top of page
  • Regina Torre

Jesaja - Hoofstuk 28 tot 35

Updated: Feb 27, 2023



1 Februarie 2023


JESAJA 28:1 AFR53

“Wee die trotse kroon van die dronkaards van Efraim, en wee die blom wat verwelk, sy pronksieraad, wat daar is op die top van die vrugbare dal van hulle wat deur die wyn verslaan is.”


Die woord ‘wee’ word gebruik om ‘n naderende oordeel te beskryf. Hoofstukke 28 tot 33 gaan vir ons ses sulke wee beskryf.


Die eerste wee is oor die trotse kroon van die dronkaards van Efraim.

Die trotse kroon is ‘n Hebreeuse uitdrukking wat hoogmoed aandui en Efraim is ‘n ander naam vir die Noordelike koninkryk. Die eerste wee is dus oor Samaria, die hoofstad en trots van die Noordelike koninkryk Israel.


Samaria se vernietiging was as gevolg van die inwoners se dronkenskap en hoogmoed, en hul vernietiging word vergelyk met ‘n blom wat verwelk en verdwyn.


Die haelstorm vol verwoesting is die Assiriese koning wat deur God gebruik word om die Noordelike koninkryk te vernietig.

“Kyk, die Here het een wat sterk en magtig is, soos 'n haelstorm, 'n storm vol verwoesting, soos 'n stortbui van geweldige, oorlopende waters wat teen die grond gooi met krag.” JESAJA 28:2 AFR53

Die koning van Assirië het Samaria ingeneem en Israel in ballingskap weggevoer.


“En die koning van Assirië het opgetrek deur die hele land en opgetrek na Samaría en dit drie jaar lank beleër. In die negende jaar van Hoséa het die koning van Assirië Samaría ingeneem en Israel in ballingskap weggevoer na Assirië en hulle laat woon in Halag en aan die Habor, die rivier van Gosan, en in die stede van Medië.” II KONINGS 17:5-6 AFR53


Soos iemand wat ‘n vy wegsluk, so sal die verwoesting van Israel wees!


“Met voete sal vertrap word die trotse kroon van die dronkaards van Efraim; en die blom wat verwelk, sy pronksieraad, wat daar is op die top van die vrugbare dal, sal wees soos 'n voorvy voor die vrugte-oes: iemand sien dit skaars of, terwyl dit nog in sy hand is, sluk hy dit weg.” JESAJA 28:3-4 AFR53


Vir die gelowige oorblyfsel in Israel is God ‘n sierlike kroon en ‘n pragtige krans, wat aan hulle ‘n sin vir reg sal verleen en in staat sal stel om alle aanvalle die hoof te bied.


“In dié dag sal die Here van die leërskare wees tot 'n sierlike kroon en 'n pragtige krans vir die oorblyfsel van sy volk, en tot 'n gees van strafgerig vir hom wat sit oor die gereg, en tot 'n sterkte vir hulle wat die geveg terugdring na die poort toe.” JESAJA 28:5-6 AFR53

 

2 Februarie 2023


JESAJA 28:7 AFR53

“En ook die manne hier wankel deur die wyn en waggel deur sterk drank; priester en profeet wankel deur sterk drank, hulle is verward van die wyn, hulle waggel van sterk drank, hulle wankel as hulle gesigte sien, hulle waggel by die regspraak.”

Die leiers, wat veronderstel was om voorbeelde vir die mense te wees, het dronk, wanordelik en verward rondgeloop en hul regspraak was soos uitbraaksel.

“Want al die tafels is vol walglike uitbraaksel, sodat daar geen plek is nie.” JESAJA 28:8 AFR53

In hul dronkenskap het die leiers geen belangstelling getoon om van God te hoor nie. Hulle het gevra: Wie dink die Here is ons? en Hoekom praat hy so met ons? en hulle het hul gegriefdheid uitgespreek: Is ons kinders wat pas gespeen is? Hy vertel ons alles oor en oor—een reël op ’n slag, een reël op ’n slag, ’n bietjie hier, en ’n bietjie daar!”


“Vir wie wil hy dan kennis leer, en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar maak? Vir die wat van die melk gespeen, wat van die moederborste weggeneem is?” JESAJA 28:9 AFR53


In Hebreeus sal vers 10 klink of Jesaja hakkel en stotter want die woord ‘op’ val weg. Jesaja gee dus vir ons ‘n mooi prentjie van die dronk priesters en profete wat met hom die spot dryf.

- gebod gebod gebod gebod reël reël reël reël


“Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier 'n bietjie, daar 'n bietjie.” JESAJA 28:10 AFR53


Die leiers se disrespek teenoor Jesaja en die Woord van God word met God se uitspraak van oordeel ontmoet.

“Ja, Hy sal deur lippe wat hakkel, en deur 'n vreemde tong met hierdie volk spreek,” JESAJA 28:11 AFR53

Jesaja se woorde van verligting word nie gehoor nie.

“Hy wat aan hulle gesê het: Dit is die rus, gee rus aan die vermoeides, en dit is die verkwikking. Maar hulle wou nie luister nie.” JESAJA 28:12 AFR53


Aangesien hulle beweer het dat Jesaja se prediking niks meer as gebabbel was nie, sou God verseker dat hul toekomstige lesse in 'n vreemde taal gelewer word—spesifiek die Assiriese taal, aangesien die Assiriërs Israel binnekort sou verower en hulle in ballingskap sou wegvoer.


“Daarom sal die woord van die Here vir hulle wees gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier 'n bietjie, daar 'n bietjie, sodat hulle kan heengaan en agteruit struikel en verbreek en verstrik en gevang word.” JESAJA 28:13 AFR53


 

3 Februarie 2023

JESAJA 28:14 AFR53

“Daarom, hoor die woord van die Here, julle spotters, heersers oor hierdie volk wat in Jerusalem is!”


Nou praat Jesaja met die spotters en die heersers van die volk in Jerusalem, die suidelike koninkryk. Hulle wat 'n verbond met die dood en 'n ooreenkoms met die doderyk sluit. Hulle het gedink dat hulle die komende oordeel en ballingskap kon vermy deur ‘n verbond met die heidense volke te sluit in plaas daarvan om net op God te vertrou.

“Omdat julle sê: Ons het 'n verbond met die dood gesluit, en met die doderyk het ons 'n verdrag aangegaan; as die golwende gésel deurtrek, sal hy na ons nie kom nie; want ons het die leuen ons skuilplek gemaak en ons in bedrog weggesteek —” JESAJA 28:15 AFR53

Die nabye en verre profesieë word hier vermeng. Die nabye verwysing is na die komende oordeel en ballingskap deur Nebukadneser, en die verre verwysing kan ooreenkom met Daniel se profesie wat die Groot Verdrukking begin.


“En hy sal een week lank met baie 'n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar 'n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.” DANIËL 9:27 AFR53


God verduidelik hoe Hy hulle verbond met die dood sal vernietig. Hy sal in Sion 'n hoeksteen lê wat die Messias sal wees, en elkeen wat in Hom vertrou, sal nie verlore gaan nie.

“daarom, so sê die Here Here: Kyk, Ek lê in Sion 'n grondsteen, 'n beproefde steen, 'n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is; hy wat glo, sal nie haastig wees nie. En Ek sal die reg tot 'n riglyn maak, en die geregtigheid tot 'n skietlood; en die hael sal die leuendak wegruk en die water die skuilplek wegspoel. En julle verbond met die dood sal uitgewis word, en julle verdrag met die doderyk nie standhou nie; as die golwende gésel deurtrek, sal julle deur hom vertrap word.” JESAJA 28:16-18 AFR53

God se oordeel kom gewis, dit is onvermydelik, en sal vol verskrikking wees.

“So dikwels as hy deurtrek, sal hy julle gryp; want môre vir môre sal hy deurtrek, by dag en by nag. En dit sal net verskrikking wees om so 'n openbaring te verneem.” JESAJA 28:19 AFR53


Die een wat skuiling van God se oordeel soek, sal vind dat die bed te kort en die kombers te klein is vir hom om vertroosting te vind.


“Want die bed sal te kort wees dat iemand hom daarop kan uitrek, en die kombers te smal dat iemand hom daarin kan toedraai.” JESAJA 28:20 AFR53

Die Here sal Sy werk volbring en Sy oordele voltooi.

“Want die Here sal Hom gereed maak soos by die berg Pérasim; Hy sal aanstorm soos in die dal by Gíbeon om sy werk te doen — vreemd is sy werk! En om sy daad te verrig — ongehoord is sy daad!” JESAJA 28:21 AFR53

Jesaja waarsku dat hulle hul nie soos spotters moet gedra nie, want God se oordeel kom gewis.

“Gedra julle dan nou nie soos spotters, dat julle bande nie vaster word nie; want ek het van die Here Here van die leërskare gehoor 'n verdelging wat vas besluit is, oor die hele aarde.” JESAJA 28:22 AFR53


 

4 Februarie 2023

JESAJA 28:23 AFR53

“Luister, en hoor na my stem; let op, en hoor my woord!”

Jesaja sluit die eerste wee af met ‘n gelykenis om God se metodiek te verduidelik. Hy roep almal om te luister en sy woorde te hoor.

