top of page
Regina Torre

Jesaja - Hoofstuk 40 tot 42

Updated: Mar 31, 2023



16 Maart 2023


JOHANNES 12:38-41 AFR53

“sodat die woord van die profeet Jesaja vervul sou word wat hy gesê het: Here, wie het ons prediking geglo, en aan wie is die arm van die Here geopenbaar? Daarom kon hulle nie glo nie, omdat Jesaja óók gesê het: Hy het hulle oë verblind en hulle hart verhard, sodat hulle nie met die oë sou sien en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. Dit het Jesaja gesê toe hy sy heerlikheid gesien en van Hom gespreek het.”

Daar is gerugte wat die rondte doen dat die boek Jesaja deur twee verskillende persone geskryf is omdat die skryfstyl tussen die eerste en tweede gedeeltes so verskillend is. Johannes misken hierdie stelling met die volgende verse waar Jesaja aangehaal word uit die eerste sowel as die tweede gedeeltes van sy boek.


Die eerste aanhaling kom uit Jesaja 53, wat die profesie van die lydende dienaar, die Messias, aanbied.


“Wie het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die Here geopenbaar?” JESAJA 53:1 AFR53


Die ander is uit Jesaja 6, waar Jesaja vir Jesus in ’n visioen op Sy troon gesien het.

“In die sterfjaar van koning Ussía het ek die Here sien sit op 'n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het.” JESAJA 6:1 AFR53


“Toe het ek gesê: Wee my, ek is verlore! Want ek is 'n man onrein van lippe en woon onder 'n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die Here van die leërskare, gesien!” JESAJA 6:5 AFR53


“En Hy het gespreek: Gaan sê aan hierdie volk: Hoor altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyddeur, maar bemerk nie. Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie.” JESAJA 6:9-10 AFR53


Net soos die Bybel het die boek Jesaja 66 boeke, en net soos die Bybel opgedeel is in twee gedeeltes, so is ook die boek Jesaja opgedeel in twee gedeeltes. Die Ou Testament het 39 boeke en die Nuwe Testament het 27 boeke. So het Jesaja se eerste gedeelte 39 hoofstukke en die tweede gedeelte het 27 hoofstukke.


Die Ou Testament beskryf die geskiedenis en sonde van Israel, en Jesaja se eerste gedeelte het dieselfde gedoen. Die Nuwe Testament beskryf die persoon en bediening van Jesus, en ons sal sien dat Jesaja se tweede gedeelte dieselfde doen.

Die kontras tussen die eerste en tweede gedeeltes van Jesaja kan kortliks as volg opgesom word:


God se werktuig is Assirië - God se werktuig is Babilon

Konsentreer op oordeel - Konsentreer op bevryding

Sluit geskiedenis in - Geen geskiedenis nie; kyk slegs vorentoe

Messias regeer om sonde te oorwin - Messias is 'n genesende dienaar

Vertel van Jesaja se eie lewe - Jesaja se eie lewe is afwesig

Kom ons werk saam deur die tweede gedeelte van Jesaja en sien hoe sy profesieë deur die Nuwe Testament skrywers gebruik is.


 

17 Maart 2023


JESAJA 40:1 AFR53

“Troos, troos my volk, sê julle God.”


God se openingswoorde in vers 1 spreek tot die profete van daardie tyd. Met Jesaja, maar waarskynlik ook tot sy tydgenote.


Na 39 hoofstukke van ellende en oordele en profesieë van rampspoed, word die profete nou aangesê om vertroostende woorde aan te bied - ‘troos My volk, sê God!


Praat met die volk se harte, gee vir hulle bemoedegende woorde om hulle na God terug te wen. Waarom dubbel vir al haar sondes?  Duidelik word hier van die Joodse volk gepraat as God se eersgeborene. ‘n Eersgeborene is geregtig op ‘n dubbel porsie, beide goed en sleg. 'n Ander moontlikheid is dat dit 'n ander term is vir ‘voldoende’, hul skuld is ten volle betaal.


“Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is, dat sy uit die hand van die Here dubbel ontvang het vir al haar sondes.”   JESAJA 40:2 AFR53


Die idee om die pad voor te berei is geleen van die praktyk van Oosterse monarge, wat, wanneer hulle ook al 'n reis onderneem het, veral deur ‘n woestyn of vreemde lande, pioniers voor hulle uitgestuur het om alles voor te berei vir hul deurtog, om passe oop te maak, weë gelyk te maak, en om alle hindernisse te verwyder.


“ 'n Stem van een wat roep: Berei in die woestyn die weg van die Here; maak gelyk in die wildernis 'n grootpad vir onse God! Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet 'n gelykte en die rotsagtige plekke 'n laagte word. En die heerlikheid van die Here sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien: want die mond van die Here het dit gespreek.”   JESAJA 40:3-5 AFR53


Mattheus, Lukas en Johannes verwys na Jesaja wat gepraat het van Johannes die Doper as die stem van die een wat roep om die pad van die Here voor te berei.


