22 April 2021
GÉNESIS 11:10 AFR53
“Dit is die stamboom van Sem: Toe Sem honderd jaar oud was, het hy die vader van Arpágsad geword, twee jaar ná die vloed.”
Ons het vroeër gekyk na die stamboom van Adam tot by Noag wat vir ons tien geslagte gegee het. Tien geslagte van Sem gee vir ons Abram – die stamvader van die Joodse volk! Natuurlik is ons ook besig met Jesus se geskiedenis, want hierdie stamboom sal ons uiteindelik deurtrek tot by Jesus se geboorte.
Sem
Arpágsad
Selag
Heber
Peleg
Rehu
Serug
Nahor
Tera
Abram
Die oorvleuelende lewens van hierdie mans, van Adam tot by Jakob, verseker ons dat die geskiedenis wat in die Tora (die eerste 5 boeke van die Bybel, Genesis tot Deuteronomium) opgeteken is, maklik aan latere geslagte oorgedra en bewaar kon word vir Moses om op te teken.
23 April 2021
GÉNESIS 11:27-28 AFR53
“En dit is die stamboom van Tera: Tera het die vader geword van Abram, Nahor en Haran, en Haran van Lot. En Haran het gesterwe terwyl sy vader Tera nog geleef het, in sy geboorteland, in Ur van die Chaldeërs.”
Die geslagsregister toon vir ons dat Tera die vader was van Abram, die oupa van Lot, en dat hulle gewoon het in Ur van die Chaldeërs, vandag ‘n dorp in Irak.
Joshua vertel vêrder dat Tera en sy seuns Abraham en Nahor (Haran het gesterwe) ander gode gedien het. Abram het dus as ‘n heiden groot geword en eers later in sy lewe God leer ken.
“Toe sê Josua aan die hele volk: So sê die Here, die God van Israel: Oorkant die Eufraat het julle vaders van ouds gewoon — Tera, die vader van Abraham en die vader van Nahor, en hulle het ander gode gedien.” JOSUA 24:2 AFR53
God praat met Abram en gee vir hom ‘n opdrag om te trek uit Ur van die Chaldeërs na ‘n nuwe plek wat God nog vir hom sal wys. Abram weet nie waarheen hy trek nie, hy weet net dat hy moet luister.
“En Tera het sy seun Abram geneem en Lot, die seun van Haran, sy kleinseun, en Sarai, sy skoondogter, die vrou van sy seun Abram, en dié het saam met hulle uit Ur van die Chaldeërs getrek …………” GÉNESIS 11:31 AFR53
Die skrywer van die boek Hebreërs vertel dat Abraham, toe hy deur God geroep is, in geloof geluister het. Ons ken nie die detail van hoe Abram hom tot God bekeer het nie, ons weet net dat hy in geloof geluister het.
“Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom.” HEBREËRS 11:8 AFR53
24 April 2020
GÉNESIS 12:1-3 AFR53
“En die Here het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”
Die drie verse wat ons hier lees is God se verbond met Abram. Hierdie is ‘n ewige verbond wat God met Abram gesluit het en is vandag nog geldig. Die verbond bestaan uit drie dele (hieronder gelys) en word in Genesis 12, 15 en 17 beskryf.
Grondgebied
‘n Groot nageslag
‘n Seëning
Wat is ‘n verbond!
‘n Verbond is ‘n ooreenkoms of ‘n kontrak tussen twee partye. Daar is twee basiese soorte verbonde: voorwaardelik en onvoorwaardelik.
‘n Voorwaardelike verbond is ‘n ooreenkoms wat bindend is op beide party en hulle kom ooreen om aan sekere voorwaardes te voldoen. As een van die partye nie hul verantwoordelikhede nakom nie, word die verbond verbreek en hoef geen van die partye die verwagtinge van die verbond na te kom nie.
‘n Onvoorwaardelike of eensydige verbond is nog steeds ‘n ooreenkoms tussen twee partye, maar slegs een van die twee partye moet iets doen. Niks word van die ander party vereis nie.
25 April 2021
GÉNESIS 12:1 AFR53
“En die Here het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys.”
