RIGTERS
30 Augustus 2021
RIGTERS 2:11 AFR53
“En die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here: hulle het die Baäls gedien”
Die dae van die rigters is die tydperk nadat Josua die Beloofde Land oorwin het, maar voor die tydperk van die konings.
Hierdie is ‘n onstuimige tydperk waar die volk vergeet van God se weldade en eerder afgode aanbid het.
“ en die Here, die God van hulle vaders, verlaat wat hulle uit Egipteland uitgelei het, en hulle het agter ander gode aan geloop, van die gode van die volke wat rondom hulle was, en hulle daarvoor neergebuig en die Here geterg.” RIGTERS 2:12 AFR53
Die gevolg daarvan was natuurlik God se toorn en straf.
“Maar toe hulle die Here verlaat en die Baäl en die Astártes dien, het die toorn van die Here teen Israel ontvlam, en Hy het hulle oorgegee in die hand van rowers wat hulle beroof het; en Hy het hulle verkoop in die hand van hulle vyande rondom, sodat hulle nie meer kon standhou voor hulle vyande nie.” RIGTERS 2:13-14 AFR53
Maar, dan besef die volk hulle het God nodig en in groot benoudheid word daar ernstig gebid vir hulp.
“Waarheen hulle ook al uittrek, was die hand van die Here teen hulle ten kwade, soos die Here gespreek en soos die Here vir hulle gesweer het. Maar wanneer hulle dan in groot benoudheid raak, verwek die Here rigters wat hulle verlos uit die hand van hulle berowers.” RIGTERS 2:15-16 AFR53
31 Augustus 2021
RIGTERS 2:18 AFR53
“En wanneer die Here vir hulle rigters verwek, was die Here met die rigter om hulle te verlos uit die hand van hul vyande al die dae van die rigter, omdat die Here medelyde gehad het vanweë hulle gekerm oor hulle verdrukkers en hulle verdringers.”
Terwyl die rigters gelewe het, het dit goed gegaan met die volk, maar wanneer die rigters dood is loop die volk weer agter ander gode aan.
“Maar wanneer die rigter dood was, het hulle nog erger as hulle vaders gehandel deur agter ander gode aan te loop, om hulle te dien en hulle daarvoor neer te buig: hulle het niks laat vaar van hulle handelinge en van hulle hardnekkige wandel nie.” RIGTERS 2:19 AFR53
Op die ou end het die volk God so kwaad gemaak dat hulle nie al die vyande rondom hulle oorwin het nie.
“Daarom het die toorn van die Here teen Israel ontvlam, en Hy het gesê: Omdat hierdie nasie my verbond wat Ek hulle vaders beveel het, oortree en na my stem nie luister nie, sal Ek ook verder geeneen van die nasies wat Josua by sy dood laat oorbly het, voor hulle uit verdrywe nie —” RIGTERS 2:20-21 AFR53
Hier volg ‘n lys van die nasies wat nie oorwin is nie.
“vyf vorste van die Filistyne en al die Kanaäniete en Sidoniërs en Hewiete wat in die gebergte Líbanon gewoon het, van die berg Baäl-Hermon af tot by die ingang na Hamat.” RIGTERS 3:3 AFR53
God het die vyande daar gehou om sy volk te toets om te sien of hulle gehoorsaam sou bly aan die gebooie van die Here.
1 September 2021
RIGTERS 3:9a AFR53
“Maar toe die kinders van Israel die Here aanroep, het die Here ‘n verlosser vir die kinders van Israel verwek, wat hulle verlos het:
Ons gaan nou kortliks kyk na die rigters wat God oor die volk aangestel het om hulle te regeer. Daar was altesaam vyftien rigters.
1. Otniël – Die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here, en as straf moes hulle agt jaar lank onder die koning van Mesopotanië dien.
“En die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here en die Here hulle God vergeet en die Baäls en die heilige boomstamme gedien.” RIGTERS 3:7 AFR53
Otniël, die jonger broer van Kaleb was die eerste rigter deur God aangestel omdat die volk na God geroep het. Otniël het die volk verlos van die koning van Mesopotanië en hulle het vir veertig jaar in vrede geleef
“Toe kry die land rus veertig jaar lank. En Ótniël, die seun van Kenas, het gesterwe.” RIGTERS 3:11 AFR53
2. Ehud – Die kinders van Israel doen weer wat verkeerd is in die oë van die Here en hul straf is om agttien jaar lank onder die koning van Moab te dien.
Die kinders van Israel roep na God en Ehud die tweede rigter word aangestel om hulle te regeer.
“Maar toe die kinders van Israel die Here aanroep, het die Here vir hulle as verlosser verwek: Ehud, die seun van Gera, die Benjaminiet, ‘n man wat links was. …..” RIGTERS 3:15a AFR53
Die volk van Israel rus toe vir die volgende tagtig jaar nadat hulle die Moabiete verslaan het.
