26 Augustus 2022
JESAJA 13:1 AFR53
“Godspraak oor Babel wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het.”
Godspraak kan anders gestel word as die ‘woorde van God’. Ons weet dat Jesaja ‘n profeet was, en die vers vertel vir ons dat Jesaja woorde van God ‘gesien’ het, en die onderwerp van die woorde was Babel wat ook bekend staan as Babilon.
Daar is drie geleenthede in die Skrif waar die naam Babilon (Babel) gebruik word.
1. Die antieke koninkryk in Mesopotamië wat deur Nimrod gestig is en waar die toring van Babel net na die vloed gebou is.
“Daarom het hulle dit Babel genoem, want daar het die Here die taal van die hele aarde verwar, en daarvandaan het die Here hulle oor die hele aarde verstrooi.” GÉNESIS 11:9 AFR53
2. Die koninkryk van Babel wat deur Nebukadneser regeer is. Die hedendaagse ligging is Irak en Mesopotamië.
“In die derde jaar van die regering van Jójakim, die koning van Juda, het Nebukadnésar, die koning van Babel, na Jerusalem gekom en dit beleër.” DANIËL 1:1 AFR53
3. Die fisiese stad Babilon wat in die laaste dae gebou gaan word wat ook die stad is waaruit die Antichris die wêreld gaan regeer en dan deur God vernietig sal word.
“En hy het met 'n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword 'n woonplek van duiwels en 'n versamelplek van allerhande onreine geeste en 'n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls,” OPENBARING 18:2 AFR53
27 Augustus 2022
JESAJA 13:2 AFR53
“Hef op 'n banier op 'n kaal berg; roep hulle hardop toe, wink met die hand, dat hulle kan intrek deur die poorte van die edeles.”
Die openingsverse maak dit duidelik dat ons hier na 'n komende veldslag kyk.
Die opdrag, 'hef 'n banier op’, is gerig aan die leiers van die leërs om hulle troepe bymekaar te maak en vir die oorlog voor te berei.
Dit was gebruiklik vir militêre leiers om 'n banier of ‘n vlag op 'n toring, 'n vesting, 'n stad, 'n hoë berg of enige verhewe plek te plant, sodat dit vêr gesien kon word. Dit was dan ook die aangewese plek vir die troepe om te versamel. Hier verwys die profeet nie na enige spesifieke ‘berg’ nie, maar bedoel eenvoudig dat 'n vlag geplant moet word op ‘n hoë plek, waar die weermag kan vergader om vandaar na Babilon te marsjeer.
Roep hulle hardop, en beveel die volk om bymekaar te kom en voor te berei vir die optog teen Babilon. Die woord 'roep' kan hier ook wees die klank van ‘n basuin wat geblaas moet word om die troepe bymekaar te roep.
Wuif of wink met die hand vir diegene wat te vêr is om die geroep te hoor.
Die poorte van die edeles verwys na Babilon. Jesaja verwys na Babilon as 'n manjifieke stad - 'n stad van prinse, of edeles.
“Ek self het my geheiligdes ontbied; ook het Ek my helde tot my toorn geroep, my manne wat jubel in trotsheid.” JESAJA 13:3 AFR53
God praat hier deur te sê ‘Ek self’. God self het Sy ‘geheiligdes ontbied’ verwys na diegene wat op die punt is om Babilon te vernietig. Nie 'geheiligdes’ genoem omdat hulle heilig was nie, maar omdat hulle afgesonder was deur God om Sy doel te bereik.
Die doel met die oorname is om God se oordeel oor Babilon te voltrek.
God beplan watter konings regeer en wanneer hul regering tot ‘n einde kom, soos Daniel vir ons in die vers aandui.
“Hy tog verander die tye en die geleenthede; Hy sit konings af en stel konings aan; Hy verleen wysheid aan die wyse manne en kennis aan die wat insig het;”. DANIËL 2:21 AFR53
28 Augustus 2022
JESAJA 13:4 AFR53
“Hoor, 'n gedruis op die berge soos van baie mense! Hoor, 'n rumoer van die koninkryke, van versamelde nasies! Die Here van die leërskare hou wapenskouing oor 'n oorlogsleër.”
Aangesien die gedeelte vele koninkryke beskryf wat Babilon gaan aanval, insluitend die Meders, neem baie aan dat dit na vervulde geskiedenis verwys, maar noukeurige ontleding van die gedeelte impliseer egter dat hierdie voorspelde vernietiging nog moet plaasvind.
Die Meders en die Perse het Babilon sonder ‘n geveg ingeval en oorgeneem. Die inval was so subtiel dat mense drie dae later nog nie besef het dat ‘n nuwe koning regeer nie. Vers 5 dui op ‘n geveg van verwoesting wat gaan plaasvind en kan dus nie na die geskiedenis verwys nie. Dit moet nog ‘n geveg in die toekoms beskryf.
“Hulle kom uit 'n ver land, van die einde van die hemel af, die Here en die werktuie van sy grimmigheid, om die hele aarde te verwoes.” JESAJA 13:5 AFR53
Huil want die dag van die Here is naby - hierdie gedeelte gee vir ons ‘n aanduiding oor wanneer die geveg gaan plaasvind. Die dag van die Here dui op die finale oordeel oor die aarde.
“Huil julle, want die dag van die Here is naby; hy kom as 'n verwoesting van die Almagtige.” JESAJA 13:6 AFR53
Die volgende verse gee nog eienskappe van die mense se reaksies oor die verwoesting wat kom.
- hul arms hang slap van vrees.
- Selfs die sterkstes se harte smelt inmekaar van vrees.
- Hul vrees is soos die van ’n vrou wat geboorte skenk.
- Hulle kyk hulpeloos vir mekaar terwyl die vlamme van die brandende stad op hulle gesigte weerkaats word.
“Daarom word al die hande slap, en elke mensehart versmelt; en hulle is verskrik, kry krampe en weë; hulle krimp inmekaar soos een wat baar; die een kyk die ander verbaas aan; hulle gesigte is vlammende gesigte.” JESAJA 13:7-8 AFR53
Dan bevestig vers 9 dat hier gepraat word van die finale oordeel van God wat ons ken as die sewe jaar Verdrukking tydperk.
Die dag (tydperk) sal verskriklik wees, met God se toorn duidelik sigbaar, om die aarde te verwoes en sondaars te vernietig.
“Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde 'n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg.” JESAJA 13:9 AFR53
29 Augustus 2022
JESAJA 13:10 AFR53
“Want die sterre van die hemel en sy Oríons sal hulle lig nie laat skyn nie; die son is duister by sy opgang, en die maan laat sy lig nie skyn nie.”
Vers 10 en verder gaan vir ons duidelike bevestiging gee dat ons hier ‘n profesie bestudeer wat dui op 'n ongekende tyd van bonatuurlike oordeel.
Die wêreld soos ons dit ken gaan donker word.
- Die sterre sal nie meer skyn nie,
- Die son sal duister wees, en
- Die maan se lig sal ophou skyn.
Klink baie soos Jesus se profetiese rede in Mattheus, Markus en Lukas.
“En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word.” MATTHÉÜS 24:29 AFR53
“Maa in daardie dae, ná dié verdrukking, sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre van die hemel sal val, en die kragte wat in die hemele is, sal geskud word.” MARKUS 13:24-25 AFR53
“En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word.” LUKAS 21:25-26 AFR53
Ook ander Ou Testament profete het dieselfde gesigte gesien.
“Voor hulle bewe die aarde, sidder die hemel; die son en die maan word swart, en die sterre trek hulle glans in. En die Here verhef sy stem voor sy leërmag uit; want geweldig groot is sy leër, ja, magtig die uitvoerder van sy woord. Want die dag van die Here is groot en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra?” JOËL 2:10-11 AFR53
“En as Ek jou uitblus, sal Ek die hemel oordek en sy sterre verdonker; Ek sal die son met wolke oordek, en die maan sal sy lig nie laat skyn nie. Al die skynende ligte aan die hemel, dié sal Ek om jou ontwil duister maak, en Ek sal duisternis gee oor jou land, spreek die Here Here. En Ek sal die hart van baie volke bekommerd maak as Ek jou verbreking onder die nasies uitbring, na lande wat jy nie geken het nie.” ESÉGIËL 32:7-9 AFR53
30 Augustus 2022
JESAJA 13:11 AFR53
“En Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder.”
God sal die wêreld se boosheid besoek of anders gestel die wêreld straf vir hul boosheid. Hierdie is duidelik nie die Meders en die Perse wat Babilon oorwin het in 539 v.C. nie.
Die bose mense sal gestraf word vir hul sonde, die trotse mense vir hul arrogansie en die magtiges vir hul verwaantheid.
Die sondige mens sal so uitgeroei wees dat hulle skaarser sal wees as goud.