Die belofte van grondgebied:
Die eerste gedeelte van die verbond met Abram is ‘n belofte van grondgebied, ‘n land wat God vir Abram gaan wys.
God sê vir Abram dat al die land wat hy sien aan hom en sy nageslag gegee word, en die grond word gegee tot in ewigheid. Dit beteken tot in ewigheid, tot aan die einde van tyd!
“want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid.” GÉNESIS 13:15 AFR53
Dit is ‘n spesifieke stuk grond, ‘n werklike eiendom, met afmetings wat gespesifiseer word.
“Op dié dag het die Here met Abram ‘n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier: die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete en Hetiete en Feresiete en Refaïete en Amoriete en Kanaäniete en Girgasiete en Jebusiete.” GÉNESIS 15:18-21 AFR53
26 April 2021
GÉNESIS 12:2a AFR53
“En Ek sal jou ‘n groot nasie maak…………..”
Die belofte van ‘n groot nageslag:
Die tweede gedeelte van die verbond met Abram is ‘n belofte van ‘n groot nageslag.
Abram hoor God, maar hy verstaan nie. Abram was al oud toe God met hom die verbond begin sluit het, so nou vra hy vir God hoe gaan die nageslag ding werk. Ek, Abram, het geen nageslag nie, so gaan my bediende alles erf?
“Verder het Abram gesê: Aan my het U geen nageslag gegee nie; so sal dan die bediende van my huis my erfgenaam wees.” GÉNESIS 15:3 AFR53
Dit moes al donker gewees het, want God lei vir Abram na buite en sê vir hom: ‘Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees.
“Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees.” GÉNESIS 15:5 AFR53
God het ook vir Abram ‘n ander voorbeeld gegee van hoe groot sy nageslag sal wees: dit sal wees soos die stof van die aarde.
“En Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat as iemand die stof van die aarde kan tel, jou nageslag ook getel kan word.” GÉNESIS 13:16 AFR53
27 April 2021
GÉNESIS 12:2b-3 AFR53
“………en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”
Die belofte van seëninge:
Die derde gedeelte van die verbond met Abram is ‘n belofte van seën en verlossing. Al die geslagte van die aarde sal deur Abram geseën word.
Hierdie belofte vind sy vervulling in die Nuwe Verbond of NuweTestament wat deur Jesus bekragtig is.
“Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie — my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die Here. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie.” JEREMIA 31:31-34 AFR53
“Daarop neem Hy brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan hulle en sê: Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis. Net so neem Hy ook die beker ná die maaltyd en sê: Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed wat vir julle uitgestort word.” LUKAS 22:19-20 AFR53
Jesus, die afstammeling van Abraham en ons Saligmaker wat weer op die wolke terugkom om alles te herstel.
“Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete.” HANDELINGE 3:21 AFR53
28 April 2021
GÉNESIS 15:9-10 AFR53
“En Hy antwoord hom: Neem vir My ‘n driejaaroud vers en ‘n driejaaroud bokooi en ‘n driejaaroud ram en ‘n tortelduif en ‘n jong duif. En hy het dit alles vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helftes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie.”
Abram het meer vrae as antwoorde: Hoe weet ek dat daar ‘n nageslag sal wees? Hoe weet ek dat ek die land in besit sal neem?
“Toe vra Abram: Here Here, wat sal U my gee, aangesien ek sonder kinders heengaan en die erfgenaam van my huis die Damaskéner Eliëser is?” GÉNESIS 15:2 AFR53
“En hy sê: Here Here, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem?” GÉNESIS 15:8 AFR53
God se antwoord is die verbond wat hy met Abram sluit. Abram kry ‘n driejaaroud vers en ‘n driejaaroud bokooi en ‘n driejaaroud ram en ‘n tortelduif en ‘n jong duif. Die vers, bokooi en ram sny hy middeldeur en lê die helftes teenoor mekaar. Hierdie is ‘n bloederige affêre en is ook doelbewus so, want die partye loop deur die bloed in ‘n figuur 8 om die verbond te sluit.
