1 Augustus 2022
JESAJA 7:1 AFR53
“En in die dae van Agas, die seun van Jotam, die seun van Ussía, die koning van Juda, het Resin, die koning van Aram, met Peka, die seun van Remália, die koning van Israel, opgetrek na Jerusalem om daarteen oorlog te voer; maar hy kon nie daarteen veg nie.”
Jesaja 7 begin in ‘n tydperk toe Sirië reeds laer opgeslaan het op Israel (die noordelike Koninkryk) se grond, sowat drie dae se opmars van die grondgebied van Juda (die suidelike Koninkryk).
Die spelers van hierdie verhaal is as volg:
- Resin, die koning van Aram
- Pekah, die koning van Israel (en die seun van Remalia)
- Agas, die koning van Juda
Die Assiriërs was die grootste moontheid van hierdie tydperk en het gedreig om al die kleiner moonthede met militêre mag te oorwin. Konings Resin en Pekah het ‘n koalisie gevorm, maar hulle het koning Agas nodig gehad om ‘n groot genoeg weermag te vorm om die juk van Assirië af te skud. Koning Agas was egter nie lus om kragte te meet met Assirië nie, en het die koalisie van die hand gewys.
Maar Resin en Peka het hulle nie so maklik van stryk laat bring nie, want hulle het Juda se troepe nodig gehad. Toe maak hulle plan: die beste plan volgens hulle, is om eers Juda in te val en Agas te vervang met ‘n eie dienswillige, Ben-Tabeal. En dan kan al drie saam Assirië aanvat.
Die huis van Dawid (koning Agab en die mense van Juda) ontvang berig dat die Aramiërs (koning Resin se volk) en Efraim (die noordelike Koninkryk Israel) ‘n koalisie gevorm het. Die engelse KJV gee vir ons ‘n beter vertaling - vergelyk die twee vertalings hieronder.
“And it was told the house of David, saying, Syria is confederate with Ephraim. And his heart was moved, and the heart of his people, as the trees of the wood are moved with the wind.” Isaiah 7:2 KJV
“Toe hulle aan die huis van Dawid berig stuur met die woorde: Die Arameërs het op Efraim toegesak! — het sy hart en die hart van sy volk gebewe soos die bome van die bos bewe voor die wind.” JESAJA 7:2 AFR53
Hierdie koalisie het koning Agab en sy volk in paniek gebring en hulle het gebewe van vrees.
Koning Agas besef dat ‘n oorlog oppad is en omdat watervoorsiening een van die grootste probleme tydens ‘n oorlog was, besluit hy om sy watervore in die Bleikveld te gaan inspekteer.
Terselfde tyd gee God vir Jesaja opdrag om saam met sy seun ook na die Bleikveld te gaan, sodat hulle vir Agas ‘n boodskap kan gee.
“En die Here het vir Jesaja gesê: Gaan tog uit, Agas tegemoet, jy en jou seun Sjear Ja-sjub, aan die end van die watervoor van die Boonste Dam, by die grootpad van die Bleikveld,” JESAJA 7:3 AFR53
Jesaja moet vir koning Agab sê - wees gerus, moet nie dat jou hart week word oor hierdie twee rokende stukke brandhout nie. Die twee stukke hout wat gaan uitbrand is die Arameërs en die noordelike koninkryk Israel.
“en sê vir hom: Neem jou in ag en wees gerus; wees nie bevrees en laat jou hart nie week word oor hierdie twee rokende stukke brandhout nie — weens die gloeiende toorn van Resin en die Arameërs en van die seun van Remália; omdat Aram onheil teen jou besluit het, Efraim en die seun van Remália, deur te sê: Laat ons optrek teen Juda en dit skrik aanjaag en dit vir ons verower en die seun van Tábeal daaroor koning maak.” JESAJA 7:4-6 AFR53
2 Augustus 2022
JESAJA 7:7 AFR53
“So sê die Here Here: Dit sal nie tot stand kom nie, en dit sal nie gebeur nie.”
Jesaja het vir koning Agas gesê dat hy nie moet kommer nie, want dit wat sy vyand beplan sal nie gebeur nie.
Die vraag is nou, hoekom sou Agas vir Jesaja glo? Die antwoord is omdat Agas reg voor sy oë ‘n bewys of versekering gehad het in die vorm van Jesaja se seun, Sear-Jasub. Sear-Jasub het ons vroeër gesien beteken letterlik Oorblyfsel-Kom-Terug, en staan dus ook vir ‘n bepaalde manier van glo: selfs al sou watter lot Israel tref, sal hulle nooit uitgewis word nie. Daar sal altyd oorlewendes wees, altyd oorblyfsels wees om weer aan te gaan.
Jesaja profeteer vêrder dat Damaskus nog steeds die hoofstad van Aram sal wees, en daarom sal Jerusalem nie deel word van Resin se heerskappy nie. Koning Resin sal binne sy eie grense bly en koning van Damaskus alleen wees.
Efraim of die noordelike Koninkryk sal binne vyf en sestig jaar verbreek word, sodat daar geen volk meer is nie. Samaria sal dan oor die noordelike Koninkryk regeer en die land in besit neem.
Met hierdie profesie vertel die profeet Jesaja vir koning Agas dat die koalisie van Aram en Israel nie vir hom ‘n bedreiging is nie.
“Want Damaskus is die hoof van Aram, en Resin die hoof van Damaskus, en binne vyf-en-sestig jaar sal Efraim verbreek word, sodat dit geen volk meer is nie; en Samaría is die hoof van Efraim, en die seun van Remália die hoof van Samaría. As julle nie glo nie — voorwaar, dan sal julle nie bevestig word nie!” JESAJA 7:8-9 AFR53
Jesaja sê vir Agas dat hy ‘n teken van God moet vra, maar Agas wil dit nie doen nie.
“En die Here het verder met Agas gespreek en gesê: Eis vir jou 'n teken van die Here jou God: sak diep af na die doderyk, of klim hoog op boontoe. Maar Agas het geantwoord: Ek sal nie eis nie en die Here nie versoek nie.” JESAJA 7:10-12 AFR53
Die einde van vers 9 sê: As julle nie glo nie — voorwaar, dan sal julle nie bevestig word nie!
Maar as jy My nie vertrou nie, as jy toelaat dat angs jou oë verblind, sal jy nie alleen die verkeerde besluite neem nie, maar jy sal ook verlore gaan.
2 Konings 16 vertel ons hoe Agas besluit het. Sy wantroue en sy ongeloof het sy angs so hoog opgestoot dat hy letterlik na Assirië gehardloop het. Hy was een van die konings van Juda wat verkeerd gedoen het in die oë van die Here.
“Agas stuur toe boodskappers na Tiglat-Piléser, die koning van Assirië, om te sê: Ek is u dienaar en u seun; kom op en verlos my uit die hand van die koning van Aram en uit die hand van die koning van Israel wat teen my optree. Tegelykertyd neem Agas die silwer en die goud wat te vinde was in die huis van die Here en in die skatkamers van die huis van die koning en stuur dit as 'n geskenk aan die koning van Assirië.” II KONINGS 16:7-8 AFR53
Wat kan ons hieruit leer? ten minste dit: geloof wat nie uitgeleef word nie, is van geen waarde in ‘n tyd van krisis nie. Dieselfde geld vir ‘geloof’ wat ewe skielik in ‘n krisistyd aangeleer word — ook dit slaag nie.
Koning Agas se ongeloof, en die feit dat hy nie ‘n teken van God wou ontvang nie - ‘n teken wat God aangebied het om te gee - is vir Jesaja ‘n groot frustrasie en hy berispe sommer die hele huis van Dawid.
“Toe sê hy: Luister tog, o huis van Dawid! Is dit vir julle nie genoeg om mense te vermoei, dat julle my God ook vermoei nie?” JESAJA 7:13 AFR53
3 Augustus 2022
JESAJA 7:14 AFR53
“Daarom sal die Here self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel noem.”
‘Die Here self’ toon dat hierdie teken deur God self gegee word.
Die teken word aan ‘julle’ gegee, dus gerig aan die hele huis van Dawid, nie net koning Agas nie.
‘n Maagd sal swanger word! Kom ons kyk na die Hebreeuse woord vir maagd.
Sommige argumenteer dat die Hebreeuse ‘Bethulah’ vir 'n maagd gebruik moes gewees het, maar Bethulah kan egter na 'n verloofde of getroude vrou verwys soos in die vers hieronder.
“Weeklaag soos 'n jonkvrou wat oor die bruidegom van haar jeug met 'n roukleed omgord is.” JOËL 1:8 AFR53
“Lament like a virgin girded with sackcloth for the husband of her youth.” Joel 1:8 KJV
In latere Aramese tekste verwys die Aramese ekwivalent van Bethulah na 'n getroude vrou. Die gebruik van Bethulah sou ons in verwarring gelaat het.
