top of page
  • Regina Torre

Israel: Wat was, wat is, en wat kom! Daniel.

Updated: Jan 28, 2023


27 Oktober 2021


DANIËL 10:1 AFR53

“In die derde jaar van Kores, die koning van die Perse, is ‘n woord geopenbaar aan Daniël wat Béltsasar genoem is, en die woord is waarheid maar groot swarigheid; en hy het die woord verstaan en insig gehad in die gesig.”


Daniel is as ‘n jong man uit Jerusalem na Babilon verban, en hy is nou in sy laat tagtigs. Hy het gedien in die hof van Nebukadneser en is nou in diens van die Mede en die Perse.


Terwyl die Joodse volk in ballingskap was het Daniel die profeet Jeremia se boeke gelees en gesien dat die tydperk van hul ballingskap sewentig jaar sou wees. Hy het ook op daardie stadium besef dat hul ballingskap amper op sy einde is.


“In die eerste jaar van Daríus, die seun van Ahasvéros, uit die geslag van die Meders, wat koning gemaak was oor die koninkryk van die Chaldeërs, in die eerste jaar van sy regering het ek, Daniël, in die boeke gemerk dat die getal jare waaroor die woord van die Here tot die profeet Jeremia gekom het met betrekking tot die puinhope van Jerusalem, sewentig volle jare was.” DANIËL 9:1-2 AFR53


In die eerste jaar van Kores, die koning van Persië, het hy vir die Joodse volk gesê dat hul vry is en moet teruggaan na Jerusalem om vir die God van die hemel ‘n huis te bou.


“En in die eerste jaar van Kores, die koning van Persië, het die Here — sodat die woord van die Here uit die mond van Jeremia vervul sou word — die gees van Kores, die koning van Persië, opgewek, dat hy ‘n oproep deur sy hele koninkryk laat gaan het, selfs ook skriftelik, om te sê: So sê Kores, die koning van Persië: Al die koninkryke van die aarde het die Here, die God van die hemel, aan my gegee; en Hý het my opgedra om vir Hom ‘n huis te bou in Jerusalem wat in Juda is.” ESRA 1:1-2 AFR53


Alhoewel die Joodse volk nou vry is, het minder as vyftig duisend van hulle teruggetrek na Israel. Die meeste het besluit om eerder in Babilon agter te bly waar hul gevestig het. Daniel het ook agtergebly maar die nuus wat hulle nou van Jerusalem kry is ontstellend. Die bietjie Jode wat in Jerusalem is werk nie hard nie aangesien dit hulle bykans twee jaar geneem het om die fondamente van die tempel te lê, en om alles te kroon word hulle nou aangeval wanneer hulle werk.


Al die inligting lê swaar op Daniel se hart en hy besluit om te vas en te bid en wag drie volle weke vir ‘n antwoord.


“In daardie dae het ek, Daniël, drie volle weke getreur. Smaaklike spys het ek nie geëet en vleis en wyn het nie in my mond gekom nie; en ek het my glad nie gesalf nie, totdat drie volle weke om was.” DANIËL 10:2-3 AFR53


 

28 Oktober 2021


DANIËL 10:12 AFR53

“Toe sê hy vir my: Wees nie bevrees nie, Daniël; want van die eerste dag af dat jy jou hart daarop gerig het om ag te gee en jou voor die aangesig van jou God te verootmoedig, is jou woorde gehoor, en om jou woorde ontwil het ek gekom;”


Daniel bid en vas maar moet drie weke wag vir sy antwoord. Die engel verduidelik vir Daniel hoekom hy so lank moes wag: die vors van die koninkryk van die Perse het hom wat die engel is gekeer, en die engel Migael moes hom kom help.


“maar die vors van die koninkryk van die Perse het een-en-twintig dae lank teenoor my gestaan, en kyk, Mígael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ék het daar oorgebly by die konings van Persië.” DANIËL 10:13 AFR53


Ons het hier te doen met die bonatuurlike wêreld van engele en bose geeste. Paulus verduidelik mooi in Efesiërs dat daar wel bose geeste is en dat daar ‘n gedurige stryd teen hulle gevoer word.


“Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.” EFÉSIËRS 6:12 AFR53


Die engel was verhinder om met Daniel te kom praat want hy het ‘n belangrike visioen oor die Joodse volk se toekoms. Ons weet dit is die Joodse volk se toekoms want die engel praat van jou volk, m.a.w. Daniel se volk. Dit is die hoofdoel van hierdie Bybelstudie – om te sien wat die Joodse volk se toekoms inhou en wat met hulle aan die einde van dae gaan gebeur.

“Ek het dan gekom om jou inligting te gee oor wat jou volk aan die einde van die dae te beurt sal val, want die gesig sien nog op die verre toekoms.” DANIËL 10:14 AFR53


Die engel vertel vir Daniel dat hy eers vir hom als gaan vertel wat hy moet weet, en dan gaan hy vêrder veg met eers die vors van die Perse en daarna met die vors van Griekeland. Die engel se werk is om met die wêreld moontheid van die tyd te veg. Nou heers die Mede en die Perse, en na hulle gaan Alexander die Grote van Griekeland regeer.


“Toe sê hy: Weet jy waarom ek na jou gekom het? Ek moet dan nou teruggaan om te veg met die vors van die Perse; en as ek heengegaan het, kyk, dan kom die vors van Griekeland. Nogtans sal ek jou te kenne gee wat geskrywe is in die boek van die waarheid; en daar is nie een wat hom saam met my dapper gedra teen hulle nie, behalwe julle vors Mígael.” DANIËL 10:20-21 AFR53


 

29 Oktober 2021


DANIËL 11:2 AFR53

“En nou sal ek jou die waarheid te kenne gee. Kyk, nog drie konings sal opstaan vir die Perse, en die vierde sal groter rykdom verwerf as almal; en as hy sterk is deur sy rykdom, sal hy alles in beweging bring teen die koninkryk van Griekeland.”


Daniel leef nou onder koning Kores van die Mede en die Perse, en die engel begin deur te sê dat nog vier konings gaan regeer.


Kambysses, Kores se seun, is die eerste van die vier konings, en hy verower Egipte.