“En Ek sal sterwelinge skaarser maak as fyn goud, en mense as goud van Ofir.” JESAJA 13:12 AFR53
Die hemele sal sidder en die aarde sal uit sy wentelbaan geruk word as gevolg van die toorn van God.
“Daarom sal Ek die hemel laat sidder, en die aarde sal wyk uit sy plek met gebeef, vanweë die grimmigheid van die Here van die leërskare en vanweë die dag van sy toorngloed.” JESAJA 13:13 AFR53
Hierdie is nie die enigste vers in die Bybel wat ons vertel dat die hemel en die aarde geskud gaan word nie.
“En die Here brul uit Sion, en uit Jerusalem verhef Hy sy stem, sodat hemel en aarde bewe. Maar die Here sal 'n toevlug wees vir sy volk en 'n skuilplek vir die kinders van Israel.” JOËL 3:16 AFR53
“Want so sê die Here van die leërskare: 'n Rukkie nog, 'n kort tydjie, dan sal Ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond laat bewe.” HAGGAI 2:6 AFR53
“En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word.” MATTHÉÜS 24:29 AFR53
“Toe het sy stem die aarde geskud; maar nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe. En hierdie woord: nog een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly.” HEBREËRS 12:26-27 AFR53
“En ek het 'n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.” OPENBARING 20:11 AFR53
31 Augustus 2022
JESAJA 13:14 AFR53
“En soos 'n gemsbok wat gejaag word, en soos kleinvee wat niemand bymekaar maak nie, sal hulle elkeen draai na sy volk toe en elkeen vlug na sy land toe.”
Tot dusver weet ons ons kyk na die vernietiging van Babilon gedurende 'n tydperk van ongekende wêreldwye vernietiging wat daarop gemik is om sondaars uit te roei. Die tydperk weet ons ook staan bekend as die Groot Verdrukking.
Die mense sal uit Babilon padgee, elkeen na sy eie volk toe. Hulle sal vlug na hul eie land uit Babilon uit en die vlug sal wees soos ‘n gemsbok wat gejaag word.
Die uittog uit Babilon moet spoedig geskied want as jy gevang word, is jou voorland die dood.
“Elkeen wat gevind word, word deurboor; en elkeen wat gegryp word, val deur die swaard.” JESAJA 13:15 AFR53
Die vernietiging van die mense sal nie ‘n mooi gesig wees nie.
“En hulle kinders word voor hul oë verpletter, hul huise geplunder en hul vroue onteer.” JESAJA 13:16 AFR53
Babilon se val gaan vinnig gebeur - haar plae sal op een dag kom.
“daarom sal haar plae op een dag kom: dood en droefheid en honger; en met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel.” OPENBARING 18:8 AFR53
Dood, droefheid, honger en met vuur verbrand - so sal Babilon se oordeel wees, want sterk is die Here God wat haar oordeel!
Hierdie is nie die eerste stad wat God verwoes het nie, ons lees in Genesis van Sodom en Gomorra wat ook met vuur verwoes is.
“Toe het die Here swael en vuur van Hom af, uit die hemel uit, laat reën op Sodom en Gomorra. En God het die stede en die hele vlakte verwoes en al hulle inwoners om die lewe gebring; selfs die plante in die omgewing is uitgeroei.” GENESIS 19:24-25 AFR83
1 September 2022
JESAJA 13:17 AFR53
“Kyk, Ek verwek die Meders teen hulle, wat silwer nie ag nie en in goud geen behae het nie.”
Jesaja uiter hierdie profesie toe die Assiriese Ryk die wêreldmoontheid was. Daniel leer ons dat Nebukadneser die volgende wêreldheeser sou word, en Nebukadneser was koning van Babilon.
“In die derde jaar van die regering van Jójakim, die koning van Juda, het Nebukadnésar, die koning van Babel, na Jerusalem gekom en dit beleër.” DANIËL 1:1 AFR53
“U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het, en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere van die veld en die voëls van die hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het — ú is die hoof van goud.” DANIËL 2:37-38 AFR53
Vêrder sê Daniel se uitleg van Nebukadneser se droom dat die koninkryk wat Nebukadneser sou opvolg die bors en arms van silwer sou wees, en dit is die koninkryk van die Meders en die Perse.
“Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper,” DANIËL 2:32 AFR53
Ons weet vêrder dat profesieë nie noodwendig een uitkoms het nie, maar dat die eerste uitkoms skadubeelde kan wees vir die toekomstige uitkomste.
Hierdie vers kan dus dui op die Meders wat die eerste keer Babilon ingeval het, en is ook ‘n aanduiding op die toekomstige Babilon wat weer ingeval sal word as die konteks van die vorige verse in ag geneem word.
Die Meders wat nie omgee vir silwer of goud in vers 17 nie, vertel vir ons dat die rede vir die inval nie geld en rykdom sal wees nie, maar eerder die vernietiging van die stad.
Die wreedheid van oorlog word hier uitgespel. Seuns word summier doodgemaak, daar word nie spesiale beskerming vir swanger vrouens gegee nie, en selfs kinders sal doodgemaak word.
“Maar hulle boë sal die seuns neerwerp, en hulle sal hul nie ontferm oor die vrug van die moederskoot nie; hulle oog sal die kinders nie verskoon nie.” JESAJA 13:18 AFR53
2 September 2022
JESAJA 13:19 AFR53
“So sal dan Babel, die sieraad van die koninkryke, die trotse pronkstuk van die Chaldeërs, wees soos toe God Sodom en Gomorra omgekeer het.”
Aan die einde van die Verdrukking tydperk, word Satan se hoofstad Babilon vernietig soos vele profete insluitende Jesaja deur die loop van die Bybel geprofeteer het.
Babel of Babilon, die hoofstad van Satan, het sy onstaan in Genesis 10 en 11 en die eerste heerser van die ryk was Nimrod.
“Hy was 'n geweldige jagter voor die aangesig van die Here. Daarom sê hulle: Soos Nimrod, 'n geweldige jagter voor die aangesig van die Here. En die begin van sy ryk was Babel en Ereg en Akkad en Kalne in die land Sínear.” GÉNESIS 10:9-10 AFR53
Nimrod was koning van die eerste eenwêreld koninkryk, en die hele aarde het dieselfde taal gepraat.
“En die Here sê: Daar is hulle nou een volk en het almal een taal! En dit is net die begin van hulle onderneming: nou sal niks vir hulle meer onmoontlik wees van wat hulle van plan is om te doen nie.” GÉNESIS 11:6 AFR53
Die Antichris gaan die heerser wees van die laaste eenwêreld koninkryk. Hoewel ons almal verskillende tale praat, sal ons mekaar met behulp van tegnologie kan verstaan. Dit is ‘n tegnologie wat reeds beskikbaar is.
Ons lees in Openbaring van Babilon se finale einde, net soos Sodom en Gomorra skielik tot hul einde gekom het.
“En hy het met 'n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword 'n woonplek van duiwels en 'n versamelplek van allerhande onreine geeste en 'n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls,” OPENBARING 18:2 AFR53
Die stad Babilon is tans gedeeltelik herbou, en ons weet dat die stad volledig herbou sal word as gevolg van Bybelse profesieë. Openbaring 17 en 18 sê Babilon sal weer die wêreld regeer, hierdie keer as die middelpunt van die Antichris se eenwêreld koninkryk. In die Eindtye sal dit opgebou word — en weer tot niet gemaak word.
“Mense sal daar in ewigheid nie woon nie, en dit sal van geslag tot geslag nie bewoon word nie; en die Arabier sal daar geen tent opslaan nie, en geen herders sal hulle vee daar laat lê en rus nie. Maar daar sal boskatte lê, en hulle huise sal vol uile wees; en volstruise sal daar hou, en veldduiwels daar rondspring. En wildehonde sal huil in sy kastele en jakkalse in die vreugdepaleise; en naby is sy tyd om te kom, en sy dae sal nie verskuif word nie.” JESAJA 13:20-22 AFR53
3 September 2022
JESAJA 14:1 AFR53
“Die Here sal Hom ontferm oor Jakob, Hy sal Israel weer sy volk maak en hulle weer in hulle eie land laat woon. Vreemdelinge sal by hulle aansluit en hulle vereenselwig met Jakob.”
Hier volg nou die rede hoekom Babilon oorwin moet word. Sodat God Hom oor Jakob of Israel kan ontferm. Die tyd wat volg, word beskryf as 'n tyd wanneer God in deernis weer vir Israel kies en hulle vestig in hul land.
Net soos God Sy volk gered het uit die mag van Farao en hulle verlos het van hul slawerny en hul gered het deur die See oop te maak, so word God se volk gered van die Antichris en sy mag in Babilon.
