top of page
  • Regina Torre

Jesaja - Hoofstuk 46 tot 48

Updated: Apr 26, 2023



18 April 2023


JESAJA 46:1 AFR53

“Bel het inmekaargesak, Nebo staan krom; hulle afgode is vir die diere en die vee; beelde wat julle rondgedra het, is opgelaai, 'n vrag vir die vermoeide diere.”


Bel en Nebo is twee van die tradisionele gode van die Babiloniërs wat dit nou ontgeld in die verwoesting wat van die Persiese leërs sal kom.


Bel was Bel-Marduk, wat later die god Jupiter van die Romeine geword het, en Nebo was die seun van Bel-Marduk en het later die god Mercurius geword.


Die gode word vir die oomblik van hul beelde geskei, en hulle kan niemand red nie. Die swaar beelde wat die pakdiere vermoei, word met die wat hul aanbid in gevangenskap weggevoer.


“Saam staan hulle krom, inmekaargesak; hulle kon die vrag nie red nie, maar het self in gevangenskap gegaan.”   JESAJA 46:2 AFR53


In teenstelling met die valse gode wat as ‘n las weggedra word, ondersteun die ware God Sy volk.


“Luister na My, o huis van Jakob en die hele oorblyfsel van die huis van Israel, julle wat deur My gedra is van die moederskoot af, opgeneem is van die geboorte af;”   JESAJA 46:3 AFR53


God benadruk dat Hy vir Sy volk sorg van hul geboorte tot en met die einde van hul lewens. Hy is nooit afwesig nie en altyd daar om hulle te dra en te red.


“en tot die ouderdom toe is Ék dieselfde, ja, tot die grysheid toe sal Ek julle dra; Ék het dit gedoen, en Ék sal julle opneem, en Ék sal dra en red.”   JESAJA 46:4 AFR53


God vra Sy volk met watter gode wil hulle Hom vergelyk en gelykstel. Is daar gode wat kan doen wat God kan doen?


“By wie wil julle My vergelyk en My net so maak en My gelykstel, dat ons eenders kan wees?”   JESAJA 46:5 AFR53


Die wat geld het vra ‘n goudsmid om ‘n goue god te maak. Die god word op ‘n spesiale plek gesit en die mense buig voor dit en aanbid dit. As die mens in nood roep hoor die god hulle nie, en hy beweeg ook nêrens heen nie. Hy kan nie antwoord nie en hul nie uit hul nood help nie


“Hulle wat goud uit die geldsak skud en silwer afweeg met die weegskaal, huur 'n goudsmid, en hy maak daar 'n god van; hulle kniel neer, ook buig hulle. Hulle hef hom op die skouer; hulle dra hom en sit hom op sy plek neer. Daar staan hy! Hy wyk nie van sy plek nie; ook al roep iemand hom, hy antwoord nie; hy verlos hom nie uit sy benoudheid nie.”   JESAJA 46:6-7 AFR53


 

19 April 2023


JESAJA 46:8 AFR53

“Dink hieraan en wees beslis; neem dit ter harte, o afvalliges!”


God benadruk dat Sy volk moet nadink oor wat Hy hulle vertel het. Neem ter harte die woorde van God. God is magtig en almagtig, en handgemaakte afgode is nutteloos.


Jesaja benadruk dat God wil he hulle moet terugdink aan al die goeie dade van God, al die dinge wat tevore was, want dit is hoe die volk herinner word dat daar niemand is soos God alleen nie.


“Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie;”   JESAJA 46:9 AFR53


Dit is een van die redes hoekom die feeste van God ingestel is, sodat die volk kan onthou, en hulle kinders kan leer.


“En as jou seun jou later vra en sê: Wat beteken dit? dan moet jy hom antwoord: Die Here het ons deur 'n sterke hand uit Egipte, uit die slawehuis, uitgelei.”   EXODUS 13:14 AFR53


God alleen kan en het gebeure aangekondig lank voor dit plaasgevind het. God alleen het van die begin af die einde aangekondig. Dit is wat profesie in die Bybel so wonderlik maak, ons ken die einde en dit moet vir ons berusting bring, want God wen aan die einde en ons wat in Hom glo sal vir ewig saam met God wees.


“wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;”   JESAJA 46:10 AFR53


God help Sy volk om terug te kyk na wat Hy vermag het. Hy het ‘n roofvoël uit die Ooste geroep. Dit sal Kores wees - die man uit ‘n vêr land wat God se besluite uitgevoer het.


“wat 'n roofvoël roep uit die Ooste, die man van my raad uit 'n ver land; soos Ek dit gespreek het, sal Ek dit ook laat kom; Ek het dit voorberei, Ek sal dit ook doen.”   JESAJA 46:11 AFR53


Luister na God julle hardkoppige mense wat nie redding verdien nie!


“Luister na My, julle wat hard is van hart, julle wat ver is van die geregtigheid!”   JESAJA 46:12 AFR53


God bevestig aan die volk in ballingskap dat hul redding uit Babilon naby is.


“Ek bring my geregtigheid naby; dit is nie ver nie, en my heil sal nie vertoef nie; en Ek gee heil in Sion, aan Israel my heerlikheid.”   JESAJA 46:13 AFR53


 

20 April 2023


JESAJA 47:1 AFR53

“Kom af en sit in die stof, jonkvrou, dogter van Babel! Sit op die grond sonder troon, dogter van die Chaldeërs! Want jy sal nie langer genoem word die vertroetelde en verwénde nie.”


Die onderwerp van Jesaja se profesie is Babilon se ondergang. Babilon wat hier as ‘n vrou uitgebeeld word, wat daal van haar troon af om op die grond te sit. Babilon sal van ‘n posisie van grootsheid en trots verminder word tot ‘n toestand van aaklige ellende.


Tot ‘n toestand van slawerny waar sy meel sal maal, haar pragtige sluiers moet wegbêre, en haar been moet ontbloot wanneer haar inwoners hul klere moet optel om deur riviere te trek na die vyand se woongebied.


“Neem die handmeul en maal meel; slaan jou sluier op, tel die kleed op, ontbloot die been, trek deur die riviere!”   JESAJA 47:2 AFR53


Babilon sou van haar trots ontneem word en haar inwoners sou met skaamte gevul wees. Geen taal kon die dieptes van haar skaamte en skande met meer geweld uitdruk as dit wat die profeet hier gebruik nie.


“Laat jou skaamte ontbloot word, ja, jou skande gesien word! Ek sal wraak neem en geen mens verskoon nie.”   JESAJA 47:3 AFR53


Blykbaar kan Jesaja homself nie help nie - wanneer hy sien hoe God wraak sal neem op hierdie vyand van God se volk, loof hy God en roem hy in sy Verlosser.


“Ons Verlosser — sy Naam is Here van die leërskare, die Heilige van Israel.”   JESAJA 47:4 AFR53


Chaldië was die naam van ‘n streek in die weste van Mesopotamië wat die Nieu-Babiloniese ryk gevorm het, met Nebukadnesar die bekendste koning. Babilon se status word van bedorwe fyn jong vrou wat altyd haar sin kry afgewater na ‘n bediende wat meel maal. Babilon sit in die donker in rou, want sy is gestroop van haar prag en praal.


“Sit doodstil, en gaan in die duisternis, dogter van die Chaldeërs! want jy sal nie langer genoem word gebiedster van die koninkryke nie.”   JESAJA 47:5 AFR53


Babilon het gedink dat sy Juda en Jerusalem deur haar eie krag verower het. Maar, Babilon was slegs ‘n instrument in God se hande. God was kwaad vir Sy volk, en daarom het Hy Babilon gebruik om Sy werk uit te voer.


Alhoewel God Sy volk oorgegee het aan Babilon om hulle vir hul sondes te straf, het dit tog nie die gees geregverdig waarmee die Chaldeërs dit gedoen het nie. Die wreedheid wat die Chaldeërs teenoor hulle bewys het was ongevraagd.