Op pad huis toe van sy verowering hoor hy egter dat ‘n indringer genaamd Smerdis voorgee dat hy Kambysses se seun is en hy word die volgende koning want Kambysses sterf gedurende sy terugreis.


Die derde koning is Darius en die vierde koning is Xerxes of ook bekend as Ahasveros. Ester het met koning Ahasveros getrou en die Joodse volk gered van Mordegai se wrede planne.


“En in die dae van Ahasvéros — dit is die Ahasvéros wat geregeer het van Indië af tot by Kus, honderd-sewen-en-twintig provinsies — in dié dae toe koning Ahasvéros op sy koninklike troon in die vesting Susan gesit het, in die derde jaar van sy regering, het hy ‘n maaltyd berei vir al sy vorste en sy dienaars; die leërmag van Persië en Medië, die vername manne en die vorste van die provinsies was voor hom;” ESTER 1:1-3 AFR53


Ahasveros het ‘n groot leermag gehad en het teen die Grieke geveg, maar bitterlik verloor.

Nou gaan ons oor na die Griekse koninkryk en die dapper koning waarvan die engel praat is niemand anders as Alexander die Grote, wat inderdaad gemaak het soos hy wil. Alexander wat drie en dertig jaar oud geword het was een van die mees merkwaardigste leiers wat ooit gelewe het en sy koninkryk het gestrek van Europa tot by Indië.


“Dan sal ‘n dapper koning opstaan wat groot heerskappy sal hê en sal maak net soos hy wil.” DANIËL 11:3 AFR53


Alexander het gesterf sonder ‘n regmatige erfgenaam. Sy halfbroer was geestelik versteurd en sy twee seuns (buite-egtelike Hercules, deur Basina, die dogter van Darius, en Jong Alexander, postuum deur Roxana) is binne 13 jaar ná hul pa se dood vermoor. Na 22 jaar van gevegte het Alexander se vier generaals die koninkryk in vier verdeel.


“En as hy opgetree het, sal sy koninkryk verbreek word en na die vier windstreke van die hemel verdeel word; en dit sal nie aan sy nakomelinge behoort en nie wees soos die heerskappy wat hy gehad het nie — want sy koninkryk sal verwoes word en nie aan hulle behoort nie, maar aan ander.” DANIËL 11:4 AFR53


 

30 Oktober 2021


DANIËL 11:5 AFR53

“En die koning van die Suide sal sterk word, maar een van sy owerstes sal sterker word as hy en heers; sy heerskappy sal ‘n groot heerskappy wees.”


Verse 5 tot 35 van Daniel 11 gee vir ons die geskiedenis wat tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament plaasvind. Die tydperk is beter bekend as die 400 stil jare en word deur Daniel met sulke akkuraatheid weergegee dat menige skeptisi probeer om Daniel later te dateer as wat die boek werklik geskryf is.


Alexander die Grote se vier generaals verdeel die Griekse koninkryk in vier dele sodat elkeen ‘n gedeelte het om oor te regeer. Die twee vernaamste generaals was Ptolemeus I Soter wat Egipte (koning van die suide) ingeneem het en Seleucus Nicator wat Sirië (koning van die noorde) ingeneem het.


Die groot biblioteek in Alexandrië, Egipte is gevestig onder Ptolemeus II se bewind en die vertaling van die Ou Testament in Grieks (die “Septuagint” vertaling) is hier gedoen.


Na die verloop van etlike jare word ’n politieke huwelik gereël tussen Antiochus II Theos (262-246 v.C.) van die noorde en Ptolemeus II Philadelphus se dogter, Bernice van die suide. Antiochus moes van sy eie vrou, Laodiceia, skei om hierdie huwelik te laat plaasvind.


Laodiceia het egter nie agteroorgesit en die onreg wat haar aangedoen is vergeet nie. Sy het Antiochus II haar vorige eggenoot vergiftig, die nuwe vrou Bernice vermoor, en haar oudste seun Seleucus II Callinicus, op die troon gesit (246 – 226 v.C.).


“En ná verloop van jare sal hulle ‘n bondgenootskap met mekaar aangaan, en die dogter van die koning van die Suide sal na die koning van die Noorde kom om vrede te sluit; maar sy sal die krag van die arm nie behou nie — hy en sy mag sal nie standhou nie, en sy self sal prysgegee word saam met die wat haar gebring het, sowel as hy wat haar verwek het en haar in dié tyd verwerf het.” DANIËL 11:6 AFR53


Let wel: hierdie gebeure vind plaas ná die Septuagint-vertaling van die Ou Testament (285-270 v.C.), wat die boek Daniël ingesluit het!


 

31 Oktober 2021


DANIËL 11:7 AFR53

“Dan sal een uit die spruite van haar wortels in sy plek oprys en teen die leër optrek, en hy sal in die vesting van die koning van die Noorde indring en teen hulle optree en magtig wees;”


Ptolemeus III Euergetes (245-221 v.C.), die broer van die vermoorde Bernice, het Sirië (die Koning van die Noorde) binnegeval, die hawe van Antiogië ingeneem en Seleucus se ryk tot by Babilon oorrompel. Bernice se broer is die spruit van haar wortels en hulle is van Egipte of die Koning van die Suide.


Sy buit vir Egipte het 4,000 talente goud, 40,000 talente silwer en 2,500 afgode ingesluit.

“ja, ook hulle gode en hulle gegote beelde saam met hulle kosbare voorwerpe, silwer en goud, in gevangenskap na Egipte bring, en hy sal jare lank die koning van die Noorde met rus laat.” DANIËL 11:8 AFR53


Na twee jaar het Seleucus suidwaarts teen Egipte opgemars, maar het bitterlik verloor en het na Antiogië teruggekeer met slegs ‘n klein oorblyfsel van sy leër.


“Dan sal dié in die koninkryk van die koning van die Suide intrek, maar hy sal na sy land terugtrek.” DANIËL 11:9 AFR53


Die seuns van Seleucus II (die Koning van die Noorde) was Seleucus III Ceraunus (226-223 vC), wat tydens ‘n veldtog in Klein-Asië vermoor is, en Antiochus III (“Die Grote”) (223-187 vC) wat die vesting van Seleucia, die provinsie van Coele-Sirië, en Tirus teruggewen het, en hy het toe die oorlog met Egipte hervat.