Met die verbond tussen God en Abraham is dit net God wat deur die bloed beweeg, Abraham slaap. God sluit hier ‘n ewige verbond met Abram, waar net God moet voldoen aan die nakoming daarvan, ons weet dus dat die verbond tot in ewigheid nooit vebreek sal word nie.
“En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar ‘n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur. Op dié dag het die Here met Abram ‘n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier:” GÉNESIS 15:17-18 AFR53
29 April 2021
GÉNESIS 17:1, 5 AFR53
“Toe Abram negen-en-negentig jaar oud was, het die Here aan Abram verskyn en vir hom gesê: Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees. Daarom sal hulle jou nie meer Abram noem nie, maar jou naam sal wees Abraham, want Ek maak jou ‘n vader van ‘n menigte van nasies.”
Abram is nege-en-negentig jaar oud en hy en Sara het nog steeds nie kinders nie. Die Here verskyn weer aan Abram en sê dat Hy Abram se naam verander na Abraham wat beteken die vader van ‘n menigte nasies.
God bevestig Sy verbond met Abraham om hom buitengewoon vrugbaar te maak. Nasies (meervoud) en konings sal uit Abraham voortkom.
“En Ek sal jou buitengewoon vrugbaar maak: Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom.” GÉNESIS 17:6 AFR53
God bevestig vêrder dat die verbond ‘n ewige verbond is, vir al die geslagte na Abraham. Dan spesifiek, aan jou (Abraham) en jou nageslag na jou, gee God die hele land Kanaän as ‘n ewige besitting.
“En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ‘n ewige verbond, om vir jou ‘n God te wees en vir jou nageslag ná jou. En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as ‘n ewige besitting; en Ek sal vir hulle ‘n God wees.” GÉNESIS 17:7-8 AFR53
God gee nou hier ‘n voorwaarde aan Abraham en sy nageslag die Joodse volk met nog ‘n vebond. Elke man moet besny word sodat hulle gedurig kan onthou dat God ‘n verbond met Abraham gesluit het.
“Verder het God aan Abraham gesê: Maar jý moet my verbond hou, jy en jou nageslag ná jou, van geslag tot geslag. Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word —”. GÉNESIS 17:9-10 AFR53
Die wat nie besny word nie, word gesien as dat hul God se verbond verbreek het, en moet uit die volk uitgeroei word. Dit beteken nie doodgemaak word nie, net dat hul nie meer as Israeliete gesien word nie. Word besny, of word afgesny!
“En wat manlik is en die voorhuid het, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie — dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word: hy het my verbond verbreek.” GÉNESIS 17:14 AFR53
30 April 2021
GÉNESIS 21:3-4 AFR53
“En Abraham het sy seun wat vir hom gebore is, wat Sara vir hom gebaar het, Isak genoem. En Abraham het sy seun Isak besny toe hy agt dae oud was, soos God hom beveel het.”
Isak word gebore vir Abraham toe hy een honderd jaar oud was en Sara sy vrou negentig jaar oud was. Abraham is gehoorsaam aan God en besny vir Isak op die agste dag.
Ons ken Abraham en Sara se verhaal en dat Abraham met Sara se slavin Hagar ‘n seun Ismael gehad het. Maar, Ismael was nie deel van God se plan nie, dit was Abraham en Sara se ‘backup’ plan. Daarom dat God toegelaat het dat Hagar en Ismael vir Abraham hulle verlaat het.
God se plan was dat Abraham se nageslag deur Isak moes vloei en word ook so bevestig in die Nuwe Testament boek Mattheus waar die geslagsregister gegee word – die bloedlyn van Jesus Christus.
“Maar God het aan Abraham gesê: Laat dit nie verkeerd wees in jou oë ter wille van die seun en van jou slavin nie. Luister na Sara in alles wat sy van jou verlang, want deur Isak sal daar vir jou ‘n nageslag genoem word.” GÉNESIS 21:12 AFR53
“Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham: Abraham was die vader van Isak, en Isak die vader van Jakob, en Jakob die vader van Juda en sy broers;” MATTHÉÜS 1:1-2 AFR53
1 Mei 2021
GÉNESIS 22:1-2 AFR53
“Na hierdie dinge het God Abraham op die proef gestel en aan hom gesê: Abraham! En hy antwoord: Hier is ek! Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys.”
