top of page
  • Regina Torre

Israel: Wat was, wat is, en wat kom! Moses

Updated: Jan 28, 2023


20 Junie 2021


EXODUS 3:14 AFR53

“En God sê vir Moses: Ek is wat Ek is. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: Ek is het my na julle gestuur.”


Moses is die volgende hoofkarakter in Israel se geskiedenis, en sy groot werk begin eers op die rype ouderdom van tagtig.


Moses se lewe word in drie dele van veertig jaar elk opgedeel. Sy eerste veertig jaar is hy ‘n prins in Egipte, maar dan maak hy ‘n Egiptenaar dood en moet vlug na die land Median waar hy vir die volgende veertig jaar woon.


God verskyn aan Moses in ‘n brandende bos en sê vir hom hy moet sy skoene uittrek want die grond waarop hy staan is heilige grond. Vêrder sê God dat Hy die God is van Moses se voorvaders Abraham, Isak en Jakob en dat Hy Sy volk se geroep uit Egipte gehoor het waar hulle as slawe in ellende verkeer.


“Gaan dan nou heen, dat Ek jou na Farao kan stuur; en lei my volk, die kinders van Israel, uit Egipte uit.” EXODUS 3:10 AFR53


Hierdie taak verteenwoordig Moses se derde deel van sy lewe en die volgende veertig jaar het die pasga tot gevolg waarvan ons in Levitikus 23 leer. Die fees word vandag nog elke jaar deur die Joodse volk gevier en herdenk hoe God die Israeliete uit Egipteland uitgelei het.


“Dit is die feestye van die Here, die heilige vierdae wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd. In die eerste maand, op die veertiende van die maand, teen die aand, is die pasga van die Here;” LEVÍTIKUS 23:4-5 AFR53


Christene vier ook hierdie fees as Paasfees elke jaar wanneer ons terugdink aan Jesus wat vir ons sondes aan die kruis gesterf het.


In hierdie Bybelstudie gaan ons sien hoe die uittog uit Egipte ‘n kleedrepitisie was vir Jesus se kruising.

 

21 Junie 2021


GÉNESIS 15:13,14 en 16 AFR53

“Daarop sê Hy vir Abram: Weet verseker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in ‘n land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vierhonderd jaar lank. Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed.En die vierde geslag sal hierheen terugkom, want die ongeregtigheid van die Amoriete is tot nog toe nie vol nie.”


God het vir Abram nog voor sy naam verander is na Abraham gesê wat met sy nageslag gaan gebeur.


Jou nageslag sal vreemdelinge wees in ‘n land wat nie aan hulle behoort nie. Inderdaad het dit so uitgewerk. Toe daar hongersnood in al die lande was het Jakob en sy seuns uit die Beloofde Land uitgetrek na Josef wat die bevelvoerder was in Egipteland.


Die Israeliete het ‘n groot nasie geword wat die Farao bedreig het, en die Farao het van die Israeliete ‘n nasie van slawe gemaak wat gewerk het aan sy uitgebreide bouwerk projekte. Dit als oor ‘n tydperk van vier honderd jaar waar Josef en dit wat hy gedoen het vergete was.


God gee ook darem verligting in die profesie deur te meld dat die vierde geslag na die Beloofde Land sal terugkeer, en dat hulle sal uittrek met baie goed.


Dit is hier waar Moses in die prentjie inkom, en ondanks sy selfbeeld probleem, gaan hy gebruik word om groot wonderwerke te verrig.

 

22 Junie 2021


EXODUS 6:1-4 AFR53

“Verder het God met Moses gespreek en vir hom gesê: Ek is die Here. En Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige, maar met my Naam Here het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie. Ook het Ek my verbond met hulle opgerig om hulle die land Kanaän te gee, die land van hulle vreemdelingskap waarin hulle vertoef het; en Ék het ook gehoor die gekerm van die kinders van Israel wat deur die Egiptenaars in slawerny gehou word, en Ek het aan my verbond gedink.”


As ons ooit gewonder het waar in die Bybel staan dit dat God die land Israel aan Sy volk

gegee het, kan ons net hier die bevestiging daarvan lees, en dan terugwerkend na die verse gaan kyk in Genesis waar God met elkeen van Abraham, Isak en Jakob gepraat het.


Abraham: “Op dié dag het die Here met Abram ‘n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier: die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete en Hetiete en Feresiete en Refaïete en Amoriete en Kanaäniete en Girgasiete en Jebusiete.” GÉNESIS 15:18-21 AFR53


Isak: “Vertoef as vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën; want aan jou en jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee: Ek sal die eed bevestig wat Ek vir jou vader Abraham gesweer het.” GÉNESIS 26:3 AFR53


Jakob: “En die land wat Ek aan Abraham en Isak gegee het, sal Ek aan jou gee; en aan jou nageslag ná jou sal Ek die land gee.” GÉNESIS 35:12 AFR53


God bevestig met Moses dat Hy Sy verbond met Abraham, Isak en Jakob opgerig het om die land Kanaän aan hulle te gee.


Vêrder bevestig God dat Hy die gekerm van die kinders van Israel gehoor het wat deur die Egiptenaars in slawerny gehou word, en Hy het aan Sy verbond gedink! – die grond verbond waaroor almal vandag so graag wil twyfel!

 

23 Junie 2021


EXODUS 3:10 AFR53

“Gaan dan nou heen, dat Ek jou na Farao kan stuur; en lei my volk, die kinders van Israel, uit Egipte uit.”


Moses word voorberei vir sy ontmoeting met Farao. Eerstens moet hy na die volk Israel gaan en vir hulle sê dat die God van Abraham, Isak en Jakob hom na hulle gestuur het.


“Toe sê God verder vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die Here, die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag.” EXODUS 3:15 AFR53


Dan moet Moses die oudstes van Israel versamel en vir hulle ook sê dat die God van hulle vaders aan hom verskyn het en dat God hulle gaan laat optrek na die land wat oorloop van melk en heuning.


“Daarom het Ek besluit: Ek wil julle uit die ellende van Egipte laat optrek na die land van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete, na ‘n land wat oorloop van melk en heuning.” EXODUS 3:17 AFR53


Moses twyfel in sy vermoeë en vra vir God wat gaan gebeur as die volk nie na hom luister nie.