Aardse verhaal:


Hierdie is ‘n gelykenis oor boerdery en beklemtoon die wyse en wonderlike plan van God - 'n langtermyn proses wat in verskillende fases plaasvind.


- Voorbereiding: “Ploeg die ploeër die hele dag om te saai? Skeur hy sy akker oop, en eg hy die hele dag?” JESAJA 28:24 AFR53


Die boer let noukeurig op alles wat hy doen. Hy ploeg op die regte tyd en berei sy grond voor om reg te wees vir planttyd.


- Plant: “Is dit nie só nie: As hy dit bo-op gelykgemaak het, gooi hy swart komyn uit en strooi komyn en saai koring in rye en gars in vakke en spelt langs die kant.”JESAJA 28:25 AFR53


Die boer saai op die regte tyd, in die regte seisoen, en plant elke verskillende saad op die hul regte plek. God gee hom die wysheid om te weet wanneer wat gedoen moet word.

“En sy God het hom onderrig hoe om dit te doen, Hy leer hom.” JESAJA 28:26 AFR53


- Oes: “Want swart komyn word nie met die slee gedors nie, en die wawiel word nie oor komyn gerol nie; maar swart komyn word uitgeslaan met 'n stok en komyn met 'n hout. Word broodkoring fyngestamp? Nee, nie altyddeur dors hulle dit nie; en al dryf hulle die wawiel en die perde daaroor — hulle stamp dit nie fyn nie.” JESAJA 28:27-28 AFR53

Wanneer dorstyd aanbreek, gebruik die boer weereens verskillende metodes vir elke tipe saad wat geplant is.


Hemelse betekenis:


“Ook dit kom van die Here van die leërskare: Hy is wonderbaar van raad, groot van beleid.” JESAJA 28:29 AFR53

Die verduideliking van die gelykenis is dat net soos daar 'n proses is om te boer, so is God in die middel van 'n proses met Sy mense, Sy volk en met elkeen van ons.

1. Die boer ploeg eers voor hy plant, dus moet God die goddeloosheid in die nasie straf, van die onkruid en rotse ontslae raak en die grond sag maak voordat hy sy volk in getrouheid vestig.


2. Selfs nadat dit gebeur het, sal die saad wat geplant word, tyd neem om volwasse te word tot oesbare graan vir brood. Dit neem tyd vir God se planne om volwasse te word.


3. Die graan word dan geoes, maar dit is steeds nie gereed om te maal nie, want dit is met kaf bedek. Daardie graan moet rondgestamp word om die goeie graan uit die kafdoppe te bevry.


4. God het 'n wyse en wonderlike plan, en is in ‘n proses om vir Hom 'n volk voor te berei en ons volmaak en volledig te maak!


 

5 Februarie 2023


JESAJA 29:1 AFR53

“Wee Áriël, Áriël, stad waar Dawid laer opgeslaan het! Voeg jaar by jaar; laat die feeste hulle kringloop volbring —”

Die tweede wee of oordeel is oor Ariel. Ariel is 'n Hebreeuse woord met twee betekenisse - leeu van God en die brandofferaltaar of vuurherd van God.

Ariel is die stad waar Dawid laer opgeslaan het en moet dus Jerusalem wees. Jaar vir jaar vier die volk hul feeste asof niks verkeerd is nie, maar Jerusalem se oordeel is aan die kom.


Daar sal swarigheid en hartseer wees in plaas van hul huidige vreugde en feestelikheid.


“dan sal Ek Áriël benoud maak, en daar sal geklaag en geklag wees, en dit sal vir My soos Áriël wees.” JESAJA 29:2 AFR53


God gaan toelaat dat n vyandige leër hul tente rondom Jerusalem sal opslaan en hul dus omsingel.

“En Ek sal in 'n kring teen jou laer opslaan en jou met wagposte beleër en skanse teen jou oprig.” JESAJA 29:3 AFR53


God kondig ellende oor sy volk aan, al verloop dit ook langsaam. Hulle val is verseker, grusaam en grillerig beskrywe as dat net ‘n spookstem uit die stof van hulle sal oorbly. Dit beteken – soos Jesaja nou al baie gesê het – daar sal eers oordeel wees, voor die vreugde en verandering sal aanbreek.

“Dan sal jy diep uit die grond spreek, en op dowwe toon sal jou woord uit die stof voortkom; en jou stem sal uit die grond opkom soos dié van die gees van 'n afgestorwene, en uit die stof sal jou woord piep.” JESAJA 29:4 AFR53

Jesaja verwys hier na die leër van Assirië wat teen Jersualem gekom het en dit beleër het tydens koning Hiskia se regering.


Sanherib was koning van Assirië van ongeveer 720 vC tot 683 vC. Tydens die bewind van koning Hiskia in Juda het Sanherib al die versterkte stede van Juda binnegeval en hom daarop ingestel om Jerusalem ook te verower.


“Maar in die veertiende jaar van koning Hiskía het Sánherib, die koning van Assirië, opgetrek teen al die versterkte stede van Juda en dit verower.” II KONINGS 18:13 AFR53

Assirië het reeds in 722 vC die noordelike koninkryk van Israel verower en hulle gevange geneem.

Dit het gebeur omdat hulle nie na God se stem geluister het nie.

“omdat hulle nie gehoorsaam was aan die stem van die Here hulle God nie, maar sy verbond oortree het — alles wat Moses, die kneg van die Here, beveel het — sonder om daarna te luister en te handel.” II KONINGS 18:12 AFR53


Nou, onder Sanherib, was Assirië gereed om Juda ook te verower.


 

6 Februarie 2023


JESAJA 29:5 AFR53

“Maar die menigte van jou vyande sal word soos dun stof, en die menigte van die tiranne soos kaf wat wegwaai; en dit sal heeltemal onverwags gebeur.”


God sal Hom tog oor Juda (die suidelike koninkryk) ontferm, en die vyand sal soos stof wegwaai.

Jesaja beskryf nou die vernietiging van Sanherib se weermag, wat onverwags sal wees en vinnig sal gebeur.

Die Afrikaanse vertaling klink nie reg nie. Sanherib sal deur God besoek word met donder en aardbewing en wind en storm en vlam en vuur. Daar is nie genade vir Sanherib in die besoek nie.

“Vanweë die Here van die leërskare sal jy in genade besoek word, met donder en aardbewing en groot gedruis, wind en storm en die vlam van 'n verterende vuur.” JESAJA 29:6 AFR53

“Thou shalt be visited of the LORD of hosts with thunder, and with earthquake, and great noise, with storm and tempest, and the flame of devouring fire.” Isaiah 29:6 KJV

Sanherib wou Jerusalem vir homself he en hy het sy oorwinning al gesien. Maar, God het ander planne vir hom. Sy droom sou verdwyn soos mis voor die son, soos ‘n droom wat nooit gebeur het nie,

“En soos 'n droom, 'n naggesig, sal die menigte van al die nasies wees wat oorlog toe trek teen Áriël, ja, almal wat teen hom oorlog toe trek en teen sy bergvesting en hom benoud maak. En soos 'n hongerige droom dat hy eet, maar hy word wakker en — sy siel is leeg; en soos 'n dorstige droom dat hy drink, maar hy word wakker en — hy is moeg en sy siel versmag: só sal die menigte van al die nasies wees wat oorlog toe trek teen die berg Sion.” JESAJA 29:8 AFR53


Koning Hiskia bring sy probleem met Sanherib voor God en vra vir hulp. God stuur Jesaja na koning Hiskia met die volgende antwoord.

“Toe laat Jesaja, die seun van Amos, Hiskía weet: So spreek die Here, die God van Israel: Wat jy tot My gebid het insake Sánherib, die koning van Assirië, het Ek gehoor.” II KONINGS 19:20 AFR53

God sê dat Hy Jerusalem sal beskut en stuur toe ‘n engel om die laer van die Assiriërs te verslaan.

“En Ek sal hierdie stad beskut, om dit te verlos, ter wille van My en my kneg Dawid. En in dieselfde nag het die engel van die Here uitgetrek en in die laer van die Assiriërs honderd-vyf-en-tagtigduisend verslaan; en toe hulle die môre vroeg hul klaarmaak — was dit almal dooie liggame!” II KONINGS 19:34-35 AFR53

Die vyand het geword soos dun stof, en dit het onverwags gebeur, net soos Jesaja se profesie gespreek het.


 

7 Februarie 2023


JESAJA 29:9 AFR53

“Vertoef, en verwonder julle! Wees blind en verblind! Hulle is dronk, maar nie van wyn nie; hulle waggel, maar nie van sterk drank nie.”


Jesaja wend hom nou tot die Jode en bestraf hul onnoselheid en skynheiligheid.

Die mense van Jerusalem is dronk, hulle waggel en steier, maar die oorsaak is nie van wyn nie.

Hierdie is 'n morele en geestelike bedwelming. Hulle dwaal in hul leerstellings en praktyke en dit gaan met hulle soos met 'n dronk man wat niks duidelik of reg sien nie, en nie reguit kan loop nie.


