top of page
  • Regina Torre

Jesaja - Hoofstuk 58 tot 62

Updated: Jun 17, 2023


2 Junie 2023


JESAJA 58:1 AFR53

“Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos 'n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes.”


Roep uit volle bors sodat jy gehoor kan word en wys die volk van God hul oortredinge en hul sondes.


God beskryf die voorkoms van Sy volk se geestelike lewe - op die oog af lyk dit of hulle Hom lief het en aan Hom toegewy is. Hulle het ‘n reputasie gehad van 'n nasie wat geregtigheid doen, en hulle het gelyk soos mense wat ‘n behae daarin skep om God te nader.


“Wel soek hulle My dag vir dag en het 'n behae in die kennis van my weë! Soos 'n nasie wat geregtigheid doen en die reg van sy God nie verlaat nie, vra hulle My na die regverdige verordeninge; hulle het 'n behae in die toenadering tot God.”   JESAJA 58:2 AFR53


Die mense vra waarom hulle moet vas as God hulle probleme nie raaksien nie. Beswaard en verskrik kla die mense nou dat God nie hul pligsgetroue nakoming van die pligte van hul godsdiens raaksien nie.


Wanneer ‘om te vas’ die gevolg is van 'n nederige en gebroke hart, is dit aanvaarbaar, maar wanneer dit gebruik word as 'n middel om goddelike guns te koop, en om God onder verpligting te plaas, is dit onaanvaarbaar.


“Waarom vas ons, en U sien dit nie? Waarom kwel ons ons siel, en U weet dit nie? — Kyk, op die dag as julle vas, soek julle geleentheid om sake te doen, en julle jaag al jul arbeiders aan.”   JESAJA 58:3 AFR53


Nog ‘n negatiewe rede om te vas en nog ‘n rede hoekom God dit nie in ag neem nie, was die faksies waarin die volk verdeel was om te kyk wie kon dit beter doen. Die doel van hul vas was om hulself te verheerlik, om hul stem in die hoogte te laat hoor. Dit het ‘n getwis en gekyf tot gevolg gehad wat beslis nie aanvaarbaar was nie.


“Kyk, om te twis en te kyf, vas julle, en om te slaan met misdadige vuis; julle vas nie nou om julle stem in die hoogte te laat hoor nie.”   JESAJA 58:4 AFR53


Die soort vas wat God hier bestraf, is 'n hol, leë vertoning, sonder die geestelike substansie. Dit is nie die soort vas wat God gekies het nie. Al doen hulle al die regte dinge in hul vas, dit tel nie by God nie.


“Is dít die vas wat Ek verkies, die dag as die mens sy siel gaan kwel: dat hy sy hoof buig soos 'n biesie en sak en as uitsprei om sy bed te wees? Noem jy dit vas en 'n dag wat die Here welgevallig is?”   JESAJA 58:5 AFR53


 

3 Junie 2023


JESAJA 58:6 AFR53

“Is dít nie die vas wat Ek verkies nie: dat julle losmaak die bande van goddeloosheid, dat julle afhaal die stroppe van die juk en vry laat weggaan die verdruktes en elke juk stukkend breek?”


God vertel vir Sy mense watter tipe vas Hy verkies. Hou op om jul medemens te onderdruk en reik uit om ander te help. Hou op om goddelooslik teenoor ander op te tree. Deel jou kos met die wat honger is, verskaf blyplek aan die dakloses en gee klere vir die wat sukkel.


“Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie?”   JESAJA 58:7 AFR53


Vas was altyd ‘n vrywillige aksie, behalwe op die Versoeningsdag wat ‘n verpligte vasdag was.


“En dit moet vir julle 'n ewige insetting wees: in die sewende maand, op die tiende van die maand, moet julle jul verootmoedig en géén werk doen nie — die kind van die land sowel as die vreemdeling wat onder julle vertoef. Want op hierdie dag moet hy vir julle versoening doen om julle te reinig; van al julle sondes moet julle voor die aangesig van die Here rein word. 'n Dag van volkome rus moet dit vir julle wees, en julle moet jul verootmoedig. Dit is 'n ewige insetting.”   LEVÍTIKUS 16:29-31 AFR53


Op die Versoeningsdag of Yom Kippur vra die hoëpriester vir God om die sondes van die volk Israel vir die volgende jaar te bedek.


Hierdie is ‘n feesdag van nasionale versoening waar die hoëpriester by die Allerheiligste vertrek van die tempel ingegaan en bloed op die ark sprinkel om die volk se sondes te bedek.


Yom beteken dag en Kippur beteken bedek – soos in ‘bedek deur die bloed van Jesus.’ Yom Kippur in afrikaans is dus Dag van Bedekking.


Hoekom is bloed gebruik om vir sondes te betaal? Daar is lewe in die bloed, en die lewe in die bloed bewerk versoening vir ons siele. Dis hoekom Jesus vir ons sondes met Sy bloed aan die kruis gesterf het.


“Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.”   LEVÍTIKUS 17:11 AFR53


Om te vas is nie iets wat ons vandag doen nie, maar indien iemand wil vas kan Jesus se woorde in ag geneem word.


“En wanneer julle vas, moenie lang gesigte trek soos die geveinsdes nie; want hulle mismaak hul gesigte, sodat dit deur die mense gesien kan word dat hulle vas. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg. Maar jy, as jy vas, salf jou hoof en was jou gesig, sodat jy nie die mense laat sien dat jy vas nie, maar jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.”   MATTHÉÜS 6:16-18 AFR53


 

4 Junie 2023


JESAJA 58:8 AFR53

“Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die Here jou agterhoede wees.”


