top of page
  • Regina Torre

Jesaja - Hoofstuk 36 tot 39

Updated: Mar 15, 2023

27 Februarie 2023


JESAJA 36:1 AFR53

“En in die veertiende jaar van koning Hiskía het Sánherib, die koning van Assirië, opgetrek teen al die versterkte stede van Juda en dit verower.”


Koning Hiskia, een van die goeie konings in die oë van die Here, is die hoofkarakter in die volgende vier hoofstukke. Hierdie geskiedenis kan ook in 2 Konings 18 - 20 en 2 Kronieke 29 - 30 gelees word.


Sanherib se manne het op die stadium reeds ses-en-veertig van Juda se versterkte stede aangeval en hulle ingeneem en Assirië is nou gereed om Jerusalem self ook te verower.


Sanherib, die koning van Assirië, het regeer van ongeveer 720 vC tot 683 vC.  Argeoloë het die oorblyfsels van sy paleis in Khorsebad, naby die antieke stad Nineve, uitgegrawe.


“En die woord van die Here het gekom tot Jona, die seun van Amíttai, en gesê: Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé en preek daarteen, want hulle boosheid het opgestyg voor my aangesig.”   JONA 1:1-2 AFR53


Assirië het reeds in 722 vC die noordelike koninkryk van Israel verower en die volk gevange geneem.


“Maar in die vierde jaar van koning Hiskía — dit was die sewende jaar van Hoséa, die seun van Ela, die koning van Israel — het Salmanéser, die koning van Assirië, teen Samaría opgetrek en dit beleër; en hulle het dit ingeneem aan die einde van drie jaar; in die sesde jaar van Hiskía — dit was die negende jaar van Hoséa, die koning van Israel — is Samaría ingeneem. En die koning van Assirië het Israel in ballingskap weggevoer na Assirië en hulle laat bly in Halag en aan die Habor, die rivier van Gosan, en in die stede van Medië;”   II KONINGS 18:9-11 AFR53


Die noordelike koninkryk Israel is verower deur Assirië omdat hulle nie meer na die stem van die Here hulle God geluister het nie, maar Sy verbond oortree het.


“omdat hulle nie gehoorsaam was aan die stem van die Here hulle God nie, maar sy verbond oortree het — alles wat Moses, die kneg van die Here, beveel het — sonder om daarna te luister en te handel.”   II KONINGS 18:12 AFR53


 

28 Februarie 2023


JESAJA 36:2 AFR53

“Toe stuur die koning van Assirië die rábsake uit Lagis na Jerusalem, na koning Hiskía met 'n swaar leër; en hy het gaan staan by die watervoor van die Boonste Dam, by die grootpad van die Bleikveld.”


Lagis (Lakis volgens die ander Bybel vertalings) lê so 40 km suid van Jerusalem – opgrawings bevestig die verwoesting van Lagis deur die Assiriërs. Assirië val Jerusalem dus vanuit hulle eie grondgebied aan.


Die plek vanwaar die Assiriërs die stad beleër het, die kanaal op pad na die Bleikveld, is presies waar Agas die stad wou beveilig met die vorige bedreiging van die Arameërs en die noordryk, baie duidelik ‘n strategiese punt.


“En die Here het vir Jesaja gesê: Gaan tog uit, Agas tegemoet, jy en jou seun Sjear Ja-sjub, aan die end van die watervoor van die Boonste Dam, by die grootpad van die Bleikveld,”   JESAJA 7:3 AFR53


Koning Hiskia (in die boek Kronieke word hy Jehiskia genoem), het besluit om dit nie maklik te maak vir die Assiriërs nie. Omdat die Assiriërs by die watervoor sou kamp het koning Hiskia besluit om die fontein-oë toe te stop om te verseker dat hulle nie baie water sou he nie.


“En toe Jehiskía sien dat Sánherib kom met die doel om teen Jerusalem te veg, het hy raad gehou met sy owerstes en sy helde, om die fontein-oë buitekant die stad toe te stop; en hulle het hom gehelp:”   II KRONIEKE 32:2-3 AFR53


Die rabsake (offisiere) van Assirië het na koning Hiskia geroep (soos ons sien in 2 Konings 18:18) en daarom is ‘n afvaardiging van Eljakim, Sebna en Joa na hulle gestuur.


“Daarop gaan Éljakim, die seun van Hilkía, wat oor die paleis was, en Sebna, die skrywer, en Joa, die seun van Asaf, die kanselier, na hom toe uit.”   JESAJA 36:3 AFR53


Wat hier volg tot aan die einde van die hoofstuk is ‘n geveg met woorde. Die Assiriërs met hul groot weermag, probeer om waninligting te versprei om die Jode se moed te breek.


“En hulle het na die koning geroep. Daarop gaan Éljakim, die seun van Hilkía, wat oor die paleis was, en Sebna, die skrywer, en Joa, die seun van Asaf, die kanselier, uit na hulle toe.”   II KONINGS 18:18 AFR53


Die benaming 'groot koning' was die gebruiklike titel van die konings van die Perse en Assiriërs, en hy wil weet - Wat is die grond van jou selfvertroue?  Waarop vertrou jy?


“En die rábsake sê vir hulle: Sê tog aan Hiskía: So spreek die groot koning, die koning van Assirië: Wat is dit vir 'n vertroue wat jy koester?”   JESAJA 36:4 AFR53


Die rabsake praat vêrder:  Hulle vat koning Hiskia se afvaardiging aan oor hul poging om met Egipte ‘n alliansie aan te gaan, en wys uit hoe vrugteloos dit is. 


“Jy dink: Net 'n woord van die lippe is raad en dapperheid vir die oorlog. Op wie vertrou jy nou, dat jy teen my in opstand kom? Kyk, jy vertrou op dié geknakte rietstok, op Egipte, wat, as iemand daarop leun, in sy hand ingaan en dit deurboor; so is Farao, die koning van Egipte, vir almal wat op hom vertrou.”   JESAJA 36:5-6 AFR53


 

1 Maart 2023


JESAJA 36:7 AFR53

“Maar as jy vir my sê: Ons vertrou op die Here onse God — is dit nie Hy wie se hoogtes en wie se altare Hiskía verwyder het nie deur aan Juda en Jerusalem te sê: Voor hierdie altaar moet julle buig?”


Die rabsake verdraai die betekenis van die hervormings wat Hiskia aangebring het, en sê dat dit die Here se altare is wat Hiskia verwoes het – dit terwyl dit juis nie so was nie.