Die woord ‘uitgegiet’ word gewoonlik gebruik met die uitgieting van ‘n drankoffer uit ‘n beker. Hier egter is die betekenis dat God Sy volk deurdrenk het met ‘n gees van verdwaasdheid.


“Want die Here het oor julle uitgegiet 'n gees van diepe slaap, en Hy het julle oë — die profete — toegesluit en julle hoofde — die sieners — toegebind.”   JESAJA 29:10 AFR53


Hierdie selfde verdwaasheid sê Paulus, is op Israel tot vandag toe.


“Wat dan? Wat Israel soek, dit het hy nie verkry nie; maar die uitverkorenes het dit verkry en die ander is verhard. Soos geskrywe is: God het hulle gegee 'n gees van diepe slaap, oë om nie te sien nie en ore om nie te hoor nie, tot vandag toe.”   ROMEINE 11:7-8 AFR53


Israel se verdwaasdheid vandag sal duur tot die volheid van die heidene ingegaan het. Met ander woorde, tot die dag dat die laaste heiden ooit vir Jesus as Verosser sal aanvaar.


“Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het;”   ROMEINE 11:25 AFR53


Die gesig van al die profete, dit wil sê al die openbarings wat God aan hulle gemaak het. Jesaja verwys nie net na sy eie mededelings nie, maar na dié van sy tydgenote. Alhoewel hulle die kommunikasie van God ontvang het, het hulle dit tog nie verstaan ​nie. Hulle was so onkundig oor die betekenis van hul profesieë soos ‘n man wat nie die inhoud van ‘n verseëlde dokument kan lees nie.


“So het dan die gesig van al hierdie dinge vir julle geword soos die woorde van 'n verseëlde boek wat hulle gee aan iemand wat kan lees, met die woorde: Lees dit tog! Maar hy sê: Ek kan nie, want dit is verseël.”   JESAJA 29:11 AFR53


Of soos iemand wat nie kan lees nie, wat gevra word om wel te lees.


“Of hulle gee die boek aan iemand wat nie kan lees nie, met die woorde: Lees dit tog! Maar hy sê: Ek kan nie lees nie.”   JESAJA 29:12 AFR53


Omdat die volk God net met hul lippe dien en nie met hul harte aanbid nie, omdat hul geloof net bestaan uit tradisies en gewoontes, daarom sal die wysheid van die wyses vergaan en oordeel sal oor die volk kom.


“En die Here het gesê: Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My 'n aangeleerde mensegebod is, daarom sal Ek voortgaan om wonderlik te handel met hierdie volk, wonderlik en wonderbaar; en die wysheid van hulle wyse manne sal vergaan, en die verstand van hulle verstandige mense sal wegskuil.”   JESAJA 29:13-14 AFR53


 

8 Februarie 2023


JESAJA 29:15 AFR53

“Wee hulle wat planne diep verberg vir die Here, wie se werk in duisternis plaasvind; en hulle sê: Wie sien ons en wie ken ons?”


Die derde wee is teenoor huigelaars wat poog om hul planne en voornemens vir die oë van mense en God te verberg.


In hulle valse wysheid het die trotse mense van Jerusalem gedink dat hulle hul gedagtes en hul duister dade vir die Here kan wegsteek.


God sê nou dat hulle eintlik die ware toestand van sake agterstevoor het en hulle ken God glad nie! Sal die pottebakker dan geag word klei te wees? Die mense van Jerusalem het die verskriklike fout gemaak om hulleself op te hef en God terselfdetyd te verlaag. So, vir hulle was die klei net so waardig, net so intelligent en net so kragtig soos die Pottebakker.


“o Julle verkeerdheid! Of moet die pottebakker beskou word as klei, dat die maaksel van sy maker kan sê: Hy het my nie gemaak nie, en die vormsel van sy vormer kan sê: Hy het geen verstand nie?”   JESAJA 29:16 AFR53


Onthou die konteks van die hele hoofstuk – die trots en blindheid van Jerusalem. Dit is waarskynlik die hartseer hoogtepunt van die mens se trots en blindheid om God as ons Skepper te verwerp.


Maar, Israel sal weer goeie tye beleef. Na hul oordeel sal Israel weer in God se guns wees.


“Sal dit nie nog 'n baie kort rukkie duur dat die Líbanon in 'n vrugteboord verander word, en die vrugteboord vir 'n bos gereken word nie?”   JESAJA 29:17 AFR53


Hulle wat nou die wet het en dit nie verstaan ​​nie, die mense wat blykbaar doof is vir alles wat God sê, sal wel weer hoor en verstaan. Wanneer die duisternis verwyder word, sal hulle die waarheid van God duidelik sien en die skoonheid daarvan onderskei en liefhê. Hulle oë is nou verblind, maar dan sal hulle duidelik sien.


“En in dié dag sal die dowes Skrifwoorde hoor, en uit donkerheid en duisternis sal die oë van die blindes sien.”   JESAJA 29:18 AFR53


Die verdruktes sal bly wees oor die Here en die behoeftiges sal juig oor die heilige God van Israel.


“En die ootmoediges sal vreugde op vreugde smaak in die Here, en die behoeftiges onder die mense sal juig in die Heilige van Israel.”   JESAJA 29:19 AFR53


Klaar is dit met dié wat God se volk onderdruk het. Die tiran en die spotter en die wat op ongeregtigheid bedag is.


“Want gedaan is dit met die tiran, en klaar is dit met die spotter, en uitgeroei is almal wat op ongeregtigheid bedag is —”   JESAJA 29:20 AFR53


Klaar is dit met hulle wat valse getuies gee en hulle wat lieg en bedrieg.


“hulle wat 'n mens as sondaar brandmerk ter wille van 'n woord, en strikke span vir hom wat vir die reg opkom in die poort, en die regverdige met nietige voorwendsels wegstoot.”   JESAJA 29:21 AFR53


 

9 Februarie 2023


JESAJA 29:22 AFR53

“Daarom, so sê die Here tot die huis van Jakob, Hy wat Abraham verlos het: Jakob sal nou nie meer beskaamd staan nie, en nou sal sy aangesig nie meer bleek word nie;”


Daarom - As gevolg van die gelukkige verandering wat in die nasie sal plaasvind wanneer die verdrukker verwyder sal word, en wanneer die armes en die sagmoediges bly sal wees, en die onkundiges onderrig sal word, sal Jakob nie meer skaam wees oor sy nageslag soos hy tevore was nie, en geen rede hê om te bloos vanweë sy nageslag nie.


God praat met die huis van Jakob, die twaalf stamme van Israel, dus die hele volk. God neem hul terug na die begin van hul bestaan, na Abraham wat Hy verlos het uit die land van die Galdieërs wat afgodedienaars was.


Jakob sal hom nie vir sy seuns, sy nageslag skaam nie, want hy sal sien dat hulle God se Naam heilig.


“want as hy, as sy kinders die werk van my hande in sy midde sien, sal hulle my Naam heilig; ja, hulle sal die Heilige van Jakob heilig en vir die God van Israel met ontsag vervul wees;”   JESAJA 29:23 AFR53


Die wat afgedwaal het sal die waarheid glo, en die murmureerders sal God se Woord aanneem.


“en hulle wat dwalende van gees is, sal insig verkry, en die murmureerders sal lering aanneem.”   JESAJA 29:24 AFR53


Wanneer hierdie goeie tye sou gebeur noem die profeet nie. Dit kan bedoel wees om die tye van Hiskia aan te dui, of die tye wat volg op die ballingskap, en ook na die Millenium tydperk. Soos ons nou al van profesieë geleer het, is die profesie waarskynlik op elke tydperk van toepassing.


 

10 Februarie 2023


JESAJA 30:1 AFR53

“Wee die opstandige kinders, spreek die Here, wat 'n plan uitvoer, maar dit is nie uit My nie; wat 'n verbond sluit, en dit is nie uit my Gees nie, om sonde op sonde te stapel;”


Wee die opstandige volk, spreek die Here. God se volk Israel, is Sy kinders en die onderwerp van die vierde wee. Wee die volk want hulle maak planne wat nie God se planne is nie! Die volk wat ‘n verbond sluit wat nie God se goedkeuring wegdra nie, en hul sondes vermenigvuldig deur eers opstandig te wees en dan ‘n verbond te sluit met die vyand.


Die volk wat voorheen deur God uit Egipteland, uit die slawehuis uitgelei was, keer nou terug na Egipte en die Farao vir beskerming sonder om God eers te raadpleeg.


“wat gaan om na Egipte af te trek, en hulle raadpleeg my mond nie, om toevlug te soek onder die beskutting van Farao en om te skuil in die skaduwee van Egipte.”   JESAJA 30:2 AFR53


Hierdie profesie is gegee in 'n tyd toe die Assiriese leër Israel en Juda aangeval het.  Die noordelike koninkryk van Israel sou binnekort deur Assirië verower word, en in ballingskap weggevoer word. Die Assiriërs sou dan teen die suidelike koninkryk van Juda kom, en as gevolg van hierdie bedreiging het die leiers van Juda na Egipte gekyk vir beskerming teen die Assiriese inval.


Maar, hierdie alliansie, sê God, sal vir Sy volk tot skande wees. Egipte en die Farao se hulp sal hulle nie baat nie.


