top of page
  • Regina Torre

Israel: Wat was, wat is, en wat kom! Isak en Jakob

Updated: Jan 29, 2023


8 Mei 2021


GÉNESIS 24:2-4 AFR53

“Toe sê Abraham aan sy dienaar, die oudste van sy huis wat die opsig gehad het oor al sy goed: Lê tog jou hand onder my heup, dat ek jou kan laat sweer by die Here, die God van die hemel en die God van die aarde, dat jy vir my seun geen vrou sal neem uit die dogters van die Kanaäniete onder wie ek woon nie; maar dat jy na my land en my familie sal gaan om vir my seun Isak ‘n vrou te neem.”


Abraham is oud en vêr op sy dae en hy wil vir Isak ‘n vrou soek. Nie enige vrou nie, nie ‘n Kanaäniet nie, maar iemand wat kom van sy geboorteland, 729 km vêr van waar hulle nou woon.


Die dienaar lê sy hand onder Abraham se heup en sweer ‘n eed voor die Here dat hy Abraham se opdrag sal uitvoer. Die hand onder die heup is die teken van die eed wat afgelê word.


Die dienaar vra vir Abraham wat moet gebeur as die vrou hom nie wil volg na hierdie land waar hulle nou woon nie. Moet hy dan vir Isak maar na Abraham se geboorteland terugbring?

Abraham se antwoord is ‘n besliste NEE! Isak moet nie terug gaan na Abraham se geboorteland nie, want die Here het hierdie land van Kanaän aan hom en sy nageslagte belowe!


“En Abraham antwoord hom: Neem jou tog in ag dat jy my seun nie weer daarheen bring nie. Die Here, die God van die hemel, wat my uit my vader se huis en uit my geboorteland weggeneem het, en wat met my gespreek en vir my gesweer het met die woorde: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee — Hy sal sy engel voor jou uit stuur, en jy moet vir my seun daar ‘n vrou gaan haal.” GÉNESIS 24:6-7 AFR53

 

9 Mei 2021


GÉNESIS 24:11-12 AFR53

“En hy het die kamele laat neerkniel buitekant die stad by ‘n put, teen die aand, teen die tyd dat die vroue uitgaan om water te skep, en gesê: Here, God van Abraham, my heer, laat ek haar tog vandag ontmoet, en bewys guns aan Abraham, my heer.”


Die dienaar is na ‘n lang reis in die stad van Nahor, Mesopotamia en hy bid tot God vir hulp om Isak se toekomstige vrou te vind.


“Laat dít nou tog gebeur: as die dogter aan wie ek sal sê: Hou tog jou kruik, dat ek kan drink, antwoord: Drink, en ek sal ook u kamele laat drink — dan is sy dit wat U bestem het vir u kneg Isak, en daaraan sal ek weet dat U guns aan my heer bewys het.” GÉNESIS 24:14 AFR53


Rebekka daag by die fontein op met ‘n kruik op haar skouer, en toe die dienaar haar vra vir water antwoord sy presies soos wat hy vir God gevra het.


“En sy antwoord: Drink, my heer! Daarop laat sy gou haar kruik op haar hand afsak en laat hom drink. Nadat sy hom genoeg laat drink het, sê sy: Ek sal vir u kamele ook skep totdat hulle genoeg gedrink het.” GÉNESIS 24:18-19 AFR53


Rebekka is as vrou vir Isak gegee, en die dienaar buig in dankbaarheid voor die Here neer.

“Daar staan Rebekka voor jou, neem haar en gaan heen, dat sy ‘n vrou kan wees vir die seun van jou heer, soos die Here gespreek het. Toe die dienaar van Abraham hulle woorde hoor, het hy hom voor die Here neergebuig na die aarde toe.” GÉNESIS 24:51-52 AFR53

 

10 Mei 2021


GÉNESIS 24:53 AFR53

“Daarna het die dienaar silwer- en goue goed en klere uitgehaal en dit aan Rebekka gegee; ook aan haar broer en haar moeder het hy kosbare geskenke gegee.”


