top of page
  • Regina Torre

Israel: Wat was, wat is, en wat kom! Josua

Updated: Jan 26, 2023

 

20 Augustus 2021


JOSUA 1:1-2 AFR53

“En ná die dood van Moses, die kneg van die Here, het die Here met Josua, die seun van Nun, die dienaar van Moses, gespreek en gesê: My kneg Moses is dood; maak jou dan nou klaar, trek deur hierdie Jordaan, jy en hierdie hele volk, na die land wat Ek aan hulle, die kinders van Israel, sal gee.”


Moses het voor sy dood opgeklim na die berg Nebo, en daar het God vir hom die Beloofde Land gewys.


“Toe het Moses opgeklim uit die vlaktes van Moab na die berg Nebo, die top van Pisga wat teenoor Jérigo lê; en die Here het hom die hele land, Gílead tot Dan toe, laat sien; en die hele Náftali en die land Efraim en Manasse en die hele land Juda tot by die Westelike See; en die Suidland en die Jordaanstreek, die laagte van Jérigo, die palmstad, tot by Soar.” DEUTERONÓMIUM 34:1-3 AFR53


Die land wat God met ‘n onverbreekbare verbond aan Abraham, Isak en Jakob belowe het.


“En die Here het vir hom gesê: Dit is die land wat Ek aan Abraham, Isak en Jakob met ‘n eed beloof het met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek dit gee; Ek het jou dit met jou oë laat sien, maar jy sal daarheen nie oortrek nie.” DEUTERONÓMIUM 34:4 AFR53


En Moses het gesterf toe hy een honderd en twintig jaar oud was. God self het Moses begrawe en tot vandag toe nog het niemand sy graf gekry nie.


“Toe het Moses, die kneg van die Here, daar gesterwe in die land Moab, volgens die bevel van die Here. En Hy het hom in die dal in die land Moab, teenoor Bet-Peor, begrawe; en niemand het tot vandag toe sy graf geken nie. En Moses was honderd-en-twintig jaar oud toe hy gesterf het; sy oog was nie verswak nie, en sy krag het nie vergaan nie.” DEUTERONÓMIUM 34:5-7 AFR53


Josua is Moses se opvolger, en sy opdrag van God is om die volk wat nou vir veertig jaar in die woestyn rondgeswerf het, reg te kry om deur die Jordaan rivier te trek na die land wat God aan die kinders van Israel sal gee.


 

21 Augustus 2021


JOSUA 1:3 AFR53

“Elke plek waar julle voetsool op sal trap, dit gee Ek aan julle, soos Ek met Moses gespreek het.”


God gee nou vir Josua sy instruksies, en Josua gaan moet optree in geloof. Elke plek waar hulle voetsool sal trap, die grond gaan God aan die volk gee. Van hieraf is dit net vorentoe vir Josua en die volk, daar is nie omdraai nie. God gee ook vir hom die afmetings van die grondgebied.


“Van die woestyn en hierdie Líbanon af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier, die hele land van die Hetiete, en tot by die Groot See in die weste sal julle grondgebied wees.” JOSUA 1:4 AFR53


God praat Josua ook moed in en sê dat Hy hom nooit sal verlaat nie. Niemand sal voor hom standhou nie en soos wat God met Moses was so sal God met Josua ook wees.


“Niemand sal voor jou standhou al die dae van jou lewe nie; soos Ek met Moses gewees het, sal Ek met jou wees; Ek sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie.” JOSUA 1:5 AFR53


Josua moet nougeset handel volgens die wetboek wat Moses geskryf het, want dan sal sy weë voorspoedig wees.


“Hierdie wetboek mag nie uit jou mond wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees, en dan sal jy met goeie gevolg handel.” JOSUA 1:8 AFR53

God bevestig aan Josua dat hy nie bevrees of verskrik moet wees nie, want Hy is met hom, oral waar hy gaan.