“En hulle het in dié tyd van Moab omtrent tienduisend man verslaan, almal goed geboude en almal dapper manne, en niemand het vrygekom nie. So moes Moab dan dié dag buig onder die hand van Israel; en die land het tagtig jaar lank gerus.” RIGTERS 3:29-30 AFR53
3. Samgar – die volgende rigter wat Israel verlos is Samgar wat seshonderd Filistyne met ‘n osdrywerstok verslaan.
“Toe kom ná hom Samgar, die seun van Anat, wat van die Filistyne seshonderd man met ‘n osdrywerstok verslaan het; en ook hy het Israel verlos.” RIGTERS 3:31 AFR53
2 September 2021
RIGTERS 4:1 AFR53
“Maar ná die dood van Ehud het die kinders van Israel weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die Here.”
4. Debora – As gevolg van hul ongehoorsaamheid is die kinders van Israel twintig jaar lank swaar verdruk deur Sísera, die leërowerste van Jabin.
Debora is die eerste en enigste vroulike rigter en ook ‘n profetes. Sy en Barak het die vyand, die koning van Kanaän oorwin.
“Daarop sê Debóra vir Barak: Maak jou klaar, want dit is die dag waarop die Here Sísera in jou hand gee. Trek die Here nie voor jou uit nie? Toe trek Barak van die berg Tabor af, en tienduisend man agter hom aan.” RIGTERS 4:14 AFR53
En omdat die volk hul weer tot God gewend het, het hulle vir die volgende veertig jaar in vrede gerus.
“So moet al u vyande, Here, omkom! Maar die wat Hom liefhet, is soos die opgang van die son in sy krag. En die land het veertig jaar lank gerus.” RIGTERS 5:31 AFR53
5. Gideon – En weer doen die volk wat verkeerd is in die oë van die Here, en weer gee die Here hulle as straf oor aan hulle vyand, die keer sewe jaar in die hand van die Midianiete.
Gideon is die vyfde rigter, en God moet ‘n hele paar wonderwerke vir hom doen voor hy glo hy is as die volk se rigter gekies. Gideon het met slegs driehonderd man die Medianiete oorwin, maar hy wou die volk nie regeer nie.
“Maar Gídeon antwoord hulle: Ek wil nie oor julle heers nie, en ook my seun mag nie oor julle heers nie: die Here sal oor julle heers.” RIGTERS 8:23 AFR53
Gideon sterf in ‘n goeie ouderdom, maar na sy dood keer die volk weer terug na hul afgode aanbidding.
“Maar net toe Gídeon dood was, het die kinders van Israel weer die Baäls agternagehoereer en van Baäl-Berít vir hulle ‘n god gemaak. En die kinders van Israel het nie gedink aan die Here hulle God wat hulle uit die hand van al hul vyande rondom gered het nie.” RIGTERS 8:33-34 AFR53
6. Abimeleg is een van Gideon (ook genoem Jerubbaäl) se seuns. Hy maak sy sewentig broers dood, en met ‘n gekul word hy koning van die volk en heers vir drie jaar.
“En hy het in die huis van sy vader gegaan, in Ofra, en sy broers, die seuns van Jerúbbaäl, sewentig man, op een klip vermoor; maar Jotam, die jongste seun van Jerúbbaäl, het oorgebly, want hy het weggekruip.” RIGTERS 9:5 AFR53
‘n Dienaar van Abimeleg deurboor hom met ‘n swaard nadat ‘n vrou sy skedel verbrysel het met ‘n meulsteen.
“En Abiméleg het gekom tot by die toring en daarteen geveg; maar toe hy nader kom tot by die ingang van die toring om dit met vuur te verbrand, gooi ‘n vrou die boonste meulsteen op die hoof van Abiméleg en verbrysel sy skedel. Toe roep hy gou die dienaar, sy wapendraer, en sê vir hom: Trek jou swaard uit en maak my van kant, dat hulle nie van my kan sê: ‘n Vrou het hom gedood nie. Daarop het sy dienaar hom deurboor, en hy het gesterwe.” RIGTERS 9:52-54 AFR53
3 September 2021
RIGTERS 10:1 AFR53
“En ná Abiméleg het Tola, die seun van Pua, die seun van Dodo, ‘n man uit Íssaskar, opgetree om Israel te verlos; en hy het gewoon in Samir op die gebergte van Efraim.”
7. Tola – Die sewende rigter regeer vir drie en twintig jaar, en hy tree op om Israel te verlos.
“En hy het Israel drie-en-twintig jaar lank gerig; en hy het gesterwe en is in Samir begrawe.” RIGTERS 10:2 AFR53
8. Jaïr – Die agtste rigter is Jair en hy regeer vir 23 jaar.
“En ná hom het Jaïr, die Gileadiet, opgetree, en hy het Israel twee-en-twintig jaar lank gerig.” RIGTERS 10:3 AFR53
9. Jefta – Die negende rigter maak ‘n ondeurdagte gelofte aan God indien hy die Ammoniete sou oorwin.
“En Jefta het aan die Here ‘n gelofte gedoen en gesê: As U werklik die kinders van Ammon in my hand gee, dan sal wat uitkom, wat uit die deure van my huis uitkom my tegemoet, as ek in vrede terugkom van die kinders van Ammon, aan die Here behoort, en ek sal dit as ‘n brandoffer bring.” RIGTERS 11:30-31 AFR53
Die eerste persoon wat hy op sy terugkoms sien nadat hy die Ammoniete oorwin het, is sy enigste dogter, wat hy wel geoffer het nadat sy vir twee maande met haar vriendinne haar maagdelikheid beween het.
