15 Januarie 2023
Jesaja 24:1 AFR53
“Kyk, die Here maak die aarde leeg en verwoes dit, en Hy keer sy oppervlakte om en verstrooi sy bewoners.”
Jesaja nooi ons uit om te kyk of te aanskou wat God hier profeteer. God toon nou Sy toekomstige oordeel aan ons, nog selfs in ons wat hier lees se toekoms.
Hoofstukke 24 - 27 is in wese 'n mini-weergawe van Openbaring 5 - 20 wat die Verdrukking en die komende Millenium beskryf.
God gaan die aarde verwoes en vernietig, sy oppervlakte omkeer en die bewoners verstrooi. Hierdie gebeur met die ganse aarde, die hele wêreld, en is sekerlik nog in die toekoms.
Hierdie lot tref elke persoon op aarde op daardie stadium, ongeag wie hul is en hoe belangrik of onbelangrik hul is.
Diegene wat glo dat die kerk op aarde gelaat sal word om die Groot Verdrukking te verduur, glo dat God die Christene wonderbaarlik sal beskerm in daardie tyd. Maar, hierdie gedeelte versterk die idee dat die oordele van die Here tydens die Groot Verdrukking almal sal raak, en dat geen klas mense immuun sal wees teen die oordeel van God nie. Daarom maak dit sin vir God om Sy verlostes te verwyder voor hierdie tydperk, sodat slegs diegene wat nie op Hom vertrou, tydens die Groot Verdrukking hoef te ly onder hierdie oordele.
“Dieselfde lot tref die volk en die priester, die slaaf en sy heer, die slavin en haar meesteres, die koper en die verkoper, die uitlener en die lener, die skuldeiser en die skuldenaar.” JESAJA 24:2 AFR53
Die aarde se verwoesting gebeur omdat God hierdie woord sal spreek.
“Die aarde word heeltemal leeg gemaak en heeltemal geplunder, want die Here het hierdie woord gespreek.” JESAJA 24:3 AFR53
In die dae van die Groot Verdrukking sal die aarde nie letterlik leeg wees nie, maar Jesaja se poëtiese beskrywing geld omdat die aarde op baie plekke leeg sal lyk. Meer as een derde van die mensdom sal sterf in die oordele van die Groot Verdrukking, wat die gebiede wat die ergste getref word, sal laat lyk asof die aarde leeg is.
“Deur hierdie drie plae is 'n derde van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het;
En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie.” OPENBARING 9:18, 20 AFR53
16 Januarie 2023
Jesaja 24:4 AFR53
“Die aarde treur, dit verwelk; die wêreld versmag, dit verwelk; en die hoogstes van die mense van die aarde versmag.”
Die aarde treur, verwelk en versmag en so ook die hoogstes van die mense op die aarde.
Hoekom? Want die aarde is ontheilig deur sy bewoners. Wat beteken dit? Het ons die aarde nie mooi genoeg opgepas nie? Die vers gee vir ons die verduideliking. Die mense was ongehoorsaam aan die wet van die Here, hulle het God se voorskrifte geminag en Sy verbond verbreek.
“Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners; want hulle het die wette oortree, die insetting geskend, die ewige verbond verbreek.” JESAJA 24:5 AFR53
Die wêreld wat vergaan, het niks te doen met die mens wat die aarde nie mooi genoeg opgepas het nie. Om te verduidelik gaan ek terug na die tyd toe Salomo sy tempel ingewy het. Na die inwyding het God met Salomo gepraat en vir hom gesê dat, wanneer Hy die aarde straf met droogte, peste wat die oeste eet en peste wat die mense tref, dan moet die mense die volgende doen.
Die mens moet nederig word voor God, hulle moet bid en God se aangesig soek, en hulle moet bekeer van hul verkeerde weë. Dan sal God uit die hemel hulle hoor, hul sondes vergewe en hulle land genees!
“verskyn die Here in die nag aan Salomo en sê vir hom: Ek het jou gebed gehoor en hierdie plek vir My as 'n offerhuis verkies. As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” II KRONIEKE 7:12-14 AFR53
Die vergewing van die mens se sondes het tot gevolg dat God die land genees!, en hier is ons probleem in vandag se wêreld.
Ons kan sien dat die oorgrote meerderheid mense GEEN voorneme meer het om God te dien of hulself te bekeer van hul sondes nie. Die mens wil eerder die aarde herstel met ‘groen’ wetgewing en daarom sal die aarde nie beter word nie, maar net meer vergaan, tot en met ons die eindtye ingaan. Dan word die aarde verteer en min mense sal oorbly.
“Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy bewoners boet; daarom word die bewoners van die aarde deur 'n gloed verteer en bly daar min mense oor.” JESAJA 24:6 AFR53
Die vloek van die aarde is al in Genesis uitgespreek, ook omdat die mens gesondig het.
“En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie — vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe.” GÉNESIS 3:17 AFR53
17 Januarie 2023
Jesaja 24:7 AFR53
“Die mos treur, die wingerdstok verwelk, almal wat bly van hart is, sug.”