“En sy seuns sal hulle in die oorlog begewe en ‘n menigte groot leërs versamel; en hy sal sekerlik aankom en instroom en oorloop, en weer terugkom, en hulle sal oorlog voer tot by sy vesting.” DANIËL 11:10 AFR53


In 312 v.C. het ‘n groot Egiptiese leër, gelei deur Ptolemeus IV Philopator (221-203 v.C.), deur Israel getrek totdat hulle in Libanon deur Antiochus ontmoet is. Aanvanklik was die Egiptiese leër van Ptolemeus IV groter as dié van Antiochus III. In die lente van 219 v.C., tydens die geveg by Raphia (20 myl suid van Gasa), het Antiochus met 60,000 man en Ptolemeus met 70,000 teen mekaar geveg. Antiochus is verslaan met ‘n verlies van 10 000 voetsoldate en 300 ruiters.


“Dan sal die koning van die Suide verbitterd word en uittrek en teen hom, die koning van die Noorde, veg, wat ook ‘n groot menigte op die been sal bring, maar hierdie menigte sal in sy hand oorgegee word.” DANIËL 11:11 AFR53


Twaalf jaar na die Slag van Raphia het Antiochus III met ‘n groter leër as voorheen gereed gemaak vir die verowering van Egiptiese grondgebied.


“As die menigte vernietig is, sal sy hart hom verhef; en hy sal tienduisende neerslaan, maar nie sterk bly nie. Dan sal die koning van die Noorde weer ‘n groter menigte op die been bring as die eerste, en ná verloop van tyd, van jare, sal hy sekerlik kom met ‘n groot leër en ‘n groot gevolg.” DANIËL 11:12-13 AFR53


 

1 November 2021


DANIËL 11:14 AFR53

“En in dié tye sal baie teen die koning van die Suide opstaan, en die gewelddadige mense van jou volk sal hulle verhef om ‘n gesig in vervulling te laat gaan, maar hulle sal omkom.”


Die “baie” wat teen die Koning van die Suide opgestaan ​​het was Antiochus die Grote en sy bondgenoot Filippus van Masedonië. Antiochus III (“Die Grote”) se weermag was baie sterk en niemand kon teen hom standhou nie.


“So sal dan die koning van die Noorde kom en ‘n wal opwerp en ‘n versterkte stad inneem; en die leërs van die Suide sal nie standhou nie, selfs sy uitgesoekte manskappe nie, sodat daar geen krag sal wees om stand te hou nie.” DANIËL 11:15 AFR53


Die Pragtige Land is Israel of Judea soos dit in daardie tyd genoem is.


“En hy wat uit die Noorde teen hom kom, sal maak net soos hy wil, en niemand sal voor hom standhou nie; hy sal ook gaan staan in die Pragtige Land, terwyl daar verdelging in sy hand is.” DANIËL 11:16 AFR53


In 197 v.C. het Antiochus III met ‘n vloot vertrek om Silicië, Lycia en Caria, wat onder Egiptiese beheer was, aan te val. Hy het egter ‘n rampspoedige nederlaag gely deur Rome wat besig was om ‘n opkomende mag te word.


Antiochus se dogter, Cleopatra, is in ‘n politieke huwelik aan Ptolemeus gegee (gereël in 197, voltrek in 193 vC, die bruidegom was 10 jaar oud) saam met Koile-Sirië, Fenisië en Judea as bruidskat, in die hoop dat hy Egipte uiteindelik kon annekseer.


Hy was egter teleurgesteld, want Cleopatra het ‘n toegewyde vrou geword en haar by Egipte (en haar nuwe bondgenoot, Rome) geskaar.


“En hy sal sy aangesig daarop rig om met die sterkte van sy hele koninkryk te kom, maar hy sal met hom vrede sluit; en hy sal vir hom ‘n jongedogter gee om die land te gronde te rig. Maar dit sal nie tot stand kom nie, en daar sal niks vir hom wees nie.” DANIËL 11:17 AFR53


 

2 November 2021


DANIËL 11:18 AFR53

“Daarna sal hy sy aangesig wend na die kuslande en baie daarvan verower; maar ‘n aanvoerder sal aan sy gesmaad ‘n einde maak, ja, hy sal sy gesmaad op homself laat terugval.”


In 196 v.C. wend Antiogus die Koning van Noorde hom na die kuslande wat Griekeland en Klein-Asië insluit en steek ook die Hellespont oor om ‘n deel van Thrakië in besit te neem.


Hy besluit ook om teen die Romeine te veg, maar word in 191 v.C. deur hulle verslaan. Weer in 190 v.C. ly sy leër van 80 000 ‘n skandelike neerlaag in ‘n beslissende geveg naby Smirna waar die Romeinse bevelvoerder, Lucius Scipio, hom dwing om alle aansprake op Europa en Klein-Asië prys te gee.


Hy moes alle grondgebied wes van die Taurusberge oorgee aan die Romeine en ‘n swaar huldeblyk van 15 000 talente (meer as 30 miljoen dollar) betaal. Hy was verwoes en neem toe sy woede uit op sy eie mense en plunder die tempels in sy eie ryk wat tot gevolg het dat Antiogus die Grote deur sy eie mense doodgemaak is.


“Dan sal hy sy aangesig wend na die vestings van sy land, maar hy sal struikel en val en nie meer gevind word nie.” DANIËL 11:19 AFR53


Antiogus word opgevolg deur ‘n belasting invorderaar (tollenaar) wat die belasting invorder om die koninkryk se glorie instand te hou. Hy was nie lank aan bewind voor iemand waarvan ons reeds gehoor het die troon oorneem.


“En in sy plek sal iemand optree wat ‘n geldinsamelaar deur die pragtigste deel van die koninkryk sal laat deurtrek, maar binne enkele dae sal hy verbreek word, maar nie deur toorn of deur oorlog nie.” DANIËL 11:20 AFR53


Die groot konings wat ons bespreek het was Ahasveros, Alexander die Grote, Antiogus die Grote, en nou gaan ons leer van Antiogus Epifanes.


“Daarna sal ‘n veragtelike in sy plek optree op wie geen koninklike waardigheid gelê was nie, maar hy sal onverwags kom en met liste die koninkryk bemagtig.” DANIËL 11:21 AFR53


Die vors van die verbond was Onias, die hoëpriester van daardie tyd. Hy was bewus van persone wat die tempel goud en silwer gesteel het, en hulle het hom laat doodmaak.


