top of page
  • Regina Torre

Jesaja - Hoofstuk 49 tot 51

Updated: May 10, 2023



26 April 2023


JESAJA 49:1 AFR53

“Hoor na My, eilande, en luister, volke wat ver is! Die Here het My geroep van die moederskoot af, van my geboorte af het Hy my naam genoem.”


Die fokus nou is op die bediening van die dienaar van God. Die dienaar is ‘n individu, wat nie net vir Israel redding moet aankondig nie, maar ook vir die nasies.


Hierdie dienaar is die Messias wat begin om met die eilande en die ver volke te praat. Ons het voorheen gesien dat ‘eilande’ ver lande voorstel, wat dus bevestig word met die volke wat vêr is. Hier word dus nie met God se volk gepraat nie, maar met die res van wêreld, die ‘gentiles’ of die heiden nasies.


Die Messias vertel dat Hy deur God geroep is van die moederskoot af. Hy is geroep soos Jeremia ook geroep is.


“Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; en voordat jy uit die liggaam voortgekom het, het Ek jou geheilig; Ek het jou tot 'n profeet vir die nasies gemaak.”   JEREMIA 1:5 AFR53


Die dienaar van God is by die Naam genoem voordat Hy gebore is, en so is sommer twee profesieë vervul.


“Daarom sal die Here self aan julle 'n teken gee: Kyk, die maagd sal swanger word en 'n seun baar en hom Immánuel noem.”   JESAJA 7:14 AFR53


“en sy sal 'n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”   MATTHÉÜS 1:21 AFR53


Die woorde van die Messias het krag en gesag. Terwyl sommige dalk 'n wapen moet swaai om hul gesag te toon, hoef die Messias net te praat.


Die Messias verkondig profeties dat Hy soos 'n sorgvuldig gemaakte en geslypte pyl in diens van God is, gereed om op die regte tyd gebruik te word. Tot en met daardie tyd aanbreek, sal die Messias verberg wees onder die beskerming van God.


“En Hy het my mond gemaak soos 'n skerp swaard, in die skaduwee van sy hand het Hy My verberg; en Hy het My 'n skerp pyl gemaak, in sy pylkoker My weggesteek;”   JESAJA 49:2 AFR53


Aangesien die res van die konteks van hierdie hoofstuk aandui dat hierdie gedeelte van die Messias praat, is dit die beste om Israel as 'n verwysing van die Messias te beskou.  Hoe kan God van die Messias as Israel praat?  Eerstens omdat die Messias uit Israel kom, en 'n verteenwoordiger van die nasie is. Tweedens, omdat die Messias die naam Israel vervul, wat beteken “deur God regeer”.


“en Hy het vir My gesê: Jy is my kneg, Israel, in wie Ek My verheerlik.”   JESAJA 49:3 AFR53


 

27 April 2023


JESAJA 49:4 AFR53

“Maar Ék het gesê: Tevergeefs het Ek My vermoei, my krag vir niks en vrugteloos verteer! Nogtans is my reg by die Here, en my loon is by my God.”

  

Die Messias het Homself tevergeefs vermoei. Hierdie verwys na die onvermoë om Israel te oorreed om hul Messias in Sy aardse bediening te ontvang. Sy krag is vir niks en vrugteloos verteer.


Maar die tweede helfte van die vers verduidelik dat die beloning vir Sy werk nie gevind word op die dag wat Sy werk voltooi is nie. Die beloning kom later by God.


God kondig dan Jesus se uiteindelike sending aan: om Jakob na Hom toe terug te bring sodat Israel nie meer verstrooi sal wees nie.


“En nou sê die Here wat My van die moederskoot af geformeer het om sy Kneg te wees, om Jakob na Hom terug te bring en dat Israel by Hom versamel mag word — en Ek word geëer in die oë van die Here, en my God is my sterkte —”   JESAJA 49:5 AFR53


Die Dienaar se ‘werk’ was nie net om die stamme van Jakob te herstel en die Israeliete wat gered is na God terug te bring nie, Sy ‘werk’ was ook om ‘n lig vir die nasies of die nie-Jode te wees.


“Hy het gesê: Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot 'n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde.”   JESAJA 49:6 AFR53


Johannes het in die Nuwe Testament ook vir Jesus beskryf as die lig van die mense.


“In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense. En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.”   JOHANNES 1:4-5 AFR53


Die redding wat God bewerk het moet die uithoeke van die aarde bereik. Dit klink baie soos die boodskap waarmee Jesus Sy dissipels nagelaat het voor Sy hemelvaart.


“Die elf dissipels het na Galilea toe gegaan na die berg waarheen Jesus hulle beveel het om te gaan. Toe hulle Hom sien, het hulle Hom aanbid, hoewel party getwyfel het. Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.””   MATTEUS 28:16-20 AFR83


God praat met Sy Dienaar, en openbaar dat Hy deur mense verag sal wees, en deur Sy eie nasie verafsku sal word. Dit is 'n belangrike profesie wat die verwerping van die Messias, deur die mensdom in die algemeen en deur Israel spesifiek, vir ons gegee word.


Konings sal Hom sien en opstaan en prinse sal Hom aanbid en uiteindelik sal die Messias nie verag of verafsku word nie. Hy sal die aanbidding en eer ontvang wat Hom toekom, want Hy is die uitverkorene van God.


