top of page
  • Regina Torre

Israel: Wat was, wat is, en wat kom! Moses, die Tabernakel en die Tempels!

Updated: Jan 26, 2023

16 Julie 2021

Moses se Tabernakel

EXODUS 26:30 AFR53

“So moet jy dan die tabernakel oprig volgens die plan wat jou op die berg getoon is.”


Min temas neem ons deur die meeste van die Bybel se geskiedenis soos die tempel van God wat begin in Exodus en eindig in Openbaring.


God gee vir Moses op die berg Sinai die opdrag om ‘n tabernakel te bou sodat Hy in hul midde kan woon. Moses moes die tempel bou volgens die spesifieke instruksies wat God vir hom op die berg gegee het.


Tabernakel in Hebreeus is Mishkan en beteken woonplek.


“Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon. EXODUS 25:8 AFR53


Die tabernakel is opgerig op die eerste dag van die eerste maand (Nisan), in jaar twee in die woestyn.


“En in die eerste maand, in die tweede jaar, op die eerste van die maand, is die tabernakel opgerig.” EXODUS 40:17 AFR53


Elke item in die tabernakel het ‘n verwysing na Jesus en ons sal dit sien in die dae wat volg. Ek gaan kortliks die items van die tabernakel verduidelik en dan gaan ons leer van al die tempels wat was en wat nog kom.

 

17 Julie 2021

EXODUS 40:18 AFR53

“En Moses het die tabernakel opgerig: hy het sy voetstukke neergesit en sy style daarop gesit en sy dwarshoute vasgemaak en sy pilare opgerig.”


Die tabernakel se raamwerk is in die vorm van ‘n reghoek. Die lang kante wys noord en suid en elke kant het 20 rame. Die agterkant van die tabernakel is wes en het 6 rame. Die tabernakel het net een ingang en die wys oos.


Die tabernakel het twee vertrekke in die binnekant, die Allerheiligste vertrek wat ‘n perfekte vierkant is, en die Heilige vertrek wat ‘n reghoek is en wat ook die ingang van die tabernakel het.

Die twee vertrekke word met ‘n gordyn wat ‘n voorhangsel genoem word geskei. Die gordyn word gemaak van fyn dubbeldraad-linne gekleur in pers, purperrooi (blou) en bloedrooi en gerubs word daarop uitgebeeld.


“Verder moet jy ‘n voorhangsel maak van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne. As kunstige werk moet jy dit maak, met gérubs.” EXODUS 26:31 AFR53


Die ingang van die tabernakel kry ook ‘n gordyn van fyn dubbeldraad-linne gekleur in pers, blou en bloedrooi.


“Jy moet ook vir die ingang van die tent ‘n bedekking maak van pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn dubbeldraad-linne, veelkleurige werk.” EXODUS 26:36 AFR53


Die simboliese betekenis van die kleure:

Blou: Jesus, die Seun van God.

Pers: Jesus, die Koning

Bloedrooi: Jesus, die geslagte Lam van God

 

18 Julie 2021

EXODUS 40:3 AFR53

“En jy moet daarin plaas die ark van die Getuienis en die ark met die voorhangsel bedek.”

Die ark van die Getuienis is die enigste meubelstuk in die Allerheiligste vertrek. Moses bring die ark in die tabernakel in en hang die voorhangsel op om die vertrek af te skort.


“Toe het hy die ark in die tabernakel gebring en die voorhangsel tot bedekking opgehang en die ark van die Getuienis bedek, soos die Here Moses beveel het.” EXODUS 40:21 AFR53


Die Allerheiligste vertrek waarin die ark gebêre word, word slegs een keer per jaar deur die hoë priester besoek. Die dag staan bekend as die Dag van Versoening of Yom Kippur wat elke jaar op die 10de dag van die maand Tishri (Sept / Okt) gevier word. Hierdie is die middelste fees van die drie herfs feeste wat jaarliks deur die Joodse volk gevier word.


“Maar op die tiende van hierdie sewende maand is dit die versoendag. ‘n Heilige vierdag moet dit vir julle wees; dan moet julle jul verootmoedig en aan die Here ‘n vuuroffer bring.” LEVÍTIKUS 23:27 AFR53


Woordstudie van die woorde in bogenoemde vers:

Yom beteken dag en Kippur beteken bedek – soos in ‘bedek deur die bloed van Jesus.’ Yom Kippur in afrikaans is dus Dag van Bedekking.


Vierdag is die Hebreeuse woord miqra wat kleedrepetisie beteken.


Verootmoedig beteken om nederig te wees voor God, in hierdie geval om te vas.


My vertaling van Levitikus 23:27 – Maar op die tiende van hierdie sewende maand is dit ‘n dag van bedekking. ‘n Heilige kleedrepetisie moet dit vir julle wees, en julle moet vas en aan die Here ‘n vuuroffer bring.


Op die dag van Versoening of Yom Kippur doen die hoëpriester versoening – eerste vir homself en dan vir die volk Israel as geheel.


Hierdie tweede vertrek van die tabernakel het deur die tye bekend geraak as die ‘Holy of Holies’ maar dit word egter nooit so in die Bybel beskryf nie.


“maar in die tweede die hoëpriester alleen, een maal in die jaar, nie sonder bloed nie, wat hy offer vir homself en vir die sondes van die volk uit onwetendheid begaan —” HEBREËRS 9:7 AFR53


Jesus het toe Hy gekruisig was, met Sy eie bloed, eens en vir altyd as ons Hoë Priester, vir ons almal se sondes betaal.


“Maar Christus, wat opgetree het as Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.” HEBREËRS 9:11-12 AFR53

 

19 Julie 2021

EXODUS 40:4a AFR53

“Dan moet jy die tafel inbring en daarop regsit wat daarop behoort. …………”


Die tafel met die vertoonbrood word in die Tabernakel in die Heilige vertrek teen die noordekant neergesit.


“Hy het ook die tafel in die tent van samekoms neergesit, aan die kant van die tabernakel, teen die noorde, buitekant die voorhangsel.” EXODUS 40:22 AFR53


Twaalf plat brode (vertoonbrode) gemaak van fynmeel, word in twee stapels op die vertoontafel neergesit. Die twaalf brode het vars gebly vir ‘n hele week en het elk van die twaalf stamme van Israel verteenwoordig. Die brode is elke week op die Sabbat (Satedag) deur Aäron vervang en die ‘ou’ brode is deur Aäron en sy seuns geëet.


“En hy het die brood daarop gerangskik voor die aangesig van die Here, soos die Here Moses beveel het.” EXODUS 40:23 AFR53


Die tafel met toonbrode was ‘n voortdurende herinnering aan God se ewige verbond met sy volk en sy voorsiening vir die twaalf stamme van Israel, verteenwoordig deur die twaalf brode.


In Johannes 6:35 het Jesus gesê:


“En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.” JOHANNES 6:35 AFR53


en later in vers 51 het Jesus vêrder gesê:


“Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.” JOHANNES 6:51 AFR53


Op die tafel is brood en wyn vertoon in en op goue eetgerei in die teenwoordigheid van God. Ons het hier in die tabernakel ‘n prentjie van Jesus in die uitbeelding van die nagmaal tafel. Die brood ‘n prentjie van Jesus se liggaam gebreek vir ons genesing en die wyn ‘n prentjie van Jesus se bloed vergiet as betaling van ons sondes.


