sal NIE tekens van die einde van die eeu wees NIE.


“En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei.” MATTHÉÜS 24:4-5 AFR53


Die eerste vals teken waarmee sommige geflous sal word, is valse messias, maar Jesus sê ons moet hulle nie glo nie. Baie sal egter val vir hierdie vervalsings, soos ons in die verlede gesien het, en daar sal meer wees om te kom. Is dit nie interessant dat jy selde of ooit mense sien wat beweer dat hulle Mohammed of Boeddha is nie, hoekom? Omdat Satan weet wie die ware God is, so hy steur hom nie daaraan om die ander te vervals nie, want hulle is betekenisloos.


Hoe kan ons so seker wees dat almal wat sê dat hulle Jesus is, wel verkeerd is? Deur te kyk wat gebeur wanneer Jesus terugkom. Wanneer Jesus terugkom, kan ons Hom nie mis nie, want soos ons later sal leer, sal Hy ons saam met Hom bring. Daarom kan ons enigiemand wat beweer hulle is Jesus veilig ignoreer…dit is altyd nonsens en dit is nie ‘n teken van die einde nie.


Jesus sê ook ons moet nie bekommerd wees oor oorloë of gerugte van oorloë nie.


“En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie.” MATTHÉÜS 24:6 AFR53


In ons wêreld is oorloë en gerugte van oorloë ‘n konstante, maar oorlog is nie ‘n teken van enigiets op sigself nie. Wanneer jy hoor van nuwe geweld in die Midde-Ooste of wêreldmoondhede wat mekaar bedreig, is dit niksseggend. Hierdie dinge gebeur bloot omdat ons in ‘n wêreld van sonde leef, so hierdie dinge is nie tekens van die einde nie.


Jesus sê: dit moet alles plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie!

 

27 Maart 2022


MATTHÉÜS 24:7 AFR53

“Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke.”


Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander.

Hierdie klink baie soos oorlog, maar ‘n oomblik vroeër het Jesus vir ons gesê om nie gewone oorlog as ‘n teken te sien nie. Ons moet die frase “nasie teen nasie en koninkryk teen koninkryk” in sy historiese konteks verstaan. Die skrifgeleerdes het hierdie terminologie gebruik vir ‘n tipe oorlog wat nog nooit tevore op aarde ervaar is nie, en so ‘n oorlog was ‘n wêreldoorlog wat alle nasies en koninkryke op aarde in ‘n gemeenskaplike konflik sou betrek.


Die Eerste Wêreldoorlog, dikwels afgekort as WWI, was ‘n internasionale konflik wat op 28 Julie 1914 begin het en op 11 November 1918 geëindig het en altesaam 88% van die wêreld se nasies het op een of ander vlak aan die oorlog deelgeneem.


Die Tweede Wêreldoorlog, dikwels afgekort as WWII, was ‘n wêreldoorlog wat van 1939 tot 1945 geduur het. Hierdie oorlog was groter en erger as die vorige oorlog, en het 95% van die wêreld se nasies betrek.


Die vraag is dus, hoe gaan die volgende oorlog lyk?


Hongersnood op verskillende plekke:

Waar in die wêreld is daar hongersnood? – Sowat 30 miljoen mense ervaar kommerwekkende honger, ernstige vlakke van voedselonsekerheid en wanvoeding in die noordooste van Nigerië, Suid-Soedan, Somalië en Jemen. 10 miljoen van hulle staar noodtoestande en hongersnood in die gesig.


Wat beteken wêreldhongersnood? – Hongersnood is ‘n wydverspreide toestand waarin baie mense in ‘n land of streek nie toegang tot voldoende voedselvoorrade het nie. Hongersnood lei tot wanvoeding, hongersnood, siektes en hoë sterftesyfers.


Neem hongersnood in die wêreld toe? – Nadat hongersnood vir ‘n dekade lank geleidelik afgeneem het, is wêreldhonger aan die toeneem, en raak sowat 9,9 persent van mense wêreldwyd.


Pessiektes op verskillende plekke:

Ons hoef nie veel oor die een te bespiegel nie. Die hele huidige wêreld het vir die eerste keer ‘n pandemie deurleef met die Covid-19 pessiekte. Hierdie is ongelukkig nie die laaste pessiekte wat ons gaan beleef nie.


Aardbewings op verskillende plekke:

Wetenskaplikes het die historiese rekord van aardbewings groter as 8,0 in omvang ontleed en tot die gevolgtrekking gekom dat die wêreldwye frekwensie van groot aardbewings vandag nie hoër is as wat dit in die verlede was nie. Resultate van die studie is op 17 Januarie 2012 gepubliseer in Proceedings of the National Academy of Sciences.


Dit voel deesdae asof die hele wêreld op sy kop gedraai is en dat niks is soos wat dit was nie. Ons beleef nog steeds die laaste stuiptrekkings van die Covid pandemie, en elke dag as ons ons tv’s aanskakel hoor en lees ons van die oorlog in die Ukraine. Die nuus maak ons bang met wêreld voedsel tekorte wat mag kom en kort-kort hoor ons van ‘n aardbewing wat iewers getref het.


