top of page
  • Regina Torre

Jesus se gelykenisse!

Updated: Jan 24, 2023

Voorwoord

Goeie dag aan almal wat aan die Bybelstudie in Afrikaans groep behoort. Ek wil hiermee vir almal ‘n voorspoedige jaar in Christus toewens met die volgende woorde van die profeet Jeremia!


“Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.” JEREMIA 29:11 AFR53


Na ‘n heerlike rustyd gaan ons Maandag 17 Januarie met 2022 se Bybelstudie begin. Die tema vir die eerste gedeelte is Jesus se Gelykenisse en die plan is om daarna Mattheus 24 en 25 aan te pak – ‘Die profetiese rede’ – en te vergelyk met Lukas 21.


“En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse?”   MATTHÉÜS 13:10 AFR53


Jesus het vyf en dertig gelykenisse vertel en hulle word in die Nuwe Testament boeke van Mattheus, Markus en Lukas weergegee. Negentien van die gelykenisse verskyn slegs in Lukas. Indien ‘n gelykenis in meer as een boek verskyn sal ons na al die weergawes kyk om so beter te verstaan.

Ek het op skool geleer dat die definisie van ‘n gelykenis ‘n aardse verhaal is met ‘n hemelse betekenis. Snaaks dat die stukkie waarheid my nog altyd bygebly het!

Die gelykenisse is Jesus se woorde om ons te leer hoe om kinders van Sy koninkryk te wees.

Baie van Jesus se gelykenisse gebruik die woord ‘soos’ (sien veral die gelykenisse oor die koninkryk van God in Matteus 13), maar selfs al word ‘soos’ nie elke keer gebruik nie, word dit beslis geïmpliseer, want Jesus het hierdie gelykenisse vertel om die waarheid te illustreer. Iets wat welbekend is, word vergelyk met ‘n waarheid om die gelykenis te verduidelik.

Vanaf Matteus 13 egter doen Jesus die omgekeerde. Hy vertel ‘n gelykenis, maar die betekenis word nie vir die massas gegee nie. Jesus deel meestal die betekenis net met Sy dissipels.

Toe die dissipels vir Jesus vra: “Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse?”, was Jesus se antwoord:


“Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.” MATTHÉÜS 13:11 AFR53


Die wat met opregtheid meer wil weet van Jesus, hulle sal die verborgenhede van die koninkryk van die hemele ken, maar die wat met ‘n ongeërgtheid na Jesus kyk gaan nie Sy waarhede verstaan nie.


“Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie.” MATTHÉÜS 13:13 AFR53


——————————————————————-

17 Januarie 2022


Die gelykenis van die lamp – Mattheus


MATTHÉÜS 5:14-16 AFR53

“Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.”


Aardse verhaal:

1. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie.

2. ‘n Mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is.


Hemelse betekenis:

Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.

Jesus se doel is om lig te wees vir die nasies.


“Ek, die Here, het U geroep in geregtigheid, en Ek vat u hand en behoed U en gee U as ‘n verbond van die volk, as ‘n lig van die nasies,” JESAJA 42:6 AFR53


“’n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel.” LUKAS 2:32 AFR53


Net so, wil Jesus hé dat ons wat Hom volg, ook ‘n lig moet wees vir die wêreld, om so Sy lig in die donker wêreld te laat skyn.


“sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld,”. FILIPPENSE 2:15 AFR53


Christene moet toelaat dat God se lig ten volle in hul lewens vertoon word. Ons verantwoordelikheid is tweeledig: om te waak teen enigiets wat ons van ons enigste bron van lig kan skei en om ons lig so te laat skyn dat die wêreld die werklikheid van Christus in ons sal sien en ons hemelse Vader sal verheerlik.

——————————————————————-

18 Januarie 2022


Die gelykenis van die lamp – Markus


MARKUS 4:21-25 AFR53

“En Hy het vir hulle gesê: Die lamp kom tog nie om onder die maatemmer of onder die bed gesit te word nie. Is dit nie om op die staander gesit te word nie? Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, en daar is niks weggesteek nie of dit moet in die lig kom. As iemand ore het om te hoor, laat hom hoor. En Hy het vir hulle gesê: Pas op wat julle hoor; met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word, en daar sal bygevoeg word vir julle wat hoor. Want wie het, vir hom sal gegee word; en wie nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.”


Aardse verhaal:

Die lamp kom tog nie om onder die maatemmer of onder die bed gesit te word nie. Is dit nie om op die staander gesit te word nie?


Hemelse betekenis:

Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, en daar is niks weggesteek nie of dit moet in die lig kom.


Jesus sê dat uiteindelik sal alles wat weggesteek is in die openbaar vertoon word, insluitend die betekenis van die gelykenisse.


“Daarom moet julle nie voor die tyd oordeel, voordat die Here kom nie, wat die verborge dinge van die duisternis in die lig sal bring en die bedoelinge van die harte openbaar sal maak; en dan sal elkeen lof van God ontvang.” I KORINTHIËRS 4:5 AFR53


Alle mense maai wat hulle saai, selfs in hulle ontvangs van die Woord. Diegene wat Jesus se woorde op hul lewens toepas, word selfs meer geestelike waarhede gegee wat hul lewens ryker maak. Maar, diegene wat niks met Jesus se woorde doen nie, verloor die bietjie geestelike begrip wat hulle reeds besit.


“Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.” GALÁSIËRS 6:7-8 AFR53

——————————————————————-

19 Januarie 2022


Die gelykenis van die lamp – Lukas


LUKAS 11:33-36 AFR53

“En niemand steek ‘n lamp op en sit dit in ‘n verborge plek of onder die maatemmer nie, maar op die staander, sodat die wat binnekom, die lig kan sien. Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, is jou hele liggaam ook verlig; maar as dit verkeerd is, is jou liggaam ook donker. Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie. As jou hele liggaam dan verlig is en nie enige deel het wat donker is nie, sal dit heeltemal verlig wees, net soos wanneer die lamp met sy skynsel jou verlig.”


Aardse verhaal:

En niemand steek ‘n lamp op en sit dit in ‘n verborge plek of onder die maatemmer nie, maar op die staander, sodat die wat binnekom, die lig kan sien.


Hemelse betekenis:

As jou oog dan reg is, is jou hele liggaam ook verlig; maar as dit verkeerd is, is jou liggaam ook donker. Pas dan op dat die lig in jou nie duisternis is nie.

Terwyl die moderne mens dink dat lig die oog binnedring, het die ou mense gedink dat die oog lig skep. As die oog sleg word, het dit opgehou om lig te skep en die resultaat sou totale duisternis wees.


“Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!” MATTHÉÜS 6:22-23 AFR53



Is dit nie merkwaardig hoe konsekwent die boodskap van die Skrif is oor die kwessie van verlossing nie. Van Genesis tot Openbaring verskil die storielyn nooit nie.

– Ons dien of die vyand of God.

– Ons is of kinders van ongehoorsaamheid of kinders van God.

Alles hang af van waar ons ons vertroue en geloof plaas. Diegene wat op hulself of ander valse gode vertrou, hul harte is verduister en hulle sal nie die waarheid ontvang nie. Diegene wat op God vertrou – en God alleen – vir hulle is daar genade en ewige genade.

——————————————————————-

20 Januarie 2022


Die gelykenis van die twee fondamente – Mattheus


MATTHÉÜS 7:24-29 AFR53

“Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm, en dit het nie geval nie, want sy fondament was op die rots. En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen daardie huis aangestorm en dit het geval, en sy val was groot. En toe Jesus hierdie woorde geëindig het, was die skare verslae oor sy leer; want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie.”


Aardse verhaal:

‘n Verstandige man bou sy huis op die rots en ‘n dwase man bou sy huis op die sand. En die reën het geval en die waterstrome het gekom en die winde het gewaai en teen die huise aangestorm. Die huis op die rots het bly staan, terwyl die huis op die sand geval het.


Hemelse betekenis:

Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het.


En elkeen wat na hierdie woorde van My luister en dit nie doen nie, sal vergelyk word met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het.


Tydens Sy Bergpredikasie het Jesus ‘n storie vertel van twee mans: een wat sy huis op ‘n rots gebou het en ‘n ander wat sy huis op sand gebou het. Die huis wat op ‘n rots gebou is, het die storm deurstaan, en die bouer word wys genoem; maar die huis wat op die sand gebou is, het tydens die storm ineengestort, en die bouer word dwaas genoem.


Jesus verwag van ons om die volgende te doen:

1. So mooi te luister na Sy woorde dat ons werklik hoor wat Jesus sê;

2. Voortdurend daaraan te werk om Sy woorde te verstaan; en

3. In geloof die waarhede van die woorde uit te leef.


Jesus het met gesag gepraat, anders as die skrifgeleerdes, en die mense was telkens verstom.


