top of page

Jesaja – Hoofstuk 1 tot 6

11 Julie 2022

JESAJA 1:1 AFR53
“Die gesig van Jesaja, die seun van Amos, wat hy gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem, in die dae van Ussía, Jotam, Agas en Hiskía, die konings van Juda.”

Die profeet Jesaja gaan ons met sy profesieë op ‘n reis vat deur die Bybel. Sy loopbaan as profeet begin met die dood van koning Ussia in 739 v.C. en eindig êrens tydens die bewind van koning Hiskia. Hy was ‘n profeet tydens die bewind van vier konings - Ussía, Jotam, Agas en Hiskía, die konings van Juda.

Jesaja was die seun van Amos (nie die profeet Amos nie) en hyself het twee seuns gehad wat elkeen ‘n profetiese naam gegee is. Die oudste was genoem Sjear Ja-sjub wat beteken: ‘n oorblyfsel sal terugkeer; en die jongste was genoem Maher-shalal-hash-baz wat beteken: netnou is daar buit, gou is daar roof.

Jesaja was ‘n profeet vir die suidelike Koninkryk, maar sy profesieë was nie beperk tot die suide nie, dit strek van sy tyd tot aan die einde van tyd. Hy profeteer oor die koms van die Messias, Jesus se genade en Jesus se kruisiging. Jesaja leer ook vir ons meer oor die komende Millenium as enige ander boek in die Bybel. 

Die Nuwe Testament het vele aanhalings uit die boek Jesaja. Jesus, Mattheus, Markus, Johannes, Lukas in die boek Handelinge en Paulus in die boek Romeine gebruik almal aanhalings uit Jesaja.

Met die ontdekking van die Dooie See-rolle in 1947 by Koemran is 'n boekrol van Jesaja waarvan al 66 hoofstukke nog in plek was, gevind. Ondersoek het getoon dat die  teks uit die tweede eeu v.C. dateer, en skaars van die manuskripte uit 800 n.C. verskil. 
Die werk van ‘n profeet was om God se wense en woorde aan die volk oor te dra. God was, is en sal altyd dieselfde wees en daarom is Sy wil vir Sy mense om Hom alleen te dien en volgens Sy wette te leef. Hierdie leefwyse was en is nog steeds die van die nou poort, maar menslike natuur beweeg ongelukkig makliker na die wye pad wat na die verderf lei.

“Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.”   MATTHÉÜS 7:13 AFR53

Die profete was dus nie aldag gewild nie, en baie van hulle is deur die volk gehaat en selfs doodgemaak omdat hulle woorde aanstoot gegee het. Jesaja is volgens Joodse tradisie deur koning Manasse doodgemaak, wat hom middeldeur gesaag het, en is moontlik die persoon waarna die skrywer van Hebreërs in hierdie vers verwys.

“Hulle is gestenig, in stukke gesaag, versoek, deur die swaard vermoor. Hulle het rondgeloop in skaapvelle en in bokvelle; hulle het gebrek gely, hulle is verdruk, mishandel —”. HEBREËRS 11:37 AFR53
 
12 Julie 2022

JESAJA 1:2-3 AFR53
“Hoor, o hemele, en luister, o aarde, want die Here spreek: Ek het kinders grootgemaak en verhoog, maar húlle het teen My oortree. 'n Os ken sy besitter en 'n esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie.”

Die eerste gesig of profesie van Jesaja word nou hier uiteengesit. Hoor, o hemele, en luister, o aarde, want die Here spreek! Jesaja roep om almal se aandag te kry om te luister na God se woorde.

God praat hier en is teleurgesteld want Sy kinders is ongehoorsaam en luister nie. God sê dat selfs ‘n os en ‘n esel beter is as Sy volk, want ten minste weet ‘n os wie sy eienaar is, en ‘n esel weet waar sy huis is, maar Isarel (die volk) het geen kennis nie, hulle verstaan niks nie.

Jesaja lys die volk se oortredinge: ‘n Sondige nasie, swaar van skuld; ‘n geslag van kwaaddoeners; kinders wat verderflik handel; hulle het God verlaat, verag en agtertoe weggedraai.

“Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel! Hulle het die Here verlaat, die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai.”   JESAJA 1:4 AFR53

Jesaja gebruik ‘n metafoor om te verduidelik hoe erg die volk sondig. Julle sonde is soos ‘n liggaam wat in ‘n geveg geslaan en gekneus is. Die liggaam is van kop tot tone oortrek met wonde en blou kolle. Daar is nie ‘n plekkie wat nie vol blou geslaan is nie, en geeneen van die wonde is medies versorg nie.

“Waar wil julle nog geslaan word, dat julle voortgaan met af te wyk? Die hele hoof is siek, en die hele hart is krank. Van die voetsool af tot die hoof toe is daar geen heel plek aan nie, maar wonde en kwesplekke en vars houe! Hulle is nie uitgedruk of verbind of met olie versag nie.”   JESAJA 1:5-6 AFR53

Nou konsentreer Jesaja op die land waar hulle woon. Onthou! God vereis dat Sy volk aan Hom gehoorsaam moet wees, en dat daar gevolge is vir die opstandiges. Jesaja beskryf die gevolge aan die volk. Julle land is ‘n wildernis; julle stede is met vuur verbrand; die vyand verteer julle landerye terwyl julle dit aanskou;

“Julle land is 'n wildernis, julle stede is met vuur verbrand, vreemdes verteer julle landerye in jul teenwoordigheid, en dit is 'n wildernis soos by 'n omkering deur vreemdes.”   JESAJA 1:7 AFR53

Al wat oorbly in al hierdie verwoesting is die dogter van Sion - die stad Jerusalem. Soos ‘n skermpie in ‘n wingerd of ‘n hut van ‘n wagter in ‘n komkommertuin of ‘n beleërde stad.
As God nie vir ons ‘n klein oorblyfsel gelaat het nie (Jerusalem), sou ons wees soos Sodom en Gomorra - totaal verwoes.

“En die dogter van Sion het oorgebly soos 'n skermpie in 'n wingerd, soos 'n slaapplekkie in 'n komkommertuin, soos 'n beleërde stad. As die Here van die leërskare vir ons nie 'n klein oorblyfsel oorgelaat het nie — soos Sodom sou ons geword het, ons sou net soos Gomorra gewees het.   JESAJA 1:8-9 AFR53

Hoor die woord van die Here en luister na God se wet - julle wat handel soos Sodom en Gomorra!

Hoor die woord van die Here, owerstes van Sodom! Luister na die wet van onse God, volk van Gomorra!”  JESAJA 1:10 AFR53
 
13 Julie 2022

JESAJA 1:11 AFR53
“Wat het Ek aan die menigte van julle slagoffers? sê die Here. Ek is sat van die brandoffers van ramme en die vet van vetgemaakte kalwers; en Ek het geen behae in die bloed van stiere of lammers of bokke nie.”

God vra vir die volk: wat kry Ek van julle menigte offers? Interessant dat God nie wil he, dit wat Hy ingestel het nie. Hoekom sal dit wees? Omdat die volk uit gewoonte hul offers bring, offers wat geen betekenis meer het nie. 

God wil ‘n verhouding met Sy volk he, nie nuttelose skynheilige offers wat uit gewoonte gedoen word nie. Die volk maak God moeg! 

“As julle kom om voor my aangesig te verskyn, wie het dit van julle hand geëis — om my voorhowe te vertrap? Bring nie meer skynheilige offergawes nie; gruwelike reukwerk is dit vir My. Nuwemane en sabbatte, die uitroep van samekomste — Ek verdra geen ongeregtigheid en feestyd nie! Julle nuwemane en julle feestye haat my siel; hulle is My 'n oorlas. Ek is moeg om dit te dra.”   JESAJA 1:12-14 AFR53

Die offers wat ‘n gruwelike reukwerk is, maak dat God ook nie wil luister na hulle gebede nie.