Hiskia het die afgode wat die volk begin aanbid het tot niet gemaak. Die hoogtes, klippilare, die heilige boomstamme asook Moses se koperslang wat die volk aanbid het is stukkend gekap.


“En hy het gedoen wat reg was in die oë van die Here net soos sy vader Dawid gedoen het. Hy het die hoogtes afgeskaf en die klippilare verbreek en die heilige boomstamme omgekap en die koperslang wat Moses gemaak het, stukkend gestamp, omdat die kinders van Israel tot op dié dae daarvoor offerrook laat opgaan het; en hy het dit Nehústan genoem. Hy het op die Here, die God van Israel, vertrou, sodat onder al die konings van Juda ná hom en die wat voor hom gewees het, niemand soos hy was nie.”   II KONINGS 18:3-5 AFR53


Die rabsake gaan voort met hul propaganda veldtog en koggel die Joodse afvaardiging. Ons moet onthou dat die wet van Moses nie toegelaat het dat hul konings baie perde aanhou nie, dus was daar ook nie perderuiters in oorvloed nie.


“Hy mag net nie vir hom baie perde aanskaf nie, en hy mag die volk nie na Egipte teruglei om baie perde aan te skaf nie, aangesien die Here vir julle gesê het: Julle mag nooit meer teruggaan op hierdie pad nie.”   DEUTERONÓMIUM 17:16 AFR53


Die Assiriërs was trots op hul ruiters, en het gevolglik met minagting na 'n volk gekyk wat nie met perde geveg het nie. Hul koggel het gesê dat die Jode se verdediging so swak was dat indien hul tweeduisend perde verniet sou ontvang hul geen ruiters vir die perde kon verskaf nie.


“Nou dan, wed tog met my heer, die koning van Assirië, en ek sal jou tweeduisend perde gee as jy vir jou ruiters daarop kan lewer.”   JESAJA 36:8 AFR53


Die rabsake koggel voort dat Hiskia se weermag nie eens kan weerstand bied teen een van die swakste generaals van die Assiriërs nie, so hoe sal hul teen die weermag kan veg wat regstaan om hul aan te val.


“Hoe sal jy dan die aanval van 'n enkele goewerneur van my heer se geringste dienaars kan afslaan? Maar jy vertrou op Egipte vir strydwaens en perderuiters!”   JESAJA 36:9 AFR53


 

2 Maart 2023


JESAJA 36:10 AFR53

“Het ek dan nou sonder die Here teen hierdie land opgetrek om dit te verwoes? Die Here het vir my gesê: Trek op teen hierdie land en verwoes dit.”


Die rabsake erken hier dat hulle in opdrag van God die land verwoes het. Maar, soos ons reeds geleer het, het God Assirië na die noordelike koninkryk van Israel gestuur, en nie na Juda nie.

Assirië se intog teen Juda was teen God se bevel.


My vraag op die stadium is, waar in die Bybel sê God dat Assirië vir Israel moet aanval. Hosea gee vir ons die inligting, en hy begin sy oorsig in Egipte waar God Sy volk uit die slawehuis uitgelei het.


“Toe Israel 'n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.”   HOSÉA 11:1 AFR53


Die profete het sonder ophou God se waarskuwings deurgegee, maar die volk wou nie hoor nie. Hulle het weggeloop van God en eerder aan die Baäls geoffer.


“Hoe meer die profete hulle geroep het, des te meer het hulle van húlle af weggeloop; hulle het aan die Baäls geoffer en vir die gesnede beelde rook laat opgaan.”   HOSÉA 11:2 AFR53


God praat hier in die eerste persoon en sê Hyself het Efraim of Israel grootgemaak, soos ‘n ma haar kind sal grootmaak, maar Israel het God nie as hul Vader erken nie.


“En Ek self het Efraim leer loop. Hy het hulle op sy arms geneem, maar hulle het nie erken dat Ek hulle genees het nie.”   HOSÉA 11:3 AFR53


God sê vêrder dat Hy Israel met sorg en liefde gelei het en hulle in moeilike tye gehelp het. Hy het die volk gevoed wanneer hulle honger was, want Hy wou nie he hulle moet terugkeer na Egipte toe nie, of dat Assirië oor hulle moet heers nie. Maar, Israel het geweier om terug te keer na God hul Vader.


“Met mensebande, met koorde van liefde het Ek hulle getrek; en Ek was vir hulle soos diegene wat die juk van hulle kakebeen af oplig; en Ek het My na hom neergebuig, Ek het hom voedsel gegee.”   HOSÉA 11:4 AFR53


God het Efraim uit Egipteland uitgelei, met die bedoeling dat die volk nooit weer daarheen sou terugkeer nie, maar omdat hulle gesondig het en God se guns en beskerming verbeur het, sal hulle na Assirië gaan - en dit omdat hulle geweier het om na God terug te keer.


“Hy sal na Egipteland nie terugkeer nie, maar Assur — dié sal sy koning wees; omdat hulle geweier het om hulle te bekeer.”   HOSÉA 11:5 AFR53


 

3 Maart 2023


JESAJA 36:11 AFR53

“Toe sê Éljakim en Sebna en Joa vir die rábsake: Praat tog met u dienaars Aramees, want ons verstaan dit; en moenie met ons Joods praat voor die ore van die manskappe wat op die muur is nie.”


Die drie afgevaardiges van koning Hiskia vra vir die rabsake om Aramees en nie Joods te praat nie, want hulle wil nie he die manskappe moet als hoor wat die rabsake kweit raak nie.


Waar het hulle gepraat dat die manskappe kon hoor? Ons kry meer inligting in die boek Kronieke.


Koning Hiskia het in voorbereiding vir die aanval van Assirië, die stad Jerusalem versterk. Hy het die swak gedeeltes in die bestaande muur herstel en torings daarop gebou.  Hy het selfs 'n buitemuur gebou, en die terrasse onder die mure van die stad versterk. Hy het sy wapen arsenaal ook versterk deur ekstra spiese en skilde te laat maak.


“En hy het moed geskep en die hele muur opgetrek wat afgebreek was, en daar torings op gebou, ook die ander muur buitekant het hy gebou; en hy het Millo in die stad van Dawid versterk en werpspiese en skilde in menigte laat maak.”   II KRONIEKE 32:5 AFR53


Hy het sy weermag georganiseer en militêre offisiere oor die volksleër aangestel. Toe het koning Hiskia almal by stadspoort byeen laat kom en hulle toegespreek.