“En hulle was verslae oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het en nie soos die skrifgeleerdes nie.” MARKUS 1:22 AFR53


“En hulle was verslae oor sy leer, want sy woord was met gesag.” LUKAS 4:32 AFR53


“Die dienaars antwoord: Nooit het ‘n mens so gespreek soos hierdie mens nie.” JOHANNES 7:46 AFR53

——————————————————————-

21 Januarie 2022


Die gelykenis van die twee fondamente – Lukas


LUKAS 6:46-49 AFR53

“En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie? Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en dit doen — Ek sal julle wys soos wie hy is. Hy is soos ‘n man wat ‘n huis bou, wat gegrawe en diep ingegaan en die fondament op die rots gelê het; en toe die vloedwater kom en die stroom teen daardie huis losbreek, kon hy dit nie beweeg nie, omdat sy fondament op die rots was. Maar wie dit hoor en dit nie doen nie, is soos ‘n man wat ‘n huis sonder fondament op die grond bou, en die stroom het daarteen losgebreek en dit het dadelik geval, en die instorting van daardie huis was groot.”


Aardse verhaal:

‘n Verstandige man bou sy huis se fondament op die rots en ‘n dwase man bou sy huis se fondament op grond.


Hemelse betekenis:

Elkeen wat na My toe kom en na My woorde luister en dit doen — Ek sal julle wys soos wie hy is.

Jesus begin die gelykenis deur te vra: Wat help dit julle spreek My aan as Here, Here, maar julle doen nie wat Ek sê nie?


Ontberinge en tragedies openbaar vinnig diegene wat Jesus se woorde in die praktyk toepas, teenoor hulle wat bloot Sy woorde hoor en daarmee saamstem.


Interessant om te weet dat in Jesus se tyd was die titel ‘Here’ eintlik ‘n algemene aanspreek vorm vir ‘kerk’ leermeesters of enige man met gesag. Nie almal wat Jesus Here genoem het, het dit bedoel soos ons vandag doen nie…sommige mense het dit slegs as ‘n titel van respek gebruik.


Net so is die woorde van Mattheus dan ook meer verstaanbaar.

“Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” MATTHÉÜS 7:21-23 AFR53


Eendag sal elke mens op aarde voor God staan om geoordeel te word, en elkeen se verhouding met Jesus sal geopenbaar word. Sonder ‘n persoonlike verhouding met Jesus, het godsdienstige woorde en godsdienstige gewoontes – soos kerk bywoon, kerk leierskapsposte, en die uitvoer van goeie werke – geen waarde nie.

——————————————————————-

22 Januarie 2022


Die gelykenis van die wat vas en die wat nie vas nie – Mattheus


MATTHÉÜS 9:14-17 AFR53

“Daarna kom die dissipels van Johannes na Hom en sê: Waarom vas ons en die Fariseërs dikwels, maar u dissipels vas nie? En Jesus sê vir hulle: Kan die bruilofsgaste dan treur so lank as die bruidegom by hulle is? Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas. En niemand sit ‘n nuwe stuk lap op ‘n ou kleed nie; want die aangelapte stuk skeur van die kleed af en daar kom ‘n erger skeur. ‘n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou leersakke nie; anders bars die sakke en die wyn loop uit en die sakke vergaan. Maar ‘n mens gooi nuwe wyn in nuwe sakke en altwee bly behoue.”


Aardse verhaal:

In hierdie gedeelte gee Jesus drie aardse verhale om die vraag oor om te vas te antwoord.

1. Kan die bruilofsgaste dan treur solank as die bruidegom by hulle is?

2. Niemand sit ‘n nuwe stuk lap op ‘n ou kleed nie;

3. ‘n Mens gooi ook nie nuwe wyn in ou leersakke nie;


Die Fariseërs het nie die leer van Johannes die Doper aanvaar nie, en Johannes die Doper het die Fariseërs as ‘n addergeslag uitgekryt.


“Maar toe hy baie van die Fariseërs en Sadduseërs na sy doop sien kom, sê hy vir hulle: Addergeslag, wie het julle aangewys om te vlug vir die toorn wat aan kom is?” MATTHÉÜS 3:7 AFR53


Maar hier stem die twee groepe saam oor om te vas. Volgens die wet moes Jode net een dag van elke jaar vas en dit was op die Dag van Versoening. Die Fariseërs het egter daardie wet uitgebrei om twee keer per week te vas. Jesus en Sy dissipels het nie hulle vas wette gevolg nie, en Johannes se dissipels wou weet hoekom nie.


Hemelse betekenis:

Jesus het eerstens geantwoord met ‘n huweliks voorbeeld. Om te vas tydens ‘n bruilofsfees is onvanpas. Johannes die Doper het reeds aangekondig dat Jesus die Bruidegom is, en wanneer die Bruidegom teenwoordig is, vier mense fees. Binnekort sou die Bruidegom weggeneem word en dan sou dit gepas wees om te treur en te vas.


In die tweede antwoord verteenwoordig die ongekrimpte stuk lap die beloofde koninkryk. Die ou kledingstuk verteenwoordig die Joodse gewoontes. Baie van die mense wat Jesus gekritiseer het was ontvanklik om sommige van Sy leringe by hul wette by te voeg, maar Jesus het geweet dat ‘genade’ en ‘die wet’ nie saamgevoeg kon word nie. Dit sou dieselfde wees as om nuwe stuk ongekrimpte lap op ‘n ou kleed vas te werk. Wanneer dit gewas word, sal die nuwe lap krimp, wegskeur en die hele kledingstuk verwoes.


In die derde antwoord is die wyn die Heilige Gees en die leersakke is gelowiges. As ‘n mens nuwe, ongegiste wyn in ou leersakke sit, sal die leersakke bars wanneer die wyn begin gis en gasse vorm. Sodoende word die wyn en die leersakke verniel. Jesus se verlossing is nie slegs ‘n verbetering van die ou mens nie, verlossing maak van ons nuwe mense wat gevul word met die Heilige Gees.


“Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?” I KORINTHIËRS 3:16 AFR53


“Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper,”. KOLOSSENSE 3:9-10 AFR53

——————————————————————-

23 Januarie 2022


Die gelykenis van die wat vas en die wat nie vas nie – Markus


MARKUS 2:18-22 AFR53

“En die dissipels van Johannes en dié van die Fariseërs was besig om te vas. Toe kom hulle en sê vir Hom: Waarom vas die dissipels van Johannes en dié van die Fariseërs, maar u dissipels vas nie? En Jesus sê vir hulle: Kan die bruilofsgaste dan vas terwyl die bruidegom by hulle is? So lank as hulle die bruidegom by hulle het, kan hulle nie vas nie. Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word, en dan sal hulle vas, in daardie dae. En niemand werk ‘n nuwe stuk lap op ‘n ou kleed nie; anders skeur sy nuwe aangelapte stuk van die oue af, en daar kom ‘n erger skeur. En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die sakke laat bars, en die wyn loop uit en die sakke vergaan. Maar nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word.”


Aardse verhaal:

Weereens gee Jesus drie aardse verhale om die vraag oor om te vas te antwoord.

1. Kan die bruilofsgaste dan vas terwyl die bruidegom by hulle is?

2. Niemand werk ‘n nuwe stuk lap op ‘n ou kleed nie;

3. Niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie;


Hemelse betekenis:

Niks was verkeerd met die Jode wat gevas het nie, solank dit die ware doel daarvan ondersteun het: om ‘n persoon toe te laat om te bekeer of dieper op God te fokus. Maar, die Fariseërs het gevas omdat dit hul roetine was – nie uit die hart nie – en nooit besef dat God nie gemanipuleer kan word nie.


“En wanneer julle vas, moenie lang gesigte trek soos die geveinsdes nie; want hulle mismaak hul gesigte, sodat dit deur die mense gesien kan word dat hulle vas. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg. Maar jy, as jy vas, salf jou hoof en was jou gesig, sodat jy nie die mense laat sien dat jy vas nie, maar jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.” MATTHÉÜS 6:16-18 AFR53


Jesus kondig aan dat dit nie nodig was om te vas solank Hy by hulle was nie, bedoelende, God was in hulle midde, in die vlees.


Jesus se aardse bediening was ‘n oorgangstyd tussen die godsdienstige praktyke van die Ou en die Nuwe Verbonde. In die nuwe era wat Jesus ingelui het, was dit byvoorbeeld nie onwettig om graan te pluk om op die Sabbat te eet nie. Tog, in hul verwerping van Jesus se leringe, het die Fariseërs óf nie verstaan ​​óf nie aanvaar dat baie van hulle gevestigde rituele en tradisies nie meer saam met Jesus se nuwe lewenswyse kon bestaan ​​nie.

——————————————————————-

24 Januarie 2022


Die gelykenis van die wat vas en die wat nie vas nie – Lukas


LUKAS 5:33-39 AFR53

“Toe sê hulle vir Hom: Waarom vas die dissipels van Johannes dikwels en doen gebede; so ook dié van die Fariseërs; maar u dissipels eet en drink? En Hy sê vir hulle: Kan julle die bruilofsgaste dan laat vas solank as die bruidegom by hulle is? Maar daar sal dae kom wanneer die bruidegom van hulle weggeneem word; dan sal hulle vas, in daardie dae. En Hy het ook aan hulle ‘n gelykenis vertel: Niemand sit ‘n lap van ‘n nuwe kleed op ‘n ou kleed nie; anders skeur dit die nuwe ook, en die lap wat van die nuwe af kom, pas nie by die oue nie. En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie; anders sal die nuwe wyn die sakke skeur, en dit sal uitloop, en die sakke sal vergaan. Maar nuwe wyn moet in nuwe sakke gegooi word, en altwee word saam behou. En niemand wat ou wyn gedrink het, wil dadelik nuwe hê nie; want hy sê: Die oue is beter.”