“En as julle jul hande uitbrei, bedek Ek my oë vir julle; ook as julle die gebed vermenigvuldig, luister Ek nie: julle hande is vol bloed.”   JESAJA 1:15 AFR53

Nou gee God ‘n oplossing - wat moet die volk doen om weer gunstig in God se oë te wees.

Die eerste stap is selfondersoek: was en reinig jouself; moet nie voor God verskyn as jy verkeerd doen nie; staak om kwaad te doen; 
Die tweede stap is om jou medemens te help: leer om goed te doen; sorg dat reg geskied; staan die verdrukker teë; sorg vir die weeskinders; behartig die regsake van die weduwee.

“Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen, leer om goed te doen, soek die reg, beteuel die verdrukker, doen reg aan die wees, verdedig die saak van die weduwee.”   JESAJA 1:16-17 AFR53

Wat gebeur as jy luister, jou lewe verander en terugkeer na God? Jesaja vra hier die vraag maar gee nie ‘n antwoord nie - die antwoord kom eers in die latere hoofstukke.

God verklaar: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol. Interessant dat hierdie klink soos die Nuwe Testament! 

“Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.”   JESAJA 1:18 AFR53

As die volk luister sal hulle land ook herstel word. Wanneer God se volk ongehoorsaam is, word nie net die mense gestraf nie, maar die land word ook gestraf. Geen wonder dat ook vandag se wêreld so op sy kop is nie. Ons moet ook luister!

“As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet.”   JESAJA 1:19 AFR53

Maar, altyd ‘n maar! As julle weier om te luister sal die swaard julle eet! Want dit is wat God gespreek het!

“Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word; want die mond van die Here het dit gespreek.”   JESAJA 1:20 AFR53
 
14 Julie 2022

JESAJA 1:21 AFR53
“Ag, hoe het die getroue vesting 'n hoer geword! Dit was vol reg, geregtigheid het daarin vernag — en nou moordenaars!”

'n Kruisstelling (ook 'n giasma of in Engels ‘n chiasm genoem) is 'n stylfiguur waar 'n reeks idees aangebied word en dan in omgekeerde volgorde herhaal word.  Die resultaat het 'n spieëlbeeld effek en elke idee word deur 'n herhaalde woord met sy "weerkaatsing" verbind. 

JESAJA 1:21-26 is ‘n gedig in kruisstelling formaat wat die negatief en positief uitbeeld van die volk Israel. Die alfabet letters moet saam gelees word om die groot prentjie te sien.

A    “Ag, hoe het die getroue vesting 'n hoer geword! 
  B    Dit was vol reg, geregtigheid het daarin vernag — en nou moordenaars! 
    C    Jou silwer het skuim geword; jou wyn is vervals met water. 
      D    Jou vorste is opstandelinge en metgeselle van diewe; elkeen van hulle het omkoopgeskenke lief en jaag beloninge na. Aan die wees doen hulle geen reg nie, en die saak van die weduwee kom nie voor hulle nie. 

      D    Daarom spreek die Here Here van die leërskare, die Magtige van Israel: o Wee, Ek sal vir My voldoening verskaf van my teëstanders en My wreek op my vyande! 
    C    En Ek sal my hand teen jou uitstrek en jou skuim soos met loog uitsuiwer en al jou looddele wegneem. 
  B    En Ek sal jou weer regters gee soos vroeër en raadsmanne soos in die begin; 
A    daarna sal jy 'n stad van geregtigheid, 'n getroue vesting genoem word.”

Ontleding van die gedig:

A:  - die getroue stad (Jerusalem) het ‘n hoer geword.
      - daarna word die stad (Jerusalem) ‘n getroue vesting, ‘n stad van geregtigheid.

B:  - reg en geregtigheid het verander in moordenaars 
      - reg en geregtigheid sal herstel word, julle sal regters kry soos vroeër en raadsmanne soos in die begin.

C:  Hierdie gedeelte is ‘n metafoor. Wat het skuim en silwer met mekaar uit te maak. Wanneer silwer gesmelt word, is daar ongewenste materiaal of skuim wat deel uitmaak van die smelt proses. 
      - Julle was soos silwer, maar nou is julle net skuim, net so sleg soos wyn wat met water verdun word.
      - Julle sal met intense hitte gesmelt word, herstel word, om te verander in suiwer silwer.

D:  - jou leiers is boewe wat omkoopgeld neem, en nie reg doen aan die weduwee en die wees nie.
      - God, die Een wat regeer, sal ontslae raak van hierdie slegte leiers.

Hierdie gedig wys hoe Israel (en ook enige ander nasie) verval en dan weer opgebou word. Die herstel van Jerusalem is in Jesaja se toekoms, en ook nog in ons toekoms. Detail sal wel in latere hoofstukke gegee word.

Die stad Jerusalem korrupteer
   Verval van reg en geregtigheid
      Die mense verval in sonde 
        Die leierskap word korrup

        Straf die korrupte leiers
      Verwyder die mense se sondes
   Herstel reg en geregtigheid
Herstel dan die stad Jerusalem tot geregtigheid
 
15 Julie 2022

JESAJA 1:27 AFR53
“Sion sal deur strafgerig verlos word en die van hom wat terugkeer, deur geregtigheid.”

Die verse wat hier volg dui op die millenium tydperk en is ‘n inleidende opsomming van dit wat ons in latere hoofstukke gaan leer. Die woord verlos in vers 27 dui daarop dat ‘n prys betaal moet word vir die verlossing, maar die hoe word nie hier gegee nie.

Sion stel hier die hele volk Israel voor. Wanneer die oordeel oor die volk voltrek is, sal hulle verlos word, en die wat die wet onderhou, sal in geregtigheid na Jerusalem terugkeer.

“Maar vir Sion kom Hy as Verlosser en vir die wat in Jakob hulle bekeer van oortreding, spreek die Here.”   JESAJA 59:20 AFR53

JESAJA 1:28 AFR53 - “Maar daar sal verbreking wees van die oortreders en die sondaars almal saam; en die wat die Here verlaat, sal omkom.”  

In teenstelling met die wat die wet onderhou, sal die oortreders, die sondaars en die wat die Here verlaat, almal saam vernietig word.

“Maar julle wat die Here verlaat, wat my heilige berg vergeet, wat 'n tafel dek vir die geluksgod en die mengsel inskink vir die godin van die noodlot — Ek sal julle bestem vir die swaard, en julle almal sal buig om geslag te word, omdat Ek geroep maar julle nie geantwoord het nie, Ek gespreek maar julle nie geluister het nie, maar gedoen het wat verkeerd is in my oë en verkies het wat My nie behaag nie.”   JESAJA 65:11-12 AFR53

JESAJA 1:29 AFR53 - “Want hulle sal in die skande kom weens die terpentynbome waar julle behae in het, en julle sal rooi van skaamte word oor die tuine wat julle verkies het.”  

Hulle sal met verleentheid terugkyk na hul afgode ( bome uitgekerf in hul gunsteling gode ) en hul plekke van sondige aanbidding (tuine).

“wat verhit is by die terpentynbome, onder elke groen boom; wat die kinders slag in die dale, onderkant die rotsklowe?”   JESAJA 57:5 AFR53

“'n volk wat My gedurigdeur in die aangesig terg, wat offer in tuine en rook laat opgaan op bakstene;”   JESAJA 65:3 AFR53

JESAJA 1:30 AFR53 - “Want julle sal wees soos 'n terpentynboom waarvan die blare verdor, en soos 'n tuin wat geen water het nie.”  

Hierdie afgode wat eens aanbid was sal verdor en sterf, en die mense se sondige strewes sal opdroog.

JESAJA 1:31 AFR53 - “En die sterke word tot vlas en sy werk tot 'n vonk, en hulle sal altwee tesame brand sonder dat iemand uitblus.”  

Die NLV verduidelik die vers mooi - “Die sterkste onder julle sal wees soos brandende strooi. Julle bose dade is die vonk wat strooi laat brand, ’n vuur wat niemand kan blus nie.”  JESAJA 1:31 NLV

“En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”   OPENBARING 20:15 AFR53
 
16 Julie 2022

JESAJA 2:1-2 AFR53
“Die woord wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem. En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom.”