Die uiteindelike gevolg van die mensdom se sondes is God se oordeel met die Groot Verdrukking, en geen mens gaan die tydperk geniet nie. Die wingerdstok verwelk, wat die produksie van wyn beëindig, en alle vrolikheid verdwyn. Die wat tot nou toe nog positief was, sal net sug. Soos in die dae voor die vloed het hulle geëet en gedrink, getrou en in die huwelik getree, tot Noag in die ark ingegaan het…….. net so gaan dit aan die einde wees, tot die Groot Verdrukking begin.
“Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het,” MATTHÉÜS 24:38 AFR53
Weg is ‘party time’ met die vreugde van tamboeryne, siter en die gedruis van uitgelate mense.
“Weg is die vreugde van die tamboeryne, die gedruis van die uitgelate mense hou op, weg is die vreugde van die siter!” JESAJA 24:8 AFR53
Weg is die gesang na ‘n paar glase wyn, en sterk drank is nie meer lekker nie, dis net bitter.
“Hulle drink geen wyn onder gesang nie; die sterk drank smaak bitter vir die wat dit drink.” JESAJA 24:9 AFR53
Weg is die besige stede, hulle is afgebreek en verlate. Die huise is toegesluit en onbewoonbaar.
“Verbreek is die verlate vesting; al die huise staan toegesluit, sodat niemand daar kan inkom nie.” JESAJA 24:10 AFR53
Weg is almal se vrolikheid, die aarde se vreugde is verban.
“Daar is 'n gejammer oor wyn op die strate; al die vrolikheid het ondergegaan, die vreugde van die aarde is verban.” JESAJA 24:11 AFR53
Nou word melding gemaak van ‘n stad wat verwoes is en die stadspoort wat ‘n puinhoop is.
“Wat in die stad oorgebly het, is verwoesting; en die poort is tot 'n puinhoop stukkend geslaan.” JESAJA 24:12 AFR53
Baie soos Babilon wat geval het in Openbaring 18.
“En hy het met 'n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword 'n woonplek van duiwels en 'n versamelplek van allerhande onreine geeste en 'n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls,” OPENBARING 18:2 AFR53
Die aarde sal so kaal wees soos ‘n olyfboom waarvan die olywe almal afgeslaan is, of soos wingerde waarvan die laaste druiwe afgeoes is.
“Want so sal dit wees op die aarde, onder die volke, soos by die afslaan van die olywe, soos by die na-oes as die druiwe-oes verby is.” JESAJA 24:13 AFR53
18 Januarie 2023
Jesaja 24:14 AFR53
“Hulle daar hef hul stem op, hulle jubel; vanweë die majesteit van die Here juig hulle van die see af:”
Die profesie speel af in die Groot Verdrukking, en tog is daar mense wat die Here gaan loof en prys. Voor die Groot Verdrukking sal God al Sy mense verwyder, maar baie kom om op Jesus te vertrou tydens die Groot Verdrukking, en hulle sal Hom loof te midde van die oordeel.
Jesaja het, net soos Johannes in Openbaring, begin deur te vertel hoe sleg dit gaan wees op die aarde. Maar nou verander iets ten midde van die verdrukking, en mense begin om God te loof en te prys. Hoe gebeur dit? Openbaring gee vir ons meer detail, waarna ons nou gaan kyk.
Johannes sien vier engele wat beveel word om die vier winde van die aarde vas te hou vir ‘n tydperk sodat die aarde nie beskadig word terwyl God Sy diensknegte verseël nie.
“en gesê: Moenie die aarde of die see of die bome beskadig voordat ons die diensknegte van onse God op hulle voorhoofde verseël het nie.” OPENBARING 7:3 AFR53
Hierdie diensknegte is God se geloofsweermag wat die wêreld ingestuur gaan word om die finale groep mense oor te wen na Jesus. Hierdie evangeliste is die ‘berugte’ een honderd vier en veertig duisend persone waaroor almal bespiegel. Kom ons kyk wat sê die Bybel vir ons wie dit is.
“En ek het die getal van die verseëldes gehoor: honderd-vier-en-veertigduisend verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel —” OPENBARING 7:4 AFR53
144,000 Verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel - dus Joodse mans uit die twaalf stamme van Israel, want die Bybel sê so!
“uit die stam van Juda twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Ruben twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Gad twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Aser twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Náftali twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Manasse twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Símeon twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Levi twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Íssaskar twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Sébulon twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Josef twaalfduisend verseëldes; uit die stam van Benjamin twaalfduisend verseëldes.” OPENBARING 7:5-8 AFR53
Wat is die eienskappe van die 144,000 evangeliste. Hulle is maagdelik rein, want hulle het hulself nie met vroue besoedel nie, en hulle het die Lam (Jesus) oral gevolg. Hulle is ook gekoop uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam. Hier het ons te doen met die begrip van eerste vrugte - die eerste vrugte van enige oes wat afgehaal word, word nie self geëet nie, maar aan God geoffer. Voorbeelde is: die eerste are van die koring oes, die eerste kalfie van ‘n koei wat gebore word en in die geval van die 144,000, die eerste volgelinge van Jesus in die Groot Verdrukking tydperk.