“So sê die Here, die Verlosser van Israel, sy Heilige, aan die diep veragte, aan Hom wat 'n afsku is by die volk, 'n Kneg van die heersers: Konings sal dit sien en opstaan, vorste, en hulle sal hul neerbuig ter wille van die Here wat getrou is, van die Heilige van Israel wat U uitverkies het.”   JESAJA 49:7 AFR53


 

28 April 2023


JESAJA 49:8 AFR53

“So sê die Here: In die tyd van die welbehae het Ek U verhoor, en in die dag van heil het Ek U gehelp; en Ek behoed U en gee U as 'n verbond van die volk, om die land weer op te rig, om verwoeste erfenisse te laat beërwe;”


Nou sien ons die Messias se missie of doel in volle sig. Op 'n vasgestelde tyd wat die Vader bepaal, sal die Messias 'n redding word vir Israel. Hy sal 'n verbond word vir Sy volk Israel. Die verbond is die Nuwe Verbond wat in Jeremia 31 weergegee word.


“Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda 'n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie — my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die Here. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle 'n God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.”   JEREMIA 31:31-34 AFR53


Let op dat hierdie 'n verbond is met Israel. Hulle sal almal die Here ken, geen Jood in daardie dag sal agterbly nie. Almal is gered en almal word wedergebore met 'n nuwe liggaam. Jesaja sê dit gebeur op 'n dag wat slegs die Vader bepaal.


Dié dag gebeur met Jesus se wederkoms, en hier is Jesus se eie woorde oor die gekose dag.


“Maar van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.”   MATTHÉÜS 24:36 AFR53


Hoe weet die Vader alleen dit? Want die Vader alleen bepaal dit. Soos Jesaja 49:8 sê: die Vader sal op ‘n tyd wat Hy goeddink dit laat gebeur. Die Afr83 weergawe lees makliker.


“So sê die Here: Op 'n tyd wat Ek goeddink, sal Ek jou gebede verhoor, op die dag wanneer Ek wil red, sal Ek jou help. Ek sal jou beskerm en jou my verbond met my volk maak om sy land te herstel, om sy verlate eiendom weer in besit te neem,”   JESAJA 49:8 AFR83


Wanneer die Jode van die Verdrukking die Heilige Gees ontvang en die Naam van Christus aanroep, op daardie oomblik word Jesus 'n verbond vir die volk (vir Israel).


Die oorblywende verse beskryf die uitwerking van daardie oomblik. Die Messiaanse Koninkryk en Israel se heerlikheid.


“om te sê aan die gevangenes: Gaan uit! aan hulle wat in duisternis is: Kom te voorskyn! By die paaie sal hulle wei, en op al die kaal heuwels sal hulle weiveld wees. Hulle sal geen honger en geen dors hê nie, en die woestyngloed en die son sal hulle nie steek nie; want hulle Ontfermer sal hulle lei en hulle saggies aanbring na die fonteine van water. En Ek sal al my berge tot 'n weg maak, en my grootpaaie sal opgevul wees. Kyk, hulle hiér kom van ver, en kyk, hulle dáár kom van die noorde en van die weste, en hulle dáár kom uit die land van die Siniete. Jubel, o hemele, en juig, aarde; en berge breek uit in gejubel! Want die Here het sy volk getroos en ontferm Hom oor sy ellendiges.”   JESAJA 49:9-13 AFR53


 

29 April 2023


JESAJA 49:14 AFR53

“Maar Sion sê: Die Here het my verlaat, en die Here het my vergeet!”


Die eerste helfte van hierdie hoofstuk beskryf die roeping van die Messias vanuit die Messias se oogpunt. Die tweede helfte beskryf dieselfde roeping maar vanuit Juda se oogpunt.


Die volk is buite hul land en buite hul stad en voel dat God hulle verlaat het.


God antwoord Sy volk deur te vra of 'n ma haar eie kind kan vergeet, en indien so iets sou gebeur, God sal nogtans nie Sy volk vergeet nie.


“Kan 'n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie!”   JESAJA 49:15 AFR53


God sê vir Sy volk dat Hy hulle se naam op Sy handpalms gegraveer het. Soos Jerusalem se mure die stad se beskerming was, so is God Sy volk se beskerming.


“Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My.”   JESAJA 49:16 AFR53


Die volk se seuns sal uiteindelik vanuit al die lande waar hulle woon, terugkeer na Israel. Hierdie profesie word huidiglik vervul met die Israeliete wat terugkeer na Israel.


“Jou seuns kom gou, maar jou verwoesters en jou vernielers sal van jou af wegtrek.”   JESAJA 49:17 AFR53


Die volk moet kyk en sien wat gebeur. Hul kinders kom almal bymekaar, hulle kom huis toe. Israel sal so bly wees oor hul kinders wat terug kom soos ‘n bruid verheug is oor haar juwele.


“Slaan jou oë rondom op en kyk: hulle almal kom bymekaar, hulle kom na jou toe! So waar as Ek leef, spreek die Here, sekerlik sal jy hulle almal aansit soos 'n versiersel, hulle ombind soos 'n bruid.”   JESAJA 49:18 AFR53


Israel wat eens ‘n puinhoop was en woes en leeg gestaan het, sal in die toekoms te klein wees om al die kinders wat terugkeer te huisves.