Jesaja sien hier ‘n nuwe woord of profesie met betrekking tot Juda en Jerusalem. In verse 1-4 sien Jesaja die stad Jerusalem in die verre toekoms.

Die einde van dae verwys na ‘n tydperk in die toekoms wanneer God oordeel en redding vir die aarde sal bring. Die Nuwe Testament leer vir ons dat hierdie tydperk gebeur tydens Jesus se tweede koms. Hierdie dui op ‘n tydperk van redding en seën nie net vir Israel nie, maar ook vir al die nasies van die wêreld wat God se leeringe gaan leer en Hom gaan loof en prys.

Die profeet Miga het dieselfde profesie uitgespreek.

“En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en die volke sal daarheen toestroom.”   MIGA 4:1 AFR53

Tydens Jesus se tweede koms vind ‘n aardbewing plaas wat die topografie van Jerusalem radikaal gaan verander. Sagaria gee meer detail van hoe dit na die aardbewing gaan lyk - die hele land suid van Jerusalem gaan soos ‘n vlakte word, maar Jerusalem self sal hoog wees. Daarom dat Jesaja en Miga sien dat die huis van die Here op die top van ‘n berg gaan wees.

“Die hele land sal soos die Vlakte word, van Geba tot by Rimmon, suid van Jerusalem; maar Jerusalem self sal hoog wees en woon op sy plek, van die poort van Benjamin af tot by die plek van die vorige poort, tot by die Hoekpoort, en van die toring Hanáneël tot by die parskuipe van die koning.”   SAGARÍA 14:10 AFR53

Jerusalem word beskryf as die hoofstad van die wêreld in ‘n tydperk van vrede en nie oorlog nie. ‘n Tydperk wanneer God die volke gaan onderrig vanuit die huis van die God van Jakob, of anders gestel, die millenium tempel. 

“En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem.”   JESAJA 2:3 AFR53

Jerusalem is die hoofstad waar die regsbank van God gesetel is, want van daar sal die wet en die woord van God uitgaan, en die volke sal daarheen gaan om die weë van God te leer.

Daar sal geen oorlog meer wees nie, nasies sal in vrede met mekaar leef. Swaarde sal in pikke verander en spiese in snoeimesse.

“En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”   JESAJA 2:4 AFR53

Millenium se betekenis: mille - latyn vir duisend; annum - latyn vir jaar; dus duisend jaar!
Die millenium is ‘n letterlike periode van ‘n duisend jaar wat geskeduleer is vir die toekoms wanneer Jesus terugkom (tweede koms) aan die einde van ons geskiedenis om Sy ewige koninkryk op te rig.

Die milenium tydperk begin na die sewe jaar Verdrukking en eindig een duisend jaar later wanneer Jesus Sy finale oordeel gaan vel oor die ganse mensdom. Daarna volg die ewigheid vir almal waar elke persoon wat ooit gelewe het of in God se teenwoordigheid sal wees, of vir ewig van God geskei sal wees.
 
17 Julie 2022

JESAJA 2:5 AFR53
“Kom, huis van Jakob, en laat ons wandel in die lig van die Here!”

Jesaja pleit met die mense van die suidelike koninkryk Juda om in die lig van die Here te wandel, en dan verduidelik hy vir hulle wat hul huidige kondisie is en hoekom dit sleg gaan met hulle. 

Jesaja sê dat God Sy volk verwerp, Sy beskerming terugtrek, en hulle aan rampe en oordele oorgee omdat hulle:

 - afgode aanbid soos die Ooste dit beoefen
 - waarseêry aanhang soos vreemdelinge
 - verbonde aangegaan metvreemde nasies 

“Want U het u volk verwerp, die huis van Jakob, omdat hulle vol is van wat die Ooste aanbied, en van goëlaars soos die Filistyne, en met die kinders van vreemdes dryf hulle handel.”   JESAJA 2:6 AFR53

- rykdom opgehoop, en jaag nog steeds gulsig na meer.

“En hulle land is vol silwer en goud, en daar is geen end aan hulle skatte nie; en hulle land is vol perde, en daar is geen end aan hulle strydwaens nie.”   JESAJA 2:7 AFR53

- die Israeliete het afgodsbeelde in hul huise gebêre om te aanbid. (Dit was gebruiklik by die heidene om in hul huise afbeeldings van hul gode te hou - klein beelde wat hulle as "beskermers" beskou het en waaraan hulle hulde gebring het.)

“Ook is hulle land vol afgode; voor die werk van hul hande buig hulle hul neer, voor wat hulle vingers gemaak het.”   JESAJA 2:8 AFR53

Mense van alle klasse, arm en ryk, is skuldig aan die afgodsaanbidding, en God moet hulle nie vergewe nie.

“So moet dan die mens neergebuig en die man verneder word; en U moet hulle dit nie vergewe nie.”   JESAJA 2:9 AFR53

Julle sal deur sulke erge rampe getref word, dat julle sal hardloop om onder rotse of in grotte weg te kruip, uit vrees vir die verskriklike oordele van God.

“Gaan in die rots en steek jou weg in die grond vanweë die skrik van die Here en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil.”   JESAJA 2:10 AFR53

Johannes skryf in Openbaring op dieselfde trant. Ons moet oppas, want elkeen moet ondersoek in sy hart doen oor watter afgodsbeelde in ons eie huise weggesteek is. Almal is skuldig, ryk of arm, koning of slaaf - ‘ek slaan my oë op na die berge, waar sal my hulp vandaan kom.’

“en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?”   OPENBARING 6:15-17 AFR53

Elke knie sal buig en elke tong sal verkondig dat God regeer! 

“Die hoë oë van die mense sal verneder word, en die hoogheid van die manne neergebuig word; en die Here alleen sal in dié dag verhewe wees.”   JESAJA 2:11 AFR53
 
18 Julie 2022

JESAJA 2:12 AFR53
“Want 'n dag is daar vir die Here van die leërskare oor al wat trots en hoog is, en oor al wat verhewe is, sodat dit verneder kan word;”

‘n Dag vir die Here van die leërskare! Hierdie frase is ‘n bekende frase wat op vele plekke gebruik word. 

“Maar dié dag behoort aan die Here Here van die leërskare, 'n dag van wraak, om wraak te neem op sy teëstanders; en die swaard sal verslind en versadig en dronk word van hulle bloed; want die Here Here van die leërskare het 'n slagoffer in die Noordland, by die Eufraatrivier.”   JEREMIA 46:10 AFR53

“Want naby is 'n dag, ja, naby is 'n dag van die Here, 'n dag van wolke; die tyd van die nasies sal dit wees.”   ESÉGIËL 30:3 AFR53

“Swyg voor die Here Here! Want die dag van die Here is naby; want die Here het 'n offer berei, sy gaste geheilig.”   SEFÁNJA 1:7 AFR53

“Die son sal verander word in duisternis en die maan in bloed, voordat die groot en deurlugtige dag van die Here kom.”   JOËL 2:31 AFR53

“Want die dag van die Here is naby oor al die nasies; soos jy gedoen het, sal aan jou gedoen word, jou daad sal op jou hoof neerkom.”   OBÁDJA 1:15 AFR53

“Maar die dag van die Here sal kom soos 'n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.”   II PETRUS 3:10 AFR53

Die dag van die Here gebeur oor ‘n tydperk, en is bedoel vir almal wat nooit hul lewens aan Christus gegee het nie. Die doel van hierdie tydperk is om 'die sondaars te vernietig' en dit is 'die tyd van die heidene.' Die dag van die Here sal gepaard gaan met 'toorn en kwaai' woede.  

Dit sluit almal uit wat Jesus as Verlosser aanvaar het. Ons het Sy vergifnis gevra vir al ons baie sondes en het die gawe van die ewige lewe ontvang. Daar is nie meer die gevaar om God se toorn te ervaar nie.

“Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus”   I THESSALONICENSE 5:9 AFR53

Wanneer begin die tydperk?