Aardse verhaal:

Weereens gee Jesus drie aardse verhale om die vraag oor om te vas te antwoord.

1. Kan die bruilofsgaste dan vas solank as die bruidegom by hulle is?

2. Niemand sit ‘n lap van ‘n nuwe kleed op ‘n ou kleed nie;

3. En niemand gooi nuwe wyn in ou leersakke nie;


Hemelse betekenis:

Mense het dikwels die bedieninge van Jesus en Johannes die Doper vergelyk en die verskille tussen die twee bevraagteken. Johannes se bediening het die weg vir Jesus voorberei, soos om vir ‘n banket voor te berei, en Jesus se bediening het die voorbereiding tot vervullling gebring.


In Jesus se dag het mense wyn in wynsakke gebêre – bokvelle wat in ‘n waterdigte sak vasgewerk is. Nuwe wyn moes in ‘n nuwe wynsak gegooi word sodat die vel kon uitsit soos die wyn gefermenteer het. ’n Gebruikte wynsak sou skeur as dit nuwe wyn hou. Die Fariseërs was soos ou wynsakke – hulle kon nie hulle tradisies en reëls verander om Jesus as hulle Messias te aanvaar nie.


Jesus het gekom om ‘n nuwe lewenswyse te bring gebaseer op Sy werk en geloof in Sy naam. Om Jesus te volg vereis ‘n radikale verandering van die ou lewenswyse; enige poging om die oue met die nuwe te vermeng sal beslis misluk, wat ‘n erger situasie meebring as wat voorheen bestaan ​​het.


“Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word. En ook die Heilige Gees gee aan ons getuienis; want nadat Hy tevore gesê het: Dit is die verbond wat Ek met hulle sal sluit ná dié dae, spreek die Here verder: Ek sal my wette gee in hulle hart, en in hulle verstand sal Ek dit inskrywe, en aan hulle sondes en hulle ongeregtighede sal Ek nooit meer dink nie.” HEBREËRS 10:14-17 AFR53

——————————————————————-

25 Januarie 2022


Die doel van gelykenisse.


MATTHÉÜS 13:10-11 AFR53

“En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse?

Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.”

Verborgenheid is ‘n tegniese woord wat verwys na iets wat onbekend is, maar op die punt staan ​​om geopenbaar te word. Elke gelykenis van Jesus bevat ‘n verborgenheid of geheimenis wat vir gelowiges geopenbaar word, maar diegene wat Hom weerstaan ​​sal dit nie verstaan nie.


Die gelykenisse vanaf Mattheus 13 se verklaring word nie aan die skares meegedeel nie. Meestal word net die dissipels daarvan vertel nadat Jesus met die skares gepraat het.

“Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.” MATTHÉÜS 13:12 AFR53


Hier word nie van geld gepraat nie, hierdie gedeelte verduidelik geestelike rykdom of geestelike armoede. Diegene wat geestelik groei verstaan ​​meer en meer van die geestelike waarhede van Jesus, terwyl diegene wat nie belangstel nie, agteruit gaan in hul wandel met die Here.


“En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.” MATTHÉÜS 13:14 AFR53

Meer as 700 jaar voor Jesus se tyd het Jesaja geprofeteer dat die Messias aan die Joodse volk bekend gemaak sou word. Hulle sou Sy wonderwerke, Sy leringe en die maniere waarop Hy al die profesieë aangaande Hom vervul het, aanskou – maar hulle het nie aandag gegee nie.


“En Hy het gespreek: Gaan sê aan hierdie volk: Hoor altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyddeur, maar bemerk nie. Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie.” JESAJA 6:9-10 AFR53


Wanneer mense God se Woord ontvang en versuim om aandag te gee, word hulle geleidelik afgestomp in hul ‘harte’, hulle kry katarakke op hul ‘oë’ en hulle verloor hul ‘gehoor’.


“Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.” MATTHÉÜS 13:13, 15 AFR53


Jesus sê vir Sy disippels dat hulle baie gelukkig is want hulle oë sien en hulle ore hoor dit wat die profete van ouds graag sou wou sien en hoor!


“Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor. Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie.” MATTHÉÜS 13:16-17 AFR53

——————————————————————-

26 Januarie 2022


Die gelykenis van die saaier – die saad langs die pad


MATTHÉÜS 13:3b-4 AFR53

“’n Saaier het uitgegaan om te saai; en terwyl hy saai, val ‘n deel langs die pad, en die voëls het gekom en dit opgeëet.”

“Luister! ‘n Saaier het uitgegaan om te saai. En terwyl hy saai, het ‘n deel langs die pad geval, en die voëls van die hemel het gekom en dit opgeëet.” MARKUS 4:3-4 AFR53

“ ‘n Saaier het uitgegaan om sy saad te saai; en toe hy saai, val ‘n deel langs die pad en is vertrap, en die voëls van die hemel het dit opgeëet.” LUKAS 8:5 AFR53


Aardse verhaal:

‘n Saaier het uitgegaan om sy saad te saai; ‘n deel daarvan val op die pad en die voëls van die hemel eet dit op.


In Jesus se tyd het saaiers ‘n sak saad oor hul skouer gegooi, en terwyl hulle op en af ​​stap in die dikwels onbewerkte lande, het hulle handevol saad oor die grond gegooi. Om die waarheid van God te verkondig is soos om God se saad – die Woord van God – te neem en dit orals uit te strooi.


Hemelse betekenis:

Jesus gee nie die betekenis vir die skares wat na hom luister nie, dit word later net vir die dissipels gegee toe hulle vra daarvoor.


Hierdie gelykenis het drie hoofelemente: die saaier, die saad en die grond. Die saaier verteenwoordig die Here, die saad verteenwoordig die Woord van God, en die grond verteenwoordig vier kategorieë van hoorders, elk met ‘n ander reaksie op God se Woord.


Die vyand van die Woord in die eerste grond is die duiwel wat verteenwoordig word deur voëls wat die saad onmiddelik oppik. Let op dat voëls nie ‘n goeie teken is in enige van die gelykenisse nie.


Wanneer die Woord gehoor word, lê dit daar sonder om wortel te skiet en die duiwel sorg dat dit nie lank bly nie. Hierdie is ‘n hopeloos ongeredde sondaar wat niks met God of Sy woord te doen wil hê nie en wat eenvoudig nie beïndruk kan word met die Evangelieboodskap nie.


“As iemand die woord van die koninkryk hoor en nie verstaan nie, kom die Bose en roof wat in sy hart gesaai is — dit is hy by wie langs die pad gesaai is.” MATTHÉÜS 13:19 AFR53


“En dit is hulle wat langs die pad is — waar die woord gesaai word, maar sodra hulle dit gehoor het, kom die Satan dadelik en neem die woord weg wat in hulle harte gesaai is.” MARKUS 4:15 AFR53


“Dit is dan die gelykenis: Die saad is die woord van God. Dié langs die pad is die hoorders. Daarna kom die duiwel en neem die woord uit hul harte weg, sodat hulle nie sou glo en gered word nie.” LUKAS 8:11-12 AFR53

——————————————————————-

27 Januarie 2022


Die gelykenis van die saaier – die saad op die rots


MATTHÉÜS 13:5-6 AFR53

“En ‘n ander deel het op rotsagtige plekke geval waar daar nie baie grond was nie; en dadelik het dit opgekom, omdat daar geen diepte van grond was nie; maar toe die son opgaan, is dit verskroei, en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog.”


“En ‘n ander deel het op ‘n rotsagtige plek geval waar dit nie baie grond gehad het nie; en dadelik het dit opgekom, omdat dit geen diepte van grond gehad het nie. En toe die son opgaan, is dit verskroei; en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog.” MARKUS 4:5-6 AFR53


“En ‘n ander deel het op die rots geval; en nadat dit opgeskiet het, het dit verdroog, omdat dit geen vogtigheid gehad het nie.” LUKAS 8:6 AFR53


Aardse verhaal:

‘n Ander deel van die saaier se saad val op rotsagtige plekke waar daar nie baie grond is nie. Die saad kom dadelik op omdat die grond nie diep is nie. Maar, sodra die son opkom word die plant verskroei en dit verdroog omdat daar geen wortels gegroei het nie.


Hemelse betekenis:

Die klipperige grond beeld ‘n ongeërgde hart uit. Die grond beskryf nie ‘n veld gevul met rotse nie, maar ‘n area van kalksteen wat deur ‘n dun lagie grond bedek is. Die saad sou val en dadelik wortel skiet, maar omdat hul wortels nie diep genoeg kon gaan om vog uit die grond te trek nie, sou die plante in die hitte verwelk.


Op soortgelyke manier blyk dit dat sommige mense tot bekering kom en skynbaar groei ervaar, maar hulle val gou terug in hul ou gewoontes. Jesus sê nie hier dat ‘n persoon sy redding kan verloor nie, – Hy sê eerder dat sulke mense nooit gered was om mee te begin nie, hulle het slegs ‘n emosionele ervaring gehad.


Dit lyk dus asof hierdie hoorders die Woord inneem, maar hulle toewyding aan die evangelie verdwyn wanneer dit weerstand ondervind. ‘n Bietjie druk, ‘n bietjie vervolging, en hulle is oppad na die volgende gier, daar is geen wortels nie.