“En die leërs van die instromende mag sal voor hom weggespoel en verbreek word, en ook die vors van die verbond.” DANIËL 11:22 AFR53


 

3 November 2021


DANIËL 11:23 AFR53

“Want sodra ‘n bondgenootskap met hom aangegaan is, pleeg hy bedrog; en hy sal omhoog kom en met min manskappe sterk word.”


Anders as sy vaders het Antiogus IV die welvarendste plekke van sy eie land beroof, en hy het sy vyande aangeval toe hulle dit die minste verwag het.


“Onverwags en in die vetste dele van die provinsie sal hy inkom, en hy sal doen wat sy vaders en sy grootvaders nie gedoen het nie: roof en buit en goed sal hy onder hulle uitstrooi en teen vestings planne beraam, maar net vir ‘n tyd.” DANIËL 11:24 AFR53


Toe Antiogus se koninkryk goed gevestig was, het hy homself voorgeneem om koning van Egipte ook te word. Hy het Egipte binnegeval met ‘n groot leërmag, en met strydwaens, olifante, ruiters en ‘n groot vloot.


“En hy sal sy krag en sy hart opwek teen die koning van die Suide met ‘n groot leër; en die koning van die Suide sal hom in die oorlog begewe met ‘n groot en baie sterk leër, maar hy sal nie standhou nie, want hulle sal planne teen hom beraam.” DANIËL 11:25 AFR53


Die vals ‘vriende’ van die suidelike koning Ptolemeus verraai hom aan Antiogus. Hy is gebroke, en die vyandige leër van Antiogus stroom in, en baie word gedood.


“En die wat sy spys eet, sal hom te gronde rig; en sy leër sal wegvloei, en daar sal baie gesneuweldes lê.” DANIËL 11:26 AFR53


Antiogus neem Philometer (Cleopatra se oudste seun en ook ‘n Griekse koning oor Egipte) onder sy beskerming. As oom en neef eet hulle saam aan een tafel en bespreek leunagtige beleid met mekaar.


“En wat die twee konings betref, hulle hart sal wees om kwaad te doen; en aan een tafel sal hulle leuens spreek, maar dit sal nie geluk nie, want die einde sal eers op die vasgestelde tyd wees.” DANIËL 11:27 AFR53


Antiogus keer terug na sy land Sirië, en bring oorvloedige buit saam met hom. Hy reis oppad terug na Sirië deur Jerusalem.


“En hy sal na sy land teruggaan met baie goed, en sy hart sal teen die heilige verbond wees, en hy sal optree en na sy land teruggaan.” DANIËL 11:28 AFR53


 

4 November 2021


DANIËL 11:29 AFR53

“Op die vasgestelde tyd sal hy terugkeer en in die Suide kom, maar dit sal die laaste keer nie wees soos die eerste keer nie.”


In sy tweede veldtog teen Egipte was Antiogus minder suksesvol en kon hy nie Alexandrië inneem nie. Verder het hy die Romeinse vloot teëgekom.


Chittim, of Kittim, word in die Dooie See rolle gevind as ‘n algemene verwysing na die mense van die Middellandse See, veral Ciprus. Die Romeinse vloot van Caius Popillius Laenas het van Ciprus na Egipte gevaar na ‘n verstommende Romeinse oorwinning oor Perseus van Masedon naby Pydna, suid van Thessalonika. Die intimidasie van die Romeine het veroorsaak dat Antiogus IV Epifanes in vernedering na Sirië teruggekeer het en, op soek na iemand om dit op uit te haal, het hy hom toe daarop gefokus om die Jode te onderdruk.


“Want skepe van die Kittiërs sal teen hom kom, en hy sal moedeloos word; dan sal hy teruggaan en sy toorn openbaar teen die heilige verbond en optree; en hy sal teruggaan en ag gee op die wat die heilige verbond versaak het.” DANIËL 11:30 AFR53


Ons kry nou hier te doen met die ‘die gruwel van verwoesting’ of in engels ‘the abomination of desolation’ wat in die tempel van God gebeur. Hierdie is ‘n skaduwee of kleedrepetisie van wat in die helfte van die sewe jaar verdrukking gaan gebeur.


“En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel.” DANIËL 11:31 AFR53


Antiogus IV Epifanes en sy soldate verower Juda met wapengeweld, vermoor veertig duisend Jode, steel al die implemente van die tempel en doen die volgende:

– Verbied die Wet van Moses, insluitend tempeldienste en die feeste,

– Verbrand alle kopieë van die Wet wat hy kon vind,

– Rig ‘n standbeeld op van Zeus, sy god, in die tempel saam met ‘n altaar waar hy brandoffers bring,

– Offer ‘n vark op die Joodse altaar en eis dat Jode voortgaan om varke daar te offer op Antiogus IV Epifanes se verjaarsdag. Varkbloed in die tempel het die Jode verhinder om die tempel te gebruik totdat dit behoorlik gereinig was.


Die gruwel van verwoesting verwys na al die stappe wat Antiogus IV Epifanes gedoen het om die tempel in Desember 168 v.C. te ontheilig.


 

5 November 2021


MATTHÉÜS 24:15 AFR53

“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom — laat hy wat lees, oplet —”


Jesus het hierdie woorde gespreek lank nadat Antiogus IV Epifanes gesterf het en dit is duidelik dat Jesus na ‘n toekomstige tyd verwys.


Jesus verwys spesifiek terug na Daniël 9 waar die Antichris beskryf word en ons sien dus in

Jesus se woorde bevestiging dat die verhaal van Antiogus ‘n prentjie, of tipe is van iets groters wat nog moet kom. Jesus voeg selfs die woorde “laat hy wat lees, oplet” by, om te beklemtoon dat ‘n dieper begrip vereis word.


In Daniël 9 het ons geleer dat die Antichris ‘n verbond met die volk Israel sal sluit om hulle in staat te stel om weer offers in hul tempel te begin. Die dieper begrip is om te weet dat Antiogus IV die Antichris voorstel en in die middel van die sewe jaar Verdrukking sal die Antichris die offerande en graanoffer stopsit en dan sal hy ‘n gruwel van verwoesting in die tempel oprig.