Die koopprys vir die bruid word betaal – Silwer- en goue goed en klere wat aan Rebekka gegee word. Ook haar broer en moeder het kosbare geskenke gekry.


In die Nuwe Testament het Jesus die bruidegom ‘n duur prys betaal vir ons wat in Hom glo – ‘die bruid’. Jesus het met Sy lewe betaal aan die kruis!


Die bruid word gevra of sy die bruidegom aanvaar.

“En hulle het Rebekka geroep en haar gevra: Wil jy met hierdie man saamgaan? En sy antwoord: Ja.” GÉNESIS 24:58 AFR53

Elke persoon vandag het ‘n keuse om te maak, aanvaar jy vir Jesus, ja of nee! Rebekka se antwoord was, Ja! sy aanvaar haar bruidegom se huweliksaanbod. Wat is jou antwoord?

Met die reisgeselskap se aankoms terug in Kanaän, sien Isak en Rebekka mekaar op ‘n afstand.

“En Isak het teen die aand uitgegaan om te peins in die veld. En toe hy sy oë opslaan, sien hy meteens kamele aankom. Rebekka het ook haar oë opgeslaan en Isak gesien. Toe het sy van die kameel afgegly”. GÉNESIS 24:63-64 AFR53

Sy bedek haar gesig met haar sluier om haar aanstaande te ontmoet, en Isak het Rebekka as sy vrou geneem.

“En Isak het haar in die tent van sy moeder Sara ingebring en Rebekka geneem, en sy het sy vrou geword; en hy het haar liefgehad. So is Isak dan getroos ná die dood van sy moeder.” GÉNESIS 24:67 AFR53

Net so gaan Jesus, ons wat in Hom glo en Hom as bruidegom gekies het, ons eendag kom haal.

“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.” I THESSALONICENSE 4:16-17 AFR53

 

11 Mei 2021


GÉNESIS 25:23 AFR53

“En die Here het haar geantwoord: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien.”


Rebekka het ‘n moeilike swangerskap en sy raadpleeg God vir raad. Die Here se antwoord gee vir haar Sy plan vir die tweeling wat gebore gaan word.


Twee nasies is in jou skoot – Die Israeliete (die nageslag van Jakob) en die Edomiete (die nageslag van Esau) is die twee volke wat uit Rebekka se liggaam sal uitgaan. Die een volk sal sterker wees as die ander, en die oudste sal die jongste dien.


Nog voor hul geboorte het Rebekka al geweet dat die jongste en nie die oudste sy pa seëninge sou ontvang. Hierdie was ongewoon, want die oudste seun, die eersgeborene, was gewoonlik die persoon wat sy vader se erfgenaam was.


“Want toe die kinders nog nie gebore was en nog geen goed of kwaad gedoen het nie — dat die voorneme van God volgens die verkiesing kon bly staan, nie uit die werke nie, maar uit Hom wat roep — is vir haar gesê: Die oudste sal die jongste dien.” ROMEINE 9:11-12 AFR53

 

12 Mei 2021


GÉNESIS 25:27 AFR53

“En die seuns het opgegroei: Esau het ‘n ervare jagter geword, ‘n man van die veld; maar Jakob was ‘n vredeliewende man wat in tente gewoon het.”


Esau was ‘n jagter en kom eendag moeg en honger terug huis toe. Jakob het heerlike lensiesop gemaak en Esau vra om daarvan te eet. Jakob is slinks en sê Esau kan ‘n bord lensiesop kry as hy sy eersgeboortereg aan hom verkoop.


“Toe sê Esau vir Jakob: Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg. Daarom het hulle hom Edom genoem. En Jakob antwoord: Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my.” GÉNESIS 25:30-31 AFR53


Esau is te moeg en honger om te dink of om te gee oor sy besluit, en verkoop sy eergeboortereg aan sy broer.


“En Esau sê: Kyk, ek gaan sterwe, en wat baat die eersgeboortereg my dan? Toe antwoord Jakob: Sweer eers vir my. En hy het vir hom gesweer en sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop.” GÉNESIS 25:32-33 AFR53


So begin die ratte draai om Rebekka se profesie in plek te kry – die oudste sal die jongste dien!


