top of page
  • Regina Torre

Jesus se Gelykenisse: Hoofstuk 2

Updated: Jan 24, 2023

14 Februarie 2022


Die gelykenis van die verlore skaap.


LUKAS 15:3-6 AFR53

“Toe vertel Hy aan hulle hierdie gelykenis en sê: Watter man onder julle wat honderd skape het en een van hulle verloor, laat nie die negen-en-negentig in die woestyn staan en gaan agter die een aan wat verlore is totdat hy dit kry nie? En as hy dit kry, sit hy dit met blydskap op sy skouers. En as hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: Wees saam met my bly, want ek het my skaap gekry wat verlore was.”


“Wat dink julle? As iemand honderd skape het en een van hulle verdwaal, sal hy nie die negen-en-negentig laat staan en op die berge die verdwaalde een gaan soek nie? En as hy hom kry, voorwaar Ek sê vir julle dat hy blyer is oor hom as oor die negen-en-negentig wat nie verdwaal het nie.” MATTHÉÜS 18:12-14 AFR53


Aardse verhaal:

‘n Persoon het honderd skape en een van die skape raak weg. Die persoon los sy nege-en-negentig skape eenkant om die een verlore skaap te gaan soek. Wanneer die persoon sy verlore skaap vind, is hy meer verheug oor die een wat gevind is, as die res wat nie afgedwaal het nie. By die huis aangekom kry hy sy vriende en bure bymekaar en vier fees, want die een verlore skaap is gevind.


Hemelse betekenis:

Die hemele sal juig, meer oor een sondaar wat hom bekeer as oor die res wat nie bekering nodig het nie. Jesus het aarde toe gekom om aan alle sondaars verlossing te bied en te wys dat God almal lief het.


“Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor negen-en-negentig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie.” LUKAS 15:7 AFR53


Die Skaapwagter, onse Vader wat in die hemel is, gee genoeg om vir Sy skape om na elkeen wat wegraak, te gaan soek.


“So is dit nie die wil van julle Vader wat in die hemele is, dat een van hierdie kleintjies verlore gaan nie.” MATTHÉÜS 18:14 AFR53


Hier is ‘n mooi opsomming van wie Jesus is, en wat Hy gedoen het vir die verlore skape.


“Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie; wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel; wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is. Want julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Opsiener van julle siele.” I PETRUS 2:22-25 AFR53

————————————————————

15 Februarie 2022


Die gelykenis van die dienaar wat nie wou vergewe nie.


MATTHÉÜS 18:23-25 AFR53

“Daarom word die koninkryk van die hemele vergelyk met ‘n sekere koning wat met sy diensknegte wou afreken. En toe hy begin afreken, word daar een na hom gebring wat tienduisend talente skuldig was. En omdat hy nie kon betaal nie, gee sy heer bevel dat hy verkoop moet word, en sy vrou en sy kinders en alles wat hy het, en dat betaal moet word.”


Aardse verhaal

In die gelykenis het ons ‘n koning wat sy boeke opdatum bring en die skuld wat sy diensknegte of slawe het begin verreken. In hierdie voorbeeld het die koning ‘n spesifieke slaaf toegelaat om ‘n ongelooflike groot skuld (tien duisend talente) op te bou. Die Afr83 vertaling praat van miljoene rande. So kom die dag dat die koning terugbetaling eis, maar die skuld is so hoog dat daar geen manier is dat hierdie slaaf dit ooit kan terugbetaal nie.


Die koning beveel dat die man en sy familie en al sy besittings verkoop moet word om sy skuld te betaal. Die slaaf smeek die koning om hom nog ‘n kans te gee, want hy sal alles terug betaal. Die koning was geen dwaas nie. Hy het geweet dat die skuld nooit terugbetaal kon word nie, ten spyte van die slaaf se beloftes, so uit deernis vee hy die leiklip skoon en vergewe sy skuld in totaal.


“Toe val die dienskneg neer en buig voor hom en sê: Heer, wees lankmoedig met my, en ek sal u alles betaal. En die heer van daardie dienskneg het innig jammer vir hom gevoel en hom losgelaat en hom die skuld kwytgeskeld.” MATTHÉÜS 18:26-27 AFR53


Wat doen die slaaf? Kom ons lees vêrder.

“Maar toe daardie dienskneg uitgaan en een van sy medediensknegte vind wat hom honderd pennings skuldig was, het hy hom aan die keel gegryp en gesê: Betaal my wat jy skuld. Sy mededienskneg val toe voor sy voete neer en smeek hom en sê: Wees lankmoedig met my, en ek sal jou alles betaal. En hy wou nie, maar het gegaan en hom in die gevangenis gewerp totdat hy die skuld sou betaal het.” MATTHÉÜS 18:28-30 AFR53


Die medediensknegte aanskou wat gebeur en vertel dit vir die koning wat in sy toorn die slaaf oorgee aan die pynigers wat hom martel om sodoende te betaal wat hy verskuldig is.


“En toe sy medediensknegte sien wat gebeur het, was hulle baie bedroef, en hulle het gegaan en aan hulle heer meegedeel alles wat gebeur het. Daarop roep sy heer hom en sê vir hom: Jou slegte dienskneg, al daardie skuld het ek jou kwytgeskeld, omdat jy my gesmeek het; moes jy nie jou mededienskneg ook barmhartig wees soos ek jou ook barmhartig gewees het nie? En sy heer het hom in toorn oorgegee aan die pynigers totdat hy sou betaal het alles wat hy hom skuldig was.” MATTHÉÜS 18:31-34 AFR53


Hemelse betekenis

“So sal ook my hemelse Vader aan julle doen as julle nie elkeen sy broeder van harte sy oortredinge vergewe nie.” MATTHÉÜS 18:35 AFR53


Hoe word ons vergewe? Slegs deur geloof in Jesus en deur God se genade.


“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.” EFÉSIËRS 2:8-9 AFR53


Die Een wat hierdie verhaal vertel het, is op die punt om aan die kruis te sterf om die prys te betaal vir die sondes van almal wat in Hom glo.


“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” JOHANNES 3:16 AFR53


“En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,” KOLOSSENSE 2:13-14 AFR53


Nou sê Jesus vir ons dat God nie diegene wat onwillig is om te vergewe skotvry gaan laat nie. Dit is nie omdat vergifnis ‘n voorwaarde vir redding is nie, maar omdat vergifnis ‘n simptoom is van diegene wat werklik gered is.


“nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees” TITUS 3:5 AFR53


Jesus het ons ook geleer om die volgende te bid met die ‘Onse Vader’

“en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe;” MATTHÉÜS 6:12 AFR53

————————————————————

16 Februarie 2022


Die gelykenis van die arbeiders wat op verskillende ure gehuur is.


MATTHÉÜS 20:1-2 AFR53

“Want die koninkryk van die hemele is soos ‘n huisheer wat vroeg in die môre uitgegaan het om arbeiders vir sy wingerd te huur. En nadat hy met die arbeiders ooreengekom het vir ‘n penning op ‘n dag, stuur hy hulle in sy wingerd.”


Aardse verhaal

Weereens ‘n les van hoe die koninkryk van die hemele werk. ‘n Huisheer gaan uit om arbeiders te huur om in sy wingerd te werk en hy kom ooreen om ‘n dagloon van ‘n penning te betaal.


Die huisheer kort egter nog arbeiders en deur die loop van die dag huur hy nog mense. Hy huur arbeiders om te begin werk op die 3de uur (9h00), die 6de uur (12h00), die 9de uur (15h00) en die 11de uur (‘n uur voor almal klaar is) en sê dat hy hulle sal betaal wat reg is.


“En omtrent die derde uur gaan hy uit en sien ander ledig op die mark staan. En hy sê vir hulle: Gaan julle ook in die wingerd, en wat reg is, sal ek aan julle gee. En hulle het gegaan. Weer het hy omtrent die sesde en die negende uur uitgegaan en net dieselfde gedoen. En omtrent die elfde uur gaan hy uit en vind ander ledig staan en sê vir hulle: Wat staan julle hier die hele dag ledig? Hulle antwoord hom: Omdat niemand ons gehuur het nie. Hy sê vir hulle: Gaan julle ook in die wingerd, en wat reg is, sal julle ontvang.” MATTHÉÜS 20:3-7 AFR53


Kom betaaltyd, word die wat laaste begin werk het dieselfde betaal as die wat vroegoggend begin het, en die voldag werkers is ongelukkig.


“En toe dit aand geword het, sê die heer van die wingerd vir sy opsigter: Roep die arbeiders en betaal hulle hul loon; en begin van die laastes af tot by die eerstes. En die wat omtrent die elfde uur begin het, het gekom en elkeen ‘n penning ontvang. Die eerstes kom toe en dink dat hulle meer sal ontvang, en hulle het ook elkeen ‘n penning ontvang. En toe hulle dit ontvang, murmureer hulle by die huisheer en sê: Hierdie laastes het een uur gewerk, en u het hulle gelykop behandel met ons wat die las van die dag en die hitte gedra het.” MATTHÉÜS 20:8-12 AFR53


Die huisheer praat met die werkers en sê dat niemand ingedoen is nie. Diegene wat heeldag gewerk het is betaal soos ooreengekom die oggend. Hy sê vêrder dat dit hom seker vrystaan om almal te betaal soos hy wil, dis immers sy goed om mee te maak soos hy goeddink.


“Maar hy antwoord en sê vir een van hulle: Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir ‘n penning nie? Neem dan wat joue is, en gaan heen. Ek wil aan hierdie laaste een gee net soos aan jou. Of staan dit my nie vry om met my eie goed te maak wat ek wil nie? Of is jou oog verkeerd, omdat ek goed is?” MATTHÉÜS 20:13-15 AFR53


Hemelse betekenis

“So sal die wat laaste is, eerste wees, en die wat eerste is, laaste; want baie is geroep, maar min uitverkies.” MATTHÉÜS 20:16 AFR53


Dit maak nie saak hoe lank of hoe hard ‘n gelowige vir die koninkryk werk gedurende sy leeftyd nie, die beloning van die ewige lewe sal dieselfde wees vir almal – ‘n ewigheid van geluk in die hemel in die teenwoordigheid van God die Vader en die Here Jesus Christus. Die dief aan die kruis wie se dienslewe beperk was tot ‘n oomblik, het dieselfde beloning van die ewige lewe ontvang as die apostel Paulus.


Dit beteken beslis nie dat ons moet werk vir ons verlossing nie, ons verlossing is ‘n geskenk van God. Ons werk omdat dit die vrugte verteenwoordig wat ons dra – “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ‘n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie!” MATTHÉÜS 7:16 AFR53

————————————————————

17 Februarie 2022


Die gelykenis van die twee seuns.


MATTHÉÜS 21:28-30 AFR53

“Maar wat dink julle? ‘n Man het twee kinders gehad, en hy gaan na die eerste en sê: Kind, gaan werk vandag in my wingerd. En hy antwoord en sê: Ek wil nie; maar later het hy berou gekry en gegaan. Toe het hy na die tweede gegaan en vir hom net so gesê; en hy antwoord en sê: Ja, heer. En hy het nie gegaan nie.”