“Het Ek jou nie beveel nie: Wees sterk en vol moed, wees nie bevrees of verskrik nie; want die Here jou God is met jou, oral waar jy heengaan.” JOSUA 1:9 AFR53


Die volk sê vir Josua dat soos hulle vir Moses geluister het, so sal hulle ook vir hom luister.


“Net soos ons na Moses geluister het, so sal ons na u luister; mag die Here u God net met u wees soos Hy met Moses gewees het.” JOSUA 1:17 AFR53


 

22 Augustus 2021


JOSUA 2:1 AFR53

“Daarop het Josua, die seun van Nun, uit Sittim in die geheim twee manne as verkenners uitgestuur en gesê: Gaan bekyk die land en Jérigo. Hulle het toe gegaan en in die huis van ‘n hoer, met die naam van Ragab, ingekom; en hulle het daar gaan slaap.”


Josua stuur twee verkenners uit om na na die land en na Jerigo te kyk. Hulle bly by ‘n prostituut, Ragab, wat hulle wegsteek toe die koning hulle kom soek om uit te lewer.


“En toe daar aan die koning van Jérigo gesê is: Kyk, manne uit die kinders van Israel het vannag hierheen gekom om die land te verken, stuur die koning van Jérigo na Ragab om te sê: Lewer die manne uit wat na jou gekom het, wat in jou huis ingegaan het; want hulle het gekom om die hele land te verken.” JOSUA 2:2-3 AFR53


Ragab het vir die soldate gesê dat hulle wel by haar was, maar uit die poorte geloop het toe die stad teen sononder gesluit is. Die soldate het hulle toe buite die poorte gaan soek.


Hierdie heiden vrou praat met die verkenners en sy weet meer van hulle as wat hulself weet. Die mense in Jerigo is wel bewus dat God die land aan die volk Israel gegee het, en hulle is verskrik en bewerig vir die Israeliete! Ragab erken ook dat die God van die Israeliete die God is van die hemel daarbo en die aarde hieronder.


“want ons het gehoor dat die Here die water van die Skelfsee voor julle by jul uittog uit Egipte laat opdroog het en wat julle die twee konings van die Amoriete, Sihon en Og, oorkant die Jordaan aangedoen het, dat julle hulle met die banvloek getref het. Toe ons dit hoor, het ons hart gesmelt, sodat daar by niemand enige moed meer oorgebly het teenoor julle nie; want die Here julle God, Hy is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder.” JOSUA 2:10-11 AFR53


Sy vra toe vir die verkenners om haar en haar familie te spaar wanneer hulle Jerigo gaan inneem. Hulle kom ooreen om haar te help en sy laat hulle toe met ‘n tou afsak uit die venster van haar huis wat op die muur van Jerigo gebou is, sodat hulle kon ontsnap. Hulle gee vir haar die volgende instruksies.


“kyk, as ons die land inkom, moet jy hierdie gedraaide rooi lyn waarmee jy ons laat afsak het, aan die venster vasbind, en jy moet jou vader en jou moeder en jou broers en jou hele familie by jou in die huis versamel. Elkeen wat dan uit die deure van jou huis buitentoe gaan, dié se bloed sal op sy hoof wees, en ons onskuldig; maar elkeen wat by jou in die huis sal wees, dié se bloed sal op ons hoof wees, ingeval ‘n hand teen hom is.” JOSUA 2:18-19 AFR53


Laat hierdie julle nie terug dink aan die bloed wat op die deure se kosyne gesmeer moes word nie. Wanneer die doodsengel oor die huise beweeg en die bloed sien, sal die inwoners van die huis beskerm wees. Selfde hier, wanneer Jerigo tot ‘n val kom, sal die inwoners van die huis waar die rooi lyn is beskerm wees – ‘Covered by the blood of Jesus’


 

23 Augustus 2021


JOSUA 2:24 AFR53

“Verder het hulle vir Josua gesê: Sekerlik gee die Here die hele land in ons hand, ja, al die inwoners van die land bewe selfs vir ons.”