“En Jakob het aan Esau brood en die kooksel lensies gegee; en hy het geëet en gedrink en opgestaan en weggegaan. So het Esau dan sy eersgeboortereg verag.” GÉNESIS 25:34 AFR53

 

13 Mei 2021


GÉNESIS 26:3-5 AFR53

“Vertoef as vreemdeling in hierdie land, en Ek sal met jou wees en jou seën; want aan jou en jou nageslag sal Ek al hierdie lande gee: Ek sal die eed bevestig wat Ek vir jou vader Abraham gesweer het.

En Ek sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word;  omdat Abraham na my stem geluister en my ordening, my gebooie, my insettinge en my wette onderhou het.”


Net soos in Abraham se tyd beleef Isak ook ‘n droogte en wil trek na Egipte, maar God sê vir hom hy moet woon in die land wat Hy hom aanwys.


“En die Here het aan hom verskyn en gesê: Moenie aftrek na Egipte nie; woon in die land wat Ek jou sal aanwys.” GÉNESIS 26:2 AFR53


God gee vir Isak die volgende beloftes:

  1. vertoef as vreemdeling in hierdie land,

  2. Ek sal met jou wees en jou seën,

  3. hierdie land word aan jou en jou nageslag gegee,

  4. Ek sal die eed bevestig wat Ek vir jou vader Abraham gesweer het,

  5. Ek sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel,

  6. jou nageslag sal al hierdie land ontvang,

  7. in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word!

Hoekom? Omdat Abraham vir God geluister het en omdat Abraham God se ordening, gebooie, insettinge en wette onderhou het!

 

14 Mei 2021


GÉNESIS 27:1, 4 AFR53

“Toe Isak oud geword het en sy oë swak was, sodat hy nie kon sien nie, het hy sy oudste seun Esau geroep en vir hom gesê: My seun! En hy het hom geantwoord: Hier is ek! ……en maak vir my lekker ete klaar soos ek dit graag wil hê; en bring dit vir my om te eet; sodat my siel jou kan seën voordat ek sterwe.”


Isak is oud, hy is 127 en sy oë is swak sodat hy nie meer kon sien nie. Isak het nog ‘n taak wat hy moet uitvoer voor hy sterf, hy moet sy oudste seun seën.


Die seëning is belangrik, want die beloftes van God aan Abraham, wat Isak van sy vader geërf het en wat God met Isak bevestig het, die seëninge moet vererf na Isak se oudste seun. En net hier is die kinkel in die kabel, want ons weet dat Rebekka ‘n woord van God ontvang het dat die oudste die jongste sal dien.


Rebekka stap nou na die voorgrond en terwyl Esau besig is om in die veld te jag, konkel sy en gee vir Jakob opdrag om in Esau se plek sy vader se seëning te ontvang.


“My seun, luister dan nou na my, na wat ek jou beveel. Loop nou na die kleinvee en gaan haal vir my daar twee mooi bokkies, dat ek jou vader daarvan ‘n lekker ete kan maak soos hy dit graag wil hê. Dan moet jy dit na jou vader bring, dat hy kan eet; sodat hy jou kan seën voor sy dood.” GÉNESIS 27:8-10 AFR53


Jakob het baie vrae, maar Rebekka maak hom stil en sê dat enige vloek op haar sal wees en hy wat Jakob is moet luister en doen.

“Maar sy moeder antwoord hom: Laat jou vloek op my wees, my seun! Luister net na my en gaan haal dit vir my.” GÉNESIS 27:13 AFR53

 

15 Mei 2021


GÉNESIS 27:22-23 AFR53

“En Jakob het nader gekom na sy vader Isak, en hy het hom betas en gesê: Die stem is Jakob se stem, maar die hande is Esau se hande. Maar hy het hom nie geëien nie, omdat sy hande harig was soos sy broer Esau se hande; en hy het hom geseën.”