“En by wie op rotsagtige plekke gesaai is — dit is hy wat die woord hoor en dit dadelik met blydskap aanneem; maar hy het geen wortel in homself nie, hy is net vir ‘n tyd, en as daar verdrukking en vervolging kom ter wille van die woord, struikel hy dadelik.” MATTHÉÜS 13:20-21 AFR53


“Net so ook is hulle by wie op rotsagtige plekke gesaai word — wat, as hulle die woord hoor, dit dadelik met blydskap aanneem, maar geen wortel in hulleself het nie; hulle is net vir ‘n tyd. Later as daar verdrukking of vervolging kom ter wille van die woord, struikel hulle dadelik.” MARKUS 4:16-17 AFR53


“En dié op die rots is hulle wat die woord met blydskap ontvang wanneer hulle dit hoor; en hulle het geen wortel nie, aangesien hulle net vir ‘n tyd glo, en in die tyd van versoeking val hulle af.” LUKAS 8:13 AFR53

——————————————————————-

28 Januarie 2022


Die gelykenis van die saaier – die saad op die onkruid


MATTHÉÜS 13:7 AFR53

“En ‘n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik;"

“En ‘n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik; en dit het geen vrug opgelewer nie.” MARKUS 4:7 AFR53

“En ‘n ander deel het tussen die dorings in geval; en die dorings het daarmee saamgegroei en dit verstik.” LUKAS 8:7 AFR53


Aardse verhaal:

Die derde groep saad het in die dorings geval. Die dorings het saam met die saad opgekom en die saad verstik. Die saad het geen vrug opgelewer nie.


Hemelse betekenis:

Die vyand in die grond vol dorings is hierdie wêreld en sy stelsel – die plesier, rykdom en sorge van hierdie lewe. Die bewys van ware verlossing word nie getoon deur te luister na die Woord of emosioneel op die Woord te reageer nie, maar deur die vrugte wat jy dra.


Die grond met die dorings toon tekens van groei, maar wêreldse bekommernisse en afleidings verstik die woord wat geplant is. Terwyl hierdie hoorders meer vordering maak as die ander twee, dra hulle steeds geen vrugte nie.


Die doringagtige grond beeld iemand uit wat skynbaar die Woord ontvang, maar wie se hart vol rykdom, plesier en begeerlikhede is; die dinge van hierdie wêreld neem sy tyd en aandag weg van die Woord, en hy het uiteindelik nie tyd daarvoor nie.


“En by wie in die dorings gesaai is — dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar.” MATTHÉÜS 13:22 AFR53


“En hulle by wie in die dorings gesaai word — dit is hulle wat die woord hoor, en die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar.” MARKUS 4:18-19 AFR53


“En wat in die dorings geval het — dit is die wat gehoor het, en hulle gaan weg en word verstik deur die sorge en rykdom en genietinge van die lewe en dra geen ryp vrug nie.” LUKAS 8:14 AFR53

——————————————————————-

29 Januarie 2022


Die gelykenis van die saaier – die saad op die vrugbare grond


MATTHÉÜS 13:8 AFR53

“En ‘n ander deel het in die goeie grond geval en vrug opgelewer: die een honderd-, die ander sestig-, die ander dertigvoudig.”

“En ‘n ander deel het in die goeie grond geval, en dit het vrug opgelewer; want dit het opgekom, en gegroei, en dit het gedra: een dertig- en een sestig- en een honderdvoudig.” MARKUS 4:8 AFR53

“En ‘n ander deel het in die goeie grond geval en gegroei en honderdvoudige vrug opgelewer. Toe Hy dit gesê het, roep Hy uit: Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!” LUKAS 8:8 AFR53


Aardse verhaal:

Die laaste saad val op goeie grond en lewer vrugte op. Die saad het opgekom, gegroei en vrugte gedra. Die een dertig-, die een sestig-, en ‘n ander honderdvoudig.


Hemelse betekenis:

Die goeie grond verteenwoordig die bekeerde hart – die persoon wat die Woord hoor, die waarheid daarvan laat insink en werklik gered is.


Die saad wat in die goeie grond groei is die enigste saad wat vrugte dra. Die vrugte wat opgelewer word verskil: een dertig- en een sestig- en een honderdvoudig. Maak nie saak hoeveel vrugte opgelewer word nie, wat saak maak is dat daar wel vrugte is!


“En by wie op die goeie grond gesaai is — dit is hy wat die woord hoor en verstaan, wat dan ook vrug dra en oplewer: die een honderd-, die ander sestig-, die ander dertigvoudig.” MATTHÉÜS 13:23 AFR53


“En dit is hulle by wie in die goeie grond gesaai is — hulle wat die woord hoor en aanneem en vrugte dra: een dertig- en een sestig- en een honderdvoudig.” MARKUS 4:20 AFR53


“En wat in die goeie grond val — dit is die wat, nadat hulle gehoor het, die woord in ‘n edele en goeie hart hou en met volharding vrug dra.” LUKAS 8:15 AFR53


Elke persoon wat Jesus as Verlosser aanvaar sal aan sy goeie vrugte geken word, want ‘n goeie boom kan nie slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom kan nie goeie vrugte dra nie. Jesus self verduidelik vir ons in die vers hieronder.


“So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte. ‘n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.” MATTHÉÜS 7:17-20 AFR53

——————————————————————-

30 Januarie 2022


Die gelykenis van die onkruid tussen die koring – Aardse verhaal!


MATTHÉÜS 13:24-26 AFR53

“ ‘n Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ‘n man wat goeie saad in sy land gesaai het; maar terwyl die mense slaap, het sy vyand gekom en onkruid onder die koring gesaai en weggegaan. En toe die spruitjies opgeskiet en vrug gevorm het, toe verskyn die onkruid ook.”


Die koninkryk van die hemel is soos: ‘n Man wat goeie saad in sy land saai. Terwyl hy slaap, kom die vyand en saai slegte saad oor die goeie saad. Die goeie en die slegte saad het albei saam opgekom. Die diensknegte wil die onkruid uitpluk, maar die huiseienaar sê om te wag tot die oestyd. Dan sal die onkruid verbrand word.


Die sleutel om hierdie gelykenis te verstaan, is om in pare te dink. Daar is

– twee planters,

– twee plante,

– twee planne en

– twee vooruitsigte.


In Jesus se tyd, nadat ‘n land met koring gesaai is, kon ‘n kwaaddoener in die veld insluip en drabok (graanagtige soort giftige onkruid) oor die oorspronklike oes saai. Drabok lyk amper identies soos koring, maar dit het geen markwaarde nie. Eers met oestyd, wanneer die oes volgroeid was, kon die boer die koring van die waardelose onkruid onderskei.

Die diensknegte en die huisheer het twee verskillende planne om die goeie saad te beskerm. Die diensknegte wil die onkruid wat deur die vyand gesaai is dadelik ontwortel en daarvan ontslae raak. Maar, die huisheer dring wyslik daarop aan dat albei toegelaat word om te groei tot die oes, anders sal die koring ook vernietig word omdat dit nie van die onkruid onderskei kan word nie.


“En die diensknegte van die huisheer het gekom en vir hom gesê: Meneer, het u dan nie goeie saad in u land gesaai nie? Waar kry dit dan die onkruid vandaan? En hy antwoord hulle: ‘n Vyandige mens het dit gedoen. Toe sê die diensknegte vir hom: Wil u dan hê dat ons dit moet gaan bymekaarmaak? Maar hy antwoord: Nee, dat julle nie miskien, as julle die onkruid bymekaarmaak, die koring daarmee saam uittrek nie.” MATTHÉÜS 13:27-29 AFR53


Jesus leer vir ons dat daar in die toekoms ook ‘n oes sal wees. Dan sal die Here sy engele (maaiers) stuur om die onkruid en die koring te skei. Die onkruid sal verbrand word, maar die koring sal in die skuur (hemel) versamel word.


“Laat altwee saam groei tot die oes toe, en in die oestyd sal ek vir die maaiers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring bymekaar in my skuur.” MATTHÉÜS 13:30 AFR53

——————————————————————-

31 Januarie 2022


Die gelykenis van die onkruid tussen die koring – Hemelse betekenis!


MATTHÉÜS 13:36 AFR53

“Nadat Hy die skare weggestuur het, het Jesus huis toe gegaan; en sy dissipels het na Hom gekom en gesê: Verklaar vir ons die gelykenis van die onkruid in die saailand.”


Gelukkig was Jesus nog daar om die uitleg van die gelykenisse aan die dissipels te gee, en soos met ‘n moeilike storiesom waar jy later die antwoord kry, lyk die antwoord so logies! Hoekom kon ek dit nie self uitgedink het nie….. is menige se vraag! Maar onthou, Jesus het met opset die gelykenisse so vertel dat die uitleg net vir Sy volgelinge beskikbaar is.


Nou voor jy dink, is ek dan nie ‘n volgeling van Jesus nie?, moet jy onthou dat die teksvers begin deur die disippels wat vir Jesus vra: Verklaar vir ons die gelykenis van die onkruid in die saailand.


Hulle het ook nie geweet nie!