“Maak ook sy skottels en sy rookpanne en sy kanne en sy bekers waarmee gegiet moet word; van suiwer goud moet jy dit maak. En op die tafel moet jy altyddeur toonbrood voor my aangesig neersit.” EXODUS 25:29-30 AFR53

 

20 Julie 2021

EXODUS 40:4b AFR53

“………….. Jy moet ook die kandelaar inbring en sy lampe opsteek.”


Die kandelaar of menorah se plek is teenoor die tafel van toonbrode aan die suidekant van die Heilige vertrek.


Spesifieke instruksies is gegee vir die maak van die kandelaar. Die kandelaar is in een stuk gemaak van suiwer goud met ‘n stam en drie arms aan elke kant van die stam.


Die kandelaar was die enigste bron van lig in die Heilige vertrek. Die lig is ‘n duidelike prentjie van Jesus wat die lig van die wêreld is.


“En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” JOHANNES 8:12 AFR53


Die sewe lampe van die kandelaar het ewigdurig gebrand met suiwer olyfolie en is soggens en saans nagesien deur Aäron en sy seuns.


“En jý moet die kinders van Israel beveel dat hulle vir jou suiwer, uitgestampte olyfolie vir die kandelaar bring, om gedurigdeur ‘n brandende lamp te hê.” EXODUS 27:20 AFR53


Die olie is ‘n prentjie van die Heilige Gees. So werk die Heilige Gees in elkeen van ons om ons lig in die wêreld te laat skyn sodat God verheerlik kan word.


“Julle is die lig van die wêreld. ‘n Stad wat bo-op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en ‘n mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” MATTHÉÜS 5:14-16 AFR53

 

21 Julie 2021

EXODUS 40:5 AFR53

“En jy moet die goue altaar vir die reukwerk voor die ark van die Getuienis neersit. Dan moet jy die bedekking van die ingang van die tabernakel ophang.”


Die reukoffer altaar is die derde en finale item in die Heilige vertrek en is voor die voorhangsel van die tempel wat die Allerheiligste van die Heilige vertrekke skei. Die altaar is soos die tafel van toonbrode ook van akasiahout gemaak en met goud oorgetrek.


Aäron se werk was om elke oggend en elke aand van elke dag wierook op die altaar te plaas en aan die brand te steek met die kole van die brandofferaltaar.


“En Aäron moet daarop reukwerk van speserye aan die brand steek; elke môre as hy die lampe regmaak, moet hy dit aan die brand steek. En as Aäron teen die aand die lampe opsteek, moet hy dit aan die brand steek as ‘n voortdurende reukwerk voor die aangesig van die Here in julle geslagte.” EXODUS 30:7-8 AFR53


Spesiale instruksies is gegee vir die speserye wat gebruik is vir die reukwerk. Die instruksies moes spesifiek nagevolg word, en mag net in die tabernakel gebrand word. Niemand mag die resep vir eie gebruik gemaak het nie, die straf daarvoor was die dood.

“Verder het die Here vir Moses gesê: Neem vir jou speserye: storaksgom en naeltjies en gálbanum — speserye en ook suiwer wierook; alles in gelyke hoeveelhede, en maak daar reukwerk van, ‘n mengsel soos die salfmenger dit maak, met sout gemeng, suiwer, heilig. En vrywe ‘n gedeelte daarvan heeltemal fyn, en sit ‘n deel daarvan neer voor die Getuienis in die tent van samekoms, waar Ek met jou sal saamkom; hoogheilig moet dit vir julle wees.” EXODUS 30:34-36 AFR53


Die rook en reuk van die wierook is ‘n prentjie van ons almal se gebede, wat opwaarts na God beweeg.


“En ‘n ander engel het gekom en met ‘n goue wierookbak by die altaar gaan staan, en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die heiliges op die goue altaar voor die troon te lê; en die rook van die reukwerk het met die gebede van die heiliges uit die hand van die engel opgegaan voor God.” OPENBARING 8:3-4 AFR53

 

22 Julie 2021

EXODUS 25:8-9 AFR53

“Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon. Volgens alles wat Ek jou laat sien — die voorbeeld van die tabernakel en die voorbeeld van alles wat daarby behoort — so moet julle dit maak.”


Moses het sy opdrag uitgevoer en die tabernakel gebou met die hulp van Besáleël en Ohóliab en elkeen wat kunsvaardig was. Net soos vandag nog steeds het God mense se harte opgewek om ‘n spesifieke taak uit te voer.


Wat is jou taak wat God spesifiek in jou hart opgewek het?


“En Moses het Besáleël en Ohóliab geroep en elkeen wat kunsvaardig was, in wie se hart die Here wysheid gegee het; elkeen wie se hart hom opgewek het om aan die werk te gaan om dit klaar te maak.” EXODUS 36:2 AFR53


Net die priesters was toegelaat om in die tabernakel te werk. Aäron was die eerste hoëpriester en sy seuns het saam met hom in die tabernakel gewerk.


Die tempel se ingang weet ons is aan die oostekant. Wanneer die priesters by die tempel ingegaan het, het hulle die volgende gesien. Die menorah wat met sy sewe lampe aan die linkerkant gebrand het en die tafel van toonbrode aan die regterkant.


Reg voor hulle teen die gordyn of die voorhangsel was die reukofferaltaar. Wanneer die hoëpriester een maal per jaar agter die voorhangsel ingaan, sien hy die verbondsark.


Goud se simboliek: Dit wys op God se godheid en heiligheid, aangesien die meeste voorwerpe van goud in die tabernakel uitgesonder is vir gebruik in diens van God.

 

23 Julie 2021

EXODUS 40:6 AFR53

“Jy moet ook die brandofferaltaar voor die ingang van die tabernakel van die tent van samekoms neersit.”


Die brandofferaltaar is voor die ingang van die tabernakel van die tent van samekoms.


“En hy het die brandofferaltaar by die ingang van die tabernakel van die tent van samekoms neergesit, en hy het daarop die brandoffer en die spysoffer gebring, soos die Here Moses beveel het.” EXODUS 40:29 AFR53


Die volk bring hul offers aan God met vee sonder gebrek. Die bloed van die offer bewerk versoening vir die siel, want die siel van die vlees is in die bloed.


“En elkeen uit die huis van Israel en uit die vreemdelinge wat onder hulle vertoef, wat maar enigsins bloed eet — teen die een wat die bloed eet, sal Ek my aangesig rig en hom uitroei onder sy volk uit. Want die siel van die vlees is in die bloed, en Ek het dit aan julle op die altaar gegee om vir julle siele versoening te doen; want die bloed bewerk versoening deur die siel.” LEVÍTIKUS 17:10-11 AFR53

Die offerhandes, hetsy vrywillig of verpligtend, is deur individue gedoen vir elkeen se eie sondes. ‘n Dier sonder gebrek is na die priester gebring, hande is op die dier gelê, en dan geslag. Die bloed is op die brons brandofferaltaar gesmeer en dele van die dier is dan op die vuur geoffer. Die persoon stap daar weg met die wete dat sy sonde vir nou vergewe is.


Jesus het aan die kruis gesterf om as ‘n geslagte Lam ons sondes weg te neem. Dus, die brons brandofferaltaar is die plek waar God met ons sondes werk – die onskuldige Lam wat geslag was 2000 jaar gelede om eens en vir altyd jou en my sondes te vergewe.


“omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,” I PETRUS 1:18-19 AFR53


Die brandofferaltaar word gemaak van koper of brons en dit is simbolies van oordeel. Dit is die plek waar jy jou sondes verklaar.