“want julle weet self baie goed dat die dag van die Here kom net soos 'n dief in die nag. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid — dan oorval 'n skielike verderf hulle soos die barensnood 'n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.”   I THESSALONICENSE 5:2-3 AFR53

Die Wegraping van die Kerk begin die 'dag van die Here' en is die eerste oordeel wat daarin plaasvind en gaan gepaard met 'skielike vernietiging' wat eintlik deur die Wegraping self veroorsaak word. Die wêreld sal op sy kop gekeer word nadat die Wegraping plaasgevind het.
 
19 Julie 2022

JESAJA 2:13 AFR53
“en oor al die hoë en verhewe seders van die Líbanon en oor al die eikebome van Basan;”

Hier volg ‘n lys van wat gaan plaasvind wanneer die dag van Here gebeur.

Die seders en eikebome op die berge sal vernietig word so ook elke gebou of huis wat daarmee gebou is.

Al die hoë berge en verhewe heuwels sal vernietig word - natuurlik ook die mense wat daar probeer wegkruip.

“en oor al die hoë berge en oor al die verhewe heuwels;”   JESAJA 2:14 AFR53

Hoë torings en versterkte mure is ook skuilings vir mense - dit word ook vernietig.

“en oor al die hoë torings en oor al die versterkte mure;”.  JESAJA 2:15 AFR53

Alle rykdom word uitgewis - die skepe word gerbuik om kosbare pronkstukke te vervoer en nou is dit vernietig.

“en oor al die skepe van Tarsis en oor al die kosbare pronkstukke.”   JESAJA 2:16 AFR53

Die gevolg van al die vernietigings is dat hooghartige en trotse mense op hul knieë gedwing en verneder sal word, en slegs God sal in die dae verhewe wees.

“Dan sal die hoogheid van die mense neergebuig en die trotsheid van die manne verneder word; en die Here alleen sal in dié dag verhewe wees.”   JESAJA 2:17 AFR53

Met God aan bewind sal alle afgode geheel en al verdwyn.

“En die afgode sal geheel en al verdwyn.”   JESAJA 2:18 AFR53

Hier sien ons weer waar die mense gaan wegkruip om God se wraak te probeer ontvlug.

“En hulle sal gaan in die spelonke van die rotse en in die gate van die grond vanweë die skrik van die Here en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil, as Hy Hom gereed maak om die aarde te verskrik.”   JESAJA 2:19 AFR53

Die mense sal uiteindelik besef wie God is en hul gode in die donker dieptes weggooi.

“In dié dag sal die mens sy silwerafgode en sy goue afgode wat hy vir hom gemaak het om voor neer te buig, weggooi vir die molle en die vlermuise;”   JESAJA 2:20 AFR53

Met die berge en heuwels wat vernietig is, bly net skeure in die rotse en klowe oor om in weg te kruip vir die almagtige God en die Sy oordeel wat kom.

“om te gaan in die skeure van die rotse en in die klowe van die kranse vanweë die skrik van die Here en om die heerlikheid van sy majesteit ontwil, as Hy Hom gereed maak om die aarde te verskrik.”   JESAJA 2:21 AFR53


Moet nooit jou vertroue in die mens plaas nie. Die mens wie se asem so vinnig weggeneem kan word en min werd is.

“Laat staan tog die mens wie se asem in sy neus is; want hoe min is hy werd!”   JESAJA 2:22 AFR53
 
20 Julie 2022

JESAJA 3:1 AFR53
“Want kyk, die Here Here van die leërskare sal uit Jerusalem en uit Juda wegneem die stut en die steun, elke stut van brood en elke stut van water,”

Die profesie aangaande die suidelike koninkryk Juda en die stad Jerusalem wat in hoofstuk 2 begin het, word nou hier in hoofstuk 3 voortgesit.

Meeste profesieë het ‘n naby en vêr uitkoms, en so ook dan met hierdie een. Jesaja beskryf hoe dit gaan lyk voor die val van die suidelike koninkryk Juda en die stad Jerusalem wanneer Nebukadneser hulle gaan wegvoer in ballingskap, en ook die omstandighede aan die einde van tyd. 

Dieselfde simptome kan plek plek in die huidige wêreld gesien word, in ons tyd en ons omstandighede. Nie omdat ek ‘n tyd koppel aan die huidige tye nie, maar omdat dit wat met ons gebeur die gevolg is van ‘n wêreld wat besig is om God te verlaat.

Elke stut en steun - elke ondersteunings meganisme waarop staat gemaak word - groot of klein, sterk of swak, sal weggeneem word. Voorbeelde van ondersteunings meganismes: 
 - ‘n Familie met jong kinders steun op oumas en oupas vir hulp,
 - Besighede maak staat op hul ondersteunings netwerke,
 - Gemeenskappe maak staat op hul plaaslike owerhede om hul stede in werkende toestand te hou.
 - Volke maak staat op hul regerings om hul veilig te hou, ens…..

Elke stut van brood en elke stut van water - belangrike elemente om aan die lewe te bly, kos en water. Dit sal ook weggeneem word!

Wat is nog op die lys van goed waarop ‘n nasie steun, wat God gaan wegneem van Juda in hul tyd en in die toekoms:

Die held en krygsman - die weermag helde
Die regter en profeet - die regstelsel,
Waarseêr en oudste - profete en die ouer geslag wat wysheid gegee het,
Owerste oor vyftig - die weermag
Die aansienlike en die raadsman - die ouer wyses en die mense waarna hul opsien
Knap ambagsman - goeie werkers
Ervare besweerdes - ervare geleerdes

“die held en die krygsman, die regter en die profeet en die waarsêer en die oudste; die owerste oor vyftig en die aansienlike en die raadsman en die knap ambagsman en die ervare besweerder.”   JESAJA 3:2-3 AFR53

Nuwe leiers wat jonk is met min of geen kennis en ondervinding en ‘n moedswillige natuur sal oor julle heers. Dit is die natuurlike gevolg wanneer die wyses en oudstes verwyder word.

“En Ek sal seuns hulle vorste maak, en moedswilliges sal oor hulle heers.”   JESAJA 3:4 AFR53

Die volk sal onderdruk word, 'n toestand van anargie en verwarring. Al die vorme van respek verdwyn, al die behoorlike reëls van eerbiedigheid tussen mense sal wegkwyn.

“En die mense sal mekaar verdruk, man teen man, en die een teen die ander; die seun sal die grysaard, die veragtelike sal die agbare stormloop.”   JESAJA 3:5 AFR53
 
21 Julie 2022

JESAJA 3:6-7 AFR53
“As 'n man sy broer aangryp in die huis van sy vader en sê: Jy het 'n kleed, jy moet owerste oor ons wees, en laat hierdie ingestorte puinhoop onder jou toesig wees — dan sal hy in dié dag uitroep en sê: Ek kan geen geneesheer wees nie, en in my huis is geen brood en geen kleed nie; maak my nie 'n owerste van die volke nie.”

Die mense sal in daardie tyd na enige persoon wat lyk of hul iets het - klere, kos, wysheid - draai en vra dat hulle die leiding oorneem. Maar, as gevolg van die derglike toestand van sake, sal niemand gewillig wees om die taak aan te pak nie.

Die stad Jerusalem en die koninkryk Juda sal tot ‘n volslae val kom, want hul woord en daad het teen God gedraai.

“Want Jerusalem het gestruikel, en Juda het geval; want hulle tong en hulle dade is teen die Here om sy oë, vol heerlikheid, te trotseer.”   JESAJA 3:8 AFR53

Geen skaamte oor hul blatante goddelose optrede nie, hule spog selfs openlik dat hul teen God is! Wee hul siele - want hulle bring die kwaad op hulself.

“Die uitdrukking van hulle gesig getuig teen hulle, en hul sonde maak hulle bekend, soos Sodom, sonder om iets weg te steek. Wee oor hulle siel, want hulle doen hulself kwaad aan!”   JESAJA 3:9 AFR53

Oorsaak en gevolg - dit sal goed gaan met die regverdige, want hy sal die vrug van sy werke geniet.