“En aan die end van twee maande het sy na haar vader teruggekom, en hy het die gelofte wat deur hom gedoen is, aan haar voltrek; en sy het geen man beken nie. En dit het ‘n gewoonte geword in Israel dat die dogters van Israel jaar vir jaar heengaan om die dogter van Jefta, die Gileadiet, te besing, vier dae in die jaar.” RIGTERS 11:39-40 AFR53
Jefta was ‘n rigter vir ses jaar lank en toe sterf hy en is begrawe in een van die stede van Gilead.
“En Jefta het Israel ses jaar lank gerig; en Jefta, die Gileadiet, het gesterwe en is begrawe in een van die stede van Gílead.” RIGTERS 12:7 AFR53
4 September 2021
RIGTERS 12:8 AFR53
“En ná hom het Ebsan, uit Betlehem, Israel gerig.”
10. Ebsan is die tiende rigter. Hy het Israel vir sewe jaar regeer, het dertig seuns en dertig dogters gehad en is na sy dood in Betlehem begrawe.
“En Ebsan het gesterwe en is begrawe in Betlehem.” RIGTERS 12:10 AFR53
11. Elon is die elfde rigter, en hy het Israel vir tien jaar regeer.
“En ná hom het Elon, die Sebuloniet, Israel gerig; en hy het Israel tien jaar lank gerig.” RIGTERS 12:11 AFR53
12. Abdon is die twaalfde rigter en regeer Israel vir vir agt jaar lank.
“En hy het veertig seuns en dertig kleinseuns gehad wat op sewentig jong esels gery het; en hy het Israel agt jaar lank gerig.” RIGTERS 12:14 AFR53
13. Die kinders van Israel doen weer wat verkeerd is in die oë van die Here, en God gee hulle veertig jaar lank oor in die hand van die Filistyne.
Simson is die dertiende rigter en die man wie se krag in sy lang hare was. Delila is die vrou wat hom verraai het deur sy hare af te sny.
“En hy het sy hele hart aan haar bekend gemaak en aan haar gesê: Daar het nooit ‘n skeermes oor my hoof gekom nie, want ek is ‘n nasireër van God van my moeder se skoot af: as ek geskeer sou word, sou my krag van my wyk en ek swak word en wees soos al die mense.” RIGTERS 16:17 AFR53
Simson slaap en sy lang lokke word afgesny, en so verloor Simson sy krag.
“Daarop het die Filistyne hom gegryp en sy oë uitgesteek en hom afgebring na Gasa en met koperkettings gebind; en hy moes maal in die gevangenis.” RIGTERS 16:21 AFR53
Simson word uit die gevangenis gehaal sodat die Filistyne met hom kan spot tydens ‘n partytjie. Hy word aan die stutpilare van die huis vasgemaak en hy vra vir God om hom een laaste keer sy krag terug te gee. Hy het Israel twintig jaar lank regeer.
“En Simson sê: Laat my sterwe saam met die Filistyne! En hy buig hom met krag, sodat die huis inval op die vorste en op al die mense wat daarin was. So was dan die dooies wat hy by sy sterwe gedood het, meer as die wat hy in sy lewe gedood het. Sy broers en sy hele familie het toe afgekom en hom opgeneem en opwaarts gebring en hom begrawe tussen Sórea en Estáol in die graf van sy vader Manóag. En hy het Israel twintig jaar lank gerig.” RIGTERS 16:30-31 AFR53
5 September 2021
I SAMUEL 1:17 AFR53
“En Eli antwoord en sê: Gaan in vrede, en mag die God van Israel jou bede gee wat jy van Hom gebid het.”
Eli was die veertiende rigter en ‘n priester in die dae van die rigters. Eli saam met sy twee seuns het God gedien in die tabernakel in Silo, ‘n stad naby die gebergte van Efraim.
Eli word die beste onthou vir sy seën op Hanna, Samuel se ma. Hanna het in die tempel ingegaan en bedroef tot die Here gebid en bitterlik geween, want sy wou so graag swanger wees. Sy maak ‘n gelofte aan die Here dat indien sy ‘n seun sou he, sy hom aan die Here sou gee al die dae van sy lewe.
“En Eli antwoord en sê: Gaan in vrede, en mag die God van Israel jou bede gee wat jy van Hom gebid het.” I SAMUEL 1:17 AFR53
Die Here beantwoord Hanna se gebede en Samuel word gebore, en toe hy gespeen is word hy na die tempel gebring soos Hanna belowe het.
“En die seun Samuel het die Here gedien voor Eli, en die woord van die Here was skaars in die dae: gesigte was daar nie baie nie.” I SAMUEL 3:1 AFR53
Alhoewel daar nie baie gesigte was in daardie tyd nie, roep God vir die seun Samuel, en praat met hom. God gaan Eli en sy seuns, wat geen respek vir hul posisie in die tempel het nie, oordeel.