“Want jou puinhope en jou verwoeste plekke en jou verwoeste land — sekerlik, nou sal jy te nou wees vir die inwoners, en die wat jou verslind het, is ver weg!”   JESAJA 49:19 AFR53


 

30 April 2023


JESAJA 49:20 AFR53

“Nog sal die kinders waarvan jy beroof is, voor jou ore sê: Die plek is te nou vir my; maak vir my plek, dat ek kan woon!”


Die kinders wat in die toekoms na Israel gaan terugkeer sal in jou ore kom kerm en sê dat die land te klein is vir hulle.


Israel sal dan in hul harte wonder hoe die bevolkingsontploffing gebeur het, want hulle was kinderloos en onvrugbaar. Waar kom almal vandaan en wie het hulle grootgemaak?


“Dan sal jy in jou hart sê: Wie het vir my hierdie kinders gebaar, aangesien ek kinderloos en onvrugbaar was, verban en verstote? En wie het hulle grootgemaak? Kyk, ek het toe alleen oorgebly; hierdie kinders — waar was húlle?”   JESAJA 49:21 AFR53


Klink soos Elia toe hy gedink het hy is die enigste profeet wat oorgebly het en nou soek die vyand hom.


“En hy antwoord: Ek het baie geywer vir die Here, die God van die leërskare; want die kinders van Israel het u verbond verlaat, u altare afgebreek en u profete met die swaard gedood, sodat ek alleen oorgebly het, en hulle soek my lewe om dit weg te neem.”             I KONINGS 19:10 AFR53


Dan gee God die antwoord van waar die kinders kom. Hulle kom uit al die verskillende nasies van die wêreld.


Die proses het begin toe Israel ‘n nasie geword het. David Ben-Gurion verklaar op 14 Mei 1948 om 16:00 die middag, die nuwe staat Israel se onafhanklikheid van Britse mandaat, en hy is toe ook Israel se eerste Eerste Minister.


Huidige statistieke toon dat Israel se populasie gegroei het van 806,000 inwoners in Mei 1948, tot 9,727,000 inwoners in April 2023. (https://www.jewishvirtuallibrary.org/latest-population-statistics-for-israel)


“So sê die Here Here: Kyk, Ek sal my hand ophef na die nasies en my banier opsteek na die volke; dan sal hulle jou seuns aan die boesem bring, en jou dogters sal op die skouer gedra word; en konings sal jou oppassers wees, hulle vorstinne jou pleegmoeders; hulle sal voor jou neerbuig met die aangesig na die aarde toe en die stof van jou voete lek; en jy sal weet dat Ek die Here is, dat hulle nie beskaamd staan wat My verwag nie.”   JESAJA 49:22-23 AFR53


God bevestig dat Hy namens Israel sal veg. Enige nasie of enige volk wat die Jode teëstaan, veg nie net met 'n ras van mense nie, hulle veg met die ewige God van die hemel.


“Sal van 'n held die buit afgeneem word? Of sal die gevangenes van 'n regverdige ontvlug? Waarlik, so sê die Here: Ja, die gevangenes van die held sal afgeneem word, en die buit van die tiran sal ontvlug; en jou bestryder sal Ék bestry en jou kinders sal Ék verlos. En Ek sal jou verdrukkers hulle eie vlees laat eet, en van hulle eie bloed sal hulle dronk word soos van mos. Dan sal alle vlees gewaar word dat Ek, die Here, jou Heiland is, en jou Verlosser die Magtige van Jakob.”   JESAJA 49:24-26 AFR53


Onthou altyd!


“Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie.”   PSALMS 121:4 AFR53


 

1 Mei 2023


JESAJA 50:1 AFR53

“So sê die Here: Waar is tog die skeibrief van julle moeder waarmee Ek haar verstoot het? Of wie is daar van my skuldeisers aan wie Ek julle verkoop het? Kyk, weens jul ongeregtighede is julle verkoop, en weens jul oortredinge is julle moeder verstoot.”


Jesaja skryf hierdie woorde aan 'n toekomstige geslag Jode. Diegene wat van sy dag af 150 jaar in die toekoms sal lewe, en hulle sal in ballingskap in Babilon wees wanneer hulle sy woorde hier lees.


Jesaja praat in die teenwoordige tyd asof hy daar by hulle is, en daarom moet ons hierdie woorde lees soos dit vanuit hulle oogpunt gesien en verstaan ​​sou word.


God open hierdie hoofstuk deur 'n oproep van die Jode wat in ballingskap is te beantwoord. Die volk het tot God geroep dat Hy van hulle geskei het, en dat Hy hulle in hul gevangenskap verlaat het.


In reaksie hierop antwoord God dat Hy nie van hulle geskei het nie, want as Hy het, sou Hy ’n skeibrief uitgereik het. Juda, die suidelike Koninkryk is egter in ballingskap weens hul eie sondes, hul ballingskap was die gevolg van hul eie oortredings.


Die volk Israel word idiomaties gesien as die vrou van God. Israel was ontrou aan God omdat sy agter vals gode aan gehoereer het. Dit impliseer dat God geregverdig sou wees om van haar te skei, maar Hy doen dit nie.


