top of page
  • Regina Torre

Jesaja - Hoofstuk 63 tot 66

Updated: Jul 3, 2023


17 Junie 2023


JESAJA 63:1a AFR53

“Wie is dit wat daar aankom uit Edom, ………….”


Wat weet ons van Edom?


Isak (Abraham se seun) se vrou Rebekka is swanger en daar is so ‘n gewoel in haar maag dat sy God radeloos raadpleeg oor wat besig is om met haar te gebeur. - “En die Here het haar geantwoord: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien.”   GÉNESIS 25:23 AFR53


‘n Tweeling, Esau en Jakob word gebore en so begin die stryd. As jong mans verkoop Esau sy eersgebore reg aan Jakob vir ‘n pot rooi lensiesop. Hul vader Isak spreek net voor sy dood die eersgebore seun se seën oor Jakob uit, want hy is gekul en dink hy praat met Esau. Die enigste seën wat hy vir Esau oor het, gee hy vir hom. - “En van jou swaard sal jy lewe, en jou broer sal jy dien. Maar as jy jou kragte inspan, sal jy sy juk van jou nek afruk.”   GÉNESIS 27:40 AFR53


Die nasie Edom het bestaan al van ​​voordat die Israeliete Egipte verlaat het, en God het die Israeliete beveel om nie te probeer om die land van die Edomiete af te neem gedurende hul trek nie, want Hy het die land aan Esau gegee. - “begeef julle nie in die oorlog teen hulle nie, want Ek sal julle van hulle land selfs nie 'n voetbreed gee nie; want Ek het aan Esau die gebergte Seïr as 'n besitting gegee.”   DEUTERONÓMIUM 2:5 AFR53


Moses het vir God geluister en vir die koning van Edom toestemming gevra om deur hul grondgebied te trek, maar die koning van Edom weier om hul toegang te gee. - “So het Edom dan geweier om Israel toe te laat om deur sy grondgebied te trek. Daarop het Israel van hom af weggedraai.”   NÚMERI 20:21 AFR53


Van hierdie punt af in die Bybel word Edom genoem as Israel se vyand, en die twee nasies baklei gereeld.


Tydens die bewind van Joram het Edom teen Juda in opstand gekom en hul eie onafhanklike koning aangestel. -  “In sy dae het die Edomiete van Juda afvallig geword en 'n koning oor hulle aangestel.”   II KONINGS 8:20 AFR53


Die Edomiete was steeds 'n probleem vir die Israeliete en het selfs Juda ingeval nadat dit in die hande van die Babiloniërs geval het. - “So sê die Here Here: Omdat Edom wraaksugtig gehandel het teen die huis van Juda en hom baie skuldig gemaak het en hom op hulle gewreek het —”.  ESÉGIËL 25:12 AFR53


As gevolg van Edom se sonde met die inval van Juda en hul behae in Israel se val tydens die Babiloniese ballingskap, het God ‘n oordeel oor Edom uitgespreek. -  “Oor Edom. So sê die Here van die leërskare: Is daar geen wysheid meer in Teman nie? Ontbreek raad by die verstandiges? Is hulle wysheid uitgeput? Want Ek het Esau ontbloot, Ek het sy skuilplekke oopgemaak, sodat hy hom nie kan wegsteek nie; sy geslag is verwoes, ook sy broers en sy bure, en hy is daar nie. Want Ek het by Myself gesweer, spreek die Here, dat Bosra 'n voorwerp van verbasing, van smaad, 'n woestheid en 'n vervloeking sal word; en al sy stede sal ewige puinhope wees.”   JEREMIA 49:7, 10, 13 AFR53


God het verklaar dat Edom 'n woestyn sou wees, wat slegs deur wilde diere beset word. - “Ek het julle liefgehad, sê die Here. Nogtans vra julle: Waarin het U ons liefgehad? Is Esau nie die broer van Jakob nie? spreek die Here. Tog het Ek Jakob liefgehad, maar Esau het Ek gehaat en sy gebergte 'n wildernis gemaak en sy erfdeel aan die jakkalse van die woestyn prysgegee. As Edom sê: Ons is wel verwoes, maar ons sal die puinhope weer opbou — dan sê die Here van die leërskare dit: Laat hulle bou, Ek breek dit tog af; en die mense sal hulle noem: Grondgebied van goddeloosheid, en: Die volk waarop die Here vertoornd is tot in ewigheid!” MALEÁGI 1:2-4 AFR53


 

18 Junie 2023


JESAJA 63:1a+b AFR53

“Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? ………..”


Wat maak Bosra belangrik?


Bozra (Hebreeus) of Petra (Grieks) beteken skaapkraal of vesting en is die hoofstad van Edom.


Johannes leer ons in Openbaring dat God Sy volk in die woestyn gaan bewaar en onderhou, uit die gesig van die slang, vir ‘n tydperk van tyd, tye en ‘n halwe tyd - drie en ‘n halwe jaar.


“maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, 'n tyd en tye en 'n halwe tyd.” OPENBARING 12:14 AFR53


Weereens kom God tot Sy volk se redding.


.......... maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.”   DANIËL 12:1b AFR53


Net soos die Israeliete van ouds wat uit Egipteland uit die slawehuis uitgetrek het en in die woestyn geskuil het terwyl God gesorg het vir manna uit die hemel, so gaan God weer Sy volk op arendsvlerke na die woestyn bring om vir hulle te sorg.


“Julle het self gesien wat Ek aan die Egiptenaars gedoen het, en dat Ek julle op arendsvlerke gedra en julle na My toe gebring het.”   EXODUS 19:4 AFR53


Die plek waar God se volk gaan skuil is in die dorp Petra in die suide van Jordanië. Ons kry die inligting van die profeet Miga.


“Ek sal julle almal bymekaarmaak, Jakob, Ek sal dié vergader wat van Israel oorgebly het, Ek sal hulle bymekaarbring soos skape in 'n kraal, soos 'n groot kudde in die weiveld, die wêreld sal dreun van mense.”  MIGA 2:12 AFR83


Ondanks die beskerming van God, doen die vyand alles in sy vermoë om Israel te vernietig. Die draak gebruik selfs water om Israel in 'n vloed te laat verdrink.