“Ek was toornig op my volk, Ek het my erfdeel ontheilig en hulle in jou hand oorgegee: jy het hulle geen barmhartigheid bewys nie, op die grysaard het jy jou juk baie swaar laat druk”   JESAJA 47:6 AFR53


 

21 April 2023


JESAJA 47:7 AFR53

“en gesê: Ek sal in ewigheid wees, gebiedster vir altyd; jy het hierdie dinge nie ter harte geneem nie, aan die einde daarvan nie gedink nie.”


Jesaja beskryf die trots en selfvertroue van Babilon. Sy was vol vertroue in haar rykdom, die sterkte van haar poorte en mure, en in haar oorvloedige hulpbronne om 'n vyand te weerstaan.

Babilon het gedink sy is onoorwinbaar en dat sy vir ewig sou bestaan.


Kinderloosheid en weduweeskap sal skielik oor Babilon kom. Hierdie verwys die Mede en Perse wat Babilon oornag ingeval en oorgeneem het. Babilon word ‘n ‘weduwee’ met Belsasar se dood nadat hy God se hand sien wat teen die muur van sy paleis geskryf het en Darius het glo drieduisend van die bewoners van Babilon gekruisig wat die stad ‘kinderloos’ gelaat het.


“Hoor dan nou dit, wellustige wat so veilig sit, wat in jou hart sê: Dit is ek en niemand anders nie! Ek sal nie as weduwee sit of kinderloosheid ken nie. Hierdie twee dinge sal dan in 'n oomblik, op een dag, oor jou kom: kinderloosheid en weduweeskap; in volle maat sal hulle jou oorval, ondanks die veelheid van jou towerye, ondanks die groot menigte van jou besweringe.”   JESAJA 47:8-9 AFR53


Babilon was trots en ‘untouchable’ en juis dit was haar ondergang. Haar boosheid het korrupsie, losbandigheid, toorkuns en waarsêery ingesluit, en daarom het onheil en verwoesting haar getref.


“En jy het op jou boosheid vertrou, jy het gesê: Niemand sien my nie! Jou wysheid en jou kennis het jou verlei, sodat jy in jou hart gesê het: Ek is dit, en niemand anders nie! Daarom oorval 'n onheil jou wat jy nie sal weet om te besweer nie; en 'n onheil val op jou wat jy nie kan versoen nie, en skielik oorval jou 'n verwoesting sonder dat jy dit weet.”   JESAJA 47:10-11 AFR53


Jesaja daag die towenaars en sterrekykers sarkasties uit om te wys of hulle instaat is om hul stad te verdedig en hul nasie te red.


“Tree tog op met jou besweringe en met die menigte van jou towerye waarmee jy jou vermoei het van jou jeug af; miskien kan jy iets uitrig, miskien kan jy skrik aanjaag! Jy het jou vermoei met die menigte van jou planne; laat hulle tog optree en jou red — die wat die hemel indeel, die sterrekykers wat elke maand laat weet wat oor jou sal kom.”   JESAJA 47:12-13 AFR53


Geen van die towenaars sou in staat wees om Babilon te beskerm teen die rampe wat oor hulle en die stad sou kom nie. Selfs Babilon se bondgenote sou nie kon help nie.


“Kyk, hulle het geword soos stoppels, vuur het hulle verbrand; hulle kan hulself nie red uit die mag van die vlam nie — dit is geen kool om by warm te word nie, geen vuur om daarvoor te sit nie! Dit het jy aan hulle — jou koopmans — met wie jy jou vermoei het van jou jeug af; elkeen dwaal sy eie koers; niemand is daar wat jou red nie.”   JESAJA 47:14-15 AFR53


 

22 April 2023


JESAJA 48:1 AFR53

“Hoor dit, huis van Jakob wat julleself noem met die naam van Israel en uit die waters van Juda voortgekom het, wat sweer by die Naam van die Here en die God van Israel roem, maar nie in waarheid of in geregtigheid nie —”


Juda, die suidelike koninkryk, word deur God aangespreek as Jakob, wat in wese bedrieër beteken. Glad nie ‘n kompliment op hierdie stadium nie. Vêrder sê God hulle het net die naam van Israel, en nie die karakter van die naam nie, want Israel beteken ‘deur God regeer’.