Mans kon, as gevolg van omstandighede, by geleentheid skeibriewe aan hulle vrouens stuur, soos hulle toegelaat is om te doen deur die wet van Moses.


“As 'n man 'n vrou neem en met haar trou, en as sy dan geen guns in sy oë vind nie, omdat hy iets skandeliks aan haar ontdek het, en hy haar 'n skeibrief skrywe en in haar hand gee en haar uit sy huis wegstuur,”   DEUTERONÓMIUM 24:1 AFR53


Die profeet Jeremia vertel dat God van Sy vrou Israel (die noordelike Koninkryk) geskei het as gevolg van haar owerspel, maar nie van Sy vrou Juda nie (die suidelike Koninkryk).


“En Ek het gesien toe Ek uit oorsaak van die owerspel van die afkerige, Israel, haar verstoot en haar haar skeibrief gegee het, dat die ontroue, haar suster Juda, nie bevrees was nie, maar gegaan en ook self gehoereer het.”   JEREMIA 3:8 AFR53


God is verder by geen mens in die skuld om Sy kinders los te koop of te verkoop nie. 'n Man wat te veel skuld het, verkoop dalk sy kinders om onder die skuld uit te kom, maar God was nie in daardie situasie nie. Juda is dus nie losgekoop of geskei nie.


Dit het gebeur dat vaders hul kinders kon verkoop tot en met die jaar van vrylating, om van hul skuld onthef te word.


“En as iemand sy dogter as slavin verkoop, mag sy nie soos die slawe weggaan nie.”   EXODUS 21:7 AFR53


Die jaar van vrylating of die jubeljaar gebeur elke vyftig jaar wanneer elkeen se besitting weer na hulle terugkeer en dan ook slawe teruggaan na hul familie.


“En julle moet die vyftigste jaar heilig en 'n vrylating in die land uitroep aan al sy bewoners. Dit moet vir julle 'n jubeljaar wees; dan moet julle elkeen na sy besitting en elkeen na sy geslag teruggaan.”   LEVÍTIKUS 25:10 AFR53


 

2 Mei 2023


JESAJA 50:2 AFR53

“Waarom het Ek gekom en daar was niemand nie, het Ek geroep en niemand geantwoord nie? Is my hand werklik te kort om te verlos, of is daar in my geen krag om uit te red nie? Kyk, deur my dreiging maak Ek die see droog; Ek maak die riviere tot 'n woestyn, sodat hulle visse stink, omdat daar geen water is nie, en hulle sterwe van dors.”


God vra Sy mense: Hoe gebeur dit dat Ek my knegte die profete na julle stuur, en daar is niemand om My boodskap te hoor nie, Ek roep en daar is niemand wat antwoord nie?


God verstaan nie Sy mense se minagting en rebellie nie. Hy vra of hulle dink dat Hy hulle nie kan red of verlos nie. Is God se hand te kort om hulle te verlos of het God geen krag om hulle te red nie?


God kan inderdaad Sy volk red en nou gee Hy voorbeelde van waar Hy hulle gered en verlos het sodat hulle kan onthou! Nog ‘n rede hoekom hulle elke jaar die feeste moet hou, want dan onthou hulle God se grootheid en mag.


Wanneer God dreig of tereg wys, het die volgende gebeur:


God het die see droog gemaak  - “Toe steek Moses sy hand oor die see uit, en die Here het deur 'n sterk oostewind die see laat wegvloei, die hele nag deur, en die see droog gemaak; en die waters is gekloof.”   EXODUS 14:21 AFR53


God laat die waters opdroog - “En Elía, die Tisbiet, uit Tisbe in Gílead, het vir Agab gesê: So waar as die Here, die God van Israel, leef, voor wie se aangesig ek staan, daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord!”   I KONINGS 17:1 AFR53


Die visse in die riviere stink en sterf - “En die visse in die Nyl sal doodgaan, sodat die Nyl sal stink. En die Egiptenaars sal vergeefs trag om die water uit die Nyl te drink.”   EXODUS 7:18 AFR53


God het ook die hemele donker gemaak en die Egiptenare bedek met ‘n roukleed.


“Ek beklee die hemel met swartheid en bedek dit met 'n roukleed.”   JESAJA 50:3 AFR53


God bedek die hemele met donkerte  - “Toe Moses sy hand uitsteek na die hemel, kom daar 'n dik duisternis in die hele Egipteland, drie dae lank.”   EXODUS 10:22 AFR53


Egipte word bedek met ‘n roukleed - “En middernag het die Here al die eersgeborenes in Egipteland getref, van die eersgeborene van Farao af wat op sy troon gesit het, tot die eersgeborene van die gevangene toe wat in die gevangenis was, en al die eersgeborenes van die diere. Toe staan Farao in die nag op, hy en al sy dienaars en al die Egiptenaars, en daar was 'n groot gejammer in Egipte, want daar was geen huis waar geen dooie in was nie.”   EXODUS 12:29-30 AFR53


God wys vir Sy volk dat Hy nog altyd daar was vir hulle, en in die toekoms daar sal wees vir hulle, want Sy arm is nie te kort nie, Sy arm is uitgestrek en altyd daar om te help.