“En hy het krygsowerstes oor die manskappe aangestel en hulle by hom op die plein van die stadspoort byeen laat kom en na hulle hart gespreek en gesê:”   II KRONIEKE 32:6 AFR53


Koning Hiskia besef hy moet sy manskappe moed inpraat, want die vyand is op die oog af oorweldigend groot. Hy sê vir sy mense: Wees sterk en vol moed, moet nie bevrees of verskrik wees vanweë die Assiriese koning en menigte wat saam met hom is nie. Want, by ons is meer as by hom.


“Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik vanweë die koning van Assirië of vanweë die hele menigte wat saam met hom is nie; want by ons is meer as by hom.”   II KRONIEKE 32:7 AFR53


Koning Hiskia praat voort: Die Assiriërs se weermag is wel groter as ons weermag, maar ons het iets wat hulle nie het nie. Ons het die Here onse God om ons te help en ons oorlog vir ons te voer!


“By hom is 'n vleeslike arm, maar by ons is die Here onse God om ons te help en ons oorloë te voer! En die manskappe het gesteun op die woorde van Jehiskía, die koning van Juda.”   II KRONIEKE 32:8 AFR53


Hiskia se versekering dat God by hulle was om hulle te help, het gehelp om die volk se vertroue in die Here te bou in die aangesig van die ontsagwekkende Assiriërs.


Om die vraag dus te antwoord oor waar die rabsake gepraat het dat die manskappe van Juda hulle kon hoor, is dat hul buite die stadsmure wat nuut gebou was gestaan en skree het.


 

4 Maart 2023


JESAJA 36:12 AFR53

“Maar die rábsake het gesê: Het my heer my na jou heer en na jou gestuur om hierdie woorde te spreek? Is dit nie na die manne wat op die muur sit, dat hulle hul eie drek kan eet en hul eie water kan drink saam met julle nie?”


Die rabsake koggel koning Hiskia se manskappe. Hulle sê dat hulle nie slegs daar is om met koning Hiskia se afvaardiging te praat nie, hulle wil met die manne praat wat in die stad agter die skuiling van die muur sit en luister. Die Assiriërs wil he almal moet hoor wat met hulle gaan gebeur sodat hulle bang kan word en oorgee. Daarom ook dat hulle Joods praat en nie Aramees nie!


Die plan is om Jerusalem te omsingel en die stad te beleër sodat niemand in of uit die stadspoorte kan beweeg nie. Stelselmatig sal die mense in die stad se kos en water opraak en hulle sal van die honger doodgaan. ‘n Langtermyn plan maar effektief as jy tyd het.


Die rabsake skree nou vir almal om te hoor: Hoor die woorde van die groot koning, die koning van Assirië! So sê die koning: Laat Hiskía julle nie bedrieg nie, want hy sal julle nie kan red nie.


“Toe gaan die rábsake staan en roep hardop in die Joodse taal en sê: Hoor die woorde van die groot koning, die koning van Assirië! So sê die koning: Laat Hiskía julle nie bedrieg nie, want hy sal julle nie kan red nie.”   JESAJA 36:13-14 AFR53


Die rabsake het blykbaar ook koning Hiskia se toespraak aan sy manskappe gehoor, want hulle sê die volk moet nie dink God sal hulle kom red nie.


“En Hiskía moet julle nie op die Here laat vertrou nie deur te sê: Die Here sal ons sekerlik red; hierdie stad sal nie in die hand van die koning van Assirië oorgegee word nie.”   JESAJA 36:15 AFR53


Moet nie na koning Hiskia luister nie, gee julself oor en julle kan vir 'n tyd lank, 'n stil en veilige verblyf in jul eie stad he, tot die tyd sal aanbreek dat julle dan na ons land geneem sal word. ’n Vrugbare land, soos julle eie land met brood en wyn.


“Luister nie na Hiskía nie; want so sê die koning van Assirië: Sluit met my vriendskap en trek uit na my toe en eet elkeen van sy wingerdstok en elkeen van sy vyeboom en drink elkeen die water van sy put, totdat ek kom en julle meeneem na 'n land soos julle land, 'n land van koring en mos, 'n land van brood en wingerde.”  JESAJA 36:16-17 AFR53


Moet nie dink julle Here kan julle red nie. Het die gode van enige van die ander lande wat ons verower het hulle gered?


“Laat Hiskía julle nie verlei nie deur te sê: Die Here sal ons red! Het die gode van die nasies elkeen sy land gered uit die hand van die koning van Assirië? Waar is die gode van Hamat en Arpad? Waar die gode van Sefarváim? En het hulle miskien Samaría gered uit my hand? Wie is daar onder al die gode van hierdie lande wat hulle land gered het uit my hand, dat die Here Jerusalem uit my hand sou red?”   JESAJA 36:18-20 AFR53


Die volk het niks terug gesê nie, net stilgebly, want dit is wat koning Hiskia beveel het.


“Maar hulle het stilgebly en hom niks geantwoord nie; want dit was die bevel van die koning: Julle moet hom nie antwoord nie.”   JESAJA 36:21 AFR53


Die drie afgevaardiges het in sak en as vir die koning gaan verslag doen.


“Toe het Éljakim, die seun van Hilkía, wat oor die paleis was, en Sebna, die skrywer, en Joa, die seun van Asaf, die kanselier, met geskeurde klere by Hiskía gekom en hom die woorde van die rábsake te kenne gegee.”   JESAJA 36:22 AFR53


 

5 Maart 2023


JESAJA 37:1 AFR53

“En toe koning Hiskía dit hoor, het hy sy klere geskeur en hom met 'n roukleed bedek en in die huis van die Here gegaan.”


Koning Hiskia hoor die boodskap van sy afgevaardiges, skeur sy klere, bedek homself met ‘n roukleed en gaan na die huis van die Here. Die enigste plek waar hy weet waar om hulp te gaan soek.


By die tempel aangekom stuur koning Hiskia vir Eljakim en Sebna na die profeet Jesaja.


“Daarna stuur hy Éljakim, wat oor die paleis was, en Sebna, die skrywer, en die oudstes van die priesters, met rouklere bedek, na die profeet Jesaja, die seun van Amos.”   JESAJA 37:2 AFR53


Die boodskappers gee vir Jesaja, koning Hiskia se boodskap: Ons is in ‘n dag van rou en is in die moeilikheid en voel benoud. So benoud soos ‘n vrou wat in kraam is, maar nie die krag het om die geboorte deur te voer nie.