Rebekka berei die kos voor soos Isak daarvan hou. Jakob trek Esau se beste klere aan en om sy sagte hande en nek te verbloem, trek hy die velle van die bokkies aan.

Jakob gaan na sy vader Isak en maak of hy Esau, die eergeborene is.


“Toe kom hy by sy vader en sê: My vader! En hy antwoord: Hier is ek! Wie is jy, my seun? En Jakob sê aan sy vader: Ek is Esau, u eersgeborene. Ek het gedoen soos u my beveel het. Rig u tog op, sit en eet van my wildsvleis, dat u siel my kan seën.” GÉNESIS 27:18-19 AFR53


Jakob betas vir Isak en hy voel soos Esau. Jakob sê dat hy Isak se stem hoor, maar Esau se hande voel, en neem toe aan dat Esau voor hom sit, en net daar kry Isak die eersgebore seëning.


Al die deelnemers aan hierdie verhaal is skuldig: Isak het probeer om God se plan te stuit deur Esau te seën; Esau verbreek die eed wat hy met Jakob afgelê het; Rebekka en Jakob het probeer om God se seën deur misleiding te bereik. Hul oorwinning het net haat en skeiding tot gevolg gehad;


In ‘n sekere sin het Rebekka en Jakob gewen, hoewel hulle niks gekry het wat God nie in elk geval aan hulle sou gee nie, maar hulle het ook baie verloor. Hul gesinslewe is vernietig, en elkeen moes eensame ure van skeiding, ontnugtering en spyt verduur.


Rebekka sou nooit weer haar gunsteling seun sien nie, en Jakob sou die lewe sonder ‘n vader, moeder of broer moes trotseer. Nogtans sou God deur hul bedrieglikhede werk. Hul aktiwiteite het slegs daarin geslaag om te doen wat God se profesie voorspel het.


God se program sal seëvier, dikwels ten spyte van menslike aktiwiteite.

 

16 Mei 2021


GÉNESIS 28:1-2 AFR53

“Toe het Isak Jakob geroep en hom geseën; en hy het hom bevel gegee met die woorde: Jy mag geen vrou neem uit die dogters van Kanaän nie. Maak jou klaar, gaan na Paddan-Aram, na die huis van Bétuel, jou moeder se vader, en gaan haal vir jou daar ‘n vrou uit die dogters van Laban, jou moeder se broer.”


Jakob loop dieselfde pad as Isak. Jakob mag nie vir hom ‘n vrou neem uit die dogters van Kanaän nie, hy moet teruggaan na die huis van sy moeder en uit die dogters van Laban (Rebekka se broer) vir hom ‘n vrou gaan haal.


“En Jakob het uit Berséba vertrek en na Haran gegaan.” GÉNESIS 28:10 AFR53


Teen sononder besluit Jakob om te oornag en gebruik ‘n klip vir ‘n kopkussing en gaan slaap.


“Daarop kom hy by ‘n plek waar hy die nag oorgebly het, want die son was al onder. En hy neem een van die klippe van die plek en sit dit onder sy hoof, en hy gaan lê en slaap op dié plek.” GÉNESIS 28:11 AFR53


Die nag droom hy van ‘n leer wat strek van die aarde tot by die hemel en die engele van God klim op en af met die leer.


“En hy het gedroom — daar is ‘n leer op die aarde opgerig waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het.” GÉNESIS 28:12 AFR53

 

17 Mei 2021


GÉNESIS 28:13 AFR53

“En kyk, die Here het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die Here, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee;”


God praat met Jakob in sy droom en identifiseer Homself: Ek is die Here, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. God bevestig aan Jakob die beloftes wat aan Abraham en Isak gemaak is, en begin met die belofte van land – die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee.


Vêrder bevestig God dat Jakob se nageslag sal wees soos die stof van die aarde en dat hy sal uitbrei na die weste en die ooste, en die noorde en die suide. En in Jakob se nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word.


“en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word.” GÉNESIS 28:14 AFR53


God belowe ook dat hy Jakob sal bewaar, hom sal terug bring na hierdie land, en hom nooit sal verlaat nie.