“En die slang het uit sy bek water soos 'n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier.”   OPENBARING 12:15 AFR53


Petra het al meer as een keer in die verlede vloede ondervind wanneer dit baie reen. ‘n Vloed soos in die vers uitgebeeld deur die strate van Petra in die toekoms is dus nie uitgesluit nie.


God is egter byderhand om Sy volk te beskerm teen die aanslae van die duiwel. Die aarde maak sy mond oop om die water in te sluk en die land op te droog. ‘n Aardbewing veroorsaak dus ‘n skeur om die water af te keer.


“En die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier opgesluk, wat die draak uit sy bek uitgegooi het.”  OPENBARING 12:16 AFR53


 

19 Junie 2023


JESAJA 63:1 AFR53

“Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag? Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos.”


Vraag 1:  Wie is dit wat uit Edom aankom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy wat pragtig is in Sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van Sy krag?


Antwoord 1:  Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos!


Vraag 2:  “Waarom is u gewaad so rooi, en u klere soos dié van een wat die wynpers trap?”   JESAJA 63:2 AFR53


Antwoord 2:  “Ek het die pers alleen getrap, en van die volke was niemand by My nie; en Ek het hulle getrap in my toorn en hulle vertrap in my grimmigheid, sodat hulle lewensap op my klere gespat en Ek my hele gewaad bevlek het.”   JESAJA 63:3 AFR53


Die sesde engel in Openbaring laat sy sekel oor die aarde gaan en oes die wingerdstok heeltemal af.

“En die engel het sy sekel oor die aarde laat gaan en die wingerdstok van die aarde afgeoes en dit gegooi in die groot parskuip van die grimmigheid van God.”   OPENBARING 14:19 AFR53


Wat gebeur met die wingerdstokke wat afgeoes is? Dit word als gegooi in die groot parskuip van die grimmigheid van God soos Jeremia geprofeteer het.


“Jy moet dan al hierdie woorde vir hulle profeteer en aan hulle sê: Die Here sal brul uit die hoogte en sy stem verhef uit sy heilige woning! Geweldig sal Hy brul oor sy woonplek; soos druiwetrappers sal Hy 'n vreugdegeroep aanhef teen al die inwoners van die aarde.”   JEREMIA 25:30 AFR53


Openbaring leer ons ook dat Jesus bekleed is met ‘n kleed wat in bloed gedoop is. Hierdie is nie die bloed van Jesus se kruis nie, nee, hierdie is die bloed van Jesus se vyande.


“En Hy was bekleed met 'n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God.”   OPENBARING 19:13 AFR53


Jesaja verduidelik vir ons nou wat gebeur. Met Jesus se tweede koms is Sy eerste stop in Bosra (Petra) waar Sy volk (die Joodse volk) beskerm word, en Jesus se oordeel begin hier. Van hier af is Jesus se volgende stop, Jerusalem.


Jesus kom terug aarde toe, voorbereid vir die geveg en om as Koning te regeer. Heeltemal die teenoorgestelde van Sy eerste koms waar Sy doelwit was om redding te verkondig en om barmhartigheid en vergifnis te betoon. Jesus se wederkoms sal wees om te oordeel en om te regeer.


“En uit sy mond gaan daar 'n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.”   OPENBARING 19:15 AFR53


 

20 Junie 2023


JESAJA 63:4 AFR53

“Want die dag van wraak was in my hart, en die jaar van my verlossing het gekom.”


Met Jesus se wederkoms sal Hy alleen, sonder hulp, die volke vertrap in Sy toorn. Dit herinner ons daaraan dat hierdie oordeelswerk aan Jesus Christus en Hom alleen behoort.


“En Ek het uitgekyk, maar daar was geen helper nie; en Ek het My verbaas, maar daar was niemand wat ondersteun nie. Toe het my arm My gehelp en my grimmigheid het My ondersteun. En Ek het volke vertrap in my toorn en hulle dronk gemaak in my grimmigheid; en Ek het hulle lewensap op die aarde laat afloop.”   JESAJA 63:5-6 AFR53


Alhoewel ons deel sal wees van die hemelse leërs wat Jesus vergesel behoort die werk van oordeel alleen aan Hom.


“En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne.”   OPENBARING 19:14 AFR53


Psalm 2 is 'n gesprek tussen die Drie-eenheid wat lag vir die arrogansie van die konings van die aarde, wat die wapen teen God opneem!


Die stem van die Nasies


“Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!”   PSALMS 2:1-3 AFR53


Die stem van die Vader


“Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik: Ék tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg.”   PSALMS 2:4-6 AFR53


Die stem van die Seun


“Ek wil vertel van die besluit: Die Here het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. U sal hulle verpletter met 'n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos 'n erdepot.”   PSALMS 2:7-9 AFR53


Die stem van die Heilige Gees


“Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die Here met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!”   PSALMS 2:10-12 AFR53


 

21 Junie 2023


JESAJA 63:7 AFR53

“Ek sal die goedertierenhede van die Here prys, die roemryke dade van die Here, ooreenkomstig alles wat die Here aan ons bewys het, en die veelvuldige goedheid jeens die huis van Israel wat Hy aan hulle bewys het, na sy barmhartighede en na die grootheid van sy goedertierenhede.”


Jesaja bid tot God en hy begin met God se goedertierenheid wat Hy aan die Jode betoon het.


Israel is vir die eerste keer in Egipte erken as 'n volk toe die Farao gesê het: Die volk van die kinders van Israel is meer en magtiger as ons. Kort daarna bevestig God dat hulle Sy volk is.


“En die Here sê: Ek het duidelik gesien die ellende van my volk wat in Egipte is; en Ek het hulle jammerklagte oor hulle drywers gehoor, ja, Ek ken hulle smarte.”   EXODUS 3:7 AFR53


Jesaja se gebed gaan waarskynlik terug na hierdie tyd, na God se kinders wat nie wil lieg of vals handel nie. Wat getrou aan God wil wees, en nie van Hom wil wegval en afgode dien nie.