“En Hy het geantwoord en vir hulle gesê: Hy wat die goeie saad saai, is die Seun van die mens, en die saailand is die wêreld. Die goeie saad — dit is die kinders van die koninkryk, en die onkruid is die kinders van die Bose, en die vyand wat dit gesaai het, is die duiwel. Die oes is die voleinding van die wêreld, en die maaiers is die engele.” MATTHÉÜS 13:37-39 AFR53


Die uitleg van die simbole:

Hy wat die goeie saad saai – die Seun van die mens

Die vyand wat die onkruid saai – die duiwel

Die saailand – die wêreld

Die goeie saad – die kinders van die koninkryk

Die onkruid – die kinders van die Bose

Die oes – die voleinding van die wêreld

Die maaiers – die engele


Satan saai nie dorings of distels of bosse nie; hy saai drabok wat onmoontlik is om van regte koring te onderskei tot en met die oestyd. In die wêreld vandag word die kinders van die koninkryk in ‘n veld gesaai waar hulle verstrengel en omring is deur kinders van die bose – en soms is dit moeilik om hulle van mekaar te onderskei.


Jesus leer vir ons dat Hy met die voleinding van die wêreld Sy engele gaan stuur om die goeie saad en die onkruid van die wêreld te skei.


Die toekoms van die onkruid (die wetteloses) en die koring (die regverdiges) word in hierdie verse beskryf. Die wetteloses is bestem om die vure van die hel te ervaar, waar hulle in ewige ellende sal lewe, maar die regverdiges sal in ewige glans en vreugde lewe. Hulle Koning sal ook hulle Vader wees!


“Net soos die onkruid dan bymekaargemaak en met vuur verbrand word, so sal dit wees in die voleinding van hierdie wêreld: die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande. Dan sal die regverdiges skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader. Wie ore het om te hoor, laat hom hoor.”MATTHÉÜS 13:40-43 AFR53


Wie ore het om te hoor moet werklik luister na wat Jesus hier vir ons leer.

——————————————————————-

1 Februarie 2022


Die gelykenis van die mosterdsaad.


MATTHÉÜS 13:31-32 AFR53

“’n Ander gelykenis het Hy hulle voorgehou en gesê: Die koninkryk van die hemele is soos ‘n mosterdsaad wat ‘n man neem en in sy land saai; wat wel die kleinste is van al die soorte saad, maar as dit gegroei het, groter is as die groentesoorte en ‘n boom word, sodat die voëls van die hemel kom en nes maak in sy takke.”


“En Hy het gesê: Waarmee moet ons die koninkryk van God vergelyk, of met watter soort gelykenis moet ons dit voorstel? Dit is soos ‘n mosterdsaad, wat die kleinste is van al die soorte saad op die aarde wanneer dit in die grond gesaai is; en wanneer dit gesaai is, kom dit op en word groter as al die groentesoorte en maak groot takke, sodat die voëls van die hemel onder sy skaduwee nes kan maak.” MARKUS 4:30-32 AFR53


“En Hy het gesê: Hoedanig is die koninkryk van God en waarmee sal Ek dit vergelyk? Dit is soos ‘n mosterdsaad wat ‘n man geneem en in sy tuin gesaai het; en dit het gegroei en ‘n groot boom geword, en die voëls van die hemel het nes gemaak in sy takke.” LUKAS 13:18-19 AFR53


Aardse verhaal:

Die koninkryk van die hemele is soos: ‘n Man saai die kleinste saad wat daar is, ‘n mosterdsaad, en die saad word nie ‘n bos nie, maar ‘n groot boom. Die voëls van die hemel kom dan en maak nes in sy takke.


Hemelse betekenis:

Jesus gee nie vir ons die uitleg nie, dit was net vir die disippels beskore.


“en sonder gelykenis het Hy tot hulle nie gespreek nie; maar afsonderlik het Hy vir sy dissipels alles uitgelê.” MARKUS 4:34 AFR53


Maar, met wat ons tot nou toe geleer het, kan ons probeer om ‘n uitleg uit te werk:

‘n Man saai – die Here saai

Die mosterdsaad – Woord van God

Kleinste saad groei tot ‘n oorgroot boom – Die kerk het klein begin met een persoon, Jesus, wat aan Sy volgelinge die blye boodskap verkondig het en gegroei tot ‘n wêreld beweging wat vandag, 2000 jaar later, steeds groei.


“Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”MATTHÉÜS 28:19 AFR53


Die saaier se land – die wêreld

Die voëls van die hemel – die voëls het voorheen in die hoofstuk Satan verteenwoordig, so in die geval sal dit nog steeds so wees.

Die voëls in die boom is soos die onkruid in die koringlande. Soos die Koninkryk groei sal dit ook die vyand se aandag trek, en die vyand sal probeer om vir hom ‘n tuiste in die kerk te maak, maar hy sal nie die groei daarvan keer nie. Trouens, die kerk se groei is wat die vyand uitnooi om daarin nes te maak.

——————————————————————-

2 Februarie 2022


Die gelykenis van die suurdeeg.


MATTHÉÜS 13:33 AFR53

“’n Ander gelykenis het Hy hulle vertel: Die koninkryk van die hemele is soos suurdeeg wat ‘n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is.”


“En weer het Hy gesê: Waarmee sal Ek die koninkryk van God vergelyk? Dit is soos suurdeeg wat ‘n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is.” LUKAS 13:20-21 AFR53


Aardse verhaal:

Die koninkryk van die hemele is soos: suurdeeg wat ‘n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is.


Hemelse betekenis:

Jesus gee ook nie vir ons hierdie betekenis nie, so kom ons dissekteer hierdie gedeelte en werk uit wat dit beteken.


Suurdeeg:

Ons weet almal dat wanneer ons bv. brood bak en suurdeeg by die meel gooi, dan ‘groei’ die baksel deeg en is dan gereed om gebak te word. Suurdeeg is in die Joodse tradisie ‘n simbool van sonde. Tydens Paasfees moet alle suurdeeg uit die Joodse huise verwyder word. Ook tydens Paasfees word net ongesuurde brode geëet, natuurlik omdat dit geen suurdeeg het nie. Ongesuurde brood is ‘n prentjie van Jesus – brood sonder sonde.


“In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die Here; en op die vyftiende dag van hierdie maand is die fees van die ongesuurde brode van die Here; sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet.” LEVÍTIKUS 23:5-6 AFR53


Drie mate meel:

Die eerste keer wat die term ‘drie mate meel’ in die Bybel gebruik was, is in Genesis toe die Een wat Jesus geword het en twee engele aan Abraham verskyn het. Van daardie tyd af is drie mates meel altyd gesien as ‘n maaltydoffer of ‘n gasvryheidsoffer. In hierdie geval, aan God gegee—dus het dit ‘n geestelike konnotasie.


“Toe loop Abraham haastig in die tent na Sara en sê: Maak gou, knie drie mate meel, die beste, en maak roosterkoeke.” GÉNESIS 18:6 AFR53


Die suurdeeg wat in die drie mates meel verborge is, is ‘n negatiewe prentjie. Ek sê verborg of weggesteek want nadat die suurdeeg in die meel ingewerk is sien jy nie die suurdeeg nie, jy sien net ‘n groot baksel deeg.


Die Kerk sal nie volmaak wees nie, dit sal onrein wees. Suurdeeg sal ingebring word en dit sal groei en besoedel.

——————————————————————-

3 Februarie 2022


Die gelykenis van die verborge skat.


MATTHÉÜS 13:44 AFR53

“Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand, wat ‘n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand.”


Aardse verhaal:

Die koninkryk van die hemele is soos: ‘n man wat ‘n verborge skat in die saailand kry en dit nie sommer vat nie, hy steek dit weer weg. Hy is so bly dat hy die skat ontdek het dat hy alles verkoop wat hy het en die saailand met die skat koop.


Hemelse betekenis:

Die simbole wat ons hier moet ontleed is die verborge skat, die saailand en die man wat als verkoop en die saailand koop.


Sommiges bespiegel dat hierdie gelykenis daarop dui dat die koninkryk van God na ons toe kom deur menslike werke en een of ander transaksie tussen ons en God. Natuurlik is dit NIE wat Jesus sê NIE, aangesien die Bybel dit baie duidelik stel dat ons ons verlossing verkry slegs deur geloof in Jesus.


“Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God;” EFÉSIËRS 2:8 AFR53


Die saailand het al in vorige gelykenisse voorgekom en ons weet dus dit is die wêreld.

Anders as die suurdeeg wat ‘n negatiewe simbool was wat sonde voorstel, is die skat wat weggesteek word ‘n positiewe simbool wat die Christene voorstel.


“As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne.” EXODUS 19:5 AFR53


“Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.” I PETRUS 2:9-10 AFR53


Die Een wat alles wat Hy gehad het prysgegee het ter wille van ‘n skat is Jesus Christus!

Jesus wou die skat hê, en Hy het nie net een klein stukkie grond gekoop nie – Hy het die hele saailand gekoop. Jesus het aan die kruis gesterf vir alle sondaars.

Wie het die saailand aangekoop ? Jesus het!

Wat het dit Hom gekos? Sy Bloed!

Wat het hy gekoop? Ek en jy!

Wie is die skat wat in die veld weggesteek is? Ek en jy is!

——————————————————————-

4 Februarie 2022


Die gelykenis van die koopman wat mooi pêrels soek.


MATTHÉÜS 13:45-46 AFR53

“Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n koopman wat mooi pêrels soek; en toe hy een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit.”