“En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het.” GÉNESIS 28:15 AFR53


Jakob noem die plek Bet-el en rig ‘n gedenksteen op vir God met die klip waarop hy geslaap het.


“Toe staan Jakob die môre vroeg op en neem die klip wat hy onder sy hoof gesit het, en rig dit as ‘n gedenksteen op; en hy het olie daaroor uitgegiet. En hy het die plek Bet-el genoem; maar die naam van die stad was tevore Lus.” GÉNESIS 28:18-19 AFR53

 

18 Mei 2021


GÉNESIS 29:10 AFR53

“Toe Jakob Ragel sien, die dogter van Laban, sy moeder se broer, en die vee van Laban, sy moeder se broer, loop Jakob nader en rol die klip weg van die opening van die put, en hy laat die vee drink van Laban, sy moeder se broer.”


Wat jy saai sal jy maai! Jakob het bedrieg om sy eersgeboortereg te kry, en nou word hy bedrieg deur sy oom Laban. Laban het twee dogters, Lea (die oudste) en Ragel (die jonger en mooier sussie). Jakob is lief is Ragel en kom ooreen met Laban om sewe jaar verniet vir hom te werk om met haar te trou.


“So het Jakob dan sewe jaar gedien vir Ragel; en hulle was in sy oë soos ‘n paar dae, omdat hy haar liefgehad het.” GÉNESIS 29:20 AFR53


Na die sewe jaar verby is vra Jakob dat Ragel na hom gebring moet word, maar die aand neem Laban sy dogter Lea en bring haar vir Jakob.


“Toe sê Jakob vir Laban: Gee tog my vrou, want my dienstyd is om, dat ek by haar kan ingaan. Daarop het Laban al die manne van die plek versamel en ‘n maaltyd berei. Maar in die aand het hy sy dogter Lea geneem en haar na hom gebring; en hy het by haar ingegaan.” GÉNESIS 29:21-23 AFR53


Jakob kom eers die volgende oggend agter dat hy gekul is en die ‘verkeerde’ sussie is nou sy vrou.

 

19 Mei 2021


GÉNESIS 29:26-27 AFR53


“En Laban antwoord: Dit is hier by ons nie die gewoonte om die jongste voor die oudste weg te gee nie. Hou die volle bruilofsweek met haar; dan sal ons jou die ander een ook gee vir die diens wat jy nóg sewe jaar by my moet volbring.”


Toe Jakob vir Laban vra hoekom hy hom bedrieg het, is sy antwoord dat dit hul gewoonte is dat die oudste eerste sal trou. Die woorde moes hom terugneem na die dag toe hy sy oudste broer se eersgeboortereg ontvang het.


Laban sê vir Jakob dat hy die volle bruilofsweek met Lea moet hou. In daardie tyd het die huwelikseremonie ‘n week lank geduur wat begin het by die huweliksnag, en Jakob moet die week met Lea, nou sy vrou, deursien.


Die wortel wat vir hom voorgehou word is dat hy Ragel as vrou sal kry na die huweliksweek met Lea, en dan sal hy nog sewe jaar vir Laban moet werk.


“En Jakob het so gedoen: hy het die volle bruilofsweek met haar gehou. Toe gee hy sy dogter Ragel aan hom as vrou.” GÉNESIS 29:28 AFR53


“En hy het ook by Ragel ingegaan en Ragel ook meer liefgehad as Lea. En hy was by hom nóg sewe jaar in diens.” GÉNESIS 29:30 AFR53

 

20 Mei 2021


GÉNESIS 29:31-32 AFR53

“En toe die Here sien dat Lea die nie-geliefde was, het Hy haar skoot geopen; maar Ragel was onvrugbaar. En Lea het bevrug geword en ‘n seun gebaar en hom Ruben genoem; want sy het gesê: Gewis, die Here het my ellende aangesien, want nou sal my man my liefhê.”


Lea is in ‘n liefdelose huwelik met Jakob, maar die Here sorg vir haar. Lea word swanger met Jakob se eerste seun Ruben, terwyl Ragel op die stadium onvrugbaar is.