As God se volk hul vastyd koppel met lewens van geregtigheid en liefde, dan sal hulle sien dat hul gebede verhoor word. Hulle sal lewens vol lig hê, vol genesing, vol geregtigheid, vol van die heerlikheid van die Here en wanneer hulle na God roep, dan sal die Here antwoord.


Die volk moet ophou om drie dinge te doen: 1) mense te onderdruk, 2) te dreig, en 3) vals te beskuldig.


“Dan sal jy roep, en die Here sal antwoord; jy sal skreeu om hulp, en Hy sal sê: Hier is Ek! As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord,”.  JESAJA 58:9 AFR53


Twee goed moet hulle wel doen: 1) sorg vir die wat honger is, en 2) voorsien in die behoeftes van die wat nood het, dan sal die lig vir jou skyn, selfs as dit vir jou donker is.


“en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag.”   JESAJA 58:10 AFR53


Om God se leiding te ontvang moet ons meer doen as om Hom net in voorkoms te dien. Ons moet God soek met beide opregte harte en opregte optrede. Dan sal ons siel versadig wees soos ‘n tuin wat genoeg water kry of soos ‘n fontein waarvan die water nooit opdroog nie.


“En die Here sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke en jou gebeente sterk maak; en jy sal wees soos 'n tuin wat goed besproei is en soos 'n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie.”   JESAJA 58:11 AFR53


Diegene wat God met opregte harte en optrede dien, bereik ook dinge vir God se koninkryk. Jy kan niks vir God se koninkryk bou op die fondament van 'n oppervlakkige wandel met God nie.


“En die wat uit jou voortkom, sal die ou puinhope bou; die fondamente van vorige geslagte sal jy oprig, en jy sal genoem word: Herbouer van gebreekte mure, hersteller van paaie, om bewoonbaar te maak.”   JESAJA 58:12 AFR53


Die sabbat is 'n teken tussen God en Sy belydende volk. God het die rusdag as ‘n teken van guns aan Sy volk gegee, en die volk onderhou die dag as as ‘n teken van gehoorsaamheid aan Hom.


“As jy jou voet terughou van die sabbat — om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat 'n verlustiging noem en die heilige dag van die Here hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die Here, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob; want die mond van die Here het dit gespreek.”   JESAJA 58:13-14 AFR53


As ons die sabbatdag so onthou, om dit te heilig, sal ons die troos en voordeel daarvan hê, en rede hê om te sê: Dit is goed om tot God te nader.


“maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie — jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie.”   EXODUS 20:10 AFR53


 

5 Junie 2023


JESAJA 59:1 AFR53

“Kyk, die hand van die Here is nie te kort om te help nie, en sy oor is nie te swaar om te hoor nie;”


God se volk het gewonder hoekom dit lyk of God hulle nie uit hulle beproewinge verlos nie. Hulle het gewonder of God dalk in krag verminder het – of Sy hand te kort geraak het. Miskien is die probleem nie dat God nie krag het nie. Miskien het Hy 'n gebrek aan kennis van hul probleem of belangstelling in hul probleem.


Jesaja verseker hulle egter dat niks van bogenoemde die geval is nie. God se hand is nie te kort om te help nie, en Sy oor is nie te swaar om te hoor nie!


Die probleem is nie met God se krag, Sy kennis of Sy belangstelling nie. Die probleem is hul ongeregtighede en hul sondes wat hulle van God skei.     


“maar julle ongeregtighede het 'n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.”   JESAJA 59:2 AFR53


Jesaja gee ‘n lys van goed wat sondig is:


- hande met bloed bevlek,

- vingers met ongeregtigheid,

- lippe praat leuens,

- tonge fluister onreg,

- niemand stel sy saak eerlik nie,

- geen uitspraak is betroubaar,

- vertrou op leë woorde,

- praat onwaarhede,

- swanger van kwaad en

- bring onreg voort.


“Want julle hande is met bloed bevlek en julle vingers met ongeregtigheid; julle lippe spreek leuen, julle tong fluister onreg. Daar is niemand wat aanklaag in geregtigheid en niemand wat 'n regstryd voer in waarheid nie; hulle vertrou op nietigheid en spreek valsheid, met moeite gaan hulle swanger en baar onheil.”   JESAJA 59:3-4 AFR53


Die volk se ongeregtigheid word vergelyk met: 1) om giftige slangeiers op te pas en met sorg te laat uitbroei in plaas daarvan om dit van die begin af te vernietig, en 2) om met kunsvaardigheid strikke te stel en komplotte te weef om hul onheil uit te voer soos spinnekoppe hule spinnerakke weef. Belangrik dat nie net die uitvoerders van die planne nie, maar ook die wat daaraan deelneem onder dieselfde kam geskeer word.


“Basilisk-eiers broei hulle uit, en spinnerakke weef hulle; hy wat van hulle eiers eet, moet sterwe; en as dit stukkend gedruk word, bars daar 'n adder uit.”   JESAJA 59:5 AFR53


Hulle webbe sal hul nooit voor God bedek nie (onthou Adam en Eva se klere wat hul sondes bedek het). Beide hande en voete word aan sonde gegee, maar dit eindig nie daar nie want selfs hul gedagtes is gedagtes van ongeregtigheid. Hulle sal geen vrede ken nie.


“Hulle weefsels deug nie vir klere nie, en met hulle voortbrengsels kan niemand hom toemaak nie; hulle werke is onheilswerke, en die daad van geweld is in hulle hande. Hulle voete hardloop om kwaad te doen en is haastig om onskuldige bloed te vergiet; hulle gedagtes is onheilsgedagtes, verwoesting en verbreking is in hulle paaie. Die weg van vrede ken hulle nie, en daar is geen reg in hulle spore nie; hulle maak hul paaie krom, niemand wat daarop loop, ken die vrede nie.”   JESAJA 59:6-8 AFR53


 

6 Junie 2023


JESAJA 59:9 AFR53

“Daarom is die reg ver van ons en bereik die geregtigheid ons nie; ons wag op lig, maar kyk, daar is duisternis; op 'n helder skynsel, maar ons wandel in dikke donkerheid.”