God stop nie hier met Sy berisperings nie, Hy gaan voort om te sê hulle kom van die stam van Juda. Juda was die ouer van die twaalf broers wat nie gehuiwer het om sy klein boetie Josef as ‘n slaaf te verkoop nie.


“Toe sê Juda aan sy broers: Watter voordeel is dit dat ons ons broer doodmaak en sy bloed verberg? Kom, laat ons hom aan die Ismaeliete verkoop, maar laat ons hand nie teen hom wees nie, want hy is ons broer, ons vlees. En sy broers het na hom geluister.”   GÉNESIS 37:26-27 AFR53


God het die sonde van sy volk aan die kaak gestel. Hulle het Sy naam aangeneem, hulle met die heilige stad geïdentifiseer en die voorkoms gegee dat hulle op die God van Israel steun, maar dit was net skein, nie werklikheid nie.


“want hulle noem hul na die heilige stad en steun op die God van Israel, Here van die leërskare is sy Naam.”   JESAJA 48:2 AFR53


God het deur Sy profete met profesie Sy krag bewys. Wat nou gebeur is vroeër reeds aangekondig.


“Die vorige dinge het Ek lankal verkondig, en uit my mond het dit uitgegaan, en Ek het dit laat hoor; skielik het Ek dit volbring, en dit het gekom.”   JESAJA 48:3 AFR53


God se aandag op profesieë word hier verklaar as ’n manier om ’n hardkoppige volk te oortuig dat die ontplooiing van die geskiedenis nie maar toevallig is nie.


“Omdat Ek geweet het dat jy halsstarrig is, en jou nek 'n ystersening is, en jou voorhoof koper,”   JESAJA 48:4 AFR53


God het toekomstige gebeure weergegee, sodat Sy volk oorvloedige bewys sou he dat Hy die ware God is. Die afgode en gegote beelde het nie hierdie gebeure voorspel nie en toe dit gebeur het, kon daar dus nie voorgegee word dat die gebeure deur afgode voortgebring is nie.


Deur die toekomstige gebeure vooraf deur Sy profete aan die volk bekend te maak, het God bewys dat Hy die ware God is, en gedemonstreer dat Hy alleen hul vertroue en agting waardig is.


“daarom het Ek jou dit lank tevore verkondig; voordat dit gekom het, het Ek jou dit laat hoor, dat jy nie sou sê: My afgod het dit gedoen, of my gesnede beeld of my gegote beeld het dit beveel nie.”   JESAJA 48:5 AFR53


 

23 April 2023


JESAJA 48:6 AFR53

“Jy het dit gehoor — aanskou dit alles! Sal júlle dit dan nie verkondig nie? Van nou af laat Ek jou nuwe dinge hoor en geheime wat jy nie geweet het nie.”


Dit was asof God verstom was dat Sy volk al Sy groot krag en heerlikheid gesien het, maar tog het hulle steeds in hardnekkige opstand teen Hom gestaan.


God verduidelik waarom Sy volk so diep sondig is. Hulle is sondaars van die moederskoot af, so hulle sondes is diep gewortel.


Dit is 'n moeilike konsep om te hoor, maar die Nuwe Testament leer vir ons dat ons sondaars is van die moederskoot af, en dat ons 'n sondige natuur geërf het omdat ons van Adam afstam en in Adam gesondig het.


“Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het —”   ROMEINE 5:12 AFR53


Dit is nie ons individuele dade van sonde wat ons sondaars maak nie, maar ons afkoms van Adam. Ons individuele sondes bewys bloot dat elkeen van ons 'n oortreder is van die moederskoot af.