“En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word.” DANIËL 9:27 AFR53


Openbaring 13 gee vir ons ‘n wenk van wat daardie toekomstige gruwel sal wees.


“En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ‘n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het.


En dit is hom gegee om ‘n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie.” OPENBARING 13:14-15 AFR53


Die Antichris sal ondersteun word deur ‘n Valse Profeet wat die wêreld sal mislei om die Antichris as god te aanbid. Om die wêreld se aanbidding te vergemaklik, sal die Valse Profeet ‘n beeld van die Antichris in die tempel opstel. Hierdie beeld sal bonatuurlike krag hê om te praat, wat net die wêreld se ontsag en toewyding des te meer sal inspireer. Dit is duidelik dat Antiogus IV hierdie gebeure afbeeld.


Die Antichris sal in Jerusalem ingaan en ‘n einde maak aan die Wet, sodat hy aanbidding van Yahweh met sy eie stelsel kan vervang, net soos wat Antiogus gedoen het.


 

6 November 2021


DANIËL 11:32 AFR53

“En die wat goddeloos handel teen die verbond, sal hy met vleiery afvallig maak, maar die volk wat hulle God ken, sal vashou en optree.”


Antiogus Epifanes het baie ongelowige Jode oortuig om aan die Zeus-aanbidding deel te neem. Hy was slinks genoeg om verskeie Joodse faksies teen mekaar op te steek om te kry wat hy wou hê.


‘n Priester met die naam Mattatias en sy seuns het in Efraim opgestaan ​​en ‘n leër van konserwatiewe Jode teen Antiogus IV gelei.


Die verstandiges onder die volk is diegene wat wel nog in God glo, en hulle het die mense wat afgedwaal het tot goeie insig bring. Maar, onder die bewind van Antiogus het die Jode baie swaar gekry. As hulle gevang was om God te aanbid is hulle gemartel en doodgemaak – of deur die swaard of op brandstapels verbrand.


“En die verstandiges onder die volk sal baie tot insig bring; maar hulle sal struikel deur swaard en vlam, deur gevangenskap en berowing, dae lank.” DANIËL 11:33 AFR53


Diegene wat God se wet geken het, het die Woord begin versprei onder die grootliks afvallige Joodse bevolking. Sommige van die wat hierdie herlewingsbeweging gelei het, het later die Fariseërs van Jesus se tyd geword en die ander die Essene wat die Dooie See-rolle geskryf het. Baie van diegene wat in die begin gekant was teen die opstand teen Antiogus het later aangesluit by die Makkabeërs, wat die skynheiligheid is wat in v.34 genoem word.


“En terwyl hulle struikel, sal hulle met ‘n klein hulp ondersteun word; dan sal baie uit listigheid by hulle aansluit.” DANIËL 11:34 AFR53


Die nasie Israel is teruggebring na ‘n mate van ortodoksie deur die optrede van Antiochus IV.


Dit het die intense boosheid van so ‘n man vereis om die volk Israel te verenig in die nakoming van hulle Wet. Daardie goeie werk het lewensverlies tot gevolg gehad, selfs onder die goddelikes, maar dit het Israel ook vir ‘n tyd van afvalligheid gered.


En dan in die laaste dae, sal ‘n nuwe herlewing nodig wees en so sal nog ‘n verskriklik veragtelike man sy verskeining maak. Die Here sal die opkoms van die Antichris toelaat sodat Hy hom kan gebruik om Israel terug te bring na die Verbond.


“En van die verstandiges sal sommige struikel, om onder hulle loutering en reiniging en suiwering aan te bring tot die tyd van die einde — want dit sal nog duur tot op die vasgestelde tyd.” DANIËL 11:35 AFR53


Die profesië wat Daniel tot hier ontvang het, het afgespeel in ons verlede tyd tot ongeveer 166 v.C. Die verse hierna neem ons na die langtermyn profesië van die toekomstige Antichris van wie Antiogus Epifanes vir ons ‘n tipe of ‘n kleedrepitisie was.


 

7 November 2021


DANIËL 11:36 AFR53

“En die koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god, en teen die God van die gode sal hy wonderbaarlike dinge spreek; en hy sal voorspoedig wees, totdat die grimmigheid ten einde is; want wat vas besluit is, sal uitgevoer word.”


Hierdie toekomstige koning sal in ‘n toekomstige tyd maak soos hy wil, wat beteken dat niemand sy mag sal uitdaag nie en hy sal homself bo elke god verhef.


Antiogus Epifanes het homself verhef, maar tog nog ander gode soos Zeus aanbid en aan hulle geoffer. Die toekomstige Antichris of koning waarvan hier gepraat word sal egter verklaar dat daar geen ander god bo homself is nie en in die proses sal hy monsteragtige dinge teen die ware God spreek.


Soos hy hierdie dinge doen, sal hy voorspoedig wees, maar net totdat die grimmigheid tot ‘n einde kom. “Die grimmigheid” verwys na die toestand van lyding van Israel gedurende die sewe jaar Verdrukking tydperk. Hierdie tydperk van oordeel vir Israel is vas besluit en moet volbring word.


Die Antichris sal geen respek sal hê vir enige god wat deur sy “vaders” aanbid is nie. Hy het nie ‘n godsdienstige verlede nie en is nie ‘n aanhanger van enige godsdiens nie. Hy gaan egter die rol van ‘n ikoon aanneem.


Dit is die oomblik in die middel van die sewe jaar Verdrukking wanneer die Antichris opgewek sal word deur die mag van Satan. Van daardie stadium af verklaar hy dat hy god is en die wêreld sal dit glo, gebaseer op sy wonderbaarlike opstanding.


Hy sal ook geen begeerte na vroue hê nie. Hierdie gedeelte het al tot baie nuttelose spekulasie gelei. Die rede het niks te doen met sy seksuele voorkeur nie, maar eerder, op sy aansprak om die ‘messias’ te wees. Jesus het geen belangstelling in vroue gehad nie, so die Antichris na-aap hierdie eienskap van die Messias.