“In daardie dae het Johannes die Doper opgetree en in die woestyn van Judéa gepreek en gesê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom. Want dit is hy van wie deur die profeet Jesaja gespreek is toe hy gesê het: Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit!”   MATTHÉÜS 3:1-3 AFR53


“tydens die hoëpriesterskap van Annas en Kájafas, het die woord van God gekom tot Johannes, die seun van Sagaría, in die woestyn. En hy het gekom in die hele omtrek van die Jordaan en die doop van bekering tot vergifnis van sondes verkondig; soos geskrywe is in die boek van die woorde van Jesaja, die profeet, waar hy sê: Die stem van een wat roep in die woestyn: Berei die weg van die Here, maak sy paaie reguit. Elke dal moet opgevul word en elke berg en heuwel wegsak; en die krom draaie sal 'n reguit pad word en die skurwe plekke gelyk weë.”   LUKAS 3:2-5 AFR53


“En dit is die getuienis van Johannes, toe die Jode uit Jerusalem priesters en Leviete gestuur het om hom te vra: Wie is u? En hy het erken en nie ontken nie, maar het erken: Ek is nie die Christus nie. Toe vra hulle hom: Wat dan? Is u Elía? En hy sê: Ek is nie. Is u die profeet? En hy antwoord: Nee. Toe sê hulle vir hom: Wie is u? — dat ons antwoord kan gee aan die wat ons gestuur het. Wat sê u van uself? Hy antwoord: Ek is die stem van een wat roep in die woestyn: Maak die pad van die Here reguit! soos Jesaja, die profeet, gesê het.”   JOHANNES 1:19-23 AFR53


 

18 Maart 2023


JESAJA 40:6 AFR53

“'n Stem sê: Roep! En hy vra: Wat moet ek roep? Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos 'n blom van die veld.”


‘n Stem sê: Roep! of eerder, hiermee volg ‘n afkondiging! Wat moet ek afkondig?


Alle vlees is so verganklik soos gras. Hier vandag…….  môre weg!  Jesaja dink aan die pragtige groen gras wat die heuwels van Juda bedek na die winterreën, …….. en dan hoe vinnig die gras verdor, en die heuwels bruin en onvrugbaar gelaat word. Dit is hoe broos en hoe swak die mens is.


“Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die Here daarin blaas. Voorwaar, die volk is gras!”   JESAJA 40:7 AFR53


Jesaja herhaal om die feit te beklemtoon dat gras, en blomme en by implikasie alle vlees verdor en verwelk, MAAR die Woord van God vergaan nooit nie!


“Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.”   JESAJA 40:8 AFR53


Petrus haal Jesaja aan en wys dat die Woord van God tot in ewigheid verkondig en geglo sal word. Die Woord wat Jesaja verkondig het is ook die Woord wat Petrus aan sy gehoor verkondig het, en is ook die Woord wat vandag hier verkondig word.


“As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde broederliefde gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit 'n rein hart; want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly. Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos 'n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid. En dit is die woord wat aan julle verkondig is.”   I PETRUS 1:22-25 AFR53


Die boodskap hier is aan Jerusalem om vir hulle te sê dat hul swaarkry tot ‘n einde kom, hetsy dit is van hul Babiloniese ballingskap of vêrder in die toekoms van die sewe jaar Verdrukking.


“o Sion, verkondiger van goeie boodskap, klim op 'n hoë berg! o Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Juda: Hier is julle God!”   JESAJA 40:9 AFR53


Toegepas op die toestand van die Jode in ballingskap, beteken dit dat God sou kom om hulle te verlos.  Toegepas op die tye van die Messias, beteken dit dat God Homself op 'n kragtige wyse sal openbaar as magtig om te red.


“Kyk, die Here Here sal kom as 'n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig. Hy sal sy kudde laat wei soos 'n herder; Hy sal die lammers in sy arm vergader en aan sy bors dra; die lammerooie sal Hy saggies lei.”   JESAJA 40:10-11 AFR53


 

19 Maart 2023


JESAJA 40:12 AFR53

“Wie het die waters met die holte van sy hand afgemeet, en van die hemele met 'n span die maat geneem, en in 'n drieling die stof van die aarde opgevang, en die berge geweeg met 'n weegtoestel en die heuwels met 'n weegskaal?”


Jesaja beskryf die grootheid van God die Vader en dink na dat niks met God se grootheid vergelyk kan word nie. Hy verduidelik die begrip deur ‘n reeks vrae te vra wat voorstel hoe onbevoeg die mens is:


1. Wie kan die waters van die aarde in die holte van sy hand afmeet?

2. Wie kan die hemel meet met die span sy hand? (’n Spanwydte van jou hand is die afstand van die punt van jou duim tot by die punt van jou pinkie.)

3. Wie kan met ‘n maatemmer die grond van die aarde afmeet?

4. Wie kan met ‘n skaal die berge en heuwels weeg?

5. Wie kan die Gees van God raad gee?

6. Wie weet genoeg om vir God raad te gee of vir God te leer?

7. Wie leer God en onderrig Hom dat Hy met insig kan optree?


“Wie het die Gees van die Here bestier en as sy raadsman Hom onderrig? Met wie het Hy raad gehou, dat dié Hom verstand sou gee en Hom sou leer aangaande die pad van die reg, en Hom kennis sou leer en Hom bekend maak die weg van volledige insig?”   JESAJA 40:13-14 AFR53


Jesaja kyk nou na hoe nietig die mens is met die volgende vergelykings:


1. Die nasies van die wêreld, al die biljoene mense, is gesamentlik so gering soos:

    - ‘n druppel in ‘n emmer of

    - ‘n stofdeel op ‘n weegskaal (al die eilande op aarde is vir God soos ‘n stoffie)


2. Libanon wat bekend was vir sy woude, het nie eers genoeg hout opgelewer om 'n geskikte offer vir God aan te steek nie, en daar was ook nie genoeg diere in die land om 'n waardige offer te bring nie.