“Want Hy het gesê: Hulle is tog my volk, kinders wat nie sal lieg nie. So het Hy dan vir hulle 'n Heiland geword.”   JESAJA 63:8 AFR53


Israel se benoudheid het in Egipte begin, en heel moontlik na Josef se dood toe ‘n Farao wat Josef nie geken het nie, aan bewind gekom het.


“Toe staan daar 'n nuwe koning oor Egipte op wat niks van Josef geweet het nie.”   EXODUS 1:8 AFR53


God het met tien plae Sy volk uit Egipte uit die slawehuis gered, en toe hulle uit Egipte uitgaan het, het ‘n Engel van God voor gulle uitgetrek. ‘n Wolkkolom het hul bedags en ‘n vuurkolom het hul snags beskerm.


“En die Engel van God wat voor die leër van Israel uit getrek het, het daar weggegaan en agter hulle aan getrek. En die wolkkolom het ook voor hulle weggetrek en agter hulle gaan staan;”.  EXODUS 14:19 AFR53


God het Sy volk beskerm en gedra, en Jesaja dink terug aan al God se werke in sy gebed.


“In al hulle benoudheid was Hy benoud, en die Engel van sy aangesig het hulle verlos; deur sy liefde en deur sy medelyde het Hý hulle verlos; en Hy het hulle opgehef en hulle gedra, al die dae van die ou tyd.” JESAJA 63:9 AFR53


God se volk kon hulself nie help nie en was keer op keer ‘n wederstrewige volk. Hulle het in opstand gekom by Sinai toe hulle die goue kalf gemaak het. Onder die Rigters was hulle optrede een lang rebellie. Hulle het in Samuel se tyd in opstand gekom deur vir 'n koning te vra. Die tien stamme van die noordelike Koninkryk het onder Jerobeam in opstand gekom en afgode by Dan en Bet-el opgerig. Erger afgodediens het gevolg, en in twee en 'n half eeue so 'n hoogte bereik, dat God uitgelok is om Israel uit Sy aangesig te verwyder. Juda, die suidelike Koninkryk, het oorgebly, maar ook in opstand gekom onder Manasse, Jojakim, Jojagin en Sedekia,


“Maar húlle was wederstrewig en het sy Heilige Gees bedroef; daarom het Hy vir hulle in 'n vyand verander: Hy self het teen hulle gestry.”   JESAJA 63:10 AFR53


 

22 Junie 2023


JESAJA 63:11 AFR53

“Toe het sy volk gedink aan die dae van die ou tyd, van Moses: Waar is Hy wat hulle uit die see laat optrek het saam met die herder van sy kudde? Waar is Hy wat sy Heilige Gees in hulle midde gegee het?”


Jesaja se gebed dink terug aan die ou tyd toe die volk onder Moses se leiding deur die Rooi See getrek het.


Toe God se heerlike arm, Moses se regterhand ondersteun het om die waters van die Rooi See van links na regs oop te kloof sodat die volk daardeur kon trek sonder om te struikel. God het al die wonderwerke gedoen sodat Sy Naam oor die hele aarde verheerlik kon word.


“Wat sy heerlike arm laat trek het aan die regterhand van Moses; wat die waters voor hulle uit gekloof het, om vir Hom 'n ewige Naam te maak? Wat hulle deur die watervloede laat trek het soos 'n perd deur die woestyn, sonder om te struikel?”   JESAJA 63:12-13 AFR53


God het Sy volk na die beloofde land Kanaän, soos ‘n trop vee gelei wat rustig aftrek na nuwe weivelde. Jesaja benadruk dat God Sy volk so gelei het om Sy Naam heerlik te maak.


“Soos vee wat aftrek in die laagte, het die Gees van die Here hulle na die rus gelei. Só het U u volk gelei, om vir U 'n heerlike Naam te maak.”   JESAJA 63:14 AFR53


Die volk wend hulself nou tot ‘n smeekgebed en vra vir God om nog een keer uit die hemel neer te kyk, om met hulle medelye te hê, hulle te erken en te red van hulleself en van hul teëstanders.


“Kyk van die hemel neer en aanskou uit u heilige en heerlike woning! Waar is u ywer en u magtige dade? Die ontroering van u binneste en u barmhartighede het hulle jeens my ingehou.”   JESAJA 63:15 AFR53


“Want U is ons Vader! Want Abraham weet van ons nie, en Israel ken ons nie. U, o Here, is ons Vader; ons Verlosser is van ouds af u Naam.”   JESAJA 63:16 AFR53


“Here, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie? Keer terug ter wille van u knegte, die stamme van u erfdeel! U heilige volk het dit vir 'n kort rukkie besit; ons teëstanders het u heiligdom vertrap. Ons het geword soos hulle oor wie U nie van ouds af geheers het nie, oor wie u Naam nie uitgeroep is nie.”   JESAJA 63:17-19 AFR53


 

23 Junie 2023


JESAJA 64:1 AFR53

“Ag, as U maar die hemele wou skeur, wou neerdaal, dat die berge wankel voor u aangesig”


Jesaja se gebed word voortgesit. Israel wil nie net he dat God met guns na hulle moet kyk nie, hulle wil he God moet met al Sy mag en krag Sy Goddelike Teenwoordigheid bekend maak. Hulle wil he dat God soos in die verlede, in die tye van ouds, vuur uit water moet laat opborrel en berge moet laat wankel.