“Maar die beskutting van Farao sal julle tot skande wees, en die skuiling in die skaduwee van Egipte tot smaadheid.”   JESAJA 30:3 AFR53


Die frase 'sy vorste' verwys na die prinse van Juda, die ambassadeurs wat die Jode uitgestuur het, en die idee is dat hulle die alliansie so belangrik beskou het dat hulle hul mees eerbare manne gebruik het om die transaksie te sluit


“Want hulle vorste is in Soan, en hulle boodskappers het in Hanes aangekom;”   JESAJA 30:4 AFR53


Toe die ambassadeurs in Egipte aankom, het hulle gevind dat Egipte óf onwillig was om 'n bondgenootskap aan te gaan óf nie in staat was om hulle enige hulp te verleen nie, en hulle was skaam dat hulle hier hulp gesoek het eerder as om op God te vertrou


“almal staan beskaamd vanweë die volk wat hulle geen voordeel aanbring nie, geen hulp en geen voordeel nie, maar skande en smaadheid daarby.”   JESAJA 30:5 AFR53


Jesaja gee ‘n uitspraak teen die pakdiere, wat die rykdom van Juda sou afdra na Egipte, deur die woestyn, in 'n dwase poging om beskerming van die Assiriërs te koop.


“Godspraak oor die diere van die Suidland. In 'n land van benoudheid en angs, waar leeuin en leeu uitkom, adder en vlieënde draak, vervoer hulle op die rugge van esels hul rykdomme en op die bulte van kamele hul skatte, na 'n volk wat geen voordeel bring nie.”   JESAJA 30:6 AFR53


Rahab is ‘n ou naam vir Egipte. Egipte sou nie kon help nie, daarom die naam Rahab wat stilsit


“En Egipte — nietig en leeg is sy hulp; daarom noem ek dit: Rahab wat stilsit.”   JESAJA 30:7 AFR53


 

11 Februarie 2023


JESAJA 30:8 AFR53

“Gaan nou in, skryf dit op 'n tafel in hulle teenwoordigheid en teken dit op in 'n boek, dat dit kan bly vir later dae, vir altyd, tot in ewigheid.”


Jesaja se waarskuwing aan Juda moet neergeskryf word. Die profesie moet twee keer neergeskryf word. Eerstens op 'n tafel om in 'n openbare plek opgehang te word, sodat almal wat teenwoordig was dit kon lees, en tweedens in 'n boek sodat dit bewaar kan word vir die nageslag vir altyd, tot in ewigheid.


Die volk word beskryf as koppige rebelle en leuenaars wat nie God se Woord wil hoor nie.


“Want dit is 'n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die Here nie wil hoor nie;”   JESAJA 30:9 AFR53


Die volk sê vir die profete om te profeteer oor onderwerpe wat in ooreenstemming is met hul gevoelens en begeertes, oor goed wat voorspoed en sukses verseker. Beslis nie oor iets wat hulle sal veroordeel nie.


“wat aan die sieners sê: Sien nie! en aan die profete: Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry;”   JESAJA 30:10 AFR53


Juda se probleem om net goeie goed te wil hoor het ook in Paulus se tyd gebeur, en ons sien dit selfs in ons eie samelewing.


“want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.”

II TIMÓTHEÜS 4:3-4 AFR53


Die volk sê vir die profete dat hulle nie meer wil hoor van die ‘Heilige van Israel’ nie! Hulle is moeg om gedurig die herhaling van die naam ‘die Heilige van Israel’ te hoor.


“wyk af van die weg, buig af van die pad, laat die Heilige van Israel voor ons aangesig

verdwyn!”   JESAJA 30:11 AFR53


Ons moet onthou dat die profete heeltyd so gepraat het, en dikwels hul profesieë begin het met die aankondiging: so sê die Heilige van Israel.  Veral Jesaja het hierdie uitdrukking gereeld gebruik.


Dit is waarskynlik dat die verwysing na die feit dat God heilig was, dit was wat hulle die meeste gekwel het. Hoe beskrywend van die gevoelens van sondaars! Hoe treffend 'n illustrasie van die feit dat hulle nie van die naam of wette van die Heilige God wil hoor nie!


En wat 'n weemoedige bewys van verdorwenheid is dit nie as mense so 'n weg volg dat hulle nie van God wil hoor nie, en nie meer begeer om met Sy Naam en wette gepla te wees nie!


 

12 Februarie 2023


JESAJA 30:12 AFR53

“Daarom, so sê die Heilige van Israel: Omdat julle hierdie woord verwerp en vertrou op verdrukking en slinksheid en daarop steun,”


Omdat Juda in Egipte vertrou vir hul veiligheid en God se boodskap verwerp, daarom sou algehele en aaklige ondergang oor hulle kom. ‘n Ondergang wat so skielik oor hulle sou kom soos wanneer 'n hoë stuk muur wat oorhang en dreig om te val, skielik en onverwags ineenstort.


“daarom sal hierdie skuld vir julle wees soos 'n los stuk wat wil val, wat oorhang in 'n hoë muur, waarvan die instorting heeltemal onverwags kom.   JESAJA 30:13 AFR53


Juda se val sou wees soos 'n muur wat skielik ineenstort, of soos die kruik van ‘n pottebakker wat stukkend geslaan word op so ‘n wyse dat die skerwe fyn stof is.


Ja, Hy sal dit verbreek soos die kruik van 'n pottebakker verbreek word, wat sonder verskoning stukkend geslaan word, sodat by die brokstukke daarvan geen skerf gevind word om vuur uit die vuurherd te gaan haal of om water uit die kuil te skep nie.   JESAJA 30:14 AFR53


Die ontwerp van hierdie vers is om 'n rede te gee vir die vernietiging wat oor Juda moet kom. Die rede was dat God vir hulle die pad van waarheid en veiligheid gewys het, maar hulle het verkies om dit nie te volg nie, en het geweier om hul vertroue in Hom te stel.


Want so sê die Here Here, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag; maar julle wou nie   JESAJA 30:15 AFR53


Die alliansie met Egipte gee vir Juda die perde waarmee hulle sal ‘vlieg’. Die ruiters sou ongetwyfeld in enige aanval gebruik word om hul vervolgers te verjaag.


en het gesê: Nee, maar op perde sal ons vlieg — daarom sal julle moet vlug! en: Op renperde sal ons ry — daarom sal julle vervolgers laat jaag!   JESAJA 30:16 AFR53


As ons terugkyk na Moses se riglyne aan die volk, sal ons sien dat dit verbode was vir ‘n toekomstige monarg om baie perde aan te skaf en die volk na Egipte terug te lei.


Koning Hiskia se poging om die hulp van Egipte se ruiters in te roep, was ‘n skending van God se Woord soos deur Moses neergeskryf en God se profesieë soos deur Jesaja weergegee.


“Hy mag net nie vir hom baie perde aanskaf nie, en hy mag die volk nie na Egipte teruglei om baie perde aan te skaf nie, aangesien die Here vir julle gesê het: Julle mag nooit meer teruggaan op hierdie pad nie.”   DEUTERONÓMIUM 17:16 AFR53


Duisend van julle sal vlug as net een julle bedreig, en die volk sal aanhou vlug tot net ‘n paar sal oorbly soos ‘n eensame vlagpaal op ‘n berg.


Eenduisend van julle sal vlug vir die oorlogsgeroep van een enkele, vir die oorlogsgeroep van vyf, totdat julle oorbly soos 'n vlagpaal op 'n bergtop en soos 'n banier op 'n heuwel.”   JESAJA 30:17 AFR53


 

13 Februarie 2023


JESAJA 30:18 AFR53

“En daarom sal die Here met ongeduld daarop wag om julle genadig te wees, en daarom sal Hy Hom verhef om Hom oor julle te ontferm; want die Here is 'n God van die gerig. Welgeluksalig almal wat op Hom wag!”


Ten spyte van die volk se sondes en die noodsaaklikheid om hulle te straf, sou God lankmoedig wees en Hom nogtans oor Sy volk ontferm. Geseënd is almal wat op Hom wag


Jesaja gee bietjie verligting van sy boodskap van oordeel en wys vir die volk hul toekomstige verlossing. Wanneer jy in jou rampe tot God roep om verlossing, sal Hy na jou luister en jou in jou land terugbring.


“Want 'n volk sal op Sion, in Jerusalem, woon; jy sal nie meer ween nie; sekerlik sal Hy jou genade bewys op jou hulpgeroep; sodra Hy hoor, antwoord Hy jou.”   JESAJA 30:19 AFR53


God het wel Sy volk deur beproewinge laat gaan, maar anders as in die tyd van die konings sal die Jode na hul terugkeer uit Babilon geseënd wees met uitstekende leraars soos blyk uit die boeke van Esra en Nehemia.


“Die Here gee julle wel brood van benoudheid en water van bedruktheid, maar jou leraars sal hulle nie langer verberg nie — maar jou oë sal jou leraars sien;”   JESAJA 30:20 AFR53


Die leraars se stem sal weerklink in jul ore as julle van die pad wil afdwaal.