3. Die nasies dink miskien baie van hulself, maar voor God is almal soos niks!


“Kyk, die nasies is soos 'n druppel aan die emmer, en soos 'n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. Kyk, Hy hef die eilande op soos 'n stoffie! En die Líbanon is nie genoeg as brandhout en sy wild nie genoeg as brandoffer nie. Al die nasies is voor Hom soos niks: as niks en nietigheid word hulle by Hom gereken.”   JESAJA 40:15-17 AFR53


Met wie wil julle God vergelyk?


“By wie wil julle God dan vergelyk? Of watter gelykenis naas Hom stel?”   JESAJA 40:18 AFR53


Wil julle God vergelyk met die afgode wat deur mense gemaak is?

- soos ‘n ambagsman wat met goud en silwer sy afgod te maak, of

- soos ‘n arm persoon wat nie goud en silwer kan bekostig nie en hout gebruik wat hopelik nie vrot nie, en ‘n bedrewe ambagsman kry om vir hom daarmee ‘n afgod te maak.


“Die ambagsman giet 'n beeld, en die goudsmid trek dit oor met goud en smelt silwerkettings. Wie te arm is vir so 'n offergawe, kies 'n stuk hout wat nie vergaan nie; hy soek vir hom 'n kunsvaardige ambagsman om 'n beeld op te rig wat nie wankel nie.”   JESAJA 40:19-20 AFR53


 

20 Maart 2023


JESAJA 40:21 AFR53

“Weet julle nie? Hoor julle nie? Is dit julle nie van die begin af bekend gemaak nie? Het julle nie op die fondamente van die aarde gelet nie?”


Jesaja berispe die leser wat dalk iets oorweeg wat gelyk kan wees aan God se heerlikheid. Het jy nie geluister na wat van die begin af verklaar is nie?


Watter verklaring? Die ‘begin’ verwys na die skepping, en die verklaring word gevind in Gen 1 en in Rom 1.


“Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en — dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.”   GÉNESIS 1:31 AFR53


“omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;”   ROMEINE 1:19-20 AFR53


Die skepping het uit God gekom, so hoe kan mens enigiets in die skepping met die Skepper daarvan vergelyk?  Dat ons die skepping moet aanbid in plaas van die Skepper.


“hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen.”   ROMEINE 1:25 AFR53


Jesaja vertel vir ons dat God bo die kring van die aarde sit. Word hier al vir ons vertel dat die aarde rond is?


Hy gaan voort om God se mag oor die heelal te herhaal en wys dat die bewoners van die aarde so onbeduidend soos sprinkane is. So as die mens en hul leiers so onbeduidend is, hoe ‘belangrik’ is die afgode wat hulle skep met hul eie hande?


“Hy sit bo die kring van die aarde, en die bewoners daarvan is soos sprinkane; Hy span die hemele uit soos 'n dun doek en sprei dit uit soos 'n tent om in te woon. Hy maak die vorste tot niet, die heersers van die aarde verander Hy in nietigheid; skaars is hulle geplant, skaars is hulle gesaai, skaars wortel hulle stam in die grond, of Hy blaas op hulle, sodat hulle verdor, en die storm voer hulle weg soos 'n stoppel.”  JESAJA 40:22-24 AFR53


So wie kan met God vergelyk word? As jy nog ‘n antwoord nodig het, beveel Jesaja aan dat jy die sterre (leërskare) begin tel, en wanneer jy moeg is, besef dat God hulle nie net geskape en getel het nie, maar het elkeen by die naam genoem.


“By wie sal julle My dan vergelyk, dat Ek net so kan wees? sê die Heilige. Slaan julle oë op in die hoogte en kyk! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.”   JESAJA 40:25-26 AFR53


 

21 Maart 2023


JESAJA 40:27 AFR53

“Waarom sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir die Here verborge, en my reg gaan by my God verby?”


Israel bevraagteken God se geregtigheid en beloftes: Ons sien dit met die vrae wat gevra word, waarom sê jy, o Jakob, en waarom kla jy, o Israel?


Die volk beweer dat hul ballingskap in Babilon goddelike verwaarlosing demonstreer.


‘Weg’ spreek van God se voorsiening in die verloop van die lewe, en ‘reg of geregtigheid’ verwys na regverdiging vir onregverdighede wat aan Israel gedoen is.


Die volgende verse demonstreer dieselfde vrae - die Afr83 weergawe lees makliker.


“Ek sal my saak vir U stel, want U is regverdig, Here. Ek sal punt vir punt my saak voor U lê: Waarom is die goddelose mense voorspoedig en het die ontrou mense geen sorge nie?”   JEREMIA 12:1 AFR83


“Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg. Hy sal jou onskuld laat deurbreek soos die son, jou reg soos die helder lig van die middag. Daarom moet jy in stilte op die Here vertrou en jou nie ontstel oor die voorspoedige lewe van 'n skelm nie.”   PSALMS 37:5-7 AFR83


“Hy sien toe dat reg geskied, Hy hou wag oor die pad van sy troue dienaars.”   SPREUKE 2:8 AFR83


Jesaja verseker die volk dat God getrou bly aan Sy beloftes. Het julle nie gehoor nie, die Skepper van die aarde word nie moeg nie!


“Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? 'n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie.”   JESAJA 40:28 AFR53


Die Psalm skrywer het dieselfde woorde van vertroosting.


“Kyk, die Bewaarder van Israel sluimer of slaap nie.”   PSALMS 121:4 AFR53


Hulle hoef nie meer te kla dat God hulle nie raaksien nie, trouens mag nie meer kla nie, want God sien hulle nie net raak nie, maar sal nooit moeg word om vir dié wat op Hom wag en vertrou nuwe krag te gee nie.


“Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.”   JESAJA 40:29-31 AFR53


 

22 Maart 2023


JESAJA 41:1 AFR53

“Luister in stilte na My, o eilande, en laat die volke nuwe krag kry; laat hulle aankom, laat hulle dan spreek; laat ons saam na die gereg gaan.”


God roep die eilande of die al die heiden nasies na sy hof om in stilte na Hom te luister. Hy open die verhoor in Sy hofsaak deur Sy saak kragtig uiteen te sit.


God vra vir sy gehoor:

1. Wie het die persoon uit die Ooste aan bewind laat kom, wat elkeen wie hy tegemoet kom oorwin?

2. Wie gee nasies aan die persoon oor en laat hom konings vertrap? Die persoon se swaard maak sy vyand soos stof, sy pyl en boog maak hulle soos dwarrelende stoppels, en hy agtervolg hulle ongehinderd.

3. Wie het dit bewerkstellig en gedoen?

4. Wie het die verloop van dinge van die begin af bepaal?


“Wie het hom uit die Ooste verwek vir wie die oorwinning tegemoet tree by elke voetstap? Wie gee nasies aan hom oor en laat hom konings vertrap, wie se swaard hulle maak soos stof, wie se boog hulle maak soos 'n dwarrelende stoppel, dat hy hulle agtervolg, ongehinderd verbytrek, die pad met sy voete nie betree nie?”   JESAJA 41:2-3 AFR53


Nou antwoord God Sy vrae: Dit is Ek, die Here, die Eerste en wanneer die laaste ding gebeur is dit nog steeds Ek!


“Wie het dit gedoen en tot stand gebring? Hy wat die geslagte roep van die begin af; Ek, die Here, die Eerste, en by die laaste is Ek dieselfde.”   JESAJA 41:4 AFR53


God was daar in die begin:  “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.”   GÉNESIS 1:1 AFR53


En Hy is nog steeds daar aan die einde: “Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste.”   OPENBARING 22:13 AFR53


Die heiden nasies het God se mag gesien en gevrees en mekaar gehelp en gesê: Wees sterk!


“Die eilande het dit gesien en gevrees, die eindes van die aarde het gebewe; hulle het nader gekom en toegestroom. Die een het die ander gehelp en aan sy metgesel gesê: Wees sterk!”   JESAJA 41:5-6 AFR53


Maar wat was hul oplossing? Nie om nader aan God te beweeg nie, nee! Hulle het hul ambagsmanne opdrag gegee om mooier en groter afgodsbeelde te maak!


“En die ambagsman het die goudsmid versterk, hy wat met die hamer plat slaan, hom wat op die aambeeld slaan, terwyl hy van die soldeersel sê: Dit is goed! Daarna slaan hy dit vas met spykers, dat dit nie wankel nie.”   JESAJA 41:7 AFR53


 

23 Maart 2023


JESAJA 41:8 AFR53

“Maar jy, Israel, my kneg, Jakob, wat Ek uitverkies het, nageslag van Abraham, my vriend,”


In teenstelling met die heiden nasies wat God verwerp word die Joodse volk met ‘jy Israel’ en ‘my kneg Jakob’ direk aangespreek as God se uitverkose nasie. Die Joodse volk wat God self uitverkies het, hulle wat van Abraham se nageslag is. Abraham wat God se vriend genoem word, hier en op ander plekke in die Bybel.


“Het Ú, onse God, nie die inwoners van hierdie land voor u volk Israel uit verdrywe en dit vir altyd aan die nageslag van Abraham, u vriend, gegee nie?”   II KRONIEKE 20:7 AFR53


“En die Skrif is vervul wat sê: En Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is 'n vriend van God genoem.”   JAKOBUS 2:23 AFR53


God het Abraham uitverkies en gestuur van Ur van die Chaldeërs, ‘n plek wat vir die volk in Jerusalem geleë was aan die eindes van die aarde.


“jy, wat Ek gegryp het van die eindes van die aarde en van sy uithoeke geroep het, en Ek het aan jou gesê: Jy is my kneg; jou het Ek uitverkies en jou nie verwerp nie.”   JESAJA 41:9 AFR53


“Verder het Hy vir hom gesê: Ek is die Here wat jou uitgelei het uit Ur van die Chaldeërs om jou hierdie land in besit te gee.”   GÉNESIS 15:7 AFR53


Om nie bevrees te wees nie, is beide 'n opdrag en 'n belofte. Israel word beveel om nie te vrees nie. Vrees, bekommernis en angs is dikwels ‘n sonde. Maar daar is ook 'n belofte. Ons vrees nie, want die Here het vir ons gesê: Ek is met julle. Wat meer het ons nodig? As God vir ons is, wie kan teen ons wees?


“Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand.   JESAJA 41:10 AFR53


“Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees”.  ROMEINE 8:31 AFR53


God sal Sy volk versterk en onderhou, wat die verskil tussen Homself en die valse gode van die nasies duidelik illustreer.  En in 'n ver toekomsdag sal die volk 'n vyand soek en nie een vind nie.


“Kyk, hulle almal sal beskaamd staan en in die skande kom wat op jou toornig is; hulle sal word soos niks, en jou teëparty sal omkom. Jy sal hulle soek, maar hulle nie vind nie — die manne wat met jou twis; hulle sal word soos niks en soos 'n nietige ding — die manne wat teen jou oorlog voer.”   JESAJA 41:11-12 AFR53


God se onvoorwaardelike verbond met Abraham om Sy volk te beskerm sal behoue bly tot en met die einde van tyd.


“En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”   GÉNESIS 12:3 AFR53


 

24 Maart 2023


JESAJA 41:13  AFR53

“Want Ek, die Here jou God, gryp jou regterhand aan, Ek wat vir jou sê: Wees nie bevrees nie, Ek help jou.”


Afgode moet vasgeslaan word met spykers sodat hulle nie wankel nie, maar God hou Israel vas met Sy regterhand.


“……… Daarna slaan hy dit vas met spykers, dat dit nie wankel nie.”   JESAJA 41:7 AFR53


“Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob, volkie Israel! Ék help jou, spreek die Here, en jou Losser is die Heilige van Israel.”   JESAJA 41:14 AFR53


Hierdie redding vir Israel sal vir Jakob kom, vir Israel wanneer die nasie soos 'n wurm is. Die term mag dalk oneerbiedig klink, maar in Hebreeus beteken dit neergewerp of hulpeloos. Die Messias word so beskryf in Psalm 22.


“Maar ek is 'n wurm en geen man nie, 'n smaad van die mense en verag deur die volk.”   PSALMS 22:7 AFR53


God sal Israel help en hulle so bemagtig dat hulle berge sal kan afkap asof hulle 'n groot dorsmasjien is, heuwels verwyder en sien hoe hulle soos stof weg waai. Die punt is duidelik: niks, nie eens 'n berg, sal in hulle pad staan wanneer God hulle help nie.


“Kyk, Ek maak jou tot 'n skerp, nuwe dorsslee wat baie tande het: jy sal berge dors en fyn maal, en heuwels maak soos kaf. Jy sal hulle uitwan, en die wind sal hulle wegneem en die storm hulle verstrooi; maar jy sal juig in die Here, jou beroem op die Heilige van Israel.”   JESAJA 41:15-16 AFR53


Die ellendiges en behoeftiges is die oorblyfsel van Israel in ons toekoms wat op hul redding wag. Dit sal God self wees wat hulle sal red en Hy sal vir hulle 'n oase in die woestyn voorsien. Uiteindelik is dit 'n verwysing na die manier waarop God Israel in hulle land herstel, maar dit is ook 'n verwysing na die manier waarop God Israel sal beskerm in die tyd van die verdrukking


“Die ellendiges en behoeftiges soek water, maar daar is nie; hulle tong verdroog van dors; Ek, die Here, sal hulle verhoor; Ek, die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie. Ek sal riviere op die kaal heuwels oopmaak en fonteine in die laagtes; Ek sal die woestyn 'n waterplas maak en die dor land waterbronne. Ek sal in die woestyn gee die seder, die akasia en die mirt en die wilde-olyfboom; Ek sal in die wildernis plant die sipres, die plataan en die denneboom, dié almal;”   JESAJA 41:17-19 AFR53


Die effek van al hierdie voorsiening en beskerming is dat die volk Israel sal sien en erken en verstaan dat God dit alles gedoen het. Dit is God se hofsaak ter verdediging van Sy Naam en mag.


“sodat hulle almal saam kan sien en beken en opmerk en verstaan dat die hand van die Here dit gedoen het en die Heilige van Israel dit geskape het.”   JESAJA 41:20 AFR53


 

25 Maart 2023


JESAJA 41:21  AFR53

“Bring julle regsaak voor, sê die Here; bring julle bewysgronde aan, sê die Koning van Jakob.”


Nou wend God hom tot die nasies en hul vals gode en sê dat hulle hul kant moet bring in die regsaak. God is regverdig. Hy sal nie afgode, die valse gode van die nasies en diegene wat hulle aanbid, sonder 'n regverdige verhoor veroordeel nie. Daarom nooi Hy hierdie afgode en hulle aanbidders om hul saak te kom stel.


God in Sy hofsaak daag die afgode uit om wys wat in die toekoms gaan gebeur. Gaan ook terug in tyd en verduidelik wat in die verlede gebeur het. Gode weet hierdie dinge, nie waar nie? Doen dit sodat ons kan weet dat julle gode is.


“Laat hulle aanbring en ons te kenne gee wat gaan gebeur! Gee te kenne die vorige dinge, hoedanig hulle was, sodat ons daarop kan ag gee en van die afloop daarvan kan kennis neem. Of laat ons die toekomende dinge hoor!”   JESAJA 41:22 AFR53


Doen enige iets, goed of sleg, maar doen net iets om die mense se aandag te kry!