 

24 Julie 2021

EXODUS 40:7 AFR53

“En jy moet die waskom tussen die tent van samekoms en die altaar neersit en daar water in gooi.”


Die bronswaskom is gemaak van die bronsspieëls wat die vrouens van Egipte saamgebring het, en is tussen die brandofferaltaar en die tent van ontmoeting geplaas. Aäron en sy seuns moes elke keer voor hul na die altaar of tent van ontmoeting gaan eers hul hande en voete was. Die priesters het dus gedurig gewas gedurende die tyd wat hulle diens gedoen het in die tempel.


“Hy het ook die koperwaskom gemaak met sy kopervoetstuk, uit die spieëls van die diensdoende vroue wat by die ingang van die tent van samekoms gedien het.” EXODUS 38:8 AFR53


Die waskom was net toeganklik vir die priesters wat diens doen in die tempel. So is die Woord van God net verstaanbaar vir God se kinders wat duidelikheid kry oor wat hul lees met die hulp van die Heilige Gees.

“Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk. Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” I KORINTHIËRS 2:12-14 AFR53


In die Bybel word die Woord van God vele kere vergelyk met water, want die Woord is die middel wat ons skoon was van ons sondes. Soos die stof van ons voete afgewas moet word nadat ons op ‘n grondpad geloop het, so moet die wêreld se invloed van ons afgewas word wanneer ons die Bybel lees.


“Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.” I JOHANNES 5:7-8 AFR53

 

25 Julie 2021

EXODUS 40:33 AFR53

“Hy het ook die voorhof opgerig, rondom die tabernakel en die altaar, en die bedekking vir die poort van die voorhof opgehang. So het Moses dan die werk voltooi.”


Die voorhof is die omheining van die tabernakel en die laaste item van die tabernakel wat Moses moes oprig. Die omheining se materiaal is wit, die pilare is silwer en die pilare se voetstukke is brons.


“Die lengte van die voorhof moet vyftig meter wees, sy breedte vyf en twintig en sy hoogte twee en ‘n half. Dit moet van goed geweefde linne wees en sy voetstukke van brons.” EKSODUS 27:18 AFR83


Die geweefde wit linne spreek van geregtigheid en is simbolies van Jesus, die Seun van die mens, vlekkeloos, rein en sondeloos.


Die silwer pilare van die omheining is simbolies van die verlossing wat alleen deur Jesus Christus kom. Ons het reeds geleer dat Josef verkoop was vir silwer stukke en Jesus was verraai vir silwer stukke. Silwer is ‘n betaalmiddel en toon dat Jesus ten volle vir ons sondes aan die kruis betaal het.

Die brons voetstukke is simbolies van die goddelike karakter van Jesus wat die vuur van God se toorn, heiligheid en geregtigheid op Hom geneem het deur ‘n sondoffer te word.


Die voorhof het net een ingang wat aan die oostekant geleë is en herinner ons daaraan dat daar net een weg na die Vader is, en dit is deur Sy Seun Jesus.


“Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” JOHANNES 14:6 AFR53


Die materiaal van die ingang is van blou, pers en bloedrooi wolstof.


“In die ingang van die voorhof moet daar ‘n afskorting van tien meter wees. Dit moet van blou, pers en bloedrooi wolstof en goed geweefde linne wees, netjiese borduurwerk.” EKSODUS 27:16a AFR83


Die simboliese betekenis van die ingang se kleure:

Blou: Jesus, die Seun van God.

Pers: Jesus, die Koning

Bloedrooi: Jesus, die geslagte Lam van God

 

26 Julie 2021

EXODUS 40:34 AFR53

“Toe het die wolk die tent van samekoms oordek, en die heerlikheid van die Here het die tabernakel vervul,”


Toe Moses die tabernakel se bou voltooi het, het die wolkkolom die tabernakel wat in die middel van die kamp opgerig is oordek, en met die heerlikheid van die Here gevul.

Wanneer die wolk van die tabernakel oplig, dan weet die volk dis weer tyd om te trek, maar as die wolk nie opgetrek is nie, bly hul waar hul is.


“En as die wolk van die tabernakel af optrek, het die kinders van Israel elke keer weggetrek op al hulle togte; maar as die wolk nie optrek nie, dan trek hulle nie weg nie, totdat dit weer optrek.” EXODUS 40:36-37 AFR53


God is dag en nag baie sigbaar by Sy volk – bedags met die wolkkolom en snags met die vuurkolom.

Net so is die Heilige Gees dag en nag by elkeen van ons wat Jesus as Verlosser en Saligmaker aanvaar het.


“Want die wolk van die Here was bedags op die tabernakel, en vuur was snags daarin, voor die oë van die hele huis van Israel, op al hulle togte.” EXODUS 40:38 AFR53



 

27 Julie 2021

Salomo se Tempel

II KRONIEKE 3:1 AFR53

“En Salomo het die huis van die Here begin bou in Jerusalem op die berg Moría waar Hy aan sy vader Dawid verskyn het, op die plek wat Dawid reggemaak het op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet.”


Dawid wou baie graag vir God ‘n tempel bou, maar God het hom belet om dit te doen omdat hy bloed op sy hande gehad het.


“Maar God het aan my gesê: Jy mag vir my Naam nie ‘n huis bou nie, want jy is ‘n man van oorloë, en jy het bloed vergiet.” I KRONIEKE 28:3 AFR53


Niks het Dawid egter verhoed om die boumateriaal vir die tempel bymekaar te maak nie.


“Want Dawid het gesê: My seun Salomo is jonk en teer, en die huis wat vir die Here gebou moet word, moet buitengewoon groot wees, tot ‘n roem en ‘n sieraad van al die lande; laat my dan vir hom die bou voorberei. Daarom het Dawid voor sy dood groot toebereidsels gemaak.” I KRONIEKE 22:5 AFR53


En die tempel wat Salomo gebou het was inderdaad buitengewoon groot!

Die tempel se grondplan vir die Heilige en Allerheiligste is 60 el in lengte en 20 el in die breedte. Rofweg 30 meter by 10 meter. ( 1 el is rofweg 1/2 meter )

Die Allerheiligste vertrek is ‘n vierkant van 10 x 10 meter, en die Heilige vertrek is ‘n reghoek van 20 x 10 meter.


Die voorportaal kom nuut by (was nie deel van die tabernakel nie) en is dieselfde afmetings as die Allerheiligste vertrek (10 x 10 meter). Die hoogte van die voorportaal was indrukwekkend – 120 el of 60 meter.


Twee pilare word ook nuut bygevoeg voor die tempel en elk het ‘n naam. Regs was Jagin (Hy sal vestig) en links was Boas (krag), wat moontlik beteken: God sal die tempel in krag vestig.

 

28 Julie 2021

II KRONIEKE 3:5-6 AFR53

“En die groot vertrek het hy met sipreshout oordek en dit met goeie goud oorgetrek en daar palmbome en kettings op aangebring. Verder het hy die huis met kosbare stene as versiering oorgetrek, en die goud was goud van Parwáim.”


Die Heilige en Allerheiligste vertrekke is eers met sipreshout oordek en toe met goud oorgetrek. Die mure is versier met goue palmbome en kettings.


Die Allerheiligste vertrek is versier met twee gerubs wat met goud oorgetrek is. Elke vlerk was 5 el lank, saam 20 el en so breed soos die vertrek was. Die twee gerubs het na die Heilige vertrek gekyk.