Jesus leer ons dat al hierdie dinge slegs die begin van smarte is.

Die AFR83 vertaling sê al hierdie dinge is soos geboortepyne en ook die begin van ‘n nuwe tyd. Hoewel ons voel of die geboortepyne meer word, kan ons nie op gevoel staatmaak nie, ons moet kyk na die feite. Miskien is dit tyd om ons TV’s, selfone, ipads en rekenaars ‘n ruskans te gee sodat ons onder die wêreld se invloed en bangmaakstories kan uitkom. Wanneer al hierdie tekens soos geboortepyne regtig meer word en nader aan mekaar beweeg in intensiteit, gaan ons nie daaroor hoef te bespiegel nie, ons gaan weet die tyd van smarte het begin.

Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte.” MATTHÉÜS 24:8 AFR53

“Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.” MATTEUS 24:8 AFR83

 

28 Maart 2022


MATTHÉÜS 24:9 AFR53

“Die mense sal julle oorlewer om mishandel te word, en hulle sal julle doodmaak. Julle sal deur al die nasies gehaat word omdat julle my Naam bely.”


Net soos gelowiges in die 1ste eeu voor die tempel se vernietiging vervolg is, so sal dit weer gebeur voor Jesus se wederkoms. Gelowiges sal vervolg, gemartel en gehaat word as gevolg van hul assosiasie met Jesus.


Alhoewel Christene voorheen net hier en daar vervolg is, gaan dit aan die einde orals en die hele tyd gebeur. Dit sal onmoontlik wees om ‘n Christus-volger te wees en nie gehaat, vervolg en met die dood gedreig te word nie.


Mense sal van hul geloof afvallig word, en mekaar verraai en haat.


“En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat.” MATTHÉÜS 24:10 AFR53


Ongelukkig gaan daar baie valse profete wees en die mense sal mislei word omdat hulle nie die Woord van God ken nie.


“En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.” MATTHÉÜS 24:11 AFR53


Omdat wetteloosheid en ongeregtigheid gaan vermeerder, sal die liefde van baie verdwyn. Of dit is as gevolg van die misleidende invloed van die valse leraars of die vervolging of die vrees vir die dood, die liefde sal afneem. Hulle liefde vir God en die kerk sal “koud word”


“En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.” MATTHÉÜS 24:12 AFR53


Daar is gelukkig altyd bitttereinders wat sal volhard in hul geloof, en hulle sal gered word!


“Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.” MATTHÉÜS 24:13 AFR53


Die einde kom eers wanneer die evangelie van die koninkryk oor die hele wêreld verkondig is as getuienis vir al die nasies!


“En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” MATTHÉÜS 24:14 AFR53

 

29 Maart 2022


MATTHÉÜS 24:15 AFR53

“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom — laat hy wat lees, oplet —”


Jesus gee nou vir ons ‘n spesifieke teken van ‘n gebeurtenis wat gaan plaasvind. Die gebeurtenis (gruwel van verwoesting of in Engels abomination of desolation) is terug in die verlede deur Daniel geprofeteer, en dit gaan in die tempel (in die heiligdom) plaasvind.


Om hierdie gedeelte te verduidelik gaan ek terug in die geskiedenis na die tydperk tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament wat bekend staan as die 400 stil jare.


Daar is twee 400 stil jare in die Bybel waar ons nie die geskiedenis en gebeure van die tydperk vertel word nie. Die eerste is in Genesis waar God vir Abram sê dat sy nageslag vir 400 jaar vreemdelinge in ‘n land sal wees wat nie aan hulle behoort nie. Na die 400 jaar dink God weer aan die volk en verlos hul uit hul slawerny.


“Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vierhonderd jaar lank.”GÉNESIS 15:13 AFR53


Die tweede 400 stil jare begin met die laaste boek van die Ou Testament nl: Maleagi wat ongeveer 420 BC dateer, tot by Johannes die Doper in die Nuwe Testament. Die tweede tempel se geskiedenis vir die tydperk word nie in die Bybel weergegee nie, en daarom sal ons na ‘n bron buite die Bybel kyk nl: die apokriewe boek van die Makkabeërs.


In 169 BC word die tweede tempel deur Antiogus IV Epifanes geplunder. Hy plunder die tempel meubels (goue kandelaar, lampstaander, tafel vir die vertoonbrode ens) en vat ook al die goud en silwer wat hy sy hande kan oplê.