“En Ek sal hom te kenne gee dat Ek sy huis gaan oordeel tot in ewigheid oor die ongeregtigheid wat hy geweet het; want toe sy seuns skande oor hulleself gebring het, het hy hulle nie streng bestraf nie.” I SAMUEL 3:13 AFR53
Israel veg en die Filistyne kry die oorhand. Die oudstes van Israel kan nie verstaan hoekom hulle verslaan is nie, en besluit om die verbondsark wat in Silo is te gaan haal om sodoende die geveg te wen. Eli se twee seuns Hofni en Pinehas is ook saam met die verbondsark.
Die Filistyne was verskrik toe hulle sien die verbondsark is by die Israeliete, maar hulle besluit om met mag terug te veg, en het uiteindelik die Israeliete verslaan. Natuurlik is God hier besig met ‘n plan en God laat toe dat die Filistyne wen. Israel het groot verloor met dertigduisend man wat gesneuwel het. ‘n Boodskapper vertel die nuus vir Eli.
“En die boodskapper antwoord en sê: Israel het voor die Filistyne gevlug, en daar was ook ‘n groot neerlaag onder die manskappe, en u twee seuns, Hofni en Pínehas, het ook gesterwe, en die ark van God is geneem.” I SAMUEL 4:17 AFR53
Eli hoor dat die Filistyne die ark het en dat sy twee seuns dood is, net soos God deur Sameul aan hom bekend gemaak het. Eli sterf net daar op die ouderdom van agt en negentig jaar nadat hy Israel vir veertig jaar as rigter regeer het.
“Net toe hy melding maak van die ark van God, val hy agteroor van die stoel af aan die kant van die poort, sodat hy sy nek gebreek en gesterf het; want die man was oud en swaar. En hy het Israel veertig jaar lank gerig.” I SAMUEL 4:18 AFR53
6 September 2021
I SAMUEL 7:3 AFR53
“Maar Samuel het met die hele huis van Israel gespreek en gesê: As julle met jul hele hart julle tot die Here bekeer, verwyder dan die vreemde gode en die Astártes onder julle uit, en rig julle hart op die Here en dien Hom alleen; dan sal Hy julle red uit die hand van die Filistyne.”
Samuel is die vyftiende en laaste rigter van Israel. Die Filistyne het in sy tydperk as rigter die ark aan Israel terugbesorg, waarna dit vir meer as twintig jaar by Kirjat-Jeárim gebly het.
“Toe het die manne van Kirjat-Jeárim gekom en die ark van die Here gaan haal en dit in die huis van Abinádab op die heuwel gebring; en hulle het sy seun Eleásar geheilig om die ark van die Here te bewaak.” I SAMUEL 7:1 AFR53
Terwyl die Israeliete tot God geroep het om hulle te help teen die Filistynse onderdrukkers, het Samuel hulle beveel om ontslae te raak van die valse gode wat hulle aanbid het. Met die leiding van Samuel en deur God se krag is die Filistyne oorwin, en was daar ‘n tyd van vrede vir die Israeliete.
“En Samuel was rigter oor Israel al die dae van sy lewe. Hy het van jaar tot jaar rondgetrek na Bet-el en Gilgal en Mispa, en Israel op al hierdie plekke gerig.” I SAMUEL 7:15-16 AFR53
Toe Samuel oud is raak die volk onrustig en sê vir Samuel dat hulle ‘n koning soek om oor hulle te regeer.
“en sê vir hom: Kyk, u is oud, en u seuns wandel nie in u weë nie; stel nou ‘n koning oor ons aan om ons te rig soos by al die nasies.” I SAMUEL 8:5 AFR53
Samuel waarsku sy mense dat ‘n koning baie vereistes het. Die koning sal hul seuns en dogters vat om vir hom te werk, hy sal die beste van die opbrengs van hul oeste neem, hy sal die beste van hul slawe vir homself neem, en van hul kleinvee sal hy tiendes neem. Maar, die volk gee nie om nie en soek nogtans ‘n koning.
Samuel het soos God hom beveel het vir Saul as koning gesalf en hom aan die volk as hul koning bekend gemaak.
“En Samuel sê aan die hele volk: Sien julle hom wat die Here uitgekies het? Want daar is nie een onder die hele volk soos hy nie. Toe juig die hele volk en sê: Mag die koning lewe!” I SAMUEL 10:24 AFR53
RUT
7 September 2021
RUT 1:1 AFR53
“En in die dae toe die rigters geregeer het, was daar hongersnood in die land; daarom het ‘n man uit Betlehem-Juda weggetrek om as vreemdeling te vertoef in die veld van Moab, hy en sy vrou en sy twee seuns.”
Rut se verhaal speel af gedurende die tydperk van die rigters en ons het gesien dit is die tydperk na Josua, maar voor die konings.
Elimeleg (God is my koning), sy vrou Naomi (aangenaam), en hul twee seuns Maglon (sieklik) en Giljon (wegkwyn) besluit om Moab toe te trek as gevolg van die droogte. Die droogte en gevolglike hongersnood was net in Israel, anders sou die familie van Betlehem na ‘n ander dorp in Israel getrek het, maar hulle trek land uit na Moab.