“Ook het hy in die Allerheiligste Vertrek twee gérubs gemaak, ‘n werk van beeldhoukuns, en dit met goud oorgetrek.” II KRONIEKE 3:10 AFR53




Die voorhangsel het die Heilige en die Allerheiligste vertrekke van mekaar geskei en is gemaak van pers, purperrooi en bloedrooi fyn linne met gerubs daarop aangebring.



Tien kandelare en tien tafels met toonbrode is bygevoeg by die oorspronklike kandelaar en tafel met toonbrode wat in Moses se tabernakel was. Dus was daar elf van elk in die tempel saam met die een goue reukoffer altaar.

“En hy het die goue kandelaars gemaak, tien, volgens die voorskrif daarvan, en dit in die tempel gesit, vyf regs en vyf links. Hy het ook tien tafels gemaak en hulle in die tempel gesit, vyf regs en vyf links; en hy het honderd goue komme gemaak.” II KRONIEKE 4:7-8 AFR53





Die priester kry drie verdiepings van stoorkamers aan die weste, suide en noorde kante van die tempel. Hierdie was die stoorkamers vir die koning se skatte en die priesters se besitting.




 

29 Julie 2021

II KRONIEKE 4:1-2 AFR53

“Verder het hy ‘n koperaltaar gemaak; twintig el was sy lengte en twintig el sy breedte en tien el sy hoogte. Hy het ook die see gemaak van gietwerk; van rand tot rand was tien el, heeltemal rond; en die hoogte daarvan was vyf el, en ‘n lyn van dertig el kon dit rondom omspan.”


Die koperaltaar was buite die tempel net voor die ingang en die afmetings was 20 el breed, 20 el lank en 10 el hoog.


Die altaar is gemaak van ongekapte klip en die oploop na die opening van die altaar mag nie trappe wees nie.


“Maar as jy vir My ‘n klipaltaar maak, mag jy dit nie bou van gekapte klip nie; want as jy jou ystergereedskap daaroor swaai, dan ontheilig jy dit. Jy mag ook nie met trappe na my altaar opklim nie, dat jou skaamte nie daarop ontbloot


Die koperwaskom is geplaas tussen die tempel ingang en die koperaltaar. Die afmetings van die ronde waskom was 10 el in die deursnee en 5 el hoog.


Die waskom het gestaan op 12 beeste, geplaas in groepe van drie en elke groep het gekyk noord, suid, oos en wes. Saam met die waskom is ook tien aparte kleiner waskomme gemaak om die gereedskap van die brandoffers te was. Die groot waskom was vir die priesters om in te was.

Die klippe vir die tempel is vêr weg van die tempel gekap sodat daar geen geraas was by die tempel self nie.


“En toe die huis gebou is, is dit opgetrek van klippe, kant en klaar uit die breekplek: hamers en koubeitels, enige ystergereedskap, is nie gehoor by die huis toe dit gebou is nie.” I KONINGS 6:7 AFR53

 

30 Julie 2021

II KRONIEKE 7:1 AFR53

“En net toe Salomo sy gebed voleindig het, het die vuur uit die hemel neergedaal en die brandoffer en die slagoffers verteer, en die heerlikheid van die Here het die huis vervul;”


Die ark en al die ander toebehore van die tabernakel word in die sewende maand deur die Leviete na die tempel in Jerusalem gebring.


“Toe al die werk gereed was wat Salomo vir die huis van die Here gedoen het, het Salomo die heilige gawes van sy vader Dawid ingebring, die silwer sowel as die goud, en al die voorwerpe het hy in die skatkamers van die huis van God neergesit.” II KRONIEKE 5:1 AFR53


Die verbondsark word deur die priesters in die Allerheiligste ingedra en onder die vlerke van die twee gerubs geplaas. Net die twee kliptafels was in die verbondsark.


“Verder het die priesters die verbondsark van die Here na sy plek in die binneste vertrek van die huis, in die Allerheiligste, gebring, onder die vlerke van die gérubs in.” II KRONIEKE 5:7 AFR53


Salomo se brandoffers en slagoffers word deur God aanvaar en met ‘n vuur uit die hemel verteer. Die heerlikheid van God het die huis so gevul dat die priesters nie by die huis van die Here kon ingaan nie.





 

31 Julie 2021

II KRONIEKE 7:12 AFR53

“verskyn die Here in die nag aan Salomo en sê vir hom: Ek het jou gebed gehoor en hierdie plek vir My as ‘n offerhuis verkies.”


God verskyn aan Salomo en sê vir hom dat sy gebed gehoor is en dat God die tempel wat gebou is as Sy offerhuis gekies het. God gee dan vir Salomo ‘n stukkie wysheid wat vandag nog, veral in die tyd wat ons leef, belangrik is.


As droogte of peste of plae die volk tref en hulle God se Naam uitroep, hulself verootmoedig en bid en God se aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal God hul uit die hemel hoor, hul sondes vergewe en hul land genees!


“As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” II KRONIEKE 7:13-14 AFR53


Maar, sê God – as julle My gebooie verlaat en julle voor ander gode neerbuig, dan sal Ek julle uitruk uit My land wat Ek aan julle gegee het, en Ek sal die tempel wegwerp en dit ‘n spotlied onder al die ander volke maak.


“Maar as júlle afkerig word en my insettinge en my gebooie wat Ek julle voorgehou het, verlaat en ander gode gaan dien en julle voor hulle neerbuig, dan sal Ek hulle uitruk uit my land wat Ek aan hulle gegee het, en hierdie huis wat Ek vir my Naam geheilig het, sal Ek van my aangesig wegwerp en daarvan 'n spreekwoord en 'n spotlied maak onder al die volke.” II KRONIEKE 7:19-20 AFR53


 

1 Augustus 2021

Die Tweede Tempel

JESAJA 44:28 AFR53

“wat van Kores sê: Hy is my herder, en hy sal alles volbring wat My behaag deurdat hy van Jerusalem sê: Dit moet gebou word, en die tempel moet gegrond word.”


Na Salomo se dood verdeel Israel in twee – die Noordelike koninkryk van Israel wat uit tien stamme bestaan en die Suidelike koninkryk van Juda wat uit twee stamme bestaan.


Die Noordelike koninkryk van Israel regeer van 931 BC tot 722 BC. In al die tyd het die mense hul rug op God gekeer en as straf is hulle in twee sarsies deur Assirië aangeval en as krygsgevangenes wegvoer.

Nebukadneser oorwin die Suidelike koninkryk van Juda en die Israeliete word in drie verskillende sarsies na Babilon verban. Daniel en sy vriende is deel van die eerste ballinge wat in 605 BC weggevoer is en Ezekiel is deel van die tweede sarsie ballinge wat in 597 BC weggevoer is.


Die tempel wat deur Salomo gebou is word afgebrand en verwoes met die derde plunder sessie in 586 BC op die 10de dag van die vyfde maand.




Daniel was van ongeveer agttien jarige ouderdom tot en met sy dood op ongeveer 88 jarige ouderdom in diens van die konings wat oor Babilon regeer het. Hy lees op ‘n gevorderde ouderdom in die jaar van koning Darius se regering, die profeet Jeremia se profesie wat bepaal dat hul net sewentig jaar in ballingskap sal wees, en hy besef dat die sewentig jaar amper verby is.