“— soos vuur die houtjies aan die brand steek, vuur die water laat opborrel — om u Naam aan u teëstanders bekend te maak, sodat nasies voor u aangesig kan bewe wanneer U vreeslike dinge doen waar ons nie op gehoop het nie — as U maar wou neerdaal, sodat die berge wankel voor u aangesig! Van ouds af tog het niemand dit gehoor of verneem nie, geen oog het 'n God gesien wat werksaam is vir wie op Hom wag nie, behalwe U.”   JESAJA 64:2-4 AFR53


Soos toe God aan Sy volk verskyn het op die berg Sinai, en


“En op die derde dag toe dit môre word, was daar donderslae en blitse en 'n swaar wolk op die berg en die geluid van 'n baie sterk basuin, sodat die hele volk wat in die laer was, gebeef het.”   EXODUS 19:16 AFR53


Soos toe Elia ‘n altaar gebou het met twaalf klippe, en hout en die brandoffer daarop gepak het, en toe die hele altaar en hout met vier kruike vol water natgemaak het, en toe tot God gebid het om met vuur uit die hemel die altaar aan te steek.


“Antwoord my, Here, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, Here, God is, en dat Ú hulle hart tot U laat terugkeer. Daarop het die vuur van die Here neergeval en die brandoffer en die hout en die klippe en die stof verteer, ja, die water wat in die sloot was, opgelek. En toe die hele volk dit sien, het hulle op hul aangesig geval en gesê: Die Here, Hy is God, die Here, Hy is God!”   I KONINGS 18:37-39 AFR53


Met diepe nederigheid, terwyl hulle hul veelvuldige en ernstige ongeregtighede bely, smeek hulle God nogmaals, as hul Vader en Maker, om Hom oor hulle te ontferm, en herinner God aan die verlate toestand van Juda en Jerusalem, en spoor Hom aan om Hom nie meer van hulle te weerhou nie.


“U kom hom tegemoet wat met vreugde geregtigheid beoefen, hulle wat aan U dink op u weë. Kyk, Ú was toornig, en ons het gesondig; in dié toestand was ons baie lank, en — sal ons verlos word?

En ons het almal geword soos 'n onreine, en al ons geregtighede soos 'n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind. En daar was niemand wat u Naam aangeroep het, wat hom beywer het om U aan te kleef nie; want U het u aangesig vir ons verberg en laat ons wegsmelt deur ons ongeregtighede.

Maar nou, Here, U is ons Vader; ons is die klei, en U is ons Formeerder, en ons almal is die werk van u hand. Here, wees nie uitermate toornig nie, en dink nie vir ewig aan die ongeregtigheid nie; aanskou dit tog dat ons almal u volk is.

U heilige stede het 'n woestyn geword; Sion het 'n woestyn geword, Jerusalem 'n wildernis. Ons heilige en heerlike huis waar ons vaders U geloof het, is met vuur verbrand, en al wat vir ons dierbaar was, het 'n puinhoop geword. Here, sal U by hierdie dinge U bedwing? Sal U swyg en ons uitermate verdruk?”   JESAJA 64:5-12 AFR53


 

24 Junie 2023


JESAJA 65:1 AFR53

“Ek het My laat raadpleeg deur wie na My nie gevra het nie; Ek het My laat vind deur die wat My nie gesoek het nie; aan 'n nasie wat na my Naam nie genoem is nie, het Ek gesê: Hier is Ek, Hier is Ek!”


Die eienaardige vrymoedigheid van Jesaja se uitspraak bestaan ​​hierin dat, in 'n tyd toe Israel as God se een uitverkore volk erken is, het God Homself bekend gemaak aan diegene wat hom glad nie gesoek het nie.


“En Jesaja durf selfs sê: Ek het My laat vind deur die wat My nie gesoek het nie; Ek het verskyn aan die wat na My nie gevra het nie. Maar van Israel sê Hy: Die hele dag het Ek my hande uitgebrei na 'n ongehoorsame en teësprekende volk.”   ROMEINE 10:20-21 AFR53


God se genade is aan Israel aangebied, maar Israel het dit verwerp.


“Ek het my hande die hele dag uitgebrei na 'n opstandige volk wat wandel op 'n weg wat nie goed is nie, agter hulle eie gedagtes aan;” JESAJA 65:2 AFR53


Die volk het hulself skuldig gemaak aan vele ongeregtighede. Die vers sê dat bakstene gebruik is om rook te laat opgaan of anders gestel, van hul baksteen altare het rook opgegaan. Interessant dat God se altare gebou moes word met ongekapte klip. Geen gereedskap was toegelaat naby enige klip wat vir die altaar gebruik is nie. Bakstene aan die ander kant is mensgemaak en beslis nie toegelaat by enige altaar waar offers vir God gemaak word nie.


“'n volk wat My gedurigdeur in die aangesig terg, wat offer in tuine en rook laat opgaan op bakstene; wat in die grafte sit en vernag in verborge plekke; wat varkvleis eet, en daar is brokke onrein vleis in hulle skottels; wat sê: Bly daar! Kom nie naby my nie, want ek is heilig vir jou! Hierdie mense is 'n rook in my neus, 'n vuur wat die hele dag brand.”   JESAJA 65:3-5 AFR53


Die slegte gedrag van God se volk is geskryf in God se boek wat oop lê voor Hom. Hul sonde is altyd sigbaar vir God.


“Kyk, dit staan voor my aangesig geskrywe; Ek sal nie swyg nie, tensy dat Ek dit vergeld het; ja, Ek sal dit vergelde in hulle boesem —”.  JESAJA 65:6 AFR53


God se boeke word in Openbaring mooi beskryf.


“En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en 'n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.”   OPENBARING 20:12 AFR53


God gaan Sy volk en hul voorvaarders, wat offers op die bergtoppe brand, straf.


“julle ongeregtighede en die ongeregtighede van julle vaders tesame, sê die Here; dat hulle offerrook laat opgaan het op die berge en My smaadheid aangedoen het op die heuwels — ja, Ek sal vóór alles hulle loon in hulle boesem toemeet.”   JESAJA 65:7 AFR53


 

25 Junie 2023


JESAJA 65:8 AFR53

“So spreek die Here: Soos wanneer iemand mos vind in 'n tros druiwe en sê: Verniel dit nie, want daar is 'n seën in — sal Ek doen ter wille van my knegte, om nie alles te verniel nie.”