“Nadat Antiogus Egipte verslaan het, het hy in die honderd-drie-en-veertigste jaar teruggekeer. Hy het opgegaan na Israel, na Jerusalem, met ‘n swaar gewapende leërmag. Hy het vol hoogmoed in die heiligdom ingegaan. Hy het die goue altaar gevat, die lampstaander en al sy bybehore, die tafel vir die vertoonbrode, die drankofferbekers, die offerbakke, die goue wierookhouers, die Voorhangsel, die krone en die goue versiering wat voor die tempel was – dit alles het hy gestroop. Hy het boonop die silwer en die goud en die kosbare voorwerpe gevat, en die verborge skatte wat hy gevind het, geneem. Nadat hy al hierdie goed gevat het, het hy teruggekeer na sy eie land. Hy het ‘n bloedbad aangerig, en hy het uiters hoogmoedige dinge kwytgeraak. 1 Makkabeërs 1:20-24”


“Op 6 Desember 167 BC (145 ste jaar, 15 Kislef) het Antiogus IV Epifanes ‘n gruwel van verwoesting op die altaar gebou (offer ‘n vark aan sy god Zeus in die tempel) en al die Israeliete wat nie saam met hom aanbid het nie, doodgemaak.


“Op die vyftiende dag van Kislef, in die honderd-vyf-en-veertigste jaar, het hy ‘n gruwel van verwoesting op die altaar gebou, en in die omringende stede van Juda het hulle altare opgerig. Hulle het wierook gebrand voor die deure van huise en in die strate. Die boekrolle van die Wet wat hulle gevind het, het hulle opgeskeur en verbrand. Waar ‘n boekrol van die verbond by iemand gekry is, of as iemand die Wet goedgekeur het, is so iemand op bevel van die koning doodgemaak. Hulle het met alle geweld teen Israel bly optree, teen diegene wat maand ná maand in die stede gevind is. Op die vyf-en-twintigste dag van die maand, terwyl hulle geoffer het op die altaar wat bo-op die brandofferaltaar geplaas was, het hulle die vroue wat hulle kinders laat besny het, volgens opdrag doodgemaak, en hulle het die ongebore babas om die nekke van die vroue gehang. Hulle het ook die vroue se huishoudings en die mense wat die besnydenis uitgevoer het, doodgemaak. Maar baie mense in Israel was standvastig en vasbeslote om nie onrein dinge te eet nie. En hulle het verkies om eerder te sterf, sodat hulle nie deur voedsel verontreinig sou word nie; en hulle het nie die heilige verbond ontheilig nie, en het gesterf. So was daar ‘n baie groot woede oor Israel.” 1 Makkabeërs 1:54-6

 

30 Maart 2022


JOHANNES 10:22-23 AFR53

“En dit was die fees van die tempelwyding in Jerusalem, en dit was winter. En Jesus het in die tempel gewandel in die pilaargang van Salomo.”


“Die ‘Maccabean Revolt’ was ‘n Joodse opstand teen hulle Griekse / Siriese onderdrukkers in Israel, 167-160 BC, asook ‘n verwerping van Mede-Jode wat die heidense aanbidding aanvaar het. Mattatias Makkabees, ‘n Joodse priester, en sy sewe seuns het die opstand begin en saam met Joodse navolgers geurilla tipe oorlog gevoer en die tempel terug gewen.


“Maar Mattatias het geantwoord en in ‘n luide stem gesê: Al luister al die heidennasies wat in die koning se ryksgebied is, na hom, sodat elkeen die godsdiens van sy vaders verlaat en die koning se gebooie verkies, sal ek en my seuns en my broers optree volgens die verbond van ons vaders. Mag God dit verhoed dat ons die Wet en die voorskrifte agterweë laat! Ons sal nie na die woorde van die koning luister en sodoende regs of links van ons godsdiens afwyk nie.” 1 Makkabeërs 2:19-22 


“Judas en sy broers het gesê: Kyk, ons vyande is verpletter. Kom ons gaan op om die heiligdom te reinig en in te wy. Die hele leërafdeling het bymekaargekom en na die berg Sion opgegaan. Hulle het gesien dat die heiligdom verlate was, met die altaar ontheilig en die deure afgebrand, en dat die binnehowe digbegroei was met plante soos in ‘n bos of op een van die berge, en ook dat die priesters se kwartiere afgebreek was. Hulle het hulle klere geskeur, baie gerou en as op hulleself gestrooi.” 1 Makkabeërs 4:36-39


Die Makkabeërs het die tempel gereinig en dit op die 25ste dag van Kislef (14 Desember 164 BC) ingewy met die nuwe tempel meubels wat hulle gemaak het. Die dag word vandag nog gevier as Hanukkah, of die fees van die tempelwyding soos ons kan sien in Johannes 10:22.


“Hulle het die heiligdom gebou en die binnekant van die tempel en die binnehowe geheilig. Hulle het nuwe heilige bybehore gemaak en die lampstaander, die wierookaltaar en die tafel in die tempel ingedra. Hulle het wierook op die altaar gebrand en die lampe op die lampstaander aangesteek, en dit het in die tempel geskyn. Hulle het brode op die tafel geplaas en die gordyne opgehang. En hulle het al die take wat hulle onderneem het, voltooi. Op die vyf-en-twintigste dag van die negende maand, dit is die maand Kislef, van die honderd-agt-en-veertigste jaar, het hulle vroeg die oggend opgestaan, en in ooreenstemming met die Wet ‘n offerande geoffer op die nuwe brandofferaltaar wat hulle gebou het.” 1 Makkabeërs 4:48-53 

 

31 Maart 2022


DANIËL 9:27 AFR53

“En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.”