“En hulle sê vir hom: So sê Hiskía: Vandag is 'n dag van benoudheid en straf en lastering; want die kinders het tot by die geboorte gekom, maar daar is geen krag om te baar nie.”   JESAJA 37:3 AFR53


Miskien sal God hoor hoe die rabsake Hom gekoggel het en die Assiriërs daarvoor straf. Bid dan vir die volk wat oorgebly het.


“Miskien sal die Here u God die woorde hoor van die rábsake wat deur sy heer, die koning van Assirië, gestuur is om die lewende God te smaad, en sal Hy hom straf oor die woorde wat die Here u God gehoor het; hef dan 'n gebed op vir die oorblyfsel wat nog aanwesig is.”   JESAJA 37:4 AFR53


Jesaja stuur sy antwoord terug: So spreek die Here - want Jesaja gee net deur wat hy as profeet van God hoor. Vrees nie vir die koning van Assirië se woorde nie.


“En toe die dienaars van koning Hiskía by Jesaja kom, sê Jesaja vir hulle: So moet julle jul heer antwoord: So spreek die Here: Vrees nie vir die woorde wat jy gehoor het, waarmee die dienaars van die koning van Assirië My gelaster het nie.”   JESAJA 37:5-6 AFR53


God sal die koning van Assirië ’n gees van onrustigheid gee sodat hy terug sal keer na sy eie land, waar hy sal sterf.


“Kyk, Ek sal 'n gees in hom gee, dat hy 'n gerug hoor en na sy land terugtrek; en Ek sal hom in sy land deur die swaard laat val.”   JESAJA 37:7 AFR53


 

6 Maart 2023


JESAJA 37:8 AFR53

“Daarop het die rábsake teruggegaan en die koning van Assirië aangetref terwyl hy besig was om teen Libna te veg; want hy het gehoor dat hy van Lagis af weggetrek het.”


Die rabsake keer terug van Jerusalem na die kamp van sy heer. Hy het geen antwoord op sy beledigende boodskap gekry, en het gesien daar was geen vooruitsig dat die stad sou oorgee nie, en daarom het hy weer na die laer teruggekeer.


Libna is ongeveer 32 km suidwes van Jerusalem en Lagis ongeveer 12 km verder suidwes. Die koning van Assirië het dus reeds Lagis verslaan en was in die proses om Libna te verslaan toe hy die rabsake ontvang.


Nou kom die oomblik toe die koning 'n gerug hoor wat hom noodsaak om weg te trek van die geveg naby Jerusalem. Tirhaka, die koning van Ethiopië maak gereed om Nineve aan te val wat Sanherib se terugkeer noodsaak om sy stad te verdedig


“En toe hy van Tirháka, die koning van Kus, hoor sê: Hy het uitgetrek om teen u te veg — toe hy dit hoor, stuur hy boodskappers na Hiskía met die opdrag: So moet julle aan Hiskía, die koning van Juda, sê: Laat u God op wie u vertrou, u nie bedrieg nie deur te sê: Jerusalem sal nie in die hand van die koning van Assirië oorgegee word nie.”   JESAJA 37:9-10 AFR53


Daar kom nie so 'n aanval nie, en twintig jaar later word koning Sanherib in sy tempel vermoor terwyl hy tot sy heidense god aanbid het.


Intussen, terwyl hy voorberei om na Nineve te vertrek, skryf Sanherib sy eie brief aan Hiskia om sy oorgawe te probeer verkry.


Hierdie brief dra baie dieselfde storie oor as voorheen. Die ander nasies het geen kans gestaan ​​om die Assiriese leërs te keer nie, hulle gode het hul niks goeds gedoen nie so waarom sou die Joodse God dan anders wees? Hy sê dat hulle God hulle mislei om te glo dat hulle sal oorleef.


“Kyk, u het self gehoor wat die konings van Assirië aan al die lande gedoen het deur dit met die banvloek te tref, en sou ú gered word? Het die gode van die nasies wat my vaders uitgeroei het, hulle gered — Gosan en Haran en Resef en die kinders van Eden wat in Telássar was? Waar is die koning van Hamat en die koning van Arpad en die koning van die stad Sefarváim, van Hena en Iwa?”   JESAJA 37:11-13 AFR53


 

7 Maart 2023


JESAJA 37:14 AFR53

“En toe Hiskía die brief uit die hand van die boodskappers ontvang en dit gelees het, het hy opgegaan na die huis van die Here; en Hiskía het dit uitgesprei voor die aangesig van die Here.”


Koning Hiskia ontvang die brief van die Assiriërs, lees dit en besluit om nie soos voorheen na Egipte te draai nie, maar hy gaan op na die huis van die Here. In die tempel sprei koning Hiskia die brief wat hy ontvang uit voor die aangesig van God.

Hiskia bid tot God en erken in sy gebed God se Almag, Alleen-heerskappy en Skepper-status en vra dat Hy sal luister en sal oplet wat met hulle gebeur.


“En Hiskía het tot die Here gebid en gesê: o Here van die leërskare, God van Israel wat op die gérubs troon! U alleen is die God van al die koninkryke van die aarde; Ú het die hemel en die aarde gemaak.” JESAJA 37:15-16 AFR53

Hiskia vra God om te hoor en al die woorde wat Sanherib gestuur het te sien, sodat God kan sien hoe hy Hom gesmaad het. Koning Hiskia erken wel die mag van Assirië, maar nie die mag van sy gode nie!

“o Here, neig u oor en luister! Here, open u oë en kyk en hoor al die woorde van Sánherib, wat hy gestuur het om die lewende God te smaad! Waarlik, Here, die konings van Assirië het al die lande en hulle gebied verwoes en hulle gode in die vuur gegooi; want dit was geen gode nie, maar werk van mensehande, hout en klip — daarom kon hulle dié vernietig.” JESAJA 37:17-19 AFR53

Die hoogtepunt van Hiskia se gebed is die lastering wat Sanherib pleeg teenoor die Here, met die versoek dat die Here hulle sal red as ‘n teken aan alle nasies dat “net U, Here, God is”

“Here onse God, verlos ons dan nou uit sy hand, sodat al die koninkryke van die aarde kan weet dat U, Here, dit alleen is.” JESAJA 37:20 AFR53


Aangesien Juda alleen, die land onder die beskerming van God, gered sou word, sou al die nasies weet dat dit nie deur die krag van 'n afgod kon wees nie. Die begeerte van Hiskia was dus nie hoofsaaklik dié van sy eie persoonlike veiligheid of die veiligheid van sy koninkryk nie. Dit was dat God Sy groot en heilige Naam van smaad kon regverdig, en dat die wêreld sou weet dat Hy die enigste ware God is.