Aardse verhaal

‘n Man het twee seuns en hy vra elkeen om vir die dag in sy wingerd te werk. Die eerste seun sê onmiddelik nee, maar kry later berou en gaan werk tog. Die tweede seun sê onmiddelik ja, maar daag glad nie op om te werk nie.


Hemelse betekenis

Jesus het na Sy intog in Jerusalem na die tempel gegaan om die mense te onderrig. Hierdie gelykenis is spesifiek aan die owerpriesters en ouderlinge gerig omdat hulle Jesus se gesag bevraagteken het.


“Wie van die twee het die wil van die vader gedoen? Hulle antwoord Hom: Die eerste. Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, die tollenaars en die hoere gaan julle voor in die koninkryk van God.” MATTHÉÜS 21:31 AFR53


Die eerste seun is ‘n voorstelling van die tollenaars en hoere wie se lewens sondig was, maar wat bereid was om te bekeer.


“Want Johannes het na julle gekom in die weg van geregtigheid, en julle het hom nie geglo nie; maar die tollenaars en die hoere het hom geglo. En julle het dit gesien en tog nie later berou gekry om hom te glo nie.” MATTHÉÜS 21:32 AFR53


Die tweede seun verteenwoordig die leierskap van Israel wat tot die verbond ingestem het, maar dit toe verwerp het.

————————————————————

18 Februarie 2022


Die gelykenis van die landbouers – Mattheus


MATTHÉÜS 21:33-35 AFR53

“Luister na ‘n ander gelykenis: Daar was ‘n sekere huisheer wat ‘n wingerd geplant het; en hy het ‘n heining daarom gesit en ‘n parskuip daarin gegrawe en ‘n wagtoring gebou, en hy het dit aan landbouers verhuur en op reis gegaan. En toe die vrugtetyd nader kom, stuur hy sy diensknegte na die landbouers om sy vrugte te ontvang. Maar die landbouers het sy diensknegte geneem en een geslaan en ‘n ander een doodgemaak en ‘n ander een gestenig.”


Aardse verhaal

‘n Huisheer het ‘n werkende wingerd aan landbouers verhuur en op reis gegaan. Toe dit tyd word vir die druiweoes stuur hy sy diensknegte om sy deel van die oes te gaan haal, maar die huurders het sy mense geslaan, gestenig en een doodgemaak.


Die huurders doen dieselfde met die tweede groep wat die huisheer na hulle stuur, en toe hy sy seun stuur maak hulle hom dood met die plan om sy erfporsie te ontvang.


“Weer het hy ander diensknegte gestuur, meer as die eerstes, en hulle het met dié net so gemaak. Oplaas het hy sy seun na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien. Maar toe die landbouers die seun sien, het hulle onder mekaar gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak en sy erfdeel in besit neem. En hulle het hom geneem en buitekant die wingerd uitgewerp en doodgemaak.” MATTHÉÜS 21:36-39 AFR53


Jesus vra sy gehoor wat die eienaar met die slegte landbouers sal doen en hul antwoord dat hy hulle ‘n slegte dood sal laat sterwe en beter huurders sal kry!


“Wanneer die eienaar van die wingerd dan kom, wat sal hy met daardie landbouers doen? Hulle antwoord Hom: Die slegte mense — hy sal hulle ‘n slegte dood laat sterwe en die wingerd verhuur aan ander landbouers wat hom die vrugte op die regte tyd sal gee.” MATTHÉÜS 21:40-41 AFR53


Hemelse betekenis

In hierdie gelykenis het ons die volgende karakters:

  1. Die huisheer – dit is God;

  2. Die wingerd – is die volk Israel;

  3. Die landbouers / huurders – die Joodse leierskap ( die owerpriesters en die Fariseërs);

  4. Die huisheer se diensknegte – die profete wat gehoorsaam gebly het en God se woord aan die volk Israel verkondig het,

  5. Die huisheer se seun – Jesus

  6. Die ander huurders – die ‘gentiles’ of anders gestel die ‘kerk’ of ek en jy!

Jesus is nog steeds in die tempel besig om die mense te onderrig na Sy intog in Jerusalem. Die Joodse leierskap het telkens deur die jare die profete wat deur God gestuur was verwerp, geslaan, gestenig of doodgemaak as gevolg van die boodskap wat hulle aan die volk verkondig het. Die owerpriesters en die Fariseërs het besef dat Jesus besig was om met hulle te praat omdat hulle vir Jesus, die hoeksteen, verwerp het en omdat hulle besig was met hul plan om Hom dood te maak.


Vêrder sê Jesus dat die koninkryk van God vir ‘n wyle van die Joodse volk weggeneem sou word en aan die ‘gentiles’ gegee sou word sodat hulle kan vrugte dra.


“Jesus sê vir hulle: Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë? Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ‘n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra. En hy wat op hierdie steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel.En toe die owerpriesters en die Fariseërs sy gelykenisse hoor, het hulle begryp dat Hy van hulle spreek. En hulle het probeer om Hom in hulle mag te kry, maar hulle was bang vir die skare, omdat dié Hom vir ‘n profeet gehou het.” MATTHÉÜS 21:45-46 AFR53

————————————————————

19 Februarie 2022


Die gelykenis van die landbouers- Lukas


LUKAS 20:17-18 AFR53

“Maar Hy het hulle aangekyk en gesê: Wat beteken dan hierdie Skrifwoord: die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword? Elkeen wat op dié steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel.”


Aardse verhaal

Ons is steeds besig met die gelykenis van die huisheer wat die wingerd aan landbouers verhuur, maar ons het ‘n tweede gelykenis wat hieruit voortvloei. Ons lees van bouers wat ‘n steen verwerp, en die verwerpte steen word toe die hoeksteen wat die belangrikste steen in die bouproses verteenwoordig.


Hemelse betekenis

Die bouers wat die steen verwerp het, is die Joodse leierskap, en die steen is die bekende simbool van die beloofde Messias.


“Die steen wat die bouers verwerp het, het ‘n hoeksteen geword.” PSALMS 118:22 AFR53

Hierdie beeld kom van die antieke steengroewe waar hoogs opgeleide klipkappers die klippe wat in hul bouproses gebruik is, noukeurig gekies het. Geen klip was belangriker as die hoeksteen nie, want die integriteit van die hele struktuur het van die hoeksteen afgehang.


As die hoeksteen nie presies reg was nie, sou die hele gebou uit posisie wees. Om dié rede het bouers baie klippe deursoek en elkeen verwerp totdat hulle die perfekte steen gekry het. Afgekeurde klippe kon in ander dele van die gebou gebruik word, maar was nooit die hoeksteen of die deksteen nie (die eerste en laaste stene wat in posisie geplaas word).


Toe Petrus vir die Joodse leiers in Handelinge 4:8–12 gepreek het, het hy Psalm 118:22 aangehaal om te wys dat Jesus die verwerpte steen is wat God gemaak het om die hoeksteen van verlossing te wees.


“Daarop sê Petrus, vervul met die Heilige Gees, aan hulle: Owerstes van die volk en ouderlinge van Israel, as ons vandag ondervra word oor ‘n weldaad aan ‘n siek man, waardeur hy gesond geword het, laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Israel dat deur die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, wat julle gekruisig het, maar wat God uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan. Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat ‘n hoeksteen geword het. En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” HANDELINGE 4:8-12 AFR53


Daar is geen ander hoop, geen ander weg en geen ander naam as die naam van Jesus nie. As ons gered wil word, is daar net een weg en dit is deur Jesus. Moet nie soos die bouers wees wat God se Steen van verlossing verwerp het nie. Moet nie Jesus Christus verwerp nie en moet nie oor hierdie verwerpte klip struikel nie. Die einste klip wat die bouers verwerp het, het die hoof van die hoek geword. Mag God jou oë oopmaak om Jesus te sien soos Hy werklik is—die Hoeksteen van ewige verlossing.

————————————————————

20 Februarie 2022


Die gelykenis van die landbouers- Markus


MARKUS 12:6-9 AFR53

“Hy het toe nog een seun gehad, sy geliefde, en hom die laaste na hulle gestuur en gesê: Hulle sal my seun ontsien. Maar daardie landbouers het by hulleself gesê: Dit is die erfgenaam; kom laat ons hom doodmaak, en die erfdeel sal ons s’n wees. En hulle het hom geneem en doodgemaak en buitekant die wingerd uitgewerp. Wat sal die eienaar van die wingerd dan doen? Hy sal kom en die landbouers ombring en die wingerd aan ander gee.”


Aardse verhaal

Ons is steeds besig met die gelykenis van die huisheer wat die wingerd aan landbouers verhuur. In die gedeelte konsentreer ons op die seun wat dood gemaak is en wat die eienaar van die wingerd nou gaan doen. Hy sal die landbouers ombring en die wingerd aan ander gee.


Hemelse betekenis

Die huisheer is God; die landbouers is die Joodse leierskap; die seun is Jesus; en die ander mense is die ‘gentiles’, die nie-Jode of vandag se kerk. Die huisheer wat sy geliefde seun stuur is uiteraard ‘n verwysing na God wat Sy geliefde Seun Jesus stuur.


Die landbouers wat die seun wil doodmaak beskryf die komplot van die Joodse leierskap om Jesus dood te maak. Jesus vra die vraag: Wat sal die eienaar van die wingerd dan doen? en die Joodse leierskap vind hulself skuldig met hul antwoord: Hy sal kom en die landbouers ombring en die wingerd aan ander gee.”


Die profesie waar die landbouers omgebring word is vervul in 70 AD toe die tempel en Jerusalem vernietig is. Die Jode is uit Jerusalem verban en die diaspora begin met die Jode wat oral in die wêreld behalwe in hul eie land woon. Alle tempel offerhandes en aktiwiteite is gestaak, want die tempel is verwoes en sonder ‘n tempel kan daar nie offerhandes wees nie.


Die wingerd aan ander gegee – dit is die koninkryk van God wat vir ‘n wyle van die Joodse volk weggeneem is en aan die ‘gentiles’ gegee is sodat hulle kan vrugte dra.


Dit is vir my baie belangrik om uit te wys dat ons as Christene nie die Joodse volk as uitverkore volk van God vervang nie. Vervangings teologie of in engels Replacement theology, is ‘n valse leëring wat vir ons voorgehou word. God het ‘n ewige verbond, ‘n onverbreekbare verbond, met Abraham gesluit waarin Hy aan Abraham ‘n groot nageslag (waar Christene ingesluit word) en grond belowe het.