Die Hebreeuse woord ‘Almah’ wat Jesaja doelbewus hier vir maagd gebruik, is die enigste term vir 'n ongetroude vrou. (Edward Young, Vol 1, bl.288.)
Hoekom kyk na die betekenis van die woord maagd? Omdat sekere groepe die maagdelike geboorte in twyfel trek!
Die maagd sal swanger word en ‘n seun baar en hom Immanuel noem.
Hierdie profesie is vervul met Jesus se geboorte soos ons in die Nuwe Testament lees.
“En dit het alles gebeur, sodat die woord vervul sou word wat die Here deur die profeet gespreek het: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar, en hulle sal Hom Emmánuel noem, dit is, as dit vertaal word: God met ons.” MATTHÉÜS 1:22-23 AFR53
Maar hoe was hierdie geboorte, wat nie tot baie eeue daarna sou gebeur nie, 'n teken van die volk in Jesaja se tyd se verlossing uit hul huidige gevaar?
Die profeet Jesaja nader koning Agas en verklaar dat Aram en Israel nie suksesvol sou wees om Jerusalem te verower nie (verse 7-9). Die Here bied vir Agas die geleentheid om 'n teken te ontvang (vers 10), maar Agas weier om God op die proef te stel (vers 11).
God reageer deur ‘n teken te gee waarna Agas moet kyk, ‘die maagd sal swanger word en 'n seun baar..’
In hierdie profesie sê God in wese dat Israel en Aram binne 'n paar jaar vernietig sal word. Met die eerste oogopslag het Jesaja 7:14 geen verband met 'n beloofde maagdelike geboorte van die Messias nie.
Die apostel Matteus, wat onder die inspirasie van die Heilige Gees skryf, verbind egter die maagdelike geboorte van Jesus (Matteus 1:23) met die profesie in Jesaja 7:14.
Daarom moet Jesaja 7:14 verstaan word as 'n "dubbele profesie", wat hoofsaaklik verwys na die situasie wat koning Agas in die gesig gestaar het, maar tweedens na die komende Messias wat die uiteindelike Verlosser sou wees. Dus, ‘n profesie met ‘n naby en ‘n vêr betekenis.
4 Augustus 2022
JESAJA 7:15 AFR53
“Dikmelk en heuning sal hy eet as hy weet om te verwerp wat kwaad is en om te kies wat goed is.”
Hierdie vers gee vir ons ‘n tydperk. Dikmelk en heuning verwys na babakos wat gewoonlik tot ‘n ouderdom van twee tot drie jaar oud gegee is.
Die betekenis is dat die kind net soos ander kinders gevoed moet word in die kinderjare, en voordat hy in staat sal wees om reg en verkeerd te onderskei, sal die land van die twee konings vir wie koning Agas bang is, verlate wees. Israel en Aram was binne 2 tot 3 jaar deur Assirië vernietig.
“Want voordat die seuntjie weet om te verwerp wat kwaad is en te kies wat goed is, sal die land vir wie se twee konings jy bang is, verlate wees.” JESAJA 7:16 AFR53
Maar, mens moet altyd versigtig wees waarvoor jy bid.
“Maar die Here sal oor jou en jou volk en die huis van jou vader dae laat kom soos daar nie gekom het van die dag dat Efraim van Juda afgeval het nie — die koning van Assur! JESAJA 7:17 AFR53
Assirië was nooit koning Agas se vriend nie, maar het Agas in benoudheid gehou.
“want die Here het Juda verneder ter wille van Agas, die koning van Israel, omdat hy losbandigheid in Juda bevorder en gedurig ontrou teen die Here gehandel het. En Tilgat-Pilnéser, die koning van Assirië, het hom oorval en hom in benoudheid gebring en hom nie gehelp nie;”. II KRONIEKE 28:19-20 AFR53
God sou Assirië gebruik om die suidelike koninkryk Juda se vyande af te weer, maar dit sou lei tot die land se verwoesting. Net ‘n oorblyfsel sal oorbly om die wilde opbrengs van die land te eet.
Juda se vyande word gemeet aan swerms vlieë en bye. Egipte (vlieë) is deur Assirië verower en Nebukadneser weer het Assirië (bye) verower, wat weer mettertyd vir Juda sou inval en wegvoer in ballingskap.
“En in dié dag sal die Here vir die vlieë fluit wat aan die einde van die strome van Egipte is, en die bye wat in die land Assur is; en hulle sal kom en almal gaan sit in die dale van die steil hoogtes en in die skeure van die rotse en op al die doringbosse en op die drinkplekke. In dié dag sal die Here met die skeermes wat anderkant die Eufraat gehuur is, met die koning van Assur, afskeer die hoof en die hare van die voete; en dit sal ook die baard wegneem.”JESAJA 7:18-20 AFR53
Nadat Nebukadneser Juda in ballingskap wegvoer, sal die land verlate wees en net ‘n klein oorblyfsel sal in die land teenwoordig wees. Die land sal vol dorings en dissels wees, en niemand sal daar wil woon nie.
“En in dié dag sal 'n man 'n jong koei en 'n paar skape in die lewe hou; en weens die oorvloed van melk wat hulle gee, sal hy dikmelk eet; want dikmelk en heuning sal almal eet wat in die land oorgebly het. En in dié dag sal elke plek waar duisend wingerdstokke staan, wat die waarde van duisend sikkels silwer het, vir die dorings en distels wees. Met pyl en boog sal hulle daarheen kom, want die hele land sal vol dorings en distels wees. En al die berge wat met die pik bewerk is — daar sal hulle uit vrees vir dorings en distels nie kom nie; maar dit sal dien om die beeste in te jaag en om deur die kleinvee vertrap te word.” JESAJA 7:21-25 AFR53
5 Augustus 2022
JESAJA 8:1 AFR53
“Verder het die Here aan my gesê: Neem vir jou 'n groot tafel en skrywe daarop met 'n mensegriffel: Netnou is daar buit, gou is daar roof;”
Jesaja kry ‘n opdrag van God om sy skryfgoed te kry (‘n groot boekrol en pen) en neer te skryf wat aan hom gesê word - Netnou is daar buit, gou is daar roof! Soldate van Jesaja se tyd het hierdie woorde geskree terwyl hulle na die vyand gehardloop het. Die profesie is so belangrik dat twee getuies ingeroep word om aan die volk die geloofwaardigheid daarvan te bevestig.
“en Ek wil vir My vertroubare getuies neem: Uría, die priester, en Sagaría, die seun van Jeberégja.” JESAJA 8:2 AFR53
‘n Tweede seun word vir Jesaja gebore en sy naam is: Netnou is daar buit, gou is daar roof. Die naam wat so gegee is, sou ‘n teken wees van 'n bepaalde gebeurtenis - voor die kind pa of ma kan sê sal Aram (Damaskus) en Israel (Samaria) verower wees.
Die naam van Jesaja se seun is ook dieselfde as die woorde wat God vir hom gevra het om neer te skryf. ‘n Aanduiding van die woord wat vlees word - die Immanuel motief wat deurskyn!
“En ek het na die profetes gekom, en sy het swanger geword en 'n seun gebaar; en die Here het vir my gesê: Noem hom: Netnou is daar buit, gou is daar roof. Want voordat die seuntjie kan roep: Vader! of: Moeder! sal hulle die rykdom van Damaskus en die buit van Samaría voor die koning van Assur bring.” JESAJA 8:3-4 AFR53
Israel, die noordelike koninkryk het geweier om die waarde van assosiasie met Juda te erken, en het die waters van Siloa (God se heerskappy) verwerp. Pekah, die seun van Remalia, die koning van Israel en Resin, die Siriese koning was in ‘n koalisie teen Juda.
“Verder het die Here nog met my gespreek en gesê: Omdat hierdie volk die waters van Silóa verag wat saggies vloei, en daar vreugde is saam met Resin en die seun van Remália —” JESAJA 8:5-6 AFR53
Daarom sal God Assirië gebruik om die noordelike koninkryk tot ‘n val te bring.
“kyk, daarom sal die Here oor hulle laat opkom die sterk en magtige waters van die Eufraat — die koning van Assur en al sy heerlikheid — en hy sal bo al sy beddings styg en gaan oor al sy walle;” JESAJA 8:7 AFR53
Die suidelike koninkryk sal bedreig word maar die water sal net tot by die nek kom. Die vyand is op Juda se grense en die gevaar bly dreigend naby.