‘n Hele paar jaar later word Abraham getoets. Die toets was baie werklik: Abraham moes Isak aan God teruggee. As ‘n toets was dit ontwerp om Abraham se geloof te beproef. Ismael is weggestuur, en nou na ‘n lang gewag moes Isak aan God teruggegee word …..
Neem jou seun, jou enigste, wat jy liefhet en offer hom as ‘n brandoffer! – hierdie woorde hoor ons weer in die Nuwe Testament, en is ‘n mooi prentjie van wat vêr in Abraham se toekoms gaan gebeur.
“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” JOHANNES 3:16 AFR53
Die verhaal van Isak wat geoffer moet word is ‘n prentjie of ‘n kleedrepetisie van Jesus se dood en opstanding.
2 Mei 2021
GÉNESIS 22:3 AFR53
“Daarop het Abraham die môre vroeg klaargemaak en sy esel opgesaal en twee van sy dienaars en sy seun Isak saam met hom geneem; en hy het hout gekloof vir ‘n brandoffer en opgestaan en na die plek gegaan wat God hom aangewys het.”
Abraham het teen die tyd al ‘n paar lesse geleer en hy wikkel nou wanneer God met hom praat. Die volgende oggend vroeg maak hy klaar, saal sy esel op en neem Isak en twee dienaars saam met hom. Abraham het hout gekap vir die brandoffer wat hy moet uitvoer en die groepie pak die reis aan na die plek wat God vir hom aanwys.
Drie dae stap hulle en Abraham sien die plek van vêr af. Hy beveel die dienaars om met die esel te bly en te wag dat hy en Isak terugkom.
“Op die derde dag toe slaan Abraham sy oë op en sien die plek van ver af.” GÉNESIS 22:4 AFR53
Op die derde dag ………. waar in die Nuwe Testament gebeur iets op die derde dag!
“Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan. En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan,” LUKAS 24:45-46 AFR53
Ons geloofsbelydenis sê ook vir ons: ……… ek glo in Jesus Christus, Sy enig gebore seun, onse Here. Wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria, wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het, en begrawe is en neergedaal het na die hel. Wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode ………
3 Mei 2021
GÉNESIS 22:5-6 AFR53
“En Abraham sê aan sy dienaars: Bly julle hier met die esel; ek en die seun wil daarheen gaan om te aanbid en dan na julle terugkom. En Abraham het die hout vir die brandoffer geneem en dit op sy seun Isak gesit, en die vuur en die mes in sy hand geneem. So het hulle twee dan saam geloop.”
Abraham sê vir sy twee dienaars om te bly en wag vir hulle met die esel.
“En toe hulle naby Jerusalem gekom en Bétfagé aan die Olyfberg bereik het, stuur Jesus twee dissipels uit en sê vir hulle: Gaan na daardie dorp reg voor julle, en dadelik sal julle ‘n eselin vind wat vasgemaak is, en ‘n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My.” MATTHÉÜS 21:1-2 AFR53
Isak was op die stadium nie meer ‘n kind nie, hy was heel moontlik in sy twintigs. Die twee, Abraham en Isak loop saam in ooreenstemming.
Abraham sit die hout vir die brandoffer op Isak, en hyself dra die vuur en die mes.
“En Hy het sy kruis gedra en uitgegaan na die sogenaamde Hoofskedelplek, in Hebreeus Gólgota,” JOHANNES 19:17 AFR53
4 Mei 2021
GÉNESIS 22:7-8 AFR53
“Toe spreek Isak met sy vader Abraham en sê: My vader! En hy antwoord: Hier is ek, my seun! En hy sê: Hier is die vuur en die hout, maar waar is die lam vir ‘n brandoffer? En Abraham antwoord: God sal vir Homself die lam vir ‘n brandoffer voorsien, my seun. So het hulle twee dan saam geloop.”
Isak praat met sy pa want daar is iets wat hom pla. Hy vra vir Abraham, ons het die vuur en die hout, maar waar is die lam vir die brandoffer. Goeie vraag, want ‘n brandoffer het ‘n dier nodig om te offer.