“en jou ore sal 'n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan.”   JESAJA 30:21 AFR53


Die volk sal hul afgode weggooi soos iets wat besoedel is.


“En julle sal verontreinig die oortreksel van jou gesnede beelde van silwer en die beslag van jou gegote beeld van goud; jy sal dit weggooi soos iets wat besoedel is. Weg daarmee! sal jy daarvan sê.”   JESAJA 30:22 AFR53


Dan sal dit goed gaan met die volk wat God opreg dien. Hulle sal geseën word met reën vir hul saailande en voedsame brood voortbring. Hul vee sal heerlik wei in groen weivelde en die osse en esels wat die grond bewerk sal genoeg voedsame kos he om te eet.


“Dan sal Hy reën gee vir die saad waarmee jy die grond besaai, en broodkoring wat die grond voortbring, en dit sal smaaklik en voedsaam wees; jou vee sal in dié dag wei op 'n uitgestrekte weiveld; en die osse en die esels wat die grond bewerk, sal voer met sout eet, wat uitgewan is met skop en gaffel;”   JESAJA 30:23-24 AFR53

   

Wanneer die vyand tot ‘n val gekom het sal die hoë berge en verhewe heuwels vol waterstrome wees en wanneer God die wonde van Sy volk genees sal die maan soos die son skyn en die son sal sewe keer sterker skyn.


“en op elke hoë berg en op elke verhewe heuwel sal strome wees, waterlope, op die dag van die groot slagting as die torings val. En die lig van die maan sal wees soos die lig van die son, en die lig van die son sal sewevoudig wees, soos die lig van sewe dae, op die dag as die Here die breuk van sy volk verbind en die wond gesond maak wat aan hulle geslaan is.”   JESAJA 30:25-26 AFR53


 

14 Februarie 2023


JESAJA 30:27 AFR53

“Kyk, die Naam van die Here kom van ver af, sy toorn brand, swaar wolke kom op; sy lippe is vol grimmigheid en sy tong soos 'n verterende vuur,”


God self kom van vêr (vanuit die hemel) om met toorn, grimmigheid en ‘n verterende vuur om die Assiriese magte te vernietig.


“en sy asem soos 'n oorlopende stroom wat tot by die nek kom — om nasies te sif met 'n sif van vernietiging; en 'n toom wat verkeerd stuur, is in die kakebene van die volke.”   JESAJA 30:28 AFR53


Juda sal sing soos die nag voor ‘n fees (klink soos Paasfees) en sal vrolik wees soos mense wat met fluitspel oploop na die berg van die Here.


“Die lied sal by julle wees soos in die nag as die fees gevier word, en julle sal vrolik wees van hart soos die wat met die fluite loop, om te kom op die berg van die Here, na die Steenrots van Israel.”   JESAJA 30:29 AFR53


Die Here sal Homself laat hoor met ‘n magtige stem, Hy sal Sy krag openbaar met weerlig vanuit die hemel, grimmige toorn, verterende vuur, storms, stortreën en haelkorrels.


“En die Here sal sy stem vol majesteit laat hoor en die neerdaling van sy arm laat sien, met grimmige toorn en die vlam van 'n verterende vuur, storm en stortreën en haelkorrels.”   JESAJA 30:30 AFR53


Met reg sal Assirië sidder van vrees vir God se toorn.


“Want vir die stem van die Here sal Assur verskrik wees; met die stok sal Hy slaan,”   JESAJA 30:31 AFR53


God self sal teen Assirië veg en tamboeryn en siter sal weerklink met elke swaai van die roede.


“en elke swaai van die roede wat vir hom beskik is, wat die Here op hom laat val, sal wees onder begeleiding van tamboeryn en sitermusiek, en met 'n uitgeswaaide vegtersarm sal Hy teen hulle veg.”   JESAJA 30:32 AFR53


Tofet was ‘n plek naby Jerusalem waar die Israeliete wat afgode gedien het hul kinders aan die afgod Molek geoffer het. Dit is ‘n plek van pyniging en word met die hel vergelyk. So ‘n brandoond is lank gelede al gereed gemaak vir die koning van Assirië en die hout vir die vuur word met God se asem aangesteek.


“Want 'n Tofet is van gister af gereedgemaak, ook is dit vir die koning berei; diep en wyd het Hy die houtstapel daarvan aangelê met vuur en hout in menigte; die asem van die Here is soos 'n stroom van swawel wat dit aan die brand steek.”   JESAJA 30:33 AFR53


 

15 Februarie 2023


JESAJA 31:1 AFR53

“Wee hulle wat na Egipte aftrek om hulp en hulle verlaat op perde, en wat vertrou op strydwaens, omdat daar baie is, en op ruiters, omdat hulle baie talryk is, maar hulle sien nie op die Heilige van Israel en hulle soek nie die Here nie.”


Die vyfde wee is oor hulle wat Egipte vra vir hulp. Hulle wat op Egipte se perde en strydwaens en ruiters vertrou in plaas daarvan om op God te vertrou!


Jesaja herinner die volk dat God wys is, en onheil is onafwendbaar. God sal optree teen die kwaaddoeners en hul helpers.


“Nogtans is Hy ook wys, en Hy laat die onheil kom en trek sy woorde nie terug nie: Hy sal opstaan teen die huis van die kwaaddoeners en teen die helpers van die wat ongeregtigheid werk.”   JESAJA 31:2 AFR53


Die Egiptenaars en hul perde is nie bonatuurlike gode nie, hulle is net vlees. As God Sy hand uitsteek om Egipte te straf sal Juda saam met hulle ten gronde gaan.


“Ja, die Egiptenaars is mense en nie God nie, en hulle perde is vlees en nie gees nie; as die Here sy hand uitstrek, dan struikel die helper, en wie gehelp is, val; en saam gaan hulle almal te gronde.”   JESAJA 31:3 AFR53


Met twee pragtige beelde – ‘n grommende maanhaar leeu wat by sy prooi waak (vers 4), en swewende voëls wat hulle neste beskerm (vers 5) – word God se redding van Juda van die Assiriërs se mag beskrywe.


“Want so het die Here vir my gesê: Soos 'n leeu en 'n jong leeu knor oor sy prooi wanneer die volle getal herders teen hom bymekaargeroep word, sonder dat hy skrik vir hulle stem of ingee vir hulle geraas — só sal die Here van die leërskare neerdaal om in die stryd uit te trek teen die berg Sion en teen sy heuwel. Soos voëls wat fladder, so sal die Here van die leërskare Jerusalem beskut, beskut en red, verskoon en bevry.”   JESAJA 31:4-5 AFR53


Jesaja benadruk dat die volk hul afgode moet weggooi en bekeer tot God sodat God hulle teen die Assiriërs kan beskerm. Assirië se val sal wees deur ‘n swaard, maar nie die swaard van ‘n man of mens nie.


“Bekeer julle tot Hom van wie die kinders van Israel diep afgeval het. Want in dié dag sal hulle elkeen sy silwerafgode en sy goue afgode verwerp, wat julle hande vir julle tot sonde gemaak het. En Assur sal val deur die swaard, nie van 'n man nie; en die swaard, nie van 'n mens nie, sal hom verteer; en hy sal voor die swaard vlug, en sy jongmanne sal dienspligtig word;”   JESAJA 31:6-8 AFR53


Sanherib sal van Jerusalem af wegvlug na sy sterk stad Nineve, weg van God wat hulle verskrik het en soos ‘n vuur verteer het.


“en sy rots sal uitmekaar stuif van skrik, en sy vorste sal verskrik die banier verlaat, spreek die Here, wat 'n vuur het op Sion en 'n oond in Jerusalem.”   JESAJA 31:9 AFR53


 

16 Februarie 2023


JESAJA 32:1 AFR53

“Kyk, 'n koning sal regeer in geregtigheid, en die vorste sal heers volgens reg.”


Jesaja beskryf Jesus se terugkeer om op aarde te heers as Koning en vorste wat Hom sal bystaan.


Vers 2 sê dat elkeen (koning en vors) sal wees soos ‘n toevlug teen die wind, ‘n skuiling teen stortreën, soos waterstrome in ‘n droogte streek en soos skaduwee waar die son jou verswelg.


“En elkeen sal wees soos 'n toevlug teen die wind en 'n skuiling teen die stortreën, soos waterstrome in 'n dor streek, soos die skaduwee van 'n swaar rots in 'n land wat versmag.”   JESAJA 32:2 AFR53


Daar is in werklikheid beide 'n Koning en 'n vors teenwoordig in die Millenium.

Jesus is die Koning, maar wie is die vors?


Esegiël vertel dat Dawid tweede in bevel sal wees in die tydperk.