God is geduldig en wys met ‘n wonderwerk vir Moses dat hy reg is vir sy taak.


“Daarop vra die Here vir hom: Wat is daar in jou hand? En hy antwoord: ‘n Staf. En Hy sê: Gooi dit op die grond. Toe gooi hy dit op die grond, en dit het ‘n slang geword; en Moses het daarvoor gevlug. Toe sê die Here vir Moses: Steek jou hand uit en gryp dit aan die stert. Hierop het hy sy hand uitgesteek en dit gegryp, en dit het ‘n staf in sy hand geword —”. EXODUS 4:2-4 AFR53

 

24 Junie 2021


EXODUS 4:21 AFR53

“En die Here sê vir Moses: Nou dat jy wegtrek om na Egipte terug te gaan, kyk dat jy al die wonders voor Farao doen wat Ek in jou mag gestel het. Maar Ék sal sy hart verhard, sodat hy die volk nie sal laat trek nie.”


Moses moet na Farao gaan, en al die wonders wat God in sy mag gestel het, gaan doen. Die wonders wat God hom geleer het is om sy staf in ‘n slang te verander en sy hand melaats te maak.


“En die Here het verder vir hom gesê: Steek tog jou hand in jou boesem. En hy het sy hand in sy boesem gesteek; en toe hy dit uittrek, was sy hand melaats, soos sneeu! En Hy sê: Steek jou hand weer in jou boesem. En hy het sy hand weer in sy boesem gesteek; en toe hy dit uit sy boesem uittrek, was dit weer soos sy ander vlees!” EXODUS 4:6-7 AFR53


Maar, na al die wonderwerke wat Moses geleer het, sê hy nog steeds vir God dat hy nie weet of hy die regte man is nie, want nou hy kan nie praat nie.


“Toe sê Moses aan die Here: Ag, Here, ek is nie ‘n man van woorde nie — van gister of van eergister of vandat U met u kneg gespreek het nie; want ek is swaar van mond en swaar van tong.” EXODUS 4:10 AFR53


God antwoord steeds geduldig dat Hy met Moses sal wees en hom sal leer.


“Gaan dan nou heen, en Ek sal met jou mond wees en jou leer wat jy moet sê.” EXODUS 4:12 AFR53


Nadat Moses vir God sê dat hy regtig nie kan nie en dat God iemand anders moet stuur, ontvlam die toorn van God teen Moses. Aaron word toe as Moses se helper aangestel en uiteindelik is Moses reg vir sy taak.


“Toe ontvlam die toorn van die Here teen Moses, en Hy sê: Is jou broer Aäron, die Leviet, nie daar nie? Ek weet dat hý goed kan praat. En hy gaan ook al uit om jou te ontmoet, en as hy jou sien, sal hy bly wees in sy hart.” EXODUS 4:14 AFR53

 

25 Junie 2021


EXODUS 5:1 AFR53

“En daarna gaan Moses en Aäron en sê vir Farao: So spreek die Here, die God van Israel: Laat my volk trek, dat hulle vir My ‘n fees kan hou in die woestyn.”


Moses en Aaron gaan na Farao en sê vir hom dat die God van Israel vir hom ‘n boodskap het:


Laat my volk trek, dat hulle vir My ‘n fees kan hou in die woestyn.


Maar, Farao ken nie die God van Israel nie, en hy laat hom ook nie voorskryf nie.


“Maar Farao antwoord: Wie is die Here na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek? Ek ken die Here nie, en ek sal Israel ook nie laat trek nie.” EXODUS 5:2 AFR53


Moses en Aaron vra weer vir Farao en sy antwoord is om die Israeliete net harder te laat werk.


“Julle moet die volk geen strooi meer gee om bakstene te maak soos gister en eergister nie.

Laat hulle self gaan en vir hulle strooi versamel. Maar die hoeveelheid bakstene wat hulle gister en eergister gemaak het, moet julle hulle oplê en niks daarvan verminder nie; want hulle is lui. Daarom roep hulle en sê: Laat ons gaan, laat ons offer aan onse God! Laat die werk swaar druk op die manne, dat hulle daarmee besig kan wees en nie op leuenagtige woorde let nie.” EXODUS 5:7-9 AFR53


Die Israeliete is duidelik nie gelukking met Moses en Aaron nie, en Moses gaan praat met God.


“Toe gaan Moses weer na die Here en sê: Here, waarom het U hierdie volk kwaad aangedoen? Waarom het U my tog gestuur?” EXODUS 5:22 AFR53


Moses is ongelukkig, dis glad nie lekker om in die posisie te wees waarin God hom nou geplaas het nie. Hy vra vir God hoekom Hy niks gedoen het om Sy volk te red nie!

Toe sê die Here vir Moses: “Nou sal jy sien wat Ek met die farao gaan doen: Ek gaan hom dwing om my volk te laat gaan; ja, Ek gaan hom dwing om hulle uit sy land uit weg te jaag.” EKSODUS 5:24 AFR83

 

26 Junie 2021


EXODUS 6:5-6 AFR53

“Daarom, sê aan die kinders van Israel: Ek is die Here, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, en Ek sal julle verlos deur ‘n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte; en Ek sal julle as my volk aanneem en vir julle ‘n God wees. En julle sal erken dat Ek die Here julle God is wat julle uitlei onder die harde arbeid van die Egiptenaars uit.”


God gee vir Moses vier beloftes wat hy moet oordra aan die kinders van Israel.

  1. Ek sal julle uitlei uit Egipte.

  2. Ek sal julle red uit jul slawerny.

  3. Ek sal julle verlos met ‘n uitgestrekte arm.

  4. Ek sal julle as My volk aanneem.

Ons het reeds gesien dat die Israeliete 400 jaar onder die verdrukking van die Egiptenare was.


Die Israeliete het in God geglo en Hom aanbid, maar hulle het nie geglo dat Hy instaat was om hul uit hul verdrukking te red nie. Hulle het mooi gesien hoe die Egiptenare hul gode aanbid en in hulle oë was die Egiptiese gode sterker as hul God.