“Sê van die regverdige dat dit met hom goed sal gaan; want die vrug van hul handelinge sal hulle eet.”   JESAJA 3:10 AFR53

Maar, wee die goddelose, want hy sal ook die vrug van sy werke ontvang, en dit sal net sleg wees.

“Wee die goddelose! Met hom gaan dit sleg; want wat sy hande gewerk het, sal hom aangedoen word.”   JESAJA 3:11 AFR53

Die leiers van die volk is swakkelinge en hul lei die volk op verkeerde weë. 

“Die drywers van my volk is kinders, en vroue heers oor hulle. o My volk, jou leiers is verleiers, en die weg wat jou pad moes wees, het hulle tot 'n dwaalweg gemaak.”   JESAJA 3:12 AFR53

God is gereed om reg en geregtigheid te laat geskied, Hy is ook gereed vir die oordeel. God begin Sy oordeel by die leierskap. Hulle het die wingerd (die volk Israel) weggelei van God en die armes besteel. God vra die leierskap wat het hulle besiel om Sy volk te vertrap en die armes te mishandel.

“Die Here staan daar om 'n regstryd te voer: Hy tree op om die volke te vonnis. Die Here gaan na die gereg met die oudstes en die vorste van sy volk. Ja, júlle het die wingerd afgewei; wat aan die arm man ontroof is, is in julle huise. Wat is dit met julle dat julle my volk vertrap en die ellendiges mishandel? spreek die Here Here van die leërskare.”   JESAJA 3:13-15 AFR53
 
22 Julie 2022

JESAJA 3:16 AFR53
“Verder het die Here gesê: Omdat die dogters van Sion trots is en loop met uitgerekte nek en met die oë lok, wegstap met trippelgang en hulle voetringe laat rinkel,”

Jesaja het tot hier toe die mans berispe wat van God weggedraai het, en nou is dit die vrouens se beurt. Die vrouens word berispe omdat hul te trots en hoogmoedig is, verleidelik handel met hul oë wat uitlok en hul wulpse stappie.

Daarom sal die Here die dogters straf deur hul hare af te skeer en alle versiersels wegneem - juwele, parfuum, klere en towermiddels.

“daarom sal die Here die skedel van die dogters van Sion skurf maak, en die Here sal hulle skaamte ontbloot. In dié dag sal die Here wegneem die sieraad van die voetringe en die sonnetjies en die maantjies; die oorversiersels en die armbande en die sluiers; die hoofversiersels en die voetkettinkies en die pronkgordels en die reukflessies en die towermiddels; die vingerringe en die neusringe; die feesklere en die manteltjies en die tjalies en die handsakkies; die handspieëltjies en die hemde en die tulbande en die wye mantels.”   JESAJA 3:17-23 AFR53

Wat bly dan oor? In plaas van 

- ‘n lieflike parfuum geur, net mufheid, 
- ‘n mooi gordel, net ‘n stuk tou, 
- mooi gevlegte hare, net ‘n kaal kop,
- ‘n pragtige pronkgewaad, net ‘n roukleed,
- skoonheid, net ‘n brandmerk

“Dan sal daar in plaas van balsemgeur mufheid wees, en in plaas van 'n gordel 'n tou, en in plaas van gevlegte hare kaalheid, en in plaas van 'n pronkgewaad 'n roukleed, brandmerk in plaas van skoonheid.”   JESAJA 3:24 AFR53

Die manne van die stad Jerusalem sal en jou oorlogshelde sal sterf.

“Jou manne, o Sion, sal deur die swaard val en jou helde in die oorlog.”   JESAJA 3:25 AFR53

Figuurlik gestel sal die poorte van die stad Jerusalem klaag en treur omdat die mooi stad verwoes is en niemand oor is om deur die poorte in of uit te gaan nie.

“En sy poorte sal klaag en treur, en hy sal uitgeskud op die aarde sit.”   JESAJA 3:26 AFR53

Jesaja 4:1 behoort nog by Jesaja 3 - ‘en in die dag’  wys vir ons dat Jesaja nog aangaan met sy profesie. Die mans is so uitgewis dat daar sewe keer meer vrouens as mans is. 

“En in dié dag sal sewe vroue een man aangryp en sê: Ons eie brood sal ons eet en ons eie kleed aantrek; laat net jou naam oor ons genoem word, neem ons smaadheid weg.”   JESAJA 4:1 AFR53
 
23 Julie 2022

JESAJA 4:2 AFR53
“In dié dag sal die Spruit van die Here wees tot sieraad en heerlikheid, en die vrug van die land tot hoogheid en versiering vir die vrygeraaktes van Israel.”

Jesaja se profesie wat in hoofstuk 2:1-5 begin het met die millenium tempel wat bo op ‘n berg sal staan, eindig hier met ‘n oorblyfsel mense (a remnant people) wat die millenium sal ingaan na die dag van Here (sewe jaar Verdrukking), wat tussen die twee gedeeltes verduidelik is, voltooi is.

In die dag - omtrent daardie tyd wanneer die Here die vuilheid van Sion sal weg vee deur al die verskriklike oordele wat in die vorige verse beskryf is. 

Die spruit van die Here is ‘n algemene titel vir die Messias of in die geval die Dawidiese koning.

“Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek vir Dawid 'n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land.”   JEREMIA 23:5 AFR53

“en sê vir hom dit: So spreek die Here van die leërskare: Kyk, daar kom 'n Man wie se Naam is Spruit, en Hy sal uit sy plek uitspruit, en Hy sal die tempel van die Here bou.”   SAGARÍA 6:12 AFR53

“aangaande sy Seun wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid”   ROMEINE 1:3 AFR53

Die vrug van die land sal vir die oorblyfsel mense wat die millenium tydperk ingaan weer ‘n versiering wees. Die land wat as gevolg van die sondes van die mense onvrugbaar gemaak is, sal met hul terugkeer na Christus, sy vrugbaarheid herstel.  

“En wie in Sion oorgebly het en gespaar is in Jerusalem, dié sal heilig genoem word, elkeen wat onder die lewendes opgeskrywe is in Jerusalem —”   JESAJA 4:3 AFR53

Die oorblyfsel mense of die wat in Sion oorgebly het, en in Jerusalem gespaar is, word heilig verklaar. Elkeen van hulle wat vir die lewe opgeskryf is - daar is boeke waarin almal se name opgeskryf word. Dit sal beslis beter wees om jou naam in die boek van die lewe opgeskryf te hé

“Toe het die wat die Here vrees, met mekaar gespreek; en die Here het dit opgemerk en gehoor, en daar is 'n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die Here vrees en sy Naam eer.”   MALEÁGI 3:16 AFR53

“Laat hulle uitgedelg word uit die boek van die lewe en nie saam met die regverdiges opgeskrywe word nie.”   PSALMS 69:29 AFR53

“En in dié tyd sal Mígael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal 'n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat 'n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.”   DANIËL 12:1 AFR53

Net soos God die Israeliete van ouds beskerm het toe hulle uit Egipteland uitgetrek het, net so sal God in die toekoms Sy mense beskerm met ‘n wolk bedags en die rook van vuurvlamme snags.

“Dan skep die Here oor elke woonplek van die berg Sion en oor sy plekke van samekoms 'n wolk bedags en rook met die glans van vuurvlamme in die nag; want oor alles wat heerlik is, sal daar 'n beskutting wees. En daar sal 'n afdak wees vir 'n skaduwee bedags teen die hitte en vir 'n skuilplek en toevlug teen die stortbui en die reën.”   JESAJA 4:5-6 AFR53
 
24 Julie 2022

JESAJA 5:1 AFR53
“Laat my tog sing van my Beminde; 'n lied van my Beminde oor sy wingerd! My Beminde het 'n wingerd op 'n vrugbare heuwel.”

Jesaja vertel vir ons hier ‘n gelykenis en dit word baie slim gedoen. Hy sing ‘n lied (moontlik tydens die hutte fees) waar sy gehoor in ‘n stemmige bui is en graag wil luister en deelneem. Die lied begin deur vir sy gehoor ‘n prentjie te skilder van iets wat aan hulle almal bekend is. Dan vra hy die gehoor om ‘n oordeel te vel oor die stel feite wat hy gegee het, en wanneer die gehoor tevrede is dat hulle die antwoord korrek het, kom hulle agter dat hulle hulself eintlik veroordeel het.