“En nou praat ek met julle, gelowiges uit die heidennasies. As apostel vir die heidennasies is ek trots op my werk en strewe ek daarna om op een of ander manier my eie mense jaloers te maak en sommige van hulle te red. As hulle verwerping vir die wêreld versoening beteken het, wat sal hulle aanneming dan nie beteken nie? Niks minder nie as lewe uit die dood! As die eerste stuk deeg aan God gewy is, dan is ook die res van die deeg aan Hom gewy. En as die wortel van die boom aan God gewy is, dan is ook die takke aan Hom gewy. Party van die takke is uitgekap en jy, ‘n wilde olyf, is tussen die ander takke op die mak olyf geënt. So het jy deel gekry aan die lewensap van die mak olyf se wortel. Moet jou dan nie bo die ander takke verhef nie! Moet jou ook nie verbeel jy is iets nie: dit is nie jy wat die wortel dra nie, die wortel dra jou.”     ROMEINE 11:13-18 AFR83


“En dít is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.”    EFESIËRS 3:6 AFR83

———————————————————

21 Februarie 2022


Die gelykenis van die bruilof


MATTHÉÜS 22:1-5 AFR53

“En Jesus het weer deur gelykenisse met hulle begin spreek en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ‘n koning wat ‘n bruilof vir sy seun berei het en sy diensknegte uitgestuur het om die genooides na die bruilof te roep, en hulle wou nie kom nie. Weer het hy ander diensknegte uitgestuur met die boodskap: Sê vir die genooides: Kyk, my maaltyd het ek berei, my beeste en vetgemaakte vee is geslag en alles is gereed. Kom na die bruilof. Maar hulle het hul daaraan nie gesteur nie en weggegaan, een na sy eie stuk land en ‘n ander na sy handelsaak.”


Aardse verhaal

Die koninkryk van die hemele is soos: ‘n Bruilofsfees wat die koning in eg Joodse tradisie vir sy seun reël, en ‘n week lank vier met vrolikheid en heerlike eetgoed. ‘n Uitnodiging van die koning was ‘n eer en ‘n opdrag, maar die burgers van hierdie land het twee keer die uitnodiging geweier.


Sommige genooide gaste het nie net die konings se uitnodiging geïgnoreer of geminag nie, maar het ook gewelddadig teenoor sy boodskappers opgetree. Die koning het gereageer soos antieke heersers dikwels gedoen het; hy het sy troepe gestuur om die stad van die moordenaars te vernietig. Om die koning se boodskappers met minagting te hanteer, was soos om die koning self met minagting te hanteer.


“En die origes het sy diensknegte gegryp en mishandel en doodgemaak. Toe die koning dit hoor, het hy kwaad geword en sy manskappe gestuur en daardie moordenaars omgebring en hulle stad aan die brand gesteek.” MATTHÉÜS 22:6-7 AFR53

Die koning besluit toe dat sy diensknegte op die kruispaaie moet uitgaan en almal nooi wat hulle mag vind, goeies sowel as slegtes, want die oorspronklike genooides was dit nie werd nie.


“Daarop sê hy vir sy diensknegte: Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie. Gaan dan op die kruispaaie en nooi almal wat julle mag vind, na die bruilof. En daardie diensknegte het uitgegaan op die paaie en almal versamel wat hulle gevind het, slegtes sowel as goeies, en die bruilofsaal het vol gaste geword.” MATTHÉÜS 22:8-10 AFR53

Alhoewel is die finale uitnodiging na die bruilof aan een en almal gerig was, moes gaste nog steeds aan sekere voorwaardes voldoen om aan die fees deel te neem. Dit het ingesluit die dra van ‘n bruilofskleed, wat waarskynlik deur die koning self aan die gaste gegee is. Toe die koning ‘n man sonder sulke klere kry, is die man summier vasgebind en uit die paleis uitgegooi.


“En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ‘n bruilofskleed aan het nie. En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie. Toe sê die koning vir sy dienaars: Bind sy hande en voete, neem hom weg en werp hom in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.” MATTHÉÜS 22:11-13 AFR53


Hemelse betekenis

“Want baie is geroep, maar min uitverkies.” MATTHÉÜS 22:14 AFR53


Die koning is God die Vader, en die seun is Jesus – “Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.” JOHANNES 1:11 AFR53


Die diensknegte is die profete en die genooides wat weier om die uitnodiging te aanvaar is die Israeliete. Die stad van die moordenaars wat vernietig is, is Jerusalem se val in 70AD.


Die ander mense is die ‘Gentiles’ aan wie die Evangelie verkondig is, en die bruilofskleed is die ‘kleed’ wat ons sondes bedek sodat ons rein voor God kan verskyn.


Baie mense hoor die roepstem van God, maar net ‘n paar luister daarna.


Jesus praat steeds met die priesters en die skrifgeleerdes en leer hulle dat die boodskap van die Evangelie na die hele wêreld uitgegaan het, maar eers na die Joodse volk. Betreklik min het die Here se uitnodiging tot die ewige lewe aanvaar, so die uitnodiging is toe ook aan die heidene (Gentiles, of nie-Jode) gegee. Om aan die groot bruilofsfees van God deel te neem, moet ‘n mens nie net genooi word nie, maar jy moet ook die koning se bruilofsklere aantrek – die geregtigheid van Christus, wat uit genade deur geloof aanvaar word. Diegene sonder so ‘n kledingstuk, hoewel genooi, openbaar dat hulle nie uitverkies is nie.

————————————————————

22 Februarie 2022


Die gelykenis van die saad.


MARKUS 4:26-29 AFR53

“En Hy het gesê: So is die koninkryk van God, soos wanneer ‘n mens die saad in die grond gooi; en hy gaan slaap en staan op, nag en dag, en die saad spruit uit en word groot — hoe, weet hy self nie. Want vanself bring die aarde vrug voort, eers ‘n halm, dan ‘n aar, dan die volle koring in die aar. En wanneer die vrug dit toelaat, steek hy die sekel dadelik in, omdat die oes daar is.”


Aardse verhaal

Die koninkryk van God is soos: Wanneer jy saad in die grond gooi en dit groei. Jy slaap en staan op, m.a.w. tyd gaan verby, en die saad ontkiem en groei en word groot – die hoe, wat en waar daarvan weet jy nie, dit gebeur net. Die plant gaan deur al die groei fases en wanneer die vrug ryp is, sny jy die vrug af, want die oes is gereed.


Hemelse betekenis

Hierdie gelykenis kom net in die evangelie van Markus voor. In Jesus se vorige gelykenis oor saad was die klem op die vrugbaargeid van die grond. Hierdie gelykenis konsentreer op die krag van die saad (die Woord van God) om ‘n oes te lewer.


“so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.” JESAJA 55:11


Die persoon wat die saad in die grond gooi, is in die geval nie Jesus nie, maar ek en jy wat die Woord van God verkondig. Die saad, die verander nie, dit bly die Woord van God.


Die saad wat groei (ons weet nie hoe nie) is God se werkende krag in elke mens se hart. Die feit dat die saad self groei, beteken dat God Sy doel kan bereik selfs wanneer ons afwesig is of onbewus is van wat Hy doen. Op die regte tyd sal die Woord sy vrugte voortbring, en die Here van die oes sal verheerlik word.


Paulus verduidelik dit mooi in die verse:


“Wie is Paulus dan, en wie Apollos anders as dienaars deur wie julle gelowig geword het? En dit soos die Here aan elkeen gegee het. Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei. So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei.


Maar hy wat plant en hy wat natmaak, is een, maar elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang.” I KORINTHIËRS 3:5-8 AFR53


Die gelykenis eindig met ‘n oes. Sodra die graan ryp is, word die sekel aangewend en die saad word geoes, als gebeur net op die regte tyd.

————————————————————

23 Februarie 2022


Die gelykenis van die geldskieter en twee skuldenaars


LUKAS 7:41-43 AFR53

“Hy sê toe: ‘n Sekere geldskieter het twee skuldenaars gehad; die een het vyfhonderd pennings geskuld en die ander een vyftig; en omdat hulle niks gehad het om te betaal nie, het hy dit aan altwee geskenk. Sê nou, wie van hulle sal hom die meeste liefhê? En Simon antwoord en sê: Ek veronderstel dié een aan wie hy die meeste geskenk het. En Hy antwoord hom: Jy het reg geoordeel.”


Aardse verhaal

‘n Geldskieter het twee mense wat hom geld skuld, die een skuld hom baie en ander skuld hom min. Nie een van die twee het geld om hul skuld te vereffen nie, en die geldskieter besluit om dit aan hulle te skenk. Wie van die twee sal hom die meeste liefhe? Natuurlik die persoon wat die meeste geld geskuld het!


Hemelse betekenis

Hierdie gelykenis speel af in die huis van Simon, ‘n Fariseër, wat Jesus genooi het om saam met hom te eet. Om respek vir Jesus te toon, stop ‘n vrou ongenooid in, maar Simon noem haar ‘n sondaar, een wat berug en goddeloos is, ‘n prostituut.


“En een van die Fariseërs het Hom genooi om by hom te eet; en Hy het in die huis van die Fariseër gekom en aan tafel gegaan. En toe ‘n vrou in die stad, wat ‘n sondares was, verneem dat Hy in die Fariseër se huis aan tafel was, het sy ‘n albaste fles met salf gebring en agter by sy voete gaan staan en geween; en sy het sy voete begin natmaak met haar trane en hulle afgedroog met die hare van haar hoof; en sy het sy voete gesoen en met salf gesalf. Toe die Fariseër wat Hom genooi het, dit sien, sê hy by homself: Hy, as Hy ‘n profeet was, sou geweet het wie en watter soort vrou dit is wat Hom aanraak; want sy is ‘n sondares.” LUKAS 7:36-39 AFR53


Hierdie drie mense word die drie fiktiewe karakters van Jesus se gelykenis wat ons nou hanteer: ’n skuldeiser, ’n skuldenaar wat 500 pennings skuld, en nog een wat 50 pennings skuld.


Die vergewende skuldeiser is Jesus Christus. Die ‘regverdige’ man wat 50 pennings skuld is die Fariseër Simon, en die persoon in die skuld vir 500 pennings is die vrou, die sondaar.

Jesus praat met Simon en sê vir hom die volgende:


“Daarop draai Hy om na die vrou en sê vir Simon: Sien jy hierdie vrou? Ek het in jou huis gekom — water het jy nie vir my voete gegee nie; maar sy het met haar trane my voete natgemaak en met die hare van haar hoof afgedroog. ‘n Soen het jy My nie gegee nie; maar sy het, vandat sy ingekom het, nie opgehou om my voete te soen nie. Met olie het jy my hoof nie gesalf nie; maar sy het my voete met salf gesalf.” LUKAS 7:44-46 AFR53


Jesus verduidelik dat die ‘slegte vrou’ wat ‘baie sondes’ gehad het vergewe is, en dat sy baie bly is. Simon wat nie eens gedink het hy het sondes nie, is ook vergewe, maar hy byt nie aan die storie nie en hy is die een wat weinig lief het.