“Gee te kenne dinge wat later sal kom, sodat ons kan weet dat julle gode is; ja, doen goed of doen kwaad, dat ons verbaas kan staan en dit saam kan sien.”   JESAJA 41:23 AFR53


Maar hulle kan niks doen nie. So, die beskuldiging word gemaak op grond van die bewyse: jou werk is niks en hy wat jou kies, is 'n gruwel.


“Kyk, julle is niks, en julle werk is niks; 'n gruwel is hy wat julle uitkies.”   JESAJA 41:24 AFR53


God verklaar nou dat Hy in die toekoms iemand uit Noorde sal verwek wat Sy Naam sal aanroep. (Ons sal later sien wie dit is!)


“Ek het uit die Noorde een verwek, en hy het gekom; van die opgang van die son af een wat my Naam sal aanroep; en hy kom oor die owerstes soos oor modder, en soos 'n pottebakker die klei trap.”   JESAJA 41:25 AFR53


Wie het van die begin af gesê dit gaan gebeur sodat ons daarvan kennis kan neem? Nie die afgode nie, en ook nie enige mens nie, want hulle weet niks nie.


“Wie het dit te kenne gegee van die begin af, dat ons daar kennis van kan neem; of vantevore al, dat ons kan sê: Hy het reg? Ja, daar is niemand wat dit te kenne gee, ja, niemand wat dit laat hoor, ja, niemand wat julle woorde hoor nie. As die Eerste sê Ek aan Sion: Hier, hier is dit! En aan Jerusalem gee Ek 'n verkondiger van goeie boodskap. En Ek kyk rond, maar daar is niemand nie; en onder hulle, maar daar is geen raadgewer, dat Ek hulle kan vra en hulle antwoord kan gee nie.”   JESAJA 41:26-28 AFR53


Uiteindelik word die uitspraak by die verhoor gelees. Afgesien van God, in die groot skema van dinge, is al die grootheid van die mens waardeloos, en al die groot werke is niks. En wat van die afgode? Hulle gevormde beelde is wind en verwarring.


“Kyk, hulle is almal niks, hulle werke is niks, wind en nietigheid is hulle gegote beelde.”   JESAJA 41:29 AFR53


 

26 Maart 2023


JESAJA 42:1  AFR53

“Daar is my Kneg wat Ek ondersteun, my Uitverkorene in wie my siel 'n welbehae het. Ek het my Gees op Hom gelê; Hy sal die reg na die nasies uitbring.”


God praat deur die profeet Jesaja en stel Israel en die wêreld voor aan Sy Seun wat Hy noem, my Kneg of Dienaar en my Uitverkorene. Die Vader se inleiding begin met 'n sesdelige beskrywing van Jesus wat deur die Nuwe Testament skrywers ondersteun word.


1. God beskryf Sy Seun as 'n Dienskneg.


“Jesus sê vir hulle: My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.”   JOHANNES 4:34 AFR53


“Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.”   FILIPPENSE 2:5-8 AFR53


2. Die Vader ondersteun Sy Seun met Jesus se versoeking in die woestyn.


“En dadelik het die Gees Hom uitgedryf in die woestyn. En Hy was daar in die woestyn veertig dae lank, terwyl Hy deur die Satan versoek is; en Hy was saam met die wilde diere, en die engele het Hom gedien.”   MARKUS 1:12-13 AFR53


3. Jesus is God die Vader se Uitverkorene.


“Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is; en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus. Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion 'n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie.”   I PETRUS 2:4-6 AFR53


4. God se siel het ‘n welbehae in Sy Seun.


“………… en 'n stem het uit die hemel gekom wat sê: U is my geliefde Seun; in U het Ek 'n welbehae.”   LUKAS 3:22b AFR53


5. Die Vader plaas Sy Gees op Jesus.


“En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos 'n duif neerdaal en op Hom kom.”   MATTHÉÜS 3:16 AFR53


6. Jesus sal die reg na die nasies uitbring - Hierdie gedeelte se vervulling sal ons eers sien na Jesus se tweede koms tydens die Millenium.


 

27 Maart 2023


JESAJA 42:2 AFR53

“Hy sal nie skreeu of uitroep of sy stem op die straat laat hoor nie.”


Hierdie vers vertel vir ons hoe Jesus Sy boodskap gaan oordra. Nie met kragtige argumente en inspanning nie. Hy kom gedwee en maak staat op die Heilige Gees om Sy boodskap aan die wêreld uit te dra.


Dit beteken nie dat Jesus nooit hard gepraat het nie. Dit verwys na Sy sagte, nederige hart en optrede.


Jesus self herhaal Jesaja se profesie in Mattheus se geskrifte.


“Toe Jesus dit bemerk, het Hy daarvandaan weggegaan, en groot menigtes het Hom gevolg, en Hy het hulle almal gesond gemaak, en hulle 'n streng bevel gegee dat hulle Hom nie bekend moes maak nie, sodat vervul sou word die woord wat gespreek is deur Jesaja, die profeet: Kyk, my Kneg wat Ek uitverkies het, my Geliefde in wie my siel 'n welbehae het! Ek sal my Gees op Hom lê, en Hy sal aan die nasies die reg aankondig. Hy sal nie twis of uitroep nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie. 'n Geknakte riet sal Hy nie verbreek nie, en 'n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie, totdat Hy die reg tot oorwinning uitbring. En op sy Naam sal die heidene hoop.”   MATTHÉÜS 12:15-21 AFR53


Jesaja beskryf in vers 3 die manier waarop Jesus ly. Die Hebreeuse taal gebruik idiome om Sy bediening te beskryf. 'n Geknakte riet sal Hy nie breek nie, en ‘n lamppit wat net rook sal Hy nie uitdoof nie.