“En die naam van die man was Eliméleg en die naam van sy vrou Naómi en die naam van sy twee seuns Maglon en Giljon, Efratiete, uit Betlehem-Juda, en hulle het gekom in die veld van Moab en daar gebly.” RUT 1:2 AFR53
Elimeleg sterf, en Naomi is alleen met haar twee seuns in die vreemde land. Haar twee seuns trou met Moabitiese vrouens, Rut en Orpa, maar na tien jaar in Moab sterf beide seuns. Maglon en Giljon se name was inderdaad profeties met die dat hul jonk sterf – sieklik en wegkwyn!
Toe Elimeleg Bethlehem verlaat het, het hy sy eiendom verloor (hy het dit óf verkoop óf verloor deur skuld). Die konteks hier is dat hul grond ‘verlore’ gegaan het, en ‘n deel van die verhaal handel oor ‘die lossing’ of anders gestel die terugkoop van die land.
Israel behoort aan God en die Israeliete het basies net verblyfreg. Die eiendom wat ‘n Israeliet ‘besit’ kan dus nooit vir altyd of permanent verkoop word nie. Die grond kom altyd terug na die oorspronklike eienaar in die jubeljaar. Die gedeelte van die wet in Levitikus beskryf dit mooi.
“Die grond moet ook nie vir altyd verkoop word nie; want die land is myne, omdat julle vreemdelinge en bywoners by My is.
Daarom moet julle, in die hele land van julle besitting, lossing van die grond toelaat.
As jou broer verarm en van sy besitting verkoop, moet sy losser wat sy nabestaande is, kom en hy moet los wat sy broer verkoop het.
En as iemand geen losser het nie, maar dit kan bekostig en genoeg vind vir die lossing, moet hy die jare bereken dat dit verkoop is, en wat oorskiet, moet hy aan die man aan wie hy verkoop het, teruggee en dan na sy besitting teruggaan.
Maar as hy nie genoeg vind om dit terug te koop nie, moet die verkoopte goed in die hand van die koper bly tot die jubeljaar toe; maar in die jubeljaar moet dit vry word, en hy moet na sy besitting teruggaan.” LEVÍTIKUS 25:23-28 AFR53
Wat is die jubeljaar in Levitikus hierbo?
God gee in Genesis vir ons die basiese beginsel: God het die hemel en die aarde en alles daarin in ses dae geskape en op die sewende dag het Hy gerus.
Die wet in Levitikus bepaal ook hoe lande bewerk moet word. Ses jaar lank moet die land bewerk word, maar gedurende die sewende jaar moet die land rus. Na sewe van hierdie sewe jaar tydperke, dus na nege en veertig jaar (7 x 7 jare), kry ons jaar vyftig = jubeljaar.
“die jaar van die vyftigste landbouseisoen op ‘n besondere wyse aan die Here moet wy. Daar moet ‘n landswye afskrywing van skuld geproklameer word. Dit moet vir almal ‘n hersteljaar wees: elke Israeliet moet sy grond terugkry en mag na sy familie toe teruggaan.” LEVITIKUS 25:10 AFR83
8 September 2021
RUT 1:14 AFR53
“Toe verhef hulle hul stem en ween weer; en Orpa het haar skoonmoeder gesoen, maar Rut het haar aangehang.”
Naomi hoor die droogte in Israel is verby, en sy besluit dit is tyd om terug te gaan huis toe. Rut en Orpa pak om saam te gaan, maar Naomi sê vir hulle om terug te gaan na hul eie mense. Hulle is nog jonk genoeg om weer te trou en ‘n nuwe lewe te begin.
Orpa besluit toe om te bly, maar Rut weier, sy wil saam met Naomi gaan. Hier volg Rut se bekende woorde wat ons almal op skool geleer het (almal van ons wat bietjie ouer is 😊).
“Maar Rut sê: Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God. Waar u sterwe, sal ek sterwe en daar begrawe word! Mag die Here so aan my doen en so daaraan toedoen — net die dood sal skeiding maak tussen my en u.” RUT 1:16-17 AFR53
Rut het groot geword in Moab, ‘n land wat afgode aanbid, maar sy wil nie daar woon nie. Sy wil alles wat sy ken laat vaar om haar skoonma, ‘n nuwe God en ‘n vreemde lewenswyse te volg wat radikaal verskil van dit wat sy aan gewoond is.
Naomi en Rut pak die rit terug Betlehem toe aan en met hul aankoms is die hele stad in ‘n opskudding. Naomi is nie so opgewonde soos die vrouens nie, en sê hulle moet haar eerder Mara noem, want die Here het haar bitterheid aangedoen.
Naomi en Rut kom tydens die gars-oes in Betlehem aan, en die oes is gewoonlik in Maart en April van elke jaar. Ons weet nou al dat die tydperk gedurende Paastyd is.
“So het Naómi dan teruggekeer en Rut, die Moabitiese, haar skoondogter wat saam met haar uit die veld van Moab teruggekom het; en hulle het in Betlehem gekom in die begin van die gars-oes.” RUT 1:22 AFR53
9 September 2021
RUT 2:1 AFR53
“En Naómi het ‘n bloedverwant gehad van haar man se kant, ‘n vermoënde man, uit die geslag van Eliméleg, wie se naam Boas was.”