“Daarom sê Ek vir jou: Haar sondes wat baie is, is vergewe, want sy het baie liefgehad; maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief. En Hy sê vir haar: Jou sondes is vergewe. Toe begin die wat aan tafel was, by hulleself te sê: Wie is hierdie man wat selfs die sondes vergewe? En Hy sê vir die vrou: Jou geloof het jou gered; gaan in vrede.” LUKAS 7:47-50 AFR53

————————————————————

24 Februarie 2021


Die gelykenis van die barmhartige Samaritaan


LUKAS 10:29-30 AFR53

“Maar hy wou homself regverdig, en sê vir Jesus: En wie is my naaste? En Jesus antwoord en sê: ‘n Sekere man het afgegaan van Jerusalem na Jérigo en onder rowers verval, en nadat hulle hom uitgetrek en geslaan het, gaan hulle weg en laat hom half dood lê.”


Aardse verhaal

‘n Sekere man reis van Jerusalem na Jerigo en word deur rowers oorval, uitgetrek, geslaan en vir dood laat staan. ‘n Priester en ‘n Leviet sien die man, maar stap verby sonder om te help. ‘n Samaritaan kom ook op die man af, maar anders as die ander twee, voel hy jammer vir hom.


“En bygeval het ‘n priester met daardie pad afgekom, en toe hy hom sien, gaan hy anderkant verby. En net so het ook ‘n Leviet by dié plek gekom en hom gesien en anderkant verbygegaan. Maar ‘n sekere Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom; en toe hy hom sien, het hy innig jammer gevoel,” LUKAS 10:31-33 AFR53


Die Samaritaan het die man se wonde versorg en verbind, hom op sy pakdier gehelp en hom na ’n herberg geneem en vir hom gesorg. Toe hy die volgende dag vertrek, het die Samaritaan vir die herbergier geld gegee en gevra om na hom te kyk tot hy gesond is, en enige tekort sal hy by sy terugkoms betaal.


“en na hom gegaan, sy wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi. Hy het hom toe op sy eie pakdier gehelp en hom na ‘n herberg geneem en vir hom gesorg. En toe hy die volgende môre weggaan, haal hy twee pennings uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê vir hom: Sorg vir hom, en enige onkoste wat jy nog meer mag hê, sal ek jou betaal as ek terugkom.” LUKAS 10:34-35 AFR53

Hemelse betekenis


Die gelykenis van die barmhartige Samaritaan is verskillend van die meeste ander gelykenisse omdat sy verklaring eintlik te maklik is.


Jesus praat met ‘n skrifgeleerde wat Hom die volgende vraag vra – “….. Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?” LUKAS 10:25b AFR53


Jesus beantwoord sy vraag met nog ‘n vraag – “En Hy antwoord hom: Wat is in die wet geskrywe? Hoe lees jy?” LUKAS 10:26 AFR53


Die skrifgeleerde ken die wet en antwoord reg – “En hy antwoord en sê: Jy moet die Here jou

God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele krag en uit jou hele verstand; en jou naaste soos jouself.” LUKAS 10:27 AFR53


Jesus sê toe dood eenvoudig – “….. Jy het reg geantwoord; doen dit, en jy sal lewe.” LUKAS 10:28b AFR53


Tipies aan ‘n wetgeleerde wil hy nie die gesprek daar laat nie – “Maar hy wou homself regverdig, en sê vir Jesus: En wie is my naaste?” LUKAS 10:29 AFR53


Dis toe dat Jesus die gelykenis van die barmhartige Samaritaan vertel. Wat gebeur op die einde? Jesus vra nog ‘n vraag – “Wie dan van hierdie drie, dink jy, was die naaste van hom wat onder die rowers verval het?” LUKAS 10:36 AFR53


“En hy antwoord: Hy wat barmhartigheid aan hom bewys het. Toe sê Jesus vir hom: Gaan en doen jy net so.” LUKAS 10:37 AFR53


En dit is wat ons ook moet doen – Gaan en doen jy net so!

————————————————————

25 Februarie 2022


Die gelykenis van die onbeskaamde vriend.


LUKAS 11:5-6 AFR53

“En Hy het vir hulle gesê: Wie van julle sal ‘n vriend hê en sal middernag na hom gaan en vir hom sê: Vriend, leen my drie brode, want ‘n vriend van my het van ‘n reis by my aangekom, en ek het niks om aan hom voor te sit nie —”


Aardse verhaal

Jy het die volgende situasie – ‘n vriend op reis kom laatnag en onverwags by jou huis aan en is honger, maar jy het nie genoeg kos in jou huis nie. Gasvryheid was ‘n morele verpligting in die antieke wêreld, en hierdie man het ‘n verantwoordelikheid gehad wat hy nie kon nakom tensy hy hulp gevra het nie. Hy klop toe laatnag by ‘n ander vriend aan en vra vir drie brode.


Die vriend is reeds in die bed en wil nie gepla word nie, maar voel tog verplig om te help omdat sy vriend sonder skaamte aangehou vra het.


“en dié van binnekant sal antwoord en sê: Moenie my lastig val nie; die deur is al gesluit, en my kinders is saam met my al in die bed; ek kan nie opstaan om vir jou te gee nie.


Ek sê vir julle, al sou hy ook nie opstaan en vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog ter wille van sy onbeskaamdheid opstaan en hom gee soveel as hy nodig het.” LUKAS 11:7-8 AFR53


Hemelse betekenis

“En toe Hy op ‘n sekere plek besig was om te bid, sê een van sy dissipels vir Hom nadat Hy opgehou het: Here, leer ons bid, soos Johannes ook sy dissipels geleer het.” LUKAS 11:1 AFR53


Jesus vertel ‘n verhaal van kontraste vir sy dissipels nadat hulle Hom gevra het – leer ons bid! Ons het hier drie vriende: die eerste is die vriend op reis wat honger is, die tweede is die een wat aanhoudend vra om sy vriend te help; en die derde is die een wat gepla word toe hy wil slaap.


In kontras met die derde man wat nie gepla wou wees nie, is God altyd paraat en wil Hy graag ‘gepla’ word.


“En Ek sê vir julle: Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.” LUKAS 11:9-10 AFR53


God die Vader wil ‘n verhouding met ons, Sy kinders he en deel daarvan is om in gebed met Hom te verkeer. Ons gebede word altyd verhoor, die antwoord is net nie altyd wat ons wil he nie. Soms is dit onmiddelik Ja, maar ander kere is dit Nee, of Later!


“En vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom ‘n klip gee; of ook ‘n vis, en hy sal hom in plaas van ‘n vis ‘n slang gee; of ook as hy ‘n eier vra, hom ‘n skerpioen gee?

As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?” LUKAS 11:11-13 AFR53


Ons as kinders van God moet die eienskappe van die eerste vriend he want ons moet honger wees om met God ‘n verhouding te he. Dan moet ons ook soos die tweede vriend wees en aanhoudend sonder ophou met God in gebed verkeer.


Ons moet besef dat gebed nie ‘n inkopielys is om als te kry wat ons wil he nie. Gebed se hoofdoel is om God te vra om elkeen van ons te gebruik om dit te bereik wat Sy Naam gaan verheerlik, Sy koninkryk sal uitbrei en Sy wil te laat geskied.


“Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” MATTHÉÜS 6:33 AFR53

————————————————————

26 Februarie 2022


Die gelykenis van die ryk dwaas.


LUKAS 12:16-18 AFR53

“Toe vertel Hy hulle hierdie gelykenis: ‘n Ryk man se grond het goed gedra. En hy het by homself geredeneer en gesê: Wat sal ek doen, want ek het geen plek waar ek my oes kan insamel nie? Toe sê hy: Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter bou, en ek sal daar al my opbrengste en my goed insamel.”



Aardse verhaal

‘n Ryk man wat boer se grond dra sulke groot oeste dat hy nie plek het om sy opbrengs te bêre nie. Hy besluit toe om sy huidige skure af te breek en groter skure te bou om genoeg plek vir als te maak. Baie tevrede praat hy met homself en is verheug oor die skatte wat hy opgegaar het vir sy aftrede. Hy kan nou maar rus, eet, drink en vrolik wees.


“En ek sal vir my siel sê: Siel, jy het baie goed wat weggesit is vir baie jare; neem rus, eet, drink, wees vrolik.” LUKAS 12:19 AFR53


Maar God antwoord hierop dat die ryk man die nag sal sterf en wat word dan van al sy opgegaarde weelde.


“Maar God het aan hom gesê: Jou dwaas, in hierdie nag sal hulle jou siel van jou afeis; en wat jy gereedgemaak het, wie s’n sal dit wees?” LUKAS 12:20 AFR53


Hemelse betekenis

Die probleem hier is hebsug. Die verklarende woordeboek beskryf hebsug as volg: Sug om geld of goed te hê, skraapsug, inhaligheid, gierigheid.


Die man se sonde was nie sy rykdom nie, want hy het dit nie op ‘n immorele of onwettige wyse verkry nie. Sy sonde was in die opgaar van sy rykdom in die strewe na gemak, sekuriteit en ‘n lang lewe.


Die ryk man gebruik 11 persoonlike voornaamwoorde – ‘ek’ ses keer en ‘my’ vyf keer – om van sy besittings te praat (my oeste, my skure, my goed). Hy het geen gedagte aan die dag gelê dat hierdie dinge eintlik aan God behoort nie.


Die gelykenis het begin deur ‘n jonger broer wat ongelukkig was omdat sy ouer broer meer as hy geërf het, en die jonger broer vra Jesus om te help.


“Maar Hy antwoord hom: Mens, wie het My as ‘n regter of deler oor julle aangestel?” LUKAS 12:14 AFR53


En dan gee Jesus die oplossing van die dilemma voor hy die gelykenis begin vertel wat ons nou hanteer het.


“En Hy sê vir hulle: Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug, want iemand se lewe bestaan nie uit die oorvloed van sy besittings nie.” LUKAS 12:15 AFR53


Die gelykenis eindig met die volgende wyse woorde van Jesus – “So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.” LUKAS 12:21 AFR53


Ons word nie deur God geseën om ons rykdom vir onsself op te gaar nie. Ons word geseën om ‘n seëning in die lewens van ander te wees, en om die koninkryk van God op te bou en uit te brei.

————————————————————

27 Februarie 2022


Die gelykenis van die waaksame dienskneg.


LUKAS 12:35-36 AFR53

“Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag wanneer hy van die bruilof terugkom, sodat hulle dadelik vir hom kan oopmaak as hy kom en aanklop.”


Aardse verhaal


Wat is die eienskap van ‘n waaksame dienskneg?


1. Omgord jou heupe – Die lang, los kledingstukke wat in die Bybelse tyd gedra is, word onderdeur jou bene opgetrek en met ‘n tou om jou heupe vasgemaak om sodoende die kledingstuk in ‘n ‘broek’ te verander. Nou is die dienskneg soos ‘n soldaat gereed vir oorlog.


2. Maak seker jou lampe brand – Weereens in die Bybelse tyd was daar nie ligskakelaars om ligte aan te skakel nie. Hulle het gewoonlik met olielampe gewerk, en jy moes sorg dat jy genoeg olie in die lamp het om hom aan die brand te steek wanneer jy die lig nodig het.