“en hy sal in Juda indring, instroom en oorloop; tot die nek toe sal hy kom; en die uitbreidinge van sy vlerke sal u land in sy breedte vul, o Immánuel!” JESAJA 8:8 AFR53
God verklaar deur sy profeet aan die vyande van Juda, dat al hulle pogings tevergeefs sal wees.
“Maak geraas, o volke, en — stort inmekaar; en luister, alle ver plekke van die aarde! Gord julle en — stort inmekaar; gord julle en — stort inmekaar.” JESAJA 8:9 AFR53
Jesaja neem die Immanuel-belofte van 7:14 en projekteer dit in die toekoms in: die nederlaag van Assirië in Juda as gevolg van Hiskia se geloof (vgl. hfst. 36-39) word 'n voorbeeld van hoe enige toekomstige nasie wat God se planne teëstaan gekonfronteer sal word deur die huis van Dawid.
“Neem 'n besluit, en dit sal verydel word; maak 'n afspraak, en dit sal nie tot stand kom nie; want God is met ons!” JESAJA 8:10 AFR53
6 Augustus 2022
JESAJA 8:11 AFR53
“Want so het die Here met my gespreek toe sy hand my oorweldig het en Hy my vermaan het om nie te wandel op die weg van hierdie volk nie, met die woorde:”
Jesaja ontvang ‘n sterk aansporing van God om met die volk te praat en hy word vermaan om hom eenkant van hulle te hou. Die volk skryf hul omstandighede aan 'n sameswering toe en leef in vrees vir wat gaan gebeur, in plaas daarvan om in vrees vir God te lewe en hul vertroue net in God te plaas.
“Julle mag nie alles 'n sameswering noem wat hierdie volk 'n sameswering noem nie, en julle mag nie bevrees wees vir wat hulle vrees, of verskrik wees nie. Die Here van die leërskare — Hom moet julle heilig, en laat Hy julle vrees en Hy julle verskrikking wees!” JESAJA 8:12-13 AFR53
God sal vir Jesaja en vir die oorblyfsels van die volk ‘n heiligdom en ‘n skuilplek wees, maar vir die res van Juda en Israel gaan God ‘n klip word om teen te stamp en ‘n rots om oor te struikel.
“Dan sal Hy vir julle 'n heiligdom wees, maar 'n klip waar 'n mens teen stamp en 'n rots waar 'n mens oor struikel, vir die twee huise van Israel, 'n vangnet en 'n strik vir die inwoners van Jerusalem. En baie onder hulle sal struikel en val en verbreek en verstrik en gevang word.” JESAJA 8:14-15 AFR53
Hierdie profesie het weereens ‘n tweeledige betekenis, eerstens van toepassing op Juda en Israel in Jesaja se tyd en tweedens op Jesus in die Nuwe Testament. Jesus verklaar in Mattheus dat Hyself die onderwerp van hierdie profesie is.
Jesus is die Een wat gevrees moet word, Hy is 'n heiligdom vir die wat Hom soek, maar Hy sal 'n strik word om die Joodse volk wat Hom verwerp het te ontbloot.
“Jesus sê vir hulle: Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het 'n hoeksteen geword. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë? Daarom sê Ek vir julle: Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan 'n volk gegee word wat die vrugte daarvan sal dra. En hy wat op hierdie steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel.” MATTHÉÜS 21:42-44 AFR53
Paulus gebruik Jesaja se profesie om te verduidelik hoekom die Joodse volk vir Jesus verwerp het.
“Wat sal ons dan sê? Dat die heidene, wat die geregtigheid nie nagejaag het nie, die geregtigheid verkry het, naamlik die geregtigheid wat uit die geloof is; terwyl Israel, wat die wet van die geregtigheid nagejaag het, die wet van die geregtigheid nie bereik het nie. Waarom? Omdat dit nie uit die geloof was nie, maar net asof dit uit die werke van die wet was; want hulle het hul gestamp teen die steen van aanstoot. Soos geskrywe is: Kyk, Ek lê in Sion 'n steen van aanstoot en 'n rots van struikeling; en elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.” ROMEINE 9:30-33 AFR53
7 Augustus 2022
JESAJA 8:16 AFR53
“Bind die getuienis toe, verseël die wet in die hart van my leerlinge.”
Bind die getuienis toe - Jesaja wil hierdie belangrike profesie neerskryf soos sy opdrag was in Jesaja 8:1, om ‘n getuienis te wees van wat God gaan doen. Die wat die profesie lees moet dit wat hulle geleer het in hul harte bewaar en verseël.
Jesaja verklaar dat hy as die volk se verteenwoordiger op die Here sal wag tot die oordeel gebring word.
“En ek sal wag op die Here, wat sy aangesig verberg vir die huis van Jakob, en op Hom hoop.” JESAJA 8:17 AFR53
Jesaja sê vêrder dat hy en sy kinders die verhaal vertel van God se plan vir Israel, en wel deur die betekenis van hul name.
Maher-shalal-hash-baz wat beteken ‘netnou is daar buit, gou is daar roof’ vertel van Israel wat buit sal wees in ‘n oorlog en uit die land verban sal word.
Sjear Ja-sjub wat beteken ‘‘n oorblyfsel sal terugkeer’ vertel van Israel wat na sewentig jaar se ballingskap gaan terugkeer na hul land.
Jesaja beteken ‘die Here bewerk redding’ en vertel van God wat nooit Sy volk sal verlaat nie.
“Hier is ek en die kinders wat die Here my gegee het — tot tekens en sinnebeelde is ons in Israel, vanweë die Here van die leërskare wat op die berg Sion woon.” JESAJA 8:18 AFR53
Nou volg ‘n waarskuwing om nie enige geeste te raadpleeg nie. Die lewendes het glad nie nodig om enige inligting van die dooies te vra nie. Slegs God mag geraadpleeg word!
“En as hulle vir julle sê: Raadpleeg die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê, wat piep en mompel — moet 'n volk nie sy God raadpleeg nie; moet vir die lewendes die dooies gevra word?” JESAJA 8:19 AFR53
Ons hoef net terug te verwys na die wet in Eksodus 20.
“Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie. Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie.” EXODUS 20:3-4 AFR53
Jesaja beveel die volk om na die wet terug te keer. Elkeen wat weier om dit te doen, vir hom is daar geen toekoms bie.
“Tot die wet en tot die getuienis! As hulle nie spreek volgens hierdie woord nie, is hulle 'n volk wat geen dageraad het nie.” JESAJA 8:20 AFR53
Die uiteinde van hulle wat eerder die geeste raadpleeg, is om as gevangenes uit hul land weggelei te word. Hulle sal moeg en honger wees en eerder God vervloek as die geeste wat nie kon help nie. Al wat vir hulle voorlê is wanhoop en donker tye.
“Dan sal hulle deur die land trek, beswaard en honger; en as hulle honger het, sal hulle in toorn uitbreek en hulle koning en hulle God vloek; dan sal hulle na bo kyk, ook die aarde aanskou, en kyk, daar sal benoudheid en duisternis wees! In jammernag en donkerheid is hulle gedrywe.” JESAJA 8:21-22 AFR53
8 Augustus 2022
JESAJA 8:23 AFR53
“Want nie langer sal dit donker wees daar waar benoudheid is nie: in die eerste tyd het Hy die land Sébulon en die land Náftali in veragting gebring, en in die laaste tyd bring Hy tot eer die weg na die see, die oorkant van die Jordaan, die streek van die heidene.”
Die land van Sebulon - Sebulon, Naftali en Manasse, dit wil sê die land rondom die see van Galilea, was die dele wat hoofsaaklik gely het tydens die eerste Assiriese inval onder Tiglat-Pileser. Jesaja se profesie vertel wat in die ‘eerste tyd’ gebeur met Sebulon en Naftali en die gedeelte in 2 Konings bevestig sy profesie.
“In die dae van Peka, die koning van Israel, het Tiglat-Piléser, die koning van Assirië, gekom en Ijon ingeneem en Abel-Bet-Máäga en Janóag en Kedes en Hasor en Gílead en Galiléa, die hele land Náftali; en hy het hulle in ballingskap weggevoer na Assirië toe.” II KONINGS 15:29 AFR53
“Die volk wat in duisternis wandel, het 'n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het 'n lig geskyn.” JESAJA 9:1 AFR53
Die ‘in die laaste tyd’ gedeelte van die profesie neem ons na Jesus se leeringe in die Nuwe Testament. Die einste streek waar die Assiriese leërs eerste duisternis en dood gebring het, sou die keer eerste wees om die Lig te sien - Jesus wat Sy volgelinge leer.