Aardse verhaal:

Die koninkryk van die hemele is soos: ‘n Koopman wat mooi pêrels soek. Toe hy sy kosbare pêrel kry, gaan hy weg, verkoop als wat hy het en koop toe die pêrel.


Hemelse betekenis:

Die simbole wat ons hier moet uitlê is die koopman en die kosbare pêrel.

‘n Interpretasie is dat die handelaar of koopman ‘n sondaar is wat die wêreld ywerig deursoek en alles opoffer om die koninkryk van God te vind. Dit kan nie waar wees nie en is in teenstelling met die Skrif. Drie skrifgedeeltes weerlê dat ons die handelaar is wat die koninkryk van God, Christus of die ewige lewe wil “koop”.


“Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie.” ROMEINE 3:11 AFR53


“Toe sê Jesus aan hom: Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom, aangesien hierdie man ook ‘n seun van Abraham is. Want die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore was.” LUKAS 19:9-10 AFR53


“Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie; en Ek sal hom opwek in die laaste dag.” JOHANNES 6:44 AFR53


Dit laat net een persoon oor wat die koopman kan wees – Jesus Christus self. Hy is die enigste Een wat het wat dit verg om hierdie pêrel te koop.


“Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.” JOHANNES 15:16 AFR53


“Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit. En wanneer hy sy eie skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit; en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken.” JOHANNES 10:3-4 AFR53


Uit die skrifgedeeltes hierbo is dit dus duidelik dat Jesus Christus die handelaar is, en die prys wat betaal word vir die pêrel was Jesus se lewe aan die kruis.


Die kerk as ‘n versamelnaam vir al die Christene is die pêrel wat die koopman soek en koop.

——————————————————————-

5 Februarie 2022


Die gelykenis van die treknet wat vis vang.


MATTHÉÜS 13:47-50 AFR53

“Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n net wat in die see gegooi word en van elke soort bymekaarbring; en as dit vol geword het, trek hulle dit op die strand uit en gaan sit en maak die goeies in bakke bymekaar, maar gooi die slegtes weg. So sal dit wees in die voleinding van die wêreld: die engele sal uitgaan en die slegte mense onder die regverdiges uit afskei en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.”


Aardse verhaal:

Die koninkryk van die hemele is soos: ‘n net wat in die see gegooi word en van elke soort seedier word bymekaargemaak. Op die strand word hulle gesorteer tussen goed en sleg: die goeies word in bakke bymekaar gemaak, maar die slegtes word weggegooi.


Hemelse betekenis:

Die betekenis van hierdie sewende gelykenis in die hoofstuk word ook sommer in die volgende sin vir ons gegee, net om seker te maak ons kry die uitleg nie verkeerd nie!


So sal dit wees wanneer die wêreled tot sy einde kom. Die engele sal uitgaan en die slegte mense van die goeie mense afskei en die slegte mense sal in die vuuroond gegooi word. Dit gaan ‘n baie slegte tyd wees want daar gaan ‘n geween wees en ‘n gekners van tande.


Die tweede gelykenis van die onkruid tussen die koring en hierdie sewende gelykenis het altwee dieselfde uiteinde. Die goeie en slegte word geskei – die slegtes word in die vuuroond gegooi en die goeies leef vir ewig saam met Christus.


Die disippels het na Jesus se verduideliking van die sewe gelykenisse blykbaar als mooi verstaan.


“Jesus sê vir hulle: Het julle ál hierdie dinge verstaan? Hulle antwoord Hom: Ja, Here!”MATTHÉÜS 13:51 AFR53


Die dissipels wat sopas daarop aanspraak gemaak het dat hulle verstaan ​​wat Jesus hulle geleer het, is nou verantwoordelik om hulle begrip aan ander oor te dra, asof hulle uit die stoorkamer van hul wysheid en begrip uitdeel. Hierdie pakhuis bevat dinge wat nuut en oud is.


“Toe sê Hy vir hulle: Daarom is elke skrifgeleerde wat ‘n leerling geword het in die koninkryk van die hemele, soos ‘n huisheer wat uit sy skat nuwe en ou dinge te voorskyn bring.” MATTHÉÜS 13:52 AFR53

——————————————————————-

6 Februarie 2022


Opsomming van Mattheus 13 se gelykenisse


JOHANNES 3:18-21 AFR53

“Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie. En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos. Want elkeen wat kwaad doen, haat die lig en kom nie na die lig nie, dat sy werke nie bestraf mag word nie. Maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is.”


Wat is die koninkryk van die hemele? Ek vra want ses van die sewe gelykenisse van Mattheus 13 (almal behalwe : die saaier) begin met: die koninkryk van die hemele is soos………

2. Die onkruid tussen die koring

3. Die mosterdsaad

4. Die suurdeeg

5. Die verborge skat

6. Die koopman wat mooi pêrels soek

7. Die treknet wat vis vang


Jesus gee vir ons met hierdie gelykenisse ‘n tydlyn van wat bekend staan as die genade tydperk.


Die beweging begin deur die Woord van God te saai, en die saad wat op goeie grond val groei en dra vrugte. Satan kom en saai dan sy saad in die tweede gelykenis. Die goeie werkers wil die onkruid uitkap, maar Jesus sê dat die goed en sleg saam moet groei tot en met die voleinding van die wêreld wanneer die goeies bymekaar gemaak sal word en die slegtes weggegooi sal word.


Ons almal, goed en sleg, is sedert Jesus se tyd deel van die koninkryk van die hemele. Die oomblik wat ‘n persoon besluit om Jesus as Verlosser te aanvaar word die persoon van die koninkryk van die duisternis oorgeplaas na die koninkryk van God. Ons werk op aarde, as ambassadeurs van God se koninkryk, is om ons lig so te laat skyn, dat almal ons goeie werke kan sien, en so die geleentheid kan kry om ook die keuse vir God se koninkryk te maak.


Openbaring 2 en 3 gee ook vir ons ‘n tydlyn van dieselfde tydperk van waar die kerk begin in Handelinge tot en met die voleinding van die wêreld. Ons gaan ‘n bietjie afwyk van die gelykenisse en die volgende sewe dae die sewe gelykenisse vergelyk met die sewe gemeentes van Openbaring.

——————————————————————-

7 Februarie 2022


OPENBARING 2:1 AFR53

“Skryf aan die engel van die gemeente in Éfese: Dít sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou, wat wandel tussen die sewe goue kandelaars:”


Gelykenis: Die saaier en die vier soorte grond

Gemeente: Efese

Naam beteken: Beminde

Profeties: Die eerste kerk of die Apostoliese kerk

Tydperk: 30 – 100 NC


Efese

Efese was ‘n belangrike hawestad in die Middelandse See, en besoekers het hierdie stad en sy baie tempels wat aan die Romeinse gode gewy was, besoek.

Te midde van hierdie besige stad met al sy heidense invloede kry ons ook een van die invloedrykste kerke van die eerste eeu. Paulus, Johannes en Timótheüs het deur die jare onder sy leiers getel, en die stad is prominent in die boek Handelinge en die briewe van die Apostels.


Jesus se titel vir Efese sê dat Hy die sterre of engele of boodskappers in die palm van Sy hand vashou en dat Hy teenwoordig is in die sewe gemeentes.

Daar is ‘n hele paar goed wat die gemeente goed gedoen het, maar hulle is so besig met die werke van die Koning dat daar nie tyd is vir die Koning nie.


Die gemeente word aanbeveel om die passie waarmee die gemeente begin is te onthou – bekeer julself en doen die werke wat julle in die begin gedoen het met Jesus as die middelpunt, anders sal Jesus jul kandelaar of gemeente verwyder.


Die gemeente in Efese verteenwoordig die Apostoliese kerk typerk, so genoem omdat die apostels die kerkleiers van die tydperk was. Die tydperk begin met die uitstorting van die Heilige Gees in die boek Handelinge en eindig met die dood van die laaste apostel Johannes, wat die boek Openbaring geskryf het.


Die gelykenis van die saaier

Die saaier saai sy saad en dit val op vier verskillende soorte grond.

  1. op die pad, en die voëls het gekom en dit opgepik.

  2. op klipbanke waar daar nie baie grond was nie, en dit het gou opgekom omdat die grond nie diep was nie. Maar toe die son warm word, is dit verskroei, en omdat dit nie wortel geskiet het nie, het dit verdroog.

  3. tussen die onkruid, en die onkruid het opgekom en dit laat verstik.

  4. in goeie grond en ‘n oes gelewer, party honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudig

Vergelyking

Hierdie was die tydperk toe die Apostels, soos saaiers, die Woord van God gesaai het en “kerke geplant het”. Daar was Sataniese opposisie oral waar hulle gedraai het en die Bose het op enige manier probeer om van die Woord ontslae te raak. Gelukkig het van die saad op goeie grond geval en die volgelinge van Jesus het gegroei party honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudig.

——————————————————————-

8 Februarie 2022


OPENBARING 2:8 AFR53

“En skryf aan die engel van die gemeente in Smirna: Dít sê die eerste en die laaste, wat dood was en lewend geword het:”


Gelykenis: Die onkruid tussen die koring

Gemeente: Smirna

Naam beteken: Mirre, soos in baba Jesus se geskenke van goud, mirre en wierook

Profeties: Vervolgde kerk tydperk

Tydperk: 54 tot 313 NC


Smirna

Mirre is ‘n natuurlik boomgom van die omgewing, was ‘n belangrike bestandeel in die balsem proses en word geassosieer met die dood, wat die hooftema van hierdie brief is.