Die hoogste agting vir die heerlikheid van God het hierdie vrome monarg in sy gebede beïnvloed, en ons het hier 'n pragtige model van die onderwerp wat ons in die oog moet hê wanneer ons voor God kom. Dit is nie primêr dat ons gered kan word nie, dit is nie dat ons vriende of dat die wêreld gered kan word nie, maar dat die Naam van God geëer kan word.


 

8 Maart 2023

JESAJA 37:21 AFR53

“Toe laat Jesaja, die seun van Amos, vir Hiskía weet: So spreek die Here, die God van Israel: Wat jy tot My gebid het aangaande Sánherib, die koning van Assirië, het Ek gehoor.”

Jesaja laat weet vir koning Hiskia dat God sy gebed aangaande Sanherib gehoor het.


God se antwoord begin met ‘n woord aan Sanherib. Die dogter van Sion of Jerusalem wat die teiken van Sanherib se weermag was, verag jou, Sanherib!

“Dit is die woord wat die Here oor hom gespreek het: Die jonkvrou, die dogter van Sion, verag jou, bespot jou; agter jou skud die dogter van Jerusalem die hoof.” JESAJA 37:22 AFR53


God vertel vir Sanherib dat hy nie Jerusalem gelaster het nie maar die Heilige van Israel, God self.


“Wie het jy gesmaad en gelaster? En teen wie het jy die stem verhef en jou oë hoogmoedig opgehef? Teen die Heilige van Israel!” JESAJA 37:23 AFR53


God berispe Sanherib vêrder en sê hy het gedink dis hyself wat so oulik en sterk was om al die nasies te oorwin.


“Deur jou dienaars het jy die Here gesmaad en gesê: Met die menigte van my strydwaens het ek geklim op die hoogte van die berge, die uithoeke van die Líbanon, en ek wil sy statige seders, die keur van sy sipresse, omkap en deurdring tot sy uiterste hoogte, sy bos wat is soos 'n tuin. Ék het gegrawe en water gedrink en laat met die sool van my voete al die strome van Egipte opdroog.” JESAJA 37:24-25 AFR53

Het jy nie gehoor nie? vra God vir Sanherib. Van lankal het Ek dit berei, van die dae van die voortyd af dit beskik. Nou het Ek dit laat kom ….. God vertel vir Sanherib dat Hy alles van die begin af vooruitbeplan het.


“Het jy dit nie gehoor nie? Van lankal het Ek dit berei, van die dae van die voortyd af dit beskik. Nou het Ek dit laat kom, dat jy versterkte stede tot puinhope kom verwoes. En hulle inwoners was magteloos, het verskrik en beskaamd gestaan; hulle was soos plante van die veld en groen grassies, soos gras van die dakke en 'n koringland voordat dit are skiet.” JESAJA 37:26-27 AFR53

Sanherib word gewys op sy flagrante oorskatting van sy mag wat hom verlei het om God te minag. Hy is net die instrument van God wat nou weens sy arrogante hoogmoed verwerp sal word.


“Maar Ek ken jou sit en jou uitgang en jou ingang en hoe jy teen My raas. Omdat jy teen My raas en jou trotsheid opgekom het in my ore, daarom sal Ek my haak in jou neus sit en my toom tussen jou lippe en jou terugbring met die pad waarmee jy gekom het.” JESAJA 37:28-29 AFR53

 

9 Maart 2023

JESAJA 37:30 AFR53

“En dit sal vir jou die teken wees: Eet hierdie jaar wat vanself opslaan, en in die tweede jaar wat dan nog opkom; maar in die derde jaar — saai en oes, en plant wingerde en eet die vrugte daarvan.”

Nou wend God sy aandag na koning Hiskia en gee vir hom ‘n teken. Kos produksie was belangrik om die volk te voed en alle grondbewerking was met die naderende Assiriese inval ontwrig.

God sê vir Hiskia dat die volk in die huidige jaar sal eet van dit wat self op die lande groei en sal ook die volgende jaar dieselfde doen. Slegs in die derde jaar van hier af sal hulle weer moet saai en plant om kos te voorsien aan die volk. Die betekenis hiervan is dat hul lewe tot normaal sou terugkeer.

Die wat oorgebly het van Juda nadat die versterkte stede verower is, sal weer wortel skiet en floreer.


“Dan sal die vrygeraaktes wat oorgebly het van die huis van Juda, weer wortel skiet ondertoe en vrugte dra boontoe. Want uit Jerusalem sal 'n oorblyfsel uitgaan en vrygeraaktes van die berg Sion. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen.”

JESAJA 37:31-32 AFR53

God bevestig aan koning Hiskia dat die Assiriërs nooit Jerusalem sal inval nie. Koning Sanherib sal met die pad wat hy gekom het weer teruggaan.

“Daarom, so sê die Here aangaande die koning van Assirië: Hy sal in hierdie stad nie inkom en daar geen pyl in skiet nie en dit met geen skild aanval en daar geen wal teen opwerp nie. Met die pad wat hy gekom het, sal hy teruggaan; maar in hierdie stad sal hy nie inkom nie, spreek die Here. En Ek sal hierdie stad beskut om dit te verlos, om My en om my kneg Dawid ontwil.” JESAJA 37:33-34 AFR53

God self sal Jerusalem beskerm.


“En Ek sal hierdie stad beskut om dit te verlos, om My en om my kneg Dawid ontwil.” JESAJA 37:35 AFR53


Nieteenstaande alles wat koning Hiskia gedoen het om die stad te beveilig was dit nogtans God alleen wat Jerusalem kon bewaar.

Let op die redes vir dié optrede van God: 1) ter wille van Homself en Sy eer en 2) ter wille van Sy dienaar Dawid en Sy verbintenis aan Dawid se nageslag.


 

10 Maart 2023


JESAJA 37:36 AFR53

“Toe het die engel van die Here uitgetrek en in die laer van Assirië honderd-vyf-en-tagtigduisend verslaan. En toe hulle die môre vroeg hul klaarmaak — was dit almal dooie liggame.”


Eenvoudig en kragtig vernietig God hierdie magtige nasie. 185 000 sterf oornag met die engel van die Here wat teen die weermag van die Assiriërs uittrek en hulle verslaan.


Teen alle verwagtinge in is die Assiriese leër verslaan sonder dat hulle eers 'n pyl na Jerusalem geskiet het.