“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom — laat hy wat lees, oplet —”MATTHÉÜS 24:15 AFR53


Jesus het hierdie woorde gespreek lank nadat Antiogus IV Epifanes gesterf het en dit is duidelik dat Jesus na ‘n toekomstige tyd verwys.


Jesus verwys spesifiek terug na Daniël 9 waar die Antichris beskryf word en ons sien dus in Jesus se woorde bevestiging dat die verhaal van Antiogus ‘n prentjie, of tipe is van iets groters wat nog moet kom. Jesus voeg selfs die woorde “laat hy wat lees, oplet” by, om te beklemtoon dat ‘n dieper begrip vereis word.


In Daniël 9 het ons geleer dat die Antichris ‘n verbond met die volk Israel sal sluit om hulle in staat te stel om weer offers in hul tempel te begin. Die dieper begrip is om te weet dat Antiogus IV die Antichris voorstel en in die middel van die sewe jaar Verdrukking sal die Antichris die offerande en graanoffer stopsit en dan sal hy ‘n gruwel van verwoesting in die tempel oprig.


Openbaring 13 gee vir ons ‘n wenk van wat daardie toekomstige gruwel sal wees.


“En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ‘n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het. En dit is hom gegee om ‘n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie.” OPENBARING 13:14-15 AFR53


Die Antichris sal ondersteun word deur ‘n Valse Profeet wat die wêreld sal mislei om die Antichris as god te aanbid. Om die wêreld se aanbidding te vergemaklik, sal die Valse Profeet ‘n beeld van die Antichris in die tempel opstel. Hierdie beeld sal bonatuurlike krag hê om te praat, wat net die wêreld se ontsag en toewyding des te meer sal inspireer. Dit is duidelik dat Antiogus IV hierdie gebeure afbeeld.


Die Antichris sal in Jerusalem ingaan en ‘n einde maak aan die Wet, sodat hy aanbidding van Yahweh met sy eie stelsel kan vervang, net soos wat Antiogus gedoen het.

 

1 April 2022


MATTHÉÜS 24:16-17 AFR53

“dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie;”


Ons het reeds vasgestel dat hierdie gedeelte verwys na die toekoms. So, die wat in Judea is moet na die berge vlug. Hier word nie met mense in New York of London of Rome gepraat nie, nee, die mense in Judea moet na die berge vlug.


Die Antichris is op die stadium in die heilige stad, dus in Jerusalem. Judea is Jerusalem en omgewing, en hulle is nou in onmiddelike gevaar. Hulle moet vlug na die berge en nie eens teruggaan om iets in hul huise te gaan haal nie. Die wat op die lande werk moet nie omdraai om ander klere te kry nie, en weë die vroue wat swanger is.


“en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae.” MATTHÉÜS 24:18-19 AFR53


Ons het gesien dat Jesus in Lukas ook so ‘n waarskuwing gegee het vir die Christene wat voor die vernietiging van die tempel in 70 n.C. ag geslaan het op Sy woorde en toe wel gered is. Inwoners van Jerusalem en Judea sal in die toekoms hulself ‘n groot guns bewys as hul die woorde kan lees en verstaan en doen! Jesus praat hier van die Sabbat, so dis nie op Christene van toepassing nie. Jesus praat hier met die Jode. Dit het hierdie jaar in Israel gesneeu, so wintermaande kan bitter koud wees.


“En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie.” MATTHÉÜS 24:20 AFR53


Die woorde spreek nogals vir hulself. Daar sal Groot Verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld tot nou toe nie gewees het nie, of nooit sal wees nie.


“Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie.” MATTHÉÜS 24:21 AFR53


Jesus noem die tyd Groot Verdrukking en Daniel noem dit tyd van benoudheid.


“En in dié tyd sal Mígael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.” DANIËL 12:1 AFR53


Die tydperk van die verdrukking weet ons is sewe jaar, en as van die Groot Verdrukking gepraat word, word verwys na die laaste 3,5 jaar. Jesus sê as die dae langer was as dit sou geen vlees gered word nie.


“En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.” MATTHÉÜS 24:22 AFR53

 

2 April 2022


MATTHÉÜS 24:23 AFR53


“As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! — moet dit nie glo nie.”


Ons weet dat profesie altyd ‘n naby en ‘n vêr vervulling het. Daarom dat hierdie woorde wat ook in Lukas weergegee is so bekend klink.


“En Hy antwoord: Pas op dat julle nie mislei word nie; want baie sal onder my Naam kom en sê: Dit is ek! en: Die tyd is naby! Gaan dan nie agter hulle aan nie.” LUKAS 21:8 AFR53


As ons glo daar is progressie van tyd in Jesus se woorde in Mattheus praat Jesus nou van die laaste 3,5 jaar van die verdrukking en dan ook genoem die Groot Verdrukking. Ek glo dat enige persoon wat op die stadium leef en in Jesus glo, BAIE GRAAG wil he dat Jesus moet terug kom.