Smirna was in Johannes se tyd net nog ‘n Romeinse stad vol heidense tempels, en die grootste tempel was die een vir keiser Tiberias. Dit het hierdie stad die hart gemaak van keiseraanbidding in Klein-Asië, en as sodanig het dit ‘n vroeë vervolger van Christene geword.


Onder die Romeinse Keisers het geweldige en verskriklike vervolgings plaasgevind. Die Christene is in die arenas tot vermaak van die keiser en sy volgelinge vir die leeus gevoer & hulle moes met wilde diere veg tot die dood toe.


Verdrukking was vir die Christene ‘n gegewe! Beslis nie ‘n uitkyk wat enige van ons met ons gemaklike lewens vandag verstaan nie. Jesus sê vir dié gemeente dat verdrukking beslis gaan plaasvind en dat hulle nie daarvoor moet vrees nie. Jesus se aanbeveling is dat hul getrou moet wees tot die dood toe, want in die ewige lewe sal hul die kroon van die lewe kry!


Die belofte wat aan die einde van elke brief kom bemoedig gelowiges. Die wat oorwin sal slegs een dood sterf, naamlik die liggaamlike dood op aarde. Die tweede dood is slegs vir diegene wat Jesus verwerp het en aan die einde van die millenium in die poel van vuur gewerp gaan word.


Die gelykenis van die onkruid

Die koninkryk van die hemel is soos: ‘n Man wat goeie saad in sy land saai. Terwyl hy slaap, kom die vyand en saai slegte saad oor die goeie saad. Die goeie en die slegte saad het albei saam opgekom. Die diensknegte wil die onkruid uitpluk, maar die huiseienaar sê om te wag tot die oestyd, dan sal die onkruid verbrand word.


Vergelyking

Die tydperk verteenwoordig ongeveer 250 jaar van Christen vervolging. Jesus weet hoe dit was om as mens te sterf en het medelye met die Christene wat onder verdrukking is en sterf vir hul geloof.


Jesus verduidelik dat die onkruid en koring saam moet groei tot die oordeel met die voleinding van hierdie wêreld. Hierdie tydperk se karaktertrekke geld dus nie net vir die Smirna gemeente nie, maar duur voort tot en met die voleinding van die wêreld.


Goed en kwaad leef inderdaad nog saam en Christene word nog steed gemartel in verskillende dele van die wêreld.

——————————————————————-

9 Februarie 2022


OPENBARING 2:12 AFR53

“En skryf aan die engel van die gemeente in Pérgamus: Dít sê Hy wat die skerp tweesnydende swaard het:”

Gelykenis: Die mosterdsaad

Gemeente: Pergamus

Naam beteken: Pergos beteken kragtige vesting en gamos beteken huwelik, dus ‘n huwelik met ‘n magtige instelling

Profeties: Getroude kerk.

Tydperk: 313 tot 600 NC


Pérgamus

Pergamus was vir baie eeue ‘n magtige stad en die hoofstad van dié Romeinse provinsie. Die stad was die woonplek van heidense tempels, monumente en kultusse wat heidense gode aanbid het. Onder bekende besienswaardighede was die altaar van Zeus die Griekse god van lug en donderweer asook ‘n Asklepieion mediese skool wat die middelpunt was van ‘n satanistiese kult.


‘n Tweesnydende swaard was in antieke tye ‘n algemene uitdrukking vir die swaard wat gebruik is om misdadigers tereg te stel. Jesus gebruik die omskrywing van Homself om vir die gemeente van Pergamos hul foute uit te wys en hul daarvoor aanspreeklik te hou.


Pergamus was oorwegend ‘n plek van satanistiese aanbidding wat die stad geestelik ‘n besonderse bose plek gemaak het, veral vir Christene. Jesus gee hier erkenning aan hul goeie werke en weet dat hul vashou aan Sy Naam, en hul geloof in Jesus nie verloën nie.


Duidelik was daar nog steeds Christene wat vervolg was en tot die dood getrou gebly het aan Jesus, soos Antipas wat in die gedeelte as voorbeeld gebruik word.

Onthou jy die verhaal Bileam en sy donkie? Bileam was ‘n profeet van God, maar hy was korrup en gulsig. ‘n Persoon wat vashou aan die leer van Bileam, is ‘n persoon wat struikelblokke voor God se kinders plaas. Die ‘Bileams’ van Pergamus het die kerk geleer dat daar niks verkeerd was om afgodsoffers te eet of om te hoereer in die afgodstempels nie. Dus, ‘gelowiges’ wat vals leering bevorder het.


Die gelykenis van die mosterdsaad

Die koninkryk van die hemele is soos: ‘n Man wat die kleinste saad saai, ‘n mosterdsaad, en die saad word nie ‘n bos nie (soos dit gewoonlik sou groei nie), maar ‘n oorgroot boom. Die voëls van die hemel kom dan en maak nes in sy takke.


Vergelyking

In 313 NC sien keiser Konstantyn ‘n visioen op die slagveld en verklaar dat almal in die Romeinse Ryk Christene moet wees. Hier is die kerk getroud met ‘n magtige instelling naamlik die Romeinse Ryk, vandaar die betekenis van Pergamus.


Al die kerke moes onmiddelik hul deure vir die heidene met hul gewoontes en bygelowe oopmaak. Dit het tot gevolg gehad dat onder andere almal se vakansiedae gekombineer is en dat hul heidense gebruike soos tempelpriesters, beelde van afgode en mistieke invloede die kerk geinfiltreer het.


Hierdie tydperk toon ‘n toenemende uiterlike of eksterne groei van die kerk, maar met ‘n wêreldse alliansie waar die valse en die ware ​​saamwerk. Ons sien hier slegs ‘n uiterlike vorm van Christenskap en ‘n duidelike prentjie van die voëls wat nes maak in die mosterdboom!

——————————————————————-

10 Februarie 2022


OPENBARING 2:18 AFR53

“En skryf aan die engel van die gemeente in Thiatíre: Dít sê die Seun van God wat oë het soos ‘n vuurvlam, en sy voete is soos blink koper:”

Gelykenis: Die suurdeeg

Gemeente: Thiatire

Naam beteken: Ewigdurende offerhandes

Profeties: Rooms Katolieke kerk

Tydperk: 600 tot 1517 NC


Thiatíre

Thiatire was ‘n belangrike stad op die handelsroete tussen Pergamus en Sardis en die stad het ook meer vakbonde gehad as enige van die ander stede in die omgewing. Elke vakbond het sy eie god aanbid en tydens die gereelde vakbond vergaderings is vleis aan die gode geoffer. Die geofferde vleis was dan ook hul ete vir die aand, gepaard met orgies wat normale praktyk was in die vergaderings. Persone wat geweier het om deel te wees hiervan is verban van die vakbond wat beteken het dat hul nie kon werk en geld verdien nie.


Jesus gee erkenning aan die kerk se goeie werke. Hul goeie werke het toegeneem, hulle was georganiseerd en aktief in hul diensbaarheid, lydsaamheid en liefde. Meer mense is gevoed, gehuisves, geleer, en meer mense het goeie werke ontvang. Dit wil voorkom of die mense vroom en hard gewerk het.


Jesus gebruik die profetes Isebel van die Ou Testament as ‘n voorbeeld om te verduidelik wat die kerk verkeerd doen. Sy verlei die mense om te hoereer en afgodsoffers te eet. Lees in 1 Konings 16 wie Isebel was – Koning Agab trou met Isebel en hy begin om Baäl se afgode te dien.


Iemand wat ‘n profeet is, is veronderstel om van God hoor. Duidelik is die Isebel ‘n profeet met ‘n valse boodskap wat die kerk verlei, ‘n ongelowige met ‘n bose hart wat die wil van die vyand wou doen. Die groot sonde van die kerk in Thiatire is hul onvermoeë of onwilligheid om nie die valse boodskap van die profeet teen te staan nie.


In Pergamus het ons gelowiges gekry wat vals leeringe bevorder het, en hier in Thiatire het ons nie-gelowiges wat in beheer is van die kerk. Die kerk het hier beweeg na ‘n punt waar hul leeringe verkondig wat duidelik deur die vyand of Satan aanvaar word.


Die gelykenis van die suurdeeg

Die koninkryk van die hemele is soos: suurdeeg wat ‘n vrou neem en in drie mate meel inwerk totdat dit heeltemal ingesuur is.


Vergelyking

Die vierde brief van Openbaring en die vierde gelykenis van Mattheus 13 gebruik elk ‘n vrou wat die vals leeringe in die kerk inbring.


Die suurdeeg illustreer ‘n innerlike groei van valse leerstellings en ‘n valse lewensstyl. Die drie mate meel is die Woord van God en die vrou is besig om valse leerstellings in die Woord in te werk totdat dit totaal gekorrupteer is.

——————————————————————-

11 Februarie 2022


OPENBARING 3:1 AFR53

“En skryf aan die engel van die gemeente in Sardis: Dít sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood.”