3. Wees paraat soos mense wat wag vir hul heer om van ‘n bruilof terug te kom, sodat julle onmiddelik die deur kan oopmaak wanneer hy klop.


Wanneer moet die dienskneg paraat wees? Die antwoord is dag en nag. Hoe laat is die tweede en derde nagwaak? Die tweede nagwaak is van 21:00 tot middernag en die derde nagwaak is dus van middernag tot 3:00. Wanneer die heer in die tyd terugkom sal die wakker dienskneg gelukkig geag word.


“En as hy in die tweede of in die derde nagwaak kom, en dit so vind — gelukkig is daardie diensknegte.” LUKAS 12:38 AFR53


Hemelse betekenis

“Maar weet dit: as die huisheer geweet het in watter uur die dief sou kom, sou hy gewaak het en nie in sy huis laat inbreek het nie.” LUKAS 12:39 AFR53


Jesus vertel dat as ons weet hoe laat ‘n dief by ons huis gaan inbreek, dan sal ons natuurlik wakker en paraat wees sodat ons hom kan inwag en vang voordat hy inbreek.


Elkeen van ons moet paraat en gereed wees vir Jesus se tweede koms, so gereed soos die waaksame dienskneg, want Jesus kom terug op ‘n uur wat ons nie weet of verwag nie.


“Julle moet dan ook gereed wees, omdat die Seun van die mens kom op ‘n uur dat julle dit nie verwag nie.” LUKAS 12:40 AFR53

————————————————————

28 Februarie 2022


Die gelykenis van die onvrugbare vyeboom


LUKAS 13:6-7 AFR53

“En Hy het hierdie gelykenis uitgespreek: ‘n Man het ‘n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was, en hy het gekom en vrugte daaraan gesoek en niks gekry nie. Toe sê hy vir die tuinier: Kyk, drie jaar kom ek om vrugte aan hierdie vyeboom te soek en ek kry niks nie; kap hom uit. Waarvoor maak hy die grond nog onvrugbaar?”


Aardse verhaal

‘n Wingerdeienaar loop in sy tuin en soek vye op sy vyeboom wat nou al sewe jaar lank groei, maar die boom dra geen vrugte nie. Die man sê toe vir die tuinier om die boom uit te kap.


Vrugte van ‘n nuutgeplante boom moes vir die eerste drie jaar nie geëet word nie, en die vrugte van die vierde jaar het aan die Here behoort. Die eienaar soek nou al drie jaar vrugte van die boom, dus sewe jaar wat die boom oud is, geen wonder die eienaar wil hom uitkap nie.


“En as julle in die land inkom en allerhande vrugtebome plant, moet julle hulle vrugte as verbode beskou; drie jaar lank moet hulle vir julle verbode wees; daar mag nie van geëet word nie. Maar in die vierde jaar moet al hulle vrugte ‘n heilige feesgawe aan die Here wees; en in die vyfde jaar mag julle hulle vrugte eet — dit alles om hulle opbrings vir julle meer te maak. Ek is die Here julle God.” LEVÍTIKUS 19:23-25 AFR53


Hemelse betekenis

“Maar hy antwoord en sê vir hom: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan totdat ek om hom gespit en mis gegooi het. As hy dan vrugte dra, goed; maar so nie, dan kan u hom anderjaar uitkap.” LUKAS 13:8-9 AFR53


Die wingerdeienaar verteenwoordig God, die een wat tereg verwag om vrugte aan Sy boom te sien en wat tereg besluit om dit te vernietig wanneer Hy niks kry nie.


Die tuinier wat die bome versorg, hulle natmaak en kunsmis gee om hulle tot hul hoogtepunt van vrugbaarheid te bring, verteenwoordig Jesus, wat Sy mense voed en vir hulle lewende water gee.


Die boom self het twee simboliese betekenisse: die volk Israel en die individu.

God is genadig en lankmoedig teenoor mense en doen meer as genoeg om ons aan te moedig om te bekeer en vrug te dra.


“Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” II PETRUS 3:9 AFR53


God het die volste reg om ons af te kap, maar in Sy genade het Hy ons gespaar. Tog moet ons nie aanmatigend wees op die goedheid en lankmoedigheid van die Here nie, want die dag van afrekening sal uiteindelik aanbreek.


As daar geen sigbare verandering is in die lewe van iemand wat beweer dat hy die Messias vertrou nie, soos die vyelose vyeboom, word dit geoordeel.

————————————————————

1 Maart 2022


Die gelykenis van die genooides en voorste plekke


LUKAS 14:7-8 AFR53

“En toe Hy merk hoe hulle die voorste plekke uitkies, vertel Hy aan die genooides ‘n gelykenis en sê vir hulle: Wanneer jy deur iemand na ‘n bruilof uitgenooi is, moenie die voorste plek inneem nie, ingeval daar nie miskien een wat waardiger is as jy deur hom uitgenooi is nie,”


Aardse verhaal

Jesus is aan huis van een van die owerstes van die Fariseërs om op die sabbat brood te eet. Die Fariseërs het Jesus heeltyd dopgehou terwyl Hy ‘n siek man in hul midde op die sabbat genees – heel moontlik deur die Fariseërs daar geplaas om Jesus uit te vang. Jesus het hulle ook dopgehou en gesien dat die genooides almal die belangrike sitplekke uitgekies het om in te gaan sit. Jesus sien soos altyd hierdie as ‘n goeie leer oomblik en vertel die volgende gelykenis aan die wat uitgenooi is.


Wanneer jy uitgenooi word na ‘n bruilof, moet nie summier die beste plek uitkies om te sit nie, want ‘n belangrike gas kan later inkom en as jy op sy plek sit, sal jy moet opstaan voor almal en heel agter gaan sit op die enigste plekke wat nog beskikbaar is.


“en hy wat jou en hom genooi het, kom en vir jou sê: Maak plek vir hierdie man. En dan sal jy met skaamte die agterste plek begin inneem.” LUKAS 14:9 AFR53


Gaan sit eerder agter sodat die gasheer jou kan nooi om voor te gaan sit, en die mense om jou, jou waardig kan ag.


“Maar wanneer jy genooi is, gaan en neem die agterste plek in; sodat wanneer hy kom wat jou genooi het, hy vir jou kan sê: Vriend, gaan hoër op! Dan sal jy eer hê voor die wat saam met jou aan tafel is.” LUKAS 14:10 AFR53


Hemelse betekenis

“Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en wat homself verneder, sal verhoog word.” LUKAS 14:11 AFR53


Met hierdie gelykenis leer Jesus vir ons ‘n belangrike les: Om nie te trots te wees nie, maar om nederig te wees in ons verhoudings met God en diegene rondom ons!


Jesus was die perfekte Persoon om hierdie les vir ons te leer, want Hy is die perfekte voorbeeld van iemand wat die hoogste posisie verdien het, maar die laagste posisie ingeneem het en toe die hoogste posisie toegeken is.


“Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.” FILIPPENSE 2:5-11 AFR53

————————————————————

2 Maart 2022


Die gelykenis van die groot maaltyd.


LUKAS 14:15-17 AFR53

“En toe een van die wat saam aan tafel was, dit hoor, sê hy vir Hom: Salig is hy wat brood eet in die koninkryk van God. Maar Hy antwoord hom: ‘n Sekere man het ‘n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi. En op die uur van die maaltyd het hy sy dienskneg uitgestuur om vir die genooides te sê: Kom, want alles is nou gereed.”


Aardse verhaal

Jesus is nog steeds aan huis van een van die owerstes van die Fariseërs en een van die gaste wat na Jesus geluister het sê: Salig of geseënd is hy wat brood eet in die koninkryk van God.


Die Joodse volk het hul toekomstige koninkryk as ‘n groot fees voorgestel met Abraham, Isak, Jakob en die profete as eregaste. Maar, Jesus antwoord hom met ‘n nuwe gelykenis.


‘n Sekere man gee ‘n groot maaltyd en het baie mense uitgenooi. Toe die fees gereed is, stuur hy sy dienskneg uit om elkeen van die mense te roep, maar een en elkeen het ‘n verskoning om nie te kom nie.


“En hulle het hul almal eenparig begin verontskuldig. Die eerste het vir hom gesê: Ek het ‘n stuk grond gekoop en ek moet noodsaaklik uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my tog. En ‘n ander een het gesê: Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u, verskoon my tog. En ‘n ander een het gesê: Ek het ‘n vrou getrou en daarom kan ek nie kom nie.” LUKAS 14:18-20 AFR53


Die dienskneg kom terug en vertel vir sy heer dat niemand kan kom nie. Die eienaar van die huis is woedend en stuur hulle uit op die strate om almal wat hul raakloop te nooi en toe daar nog plek is moes hulle vêrder vir gaste gaan soek op die paaie en lanings.


“En daardie dienskneg het gekom en dié dinge aan sy heer vertel. Toe het die eienaar van die huis kwaad geword en vir sy dienskneg gesê: Gaan gou uit in die strate en die gangetjies van die stad en bring die armes en verminktes en kreupeles en blindes hier in. En die dienskneg het gesê: Meneer, wat u beveel het, is gedoen, en daar is nog plek. Toe sê die heer vir die dienskneg: Gaan uit op die paaie en na die lanings en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word.” LUKAS 14:21-23 AFR53


Hemelse betekenis

“Want ek sê vir julle dat nie een van daardie manne wat genooi is, my maaltyd sal smaak nie.”   LUKAS 14:24 AFR53


Die huiseienaar verteenwoordig God, die eerste groep mense wat uitgenooi is verteenwoordig die Joodse volk, en die tweede groep mense wat uitgenooi is verteenwoordig al die nie-Jode of die gentiles.


Die persoon wat saam met Jesus aan tafel was en gesê het: ‘salig is hy wat brood eet in die koninkryk van God’, hy het aangeneem dat hy en die ander mense teenwoordig almal teenwoordig sou wees in die koninkryk van God. Jesus het die geleentheid gebruik om met die feesmotief te verduidelik dat baie van die mense daar nie in ‘n fees in God se koninkryk teenwoordig sou wees nie.


Hierdie is ‘n profesie van hoe die Woord van God na al die nasies uitgedra sou word. Hulle het begin in Jerusalem, toe beweeg na die streek van Judea, daarna was dit die Samaritane se beurt en van Handelinge 10 die heidene in die res van wêreld wat tot vandag toe nog gebeur.


“maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaría en tot aan die uiterste van die aarde.” HANDELINGE 1:8 AFR53

————————————————————

3 Maart 2022


Die gelykenis oor bedagsaamheid – deel 1 van 2


LUKAS 14:25 AFR53


“En groot menigtes het saam met Hom gegaan, en Hy het Hom omgedraai en vir hulle gesê:”


Wat moet ek doen om ‘n dissipel van Jesus te wees!

Groot skares reis nou saam met Jesus, en Hy leer hulle verskillende lesse om te bepaal wat dit beteken om ‘n dissipel van Hom te wees, of anders gestel om alles te los om Jesus te volg!