“Daarom, sê aan die kinders van Israel: Ek is die Here, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, en Ek sal julle verlos deur 'n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte; en Ek sal julle as my volk aanneem en vir julle 'n God wees. En julle sal erken dat Ek die Here julle God is wat julle uitlei onder die harde arbeid van die Egiptenaars uit.” EXODUS 6:5-6 AFR53
Vreemdelinge ( nie-Jode ) sal hulle verbind aan die huis van Jakob en die volke van die wêreld sal Israel as dienaars dien.
En die wat voorheen hulle onderdrukkers was, sal onderworpe wees aan Israel se heerskappy as die vernaamste nasie van die aarde.
Hierdie is klassieke Messiaanse Koninkryk beskrywings van Israel.
“Ander volke sal hom vat en in sy land bring. Hulle sal Israel se eiendom word, slawe en slavinne in die land van die Here. Israel sal dié gevange hou deur wie hy gevange weggevoer is, en hy sal heers oor dié wat hom onderdruk het.” JESAJA 14:2 AFR83
Die tydperk hier is net na die sewe jaar Verdrukking - ‘die dag as die Here jou rus gee van jou smart en onrus’.
“En op die dag as die Here jou rus gee van jou smart en van jou onrus en van die harde diensbaarheid waarmee hulle jou laat dien het, ” JESAJA 14:3 AFR53
Die aard van hierdie voorspelde rus word meer volledig in Esegiël beskryf.
“So sê die Here Here: As Ek die huis van Israel versamel uit die volke onder wie hulle verstrooi is, en Ek My in hulle as die Heilige laat ken voor die oë van die nasies, dan sal hulle in hul land woon wat Ek aan my kneg Jakob gegee het. En hulle sal daarin veilig woon en huise bou en wingerde plant; ja, hulle sal veilig woon as Ek strafgerigte voltrek teen almal wat hulle van alle kante verag; en hulle sal weet dat Ek die Here hulle God is.” ESÉGIËL 28:25-26 AFR53
4 September 2022
JESAJA 14:4 AFR53
“dan sal jy hierdie spotlied aanhef oor die koning van Babel en sê: Hoe het die drywer nou opgehou, opgehou die verdrukking!”
Dan kan Israel ‘n spotlied sing oor die koning van Babel omdat hy verloor het. Ek gaan die lied vanuit die Afr83 weergawe plaas, want dit lees net makliker op die oor.
Babel se verdrukking oor sy mense het nou tot ‘n einde gekom. Die mag van die goddelose se regering is verbreek. Die regering wat volke onophoudelik gestraf het, nasies vertrap het en sy mense vervolg het, is nou tot niet.
“…Die verdrukker se einde het gekom,
die lyding wat hy veroorsaak het, is op 'n end.
Die Here het die heerskappy van die goddeloses verbreek,
die mag van die oorheersers.
Die verdrukker het in sy gramskap volke getref
met straf wat nie opgehou het nie,
hy het in sy toorn nasies vertrap,
hulle sonder medelye agtervolg.”
JESAJA 14:4b-6 AFR83
Die hele aarde se inwoners het rus en vrede. Selfs die bome juig want hulle sal nie meer afgekap word nie.
“Die hele aarde het nou rus en vrede,
sy inwoners juig en sing.
Selfs die sipresse en die seders op die Libanon
is bly oor wat met jou gebeur het, Babel.
Hulle sê: “Vandat jy verslaan is,
klim niemand na ons toe op om ons af te kap nie!””
JESAJA 14:7-8 AFR83
Die verse wat nou volg is moontlik ‘n letterlike beskrywing van lewe in die hel. Dit wil voorkom asof die aankoms van ‘n nuwe siel niks noeminswaardig is nie. Dit sal die koms van iemand so ‘belangrik’ soos die Antichris verg om ‘n opgewondenheid aan te wakker in hierdie plek.
Jesaja beskryf 'n toneel van ander leiers van die aarde wat in die hel leef en wat die Antichris verwelkom. Hulle is verstom om te sien dat hy deel in hulle lot. Hy was dan so kragtig en sterk in sy dag, hulle kan nie glo dat hy ook in die hel is nie, in die doderyk saam met hulle en die maaiers en die wurms.
“Die doderyk daaronder
kom in beroering omdat jy soontoe kom.
Dié wat reeds daar is, word wakker gemaak,
almal wat leiers op aarde was;
almal wat konings van nasies was,
moet van hulle trone af opstaan.
Almal begin praat, hulle sê vir jou:
Jy is nou net so swak soos ons, jy het soos ons geword!
Jy het met jou hoogmoed,
met die klank van jou harpmusiek en al in die doderyk beland.
Jy lê tussen die maaiers, jy is oortrek van die wurms.”
JESAJA 14:9-11 AFR83
5 September 2022
JESAJA 14:12 AFR83
“Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies!”
Die eerste verwysing in die Bybel na die môrester as ‘n individu, word hier in Jesaja 14:12 weergegee.
Die engelse vertalings in die KJV en die NKJV vertaal beide die môrester as ‘Lusifer, die seun van die môre’.
“How you are fallen from heaven, O Lucifer, son of the morning! How you are cut down to the ground, You who weakened the nations!” Isaiah 14:12 NKJV
Dit is duidelik uit die res van die gedeelte dat Jesaja na Satan se val uit die hemel verwys en in hierdie gedeelte verwys die môrester ook na Satan.
Jesus bevestig in Lukas dat Hy Satan uit die hemel sien val het.
“Toe sê Hy vir hulle: Ek het die Satan soos 'n bliksem uit die hemel sien val.” LUKAS 10:18 AFR53
Interessant dat Jesus in Openbaring 22:16 Homself die blink môrester noem.
“Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.” OPENBARING 22:16 AFR53
Alhoewel beide Jesus en Satan as ‘môresterre’ beskryf word, stel dit in geen opsig Jesus en Satan gelyk nie. Satan is 'n geskape wese en sy lig bestaan net in die mate wat God dit geskep het.
Satan wat eens die nasies oorwin het, is nou in die grond verpletter.
Ons weet dat na die Millenium tydperk voltooi is, Satan vir ewig in die poel van vuur en swawel gewerp sal word waar die dier en valse profeet vir hom wag.
“En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid.” OPENBARING 20:10 AFR53
6 September 2022
JESAJA 14:13-14 AFR53
“En jý het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste!”
Die rede vir Satan se val word hier gegee in die vyf ‘ek wil’ stellings wat sy hoogmoed en trots uitbeeld.
1. Ek wil opklim in die hemel - Dit was asof Satan gesê het: die hemel sal my tuiste en my ereplek wees.
2. Ek wil my troon verhef bo die sterre van God - Ek sal op die troon sit en verhewe wees bo alle ander engele wesens.
3. Ek wil sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde - Ek sal sit in die plek van heerlikheid en eer en aandag.
4. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke - Ek sal aanhou opstaan, selfs in die hemel, totdat almal my sien in my helder glansende heerlikheid.
5. Ek wil my gelykstel met die Allerhoogste - Ek sal verheerlik wees en aan God gelyk gestel word, ver bo alle ander geskape wesens.
En jy het in jou hart gesê - hierdie woorde wys die trots en hoogmoed wat in Satan se hart was en is. Dit was die oorsaak en rede vir sy val, want trots gaan voor 'n val.
“Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val.” SPREUKE 16:18 AFR53
Daar is 'n verskil tussen die soort trots wat God haat,
“Die vrees van die Here is om te haat wat sleg is; hoogmoed en trotsheid en 'n slegte wandel en 'n huigelagtige mond haat ek.” SPREUKE 8:13 AFR53
en die soort trots wat ons kan voel oor 'n werk wat goed gedoen is,
“Maar laat elkeen sy eie werk op die proef stel; en dan sal hy grond vir roem hê alleen wat homself betref en nie wat die ander betref nie.” GALÁSIËRS 6:4 AFR53
of die soort trots wat ons uitspreek oor die prestasie van geliefdes.
“Ek het groot vrymoedigheid teenoor julle; my roem oor julle is groot; ek is vervul met troos; ek loop oor van blydskap in al ons verdrukking.” II KORINTHIËRS 7:4 AFR53
Die soort trots wat uit eiegeregtigheid of verwaandheid voortspruit, is egter sonde, en God haat dit omdat dit 'n hindernis is om Hom te soek.
7 September 2022
JESAJA 14:15 AFR53
“Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil!”
Satan wou opklim na die hemel, maar hy gaan neergewerp word in die doderyk. Hy wou sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde, maar hy sal eerder gaan na die diepste plekke van die kuil.
Diegene wat Satan na sy dood sal sien sal wonder: Is dit die een wat my so 'n slegte tyd gegee het? Die een wat al die probleme vir die heelal geskep het? Die een wat die hele rebellie teen God begin het? Is dit? Sjoe, kyk na hom. Wat 'n gesig gaan dit wees.