Vals christusse en vals profete gaan groot tekens en wonders doen. Ons leer in Openbaring dat die vals profeet wel groot wonders gaan doen.


“Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ‘n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het.” OPENBARING 13:13-14 AFR53


As dit moontlik was, sou die uitverkorenes ook mislei word. Gelukkig kan ons hieruit aflei dat dit nie moontlik sal wees om die uitverkorenes te mislei nie.


“Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.” MATTHÉÜS 24:24 AFR53


Jesus se woorde sê – Ek het dit vir julle vooruit gesê – so die wat daardie tyd op aarde is moet ag slaan. Moet nie glo wat vir julle opgedis word nie, want dit is vals.


“Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn — moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer — moet dit nie glo nie.” MATTHÉÜS 24:25-26 AFR53


Jesus se koms sal nie per ongeluk gemis word nie. Die koms van die Seun van die mens sal wees soos ‘n weerligstraal wat slaan van die ooste tot in die weste.


“Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.” MATTHÉÜS 24:27 AFR53


Wat ‘n vreemde gesegde in die volgende vers. Die punt wat Jesus hier maak is egter inlyn met Sy boodskap. Jy kan nie ‘n dooie liggaam in die woestyn wegsteek nie. Aasvoëls sal om die dooie sirkel vir almal om te sien. Net so sal daar duidelike bewyse wees wanneer Jesus teruggekeer. Die kort weergawe van Jesus se boodskap oor Sy wederkoms is dit: as daar enige twyfel is, dan het Hy nog nie teruggekeer nie.


“Want oral waar die dooie liggaam lê, daar sal die aasvoëls saamkom.” MATTHÉÜS 24:28 AFR53


 

3 April 2022


MATTHÉÜS 24:29 AFR53

“En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word.”


Nou beweeg Jesus na die einde van die sewe jaar verdrukking, en wel na die heel laaste dae wanneer Jesus se wederkoms slegs ure weg is.


Op daardie tydstip sal die tekens onmiskenbaar wees, aangesien die hemel self sal verdwyn. Jesus sê dat die son sal ophou skyn, die maan gaan donker word en die sterre in die heelal gaan val, wat beteken dat niks in die hemel meer sigbaar sal wees nie.


Die enigste lig wat die wêreld aan die einde van Verdrukking het, is die lig wat deur die son in die dag en die maan en sterre in die nag gegee word. Maar, dan kom daar ‘n oomblik wanneer alle ligbronne weg is, en die wêreld word in volslae duisternis gedompel. Dit is ‘n duisternis wat min van ons nog ooit beleef het.


Uit hierdie intense duisternis, ontvang die wêreld een laaste teken van Jesus se koms wanneer ‘n helder teken in die lug verskyn.


“Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne.” OPENBARING 19:11-14 AFR53


Die Here het al die ligte in die heelal afgeskakel sodat Sy lig die enigste sigbare ding sou wees en uit hierdie intense duisternis is die wêreld getuie van die wederkoms van Jesus en die Kerk en die engele wat Hom volg.


“En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid.” MATTHÉÜS 24:30 AFR53


Jesus vertel dat die stamme van aarde sal rou wanneer hulle Hom in die hemel sien met Sy wederkoms, in kontras met die stamme van Israel wat sal juig wanneer hulle Koning op die wolke verskyn.


Jesus se wederkoms bring verskillende uitkomste vir verskillende groepe mense. Vir die Jode en die ander gelowiges bring Jesus se wederkoms verlossing, maar vir die ongelowige heidene op aarde bring die wederkoms van Jesus ewige oordeel.


“En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.” MATTHÉÜS 24:31 AFR53


 

4 April 2022


MATTHÉÜS 24:32 AFR53

“En leer van die vyeboom hierdie gelykenis: Wanneer sy tak al sag word en sy blare uitbot, weet julle dat die somer naby is.”


Aardse verhaal

Wanneer jy na ‘n vyeboom kyk en jy sien sy takke is sag en sy blare bot uit, dan weet jy die somer is naby.


Hemelse betekenis

Die vyeboom van wie ons moet leer in hierdie gelykenis verteenwoordig Israel wat ook ‘n profetiese klok vir die eindtye is.


Daar is sekere tekens in die natuur wat vir ons wys dat die somer naby is. So is daar tekens wat Jesus vir ons gee dat ons kan weet wanneer die einde van tyd naby is.



Die sagte tak en die blare wat bot verteenwoordig die tekens wat Jesus vir ons uiteengesit het en die somer verteenwoordig Jesus se tweede koms.


“So weet julle ook, wanneer julle ál hierdie dinge sien, dat dit naby is, voor die deur.” MATTHÉÜS 24:33 AFR53

Wanneer julle AL hierdie dinge sien. Wanneer al die tekens wat Jesus vir ons gegee het almal saam begin gebeur, dan is ons aan die begin van die tyd van smarte of die begin van die geboortepyne wat die eindtye se begin aan die rol sit.