Die God van Abraham, Isak en Jakob gaan hierdie slawe volk nou op ‘n reis neem, en wat hier gaan gebeur sal tot en met die einde van tyd, elke jaar met ‘n fees gevier word.

 

27 Junie 2021


EXODUS 7:1-3 AFR53

“En die Here het aan Moses gesê: Kyk, Ek stel jou as ‘n god vir Farao, en jou broer Aäron sal jou profeet wees. Jý moet spreek alles wat Ek jou beveel, en jou broer Aäron moet met Farao spreek, sodat hy die kinders van Israel uit sy land laat uittrek. En Ék sal Farao se hart verhard en my tekens en wonders in Egipteland vermenigvuldig.”


Moses en Aäron moet alles wat God spreek en beveel aan Farao oorvertel. God praat net met Moses, en dan moet Moses vir Aäron sê wat hy weer vir Farao moet sê.


God gaan tekens en wonders in Egipteland bring en telkens Farao se hard verhard en in die proses die tekens en wonders vermenigvuldig.


In ‘n profetiese sin sien ons die Israeliete in die Verdrukking, met Farao wat die Antichris is.


Die tekens en wonders word telkens meer intens soos geboortepyne. Die twee getuies se tekens en wonders word elke keer verwerp. Satan se afgevaardigdes gebruik towery. Die Israeliete skuil in die woestyn en word dan verlos. Daar is ‘n groter uittog wat kom!


Terug in Exodus bring God tien plae oor Egipte om vir Sy volk te wys dat Hy, God sterker en groter en magtiger is as die gode van Egipte, en om vir die Egiptenare te wys dat hul gode niks werd is nie.


Hier is die plae wat die Egiptenare getref het en watter van hul gode aangeval is.

1. Water in bloed – Apis, Isis, Khnum & Osiris, die gode van die Nyl rivier wat lewe gee.

2. Paddas – Heqet, die godin van geboorte.

3. Luise – Set, die god van die woestyn. Farao se towenaars kon nie die plaag namaak soos met die vorige 2 nie.

4. Vlieë – Uatchit die god van die vlieë. Geen vlieë het die Israeliete gepla nie.

5. Dood van die vee – Hathor en Apis die vee gode. Die Israeliete se vee het niks oorgekom nie.

6. Swere – Die gode Sekhmet, Sunu & Isis van gesondheid en siektes

7. Hael en vuur – Nut die lug godin, Osiris die oes vrugbaarheid godin, en Set die god van storms. Weereens het die Israeliete niks oorgekom nie

8. Sprinkane – Weereens die gode Nut, Osiris en Set wat die laat oeste opgeëet het,

9. Duisternis – die songod Ra het die Farao verteenwoordig. Vir 3 dae was net die Egiptenare in duisternis gehul, terwyl die Israeliete lig gehad het.

10. Die 10de plaag sluit al die plae af, en ‘n sekere seremonie word van die Israeliete verwag voor die plaag gaan gebeur. Hulle moet optree in geloof, of sterf!

 

28 Junie 2021


EXODUS 11:1 AFR53

“Verder het die Here vir Moses gesê: Nog een plaag sal Ek oor Farao en oor Egipte bring. Daarna sal hy julle hiervandaan laat trek. As hy julle geheel en al laat trek, sal hy julle selfs hiervandaan wegdrywe.”


Nog een plaag is oor voordat Farao uiteindelik die Israeliete gaan toelaat om te trek, hy gaan vêrder as dit gaan want hy gaan die Israeliete wegjaag uit sy koninkryk.


Elke man en vrou moet na hul Egiptiese bure gaan en silwer en goue goed eis. God het aan Sy volk guns verleen en gemaak dat die Egiptenare graag aan die versoek wou voldoen.


“Sê tog voor die ore van die volk dat elke man van sy naaste en elke vrou van haar naaste silwergoed en goue goed moet eis. En die Here het aan die volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars. Ook was die man Moses baie groot in Egipteland, in die oë van Farao se dienaars en in die oë van die volk.” EXODUS 11:2-3 AFR53


God het selfs vir Abraham gesê dat na die vierhonderd jaar se verdrukking die volk sou uittrek met baie goed.


“Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed.” GÉNESIS 15:14 AFR53


Wat sou die doel wees om die silwer en goue goed te eis van mense vir wie hulle eintlik bang was? Die antwoord is in Exodus 35 waar Moses die tempel begin bou en offergawes vra van die Israeliete om die items in die tempel te maak.


“Neem van julle besittings ‘n offergawe aan die Here. Laat elkeen wat gewillig is in sy hart, dit bring, die offergawe van die Here: goud en silwer en koper; en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar; en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle en akasiahout; en olie vir die kandelaar en speserye vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye; en oniksstene en stene om in te lê, vir die skouerkleed en die borstas.” EXODUS 35:5-9 AFR53

 

29 Junie 2021


EXODUS 11:4-5 AFR53

“Toe sê Moses: So het die Here gespreek: Omtrent middernag trek Ek uit dwarsdeur Egipte; dan sal al die eersgeborenes in Egipteland sterwe, van Farao se eersgeborene af wat op sy troon sit, tot die eersgeborene van die slavin agter die handmeul en al die eersgeborenes van die vee.”


Moses gaan vir die laaste keer na Farao en waarsku hom dat die volgende plaag omtrent middernag gaan plaasvind. God self gaan dan deur Egipte trek en al die eersgeborenes in Egipteland sal sterwe, van Farao se eergeborene tot die eersgeborene van die slavin agter die handmeul en al die eersgeborenes van die vee.


Daar sal na die dood van al die eersgeborenes ‘n groot gejammer wees in Egipte soos daar nog nooit was of ooit sal wees nie.


“En daar sal ‘n groot gejammer in die hele Egipteland wees soos daar nie gewees het en soos daar nie weer sal wees nie.” EXODUS 11:6 AFR53


Maar, die kinders van Israel sal beskerm wees en hul eergeborenes sal nie sterf nie. Almal sal duidelik kan sien dat God onderskeid maak tussen die Israeliete en die Egiptenaars.