Omdat God se volk geen belangstelling in geregtigheid gehad het nie, het God hulle nie daarmee geseën nie. Jesus het hierdie beginsel in Mattheus uitgebeeld.


“Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.”   MATTHÉÜS 13:12 AFR53


Wanneer die lig altyd beskikbaar is, voel die donker soos pret - dit lyk geheimsinnig en avontuurlik. Maar, wanneer die lig weggeneem word, is daar slegs verskrikking in die duisternis.


“Ons tas rond langs die muur soos blindes, en soos die wat geen oë het nie, tas ons rond; ons struikel op die middag soos in die skemeraand; ons is onder die gesondes soos dooie mense. Ons brom almal soos bere, en soos duiwe kir ons aanhoudend; ons wag op reg, maar dit is nie daar nie; op heil — dit bly ver van ons.”   JESAJA 59:10-11 AFR53


God se mense is nou op 'n beter plek. Hulle het hul lewens ondersoek en sien dinge soos dit is. Hulle blameer nie meer die ‘verkorte hand’ van God, of Sy ‘swaar oor’ nie. Hulle weet dat hul oortredings teenoor God baie is en dat hul sondes hulle aankla.


“Want ons oortredinge is baie voor U, en ons sondes getuig teen ons; want ons oortredinge staan voor ons, en ons ongeregtighede — ons ken hulle: die afval en verloëning van die Here en afwyking van agter onse God; die uitspreek van verdrukking en oortreding, die opneem en uitstoot van leuentaal uit die hart. So word dan die reg teruggedring en die geregtigheid bly staan van ver; want die waarheid struikel op die mark, en wat reg is, kan nie binnekom nie. Ja, die waarheid word vermis; en wie afwyk van die kwaad, word geplunder. Toe het die Here dit gesien, en dit was verkeerd in sy oë dat daar geen reg was nie.”   JESAJA 59:12-15 AFR53


God het gewag en gewag vir 'n ongehoorsame Israel om na Hom te draai. Hy het gewag en gewag vir 'n man om hulle na Hom terug te lei, of 'n voorbidder om voor Hom te pleit. Niemand het opgestaan ​​nie; so God het dit self gedoen.


“Ja, die waarheid word vermis; en wie afwyk van die kwaad, word geplunder. Toe het die Here dit gesien, en dit was verkeerd in sy oë dat daar geen reg was nie. En Hy het gesien dat daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand tussenbei tree nie; daarom het sy arm Hom gehelp en sy geregtigheid het Hom ondersteun.”   JESAJA 59:15-16 AFR53


As 'n man of 'n voorbidder sou uitstap, sou dit Israel baie rampspoed gespaar het. Maar die feit dat geen mens of geen voorbidder na vore getree het nie, het nie God se plan verwoes nie. Hy het gewag om in vennootskap deur 'n man te werk. Hy het gewag om deur 'n voorbidder te werk. Maar God se werk sou steeds volbring word as daar nie een sou opstaan ​​nie.


 

7 Junie 2023


JESAJA 59:17 AFR53

“En Hy het geregtigheid aangetrek soos 'n pantser, en die helm van heil was op sy hoof; en die klere van wraak het Hy aangetrek as kleding en Hom gewikkel in die ywer soos in 'n mantel.”


Omdat geen voorbidder na vore gekom het nie, het God besluit om self in te tree. God het Sy wapenrusting aangetrek en gegaan om Sy volk se vyande te vernietig, Sy volk te beskerm en Sy Naam te verheerlik.


God se wapenrusting is dieselfde as Paulus se geestelike wapenrusting. Paulus noem die wapenrusting die hele wapenrusting van God. Dit is God se wapenrusting in die sin dat dit aan Hom behoort – Hy gebruik dit immers hier in Jesaja en Hy laat ons toe om dit te gebruik om vir Hom te veg.


“Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees — dit is die woord van God —”   EFÉSIËRS 6:11, 14-17 AFR53


God vergeld Sy volk se teenstaanders en vyande volgens verdienste.


“Volgens die dade, daarmee ooreenkomstig sal Hy vergelde: grimmigheid aan sy teëstanders, vergelding aan sy vyande; aan die eilande sal Hy die loon vergelde.”   JESAJA 59:18 AFR53


Die Naam van die Here sal gerespekteer word van die ooste tot die weste, want God oorwin - met of sonder ons.


“En hulle sal die Naam van die Here vrees van die westekant af, en sy heerlikheid van die opgang van die son af; want Hy sal kom soos 'n saamgeperste stroom wat die asem van die Here aandrywe.”   JESAJA 59:19 AFR53


God kom vir Sion, Sy volk, as Verlosser en


“Maar vir Sion kom Hy as Verlosser en vir die wat in Jakob hulle bekeer van oortreding, spreek die Here.”   JESAJA 59:20 AFR53


die skrywer van Romeine bevestig dat God vir Israel sal verlos.


“en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend;”.  ROMEINE 11:26 AFR53


God bevestig Sy ewige verbond met Israel om hulle te verlos.


“Wat My aangaan, dit is my verbond met hulle, sê die Here: My Gees wat op jou is, en my woorde wat Ek in jou mond gelê het, sal uit jou mond nie wyk nie, en ook nie uit die mond van jou kroos en uit die mond van die kroos van jou kroos, sê die Here, van nou af tot in ewigheid nie.”   JESAJA 59:21 AFR53


 

8 Junie 2023


JESAJA 60:1 AFR53

“Staan op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die Here gaan oor jou op.”