‘n Positiewe verslag! Fantasties, die vyand is bang vir ons en ons gaan die land verseker kan inneem!


Josua en die volk kom voor die Jordaan rivier en moet deurtrek om na die Beloofde Land te gaan. Hy praat met die volk en sê dat wat volgende gaan gebeur aan die volk sal wys dat ‘n lewendige God tussen hulle woon en dat hul al hulle vyande gaan oorwin.


“en net toe die draers van die ark by die Jordaan kom en die priesters wat die ark dra, hulle voete aan die kant van die water insteek, terwyl die Jordaan vol was op al sy walle al die dae van die oes, bly die water staan wat van die bokant afkom: dit het opgerys soos een wal, baie ver weg by die stad Adam wat langs Sartan lê; en die wat afstroom na die See van die Vlakte, die Soutsee, het heeltemal verdwyn; toe het die volk deurgetrek, teenoor Jérigo.” JOSUA 3:15-16 AFR53


Dit het net so gebeur, die water aan die een kant het soos ‘n muur opgehoop en hulle het op droeë grond deurgeloop. Net soos hul voorvaders met Moses deur die Rooi See geloop het.

Toe hulle deur die rivier is word al die jong mans besny, want in die woestyn het hulle dit nie gedoen nie.


“Want veertig jaar lank het die kinders van Israel in die woestyn getrek, totdat die hele volk omgekom het, die krygsmanne wat uit Egipte weggetrek het, wat nie aan die stem van die Here gehoorsaam was nie; vir wie die Here gesweer het dat Hy hulle die land nie sou laat sien wat die Here hulle vaders met ‘n eed beloof het om aan ons te gee nie — ‘n land wat oorloop van melk en heuning. Maar in hulle plek het Hy hul seuns gestel; dié het Josua besny; want hulle was onbesnede, omdat hulle op pad nie besny is nie.” JOSUA 5:6-7 AFR53


Die eerste Pasga in veertig jaar word in die vlaktes van Jerigo gehou.


“Terwyl die kinders van Israel by Gilgal gelaer was, het hulle die pasga gehou op die veertiende dag van die maand in die aand, in die vlaktes van Jérigo.” JOSUA 5:10 AFR53

Na die Pasga eet die volk ongesuurde brode en gebraaide koring van die opbrengs van die land, en die volgende dag word die manna wat elke dag uit die hemel voorsien is, gestaak!


 

24 Augustus 2021


JOSUA 5:13 AFR53

“En terwyl Josua by Jérigo was, slaan hy sy oë op en kyk, en daar staan ‘n man teenoor hom met ‘n ontblote swaard in sy hand; en Josua het na hom gegaan en hom gevra: Behoort U by ons of by ons vyande?”


God verskyn aan Josua soos wat Hy aan Moses verskyn het. Ons weet dit is God en nie ‘n engel nie want Josua word toegelaat om neer te buig. Engele laat nie toe dat hulle aanbid word nie. Vêrder word Josua beveel om sy skoene uit te trek want die grond waarop hy staan is heilige grond.


“En Hy sê: Nee, maar Ek is die leërowerste van die Here; Ek het nou gekom. Toe val Josua met sy aangesig op die grond en buig hom neer en vra Hom: Wat wil my Here aan sy dienskneg sê? Toe sê die leërowerste van die Here vir Josua: Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilig. En Josua het so gedoen.” JOSUA 5:14-15 AFR53

Josua kry nou sy instruksies om Jerigo te verslaan.