“En toe Jesus hoor dat Johannes in die gevangenis gesit was, het Hy na Galiléa teruggegaan. En Hy het Násaret verlaat en gaan woon in Kapérnaüm aan die see, in die gebied van Sébulon en Náftali, sodat vervul sou word wat gespreek is deur Jesaja, die profeet, toe hy gesê het: Die land Sébulon en die land Náftali, na die see toe, oorkant die Jordaan, Galiléa van die heidene — die volk wat in duisternis sit, het 'n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het 'n lig opgegaan. Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” MATTHÉÜS 4:12-17 AFR53
Oestyd was 'n tyd van vrolikheid en vreugde en die insameling daarvan het gewoonlik met sang gepaard gegaan, en daarna afgesluit met 'n fees. Die frase 'voor u aangesig' verwys na die feit dat die eersteling opbrengs van die oes met danksegging voor God in die tempel aangebied is.
“U het die nasie vermenigvuldig, hulle vreugde groot gemaak; hulle is vrolik voor u aangesig soos iemand vrolik is in die oestyd, soos iemand juig as die buit verdeel word.” JESAJA 9:2 AFR53
Die komende Verlosser sal groter dade verrig as toe Gideon die oormag van die Medianiete met driehonderd man verslaan het. Hy sal die juk van die volk verbreek, en die stok waarmee hulle geslaan word verwyder.
“Want die juk wat op hulle gedruk het, en die stok wat hulle rug getref het, die roede van hulle drywer, het U verbreek soos op die dag van Mídian. Want elke soldateskoen wat daar wegstap met gedreun, en die kleed wat in bloed gerol is, dien tot verbranding, 'n prooi van die vuur.” JESAJA 9:3-4 AFR53
“En toe die driehonderd op die ramshorings blaas, het die Here die swaard van die een teen die ander gerig, ja, in die hele laer; en die laer het gevlug na Bet-Sitta, na Seréda toe, tot by die oewer van Abel-Mehóla by Tabbat.” RIGTERS 7:22 AFR53
9 Augustus 2022
JESAJA 9:5 AFR53
“Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors —”
“Vir ons is 'n Seun gebore, aan ons is 'n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.” JESAJA 9:5 AFR83
Die Koning se koms word aangekondig as die geboorte van 'n koninklike Seun, en daarom gekoppel aan die Immanuel-kind soos vroeër gesien.
“Daarom sal die Here self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel noem.” JESAJA 7:14 AFR53
‘n Kind vir ons gebore - Jesus se geboorte in Betlehem.
‘n Seun aan ons gegee - Jesus wat op Golgota aan die kruis sou sterf vir ons sondes.
Die heerskappy is op Sy skouer - Jesus wat as koning vir ewig oor ons sal regeer.
Hy word genoem - Hierdie benamings moet nie gesien word as 'n beskrywing van Sy naam nie, maar eerder Sy glorieryke aard en eienskappe.
Twee van die titels wat hierdie kind sal dra—Wonderlike Raadgewer en Vredevors—kan van toepassing wees op 'n sterflike mens. In 'n tyd toe Juda wysheid en vrede desperaat nodig gehad het, sou hierdie eienskappe gewees het wat hulle in 'n leier begeer het.
Maar, die ander twee—Magtige God en Ewige Vader—is name wat duidelik op God van toepassing is. Die Israeliete het nie verwag dat God gebore sou word en tussen hulle sou woon nie, en name en titels het altyd simboliese gewig gedra om die Israeliete te herinner aan wie hulle God was.
In die Evangelie van Johannes lees ons van die vervulling van Jesaja se profesie. Die kind wat hierdie eienskappe gedra het, is eeue later gebore, nie 'n enkele geslag later nie. En hy sou nie bloot mens wees nie, maar die menswording van die lewende God.
“En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon — en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom — vol van genade en waarheid.” JOHANNES 1:14 AFR53
In die Evangelie van Lukas verwys die engel Gabriël direk na hierdie beroemde profesie wanneer hy vir Maria van Jesus vertel.
“Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.” LUKAS 1:32-33 AFR53
Die enigste koning wat vir ewig kan regeer, is een wat vir ewig sal lewe. En die enigste een wat met reg God se titels kon dra, was God self.
Israel was op soek na 'n onmiddellike oplossing vir hul fisiese en politieke probleme. God se oplossing sou nie vir eeue kom nie, maar dit sou vir ewig duur.
10 Augustus 2022
JESAJA 9:6 AFR53
“tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen.”
Hierdie vers is gevul met taal uit die Dawidiese Verbond wat as volg verduidelik word.
Dit is 'n onvoorwaardelike verbond wat tussen God en Dawid gesluit is waardeur God aan Dawid en Israel belowe dat die Messias (Jesus Christus) uit die geslag van Dawid en die stam van Juda sou kom en 'n koninkryk sou vestig wat vir ewig sal bestaan. Die Dawidiese Verbond is onvoorwaardelik omdat God geen voorwaardes van gehoorsaamheid aan die vervulling daarvan stel nie. Die sekerheid van die beloftes wat gemaak is, berus uitsluitlik op God se getrouheid en is glad nie afhanklik van Dawid of Israel se gehoorsaamheid nie.
“As jou dae vol is en jy met jou vaders ontslaap het, sal Ek jou nakomeling wat uit jou liggaam sal voortkom, laat optree en sy koningskap bevestig.
En jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid.” II SAMUEL 7:12, 16 AFR53
En ook ‘n aantal ander Millinium uitdrukkings wat die koning se heerskappy beskryf. Alles wat die vers beskryf is nog in die toekoms.
‘vermeerdering van die heerskappy’
“Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek vir Dawid 'n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land.” JEREMIA 23:5 AFR53
‘tot vrede sonder einde’
“en Ek sal vir my volk Israel 'n plek bestel en hom plant, dat hy op sy eie plek kan woon en nie langer verontrus word nie. En kwaaddoeners sal hom nie meer verdruk soos vroeër nie, naamlik van die dag af dat Ek rigters oor my volk Israel aangestel het. Maar Ek sal jou rus gee van al jou vyande; en die Here gee jou te kenne dat die Here vir jou 'n huis sal stig.” II SAMUEL 7:10-11 AFR53
‘op die troon van Dawid en oor sy koninkryk’
“Daarna sal die kinders van Israel hulle bekeer en die Here hulle God soek en Dawid hulle koning, en met siddering aankom na die Here en na sy goedheid in die laaste van die dae.” HOSÉA 3:5 AFR53
‘om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid’
“Laat hy u volk oordeel met geregtigheid en u ellendiges met reg.” PSALMS 72:2 AFR53
“Kyk, 'n koning sal regeer in geregtigheid, en die vorste sal heers volgens reg.” JESAJA 32:1 AFR53
‘van nou af tot in ewigheid’. 2Sam 7.13; Ps 72.5;
“Hý sal vir my Naam 'n huis bou, en Ek sal sy koninklike troon bevestig tot in ewigheid.” II SAMUEL 7:13 AFR53
‘Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen’
“Want uit Jerusalem sal 'n oorblyfsel uitgaan en vrygeraaktes van die berg Sion. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen.” JESAJA 37:32 AFR53
11 Augustus 2022
JESAJA 9:7-8 AFR53
“Die Here stuur 'n woord in Jakob, en dit val in Israel; en die hele volk sal dit gewaarword, Efraim en die inwoners van Samaría, wat in trotsheid en grootsheid van hart sê:”
Jesaja se toon verander van hier af om weereens Israel se komende val uit te beeld.
Die volgende profesie word in vier dele of gedigte verdeel, en elke deel is ontwerp om 'n duidelike oordeel oor 'n spesifieke en prominente misdaad uit te beeld.
Die hele volk sal besef dat God se woorde, deur Jesaja geuiter, wel die waarheid was.
Die woord word gespreek oor Efraim en Samaria. Efraim is ‘n sinoniem vir Israel, en Samaria is die hoofstad van Efraim. Dus, die noordelike koninkryk Israel.
Eerste gedig:
Misdaad - Die volk se trots en arrogansie!
“Die bakstene het geval, maar met gekapte klip sal ons bou; die wildevyebome is afgekap, maar ons sal seders in hulle plek neem!” JESAJA 9:9 AFR53
Bakstene in Jesaja se tyd is gewoonlik van klei en strooi gemaak en het dus nie baie lank gehou nie. Die bakstene word hier figuurlik gebruik om hul trots en arrogansie uit te beeld.
Die volk besef dat hul huidige geestelike toestand vergelyk kan word met klei en strooi bakstene. Maar, in plaas daarvan om weg te draai van hul sondes en terug te gaan na God en slegs op Hom te vertrou, het die volk ‘n beter plan.
Hulle gaan in plaas van klei en strooi bakstene, eerder met klip bou. Die volk verklaar so dat hulle nie vir God nodig het nie, hulle sal self hul lewens regmaak deur net sterker stene te gebruik. Maklik - probleem opgelos! Of so dink hulle!