Ons gaan die lied ontleed soos ons met die gelykenisse gedoen het in die begin van die jaar.

Aardse verhaal:

Jesaja se lied vertel die verhaal van ‘n persoon wat sing oor ‘n beminde se wingerd wat geplant is op ‘n vrugbare heuwel.

Die beminde het baie moeite gedoen om die wingerd te plant. Hy het die grond omgespit en die klippe uitgehaal. ‘n Enorme taak as jy in ag neem dat hy op erge klippperige grond gewerk het. Die klippe is gebruik om ‘n heining om die wingerd te bou asook ‘n wagtoring om die wingerd te beskerm teen vyande. Die eienaar het edel wingerdstokke geplant, net die beste, om sodoende goeie druiwe te kan dra om geoes te word. Die eienaar het ook ‘n parskuip gebou om die druiwe te bewerk en dus hierdie hele projek as ‘n langtermyn belegging gesien. Na al sy harde werk het hy verwag dat die wingerd goeie druiwe sou lewer, maar in plaas daarvan het sy wingerd net wilde druiwe opgelewer.

“En Hy het dit omgespit en die klippe daar uitgehaal en dit beplant met edel wingerdstokke; en Hy het 'n toring daar binne-in gebou en ook 'n parskuip daarin uitgekap; en Hy het verwag dat dit druiwe sou dra, maar dit het wilde druiwe voortgebring.” JESAJA 5:2 AFR53

Jesaja soek nou reaksie by sy gehoor, die inwoners van Jerusalem en die manne van Juda, dus die suidelike koninkryk. Jesaja praat nie as homself nie, maar as God wat ‘n antwoord soek. Die eienaar van die wingerd nooi die gehoor uit om te oordeel wie verkeerd was, die eienaar of die wingerd. Daar sou beslis baie druiweboere in die gehoor wees met die kennis om ‘n oordeel oor die wingerd te vel. Hulle sou uiteraard simpatie he met die eienaar wat so hard gewerk het aan sy wingerd en op die ou einde net ‘n mislukte oes kon wys.

“Nou dan, inwoners van Jerusalem en manne van Juda, oordeel tog tussen My en my wingerd. Wat is daar meer te doen aan my wingerd wat Ek daar nie aan gedoen het nie? Waarom het Ek verwag dat dit druiwe sou dra, en dit het wilde druiwe voortgebring?”   JESAJA 5:3-4 AFR53

Die eienaar gee te kenne wat hy gaan doen en dis ‘n somber prentjie. Hy gaan die wingerd tot niet laat gaan. Die doringheining word weggeneem en verwoes, die muur word afgebreek sodat wingerd vertrap kan word, en omdat dit nie bewerk word nie, sal dorings en distels oorneem. Dan ook sal die eienaar gebied dat die wolke nie reën bring nie - ‘n eerste teken dat God hier praat!

“Laat My julle dan nou te kenne gee wat Ek met my wingerd gaan doen: Ek sal sy doringheining wegneem, sodat dit verwoes word; Ek sal sy muur stukkend breek, sodat dit vertrap word. En Ek sal dit 'n wildernis maak: dit sal nie gesnoei of omgespit word nie, maar opskiet met dorings en distels; en Ek sal die wolke gebied om nie daarop te reën nie.”   JESAJA 5:5-6 AFR53
 
25 Julie 2022

JESAJA 5:7 AFR53
“Want die wingerd van die Here van die leërskare is die huis van Israel, en die manne van Juda is die tuin van sy verlustiging; en Hy het gewag op reg, maar kyk, dit was bloedvergieting; op geregtigheid, maar kyk, dit was geskreeu!”

Hemelse betekenis:

Die betekenis van die lied of gelykenis word nou bekend gemaak, en die gehoor weet onmiddelik dat hulle elkeen geoordeel word. 

Die eienaar van die wingerd is nie sommer enige iemand nie, nee dit is die Here van die leërskare. Die wingerd wat geplant is, is nie net ‘n stuk grond nie, dit is die suidelike koninkryk van Juda en die noordelike koninkryk Israel, dus die hele Joodse volk.

God het hierdie mense gevorm en hulle gekies om sy volk te wees. Hy het hulle elke geleentheid gegee om te verstaan ​​wat Hy verwag, hulle gevoed en beskerm deur hul woestynreis en hulle na die Beloofde Land gelei. Hy het wette voorsien om hulle te lei en profete gestuur om hulle op die regte pad te hou. Hulle het die skeiding van die Rooi See en die ondergang van die Egiptiese leër gesien. Hulle het manna in die woestyn geëet. Hulle het gesien hoe jong Dawid 'n reus verslaan.  God het sy krag en sy liefde keer op keer getoon en aan hulle elke geleentheid gegee om te doen wat reg was.

God het verwag dat reg sou geskied, maar daar was net onreg, Hy het geregtigheid verwag, maar daar was net die hulproep van veronregtes.

Let op die beryming wat slegs in die Hebreeus gesien word. Na al die werk wat God gedoen het om Sy volk te help om Sy wil te verstaan, het Hy ‘mis∙paṭ’ (reg) verwag maar net ‘mis∙paḥ’ (onreg) gesien.  Hy het ‘s·da·qah’ (geregtigheid) verwag, maar het net ‘see·qah’ ('n noodkreet) gehoor.

Die gevolgtrekking is duidelik om te sien.  God het alles moontlik vir Sy volk gedoen en 'n oes van reg en geregtigheid verwag.  Wat Hy gekry het, was bloedvergieting en 'n kreet van angs.  Die skuld is nie God s'n nie maar die volk s'n.  God het alles gedoen wat verwag kon word en meer, maar die volk het net wilde en suur druiwe opgelewer wat vir niks goed is nie.  Die mense van Jerusalem het volgehou in hul rebellie en hul aanbidding van valse gode.  Hulle het onreg geduld en selfs gepleeg.  Hulle het gedoen wat hulle nie moes doen nie, en het versuim om te doen wat van hulle verwag was.

In hierdie laaste vers spel God nie uit wat hierdie mense kan verwag nie. Hy het dit gedoen in die metaforiese taal van verse 5 en 6. Die mense kan hulle eie gevolgtrekkings maak. Dit verg nie veel navorsing om te verstaan ​​dat hulle in diep moeilikheid is nie—moeilikheid wat hulself veroorsaak het. Hulle kan net spekuleer oor die presiese manier waarop God sy oordeel teen hulle sal voltrek.

“Laat My julle dan nou te kenne gee wat Ek met my wingerd gaan doen: Ek sal sy doringheining wegneem, sodat dit verwoes word; Ek sal sy muur stukkend breek, sodat dit vertrap word. En Ek sal dit 'n wildernis maak: dit sal nie gesnoei of omgespit word nie, maar opskiet met dorings en distels; en Ek sal die wolke gebied om nie daarop te reën nie.”   JESAJA 5:5-6 AFR53
 
26 Julie 2022

JESAJA 5:8 AFR53
“Wee hulle wat huis aan huis trek, akker aan akker voeg, totdat daar geen plek meer is nie, en julle alleen grondeienaars in die land is.”

Die res van die hoofstuk behandel sewe ‘wee’ gedigte - 'n Uiting van hartseer of verontwaardiging. Wee beteken volgens die Afrikaanse Verklarende Woordeboek: Leed, smart, verdriet, ramp, onheil.

Jesaja spesifiseer sewe van die ‘misdade’ waaraan die Jode skuldig was - soos bespreek in die gelykenis van die wingerd eienaar.  

Die eerste wee: Oordeel oor die wat nooit genoeg het nie!