“Dit is hulle wat hulself met vroue nie besoedel het nie, want hulle is maagdelik rein; dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan; dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir God en die Lam. En in hulle mond is daar geen bedrog gevind nie; want hulle is sonder gebrek voor die troon van God.” OPENBARING 14:4-5 AFR53
19 Januarie 2023
JESAJA 24:15 AFR53
“Daarom, eer die Here in die lande van die son, op die kuslande van die see die Naam van die Here, die God van Israel!”
Die 144,000 Joodse evangeliste is nie die enigste groep wat God se Woord tydens die Groot Verdrukking verkondig nie. Waar die 144,000 wêreldwyd gaan besig wees, is daar twee getuies wat slegs in Jerusalem en buite die tempel sal getuig tydens die eerste drie en ‘n half jaar.
“Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap. En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank sal profeteer.” OPENBARING 11:2-3 AFR53
Johannes word vertel wie die twee mans is.
“Hulle is die twee olyfbome en die twee kandelaars wat voor die God van die aarde staan.” OPENBARING 11:4 AFR53
Die twee olyfbome en kandelaars is ‘n profesie wat deur Sagaria uitgespreek is en hier in Openbaring is nou die vervulling daarvan.
“En hy het vir my gesê: Wat sien jy? Toe antwoord ek: Ek sien daar 'n kandelaar, heeltemal van goud, en sy oliekan bo-oor hom en sy sewe lampe op hom; telkens sewe aanvoerpype loop na die lampe wat bo-oor hom is. Ook twee olyfbome langs hom, een aan die regterkant van die oliekan en een aan die linkerkant daarvan.” SAGARÍA 4:2-3 AFR53
Olie vir die lampe is ‘n prentjie van die Heilige Gees. Die olyfbome word gedurigdeur gevul met die olie van die Heilige Gees. Die twee olyfbome is die twee geslafdes wat by die Here van die ganse aarde staan. Dit beteken dat die twee getuies se bediening ‘n wêreldwye invloed gaan he.
Dan is daar ook ‘n derde uitreik in Openbaring. Johannes sien sewe engele elkeen met ‘n ander boodskap. Die eerste engel vlieg in die lug en verkondig die evangelie aan al die bewoners van die aarde. ‘n Pratende engel wat deur die lug vlieg moet tog ‘n uitwerking hé op die mense wat dit aanskou en hoor!
“En ek het 'n ander engel in die middel van die lug sien vlieg met 'n ewige evangelie om te verkondig aan die bewoners van die aarde en aan alle nasies en stamme en tale en volke.” OPENBARING 14:6 AFR53
Die bewoners is weereens ALMAL op aarde want die vers sê duidelik: alle nasies en stamme en tale en volke. Die engel sal dus so praat dat almal hom kan hoor en verstaan. Die engel praat met ‘n groot stem en waarsku die mensdom dat die uur van God se oordeel gekom het, met ander woorde, die tyd loop uit om Jesus as Verlosser te aanvaar. Ons is nou hier naby die einde en dit wat die mens nie kon doen nie, dit doen die engel nou - verkondig vir oulaas die evangelie sodat almal ‘n kans kry om die Blye Boodskap te hoor en te ontvang.
“En hy het met 'n groot stem gesê: Vrees God en gee Hom heerlikheid, want die uur van sy oordeel het gekom; en aanbid Hom wat die hemel en die aarde en die see en die waterfonteine gemaak het.” OPENBARING 14:7 AFR53
20 Januarie 2023
JESAJA 24:16 AFR53
“Van die einde van die aarde af hoor ons lofgesange: Glorie aan die regverdige! Maar ek sê: Ek teer weg, ek teer weg, wee my! Die ontroues handel troueloos, en in troueloosheid handel die ontroues troueloos.”
Jesaja gee hier vir ons die getuienis van ‘n ongelowige buitestaander wat tydens die Groot Verdrukking vir ons vertel wat hy sien en hoor. Die uitkoms van die 144,000, die twee getuies en die pratende engel.
Van die einde van die aarde af word lofgesange gehoor waarin die groot mag van die Regverdige besing word. Die ongelowige aan die ander kant teer weg en is bevrees. Hy lewe saam met ontroues wat troueloos handel en verder in die verderf vergaan.
Die kontras is tussen die gelowiges wat deur God se Gees getransformeer is! en die res van die mensdom wat nie van hulle weë afdraai nie, selfs ten spyte van alles wat met hulle gebeur.
“Die skrik en die kuil en die strik oor jou, o bewoner van die aarde! En hy wat vlug vir die skrikgeroep, val in die kuil; en hy wat uit die kuil uitklim, word in die strik gevang. Want die sluise uit die hoogte het oopgegaan, en die fondamente van die aarde bewe.” JESAJA 24:17-18 AFR53
Jesaja vertel wat ons ook in Openbaring lees. Die aarde word gebreek en wankel en word geskud. Die aarde waggel soos ‘n dronkaard, swaai heen en weer en sal val en nie weer opstaan nie.