“Die wat jou sien, beskou jou, hulle let op jou en sê: Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het? Die wêreld soos 'n woestyn gemaak en sy stede verwoes het, wat sy gevangenes nie losgelaat het huis toe nie?” JESAJA 14:16-17 AFR53
Die konings van die aarde word in grafte begrawe en rus met eer. Maar, jy Satan kry nie ‘n graf nie, jy word summier weggegooi soos ‘n boomtak wat klaar vrot is.
“Al die konings van die nasies, hulle almal rus met eer, elkeen in sy huis; maar jý is gewerp, ver van jou graf, soos 'n afskuwelike uitspruitsel, oordek met die wat verslaan is, wat deurboor is met die swaard, wat neerdaal na die klippe van die grafkuil soos vertrapte aas. Jy word nie met hulle in die graf verenig nie, want jy het jou land verwoes, jou volk gedood; die nageslag van die kwaaddoeners word vir ewig nie genoem nie.” JESAJA 14:18-20 AFR53
Tydens die finale oordeel sal die dode, klein en groot, voor God staan. Alle ongelowiges, klein en groot, van die begin tot die einde van tyd, sal voor God staan.
Ongelowiges kry nie Jesus se genade nie, maar hulle word geoordeel volgens hul werke wat in die boeke opgeskryf is.
“Maak 'n slagbank gereed vir sy seuns, om die ongeregtigheid van hulle vaders ontwil, dat hulle nie opstaan en die aarde in besit neem en die bodem van die wêreld vol stede maak nie.” JESAJA 14:21 AFR53
Alles wat met Babel verband hou, verlede en nog toekoms sal uitgeroei word.
“So sal Ek dan teen hulle opstaan, spreek die Here van die leërskare, en van Babel uitroei die naam en die oorblyfsel, kroos en nageslag, spreek die Here.” JESAJA 14:22 AFR53
God sal Babel wegvee en dit sal slegs ‘n plek van verwoesting wees.
“En Ek sal dit 'n besitting maak van krimpvarkies en tot waterplasse; en Ek sal dit wegvee met die besem van verdelging, spreek die Here van die leërskare.” JESAJA 14:23 AFR53
8 September 2022
JESAJA 14:24 AFR53
“Die Here van die leërskare het gesweer en gesê: Waarlik, soos Ek gedink het, so gebeur dit; en soos Ek besluit het, kom dit tot stand:”
God se gedagtes is so goed soos dade. Al wat God hoef te doen is om 'n gedagte te dink, en wêrelde word geskep. Wat 'n troos om te weet dat God goeie gedagtes oor sy volk dink.
“Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle 'n hoopvolle toekoms te gee.” JEREMIA 29:11 AFR53
God het besluit om die Assiriërs wat in Sy land en op Sy berge was te vertrap, sodat hulle juk oor Sy volk sal wyk. God het dit kragtig gedoen toe die Assiriërs Juda binnegeval het. 2 Konings 19:35 beskryf hoe God eenvoudig die engel van die Here gestuur het en oornag 185 000 Assiriërs doodgemaak het.
“om Assur te verbreek in my land, en op my berge sal Ek hom vertrap, sodat sy juk van hulle kan afgly en sy las van hulle skouer kan wyk.” JESAJA 14:25 AFR53
“En in dieselfde nag het die engel van die Here uitgetrek en in die laer van die Assiriërs honderd-vyf-en-tagtigduisend verslaan; en toe hulle die môre vroeg hul klaarmaak — was dit almal dooie liggame!” II KONINGS 19:35 AFR53
God se besluit oor die hele aarde op die stadium was die opeenvolgende koninkryke van Assirië en Babilonië. Beide sou vernietig word.
“Dit is die besluit wat geneem is oor die hele aarde, en dit is die hand wat uitgestrek is oor al die nasies;” JESAJA 14:26 AFR53
God bereik altyd Sy doel! Sy plan word nooit gefnuik nie! Selfs wanneer ons glad nie vertroue in ons eie plan het nie, kan ons God se doel ten volle vertrou.
“want die Here van die leërskare het dit besluit — wie sal dit kan verydel? En sy hand is uitgestrek — wie sal dit kan afkeer?” JESAJA 14:27 AFR53
9 September 2022
JESAJA 14:28-29 AFR53
“In die sterfjaar van koning Agas het hierdie Godspraak uitgegaan. Wees nie bly, o ganse land van die Filistyne, dat die roede verbreek is wat jou geslaan het nie; want uit die wortel van die slang sal 'n basilisk voortkom, en sy vrug sal 'n vlieënde draak wees.”
Jesaja dateer hierdie profesie as in die sterfjaar van koning Agas. Hierdie is dan ook die titel van die volgende profesie, en het geen verband met die voorafgaande profesie oor Babilon nie. Hierdie gedeelte het slegs betrekking op die Filistyne.
Agas se dood was ’n keerpunt vir die Filistyne. Hulle het baat gevind onder Agas se heerskappy omdat hy ‘n swak en ondoeltreffende koning was. Die Filistyne se gebied het gedurende hierdie tyd na Israel uitgebrei en hulle was verheug oor Assirië se verowering van Israel en dele van Juda.
“Ook die Filistyne het plundertogte onderneem teen die stede van die Laeveld en die Suidland van Juda; en hulle het ingeneem: Bet-Semes en Ájalon en Géderot en Sogo met sy onderhorige plekke en Timna met sy onderhorige plekke en Gimso met sy onderhorige plekke, en daarin gaan woon; want die Here het Juda verneder ter wille van Agas, die koning van Israel, omdat hy losbandigheid in Juda bevorder en gedurig ontrou teen die Here gehandel het.” II KRONIEKE 28:18-19 AFR53
Die roede wat hulle geslaan het en hulle nou bly is om te sien dat dit verbreek is, is die Huis van Dawid. Maar uit hierdie gebeurtenis sal hul eie vernietiging kom. Die slang wat verander in ‘n basilik en dan ‘n vlieënde draak is 'n beskrywing van hoe dinge vir die Filistyne van sleg tot slegter sal gaan.
Koning Hiskia het Agas opgevolg en teruggeveg teen die Filistyne, hulle verslaan, en grond teruggewen vir Juda.
“Ja, hy het die Here aangehang sonder om van Hom af te wyk en sy gebooie onderhou wat die Here Moses beveel het. En die Here was met hom; waar hy ook heen uittrek, was hy voorspoedig; en hy het in opstand gekom teen die koning van Assirië en hom nie gedien nie. Hy het die Filistyne verslaan tot by Gasa en sy grondgebied, van wagtoring af tot versterkte stad.” II KONINGS 18:6-8 AFR53
Jesaja kontrasteer die mense van Israel, met die Filistyne self. Die Jode is hulpeloos en behoeftig, maar hulle is veilig terwyl die Filistyne sal sterf van hongersnood en oorlog.
“En die eersgeborenes van die armes sal wei, en die behoeftiges sal veilig lê en rus; maar jou wortel sal Ek deur honger laat sterwe, en jou oorblyfsel sal hy doodmaak.” JESAJA 14:30 AFR53
God se oordeel sou ook teen die Filistyne kom. Hulle moet nie dink dat net omdat God die Israeliete geoordeel het, dat hulle op een of ander manier sou ontsnap nie.
“Huil, o poort! Skreeu, o stad! Bewe, o ganse land van die Filistyne! Want uit die noorde kom rook, en daar is geen afswerwer onder sy skare nie. Wat sal hulle dan die boodskappers van die nasie antwoord? Dat die Here Sion gegrondves het, en dat die ellendiges van sy volk daarin sal skuil.” JESAJA 14:31-32 AFR53
10 September 2022
JESAJA 15:1 AFR53
“Godspraak oor Moab. Waarlik, in die nag is Ar-Moab verwoes, vernietig! Waarlik, in die nag is Kir-Moab verwoes, vernietig!”
Moab het onstaan uit die bloedskande verhouding tussen Lot en een van sy dogters, toe sy dogters Lot dronk gemaak het, na die vernietiging van Sodom en Gomorra. Die Moabiete het hulle in die vlaktes suidoos van Israel gevestig, in wat die hedendaagse Jordanië is.
Die Moabiete was soms groot vyande van Israel.
Balak, koning van Moab, het die profeet Bileam gehuur in die hoop dat hy Israel kon vervloek.
“Toe Balak, die seun van Sippor, sien alles wat Israel die Amoriete aangedoen het, het Moab baie bang geword vir die volk, want hulle was talryk; en Moab het beangs geword vanweë die kinders van Israel.