Diegene wat gulsig die grond en huise opkoop sodat hulle alleen die grondeienaars is. Hierdie was in stryd met die wet van Moses. Die wet het bepaal dat wanneer die kinders van Israel die land Kanaän sou binnegaan, die land regverdig verdeel moes word. Om gierigheid te voorkom, het Moses die jubeljaar, wat een keer elke vyftig jaar plaasvind, ingestel. Land kon net in porsies van vyftig jaar verkoop word - in die jubeljaar het die grond weer terruggekeer na die oorspronklike eienaar. (Levitikus 25)

Jesaja sê dat God ‘in sy ore’ met hom gepraat het, en nou vertel hy wat hy gehoor het. Al die huise wat julle so opgegaar het, sal almal vergaan en sonder inwoners wees en jul oeste sal ‘n fraksie wees van dit waaraan julle gewoond was.

“In my ore het die Here van die leërskare gespreek: Waarlik, baie huise sal 'n woesteny word, die grotes en mooies sonder inwoner. Want tien morg wingerd sal een enkele bat oplewer, en 'n homer saad sal 'n efa opbring.”   JESAJA 5:9-10 AFR53

Die tweede wee: Oordeel oor die wat drink en vrolik is in plaas van om op God se werke ag te gee!

“Wee hulle wat vroeg in die môre klaarmaak om sterk drank na te jaag, wat in die nag láát opbly terwyl die wyn hulle verhit.”   JESAJA 5:11 AFR53

Hulle drink van vroeg tot laat tot hul dronk is en maak musiek en geniet hulself. Maar, hulle neem geen notisie van die werke van God nie. 

“En daar is siter en harp, tamboeryn en fluit en wyn by hulle maaltyd; maar op die dade van die Here gee hulle geen ag nie, en die werk van sy hande sien hulle nie.”   JESAJA 5:12 AFR53

Jesaja sien die volk en hul leiers wat in ballingskap weggevoer gaan word. Omdat hulle hul rug op God gedraai het, sal hulle tot ‘n val kom.

“Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors. Daarom het die doderyk sy keel wyd oopgemaak en sy mond uitgerek sonder maat, en daarin sink hulle adel en hulle menigte en hulle luidrugtigheid en diegene onder hulle wat uitgelate is. Dan word die mens gebuig en die man verneder, en die oë van die hoogmoedige mense word verneder.”   JESAJA 5:13-15 AFR53
 
Maar God is ‘n regverdige God wat straf uitdeel soos dit nodig is om Sy volk op die regte pad te bring.

“Maar hoog sal die Here van die leërskare wees deur die strafgerig, en die heilige God sal Hom as die Heilige laat ken deur geregtigheid. En daar sal lammers wei soos op hulle eie weiveld, en rondtrekkers sal die puinhope van die ryk mense laat afeet.”   JESAJA 5:16-17 AFR53
 
27 Julie 2022

JESAJA 5:18 AFR53
“Wee hulle wat die ongeregtigheid nader trek met koorde van goddeloosheid, en die sonde soos met wa-toue;”

Die derde wee: Oordeel oor hulle wat sonde najaag!

Wee hulle wat die sonde nie net nader trek aan hulle nie, maar met opset daarvoor gaan soek. Hulle wat sondig met die doel om God uit te tart en wil sien hoe God hulle gaan straf. Hulle wat sê dat God gou moet maak en Sy straf moet uitdeel sodat hulle dit kan sien.

“wat sê: Laat Hy gou maak, laat Hy sy werk verhaas, dat ons dit kan sien! En laat die raad van die Heilige van Israel naby wees en kom, dat ons dit kan ken!”   JESAJA 5:19 AFR53

Die vierde wee: Oordeel oor hulle wat sleg goed noem en goed sleg noem!

Klink of dit op vandag van toepassing kan wees. Die goddelose word regverdig en die regverdige word geoordeel.

“Wee hulle wat sleg goed noem en goed sleg, wat die duisternis lig maak en die lig duisternis, wat bitter soet maak en soet bitter.”   JESAJA 5:20 AFR53

Die vyfde wee: Oordeel oor die wat te selfversekerd is!

Omdat hulle gemeen het dat hulle reeds wys genoeg was, het hulle geweier om na ander te luister.  Dit is altyd die uitwerking van sulke selfvertroue.

“Wee hulle wat in eie oë wys en na eie oordeel verstandig is.”   JESAJA 5:21 AFR53

 Die sesde wee: Oordeel oor die ‘wynhelde’!

Die wat roem daarop dat hul baie kan drink en daarvan hou om hul drank te meng.

“Wee hulle wat helde is om wyn te drink en wakker manne om sterk drank te meng; JESAJA 5:22 AFR53

Die sewende wee: Oordeel oor hulle wat mense omkoop!

Omkoopgeskenke speel ‘n onregverdige speletjie. Die skuldiges kry wat hul soek en die regverdiges word op die agtergrond geskuif.

wat vir 'n omkoopgeskenk die skuldige regverdig verklaar en die reg van die regverdige hom ontneem.”   JESAJA 5:23 AFR53

Al sewe “wee” word beskou as ontvlambare materiaal wat gereed is vir die vuur van oordeel.

“Daarom, soos die vuurtong stoppels verteer en droë gras in die vlam inmekaarsak, so sal hulle wortel soos poeier word en hulle uitspruitsel soos stof opstuiwe; omdat hulle die wet van die Here van die leërskare verwerp het en die woord van die Heilige van Israel verag het.”   JESAJA 5:24 AFR53
 
28 Julie 2022

JESAJA 5:25 AFR53
“Daarom het die toorn van die Here ontvlam teen sy volk en het Hy sy hand teen hulle uitgestrek en hulle swaar getref, sodat die berge gebeef het en hulle lyke soos vuilnis op die strate was. Ondanks dit alles is sy toorn nie afgewend nie, maar is sy hand nog uitgestrek.”

Dit profesie is uniek aan Israel: hulle, alleen, het die Woord van God gehad; nasies buite Israel het nie en meer is dus van Israel verwag...

Jesaja het sy beroep as profeet begin tydens koning Ussia se bewind, en tydens die koning se bewind was daar aardbewings. Die profesie kan verwys na God se toorn wat uiting gekry het met ‘n aardbewing.

“En julle sal vlug in die dal van my berge — want die dal van die berge sal loop tot by Asal — en julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussía, die koning van Juda. Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!”   SAGARÍA 14:5 AFR53

God se oordeel het nie geëindig met die aardbewings nie. Later jare sou die suidelike koninkryk van Juda deur Nebukadneser (die nasie in die verte) ingeval word en hulle sou in ballingskap weggevoer word.

“En Hy sal 'n banier ophef vir die nasies in die verte, en Hy fluit vir dié volk daar aan die einde van die aarde; en kyk, gou, haastig kom hulle.”   JESAJA 5:26 AFR53

Jesaja beskryf die weermag wat die suidelike Koninkryk gaan aanval. Hulle sal saamgestel wees van dapper, kragtige en moedige manne; hulle sal onvermoeid wees na hul lang en pynlike reise;  hulle sal gewelddadig wees en hulle sal ten volle voorbereid wees om te wen.  

“Geen vermoeide en geen struikelende is onder hulle nie; hulle sluimer of slaap nie, en die gord van hulle heupe word nie losgemaak nie, en die riem van hulle skoene breek nie;”   JESAJA 5:27 AFR53

Die weermag se wapens is gereed vir die geveg. Skerp pyle en boë gespan; die perde in top kondisie en die wiele van elke rytuig storm voort. Hul koms sal klink soos brullende leeus en hulle sal hul prooi met gemak wegsleep.

“wie se pyle skerp is en al hulle boë gespan; die pote van hulle perde is soos 'n klipsteen en hulle wiele soos 'n stormwind. Hulle gebrul is soos dié van 'n leeuin, hulle brul soos jong leeus en maak gedreun en gryp die prooi en sleep weg sonder dat iemand red.”   JESAJA 5:28-29 AFR53

Jesaja se werk as profeet was nie maklik nie. Hy het soos ons sien die volk van die begin van sy roeping gewaarsku, maar die geskiedenis leer ons dat hulle min geluister het en dit wat oor hulle geprofeteer is, het met hulle gebeur.