1. “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie.” LUKAS 14:26 AFR53

Die antieke Oosterse konsep van haat het nie intense gevoelens van afsku of weersin behels soos die moderne Westerse konsep dit doen nie. Om iets te haat, het beteken om dit in ‘n laer posisie as iets anders te plaas. Jesus het nie Sy volgelinge gevra om hul gesinne te verafsku nie, maar eerder om te verseker dat God die middelpunt van hul lewens moes wees. God eerste!


2. “En elkeen wat sy kruis nie dra en agter My aan kom nie, kan my dissipel nie wees nie.” LUKAS 14:27 AFR53

Vreemd om nou al na die kruis te verwys…! Wat beteken dit “om jou kruis te dra”?

Lojaliteit aan Jesus is die kwessie in hierdie konteks. Lojaliteit aan enige ander persoon of ding ten koste van lojaliteit aan Jesus is afgodery.

“En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.” HANDELINGE 5:29 AFR53


3. “Want wie van julle wat ‘n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie? — sodat as hy die fondament gelê het en nie in staat is om dit te voltooi nie, almal wat dit sien, nie miskien met hom sal begin spot en sê: Hierdie man het begin bou en kon nie klaarkry nie.” LUKAS 14:28-30 AFR53


Hierdie gelykenis bevat drie beginsels: 1) Die waarheid is duur; 2) voordat ons Jesus volg moet ons eeers die koste bereken; en, 3) wat dit ook al kos, dit is die moeite werd!


“En ‘n ander een het ook gesê: Here, ek sal U volg, maar laat my eers toe om afskeid te neem van die wat in my huis is. En Jesus antwoord hom: Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.” LUKAS 9:61-62 AFR53

————————————————————

4 Maart 2022


Die gelykenis oor bedagsaamheid – deel 2 van 2


4.  LUKAS 14:31-32 AFR53 “Of watter koning wat optrek om teen ‘n ander koning slag te lewer, gaan nie eers sit en beraadslaag of hy in staat is om met tienduisend die een te ontmoet wat met twintigduisend teen hom kom nie? Anders stuur hy ‘n gesantskap as die ander een nog ver is, en vra vredesvoorwaardes.”


Hierdie is nog ‘n voorbeeld waar die koning in die geval sy kostes moet opweeg in ‘n oorlog stryd. Ons gemaklike lewens het dit tot dusvêr vir ons maklik gemaak om Jesus te volg. Ons het nie eintlik teenstand van familie en vriende en die samelewing as ons besluit om Jesus volgelinge te wees nie. Maar, die tyd kom vinnig nader dat die wêreld ons gaan verafsku en vervolg omdat ons Jesus bo alles stel. Die gevallestudie wat jy vir jouself moet uitwerk is – wat gaan ek doen as ek met die dood gedryg word? Gaan ek Jesus nog steeds ooglopend bo alles stel?


5. “So kan dan ook niemand van julle wat nie afsien van al sy besittings, my dissipel wees nie. LUKAS 14:33 AFR53

Die woord ‘afsien’ wat vertaal word as ‘verlaat’ beteken om op te gee of afstand te doen van, of om ‘n mens se reg op eienaarskap te laat vaar. Dit impliseer nie dat jy al jou besittings verkoop of alles weggee nie, maar om ‘n rentmeester of trustee te word wat daardie hulpbronne in diens van die Meester gebruik.


6. “Die sout is goed, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit smaaklik gemaak word? Dit is nie bruikbaar vir die grond of vir die ashoop nie. Hulle gooi dit buitekant weg. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.” LUKAS 14:34-35 AFR53

Jesus het reeds vir Sy dissipels gesê dat hulle “die sout van die aarde” is – “Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie.” MATTHÉÜS 5:13 AFR53


Sout is ‘n preserveermiddel, ‘n suiweringsmiddel, voeg geur aan dinge en sout maak mens dors. So moet ons ook wees! Elkeen van hierdie eienskappe geld vir die koninkryk van God. Sout is net goed solank dit die eienskappe van soutigheid bevat. As dit sy soutigheid verloor, het dit geen waarde nie en word dit in die strate uitgegooi en op vertrap. Dieselfde geld vir dissipels.

————————————————————

5  Maart 2022


Die gelykenis van die verlore penning


LUKAS 15:8 AFR53

“Of watter vrou wat tien pennings het, as sy een penning verloor, steek nie ‘n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie?”


Aardse verhaal

Wanneer ‘n vrou wat slegs tien pennings het, en sy verloor een van haar tien pennings, sal sy nie als in haar vermoeë doen om die een penning te soek nie? En wanneer sy dit vind, sal sy nie so verheug wees dat sy al haar vriendinne bymekaar kry om saam met haar bly te wees oor die penning wat gevind is nie?


“En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: Wees saam met my bly, want ek het die penning gekry wat ek verloor het.” LUKAS 15:9 AFR53


Hemelse betekenis

“So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer. LUKAS 15:10 AFR53


Die klem is op die soeker (God) en die resultaat (vreugde).


Die vrou wat haar een verlore penning soek, simboliseer net een sondaar wat tot bekering kom.


Dit is hoe waardevol elke mens vir God is, want daar is blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer.

————————————————————

6 Maart 2022


Die gelykenis van die verlore seun – Aardse verhaal


LUKAS 15:11-13 AFR53

“Hy het ook gesê: ‘n Man het twee seuns gehad. En die jongste van hulle het vir sy vader gesê: Vader, gee my die deel van die eiendom wat my toekom. En hy het die goed tussen hulle verdeel. En nie baie dae daarna nie het die jongste seun alles bymekaargemaak en weggereis na ‘n ver land. En daar het hy sy eiendom verkwis deur losbandig te lewe.”

Van al die gelykenisse is hierdie een seker die bekendste. Die jongste van twee seuns sê vir sy pa dat hy sy erfporsie wil he en hy kry dit. Die seun gee pad van die huis die wêreld in en verkwis al sy geld sodat hy varke moet oppas in die veld. Daar was ook nog hongersnood in die land en hy het niks gehad om te eet nie.


“En toe hy alles deurgebring het, kom daar ‘n swaar hongersnood in daardie land, en hy het begin gebrek ly. Toe het hy hom by een van die burgers van daardie land gaan voeg. En dié het hom in sy veld gestuur om varke op te pas. En hy het verlang om sy maag te vul met die peule wat die varke eet, en niemand het dit aan hom gegee nie.” LUKAS 15:14-16 AFR53


Die seun begin nou huis toe te verlang, dink aan sy pa se slawe wat lekker eet en besluit om omverskoning te gaan vra en terug te gaan na sy vader, al is dit as ‘n slaaf.


“Maar hy het tot homself gekom en gesê: Hoe baie huurlinge van my vader het oorvloed van brood, en ek vergaan van honger! Ek sal opstaan en na my vader gaan, en ek sal vir hom sê: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u, en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie; maak my soos een van u huurlinge.” LUKAS 15:17-19 AFR53


Sy pa is so bly om sy seun te sien dat hy nader hardloop, hom omhels en soen, en vir sy huishouding beveel om nuwe klere te bring, ‘n vetgemaakte kalf te slag en vrolik te wees want sy seun wat dood was is weer lewendig, hy wat verlore was is weer gevind!


“En hy het opgestaan en na sy vader gegaan. En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig jammer vir hom gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen. En die seun sê vir hom: Vader, ek het gesondig teen die hemel en voor u en ek is nie meer werd om u seun genoem te word nie. Maar die vader sê vir sy diensknegte: Bring die beste kleed en trek hom dit aan, en gee ‘n ring vir sy hand en skoene vir sy voete. En bring die vetgemaakte kalf en slag dit, en laat ons eet en vrolik wees. Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind. En hulle het begin vrolik word.” LUKAS 15:20-24 AFR53


Die oudste seun hoor net musiek en vrolikheid toe hy van die veld kom waar hy hard gewerk het. Hy roep een van die diensknegte en vra wat gaan aan, waarop die dienskneg antwoord dat sy broer terug is en sy vader vier fees. Die oudste broer is nie gelukkig nie en erg kwaad weier hy om in die huis in te gaan.


“En sy oudste seun was in die veld, en terwyl hy al nader na die huis kom, hoor hy musiek en beurtsange. En hy roep een van die diensknegte na hom toe en vra wat dit beteken. Dié sê toe vir hom: U broer het gekom, en u vader het die vetgemaakte kalf geslag, omdat hy hom gesond teruggekry het. En hy het kwaad geword en wou nie binnegaan nie. Sy vader gaan toe uit en smeek hom.” LUKAS 15:25-28 AFR53


Die oudste broer sê vir sy vader dat hy hom al die jare dien sonder om iets verkeerd te doen, maar hy het nooit eens ‘n bok gekry om met sy vriende vrolik te wees nie. Maar, kom die een terug wat hom losbandig gedra het en sy fortuin verkwis het en die vetgemaakte kalf word vir hom geslag.


“Maar hy antwoord en sê vir sy vader: Kyk, ek dien u so baie jare en ek het nooit u gebod oortree nie, en vir my het u nooit ‘n bokkie gegee, sodat ek saam met my vriende vrolik kon wees nie. Maar toe hierdie seun van u kom, wat u goed met hoere deurgebring het, het u vir hom die vetgemaakte kalf geslag.….” LUKAS 15:29-30AFR53

————————————————————

7 Maart 2022


Die gelykenis van die verlore seun – Hemelse betekenis


LUKAS 15:31-32 AFR53

“Toe sê hy vir hom: Kind, jy is altyd by my, en al wat myne is, is joue. Ons moet tog vrolik en bly wees, want hierdie broer van jou was dood en het weer lewendig geword, en hy was verlore en is gevind.”


Alhoewel hierdie gelykenis al eeue lank ‘die verlore seun’ genoem word, konsentreer die verhaal in werklikheid op die vader, wat nie minder nie as 12 keer genoem word. ‘n Meer gepaste titel sou die gelykenis van ‘die liefdevolle Vader’ wees.


Die versoek van die jonger seun was skandalig en koud, en op dieselfde trant asof om vir sy pa te sê: ‘Ek wens jy was dood!’. Die jonger seun het waarskynlik ‘n derde van sy vader se boedel ontvang en die ouer seun sou tipies twee derdes ontvang het.


Die vêr land waarheen die jonger seun verkas het, is meer as ‘n geografiese verwysing; dit verteenwoordig ook ‘n morele en geestelike skeiding van God.


Varke is vir die Jood as onrein diere beskou. Dat die jong man se rebellie in ‘n varkhok geëindig het, waar hy bly was om selfs hulle kos te eet, het beteken dat hy ‘rock bottom’ bereik het. Die jong man het tot homself gekom deur letterlik na sy volle verstand terug te keer en te besef hoe dwaas hy was.