Kom dan tog nou, vervloek hierdie volk vir my, want hulle is magtiger as ek. Miskien sal ek onder hulle 'n slag kan slaan en hulle uit die land verdrywe. Want ek weet, die een wat jy seën, is geseënd; en die een wat jy vervloek, is vervloek.” NÚMERI 22:2-3, 6 AFR53
Eglon, koning van Moab, het Israel in die dae van die Rigters onderdruk.
“En die kinders van Israel het weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here. Toe maak die Here Eglon, die koning van Moab, sterk teen Israel, omdat hulle gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here;” RIGTERS 3:12 AFR53
Moab was verwant aan Israel omdat Lot, Abraham se broerskind was. As gevolg hiervan het God vir Israel gesê dat hulle nie Moab moes vernietig en hulle land inneem nie.
“Toe het die Here vir my gesê: Behandel Moab nie as vyand en begeef jou nie in die oorlog teen hulle nie; want Ek sal jou niks van sy land as besitting gee nie, omdat Ek Ar aan die kinders van Lot as 'n besitting gegee het.” DEUTERONÓMIUM 2:9 AFR53
Dawid, Israel se grootste koning, was ook 'n kwart Moabiet. Sy ouma Rut aan vaderskant was van Moab, en Dawid het sy vader en moeder aan die beskerming van die koning van Moab toevertrou toe hy 'n vlugteling van Saul was.
“Vandaar gaan Dawid toe na Mispe in Moab en sê aan die koning van Moab: Laat my vader en my moeder tog uitkom by julle totdat ek weet wat God met my wil doen. En hy het hulle voor die koning van Moab gebring, en hulle het by hom gebly al die dae wat Dawid in die bergvesting was.” I SAMUEL 22:3-4 AFR53
Om hierdie redes is daar 'n groot mate van hartseer en empatie aan Jesaja se kant terwyl hy die komende oordeel oor Moab beskryf.
Die stede en soldate van Moab sou skielik en onverwags in een nag verwoes en vernietig word.
11 September 2022
JESAJA 15:2 AFR53
“Hulle gaan op na die tempel, en Dibon na die hoogtes om te ween; Moab huil op Nebo en in Medéba; op al hulle hoofde is 'n kaalte, elke baard is afgeskeer.”
In vers 1 was Ar die hoofstad en Kir die Moabiete se mees versterkte stad. Die twee stede het ons gesien is oornag vernietig.
Die inwoners van Moab vlug in onsteltenis uit hul verwoeste stede na hul tempel en hul hoogtes waar hul afgode is, om te ween.
Nebo, waar die mense van Moab gehuil het, was een van die berge oos van die Jordaan. As 'n mens bo-op die berg staan, het jy ‘n goeie uitsig oor die land Kanaän, wat God aan die kinders van Israel beloof het. Nebo is ook die plek waar Moses gesterf het.
“Klim op hierdie gebergte Abárim, die berg Nebo, wat in die land Moab is, wat teenoor Jérigo lê, en aanskou die land Kanaän wat Ek aan die kinders van Israel as besitting sal gee;” DEUTERONÓMIUM 32:49 AFR53
“Toe het Moses opgeklim uit die vlaktes van Moab na die berg Nebo, die top van Pisga wat teenoor Jérigo lê; en die Here het hom die hele land, Gílead tot Dan toe, laat sien; Toe het Moses, die kneg van die Here, daar gesterwe in die land Moab, volgens die bevel van die Here.” DEUTERONÓMIUM 34:1, 5 AFR53
Vir die Moabiete om die hare van hul kop af te skeer en hul baard af te sny was ‘n uitdrukking van groot hartseer. Die mense het orals, op hul dakke en op hul pleine, gehuil en rouklere aangetrek.
“Op hul strate het hulle rouklere aangegord; op hulle dakke en op hulle pleine huil alles en smelt weg in geween.” JESAJA 15:3 AFR53
Hesbon was 'n gevierde stad van die Amoriete, twintig myl oos van die Jordaan en is deur die Israeliete ingeneem 'n rukkie voor die dood van Moses.
Daar was ‘n geween en ‘n gekners van tande van die een stad na die ander.
“Hesbon en Eleále skreeu, hulle stem word gehoor tot Jahas toe; daarom hef die gewapende manne van Moab 'n angsgeskreeu aan, sy siel sidder.” JESAJA 15:4 AFR53
“So het Israel dan al hierdie stede ingeneem, en Israel het gewoon in al die stede van die Amoriete, in Hesbon en in al sy onderhorige plekke. Want Hesbon was die stad van Sihon, die koning van die Amoriete; hy het naamlik oorlog gevoer teen die vorige koning van die Moabiete en het dié se hele land tot by die Arnon uit sy hand geruk.” NÚMERI 21:25-26 AFR53
12 September 2022
JESAJA 15:5 AFR53
“My hart skreeu oor Moab, sy vlugtelinge kom tot by Soar, Eglat-Selísia. Want die hoogte van Luhit beklim hulle met geween; ja, op pad na Horonáim laat hulle 'n geskreeu van verwoesting weerklink;”
Jesaja uiter 'n uitdrukking van diep medelye vir die mense van Moab want die rampe wat hy oor Moab profeteer is vir hom vreeslik.
Soar was 'n klein dorpie in die suidelike punt van die Dooie See, waarheen Lot gevlug het toe Sodom vernietig is.
“Vlug gou daarheen, want Ek kan niks doen voordat jy daar aankom nie. Daarom noem hulle die stad Soar. Die son het oor die aarde opgegaan toe Lot in Soar aankom. En die Here het swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën van die Here uit die hemel,” GÉNESIS 19:22-24 AFR53
Dit is duidelik uit Jeremia 48 dat Luhit 'n berg was, maar waar, word nie duidelik vasgestel nie. Jeremia het ook teen Moab geprofeteer.
“Hoor! Geskreeu uit Horonáim: verwoesting en 'n groot vernieling. Moab is verbreek; sy kleintjies laat 'n geskreeu hoor. Want die hoogte van Luhit gaan hulle op met geween by geween; want aan die hange van Horonáim het hulle angsgeskreeu van verbreking gehoor.” JEREMIA 48:3-5 AFR53
Die vernietiging word mooi uitgespel:
- Riviere wat opdroog en gras wat verdor,
- Grond wat woes gemaak is, en
- Die rykdom van die nasie word weggedra.
“want die waters van Nimrim word 'n woesteny, ja, die gras is verdor, die grasspruitjies het vergaan, daar is geen groenigheid nie. Daarom gaan hulle die oorwins wat hulle gemaak het, en hulle voorraad, oor die Wilgerspruit dra. Want die geskreeu gaan rond in die grondgebied van Moab, sy gehuil tot by Eglaim en sy gehuil tot by Beër-Elim.” JESAJA 15:6-8 AFR53
Die waters van die Dimon rivier sal vol bloed wees. Dimon in Hebreeus klink soos die woord bloed, en hier is dus woordspeling. Die bloed laat mens dink aan die plaag wat die Egiptenare getref het toe die Nyl bloed geword het.
“Want die waters van Dimon is vol bloed; want Ek sal oor Dimon nog meer bring, 'n leeu oor dié van Moab wat ontvlug het, en oor die oorblyfsel van die land.” JESAJA 15:9 AFR53
“So spreek die Here: Hieraan sal jy weet dat Ek die Here is. Kyk, ek sal met die staf wat in my hand is, op die water slaan wat in die Nyl is, en dit sal in bloed verander word. EXODUS 7:17 AFR53
13 September 2022
JESAJA 16:1 AFR53
“Stuur die lammers van die regeerder van die land uit die rotsstreek weg na die woestyn, na die berg van die dogter van Sion.”
Jesaja profeteer dat Moab weer hul hulde aan Israel moet bring soos hulle gedoen het in Agab se tyd en sodoende hulle weer aan God onderwerp. Die huldeblyk is soos ‘n belastingbetaling.
“En Mesa, die koning van Moab, was 'n skaapboer, en hy het aan die koning van Israel gelewer honderdduisend lammers en honderdduisend ramme se wol. Maar ná die dood van Agab het die koning van Moab van die koning van Israel afvallig geword.” II KONINGS 3:4-5 AFR53
Jesaja skets 'n kragtige prentjie van die hulpelose, verwarde toestand van Moab onder die hand van God se oordeel. Hulle is soos 'n voël wat uit die nes geskop word, verward, swak en kwesbaar. Hulle enigste uitweg is om hulle weer aan Jerusalem en sy Koning te onderwerp.
“En soos voëls wat vlug, 'n nes wat verjaag is, sal die dogters van Moab wees by die driwwe van die Arnon.” JESAJA 16:2 AFR53
Jesaja pleit by die owerstes van Juda (die suidelike koninkryk) om die uitgeworpenes van Moab weg te steek. Juda moes 'n toevlugsoord en beskerming wees vir Moab.