Dit beteken dat Jesus nie die verdruktes sal verbrysel nie, maar in plaas daarvan sal Hy hulle red en versterk. Anders gestel, Hy bring hoop vir die hopeloses.


“Die geknakte riet sal Hy nie verbreek en die dowwe lamppit nie uitblus nie; met getrouheid sal Hy die reg uitbring.”   JESAJA 42:3 AFR53


Vers 4 sê dat die Messias ten spyte van Sy lyding, nie teleurgesteld of moedeloos sal wees nie.

Al is Sy boodskap verwerp, al is Hy geslaan en gegesel en gedood, het alles volgens God se groot plan uitgewerk.


Jesus se werk is nie klaar totdat Hy met Sy tweede koms, geregtigheid op aarde gevestig het, en die heiden nasies van die aarde wag vir Sy wet terwyl Hy regeer nie.


“Hy sal nie dof brand of geknak word, totdat Hy die reg op aarde gegrond het nie; en die eilande wag op sy leer.”   JESAJA 42:4 AFR53


 

28 Maart 2023


JESAJA 42:5 AFR53

“So sê God, die Here, wat die hemele geskape en hulle uitgesprei het, die aarde uitgespan het saam met wat daaruit voortkom, wat aan die aardbewoners die asem gee en die gees aan wie daarop wandel:”


Die belofte van die Dienaar en Sy bediening is so wonderlik, dat die Een wat die belofte maak, Sy geloofwaardigheid moet vermeld.


God die Here is meer as bevoeg om dit te doen. Kyk eers op, want Hy het die hemele geskep en hulle uitgespan. Kyk dan af, want Hy het die aarde geskep en dit wat daaruit kom. Kyk dan in 'n spieël, want Hy gee asem vir die mense op aarde. Die God wat sulke groot dinge gedoen het, kan  beslis Sy beloftes oor die Dienaar vervul.


Hier volg nou ‘n spesifieke belofte van die Here aan die Dienaar – Jesus Christus.  Jesus moes merkwaardige bemoediging ontvang het uit gedeeltes soos hierdie tydens die moeilike tye in Sy aardse bediening.


God praat teer met Sy Seun as Een wat in geregtigheid geroep is en praat gerusstellend met Hom en sê Hy is daar om Sy hand te vat en oor Hom te waak.


Jesus is ook ‘n verbond vir die volk Israel en vervul op Sy eie al die Joodse verbonde. Die verbond aan Abraham, want Hy is die ‘saad’ en die verbond aan Moses want Hy voldoen aan al die voorwaardes van die Wet.


Jesus stig ook ‘n Nuwe Verbond deur Sy eie bloed en is daardeur ‘n lig vir die nasies.


“Ek, die Here, het U geroep in geregtigheid, en Ek vat u hand en behoed U en gee U as 'n verbond van die volk, as 'n lig van die nasies,”   JESAJA 42:6 AFR53


Jesus se aardse bediening word geopenbaar as een wat blindheid en bevryding van slawerny genees.


“om blinde oë te open; om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die duisternis sit.”   JESAJA 42:7 AFR53


God verklaar dat Hy die Here is, dit is Sy Naam, en Hy sal nie Sy eer aan 'n ander gee nie, net aan Homself en beslis nie aan afgode nie.

In hierdie verklaring sien ons verdere bewyse dat Jesus, wat die eer van die Vader ontvang het, God self moes wees.  As die Vader verklaar dat Hy nie sy heerlikheid met 'n ander sal deel nie, dan kan Jesus nie ‘n ‘ander’ wees nie, maar eerder God self.


“Ek is die Here, dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee, of ook my lof aan die gesnede beelde nie.”   JESAJA 42:8 AFR53


God verklaar verder dat dit wat Hy verkondig het, het plaasgevind. Nou gaan nuwe dinge verkondig word wat nog in die toekoms moet gebeur. Voor dit begin gaan God vir ons vertel wat gaan plaasvind.


“Kyk, die vorige dinge het gekom, en nuwe dinge verkondig Ek; voordat hulle uitspruit, laat Ek julle dit hoor.”   JESAJA 42:9 AFR53


 

29 Maart 2023


JESAJA 42:10 AFR53

“Sing tot eer van die Here 'n nuwe lied, sy lof van die einde van die aarde af — julle wat op die see vaar, en alles wat daarin is, eilande en bewoners daarvan.”


Jesaja onderbreek sy profesieë met ‘n loflied aan God. Hy doen ‘n beroep op almal naby en ver om God se goedheid, om ‘n Verlosser te voorsien, met ‘n loflied te besing.


Almal moet saam sing en jubel: van die eindes van die aarde, ook die wat op die see vaar en op eilande woon en hulle wat in die woestyne, stede en in rotse woon.


“Laat die woestyn en sy stede uitroep, die dorpe waar Kedar woon! Laat die rotsbewoners jubel, van die top van die berge af skreeu!”   JESAJA 42:11 AFR53


Laat almal aan die Here die eer gee en Sy lof verkondig.