“Toe het die Here vir Josua gesê: Kyk, Ek gee Jérigo met sy koning en dapper helde in jou hand. Julle moet dan om die stad trek, al die krygsmanne; trek die stad een maal om; so moet jy doen ses dae lank. En sewe priesters moet sewe ramshorings voor die ark dra; maar op die sewende dag moet julle die stad sewe maal omtrek; en die priesters moet op die horings blaas; en as hulle lang geluide op die ramshoring blaas, as julle die geluid van die horing hoor, moet die hele volk ‘n groot krygsgeskreeu aanhef: dan sal die stadsmuur op sy plek inval; en die volk moet inklim, elkeen reg voor hom uit.” JOSUA 6:2-5 AFR53


Die volk doen presies soos hulle beveel is. Vir ses dae loop die hele volk elke dag in stilte een keer rondom Jerigo. Die enigste geluid wat gehoor word is die horings wat blaas en die voete wat loop, niemand uiter ‘n woord nie. Op die sewende dag trek hulle sewe maal om die dorp, weereens net die klank van voete wat loop en horings wat blaas, en toe gee Josua die bevel – Skreeu, want die Here gee die stad aan julle oor!


“Toe skreeu die volk, en hulle het op die horings geblaas; en toe die volk die geluid van die horing hoor, het die volk ‘n groot krygsgeskreeu aangehef; en die muur het op sy plek ingeval, en die volk het in die stad geklim, elkeen reg voor hom uit, en hulle het die stad ingeneem.” JOSUA 6:20 AFR53


Almal in die stad is doodgemaak, mans, vrouens, kinders, beeste, skape & esels. Net Ragab en haar familie wat saam met haar in haar huis was is gespaar.


“En aan die twee manne wat die land verken het, het Josua gesê: Gaan in die huis van die hoer, en bring die vrou en almal wat aan haar behoort, daaruit, soos julle vir haar gesweer het.” JOSUA 6:22 AFR53


 

25 Augustus 2021


JOSUA 6:24 AFR53

“En die stad met alles wat daarin was, het hulle met vuur verbrand; net die silwer en die goud en die koper — en ystervoorwerpe het hulle by die skat van die huis van die Here gevoeg.”


Die stad Jerigo was totaal en al verwoes tydens hierdie inval, en God het die Israeliete beveel om niks van die stad vir hulself te neem nie. Die goud, silwer en koper wat versamel is, is als vir die huis van die Here gegee.


Die Israeliete is ook beveel om nooit weer die stad te herbou nie, en die een wat dit sou waag is vervloek voor die aangesig van die Here. Tot vandag toe het die Israeliete nie die stad herbou nie. Ander het, maar nie die Israeliete nie.


God het hiermee die volgende vir Sy volk gesê. Ek gee vir julle hierdie land Kanaän, wat Ek aan julle voorvaders Abraham, Isak en Jakob met ‘n verbond belowe het. So, moet nie hierdie stad herbou nie, maar hou dit in puin as ewige herinnering dat Ek die voorsiener is van julle huidige en toekomstige seëninge.


Toe die Israeliete deur die Jordaan getrek het na die land van melk en heuning, het hulle nog geen grond besit nie. Jerigo, wat so pas oorwin is, was hul eerste besitting, en dit mag hulle nie hou nie, hulle moet Jerigo in puin los.


Vêrder sê God vir Sy volk dat die land Kanaän wat Hy vir hulle gee, aan Hom behoort. Hy wil he hulle moet weet wie vir hulle die land gee, en dat hulle moet glo en vetrou dat Hy vir hulle die res ook sal gee. Dus, vir die Israeliete, moes Jerigo, hul ‘eerste vrugte’, ‘n puinhoop bly vir ewig om hul te herinner dat alles wat hulle besit van God af kom.


Al die feeste word jaarliks gehou sodat die volk kan onthou! Onthou wat God gedoen het vir die Israeliete, onthou van die wonderwerke en onthou dat God sterker en groter is as al hulle vyande en die vyande se gode.


 

26 Augustus 2021


LEVÍTIKUS 23:9-10 AFR53

“En die Here het met Moses gespreek en gesê: Spreek met die kinders van Israel en sê aan hulle: As julle in die land kom wat Ek julle gee en sy opbrings oes, moet julle die eerstelingsgerf van julle oes na die priester bring.”