“Gee raad, gee beslissing, maak jou skaduwee soos die nag op die volle middag, verberg die wat verdryf is, verraai die vlugteling nie!” JESAJA 16:3 AFR53
Hier is nou 'n skielike en eienaardige verandering van fokus. In Jesaja 16:3 is JUDA aangeraai om die uitgeworpenes van Moab te ontvang. Nou word MOAB gevra om die uitgeworpenes van Juda te ontvang.
“Laat my mense wat verdryf is, by jou vertoef! Aangaande Moab, wees vir hulle 'n skuilplek vanweë die verwoester. Want gedaan is die verdrukker, klaar is dit met die verwoesting, weg is die vertrappers uit die land!” JESAJA 16:4 AFR53
Jesaja 16:4-5 moet 'n eindtydse profesie wees van hoe Moab 'n toevlugsoord sal wees vir Jode wat die woede van die Antichris ontsnap ná die gruwel van verwoesting, en wel in Petra sal skuil wat in Jordanië is.
“En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy 'n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank.” OPENBARING 12:6 AFR53
“En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het; maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, 'n tyd en tye en 'n halwe tyd.” OPENBARING 12:13-14 AFR53
In die eindtyd sal die troon van die Messias gevestig word, en die Messias self sal op die troon sit, in die tabernakel van Dawid en met geregtigheid oordeel.
“En opgerig is deur goedgunstigheid 'n troon, en daarop sit een in getrouheid in Dawid se tent, 'n regter wat die reg soek en gou is in geregtigheid.” JESAJA 16:5 AFR53
14 September 2022
JESAJA 16:6 AFR53
“Ons het gehoor van die trotsheid van Moab — hy is baie trots! — van sy hoogmoed en sy trotsheid en sy grimmigheid, sy onbehoorlike grootpratery.”
Jesaja keer nou terug na sy hede en vertel van Moab se vernietiging.
Hier is die enigste plek waar die sonde van Moab in besonderhede beskryf word. Dit is betekenisvol dat ‘n land soos Moab se sonde hul trots was, omdat hulle 'n redelik klein en onbeduidende nasie was. Ons kan maklik verstaan hoe die groot ryke van Babilon of Assirië deur trots kon val, maar oënskynlik kan klein nasies net so maklik met trots verteer word as die groot koninkryke.
Moab se trots het hul val veroorsaak en die Moabiete huil saam oor dit wat hulle verloor het. Selfs hul gewaardeerde en beroemde wingerde gaan verdor en verwelk.
“Daarom sal Moab oor Moab huil, almal saam huil; oor die druiwekoeke van Kir-Haréset sal julle sug, heeltemal verslae. Want die wingerde van Hesbon het verwelk; die wingerdstok van Sibma — sy edele druiwe het die beheersers van die nasies neergewerp; dit het gekom tot by Jaéser, dit het in die woestyn ingedwaal; sy ranke het uitgesprei, het oor die see gegaan.” JESAJA 16:7-8 AFR53
Daar is 'n mate van humor hier in verse 9-10 want Jesaja self huil oor die wingerde wat vernietig word, omdat hy sê hy mis die vrug van die wingerdstok, hy is hartseer oor die verlies van die wyn.
“Daarom beween ek die wingerdstok van Sibma met die geween van Jaéser; ek maak jou nat met my trane, Hesbon en Eleále, omdat die vreugdegeroep jou somervrugte en jou oes oorval het, en vreugde en gejuig weggeneem is uit die vrugteboord, en in die wingerde nie gejubel of gejuig word nie; die druiwetrapper trap geen wyn in die parskuipe nie; Ek het die vreugdegeroep laat ophou.” JESAJA 16:9-10 AFR53
Moab gaan na hul hoogtes en tempel om te aanbid, maar hul gode kan nie help om hul vernietiging te keer nie.
“Daarom klaag my ingewande oor Moab soos 'n siter, en my binneste oor Kir-Heres. En as Moab verskyn, as hy hom vermoei op die hoogte en in sy heiligdom ingaan om te aanbid, dan sal hy niks uitrig nie.” JESAJA 16:11-12 AFR53
Jesaja het vir ons vertel wat hy vroeër van God gehoor het. Nou het hy ‘n nuwe woord ontvang om die tydlyn met ons te deel. Binne drie jaar van die woord wat hy ontvang het sal Moab vernietig word, maar ‘n klein oorblyfsel sal oorbly.
Hierdie oorblyfsel sal uiteindelik in die Messiaanse Koninkryk ingaan.
“Dit is die woord wat die Here tevore teen Moab gespreek het. En nou spreek die Here en sê: Binne drie jaar — soos die jare van 'n dagloner — sal die heerlikheid van Moab veragtelik gemaak word saam met die hele groot menigte; en die oorblyfsel sal min, gering, onmagtig wees.” JESAJA 16:13-14 AFR53
15 September 2022
JESAJA 17:1 AFR53
“Godspraak oor Damaskus. Kyk, Damaskus word weggeneem, sodat dit geen stad meer is nie, maar dit sal 'n vervalle puinhoop word.”
Jesaja is besig om uitsprake te lewer oor Israel en Juda se vyande. Ons het tot dusver die uitsprake oor Babel, Assirië, die Filistyne en Moab bestudeer, en nou volg Damaskus.
Damaskus was een van die groot stede van die antieke wêreld en die hoofstad van Sirië. Sirië se ligging is noordoos van Israel, en die noordelike stamme rondom die See van Galilea het voortdurend kontak en interaksie met Sirië gehad.
Damaskus was een van die mooiste stede van die antieke wêreld, maar die komende Assiriese oordeel sou dit tot 'n vervalle puinhoop verminder. Net weivelde vir die diere sou oorbly, maar geen mens sou meer daar woon nie.
“Die stede Ároër sal verlate wees; vir die troppe vee sal hulle wees wat daar sal lê sonder dat iemand hulle skrikmaak.” JESAJA 17:2 AFR53
Die noordelike koninkryk Israel, was dikwels Efraim genoem omdat dit die grootste stam was. Op hierdie stadium was Israel en Sirië bondgenote teen Juda, die suidelike koninkryk. Daarom het God Sy oordeel teen Efraim ook aangekondig.
“En die vesting sal verdwyn uit Efraim, en die koningskap uit Damaskus; en met die oorblyfsel van Aram sal dit gaan soos met die heerlikheid van die kinders van Israel, spreek die Here van die leërskare.” JESAJA 17:3 AFR53
Die vervulling van die val van Israel (Efraim) en Damaskus word in die volgende twee verse beskryf.
“In die dae van Peka, die koning van Israel, het Tiglat-Piléser, die koning van Assirië, gekom en Ijon ingeneem en Abel-Bet-Máäga en Janóag en Kedes en Hasor en Gílead en Galiléa, die hele land Náftali; en hy het hulle in ballingskap weggevoer na Assirië toe.” II KONINGS 15:29 AFR53
“En die koning van Assirië het na hom geluister, en die koning van Assirië het teen Damaskus opgetrek en dit verower en hulle in ballingskap weggevoer na Kir en Resin gedood.” II KONINGS 16:9 AFR53
In die dag - die dag van die vernietiging van Israel - sal Jakob gering word. Jakob stel die twaalf stamme voor, en nou gaan net die suidelike koninkryk van Juda, wat twee stamme is, oorbly.
Jesaja vergelyk die vernietiging met ‘n graanoes. Selfs as al die graan geoes is, bly daar nog steeds ‘n paar are in die veld oor om opgetel te word. Israel sal nooit in geheel vernietig word nie, daar sal altyd ‘n oorblyfsel wees. Net soos daar ‘n paar olywe oorbly op die boom na die oes.
“En in dié dag sal die heerlikheid van Jakob gering word, en die vet van sy vlees sal wegteer. En dit sal wees soos wanneer die maaier die ongesnyde graan bymekaarvat en sy arm die are afmaai; ja, dit sal wees soos wanneer iemand are optel in die dal Refáim. Maar 'n na-oes sal daarin oorbly soos by die afslaan van die olywe: twee, drie vruggies bo in die top; vier, vyf in die takke van die vrugteboom, spreek die Here, die God van Israel.”
JESAJA 17:4-6 AFR53
16 September 2022
JESAJA 17:7 AFR53
“In dié dag sal die mens kyk na sy Maker, en sy oë sal sien op die Heilige van Israel;”
Op die dag, die dag van oordeel, sal die mense weer aan hul Skepper dink en respek kry vir die Heilige Een van Israel
Dit klink dalk hoopvol, maar dit is meer sarkasties gesê. Omdat al hulle altare en vals gode vernietig is, word hulle met niks anders gelaat as om hul Maker te aanbid nie. Hulle het nie meer die werke van hul hande om na te kyk en dit te aanbid nie, want dit (die heilige boomstamme en die sonpilare) is weg. Die punt is 'n verlies aan geleentheid eerder as 'n hartsverandering.