“En op die gode van sy vaders sal hy nie ag slaan nie, en op die liefling van die vroue en op enige god sal hy geen ag gee nie; want hy sal homself bo alles groot hou.” DANIËL 11:37 AFR53


 

8 November 2021


DANIËL 11:38 AFR53

“Maar in plaas daarvan sal hy die god van die vestings vereer, en die god wat sy vaders nie geken het nie, sal hy met goud en silwer en edelgesteente en kosbaarhede vereer.”


Die Antichris vereer ‘n vreemde god wat nie voorheen op dieselfde manier vereer is nie.


Hierdie verhouding klink soos die verhouding wat bestaan tussen Jesus en die Vader.


Onthou dat ons met die groot na-aper te doen het wat Jesus wil wees! Die Antichris word in die middel van Verdrukking opgewek deur die mag van Satan. Let op dat Satan sy mag aan die Antichris gee, en dan nadat die Antichris opgewek is, veroorsaak die Antichris dat die wêreld beide die draak (Satan) en homself aanbid.


Hier sien ons ‘n vervalste Drie-eenheid wat na vore kom tydens die Verdrukking. Die Antichris wil ‘n messias wees en Satan is sy vreemde god wat aanbid word. Die enigste persoon wat ontbreek is die Heilige Gees, en die valse profeet en sy sprekende beeld dien daardie doel.


“En die dier wat ek gesien het, was soos ‘n luiperd, en sy pote soos dié van ‘n beer, en sy bek soos die bek van ‘n leeu; en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag. En ek het een van sy koppe gesien net of dit dodelik gewond was, en sy dodelike wond is genees. En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan. En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” OPENBARING 13:2-4 AFR53

Die dier hier is die Antichris, en die draak is die slang van ouds, Satan.


In v.39 word ons vertel dat hierdie koning eer sal betoon aan diegene wat hom eer, hy sal grond as ‘n beloning uitdeel, handel beheer en ook die vermoë om voedsel te produseer. Openbaring bevestig hierdie gedrag in die Antichris van die eindtyd.


“En dit is hom gegee om ‘n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie. En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe ‘n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het.” OPENBARING 13:15-17 AFR53


Die Antichris sal handel beheer met ‘n merk wat hy aan die hele mensdom toeken. Slegs diegene wat die merk neem kan koop en verkoop, en diegene wat versuim om die merk te neem, word onthoof, volgens Openbaring 20.


“So sal hy dan optree teen die versterkte vestings met behulp van ‘n vreemde god; diegene wat hy erken, sal hy baie eer en hulle oor baie laat heers en grond as beloning uitdeel.” DANIËL 11:39 AFR53


 

9 November 2021


DANIËL 11:40 AFR53

“Maar in die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom in botsing kom, en die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei.”


Soortgelyk aan Antiochus IV, sal die Antichris ook teen sy bure veg. Let egter op dat hierdie koning veg met beide die Suide en Noorde, wat weereens beteken, dit kan nie Antiochus IV wees nie, want hy het nie met homself geveg nie.


Die mees waarskynlike verklaring is dat hierdie magte die drie “horings” is wat die Antichris na sy opstanding ontwortel. Hierdie konings gaan probeer om die Antichris teen die middelpunt van die Verdrukking dood te maak. So, nadat hy opgewek is, soek die Antichris wraak deur hierdie konings aan te val.


“Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar ‘n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, in hierdie horing was oë soos mens-oë, en ‘n mond wat groot dinge spreek.” DANIËL 7:8 AFR53


Volgens Gabriël sal die Antichris daarin slaag om deur die nasies te beweeg en almal te onderwerp, net soos ons in Daniël 7 geleer het en ook soos Antiochus IV, sal die Antichris ‘n spesiale punt daarvan maak om Israel, die Pragtige Land, binne te val en spesiale klem plaas om Israel te vernietig.


“Hy sal ook kom in die Pragtige Land, en baie sal struikel; maar hierdie volke sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon.” DANIËL 11:41 AFR53


Die vyand se fokus op die vernietiging van Israel hou direk verband met Israel se rol in Christus se wederkoms. Soos Daniël se profesieë ons geleer het, keer die Messias terug om ‘n einde te maak aan die heidense heerskappy en om ‘n Joodse koninkryk op te rig. Maar wat as daar geen Jode oor is nie? Wat as die vyand daarin geslaag het om die Joodse nasie uit te wis?


Dan sou Jesus se wederkoms gedwarsboom word, of so dink Satan. Daarom het Satan dit altyd sy doel gemaak om die Joodse volk van die aarde af te verwyder. Hy het oor die millennia op verskeie maniere te werk gegaan om die Joodse volk te vernietig en sodra Satan die Antichris oorgeneem het, sal hy sy volle aandag op daardie doelwit vestig.


Edom, Moab en Ammon verwys na lande oos van die Jordaan. In hierdie gebied sal die Here ‘n deel van Israel in die woestyn beskerm en bewaar.


 

10 November 2021


DANIËL 11:42-43 AFR53

“En hy sal sy hand uitsteek teen die lande; ook Egipteland sal nie vrykom nie. En hy sal mag hê oor die skatte van goud en silwer en oor al die kosbaarhede van Egipte, terwyl die Líbiërs en die Kusiete sy voetstappe volg.”


Die Antichris slaan net vure dood en veg met almal. Die koning van die Noorde (Rusland en sy bondgenoote) en die koning van die Suide (Noord Afrike lande) het reeds teen hom opgestaan. Egipte is deel van die Noord Afrika lande teen wie die Antichris veg en Libië en Kus (die Engelse vertaling sê Etihopië) volg in sy voetspore.


Nou kom daar gerugte uit die ooste en die noorde wat die Antichris ontstel. Hierdie is die magte van die ooste, die twee honderd miljoen sterk weermag waarvan ons lees in Openbaring wat deur die droeë Eufraatrivier kom.


“En die sesde engel het sy skaal uitgegooi op die groot rivier, die Eufraat, en sy water het opgedroog, sodat die pad van die konings wat van die ooste af kom, reggemaak kon word.” OPENBARING 16:12 AFR53


“Maar gerugte uit die ooste en uit die noorde sal hom verskrik; daarom sal hy met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref.” DANIËL 11:44 AFR53


Alles is nou gereed vir Israel en Jerusalem om aangeval en vernietig te word. Maar, Jesus kom vir die tweede keer terug aarde toe en die slag van Armaggedon vind plaas.