Naomi het ‘n bloedverwant aan haar oorlede man se kant, wat ook in Betlehem woon. Hy is ‘n vermoënde man en sy naam is Boas, wat beteken ‘in hom is daar krag’.
Naomi en Rut het met niks in Betlehem aangekom en Rut besluit om are op te tel in die garslande sodat hulle kos het om te eet.
“En Rut, die Moabitiese, het vir Naómi gesê: Laat ek tog die land ingaan en are optel agter dié een in wie se oë ek genade sal vind. Toe antwoord sy haar: Gaan, my dogter.” RUT 2:2 AFR53
Levitikus gee weereens vir ons die wet wat voorgeskryf is om vir die armes te sorg.
“En as julle die opbrings van jul land oes, moet jy die kant van jou land as jy oes nie heeltemal afoes en die are wat val, nie versamel nie. Vir die arme en die vreemdeling moet jy dit laat oorbly. Ek is die Here julle God.” LEVÍTIKUS 23:22 AFR53
Toeval is nie ‘n woord in die Hebreeuse taal nie, want niks in die Bybel gebeur toevallig nie. Wyle Chuck Missler het dit beter gestel, toeval is wat gebeur wanneer God ‘under cover’ werk!
God beplan dat Rut haar are optel in Boas se landerye, en dat hy haar raaksien.
“Daarop sê Boas aan sy dienaar, die opsigter oor die snyers: Van wie is hierdie jong vrou? En die dienaar, die opsigter oor die snyers, antwoord en sê: Dit is die jong Moabitiese vrou wat saam met Naómi uit die veld van Moab teruggekom het;” RUT 2:5-6 AFR53
Boas praat met Rut en sê dat sy nie na ander lande moet gaan nie, maar net op sy lande die are moet optel, want daar sal sy veilig wees. Sy moet ook aanmeld by sy diensmeisies en as sy dors het kan sy water gaan haal. Hy gee ook aan sy mense opdrag om ekstra are vir haar te los. Sy het hard gewerk en omtrent ‘n efa gars opgetel. Dit is ongeveer genoeg kos vir vyf dae vir haar en Naomi.
“En sy het op die land opgetel tot die aand; en toe sy uitslaan wat sy opgetel het, was dit omtrent ‘n efa gars.” RUT 2:17 AFR53
Naomi is beindruk met die hoeveelheid gars wat Rut huis toe gebring het, en sy sê vir haar dat Boas familie is, ‘n losser. En hiermee word Boas, die losser, die hoofkarakter in hierdie verhaal.
“En Naómi sê vir haar skoondogter: Mag hy geseënd wees deur die Here, wat sy guns aan lewende en dode nie onttrek het nie. Verder sê Naómi vir haar: Die man is ons nabestaande, hy is een van ons lossers.” RUT 2:20 AFR53
10 September 2021
RUT 3:1 AFR53
“Toe sê haar skoonmoeder Naómi vir haar: My dogter, sal ek nie vir jou ‘n rusplek soek, dat dit goed met jou kan gaan nie?”
Naomi wil vir Rut ‘n rusplek soek. Hierdie is ‘n ander manier om te sê dat Naomi vir Rut ‘n man wil soek. Naomi het dieselfde in hoofstuk 1 aan altwee skoondogters toegewens.
“Mag die Here gee dat julle ‘n rusplek vind, elkeen in die huis van haar man; en sy het hulle gesoen. Maar hulle het hul stem verhef en geween” RUT 1:9 AFR53
Naomi identifiseer Boas as ‘n moontlike man vir Rut, en sy gaan help om die twee bymekaar uit te bring. Sy ken natuurlik die Joodse gewoontes, so sy kan vir Rut van goeie raad voorsien.
“Nou dan, is Boas by wie se diensmeisies jy gewees het, nie ons bloedverwant nie? Kyk, hy wan vannag op die vloer gars uit.” RUT 3:2 AFR53
Wan die gars op die vloer uit? Hierdie is ‘n proses om die gars te skei van die kaf (Skei die eetbare gedeeltes van dit wat mens nie kan eet nie). Wanneer die gars in die lug gegooi word, waai die wind die ligte kaf weg van die gars wat swaarder is, en die twee val in verskillende hopies. So dit is waarmee Boas die aand besig is.
Naomi gee vir Rut spesifieke instruksies, wat sy toe ook so uitvoer.
“Was jou dan en salf jou en trek jou klere aan, en gaan af na die vloer toe; laat jou deur die man nie herken totdat hy klaar geëet en gedrink het nie. Maar as hy gaan slaap, let dan op die plek waar hy gaan slaap; kom dan nader, maak sy voetenent oop en gaan lê; en hy sal jou te kenne gee wat jy moet doen.” RUT 3:3-4 AFR53
Boas skrik middernag wakker en kry ‘n vrou by sy voetenent.
“En hy vra: Wie is jy? Toe antwoord sy: Ek is Rut, u dienares; brei dan u vleuel oor u dienares uit, want u is die losser.” RUT 3:9 AFR53
Boas praat met Rut en sê dat sy geseënd is deur die Here en dat dit goed is dat sy nie agter die jongmanne aangeloop het nie. Hy sê ook dat hy alles wat sy vra sal doen, want die stad weet dat sy ‘n deugsame vrou is. Wat die losser betref, is daar net een klein probleem, en dit is dat hy nie die enigste losser is nie.
