top of page
  • Regina Torre

Jesus se woorde – Lukas 21

Updated: Jan 28, 2023


15 Maart 2022


LUKAS 21:5 AFR53

“En toe sommige oor die tempel praat, dat dit met mooi klippe en gewyde geskenke versierd was, sê Hy:”


Die gedeelte wat hier volg word die ‘Profetiese rede’ genoem, of in Engels word daarna verwys as die ‘Olivet discourse’.


Lukas 21 en Mattheus 24 klink of dit dieselfde insident is, maar by nadere ondersoek sal ons sien dat daar duidelike verskille is. Hoekom sal ons omgee of die gedeeltes dieselfde is of nie is nie?

J

esus profeteer in elkeen van die gedeeltes oor die toekoms. In Lukas handel die profesie oor gebeure wat sou plaaavind in 70 n.C. met die val van die tempel en Jerusalem. In Mattheus handel die profesie oor gebeure wat nog in ons toekoms moet plaasvind.


Mense wat spot met profetiese toekomstige gebeure is gou om uit te wys dat die ‘Profetiese rede’ nie op ons toekoms gerig is nie, maar reeds gebeur het en dan gaan hulle gewoonlik na die Lukas weergawe.


Wanneer ons die verskille kan uitwys en die Bybel ken, kan ons nie mislei word nie. Indien mense na die Lukas weergawe verwys en sê dat die gebeure reeds plaasgevind het, en ons weet nie dit verskil met die Mattheus gedeelte nie, begin ons twyfel aan dit wat ons geleer is en dan het die duiwel ons in ‘n hoek en ons dink ons weet niks nie.


In die Lukas weergawe was Jesus in die tempel besig om die hele volk te leer wat soontoe gegaan het om na Hom te luister. Ons leer dit in die laaste twee verse van Lukas 21.


“En Hy was oordag in die tempel besig om te leer, en snags het Hy uitgegaan en vernag op die berg wat die Olyfberg genoem word. En die hele volk het vroeg in die môre na Hom in die tempel gekom om na Hom te luister.” LUKAS 21:37-38 AFR53


Die Mattheus profesie vind plaas op die Olyfberg en Jesus praat nie met al Sy volgelinge nie, Hy praat net met die dissipels.


“En toe Hy op die Olyfberg gaan sit het, kom die dissipels alleen na Hom en sê: ………” MATTHÉÜS 24:3 AFR53


In Markus waar die gedeelte ook vertel word, leer ons dat net vier van die dissipels teenwoordig was, nl: Petrus, Jakobus, Johannes en Andreas. ‘n Baie privaat gesprek wat met die ‘binnekring’ van die dissipels gedeel is.


“En toe Hy gaan sit het op die Olyfberg, regoor die tempel, vra Petrus en Jakobus en Johannes en Andréas Hom afsonderlik: Vertel ons, ………….” MARKUS 13:3-4 AFR53


 

16 Maart 2022


LUKAS 21:6 AFR53

“Hierdie dinge wat julle sien — daar sal dae kom wanneer daar nie een klip op die ander gelaat sal word wat nie afgebreek sal word nie.”


Jesus waarsku Sy volgelinge wat in die tempel na Hom luister dat die tempel in die toekoms vernietig gaan word. Die vernietiging sal so erg wees dat daar nie een klip op die ander gespaar sal wees nie.


Jesus gee ook dieselfde waarskuwing aan Sy dissipels toe Hy saam met hulle van die tempel wegstap. Die dissipels wys vir Jesus die pragtige tempel, en Jesus se reaksie is die waarkuwing dat dit als afgebreek gaan word.


“En Jesus het uitgegaan en van die tempel vertrek, en sy dissipels het nader gekom om Hom die geboue van die tempel te wys. En Jesus sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.” MATTHÉÜS 24:1-2 AFR53


Selfs in Markus kan ons die disippels se bewondering vir die tempel gebou sien.


“En toe Hy uit die tempel uitgaan, sê een van sy dissipels vir Hom: Meester, kyk watter klippe en watter geboue! En Jesus antwoord en sê vir hom: Sien jy hierdie groot geboue? Daar sal sekerlik nie een klip op die ander gelaat word wat nie afgebreek sal word nie!” MARKUS 13:1-2 AFR53


Geskiedenis vertel vir ons dat die Jode in Judea in 66 n.C. in opstand gekom het teen hul Romeinse meesters. In reaksie hierop het keiser Nero ‘n leër onder leiding van Vespasianus gestuur om die orde te herstel. Teen 68 n.C. was die weerstand in die noordelike deel van die provinsie uitgeroei en die Romeine kon hul volle aandag op Jerusalem self vestig. In dieselfde jaar sterf Nero en ‘n magsvakuum onstaan in Rome. In die gevolglike chaos word

Vespasianus tot Keiser verklaar en sy seun Titus het die ‘voorreg’ om Jerusalem in te val.