“Maar teen geeneen van die kinders van Israel sal ‘n hond sy tong verroer nie, van die mense af tot die diere toe, dat julle kan weet dat die Here ‘n onderskeid maak tussen die Egiptenaars en die Israeliete.” EXODUS 11:7 AFR53


Farao luister nog steeds nie want God het sy hart verhard, en hy weier dat die Israeliete kan trek.


“En die Here het vir Moses gesê: Farao sal na julle nie luister nie, sodat my wonders in Egipteland baie kan word. En Moses en Aäron het al hierdie wonders voor Farao gedoen. Maar die Here het Farao se hart verhard, sodat hy die kinders van Israel nie uit sy land laat trek het nie.” EXODUS 11:9-10 AFR53

 

30 Junie 2021


EXODUS 12:1-2 AFR53

“En die Here het met Moses en Aäron in Egipteland gespreek en gesê: Hierdie maand moet vir julle die begin van die maande wees; dit moet vir julle die eerste van die maande van die jaar wees.”


God praat met Moses en Aäron en sê dat hierdie maand, die begin van die maande moet wees, die eerste maand van die jaar. Die maand waarvan hier gepraat word is die maand

Nisan en op ons kalender is die maand gewoonlik in Maart / April.


Die Hebreeuse kalender (Hebreeus: הַלּוּחַ הָעִבְרִי, HaLuah HaIvri), ook genoem die Joodse kalender word in Israel vir godsdienstige doeleindes gebruik, naas die Gregoriaanse kalender.


God gee van hier af vir Moses die verskillende opdragte wat uitgevoer moet word om die volk gereed te maak vir hul uittog uit Egipte. Elkeen van die opdragte vorm die basis van die Joodse Paasfees of in Engels mooier gestel Passover.


Om die verhaal beter te verstaan moet ons dit uit ‘n Joodse oogpunt waarneem. Israel is fisies in die noordelike halfrond geleë en die maand Nisan (Maart / April) is in die lente.


Die Joodse vakansiedae word volgens die maan se siklusse bepaal, en Paasfees begin wanneer dit volmaan is.


Die Joodse dag begin met sononder en nie 12 uur middernag soos ons dit doen nie.


Die gedeelte wat hier volg is wat my opgewonde maak oor die Bybel, en wat vir my hoendervleis gee elke keer as ek sien hoe groot en magtig die God is wat ons dien!

 

1 Julie 2021


EXODUS 12:3 AFR53

“Spreek tot die hele vergadering van Israel en sê: Op die tiende van hierdie maand moet hulle elkeen ‘n lam neem volgens die families, ‘n lam vir ‘n huisgesin.”


Die paaslam word aan die priester voorgestel vir inspeksie.

Op die 10de van Nisan moet elke familie ‘n lam uitsoek. ‘n Lam vir elke huisgesin. Oorspronklik is die lam deur die hoof van die huis geslag. Die dag, die 10 de Nisan staan bekend as ‘lamb selection day’. Dis ‘n besige tyd in Jerusalem want elke huisgesin kies ‘n lam vir die paasfees. Elke familie merk sy lam met ‘n brons naamplaatjie wat die familienaam wys. Die pa van die huis wil graag hê God moet weet dat sy huisgesin Paasfees vier.


Jesus, ons Paaslam, stel Homself voor vir inspeksie.

Jesus reël self Sy bekendstelling wat ons ken as ‘Die intog in Jerusalem’, en vervul so die profesie van Sagaria 9:9 en die Daniel 9:25.


“En toe Hy naby Bétfagé en Betánië kom, by die berg wat die Olyfberg genoem word, het Hy twee van sy dissipels uitgestuur en gesê: Gaan in die dorp reg voor julle; en as julle daar inkom, sal julle ‘n eselsvul vind wat vasgemaak is, waar geen mens ooit op gesit het nie. Maak hom los en bring hom. En as iemand julle vra: Waarom maak julle hom los? — moet julle so vir hom sê: Die Here het hom nodig. En die wat gestuur was, gaan toe en vind dit soos Hy aan hulle gesê het. En terwyl hulle die vul losmaak, sê die eienaars aan hulle: Waarom maak julle die vul los? En hulle antwoord: Die Here het hom nodig. Toe bring hulle hom na Jesus toe, en hulle lê hul klere op die vul en laat Jesus daarop sit. En terwyl Hy voortgaan, gooi hulle hul klere oop op die pad. En toe Hy al naby die afdraand van die Olyfberg kom, begin die hele menigte dissipels God met blydskap te prys met ‘n groot stem oor al die kragtige dade wat hulle gesien het, terwyl hulle sê: Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here, vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele! En sommige van die Fariseërs uit die skare sê vir Hom: Meester, bestraf u dissipels! En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep.” LUKAS 19:29-40 AFR53


Sagaria profeteer dat Israel se Koning op ‘n esel sal ry.


“Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel — op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin.” SAGARÍA 9:9 AFR53


Die engel Gabriel vertel vir Daniel presies wanneer Jesus homself gaan voorstel, tot op die dag bereken.


“Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors, is sewe sewetalle; en twee-en-sestig sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid.” DANIËL 9:25 AFR53

 

2 Julie 2021


EXODUS 12:5 AFR53

“Julle moet ‘n lam hê sonder gebrek, ‘n jaaroud rammetjie. Van die skape of van die bokke kan julle dit neem.”


Die lam moet aan sekere vereistes voldoen wanneer hy uitgekies word.

  1. die lam moet sonder enige gebrek wees,

  2. ‘n jaaroud rammetjie, van die skape of van die bokke kan die lam geneem word.

Jesus het Homself aan die mense voorgestel as die onskuldige lam, deur God gekies, wat nie geslag sou word nie, maar wat vir ons sondes aan die kruis sou sterf.

  1. Jesus is ons Lam sonder enige gebrek, sonder sonde.

  2. ‘n Jaaroud lam het volwasse ouderdom bereik en is in die fleur van sy lewe – Jesus wat ongeveer 33 jaar oud was voldoen aan die vereiste.

“Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” II KORINTHIËRS 5:21 AFR53


“omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos,” I PETRUS 1:18-19 AFR53

 

3 Julie 2021


EXODUS 12:6a AFR53

“En julle moet dit in bewaring hou tot die veertiende dag van hierdie maand;”


Die lam moet in die huis gehou word vir vier dae om seker te maak dat die lam geen gebreke het nie. Die vier dae duur van die 10de tot die 14de Nisan.


Alle suurdeeg moet uit die huis verwyder word. Suurdeeg is ‘n prentjie van sonde, dus moet alle sonde uit die huis verwyder word.


“Sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet; alreeds op die eerste dag moet julle die suurdeeg uit julle huise verwyder. Want elkeen wat gesuurde brood eet, van die eerste dag af tot die sewende toe, dié siel moet uit Israel uitgeroei word.” EXODUS 12:15 AFR53


Wat het Jesus gedoen in die vier dae voor Sy kruisiging? Nadat Hy met die intog in Jerusalem Homself aangebied het as die onskuldige Lam, het Jesus na die tempel gegaan en die tafels omgegooi van die geldskieters wat daar gekoop en verkoop het. Hy het Sy Vader se huis skoongemaak.


“En toe Hy in die tempel ingegaan het, begin Hy die wat daarin verkoop en koop, uit te jaag. En Hy sê vir hulle: Daar is geskrywe: My huis is ‘n huis van gebed. Maar julle het dit ‘n rowerspelonk gemaak.” LUKAS 19:45-46 AFR53


Vir die volgende vier dae het Jesus die mense geleer en hulle was verwonderd oor wat Hy gesê het. Geen fout kon met Jesus gevind word in die vier dae nie.


“En elke dag was Hy besig om in die tempel te leer; en die owerpriesters en die skrifgeleerdes en die vernaamstes van die volk het probeer om Hom om te bring; en hulle het niks gevind wat hulle kon doen nie, want die hele volk het Hom aangehang en na Hom geluister” LUKAS 19:47-48 AFR53

 

4 Julie 2021


LUKAS 22:7 AFR53

“En die dag van die ongesuurde brode het gekom waarop die pasga geslag moes word.”


Wat het met Jesus gebeur in die aand van 14 Nisan – God se eersgebore Seun.


Die tyd om Paasfees te hou het begin en die dissipels berei die kamer voor vir die paasmaal soos deur Jesus gevra. Die Joodse dag begin nou, sononder 14 Nisan.


“Toe stuur Hy Petrus en Johannes en sê: Gaan berei die pasga vir ons, dat ons dit kan eet.” LUKAS 22:8 AFR53


Die laaste Pasga word geëet. Daar word nie vertel presies wat geëet is nie, maar die paaslam is nog nie op die stadium geslag nie. Dit gebeur eers die volgende dag 15:00.


“En toe die uur kom, het Hy aan tafel gegaan en die twaalf apostels saam met Hom. En Hy sê vir hulle: Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat Ek ly.” LUKAS 22:14-15 AFR53


Jesus sit Homself hier in die sakrament. Jesus se liggaam is die brood wat gebreek word.


“Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis.” LUKAS 22:19 AFR53


Jesus neem toe die beker en sit Homself weereens in die sakrament.


“Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word.” LUKAS 22:20 AFR53


Hier sê Jesus dat wanneer hulle in die vervolg die brood eet en die beker drink, moet hulle aan Hom dink want dit is Sy liggaam en Sy bloed. Hulle hoef nie meer aan die uittog uit Egipte te dink nie. Die dissipels sou eers later die waarheid van Jesus se woorde besef.

 

5 Julie 2021


JOHANNES 19:19 AFR53


“En Pilatus het ook ‘n opskrif geskrywe en dit op die kruis gesit; en daar was geskrywe: JESUS, DIE NASARÉNER, DIE KONING VAN DIE JODE.”


Pilatus sit ‘n naamplaatjie op Jesus se kruis wat lees: Jesus, die Nasarener, die Koning van die Jode.


Hierdie opskrif is deur baie Jode gelees, want die plek waar Jesus gekruisig is, was naby die stad. Dit was ook tyd vir die Paasfees wat een van die drie verpligte feeste was vir al die Joodse mans om by te woon.


Volgens Josephus (‘n Joodse priester, geleerde en historikus) was daar ongeveer 256,500 skape geslag tydens die Paasfees wat ‘n aanduiding is van die hoeveelheid mans wat die fees bygewoon het.


“Hierdie opskrif dan het baie van die Jode gelees, omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad was; en dit was geskrywe in Hebreeus en Grieks en Latyn.” JOHANNES 19:20 AFR53


Om olie op die vuur te gooi was die opskrif ook in drie van die gesproke tale van die tyd nl: Hebreeus, Grieks en Latyn geskryf – net om die owerpriesters van die Jode te frustreer.


“En die owerpriesters van die Jode het vir Pilatus gesê: Moenie skrywe: Die Koning van die Jode nie; maar dat Hy gesê het: Ek is die Koning van die Jode.” JOHANNES 19:21 AFR53


Onthou op die 10 de Nisan het elke familie ‘n lam sonder gebrek gekies en die lam gemerk met ‘n brons naamplaatjie wat die familienaam wys. Die opskrif op Jesus se kruis was Sy familienaam: Jesus, die Nasarener, die Koning van die Jode!

 

6 Julie 2021


EXODUS 12:6b AFR53

“en die hele vergadering van die gemeente van Israel moet dit slag teen die aand.”


Die hele vergadering van die gemeente van Israel moet hul lammers slag teen die aand. Teen die aand sal ons na die einde van ‘n Joodse dag bring want met sononder begin die volgende dag.


Genesis 1, waar God die wêreld geskape het, wys ons hoe God verwys na ‘n dag – dit was eers aand en toe môre!


“en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.” GÉNESIS 1:5 AFR53


In Joodse tradisie word die ure van die dag as volg waargeneem:


NAG

  1. eerste wag…………sonsondergang tot 21:00      

  2. derde wag………….21:00 tot middernag              

  3. sesde wag………….middernag tot 3:00                 

  4. negende wag………3:00 tot 6:00                            

DAG

  1. eerste uur……..sonsopkoms tot 9:00

  2. derde uur………9:00 tot 12:00

  3. sesde uur……..12:00 tot 15:00

  4. negende uur….15:00 tot sonsondergang

Jesus was op die 14de dag van die 1ste maand teen 9:00 (derde uur) die oggend al gekruisig.