Die beloftes in Jesaja word meestal met dreigemente vermeng. Die dreigemente is van toepassing op die grootste deel van die nasie, waar die beloftes beperk is tot ‘n oorblyfsel, omdat slegs 'n oorblyfsel gebring kan word om God te soek en te dien. Jesaja se aankondiging dat 'n oorblyfsel gespaar sal word, word ingelei deur 'n vergelyking van wynboere se behandeling van hul eie wingerde.


Wanneer selfs ‘n enkele tros druiwe op ‘n ganse wingerdstok gevind word, sal die snoeiers vir mekaar sê om nie daardie stam te vernietig nie, maar om dit te spaar. So sal God weerhou om daardie stam van Sy wingerd te vernietig wat die potensiaal het van ‘n klein belofte om goeie vrugte te dra.


God sal ‘n nageslag van uitverkorenes laat kom van die Noordelike en die Suidelike Koninkryke, Jakob en Juda, en hulle sal hul erfdeel in besit neem.


“En Ek sal 'n nakroos uit Jakob laat voortkom en uit Juda die erfbesitter van my berge; en my uitverkorenes sal dit erflik in besit neem en my knegte daar woon.”   JESAJA 65:9 AFR53


Die twee plekke, Saron en dal Agor blyk gekies te wees op grond van hul posisie, een op die oostelike, die ander op die westelike grens. Daar is altyd ‘n uitverkore groep wat deur God beskerm en eenkant gesit word om Hom te dien - My volk wat My gesoek het.


“En Saron sal 'n weiveld vir kleinvee word, en die dal Agor 'n lêplek vir beeste, vir my volk wat My gesoek het.”   JESAJA 65:10 AFR53


Julle, die mense wat God verlaat. Julle wat die heilige berg, of letterlik vergeet omdat hulle so lank  nie daar was nie, of wel daar is maar net nie daar wil aanbid nie. Julle wat tafels vir gode dek en drankoffers vir die godinne inskink.


“Maar julle wat die Here verlaat, wat my heilige berg vergeet, wat 'n tafel dek vir die geluksgod en die mengsel inskink vir die godin van die noodlot —”   JESAJA 65:11 AFR53


Julle sal vir die dood bestem wees, vir die oordeel van God bestem wees, want God het geroep en julle het nie geantwoord nie, God het gepraat en julle het nie geluister nie. Julle het besluit om te doen wat verkeerd is in God se oë en dit gekies wat God nie van gehou het nie.


“Ek sal julle bestem vir die swaard, en julle almal sal buig om geslag te word, omdat Ek geroep maar julle nie geantwoord het nie, Ek gespreek maar julle nie geluister het nie, maar gedoen het wat verkeerd is in my oë en verkies het wat My nie behaag nie.”   JESAJA 65:12 AFR53


Die ware dienaars van God onder die oorblyfsel sal geseën word, maar die valse dienaars sal vervloek word.


“Daarom, so sê die Here Here: Kyk, my knegte sal eet, maar julle sal honger bly; kyk, my knegte sal drink, maar julle sal dors wees; kyk, my knegte sal bly wees, maar julle sal beskaamd staan. Kyk, my knegte sal jubel, omdat hulle hart vrolik is, maar júlle sal skreeu van pyn in die hart en huil deur die verbreking van gees. En julle sal jul naam vir my uitverkorenes as 'n woord van verwensing laat agterbly, en die Here Here sal jou ombring. Maar sy knegte sal Hy noem met 'n ander naam, sodat hy wat homself seën in die land, hom sal seën by die God van waarheid; en hy wat sweer in die land, sal sweer by die God van waarheid, omdat die vorige benoudhede vergeet is en verborge vir my oë.”   JESAJA 65:13-16 AFR53


 

26 Junie 2023


JESAJA 65:17 AFR53

“Want kyk, Ek skep nuwe hemele en 'n nuwe aarde, en aan die vorige dinge sal nie gedink word en hulle sal in die hart nie opkom nie.”


Jesaja profeteer oor ‘n toekomstige nuwe hemele en ‘n nuwe aarde. Hierdie nuwe hemele en aarde gebeur na die Groot Verdrukking en na die Millenium of die duisendjarige Koninkryk.


Ons moet kyk na Openbaring 20 om te bepaal hoe die tydlyn van die tydperk na die Groot Verdrukking gaan gebeur.


1. Satan word vir een duisend jaar gebind - “En hy het die draak gegryp — die ou slang wat die duiwel en die Satan is — en hy het hom gebind duisend jaar lank,”   OPENBARING 20:2 AFR53


2. Jesus regeer gedurende die een duisend jaar - “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.”   OPENBARING 20:6 AFR53


3.  Na die een duisend jaar word Satan vir ‘n tyd vrygelaat en dan vir ewig in die poel van vuur gegooi - “En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.”   OPENBARING 20:7, 10 AFR53


4. Ongelowiges van alle tye word geoordeel voor God se groot wit troon -  “En ek het 'n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.”   OPENBARING 20:11 AFR53


5. Nou sien Johannes die nuwe hemel en die nuwe aarde waarvan Jesaja ook praat - “En ek het 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.” OPENBARING 21:1 AFR53


Petrus vertel vir ons in die Nuwe Testament dat die huidige aarde en hemele in vuur verteer sal word. Die vuur sal die aarde en hemele nie vernietig nie, maar skoon brand van al die sonde en verderf om dit voor te berei vir die nuwe hemele en aarde.


“Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as 'n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.”   II PETRUS 3:7 AFR53


Petrus het hierdie belofte gebruik om gelowiges aan te moedig tot ‘n heilig lewe - nogtans verwag ons, volgens God se belofte, nuwe hemele en 'n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.


“Maar die dag van die Here sal kom soos 'n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand. Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? — julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en 'n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.”   II PETRUS 3:10-13 AFR53


 

27 Junie 2023


JESAJA 65:18 AFR53

“Maar wees julle bly en juig vir ewig oor wat Ek skep; want kyk, Ek skep Jerusalem om te juig, en sy mense om bly te wees.”