Die grieks vir geslag is genea en het die volgende drie betekennise:

1. die afstammelinge van ‘n gemeenskaplike voorouer;

2. ‘n groep mense wat gelyktydig gebore is;

3. die tydperk wat so ‘n groep mense in beslag neem, dikwels in die sin van opeenvolgende groepe mense.


Hierdie geslag verwys nie noodwendig na die laaste generasie nie, maar kan ook verwys na die Joodse volk wat sal voortbestaan totdat Jesus terugkeer. Niemand en niks gaan hulle uitwis nie.


“Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.” MATTHÉÜS 24:34 AFR53


Jesus bevestig dat Sy woorde waar is en nooit verby sal gaan nie. Ons het in die vorige verse gesien dat die son, maan en sterre wel sal vergaan, maar Jesus sê, Sy woorde sal nooit vergaan nie.


“Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.”   MATTHÉÜS 24:35 AFR53


Ons kan bespiegel soos ons wil, maar Jesus sê duidelik dat niemand, ook nie die engele van die hemele nie, weet wanneer die dag of uur gaan plaasvind nie.


“Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.” MATTHÉÜS 24:36 AFR53

 

5 April 2022


MATTHÉÜS 24:37 AFR53

“En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.”


Die verhaal van Noag begin in Genesis 6, ongeveer 1 600 jaar nadat Adam en Eva geskape was.


“En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.” GÉNESIS 1:27 AFR53


Soos die aarde se bevolking in getal gegroei het, het dit ook in boosheid gegroei en lank vergete was die regverdige offer van Abel.


“En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die Here het Abel en sy offer genadig aangesien,” GÉNESIS 4:4 AFR53


Nou was daar net boosheid op die aarde, en God het berou gehad dat Hy die mens gemaak het.


“Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die Here berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in sy hart.” GÉNESIS 6:5-6 AFR53


Gelukkig was daar ‘n man met die naam van Noag en hy het genade gevind in God se oë.

“Maar Noag het genade gevind in die oë van die Here.” GÉNESIS 6:8 AFR53


Baie geleerdes glo dat deel van God se behoefte om elke mens behalwe Noag en sy gesin te vernietig, was die sonde wat in Genesis 6:1–4 genoem word. Die seuns van God (van die engele – altyd manlik) het gesien dat die dogters van die mense (aardse jong dames) mooi was, en het hulle as vrouens geneem. Kinders is gebore en die kinders wat ook altyd manlik was, was onnatuurlike wesens, ‘n mengsel van engel en mens……..


“Toe die mense op die aarde begin vermeerder en daar vir hulle dogters gebore is, sien die seuns van God dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het. Toe sê die Here: My Gees sal nie vir ewig in die mens heers nie, omdat hy ook vlees is; maar sy dae sal wees honderd-en-twintig jaar. In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam.” GÉNESIS 6:1-4 AFR53


Metusalag was Noag se oupa en sy naam beteken – sy dood sal bring! Metusalag se pa het ‘n profesie ontvang rakende die komende vloed, en is blykbaar meegedeel dat solank as wat sy seun lewe, die oordeel van die vloed weerhou sou word; maar sodra hy sou sterf, sou die vloed uitgestuur word. Kan jy jou indink om ‘n kind so groot te maak? Elke keer as die seun verkoue gekry het, het die hele buurt paniekerig geraak! En inderdaad, die jaar wat Metusalag gesterf het, het die vloed gekom.


Dit is interessant dat Metusalag se lewe in werklikheid ‘n simbool was van God se genade om die komende oordeel van die vloed uit te stel, daarom is dit gepas dat sy leeftyd die oudste in die Bybel is. Metusalag was 187 toe sy seun Lameg gebore is en hy het nog 782 jaar gelewe, hy het dus 969 jaar gelewe.


“Toe Metúsalag honderd-sewen-en-tagtig jaar oud was, het hy die vader van Lameg geword. En Metúsalag het ná die geboorte van Lameg nog sewehonderd-twee-en-tagtig jaar gelewe. En hy het seuns en dogters gehad.” GÉNESIS 5:25-26 AFR53


Noag was 600 jaar oud toe die vloed gebeur het.


“En Noag was seshonderd jaar oud toe die watervloed oor die aarde gekom het.” GÉNESIS 7:6 AFR53

 

6 April 2022


MATTHÉÜS 24:38 AFR53

“Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het,”


Jesus het gesê dat die wêreld baie dieselfde sal wees as in die tyd van Noag, voordat Hy terugkeer. Hy het ons gewaarsku om “gereed te wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle Hom nie verwag nie.”


Timoteus gee vir ons ‘n duidelike beeld van die toestand van die wêreld voor Jesus se koms en beskryf heel waarskynlik ook die wêreld soos in die dae van Noag.


“Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God;” II TIMÓTHEÜS 3:1-4 AFR53


Dit word al hoe duideliker dat, om te verstaan ​​hoe die wêreld in die dae van Noag was, ons net na die aandnuus hoef te kyk.