Jerusalem word opgeroep om hul lig te laat skyn. Die lig wat die magtige teenwoordigheid van God vir hulle sal bring. Paulus het in sy brief aan Efese, Jesaja se woorde aangehaal.


“Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.”   EFÉSIËRS 5:14 AFR53


Gedurende die Verdrukking sal duisternis oor die aarde kom en die volke sal donkerte ervaar, maar God se heerlikheid sal oor Sy volk gesien word.


“Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóú sal die Here opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word.”   JESAJA 60:2 AFR53


Dit laat mens terugdink aan die duisternis plaag wat God oor Egipte laat kom het.


“Toe Moses sy hand uitsteek na die hemel, kom daar 'n dik duisternis in die hele Egipteland, drie dae lank. Die een het die ander nie gesien nie, en niemand het van sy plek opgestaan nie, drie dae lank. Maar al die kinders van Israel het lig in hulle woonplekke gehad.”   EXODUS 10:22-23 AFR53


Dan, gedurende die Millenium sal nasies en konings na Israel se lig toe trek. Die lig is die glorie van God wat uit die tempel uitskyn.


“En nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang. Slaan jou oë rondom op en kyk — hulle almal kom bymekaar, hulle kom na jou toe; jou seuns kom van ver, en jou dogters word op die heup gedra.”   JESAJA 60:3-4 AFR53


Israel sal verheug wees want die rykdom van die see of anders gestel, die wêreld, kom hulle toe, die nasies se skatte ook.


“Dan sal jy dit sien en straal van vreugde, en jou hart sal ontroer en verruim word; want die rykdom van die see gaan na jou toe oor, die skatte van die nasies kom na jou toe aan.”   JESAJA 60:5 AFR53


Die skatte van die nasies beskryf die rykdom van die Weste, en die menigte kamele wat die land sal oordek beskryf die rykdom van die Ooste. Skatte vir Israel en die tempel sal van oral af kom.


“'n Menigte kamele sal jou oordek, die jong kamele van Mídian en Efa; hulle sal almal uit Skeba kom; hulle bring goud en wierook en verkondig met blydskap die roemryke dade van die Here.”   JESAJA 60:6 AFR53


Dan ook bring hulle geskenke van goud en wierook. Wat mis ons hier? Mirre natuurlik, maar dié geskenk is nie meer nodig nie. Met Jesus se geboorte het Hy geskenke van mirre, wierook en goud gekry, wat Sy toekomstige rolle as profeet, priester en koning uitgebeeld het. Die mirre het Jesus se rol as profeet uitgebeeld en was gebruik in die balsem proses na Jesus se dood. Maar, Jesus het opgestaan uit die dood en sit aan die regterhand van God om terug te kom as Koning om Sy koninkryk in besit te neem en vir ewig te regeer, dus is mirre nooit weer nodig nie.


Oorvloedige offers sal op die altaar gebring word.


“Al die kleinvee van Kedar sal vir jou versamel word, die ramme van Nébajot sal jou dien; hulle kom as welgevallige offer op my altaar, en Ek sal my heerlike huis heerlik maak.”   JESAJA 60:7 AFR53


 

9 Junie 2023


JESAJA 60:8 AFR53

“Wie is dit wat daar aangevlieg kom soos 'n wolk en soos duiwe na hulle vensters?”


Vanuit die Ooste draai die profeet na die Weste, en beskryf die skepe van die Middellandse See met hul wit seile wat spoedig seil soos ‘n wolk en lyk soos duiwe wat huis toe vlieg. Hierdie skepe bring ook van ver die seuns van Sion wat in ballingskap was, sowel as ryk skatte uit die nasies.


“Ja, op My wag die eilande, en die skepe van Tarsis kom vooraan, om jou seuns van ver te bring. Hul silwer en hul goud is by hulle, vir die Naam van die Here jou God en vir die Heilige van Israel, omdat Hy jou heerlik gemaak het.”   JESAJA 60:9 AFR53


‘n Terugblik van Jesaja herinner aan koning Kores wat die volk teruggestuur het na Jerusalem om die tempel te herbou en koning Artasasta wat Nehemia gestuur het om Jerusalem se muur te help bou. Nou in die Millenium gaan die nasies weereens hul skatte na Jerusalem bring.


“En uitlanders sal jou mure bou, en hulle konings sal jou dien; want in my toorn het Ek jou geslaan, maar in my welbehae het Ek My oor jou ontferm. En jou poorte sal altyddeur oopstaan; hulle sal bedags of snags nie gesluit word nie, om na jou toe aan te bring die rykdom van die nasies en hulle konings in triomftog. Want die nasie en die koninkryk wat jou nie sal dien nie, sal ondergaan, en dié nasies sal seker verwoes word.”   JESAJA 60:10-12 AFR53


Nog 'n rede waarom die rykdom van die nasies na Jerusalem sal stroom gedurende die Millenium, is om die Millenium tempel te befonds.


“Die heerlikheid van die Líbanon sal na jou toe kom, die sipres, die plataan en die denneboom almal saam, om te versier die plek van my heiligdom; en Ek sal die plek van my voete heerlik maak.”   JESAJA 60:13 AFR53


Die nasies sal gewillig hulle rykdom aan Israel gee, net soos die Egiptenare gewillig hul rykdom aan die Israeliete gegee het toe hulle Egipte verlaat het. Soveel sal gegee word dat hulle die poorte van die stad voortdurend moet oophou.