Skep is die woord om hier in ag te neem. Hebreeus vir skep = bara en word in die eerste vers van die Bybel ook gebruik toe God die hemel en die aarde geskape het. God sê dat Hy ‘n nuwe Jerusalem gaan skep.


“In die begin het God die hemel en die aarde geskape.”   GÉNESIS 1:1 AFR53


Johannes sien die heilige stad, die nuwe Jerusalem wat van God uit die hemel neerdaal. ‘n Stem sê vir hom die tabernakel van God is by Sy mense en God sal by hulle woon. Dit verduidelik vir ons die tabernakel en die tempels wat deur die eeue heen gebou is. God met ons! Omdat sonde die mens van God geskei het, het God die tempel gebruik om by Sy mense te woon.


“En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos 'n bruid wat vir haar man versier is. En ek het 'n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.”   OPENBARING 21:2-3 AFR53


In die nuwe Jerusalem sal daar nie meer mense wees wat huil of om hulp roep nie.


“En Ek sal juig oor Jerusalem en bly wees oor my volk; en daarin sal nie meer gehoor word die stem van geween of die stem van geskreeu nie.”   JESAJA 65:19 AFR53


Die engel wat vir Johannes die stad wys het nou ‘n goue maatstok en gee vir ons die afmetings van die stad. Dit is ‘n perfekte kubus, so die lengte, breedte en hoogte is dieselfde – 2,414 km elk. Die muur se dikte is 144 el of 65.83 meter.


“En hy wat met my gespreek het, het 'n goue meetroede gehad, om die stad en sy poorte en sy muur te meet. En die stad het vierkantig gelê, en sy lengte was net so groot as sy breedte. En hy het die stad met die meetroede gemeet op duisend-vyfhonderd myl; sy lengte en breedte en hoogte was gelyk. En hy het sy muur gemeet op honderd-vier-en-veertig el, volgens 'n mens se maat, wat die maat van 'n engel is.”   OPENBARING 21:15-17 AFR53


Die Allerheiligste vertrek in die tempel, die vertrek waar God se heerlikheid teenwoordig is, was nog altyd ‘n volmaakte kubus. ‘n Kubus is ‘n vierkant waar die lengte, breedte en hoogte dieselfde afmetings het.


Die nuwe Jerusalem se afmetings is ook die van ‘n volmaakte kubus, maar dis nie ‘n klein vertrek van 10 x 10 x 10 meter nie, dis ‘n enorme konstruksie van 2,414 km x 2,414 km x 2,414 km.


In die ewigheid waar ons nie meer sonde het nie, kan ons saam met God woon, in die gebou waar Sy heerlikheid teenwoordig is. Haleluja – dis iets om na uit te sien!


 

28 Junie 2023


JESAJA 65:20 AFR53

“Daarvandaan sal nie meer kom 'n suigling van 'n paar dae of 'n grysaard wat sy dae nie vol uitlewe nie; want 'n seun sal sterwe honderd jaar oud, en wie sondig, sal, honderd jaar oud, deur die vloek getref word.”


Waar ons in die vorige verse gekyk het na wat gebeur na die Millenium keer ons nou weer terug na wat gebeur gedurende die Millenium.


Ouderdomme vir die persone in hul menslike liggame gaan nie meer gemeet word soos ons dit nou ken nie. Honderd jaar word as jonk gesien, so mense wat gebore word ( van persone in hul menslike liggame) in die Millenium kan honderde jare oud word. Daar is ongelukkig nog steeds mense wat sondig in die Millenium en op die jong leeftyd van 100 jaar sal hul deur die vloek getref word.


Vier groepe mense sal die Millenium ingaan.


A: Persone wat in hul verheerlikte liggame teenwoordig gaan wees.


1. Die Ou Testament gelowiges.


2. Die Christene wat voor die Groot Verdukking weggeraap is – die wat reeds dood is en die wat op daardie stadium gelewe het.


3. Martelare wat gedurende die Groot Verdukking gesterf het.


B: Persone wat in hul menslike liggame teenwoordig gaan wees.


4. Persone wat Jesus as Verlosser aanvaar het tydens die Groot Verdrukkig en wat nog lewe met Jesus se tweede koms.


Tydens die Millenium sal mense elk hul eie huise bou en bewoon, en hul eie wingerde plant en hul eie vrugte eet, hulle gaan nie plant dat ander kan eet nie.


“En hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet: hulle sal nie bou dat 'n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat 'n ander dit eet nie; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet.”   JESAJA 65:21-22 AFR53


Vroue sal nie tevergeefs kinders baar nie, en hul kinders sal nie deur siekte of ‘n ongeluk of hongersnood of deur die swaard doodgaan nie, want hulle is ‘n geslag wat deur die Here geseën is. Kinders sal as ‘n algemene reël by hul ouers wees deur die Millenium.


“Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei of baar vir skielike ondergang nie; want hulle is 'n geslag van die wat deur die Here geseën is, en hulle nakomelinge is by hulle.”   JESAJA 65:23 AFR53


Gebede sal geantwoord word nog voor die woorde geuiter is.


“En voordat hulle roep, sal Ek antwoord; terwyl hulle nog spreek, verhoor Ek.”   JESAJA 65:24 AFR53


Diere sal in vrede met mekaar leef, en nie meer mekaar eet nie. Die wolf en die lam sal saam wei en selfs die kinders sal die leeus en vetgemaakte vee saam aanjaag.


“Die wolf en die lam sal saam wei, en die leeu sal strooi eet soos 'n bees, en stof sal die voedsel van die slang wees; hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie, sê die Here.”   JESAJA 65:25 AFR53


 

29 Junie 2023


JESAJA 66:1 AFR53

“So sê die Here: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Waar is dan die huis wat julle vir My sal bou? En waar die plek wat my rusplek sal wees?”


God gee vir ons Sy perspektief. Ons kan nooit veel van enigiets verstaan ​​voordat ons nie verstaan ​​dat God se troon in die hemel is, en dat die aarde onder Sy bevel is nie – inderdaad, die aarde is Sy voetbank.