“En nadat hulle Hom gekruisig het, het hulle sy klere verdeel deur die lot te werp oor wat elkeen moes kry. En dit was die derde uur toe hulle Hom gekruisig het.” MARKUS 15:24-25 AFR53


Die middag omtrent 15:00 (negende uur) toe die lammers geslag is, het Jesus Sy laaste asem uitgeblaas.


“En dit was omtrent die sesde uur, en daar het duisternis oor die hele aarde gekom tot die negende uur toe; en die son is verduister; en die voorhangsel van die tempel het middeldeur geskeur. En Jesus het met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Vader, in u hande gee Ek my gees oor! En toe Hy dit gesê het, blaas Hy die laaste asem uit.” LUKAS 23:44-46 AFR53

 

7 Julie 2021


EXODUS 12:22 AFR53


“En neem ‘n bossie hisop en steek dit in die bloed wat in die skottel is, en stryk aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte van die bloed wat in die skottel is. Maar niemand van julle mag uit die deur van sy huis uitgaan tot die môre toe nie.”


Neem ‘n bossie hisop (dit word gebruik as ‘n verfkwas) en steek dit in die bloed wat in die skottel is (die bloed van die geslagte lam is in die skottel). Stryk of verf nou die bloed aan die deurposte (links en regs) en aan die bodrumpel van die voordeur. Die drie strepe word simbolies gebind om ‘n kruis te vorm.


Die huis is nou gemerk en niemand mag uitgaan tot die môre toe nie. Wat sou die doel wees met die bloed wat aan die deur geverf moet word? Die Bybel gee die antwoord.


“Want die Here sal deurtrek om die Egiptenaars swaar te tref. Maar wanneer Hy die bloed sien aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte, sal die Here by die deur verbygaan en die verderwer nie toelaat om in julle huise in te gaan om te slaan nie.” EXODUS 12:23 AFR53


Dis waar die Engelse woord vir die fees so mooi is – Passover! When God sees the blood on the door, He will pass over the house!


Die bloed beskerm dus die inwoners van die huis, maak nie saak wie in die huis nie, Israeliet of Egiptenaar. Maar, as jy nie die bloed aan jou deurkosyn het nie, is jy nie beskerm nie. Hulle moet ook binne die huis bly, en nie buitekant toe gaan nie.


Jesus het Homself aan die kruis geoffer sodat elkeen van ons deur Sy kosbare bloed gered kan word, eens en vir altyd.


“Maar as ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.”   I JOHANNES 1:7 AFR53

 

8 Julie 2021


JOHANNES 19:31-33 AFR53

“En dat die liggame nie op die sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit die voorbereiding was — want die dag van daardie sabbat was groot — het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word. Die soldate het toe gekom en die bene van die eerste een gebreek en van die ander een wat saam met Hom gekruisig was; maar toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy al dood was, het hulle sy bene nie gebreek nie.”


Net soos die geen been van die paaslam gebreek kon word nie, net so is geen been van Jesus gebreek voor Hy van die kruis afgehaal is nie.


“In een huis moet dit geëet word; jy mag niks van die vleis uit die huis buitentoe bring nie; en julle mag geen been daarvan breek nie.” EXODUS 12:46 AFR53


Die fees van Ongesuurde Brode is sewe dae lank en is ‘n aparte fees van Paasfees. Die fees het ‘n voorbereidingsdag wat begin op 14 Nisan, want saam met Paasfees moet daar ongesuurde brode geëet word.


In die vers hierby sien ons dat met Jesus se kruisiging, die liggame nie op die kruis moes bly nie, aangesien dit die voorbereiding was. Hier het ons bevestiging dat hierdie die voorbereidings dag voor die fees van Ongesuurde Brode was.


Die Fees van Ongesuurde Brode begin op 15 Nisan en eindig op 21 Nisan en altwee dae is heilige samekomste. Op die dae mag geen werk gedoen word nie. Dit is nie noodwendig ‘n sabbatdag of Saterdag nie, maar moet as ‘n sabbatdag geheilig word.


Omdat 15 Nisan as ‘n sabbatdag geheilig moet word, mag geen werk op die dag gedoen word nie, en Jesus moes dus voor sononder begrawe wees.


Josef van Arimathea het vir Pilatus gevra of hy Jesus se liggaam kon kry, en Pilatus het dit toegelaat.


“En ná hierdie dinge het Josef van Arimathéa, wat ‘n dissipel van Jesus was, maar in die geheim, uit vrees vir die Jode, vir Pilatus gevra of hy die liggaam van Jesus mag wegneem. En Pilatus het dit toegelaat. Hy het toe gegaan en die liggaam van Jesus weggeneem.” JOHANNES 19:38 AFR53


Jesus se liggaam is in ‘n nuwe graf neergelê deur Josef van Arimathea, en als voor sononder op die voorbereiding dag.


“Daar het hulle Jesus toe neergelê weens die voorbereiding van die Jode, omdat die graf naby was.” JOHANNES 19:42 AFR53

 

9 Julie 2021


EXODUS 12:15 AFR53

“Sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet; alreeds op die eerste dag moet julle die suurdeeg uit julle huise verwyder. Want elkeen wat gesuurde brood eet, van die eerste dag af tot die sewende toe, dié siel moet uit Israel uitgeroei word.”


Na sononder is ons op die volgende dag naamlik 15 Nisan. Paasfees is nou verby en die Fees van Ongesuurde Brode begin.


Suurdeeg is ‘n voorstelling van sonde. Hoekom? ‘n Klein bietjie suurdeeg laat n hele baksel deeg reis. Die brood wat geëet word, die brood gebak sonder suurdeeg, stel Jesus se liggaam voor, sonder sonde.

Hoe lyk die Joodse ongesuurde broode. Die brood is oortrek met strepe en gate. Die strepe stel voor die houe wat Jesus verduur het, en die gate die spykers wat in Sy hande en voete deurboor is, en die doringkroon op Sy hoof. Die brode word op 'n draadrak gebak, vandaar die strepe, en daar word gate in die deeg gedruk, sodat dit glad nie moet reis nie.


“Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” Jesaja 53:5    


Interessant om te weet dat Betlehem beteken ‘huis van brood’ en Jesus, die brood van die lewe, is gebore in die huis van brood.


“En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.” Johannes 6:35          


“Ek is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het. As iemand van hierdie brood eet, sal hy lewe tot in ewigheid. En die brood wat Ek sal gee, is my vlees wat Ek vir die lewe van die wêreld sal gee.” Johannes 6:51        

 

10 Julie 2021


EXODUS 12:8 AFR53

“En hulle moet die vleis in dieselfde nag eet, oor die vuur gebraai; saam met ongesuurde brode moet hulle dit met bitter kruie eet.”


Teen sonder, wat die tyd van die jaar in Jerusalem glo ongeveer 5 uur is, is die lammers gereed om gebraai te word vir aandete.


Tyd raak nou ‘n faktor. Die paaslam wat vroeër die middag geslag is moet vinnig gaar gemaak word, want dit moet in dieselfde nag geëet word. Dus moet die paaslam gaar en gereed vir ete wees, voor hulle gaan slaap. Daarom die opdrag om die paaslam oor die vuur te braai, wat ‘n vinniger proses is as om dit op te kook in water.


Die paaslam moet saam met ongesuurde brode en bitter kruie geëet word. Ongesuurde brood is ook ‘n vinniger proses om brood te maak as om suurdeeg te gebruik. Suurdeeg neem ure om te reis, en die Israeliete het nie ure nie. Brood sonder suurdeeg is dus vinniger om te maak, en die uitkoms is ‘n plat brood.


Die bitter kruie was om later die bitter slawerny van die Israeliete uit te beeld elke keer as die Paasfees gevier word. Soms moet ons net doen wat God van ons vra al weet ons nie die rede nie.


Niks van die paaslam mag oorbly nie. Dit wat nie geëet is nie moet met vuur vebrand word.


“Julle mag daar ook niks van laat oorbly tot die môre toe nie; maar wat daarvan tot die môre oorbly, moet julle met vuur verbrand.” EXODUS 12:10 AFR53

 

11 Julie 2021


EXODUS 12:11 AFR53

“En só moet julle dit eet: Julle heupe moet omgord wees, julle skoene aan jul voete en julle staf in jul hand; baie haastig moet julle dit eet. ‘n Pasga van die Here is dit.”


Baie haastig moet julle dit eet! Nie net haastig eet nie, maar die Israeliete moet gereed staan om enige oomblik te beweeg.


Omgord julle heupe - die mans in daardie tyd het lang 'rokke' of tunieke gedra wat hul verhinder het om vinnig te beweeg. Die beste beskrywing van wat gedoen word om hul heupe te omgord word in die prentjie beste verduidelik.


Trek skoene aan jul voete en staan gereed met jul staf in jul hande, want God gaan in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes tref, van mense sowel as van diere.


“Want Ek sal in hierdie nag deur Egipteland trek en al die eersgeborenes in Egipteland tref, van mense sowel as van diere. En Ek sal strafgerigte oefen aan al die gode van Egipte, Ek, die Here.” EXODUS 12:12 AFR53


Almal wat die bloed aan hul deure geverf het, moet in hul huise bly, want die bloed sal ‘n teken wees vir God om verby te gaan sodat die verderflike plaag hulle nie sal tref nie.


“Maar die bloed sal vir julle ‘n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan. En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Egipteland tref nie.” EXODUS 12:13 AFR53

 

12 Julie 2021


EXODUS 12:29 AFR53

“En middernag het die Here al die eersgeborenes in Egipteland getref, van die eersgeborene van Farao af wat op sy troon gesit het, tot die eersgeborene van die gevangene toe wat in die gevangenis was, en al die eersgeborenes van die diere.”


Die tiende plaag, die dood van die eersgeborenes gebeur middernag toe God al die eersgeborenes in Egipteland tref. Almal se eersgeborenes wat nie die bloed aan hul deure geverf het nie, van die eersgeborene van Farao, tot die eersgeborene van die gevangene en ook die eersgeborene van die diere.


Daar is ‘n geween en ‘n gekners van tande soos daar nog nooit tevore was nie, want elke huis in Egipteland het ‘n eersgeborene wat dood is. Farao laat roep vir Moses en Aäron en uiteindelik beveel hy hulle om te trek en die Here te gaan dien soos hulle bespreek het.


“Daarop het hy Moses en Aäron in die nag laat roep en gesê: Maak julle klaar, trek weg onder my volk uit, julle sowel as die kinders van Israel, en gaan dien die Here soos julle gespreek het.” EXODUS 12:31 AFR53


Die volk is reeds reg om te trek want hulle het voor die ete vroeër die aand al reg aangetrek.


Nou neem hulle ook die bakskottels met die ongesuurde deeg en bind dit in mantels toe. Dit is hul kos vir die volgende paar dae.


“Toe neem die volk hulle deeg voordat dit ingesuur was, met hulle bakskottels, in hulle mantels toegebind, op die skouers.” EXODUS 12:34 AFR53


Ook het die kinders van Israel die silwer en goue goed en klere geëis van die Egiptenaars wat dit gewillig gegee het.


“En die kinders van Israel het gehandel volgens die woord van Moses: hulle het van die Egiptenaars silwergoed en goue goed en klere geëis;” EXODUS 12:35 AFR53


Die kinders van Israel pak die groot trek aan van Raämses na Sukkot. Die manne alleen was omtrent seshondderduisend, so as ons die vroues en kinders bytel was daar ten minste 1,2 miljoen mense wat Egipte verlaat het.


“En die kinders van Israel het van Raämses na Sukkot weggetrek, omtrent seshonderdduisend te voet, die manne buiten die kinders.” EXODUS 12:37 AFR53


“En op daardie selfde dag het die Here die kinders van Israel, volgens hulle leërafdelings, uit Egipteland uitgelei.” EXODUS 12:51 AFR53

 

13 Julie 2021


EXODUS 13:21-22 AFR53

“En die Here het voor hulle uitgetrek, bedags in ‘n wolkkolom om hulle op die pad te lei, en snags in ‘n vuurkolom om hulle voor te lig, sodat hulle dag en nag kon trek. Die wolkkolom het nie bedags en die vuurkolom nie snags voor die volk gewyk nie.”