“En in dié dag sal dit oor hulle dreun soos die gedreun van die see. As iemand die aarde aanskou, kyk, daar is angsvolle duisternis; en die lig is verduister deur die wolke.”   JESAJA 5:30 AFR53
 
29 Julie 2022

JESAJA 6:1 AFR53
“In die sterfjaar van koning Ussía het ek die Here sien sit op 'n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het.”

Jesaja sien ‘n visioen en vertel vir ons wanneer hy dit gesien het - in die jaar wat koning Ussia gesterf het. Die amp van priester en koning het duidelike skeiding van pligte gehad. Dit was nie ‘n koning se plek om enige take in die tempel te verrig nie, en koning Ussia het hom nie aan die reël gesteur nie. 

“Maar toe hy sterk geword het, was sy hart hoogmoedig, sodat hy baie verkeerd gedoen en ontrou gehandel het teen die Here sy God; want hy het in die tempel van die Here gegaan om offerrook te laat opgaan op die reukaltaar.”   II KRONIEKE 26:16 AFR53

God straf koning Ussia deur hom met melaatsheid te slaan wat hy gehad het tot en met sy dood.

“En koning Ussía was melaats tot die dag van sy dood toe, en hy het in 'n afgesonderde huis as melaatse gewoon, want hy was van die huis van die Here uitgesluit; en sy seun Jotam, wat oor die paleis van die koning was, het die volk van die land geregeer.”   II KRONIEKE 26:21 AFR53

In Jesaja se visioen staan hy in die tempel van God en sien hy die Here wat op ‘n hoë en verhewe troon sit, en die some van Sy mantel wat die tempel vul. 

Johannes in die Nuwe Testament vertel vir ons dat Jesaja hier vir Jesus gesien het.

“Dit het Jesaja gesê toe hy sy heerlikheid gesien en van Hom gespreek het.”   JOHANNES 12:41 AFR53

Jesaja hoofstuk 6 is die enigste plek in die Bybel wat spesifiek die Serafs noem. Serafs (vuriges, brandendes) is engele wat God voortdurend loof en prys. 

“Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg. En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol! En die drumpelposte het gebewe van die geluid van die roepers, en die huis het vol rook geword.”   JESAJA 6:2-4 AFR53

Jesaja is bang verby en dink hy gaan doodgaan want hy, ‘n sondaar, het die Koning, die Here van die leërskare gesien.

“Toe het ek gesê: Wee my, ek is verlore! Want ek is 'n man onrein van lippe en woon onder 'n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die Here van die leërskare, gesien!”   JESAJA 6:5 AFR53

Jesaja besef hy is sondig en dat sy lewe heel moontlik nou verby is omdat hy God gesien het. Maar, God vergewe hom sy sonde deur dit weg te ‘brand’ met die gloeiende kool wat aan sy lippe raak. God gebruik die serafs om die tempel diens vir Hom te doen.  

Hierdie is ‘n vreemde beginsel vir die Ou Testament want sondes word vergewe deur diere te offer op die brandofferaltaar. 

Jesaja beleef nou wat Israel as ‘n geheel gaan beleef - ‘n vurige oordeel gevolg deur vergewing van sondes.

“Maar een van die serafs het na my toe gevlieg met 'n gloeiende kool in sy hand, wat hy met 'n tang van die altaar af geneem het, en my mond daarmee aangeraak en gesê: Kyk, dit het jou lippe aangeraak, en jou skuld is weg en jou sonde versoen.”   JESAJA 6:6-7 AFR53
 
30 Julie 2022

JESAJA 6:8 AFR53
“Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my.”

Jesaja hoor die stem van die Here wat vra: Wie sal Ek (God) stuur? En wie sal vir ons (meervoud) gaan? Met wie praat God hier?  Die vergadering van die heiliges of die leër van die hemele, heel waarskynlik engele wesens. God is ook die Here van die hemelse leërskare, die geestelike wesens in Sy goddelike raad soos in die volgende verse uitgebeeld word.

“En die hemele loof u wondermag, o Here, ook u trou in die vergadering van die heiliges.”   PSALMS 89:6 AFR53

“U is alleen die Here, Ú het die hemel, die hoogste hemel en al sy leërskare, gemaak, die aarde en alles wat daarop is, die seë en alles wat daarin is, en U hou dit alles in die lewe, en die leër van die hemel buig hulle voor U neer.”   NEHEMÍA 9:6 AFR53

“Verder sê hy: Daarom, hoor die woord van die Here: Ek het die Here sien sit op sy troon terwyl al die hemelse leërskare by Hom staan, aan sy regter- en aan sy linkerhand.”   I KONINGS 22:19 AFR53

Jesaja se werk as profeet, is om God se boodskap aan die volk oor te dra en hy skroom nie om die werk te doen nie. Toe God vra wie sal gaan, is Jesaja se antwoord - Hier is ek, stuur my.

“En Hy het gespreek: Gaan sê aan hierdie volk: Hoor altyddeur, maar verstaan nie, en sien altyddeur, maar bemerk nie. Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore swaar en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie.”   JESAJA 6:9-10 AFR53

Draai weg van jul sondes en keer terug na God - dit is Jesaja se boodskap. Maar, die volk het ‘n punt bereik waar hulle nie meer van hul sondes kan of wil wegdraai nie. Die volk se uiteinde is om God se oordeel te beleef. 

Jesaja se oproep tot bekering sal Israel se harte genoeg verhard in hulle rebellie om hulle oordeel te verseker, net soos die Farao in Exodus,

“En die Here sê vir Moses: Nou dat jy wegtrek om na Egipte terug te gaan, kyk dat jy al die wonders voor Farao doen wat Ek in jou mag gestel het. Maar Ék sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie.”   EXODUS 4:21 AFR53

En soos Paulus in die Nuwe Testament hier verduidelik.

“Maar ooreenkomstig jou verhardheid en onbekeerlike hart vergader jy vir jou toorn as 'n skat in die dag van die toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God”   ROMEINE 2:5 AFR53
 
31 Julie 2022

JESAJA 6:11 AFR53
“Toe sê ek: Hoe lank, Here? En Hy antwoord: Totdat die stede verwoes lê, sonder inwoners, en die huise sonder mense en die land verwoes is tot 'n wildernis,”

Jesaja wil weet hoe lank gaan die verskriklike oordeel duur en God se antwoord vertel vir ons die geskiedenis vooruit.

Verse 11 tot 13 gee vir ons ‘n beknopte opsomming van die val van die noordelike Koninkryk Juda en die suidelike Koninkryk Israel.

“en die Here die mense ver verwyder het en die verlatenheid groot is in die land.”   JESAJA 6:12 AFR53

God se oordeel gebeur in twee fases. Verse 11 en 12 vertel van Assirië wat die Noordelike Koninkryk Juda inval, die stede en die land verwoes en die mense vêr verwyder van hul land. Die geskiedenis leer ons dat Assirië in 722 v.C. die noordelike koninkryk oorwin en die Israeliete word  regoor die Midde-ooste verstrooi.

“En as nog 'n tiende deel daarin is, sal dit weer wees tot verwoesting; maar soos by die terpentynboom en die eikeboom — as hulle omgekap word — 'n stomp oorbly, so sal die heilige geslag die stomp daarvan wees.”   JESAJA 6:13 AFR53

Vers 13 gee vir ons die tweede fase van God se oordeel. ‘n Tiende sal oorbly en nog in die land wees. Hier word van die suidelike Koninkryk Juda gepraat. Maar, hulle gaan nie vir lank oorblywend wees nie. Daar sal weer verwoesting wees.

Die geskiedenis leer vir ons dat Nebukadneser in 597 v.C. die suidelike Koninkryk oorwin het en die Israeliete is na Babilon geneem.

Na al die verwoesting sal daar weer herstel kom - soos ‘n stomp wat oorbly wanneer ‘n boom afgekap word.

Weereens leer die geskiedenis vir ons dat koning Kores vir die Israeliete in 538 v.C. toestemming gegee het om terug te keer na Jerusalem om die tempel en die stad weer op te bou.
590 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


bottom of page