Die Romeinse legioene het die stad omsingel en begin om die lewe stadig uit die Joodse vesting uit te pers. Teen 70 n.C. is Jerusalem se buitemure deurgebreek, en die stad is stelselmatig geplunder.


Die aanval se uiteinde was die vernietiging van die tempel wat die middelpunt van die Joodse volk se daaglikse lewe was. Tydens hierdie oorwinning het die Romeinse soldate duisende Jode doodgemaak. Diegene wat die dood gespaar is, is as slawe weggestuur om te swoeg in die myne van Egipte, en die res is na arenas dwarsdeur die Romeinse Ryk versprei om afgemaai te word as vermaak van die publiek. Die tempel se heilige oorblyfsels is na Rome geneem waar dit ter viering van die oorwinning uitgestal is.


Die rebellie het vir nog drie jaar voortgeduur en is uiteindelik in 73 n.C. geblus met die val van die verskillende takke van weerstand, insluitend die vesting by Masada.


 

17 Maart 2022


LUKAS 21:7 AFR53

“En hulle vra Hom en sê: Meester, wanneer sal dit dan wees, en wat is die teken wanneer dit gaan gebeur?”


Die mense is nou nuuskierig en vra vir Jesus twee vrae:

1. Wanneer sal dit wees, en

2. Wat is die teken wanneer dit gaan gebeur.

J

esus gee ‘n lys van ‘smarte’ as antwoord op hul vraag. Ek gee ‘n opsomming van die lys want ek wil eers die groter prentjie verduidelik en dan kom ons terug na die detail.


Smarte Lukas     Matt   Openb

Vals Christus 21:8       24:5      6:1-2

Oorloë 21:9-10   24:6-7   6:3-4

Hongersnood 21:11    24:7     6:5-6

Pessiektes 21:11    24:7     6:7-8

Aardbewings 21:11    24:7     6:12


Een van die groot verskille tussen die Lukas en Mattheus weergawes vind ons hier in Lukas 21:12, en dit antwoord die eerste vraag.


Maar, VOOR AL HIERDIE DINGE!


Lukas fokus op dit wat sal plaasvind VOOR die “Begin van smarte”.


“Maar voor al hierdie dinge sal hulle die hande aan julle slaan en julle vervolg en oorlewer in sinagoges en gevangenisse en julle voor konings en goewerneurs bring ter wille van my Naam.” LUKAS 21:12 AFR53


Die tekens vir die begin van smarte is dus nie op Jesus se gehoor in die tempel van toepassing nie. Die tekens wat wel op Jesus se volgelinge van toepassing is, en die tweede vraag antwoord, is ongelukkig ook ‘n lys van slegte nuus.


Ter wille van Jesus se Naam sal hulle:

– gevange geneem en vervolg word,

– oorgelewer word vir verhoor in die sinagoges, en

– gevange geneem word.


In Mattheus sê Jesus vir Sy dissipels dat die ‘lys van smarte’ slegs die begin van die smarte is.


“Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte.” MATTHÉÜS 24:8 AFR53


 

18 Maart 2022


LUKAS 21:13-14 AFR53

“En dit sal vir julle uitloop op ‘n getuienis. Neem julle dan in jul harte voor om nie vooraf oor julle verdediging te dink nie.”


Die boek Handelinge gee vir ons mooi voorbeelde van die Heilige Gees wat Sy volgelinge bystaan en help om te getuig.


Petrus en Johannes leer die volk dat Jesus uit die dood opgestaan het, en die Joodse Raad is woedend. Hulle arresteer die twee en stop hulle summier oornag in die tronk. Die volgende dag verskyn hulle voor die owerstes, die ouderlinge en skrifgeleerdes, die hoëpriester en Kájafas en Johannes en Alexander en almal wat van die hoëpriesterlike familie was. Die klomp vra vir Petrus en Johannes: “Deur watter mag en deur watter naam het julle dit gedoen?” en hulle antwoord:


“Daarop sê Petrus, vervul met die Heilige Gees, aan hulle: Owerstes van die volk en ouderlinge van Israel, as ons vandag ondervra word oor ‘n weldaad aan ‘n siek man, waardeur hy gesond geword het, laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan.” HANDELINGE 4:8-10 AFR53


Stefanus wat die eertse martelaar vir Jesus was het vol van geloof en krag, wonders en tekens onder die volk gedoen. Hy moes voor die Joodse Raad verskyn en sy saak stel. Met die krag van die Heilige Gees het hy hulle op ‘n reis deur die Ou Testament geneem en geeindig met die volgende beskuldigende woorde wat nie goed afgegaan het nie.


“Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle. Watter een van die profete het julle vaders nie vervolg nie? Ja, hulle het dié gedood wat vooraf die koms verkondig het van die Regverdige, van wie julle nou verraaiers en moordenaars geword het; julle wat die wet deur die beskikkinge van engele ontvang het en tog nie onderhou het nie!” HANDELINGE 7:51-53 AFR53


Natuurlik was hulle woedend en het beveel dat Stefanus gestenig moes word.


“En hulle het Stéfanus gestenig terwyl hy die Here aanroep en sê: Here Jesus, ontvang my gees! En hy het op sy knieë neergeval en met ‘n groot stem uitgeroep: Here, reken hulle hierdie sonde nie toe nie! En met dié woorde het hy ontslaap.” HANDELINGE 7:59-60 AFR53


Jesus is altyd getrou en net deur die boonste voorbeelde noukeurig deur te lees sal ons sien dat die Heilige Gees wel woorde in Jesus se volgelinge se monde geplaas het elke keer as hul dit nodig gehad het.


“Want Ek sal aan julle woorde en wysheid gee wat al julle teëstanders nie sal kan teëspreek of weerstaan nie.” LUKAS 21:15 AFR53


Petrus en Johannes se woorde hier is ook ‘n sprekende voorbeeld waar hul teëstanders nie kon terugpraat nie.


“Toe antwoord Petrus en Johannes en sê vir hulle: Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.” HANDELINGE 4:19-20 AFR53


 

19 Maart 2022


LUKAS 21:16-17 AFR53

“Maar julle sal oorgelewer word ook deur ouers en broers en bloedverwante en vriende, en hulle sal van julle doodmaak. En julle sal gehaat wees deur almal ter wille van my Naam.”


Dit was nie ‘n gewilde besluit om Jesus te volg nie. Soos ons gister gelees het was Stefanus die eerste martelaar vir Jesus.


“En hulle het hom buitekant die stad uitgewerp en hom gestenig; en die getuies het hulle klere neergelê by die voete van ‘n jongman met die naam van Saulus.” HANDELINGE 7:58 AFR53


Herodus het Jakobus met ‘n swaard doodgemaak. Dit beteken heel moontlik dat Jabobus onthoof is.


“En omtrent daardie tyd het koning Herodes sy hande geslaan aan sommige uit die gemeente om hulle kwaad aan te doen. En hy het Jakobus, die broer van Johannes, met die swaard omgebring.” HANDELINGE 12:1-2 AFR53


Die mees algemeen aanvaarde kerktradisie met betrekking tot die dood van ‘n apostel is dat die apostel Petrus onderstebo in Rome gekruisig is ter vervulling van Jesus se profesie.

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, toe jy jonger was, het jy jouself gegord en rondgegaan waar jy wou; maar wanneer jy oud geword het, sal jy jou hande uitsteek, en ‘n ander een sal jou gord en bring waar jy nie wil wees nie.” JOHANNES 21:18 AFR53


Ons lewens is in God se hande, en geen haar sal van ons hoof afval sonder God se wete nie.

“En geen haar van julle hoof sal ooit verlore gaan nie.” LUKAS 21:18 AFR53


Die persone wat volhard in hul geloof, hulle sal gered word.


“Deur julle volharding moet julle jul lewe in besit kry.” LUKAS 21:19 AFR53


 

20 Maart 2022


LUKAS 21:20 AFR53

“En wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is.”


Nou gee Jesus vir Sy volgelinge ‘n waarskuwing oor wat hulle te wagte kan wees voor die verwoesting van Jerusalem.


Wanneer julle sien dat Jerusalem deur leërs omsingel word, dan moet julle weet die tyd is naby. Dan moet die wat in Judea is vlug!


“Dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie. Want dit sal dae van wraak wees, sodat alles wat geskrywe is, vervul kan word. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog in daardie dae; want daar sal ‘n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie volk. LUKAS 21:21-23 AFR53


Die Christene in Jerusalem het egter onthou wat Jesus gesê het, en meeste het oor die Jordaanrivier na Pella gevlug. Min indien enige Christene het in die val van Jerusalem omgekom.