“Nou is hulle geskape en nie tevore nie; en voor vandag het jy niks daarvan gehoor nie, dat jy nie sou sê: Kyk, ek het dit geweet nie! Ja, jy het dit nie gehoor nie, ook het jy dit nie geweet, ook het jou oor tevore nie daarvoor oopgegaan nie; want Ek het geweet dat jy baie troueloos handel, en dat jy van die moederskoot af 'n oortreder genoem is.”   JESAJA 48:7-8 AFR53


Waarom sou God ooit genade aan Sy volk bewys? Hy doen dit ter wille van Sy Naam. Dit is nie omdat Israel genade verdien nie, want genade kan inderdaad nooit verdien word nie. God gee dit om Homself te verheerlik en om Sy ewige doel te bevorder.


“Om my Naam ontwil vertraag Ek my toorn, en om my roem ontwil bedwing Ek My jou ten goede, om jou nie uit te roei nie.”   JESAJA 48:9 AFR53


God het Sy volk gestraf maar nie so erg soos wanneer silwer gelouter word nie.


“Die woorde van die Here is rein woorde, silwer wat gelouter is in 'n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal.”   PSALMS 12:7 AFR53


Die volk se smeltkroes van ellende was hul Babiloniese ballingskap en die doel van hul ballingskap was om hulle te beproef.


“Kyk, Ek het jou gelouter, maar nie soos silwer nie; Ek het jou beproef in die smeltkroes van ellende.”   JESAJA 48:10 AFR53


God sal Sy volk red ter wille van Homself, sodat Sy Naam nie oneer aangedoen word nie, en sodat God se eer nie na ‘n afgod gaan nie. Alle eer kom slegs aan God toe!


“Om My ontwil, om My ontwil sal Ek dit doen — want ag, hoe is my Naam ontheilig! — en Ek sal my eer aan geen ander gee nie.”   JESAJA 48:11 AFR53


 

24 April 2023


JESAJA 48:12 AFR53

“Luister na My, o Jakob, en Israel, wat Ek geroep het, dit is Ek; Ek is die Eerste, ook is Ek die Laaste.”


God, die Een wat tot nou toe in Jesaja se profesieë gepraat het, is hier die eerste en die laaste. Hy is die Een wat Israel geroep het, Hy is die Een wat die heelal geskep het en Hy is die een wat die toekoms van die nasies gespreek het, wat beteken dat Hy die een is wat die toekoms ken en beheer.


“Ook het my hand die aarde gegrond, en my regterhand die hemele uitgesprei; as Ek hulle roep, staan hulle daar almal saam. Kom bymekaar, julle almal, en luister! Wie onder hulle het dit verkondig? Hy vir wie die Here liefhet, sal sy welbehae voltrek aan Babel, en sy mag aan die Chaldeërs.”   JESAJA 48:13-14 AFR53


Dit was God wat voor dit gebeur het, Sy volk van Kores vertel het, en dit is God wat Kores geroep het om Sy doel te bereik. Kores was suksesvol en voorspoedig omdat God dit toegelaat het.


“Ek, Ek het dit gespreek, ook hom geroep; Ek het hom laat kom, en in sy weg sal hy voorspoedig wees.”   JESAJA 48:15 AFR53


God maak dit weereens duidelik dat Hy nie in die geheim gespreek het nie. God het deur Sy profete oor toekomstige gebeure geprofeteer en dit het gebeur. Die volk is in ballingskap weggeneem waar hulle vir sewentig jaar gebly het. Daarna het Kores aan bewind gekom en het God se volk terug gestuur na die heilige land om die tempel en Jerusalem se muur te herbou.


Tot nou toe het ons deurgans net vir God hoor praat. God het in die eerste persoon gepraat oor alles wat Hy gedoen het. Vanaf vers 16 gaan die Spreker nie meer God wees nie, maar iemand anders. Die Persoon wat praat sê: ‘Nou het die Here Here my met sy Gees gestuur’, en dit is duidelik dat drie persone in die vers genoem word.