“En die kinders van Israel het gehandel volgens die woord van Moses: hulle het van die Egiptenaars silwergoed en goue goed en klere geëis; en die Here het aan die volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars, en dié het hulle versoek ingewillig. So het hulle dan die Egiptenaars berowe.”   EXODUS 12:35-36 AFR53


Die seuns of nageslag van die wat Israel verdruk het, dit wil sê van die verskillende nasies wat Israel op verskillende tye onderdruk en geteister het - soos die Egiptenare, Kanaäniete, Filistyne, Assiriërs, Babiloniërs, Edomiete, Moabiete, Ammoniete, ens. sal gebukkend na hulle toe kom.


“En die seuns van hulle wat jou verdruk het, sal gebukkend na jou toe trek; en almal wat jou verag het, sal hulle neerbuig by jou voetsole; en hulle sal jou noem: Stad van die Here, Sion van die Heilige van Israel.”   JESAJA 60:14 AFR53


Hulle buig hulle neer voor die nuwe Israel – die Israel van God – soos die elf gerwe hulle voor Josef se gerf neergebuig het.


“Kyk, ons was besig om gerwe te bind op die land toe meteens my gerf gaan staan en ook regop blý staan, terwyl julle gerwe daar rondom kom en hulle voor my gerf neerbuig.”    GÉNESIS 37:7 AFR53


 

10 Junie 2023


JESAJA 60:15 AFR53

“In plaas dat jy verlate en gehaat is sonder dat iemand daar deurtrek, sal Ek jou maak tot 'n ewige heerlikheid, 'n vreugde van geslag tot geslag.”


Sion was verlate en gehaat. Hierdie is ‘n prentjie van ‘n vrou (Israel) wat weens haar owerspel verwerp is, verlaat deur haar Man, en die voorwerp is van Sy regverdige haat. Maar, God verander die hele situasie en sal Sion maak tot ‘n ewige heerlikheid en ‘n vreugde vir al die geslagte vorentoe.


Die nuwe Jerusalem sal ondersteun word deur die offers van die nie-Jode.


“En jy sal die melk van nasies suig en die bors van konings suig en sal weet dat Ek, die Here, jou Heiland is, en jou Losser die Magtige van Jakob.”   JESAJA 60:16 AFR53


God sal dit wat oud was – en dalk funksioneel, maar nie vol heerlikheid nie – neem en dit met baie beter dinge vervang.


“Vir koper bring Ek goud en vir yster bring Ek silwer, en vir hout koper en vir klippe yster; en Ek sal Vrede as jou owerheid aanstel en Geregtigheid as jou bestuurders.”   JESAJA 60:17 AFR53


Wat 'n wonderlike transformasie! Van die geweld en bloedvergieting van die Verdrukking, tot mure genaamd Heil en poorte genaamd Lof. Die uiteindelike vervulling van hierdie dinge wag, want die Millenium is nog nie hier nie.


“Van geweld sal in jou land nie meer gehoor word nie — van geen verwoesting of verbreking in jou grondgebied nie; maar jy sal jou mure Heil noem en jou poorte Lof.”   JESAJA 60:18 AFR53


Die son en maan gaan nie meer lig gee nie, maar God self sal die lig wees.


“Die son sal bedags jou lig nie meer wees nie, en as glans sal die maan vir jou geen skynsel gee nie; maar die Here sal vir jou wees 'n ewige lig, en jou God sal jou sieraad wees. Jou son sal nie meer ondergaan nie, en jou maan nie kleiner word nie; want die Here sal vir jou wees 'n ewige lig, en die dae van jou treurigheid is verby.”   JESAJA 60:19-20 AFR53


In die begin, in Genesis, toe God die wêreld geskape het, was die wêreled woes en leeg en in duisternis gehul, en God het gesê laat daar lig wees, en daar was lig.


“In die begin het God die hemel en die aarde geskape. En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.”   GÉNESIS 1:1-3 AFR53


Hierdie lig was teenwoordig nog voordat God die son, maan en sterre geskape het. In die boek Openbaring aan die einde van tyd keer ons weer terug na God se lig, wat God se heerlikheid is, en nie ‘n son, maan en sterre nodig het om lig te maak nie.


“En die stad het die son of die maan nie nodig om in hom te skyn nie, want die heerlikheid van God het hom verlig, en die Lam is sy lamp.”   OPENBARING 21:23 AFR53


 

11 Junie 2023


JESAJA 60:21 AFR53

“En jou volk sal almal regverdiges wees, vir ewig sal hulle die land besit — as lote deur My geplant, 'n werk van my hande, tot my verheerliking.”


Jesaja herinner sy volk aan God se verbond met Abraham om ‘n spesifieke gedeelte grond aan Sy volk te gee, en dat Abraham se nageslag sal wees soos die sterre in die hemel. God sal alles op Sy tyd doen ter verheerliking van Sy Naam.


“Die kleinste sal 'n geslag word en die geringste 'n magtige nasie. Ek, die Here, sal dit op die regte tyd gou laat kom.”   JESAJA 60:22 AFR53


God verskyn aan Abraham en wys vir hom die hemel en sê dat sy nageslag so baie sal wees soos die sterre wat hy in die hemel sien. God sê ook vir Abraham dat Hy hom uit Ur van die Chaldeërs gebring het om vir hom die land Kanaän te gee.


“Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees. En hy het in die Here geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken. Verder het Hy vir hom gesê: Ek is die Here wat jou uitgelei het uit Ur van die Chaldeërs om jou hierdie land in besit te gee.”   GÉNESIS 15:5-7 AFR53


Abraham is net ‘n mens en wil versekering he van God se beloftes. God sluit toe om ‘n verbond met Abraham.