Hierdie waarskuwing is grootliks deur die Joodse gemeenskap verontagsaam toe die Romeinse leër die stad in 70 n.C. omsingel het. Die geskiedenis teken aan dat 1,1 miljoen Jode vermoor is en nog 97 000 gevange geneem is in een van die ergste rampe wat die Joodse volk getref het en nie een enkele Jood het in die stad oorgebly nie.


“En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, ………….” LUKAS 21:24a AFR53


Na die vernietiging van Jerusalem en die verstrooiing van die Jode wat deur Jesus in die vorige verse voorspel is, sou daar ‘n lang tydperk kom wanneer Jerusalem deur heidene oorheers sou word.


“…………en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is.” LUKAS 21:24b AFR53


Die frase in die vers hierbo ‘totdat die tye van die nasies vervul is’ moet nie verwar word met wat Paulus in Romeine gesê het nie – ‘totdat die volheid van die heidene ingegaan het’

“Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; ROMEINE 11:25 AFR53


Ons lees in Openbaring dat die voorhof buite die tempel aan die heidene gegee word en hulle vertrap die heilige stad (Jerusalem) vir 42 maande – dus die eerste 3,5 jaar van die sewe jaar verdrukking.


“Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap.” OPENBARING 11:2 AFR53


Paulus se gedeelte in Romeine vertel dat wanneer die laaste nie-gelowige vir Jesus as Verlosser aanvaar (die volheid van die heidene), dan word Israel se verharding opgelig sodat hulle ook kan sien dan Jesus hulle Verlosser is.


 

21 Maart 2022


LUKAS 21:25 AFR53

“En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun,”


Jesus profeteer nog steeds oor die sigbare tekens in wêreldgebeure. Tot en met vers 24 was die profesieë spesifiek op Jerusalem gerig. Vanaf vers 25 profeteer Jesus oor die sigbare tekens en rampspoedige gebeure in die lug en op die aarde wat Sy naderende wederkoms aankondig.

en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word.” LUKAS 21:26 AFR53


Hierdie tekens, anders as dié wat vroeër genoem is (oorloë, vervolging, ens.), is hoofsaaklik bonatuurlik van oorsprong. Georkestreer deur God, is hulle bedoel om die slapende mensdom voor die einde van die geskiedenis uit sy geestelike slaap wakker te maak.


Jesus gebruik slegs die twee verse om die Verdrukking wat kom te verduidelik. Die boek Openbaring vertel vir ons die res van die storie, en hier volg ‘n kort uittreksel.


“En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ‘n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ‘n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ‘n vyeboom wat deur ‘n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ‘n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” OPENBARING 6:12-17 AFR53


Aan die einde van die Verdrukking sal Jesus Christus na die aarde terugkeer om Sy vyande te oorwin en Sy duisend jaar van vrede op ‘n herstelde planeet in te stel.


“En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ‘n wolk, met groot krag en heerlikheid.” LUKAS 21:27 AFR53


Hier sien ons duidelik die bevestiging van een van Daniel se profesieë.


“Ek het gesien in die naggesigte, en kyk, met die wolke van die hemel het Een gekom soos die Seun van ‘n mens, en Hy het gekom tot by die Oue van dae, en hulle het Hom nader gebring voor Hom. En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.” DANIËL 7:13-14 AFR53


 

22 Maart 2022


LUKAS 21:28 AFR53

“En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.”


En as hierdie dinge begin gebeur – watter dinge word hier van gepraat?


Ons het twee insidente in die hoofstuk wat plaasvind en wat voorafgegaan word deur sekere tekens. Die eerste was die vernietiging van die tempel in 70 n.C. en die tweede is Jesus se wederkoms aan die einde van tyd.


Die dinge wat gebeur het voor die tempel se vernietiging was:

– hulle sal vervolg word en dit gebruik as geleentheid om van Jesus te getuig,

– hulle sal verraai word deur almal wat hul ken en dan doodgemaak word,

– Jerusalem sal deur leërs omsingel word,

– daar sal dae van wraak wees en so sal profesieë vervul word,

– hulle sal krygsgevange geneem word,

– hulle sal versprei word onder die nasies,

– Jerusalem sal vertrap word deur die nasies.


Hierdie is als in die geskiedenis opgeteken en ons kan bevestig dat dit wel gebeur het.