Lea kry nog drie seuns vir Jakob: Simeon, Levi en Juda.


“En sy het weer bevrug geword en ‘n seun gebaar en gesê: Dié keer sal ek die Here loof. Daarom het sy hom Juda genoem. En sy het opgehou met baar.” GÉNESIS 29:35 AFR53

Ragel het jaloers geraak en haar slavin Bilha vir Jakob as vrou gegee om namens haar kinders te kry.


“En sy antwoord: Daar is my slavin Bilha; gaan by haar in, dat sy op my knieë kan baar en ek ook uit haar gebou kan word.” GÉNESIS 30:3 AFR53


Bilha die slavin het twee seuns gekry: Dan en Naftali.

 

21 Mei 2021


GÉNESIS 30:9 AFR53

“En toe Lea sien dat sy opgehou het met baar, neem sy haar slavin Silpa en gee haar aan Jakob as vrou.”


Ragel en Lea is skynbaar in ‘n kompetisie, en Lea gee haar slavin Silpha vir Jakob as vrou om namens haar kinders te kry.


Silpha se twee seuns is: Gad en Aser.


Lea se seun Ruben pluk vir sy ma liefdesappels wat Ragel graag wil he. Ragel onderhandel met Lea en sê dat Jakob vir die aand by haar kan slaap in ruil vir die liefdesappels.


“Toe Jakob dan die aand uit die veld kom, gaan Lea hom tegemoet met die woorde: Jy moet na mý kom, want ek het jou eerlik gehuur vir my seun se liefdesappels. En hy het dié nag by haar geslaap.”GÉNESIS 30:16 AFR53


God het Lea se gebede verhoor en sy kry nog drie kinders by Jakob: Issaskar, Sebulon en ‘n dogter Dina.


God het ook aan Ragel gedink en sy het swanger geraak en haar eerste seun se naam is Josef.


“En God het aan Ragel gedink, en God het haar verhoor en haar skoot geopen: sy het bevrug geword en ‘n seun gebaar. Toe sê sy: God het my smaad weggeneem. En sy het hom Josef genoem en gesê: Mag die Here vir my ‘n ander seun daar byvoeg!” GÉNESIS 30:22-24 AFR53

 

22 Mei 2021


GÉNESIS 30:25-26 AFR53

“En nadat Ragel Josef gebaar het, sê Jakob vir Laban: Laat my trek, dat ek na my woonplek en my land kan gaan. Gee my vroue en my kinders waarvoor ek u gedien het, dat ek kan gaan; want u weet self hoe ek u gedien het.”


Jakob het sy kant van die ooreenkoms nagekom en sê vir Laban hy wil nou trek met sy hele familie na sy eie land en sy eie woonplek.


Laban se seuns raak ongelukkig met Jakob want hulle voel dat hy al die rykdom neem wat hulle toekom, en Laban se houding teenoor Jakob begin ook negatief raak.


“Toe hoor hy die woorde van die seuns van Laban, dat hulle sê: Jakob het alles geneem wat ons vader s’n was; en uit wat ons vader s’n was, het hy al hierdie rykdom verwerf. Jakob het ook meteens aan die aangesig van Laban gesien dat hy nie meer vir hom was soos gister en eergister nie.” GÉNESIS 31:1-2 AFR53


God is egter met Jakob en sê vir hom dat moet terug trek na die land van sy vaders en na sy familie, en God verseker Jakob dat Hy met hom sal wees.


“En die Here het aan Jakob gesê: Gaan terug na die land van jou vaders en na jou familie; en Ek sal met jou wees.” GÉNESIS 31:3 AFR53


Jakob het met sy familie van Laban gevlug, maar na drie dae het Laban hom ingehaal. God het intussen aan Laban verskyn en hom aangesê om nie goed of kwaad met Jakob te spreek nie.


Die twee het hul verskille uitgepraat en’n verbond gesluit om mekaar nie kwaad aan te doen nie.