Jesus vertel dat alhoewel die mense van Noag se tyd totaal verdorwe was, het hulle hul nie die minste daaroor bekommer nie. Hulle het hul lewens gelewe sonder ‘n enkele gedagte aan die oordeel van God. Petrus het Noag beskryf as ‘n prediker van geregtigheid wat beteken dat hy jare spandeer het om sy vriende en bure te waarsku wat God gaan doen, maar niemand het geluister nie.


“en die ou wêreld nie gespaar het nie, maar Noag, die prediker van geregtigheid, met sewe ander bewaar het toe Hy die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring het;” II PETRUS 2:5 AFR53


Die mense van sy tyd het Noag nie geglo nie en was tevrede met hulle boosheid en afgodery. Hulle harte was hard en hulle ore dof. Niemand het berou gehad nie, en niemand het omgegee om God te soek nie. So sê Jesus sal dit wees voor die koms van die Seun van die mens.


“en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees.” MATTHÉÜS 24:39 AFR53

 

7 April 2022


MATTHÉÜS 24:40-41 AFR53

“Dan sal daar twee op die land wees; die een word aangeneem en die ander word verlaat. Twee vroue sal by die meul maal; die een word aangeneem en die ander word verlaat.”


Jesus gee nou ‘n vêrdere voorbeeld van hoe dit gaan wees voor Hy terugkom. Twee mans sal in die veld wees: een word aangeneem en die ander word verlaat. Twee vroue sal by die meule wees: een word aangeneem en die ander word verlaat. Niks van die dag gaan anders wees as enige ander dag nie, anders sou niemand gaan werk het nie.


Hierdie stem volkome saam met wat Jesus vroeër gesê het, dat niemand die dag of die uur van Sy wederkoms sal weet nie. Die tydsberekening sal almal verras, selfs diegene wat God gaan red.


So sal een man en een vrou van die aarde weggeneem word, en die ander man en vrou sal onaangeraak steeds by die werk wees. Dit is hoe dit met Noag en sy gesin gewerk het. Noag het die ark ingegaan en die Here het die deur toegemaak. Een oomblik was Noag en sy gesin net nog ‘n familie op aarde soos die res van die bevolking en die volgende oomblik is die deur gesluit. Noag en sy gesin was van die wêreld geskei, buite sig en buite bereik.


Die oorspronklike Griekse woord aangeneem of neem is ‘paralambano’ en beteken: om aan te neem, om met jouself te neem, om by jouself aan te sluit.


Jesus gebruik dieselfde woord in die volgende vers in Johannes.


“En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” JOHANNES 14:3 AFR53


Jesus het met Sy hemelvaart opgevaar na die hemel waar Hy huidiglik sit aan die regterhand van God. Soos Johannes hierbo vir ons vertel gaan Jesus terugkom om ons na Hom te neem sodat ons kan wees waar Hy is – in die hemel. Hierdie proses word die wegraping genoem en kan wees waarna Jesus verwys wanneer Hy sê een word aangeneem. Die een wat verlaat word is die persoon wat nie weggeraap word nie en deur die verdrukking sal gaan.


Daarom sê Jesus ons moet waaksaam bly, want ons weet nie die dag of die uur nie.


“Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.” MATTHÉÜS 24:42 AFR53

Jesus bevestig dat ons moet waaksaam wees met nog ‘n voorbeeld. As ‘n huiseienaar weet wanneer die dief gaan inbreek, sal hy wag staan en nie toelaat dat daar ingebreek word nie. Ons moet gedurig gereed wees sodat ons nie onkant gevang word wanneer Jesus Sy verskyning maak nie.


“Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter nagwaak die dief sou kom, sou hy gewaak en nie toegelaat het dat in sy huis ingebreek word nie.” MATTHÉÜS 24:43 AFR53

Wees altyd paraat en gereed, want die Seun van die mens kom op ‘n uur wat ons nie verwag nie!


“Daarom moet julle ook gereed wees, want die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.” MATTHÉÜS 24:44 AFR53

 

8 April 2022


MATTHÉÜS 24:45 AFR53

“Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee?”


Jesus beklemtoon die feit dat ons paraat en gereed moet wees selfs met ‘n gelykenis. Die feit dat Jesus so erg klem lê op hierdie onderwerp beteken dat dit belangrik is en ons moet ag slaan en luister.


Aardse verhaal

‘n Huiseienaar met vele diensknegte in sy huishouding stel ‘n getroue en verstandige dienskneg aan om al die diensknegte onder hom daagliks te voed. Die dienskneg sal oor al die eienaar se besittings aangestel word as die huiseienaar van sy reise by die huis opdaag, en vind dat die hy sy pligte getrou uitgevoer het.


“Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel.” MATTHÉÜS 24:46-47 AFR53

Maar, ‘n slegte dienskneg wat besluit sy heer talm om terug te kom huis toe, sy medediensknegte sleg behandel en hyself meng met slegte invloede, so ‘n dienskneg sal nie beloon word wanneer sy huisheer onverwags by die huis opdaag nie. Die slegte dienskneg sal gestraf en gepynig word en daar sal geween wees en ‘n gekners van tande.


“Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom — en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink, dan sal die heer van dié dienskneg kom op ‘n dag dat hy dit nie verwag nie en op ‘n uur dat hy dit nie weet nie; en sal hom pynig en hom ‘n deelgenoot van die geveinsdes maak. Daar sal geween wees en gekners van die tande.” MATTHÉÜS 24:48-51 AFR53


Hemelse betekenis

Die huiseienaar verteenwoordig Jesus wat opgevaar het na die hemel en wat eendag terugkom om ons te kom haal. Die diensknegte goed en sleg verteenwoordig almal op aarde wat wag vir Jesus om terug te kom.


Die goeie diensknegte is die wat besig is met die werke van die Vader, soos wat Jesus gedoen het.


“Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie.” JOHANNES 9:4 AFR53


Die slegte diensknegte is die wat sê daar is nog baie tyd, ons kan maak soos ons wil, want vandat ons voorouers dood is bly alles soos wat dit was van die begin van die skepping.


“Dit moet julle veral weet, dat daar aan die einde van die dae spotters sal kom wat volgens hulle eie begeerlikhede wandel en sê: Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.”

II PETRUS 3:3-4 AFR53


Maar, daar is ‘n prys vir alle gedrag, goed en sleg. Die goeie word beloon en vir die slegte sal daar geween wees en gekners van tande,

 

9 April 2022


MATTHÉÜS 25:1 AFR53

“Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos tien maagde wat hulle lampe geneem en uitgegaan het om die bruidegom te ontmoet.”


Ek sluit hierdie reeks van Jesus se woorde af met ‘n laaste gelykenis.


Aardse verhaal

Die agtergrond van die verhaal is ‘n Joodse bruilof waar die bruid en haar strooimeisies vir die onverwagse terugkeer van die bruidegom wag. Elkeen van die tien maagde het ‘n lamp wat heeltyd by hul is. Olie is nodig vir die lampe om te werk en ons sien dat vyf maagde wel olie in hul lampe het (die vyf verstandiges), en die ander vyf maagde het geen olie in hul lampe nie (die vyf dwase). Al tien maagde word vaak en raak aan die slaap want die bruidegom talm om te kom.


“En vyf van hulle was verstandig en vyf dwaas. En toe die wat dwaas was, hul lampe neem, het hulle geen olie met hulle saamgeneem nie. Maar die verstandiges het olie in hulle kanne saam met hul lampe geneem. En terwyl die bruidegom talm om te kom, het hulle almal vaak geword en aan die slaap geraak.” MATTHÉÜS 25:2-5 AFR53


Middernag is daar ‘n geroep toe die bruidegom opdaag – almal gaan uit om hom te ontmoet!


“En middernag was daar ‘n geroep: Daar kom die bruidegom; gaan uit hom tegemoet!” MATTHÉÜS 25:6 AFR53


Die maagde staan op en maak hul lampe gereed. Die dwase vra vir die verstandiges om hul olie te deel, maar hulle weier want dan het hulle nie genoeg olie nie. Terwyl die onverstandiges olie gaan soek om te koop, kom die bruidegom, en die wat gereed was gaan saam met hom na die bruilof en die deure word gesluit.


“Toe staan al daardie maagde op en maak hulle lampe gereed. En die wat dwaas was, sê aan die verstandiges: Gee vir ons van julle olie, want ons lampe gaan uit. Maar die verstandiges antwoord en sê: Miskien sal daar nie genoeg wees vir ons en vir julle nie. Maar gaan liewer na die verkopers en koop vir julleself. En onderwyl hulle gaan om te koop, het die bruidegom gekom. En die wat gereed was, het saam met hom ingegaan na die bruilof, en die deur is gesluit.” MATTHÉÜS 25:7-10 AFR53


Later klop die onverstandiges en sê: Meneer, maak oop! Maar, toegang word geweier want die bruidegom ken hulle nie!


“Later kom toe die ander maagde ook en sê: Meneer, Meneer, maak vir ons oop! Maar hy antwoord en sê: Voorwaar ek sê vir julle, ek ken julle nie.” MATTHÉÜS 25:11-12 AFR53


Hemelse betekenis

Die bruidegom verteenwoordig Jesus. Die tien maagde verteenwoordig die mense wat vir Jesus wag om terug te keer, vyf is gereed en die ander vyf is totaal onvoorbereid. Die olie in die lampe verteenwoordig die Heilige Gees. Die bruilofstema en die bruidegom wat met ‘n geroep onverwags opdaag klink baie soos die wegraping.


“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.” I THESSALONICENSE 4:16 AFR53


Het jy ‘n verhouding met Jesus? Is jou lamp gevul met die olie van die Heilige Gees? Is jy reg vir Jesus om jou te kom haal?


“Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.” MATTHÉÜS 25:13 AFR53


 


151 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page