“Nou dan, dit is sekerlik waar dat ek die losser is, maar daar is nog ‘n losser, nader as ek.”RUT 3:12 AFR53
Rut vertrek die oggend baie vroeg terug na Naomi met a tjalie vol gars, en natuurlik vertel Rut vir haar alles wat gebeur het.
“En sy antwoord: Sit stil, my dogter, totdat jy weet hoe die saak uitval; want die man sal nie rus tensy hy vandag nog die saak afgehandel het nie.” RUT 3:18 AFR53
11 September 2021
RUT 4:1 AFR53
“En Boas het opgegaan na die poort en daar gaan sit. En toe die losser juis daar verbygaan van wie Boas gespreek het, sê hy: Vriend, kom nader, en sit hier! En hy het nader gekom en gaan sit.”
Die stadspoort is die plek waar alle transaksies en regsake uitgevoer word en dit is hoekom
Boas nou in die poort gaan sit. Hy wag vir iemand, die ander losser, wat toe juis daar verbygaan.
Boas roep die man nader en nooi hom om by hom te kom sit. Boas roep ook tien mans van die oudstes om by hulle te kom sit, natuurlik as getuies.
Die grond moet vir Naomi gekoop of gelos word. Boas vestig die aandag van hierdie man op die feit dat Naomi ‘n bloedverwant nodig het om die grond vir haar los te koop noudat sy terug is in die Betlehem.
‘n Lossing transaksie het vier vereistes – Die losser moet:
1) ‘n bloedverwant wees;
2) kan presteer;
3) bereid wees om te presteer; en
4) moet al die betrokke verpligtinge aanvaar.
Die bloedverwant waarmee Boas praat sê hy is bereid om die grond te koop. Boas se moed sak in sy skoene en hy herinner die man dat die transaksie twee verpligtinge het. Die eerste is die grond, en die tweede is die Moabitiese vrou waarmee die man moet trou om so Elimeleg se nageslag voort te sit.
Die kind wat uit so ‘n huwelik gebore word is die wettige erfgenaam van die grond wat nou hier ter sprake is. So die losser staan net in vir die pa wat dood is, en hy betaal vir die grond, maar dit is nooit sy eiendom nie. Gelukkig vir Boas besluit die man toe daarteen.
“En die losser sê: Ek kan dit nie vir my los nie, anders bederf ek my erfdeel; neem jy my lossingsreg oor, want ek kan nie los nie.” RUT 4:6 AFR53
Die verhaal het ‘n goeie einde met Boas en Rut wat met mekaar trou.
“So het Boas Rut dan geneem, en sy het sy vrou geword; en hy het by haar ingegaan, en die Here het vir haar swangerskap gegee, en sy het ‘n seun gebaar.” RUT 4:13 AFR53
Die seun wat hier gebore is se naam is Obed. Die einde van die hoofstuk gee vir ons die geslagsregister en toon dat Dawid uit hierdie bloedlyn gebore word. Dit gee natuurlik ook vir ons Jesus se bloedlyn, en dit is een van die redes hoekom die verhaal van Rut belangrik is.
“En die buurvroue het hom ‘n naam gegee en gesê: Vir Naómi is ‘n seun gebore! En hulle het hom genoem Obed; hy was die vader van Ísai, die vader van Dawid. ” RUT 4:17 AFR53
12 September 2021
OPENBARING 3:20 AFR53
“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.”
Die boek Rut is profeties in sy geheel en die karakters in die verhaal het elkeen sy eie rol te speel.
– Rut is ‘n prentjie van die kerk,
– Naomi is ‘n prentjie van Israel, en
– Boas is ‘n prentjie van Jesus.
Lees die onderstaande en vervang elke keer die karakter met dit wat hulle voorstel!
Om Rut na Naomi te bring, moes Naomi uit haar land uit verban word.
– Die Joodse volk is op meer as een geleentheid uit hul land uit verban (diaspora) en die wêreld ingestuur, en daar het hulle die wêreld ontmoet en ook die kerk.
Wat die wet nie kon doen nie, het genade gedoen.
– Rut besluit om haar rug op haar gode te draai, en Naomi se God te volg.
– Boas besluit om met ‘n vrou van Moab te trou, al word dit deur die wet verbied.
Rut vervang nie Naomi nie.
– Die kerk vervang nie Israel nie (vervangings teologie), elke groep het sy eie lot.
Rut leer van Boas se weë deur Naomi.
– Rut het van ‘n paar van die Joodse wette en gewoontes geleer deur haar ontmoeting met Boas, bv: die wet om vir die armes sorg, deur gars op die lande te los en die wet wat voorsiening maak vir ‘n weduwee om weer te trou, met ‘n losser in die geval.
Naomi ontmoet Boas deur Rut.
– Naomi het van Boas geweet, maar hom eers persoonlik ontmoet deur Rut wat hom eerste geleer ken het.
Maak nie saak hoe lief Boas vir Rut was nie, hy moes vir haar wag om die eerste skuif te maak.