“Laat hulle aan die Here die eer gee en sy lof in die eilande verkondig!”   JESAJA 42:12 AFR53


Jesaja roep alle mense op om God te loof terwyl Hy uitgaan om Sy vyande te oorwin. Hierdie lied eindig deur ons fokus op die toekomstige dag van Jesus se wederkoms te plaas.


“Die Here sal uittrek soos 'n held; Hy sal die ywer opwek soos 'n krygsman; Hy sal die strydkreet aanhef, ja uitskreeu, teen sy vyande Hom as held openbaar.”   JESAJA 42:13 AFR53


Met betrekking tot Israel, sal God vir meer as 2 000 jaar stil gewees het teen die tyd dat Hy weer met Sy volk praat. Hierdie nuwe profesie neem ons nou na die begin van die Verdrukking wanneer die hele wêreld gaan kennis neem van God.


“Ek het baie lank geswyg, My stil gehou, My bedwing. Ek sal uitskreeu soos een wat baar, Ek sal hard asemhaal en hyg tegelykertyd. Ek sal berge en heuwels woes maak en al hulle plante laat verdroog; en Ek sal riviere tot eilande maak en waterplasse laat opdroog.”   JESAJA 42:14-15 AFR53


Die blindes is waarskynlik 'n verwysing na die oorblyfsel van die volk wat gedurende die Verdrukking na veiligheid en na geestelike bewustheid (geloof) gely sal word.


“En Ek sal blindes lei op 'n weg wat hulle nie ken nie, hulle laat loop op paaie wat vir hulle onbekend is; Ek sal die duisternis lig maak voor hulle uit en die hobbelagtige plekke gelyktes. Dit is die dinge wat Ek doen en nie nalaat nie.”   JESAJA 42:16 AFR53


In teenstelling met die oorblyfsel, sal God oordeel bring oor diegene wat aanhou om afgode te aanbid.


“Maar die wat op gesnede beelde vertrou, wat aan gegote beelde sê: Julle is ons gode — dié sal agteruitwyk, diep beskaamd staan.”   JESAJA 42:17 AFR53


 

30 Maart 2023


JESAJA 42:18 AFR53

“Hoor, julle dowes, en kyk, julle blindes, om te kan sien.”


God wend Hom nou tot Israel terug in tyd, tydens hul Babiloniese ballingskap. Hy praat met Israel as die dowes en die blindes.


Israel was veronderstel om God se verbondsvolk en ‘n lig vir die nasies te wees, maar in plaas daarvan is God se boodskapper doof en Sy dienaar is blind.


“Wie is blind buiten my kneg en doof soos my boodskapper wat Ek stuur? Wie is blind soos die vertroude vriend, en blind soos die kneg van die Here?”   JESAJA 42:19 AFR53


God beskuldig vêrder dat Sy volk baie dinge gesien het, maar nie ag geslaan daarop nie. Die woord vir waarneem, shamar, beteken om 'n hekwagter te wees. Iemand wat veronderstel is om wag te hou en gereed te wees om te verstaan ​​wat hy sien. Israel het opgehou kyk, hulle was onkundig, hulle ore was oop maar hulle het nie gehoor nie.


“Jy het wel baie dinge gesien, maar daar geen ag op gegee nie; die ore oop gehad, maar jy hoor nie.”   JESAJA 42:20 AFR53


Ter wille van God se eie geregtigheid het Hy sy wet groot en heerlik gemaak.


“Dit het die Here behaag ter wille van sy geregtigheid om die onderwysing groot en heerlik te maak.”   JESAJA 42:21 AFR53


As gevolg van hul ongehoorsaamheid, verklaar God dat Sy volk, Sy oordeel sal ervaar. Hulle sal in grotte of in die tronk wegkruip. Hulle sal prooi word sonder dat iemand hulle kan verlos en daar sal niemand wees om hulle te verdedig nie.


“En tog is dit 'n beroofde en geplunderde volk; hulle is almal gebonde in kerkers, verborge in gevangenisse; hulle het 'n buit geword sonder dat iemand red, 'n plundering sonder dat iemand sê: Gee terug!”   JESAJA 42:22 AFR53


Dus, omdat Israel God se Wet verlaat het, waarsku God vir Juda dat hulle oordeel kom. God verseker hulle van hul toekomstige oordeel deur hulle lot met die lot van Israel te vergelyk. Dit is nie 'n vergelyking wat Juda sou wou hoor nie.


“Wie onder julle luister na hierdie dinge? Wie merk op, hoor dit ook vir die toekoms? Wie het Jakob oorgegee as 'n plundering en Israel aan die berowers? Is dit nie die Here teen wie ons gesondig het nie? En hulle wou in sy weë nie wandel nie en het na sy wet nie geluister nie.”   JESAJA 42:23-24 AFR53


Onthou, Jesaja skryf hierdie woorde in die verlede tyd, maar praat oor gebeure wat vir nog 150 jaar nie gaan gebeur nie. Sonder om die besonderhede van die oordeel te gee, sê God dat Sy woede teen hulle sal brand en hulle sal daarin vasgevang word.  Hy praat van die Babiloniese ballingskap.


“Daarom het Hy oor hulle uitgestort die gloed van sy toorn en die geweld van die oorlog; en dit het hulle rondom aan die brand gesteek, maar hulle het dit nie bemerk nie; en dit het hulle gebrand, maar hulle het dit nie ter harte geneem nie.”   JESAJA 42:25 AFR53


 

119 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page