Gelykenis: Die verborge skat

Gemeente: Sardis

Naam beteken: ‘n Klein groep wat oorbly of in Engels remnant

Profeties: Denominasie of Reformasie kerk

Tydperk: 1517 tot 1648 NC


Sardis

Sardis was die hoofstad van die provinsie Lydia en word vandag Sart genoem. Die stad het bestaan uit 2 dele: ‘n Versterkte stad bo-op ‘n heuwel met onklimbare kranse en ‘n handelstad met landbouprodukte & verwante industrieë op ‘n gelyk terrein.

In 546 BC word Sardis ingeval deur Persië. Terwyl die Persiese soldate die dorp (op die kranse) omsingel en keer dat niemand in of uit kan gaan nie, sien een van die Persiese soldate hoe ‘n soldaat van Sardis se helm teen die kranse afval. Hy sien vêrder hoe die Sardis soldaat teen die kranse afklim en sy helm gaan haal, en so word die pad boontoe vir Persië gewys, en Sardis word deur hul weermag oorgeneem. Sardis se weermag was nie paraat nie, en ‘n fout het veroorsaak dat hul ingeval is.


Die sewe Geeste van God is die Ou Testament se manier om die Heilige Gees te beskryf. Hoekom gebruik Jesus hierdie titel? Heel moontlik omdat dié kerk soos baie van vandag se kerke ongemaklik is met die werkinge van die Heilige Gees, en dit is een van die groot oorsake van skeuring in ons kerke.


Christene word geken aan die vrugte wat hul dra. Wat is die vrugte? Dit is ons werke! Wanneer ons bekeer is en dan niks vêrder doen om vrugte te dra nie, het ons net die titel van Christen maar is vêrder dood.


Daar is altyd ‘n klein groep mense wat Jesus bly volg (die remnant) en hulle sal saam met Jesus in wit klere wandel! Wit is altyd ‘n simbool van verlossing.


Die gelykenis van die verborge skat

Die koninkryk van die hemele is soos: ‘n man wat ‘n verborge skat in die saailand kry en dit nie sommer vat nie, hy steek dit weer weg. Hy is so bly dat hy die skat ontdek het dat hy alles verkoop wat hy het en die saailand met die skat koop.

Vergelyking

Martin Luther lees in die Bybel dat nie werke nie, maar slegs geloof jou kan red. Op 31/10/1517 slaan hy sy 95 Stellings teen die Wittenberg Kerk vas, en so begin die typerk van reformasie. Hy het die Bybel in Duits vertaal en was so afgesit van werke dat hy die Bybelboek van Jakobus, wat sê dat geloof sonder werke dood is, uit die Nuwe Testament uitgehaal het en net as ‘n bylaag ingevoeg het.


Die negatiewe gevolg van die reformasie was dat mense opgehou het om werke te doen. Baie minder liefdadigheidswerke is gedoen en kerke het opgehou met evangelisasie. Die kerk wat ‘n skat moet wees, is weggesteek vir die wêreld.


‘n Klein groep gelowiges het gelukkig die vuur van die Evangelie brandend gehou, en so gaan ons die volgende tydperk in.

——————————————————————-

12 Februarie 2022


OPENBARING 3:7 AFR53

“En skryf aan die engel van die gemeente in Filadelfía: Dít sê die Heilige, die Waaragtige, wat die sleutel van Dawid het, wat oopmaak en niemand sluit nie, en Hy sluit en niemand maak oop nie:”

Gelykenis: Die koopman wat mooi pêrels soek

Gemeente: Filadelfía

Naam beteken: Broederlike liefde

Profeties: Sending kerk

Tydperk: 1648 tot 1900 NC


Filadelfía

Filadelfia is gestig omstreeks 150 BC deur koning Attallus van Pergamus, wie se bynaam Filadelfia was, en wat broederliefde beteken. Die moderne naam van Filadelfia is Alasehir. Die stad was bekend as die Imperiale posroete tussen Asië en Europa, en met vrugbare vulkaniese grond en baie wingerde het die gebied bekend gestaan as ‘n wynboustreek met goeie wyn.


Jesus stel Homself voor as die Heilige en Ware God wat verwys na Jesaja 22:22. Die gedeelte verwys na die Millenium wanneer koning Dawid onder Jesus gaan regeer. Jesus self het die sleutel van Dawid wat toon dat Jesus die hoogste gesag het.


“Aan hom sal Ek die sleutels van die koning se huis gee; wat hý oopsluit, sal niemand toesluit nie, wat hý toesluit, sal niemand oopsluit nie.” JESAJA 22:22 AFR83


Daar is net een pad na God en dit is deur Jesus. Jesus hou nog die deur oop vir die wat Hom as Verlosser wil aanneem. Moet nie soos die onverstandigde maagde wees wat nie genoeg olie vir hul lampe gehad het nie. Vir hulle is die deur gesluit!


Die gelykenis van die koopman wat mooi pêrels soek

Die koninkryk van die hemele is soos: ‘n Koopman wat mooi pêrels soek. Toe hy sy kosbare pêrel kry, gaan hy weg, verkoop als wat hy het en koop toe die pêrel.


Vergelyking

Vir die eerste eeu na die Reformasie kerk was daar geen sendingwerk nie. Elke groot Europese land het besluit om of die Protestante of die Katolieke kerk te volg. Elke kind wat gebore is, is gedoop in hul kerk en almal was gesien as Christene. Die Duitsers was in die Lutherse kerk, die Engelse in die Anglikaanse kerk, die Skotte in die Presbiteriaanse kerk, ens. So, daar was nie ‘n nodigheid om te evangeliseer nie.


Evangeliesasie kerke het wel begin vorm in teenstand met die staatskerke, maar die kerke is deur die staat vervolg. In so mate dat die mense gevlug het uit Europa na die nuwe wêreld wat ons vandag ken as: Noord Amerika, Suid Amerika, Australia, Suid Afrika ens. Onthou bv. die Franse Hugenote wat na Suid Afrika gevlug het.


Anders as die vorige tydperk waar die skat weggesteek was, word die pêrel as ‘n juweel vertoon vir almal om te sien. Die mense van hierdie tydperk het God se woord bewaar en nie Sy Naam verloën nie.


God maak deure oop om die werk van die evangelie en sending te bevorder en effektief te maak. Orals waar God deure vir Sy werkers oopmaak om die evangelie te verkondig, daar seën Hy hulle werk. Omdat jy die woord van my lydsaamheid bewaar het, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom – Wegraping?

——————————————————————-

13 Februarie 2022


OPENBARING 3:14 AFR53

“En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God:”

Gelykenis: Die treknet wat vis vang

Gemeente: Laodicense

Naam beteken: Die mense regeer in teenstelling met God wat regeer!

Profeties: Afvallige kerk

Tydperk: 1900 NC tot ?


Laodicense

Die Romeine verower Laodicense in 133 BC en maak dit hul administratiewe en regsprekende hoofstad. Die stad was die welvarendste van al sewe stede en wyd bekend vir die geldhandel van sy bankiers.


Die stad is ook deur twee groot aarbewings getref. Met die tweede aardbewing wys hul hulp van Rome om die stad te herbou van die hand en herbou die stad self. Die stad wys dat hul niemand nodig het nie, hulle het genoeg geld om als self te doen.


Al wat die dorp nie gehad het nie was water wat hul met waterkanale (aquaducks) van die naby geleë dorpe aangelê het. Die enigste probleem was dat wanneer die water in die dorp uitgekom het was dit nie warm of koud nie, maar lou!


Jesus ken die stad se werke, niks is verborge vir God se oë nie. Hulle is nie warm of koud nie, maar lou! Jesus sê dat hy hul sal uitspoeg (of ‘opgooi’ is ‘n beter vertaling) omdat hul lou is, soos ‘n mens lou water uitspoeg omdat dit so sleg is. Net genoeg godsdiens om die gewete te sus, nie om siele te red nie! Kies ‘n kant, moet nie lou wees nie!


“En Elía het nader gekom na die hele volk en gesê: Hoe lank hink julle op twee gedagtes? As die Here God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na! Maar die volk het hom niks geantwoord nie.” I KONINGS 18:21 AFR53


“mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.” II TIMÓTHEÜS 3:5 AFR53


Die gelykenis van die treknet wat vis vang

Die koninkryk van die hemele is soos: ‘n net wat in die see gegooi word en van elke soort seedier word bymekaargemaak. Op die strand word hulle gesorteer tussen goed en sleg: die goeies word in bakke bymekaar gemaak, maar die slegtes word weggegooi.


Vergelyking

Laodicense is profeties ‘n prentjie van die kerk in die eindtye. Dit is hartseer om te dink dat Jesus buite Sy eie kerk staan en klop, en die vraag moet wees of dit ‘n prentjie van ons tyd is.


“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. OPENBARING 3:20 AFR53


Het ons Jesus uit ons vergaderplekke gestoot? Word die ware Woord van God van ons preekstoele gepreek? Is ons so besig met planne maak en die aanbied van programme dat ons nie opmerk dat Jesus uit die kerk uitgeskuif is nie? Is ons deel van die goeie visse wat bymekaar gemaak gaan word, of van die slegte visse wat weggegooi gaan word?

Wanneer Jesus aan die deur van jou hart klop – maak die deur oop!

——————————————————————-

747 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page