“En hierdie hele land sal ‘n puinhoop, ‘n woesteny word; en hierdie nasies sal die koning van Babel sewentig jaar lank dien.” JEREMIA 25:11 AFR53

Die laaste koning onder wie Daniel dien is koning Kores, die Persiese koning. Dit word algemeen aanvaar dat Daniel vir koning Kores die profesie van Jesaja gewys het waar God vir Kores op die naam noem en sê dat hy die Israeliete gaan toestemming gee om die tempel te herbou. Die profesie was 150 jaar oud toe Daniel dit vir die koning voorgelees het. Kores in Engels is Cyrus – koning Kores se weergawe van sy storie is op ‘n silinder geskryf wat in die Britse museum besigtig kan word.


 

2 Augustus 2021

ESRA 1:2 AFR53

“So sê Kores, die koning van Persië: Al die koninkryke van die aarde het die Here, die God van die hemel, aan my gegee; en Hý het my opgedra om vir Hom ‘n huis te bou in Jerusalem wat in Juda is.”


Koning Kores gee vir die Isaeliete opdrag om hul tempel te herbou, 70 jaar na hul ballingskap begin het, soos deur die profeet Jeremia geprofeteer.


Koning Kores sê dat al die Israeliete na Jerusalem kan optrek om ‘n huis vir die God van Israel te bou. Die Israelite het in drie sarsies terug getrek vanaf Babilon na Jerusalem.


“Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort — mag sy God met hom wees, en laat hom optrek na Jerusalem wat in Juda is, en die huis van die Here, die God van Israel, bou! Hy is die God wat in Jerusalem is.” ESRA 1:3 AFR53


Die mense wat nie wou trek nie, is deur Koning Kores beveel om by te dra tot die bou van die tempel met silwer, goud, vee en vrywillige gawes.


“En enigeen wat oorgebly het, in enige plek waar hy as vreemdeling vertoef — hom moet die manne van sy woonplek ondersteun met silwer en goud en met goed en vee, en met die vrywillige gawes vir die huis van die God wat in Jerusalem is.” ESRA 1:4 AFR53


Koning Kores gee al die tempel voorwerpe wat Nebukadnesar gevat het terug vir die Israeliete om in die nuwe tempel te gebruik. Die skatmeester het ‘n totaal van 5,400 goue en silwer voorwerpe aan die Israeliete oorhandig.


“En koning Kores het die voorwerpe van die huis van die Here uitgelewer wat Nebukadnésar uit Jerusalem weggevoer en in die huis van sy god gesit het.” ESRA 1:7 AFR53




 

3 Augustus 2021

ESRA 3:3 AFR53

“En hulle het die altaar op sy grondveste opgerig, omdat die skrik vir die volke van die lande op hulle gekom het; en hulle het daar brandoffers op geoffer aan die Here, brandoffers smôrens en saans.”


Die eerste wat die volk doen in die proses om die tempel te bou, is om die brandofferaltaar te bou op dieselfde plek as wat Salomo sy brandofferaltaar gebou het.


Die volk kom soos een man in Jerusalem bymekaar om in die sewende maand die altaar van God te bou sodat hulle brandoffers kan offer soos in die wet van Moses opgeskryf is.


In die sewende maand word die laaste drie van die sewe jaarlikse feeste van die Joodse volk gevier. Die huttefees is die laaste van die sewe feeste wat God vir Moses gegee het en die volk gebruik die fees om die brandofferaltaar in te wy.


“En hulle het die huttefees gehou soos geskrywe staan, en brandoffers dag vir dag volgens die getal, na die eis van elke dag, soos voorgeskrywe was; en daarna die voortdurende brandoffer en dié van die nuwemane en van al die geheiligde feestye van die Here en van elkeen wat aan die Here ‘n vrywillige gawe gebring het. Van die eerste dag van die sewende maand af het hulle begin om brandoffers aan die Here te bring, alhoewel die fondament van die tempel van die Here nog nie gelê was nie.” ESRA 3:4-6 AFR53


Die bouwerk van die tempel begin in die tweede maand van die tweede jaar nadat die Israeliete teruggetrek het na Jerusalem. Die priesters en Leviete het met simbale God geloof en geprys toe die fondament van die tempel gelê is.


“Toe die bouers dan die fondament van die tempel van die Here lê, het hulle die priesters in ampsgewaad met trompette, en die Leviete, die seuns van Asaf, met simbale opgestel om die Here te loof volgens die instelling van Dawid, die koning van Israel.” ESRA 3:10 AFR53



Daar was gemengde gevoelens met die lê van die fondamente. Die oues wat Salomo se tempel kon onthou was in trane en het hardop gehuil. Vir die jonges was dit ‘n dag van vreugde, en hulle het hul stemme in blydskap verhef.


“Maar baie van die priesters en die Leviete en die familiehoofde, van die oues wat die eerste huis gesien het, het hardop gehuil toe die fondament van hierdie huis voor hulle oë gelê is, terwyl baie met gejuig, met blydskap die stem verhef het.” ESRA 3:12 AFR53


 

4 Augustus 2021

ESRA 6:14 AFR53

“En die oudstes van die Jode het gebou en goed gevorder deur die profetiese werksaamheid van die profeet Haggai en Sagaría, die seun van Iddo; en hulle het gebou en voltooi op bevel van die God van Israel en op bevel van Kores en Daríus en Artasásta, koning van Persië.”


Sewentig jaar nadat die eerste tempel op 12 Aug 586 BC (10de dag van 5de maand) verwoes is, word die tweede tempel ingewy op die derde dag van Adar in die jaar 515 BC (Adar is die twaalfde maand).

Offerhandes is op die dag gebring – 100 bulle, 200 rammme, 400 lammers en 12 bokke as sondoffer vir elk van die 12 stamme van Israel.


“En hierdie huis was klaar op die derde dag van die maand Adar; dit was die sesde jaar van die regering van koning Daríus. En die kinders van Israel, die priesters en die Leviete en die ander, uit die ballingskap afkomstig, het die inwyding van hierdie huis van God met vreugde gevier.” ESRA 6:15-16 AFR53







Die volgende maand, op die veertiende van die eerste maand, vier die volk Paasfees en die Fees van Ongesuurde Brode in hul nuwe tempel – die eerste en tweede feeste wat God vir Moses gegee het.


“En die ballinge het die pasga gehou op die veertiende van die eerste maand. Want die priesters en die Leviete het hulle soos een man gereinig — hulle almal was rein — en die paaslam geslag vir al die ballinge en vir hulle broers, die priesters, en vir hulleself.” ESRA 6:19-20 AFR53

 

5 Augustus 2021

MATTHÉÜS 4:5-6 AFR53

“Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie.”


Ons spring nou in tyd wat bekend staan as die vierhonderd stil jare tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament.

Die tweede tempel wat ‘n taamlike beskeie gebou was, is in die tyd van Koning Herodes gerestoureer en totaal herbou in 20 – 19 BC.


Ten spyte van die Jode se vrees dat Herodus die tempel totaal wou vernietig, is dit egter herbou deur die priesters in een en ‘n half jaar en die buitenste hof in die volgende agt jaar.

Hierdie is die tempel wat in gebruik was in Jesus se tyd!


Hierdie is die tempel wat in gebruik was in Jesus se tyd!


Nadat Jesus vir veertig dae en veertig nagte in die woestyn gevas het word Hy deur Satan versoek. Die duiwel neem Jesus na Jerusalem en laat Hom op die dak van die tempel staan en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af, en Jesus het terug geantwoord:


“Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.” MATTHÉÜS 4:7 AFR53

 

6 Augustus 2021

MATTHÉÜS 27:50-51 AFR53

“Daarop het Jesus weer met ‘n groot stem geroep en die gees gegee. En kyk, die voorhangsel van die tempel het in twee geskeur, van bo tot onder, en die aarde het gebewe en die rotse het geskeur;”

Maart 33 AD: Jesus word gekruisig, Hy sterf en die voorhangsel van die tempel skeur in twee. Na drie dae staan Jesus op uit die dood.