“Die aarde word geheel en al verbreek, die aarde is geheel en al aan wankel, die aarde word geheel en al geskud. Die aarde waggel geheel en al soos 'n dronkaard en swaai heen en weer soos 'n naghut; en sy oortreding is swaar op hom; en hy sal val en nie weer opstaan nie.” JESAJA 24:19-20 AFR53
Met die sesde seël wat oopgemaak word is daar ‘n groot aardbewing wat die aarde geheel en al skud. Die sterre uit die hemel val op die aarde soos ‘n vyeboom wat deur ‘n groot wind geskud word.
“En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was 'n groot aardbewing; en die son het swart geword soos 'n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos 'n vyeboom wat deur 'n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos 'n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit;” OPENBARING 6:12-14 AFR53
Toe die sewende engel in Openbaring sy skaal uitgooi, het daar ook ‘n groot aardbewing gekom soos daar nog nie op die aarde was nie.
“En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en 'n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het: Dit is verby! En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het 'n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie — so 'n geweldige groot aardbewing.” OPENBARING 16:17-18 AFR53
21 Januarie 2023
JESAJA 24:21 AFR53
“En in dié dag sal die Here besoeking doen oor die leërskare van die hoogte in die hoogte en oor die konings van die aarde op die aarde;”
God sal die leërskare van die hoogte en die konings van die aarde straf. Hemel en aarde sal nie God se straf ontwyk nie.
Die leërskare van die hoogte verwys na opstandige engele wat deur God geoordeel word en in die put gevange gehou word tot die finale rebellie aan die einde van die Millennium.
“en hulle sal opgesluit word soos gevangenes opgesluit word in 'n kuil en bewaar word in 'n kerker; maar ná baie dae sal daar op hulle ag gegee word.” JESAJA 24:22 AFR53
Openbaring vertel van die draak wat toegesluit word, en Jesaja vertel dat die leërskare van die hoogte ook in die put toegesluit word.
“En ek het 'n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en 'n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp — die ou slang wat die duiwel en die Satan is — en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan 'n kort tydjie ontbind word.” OPENBARING 20:1-3 AFR53
Aan die einde van die Groot Verdrukking sal God 'n duisend jaar van heerskappy oor die hele aarde, op die berg Sion en in Jerusalem inlui. God se doel met oordeel is nie eenvoudige wraak of wraaksug nie, dit is om 'n glorieryke nuwe wêreld tot stand te bring.
“En die maan sal rooi word van skaamte, en die son sal skaam wees; want die Here van die leërskare sal regeer op die berg Sion en in Jerusalem, en voor sy oudstes sal daar heerlikheid wees.” JESAJA 24:23 AFR53
Johannes in Openbaring sien trone en hulle sit daarop, en aan hulle is die oordeel gegee.
“En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.” OPENBARING 20:4 AFR53
Wie is die ‘hulle’ wat op die trone sit. Hierdie is dieselfde siele wat Johannes in Openbaring 6 onder die altaar gesien het, wat nou voltallig is, en hulle het die volgende kenmerke:
- die siele is onthoof oor hul getuienis van Jesus en oor die Woord van God,
- hulle het nie die dier en sy beeld aanbid nie, en
- hulle het NIE die dier se merk op hul voorhof of op hul hand ontvang NIE.
Hierdie siele, die mense wat in die Verdrukking gedood is, leef en regeer as konings (daarom die trone) saam met Christus vir een duisend jaar.
22 Januarie 2023
JESAJA 25:1 AFR53
“Here, U is my God! U sal ek verhoog; u Naam sal ek loof; want U het wonders gedoen, raadsbesluite uit ver tye, waarheid en trou.”
Die vorige hoofstuk het vir ons deur die sewe jaar Verdrukking geneem en ‘n klein voorsmakie gegee van hoe sleg dit gaan wees. Nou begin die Millenium of die duisend jaar Vrederyk en dit word ingelyf met ‘n lofgesang aan God.
Jesaja onderbreek sy profesieë met ‘n plegtige viering van God se wonderlike werke. Die profesieë wat aan God se profete van ouds geopenbaar was, is waar en vas en sal beslis volbring word.
Stede is hier ‘n versamelnaam vir die lande en die koninkryke van die vyande van God. God gaan tydens die Groot Verdrukking Sy vyande verpletter. Van hul stede sal net ‘n hoop klippe oorbly, hul versterkte vesting word puinhope wat nooit weer herbou sal word nie.
“Want U het van 'n stad 'n hoop klippe gemaak, van 'n versterkte vesting 'n puinhoop; 'n paleis van vreemdes, dat dit geen stad meer is nie; vir ewig sal dit nie herbou word nie.” JESAJA 25:2 AFR53
Die bevryding van die Jode, en die vernietiging van Babilon, sal sulke treffende gebeure wees dat dit die omliggende nasies sal lei om te erken dat dit die hand van God is.
“Daarom sal 'n magtige volk U eer, die vesting van tirannieke nasies U vrees.” JESAJA 25:3 AFR53
'n Plek van veiligheid; 'n toevlugsoord; 'n beskerming. Daar word dikwels van God gepraat as so 'n toevlugsoord.