Die fees van Eerste Vrugte het begin in Josua se tyd, want die vers van vandag sê – as julle in die land kom wat Ek julle gee…. God het dié fees ingestel sodat Sy volk die vrugbare land wat Hy aan hulle gegee het op ‘n spesifieke dag kon waardeer met die vier van ‘n fees.


Die eerstelingerf van julle oes moet julle na die priester bring. Wat beteken dit?


Twee mans bring ‘n offer aan God. Die een offer kom van die vrugte van die aarde, die ander offer kom van die eersgebore van sy kudde. God aanvaar die een offer, en verwerp die ander een, hoekom? Ons lees in Genesis 4 dat Abel ‘n veeboer en Kain ‘n saaiboer was.


“En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die Here ‘n offer gebring. En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die Here het Abel en sy offer genadig aangesien, maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang.” GÉNESIS 4:3-5 AFR53


Ons lees hier dat Abel die eersteling uit sy kudde geoffer het, maar die gedeelte sê nie dat Kain die eersteling van sy vrugte geoffer het nie. Kain het met verloop van tyd sy opbrengs geoffer. Kain het dus op sy voorwaardes met verloop van tyd, van die vrugte van sy oes bymekaar gemaak om te offer.


God het Abel se offer aanvaar want dit was die eersteling van sy kudde, maar Kain se offer is verwerp want dit was nie van die eersteling van sy oes nie.


Om die eerste van enige iets vir God te gee, vereis dat jy moet GLO. As jou skaap haar eerste lam vir jou gee, het jy geen waarborg dat sy vêrdere lammers vir jou gaan gee nie. Abel het sy eerste lam vir God geoffer in geloof dat hy nog lammers sou kry, terwyl Kain seker gemaak het hy het genoeg vir homself geoes voor hy vir God iets geoffer het.


Baie van ons hanteer God dieselfde as Kain wanneer ons besluit om ons offerhandes vir Hom te gee. Ons maak seker ons het genoeg vir ons eie behoeftes, en gee dan vir God as daar oorbly. So ‘n offer kan nie aanvaar word nie, want dit is nie van ons eerste vrugte nie.

Abraham moes sy eerste seun aan God offer. Hy het nie gewag vir nog kinders om gebore te word voordat hy vir Isak gaan offer het nie.


“Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer, aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word — want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek; daaruit het hy hom ook, om so te spreek, terug ontvang.” HEBREËRS 11:17-19 AFR53


God het dieselfde vir ons gedoen – Hy het Sy eerste in die vorm van Sy Seun gegee.


Sy enigste seun vir wie Hy baie lief was, het Hy vir ons gegee toe ons nog sondaars was. God het Jesus aan ons gegee in geloof dat ons ons lewens vir Hom sou gee. Die geskenk van Sy Seun Jesus het gekom voor ons die seëning van Sy verlossing ontvang het.


Ons moet ons eerste vrugte op dieselfde wyse gee. Voor jy die seëning van God sien, moet jy jou eerste vrugte in geloof gee. Deur jou eerste vrugte vir God te gee, sê jy dat jy God eerste in jou lewe plaas, en dat jy God glo om vir die res te sorg.


 

27 Augustus 2021


LEVÍTIKUS 23:11 AFR53

“En hy moet die gerf voor die aangesig van die Here beweeg, sodat julle welgevallig kan wees; die dag ná die sabbat moet die priester dit beweeg.”


Hoe word die Fees van Eerste Vrugte in die tempel gevier?


Die eersteling gerf van die oes moet voor die priester gebring word, want die eersteling gerf verteenwoordig die hele oes.


Watter oes word hiervan gepraat. Gort of barley is die graan wat hierdie tyd van die jaar in Israel die eerste ryp is om geoes te word.


Gedurende die fees van Ongesuurde Brode, aan die einde van die Sabbat, word ‘n paar mense afgevaardig om net na sononder in verskillende gort velde in te gaan met ‘n sekel en ‘n monster (sample) van elke oes in te bring. Die verskillende sample’s word saam in ‘n gerf gebind en na die voorhof van die tempel gebring.