“En Ek sal een enkele herder oor hulle verwek, en hy sal hulle laat wei, naamlik my kneg Dawid; hy sal hulle laat wei, en hy sal vir hulle 'n herder wees. En Ek, die Here, Ek sal vir hulle 'n God wees, en my kneg Dawid 'n vors in hulle midde. Ek, die Here, het dit gespreek. En Ek sal 'n verbond van vrede met hulle sluit en die wilde diere uit die land laat verdwyn; en hulle sal veilig bly in die woestyn en slaap in die bosse. En Ek sal hulle en die plekke rondom my heuwel tot 'n seën maak en die stortreën laat val op sy tyd; stortreëns van seën sal dit wees. En die bome van die veld sal hulle vrugte gee, en die land sal sy opbrings gee, en hulle sal veilig wees in hul land; en hulle sal weet dat Ek die Here is as Ek hulle jukskeie stukkend breek en hulle red uit die hand van die wat hulle diensbaar gemaak het.”   ESÉGIËL 34:23-27 AFR53


Tydens die Millenium sal daar nie meer ‘n verdwaasdheid of blindheid wees om Jesus as Verlosser te sien nie, en die mense sal almal luister en hoor wat gepreek word.


“Dan sal nie meer verblind wees die oë van die wat sien nie; en die ore van hulle wat hoor, sal luister;”   JESAJA 32:3 AFR53


Die wat haastig en opvlieënd was om dinge te oordeel, sal kennis verstaan en meer kundig en bedagsaam wees in hul oordele en optrede.


Die hakkelaars of die wat vroeër twyfelagtig of onwillig was om van die dinge van God te praat, se begrip sal verlig word om hul spraak te hervorm.


“en die hart van die onbedagsames sal leer om te verstaan, en die tong van die hakkelaars sal gou wees om duidelik te spreek;”   JESAJA 32:4 AFR53


 

17 Februarie 2023


JESAJA 32:5 AFR53

“die dwaas sal nie meer 'n edele genoem word nie, en van die skelm sal nie gesê word dat hy vernaam is nie.”


Ons het hier ‘n welkome ommekeer van wat Jesaja in hoofstuk 5:20 beskryf het. Tydens die Millenium sal sleg nie meer goed genoem word nie en dit wat in die duisternis gebeur sal openbaar word.


Goed sal goed wees, en kwaad kwaad en niemand sal daaroor meer enige twyfel hê nie.


“Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.”   JESAJA 5:20 AFR53


Die dwaas weet nie van beter, en sal in ooreenstemming met sy aard optree. Hy laster teen God en sy gedagtes is met sonde besig. Hy is iemand wat nie kos vir honger mens of water vir die dors mens gee nie.


“Want 'n dwaas spreek dwaasheid en sy hart bring onheil voort, deur goddeloosheid te bedrywe en dwaling te spreek oor die Here, deur die begeerte van die hongerige onvervuld te laat en die drank van die dorstige te laat ontbreek.”   JESAJA 32:6 AFR53


‘n Skelm se motiewe is kwaadwillig, hy buit ander se dwaasheid tot sy eie voordeel uit.


“En die skelm — sy middele is sleg, hý beraam skandelike dade om die ellendiges te ruïneer met leuentaal, ook as die behoeftige spreek wat reg is.”   JESAJA 32:7 AFR53


Die eerbare mens weet hoe om te leef en kom op vir wat eerbaar is


“Maar die edele beraam edele dade, en hý hou stand in wat edel is.”   JESAJA 32:8 AFR53


 

18 Februarie 2023


JESAJA 32:9 AFR53

“Staan op, geruste vroue, hoor my stem! Sorgelose dogters, luister na my woord!”


Die profeet keer terug na die huidige situasie en kritiseer die vrouens met ‘n skerp tong! 


“'n Jaar en 'n paar dae — en julle sal sidder, sorgelose dogters! Want dit is gedaan met die druiwe-oes, daar sal geen insameling van vrugte kom nie. Bewe, geruste vroue! Sidder, sorgelose dogters! Trek julle uit, ontbloot julle en gord rougewade om julle lendene.”   JESAJA 32:10-11 AFR53


As gevolg van die Assiriese inval wat sou kom, sou God die moeilike ekonomiese tye gebruik om Juda wakker te maak. Die oesjaar sal misluk, en die insameling sal nie kom nie.  Die moeilike tye sal almal raak (al die gelukkige huise in die vreugdevolle stad ... die paleise sal verlaat word).


“Hulle slaan op die bors vanweë die begeerlike velde, vanweë die vrugbare wingerdstok; vanweë die akkers van my volk wat met dorings en distels opskiet, ja, vanweë al die huise van vreugde van die uitgelate stad. Want die paleis is verlate, die stadsgewoel is in eensaamheid verander; die Heuwel en die Wagtoring dien as spelonke vir ewig, 'n vreugde vir die wilde-esels, 'n weiveld vir die troppe vee —”.  JESAJA 32:12-14 AFR53


Totdat die tyd kom, waarin God sy Gees uit die hemel op sy volk sal uitstort, wat ten volle in die dae van die Messias volbring is.


“totdat oor ons uitgegiet word die Gees uit die hoogte; dan word die woestyn 'n vrugteboord, en die vrugteboord self word vir 'n bos gereken.”   JESAJA 32:15 AFR53


In die plek wat ‘n woestyn was maar nou in ‘n vrugbare veld verander sal daar geregtigheid wees.


“En die reg woon in die woestyn, en die geregtigheid hou verblyf in die vrugteboord.”   JESAJA 32:16 AFR53


Die effek hiervan sal voorspoed en vrede wees.


“En die werking van die geregtigheid sal vrede wees, en die voortbrengsel van die geregtigheid rus en veiligheid tot in ewigheid. En my volk sal woon in 'n plek van vrede en in veilige wonings en in plekke van ongestoorde rus.”   JESAJA 32:17-18 AFR53


’n Tyd van skerp oordeel (hael) moet dié van seën en vrede voorafgaan.


“Maar dit sal hael as die bos inmekaarstort en die stad wegsak in die laagte.”   JESAJA 32:19 AFR53


Maar seëning en voorspoed sal uiteindelik kom.


“Welgeluksalig is julle wat by alle waters saai, wat die voet van os en esel vry laat loop!”   JESAJA 32:20 AFR53


 

19 Februarie 2023


JESAJA 33:1 AFR53

“Wee jou, verwoester, wat self nie verwoes is nie, en troubreker teen wie nie troueloos gehandel is nie! As jy klaar is met verwoes, sal jy verwoes word; en as jy klaar is met troubreuk, sal hulle troueloos teen jou handel.”


Die sesde en laaste wee in hierdie gedeelte is teenoor die verwoester wat ‘n naby en vêr betekenis het.


Die onmiddelike betekenis in Jesaja se tyd is teenoor Sanherib en sy leër wat die stede van Israel ingeval en verwoes het en oppad was om dieselfde met Jerusalem te doen. Sanherib se leër is deur ‘n engel van die Here verwoes, en Sanherib self is deur sy eie seuns vermoor.


Die vêr betekenis verwys na die komende Antichris wat beslis ook ‘n verwoester sal wees wat troueloos handel. Hy gaan ‘n verbond met Israel sluit, dit verbreek na drie en ‘n half jaar groot verwoesting saai en sal dan deur ‘n engel van die Here gebind word vir een duisend jaar.


“En ek het 'n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en 'n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp — die ou slang wat die duiwel en die Satan is — en hy het hom gebind duisend jaar lank,”   OPENBARING 20:1-2 AFR53


In die lig van die Assiriese bedreiging kyk God se volk nie meer na die Egiptenare nie, hulle kyk nie meer na hulself nie. Nou kyk hulle na die Here en roep uit: “O Here, wees ons genadig.”


“Here, wees ons genadig, op U wag ons; wees hulle arm elke môre, ja, ons verlossing in die tyd van benoudheid!”   JESAJA 33:2 AFR53


Die dawergeluid waarvoor gevlug word is die geluid van die engel van God wat die Assiriërs uitgewis het.


“Vir die dawergeluid vlug die volke; vanweë u verheffing word die nasies verstrooi.”   JESAJA 33:3 AFR53


Die buit wat die Assiriese leër versamel het in hul opmars na Jerusalem, is tydens hul vlug agtergelaat vir die volk om te konfiskeer.


“Dan word julle buit weggeskraap soos sprinkane wegskraap; soos sprinkane hardloop, hardloop hulle daarop los.”   JESAJA 33:4 AFR53


‘n Danklied word gesing na die oorwinning - God is verhewe bo alles en almal!


“Die Here is verhewe, want Hy woon in die hoogte; Hy het Sion vervul met reg en geregtigheid.”   JESAJA 33:5 AFR53


Jesaja praat nou met koning Hiskia en sê vir hom dat sy troon gevestig is op die fondamente van wysheid en geregtigheid. Hiskia se belangrikste ‘werk’ is om die vrees en aanbidding van God te bevorder.


“En daar sal bestendigheid van jou tye wees, 'n rykdom van volle verlossing, van wysheid en kennis; die vrees van die Here sal sy skat wees.”   JESAJA 33:6 AFR53


 

20 Februarie 2023


JESAJA 33:7 AFR53

“Kyk, die helde skreeu daarbuite, die boodskappers van vrede ween bitterlik.”


Jesaja keer terug na die situasie in Jerusalem en beskryf die nood wat die land beleef weens die verbreekte verdrag met Sanherib.


Koning Hiskia het sy deel van die ooreenkoms nagekom deur die goud en silwer wat hy met boodskappers na Sanherib gestuur het. Om die groot bedrag te betaal het hy die tempel van sy goud gestroop, en al die silwer wat in sy skatkis was bymekaargemaak.