“Want U was 'n vesting vir die arme, 'n vesting vir die behoeftige toe hy benoud was; 'n skuilplek teen die stortreën, 'n skaduwee teen die hitte — want die geblaas van die tiranne is soos 'n stortreën teen 'n muur.” JESAJA 25:4 AFR53
Die triomf gesange van die tiranne, die vyande van God, sal stil word soos hitte wat verdwyn onder die skaduwee van ‘n wolk.
“Soos hitte in 'n dor land het U die rumoer van vreemdes gedemp, soos hitte deur die skaduwee van 'n wolk; die triomfsang van die tiranne moes verstom.” JESAJA 25:5 AFR53
23 Januarie 2023
JESAJA 25:6 AFR53
“En die Here van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei 'n maaltyd van vetspyse, 'n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn.”
Op die berg Sion sal die Here van die leërskare vir alle mense ‘n feesmaal voorberei.
“Toe sê hy vir my: Skryf — salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God.” OPENBARING 19:9 AFR53
Jesus sien in Matteus 26 ook baie uit na hierdie feesmaal en het vir sy dissipels by die laaste pasga gesê:
“Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.” MATTHÉÜS 26:29 AFR53
Die prentjie is dat daar 'n sluier is wat oor alle nasies versprei is wat hulle daarvan weerhou om God te sien, God lief te hê en God te gehoorsaam. In hierdie heerlike dag sal die Here daardie sluier vernietig.
“En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is.” JESAJA 25:7 AFR53
Die Here sal ook die dood vernietig. Die dag sal kom wanneer die dood magteloos is.
“Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here Here sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem; want die Here het dit gespreek.” JESAJA 25:8 AFR53
Die dood is ingestel deur Adam se rebellie en sal eendag heeltemal deur God uitgeskakel word.
“In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.” GÉNESIS 3:19 AFR53
Die nuwe aarde is gereinig van sonde en al die gevolge van die sonde - alles is nou in ‘n perfekte toestand herstel.
Al die negatiewe gevolge van Adam se sonde en die gevolglike vloeke is nou reggestel. Daar is nou geen trane, geen dood, geen rou, geen huil, geen pyn ... alles wat bestaan het as gevolg van sonde was nie deel van God se perfekte skepping nie.
“En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.” OPENBARING 21:4 AFR53
24 Januarie 2023
JESAJA 25:9 AFR53
“En hulle sal in dié dag sê: Kyk, dit is onse God op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos; dit is die Here op wie ons gewag het: laat ons juig en bly wees oor sy hulp.”
Ons sal dit in die toekoms verkondig, want ons verkondig dit nou. Ons is diegene wat nie bang is om Jesus voor die mense op aarde te bely nie, en ons sal geseënd wees om te hoor hoe Hy ons voor ons Vader in die hemel bely.
“En Ek sê vir julle: Elkeen wat My sal bely voor die mense, hom sal die Seun van die mens ook bely voor die engele van God.” LUKAS 12:8 AFR53
Die enigste dwars noot, is die oordeel oor Moab waarmee steeds volhard word. Aan die een kant blyk dit dat die sonde van Num 22-24, waar Moab Israel se Intog in die Beloofde Land probeer stuit het, steeds teen hulle tel. Aan die ander kant is hulle eintlik ‘n simbool van alle nasies wat hulle in hoogmoed teen God verset.
“Want die hand van die Here sal rus op hierdie berg; maar Moab sal vertrap word op sy plek soos strooi vertrap word in die water van 'n miskuil. En as hy sy hande daarin uitsprei soos 'n swemmer dit uitsprei om te swem, dan sal Hy sy trotsheid afdruk tegelyk met die kunsgrepe van sy hande. En die steil versterkings van jou mure werp Hy neer, gooi Hy af, laat Hy kom tot op die grond, tot in die stof.” JESAJA 25:10-12 AFR53
Psalm 2 gee ‘n mooi opsomming van hoofstukke 24 en 25.
“Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik: Ék tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg. Ek wil vertel van die besluit: Die Here het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. U sal hulle verpletter met 'n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos 'n erdepot. Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die Here met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!” PSALMS 2:1-12 AFR53
25 Januarie 2023
JESAJA 26:1 AFR53
“In dié dag sal hierdie lied gesing word in die land Juda: 'n Sterk stad het ons; God stel heil tot mure en skanse.”
In dié dag, wanneer God Sy volk in hul eie land herstel. Dus na Jesus se tweede koms, en in die begin van die Millenium tydperk. In dié dag sal die lied wat volg gesing word.
Ons stad Jerusalem is sterk, want God is die bewaarder van ons stad. Ons het nie mure en tralies nodig nie, want God self is die stad se beskerming.
Maak die poorte oop sodat die nasie wat gered is kan ingaan.
“Maak oop die poorte, dat die regverdige nasie kan ingaan wat die trou bewaar!” JESAJA 26:2 AFR53
Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hul vertroue op U gestel.