Die Romeine verwoes die Tweede Tempel en Jerusalem in 70 AD as vergelding vir die voortdurende Joodse opstande. Die aanval op Jerusalem het begin 3 dae voor Paasfees op 14 April 70 AD, en is finaal geeindig op 30 Augustus 70 AD.


Die tweede Tempel is op dieselfde dag verwoes as wat die eerste tempel vewoes is, nl: die Joodse kalender dag – negende dag van Av. (Av is gewoonlik Julie of Augustus.) Die dag is ‘n Joodse roudag en is die hartseerste dag op die Joodse kalender.


Jesus het ‘n profesie uitgespreek oor die verwoesting van die tempel.


“En Jesus het uitgegaan en van die tempel vertrek, en sy dissipels het nader gekom om Hom die geboue van die tempel te wys. En Jesus sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.” MATTHÉÜS 24:1-2 AFR53

Die ‘Arch of Titus’ is vandag ‘n monument in Rome wat ‘n insetsel het van die menorah en van die ander tempel items wat gebuit is met die verwoesting van die tweede Tempel. Niemand weet waar enige van die tempel items opgeëindig het nie.



 

7 Augustus 2021


Ek is ‘n tempel van God


JOHANNES 14:6 AFR53

“Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”     


In die reeks van tempels is ons wat Jesus as Verlosser aanvaar het die volgende tempel.


“Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?” I KORINTHIËRS 3:16 AFR53


“So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.” EFÉSIËRS 2:19-22 AFR53

Jesus is die weg

  1. Tempel ingang – Ek kies Jesus as my Verlosser

  2. Brandofferaltaar – Jesus het as ‘n Lam sonder gebrek vir my sondes gesterf

  3. Koperwaskom – Ek word skoongewas van my sondes

Jesus is die waarheid

  1. Tafel van Toonbrode – Lees die Woord en bou ‘n verhouding met God

  2. Lampstaander – My lig skyn deur die Heilige Gees tot verheerliking van God

  3. Wierookaltaar – Bid sonder ophou

Jesus is die lewe

  1. Die Ark  – Ek kan direk met God praat, want Jesus het die pad voorberei.

 

8 Augustus 2022


Die Derde Tempel


DANIËL 9:27 AFR53

“En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.”


Die derde tempel moet nog gebou word en dit beteken dat ons die profesieë in die Bybel moet bestudeer om die hoe, wat en waar van die derde tempel uit te pluis.


Daniel leer vir ons dat die tempel gebou gaan word wanneer die Joodse volk ‘n verbond sluit met die Antichris.

Die vors wat sal kom, die Antichris, gaan vir een week of sewe jaar ‘n verbond met die Joodse volk sluit om die derde tempel te bou.


Hierdie ‘mylpaal’ dui die begin van die sewe jaar Verdrukking aan.


Jesus praat in Mattheus 24 met die dissipels en sê dat wanneer hulle die gruwel van verwoesting sien staan in die heiligdom of anders gestel, die tempel – soos deur Daniel voorspel – dan moet hulle vlug. Hier bevestig Jesus dus Daniel se profesie rakende die derde tempel en alles wat gaan gebeur.


“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom — laat hy wat lees, oplet — dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug;” MATTHÉÜS 24:15-16 AFR53


Die boek Openbaring gee ook ekstra inligting. Twee profete gaan vir 1,260 dae of 3,5 jaar lank gedurende die eerste helfte van die Groot Verdukking profeteer. Ek gee die vers om die dae uit te lig wat die eerste helfte van die Groot Verdukking bevestig. Daniel het vir ons geleer dat na die 1,260 dae, die offerhandes in die tempel tot ‘n einde gaan kom.


“En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend-tweehonderd-en-sestig dae lank sal profeteer.” OPENBARING 11:3 AFR53

 

9 Augustus 2021


OPENBARING 11:1 AFR53

“En ‘n riet soos ‘n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid.”


In die boek Openbaring lees ons dat Johannes ‘n tempel se afmetings moet neem. In die tempel is ook ‘n altaar en mense wat daarin aanbid. Hierdie is nog ‘n bewys dat daar ‘n werklike funksionele tempel met ‘n altaar gaan wees tydens die Groot Verdrukking tydperk.

Johannes word vertel om die voorhof van die tempel nie te meet nie. Die gedeelte is net buite die tempel ingang en in Herodus se tempel is dit die vroue hof genoem. Dit is die naaste wat Joodse vrouens aan die tempel ingang kon kom.

Hierdie gedeelte word volgens Openbaring 11:2 vir 42 maande aan die heidene gegee.


42 Maande = 1,260 dae = 3,5 jaar = die eerste helfte van Daniel se sewe jaar. Hier kom Daniel en Johannes se profesieë bymekaar.


"Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee-en-veertig maande lank vertrap.” OPENBARING 11:2 AFR53


Dit is duidelik uit ons voorafgaande lesse dat die Joodse volk en die tempel waarin hulle diens gaan doen ‘n groot rol speel in die Groot Verdrukking of eindtye.

 

10 Augustus 2021


EFESIËRS 3:6 AFR83

“En dít is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.”    


Dit is vir my baie belangrik om uit te wys dat ons as Christene nie die Joodse volk as uitverkore volk van God vervang nie.


Vervangings teologie of in engels Replacement theology, is ‘n vals leëring wat vir ons voorgehou word.

God het ‘n ewige verbond, ‘n onverbreekbare verbond, met Abraham gesluit waarin Hy aan Abraham ‘n groot nageslag (waar Christene ingesluit word) en grond belowe het.


Luister gerus hier na ‘n kort verduideliking: https://youtu.be/Im2Fz-gDS7A


Paulus verduidelik mooi in die volgende gedeelte:


“En nou praat ek met julle, gelowiges uit die heidennasies. As apostel vir die heidennasies is ek trots op my werk en strewe ek daarna om op een of ander manier my eie mense jaloers te maak en sommige van hulle te red. As hulle verwerping vir die wêreld versoening beteken het, wat sal hulle aanneming dan nie beteken nie? Niks minder nie as lewe uit die dood! As die eerste stuk deeg aan God gewy is, dan is ook die res van die deeg aan Hom gewy. En as die wortel van die boom aan God gewy is, dan is ook die takke aan Hom gewy. Party van die takke is uitgekap en jy, ‘n wilde olyf, is tussen die ander takke op die mak olyf geënt. So het jy deel gekry aan die lewensap van die mak olyf se wortel. Moet jou dan nie bo die ander takke verhef nie! Moet jou ook nie verbeel jy is iets nie: dit is nie jy wat die wortel dra nie, die wortel dra jou.”     ROMEINE 11:13-18 AFR83

 

11 Augustus 2021


MATTHÉÜS 24:15 AFR53

“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom — laat hy wat lees, oplet —”


Die groot vraag in die tye waarin ons leef is: Hoe naby is ons aan die eindtye? Niemand weet nie, maar as ons na Israel kyk is die tyd beslis nader as vêrder!


Die meeste tempel items is reeds gereed vir die nuwe tempel.