“En hy sê: Here Here, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem? En Hy antwoord hom: Neem vir My 'n driejaaroud vers en 'n driejaaroud bokooi en 'n driejaaroud ram en 'n tortelduif en 'n jong duif. En hy het dit alles vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helftes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie. Toe kom daar roofvoëls op die dooie diere af, maar Abram het hulle weggejaag.”   GÉNESIS 15:8-11 AFR53


God se verbond met Abraham is 'n onvoorwaardelike verbond. Wanneer 'n verbond afhanklik was daarvan dat beide partye verpligtinge nakom, sou beide partye tussen die stukke diere deurgaan. Maar, hier beweeg God alleen tussen die helftes van die diere, want Abraham was in 'n diepe slaap. God allen is dus verantwoordelik om die verbond na te kom.


“En toe die son wou ondergaan, val daar 'n diepe slaap op Abram, en kyk, skrik en groot duisternis het hom oorval.”   GÉNESIS 15:12 AFR53


God praat met Abram terwyl hy slaap en gee vir hom die geskiedenis vooruit. Nadat die volk vierhonderd jaar onder Egiptiese druk sal wees, sal hulle uittrek met baie goed. Ons weet dat Joshua uiteindelik die volk sal lei om die land Kanaän in besit te neem.


“Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in 'n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vierhonderd jaar lank. Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed. Maar jý sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word. En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie.”   GÉNESIS 15:13-16 AFR53


God se alleen optrede dui aan dat die verbond hoofsaaklik Sy belofte is. God verbind Homself aan die verbond. ‘n Ewige verbond met Abraham en Sy volk Israel wat vandag nog in plek is - God is nog lank nie klaar met Sy volk nie!


“En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar 'n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur.”   GÉNESIS 15:17 AFR53


 

12 Junie 2023


JESAJA 61:1-2 AFR53

“Die Gees van die Here Here is op My, omdat die Here My gesalf het om 'n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes 'n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep 'n jaar van die welbehae van die Here en 'n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos;


Nadat Jesus vir veertig dae deur Satan versoek is, het Hy Sy bediening in Galilea begin en die volk in hulle sinagoges geleer.


“En Jesus het in die krag van die Gees na Galiléa teruggekeer, en daar het 'n gerug aangaande Hom deur die hele omtrek uitgegaan; en Hy het in hulle sinagoges geleer en is deur almal geprys.”   LUKAS 4:14-15 AFR53


Jesus is van Galilea na Nasaret waar Hy groot geword het. Soos Hy gewoond was om te doen op die sabbatdag is Hy weer in die sinagoge en staan op om die dag se gedeelte te lees. Die boek van die profeet Jesaja word vir Hom gegee en wat sal Hy lees?


“Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees. En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig; en toe Hy die boek oopmaak, kry Hy die plek waar geskrywe is:”   LUKAS 4:16-17 AFR53


Jesus lees uit Jesaja dieselfde gedeelte wat ons vandag lees.


“Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.”   LUKAS 4:18-19 AFR53


Jesus maak Jesaja se boek toe en gaan sit en sê vir almal: ‘Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.’


“En nadat Hy die boek toegemaak en aan die dienaar teruggegee het, gaan Hy sit, en die oë van almal in die sinagoge was op Hom gevestig. Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.”   LUKAS 4:20-21 AFR53


Die eerste gedeelte van dié Ou Testament profesie is letterlik vervul met Jesus se eerste koms.


Die tweede gedeelte van Jesaja se profesie (italic gemerk) of die gedeelte wat Jesus nie gelees het nie sê: en 'n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos!


God se wraak gebeur met Jesus se tweede koms en net soos die eerste gedeelte letterlik vervul was, so moet ook die wraak gedeelte van die profesie ook letterlik vervul word.


 

13 Junie 2023


JESAJA 61:3 AFR53

“om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, 'n gewaad van lof vir 'n verslae gees; sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, 'n planting van die Here, tot sy verheerliking.”


Die frase ‘gewaad van lof’ is 'n metafoor vir die blydskap en danksegging wat God se mense voel wanneer hulle vervul word met die vreugde van die Here. In die Bybel se tyd was dit gebruiklik vir 'n bedroefde persoon om rouklere te dra - sak in as. Die gewaad of kleed van lof is die teenoorgestelde van ‘n sak - dit is helderkleurige klere wat 'n aanduiding is van vreugde.


Jesaja praat van 'n gewaad van lof in sy profesie wat die komende Messias sal voorsien vir dié wat in Sion treur. Die Here belowe dat Hy aan die treurendes die volgende sal gee:

- sieraad in plaas van as,

- vreugde-olie in plaas van rou,

- n kleed van lof in plaas van ’n gees van wanhoop.


Jesus het met vrymoedigheid in die sinagoge verkondig dat Hy die Een was wat eendag die gees van wanhoop sou wegneem en die kleed van lof sou gee. Sodoende het Hy beweer dat Hy die langverwagte Messias is.


In die sinagoge het Jesus 'n belangrike onderskeid getref tussen Sy eerste en tweede koms. In die middel van die lees van Jesaja 61:2 het Hy opgehou. Met Jesus eerste koms het Hy die ‘jaar van welbehae van die Here’ aangekondig, maar ons het nog nie ‘die dag van wraak van onse God’ gesien nie.


Dit beteken ook dat ons nie die volmaakte vervulling van hierdie profesie sal sien tot en met Jesus se wederkoms nie. Vandag kry ons 'n voorsmakie van die lofsang in plaas van 'n verslae gees, maar die belofte sal eers volkome vervul word wanneer Jesus weer terugkeer aarde toe.


Op daardie tydstip sal Israel as God se volk herstel word. Israel se geskiedenis is swaar van oordeel weens hul rebellie.