“hierdie hoop klippe is getuie, en die gedenksteen is getuie dat ék na jou kant toe hierdie hoop nie sal verbytrek nie, en dat jý na my kant toe hierdie hoop en hierdie gedenksteen nie sal verbytrek met slegte bedoelinge nie.”GÉNESIS 31:52 AFR53

 

23 Mei 2021


GÉNESIS 32:1-2 AFR53

“Jakob het ook verder gereis, en die engele van God het hom ontmoet. Toe hy hulle sien, sê Jakob: Dit is ‘n leër van God! En hy het die plek Mahanáim genoem.”


Jakob reis verder op sy pad terug na die beloofte land en die engele van God ontmoet hom.


Hy sien die engele en sê onmiddelik dit is ‘n leër van God en Jakob noem die plek Mahanaim wat beteken, twee kampe.


Die ‘engele van God’ verskyn twee keer in Jakob se lewe. In hierdie vers en dan ook in ‘n vorige vers waar Jakob droom van die leer wat reik van die aarde na die hemel. Die eerste keer was Jakob oppad uit die land Kanaän en nou is hy oppad terug na die land Kanaän.


“En hy het gedroom — daar is ‘n leer op die aarde opgerig waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het.” GÉNESIS 28:12 AFR53


Die twee kampe verwys na Jakob se kamp en God se kamp. Duidelik doen God Sy Woord gestand om by Jakob te wees.


“En die Here het aan Jakob gesê: Gaan terug na die land van jou vaders en na jou familie; en Ek sal met jou wees.” GÉNESIS 31:3 AFR53

 

24 Mei 2021


GÉNESIS 32:22, 24 AFR53

“En hy het dieselfde nag opgestaan en sy twee vroue en sy twee slavinne en sy elf kinders geneem en deur die drif van die Jabbok getrek: Maar Jakob het alleen agtergebly, en ‘n Man het met hom geworstel tot dagbreek.”


Jakob neem sy familie, sy twee vroue en twee slavinne en elf kinders, en neem hulle deur die drif van die Jabbok na veiligheid terwyl hy regmaak om sy broer Esau te ontmoet.


Jakob self bly nie by sy familie nie, maar gaan terug na waar hy en sy manne kamp opgeslaan het. Die nag worstel ‘n Man met hom tot die dag breek, en ten einde laas word Jakob op die heupbeen geslaan sodat sy heupbeen uit lit is.


“En toe Hy sien dat Hy hom nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heupbeen, sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met Hom.” GÉNESIS 32:25 AFR53


Jakob het die nag met God geworstel, en sy naam word verander van Jakob na Israel.


“En Hy vra hom: Hoe is jou naam? En hy antwoord: Jakob. Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin.” GÉNESIS 32:27-28 AFR53


Jakob noem die plek waar hy met God geworstel het Pniël, want hy het God gesien van aangesig tot aangesig en gebly lewe om dit oor te vertel.


“Toe noem Jakob die plek Pniël; want, het hy gesê, ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered.” GÉNESIS 32:30 AFR53

 

25 Mei 2021


GÉNESIS 35:1 AFR53

“Daarna het God vir Jakob gesê: Maak jou klaar, trek op na Bet-el en woon daar; en bou daar ‘n altaar vir die God wat aan jou verskyn het toe jy op die vlug was vir jou broer Esau.”


God verskyn weer aan Jakob en gee vir hom ‘n opdrag: Maak jou klaar en trek na Bet-el en woon daar. Vêrder moet Jakob ook ‘n altaar bou vir God – dieselfde God wat aan jou verskyn het toe jy van jou broer Esau gevlug het.


Jakob beveel sy huisgesin en almal wat by hom was, om alle gode in hul besit te verwyder, en hy het als begrawe onder die terpentynboom in Sigem, die dorp waar hulle tot nou toe gewoon het.


“Toe gee hulle aan Jakob al die vreemde gode wat in hulle besit was, en die ringe aan hulle ore, en Jakob het dit begrawe onder die terpentynboom wat by Sigem is.” GÉNESIS 35:4 AFR53


Jakob pak die groot trek aan na Bet-el, ook bekend as die dorp Lus in die land Kanaän, en daar aangekom bou hy vir God ‘n altaar, soos hy beveel is om te doen.