Die verlore seun se aanvanklike woorde aan sy vader het nie berou gehad nie. Die Joodse kultuur het die stelling ‘Ek het gesondig teen die hemel en voor u’ as ‘n poging tot manipulasie beskou. Jesus se gehoor in die gelykenis was die Fariseërs wat die Skrif goed ken, en hulle moes die woorde herken as ‘n vraag wat Farao gevra het toe hy probeer het om Moses te manipuleer om die plae op te hef. Almal weet dat Farao nie berou gehad het nie, hy het probeer om Moses na sy wil te buig.


“Toe het Farao gou vir Moses en Aäron laat roep en gesê: Ek het gesondig teen die Here julle God en teen julle.” EXODUS 10:16 AFR53


Die Griekse teks beklemtoon die woorde ‘en toe hy nog vêr was’, wat aandui dat die vader nie vir sy seun by die huis gewag het nie; in plaas daarvan sou hy elke dag ‘n ent na die ver land reis, waar hy ‘n uitkykpunt gehad het wat hom waarskynlik in staat gestel het om die horison te sien. Toe die pa uiteindelik sy seun gewaar, het hy hom tegemoet gehardloop – ‘n hoogs onwaardige daad vir enige eerste-eeuse volwasse man.


Die vader het sy seun hartlik gesoen. Die teks sê letterlik dat die pa hom “met soene oorlaai” het, en hom deernis, vergifnis, aanvaarding en herstel aangebied het. Dit was die vader se liefde, en nie die verlore seun se pogings of sy bekering, wat die verhouding herstel het nie.


Die oudste seun het nie net geweier om die feesmaal by te woon nie, hy het geweier om sy jonger broer by die naam te noem, en na hom verwys as ‘hierdie seun van u’ – tekens van innerlike rebellie. Die ouer broer het soos ‘n slaaf gewerk en sy plig sonder liefde gedoen. Ongeag daarvan het sy vader nooit opgehou om hom lief te hê nie.


Hierdie is ‘n verhaal van God se genade – die Seun van die mens wat kom om die wat verlore is te soek en te red. Jesus wou hê dat die Fariseërs moet verstaan ​​dat Sy hele doel op aarde juis dit was waarvan hulle hom beskuldig het – om deur genade na sondaars uit te reik.

————————————————————

8 Maart 2022


Die gelykenis van die onregverdige bestuurder


LUKAS 16:1-2 AFR53

“En Hy het ook aan sy dissipels gesê: Daar was ‘n ryk man wat ‘n bestuurder gehad het; en hy is by hom aangeklaag as een wat sy besittings verkwis. En hy het hom geroep en vir hom gesê: Wat is dit wat ek van jou hoor? Gee verslag van jou bestuur van sake; want jy sal nie meer bestuurder kan wees nie.”


Aardse verhaal

‘n Ryk man het ‘n bestuurder wat sy geld vir hom bestuur. Die bestuurder hier is weereens soos ‘n trustee wat sy heer se geldsake hanteer en vir en namens hom optree. Die ryk man het egter berig gekry dat die bestuurder sy besittings verkwis en nie goed bestuur nie – die bestuurder word aangekla van wanbestuur en nie bedrog nie. Hy roep toe die bestuurder om verslag te doen van sy werke want hy gaan hom afdank.


Die bestuurder besef hy is in die moeilikheid want hy kan nie hande arbeid doen nie, en wil ook uit skaamte nie bedel nie. Hy besluit toe om in die goeie boeke van sy heer se skuldenaars te bly en verminder die skuldenaars se skuld voor hy moet verslag gee.


“Toe sê die bestuurder by homself: Wat sal ek doen? Want my heer neem die bestuurderskap van my weg. Spit kan ek nie; om te bedel, skaam ek my. Ek weet wat ek sal doen, sodat wanneer ek van die bestuurderskap afgesit is, hulle my in hulle huise kan ontvang. Toe roep hy die skuldenaars van sy heer, een vir een, en sê vir die eerste: Hoeveel skuld jy aan my heer? En hy antwoord: Honderd vat olie. En hy sê vir hom: Neem jou skuldbewys, gaan sit en skryf gou vyftig. Daarna sê hy vir ‘n ander een: En jy, hoeveel skuld jy? En hy antwoord: Honderd mud koring. Toe sê hy vir hom: Neem jou skuldbewys en skryf tagtig.” LUKAS 16:3-7 AFR53


Hemelse betekenis

Die huisheer prys die bestuurder vir sy ‘vernuftige’ optrede wat moet aantoon dat die ryk man nes die bestuurder ook ‘n ongeweste karakter is.


“En die heer het die onregverdige bestuurder geprys, omdat hy verstandig gehandel het; want die kinders van hierdie wêreld is verstandiger teenoor hulle geslag as die kinders van die lig.” LUKAS 16:8 AFR53


Jesus kontrasteer die “kinders van die wêreld” (d.w.s. ongelowiges) en die “kinders van die lig” (gelowiges). Ongelowiges is wyser in die dinge van hierdie wêreld as wat gelowiges is oor die dinge van die toekomstige wêreld.


Onregverdige Mammon verwys na die geld wat ons opgaar in hierdie wêreld. Gebruik die geld wat jy hier opgaar vir die koninkryk van God en wees soos die slim bestuurder – maar werk eerder vir die ewige Meester.


“En Ek sê vir julle: Maak vir julle vriende deur die onregverdige Mammon, sodat wanneer julle die lewe verlaat, hulle jul in die ewige tente kan ontvang.” LUKAS 16:9 AFR53

Geld is óf ‘n instrument om God te behaag óf dit is jou God – jy kan nie God en Mammon dien nie!


“Hy wat getrou is in die minste, is ook in die grote getrou; en hy wat onregverdig is in die minste, is ook in die grote onregverdig. As julle dan nie getrou was in die onregverdige Mammon nie, wie sal julle die ware goed toevertrou? En as julle nie getrou was in ‘n ander se goed nie, wie sal aan julle jul eie gee? Geen huiskneg kan twee here dien nie; want hy sal òf die een haat en die ander een liefhê, òf die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie.” LUKAS 16:10-13 AFR53

————————————————————

9 Maart 2022


Die gelykenis van die ryk man en Lasarus – Aardse verhaal


LUKAS 16:19-20 AFR53

“En daar was ‘n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe. En daar was ‘n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het.”


‘n Ryk man wat die mooiste klere dra het elke dag vrolik en weelderig gelewe. Lasarus, ‘n bedelaar vol swere, het voor die poort van hierdie ryk man gelê en gesmag na die krummels wat van sy tafel geval het. Die bedelaar sterf en die engele dra hom weg na Abraham se boesem.


“En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek. En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.” LUKAS 16:21-22 AFR53


Die ryk man sterf ook, maar daar is nie engele wat hom wegdra nie, hy is in die doderyk en in die smarte. Hy kyk op en sien Lasarus in Abraham se boesem en vra dat Lasarus water op sy tong moet plaas.


“En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem. En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.” LUKAS 16:23-24 AFR53


Die ryk man se versoek word geweier. Abraham herinner die ryk man aan sy goeie lewe op aarde en Lasarus se slegte lewe, en dat hul lot nou omgekeerd is.


“Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte.” LUKAS 16:25 AFR53


Vêrder sê Abraham vir die ryk man dat daar ‘n kloof is tussen die plek waar hy is en die plek waar Lasarus is, en dat die kloof nie oorbrug kan word nie.


“En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.” LUKAS 16:26 AFR53


Die ryk man versoek dat sy vyf broers ten minste gewaarsku moet word, dat hulle nie ook in die plek van pyn opeindig nie, maar Abraham antwoord dat hulle na Moses en die Profete moet luister.


“En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur — want ek het vyf broers — om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie. Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister.” LUKAS 16:27-29 AFR53


Die ryk man probeer weer en sê as iemand uit die dode opstaan dan sal sy broers luister. Maar Abraham sê dat as hulle nie na Moses en die Profete luister nie, dan sal iemand wat uit die dode opstaan hulle ook nie oortuig nie.

Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer. Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.” LUKAS 16:30-31 AFR53

————————————————————

10 Maart 2022


Die gelykenis van die ryk man en Lasarus – Hemelse betekenis


I JOHANNES 5:11-12 AFR53

“En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.”


Daar is ‘n vraag of die verhaal van die ryk man en Lazarus ‘n ware, werklike weergawe of ‘n gelykenis is, aangesien twee van sy karakters, naamlik Lazarus en Abraham, by die naam genoem word (wat dit uniek maak onder gelykenisse). Maar, gelykenis of nie, daar is baie wat ons uit hierdie gedeelte kan leer.


Jesus leer ons dat die hemel en die hel albei werklike, letterlike plekke is. Die Bybel is duidelik dat elke persoon wat al ooit gelewe het die ewigheid in óf die hemel óf in die hel sal deurbring. Hierdie verhaal illustreer ook dat sodra ons sterf daar nie meer kans is om te kies nie. Die oorgang na ons ewige toestand vind plaas die oomblik wanneer ons sterf.


“En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” LUKAS 23:43 AFR53


Wanneer gelowiges sterf, is hulle dadelik in die bewuste gemeenskap en vreugdes van die hemel, maar wanneer ongelowiges sterf, is hulle net so onmiddellik in die bewuste pyn, lyding en pyniging van die hel. Die ryk man het nie vir sy broers gevra om te bid vir sy vrylating uit die een of ander vagevuurmiddeweg nie. Hy het geweet hy is in die hel, en hy het geweet hoekom. Daarom was sy versoeke bloot om vertroos te word en om ‘n waarskuwing aan sy broers te stuur. Hy het geweet daar is geen ontsnapping nie. Hy was vir ewig van God geskei, en Abraham het dit vir hom duidelik gemaak dat daar geen hoop was om ooit sy pyn, lyding of hartseer te versag nie. Diegene in die hel sal hul gemiste geleenthede en hul verwerping van die evangelie baie goed onthou.


Ware volgelinge van Christus sal nie onverskillig wees teenoor die lot van die armes soos die ryk man in hierdie verhaal was nie. Christene word geken aan die vrugte wat hulle dra. Die Heilige Gees se woonplek in ons harte sal beslis ‘n impak hê op hoe ons leef en wat ons doen.


Abraham se verwysing na “Moses en die Profete” (die Skrif) bevestig dat die verstaan ​​van die geopenbaarde Woord van God die krag het om ongeloof in geloof te verander.


“Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.” HEBREËRS 4:12 AFR53


Om die Skrif te ken, help ons om te verstaan ​​dat God se kinders, soos Lasarus, kan ly terwyl hulle op hierdie aarde is – lyding is een van die vele tragiese gevolge van die lewe in ‘n sondige en gevalle wêreld.


Die Bybel sê ons aardse lewens is soos “mis wat vir ’n kort rukkie verskyn en dan verdwyn”, ons aardse verblyf is uiters kort.


“julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn.” JAKOBUS 4:14 AFR53


Miskien is die grootste les om uit hierdie verhaal te leer, is dat wanneer die dood aan ons deur kom klop, daar net een ding is wat saak maak: ons verhouding met Jesus Christus. Die ewige lewe word net in Christus gevind.