“en hy sal nie kyk na die altare nie, die werk van sy hande; en wat sy vingers gemaak het, sal hy nie aansien nie: die heilige boomstamme en die sonpilare.” JESAJA 17:8 AFR53
Hulle “sterk” stede sal wildernis wees.
“In dié dag sal die stede wat sy toevlug was, wees soos die bouvalle van die bos en van die bergtop wat verlaat is vanweë die kinders van Israel, en dit sal 'n wildernis wees.” JESAJA 17:9 AFR53
Hulle het die God van hulle verlossing vergeet.
“Want jy het vergeet die God van jou heil en nie gedink aan die rots wat jou toevlug was nie. Daarom lê jy lieflike tuine aan en beplant dit met uitlandse wingerdstokke;” JESAJA 17:10 AFR53
Een aspek van God se oordeel oor Israel sal wees om hulle werk tot niet te maak. Hulle sal hard werk om plante te plant en te verbou (beide letterlik en figuurlik), maar die oes sal 'n hoop smart wees.
“die dag as jy plant, laat jy dit groei, en in die môre laat jy jou saad uitspruit; maar dit sal wees 'n hoop geoeste graan op die dag van krankheid en ongeneeslike smart.” JESAJA 17:11 AFR53
17 September 2022
JESAJA 17:12 AFR53
“Wee die gebruis van baie volke — soos die gebruis van die see, so bruis hulle! En die gedruis van nasies — soos die gedruis van geweldige waters, so maak hulle gedruis!”
Hierdie is 'n nuwe profesie, bygevoeg vir die ondersteuning en vertroosting van God se volk.
Die NLV vertaal die gedeelte as die soldate van baie nasies wat nader storm soos golwe wat teen die kus breek. Die vraag is - wie is al hierdie nasies wat hul soldate stuur. Is hierdie ‘n profesie van Jesaja se tydperk of een van die toekoms. Dit is ongelukkig onduidelik.
Hier is wel ‘n vertroostende woord wat vir God se volk gegee word.
Die nasies se gedruis word gehoor, maar God dreig die komende magte en hulle skrik en vlug weg soos kaf in die wind of strooi voor ‘n stormwind.
“Nasies maak gedruis soos die gedruis van baie waters; maar Hy dreig hulle, en hulle vlug ver weg en word gejaag soos kaf van die berge voor die wind en soos strooi voor die stormwind.” JESAJA 17:13 AFR53
Hierdie klink soos God wat weereens na Sy mense kyk soos in Moses se tyd toe God die volk deur die see gehelp het.
“Maar Moses het aan die volk gesê: Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die Here wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie. Die Here sal vir julle stry, en julle moet stil wees.” EXODUS 14:13-14 AFR53
Vers 14 vertel dat in die aand daar verskrikking is, en voor dit môre word is almal vernietig. Hierdie klink baie soos die vernietiging van die leër van Sanherib van Assirië se leër op daardie noodlottige nag toe die engel van die Here 185 000 man doodgemaak het.
“In die aand — daar is verskrikking! Voordat dit môre word, is hulle nie meer nie. Dit is die deel van hulle wat ons plunder, en die lot van hulle wat ons beroof.” JESAJA 17:14 AFR53
“En in dieselfde nag het die engel van die Here uitgetrek en in die laer van die Assiriërs honderd-vyf-en-tagtigduisend verslaan; en toe hulle die môre vroeg hul klaarmaak — was dit almal dooie liggame!” II KONINGS 19:35 AFR53
18 September 2022
JESAJA 18:1 AFR53
“Wee die land van vlerkgegons wat anderkant die riviere van Kus lê;”
Hoofstuk 18 is weer 'n kruisstelling (ook 'n giasma of in Engels ‘n chiasm genoem). 'n Stylfiguur waar 'n reeks idees aangebied word en dan in omgekeerde volgorde herhaal word. Die resultaat het 'n spieëlbeeld effek en elke idee word deur 'n herhaalde woord met sy "weerkaatsing" verbind. Die alfabet letters moet saam gelees word om die groot prentjie te sien. Hierdie giasma is: ABC CBA.
Die land is Etihopië met hul skepe waarvan die seile soos vlerke lyk en klink. Die Etihopiërs is buitengewoon lang mense (hoog uitgegroeide nasie) met min hare (blink vel) wat Jerusalem wil aanval.
A - Wee die land van vlerkgegons wat anderkant die riviere van Kus lê; 2 wat boodskappers stuur oor die groot water en in skuite van biesies oor die waters! Gaan weg, vinnige boodskappers, na die hoog uitgegroeide nasie met die blink vel, na die wyd en syd gevreesde volk, die nasie gewoond om te gebied en te vertrap, wie se land deur riviere deursny word. JESAJA 18:1-2 AFR53
Tekens aan die nasies van Christus se koms. Almal op aarde moet ag slaan wanneer die finale oorlogsvlag op die berge opgehef sal word saam met trompet geblaas.
B - Al julle bewoners van die wêreld en bewoners van die aarde, as 'n banier opgehef word op die berge, kyk! En as die basuin geblaas word, luister! JESAJA 18:3 AFR53
God aanskou rustig uit Sy woonplek hoe almal hul lewens lei.
C - Want so het die Here vir my gesê: Ek wag rustig en aanskou uit my woonplek, soos glinsterende hitte bo die sonlig, soos 'n douwolk in die hitte van die oestyd. JESAJA 18:4 AFR53
Wanneer die tyd reg is om die oes in te bring, of die wingerd gereed is om gesnoei te word - met ander woorde, wanneer die tyd reg is om die finale oordeel te vel, dan sal God se oordeel kom.
C - Want voor die oes, as die bloeisel volgroeid is en die blom 'n ryp druiwekorrel word, sal Hy die ranke afsny met snoeimesse en die lote wegkap; JESAJA 18:5 AFR53
Na die finale oorlog van Armaggedon word hulle oorgegee aan die roofvoëls van die berge en die wilde diere van die aarde. Die feesmaal wat in Openbaring 19 beskryf word.
B - hulle word almal saam oorgegee aan die roofvoëls van die berge en aan die wilde diere van die aarde; en die roofvoëls sal daarop die somer deurbring, en al die wilde diere van die aarde sal daarop oorwinter. JESAJA 18:6 AFR53
In die tyd (die Millenium) sal ook hierdie volk met die blink vel aan die Here van die leërskare geskenke bring.
A - In dié tyd sal aan die Here van die leërskare geskenke gebring word van die hoog uitgegroeide volk met die blink vel en van die wyd en syd gevreesde volk, die nasie gewoond om te gebied en te vertrap, wie se land deur riviere deursny word, na die plek van die Naam van die Here van die leërskare, na die berg Sion.” JESAJA 18:7 AFR53
19 September 2022
JESAJA 19:1 AFR53
“Godspraak oor Egipte. Kyk, die Here ry op 'n vinnige wolk en kom na Egipte toe; en die afgode van Egipte wankel voor sy aangesig, en die hart van Egipte smelt in sy binneste.”
Jesaja se volgende profesie is teenoor Egipte en die duiwelse gode wat hulle gedien het. Selfs in Moses se tyd was die Egiptenare onderworpe aan sataniese magte.
“Daarop laat Farao óók die wyse manne en die towenaars roep; en hulle, die Egiptiese towenaars, het ook dieselfde gedoen met hulle towerkunste:” EXODUS 7:11 AFR53
In die tyd van die uittog, toe die Farao van Egipte nie die kinders van Israel uit hulle gevangenskap wou vrylaat nie, het die Here ook die afgode van Egipte voor Sy teenwoordigheid laat wankel. Hy het elkeen van die plae teen 'n spesifieke afgod van Egipte gerig.
- Die Here het die god Khnum, die bewaker van die Nyl, die god Hapi, die gees van die Nyl, en die god Osiris (wat die Nyl as sy bloedstroom gehad het) platgeslaan toe die water in bloed verander is.
- Die Here het die godin Heqt, die padda-godin van vrugbaarheid, met die plaag van paddas platgeslaan.
- Die Here het die godin Hathor, 'n koeiagtige moedergodin, met die plaag op vee platgeslaan.
- Die Here het die god Imhotep, die god van medisyne, met die plaag van swere platgeslaan.
- Die Here het die god Nut, die hemelgodin, met die plaag van hael platgeslaan.
- Die Here het die hele stelsel van Egiptiese aanbidding van hulle gode platgeslaan met afskuwelike luise en swerms insekte.
- Die Here het die god Set, die beskermer van oeste, met die plaag van sprinkane platgeslaan.
- Die Here het die god Ra, die songod, met die plaag van die duisternis platgeslaan.
- Die Here het Osiris, die Egiptiese god wat aanbid word as die gewer van lewe, en die vermeende godheid van Farao self, platgeslaan met die plaag teen die eersgeborenes.