– Jesus klop aan die deur, maar Hy wag vir jou om die deur oop te maak.
Boas, en nie Rut nie, konfronteer die Losser.
– “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.” HEBREËRS 7:25 AFR53
13 September 2021
RUT 2:23 AFR53
“So het sy dan by die diensmeisies van Boas aangesluit om are op te tel totdat hulle met die gars-oes en die koringoes klaar was; en sy het by haar skoonmoeder gewoon.”
Die boek Rut word elke jaar tydens die fees van Weke gelees. Hierdie fees ken ons as Pinkster en vind plaas sewe weke na die fees van Eerste Vrugte of Jesus se opstanding.
“Dan moet julle tel van die dag ná die sabbat, van die dag af as julle die beweegoffergerf bring — sewe volle weke moet dit wees; tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel; dan moet julle ‘n nuwe spysoffer aan die Here bring.” LEVÍTIKUS 23:15-16 AFR53
In Hebreeus word hierdie fees Shavuot genoem, want Shavuot beteken weke en in Grieks is die fees Pentacost omdat dit vyftig beteken.
Rut begin werk op Boas se lande tydens die gars-oes toe dit Paasfees was, en sy werk tot die koringoes klaar is wat aandui dat dit in die tydperk van die fees van Weke val.
As ons weet hoe Shavuot gevier word, sal ons verstaan hoekom Rut se verhaal belangrik is vir die fees.
Elke gesin moet 2 brode bring wat met ongeveer drie kilogram koringmeel gemaak is. Dan moet die brode met suurdeeg gemaak word.
“Julle moet uit jul woonplekke twee beweegbrode bring; dit moet van twee-tiendes van ‘n efa fynmeel wees; gesuurd moet dit gebak word as eerstelinge aan die Here.” LEVÍTIKUS 23:17 AFR53
Ons weet al teen die tyd dat suurdeeg in die Bybel ‘n prentjie is van sonde.
Om te bepaal wat die brode met die suurdeeg voorstel is dit goed om eers te kyk wat die brode nie voorstel nie.
Waar in die vorige feeste is brood geëet? Dit was met die fees van ongesuurde brode. Die ongesuurde brode, wat sonder suurdeeg gebak is, is ‘n voorstelling Jesus.
So die brode wat met suurdeeg gebak moet word, kan nie vir Jesus voorstel nie. Ook nie die Heilige Gees nie, want dieselfde reëls geld. Jesus en die Heilige Gees is sonder sonde.
Die brode stel twee groepe mense voor, twee groepe met sonde! Die twee groepe mense in Jesus se tyd was die ‘Jews’ en die ‘Gentiles’. Die Jode en die heidene wat as twee verskillende groepe, Christene geword word het en so ‘n derde groep vorm.
14 September 2021
HANDELINGE 1:6 AFR53
“Die wat bymekaargekom het, vra Hom toe en sê: Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?”
Jesus het na Sy opstanding vir veertig dae lank aan Sy volgelinge verskyn en hulle vertel van die koninkryk van God.
“En toe Hy nog met hulle saam was, het Hy hulle bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader, wat julle, het Hy gesê, van My gehoor het.” HANDELINGE 1:4 AFR53
Die wat bymekaar gekom het vra toe vir Jesus of Hy die koninkryk vir Israel weer gaan oprig, en Jesus antwoord dat dit hulle nie toekom om te weet wat die Vader deur Sy eie mag bepaal het nie. Maar, dat hulle krag sal ontvang as die Heilige Gees oor hulle kom.
Veertig dae na Jesus se opstanding, vaar Hy op na die hemel!
“En nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien; en ‘n wolk het Hom voor hulle oë weggeneem.” HANDELINGE 1:9 AFR53
Tien dae lank wag Jesus se volgelinge, hulle verstaan nie, en hulle weet nie hoekom nie, maar hulle wag.
“En toe die dag van die pinksterfees aangebreek het, was hulle almal eendragtig bymekaar.” HANDELINGE 2:1 AFR53
En dit waarvoor hulle vir tien dae lank gewag het gebeur!
“En daar kom skielik uit die hemel ‘n geluid soos van ‘n geweldige rukwind, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. Toe is deur hulle tonge gesien soos van vuur, wat hulleself verdeel en op elkeen van hulle gaan sit. En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek.” HANDELINGE 2:2-4 AFR53
Ons herdenk op Pinkster die dag wat die Heilige Gees oor die Apostels uitgestort is en hulle die krag van bo ontvang het en in verskillende tale met die omstaanders gepraat het.
Jode wat van oor die hele wêreld gekom het om hierdie verpligte fees by te woon het in hul eie land se taal die Woord van God gehoor.
Die hele wêreld van daardie tyd was Noord Afrika, Europa & Asië.
Drie van die sewe feeste was verpligte feeste wat die Joodse mans bo 20 elke jaar moes bywoon en Shavuot was een van die verpligte feeste.
Die aantal mense wat die dag gedoop is, en by die getal van die gelowiges bygevoeg is, was omtrent drie duisend mense.
Ons opdrag om die Woord van God uit te dra geld vandag nog vir ons, tot en met die eindtye!
Comments