Die profeet Hosea het hierdie selfde uitkoms geprofeteer.


“Maar oor die huis van Juda sal Ek My ontferm en hulle verlos deur die Here hulle God, en Ek sal hulle nie deur boog of swaard of oorlog, deur perde of ruiters verlos nie.”   HOSÉA 1:7 AFR53


Sanherib het vertrek en in Nineve gebly, maar was steeds vol trots. Ná sy terugtog uit

Juda het Sanherib sy oorwinnings (uitgesluit Jerusalem natuurlik) verewig deur dit op te skryf op ‘n klip prisma wat vandag in die Britse Museum gesien kan word.   https://www.britishmuseum.org/collection/object/W_1855-1003


‘n Gedeelte van die skrywe kan as volg vertaal word:  “Ek het Hiskia van Juda aangeval wat hom nie aan my onderwerp het nie, en ek het ses-en-veertig vestings, forte en klein stede ingeneem. Ek het 200,150 mense gevange geneem, groot en klein, mans sowel as vrouens, 'n menigte perde, jong bulle, esels, kamele en osse. Ek het Hiskia self in Jerusalem opgesluit soos 'n voël in sy hok. Ek het banke teen die stad opgerig. Ek het sy stede waarvan ek die inwoners gevange geneem het uit sy ryk geskei en dit aan Mitiniti, koning van Asdod, Padi, koning van Ekron, en Zilbel, koning van Gasa, gegee en so sy land verklein. En ek het nog 'n belasting bygevoeg by die een wat vroeër op hom gehef is.”


Die Bybelse verslag sluit af met die veelbesproke stelling dat die Assiriese weermag op een of ander manier gedurende die nag met aansienlike lewensverliese neergeslaan is, ... Die Assiriese annale stem stilswyend saam met die Bybelse weergawe deur geen aanspraak te maak daarop dat Jerusalem ingeneem is nie, maar net hulde van Hiskia te beskryf.


“En Sánherib, die koning van Assirië, het opgebreek en weggetrek en teruggegaan en in Ninevé gebly.”   JESAJA 37:37 AFR53


Tussen Jesaja 37:37 en Jesaja 37:38 het sowat 20 jaar verloop. Sanherib het moontlik gedink dat hy die oordeel van God vrygespring het, maar hy het nie. Sy lewe kom tot ‘n einde met sy eie seuns wat hom met die swaard doodmaak terwyl hy in sy afgodstempel aanbid.


“En toe hy hom neerbuig in die tempel van sy god Nisrog, het sy seuns Adramméleg en Saréser hom met die swaard neergeslaan. Maar hulle het ontvlug na die land Árarat; en sy seun Esar-Haddon het koning geword in sy plek.”   JESAJA 37:38 AFR53


 

11 Maart 2023


JESAJA 38:1 AFR53

“In dié dae het Hiskía dodelik siek geword; en die profeet Jesaja, die seun van Amos, het by hom gekom en vir hom gesê: So spreek die Here: Gee bevel aan jou huis, want jy sal sterwe en nie lewe nie.”


Koning Hiskia se siekte vind plaas tydens die Assiriese inval, want Jerusalem was nog nie van die Assiriese bedreiging verlos nie. Ons sien die in vers 6 van hierdie hoofstuk waar God vir koning Hiskia sê dat Hy Hiskia en Jerusalem sal beskerm.


“en Ek sal jou uit die hand van die koning van Assirië red en ook hierdie stad; en Ek sal hierdie stad beskut.”   JESAJA 38:6 AFR53


Jesaja besoek die koning en vertel vir hom dat hy gaan sterf en dat hy sy huis in orde moet bring. Sy huis in orde bring het beteken dat hy sy testament in orde moes kry en ‘n opvolger vir hom moet toewys.


Hiskia draai sy gesig na die muur om heel moontlik privaat te wees, en hy bid tot God. Koning Hiskia vra vir God om te onthou dat hy in trou en met volle oorgawe vir God gelewe het en gedoen het wat goed is in die oë van die Here.


“Toe draai Hiskía sy gesig na die muur, en hy het tot die Here gebid en gesê: Ag, Here, dink tog daaraan dat ek voor u aangesig in trou en met 'n volkome hart gewandel het en gedoen het wat goed is in u oë. En Hiskía het bitterlik geween.”   JESAJA 38:2-3 AFR53


Koning Hiskia huil terwyl hy bid en dit is moontlik omdat hy kinderloos was en die regering sonder ‘n opvolger sou los. Ander veronderstel dat hy gehuil het omdat sy dood deur sy vyande vertolk kon word as 'n oordeel van God omdat hy die tempel van sy ornamente gestroop het.


“Toe laat Hiskía, die koning van Juda, die koning van Assirië na Lagis weet: Ek het gesondig; trek terug van my af weg; wat u my oplê, sal ek lewer. En die koning van Assirië het aan Hiskía, die koning van Juda, driehonderd talente silwer en dertig talente goud opgelê. En Hiskía het al die silwer gegee wat in die huis van die Here te vinde was en in die skatkamers van die huis van die koning. In dieselfde tyd het Hiskía die goud van die deure in die tempel van die Here afgesny en van die deurposte wat Hiskía, die koning van Juda, oorgetrek het, en dit aan die koning van Assirië gegee.”   II KONINGS 18:14-16 AFR53


God reageer op die gebed deur Jesaja met ‘n boodskap van hoop na Hiskia te stuur. Die Here roep in Sy antwoord Hiskia se voorvader Dawid in herinnering en verleng Hiskia se lewe met 15 jaar.  Let op dat die Here ook dít wat Hiskia nie vra nie, verlossing van die Assiriërs, vir hom belowe.


“Toe het die woord van die Here tot Jesaja gekom en gesê: Gaan sê vir Hiskía: So spreek die Here, die God van jou vader Dawid: Ek het jou gebed gehoor, jou trane gesien; kyk, Ek sal vyftien jaar by jou dae byvoeg, en Ek sal jou uit die hand van die koning van Assirië red en ook hierdie stad; en Ek sal hierdie stad beskut.”   JESAJA 38:4-6 AFR53


 

12 Maart 2023


JESAJA 38:7 AFR53

“En dit sal vir jou die teken wees van die kant van die Here, dat die Here hierdie woord wat Hy gespreek het, sal volbring:”


God gee vir koning Hiskia nog ‘n teken om te wys dat hy gesond sal word.


Die son se skaduwee wat op Agas se sonwyser gesien kan word, sal tien grade terugskuif.