“Daarom, sê aan die kinders van Israel: Ek is die Here, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, en Ek sal julle verlos deur 'n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte;”. EXODUS 6:5 AFR53


 

3 Mei 2023


JESAJA 50:4 AFR53

“Die Here Here het My 'n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde; Hy wek elke môre, Hy wek my oor om te hoor soos die leerlinge.”


Die Messias praat hier in die eerste persoon. Die Here Here is God wat die Messias ‘n geoefende tong gegee het. Die tong van dissipels, wat beteken dat die Vader met Hom as ‘n student gepraat het.


God het die Messias bekwaam gemaak om ander te onderrig, en was veral oor die onderwerp van godsdiens toegerus met intelligensie en welsprekendheid. Selfs die geleerdes van Jesus se tyd was verstom oor Sy wysheid.


“En Hy het in sy vaderstad gekom en hulle geleer in hul sinagoge, sodat hulle verslae was en gesê het: Waar kry Hy hierdie wysheid en kragte vandaan?”   MATTHÉÜS 13:54 AFR53


Jesus was bevoeg om die vermoeides te verkwik met Sy woorde. Die wat swaar belas was met sonde te verlig en hulle wat gedruk gegaan het onder rampe en beproewinge te troos.


“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.”   MATTHÉÜS 11:28 AFR53


Jesus het elke oggend vroeg wakker geword en in gebed met die Vader gepraat. God het Sy Seun vroeg elke oggend onderrig en leiding gegee en voorberei vir Sy werk hier op aarde.


“En vroeg in die môre, nog diep in die nag, het Hy opgestaan en uitgegaan en na 'n eensame plek vertrek en daar gebid.”   MARKUS 1:35 AFR53


Die Messias verklaar verder dat God Sy ore geopen het. Jesus het geluister wat die Vader Hom geleer het en Hy was nie wederstrewig om Sy opdrag uit te voer nie. Jesus was gewillig om Sy gegewe taak aan te pak en om Sy Vader se wil aan die mensdom oor te dra.


“Die Here Here het my oor geopen, en Ek was nie wederstrewig nie; Ek het nie agteruitgewyk nie.”   JESAJA 50:5 AFR53


Selfs Dawid het ‘n profetiese psalm geskryf oor die Messias se koms en die feit dat Hy gewillig Sy opdrag hier uitgevoer het, omdat dit vooraf so bepaal was.


“Groot dinge het U gedoen, Here my God — u wonders en gedagtes vir ons; niemand kan met U vergelyk word nie. Wil ek dit verkondig en uitspreek, dan is dit te veel om te vertel. U het geen behae in slagoffer of spysoffer nie; ore het U vir my gegrawe; brandoffer en sondoffer het U nie geëis nie. Toe het ek gesê: Kyk, ek kom; in die boekrol is dit my voorgeskrywe.”   PSALMS 40:6-8 AFR53


Die skrywer van Hebreërs kyk terug na Dawid se profetiese woorde, en vertel dat dit net so gebeur het soos God se dienaar geprofeteer het. Jesus het aarde toe gekom om elkeen van ons van ons sondes te verlos deur Sy liggaan te offer eens en vir altyd.


“want die bloed van stiere en bokke kan onmoontlik die sonde wegneem. Daarom sê Hy, as Hy in die wêreld inkom: Slagoffer en spysoffer wou U nie hê nie, maar U het vir My 'n liggaam berei. Brandoffers en sondoffers het U nie behaag nie. Toe het Ek gesê: Kyk, Ek kom — in die boekrol is dit van My geskrywe — om u wil te doen, o God. Nadat Hy hierbo gespreek het: Slagoffer en spysoffer en brandoffers en sondoffers wou U nie hê en het U nie behaag nie — wat volgens die wet geoffer word — het Hy daarna gesê: Kyk, Ek kom om u wil te doen, o God. Hy neem die eerste weg om die tweede te stel. Deur hierdie wil is ons geheilig deur die offer van die liggaam van Jesus Christus, net een maal.”   HEBREËRS 10:4-10 AFR53


 

4 Mei 2023


JESAJA 50:6 AFR53

“Ek het my rug gegee vir die wat slaan, en my wange vir die wat die hare uitpluk; my aangesig het Ek nie verberg vir smaadhede en bespuwing nie.”


Hoekom het die mense Jesus direk na Sy opstanding nie herken nie?


Die dissipels het nie verstaan wat Jesus vroeër vir hulle geleer het nie, en het nie gedink dat Hy fisies sou opstaan nie. So hulle het hom glad nie verwag nie.


“Want Hy het sy dissipels geleer en vir hulle gesê: Die seun van die mens word oorgelewer in die hande van die mense, en hulle sal Hom doodmaak; en nadat Hy gedood is, sal Hy die derde dag opstaan. En hulle het die gesegde nie verstaan nie en was bang om Hom uit te vra.”   MARKUS 9:31-32 AFR53


Kom ons kyk aan wie Jesus verskyn het na Sy opstanding


Sondag oggend – Jesus verskyn aan Maria


“Jesus sê vir haar: Vrou, waarom ween jy? Wie soek jy? Sy het gedink dat dit die tuinier was en antwoord hom: Meneer, as u Hom weggedra het, sê vir my waar u Hom neergelê het, en ek sal Hom wegneem.”   JOHANNES 20:15 AFR53