Die brandofferaltaar en die koperwaskom, die tempel items van die buitehof is reg vir gebruik.


Die drie items vir die Heilige vertrek (die menorah, die tafel van toonbrode en die wierookoffer altaar) in die tempel is ook gereed gebruik.

Waar is die Ark vir die Allerheiligste vertrek?

Die Ark het verdwyn na die Babeloniese ballingskap wat in 606 BC begin het, en is nog steeds nie gevind nie.






 

12 Augustus 2021


Die Millenium tempel


JESAJA 2:1-2 AFR53

“Die woord wat Jesaja, die seun van Amos, gesien het met betrekking tot Juda en Jerusalem. En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom.”


Die huis van die Here of die tempel sal vasstaan op die berg in Jerusalem, ‘n berg hoër as al die ander berge en heuwels en al die nasies sal daarheen stroom.


Die nasies sal vra na koning Jesus en niemand sal die tempel wat op die berg staan vernietig nie, en die aarde sal vol wees van die kennis van die Here net soos die waters die seebodem oordek.


“Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek. En in dié dag sal die nasies vra na die wortel van Ísai, wat daar staan as ‘n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees.” JESAJA 11:9-10 AFR53


Ons kyk nou hier na die volgende tempel wat aan die einde van ons tyd (na die sewe jaar Verdrukking tydperk) opgerig gaan word. Hierdie tempel gaan gebruik word in die Millenium tydperk.


Millenium se betekenis: mille – latyn vir duisend; annum – latyn vir jaar; dus duisend jaar!


Die millenium is ‘n letterlike periode van ‘n duisend jaar wat geskeduleer is vir die toekoms wanneer Jesus terugkom (tweede koms) aan die einde van ons geskiedenis om Sy ewige koninkryk op te rig.


Die persoon wat die tempel van die Millenium tydperk vir ons verduidelik is Esegiel.

 

13 Augustus 2021

ESÉGIËL 40:1-2 AFR53

“In die vyf-en-twintigste jaar van ons ballingskap, in die begin van die jaar, op die tiende van die eerste maand, in die veertiende jaar nadat die stad ingeneem is, op daardie selfde dag, was die hand van die Here op my, en Hy het my daarheen gebring. In gesigte van God het Hy my in die land van Israel gebring en my neergesit op ‘n baie hoë berg, en daarop iets wat soos ‘n stad gebou was, teen die suide.”


Jerusalem is verwoes en die tempel is afgebrand, die laaste van die Israeliete is deur Nebukadneser uit Jerusalem verban en veertien jaar later ontvang Esegiël ‘n profesie.


‘n Nuwe tempel wat in die toekoms in die land Israel en in die stad Jerusalem bo-op ‘n baie hoë berg gebou gaan word – die Millenium Tempel!


Esegiël sien ‘n man wie se voorkoms soos koper lyk, en in sy hand het hy ‘n linnetou en ‘n meetstok waarmee hy die tempel gaan meet.

Die maatstok vir kort afmetings (52cm) en die linnetou vir lang afmetings (6 x 52cm = 3,12m). Alles wat Esegiël sien en hoor moet hy aan die volk oordra.


“En Hy het my daarheen gebring; en kyk, daar was ‘n man wat in sy voorkoms soos koper gelyk het; en in sy hand was ‘n linnetou en ‘n meetroede; en hy het by die poort gestaan.” ESÉGIËL 40:3 AFR53


Esegiël sien in sy visioen die bouplanne van die millenium tempel en gee die planne vir ons deur.

Die buite muur rondom die tempelgeboue is 3m hoog en 3m breed.


“En kyk, daar was ‘n muur aan die buitekant van die huis al rondom, en in die man se hand was die meetroede van ses el (elkeen was ‘n el en ‘n handbreedte); en hy het die dikte van die bouwerk gemeet: een roede, en die hoogte: een roede.” ESÉGIËL 40:5 AFR53


Daar is drie poorte wat toegang gee tot die buitenste voorhof en dan is daar weer drie poorte wat toegang gee na die binneste voorhof van die tempel. Die ses poorte van die tempelgebou is almal van dieselfde plan gebou.


 

14 Augustus 2021


ESÉGIËL 40:47 AFR53

“En hy het die voorhof gemeet: die lengte honderd el en die breedte honderd el, ‘n vierkant; en die altaar was voor die huis.”


Die voorhof van die tempelgebou self word nou gemeet – ‘n vierkant van 50 x 50 meter, en die altaar is voor die tempelgebou.


Die drumpel van die tempelgebou is 3 meter breed, 5 meter wyd en die symure van die ingang is elk 2,5 meter.


“Verder het hy my in die hoofvertrek gebring; en hy het die deurposte gemeet: ses el die breedte aan die een en ses el die breedte aan die ander kant, die breedte van die tent. En die breedte van die ingang: tien el, en die symure van die ingang: vyf el aan weerskante…….” ESÉGIËL 41:1-2a AFR53


Die Heilige vertrek is soos die 1ste en 2de tempels ‘n vertrek van 20 meter by 10 meter.


“……….ook het hy die lengte daarvan gemeet: veertig el, en die breedte: twintig el.” ESÉGIËL 41:1-2b AFR53


Die Allerheiligste vertrek is ook dieselfde afmetings as die vorige tempels nl: 10 meter by 10 meter.

“Ook het hy die lengte daarvan gemeet: twintig el, en die breedte: twintig el na die kant van die hoofvertrek. En hy het vir my gesê: Dit is die Allerheiligste.” ESÉGIËL 41:4 AFR53





 

15 Augustus 2021


ESÉGIËL 41:22 AFR53

“Die altaar was van hout, drie el hoog, en sy lengte twee el, en dit het sy hoekstukke gehad; en sy voetstuk en sy sykante was van hout. En hy het vir my gesê: Dit is die tafel wat voor die aangesig van die Here is.”


Die enigste meubelstuk in die tempel is die reukofferaltaar wat in die Heilige vertrek is voor die ingang van die Allerheiligste vertrek. Die engel sê die tafel staan in die teenwoordigheid van die Here.


Daar is nie ‘n verbondsark in die Allerheiligste vertrek van die tempel nie.


Die verbondsark is nie meer nodig nie, dit sal nie in die mense se gedagtes opkom nie, die verbondsark sal ook nie genoem of gemis word nie. Al die nasies van die aarde sal kom na die tempel na die troon van die Here.


“En as julle vermenigvuldig en vrugbaar word in die land in dié dae, spreek die Here, dan sal hulle nie meer sê: Die verbondsark van die Here nie. Ook sal dit in die hart nie opkom nie, en hulle sal daaraan nie dink en dit nie soek nie, en dit sal nie weer gemaak word nie. In dié tyd sal hulle Jerusalem noem die troon van die Here; en al die nasies sal daarheen saamkom vanweë die Naam van die Here in Jerusalem; en hulle sal nie meer wandel na die verharding van hul bose hart nie.” JEREMIA 3:16-17 AFR53

Die tempelmure binne en buite word versier met palmbome en gerubs.


“die plek bokant die deur tot in die binneste huis sowel as buitekant, en op die hele muur al rondom, binnekant en buitekant — oral was daar vaste mate. En aangebring is gérubs en palmbome, en daar was ‘n palmboom tussen gérub en gérub; en elke gérub het twee aangesigte gehad:” ESÉGIËL 41:17-18 AFR53

Elke gerub het twee gesigte, ‘n mensgesig wat eenkant toe kyk en ‘n leeugesig wat anderkant toe kyk.