Songedroogde bakstene en die goedkoop hout van die wildevyeboom was die algemene materiaal wat gebruik was vir die wonings van die armes, en gekapte klippe en sederhout vir die paleise van die rykes.
Straf - die land sou deur die Siriërs en die Filistyne ingeval word.
Resin, die koning van Aram, was in ‘n koalisie met die noordelike koninkryk Israel, en dit veroorsaak hul val want God gee hul oor aan hul teëstaanders.
“Maar die Here gee aan die teëstanders van Resin die oorhand oor hulle, en hulle vyande sal Hy ophits:” JESAJA 9:10 AFR53
Volgende is Israel se beurt om deur hul vyande oorwin te word. Israel word verslind deur die Arameërs uit die ooste en die Filistyne uit die weste.
“die Arameërs van voor en die Filistyne van agter, dat hulle Israel met volle mond kan opeet. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.” JESAJA 9:11 AFR53
Die gedig eindig met ‘n refrein wat herhaal gaan word - Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.
God se woede is nog nie verby nie en daar is nog straf wat uitgedeel gaan word.
12 Augustus 2022
JESAJA 9:12 AFR53
“Die volk het hulle egter nie bekeer tot Hom deur wie hulle gestraf is nie, hulle het nie gevra na die wil van die Here die Almagtige nie.”
Tweede gedig:
Misdaad - Die volk is hardnekkig en wil hulle nie bekeer tot God wat hulle gestraf het nie, en hulle vra ook nie na God se wil nie.
“en die leiers van hierdie volk het verleiers geword, en dié van hulle wat gelei word, is op 'n dwaalweg gebring.” JESAJA 9:15 AFR53
Die leiers het die volk op ‘n verkeerde pad van verwoesting gelei. Agab hieronder is net een van die slegte voorbeelde.
“En Agab, die seun van Omri, het gedoen wat kwaad is in die oë van die Here, meer as al sy voorgangers. En dit was nog die minste dat hy in die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, gewandel het: hy het Isébel, die dogter van Et-Baäl, die koning van die Sidoniërs, as vrou geneem, en Baäl gaan dien en voor hom neergebuig,” I KONINGS 16:30-31 AFR53
Straf - God gaan die leierskap, die oudstes van die volk en die profete wat leuens profeteer summier tot niet maak.
“Daarom sny die Here van Israel af kop en stert, palmtak en biesie, op een dag. Die oudste en aansienlike, dié is die kop, en die profeet wat leuens profeteer, dié is die stert;” JESAJA 9:13-14 AFR53
Die volk se straf sou nie bly by die leierskap nie, maar selfs die weerloses sou gestraf word - die jongelinge wat vaderloos was en die weduwees - wat die omvang en erns van die oordele wat oor die nasie sou kom uitbeeld.
“Daarom sal die Here oor hulle jongmanne nie bly wees nie en Hom nie ontferm oor hulle wese en hulle weduwees nie; want hulle is almal roekelose mense en kwaaddoeners, en elke mond spreek goddeloosheid. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.” JESAJA 9:16 AFR53
Die tweede gedig eindig ook met dieselfde refrein:
Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.
13 Augustus 2022
JESAJA 9:17 AFR53
“Want die goddeloosheid brand soos vuur; dit verteer dorings en distels en steek die digte takke van die bos aan die brand, sodat hulle in 'n rookpilaar opstyg.”
Derde gedig:
Misdaad - Die mense se goddeloosheid woed soos 'n vuur en vernietig en verwoes die hele nasie.
Die vers is 'n beskrywing van die volk se heersende goddeloosheid. Die uitwerking en voorkoms daarvan word beskryf deur die beeld van 'n woedende, brandende vuur, wat oral versprei. Die vuur begin by die distels en dorings, dan verteer dit die uitgestrekte woude, totdat dit oor die land versprei, en veroorsaak dat ‘n magtige rookpilaar na die hemel opstyg.
Straf - Daar sal so 'n toestand van goddeloosheid wees, dat dit sal lei tot anargie, en twis en wedersydse vernietiging.
“Deur die grimmigheid van die Here van die leërskare staan die land in vlamme en het die volk geword soos 'n prooi van die vuur; die een spaar die ander nie.” JESAJA 9:18 AFR53
Vriende en familie sal mekaar wantrou en veg en mekaar vernietig.
“En hulle byt na regs en het honger; hulle vreet na links en word nie versadig nie; hulle eet elkeen die vlees van sy eie arm:” JESAJA 9:19 AFR53
Die twee stamme wat tot dusver die beste met mekaar oor die weg gekom het, sou nou in ‘n verwoede twis gewikkeld wees. Manasse en Efraim was die twee seuns van Josef, en hulle name word gewoonlik gebruik as ‘n uitdrukking van teerheid en vriendskap. Die vriendskap sou nou verdwyn en verander in onenigheid.
“Manasse vir Efraim, en Efraim vir Manasse, en hulle saam is teen Juda. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.” JESAJA 9:20 AFR53
Die derde gedig eindig ook met dieselfde refrein:
Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.
14 Augustus 2022
JESAJA 10:1 AFR53
“Wee hulle wat heillose insettinge tot wet maak, en die skrywers wat moeite ywerig voorskrywe,”
Vierde gedig:
Misdaad - Wee daardie regters wat onregverdige wette maak en onregverdige vonnisse vel.
Hulle vonnisse het die effek, en is ontwerp om die geregtigheid te verdraai, om die armes te onderdruk, of om hulle van hul regte en voorregte te ontneem.
“om die armes van die gereg weg te stoot en om die ellendiges onder my volk van die reg te beroof, sodat die weduwees hulle buit kan word en hulle die wese kan plunder.” JESAJA 10:2 AFR53
Straf - Jesaja vertel vir die volk wat die gevolg is van hul sondes wat in die vorige verse gelys is. ‘n Vreemde mag gaan hulle aanval en oorwin. Wie gaan hulle nou vra vir hulp en waar gaan hulle hul rykdom bêre.
“Maar wat sal julle doen op die dag van besoeking en by die verwoesting wat van ver af sal kom? Na wie sal julle vlug om hulp, en waar julle rykdom wegbêre?” JESAJA 10:3 AFR53
Daar is geen hulp vir nou nie. Die volk gaan uit hul eie land uitgedryf word en in ballingskap na ‘n vreemde land weggevoer word.
“Hulle kan net maar buig soos geboeides en val soos diegene wat gedood is. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.” JESAJA 10:4 AFR53
Die vierde en laaste gedig eindig ook met dieselfde refrein:
Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar sy hand is nog uitgestrek.
15 Augustus 2022
JESAJA 10:5 AFR53
“Wee Assur! die roede van my toorn en 'n stok is hy — in hulle hand is my grimmigheid!”
Wee Assur, of in vandag se taal, ellende wag vir Assirië. God gaan Assirië gebruik om Israel, vir wie Hy woedend is, te straf.
Israel, die noordelike koninkryk, word in Jesaja se profesie as ‘n roekelose nasie omskryf. God gaan Assirië teen Israel stuur, om hulle te beroof en te plunder en te vertrap soos modder.
“Ek sal hom stuur teen 'n roekelose nasie, en Ek sal hom bevel gee teen die volk van my grimmigheid, om buit te maak en roof in te samel en om hulle tot 'n vertrapping te maak soos modder van die strate.” JESAJA 10:6 AFR53
God is in beheer van konings en hul koninkryke en Hy gebruik hulle soos Hy wil.
“Die koning se hart is in die hand van die Here soos waterstrome: Hy lei dit waarheen Hy wil.” SPREUKE 21:1 AFR53
Die koning van Assirië sal nie weet dat hy deur God gebruik word nie. Hy sal dink dat die hele inval deel is van sy eie plan om die wêreld te verower.
“Maar hý bedoel dit nie so nie, en sy hart dink nie so nie; maar om te verdelg, is in sy hart, en om nasies uit te roei, nie min nie.” JESAJA 10:7 AFR53
Die koning van Assirië sal dink hy is magtig en sterk soos hy die een land na die ander verower. Hy sal selfs so vêr gaan om te sê dat hy koninkryke verwoes het wie se gode veel sterker is as Jerusalem en Samaria se ‘gode’ en sodoende God as blote afgod beskou.