Sondag middag – Jesus verskyn aan die Emmaüsgangers


“En die een wie se naam Kléopas was, antwoord en sê vir Hom: Is U alleen 'n vreemdeling in Jerusalem en weet U nie van die dinge wat in hierdie dae daarin gebeur het nie? En Hy sê vir hulle: Watter dinge? En hulle antwoord Hom: Die dinge aangaande Jesus, die Nasaréner, wat 'n profeet was, kragtig in werk en woord voor God en die hele volk;”   LUKAS 24:18-19 AFR53


Sondag aand – Jesus verskyn aan die apostels


“En terwyl hulle hieroor praat, staan Jesus self in hul midde en sê vir hulle: Vrede vir julle! Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle 'n gees sien.”   LUKAS 24:36-37 AFR53


Ons weet nie hoekom niemand Jesus herken het nie, maar hier is ‘n moontlike oplossing.


In vandag se vers vertel Jesus self vir ons dat Sy baard uitgepluk was. Hy het Sy wange gegee vir die wat die hare uitgepluk het. Hy was ook in die gesig geslaan en gespoeg want Hy het Sy aangesig nie verberg vir smaadhede en bespuwings nie. Kan jy jouself indink hoe Jesus se gesig gelyk het!


Sonder Sy baard en met die wonde aan Sy gesig sou niemand Hom herken het nie. Hierdie was die hoogtepunt van die lydende Dienaar se werk hier op aarde.


Jesus kon al die marteling slegs verduur omdat God daar was om Hom help!


“Maar die Here Here help My; daarom kom Ek nie in die skande nie; daarom het Ek my aangesig gemaak soos 'n keisteen, en Ek weet dat Ek nie beskaamd sal staan nie.”   JESAJA 50:7 AFR53


 

5 Mei 2023


JESAJA 50:8 AFR53

“Hy is naby wat My reg verskaf. Wie wil met My 'n regsaak begin? — laat ons saam optree! Wie is my teëparty? — laat hom nader kom na My toe!”


Die Messias verklaar, in die tyd van Sy smart, dat God wat regverdig maak, naby Hom is. Die Messias sal voor onregverdige aardse regters verskyn en so Sy werk hier op aarde voltooi. Jesus se fokus is egter op God, die regverdige Regter, wat eendag ALMAL gaan oordeel.


“En Jesus het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Vader, in u hande gee Ek my gees oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.”   LUKAS 23:46 AFR53


Met die uiteindelike Regter om Sy onskuld te verklaar, wat gee die Messias om vir die aardse aanklaer.


“Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak. Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.”   ROMEINE 8:33-34 AFR53


Die Messias bevestig dat met God aan Sy kant, wie kan Hom veroordeel. Sy vyande sal wees soos ‘n kledingstuk wat deur motte opgevreet word - stof!


“Kyk, die Here Here help My: wie is dit wat My kan veroordeel? Kyk, hulle sal almal verslyt soos 'n kleed; die mot sal hulle eet.”   JESAJA 50:9 AFR53


Die skrywer van Romeine beaam Jesus se woorde met sy eie: As God vir ons is, wie kan teen ons wees!


“Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?”   ROMEINE 8:31 AFR53


Jesus rig 'n beroep op die leser - gehoorsaam die Vader as 'n dienskneg en as dit bitter sleg gaan, vertrou dan op die Naam van die Here en steun op God.


“Wie is daar onder julle wat die Here vrees, wat na die stem van sy Kneg luister, wat in duisternisse wandel en geen ligstraal sien nie? — laat hy vertrou op die Naam van die Here en steun op sy God!”   JESAJA 50:10 AFR53


Nou word die aangespreek wat opstokers is en hulle met vuurpyle omgord. Hou so aan en julle sal in smart verkeer en in die plek beland waar die pyn nooit ophou nie.


“Kyk, julle almal wat 'n vuur aansteek, wat julle met vuurpyle omgord — wandel in die vlam van julle vuur en onder die vuurpyle wat julle aangesteek het! Van my hand het dit julle oorgekom; in smart sal julle neerlê.”   JESAJA 50:11 AFR53


 

6 Mei 2023


JESAJA 51:1 AFR53

“Luister na My, julle wat die geregtigheid najaag, wat die Here soek! Aanskou die rots waaruit julle gekap is en die holte van die put waaruit julle gegrawe is.”


God praat nou deur Sy profeet Jesaja en sê dat die volk wat in ballingskap is na Hom moet luister.  Hulle wat steeds glo in God, en wat nieteenstaande hul ballingskap en slawerny steeds reg wil doen en na God se wil vra. God benadruk dat Hy die volk gekies het van die begin af.


Die rots waaruit hulle gekap is, is Abraham en Sara, wat God geroep het toe hulle kinderloos was, en God het hulle geseën met ‘n groot nageslag. Die groot nageslag is nou hulle wat in ballingskap is, en wat die Here soek.


“Aanskou Abraham, julle vader, en Sara, wat julle gebaar het; want as eenling het Ek hom geroep en hom geseën en hom vermenigvuldig.”   JESAJA 51:2 AFR53


As God uit een persoon, Abraham, die hele nasie Israel kon laat voortspruit, dan kan Hy beslis uit die getroue oorblyfsel weer 'n volk skep.