“Toe laat Hiskía, die koning van Juda, die koning van Assirië na Lagis weet: Ek het gesondig; trek terug van my af weg; wat u my oplê, sal ek lewer. En die koning van Assirië het aan Hiskía, die koning van Juda, driehonderd talente silwer en dertig talente goud opgelê.”   II KONINGS 18:14 AFR53


Maar, al die pogings was tevergeefs. Sanherib het sy generaals met 'n groot leër teen Jerusalem gestuur en was onaangeraak deur al die skatte wat koning Hiskia aan hom gestuur het.


Die boodskappers van vrede het bitterlik geween want met hul terugkeer het hulle die verwoesting aanskou wat deur Sanherib se weermag veroorsaak is. Die paaie is verlate, die stede is verwoes en geen mens is ontsien nie.


“Die grootpaaie is verlate; die wat padlangs trek, bly weg. Hy het die verbond verbreek, die stede gering geag, mense nie gereken nie.”   JESAJA 33:8 AFR53


Die land treur want die vrugbare landboustreke is verwoes. Saron is die naam vir die kusvlakte naby Tel Aviv, Basan is ‘n berg op die Golan hoogte en Karmel is die berg waar Elia die Baälgodsdiens so beslissend uitgedaag het.


“Die land treur, dit verwelk; die Líbanon staan beskaamd, dit verkwyn; Saron het geword soos 'n woestynvlakte, Basan en Karmel staan sonder blare.”   JESAJA 33:9 AFR53


 

21 Februarie 2023


JESAJA 33:10 AFR53

“Nou sal Ek opstaan, sê die Here; nou sal Ek My verhef, nou sal Ek My oprig.”


Jesaja het tot nou ‘n bitter sleg prentjie geskilder met die Assiriërs wat hul verdrag verbreek het, die land wat treur en die mense van Juda wat bevrees en moedeloos is.


Maar God! Die Here self gaan nou tussenbeide tree op so ‘n wyse dat dit duidelik sou wees dat dit Sy hand was wat verlossing bring.


God addreseer nou die Assiriërs en sê dat al hul pogings tot niks sal kom. Hul pogings sal eerder hul ondergang beteken.


“Julle gaan swanger van strooi, julle sal stoppels baar; julle geblaas is 'n vuur wat julle sal verteer.”   JESAJA 33:11 AFR53


Die Assiriese weermag sal skielik vernietig word soos kalk of doringbosse wat brand.


“Dan word die volke 'n kalkbrandery, afgekapte doringbosse wat met vuur verbrand word.”   JESAJA 33:12 AFR53


Nasies naby en vêr sal hoor van wat God gedoen het met die Assiriërs en Sy mag erken.


“Hoor, julle wat ver is, wat Ek gedoen het; en julle wat naby is, erken my mag!”   JESAJA 33:13 AFR53


Die sondaars van Sion, God se volk, sidder van vrees voor die Here. Wie van ons kan uithou by ‘n vuur wat sonder ophou brand?


“Die sondaars in Sion bewe, siddering het die roekelose aangegryp. Hulle sê: Wie van ons kan woon by 'n verterende vuur, wie van ons kan woon by 'n ewige gloed?”   JESAJA 33:14 AFR53


Jesaja gee vir hulle die antwoord:

- hy wat reg bly doen en spreek wat reg is,

- hy wat weier om wins te maak deur mense uit te buit,

- hy wat weier om omkoopgeld te aanvaar,

- hy wat nie na moordplanne luister nie, en

- hy wat nie ‘n geleentheid soek om misdaad te pleeg nie.


So ‘n persoon sal in God se sorg wees, op hoogtes woon, rotse as skuiling he, en genoeg om te eet en te drink.


“Hy wat in geregtigheid wandel en spreek wat reg is, wat gewin deur afpersinge versmaad, wat sy hande uitskud om geen omkoopgeskenk aan te gryp nie, wat sy oor toestop om van geen bloedskuld te hoor nie, en sy oë sluit om wat sleg is, nie te sien nie — hy sal op hoogtes woon, rotsvestings is sy burg; sy brood word hom gegee, sy water is gewis.”   JESAJA 33:15-16 AFR53


 

22 Februarie 2023


JESAJA 33:17 AFR53

“Jou oë sal die Koning in sy skoonheid aanskou, dit sal 'n wyd uitgestrekte land sien.”


Die Koning wat in sy skoonheid aanskou word is in Jesaja se tyd koning Hiskia, maar vêrder vorentoe in tyd is dit koning Jesus wat regeer in die Millenium oor ‘n wyd uitgestrekte land.


Wanneer die vyand vernietig is, die stad gered is, en die koning heers in grootsheid oor die hele nasie en dan vrede en voorspoed geniet, sal hulle hierdie dae van verskrikking in herinnering roep, en sal dan met dankbaarheid en verbasing vra: Waar is hulle wat hierdie verskrikking veroorsaak het?  Waar is hulle nou wat so selfversekerd bereken het om die stad in te neem?  Hulle is almal weg - en weg op 'n manier wat geskik is om verbasing en aanbiddende dankbaarheid op te wek.


“Jou hart sal die deurgestane verskrikking oordink en sê: Waar is hy wat getel het? Waar is hy wat geweeg het? Waar is hy wat die torings opgeskryf het?”   JESAJA 33:18 AFR53


Die weermag van die Assiriërs se taal was vir die Joodse volk duister en onverstaanbaar en het vir hulle geklink soos iemand wat onverstaanbaar hakkel.


“Jy sal die onbeskaamde volk nie meer sien nie, die volk met duister, onverstaanbare spraak, met onbegryplike hakkeltong.”   JESAJA 33:19 AFR53


Nou weef Jesaja ‘n prentjie van die toekomstige Millenium Jerusalem. ‘n Veilige woonplek, ‘n stad van feestelike samekoms.


“Aanskou Sion, die stad van ons feestelike samekoms! Jou oë sal Jerusalem sien as veilige woonplek, as tent wat nie wegtrek nie, waarvan die penne nooit meer uitgeruk word nie en geeneen van sy toue ooit losgeskeur word nie.”   JESAJA 33:20 AFR53


Jerusalem sal geografies heel anders lyk as waaraan die volk nou gewoond is. Daar sal riviere wees en breë strome, maar geen skepe sal daarop vaar nie.


“Maar daar sal die Here vir ons heerlik wees; dit sal 'n plek van riviere wees, van breë strome; geen vloot van roeiskepe sal daarop vaar nie, en geen trotse skip sal daaroor gaan nie.”   JESAJA 33:21 AFR53


Jesus, ons Here, sal regeer as regverdige Regter, as Aanvoerder en as Koning.


“Want die Here is ons Regter, die Here is ons Aanvoerder, die Here is ons Koning: Hý sal ons verlos.”   JESAJA 33:22 AFR53


Daar sal geen oorlog meer wees nie.


“Jou toue hang slap, hulle hou die voetstuk van hulle mas nie styf nie, hulle ontplooi nie die banier nie; dan word roofbuit verdeel in menigte, selfs die lammes maak buit.”   JESAJA 33:23 AFR53


Die belangrikste is dat die mense van Israel wat daar woon, hulle ongeregtigheid vergewe is.


“En geen inwoner sal sê: Ek is siek nie; aan die mense wat daarin woon, is die skuld vergewe.”   JESAJA 33:24 AFR53


 

23 Februarie 2023


JESAJA 34:1 AFR53

“Kom nader, o volke, om te hoor; en nasies, luister! Laat die aarde hoor, en die volheid daarvan, die wêreld en alles wat daaruit voortkom.”


Kom ons lees eers hoe Johannes in die boek Openbaring Jesus se wederkoms beskryf. Jesus se terugkeer vind plaas te midde van die Antichris se aanval op Jerusalem. Die Antichris en sy bondgenote wat saamgestel is uit al die oorblywende nie-Joodse nasies wat versamel om oorlog te voer teen Jesus en Sy leër.


“Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was 'n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.

En sy oë was soos 'n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het 'n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self.

En Hy was bekleed met 'n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God.

En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne.

En uit sy mond gaan daar 'n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan;

en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige.

En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.

En ek het een engel sien staan in die son; en hy het met 'n groot stem uitgeroep en vir al die voëls gesê wat in die middel van die lug vlieg: Kom hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God, dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot.

En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër.

En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand.

En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees.”   OPENBARING 19:11-21 AFR53


Hierdie toneel se kleedrepetisie vind plaas in Jesaja se tyd wanneer die Assiriërs Jerusalem wil aanval maar deur die engel van die Here verslaan word. Ons begin nou sien hoekom Jesaja so baie detail van hierdie slagting deurgee.


Jesaja roep in vers 1 van hierdie hoofstuk al die volke en nasies om te luister en te hoor. Al die inwoners van die aarde moet luister.


Hierdie is nie ‘n vriendelike oproep om fees te vier nie. Nee, die toorn van die Here is oor die nasies, Sy woede heers oor hul weermagte, en hulle gaan deur Hom verwoes word.