“U sal 'n standvastige gesindheid in volle vrede bewaar, want hulle vertrou op U.” JESAJA 26:3 AFR53
As daar twee lewenskwaliteite is wat die meeste Jode amper sedert die begin van hul bestaan nooit ervaar het nie, was dit vrede en stabiliteit. Dit sal die oorheersende kenmerk van die lewe in Jerusalem wees in die dag van die Koning se heerskappy. Daarom vertrou hulle op die Here wat hul ewige rots is.
“Vertrou op die Here vir ewig, want in die Here Here is 'n ewige rots.” JESAJA 26:4 AFR53
In teenstelling met Jerusalem word 'n ander stad genoem in verse 5-6. Hierdie stad wat hoog en magtig was, is neergewerp met sy inwoners en met die voet vertrap tot stof. Die stad sal nie herbou word nie en van ander gedeeltes in Jesaja weet ons reeds hierdie stad is Babilon.
“Want Hy het die bewoners van die hoogte neergewerp, die steil vesting; Hy het dit afgegooi, afgegooi tot by die grond, dit laat kom tot in die stof. Die voet vertrap dit, die voete van die ellendige, die voetstappe van die armes.” JESAJA 26:5-6 AFR53
Die regverdiges se pad is gelyk. Anders as voor die Millenium, maak God die wat Hom volg se pad gelyk. Daar is nie bekommernis nie.
“Ook in die weg van u oordele het ons U verwag, o Here! Tot u Naam en tot u gedenknaam gaan die begeerte van ons siel uit.” JESAJA 26:8 AFR53
26 Januarie 2023
JESAJA 26:9 AFR53
“Met my siel begeer ek U in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.”
Selfs net die Naam van Jesus en die gedagte aan Hom, bring die begeerte van ons siele na vore.
Die mense van die wêreld leer wat geregtigheid is deur Jesus se oordele te ervaar terwyl Hy die aarde regeer.
Wanneer die goddelose genade bewys word, leer hy nie wat geregtigheid is nie. Die ongelowige handel onregverdig in hierdie land van opregtheid en sien nie die majesteit van die Here raak nie.
“Word aan die goddelose genade bewys, dan leer hy geen geregtigheid nie; wat onreg is, doen hy in 'n land van reg, en hy sien die hoogheid van die Here nie.” JESAJA 26:10 AFR53
Die goddelose sien nie die Here se hand wat opgehef is nie. Maar, aan die einde van die Millenium sal hulle wel beskaamd staan en hul fout besef en dan sal dit te laat wees.
“Here, is u hand opgehef, hulle sien dit nie; maar hulle sal dit sien en beskaamd staan; die ywer vir die volk, ook die vuur teen u teëstanders sal hulle verteer.” JESAJA 26:11 AFR53
Die Here maak in die Millenium die woord vrede ‘n werklikheid. Dit wat ons huidiglik hier op aarde beleef val weg en maak plek vir vrede. Van hier af heers geen ander behalwe die Here oor ons nie.
“Here, U sal vir ons vrede beskik, want U het ook al ons werk vir ons volbring. Here, onse God, ander here buiten U het oor ons geheers, maar deur U alleen prys ons ú Naam.” JESAJA 26:12-13 AFR53
In die ewigheid sal enige gedagte aan diegene wat nie by ons aangesluit het nie genadiglik van ons gedagtes verwyder word.
“Dooie mense herlewe nie, skimme staan nie op nie; daarom het U hulle besoek en verdelg en alle gedagtenis aan hulle laat vergaan.” JESAJA 26:14 AFR53
Die uiteindelike vervulling van God se belofte aan Abraham, Isak en Jakob aangaande hul land word in die Millenium gesien met die grense van die land wat uitgebrei word.
“U het, o Here, die nasie vermeerder; U het die nasie vermeerder, Uself verheerlik; U het al die grense van die land uitgebrei.” JESAJA 26:15 AFR53
27 Januarie 2023
JESAJA 26:16 AFR53
“Here, in benoudheid het hulle U gesoek; hulle het stille gebede uitgegiet toe u tugtiging hulle getref het.”
Die lied kyk nou terug, en reflekteer hoe Israel hierdie punt van vrede in die Millenium bereik het. Tydens die Verdrukking het die Joodse volk die Here in hul nood gesoek, maar kon hul gebed net fluister want God het hulle getugtig.
Sagaria verduidelik ook die Joodse volk se swaarkry onder God se tugtiging.
“En in dié dag maak Ek Jerusalem tot 'n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seermaak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word.” SAGARÍA 12:3 AFR53
En dan word Israel gehelp omdat hulle in gebed na God terugkeer.
“In dié dag sal die Here die inwoners van Jerusalem rondom beskut, en die struikelende onder hulle sal in dié dag wees soos Dawid, en die huis van Dawid soos 'n hemelse wese, soos die Engel van die Here voor hulle uit. Ook sal Ek in dié dag daarna soek om al die nasies wat teen Jerusalem aankom, te verdelg. Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos 'n mens rouklaag oor 'n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos 'n mens bitterlik ween oor 'n eersgebore kind.” SAGARÍA 12:8-10 AFR53
Jesaja gebruik die vergelyking met 'n swanger vrou wat geboorte gee om te beskryf hoe God die Joodse volk van ongehoorsaamheid na geloof gebring het.