“die aangesig van ‘n mens na die palmboom toe aan die een, en die aangesig van ‘n jong leeu na die palmboom toe aan die ander kant; in die hele huis al rondom is dit aangebring; van die grond af tot bokant die deur is die gérubs en die palmbome aangebring, en wel aan die muur van die hoofvertrek.” ESÉGIËL 41:19-20 AFR53


 

16 Augustus 2021


ESÉGIËL 43:18-19 AFR53

“En hy het vir my gesê: Mensekind, so spreek die Here Here: Dit is die verordeninge van die altaar: Op die dag as dit gemaak word om brandoffers daarop te bring en om bloed daarteen uit te gooi, moet jy aan die Levitiese priesters wat uit die geslag van Sadok is, wat na My mag nader kom — spreek die Here Here — om My te dien, ‘n jong bul gee as sondoffer.”


Die brandofferaltaar staan in die binnehof voor die ingang van die tempel. Die priesters wat die offerhandes moet doen is die Levitiese priesters uit die geslag van Sadok en hulle begin die brandoffer deur ‘n jong bul te gee as sondoffer.


Hoekom is daar weer offerhandes in die millenium?

Dit is verkeerd om te dink dat offerhandes in die Ou Testament sondes weggeneem het, en dit is ook verkeerd om te dink dat offerhandes sondes in die millenium gaan wegneem. Offerhandes is ‘n les vir die sondaar dat sonde ‘n gruwelike oortreding teen God is en dat die gevolg van die sonde die dood is.


Vir diegene wat gedurende die millenium gebore is, sal offerhandes weer ‘n objekles wees. Gedurende daardie toekomstige tyd sal geregtigheid en heiligheid heers, maar diegene met aardse liggame sal steeds ‘n sondige aard hê, en daar sal nodig wees om te leer hoe aanstootlik sonde vir ‘n heilige en regverdige God is. Offerhandes sal daardie doel dien, soos die skrywer van die boek Hebreërs sê:


“Maar in dié offers is daar jaar na jaar ‘n herinnering aan die sondes;”. HEBREËRS 10:3 AFR

 

9 Augustus 2021


ESÉGIËL 45:21 AFR53

“In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, moet vir julle die pasga wees; op die sewedaagse fees moet ongesuurde brode geëet word.”


Net twee van die sewe feeste wat God vir Moses in Levitikus 23 gegee het word in die Millenium gevier. Die eerste fees en die laaste fees.


Paasfees (die 1ste fees) word gehou op die veertiende dag van die eerste maand en die fees is sewe dae lank. Huidiglik word die fees deur die Joodse volk gevier om terug te dink aan die uittog uit Egipte. Christene vier huidiglik die fees om terug te dink aan Jesus wat vir ons sondes aan die kruis gesterf het.

In die Millenium waar almal Jesus as hul verlosser aanvaar het, gaan hierdie ‘n gedenkfees wees om terug te dink aan Jesus wat vir almal se sondes aan die kruis gesterf het.


Die Huttefees (laaste fees) word huidiglik deur die Joodse volk gevier op die vyftiende dag van die sewende maand. Die fees is sewe dae lank. Die eerste en agtste dae van die fees is rusdae.


Almal moet gedurende die sewe dae in hutte woon, tydelike woonplekke, sodat elke nageslag kan onthou hoe God die kinders van Israel uit Egipte uitgelei het en dat die Israeliete vir veertig jaar in tydelike hutte gewoon het.


Die Huttefees wag huidiglik profeties vir die Millenium wat gaan plaasvind na die sewe jaar verdrukking. Die Millenium waar ons saam met Jesus gaan woon in afwagting vir die nuwe hemel en die nuwe aarde.


Tydens die Millenium is die fees ‘n gedenkfees om dankie te sê dat ons wel saam met God in die Millenium woon, nie in tydelike hutte nie maar in permanente wonings.


“In die sewende maand, op die vyftiende dag van die maand, moet hy op die fees dieselfde offers gereedmaak gedurende die sewe dae: dieselfde sondoffer, dieselfde brandoffer en dieselfde spysoffer en dieselfde olie.” ESÉGIËL 45:25 AFR53

 

18 Augustus 2021


Vir ewig en ewig, Amen!


OPENBARING 21:1 AFR53

“En ek het ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.”


Aan die einde van die Millenium tydperk, gaan almal wie se naam nie in die boek van die lewe opgeskryf is nie (die ongelowiges van alle tye) in die poel van vuur gewerp word!


“En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.” OPENBARING 20:14-15 AFR53


Ons lees in Genesis dat God in die begin van tye die hemel en die aarde geskape het – en dit was perfek!

In die laatse boek van die Bybel sien Johannes ‘n visioen van die einde van tyd met ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde want die eerste hemel en die eerste aarde is tot niet.


Terug in Genesis sien ons dat Eva die een opdrag van God om nie van die boom van goed en kwaad te eet nie verontagsaam het en so het sonde in die wêreld ingekom en die mens van God geskei.


Johannes sien in Openbaring die heilige stad, die nuwe Jerusalem wat van God uit die hemel neerdaal.


“En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.” OPENBARING 21:2 AFR53


‘n Stem sê vir hom die tabernakel van God is by sy mense en God sal by hul woon.


Dit verduidelik vir ons die tabernakel en die tempels wat deur die eeue heen gebou is.


God met ons!


Omdat sonde die mens van God geskei het, het God die tempel gebruik om by sy mense te woon.

 

19 Augustus 2021


OPENBARING 21:22 AFR53

“En ‘n tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam.”


Is daar ‘n tempel NA die millenium? Nee, na die millenium is daar ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde, maar geen tempel nie. Die tempel is nie nodig nie want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam.

Die heerlikheid van God was oor die stad en sy lig was soos ‘n kosbare edelsteen. Weereens God met ons soos Hy was met die tabernakel, Salomo se tempel, in elkeen van ons as Christene vandag en die Millenium tempel van die toekoms. Dus is daar geen nut vir ‘n tempel in die ewigheid nie, en Johannes sê ook vir ons dat hy nie ‘n tempel sien nie.



“en dit het die heerlikheid van God gehad, en sy lig was soos ‘n baie kosbare steen, soos die kristalhelder jaspissteen.” OPENBARING 21:11 AFR53


Die Allerheiligste vertrek, die vertrek waar God se heerlikheid teenoordig is, was nog altyd ‘n volmaakte kubus. ‘n Kubus is ‘n vierkant waar die lengte, breedte en hoogte dieselfde afmetings het. Die afmetings van die verskillende tempels se Allerheilgste vertrek:

  1. Moses se tabernakel: 5 x 5 x 5 meter

  2. Salomo se tempel: 10 x 10 x 10 meter

  3. Herodus se tempel: 10 x 10 x 10 meter

  4. 3de tempel: ons weet nie

  5. Millenium tempel: 10 x 10 x 10 meter

Die nuwe Jerusalem se afmetings is ook die van ‘n volmaakte kubus, maar dis nie ‘n klein vertrek van 10 x 10 x 10 meter nie, dis ‘n enorme konstruksie van 2,414 km x 2,414 km x 2,414 km.


In die ewigheid waar ons nie meer sonde het nie, kan ons saam met God woon in die gebou waar Sy heerlikheid teenwoordig is.


Haleluja – dis iets om na uit te sien!


– Hierdie studie was ‘n verkorte weergawe van my Bybelstudie – ‘Die tempel van God’.

27 views0 comments
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page