“Mensekind, die bewoners van daardie puinhope in die land van Israel spreek en sê: Abraham was 'n eenling, en tog het hy die land as besitting ontvang; maar ons is baie; aan ons is die land as besitting gegee!”   ESÉGIËL 33:24 AFR53


“Daarom is daar ook gebore uit een vader, en dit 'n verstorwene, kinders soos sterre van die hemel in menigte en soos die sand aan die strand van die see, wat ontelbaar is.”   HEBREËRS 11:12 AFR53


Sion was die naam van een van die heuwels waarop die stad Jerusalem gebou is, en wat Dawid

van die Jebusiete afgeneem het. Die naam Sion word gebruik om die stad self aan te dui, en ook dikwels om die hele Jerusalem voor te stel.


“Maar Dawid het die bergvesting Sion ingeneem; dit is die stad van Dawid.”   II SAMUEL 5:7 AFR53


God sal nie net Sy volk nie, maar ook hul land in ere herstel. Die land wat vir sewentig jaar lank bar gelê het. Die puinhope en woestyn sal word soos die tuin van Eden. Die mense sal juig met vreugde en blydskap en danksegging en liedere.


“Want die Here vertroos Sion; Hy vertroos al sy puinhope en maak sy woestyn soos Eden en sy wildernis soos die tuin van die Here; vreugde en blydskap sal daarin gevind word, danksegging en die klank van liedere.”   JESAJA 51:3 AFR53


Hierdie beloftes is gedeeltelik vervul vir die Jode wat uit hul ballingskap van Babilon gekom het. Dan is dit ook gedeeltelik vervul vir Israel vandag wat die broodmandjie van die Midde Ooste is en genoeg water het om selfs uit te voer. Die finale vervulling kom in die Millenium wanneer Israel se grense uitgebrei word tot dit wat God oorspronklik beloof het en elke stukkie grond terugkeer na Eden soos God in die vers belowe.


 

7 Mei 2023


JESAJA 51:4 AFR53

“Luister na My, my volk, en neig die oor tot My, my nasie! Want 'n wet sal van My uitgaan, en Ek sal my reg vasstel as 'n lig van die volke.”


Wanneer die Messias uiteindelik Israel weer bymekaarmaak, seën en red, sal Hy ook Sy geregtigheid uitstraal aan die hele wêreld – aan Israel (My nasie) en aan al die nasies (die volke).


Jesus se tweede koms word hier beskryf waar Hy oorwin en die volke sal oordeel. Ons word ook detail gegee van wat gaan gebeur met die hemel en aarde op die tydstip. Die hemel sal verdwyn soos ‘n rookwolk, die aarde sal verslyt soos ‘n kledingstuk en die bewoners van die aarde sal sterf soos muskiete.


“Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.”MATTHÉÜS 24:35 AFR53


“Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as 'n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense.”   II PETRUS 3:7 AFR53


Die bewoners van die aarde word hier genoem in teenstelling met die wat nie ‘n vaste verblyf op aarde wil he nie. Die wat God haat en die wêreld lief het teenoor ons wat ons permanente verblyf eerder eendag saam met Christus sien.


“want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige.”   HEBREËRS 13:14 AFR83


Die hemel en die aarde sal eendag vergaan, maar die verlossing wat God bewerk sal vir ewig wees.


“My oorwinning is naby, my heil trek uit en my arms sal die volke oordeel; op My sal die eilande wag, en op my arm sal hulle hoop. Slaan julle oë op na die hemel en aanskou die aarde daaronder; want die hemel sal soos rook verdwyn en die aarde soos 'n kleed verslyt en sy bewoners soos muskiete sterwe; maar my heil sal vir ewig bestaan en my geregtigheid nie verbreek word nie.”   JESAJA 51:5-6 AFR53


God bevestig dat die wat doen wat reg is moet aanhou om na Hom te luister, en moet nie bang wees vir die spot van die mense nie. Hierdie mense sal vergaan maar God se geregtigheid sal vir ewig bly staan.


“Luister na My, julle wat die geregtigheid ken, volk in wie se hart my wet is! Wees nie bevrees vir die smaad van mense en skrik nie vir hulle skimptaal nie; want die mot sal hulle opeet soos 'n kleed, en die wurm sal hulle verteer soos wol; maar my geregtigheid sal vir ewig bestaan en my heil van geslag tot geslag.”   JESAJA 51:7-8 AFR53


Paulus verduidelik vir ons mooi in sy brief aan die Romeine.


“Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees? Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?”   ROMEINE 8:31-32 AFR53


 

8 Mei 2023


JESAJA 51:9 AFR53

“Ontwaak, ontwaak, beklee u met sterkte, arm van die Here! Ontwaak soos in die dae van die voortyd, onder die geslagte van lank gelede. Is dit nie u wat Rahab neergekap, wat die seemonster deurboor het nie?”


Die volk in ballingskap roep na God om Sy lang arm wat wonderwerke doen wakker te maak en hulle te kom verlos uit hul ballingskap soos Hy hulle voorheen uit Egipte verlos het.


Rahab is ‘n verwysing na Egipte en die seemonster ‘n verwysing na Farao. In die groter prentjie is Egipte ‘n voorstelling van die wêreld en Farao ‘n voorstelling van Satan, daarom die seemonster.