Die Israeliete is nie alleen op hul pad uit Egipteland nie. God is met hulle, dag en nag.

God trek voor hulle uit – bedags in ‘n wolkkolom om vir hulle die pad te wys, en snags in ‘n vuurkolom om hul pad te verlig – en hulle trek onverpoos voort, dag en nag!


Die fees van Ongesuurde Brode duur sewe dae van 15 Nisan tot 21 Nisan, en dit is ook hoe lank dit die Israeliete geneem het om tot by en deur die Skelf see te trek.


– 15 Nisan: Raämses na Sukkot

“En die kinders van Israel het van Raämses na Sukkot weggetrek, omtrent seshonderdduisend te voet, die manne buiten die kinders.” EXODUS 12:37 AFR53


– 16 Nisan: Sukkot na Etam

“So het hulle dan van Sukkot af weggetrek en laer opgeslaan in Etam, aan die kant van die woestyn.” EXODUS 13:20 AFR53


– 17 Nisan: Hulle draai om en gaan ‘n entjie terug na Pi-Hágirot, sodat Farao dink hulle het verdwaal.

“Sê aan die kinders van Israel dat hulle moet omdraai en laer opslaan voor Pi-Hágirot, tussen Migdol en die see. Reg teenoor Baäl-Sefon moet julle laer opslaan by die see.” EXODUS 14:2 AFR53


– 18 Nisan: Farao se spioene rapporteer terug dat die drie dae om God te aanbid verby is, en die Israeliete kom nie terug nie.

“Toe die koning van Egipte berig ontvang dat die volk gevlug het, het die hart van Farao en van sy dienaars teenoor die volk verander, en hulle sê: Wat het ons nou gedoen dat ons Israel laat trek het, sodat hulle ons nie meer dien nie?” EXODUS 14:5 AFR53


– 19 & 20 Nisan: Farao se volle leërmag agtervolg die Israeliete en haal hulle in by Pi-Hágirot waar hulle laer opgeslaan het……..

“En die Egiptenaars het hulle agtervolg — al Farao se perde en strydwaens, sy ruiters en sy leërmag — en hulle ingehaal terwyl hulle in die laer gestaan het by die see by Pi-Hágirot, voor Baäl-Sefon.” EXODUS 14:9 AFR53


– 21 Nisan: Die sewende dag van die trek en in die toekoms die sewende dag van die sewe dae Fees van Ongesuurde Brode.

 

14 Julie 2021


EXODUS 14:13-14 AFR53

“Maar Moses het aan die volk gesê: Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die Here wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie. Die Here sal vir julle stry, en julle moet stil wees.”


Die Israeliete is vreesbevange want die Egiptenare is agter hulle.


“Toe Farao naby kom, slaan die kinders van Israel hulle oë op, en kyk, daar trek die Egiptenaars agter hulle aan; en hulle het baie bang geword. Daarop het die kinders van Israel tot die Here geroep.” EXODUS 14:10 AFR53


Die wolkkolom en die vuurkolom wat voor die Israeliete getrek het, het na agter beweeg en tussen die Israeliete en die Egiptenare stelling ingeneem. God beskerm nog steeds Sy volk, al is almal van hulle kleingelowig.


“En die Engel van God wat voor die leër van Israel uit getrek het, het daar weggegaan en agter hulle aan getrek. En die wolkkolom het ook voor hulle weggetrek en agter hulle gaan staan;” EXODUS 14:19 AFR53


Moses steek sy staf oor die see uit en God stuur ‘n wind wat die waters na links en na regs oopmaak sodat die volk daardeur kan trek.


“En die kinders van Israel het midde-in die see getrek op droë grond. En die waters was vir hulle ‘n muur aan hul regter- en aan hul linkerkant.” EXODUS 14:22 AFR53


En die Egiptiese leër volg die Israeliete en trek ook deur die droeë grond van die see, maar Moses lig weer sy hand op toe die laaste Israeliet veilig is, en die see maak bo oor die Egiptenare toe.


“En toe die waters terugvloei, het hulle die strydwaens en die ruiters van Farao se hele leërmag wat agter hulle die see ingetrek het, oordek. Geeneen van hulle het oorgebly nie.” EXODUS 14:28 AFR53


So vervul God Sy belofte aan die Israeliete wat ons in Exodus 6:5-6 gesien het!

  1. Ek sal julle uitlei uit Egipte.

  2. Ek sal julle red uit jul slawerny.

  3. Ek sal julle verlos met ‘n uitgestrekte arm.

  4. Ek sal julle as My volk aanneem.

 

15 Julie 2021


EXODUS 20:18 AFR53

“En toe die hele volk die donderslae en die blitse en die geluid van die basuin en die rokende berg bemerk, het die volk dit gesien en gebewe en op ‘n afstand bly staan.”


God gee vir Moses die Tien Gebooie op twee kliptafels op die berg Sinai terwyl die volk die donderslae, blitse, basuin geluide en rook op die berg sien en beleef. Die verskrikte Israeliete is bang vir God se stem en vra vir Moses dat hy eerder as hulle met God moet praat.


Wie kan onthou toe die Tien Gebooie elke Sondag oggend in die kerk voorgelees is, gevolg deur die sing van Ewig Onbegryplik Wese, en dan die voorlees of opsê van die Geloofsbeleidenis? Kom ons gebruik vandag om weer die Tien Gebooie te hersien!


“Toe het God al hierdie woorde gespreek en gesê:

Ek is die Here jou God wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het.

1. Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.


2. Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, die Here jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.


3. Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie.


4. Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie — jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die Here die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die Here die sabbatdag geseën en dit geheilig.


5. Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die Here jou God aan jou gee.


6. Jy mag nie doodslaan nie.


7. Jy mag nie egbreek nie.


8. Jy mag nie steel nie.


9. Jy mag geen valse getuienis teen jou naaste spreek nie.


10. Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.”

EXODUS 20:1-17 AFR53

19 views0 comments
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page