“Want wat baat dit ‘n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ‘n mens gee as losprys vir sy siel? Want die Seun van die mens staan gereed om met sy engele in die heerlikheid van sy Vader te kom, en dan sal Hy elkeen vergeld volgens sy dade.” MATTHÉÜS 16:26-27 AFR53

————————————————————

11 Maart 2022


Die gelykenis van die onregverdige regter


LUKAS 18:1-2 AFR53

“En Hy het ook aan hulle ‘n gelykenis vertel met die oog daarop dat ‘n mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie, en gesê: Daar was ‘n regter in ‘n stad wat God nie gevrees en geen mens ontsien het nie.”


Aardse verhaal

Jesus vertel die volgende gelykenis van ‘n regter en ‘n weduwee om Sy luisteraars aan te moedig om te volhard in gebed.


Die regter in hierdie verhaal is onbevoeg en ongekwalifiseerd vir die pos. Hy het God nie gevrees nie en sy medemens nie ontsien nie. In die Joodse gemeenskap is daar van ‘n regter verwag om onpartydig te wees, om regverdig te oordeel en om te erken dat die oordeel uiteindelik aan God behoort.


Die behoeftige weduwee in die gelykenis kom herhaaldelik voor die regter om haar saak te bepleit. Volgens die Joodse wet verdien weduwees spesiale beskerming onder die regstelsel, maar hierdie onregverdige regter ignoreer haar. Sy weier nietemin om tou op te gooi.


“En daar was in daardie stad ‘n weduwee, en sy het gedurig na hom gekom en gesê: Doen reg aan my teenoor my teëparty.” LUKAS 18:3 AFR53


Die regter het egter met tyd by homself gedink dat al vrees hy nie God nie, en al ontsien hy geen mens nie, moet hy seker die vrou se saak aanhoor want sy gaan hom nie uitlos nie.


“En ‘n tyd lank wou hy nie; maar daarna het hy by homself gesê: Al vrees ek God ook nie en al ontsien ek geen mens nie, tog sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, aan haar reg doen, sodat sy nie eindelik kom en my in die gesig slaan nie.” LUKAS 18:4-5 AFR53


Hemelse betekenis

Dan verduidelik Jesus Sy punt: as ‘n onversorgde, ongeskikte, goddelose regter op die ou end met geregtigheid antwoord, hoeveel te meer sal ‘n liefdevolle en heilige Vader gee wat reg is vir Sy kinders?


“Toe sê die Here: Hoor wat die onregverdige regter sê. Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?” LUKAS 18:6-7 AFR53


Net soos Paulus beklemtoon, moet voortdurende toewyding aan gebed ‘n groot deel van ons lewens wees – “Bid sonder ophou.” I THESSALONICENSE 5:17 AFR53


Jesus sluit af met ‘n vraag dat wanneer die Seun van die mens terugkom, sal Hy nog mense vind wat glo?


“Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” LUKAS 18:8 AFR53


Getroue, nimmereindigende, aanhoudende gebed is die roeping van elke ware dissipel van Jesus wat daaraan toegewy is om vir die Koninkryk van God te lewe. Soos die weduwee wat nie moed opgegee het nie, is ons behoeftige, afhanklike sondaars wat op ons liefdevolle en genadige God alleen vertrou om te voorsien in wat ons nodig het.

————————————————————

12 Maart 2022


Die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar


LUKAS 18:9-10 AFR53

“En Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel. Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een ‘n Fariseër en die ander ‘n tollenaar.”


Aardse verhaal

‘n Fariseer en ‘n tollenaar gaan albei na die tempel om te bid.


Die Fariseer se gebed is op homself gerig en hy dank God dat hy nie soos die rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos die tollenaar is wat in die tempel bid nie. Hy herinner God aan al sy goeie werke – hy vas tweekeer per week en hy gee tiendes van al sy inkomste.


“En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie — rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry.” LUKAS 18:11-12 AFR53


Die tollenaar aan die anderkant het niks gehad om by God te spog nie. Hy het vêr weg gestaan met sy oë na die grond gerig, op sy bors geslaan en vir God gevra – wees my, ‘n sondaar, genadig!


“En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig!” LUKAS 18:13 AFR53


Hemelse betekenis

Hierdie gelykenis kontrasteer twee verskillende houdings: eiegeregtigheid en nederigheid.


Die Fariseer se vertroue was slegs in homself, en sy gebed was om voor God te staan en te spog oor al sy uitstaande eienskappe en werke. Hy was oortuig dat sy goeie werke en eienskappe vir hom respek in God se oë moes verdien. Sy ydelheid het veroorsaak dat hy ander op ‘n laer vlak as homself gestel het.


Die tollenaar in kontras het eenkant gestaan met oë wat afkyk, en die las van sy skuld en skaamte het swaar op hom geweeg. Oorweldig deur sy oortredings slaan hy sy bors in droefheid en berou en smeek hy God om genade.


Die gebed van die tollenaar, is die einste een wat God wag om te hoor, en sy gesindheid is presies wat God wil hê van almal wat na Hom toe kom.


“Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.” LUKAS 18:14 AFR53

————————————————————

13 Maart 2022


Die gelykenis van die ponde – Aardse verhaal


LUKAS 19:11-12 AFR53

“En terwyl hulle na hierdie dinge luister, vertel Hy daar nog ‘n gelykenis by, omdat Hy naby Jerusalem was en hulle gedink het dat die koninkryk van God onmiddellik sou verskyn. Hy het dan gesê: ‘n Man van hoë geboorte het na ‘n ver land gereis om vir homself ‘n koningskap te ontvang en dan terug te kom.”


In hierdie laaste gelykenis in die reeks, is Jesus oppad na Jerusalem en Sy dissipels dink nog steeds dat die koninkryk van God vinnig ophande gaan wees. Jesus vertel die volgende gelykenis om hul wanpersepsie reg te stel.


‘n Man van adelike afkoms reis na ‘n vêr land om sy koninskap op te eis en dan kom hy terug om as koning te regeer. Die man roep tien van sy diensknegte, gee vir elkeen ‘n pond en sê dat hulle daarmee moet handeldryf totdat hy terugkom.


“En nadat hy tien van sy diensknegte geroep het, gee hy hulle tien ponde en sê vir hulle: Dryf handel daarmee totdat ek kom.” LUKAS 19:13 AFR53

Die man van adelike afkoms se medeburgers het hom gehaat, en ‘n gesantskap agter hom aangestuur om dit vir hom te vertel. Hulle het hom ook laat weet dat hulle hom nie as koning wou he nie.


“Maar sy medeburgers het hom gehaat en ‘n gesantskap agter hom aan gestuur om te sê: Ons wil nie hê dat hierdie man koning oor ons moet wees nie.” LUKAS 19:14 AFR53


Hy kom egter terug nadat hy sy koningskap ontvang het en wil die tien diensknegte wat elk ‘n pond ontvang het sien. Hulle moet verslag doen oor hoe elkeen sy pond belê het.

“En toe hy terugkom, nadat hy die koningskap ontvang het, sê hy dat daardie diensknegte aan wie hy die geld gegee het, by hom geroep moes word, sodat hy kon weet wat elkeen met handel verdien het.” LUKAS 19:15 AFR53


Twee diensknegte kom terug met ‘n positiewe verslag, elkeen het wins gemaak en die koning stel hulle aan om gesag te hê oor stede. Die een met tien pond wins kry gesag oor tien stede en die een met vyf pond wins, kry gesag oor vyf stede.


“En die eerste het verskyn en gesê: Meneer, u pond het tien ponde wins gemaak. En hy sê vir hom: Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede. En die tweede kom en sê: Meneer, u pond het vyf ponde verdien. En hy sê ook vir hierdie een: En jy moet wees oor vyf stede.” LUKAS 19:16-19 AFR53


Ons kry nie al tien se verslae nie, maar een het sy pond eerder gebêre omdat hy bang was vir die koning, en gee dit aan die koning terug. Die koning is toe kwaad soos die man gedink het hy sou wees, en sê sy pond moet aan die een gegee word wat tien ponde gemaak het.


“En ‘n ander een kom en sê: Meneer, hier is u pond wat ek in ‘n doek weggesit het; want ek was bang vir u, omdat u ‘n strawwe man is; u neem weg wat u nie uitgesit het nie, en maai wat u nie gesaai het nie. Toe sê hy vir hom: Uit jou mond sal ek jou oordeel, slegte dienskneg! Jy het geweet dat ek ‘n strawwe man is wat wegneem wat ek nie uitgesit het nie, en maai wat ek nie gesaai het nie. Waarom het jy dan nie my geld aan die wisselaars gegee nie? Dan kon ek dit by my koms met rente ingevorder het. En aan die wat daarby staan, sê hy: Neem die pond van hom weg en gee dit aan hom wat die tien ponde het — en hulle sê vir hom: Meneer, hy het tien ponde —“ LUKAS 19:20-25 AFR53


Die koning beveel toe dat almal wat hom nie as koning wou he nie na hom gebring moes word, en hulle is voor hom doodgeslaan.


“want ek sê vir julle: Aan elkeen wat het, sal gegee word, maar van hom wat nie het nie, sal weggeneem word ook wat hy het. Maar daardie vyande van my wat nie wou hê dat ek koning oor hulle sou wees nie, bring hulle hier en slaan hulle voor my dood.” LUKAS 19:26-27 AFR53

————————————————————

14 Maart 2022


Die gelykenis van die ponde – Hemelse betekenis


ROMEINE 14:10-12 AFR53

“Maar jy, waarom oordeel jy jou broeder? Of jy ook, waarom verag jy jou broeder? Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word. Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely. So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee.”


In hierdie gelykenis leer Jesus ons van die toekomstige Millenium koninkryk en die tyd wat dit voorafgaan. Jesus moes mooi verduidelik dat die Millenium koninkryk nie dadelik sou verskyn nie. Daar sou eers ‘n tydperk wees waartydens die koning afwesig sou wees, voordat die koninkryk opgerig gaan word.


Die man van adelike afkoms in hierdie gelykenis is Jesus wat hierdie wêreld verlaat het, maar wat eendag met Sy tweede koms as Koning sal terugkeer.


Die dienaars wat elkeen ‘n pond gekry het om mee te woeker verteenwoordig die volgelinge van Jesus. Die Here het vir ons ‘n waardevolle opdrag gegee, en ons moet getrou wees om Hom te dien totdat Hy terugkom.


Met Sy wederkoms sal Jesus die getrouheid van Sy eie mense vasstel. Daar is werk om te doen, en ons moet dit wat God vir ons gegee het, gebruik tot sy eer. Daar is beloofde belonings vir diegene wat getrou is.


“Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie. So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld.” JOHANNES 9:4-5 AFR53


Die vyande wat die koning in die gelykenis verwerp het, verteenwoordig almal wat Jesus verwerp en verloën. Een van die eerste goed wat Jesus gaan doen met Sy terugkeer sal wees om Sy vyande totaal te verslaan.


“Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.” OPENBARING 19:11-15 AFR53

————————————————————

206 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page