Stefanus het Jesaja aangehaal tydens sy toespraak voor die Joodse Raad. Hierdie toespraak het gelei tot Stefanus se marteldood, omdat die Joodse Raad net soos die ongelowiges waarvan Jesaja praat, nie sy getuienis oor God wou aanvaar nie.


“Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Watter soort huis sal julle vir My bou, sê die Here, of hoedanig is die plek van my rus? Het my hand nie al hierdie dinge gemaak nie?”   HANDELINGE 7:49-50 AFR53


God sê dat Hy alles, die hemele en aarde, gemaak het, so hoe sal Hy dan mense nodig he om vir Hom ‘n huis te bou. Maar, God sal ag slaan op mense in nood, op mense wat berou het oor hul sondes en op mense wat ontsag het vir Sy Woord.


“Want my hand het al hierdie dinge gemaak, en so het dit alles ontstaan, spreek die Here. Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord.”   JESAJA 66:2 AFR53


God se mense het gedink dat hul godsdienstige rituele God behaag het. Maar, die rituele het ‘n negatiewe gevolg in God se oë gehad.


“Wie 'n bees as offer slag, is soos hy wat 'n man doodslaan; wie 'n lam offer, soos hy wat 'n hond se nek breek; wie 'n spysoffer bring — dit is varkbloed; wie wierook as gedenkoffer bring, is soos hy wat 'n afgod prys. Soos húlle hul eie weë verkies het en hulle siel 'n behae het in hul verfoeisels,”.  JESAJA 66:3 AFR53


Straf en verskrikking wag op die wat hul eie wil volg en hul rug op God draai. Hoekom?

Want toe God geroep het, het niemand geantwoord nie, toe God gepraat het, het niemand geluister nie. Die mense het aanhou doen wat verkeerd was in God se oë, en dit gekies wat God nie van gehou het nie.


“so sal Ek ook hulle ongeluk verkies en wat hulle met skrik vervul, oor hulle laat kom; omdat Ek geroep en niemand geantwoord het nie, Ek gespreek en hulle nie gehoor het nie; maar hulle het gedoen wat verkeerd is in my oë, en verkies wat My nie behaag nie.”   JESAJA 66:4 AFR53


Die ongehoorsame en ongelowige mense hou daarvan om die spot te dryf met die mense wat op God vertrou en na Hom luister. Dit sal ongelukkig altyd deel wees van die gemeeskap van die gelowiges.


“Hoor die woord van die Here, julle wat vir sy woord bewe! Julle broers, julle haters wat julle verstoot om my Naam ontwil, sê: Laat die Here heerlik word, dat ons julle vreugde kan aanskou! Maar hulle sal beskaamd staan!”   JESAJA 66:5 AFR53


God het belowe om met geregtigheid te oordeel oor diegene wat nie in ‘n regte verhouding met Hom leef nie.


“Hoor — 'n rumoer uit die stad! Hoor — uit die tempel! Hoor — dit is die Here wat sy vyande hulle dade vergeld!”    JESAJA 66:6 AFR53


 

30 Junie 2023


JESAJA 66:7-8 AFR53

“Voordat sy weë gekry het, het sy gebaar; voordat smart oor haar gekom het, is sy van 'n seuntjie verlos. Wie het so iets gehoor? Wie het sulke dinge gesien? Word 'n land op een enkele dag gebore? Of word 'n nasie met een slag gebaar? Want Sion het weë gekry, meteens haar kinders gebaar.”


Die moeder is Sion.  Die seun wat eindelik gebore is sonder die pyne van droefheid, is die nuwe Israel, die ware Israel van God.


Geskiedenis vooruit vertel: – Israel word vir ’n tweede keer ‘n nasie!


Sedert 721 v.C. het ongeveer 14 verskillende groepe Israel beset. David Ben-Gurion verklaar op 14 Mei 1948 om 16:00 die middag, die nuwe staat Israel se onafhanklikheid van Britse mandaat, en hy is toe ook Israel se eerste Eerste Minister.


Harry Truman, die Amerikaanse President van daardie tyd, het toe hy nog klein was, by sy moeder wat ‘n Sondagskool juffrou was, geleer dat as hy eendag in ‘n posisie is om Israel te help, dat hy dit moet doen. Die VSA, onderleiding van president Harry Truman, was die eerste land wat Israel as ‘n staat erken het. Rusland het drie dae later gevolg.


“Sou Ek naby die geboorte bring en nie laat baar nie? sê die Here. Of sou Ek wat laat baar, self toesluit? sê jou God.”   JESAJA 66:9 AFR53


Jerusalem se vriende moet saam met haar juig en vrolik wees. Nasies wat haar goedgesind is sal deel in Jerusalem se oorvloed.


“Wees bly saam met Jerusalem en juig oor haar, almal wat haar liefhet! Wees vrolik saam met haar, baie vrolik, almal wat oor haar treurig gewees het! sodat julle kan suig en versadig word aan die bors van haar vertroostinge; sodat julle kan uitdrink en julle verlustig in die oorvloed van haar heerlikheid.”   JESAJA 66:10-11 AFR53


Wanneer die Messias in glorie en triomf terugkeer, sal die vrede van Jerusalem wees soos 'n sagte, kragtige rivier wat nooit versteur word nie, en die rykdom van die nasies sal na haar toe kom soos ‘n oorlopende stroom. God sal Sy volk vertroos soos ‘n moeder haar kinders troos.


“Want so sê die Here: Kyk, die vrede lei Ek na haar toe soos 'n rivier en die rykdom van die nasies soos 'n oorlopende stroom; en julle sal suig, julle sal op die heup gedra word en op die knieë getroetel word. Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos; en julle sal in Jerusalem getroos word.”   JESAJA 66:12-13 AFR53


Israel sal floreer soos jong gras.