“Jy het My verwerp, spreek die Here, jy het ál agteruitgegaan; daarom strek Ek my hand teen jou uit en verwoes jou; Ek is moeg om berou te hê.”   JEREMIA 15:6 AFR53


Maar God het Israel steeds lief en het hulle nog nooit hopeloos verlaat nie.


“maar as julle jul tot My bekeer en my gebooie onderhou en dit doen — al was julle verjaagdes aan die einde van die hemel, dan sal Ek hulle daarvandaan versamel en hulle bring na die plek wat Ek verkies het om my Naam daar te laat woon.”   NEHEMÍA 1:9 AFR53


Jesaja het geprofeteer dat God, na 'n tyd van rou, hulle wanhoop in vreugde sou verander.


“En Ek sal die huis van Juda sterk maak en aan die huis van Josef hulp verleen en hulle 'n woonplek aanwys, want Ek ontferm My oor hulle; en hulle sal wees asof Ek hulle nie verwerp het nie, want Ek is die Here hulle God, en Ek sal hulle verhoor.”   SAGARÍA 10:6 AFR53


Dit sal wees asof God hulle roukleed wegneem en dit vervang met 'n vreugdevolle kleed van lof.


Israel se herstel is so sterk, pragtig en nuttig soos bome – bome van redding. Die wonderlikste is dat as mense na die bome kyk, sien hulle dit is plante van die Here.


 

14 Junie 2023


JESAJA 61:4 AFR53

“En hulle sal die ou puinhope bou, die verwoeste plekke uit vroeër dae weer oprig en die verwoeste stede weer nuut maak wat woes was van geslag tot geslag.”


Ons sien puinhope wat huidiglik opgebou word, maar dit is nie die vervulling van hierdie profesie nie. Meeste van dit wat nou opgebou word, gaan vernietig word. Van die grootste en bloedigste veldslae in die geskiedenis van die wêreld moet nog in Israel plaasvind, en soveel van die opgeboude stede sal dan vernietig word. Hierdie profesie dui op die Millenium tydperk waar die puinhope en die verwoeste stede herbou en nuutgemaak gaan word.


Die nie-Jode wat hulle by die Jode aansluit, en saam met hulle een gemeenskap vorm, word voortdurend in die geskrifte van Jesaja verteenwoordig as dat hulle 'n ondergeskikte posisie beklee.


“Die vreemdelinge sal staan en julle kleinvee oppas, en uitlanders sal julle landbouers en wynboere wees.”   JESAJA 61:5 AFR53


God se volk, onder die salwing van die Gees en die bediening van Jesus, het 'n heilige beroep. Hulle is priesters en dienaars van God. God voorsien ander om vir die kleinvee te sorg en om die ploegwerkers en wingerdboere te wees.


“Maar júlle sal priesters van die Here genoem word; aan julle sal gesê word: Dienaars van onse God! Julle sal die rykdom van die nasies eet en op hulle heerlikheid julle beroem.”   JESAJA 61:6 AFR53


In plaas van die skande sal God se volk ‘n dubbel deel ontvang, en in plaas van smaad sal hulle jubel oor hul deel. Ons weet hier word van God se volk gepraat want hulle sal in hul land, wat Israel is, hul dubbel deel in besit neem.


“In plaas van julle skande ontvang julle 'n dubbele deel; en in plaas van die smaad sal hulle jubel oor hul deel. Daarom sal hulle in hul land 'n dubbele deel in besit neem, ewige vreugde geniet.”   JESAJA 61:7 AFR53


Die konsep van die dubbele deel word die eerste keer in die Wet van Moses genoem. ’n Eersgebore seun was geregtig om benewens sy erfreg ook dubbel die erfenis van dié van ’n vader se ander seuns te ontvang.


“Maar hy moet die eersgeborene, die seun van die nie-geliefde vrou, erken deur aan hom 'n dubbele deel te gee van alles wat hy besit; want hy is die eersteling van sy krag: die eersgeboortereg is syne.”   DEUTERONÓMIUM 21:17 AFR53


Elisa se versoek, net voor Elia in die hemel opgeneem was, was om as die opvolger van Elia beskou te word en om dubbel geseën te word met mag in sy profetiese amp.

Dwarsdeur 2 Konings bevestig die baie wonderwerke wat Elisa verrig het dat hy wel 'n dubbele porsie seën gekry het.


“Toe neem Elía sy mantel en rol dit op en slaan op die water; en dit is na weerskante verdeel, sodat hulle twee op droë grond deurgegaan het. En nadat hulle deur was, sê Elía vir Elísa: Begeer wat ek vir jou moet doen, voordat ek van jou af weggeneem word. En Elísa antwoord: Laat dan tog 'n dubbele deel van u gees op my kom.”   II KONINGS 2:8-9 AFR53


Selfs Job het ‘n dubbel porsie seën van God ontvang.


“En die Here het die lot van Job verander toe hy vir sy vriende gebid het; en die Here het Job se besittings vermeerder tot dubbel soveel as voorheen.”   JOB 42:10 AFR53


 

15 Junie 2023


JESAJA 61:8 AFR53

“Want Ek, die Here, het die reg lief; Ek haat die roof met onreg, en Ek sal hulle getrou hul loon gee en 'n ewige verbond met hulle sluit.”


God het reg en geregtigheid lief en haat ongeregtigheid. God se verbond met Sy volk het met Abraham begin en was en is nog steeds ‘n onvoorwaardelike en ewige verbond. Dit maak nie saak hoeveel keer die volk hul rug op God draai nie, God sal Sy deel van die verbond nakom tot in ewigheid.


Hierdie ewige verbond bring seën en seëninge so prominent dat hulle onder die heidene sal uitstaan. Trouens, almal wat hulle sien, sal erken dat God hulle seën.