“Kom julle nader na My, hoor dit: Ek het van die begin af nie in die geheim gespreek nie; van die tyd af dat dit gebeur, is Ek daar! En nou het die Here Here my met sy Gees gestuur.”   JESAJA 48:16 AFR53


Kom ons kyk na die volgende verse om te bepaal wie hier genoem word.


“Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte — alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape.   KOLOSSENSE 1:15-16 AFR53


“In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.”   JOHANNES 1:1-3 AFR53


Die Seun is die Woord, die uitdrukking van die Vader in die skepping - laat daar lig wees. Jesaja bevestig dié waarheid honderde jare voor Christus se geboorte. Duidelik is Jesaja nou besig om ons fokus weg te neem van die Vader en die klem te verskuif na God se lydende Seun.


 

25 April 2023


JESAJA 48:17 AFR53

“So sê die Here, jou Verlosser, die Heilige van Israel: Ek is die Here jou God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan.”


God sluit hierdie gedeelte af deur Sy volk se probleem uit te wys. God verklaar dat Hy Sy volk onderrig het en hulle gelei het op die weg wat hulle moes volg, maar hulle het nie geluister nie.


Indien hulle maar geluister het en God se gebooie gehoorsaam het, dan sou hulle voorspoed en redding ondervind het soos:

- die lopende water van ‘n rivier of die golwe van die see,

- hul nageslag sou so baie wees soos sand, en hul afstammelinge soos sandkorrels, en

- God sou toesien dat hulle nie vernietig of uitgeroei word nie.


“Ag, as jy maar na my gebooie geluister het, dan sou jou vrede gewees het soos 'n rivier en jou geregtigheid soos die golwe van die see; dan sou jou nakomelinge gewees het soos die sand, en die wat uit jou liggaam voortkom, soos die korreltjies daarvan; sy naam sou nie uitgeroei of verdelg word voor my aangesig nie!”   JESAJA 48:18-19 AFR53


Maar, soos God voorheen gesê het - Ek het hulle ter wille van My eie Naam gespaar!


“Om my Naam ontwil vertraag Ek my toorn, en om my roem ontwil bedwing Ek My jou ten goede, om jou nie uit te roei nie.”   JESAJA 48:9 AFR53


Jesaja praat nou direk met sy volkgenote wat in ballingskap in Babilon is. Die oomblik wat God Sy volk uit Babel verlos, moet hulle terugkeer na Jerusalem. Hul uittog uit Babilon moet met vreugde en blydskap gepaard gaan en God moet geloof en geprys word.


“Gaan weg uit Babel, vlug weg van die Chaldeërs! Verkondig met jubelklank, laat dit hoor, bring dit uit tot by die einde van die aarde! Sê: Die Here het sy kneg Jakob verlos;”   JESAJA 48:20 AFR53


Net soos God vir Sy volk water gegee het en vir hulle gesorg het gedurende hul veertig jaar in die woestyn, so sal Hy vir hulle sorg tydens hul uittog uit Babilon.


“en hulle het geen dors gehad nie, in die woesteny het Hy hulle gelei; Hy het water uit die rots vir hulle laat stroom en die rots geklowe, sodat die waters weggevloei het.”   JESAJA 48:21 AFR53


“Kyk, Ek sal daar voor jou by die rots op Horeb staan; dan moet jy die rots slaan, en daar sal water uit kom, dat die volk kan drink. En Moses het so gedoen voor die oë van die oudstes van Israel”   EXODUS 17:6 AFR53


Nadat God die vrede voorspel het wat Hy aan Sy dienaar Jakob sou gee, voeg Hy 'n verduideliking by en verklaar dat goddelose mense nie die voordeel van hierdie barmhartigheid sal geniet nie.


“Geen vrede, sê die Here, vir die goddelose nie!”   JESAJA 48:22 AFR53


 

32 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page