Juda herinner God dat Sy lang arm die vloed oor die hele aarde gebring het, en dit weer droog gemaak het. God se lang arm het ook die see oopgemaak vir die volk om deur te trek toe Egipte hulle gejaag het.


“Is dit nie u wat die see, die waters van die groot wêreldvloed drooggemaak het nie, wat van die dieptes van die see 'n pad gemaak het vir die deurtog van die verlostes nie?”   JESAJA 51:10 AFR53


Met elke vyand wat verslaan is, en elke hindernis wat oorkom is, word God se volk herstel. Dit is nog 'n belofte met beide 'n nabye en 'n vêr vervulling.


“So sal dan die losgekooptes van die Here teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry; kommer en gesug vlug weg.”JESAJA 51:11 AFR53


God herinner Sy volk dat Hy die Een is wat troos en help. Wanneer hulle bang is vir sterflike en swak mense het hulle van God vergeet.


“Ek is dit wat julle troos! Wie is jy, dat jy bevrees is vir die mens wat moet sterwe, en vir die mensekind wat oorgegee word soos gras? — dat jy vergeet die Here wat jou gemaak het, wat die hemel uitgesprei en die aarde gegrond het; dat jy gedurigdeur die hele dag bewe vir die grimmigheid van die verdrukker as hy dit daarop toelê om te verwoes? Waar is dan die grimmigheid van die verdrukker?”   JESAJA 51:12-13 AFR53


God sal Sy volk van hul ballingskap red en hulle sal terugkeer na Sion. Weereens 'n belofte met beide 'n nabye en 'n vêr vervulling.


“Die in boeie gekromde word gou losgelaat en sal nie sterwend in die kuil neerdaal nie, en sy brood sal nie ontbreek nie. Maar Ek is die Here jou God wat die see in beroering bring, sodat sy golwe bruis; Here van die leërskare is sy Naam! En Ek het my woorde in jou mond gelê en in die skaduwee van my hand jou verberg; om die hemel te plant en die aarde te grond en aan Sion te sê: My volk is jy!”   JESAJA 51:14-16 AFR53


 

9 Mei 2023


JESAJA 51:17 AFR53

“Ontwaak, ontwaak, staan op, Jerusalem, jy wat uit die hand van die Here die beker van sy grimmigheid gedrink het; die kelk van bedwelming het jy uitgedrink, uitgesuig.”


Hierdie wekroep word direk aan Jerusalem gerig. God se mense val soms geestelik aan die slaap en moet dan wakker gemaak word.


“En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het. Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord.”   ROMEINE 13:11-12 AFR53


'n Algemene beeld van oordeel in die Ou Testament is die beker van God se toorn of woede. Die beeld wat weergegee word is dat God 'n beker vol van Sy toorn gee aan diegene wat onder Sy oordeel is, en hulle moet dit drink.


Onder al die inwoners van Jerusalem in die tyd van die ballingskap, was daar niemand wat die oproerige en verstrooide sake van die volk kon herstel nie. Nie een van haar leiers kon help nie.


“Nie een van al die seuns wat sy gebaar het, het haar gelei nie; en nie een van al die seuns wat sy grootgemaak het, het haar aan die hand gegryp nie.”   JESAJA 51:18 AFR53


Twee dinge het jou oorgekom - wydverspreide verwoesting deur hongersnood, en vernietiging deur die swaard. Wie sal vir jou jammer wees?


“Hierdie twee dinge het jou oorgekom — wie het medelyde met jou? — verwoesting en verbreking, hongersnood en swaard. Hoe sou ek jou kan troos?”   JESAJA 51:19 AFR53


Jerusalem se inwoners is platgeslaan deur God se beker van woede.


“Jou kinders het onmagtig gelê by al die straathoeke soos 'n eland in 'n vangkuil, vol van die grimmigheid van die Here, van die dreiging van jou God. Daarom, hoor tog dit, ellendige, en jy wat dronk is, maar nie van wyn nie!”   JESAJA 51:20-21 AFR53


God praat as regter wat Sy volk se saak verdedig. Die beker van bedwelming en die kelk van grimmigheid word weggeneem van God se volk. Hulle straf is verby en die ballinge sal terugkeer uit Babilon na Jerusalem.


“So sê jou Here, die Here, en jou God wat die saak van sy volk verdedig: Kyk, Ek neem die beker van bedwelming uit jou hand, die kelk van my grimmigheid; jy sal dit verder nie meer drink nie.”   JESAJA 51:22 AFR53


God neem die beker van grimmigheid uit die hande van Sy volk en plaas dit in die hande van Sy volk se vyande - die Babeloniërs wat deur die Meders en Perse oorwin is.


“Maar Ek sal dit in die hand gee van die wat jou droefheid aandoen, wat vir jou gesê het: Buig, dat ons oor kan gaan; en jy moes jou rug maak soos die grond en soos 'n straat vir die wat daaroor gaan.”   JESAJA 51:23 AFR53


Israel se beker van grimmigheid was nie naastenby vir ewig weggeneem nie. Hulle het en sal nog tot en met Jesus se tweede koms nog vele male uit die beker moet drink. Maar Jesus oorwin die vyand met Sy tweede koms en die beker van God se grimmigheid sal dan in die hande van Israel se vyande geplaas word.


 

108 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page