“Kyk, Ek sal die skaduwee op die grade wat dit gedaal het deur die son op die grade van Agas se sonnewyser, laat teruggaan, tien grade agteruit. En die son het tien grade teruggegaan op die grade wat dit gedaal het.”   JESAJA 38:8 AFR53


In die boek 2 Konings kry ons meer detail oor hierdie wonderwerk. Hiskia het vir Jesaja vir ‘n teken gevra om te bewys dat God se Woord vervul sou word.


“Hiskía het vir Jesaja gevra: Wat is die teken dat die Here my gesond sal maak, en dat ek op die derde dag sal opgaan na die huis van die Here?”   II KONINGS 20:8 AFR53


Jesaja gee vir Hiskia die geleentheid om te kies of die son se skaduwee tien grade vorentoe of terug moet beweeg.


“En Jesaja antwoord: Dit sal vir jou die teken van die kant van die Here wees dat die Here die woord sal volbring wat Hy gespreek het: Moet die skaduwee tien grade vooruit gaan, of moet dit tien grade agteruit gaan?”   II KONINGS 20:9 AFR53


Koning Hiskia besluit toe dat vorentoe te maklik is, kom ons maak dit moeilik en laat die skaduwee terug beweeg.


“Toe sê Jehiskía: Dit is maklik vir die skaduwee om tien grade te daal; nee, maar laat die skaduwee teruggaan, tien grade agteruit. En Jesaja, die profeet, het die Here aangeroep, en Hy het die skaduwee op die grade waarlangs dit op die grade van Agas se sonnewyser gedaal het, laat teruggaan, tien grade agteruit.”   II KONINGS 20:10-11 AFR53


Dit was nie nodig vir God om die rotasie van die aarde om te keer om hierdie wonderwerk uit te voer nie. Hierdie wonderwerk was soos ander wat God gedoen het, slegs op die plek waar dit saak gemaak het, en nie wêreldwyd nie.


“Verder het die Here vir Moses gesê: Steek jou hand na die hemel uit, en daar sal duisternis oor Egipteland kom, sodat 'n mens die duisternis kan gryp. Toe Moses sy hand uitsteek na die hemel, kom daar 'n dik duisternis in die hele Egipteland, drie dae lank. Die een het die ander nie gesien nie, en niemand het van sy plek opgestaan nie, drie dae lank. Maar al die kinders van Israel het lig in hulle woonplekke gehad.”   EXODUS 10:21-23 AFR53


“Toe het Josua met die Here gespreek, op die dag dat die Here die Amoriete aan die kinders van Israel oorgegee het, en voor die oë van Israel gesê: Son, staan stil in Gíbeon, en maan, in die dal van Ájalon! Toe staan die son stil en bly die maan staan totdat die volk hulle gewreek het op hul vyande. Staan dit nie geskrywe in die Boek van die Opregte nie? En die son het bly staan in die middel van die hemel en het hom nie gehaas om onder te gaan nie, omtrent 'n volle dag.”   JOSUA 10:12-13 AFR53


 

13 Maart 2023


JESAJA 38:9 AFR53

“Geskrif van Hiskía, die koning van Juda, toe hy siek was en van sy siekte gesond geword het.”


Koning Hiskia skryf ‘n lied om die goedheid van God te besing omdat hy genees is. Die lied is in ‘chiasmus’ formaat geskryf. Dit is waar ‘n reeks idees aangebied word en dan in omgekeerde volgorde herhaal word.


v10: Die gedig begin met ‘n verwysing na die poorte van die doderyk en droefheid omdat hy (Hiskia) beroof word van sy orige dae.

v20: Dan eindig die gedig met ‘n verwysing na die huis van die Here en vreugde oor die vooruitsig van verlengde dae


“Ek het gesê: In die bloei van my dae moet ek heengaan in die poorte van die doderyk; ek word beroof van my orige jare.    JESAJA 38:10 AFR53

Die Here staan gereed om my te verlos; daarom sal ons op my snaarinstrumente speel al die dae van ons lewe, by die huis van die Here.”   JESAJA 38: 20 AFR53


v11: Die koning verwys in die vers na die land van die lewendes wat vir die afgestorwenes verruil word.

v18-19: En hy eindig met ‘n verwysing na die land van die afgestorwenes wat verruil word vir die land van die lewendes.


“Ek het gesê: Ek sal die Here nie sien nie, die Here, in die land van die lewendes; ek sal die mense nie meer aanskou onder die inwoners van die wêreld nie.”   JESAJA 38:11 AFR53

“Want die doderyk sal U nie loof nie, die dood U nie prys nie; die wat in die kuil neerdaal, sal op u trou nie hoop nie. Die lewende, die lewende, dié sal U loof, soos ek vandag; die vader maak aan die kinders u trou bekend.”   JESAJA 38:18-19 AFR53


In die middel van die lied het Hiskia God se vyandigheid (verse 12-14) gekontrasteer met God se herstel (verse 15-17).


“My woning is opgebreek en van my af weggevoer soos 'n herderstent; ek het my lewe opgerol soos 'n wewer sy weefsel; Hy sny my van die wewersbalk af; van dag tot nag gee U my prys. Bring ek myself tot bedaring tot die môre — soos 'n leeu só verbreek Hy al my beendere; van dag tot nag gee U my prys. Soos 'n swaweltjie of kraanvoël, so het ek gepiep; ek het gekir soos 'n duif; my oë het dof gekyk na bo: Here, ek is benoud, wees U my Borg!”   JESAJA 38:12-14 AFR53


“Wat sal ek spreek, aangesien Hy my dit beloof het en Hy self dit gedoen het? Ek sal soetjies voortgaan al my jare vanweë die bitterheid van my siel. Here, by hierdie dinge leef 'n mens, en geheel en al is daarin die lewe van my gees: laat my dan gesond word en laat my lewe! Kyk, tot heil het die bitter, ja, bitter lyde my geword; maar U, U het my siel liefgehad en getrek uit die kuil van vernietiging. Want U het al my sondes agter u rug gewerp.”JESAJA 38:15-17 AFR53


Koning Hiskia het eers sy toestand beskryf (verse 9-14), en daarna het hy God geprys vir sy genade (verse15- 20).


’n Vyekoek het die reputasie dat dit swere kan oopbreek en so is Hiskia toe genees. Die wonderwerk van die son se skaduwee wat terugskuif was die koning se teken dat hy weer na die huis van die Here sou gaan.