“So het Jakob dan in Lus aangekom wat in die land Kanaän is — dit is Bet-el — hy en al die mense wat by hom was,” GÉNESIS 35:6 AFR53


El beteken God, en Beth-el beteken huis van God – saam beteken dit ‘God van die huis van God’.


“en hy het daar ‘n altaar gebou en die plek El Bet-el genoem, omdat God daar aan hom geopenbaar is toe hy vir sy broer gevlug het.” GÉNESIS 35:7 AFR53

 

26 Mei 2021


GÉNESIS 35:9-10 AFR53

“Toe verskyn God weer aan Jakob, by sy terugkoms uit Paddan-Aram, en Hy seën hom; en God sê vir hom: Jou naam is Jakob; jy sal verder nie Jakob genoem word nie, maar Israel sal jou naam wees. En Hy het hom Israel genoem.”


Terug in Kanaän verskyn God vir die vyfde keer in sy lewe aan Jakob en bevestig Sy beloftes met hom. God self seën vir Jakob en sê vir hom sy naam is nie meer Jakob nie maar Israel.

Israel (Jakob) word nie net geseën nie, maar God se beloftes aan Abraham en Isak word nou vir Israel (Jakob) bevestig. Israel (Jakob) moet vrugbaar wees en vermeerder, en ‘n nasie, ja menigte nasies sal van hom afstam. Selfs konings sal van Israel (Jakob) afstam.


“Verder sê God vir hom: Ek is God, die Almagtige. Wees vrugbaar en vermeerder. ‘n Nasie, ja, ‘n menigte van nasies, sal van jou afstam, en konings sal uit jou lendene voortkom.” GÉNESIS 35:11 AFR53


Dan die groot belofte van land. Die land wat God aan Abraham en aan Isak belowe het, word nou ook vir Israel (Jakob) en sy nageslag na hom gegee. Die land waaroor vandag nog baklei word is Israel (die nasie) se land, want dit is wat God belowe het.


“En die land wat Ek aan Abraham en Isak gegee het, sal Ek aan jou gee; en aan jou nageslag ná jou sal Ek die land gee.” GÉNESIS 35:12 AFR53


God is klaar met sy beloftes aan Israel en vaar op na die hemel.


“Toe het God van hom af opgevaar op die plek waar Hy met hom gespreek het.” GÉNESIS 35:13 AFR53

 

27 Mei 2021


GÉNESIS 35:16 AFR53

“Daarna het hulle van Bet-el af weggetrek. En toe daar nog ‘n kort ent pad was om by Efrat te kom, moes Ragel baar; en sy het dit swaar gehad by die bevalling.”


Ragel is swanger met haar laaste kind en dit is ‘n baie moeilike bevalling. Ragel lewe lank genoeg om te sien dat sy ‘n seun vir Jakob gekry het en sy noem hom Ben-oni wat beteken ‘ seun van my smart’. Maar Israel het hom Benjamin genoem wat beteken ‘seun van my regterhand’


“En terwyl sy dit swaar het by die bevalling, sê die vroedvrou vir haar: Wees nie bevrees nie, want dit is ook ‘n seun vir u. En toe haar siel uitgaan — want sy het gesterwe — noem sy hom Ben-Oni. Maar sy vader het hom Benjamin genoem.” GÉNESIS 35:17-18 AFR53


Die seuns van Israel was twaalf altesaam:

  1. Die seuns van Lea was: Ruben, die eersgeborene van Jakob, daarna Símeon en Levi en Juda en Íssaskar en Sébulon.

  2. Die seuns van Ragel: Josef en Benjamin.

  3. En die seuns van Bilha, die slavin van Ragel: Dan en Náftali.

  4. En die seuns van Silpa, die slavin van Lea: Gad en Aser.

  5. Dit is die seuns van Jakob wat vir hom in Paddan-Aram gebore is.” ‭‭GÉNESIS‬ ‭35:23-26‬ ‭AFR53‬‬

 

41 views0 comments
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page