Hy sê vêrder dat Israel in 'n sekere sin vir duisende jare in kraampyne was, maar het nooit geboorte geskenk aan iets betekenisvols nie, totdat God hulle so te sê in die laaste dag verlos het.
“Soos 'n bevrugte vrou wat naby die tyd kom dat sy moet baar, inmekaar krimp, skreeu in haar weë, so was ons vanweë u aangesig, o Here! Ons was swanger, het weë gehad — dit was asof ons wind gebaar het; ons het die land geen redding aangebring nie, en daar is geen wêreldbewoners gebore nie.” JESAJA 26:17-18 AFR53
28 Januarie 2023
JESAJA 26:19 AFR53
“U dode sal herlewe, my lyke sal opstaan. Waak op en jubel, julle wat in die stof woon! Want u dou is 'n dou van die lig, en die aarde sal aan skimme die lewenslig skenk.”
Jesaja beskryf hier die werklikheid van die opstanding van die vlees. Die finale resultaat van die nasie Israel wat terugkeer na God, is dat die dooies sal lewe - lyke sal opstaan. Diegene wat voorheen gesterf het en stof geword het, keer terug na die lewe.
Ons praat hier van die Ou Testament heiliges wat aan die begin van die Millenium opgewek sal word. Onthou, die Kerk heiliges is reeds by die Wegraping opgewek.
Nou beweeg Jesaja weer terug na die Verdrukking, na die tyd wanneer die Joodse volk van die Antichris moet wegkruip. Tydens die tweede helfte van die Verdrukking sal die Joodse volk in Petra skuiling vind tot en met Jesus se tweede koms.
“Kom, my volk, gaan in jou binnekamers en sluit jou deur agter jou toe, verberg jou vir 'n klein oomblik, totdat die grimmigheid verbygaan.” JESAJA 26:20 AFR53
Miga profeteer dat die oorblyfsel van Israel versamel sal word soos 'n kudde in die welige weivelde van Bosra. Bosra is die antieke naam vir Petra. Die Deurbreker sal voor hulle uitgaan as hulle Verlosser.
“Gewis sal Ek jou geheel en al versamel, o Jakob! Gewis sal Ek vergader die oorblyfsel van Israel; almal bymekaarbring soos skape in 'n kraal, soos 'n kudde in sy weiveld; en dit sal dreun van mense. Die deurbreker sal optrek voor hulle uit: hulle sal deurbreek en deur die poort intrek en daardeur uittrek; en hulle koning sal voor hulle uit gaan, en die Here heeltemal vooraan.” MIGA 2:12-13 AFR53
Jesus gaan met Sy tweede koms vanuit Sy hemelse woonplek kom om die bewoners van die aarde te straf vir hul sondes.
“Want kyk, die Here sal uit sy plek uitgaan om die ongeregtigheid van die bewoners van die aarde oor hulle te besoek; en die aarde sal die bloed openbaar maak wat deur hom gedrink is, en die wat op hom gedood is, nie langer toedek nie.” JESAJA 26:21 AFR53
En dan sal Jesus Sy volk wat in Petra (Bosra) skuil, verlos!
“Wie is dit wat daar aankom uit Edom, met bloedrooi klere uit Bosra? Hy daar, pragtig in sy gewaad, wat agteroor buig in die volheid van sy krag? Dit is Ek wat in geregtigheid spreek, wat magtig is om te verlos.” JESAJA 63:1 AFR53
29 Januarie 2023
JESAJA 27:1 AFR53
“In dié dag sal die Here met sy harde en groot en sterk swaard besoeking doen oor die Leviátan, die vinnige slang, en oor die Leviátan, die kronkelende slang; en Hy sal die draak doodmaak wat in die groot water is.”
‘In die dag’ plaas ons in die tydperk waar die Groot Verdrukking begin tot aan die einde van die Millenium. Teen die einde van die Groot Verdrukking word Satan vir ‘n duisend jaar gebind soos Openbaring ons leer.
“En ek het 'n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en 'n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp — die ou slang wat die duiwel en die Satan is — en hy het hom gebind duisend jaar lank,” OPENBARING 20:1-2 AFR53
Leviatan, ook genoem ‘n seemonster of ‘n draak wat vuur spoeg is net ander name vir die duiwel of Satan.
Na die duisend jaar verby is, sal Satan vir ‘n wyle weer losgelaat word om vir ‘n laaste keer die nasies te verlei.
“En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see.” OPENBARING 20:7-8 AFR53
Tot die tyd aanbreek om die draak finaal dood te maak en in die poel van vuur en swawel te werp waar hy sal wees tot in alle ewigheid.
“En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.” OPENBARING 20:10 AFR53
In kontras met Satan wat verwoes word, word God se volk vergelyk met ‘n wingerd wat vrugbaar is en skuimende wyn voortbring.
“In dié dag sal daar wees 'n wingerd van skuimende wyn — sing daarvan!” JESAJA 27:2 AFR53
Tydens die Millenium sal die Here Sy wingerd of volk met spesiale sorg bewaar. Die wingerd sal spesiaal natgelei word, dag en nag beskerm word en voortdurend bewaar word sodat niemand dorings of dissels daarin plant nie.