“En hulle nageslag sal bekend word onder die nasies en hulle nakomelinge onder die volke; almal wat hulle sien, sal hulle daarvoor aansien dat hulle 'n geslag is wat die Here geseën het.”   JESAJA 61:9 AFR53


Die skrywer van Hebreërs spreek 'n seën uit oor hierdie ewige verbond.


“Mag die God van die vrede, wat die groot Herder van die skape, naamlik onse Here Jesus Christus, deur die bloed van die ewige testament uit die dode teruggebring het, julle volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom deur Jesus Christus aan wie die heerlikheid toekom tot in alle ewigheid! Amen.”   HEBREËRS 13:20-21 AFR53


Die geseënde se vreugde is nie in die seën self nie, maar in die Here. Paulus het dit mooi gestel in sy brief aan die mense in Filippi: - “Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!”   FILIPPENSE 4:4 AFR53


God beklee Sy volk met klere van redding en geregtigheid, soos ‘n bruidegom met sy sierkroon en ‘n bruid verfraai met juwele. ‘n Baie beter situasie as toe Adam en Eva met diervelle beklee was om hul sondes te bedek.


“Ek is baie bly in die Here, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel — soos 'n bruidegom wat priesterlik die hoofversiersel ombind, en soos 'n bruid wat haar versier met haar juwele.”   JESAJA 61:10 AFR53


Jesaja skets ‘n prentjie dat in die Millenium met Jesus as Heerser en Koning, waarheid en geregtigheid so oorvloedig sal wees soos gras en vrugte wat welig groei wanneer die aarde met reën gevoed word.


Geregtigheid sal oorvloedig wees oor die hele aarde, en die hele wêreld sal deelneem om die lof van God te vier.


“Want soos die aarde sy plante voortbring, en soos 'n tuin sy gewasse laat uitspruit, so sal die Here Here geregtigheid en lof laat uitspruit voor die oog van al die nasies.”   JESAJA 61:11 AFR53


 

16 Junie 2023


JESAJA 62:1 AFR53

“Ter wille van Sion sal Ek nie swyg nie en ter wille van Jerusalem nie stil wees nie, totdat sy geregtigheid uitbreek soos 'n glans en sy heil soos 'n fakkel wat brand.”


God sal ter wille van Sion nie swyg nie en ter wille van Jerusalem nie stil wees nie - God sal nie stilbly nie totdat daar vir Sy volk redding kom nie. Totdat redding vir hulle deurbreek soos die lig van ‘n brandende fakkel.

Jerusalem se redding sal vir almal duidelik wees. Die nasies sal sien dat Israel gered is en konings sal sien dat Israel mag het en God sal vir Israel ‘n nuwe naam gee.


“En die nasies sal jou geregtigheid sien en al die konings jou heerlikheid; en jy sal met 'n nuwe naam genoem word wat die mond van die Here sal noem.”   JESAJA 62:2 AFR53


God sal trots wees op Sy volk en hulle soos ‘n trofee in Sy hand vashou.


“En jy sal 'n sierlike kroon wees in die hand van die Here en 'n koninklike tulband in die hand van jou God.”   JESAJA 62:3 AFR53


Israel sal nie meer die verstote vrou wees wat in skaamte bloos nie, en die land sal nie meer ‘n verlate wildernis wees nie. Nee, God se volk sal genoem word ‘die een vir wie God lief het!’ en die land van Israel sal genoem word ‘die een wat aan God behoort!’


Net nog ‘n bewys dat God nooit Sy volk sal vergeet nie. Die kerk vervang nooit vir Israel nie, maar elkeen het sy eie plek in God se groot prentjie. God is lief vir Sy volk en die land Israel behoort aan Hom.


“Jy sal nie meer genoem word Verlatene nie, en jou land sal nie meer genoem word Wildernis nie. Maar jy sal genoem word: my welbehae, en jou land: die getroude; want die Here het 'n behae in jou, en jou land sal getroud wees. Want soos 'n jonkman 'n jongedogter trou, so sal jou kinders jou trou; en soos die bruidegom bly is oor die bruid, sal jou God oor jou bly wees.”   JESAJA 62:4-5 AFR53


God het wagte op Jerusalem se mure gesit wat Hom dag en nag aan Sy beloftes moet herinner dat die hele wêreld Jerusalem se roem moet besing.


“o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die Here herinner aan sy beloftes — moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot 'n lof op aarde!”   JESAJA 62:6-7 AFR53


Israel sal aan God se volk behoort en dit wat hulle oes sal deur die volk geëet word en nie deur hul vyande nie.


“Die Here het gesweer by sy regterhand en by sy magtige arm: Waarlik, Ek sal jou koring nie meer gee dat jou vyande dit eet nie, en uitlanders sal jou mos nie drink waarvoor jy gewerk het nie. Maar hulle wat dit insamel, sal dit eet en die Here prys; en hulle wat dit oes, sal dit drink in my heilige voorhowe.”   JESAJA 62:8-9 AFR53


Israel was die opdrag gegee om die pad vir die Messias, die Koning, voor te berei. Met Jesus se wederkoms sal alle vyande van Israel tot niet gemaak word en Israel sal beskryf word is die heilige volk.


“Gaan in, gaan in deur die poorte, berei die weg van die volk! Vul op, vul op die grootpad, gooi die klippe weg, steek 'n banier op oor die volke! Kyk, die Here laat dit hoor tot by die einde van die aarde: Sê aan die dogter van Sion: Kyk, jou heil kom; kyk, sy loon is by Hom en sy beloning is voor sy aangesig. En hulle sal genoem word: die heilige volk, die verlostes van die Here; en jy sal genoem word: die begeerde, die stad wat nie verlaat is nie.”   JESAJA 62:10-12 AFR53


 

129 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page