“En hy sal sy paleistente opslaan tussen die see en die berg van die heilige Prag; maar hy sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie.” DANIËL 11:45 AFR53


Wanneer al die nasies wat saamgekom het om teen Jerusalem te veg, Jesus se weermag in die hemel aanskou, sal hulle vergeet dat hulle mekaar wou verwoes, en almal saamstaan teen Jesus en Sy leermag.


“Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid.” OPENBARING 19:11 AFR53


In Openbaring sien Johannes die konings van die aarde en hulle leërmagte wat reg is om teen Jesus oorlog te voer.


“En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër.” OPENBARING 19:19 AFR53


Maar, die oorlog is verby in een asemteug met Jesus wat oorwin. Die Dier en die Valse Profeet word gevange geneem en hulle gaan lewend in die vuurpoel gegooi word.


“En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand.” OPENBARING 19:20 AFR53


 

11 November 2021


DANIËL 12:1 AFR53

“En in dié tyd sal Mígael, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.”


Die engel Gabriël se profesie van hoofstuk 11 word voortgesit in hoofstuk 12 en hanteer nog steeds dieselfde tydperk in die toekoms.


Die gebeure van hierdie hoofstuk is “in dié tyd” en dit is die tyd van die sewe jaar Verdrukking, ‘n tyd van groot benoudheid soos daar nog nie gewees het nie.


Dit is dan dat Migael, die groot vors of engel, sal opstaan. Interessant genoeg word hy geïdentifiseer as die engel wat aangestel is om die volk Israel te beskerm. Die koms van Migael impliseer dat hy optree om iets te bereik wat God beplan het. Hy tree ​​op om die ‘Eeu van die Heidene’ tot ‘n einde te bring, sodat Israel teruggebring kan word na haar plek van heerlikheid.


Ons weet ook van Daniël 9 dat hierdie tydperk van sewe jaar teen Israel bepaal is om ses redes wat alles tot Israel se voordeel is. Dit lei tot heerlikheid vir die volk Israel, aangesien dit Israel terugbring na die Verbond, en dit laat God toe om aan die volk Sy beloftes van Sy Koninkryk te gee. Daarom sê die einde van vers 1 dat baie van Daniël se volk gered sal word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan.


Hierdie boek is die Boek van die Lewe, die boek waarin die name geskrywe is van almal wat die ewige lewe sal beërwe. Die boek word op verskeie plekke in die Bybel genoem, veral in Openbaring.


“Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele.” OPENBARING 3:5 AFR53


“En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.” OPENBARING 20:15 AFR53


Die Boek van die Lewe bevat die name van almal wat heiliges is en bestem is vir die ewige lewe in God se Koninkryk, maar diegene wie se name nie in hierdie boek gevind word nie, is die ongelowiges, die verdoemdes. Dit is duidelik dat dié boek die name van beide Jood en nie-Jood bevat. In hierdie geval praat ons van Daniël se “volk”, wat na Israel verwys.

By Christus se wederkoms word alle oorblywende Jode op aarde gered, soos Paulus ook mooi beskyf.


“Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en sal die goddelooshede van Jakob afwend; en dit is van my kant die verbond met hulle as Ek hulle sondes wegneem.” ROMEINE 11:25-27 AFR53


Die verbond wat die hele Israel se redding beloof, is die Ou Verbond. Die laaste daad van Verdrukking sal wees om Israel terug te bring in die band van daardie Verbond, sodat hulle die Koninkryk kan ontvang.


 

12 November 2021


DANIËL 12:2 AFR53

“En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot smaadheid, vir ewig afgryslik.”


Baie van Israel wat in die stof van die grond slaap, sal ontwaak. Om te slaap beteken om te sterf en wanneer ons sterf gaan die liggaam die graf binne, terwyl die gees van ‘n heilige in volle bewussyn bly bestaan en wag op ‘n nuwe liggaam.


Gabriël beskryf die oomblik van Israel se opstanding as ‘n ontwaking van diegene in die stof van die aarde tot die ewige lewe of vir ewig afgryslik.


Die Kerk heiliges is opgewek voordat die Verdrukking begin het tydens die Wegraping, maar die heiliges wat voor Pinkster gesterf het, is nie die Kerk nie … hulle is Ou Testamentiese heiliges.


Gabriël sê die Ou Testament heiliges ontvang hulle nuwe liggame aan die einde van Verdrukking.


Die ‘eerste opstanding’ is ‘n klas en nie ‘n gebeurtenis nie: Jesus, die eersteling van die wat opgestaan het, die wegraping, en die twee getuies is almal in die ‘eerste’ opstanding. So dan ook is die Israeliete, wat Jesus as Verlosser aanvaar teen die einde van die Verdrukking, ook deel van die eerste opstanding.


“Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.” OPENBARING 20:6 AFR53


Die eerste dood is wat met almal van ons gebeur aan die einde van ons lewens. Die tweede dood gebeur net met die ongelowiges, en die gebeur aan die einde van die millenium wanneer alle ongelowiges geoordeel gaan word.


“En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.” OPENBARING 20:14-15 AFR53


Gabriël sê dat die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel. Die verstandiges is diegene wat Jesus kies, en dan ook die wat ander help om Jesus te kies.


“En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos.” DANIËL 12:3 AFR53


 

13 November 2021


DANIËL 12:4 AFR53

“En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder.”


Daniel se profesie word verseël tot die tyd van die einde, anders as Openbaring se profesie wat nie verseël is nie. Ons kan net spekuleer oor hoekom!


“En hy het vir my gesê: Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie, want die tyd is naby.” OPENBARING 22:10 AFR53


Baie sal dit deursoek – presies wat ons nou doen. Ek persoonlik dink ons lewe in die tyd van die einde en dat Openbaring ons help om Daniel se profesie te verstaan. Die twee boeke saam gee vir ons die inligting waarop ons ons kennis vandag baseer. Reg of verkeerd? Net die tyd sal leer.


Kennis sal vermeerder. Ek het sommer ‘n internet soek gedoen en die volgende gekry wat vir ons ‘n idee kan gee oor kennis wat vermeerder.


Menslike kennis verdubbel gemiddeld elke 13 maande, en ons is vinnig oppad, met die hulp van die internet, om kennis elke 12 ure te verdubbel. Om dit in konteks te plaas: in die 1900’s het menslike kennis ongeveer elke 100 jaar verdubbel en teen die einde van 1945 was die koers elke 25 jaar.