Abraham antwoord: God sal vir Homself die lam vir ‘n brandoffer voorsien, my seun. Sy antwoord is dat God sal voorsien, en die twee loop vêrder saam, einde van storie?
Kom ons kyk bietjie dieper na Abraham se antwoord. God sal vir Homself – God self sal die brandoffer wees, deur Sy Seun Jesus, vêr in Abraham se toekoms, te voorsien!
Abraham het geweet dat hy besig is om ‘n profesie uit te beeld. Hy het geweet dat God sy seun Isak vir hom sal teruggee, selfs al moet hy uit die dode opgewek word, want hoe anders sal hy ‘n groot nageslag he. So Abraham het net geglo en gedoen wat God hom beveel het.
“Deur die geloof het Abraham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer; ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer, aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word — want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek; daaruit het hy hom ook, om so te spreek, terug ontvang.” HEBREËRS 11:17-19 AFR53
5 Mei 2021
GÉNESIS 22:9-10 AFR53
“Toe hulle kom op die plek wat God hom aangewys het, het Abraham daar die altaar gebou en die hout reggelê; daarna het hy sy seun Isak gebind en hom op die altaar bo-op die hout gesit. Toe steek Abraham sy hand uit en neem die mes om sy seun te slag.”
Abraham doen soos hy beveel is. Hulle is op die plek wat God aangewys het, en Abraham bou die altaar en lê die hout reg. Ons kry hier net die feite, nie die emosie nie.
Abraham bind sy seun Isak, sit hom op die altaar, bo-op die hout, en hy steek sy hand uit met die mes om sy seun te slag……..
“Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” ROMEINE 8:32 AFR53
Maar, die engel van die Here roep vanuit die hemel en sê: Abraham, Abraham! Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie.
“Maar die Engel van die Here het na hom van die hemel af geroep en gesê: Abraham, Abraham! En hy antwoord: Hier is ek! En Hy sê: Moenie jou hand na die seun uitsteek nie, en doen hom niks nie; want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.” GÉNESIS 22:11-12 AFR53
Abraham is getoets en hy slaag die toets met ere kleure! Die engel van die Here sê vir hom: want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.
6 Mei 2021
GÉNESIS 22:13-14 AFR53
“En toe Abraham sy oë opslaan, sien hy meteens ‘n ram wat agter in die bos met sy horings vasgeraak het. En Abraham het gegaan en die ram geneem en dit as brandoffer in die plek van sy seun geoffer. En Abraham het dié plek genoem: Die Here sal voorsien! Sodat vandag nog gesê word: Op die berg van die Here sal dit voorsien word.”
God voorsien! Abraham slaan sy oë op en sien die plaasvervanger vir sy seun – ‘n ram wat agter in die bos met sy horings vasgeraak het.
Abraham neem die ram, offer dit in die plek van sy seun as ‘n brandoffer vir God, en hy noem die plek: Die Here sal voorsien!
Die naam is gepas, want Abraham het geweet hy het ‘n profetiese uitbeelding gemaak van iets soortgelyk wat vêr in die toekoms gaan gebeur.
7 Mei 2021
GÉNESIS 22:17-18 AFR53
“dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.”
Die Engel van die Here roep ‘n tweede keer na Abraham en bevestig Sy verbond met Abraham omdat hy bereid was om sy enigste seun vir God te offer.
“Toe roep die Engel van die Here vir die tweede keer na Abraham van die hemel af en sê: Ek sweer by Myself, spreek die Here, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie,”GÉNESIS 22:15-16 AFR53
Die verbond word as volg bevestig: God sal Abraham ryklik seën, en sy nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en die sand van die see.
“Daarom is daar ook gebore uit een vader, en dit ‘n verstorwene, kinders soos sterre van die hemel in menigte en soos die sand aan die strand van die see, wat ontelbaar is.” HEBREËRS 11:12 AFR53
Abraham se nageslag sal vêrder die poort van sy vyande in besit neem. Hierdie is gedoen toe Joshua die beloofde land ingeneem het.
En, in Abraham se nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word – net omdat Abraham geluister het!
Comentarios