“En julle sal dit sien, en julle hart sal vrolik wees, en julle gebeente sal groei soos die jong gras; dan sal die hand van die Here bekend word aan sy knegte, en Hy sal op sy vyande grimmig wees.”   JESAJA 66:14 AFR53


 

1 Julie 2023


JESAJA 66:15 AFR53

“Want kyk, die Here sal kom in vuur, en sy waens soos 'n stormwind, om in hittigheid sy toorn te openbaar en in vuurvlamme sy dreiging.”


Vuur is 'n algemene simbool om die koms van die Here aan te dui om Sy vyande te oordeel en te straf.


“Onse God kom en kan nie swyg nie. Vuur verteer voor sy aangesig, en rondom Hom storm dit geweldig.”   PSALMS 50:3 AFR53


Wanneer die Messias in glorie en triomf terugkeer, sal dit vir sommige 'n groot seën wees –  maar vir ander is dit niks anders as oordeel nie.


“Want met vuur en met sy swaard sal die Here strafgerig hou oor alle vlees, en hulle wat deur die Here verslaan is, sal baie wees.”   JESAJA 66:16 AFR53


Die wat voordoen om God te aanbid, maar agteraf hulself vir hul afgode reinig sal ook tot niet gemaak word.


“Die wat hulleself heilig en hulleself reinig vir die tuine, terwyl hulle die een nadoen wat in die middel staan; wat varkvleis eet en verfoeisels en muise — almal saam sal hulle tot niet raak, spreek die Here.”   JESAJA 66:17 AFR53


Alhoewel die mense hul afskuwelike afgode aanbidding in die diepste skuilplekke beoefen, is hul weë nie vir God verborge nie. Daar kom ‘n tyd wanneer God alle nasies gaan versamel sodat hulle die uitvoering van Sy wraak op Sy vyande kan aanskou.


“Maar Ek ken hulle werke en hulle gedagtes; die tyd kom dat Ek al die nasies en tonge versamel; en hulle sal kom en my heerlikheid sien.”   JESAJA 66:18 AFR53


God gaan ‘n teken onder hulle doen en die vrygeraaktes uitstuur na die nasies, na die vêr lande wat God se tyding nie gehoor het nie, en Sy heerlikheid nie gesien het nie. Hulle sal God se heerlikheid onder die nasies verkondig.


“En Ek sal 'n teken onder hulle doen, en vrygeraaktes uit hulle stuur na die nasies, na Tarsis, Pul en Lud, wat die boog span, na Tubal en Jawan, na die ver kuslande wat my tyding nie gehoor en my heerlikheid nie gesien het nie; en hulle sal my heerlikheid onder die nasies verkondig.”   JESAJA 66:19 AFR53


Daar is nie konsensus oor wie die vrygeraaktes is nie, en watter teken gegee sal word nie. Maar is dit moontlik dat hier gepraat word van die 144,000 Joodse mans wat verseël word en kom uit elk van die twaalf stamme van die kinders van Israel?


“en gesê: Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie. En ek het die getal van die verseëldes gehoor: honderd-vier-en-veertigduisend verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel — uit die stam van Juda twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Ruben twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Gad twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Aser twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Náftali twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Manasse twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Símeon twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Levi twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Íssaskar twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Sébulon twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Josef twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Benjamin twaalfduisend verseëldes.”   OPENBARING 7:3-8 AFR53


 

2 Julie 2023


JESAJA 66:20 AFR53

“En hulle sal al julle broers bring uit al die nasies as offergawe aan die Here, op perde en op waens en in draagstoele en op muilesels en op kamele na my heilige berg, na Jerusalem, sê die Here, net soos die kinders van Israel die spysoffer in 'n rein voorwerp bring na die huis van die Here.”


Wanneer die heidene wat op die uiteindes van die aarde woon, tot bekering gekom het, sal hulle die Jode van die verstrooiing wat saam hulle bly, na Christus bring.


“Want dan sal Ek aan die volke rein lippe toebring, sodat hulle almal die Naam van die Here sal aanroep en Hom met 'n eenparige skouer sal dien. Oorkant die riviere van Kus vandaan sal my aanbidders, my verstrooide gemeente, my offerande bring.”   SEFÁNJA 3:9-10 AFR53


Die profesie impliseer dat daar ‘n werkende tempel bestaan en dat offerhandes gedoen word. Dit praat dan van die eerste helfte van die sewe jaar Verdrukking en bevestig die evangelisasie werk van die 144,000 en die twee getuies waarvan ons in Openbaring leer.


Nie-Jode sal by die bestaande liggaam van priesters en Leviete bygevoeg word.


“En ook sal Ek uit hulle priesters en Leviete neem, spreek die Here.”   JESAJA 66:21 AFR53


Soos die nuwe hemel en nuwe aarde wat God maak, permanent en blywend sal wees, so sal jul nageslag ook permanent en blywend wees.


“Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal bestaan, spreek die Here, so sal julle nageslag en julle naam bestendig wees.”   JESAJA 66:22 AFR53


Terwyl die profeet die boek toemaak en sy hele profesie afsluit, rig hy die aandag op daardie toekomstige tydperk wat soveel van sy aandag in beslag geneem het - wanneer die hele wêreld vertroud moet wees met die ware godsdiens, en alle nasies God moet aanbid.


“En elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê die Here.”   JESAJA 66:23 AFR53


‘n Laaste waarskuwing word gegee aan ongelowiges om te toon wat hul uiteinde sal wees indien hulle bly in hul slegte weë en in opstand kom teen God.


“En hulle sal uitgaan en die lyke sien van die mense wat teen My opgestaan het; want hulle wurm sal nie sterwe en hulle vuur sal nie uitgeblus word nie, en hulle sal afgryslik wees vir alle vlees.”   JESAJA 66:24 AFR53


Ons almal gaan vir ewig leef. Die keuse waar jy dit gaan doen is elke individu se eie keuse. Vir ewig, in glorie, in God se teenwoordigheid, of vir ewig, in pyn, afwesig van God se teenwoordigheid.


En so na 326 dae kom ons aan die einde van die boek Jesaja! 😊


 

22 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page