Daar is baie meer geskryf, maar hierdie is genoeg om jou te laat dink dat ons besig is om die profesie te vervul.


 

14 November 2021


DANIËL 12:5 AFR53

“En ek, Daniël, het gesien, en kyk daar het twee ander gestaan, die een duskant op die wal van die rivier en die ander oorkant op die wal van die rivier.”


Daniel sien nou drie wesens, want hy sê hy sien twee ander as die engel Gabriel wat nog heeltyd met hom praat. Die twee staan op weerskante van die rivier se walle. Is hulle moontlik getuies wat bevestig dat die woorde wat Daniel gehoor het korrek is.


“Een getuie mag nie teen iemand optree insake enige misdaad of enige sonde, by enige misstap wat hy begaan nie; op die verklaring van twee getuies of op die verklaring van drie getuies sal ‘n saak van krag wees.” DEUTERONÓMIUM 19:15 AFR53


“Dit is die derde keer dat ek na julle toe kom. In die mond van twee of drie getuies sal elke woord vasstaan.” II KORINTHIËRS 13:1 AFR53


Die wesens praat met mekaar en die een vra hoe lank die onbegryplike gebeurtenisse gaan duur.


“En een het aan die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivier was, gesê:

Hoe lank sal die einde van die wonderbaarlike dinge uitbly?” DANIËL 12:6 AFR53


Die man met linne klere wat bo-oor die rivier was lig sy linker en regter hande na die hemel en sweer by die Ewig-Lewende. Die tydperk is ‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd! Ons weet nou al dat hierdie tydperk verwys na drie en ‘n halwe jaar, en dit sal dan die tweede helfte van die sewe jaar Verdrukking wees.


“Toe hoor ek die man, met linne bekleed, wat bo-oor die water van die rivier was, en hy het sy regterhand en sy linkerhand na die hemel opgehef en gesweer by die Ewig-Lewende: ‘n Tyd, tye en ‘n halwe tyd, en as hulle die mag van die heilige volk geheel verstrooi het, sal al hierdie dinge vervul word.” DANIËL 12:7 AFR53


Johannes het in Openbaring ‘n soortgelyke ondervinding as Daniel. Hy het ook’n engel gesien wat sy hande opgehef het en gesweer het by Hom wat tot in alle ewigheid lewe. Hy sien dat wanneer die sewende engel op sy basuin blaas, dan gaan die verborgenheid van God volbring wees, soos verkondig is aan die profete van ouds!


“En die engel wat ek op die see en op die land sien staan het, het sy hand na die hemel opgehef, en hy het gesweer by Hom wat tot in alle ewigheid lewe, wat die hemel geskape het en wat daarin is, en die aarde en wat daarin is, en die see en wat daarin is, dat daar geen tyd meer sal wees nie; maar in die dae van die stem van die sewende engel, wanneer hy met die basuin sal blaas, dan is die verborgenheid van God volbring, soos Hy die blye tyding verkondig het aan sy diensknegte, die profete.” OPENBARING 10:5-7 AFR53


 

15 November 2021


DANIËL 12:8 AFR53

“En ek het dit gehoor, maar nie verstaan nie; daarom het ek gesê: My heer, wat is die uiteinde van hierdie dinge?”


Daniel hoor alles wat aan hom vertel is, maar hy verstaan dit nie. Daarom dat hy vra wat die uiteinde is van alles wat hy gehoor het.


Die engel sê vir Daniel om aan te gaan met sy lewe. Die woorde van wat hy gehoor het moet verborge bly en verseël wees tot die tyd van die einde.


“En hy het gesê: Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe.” DANIËL 12:9 AFR53


Baie mense sal gereinig, gesuiwer en gelouter word en die verstandiges sal verstaan. Maar, die goddelose sal goddeloos bly en niks verstaan nie.


“Baie sal gereinig en gesuiwer en gelouter word, maar die goddelose sal goddeloos handel; en geeneen van die goddelose mense sal verstaan nie, maar die verstandiges sal verstaan.” DANIËL 12:10 AFR53


Paulus verduidelik dieselfde begrip. Die natuurlike mens aanvaar nie die Gees van God nie, want dit is vir hulle dwaas en onverstaanbaar. Maar, die geestelike mens beoordeel alle dinge, en verstaan die dinge van die Gees van God.


“Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.” I KORINTHIËRS 2:14-15 AFR53


 

16 November 2021


DANIËL 12:11 AFR53

“En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend-tweehonderd-en-negentig dae verloop.”

‘Van die tyd dat die voortdurende offer’ – Die voortdurende offer verwys na die daaglikse offers wat in die tempel plaasvind en is weereens ‘n bewys dat die tempel bestaan en in gebruik gaan wees in die Verdrukking tydperk.

Afgeskaf word’ – Ons het nou al geleer dat in die middel van die sewe jaar Verdrukking gaan die Antichris sy verbond met die Joodse volk verbreek en dan word hul voortdurende offers afgeskaf.


‘Ontsettende gruwel oprig’ – Die Antichris gaan in die helfte van die sewe jaar Verdrukking sy gruwel of standbeeld oprig in die Allerheiligste vertrek van die tempel.


Ons het geleer dat tyd, tye en ‘n halwe tyd = 3,5 jaar = 1,260 dae (42 maande x 30 dae). Iets is verkeerd want die vers praat van 1,290 dae. Hier is ‘n verskil van 30 dae.


Dan in die volgende vers word gesê salig is die wat nog ‘n ekstra 45 dae bereik.


“Welgeluksalig is hy wat bly verwag en duisend-driehonderd-vyf-en-dertig dae bereik.” DANIËL 12:12 AFR53


Ons weet nie wat die verskil van 75 dae beteken of wat in die tydperk gebeur nie. Wat ons wel weet is dat God ‘n plan het, en wanneer die tyd reg is sal ons ook weet wat die plan is – ‘need to know basis’.


“En jy, gaan heen na die einde; en jy sal rus en weer opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae.” DANIËL 12:13 AFR53


 

82 views0 comments
  • Facebook
  • Twitter
  • Telegram

© 2023 Regina Torre

bottom of page