“Want hy sê: Is my vorste nie almal saam konings nie? Het dit met Kalno nie gegaan soos met Kárkemis, met Hamat soos met Arpad, met Samaría soos met Damaskus nie? Soos my hand die koninkryke van die afgode bereik het, alhoewel hulle gesnede beelde meer was as dié van Jerusalem en Samaría, sou ek nie, soos ek aan Samaría en sy afgode gedoen het, net so aan Jerusalem en sy afgode kan doen nie?” JESAJA 10:8-11 AFR53
God praat nog steeds deur Jesaja en gee hier ‘n opsomming. Wanneer Assirië sy ‘taak’ deur God gegee, voltooi het, dan sal God Assirië straf vir hul trotsheid en arrogansie.
“Maar as die Here al sy werk voltooi het op die berg Sion en in Jerusalem, dan sal Ek besoeking doen oor die vrug van die grootsheid van die hart van Assirië se koning en oor die gepraal van sy hoë oë.” JESAJA 10:12 AFR53
Ek, ek, ek is die groot sonde hier. Ek is sterk en ek is wys en ek is verstandig en omdat ek so oulik is het ek al hierdie lande verower en geplunder.
“Want hy sê: Deur die krag van my hand het ek dit gedoen en deur my wysheid, want ek is verstandig; en die grense van die volke het ek verwyder, en hulle voorrade het ek geplunder; en die wat op trone sit, het ek soos 'n maghebber neergewerp. En my hand het na die rykdom van die volke gegryp soos na 'n voëlnes, en ék het die hele aarde bymekaargeskraap soos 'n mens eiers bymekaarskraap wat verlaat is; en daar was niemand wat 'n vlerk verroer of 'n bek oopgemaak of gepiep het nie.” JESAJA 10:13-14 AFR53
16 Augustus 2022
JESAJA 10:15 AFR53
“Kan die byl hom beroem teen die wat daarmee kap, of die saag spog teen hom wat dit trek? Asof 'n staf húlle swaai wat hom ophef, asof 'n stok hóm ophef wat nie hout is nie!”
Hoe absurd is dit vir jou, wat maar 'n instrument in God se hand is, om jou Heer en Meester te laster, wat net so groot mag oor jou het, soos 'n man het oor die byl waarmee hy kap.
Die Here van die leërskare, sal die koning van Assirië en al sy vorste van hulle rykdom en mag en heerlikheid ontneem en hul besittings verteer deur ‘n vuur wat aanhoudend brand.
“Daarom sal die Here Here van die leërskare onder sy vettes 'n maerte stuur; en onder sy heerlikheid sal Hy 'n brand laat uitslaan soos die brand van vuur.” JESAJA 10:16 AFR53
Die Lig van Israel sal ‘n vuur wees - God self sal deur Sy mag en Sy oordeel die koning van Assirië en sy manskappe vernietig. Soos droë dorings en distels nie die werking van hitte kan weerstaan nie, so seker en vinnig sou die leërs van Sanherib voor die aangesig van God vernietig word;
“En die Lig van Israel sal 'n vuur wees, en sy Heilige 'n vlam; en dit sal sy distels en sy dorings verbrand en verteer op een dag.” JESAJA 10:17 AFR53
In een dag sou die ganse leër vernietig word. Ons lees in ‘n latere hoofstuk van Jesaja hoe ‘n engel van die Here uitgetrek het en in die laer van Assirië oornag 185,000 verslaan het. Sanherib, die koning van Assirië is later deur sy seuns doodgemaak.
“Toe het die engel van die Here uitgetrek en in die laer van Assirië honderd-vyf-en-tagtigduisend verslaan. En toe hulle die môre vroeg hul klaarmaak — was dit almal dooie liggame. En Sánherib, die koning van Assirië, het opgebreek en weggetrek en teruggegaan en in Ninevé gebly. En toe hy hom neerbuig in die tempel van sy god Nisrog, het sy seuns Adramméleg en Saréser hom met die swaard neergeslaan. Maar hulle het ontvlug na die land Árarat; en sy seun Esar-Haddon het koning geword in sy plek.” JESAJA 37:36-38 AFR53
“Assirië se groot leër wat beskryf word soos ‘n woud vol bome en vrugbare landerye, sal met wortel en tak uitgeroei word.
“Ook sal Hy die heerlikheid van sy bos en van sy vrugteboord verteer, van die siel af tot die vlees toe, sodat dit is soos wanneer 'n kranke wegkwyn.” JESAJA 10:18 AFR53
So min van die weermag sal oorbly dat selfs ‘n kind hulle sal kan tel.
“En die oorblyfsel van die bome van sy bos sal min in getal wees, en 'n seuntjie sal hulle kan opskrywe.” JESAJA 10:19 AFR53
17 Augustus 2022
JESAJA 10:20 AFR53
“En in dié dag sal die oorblyfsel van Israel en die wat ontvlug het van die huis van Jakob, nie meer voortgaan om te steun op hom wat hulle slaan nie; maar hulle sal steun op die Here, die Heilige van Israel, in opregtheid.”
Die oorblyfsel van Israel sal nie meer op Assirië staatmaak nie, maar hulle sal slegs steun op die God van Israel.
Jesaja se visioen het ook ‘n verder in die toekoms betekenis met die woorde ‘en in die dag’ wat betrekking het op die Groot Verdrukking.
Met die finale vernietiging van die nie-Joodse wêreldmag tydens die wederkoms van Jesus sal die Joodse oorblyfsel slegs steun op die Here, die Heilige van Israel!
“Die oorblyfsel sal terugkom, die oorblyfsel van Jakob na die sterke God toe.” JESAJA 10:21 AFR53
Al was Israel so groot soos die sand van die see, net ‘n klein gedeelte, ‘n oorblyfsel, sal terugkeer.
“Want al was jou volk, o Israel, soos die sand van die see, net 'n oorblyfsel van hulle sal terugkom; die verdelging is vas besluit en vloei oor van geregtigheid.” JESAJA 10:22 AFR53
Terug in die Ou Testament lees ons in Esra dat slegs ‘n klein groep mense, elkeen wie se gees God opgewek het om te trek, teruggekeer het na Jerusalem. Die mense wat nie saamgetrek het nie, moes aan die wat getrek het goud, silwer, voorraad en geskenke gegee het om te help met die bou van die tempel.
“Toe het die familiehoofde van Juda en Benjamin klaargemaak, en die priesters en die Leviete — elkeen wie se gees God opgewek het om op te trek, om die huis van die Here wat in Jerusalem is, te bou. En almal wat rondom hulle was, het hul hande versterk met silwervoorwerpe, met goud, met goed en vee en kosbare geskenke, behalwe alles wat hulle as vrywillige gawe aangebring het.” ESRA 1:5-6 AFR53
God het besluit om Israel te straf en daarom sou dit so gebeur.
“Want 'n verdelging wat vas besluit is, sal die Here Here van die leërskare voltrek in die midde van die hele aarde.” JESAJA 10:23 AFR53
18 Augustus 2022
JESAJA 10:24 AFR53
“Daarom, so sê die Here Here van die leërskare: o My volk wat in Sion woon, wees nie bevrees vir Assur wat jou met die staf slaan en sy stok teen jou ophef op die manier van Egipte nie.”
Hier keer Jesaja terug na die hoofonderwerp van hierdie profesie, en dit is om die mense van Jerusalem te troos met die versekering dat die leër van Assirië vernietig sal word.
Met ‘O my volk’ gee Jesaja ‘n uiting van teerheid, wat wys dat God die volk nog as sy kinders beskou het, nieteenstaande die oordele wat Hy oor hulle sou bring.
‘wat in Sion woon’ dui letterlik op die berg Sion, maar hier bedoel, die hele stad Jerusalem.
Wees nie bevrees nie! Assirië sal jul wel met die staf en sy stok slaan, maar ook dit sal verby gaan.
Die aard van Assirië se onderdrukking sal wees soos dié wat die volk in Egipte onder die Farao beleef het. Die straf sal erg en swaar wees, maar God sal die volk verlos, en daarna vir Assirië straf.
“Want nog 'n baie kort rukkie, dan is die grimmigheid ten einde, en my toorn gaan uit om húlle te vernietig.” JESAJA 10:25 AFR53
Net soos Gideon die Midianiete met net drie honderd man verslaan het, en soos die Egiptenaars in die see verdrink het toe Moses met sy staf geslaan het, so sal God die Assiriërs verslaan.
“En die Here van die leërskare sal oor hom die gésel swaai soos Mídian verslaan is by die rots Oreb; en sy staf sal wees oor die see, en Hy sal dit ophef op die manier van Egipte.”JESAJA 10:26 AFR53
God sal die gevangenskap van sy volk beëindig en Hy sal die juk van slawerny van hulle skouers aftel en dit stukkend breek.
“En in dié dag sal sy las afgly van jou skouer en sy juk van jou nek, en die juk sal tot niet raak vanweë die vettigheid.” JESAJA 10:27 AFR53
19 Augustus 2022
JESAJA 10:28 AFR53
“Hy oorval Ajat; hy trek deur Migron; in Migmas laat hy sy pakgoed agterbly.”