“Want die toorn van die Here is oor al die nasies, en grimmigheid oor al hulle leërskare; Hy het hulle met die banvloek getref, Hy het hulle oorgegee om geslag te word.”    JESAJA 34:2 AFR53


 

24 Februarie 2023


JESAJA 34:3 AFR53

“En hulle gesneuweldes sal weggewerp word, en die stank van hulle lyke gaan op, en die berge smelt van hulle bloed.”


Die vernietiging van die nasies sal so erg wees dat die dooies net so sal bly lê, te veel om begrawe te word en die gevolg daarvan is ‘n geweldige stank. Die berge word deurdrenk van hul bloed.


Hierdie gedeelte herinner aan die verse in Openbaring waar die Antichris se nerderlaag sommer so in die verbygaan genoem word.


“En die engel het sy sekel oor die aarde laat gaan en die wingerdstok van die aarde afgeoes en dit gegooi in die groot parskuip van die grimmigheid van God. En die parskuip is buitekant die stad getrap, en bloed het uit die parskuip gekom tot aan die tooms van die perde, tweehonderd myl ver.”   OPENBARING 14:19-20 AFR53


Die leërskare van die hemel is die son, maan en sterre, maar kan ook ‘n voorstelling wees van die konings van die wêreld of die nasies waarmee oorlog gevoer word of albei.


“En al die leërskare van die hemel vergaan, en die hemel word inmekaar gerol soos 'n boek en al sy leërskare val af soos 'n blad van die wingerdstok afval en soos vye afval van die vyeboom.”   JESAJA 34:4 AFR53


Die vernietiging van die nasies, die aarde en die hemelruim is ‘n werklikheid aan die einde van tyd.


“En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was 'n groot aardbewing; en die son het swart geword soos 'n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos 'n vyeboom wat deur 'n groot wind geskud word, sy navye laat afval;”   OPENBARING 6:12-13 AFR53


Die Here se begeerte vir oordeel sal uit die hemel neerdaal, en wel op Edom, die volk wat Sy banvloek sal ontvang.


“Want my swaard het dronk geword in die hemel; kyk, dit kom af op Edom en op die volk van my banvloek, om geoordeel te word.”   JESAJA 34:5 AFR53


Die slagting vind plaas in Bosra of Petra waar God se volk skuiling gaan vind tydens die tweede helfte van die sewe jaar Verdrukking tydperk.


“Die swaard van die Here is vol bloed, dit drup van vet, van die bloed van lammers en bokke, van die niervet van ramme; want die Here het 'n slagoffer in Bosra en 'n groot slagting in die land Edom. Dan val die buffels saam met hulle, en die jong stiere saam met die stiere; en hulle land word dronk van bloed, en hulle stof versadig van vet.”  JESAJA 34:6-7 AFR53


Jesus se wederkoms behels ‘n tweeledige stryd. Eers in Bosra om Edom te vernietig en sodoende die oorblyfsel van Sy volk te beskerm, en dan die leërs rondom Jerusalem om die Antichris af te maai.


Wees verseker dat vandag se wêreld nie hou van hierdie profesie nie, en ons wat dit glo sal gebrandmerk word as Christen ekstremiste en terroriste.


 

25 Februarie 2023


JESAJA 34:8 AFR53

“Want die Here hou 'n dag van wraak, 'n jaar van vergelding in die regsaak van Sion.”


Die lang verwagte dag van wraak oor al die nasies, sal op die gekose tyd (onbekend aan ons) aanbreek.


Jesaja gebruik beelde van Sodom en Gomorra om die dag van wraak te beskryf. So groot en verskriklike verwoesting dat die strome oral in pik verander, aan die brand slaan, en die land met vlamme vul.


“En sy strome sal in pik verander word en sy stof in swawel, en sy land sal brandende pik word.”   JESAJA 34:9 AFR53


Hierdie profesie is oor Edom, en die profeet Jeremia gebruik dieselfde beelde uit Sodom en Gomorra om Edom se einde te beskryf.


“So sal Edom dan 'n voorwerp van verbasing word; elkeen wat by hom verbytrek, sal hom verbaas en spot oor al sy plae. Soos die omkering van Sodom en Gomorra met hulle bure, sê die Here, sal daar niemand woon en geen mensekind daar vertoef nie.”   JEREMIA 49:17-18 AFR53


Die streek sal 'n skouspel wees van God se wraak vir alle daaropvolgende eeue.


“Dit sal snags of oordag nie uitgeblus word nie; vir ewig gaan sy rook op; van geslag tot geslag lê dit woes, vir altyd en ewig trek niemand daardeur nie.”   JESAJA 34:10 AFR53


Net die diere sal hul tuiste hier vind.


“Maar die pelikaan en die krimpvarkie neem dit in besit, en die uil en die kraai woon daarin. En Hy sal die riglyn van woestheid daaroor span en die skietlood van vormloosheid. Sy edeles — daar sal hulle geen koninkryk meer uitroep nie, en met al sy vorste is dit gedaan. En sy paleise word begroei met dorings, brandnekels en distels sal in sy vestings wees. En dit sal 'n lêplek van jakkalse, 'n verblyf vir die volstruise wees. En boskatte kom wildehonde teë, en veldduiwels ontmoet mekaar; ook woon die naggees daar in vrede en vind 'n rusplek vir hom. Daar maak die pylslang sy nes en lê eiers en broei dit uit en koester haar kleintjies daar in die skaduwee; ook sal die kuikendiewe daar bymekaarkom, die een by die ander.”   JESAJA 34:11-15 AFR53


Jesaja sê hier vir sy lesers. Doen julle huiswerk, gaan lees wat sê al die profete oor die gedeelte en kyk na die uitkoms van die profesieë. Alles wat deur die profete gespreek is, is of reeds vervul of gaan in die toekoms vervul word, net soos geskryf word in die boek van die Here.


“Soek in die boek van die Here en lees! Nie een van hierdie wesens ontbreek nie, die een mis die ander nie; want my mond — dié het dit beveel, en sy Gees — dié het hulle bymekaargebring.”   JESAJA 34:16 AFR53


God het, soos 'n landmeter, die land Edom gegee as die woonplek van die wilde diere. Die wilde diere wat in die vorige verse genoem is. Die getuienis van alle reisigers in die streek toon dat hierdie profesie tot dusver treffend vervul is.


“En Hý het vir hulle die lot gewerp, en sy hand het die land aan hulle met die meetsnoer uitgedeel; tot in ewigheid sal hulle dit besit, van geslag tot geslag daarin woon.”   JESAJA 34:17 AFR53


 

26 Februarie 2023


JESAJA 35:1 AFR53

“Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos 'n narsing;”


Die verwoesting van Israel se grootste vyand, word gekontrasteer met die hernude skoonheid van Israel se eie erfenis.


“dit sal lustig bloei en juig, ja, met gejuig en gejubel; die heerlikheid van die Líbanon is aan hom gegee, die sieraad van Karmel en Saron; hulle dáár sal sien die heerlikheid van die Here, die sieraad van onse God.”   JESAJA 35:2 AFR53


Israel hoef nie meer te vrees nie, want God is in beheer. Die land sal nie meer ‘n woestyn wees nie, maar ‘n lushof wat floreer en wat herstel gaan word na die beloofde land wat God aan Abraham, Isak en Jakob belowe het.


Die Joodse volk hoef nie met slap hande en struikelende knieë te vrees nie. Nee, hulle moet sterk staan, want God kom met wraak en goddelike vergelding, om ieder en elk wat in Hom glo te verlos.


“Versterk die slap hande en maak die struikelende knieë vas. Sê aan die wat vervaard is van hart: Wees sterk, wees nie bevrees nie! Kyk, julle God kom met wraak, met goddelike vergelding; Hy self sal kom en julle verlos.”   JESAJA 35:3-4 AFR53


Jesus self het gedurende Sy drie jaar bediening op aarde die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes oopgemaak, maar uiteindelik sal die volk se sluier van hul oë gelig word om Jesus as Verlosser te aanvaar en God se woord te hoor. Dan sal hulle soos lammers spring, hul stom tonge sal jubel soos strome van lewende water wat oor hul spoel.


“Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos 'n takbok, en die tong van die stomme sal jubel; want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis.”   JESAJA 35:5-6 AFR53


Vêrdere beskrywing van die land wat ‘n lushof van fonteine en groen gras sal wees.


“En die gloeiende grond sal 'n waterplas word, en die dorsland fonteine van water; in die plek van die jakkalse waar hulle gelê en rus het, is gras met riete en biesies.”   JESAJA 35:7 AFR53


Die losgekooptes van Israel sal op die grootpad, die heilige weg, opgaan na God se tempel in die nuwe Jerusalem.


“En dáár sal 'n grootpad wees en 'n weg wat die heilige weg genoem sal word; geen onreine sal daarop voorttrek nie, maar vir húlle sal dit wees; wie die weg bewandel — selfs die dwase sal nie dwaal nie. Dáár sal geen leeu wees nie, en geen verskeurende dier sal daarop kom of daar aangetref word nie; maar die verlostes sal daarop wandel; en die losgekooptes van die Here sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg.”JESAJA 35:8-10 AFR53


 

133 views0 comments

Recent Posts

See All
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page