“En Jesaja het gesê: Laat hulle 'n vyekoek neem en dit op die sweer sit, dat hy gesond kan word. En Hiskía het gesê: Wat is die teken dat ek na die huis van die Here sal opgaan?”   JESAJA 38:21-22 AFR53


 

14 Maart 2023


JESAJA 39:1 AFR53

“In dié tyd het Meródag Báladan, die seun van Báladan, die koning van Babel, 'n brief en 'n geskenk aan Hiskía gestuur; want hy het gehoor dat hy siek was en gesond geword het.”


‘n Afvaardiging van Babel besoek koning Hiskia om ondersoek in te stel na sy wonder genesing.


Waarskynlik wou hulle Juda intrek in ‘n anti-Assiriese bondgenootskap en gebruik nou die genesing as ‘n aanknopingspunt om hulle eie agenda te bevorder.


Hiskia word daardeur verlei om by hulle te spog oor sy skatte wat ‘n gemoedelike verhouding skep wat Babel sou kon laat dink het dat hulle op Hiskia se steun teen Assirië kon staatmaak. 


“En Hiskía was bly oor hulle en het hulle sy skathuis laat sien, die silwer en die goud en die speserye en die kosbare olie en sy hele wapenhuis en alles wat te vinde was in sy skatkamers; daar was niks in sy huis of in sy hele ryk wat Hiskía hulle nie laat sien het nie.”   JESAJA 39:2 AFR53


Jesaja is omgekrap oor die besoek van die vreemdelinge en wil by koning Hiskia weet wie dit is en wat hulle gesien het. Jesaja kan nie glo dat Hiskia so ‘dom’ was om al hul skatte vir die vreemdelinge te toon nie.


“Toe kom die profeet Jesaja na koning Hiskía en sê vir hom: Wat het hierdie manne gesê en waarvandaan het hulle na u gekom? En Hiskía antwoord: Uit 'n ver land het hulle na my gekom, uit Babel. En hy sê: Wat het hulle in u huis gesien? En Hiskía antwoord: Hulle het alles gesien wat in my huis is; daar is niks in my skatkamers wat ek hulle nie laat sien het nie.”   JESAJA 39:3-4 AFR53


Jesaja profeteer oor die komende Babiloniese ballingskap wat op Juda wag. Die groeiende mag van die Babiloniërs moes eintlik vir Hiskia uiters versigtig gemaak het vir enige bande met hulle. Dit is juis hierdie volk, onder leiding van Nebukadneser, wat uiteindelik vir Juda, paleis-skatte, mense en al, ‘n eeu later in ballingskap sou wegvoer.


“Toe sê Jesaja vir Hiskía: Hoor die woord van die Here van die leërskare: Kyk, daar kom dae dat alles wat in jou huis is en wat jou vaders opgehoop het tot vandag toe, na Babel weggevoer sal word; daar sal niks oorbly nie, sê die Here. En van jou seuns wat uit jou sal voortkom, wat jy sal verwek, sal hulle neem, dat hulle hofdienaars word in die paleis van die koning van Babel.”   JESAJA 39:5-7 AFR53


Hiskia is net verlig die gevaar is nie in sy leeftyd nie.


“Toe sê Hiskía vir Jesaja: Die woord van die Here wat u gespreek het, is goed. Ook sê hy: Daar sal tog vrede en bestendigheid wees in my dae!”   JESAJA 39:8 AFR53


Die eerste deel van Jesaja eindig dus op dieselfde noot waarmee dit begin het in hoofstuk 1.

Die volk het nie ‘n begrip van wat God doen nie, daarom oortree hulle en ploeter hulle voort in hul alliansie-politiek, sonder om die gevare daarvan na waarde te skat, en natuurlik sonder om die verhouding met God in stand te hou.


 

15 Maart 2023


OPENBARING 17:9 AFR53

Hier kom die verstand wat wysheid het, te pas. Die sewe koppe is sewe berge waar die vrou op sit.


Die boek Jesaja word in twee dele verdeel en ons het sopas die eerste gedeelte van Jesaja afgehandel, nl: hooftukke 1 tot 39.


Ek weet nie van julle nie, maar op die stadium is ek baie meer vertroud met begrip van die Noordelike koninkryk Israel en die Suidelike koninkryk Juda. Ek weet ook nou dat die Assiriërs ‘n groot vyand van eerstens Israel en in ‘n mindere mate van Juda was.


Die Assiriërs speel ‘n belangrike rol in profesie, en ek kan met gemak nou na hulle verwys en weet waar in die Bybel hulle oorspronklik inpas.


So wanneer ons in Openbaring die lys van die wêreld se koninkryke sien, dan kan ons met meer insig verstaan waar Assirië in die groot prentjie inpas soos in vandag se vers in Openbaring 17:9.


Die sewe koppe van die dier is sewe berge. Hierdie is wêreldregerings wat oor die HELE wêreld van hul tyd regeer en word as volg geidentifiseer.


1.  Egipte

Die eerste groot regering van die Ou Testament is die Egiptenare wat God se volk vir 400 jaar onderdruk het -


“Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in 'n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vierhonderd jaar lank.”   GÉNESIS 15:13 AFR53


2.  Assirië

Die Noordelike koninkryk van Israel regeer van 931 BC tot 722 BC. In al die tyd het die mense hul rug op God gekeer en as straf is hulle deur Assirië aangeval en as krygsgevangenes wegvoer -


“In die negende jaar van Hoséa het die koning van Assirië Samaría ingeneem en Israel in ballingskap weggevoer na Assirië en hulle laat woon in Halag en aan die Habor, die rivier van Gosan, en in die stede van Medië.”   II KONINGS 17:6 AFR53


Daniel moet Nebukadneser se droom uitlê en wat hy sien is die verskillende koninkryke wat van hier af gaan heers tot en met die einde van tyd. Ons begin met die eerste drie tydperke:


3.  Babilon - hoof van goud

4.  Mede & Perse - bors en arms van silwer

5.  Grieke - lendene van koper


“Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper,”.  DANIËL 2:32 AFR53


Die Romeinse Ryk was aan bewind toe Jesus op aarde was en is nooit deur ‘n ander regeerder oorwin nie. Die Romeinse Ryk het stil stil verdwyn maar gaan weer aan die einde van tyd ‘n gedeelde heerskappy voer (yster en klei) met die groot doel om teen God te veg by Armageddon.

6.  Rome 1 (verlede, bene van yster)

7.  Rome 2 (toekoms, voete gedeeltelik yster en gedeeltelik klei)


“sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei.”   DANIËL 2:33 AFR53


 

76 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page