Hierdie profesie gee vir ons sekere geografiese liggings,
almal noord van Jerusalem, en dit toon die roete wat die Assiriërs geneem het, om die noordelike koninkryk in te val.
Soos die Assiriës die dorpe inval, vlug die inwoners na Jerusalem. “Hulle trek oor die nek. Laat Geba ons nagverblyf wees! Rama bewe, Gíbea van Saul vlug.” JESAJA 10:29 AFR53 Jerusalem was die moederstad, en kleiner dorpe was gewoonlik haar dogters genoem. “Skreeu dit uit, dogter van Gallim! Luister, Lais! Arme Ánatot!” JESAJA 10:30 AFR53 As ons na die kaart kyk, kan ons sien hoe die Assiriese magte vanuit die noorde, suidwaarts getrek het en die dorpies een vir een oorwin het. Die dorpie Nob was glo so naby dat hulle Jerusalem kon sien. “Madména vlug, die inwoners van Gebim soek skuiling! Nog vandag staan hy in Nob, hy swaai sy hand teen die berg van die dogter van Sion, teen die heuwel van Jerusalem!” JESAJA 10:31-32 AFR53 Maar kyk, die Here ... Jesaja het in die vorige verse die opmars van die Assiriërs na Jerusalem beskryf, dorp vir dorp. Hy het hulle weermag in sy beskrywing gevolg totdat hulle in volle sig van Jerusalem was. Jesaja het die vrees beskryf wat in al die kleiner dorpe gevoel is. Niks kon voor die Assiriese weermag bly staan nie. En nou, in die gloed van sukses, en vol vertroue dat Jerusalem sou val, staan Assirië voor die heilige stad. Maar, hier kondig die profeet aan dat die koning van Assirië se loopbaan sou eindig en hier moet sy arms afgekap word. Jerusalem sou nog veilig wees! Dit is die doel van die profesie, om die inwoners van Jerusalem te troos met die versekering dat hulle steeds veilig sal wees. “Maar kyk, die Here Here van die leërskare slaan met skrikwekkende geweld die takke af, en die hoog uitgegroeides word omgekap en die verhewenes neergegooi;” JESAJA 10:33 AFR53 Soos 'n woud met 'n byl afgekap word, so sal die vyand vernietig word - God self sal vir die val verantwoordelik wees. “en Hy sal die digte takke van die bos met die yster omkap, en die Líbanon sal val deur die Heerlike.” JESAJA 10:34 AFR53 Die leër van Assirië is toe vernietig deur ‘n engel van die Here. “En in dieselfde nag het die engel van die Here uitgetrek en in die laer van die Assiriërs honderd-vyf-en-tagtigduisend verslaan; en toe hulle die môre vroeg hul klaarmaak — was dit almal dooie liggame!” II KONINGS 19:35 AFR53
20 Augustus 2022
JESAJA 11:1 AFR53
“Maar daar sal 'n takkie uitspruit uit die stomp van Ísai, en 'n loot uit sy wortels sal vrugte dra;”
Hoofstuk 11 gee vir ons ‘n belangrike profesie oor die Millenium tydperk en die werking van die koninkryk van Jesus Christus.
‘n Takkie sal uitspruit - In die vorige hoofstuk was die Assiriese leër besktyf as ‘n sterk en digte woud in al sy glorie en grootsheid. In teenstelling daarmee word die hoofkarakter van hierdie hoofstuk beskryf as ‘n takkie wat uit die wortel van ‘n omgevalle boom uitspruit. ‘n Uiters treffende kontras. Die een was eers manjifiek - soos 'n uitgestrekte woud - maar sou binnekort val en verval; die ander was die spruitjie van 'n vervalle boom, wat nog moes opstaan, uitbrei en floreer.
“Want vir 'n boom is daar verwagting: as dit afgekap word, loop dit weer uit en sy loot ontbreek nie. As sy wortel oud word in die aarde en sy stam sterf in die stof — van die reuk van die water spruit dit weer uit, en dit maak 'n tak soos 'n jong plantjie.” JOB 14:7-9 AFR53
Uit die stomp van Isai - die vader van Dawid. Dit beteken dat hy van wie hier gepraat word, uit die familie van Isai of Dawid moet wees.
Die prentjie wat hier geskep word is so mooi. Dawid se familie geskiedenis was nie juis iets om van te praat nie. Die ou en baie geëerde familie van Dawid het in verval gegaan, en die moeder van Jesus, alhoewel sy deel was van Dawid se familie, was arm en onbekend. Die heerlikheid van die eens beroemde familie het verdwyn.
Maar daaruit, soos uit 'n lang vervalle wortel in die grond, sou Hy spruit wat die familie sou herstel tot meer as sy antieke glorie, en bykomende glans op die geëerde naam van Isai werp.
En 'n loot - (netzer). 'n Takkie, tak of loot; 'n loot van 'n boom, gekies om uitgeplant te word, en wat met spesiale sorg dopgehou moet word.
Die Hebreeuse woord netzer wat hier vir loot gebruik word, sluit aan by die naam wat aan Jesus gegee is in Mattheus 2:23 ‘die Nasarener’.
“En hy het gaan woon in 'n stad met die naam van Násaret, sodat vervul sou word wat deur die profete gespreek is, dat Hy Nasaréner genoem sou word.” MATTHÉÜS 2:23 AFR53
‘n Loot uit sy wortels sou vrugte dra - ‘n Seun van Isai sou ‘n koning word en uit sy nageslag sal ‘n ewige Koning voortspruit.
“Hy tog het soos 'n loot voor sy aangesig opgespruit en soos 'n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.” JESAJA 53:2 AFR53
“En Jesaja sê ook: Die wortel van Ísai sal daar wees, en Hy wat opstaan om oor die nasies te heers, op Hom sal die nasies hoop.” ROMEINE 15:12 AFR53
“Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek.” OPENBARING 5:5 AFR53
21 Augustus 2022
JESAJA 11:2 AFR53
“en op Hom sal die Gees van die Here rus, die Gees van wysheid en verstand, die Gees van raad en sterkte, die Gees van kennis en van die vrees van die Here.”
In die vorige vers het die profeet die toekomstige Koning se oorsprong en geboorte aangekondig. Nou gaan hy voort om Sy buitengewone eienskappe te beskryf, wat by uitstek heilig, rein en wys is. Daar kan geen twyfel wees dat hier verwys word na die Heilige Gees, die derde persoon van die heilige Drie-eenheid.
“En die Kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees en vol van wysheid. En die genade van God was op Hom.” LUKAS 2:40 AFR53
“En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos 'n duif neerdaal en op Hom kom. En daar kom 'n stem uit die hemele wat sê: Dit is my geliefde Seun in wie Ek 'n welbehae het.” MATTHÉÜS 3:16-17 AFR53
Die eienskappe van die Heilige Gees word hier gelys en in Openbaring gedurig na verwys.
1. Die Gees van die Here
2. Die Gees van wysheid
3. Die Gees van verstand
4. Die Gees van raad
5. Die Gees van sterkte
6. Die Gees van kennis
7. Die Gees van vrees van die Here
“Johannes aan die sewe gemeentes in Asië: Genade vir julle en vrede van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste wat voor sy troon is,” OPENBARING 1:4 AFR53
“En skryf aan die engel van die gemeente in Sardis: Dít sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood.” OPENBARING 3:1 AFR53
“En daar het weerligte en donderslae en stemme uit die troon uitgegaan, en sewe vuurfakkels wat die sewe Geeste van God is, het voor die troon gebrand;” OPENBARING 4:5 AFR53
“En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar 'n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde.” OPENBARING 5:6 AFR53
22 Augustus 2022
JESAJA 11:3 AFR53
“En Hy het 'n welgevalle aan die vrees van die Here; en Hy sal nie regspreek na wat sy oë sien nie, en nie oordeel na wat sy ore hoor nie;”
Die Messias sal tydens die Millenium as koning regeer en op die regsbank ‘n regverdige regter wees. Hy sal vreugde daarin vind om God te gehoorsaam. Hy sal nie regsprake lewer volgens uiterlike skyn of op vals getuienis of hoorsê nie. Hy sal die armes en die verdruktes beskerm en hul kwaadwillige vyande veroordeel.
“maar aan die armes sal Hy in geregtigheid reg doen en die sagmoediges van die land met billikheid oordeel; maar Hy sal die aarde slaan met die roede van sy mond en met die asem van sy lippe die goddelose doodmaak.” JESAJA 11:4 AFR53
Reg en geregtigheid sal seëvier. Soveel anders as waaraan ons huidiglik gewoond is, maak nie saak waar in die wêreld ons woon nie. Waarlik iets om na uit te sien!