Die volgende oggend vroeg word wierook op die gerf gesprinkel en dan waai die priester die gerf in al vier windrigtings in ‘n beweegoffer voor die Here.


‘n Deel van die gerf word hierna op die vuur van die altaar gegooi. Die rook wat dan van die altaar opgaan is ‘n lieflike geur vir God en wanneer die beweegoffer aanvaar is, word die res van die oes geag aanvaar te wees voor God.


Nou kan die mense die gort van die veld afhaal en dit eet. Voor die offer aanvaar is, mag niks van die oes geëet word nie. Nou verstaan ons hoekom verlede jaar se gort gebêre word om hierdie jaar se ongesuurde brode te maak vir Paasfees en die fees van Ongesuurde Brode.

Die eersteling gerf verteenwoordig Jesus en die hele oes verteenwoordig al die Christene as ‘n groep.


Met hierdie kennis kan ons nou kyk wat met Jesus gebeur het en hoe Jesus die hoofkarakter is van die fees van Eerste Vrugte.


 

28 Augustus 2021


MATTHÉÜS 28:5-6 AFR53

“Maar die engel antwoord en sê vir die vroue: Moenie vrees nie, want ek weet julle soek Jesus wat gekruisig is. Hy is nie hier nie, want Hy het opgestaan soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar die Here gelê het;”


Gedurende die Paasnaweek word die eerste drie feeste van die sewe feeste wat God vir Moses gegee het gevier.


– Paasfees (Jesus word gekruisig)

– Fees van Ongesuurde Brode (Jesus is dood en word begrawe)

– Fees van Eerste Vrugte (en drie dae later het Jesus uit die dood uit opgestaan)


Wat gebeur met Jesus op die eerste dag van die week, nl. Sondag? Onthou, Sondag begin die vorige aand (Saterdag aand) na sononder.


Die twee Maria’s besoek Jesus se graf vroeg die Sondag oggend, net toe dit begin lig word.


Hulle kon nie vroeër na die graf toe gaan nie, want op die Sabbat mag geen werk gedoen word nie.


“En laat ná die sabbat toe dit begin lig word, teen die eerste dag van die week, kom Maria Magdaléna en die ander Maria om na die graf te gaan kyk.” MATTHÉÜS 28:1 AFR53


Vroeg die oggend toe die rook opgaan van die beweegoffer wat op die van die altaar gegooi word, het die vrouens ontdek dat Jesus reeds opgestaan het uit die dood.


Die twee engele sê vir die vroue dat Jesus nie daar is nie, maar Hy het opgestaan!


Wat ‘n kragtige getuienis. Jesus, wat die oes verteenwoordig van die wat gaan opstaan, het eerste opgestaan.


 

29 Augustus 2021


I KORINTHIËRS 15:20 AFR53

“Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.”


Paulus verduidelik vir ons mooi! As Jesus die Eersteling of Eerste Vrugte is van die Christene wat reeds dood is, dan impliseer dit dat daar ‘n 2de, 3de, 4de ens. mense is wat moet opstaan uit die dode.


As ons in orde uit die dood opstaan, dan het elkeen van ons ‘n nommer. Jesus was die eerste vrug wat permanent opgestaan het, nommer 1. Nader na ons toe, jou grootouers se nommers is voor jou ouers, en jou ouers voor jou, ens….. ons gaan almal eendag permanent opstaan.


“Want aangesien die dood deur ‘n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ‘n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.” I KORINTHIËRS 15:21-23 AFR53


“Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.” I THESSALONICENSE 4:14-17 AFR53

Jesus was Sy Vader se Eerste Vrugte offer aan ons. Sy enigste seun vir wie Hy baie lief was, het Hy vir ons gegee toe ons nog sondaars was. God het Jesus aan ons gegee in geloof dat ons ons lewens vir Hom sou gee. Die geskenk van Sy Seun Jesus het gekom voor ons die seëning van Sy verlossing ontvang het.

43 views0 comments
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page