“Ek, die Here, bewaak dit: elke oomblik sal Ek hom bevogtig; Ek sal hom nag en dag bewaak, sodat niks hom kan tref nie. Geen grimmigheid is by My nie. Kry Ek doring of distel, in oorlog sou Ek daarop aanval, dit alles saam verbrand.” JESAJA 27:3-4 AFR53
30 Januarie 2023
JESAJA 27:5 AFR53
“Of hulle moet my beskutting aangryp, vrede met My maak, vrede met My maak.”
Die vyande van die Joodse volk sal heeltemal vernietig word soos distels deur vuur, ‘tensy’ hulle na God vlug vir 'n toevlug. As die vyand van Israel vrede kan maak met God, die bewaker van die wingerd, dan sal hulle ook veilig wees.
Jakob se nageslag sal soos die lote van die wingerdstok wortelskiet en floreer. Die Joodse volk is nou 'n koninkryk van gelowiges wat hul Messias volg, en Hy beskerm en koester hulle as 'n nasie.
“In die dae wat kom, sal Jakob wortel skiet, Israel sal bloei en uitbot, sodat hulle die wêreld vol vrugte sal maak.” JESAJA 27:6 AFR53
Het God sy volk op dieselfde manier en in dieselfde mate gestraf as wat Hy hul vyande gestraf het? Die vraag in vers 7 impliseer dat God nie het nie. God het Sy volk wel vir hul sondes gestraf, maar Hy het hulle nie vernietig nie. Hul vyande is egter heeltemal vernietig.
“Het Hy hom geslaan met die slag wat sy teëstander getref het? Of is hy gedood met 'n slagting soos die wat deur Hom gedood is?” JESAJA 27:7 AFR53
God het Sy volk uit hul land verban en hulle weggedryf om vir ‘n tydperk as ballinge in ‘n vreemde land deur te bring.
“Met mate het U met hom afgereken toe U hom verstoot het; Hy het hom verdrywe met sy geweldige wind op die dag van die oostewind.” JESAJA 27:8 AFR53
Indien Israel hul vals gode vernietig soos ‘n mens kalkklippe verbrysel, en hul geen ander gode aanbid nie, sal daar versoening wees vir hul oortredings en hul sondes sal van hulle weggeneem word.
“Daarom sal hiermee die skuld van Jakob versoen word, en dit is die volle vrug van die wegneming van sy sonde: as hy al die altaarklippe maak soos verbryselde kalkklippe, die heilige boomstamme en die sonpilare nie meer oprys nie.” JESAJA 27:9 AFR53
31 Januarie 2023
JESAJA 27:10 AFR53
“Want die versterkte stad is eensaam, 'n woning wat ontvolk en verlate is soos die woestyn; daar wei kalwers en daar lê hulle, en hulle eet sy takke af.”
Eers nadat God al die afgode en die nasie se liefde vir sulke dinge vernietig het, sal Hy Jerusalem isoleer en vernietig. Hier word verwys na die vernietiging van die stad Jerusalem deur die hande van die Babiloniërs en later die Romeine. Jerusalem sou vir ‘n tydperk (sewentig jaar) verlate wees.
Israel wat afgode aanbid is soos die dooie takke van ‘n boom wat afgebreek moet word en gebruik moet word vir die vuur van kookpotte.
“As sy takke verdor het, word hulle afgebreek; vroue kom en steek dit aan die brand; want dit is 'n volk sonder verstand. Daarom sal hulle Maker Hom nie oor hulle ontferm nie en sal hulle Formeerder aan hulle geen genade bewys nie.” JESAJA 27:11 AFR53
Die Joodse volk se gebrek aan kennis oor wat God doen, sal wel vir hulle lei tot ‘n tydperk van ongenade, maar God se einddoel met hulle sal nie tot niet gaan nie.
“En in dié dag sal die Here vrugte afslaan, van die stroom van die Eufraat af tot by die spruit van Egipte, en júlle sal ingesamel word, een vir een, o kinders van Israel!” JESAJA 27:12 AFR53
Israel sal weliswaar een vir een terugkom na God om Hom by Sy heilige berg in Jerusalem te aanbid.
“En in dié dag sal daar met 'n groot basuin geblaas word; dan sal kom die wat verlore is in die land Assur en die wat verdryf is in Egipteland, en hulle sal die Here aanbid op die heilige berg in Jerusalem.” JESAJA 27:13 AFR53
Die Nuwe Testament het dieselfde gedagtelyn oor die hantering van die eindtyd.
“En Hy sal sy engele uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.” MATTHÉÜS 24:31 AFR53
Die mini Openbaring van Jesaja het vir ons hoogtepunte van die Verdrukking uitgebeeld.
Die 144 000 evangeliste, die wederkoms van Jesus, die oprigting van Sy koninkryk, die binding van Satan en die Jode wat in vrede en stabiliteit in hul land leef.
Interessant hoeveel profesieë in die Ou Testament op selfs ons toekoms van toepassing is!
Comments