“En geregtigheid sal die gordel van sy lendene en trou die gordel van sy heupe wees.” JESAJA 11:5 AFR53
Die toekomstige heerskappy van Jesus sal gekenmerk word deur vrede tussen diere sowel as mense. Die mees gewelddadige wesens in die skepping sal in vrede lewe met die mees kwesbares.
“Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en 'n klein seuntjie sal hulle aanja.” JESAJA 11:6 AFR53
Diere wat van nature nie saam woon nie, waar die een van nature die prooi van die ander sou wees, sal saam woon - 'n beeld van veiligheid en vrede. Dit wat op 'n ander tyd baie gevaarlik sou wees, sal veilig wees in die dae van die Messias, want die slang sal die kind geen kwaad doen nie.
“Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van 'n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van 'n basilisk.” JESAJA 11:7-8 AFR53
Die vloek wat in Genesis oor die mens, die diere en die aarde uitgespreek is, word in die Millenium gelig om totale vrede oor die aarde te bring.
“Toe sê die Here God aan die slang: Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe. En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt. Aan die vrou het Hy gesê: Ek sal grootliks vermeerder jou moeite en jou swangerskap; met smart sal jy kinders baar; en na jou man sal jou begeerte wees, en hý sal oor jou heers. En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie — vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring; en jy sal die plante van die veld eet. In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.” GÉNESIS 3:14-19 AFR53
23 Augustus 2022
JESAJA 11:9 AFR53
“Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek.”
Die gesindheid van mense, van nature wreed, sal so heeltemal verander word dat die oorsake van twis en nyd sal ophou. Hulle sal eerder geneig wees om reg te laat geskied, en om mekaar se welsyn oral te bevorder.
Die heilige berg is die berg Sion. Hier, soos elders, word die berg gebruik om die setel van die Messias se heerskappy op aarde aan te dui.
“Die Here is groot en baie lofwaardig in die stad van onse God, sy heilige berg! Skoon deur sy verhewenheid, die vreugde van die hele aarde is die berg Sion, aan die noordekant, die stad van die groot Koning!” PSALMS 48:2-3 AFR53
In die Millenium sal ALMAL op die aarde die Here en Sy weë ken.
Nadat Jesaja die Messias se geboorte beskryf het, Sy persoonlike kenmerke uitgespel het en Sy koninkryk se werking beskryf het, gaan hy nou voort om die resultaat van daardie heerskappy verder te omskryf.
Die heidene sal onder die Messias se heerskappy gebring word.
“En in dié dag sal die nasies vra na die wortel van Ísai, wat daar staan as 'n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees.” JESAJA 11:10 AFR53
Paulus gebruik Jesaja se profesie om sy leringe te ondersteun.
“En Jesaja sê ook: Die wortel van Ísai sal daar wees, en Hy wat opstaan om oor die nasies te heers, op Hom sal die nasies hoop.” ROMEINE 15:12 AFR53
Paulus leer ons dat God se plan heeltyd was vir beide die Jode en die heidene om tot geloof in Christus te kom. Daardie profesieë het dalk nie uitdruklik uitgespel hoe dit sou gebeur nie, maar Paulus is gretig dat sy lesers moet sien dat die profesieë altyd daarop gewys het dat die heidene by die lof van God ingesluit is.
Die ‘wortel van Isai’ verwys na die afstammeling van Isai wat sal opstaan om oor Israel en al die nie-Joodse nasies te regeer. Dit is 'n profesie oor die koms van Israel se beloofde Messias. Die heidene sal egter nie bloot die dienaars van die Messias word nie. Die vers eindig met die stelling dat hulle op Hom sal hoop.
Paulus verbind daardie Skrif aan die waarheid dat Christus, die Here van alle volke geword het, en die heidene wat na God toe kom deur geloof in Christus het hulle hoop op Hom geplaas vir hulle redding. Paulus se kern is dat Jesus die vervulling is van al hierdie Ou-Testamentiese geskrifte vir beide Israel en die nie-Joodse nasies.
24 Augustus 2022
JESAJA 11:11 AFR53
“En in dié dag sal die Here weer vir die tweede keer sy hand uitstrek, om die oorblyfsel van sy volk los te koop wat sal oorbly uit Assirië en Egipte en Patros en Kus en Elam en Sínear en Hamat en uit die kuslande van die see;”
‘Een dag sal die Here weer’ - dui op ‘n dag in selfs ons toekoms en wel op Jesus se tweede koms.
Op die dag in die toekoms sal God vir ‘n tweede keer ‘n oorblyfsel van Sy volk help!
Die Messias sal Sy volk weer bymekaarmaak uit al die verskillende nasies waar hulle in ballingskap gewoon.
“en Hy sal 'n banier ophef vir die nasies en bymekaar laat kom die seuns van Israel wat verdryf is, en versamel die dogters van Juda wat verstrooi is, uit die vier hoeke van die aarde.” JESAJA 11:12 AFR53
Efraim is ‘n versamelnaam vir die noordelike koninkryk en Juda natuurlik die suidelike koninkryk. Israel sal nie meer twee koninkryke wees wat jaloers op, en bevrees is vir mekaar nie, maar een nasie wat in vrede met mekaar leef, sonder enige vyande, want die is uitgeroei.
“Dan sal die naywer van Efraim verdwyn, en die teëstanders van Juda sal uitgeroei word; Efraim sal Juda nie beny nie, en Juda sal Efraim nie benoud maak nie.” JESAJA 11:13 AFR53
Die Here sal al Israel se vyande vernietig - deel van die uitgestrekte hand waarmee Sy volk beskerm word.
“Maar hulle sal die Filistyne op die skouer vlieg teen die weste en saam die kinders van die Ooste plunder; Edom en Moab is die buit van hulle hand, en die kinders van Ammon is hulle onderdanig. En die Here sal die seetong van Egipte met die banvloek tref en deur sy gloeiende wind sy hand oor die Eufraat swaai en dit uitmekaar slaan in sewe strome, sodat 'n mens met skoene daardeur kan loop.” JESAJA 11:14-15 AFR53
God sal ‘n ‘hoofweg’ voorberei vir die oorblyfsel van Sy volk, om sodoende terug te keer na hul vaderland, Israel.
“En daar sal 'n grootpad wees vir die oorblyfsel van sy volk wat oorbly uit Assur, soos daar een gewees het vir Israel op die dag toe hulle uit Egipteland opgetrek het.” JESAJA 11:16 AFR53
God sal sorg vir Sy volk net soos Hy gedoen het toe Hy hulle destyds uit Egipteland verlos het met ‘n uitgestrekte arm.
“Daarom, sê aan die kinders van Israel: Ek is die Here, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, en Ek sal julle verlos deur 'n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte;”. EXODUS 6:5 AFR53
25 Augustus 2022
JESAJA 12:1 AFR53
“En in dié dag sal jy sê: Ek dank U, Here, dat U toornig op my gewees het; u toorn is afgewend, en U het my vertroos.”
Jesaja 11-12 spel ‘n kern karaktereienskap van God uit. Hy gee nooit moed op nie. Niks is ooit verlore waar Hy ingryp nie. Selfs wanneer Hy oordeel, oordeel Hy om te suiwer. Daar bly altyd ‘n oorblyfsel!
Daarom dat hoofstuk 12 opvolg met die loflied van die oorblyfsel wat deur God verlos is. Hulle sal elkeen op die dag van verlossing sing.
“Ja, God is my heil, ek sal vertrou en nie vrees nie; want die Here Here is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword.” JESAJA 12:2 AFR53
Almal sal die lewende water van die Heilige Gees met vreugde in hul harte skep.
“En julle sal water skep met vreugde uit die fonteine van heil.” JESAJA 12:3 AFR53
Dié blye boodskap sal weereens uitgebasuin word vir alle volke, want dit is wat God wil hê sy volk se bestaansdoel moet wees, om Sy lof aan alle mense te bring.
“En julle sal in dié dag sê: Dank die Here, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend, verkondig dat sy Naam hoog is!” JESAJA 12:4 AFR53
Loof en prys God met sang vir Sy goedheid en Sy guns sodat almal op aarde daarvan bewus kan wees.
“Psalmsing tot eer van die Here, want Hy het heerlike dinge gedoen; laat dit bekend wees op die hele aarde.” JESAJA 12:5 AFR53
Moet nie net sing nie, maar juig en jubel, almal wat God ken, want die Heilige van Israel is in jul midde.
“Juig en jubel, o inwoners van Sion! Want die Heilige van Israel is groot in julle midde.” JESAJA 12:6 AFR53
Comments