Die dinge wat gaan gebeur voor Jesus se wederkoms:

1. Moet nie mislei word nie! Soos wyle Chuck Missler gesê het, hierdie is nie ‘n voorstel nie, dit is ‘n opdrag.

2. Baie sal voorgee dat hul die Messias is, en

3. Baie sal sê: Die tyd is naby! – moet nie die mense volg nie!

“En Hy antwoord: Pas op dat julle nie mislei word nie; want baie sal onder my Naam kom en sê: Dit is ek! en: Die tyd is naby! Gaan dan nie agter hulle aan nie.” LUKAS 21:8 AFR53

4. Wanneer julle hoor van oorloë en opstande – moenie skrik nie! Hierdie is dinge wat eers moet plaasvind maar dis nie dadelik die einde nie.

“En wanneer julle hoor van oorloë en opstande, moenie skrik nie; want dié dinge moet eers plaasvind, maar dit is nie dadelik die einde nie.” LUKAS 21:9 AFR53

5. Nasie sal teen nasie opstaan, en koninkryk teen koninkryk.

“Toe sê Hy vir hulle: Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander.” LUKAS 21:10 AFR53

6. Groot aardbewings op verskillende plekke

7. Hongersnode

8. Pessiektes

9. Verskriklike dinge en groot tekens sal van die hemel kom


“En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees en hongersnode en pessiektes; en daar sal verskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom.” LUKAS 21:11 AFR53


Wat moet ons doen as al hierdie dinge gebeur? Jesus sê baie duidelik vir ons wat om te doen!


– Kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is.


 

23 Maart 2022


LUKAS 21:29 AFR53

“Toe vertel Hy hulle ‘n gelykenis: Let op die vyeboom en al die bome. Net soos hulle bot, weet julle vanself, as julle dit sien, dat die somer al naby is.”


Aardse verhaal

Kyk na die vyeboom en al die ander bome. Wanneer hulle bot, dan weet julle sommer vanself die somer is naby, al kan julle die somer nog nie sien nie.


Hemelse betekenis

Die vyeboom verteenwoordig Israel en die ander bome verteenwoordig al die ander nasies.

‘n Teken van die naderende somer is wanneer die bome begin bot. Die nuwe lote wat bot verteenwoordig die tekens wat Jesus so mooi vir ons uiteengesit het.


Die somer hier verteenwoordig die twee insidente wat in die hoofstuk vir ons uitgebeeld is. Die tempel se vernietiging (wat huidiglik geskiedenis is) en Jesus se wederkoms (wat huidiglik in die toekoms is).


En so verduidelik Jesus dit ook baie mooi!


“So moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is wanneer julle hierdie dinge sien gebeur.” LUKAS 21:31 AFR53


Wie is hierdie geslag waarvan Jesus praat?


“Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat alles gebeur het nie.” LUKAS 21:32 AFR53


Die grieks vir geslag is genea en het die volgende drie betekennise:

1. die afstammelinge van ‘n gemeenskaplike voorouer;

2. ‘n groep mense wat gelyktydig gebore is;

3. die tydperk wat so ‘n groep mense in beslag neem, dikwels in die sin van opeenvolgende groepe mense.


Hierdie geslag verwys nie noodwendig na die laaste generasie nie, maar kan ook verwys na die Joodse volk wat sal voortbestaan totdat Jesus terugkeer. Niemand en niks gaan hulle uitwis nie.


Jesus bevestig dat Sy woorde waar is en nooit verby sal gaan nie.


“Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.” LUKAS 21:33 AFR53


 

24 Maart 2022


LUKAS 21:34 AFR53

“Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie.”


Ons moet oppas, want daar is sekere dinge wat ‘n mens onvoorbereid sal maak – swelgery, dronkenskap en die sorge van hierdie lewe. Elkeen van hierdie dinge kan ons onvoorbereid maak vir die dag van Jesus se wederkoms.


Swelgery” kan omskryf word as ’n bandelose partytjie of feestelikheid.


Jesus het gesê dat Hy soos ‘n verrassing, ‘n strik sou kom – en het die belangrikheid van gereedheid beklemtoon.


“Want soos ‘n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon.” LUKAS 21:35 AFR53


“Waak en bid.” Die woord “waak” beteken “om die waaksaamheid van ’n nagwag te hê” en ‘n nagwag moet meer waaksaam wees as ’n dagwag.


“Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan.” LUKAS 21:36 AFR53


Wanneer ons gedurig bid, laat ons God toe om ons te vergewe, ons te reinig, ons te leer en ons te versterk om aan Hom gehoorsaam te wees.


Ons soek nie vir “tekens” nie, ons luister vir klanke: die geluid van ‘n basuin en die geroep van die aartsengel!


“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan.” I THESSALONICENSE 4:16 AFR53


“Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amen, ja kom, Here Jesus!” OPENBARING 22:20 AFR53


 

67 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page