Jesaja profeteer 'n komende burgeroorlog in Egipte, en dit is indirek God se oordeel oor Egipte.
“En Ek sal Egipte teen Egipte ophits, sodat hulle sal veg, elkeen teen sy broer en elkeen teen sy naaste, stad teen stad, koninkryk teen koninkryk.” JESAJA 19:2 AFR53
Wanneer 'n nasie onder die oordeel van God is, lyk dit dikwels of gesonde raad en wysheid van hulle leiers ‘verwyder’ word, en hulle wend hulle eerder tot ydele, heidense dinge vir wysheid.
“En die gees van Egipte sal radeloos word in sy binneste, en sy planne sal Ek verwar; dan raadpleeg hulle die afgode en die besweerders en die geeste van afgestorwenes en die geeste wat waarsê.” JESAJA 19:3 AFR53
God oordeel 'n nasie deur hul leierskap op twee maniere. Eerstens, deur bevoegde leierskap te verwyder en tweedens, deur hul wrede en onderdrukkende leiers te gee. Dit is 'n vloek en 'n oordeel vir enige volk.
“En Ek sal Egipte oorgee in die hand van 'n harde meester, en 'n strenge koning sal oor hulle heers, spreek die Here Here van die leërskare.” JESAJA 19:4 AFR53
20 September 2022
JESAJA 19:5 AFR53
“En die waters sal uit die groot waterplas verdwyn, en die rivier sal uitdroog en droog lê.”
Die Here tref Egipte deur die Nyl op te droog en verwoes sodoende hul ekonomie.
Die Nylrivier was die sleutel tot Egipte se landbou en ekonomie. 'n Ernstige droogte of net die verlaging van die watervlak, sal 'n verwoestende uitwerking op die lewens van die Egiptenare hê. God belowe dit sal gebeur as 'n oordeel teen Egipte.
Die Nyl wat opdroog, is inderdaad ‘n ekologiese ramp met die volgende gevolge:
- die hele area sal stink,
- die strome sal al hoe swakker word en uiteindelik uitdroog,
- weivelde en saailande sal verdor,
- die visse sal doodgaan en die vissers sal huil,
- wewers sal nie meer katoen he om mee te weef nie, en
- loonwerkers sal hul werk verloor.
“En die strome sal stink; die strome van Egipte sal swak word en uitdroog; riet en biesies sal verwelk. Die weivelde by die Nyl, by die mond van die Nyl, en elke saailand van die Nyl sal verdor, verwaai en nie meer wees nie. En die vissers sal klaag, en almal wat hoeke in die Nyl uitgooi, rou bedrywe; en die wat visnette uitsprei oor die waters, sal verkwyn. En die bewerkers van uitgekamde vlas staan beskaamd, en die wewers van wit stowwe. En sy steunpilare word verbrysel; almal wat vir loon werk, sielsbedroef.” JESAJA 19:6-10 AFR53
Terwyl die Here Egipte tref, gee Hy hulle nie net wrede heersers nie, maar Hy gee ook daardie wrede heersers dwase raad.
“Die vorste van Soan is net dwase, die raad van Farao se slimste raadgewers het domheid geword. Hoe kan julle vir Farao sê: Ek is 'n seun van die wyse manne, 'n seun van die konings uit die voortyd? Waar is hulle dan, jou wyse manne? Laat hulle jou tog te kenne gee, dat 'n mens kan weet wat die Here van die leërskare oor Egipte besluit het. Die vorste van Soan het dwase geword, die vorste van Nof is bedroë; Egipte is op 'n dwaalweg gebring deur hulle wat die hoeksteen van die stamme is. Die Here het daarin 'n gees van bedwelming gegiet, en Egipte is op 'n dwaalweg gebring in al sy werk, soos 'n dronkaard tuimel in sy uitbraaksel. So is daar dan vir Egipte geen werk wat gedoen word deur kop of stert, palmtak of biesie nie.” JESAJA 19:11-15 AFR53
Ware wysheid is nie om allerhande feite en planne en strategieë te ken nie. Die vrees van die Here is die begin van wysheid, en die kennis van die Heilige is insig.
“Die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here, en kennis van die Heilige is verstand.” SPREUKE 9:10 AFR53
21 September 2022
JESAJA 19:16 AFR53
“In dié dag sal die Egiptenaars wees soos die vroue: hulle sal bewe en vrees vir die handgeswaai van die Here van die leërskare wat Hy teen hulle swaai.”
In die dag - hierdie stelling wat nou ‘n paar keer herhaal gaan word neem ons na die toekoms. Die Egiptenare sal bewe van vrees wanneer God Sy hand teen hulle optel om hulle te straf.
Nou het ons 'n dramatiese verandering. Vir duisende jare was Juda onderdanig en in die skadu van die groot Egiptiese Ryk. Jesaja profeteer van 'n dag wanneer Juda magtiger as Egipte sal wees, en die land van Juda 'n verskrikking vir Egipte sal wees.
“En die land Juda sal vir die Egiptenaars 'n skrik wees: as iemand daarvan melding maak by hulle, bewe hulle vanweë die besluit van die Here van die leërskare wat Hy teen hulle geneem het.” JESAJA 19:17 AFR53
In die dag - sal vyf groot stede van Egipte die taal van Kanaän praat, m.a.w. Hebreeus, en hulle sweer trou aan die Here. Een van die vyf stede word herdoop ‘Stad van Verwoesting’, wat ook beteken ‘Stad van die son’.
“In dié dag sal daar vyf stede in Egipteland wees wat die taal van Kanaän spreek en by die Here van die leërskare sweer; een sal genoem word: Stad van verwoesting.” JESAJA 19:18 AFR53
In die dag - sal hulle altare vir die Here oprig eerder as heidense altare.
“In dié dag sal daar 'n altaar wees vir die Here binne-in Egipteland en 'n gedenksteen vir die Here by die grens.” JESAJA 19:19 AFR53
Die Egiptenare sal vir God aanroep om hulle te red, en Hy sal reageer deur vir hulle 'n redder en ‘n stryder stuur.
“En dit sal wees 'n teken en 'n getuie vir die Here van die leërskare in Egipteland; as hulle die Here aanroep vanweë die verdrukkers, sal Hy aan hulle 'n redder stuur en 'n stryder wat hulle sal verlos. JESAJA 19:20 AFR53
God maak Homself aan Egipte bekend en hulle sal Hom ken en Hom aanbid en aan Hom offer.
En die Here sal Hom aan die Egiptenaars bekend maak, en die Egiptenaars sal die Here ken in dié dag; en hulle sal Hom dien met slagoffers en spysoffers en geloftes doen aan die Here en dit betaal.” JESAJA 19:21 AFR53
Die straf (slaan) wat God lewer, is een wat uiteindelik genesing bring.
“En die Here sal die Egiptenaars slaan, slaan en genees; en hulle sal hul tot die Here bekeer, en Hy sal hulle verhoor en hulle genees.” JESAJA 19:22 AFR53
22 September 2022
JESAJA 19:23 AFR53
“In dié dag sal daar 'n grootpad wees van Egipte na Assirië, en Assiriërs sal in Egipte kom en Egiptenaars in Assirië; en Egipte sal saam met Assirië die Here dien.”
In die dag - God belowe die dag sal kom wanneer daar vrede tussen Israel, Egipte en Assirië sal wees. Daar sal handel en reis wees tussen die drie nasies ('n snelweg van Egipte na Assirië). In daardie dag sal die Here al drie nasies seën.
“In dié dag sal Israel die derde wees naas Egipte en Assirië, 'n seën in die midde van die aarde,”. JESAJA 19:24 AFR53
Wat 'n wonderlike werk van verlossing! Dit wys dat God se redding na die nasies sal strek, en Hy sal sy eie uit Egipte en Assirië roep, nie net uit Israel nie.
“omdat die Here van die leërskare hom geseën het, met die woorde: Geseënd is my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!” JESAJA 19:25 AFR53
Nou sien ons duidelik watter ‘dag’ Jesaja bedoel. Die dag van Verdrukking gevolg deur Jesus se terugkeer en heerskappy in die Millenium.
'n Dag wanneer nasies soos Egipte onder oordeel gebring word, maar dan word sommige in geloof gered om by die koninkryk aan te sluit. Die gebeure wat Jesaja aan die begin van die hoofstuk beskryf, is dus gebeure wat tydens die Verdrukking plaasvind.
Wanneer riviere opdroog en 'n bose despoot (Antichris) oor hulle heers en burgeroorloë onder die mense uitbreek. Valse profete staan op om die rampe van die Verdrukking te verduidelik en God skep geleenthede om hulle te verwar.
“en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.” II THESSALONICENSE 2:8-12 AFR53
Comments